
Lindie Strydom en Darryl Spijkers (foto’s: verskaf)
Lindie Strydom en Darryl Spijkers praat met Naomi Meyer oor die bekroonde Tienertoneelstukke wat by Parel Vallei speel.
Lindie, Darryl. Baie geluk met die feit dat die skool Parel Vallei in Somerset-Wes al weer uitblink – met drie produksies op pad na die ATKV-Tienertoneel-finaal wat binnekort plaasvind. Wil julle gou iets van die drie produksies vertel?
Lindie: Ons het vier uiteenlopende stories aangepak en so vir meer as 60 van ons leerders die geleentheid gegee om deel te wees van die mooi en lekker van skeppende teater en die voorreg om weer eens as span te woeker en werk met ons eie nuutgeskrewe tekste.
Stoep het nie deurgedring na die nasionale finaal nie, maar wel daarin geslaag om die Gqeberha-streeksfees te wen. Dit is ’n pragtige liefdesbrief oor grootword en neem gehore op ’n nostalgiese reis deur stukkies van ons land se geskiedenis. Seisoene draai en mense kom en gaan, maar soos Stoep se kalender deur ses dekades blaai, sien ons dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit eintlik dieselfde ...
Drie meisies se lewensverhale word deur tyd geskei, maar saamgebind deur ’n gemeenskaplike plek, ’n soortgelyke stryd en ’n boek wat nooit gepubliseer is nie. Doline (Inge), Celeste (Leske) en Rosline (Rosie) se deurdagte vertolking bring hulle karakters se hoop en drome, te midde van soveel skakerings van donker, tot baie na aan jou lyf. Die eenvoudige stoep en sy stories word uiteindelik vir elkeen van ons beide ’n tuiste en ’n spieël:
Op elke dorpie, in elke straat, by meeste huise is daar ’n stoel op die stoep.
Van daardie stoel kom soveel stories,
almal pas eintlik by mekaar.
Darryl: Parel Vallei se kuns-, musiek- en dramadepartemente was van die begin af (1986) ’n trots in ons gemeenskap en ’n groot trekpleister na ons skool.
Die feit dat ons leerders drama as vak neem, lei tot ’n respek vir, begrip van en waardering vir die kuns van teater en lewende optrede, maar op ’n hoërskoolvlak leer dit ook empatie en die geskiedenis. Met hierdie fondasie kan ons teater skep wat letterlik die wêreld kan verander! Dit is presies wat ons by PV probeer doen en daarom het ons stukke elke jaar ’n boodskap vir tieners. 23 kg beeld die onvoorspelbaarheid van die lewe uit en moedig jongmense aan om voluit te leef en tasse vol herinneringe te skep.
Wegwêreld nooi jou om die grense van mensgemaakte reëls oor te steek na nuwe gemeenskappe en die mooi te ontdek wanneer mense mekaar se taal leer praat. Dit sluit ons nuutste amptelike landstaal in.
Slaansak is eg, diep en persoonlik en daarom ’n les vir ons almal oor hoe om jouself op te tel en ’n leier te wees sonder ’n titel.
Ons glo elke skool, ongeag die kwaliteit of selfs begroting van ’n produksie, moet speel en hulle stories vertel. Dis hoe jy leer en groei tot by ’n professionele vlak wat uiteindelik gereed is vir die platform van ’n ATKV-Tienertoneel-finaal. Dis harde werk, maar nie so moeilik om die droom in kinders se harte te laat vlam vat nie! Hulle is veerkragtig, dapper en kreatief. Meer as 150 kinders kom jaarliks vir ons oudisies en daarom probeer ek vir soveel as moontlik van hulle die geleentheid skep om deel te wees, hetsy op die verhoog of as deel van die tegniese en selfs bemarkingspan, met elke rol en bydrae, hetsy voor in die kollig of agter die verhoog, ewe belangrik.
Ons sterkste bate is nie ’n regisseur, spesifieke speler, skrywer of selfs slim teks nie. Dis die skep van ’n span en die wonder van sinergie – “the bonding leads to building.” Ek sien ’n prentjie van ’n klip wat rol van ’n berg en die momentum tree in, en neem ons hoër tot by ’n impak veel groter as wat ons ooit sal besef. Ons moet nooit ons jeug onderskat nie – as leiers en as mense. Mense wat foute maak soos enige van ons, maar wat in staat is om in hulle jeugdigheid en leerbaarheid iets wonderlik mooi te skep.
Parel Vallei se Wegwêreld bied hoopvolle pelgrimstog
“’n Soeke na die lig op die horison” is hoe bekroonde regisseur en skrywer Darryl Spijkers die oorsprong van Wegwêreld beskryf. “Ek het by die belofte van lig begin en van daar het hierdie hoopvolle pelgrimstog ontvou. Dit is die grootste produksie wat ons nóg aangepak het! Met ’n kragtige ensemble en tegniese span van altesaam 45 Parel Valleiers neem ons vanjaar ons gehoor op ’n wonderlike visuele reis na ’n weggesteekte wêreld waar eensame mense saam alleen is en stilte kliphard raas.
“Al die slegte dinge wat ons gedink het met die planeet kan gebeur, het ’n werklikheid geword. Die wêreld wat ons geken het, is weg. ’n Klein gemeenskap het agtergebly en bewaar hulself van wat buite die stad se mure skuil. Die broosheid van die mensdom skree egter harder as die luidrugtige oordadigheid van hulle droomland en ons sien hoe hierdie vreemde groen kolonie klokslag elke Maandag melktert bak en woorde by die mark ruil op die ritme van ’80’s-musiek as ’n vorm van behoud en beskerming.”
Die groot stel saam met die indrukwekkende kostuums, tegniese elemente en handpoppe, asook die gebruik van musiek en dans, gekombineer met fyn, afgeronde vertolkings deur ’n sterk groep spelers, bied ’n tipe ontvlugting wat op briljante wyse konfronteer.
“Ware lig en donker word eintlik so duidelik in ’n wêreld waar mense glo sonder om te bevraagteken en doen sonder om te dink. As toeskouer soek jy saam met hulle na ’n gemeenskap se dapperheid en die moed wat dit verg om dit buite die bekende te waag. Jy ontdek dat niemand net ryk of net arm is nie. Dit waaraan ons ryk en arm is, verskil net.”
23 kg se kaarte hou ons na aan die bors. In kort vertel dit die storie van ’n groep tieners wat op ONEWAY-lugredery se Vlug 23 na Johannesburg vertrek en die komiese kinkel in die kabel wat om 23:23 geskied ... ’n Bagasie-eise-beampte nooi die reisigers om ’n stukkie van hulle onderbroke lewensverhaal voor mekaar uit te pak met ’n belofte van ’n prys soos geen ander nie.
23 kg is eienaardig, slim en gedagteprikkelend, en dra die gewig-van-aanvaarding-bagasie en die boodskap dat selfs met ’n beplande bestemming ons geen idee het waar ons uitkom wanneer ons land nie. “Vlieg in jou toer in. Geniet die rit!”
Die skool se naam duik die afgelope tyd voortdurend op as dit kom by die ATKV-Tienertoneel-produksies, want julle was verlede jaar die algehele wenner met die toneelstuk mAaNmAaTs? In 2021 was julle skool ook die nasionale wenner. Begin voor: Hoe besluit ’n skool dat iets soos drama en toneelstukke vir hom belangrik genoeg is om ’n professionele teatermaker aan te stel? Hoe ontdek julle die talent in die skool? Waar het alles begin?
Vertel asseblief van die twee stukke wat op die top 10-lys van die nasionale finaliste is. Waar en wanneer kan mense na die stukke kom kyk?
Sinopsis/opsomming is hier bo. Hiermee van die nominasies en toekennings wat hierdie twee produksies gewen het by die ATKV-Tienertoneel Wes-Kaap-streeksfeesfinaal:
Nominasies
Beste klankoperateur – Leila Everleigh vir Wegwêreld
Beste hantering van tegniese aspekte – 23 kg, Wegwêreld
Beste verhoogbestuurder – Christine Cockett
Beste akteur in ’n ondersteunende rol – Joshua Simone (Wegwêreld), Njabulo Ncapai (23 kg) en Sebastian van Niekerk (23 kg).
Beste aktrise in ondersteunende rol – Nina Strydom (Wegwêreld), Sheraine de Vries (23 kg), Kyla Steyn (23 kg) en Miquette Eloff (23 kg).
Beste akteur – Paul Strydom (Wegwêreld), Francois Retief (23 kg)
Beste regisseur – Darryl Spijkers (Wegwêreld)
Beste ensemble – 23 kg, Wegwêreld
Toekennings/wenners
Beste verhoogbestuurder: Christine Cockett vir 23 kg
Beste hantering van tegniese aspekte: Wegwêreld
Beste akteur in ’n ondersteunende rol: Joshua Simone as Brumilda Brummel in Wegwêreld
Beste akteur: Paul Strydom as Tomie in Wegwêreld
Beste aktrise: Doline Havinga as Hanlie in Wegwêreld
Beste regisseur: Darryl Spijkers vir Wegwêreld
Beste ensemble: Wegwêreld
Beste produksie: Wegwêreld
Optredes: datums en tye
23 kg
3 Oktober 11:30
4 Oktober 14:00
Bespreek kaartjies by Webtickets hier.
Wegwêreld
3 Oktober 16:30
4 Oktober 19:00
Kaartjies beskikbaar by Webtickets:
Bespreek kaartjies by Webtickets hier.
En wil julle ook uitbrei op die slegs-leerders-produksie, Slaansak, en die agtergrond hiervan? Waar en wanneer kan mense na hierdie stuk kom kyk?
ATKV-Tienertoneel 2022 se beste akteur van die wenproduksie, mAaNmAaTs, Paul Strydom, vertolk hierdie jaar as graad 12-leerder ook die rol van skrywer en regisseur van Hoërskool Parel Vallei se slegs-leerders-produksie, Slaansak.
“Slaansak is ongeveer ’n jaar gelede uit een van die laagste oomblikke van my lewe gebore,” vertel Paul, wat, benewens sy eie produksie, ook in Parel Vallei se Stoep en Wegwêreld speel. “Dit raak die temas aan van foute en teleurstelling, die soeke na identiteit en ook die seer van straf en skaamte – dinge waaroor ons nie regtig praat nie, veral seuns. Ek self het met vuishoue op ’n slaansak die woede en depressiwiteit uit my lyf uit probeer kry en besef ek maak myself net nog seerder.”
Die musiekblyspel Hamilton was vir Paul ’n inspirasie. Dit vertel die storie van ’n man wat graag president wou word, maar ’n fout in sy verlede het hom duur te staan gekom.
“Hamilton was nie ’n slegte man nie. Hy was mens. Ek wou nie hê dat ’n fout my hele identiteit bepaal nie. Gestroop van dinge wat met tyd vir my krukke geword het, was ek van voor af op soek na wie ek is en waarvoor ek staan. Die aanvanklike onsekerheid oor hoe om myself teen die houe van skaamte te verdedig, het plek gemaak vir ’n daadwerklike besluit om dit dood te lééf.”
Paul het begin skets en skryf aan ’n storie wat uiteindelik nege maande geneem het om te voltooi. Vuishoue en emosies het woorde gevind en saam met sy medeskrywer en -regisseur, Kyla Steyn (graad 11) en die res van die ensemble, het dit karakters en ’n kragtige storielyn met ryk simboliek geword.
“Ek het die proses van Slaansak nodig gehad om myself weer te vind. As dit een ander mens kan help om die verskil tussen ’n kind en ’n fout en tussen straf en skaamte te verstaan, of een mens die moed gee om hulself te vergewe en hulle waarde los te maak van sukses óf mislukking, was Slaansak nie net vir my ’n geskenk nie.”
Slaansak is een van twee slegs-leerders-produksies wat deurgedring het na die nasionale finaal.
Speeldatum en tyd
5 Oktober 10:30
Lyric-teater, Gold Reef City.
Bespreek kaartjies by Webtickets hier.
Wat beteken kompetisies soos die ATKV-Tienertoneel-kompetisie vir hoërskole?
Ek gaan hierdie vraag persoonlik beantwoord, want ek glo vir elkeen van ons Parel Valleiers sal die antwoord anders wees.
My man het onlangs gesê: “Die proses is belangriker as die produk.” Jy hoef nie te wag vir ’n absolute hoogtepunt, mylpaal, ronde syfer of ekstra-spesiale geleentheid om iets te vier nie. Vier ook die proses, vier die wording van iets, al is dit nog nie klaar nie, soos die proses van gesond word, fiks word, heel word …
Ons stories, produksies en tekste word woord vir woord gebou en dis die mooiste ding om te sien hoe dit “word” – hoe woorde uiteindelik stories en karakters word en wie ons as mense word as deel van die proses. G’n wonder Darryl sê altyd: “Wen is ’n gevoel, nie ’n trofee nie” nie.
ATKV-Tienertoneel neem ons almal op ’n reis van “wording”! Drama is die grootste spansport en ’n hele gemeenskap, van die tieners en ouers tot ons familie en vriende, bou, groei en “word” saam.
So het ek met die afskop van ons seisoen vir ons dramakinders ’n koek laat aflewer by die skool met hierdie boodskap: “Vier die proses, ongeag die uiteindelike produk. Vier die wen van vriendskap, die groei en ontwikkeling, die voorreg om deel te kan wees van iets wat eintlik nog word ...”
Ek glo hierdie is ’n boodskap vir ons almal: Leer om meer van die lewe te vier, sommer by voorbaat, in die proses en in die oomblik, want wen is ’n gevoel, dis dankbaarheid en hoe meer jy vier, hoe meer rede sal jy vind om gereeld “hoe-ha” te skree, ’n kersie aan te steek en ’n ballon te pop!
The post ATKV-tienertoneel: ’n onderhoud oor Parel Vallei Hoërskool se drie benoemde toneelstukke appeared first on LitNet.