
Foto: Nardus Engelbrecht
Ek hoor die Stellenbosse kunstenaar, Portchie, beplan om vir sy verjaardag 'n gebou in een van sy skilderye te omskep en mense daarin in te nooi. Ek dink hieraan terwyl die klavierinleiding van “Lig op die horison” die lug vul. Ek’s by die ATKV-Tienertoneelwenners se produksie Wegwêreld.
Miskien moet ek sê ek is binne-in hierdie wêreld.
Dis wat hierdie skoolkinders van Parel Vallei Hoërskool (weer) regkry. (Hulle was die afgelope twee jaar ook die nasionale Tienertoneelwenners.) Hulle neem ’n onbekende volwassene wat geen belang by die produksie het behalwe om van goeie teaterstukke te hou nie, binne-in hulle professionele produksie in. En vat jou saam.
In hierdie teaterstuk is daar ’n wêreld wat afgesny is van die werklike wêreld. In hierdie Wegwêreld is daar sekere reëls: Mense meng nie met mekaar nie. Afstand word gehandhaaf. Vrees vir enigiets wat afwyk van die bestaande manier van doen, is aan die orde van die dag. Mense is vasgevang in die verlede (humoristies uitgewys deur byvoorbeeld die energieke danse in uitspattige kleure van die tagtigs). In die agtergrond op die verhoog is daar voortdurend groot neonletters wat rondskuif om woorde te vorm en lettervolgorde verander om die woord te verander. “Droomland”, soms. Dan weer “Landdroom”. Dan word “droom” “moord”. Die woorde is die subteks en die opskrifte van die tonele wat op die verhoog afspeel.
Daar is ’n toevallige ontmoeting tussen twee afgesnydes. Gesprekke oor die letterkunde en die gevaarlike wonderwêreld van lees word betrek. Ek herken ’n verwysing na Noag se ark, of selfs die animasiefilm Wall-E, waar wesens in ’n apokaliptiese wêreld droom van een groen takkie wat uitspruit.
En deurlopend die kenmerkende professionele spel van die skool se leerders. Lokkers soos die een speler se Xhosa-woorde wat mense agterna moet gaan naslaan – want ja, bewoon ons nie almal die wegwêreld van mense wat nie mekaar se tale ken nie? Laat hierdie ’n oproep wees, en ’n aansporing.
En van musiek gepraat: wat ’n klankbaan.
Welgedaan, ATKV, dat julle hierdie stuk bekroon het. Welgedaan, Parel Vallei; julle vat mens weg. Na ’n goeie, hoopvolle plek toe. Mens wens met jeugdige passie dat die hele land se mense hierdie toneelstuk kan sien. En mense kan weg vat na daardie groen takkie wat die uitmuntende toneelspelers so professioneel na die gehoor se hand toe uithou – vir hulle om dit net te vat. (Foto: Nardus Englebrecht.)
Lees ook:
Tuis ek’s liefie by die Toyota US Woordfees 2023: ’n Instagram-resensie
Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n Instagram-resensie
The post Toyota US Woordfees 2023: Wegwêreld, ’n Instagram-resensie first appeared on LitNet.
The post Toyota US Woordfees 2023: <em>Wegwêreld</em>, ’n Instagram-resensie appeared first on LitNet.