Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 493

Dominique Botha (1971–)

$
0
0

Gebore en getoë

Dominique Botha is in 1971 op die plaas Rietpan in die Viljoenskroon-distrik in die Vrystaat gebore en het haar laerskoolloopbaan in Bothaville begin. Haar ouers is Andries en Sandra Botha. Andries Botha was ’n DA-lid ná die verkiesing in 1999 en haar ma, ook ’n DA-parlementslid, was ’n ambassadeur van Suid-Afrika in Praag. Hulle het vyf kinders gehad, met Paul die oudste, 18 maande ouer as Dominique.

Toe sy in standerd vier (graad ses) was, het sy ’n opstel oor Racheltjie de Beer geskryf en haar onderwyseres was baie opgewonde daaroor en het haar ouers ingeroep. Dominique vertel aan Nelia Richter: “Ek onthou die wind in die bloekombome buite die klas se vensters en die groublou winterlig en die ruising van dit wat ek later as inspirasie herken het, hetsy as behae in melancholie of ekstase. Tog het ek weggeskram in nederige agting vir ware skrywers.

“Dan was daar natuurlik ook my talentvolle, wilde broer wat heuning om die duiwel se mond sou kon smeer met sy woordvernuf en sjarme. Ek het my hart uitgestort op klavierlesse, maar my vingers het ’n kreeftegang van toonlere gemaak. Tog glo ek musiek ontsluit iets wat my terugbegelei het na woorde.” (Rapport, 8 Junie 2014)

Andries en Sandra Botha se progressiewe politieke idees veroorsaak dat die gesin nie baie gewild is in die konserwatiewe plaasgemeenskap nie. Paul en Dominique word na ’n Engelse kosskool in KwaZulu-Natal gestuur.

Dominique vertel aan Marisa Fockema dat sy saam met Paul ’n wonderlike kinderlewe op Rietpan gehad het – ook op haar oupa en ouma se plaas, Thornvale.

Verdere studie en werk

Ná die verkryging van haar B-graad verwerf sy ’n meestersgraad in linguistiek aan die Universiteit Stellenbosch en ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Sy is lid van die Pirogue Kollektief, ’n inisiatief van Breyten Breytenbach se Gorée-Instituut in Dakar in Senegal wat kunstenaars in Afrika ondersteun. Sy dien ook op die raad van die Spier-kunstrust, die Afrika-sentrum en die Yellowwoods-kunstrust.

Sy en haar man Adi Enthoven (’n vriend van haar broer Paul) woon in Johannesburg saam met hulle vier kinders. Hier is sy betrokke by verskeie kunsaktiwiteite. Sy woon deesdae in Pniel tussen Franschhoek en Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Oor haar verblyf daar vertel sy aan AJ Opperman: “Ek het in die paradys beland. Die mense hier praat nie Afrikaans nie, hulle praat poësie. Daar troon in werklikheid ’n magiese berg oor my huis, wat donker word in die gedig ‘voorbode’ (in Donkerberg). Die bevryde slawe het hulle vesting hier die naam Pniel gegee wat ‘aangesig van God’ in Hebreeus beteken. Hulle het sekerlik geweet wat dit beteken om deur die nag met die engel van God te worstel. Hul nasate het die skoonheid geërf en aanvaar dit nie as ’n alledaagse vanselfsprekendheid nie, maar as ’n daaglikse wonderwerk.

“Daar is elande en jangroentjies en kershout. Daar is wabome met hul maanbleek blomme en luiperds en watervalle in die winter. Die duiwel woon ook hier in ’n diep kloof.” (Netwerk24, 13 November 2021)

In 2014 is Dominique Botha die naaswenner van Versindaba se lykdigkompetisie met haar gedig oor Eugène Marais, “I always loved the wildest things best”, wat deur René Bohnen gewen is.

En in 2013 betree Dominique Botha die toneel van die Afrikaanse letterkunde met False River en Valsrivier.

Nadat sy haar by Wits ingeskryf het vir ’n M-graad in kreatiewe skryfkuns, moes sy sorg dat daar binne die sperdatums ’n manuskrip ontstaan. Sy vertel aan Jacomien van Niekerk (Vrouekeur) meer oor die ontstaan van Valsrivier: “Dit was aanvanklik moeilik om my skryfwerk binne groepsverband te bespreek, maar uiteindelik het daardie groepsbesprekings gehelp met ’n proses waarin ek geleidelik afstand tussen my en die teks kon kry.

“Dit was nooit my plan om die boek uit te gee nie, maar mense het dadelik daarin belanggestel en die uitgeeproses het dus baie makliker as die skryf van die roman verloop.” 

Sy het die roman oorspronklik in Engels geskryf onder die titel False River, maar die uitgewers Umuzi was van mening dat die roman ook in Afrikaans moet verskyn, “dus het ek met ander se hulp die boek teen ’n taamlike tempo vertaal!”

Oor die ervaring om eers die boek in Engels te skryf en toe in Afrikaans te vertaal, vertel sy aan Jacomien van Niekerk, dat sy nooit gedink het sy sou ooit in Afrikaans skryf nie: “[D]it was om die een of ander rede vir my minder intimiderend om in Engels te skryf. Maar die herontdekking van my moedertaal was die grootste wins van die hele proses. Dit was ’n voorreg om die boek te kon vertaal en ek sal dieselfde met toekomstige boeke doen. Die Afrikaanse en Engelse boekemark is werklik twee aparte wêrelde. Daar is ’n groter Engelse oplaag gedruk, maar by die Afrikaanse weergawe is ek sterk bewus van ’n dinamiese wêreld waarin lesers en literatore besig is om aktief sin te maak van nuwe literêre werke.”

Oor haar man, Adi Enthoven, se reaksie op Valsrivier vertel sy aan Jacomien van Niekerk: “Adi was nog altyd baie, baie ondersteunend – hy het my lankal aangemoedig om te skryf, selfs toe ek gedink het ek gaan dit nie werklik doen nie. Hy was my eerste leser. Hy is die persoon wat ek ken wat die heel minste as kleinburgerlik beskryf kan word. In sy wye aanvaarding van alles het hy my die kans gegee om so veilig en vasgehou te kan skryf dat ek nie nodig gehad het om enigiets terug te hou nie.”

Nelia Richter (Rapport) wou by Dominique weet hoe lank sy met die idee van die boek rondgeloop het: “Ek het lank met ’n heimwee en ’n gevoel van intense ingehoktheid rondgeloop – ’n soort voorstedelike engtevrees. En waar is ’n beter landskap vir ontvlugting as die verbeelding. Toe ontmoet ek ’n mallerige man op ’n straathoek wat my aangeraai het om te skryf, want indien ek my draggie verlange nie besweer nie, sou ek omkom van spookpyne. (Hy het later selfmoord gepleeg.) Toe begin ek. ’n Pan. Flaminke. Die gruwelike babers met hul snorre en skurwe lywe.”

Valsrivier speel af op die plase waar Dominique grootgeword het en handel oor haar familie, haar kinderjare saam met haar oudste broer, Paul, en sy afsterwe. Daar waar haar ma-hulle nog woon. In die familiekerkhof is die grafsteen van haar broer, Paul Michiel Botha, die sesde een met hierdie familievoornaam.

Sy vertel aan Marisa Fockema dat haar en Paul se vriendskap baie heg was: “’n Ouer broer is op ’n manier ’n mitiese figuur. ’n Besondere mooi, charismatiese mens. Jy is byna op ’n heldvererende manier verlief op die persoon.

“Van kleins af was Paul egter ‘anders’: begaaf, slim, opstandig, ’n belowende jong digter, met Dominique as sy vertroueling.”

Paul het die “ou” Suid-Afrika met sy apartheidsdogma en die Calvinistiese waardes waarmee hy grootgeword het, bevraagteken: “Hy het ’n tipe onverbiddelike eerlikheid gehad in ’n tyd wat eintlik soveel oneerlikheid geverg het,” vertel Dominique aan Fockema.

En om van hierdie verdrukking van Suid-Afrika en van sy lewenstyl van dwelmverbruik te ontsnap, is hy na Londen waar hy alleen oorlede is weens ’n oordosis dwelms: “Hy was net 27 jaar oud. Agtien maande ouer as ek.”

Paul het altyd ’n trotse Vrystater gebly nes Dominique self: “As kind brandmerk jou omgewing jou psige met sy kenmerke, het Paul vir my gesê. Ons het altyd ’n baie spesifieke gevoel gehad van Vrystaters wees. Jy was eerste ’n Vrystater en dan ’n Suid-Afrikaner.”

Oor of jou herkoms jou brandmerk het Dominique tydens ’n seminaar oor skeppende skryfwerk aan die UJ gesê dat jou herkoms onder meer dit is wat jy as skrywer tot jou beskikking het: “Uit daardie waarhede en blootstellings, onder meer die taal en geografiese landskap wat jou gevorm het, kom dan iets skeppends na vore.” (Beeld, 1 Augustus 2014)

Dominique het besluit om die boek ’n roman te noem, ten spyte daarvan dat die boek op ware gebeure gebaseer is en die karakters, plekke en plase wat in Valsrivier ter sprake is, herkenbare name het.

Sy verduidelik hierdie besluit aan Marisa Fockema só: “Die geheue is nie ’n veilige plek om dinge te bêre nie. Om ’n herinnering op te roep, is om die eerste daad van fiksie te pleeg, want die minuut wat jy onthou, onthou jy op ’n ander manier as wat dit in feite gebeur het.”

Fockema wou by Dominique weet wat haar ouers se reaksie op die publikasie van Valsrivier was: “My ouers is baie ondersteunend. Wat in die boek staan, was nie noodwendig vir hulle maklik nie, maar hulle het my besluit om dit te doen, gerespekteer. Ek hoop die leser sal dit as ’n verhaal (verby die persoonlike gegewens) sien en meegesleur word. En ek hoop dat ek die karakters met al hulle skete, goeie dinge en teenstrydighede weergegee het. Ek voel ook dat ek myself blootgestel het as skrywer en as mens. En dit is belangrik, want as jy bereid is om ander mense bloot te stel, moet jy jouself ook kan blootstel.”

Dominique brei ook ’n bietjie verder uit oor haar ouers se reaksie teenoor Jacomien van Niekerk: “Met die publikasie van die roman het ek vir my ouers perspektief probeer gee: Daar is sewe miljard mense op die aarde en ons storie is nie só belangrik nie. Natuurlik is dit nie so maklik vir die mense wat indirek figureer om nonchalant daaroor te wees nie. My ma het nog nie die boek gelees nie (November 2013), maar my pa wel, en sy reaksie was wonderlik. Albei my ouers ondersteun my geweldig en is trots op my. En hulle verstaan dat die roman uiteindelik ’n manier was om vir hulle dankie te sê.” (Vrouekeur, 8 November 2013)

Valsrivier het dadelik die letterkundige pryse van 2014 oorheers – die Eugène Marais-prys vir ’n vroeë werk, die Jan Rabie-Rapport-boekprys en die UJ-debuutprys (laasgenoemde vir beide die Engelse en Afrikaanse boek). Dit was ook op die kortlys vir die kykNET-Rapport-boekprys, terwyl die Engelse weergawe die kortlyste van die Sunday Times-prys en Alan Paton-prys gehaal het.

By die ontvangs van die Eugène Marais-prys sê sy in haar bedanking: “Om in die naam van Eugène Marais ’n prys te ontvang, is ’n blommekrans uit ’n droom wat ek nooit durf droom het nie. Hierdie verslete prins is ’n eeu gelede met ’n heuningvoëltjie-roepstem teruggelok deur versengde provinsies, om in die kaal takke van ’n dialek ’n korf oop te breek. Sy woorde het op versoete vleuels die veld verse aangedra, wat deur die jare vermenigvuldig het oor ver verlate vlaktes en die dieptes van die see (...).” (Rapport, 14 September 2014)

Breyten Breytenbach, een van Dominique se letterkundige mentors, het só oor Valsrivier geskryf: “Moed word nie normaalweg gereken as ’n literêre kenmerk nie. Hierdie bildungsroman is egter ’n veelseggende lofbetuiging aan dapperheid, grasie en selfs elegansie.” (Beeld, 14 Junie 2014)

Hierop reageer Dominique só: “Die teenoorgestelde van elegansie en grasie is natuurlik al hierdie narsistiese tell all, let it all hang out-tipe kultuur waarin ons lewe. Natuurlik voel ek baie sterk dat my boek die teenoorgestelde daarvan is. Daar is mense, nie familie nie, maar ander mense, wat wél gevoel het dit is onvanpas, onbetaamlik en al hierdie dinge...”

Johan Smith resenseer Valsrivier vir Rapport (1 September 2013): “Die verteller se liriese en poëtiese skryfvermoë slaag ontsettend goed, en haar metaforiese beskrywings van die Vrystaatse plaas en sy mense is pragtig. (...) Die narratief uit die oogpunt van ’n jong meisie slaag ook goed, sonder dat dit kinderlik klink. Sy vertel die verhaal van Paul met ’n tasbare melancholie, sonder om temerig te raak.

“Daar is vele tonele in die boek wat die hartsnare roer, van die onregverdigheid van die ou nasionale bestel tot die komplekse verhouding tussen Paul en sy pa. Daar is ’n spesifieke toneel in die boek waar Pa Andries Paul se weermaguniform uittrek om hom te help bad nadat Paul probeer selfmoord pleeg het. Die tasbare stilte, maar woordelose liefde tussen pa en seun in hierdie ongemaklike toneel is roerend.

“Botha sluit die verhaal af op ’n klimaks, met ’n hartverskeurende gedig, waarvan ’n uittreksel so lui:

my kinders sal jou nie ken nie
ek wil jou so graag
aan ons plek van herkoms
bind met woorde
om weer te begin
met ’n skildwag teen toeval
net ’n ompad
met ’n lang potloodstreep
wat vervaag oor blou heuwels
in my vergeelde tekenboek

 “Die rivier in die titel vloei deur die ganse verhaal: In sommige dele, soos in die winter, beweeg die rivier teen ’n slakkepas. In ander dele, veral aan die einde van die boek, sleur die rivier met geweld alles in sy pad mee. En só is ’n mens deurentyd bewus van sy teenwoordigheid.”

En Steve Hofmeyr sluit sy resensie op LitNet af: “Daar is min kritiek op hierdie meesterwerk. Miskien is ek net ondergekwalifiseer om dit raak te sien. Dis maar ’n liberale verhaal oor welgestelde, liberale Afrikaners wat ander Afrikaners blameer vir alles behalwe hul eie rykdom. (...) Maar jy het die witskuldstorie tot die dood toe al gelees, en jy weet daar is geen pryse vir jou buite daardie linkslêery nie, dog hierdie keer word dit in die mooiste, mooiste taal gedoen. (...)

Valsrivier sal pryse wen vir sy tapisserie van mooi. Dit móét (wil ’n mens hoop). Baie lesers sal ’n toergids vir ure deur ’n enkele spens met rakke en rakke anysbeskuit, waatlemoenkonfyt en kaneelsuiker volg. Baie sal dit minder boeiend vind, maar ek salueer hierdie waardige Afrikaanse prysstroper. Bygesê, hoe hierdie tesourus van inheemse Afrikaanse noemwoorde na Engels kon vertaal, moet ek nog sien. Dan lees ek hom dalk weer.”

Gerdus Senekal bespreek Valsrivier vir LitNet en met die lees daarvan het drie dinge hom getref: “Een, dis ’n absoluut oorweldigende debuut; Willem Anker se Siegfried het my laas so teen die kop (en in die hart) getref. Ek sou angstig wees om só te debuteer, want hier het Dominique Botha vir haarself ’n baie hoë standaard gestel. Twee, die taalgebruik in Valsrivier is ongelooflik mooi en staan deurgaans met een been in die poësie. Drie, die skrywer is beslis geen lafaard nie. Alles in en rondom Valsrivier is baie beslis persoonlik en (kreatief) biografies. Om al hierdie intieme dinge op papier neer te lê moes moed geverg het, en mens kan net spekuleer dat die herbelewing van sekere lewensgebeure vir die skrywer pynlik kon gewees het. (...)

“Die eerlike en opregte manier waarop kwesbare herinneringe weergegee word, maak dit vir mens byna onmoontlik om nie self ’n bepaalde emosionele betrokkenheid by die verhaalgebeure te hê nie. Benewens hierdie meegevoel word die ek-verteller ook vernuftig ingespan om jou oortuigend in die verhaalstroom te dompel.

“Mens besef egter dat dié stem (veral die kinderstem wat in byna die helfte van die boek neerslag vind) dikwels dinge weergee soos dit om die beurt aan haar gekommunikeer is en dat daar hier miskien ook een van verskeie ‘valshede’ waarop die titel dui, te bespeur is. Dit is so dat geheue dikwels vals of verwronge is, maar ook kan dit wat tog ‘reg’ onthou word in die eerste plek ’n versinsel wees. Met die lees van Valsrivier word mens se eie kinderdae, en die verloop van jou eie lewe, opgeroep. Dit laat jou terugdink en wonder: ‘Was dit regtig só?’ Die roman is treffend nostalgies, maar nie sentimenteel nie. (...)

“‘Gewortel in die aarde, deurtrek van die ou-ou wyses waarop mense oorlewe,’ pronk Breyten Breytenbach se lof van die boek op die buiteblad. Valsrivier is dan ook baie beslis in die aarde gewortel wat die inhoud en aanbieding daarvan betref. Soos reeds genoem, skryf Botha op ’n poëtiese manier. Tog is die sinne eintlik gestroop en eenvoudig. Dit is benewens mooi ook ég en aards; hier is geen pretensie te bespeur nie. Ook inhoudelik is daar aardsheid te vind in die tydperk waarin die roman afspeel, een waaroor baie mense selfs nostalgies sal raak. Vervloë dae, toe mense nog plase geken het, baie meer direk van die grond afhanklik was as nou, en ook baie meer intiem daarmee omgegaan het.

“‘Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ’n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoen verloop. Wat jy al daardie familiegoed noem, is vir my belangrik’ (150). Dié aanhaling is nie net leë woorde nie; alles omtrent die roman spreek van hierdie belang vir die skrywer. Die manier waarop Valsrivier die leser raak en betrek, maak dit ook vir hom of haar belangrik. Om nie van rou-mooi te vergeet nie. As lesers bevoorreg genoeg gaan wees om nog ’n paar súlke werke uit Botha se pen te kry, sal die Afrikaanse kanon ’n belangrike toevoeging kry.”

In 2020 debuteer die verhoogverwerking van Valsrivier op die verhoog van die Woordfees. Dit het Saartjie Botha ses maande geneem om die verwerking te voltooi. Sy vertel aan AJ Opperman: “Ons het gesels met Dominique en haar familie. Uiteraard doen ons dit nie vir hulle nie, maar ’n mens wil die regte vrae stel. Dit is ook ’n Bildungsroman in ’n baie spesifieke tydperk, en die Vrystaat is anders as enige ander deel van Suid-Afrika. En hier is ’n gegewe van kinders in hierdie omgewing wie se ouers politiek bewus en betrokke is. Almal kan nie in die storie wees nie. En dit was ’n beginselbesluit om elke akteur net een karakter te laat speel. Daar is beperkings op die verhoog, maar ’n mens wil met ’n ongedefinieerde ruimte die verbeelding verder prikkel.”

Janice Honeyman van Theatrerocket is aangewys as die regisseur van die stuk en vir haar het die verhouding tussen broer en suster gefassineer, sowel as die reis waarop hulle gaan. Bekende akteurs in die stuk is Anna-Mart van der Merwe, Wiseman Sithole, Stian Bam, Peggy Tunyiswa, Robert Hindley en Tinarie van Wyk Loots.

Dominique Botha was baie nuuskierig hoe die storie op die verhoog daar sal uitsien.

Valsrivier het uitgeblink tydens die toekenning van die Woordtrofees. Dit het vyf pryse verower, waaronder die beste toneelstuk op die Woordfees met Janice Honeyman as beste regisseur. Stian Bam en Anna-Mart van der Merwe is as die beste byspelers aangewys en Robert Hindley as die beste akteur.

In 2021, agt jaar ná die publikasie van Valsrivier, verskyn Dominique se volgende boek – ’n dubbeldoor-digbundel met gedigte in Afrikaans en Engels onder die titel Donkerberg / Bloodwood. In 2023 word Donkerberg bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Die keurders was Ryan Pedro, René Bohnen en Hein Viljoen.

Hulle het as volg oor die bundel gesê: “Dit is ’n vindingryke en intense bundel, met soms baie treffende beelde (wat ook soms oor-vindingryk aandoen). Wat die tematiek betref, word daar gefokus op veral die persoonlike en die familie en is die poësie intens van emosie, maar word wel onderspeel.”

Die bundel word ook beskryf as “’n collage van verlies, verdriet, onreg en liefde – alles in die mooiste taalontginning, ryke woordbenutting”. Voorts word Botha beskou as  “’n sensitiewe digter wie se verse die leser beide intellektueel én emosioneel aanspreek”. Die verse is “beeldskoon en tegnies goed geskryf” en dit “eggo Botha se prosadebuut (Valsrivier) ten opsigte van tema, styl en toon”. (LitNet, 14 Augustus 2023)

In ’n onderhoud met AJ Opperman op Netwerk24 vertel sy dat Mark Behr nie lank voor die verskyning van Valsrivier nie aan haar gesê het sy moet die oomblik koester – daar sal nooit weer ’n eerste keer wees nie: “Daar is ’n onskuld aan anonimiteit – ná die gul ontvangs van Valsrivier was daar skielik ’n gehoor. Ek het my stom geskrik,” sê sy.

In Donkerberg skryf sy weer oor haar familie en die plaas. Sy tree in sommige gedigte weer in gesprek met haar broer, Paul, asook met haar man, Adi. Paul staan sentraal in Dominique se verbeelding en dit sal altyd so wees, sê sy. “’n Verhouding eindig nie met die dood nie. Inteendeel, jul gesprek en liefde verdiep en leef aan. Daar word gesê daar is net twee onderwerpe in die literatuur, die liefde en die dood. Wat tussenin lê, is voetnote.”

Paul het van jongs af geweet dat hy wil skryf. Antjie Krog het sy gedigte gelees en aan hulle ma genoem “daar is iets hierin”: “My broer Paul was ’n wonderkind. Hy het geweet hy is ’n skrywer. Hy het van jongs af aanvaar dat publikasie ’n gegewe sou wees. Op 16 kon hy gedigte skryf waarin die ewigheid weerklink. Hy het egter nooit in sy leeftyd uitgegee nie, behalwe nou in skooltydskrifte. Dwelms het die bron van sy talent besoedel.”

Oor haar skuif na poësie vertel sy aan Opperman: “Ek was nie soseer onseker oor poësie as genre nie, maar eerder diep onder die indruk van die groot geeste wat ’n mens voorafgaan. Poësie is ’n onverbiddelike kunsvorm, dit duld slegs uitnemendheid, enigiets meenplasig is amper onuitstaanbaar. Soms vang jy ’n gedig uit die lug soos ’n strooimeisie die ruiker van die bruid, reeds gerangskik. Dit is egter die uitsondering.”

Daar is ook heelwat godsdienstige verse in Donkerberg. Hieroor brei Dominique meer uit teenoor Opperman: “Die boom is ’n argaïese simbool wat in die heel eerste boek van die Bybel die status van kennisdraer van goed en kwaad toegedig word. Hoeveel eeue moes die voorstelling in Genesis (die eerste boek in die Bybel) voorafgegaan het? En ook dan soveel eeue later het bome vergestalting gekry as die kolomme in die Griekse tempels en later in die katedrale van die Christene.

“’n Woud is ’n oerkatedraal. As jy lank genoeg deur ’n woud stap, is jy nie meer net in die woud nie, die woud is nou in jou. Dit is reeds salig.”

Opperman stel dit aan haar dat die waarheid sekerlik ’n vertrekpunt in gedigte soos “die halsstarrige klavier” en “die gedig en die waarheid se maskerdans” was. En haar reaksie hierop: “Is al die gedigte waar? As ek jou laerskoolonderwyseres was, sou jy jou hand moes uitsteek om met ’n liniaal gepiets te word oor so ’n stuitige vraag... maar in alle erns is dit eintlik ’n baie diep vraag (waaroor ’n mens lank kan praat).

“Kan ’n klavier halsstarrig wees? Kan ’n ouma ’n klavier wees? Wat waar moet wees, is die gevoel wat die gedig na wording bring. Die filosoof Plato het geglo poësie is immoreel omdat dit in valshede gegrond is.”

In ’n onderhoud op Versindaba wil Joan Hambidge weet hoe dit gebeur het dat Dominique ’n digbundel gepubliseer het beide in Afrikaans en Engels – of dit dalk is omdat sy as Afrikaanse, Vrystaatse kind in Engels skoolgegaan het.

“Die wêreld waarin ek grootgeword het was meer wit en swart, meer óf Afrikaans óf Engels as vandag,” vertel sy aan Hambidge. “My ouers wou ons graag ’n breër ervaring van die wêreld bied en ’n wegkomkans uit die eng politieke siening van Christelike Nasionale Onderwys. Na laerskooljare in ’n Afrikaanse staatskool op die Vrystaatse platteland is ek na ’n Engelse privaatskool vir meisies in Natal.

“Ek was die enigste Afrikaner in die skool. You are not like other Afrikaners....more like us....haha, die Engelse meerderwaardigheid is kostelik. Interessant hoe ’n nuwe taal jou mond kan moeg maak. Jy gebruik jou tong op verskillende maniere na gelang van die klanke van die taal.  Dit is natuurlik ’n belangrike fisiologiese tyd vir taalverwerwing, as jong tiener is jy in ’n oorgangsfase waar jou vlotheid van spraak vasgelê word en die veerkragtigheid van jou aanleervermoë taan. Ek het myself dus tussen tale bevind, en hulle is jaloers op mekaar. Taalsloping is ’n dinamiese en konstante gegewe omdat die tale baklei vir heerskappy. Die een wil die ander een van kant maak, of omvorm. Om beide tale gelukkig te hou moet jy vir albei blomme aandra.”

Hoe verskil die skryfproses van die digkuns met die skryf van ’n roman, wil Joan Hambidge weet: “Die roman moet aan sekere verwagtinge van die leser voldoen. ’n Roman moet ’n begin, middel en einde hê, natuurlik nie noodwendig in daardie volgorde nie. Stories spruit uit gedeelde ervarings in ’n soeke na sin, en moet ’n aantal gegewens ontplooi wat reeds gedeelde begrippe is. In prosa het jy ook die kadens van narratiewe beskrywing en dialoog. Laasgenoemde versnel die intensiteit van die vertelling, terwyl beskrywing dit verlangsaam. Die onderbou van die roman hoef nie waar te wees nie maar wel geloofwaardig, ongeag die konteks, of dit nou in die buitenste ruimte of in ’n hallusinasie afspeel.

“Poësie werk met vervreemding. Dit raak aan die onnoembare, die misterie wat buite die omvang van woorde vibreer. Elke woord in ’n gedig moet juis wees. En elke woord dra ’n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte so dig maak, en so uitdagend om te vertaal.

“Die groot verskil in die skryfproses tussen gedigte en prosa is sekerlik die lengte. ’n Roman het karakters, dinge gebeur, maar gedigte kan ook karakters en ’n storielyn hê, beide maak gebruik van die musikaliteit van woorde. ‘Iets’ moet gebeur in ’n roman, ‘niks’ kan net in ’n gedig gebeur, en jy moet ’n uitstekende digter wees om ‘die niet’ treffend en betekenisvol te weergee.”

Oor die tweeledigheid van die bundel verduidelik Dominique aan Yves T’Sjoen: “Ek het in oorleg met die vormgewer Anton Kannemeyer op die stofomslagontwerp besluit. Anton in sy hoedanigheid as comics kunstenaar het al voorheen ’n onderstebo-tweeluik met sy medepligtige Conrad Botes uitgegee en hy het dieselfde formaat vir Donkerberg / Bloodwood voorgestel. Alhoewel ek as leser dit geniet om die tale teenoor mekaar te sien, het ek nie gevoel dat die norm noodwendig gerespekteer moet word nie. Ek het van die estetiese oplossing van die onderstebo-dubbeldoor voorstel gehou. Anton was ook van mening dat die twee tale verskillende skilderye asook titels regverdig.

“Ek het lank getob oor ’n titel en het aanvanklik besluit op Die Halsstarrige Klavier, ook omdat dit vir my ’n sleutelvers in die bundel is. Anton was van mening dat dit soos die titel van ’n kinderboek klink. Sy beswaar was dat mens verwag om êrens dan ook die swaarmoedige wastafeltjie of die beduiwelde divan raak te loop. Hy was natuurlik heeltemal reg.

“Ek dink die paratekstuele gegewens kan ’n waardevolle rigtingwyser vir ’n leser bied, maar die digter moet versigtig wees om nie te veel te wil verduidelik of nog verder te probeer verdoesel nie. Met Donkerberg is dit helder. Hier is die mense vir wie ek skryf. Hier is my lewe.”

Marcel Spaumer (Klyntji) wou weet hoe sy haarself sien ná die publikasie van Donkerberg – as digter of romanskrywer? Haar antwoord hierop was: “Om jou vraag dus met ’n ompad te beantwoord, ek sien myself miskien dan meer as ’n werksku digter as ’n onproduktiewe romansier.”

Oor die lang wag tussen Valsrivier en Donkerberg verduidelik Dominique aan Spaumer dat dit waar is dat sy “hoogtevrees” gekry het ná die goeie en verrassende ontvangs van Valsrivier: “Die lang wag is maar toe te skryf aan ydel vrese.”

Of daar spesifieke gedigte was waarmee sy gesukkel het en of sy ooit ’n gedig weggooi as dit nie wil werk nie, vertel sy aan Spaumer: “Ek het ’n snippermandjie vol verstotelinge. Soms wil ’n gedig net eenvoudig nie dieper as die oppervlak dryf nie. Soms kan jy ’n sin red deur dit êrens anders aan te wend. ‘Kill the little darlings’ is ’n goeie mantra. Jy moet gewoond raak daaraan om die witvoetjies van jou ydelheid die nekslag toe te dien. En soms meld gedigte hulself klokhelder en skoon aan. Dan is jy dankbaar. 

“In die gedig ‘eendagvers’ het ek gesukkel om die gepaste slot te vind. Uiteindelik het ek besef dat die inleidende stanza eintlik ’n refrein is, en dus herhalend aangewend kan word. Skielik het die liedjiepatroon van die gedig deurgesyfer.” 

Op LitNet (24 Maart 2022) bespreek Reinhardt Fourie Donkerberg: “Donkerberg / Bloodwood, wat uitgegee word in ’n Afrikaanse en Engelse spieëlbeeldformaat, kan op verskeie maniere deur die leser benader word. Enersyds is dit ’n digbundel wat op sy eie staan. Andersyds is dit ’n bundel wat as ’n soort begeleidingsbundel vir Valsrivier (en False River) dien. ’n Leser hoef nie noodwendig vertroud te wees met Botha se roman om hierdie bundel na behore te interpreteer en geniet nie, maar die lees van die bundel baat wel by ’n kennis (en miskien selfs ’n herlees) van Valsrivier. Hiermee wil ek nie die indruk skep dat Donkerberg nie sterk genoeg is om alleen te staan nie, maar eerder stuur ek daarop af dat die bundel en die roman gelees kan word as deel van ’n verhaal en verhaalwêreld wat deur mekaar aangevul kan word. In hierdie resensie bemoei ek my met die Afrikaanse helfte van die digbundel.

“Die bundel is in vyf afdelings verdeel, maar hierdie onderskeid is losweg ’n rangskikking van temas wat ondergeskik is aan die hooftema, aangesien sekere verwysings en personae oor en weer en deurgaans na vore tree sonder om hulle te veel te steur aan die grense wat met die eerste oogopslag deur die afdelings se titels gesuggereer word. Die sentrale tema wat in byna al die gedigte na vore tree, is die landskap van die platteland, en spesifiek die Vrystaatse platteland. Ook die titel en die keuse om die omslag met ’n Pierneef-landskap te illustreer beklemtoon hierdie verbondenheid. (...)

“In die afdeling getiteld ‘in die huwelik van ons asem’ (36–48) wyk Botha met ’n reeks erotiese en liefdesverse hiervan af. Die mooi ‘minnekoors’ toon hoe die digter vernuftig geykte liefdesbeelde vermy:

minnekoors

kom deur die poort
met jou arms vol perlemoenduiwe
en jou keel vol rose
volg die klein suiderkruis
wat tot sporing kom op my dy
soos seewier wat verlangend opwel
na die son se soen

ek wag op jou
aronskelke in die skaamvlei
van hartjiesgras
wande gekarring
uit moederlint en kaneel

my mond is takkies en donsvere
wat wil oopbreek op joune
soos koors breek
op spiraaltrappies
in laatmiddagvoortuine.

“Maar die liefdesverse is ’n kort verposing van die bundel se tematiese bemoeienis met ’n familie teen die agtergrond van die landelike wêreld. Hierin lê ook die bundel se sterkste ooreenkomste met die tematiek van Valsrivier. Figure uit dié roman kom in talle gedigte ter sprake: die spreker, die vader en moeder, die grootouers, en uiteindelik ook die broer, Paul. Elkeen van hierdie figure word deur ’n kombinasie van ’n gebalanseerde verwondering en objektiewe oorweging in verse vasgevang. Die laaste afdeling van die bundel, ‘die kind wat geen perke geken het nie’, word dan in sy geheel aan Paul gewy. Die lang gedig waarmee Valsrivier geëindig het (‘roudig’, bl 74), sluit dan ook Donkerberg af, en hervestig sodoende die skakel met die digter se debuutroman.

“Die bundel is in pragtige hardeband met stofomslag uitgegee. Hoewel lesers sal baat by voorkennis van die digter se eerste werk, is ’n mens ook genoop om te erken dat dit beslis nie ’n voorvereiste is om hierdie digbundel te waardeer nie. Donkerberg is nou dalk nie die oorrompelende kragtoer wat Botha se debuutroman was nie, maar dit is immers nie wat ’n mens noodwendig van die poësie sou verwag nie. Ten spyte van ’n gedeelde tematiek met haar roman is die gedigte in sekere opsigte stadiger en bepeinsend, en hulle draai so nou en dan van die blik op ’n verlede af, soos die geval is met die liefdesverse in die derde afdeling. Donkerberg is ’n knap poësiedebuut.”

Op Netwerk24 (18 Oktober 2021) sluit Louise Viljoen haar resensie van Donkerberg / Bloodwood só af: “Die gedigte in Donkerberg / Bloodwood teken grootliks dieselfde wêreld as wat ons in Valsrivier leer ken het. Dit is ’n bundel wat terugkyk en afhandel eerder as wat dit aktief in gesprek tree met die vraagstukke van die hede (politieke vergrype, klimaatsverandering, probleme rakende ras, klas, geslag en taal). As sodanig verskil dit van die strydbare gedigte van die nuwe generasie digters en debutante in Afrikaans, waaronder die name Kamfer, Trantraal, Phillips, Odendaal, Julius en Pedro Ryan.

Donkerberg kan dus gelees word as die poëtiese distillaat van Valsrivier, eerder as die inslaan van ’n nuwe koers. ’n Belangrike wins is die kleurryke Afrikaans wat ’n hele aantal byna-vergete woorde terugwen vir die poësie en die gestroopte soberheid van die Engelse vertaling.”

In Rapport (10 Oktober 2021) sluit Marius Swart sy bespreking van Donkerberg / Bloodwood af: “Die Engelse vertalings maak nie net hierdie sterk Afrikaanse digterstem vir ’n Engelse leserspubliek toeganklik nie, maar wys ook uit hoe die kontoere van segging tussen tale kan verskil al word dieselfde gegewe uitgedruk en beskryf. Om hierdie rede bied dit ook vir veral die Afrikaanse leser ’n heerlike speurtog om te sien wat dit is wat die poësie so eiesoortig maak, en ook so belangrik.”

Marcel Spaumer skryf in ’n onderhoud met Dominique op Klyntji: “Die plasing van die laaste gedig van Donkerberg,  ‘roudig’, het ook destyds in Valsrivier verskyn. In Valsrivier het die plasing daarvan ’n voortsleping by die leser meegebring maande nadat die boek neergesit is; die plasing daarvan aan die einde van Donkerberg voel egter soos iets anders, dalk iets meer gegrond, asof dit iets kom vestig. Het die gedig ander betekenis vir jou gekry in hierdie bundel? Hoekom was dit vir jou belangrik om die bundel daarmee af te sluit?”

Hierop antwoord Dominique: “Prosa het my daar, reg aan die einde van Valsrivier, in die steek gelaat, en poësie het ’n hand uitgesteek in die vorm van daardie treurvers wat die werklike roubeklag geword het. Ek het van die begin af geweet ek wil graag ‘roudig’ in die bundel insluit. Dit is beide deel van Valsrivier, maar dit staan ook daarvan los. ‘Roudig’ was die oorspronklike gedig, dit was my toegangspoort tot poësie. Ek wou dit in die versameling hê, maar ek moes eers die bundel as ’n geheel sien. Eers ná ’n gesukkel om die volgorde van gedigte in Donkerberg te bepaal, het ek besef die gedig kan nêrens behalwe aan die einde wees nie. So ’n lang gedig elders in die bundel sou die vloei opbreek. They say everything ends where it begins...

Tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée in Nxuba (Cradock) in 2024 ontvang Dominique die Orde van die Windpomp nadat sy gepraat het oor versoening binne ’n letterkundige konteks. Sy vertel aan AJ Opperman: “Ek het ’n praatjie gelewer oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse verdriet. Die titel het ek ontleen aan ’n gedig van Petra Müller: ‘Daar is ’n witvlerknagtegaal, wat net in Sanskrit sing’. ’n Oudonderwyser van Piketberg het opgestaan en gesê dit was die moeite werd om 850 kilometer af te lê om daar te wees. En toe sien ek boonop twee bloukraanvoëls op pad uit na Olive Schreiner se plaas en word die Orde van die Windpomp (aan my) toegeken. In die aanwesigheid van groot geeste vir wie ek groot bewondering het, insluitend my ouers.” (Netwerk24, 26 September 2024)

Etienne van Heerden het gesê hierdie “innige en eksentrieke” prys is aan Botha toegeken vir haar “versengende” voordrag op die Veldsoirée teen die agtergrond van haar boeke, en vir wat sy in die algemeen doen vir die kunste en mense in die omgewing waar sy woon.

Publikasies:

Publikasie

Valsrivier

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781415203804 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2014 Eugène Marais-prys
  • 2014 Jan Rabie-Rapport-prys
  • 2014 kortlys kykNET-Rapport Boekpryse
  • 2014 kortlys van Alan Paton-prys vir nie-fiksie (False River)
  • 2014 kortlys van Sunday Times Prize vir False River
  • 2014 UJ-debuut-pryse vir Afrikaanse en Engelse literatuur (vir Valsrivier en False River)

Vertalings

  • Aanvanklik in Engels gepubliseer onder die titel False River in 2013
  • 2016 Frans; vertaal deur Georges Lory

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Donkerberg / Bloodwood

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780620942638 (sb)

Uitgewer

Dwarsrivier Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2023 Ingrid Jonker-prys

Vertalings

Uitgegee in ’n Afrikaanse en Engelse spieëlbeeldformaat

Resensies en besprekings

 

Artikels oor en deur Dominique Botha

Dominique Botha se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2025-02-19 gepubliseer.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Dominique Botha (1971–) first appeared on LitNet.

The post Dominique Botha (1971–) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 493

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>