![]() Foto: Melt Myburgh
|
“Ek het ’n sterk gevoel van identiteit. Ek het geanker grootgeword met ’n woordpa. Ek het van kleins af in woorde belang gestel, en altyd stories vertel toe ek klein was.” (Die Burger, 12 Julie 2007) “Jy loop altyd met ’n mandjie rond wanneer jy skryf, versamel ’n klip hier, ’n stuk dryfhout daar. Dan kom hulle in ’n nuwe gedaante uit.” (Die Burger, 12 Julie 2007) “Van die belangrikste boeke in my lewe was dié wat ’n deur oopgemaak het op wat skrywers met woorde en taal kan aanvang – van AG Visser tot Ogden Nash, van Dylan Thomas tot Italo Calvino. Toe ek Dwaalstories van Eugène Marais en MER se Die susters gelees het, het ek begin verstaan wat suggestie en onderbeklemtoning kan vermag.” (LiG, April 2004) “Wat my nog altyd die meeste interesseer, is die subtiele dinge wat tussen mense gebeur, die feit dat mense mekaar nodig het, en die verskillende vorme van menslike moed.” (Sarie, 26 Maart 1997) “Kortverhale eis baie van my tyd. Ek werk lank daaraan en skaaf oor en oor. Dis gewis nie ’n mindere vorm van skryf nie al hou jy deurentyd ’n sekere teikenmark in jou kop. Maar ek het nog nooit iets geskryf sonder dat ek gevoel het ek het iets gekommunikeer nie.” (Beeld, 25 Augustus 2001) “’n Storie as troos, ’n verhaal om die vergete verlede te besweer, ’n vertelling om ’n herkoms na te speur, ’n relaas as verduideliking.” (Uit: Sê Maria) “My identiteit is dat ek van mense hou en geïnteresseerd is in wat mense laat tiek, waar mense vandaan kom.” (Die Burger, 12 Julie 2007) “Ek geniet dit om met woorde te werk, maar dis baie swaar werk, ek dink dikwels honderd verskonings uit om nie te skryf nie. As mens by bladsy een begin en besef wat lê voor, is dit so daunting. Die Vader alleen hou jou aan die skryf; dis onseker werk.” (Die Burger, 12 Julie 2007) “As jy regtig betrokke raak by ’n manuskrip, sit jy regdeur sonder ’n besef van tyd. Jy gee ’n klomp goed prys wat jy nie doen nie. Esias Bosch het eenkeer vir my gesê ’n deadline is ’n goeie ding, want dan vergeet jy van jouself.” (Die Burger, 12 Julie 2007) “’n Roman is ’n storie, dus moet dit in die gebeure, die karakters en dit wat tussen hulle gebeur, gewortel word: die subtiele goed tussen hulle.” (Die Burger, 12 Julie 2007) “Ek stel baie belang in mense. Met enigiets wat ek skryf, as ek my kom kry, het die karakters ’n hele geskiedenis wat die verhaal voorafgaan. Ek vra altyd vrae soos: Wat motiveer gedrag? Wat het tussen mense gebeur? Ek kyk deur ’n klein venstertjie en dikwels bepaal geskiedkundige gebeure mense se lot.” (Beeld, 2 Augustus 2018) Oor boeke: “Boeke verruim jou verwysingsveld, transformeer dinge wat jy as vastighede beskou het, herskep jou wêreld. ’n Groot boekwinkelgroep het ’n tyd gelede ’n advertensieveldtog gehad van ’n deur wat oopmaak in ’n ruimte met die byskrif: discover another. ’n Ander wat? ’n Ander lewenstyl, ’n ander siening, ’n ander land, ’n ander feit. Dalk ’n ander jy. Soms ontsnap jy by ’n boekdeur uit in ’n heerlike romantiese wêreld, soms waag jy dit in die moeilike onbekende, soms struikel jy vermoeid deur ’n boekdeur in ’n vertroostende tuiste in.” (LiG, 2004) “Boeke wat my kop oopgemaak het, is pitkos soos prof FJM Potgieter se Calvyn vir vandag en D Martyn Lloyd-Jones se Studies in the sermon on the mount en The message of the Psalms deur Walter Brueggemann. En die Suid-Afrikaans gebore Vincent Brümmer se noukeurige en glashelder formulering van geestelike waarhede in The model of love.” (LiG, 2004) “Boeke kan vir ons op verskillende maniere vensters op ’n skrefie ewige lig oopmaak.” (LiG, 2004) |
Gebore en getoë
Erika Isabel Murray is op 1 Oktober 1941 in Greytown in KwaZulu-Natal gebore. Haar pa was jare skoolhoof en dit het meegebring dat hulle baie verhuis het. Haar pa het by geleentheid die gramskap van die gemeenskap op die hals gehaal deur dinge in die skool te hervorm. As skoolhoof van ’n laerskool in Colenso wat enkelmedium Engels was, was hy daarvoor verantwoordelik dat dit omskep is in ’n dubbelmedium skool, aangesien die helfte van die kinders Afrikaanssprekend was. (Beeld, 25 Augustus 2001)
Erika vertel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 26 Mei 2016) watter invloed ID du Plessis se Uit die Slamse buurt op haar as kind gehad het: “Dit het my kinderverbeelding en my wêreld verruim. Wonderlike, soms gruwelike stories sonder sedelesse. Ek was bekoor deur die klanke van eksotiese woorde: poeteries, djins, salaam aleikum, aleikum salaam. Die geheime lied waarmee ’n ma ’n mensvreterdraak uitoorlê begin so: Doederoemandro, kalekawandro... Heerlik!”
Dit was ook haar pa, wat familie van ds Andrew Murray was, wat met haar as klein dogtertjie gepraat het oor woorde en waar hulle vandaan kom. Met sy uitgebreide kennis van die Klassieke tale kon hy die wonder van taal vir die jong Erika oopmaak. Erika matrikuleer in 1958 aan die Hoërskool Glencoe.
Verdere studies en werk
Erika is na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Sielkunde as hoofvakke, asook haar Honneursgraad in Sielkunde met lof slaag. Op Stellenbosch dien Erika in die redaksie van Die Matie en woon sy ook DJ Opperman se letterkundige laboratorium by.
Later behaal sy ’n diploma in Spesiale Onderwys aan die Universiteit van Pretoria en ’n Honneursgraad in Afrikaans aan Unisa. Sy gaan werk by die Departement van Arbeid as vakkundige, word dosent by Unisa se Departement van Sielkunde, en doen ook vryskutvertaalwerk in Sielkunde vir Unisa. Sy het jare lank beradingswerk by FAMSA gedoen en deur die jare gereeld op ’n aflosbasis by hoërskole Afrikaans gegee. Intussen doen sy vertaalwerk, was lank redakteur van ’n maandelikse gemeenteblad, en is baie betrokke by leeskringe.
In 1964 trou sy met Tom Theron, ’n ingenieur, en hulle het vyf kinders. Hulle bly in Pretoria, wat duidelik figureer in haar skryfwerk.
Erika se eerste skryfpogings was vir Die Jongspan en skool- en universiteitsblaaie. In 1974 publiseer Sarie haar eerste storie en heelwat artikels, kortverhale en twee vervolgverhale verskyn in gesinstydskrifte. Sy vertel aan Sarie (26 Maart 1997) dat daar nie baie dinge in haar lewe is wat lekkerder was as toe Sarie in 1974 haar eerste storie aanvaar het nie: “Waarom ek steeds graag vir Sarie skryf, is die groot voorreg om te kan kommunikeer met mense met wie jy andersins nie sou gepraat het nie omdat jy hulle nie ken nie – baie meer as met ’n boek.”
Van haar verhale is in Tydskrif vir Letterkunde, Insig en De Kat gepubliseer, en ’n hele aantal van haar verhale is in bloemlesings opgeneem.
Sy skryf op ’n rekenaar, en veral saans, as almal bed toe is. Die gesin se strandhuis in Keurboomstrand is ook ’n baie lekker skryfplek: “My siel het daar ’n ander ruimte,” sê sy aan Stephanie Nieuwoudt in 2001.
Sy sê ook aan Nieuwoudt dat sy haarself as bevoorreg ag om deur haar tydskrifverhale so ’n groot gehoor te bereik. “Wanneer lesers van ernstige boeke met ’n meerderwaardige houding na tydskrifverhale kyk, moet hulle onthou dat van Suid-Afrika se bekendste skrywers, soos Elsa Joubert, Margaret Bakkes, Petra Müller en André P Brink, vir tydskrifte geskryf het.”
En haar dubbelloop-van? Erika Murray was darem te na aan Ena Murray, en die tyd toe sy begin skryf het, was Erika Theron ook nog sterk aan die gang.
In Beeld (27 Augustus 2011) vertel Erika Murray-Theron van ’n boek wat haar lewe verander het: “Daar is ten slotte een of twee boeke waarmee jy jou diepste verhouding aanknoop. Ek weet nie hoeveel keer sedert my vroeër tienerjare ek al Pride and prejudice van Jane Austen deur gelees het nie. Om elke keer van vooraf beetgeneem en bekoor te word deur die skerpsinnigheid, die humor en ironie, bo alles die meesterlike speelsheid waarmee sy aan die karakter Elizabeth Bennet lewe gee. Austen skep ’n selfstandige wêreld deur middel van haar trefsekere, presiese, maar subtiele aanwending van taal. Haar boustof is niks meer nie as die gewone, ondramatiese aksie tussen mense.
“Later kom MER se novelle Die susters in my lewe. Só, het ek dadelik geweet, wil ek eendag skryf. So nugter, so onderbeklemtoon, so subtiel. ’n Buitewêreld geteken, ’n binnewêreld gesuggereer.
“Mettertyd ontdek ek die fyn stelskroefies van woorde. Ek spook om nét genoeg te verduidelik. Tot my skok word ek steeds gewaarsku teen hiperbolies skryf. Ek knoop die geveg aan, search deur elke manuskrip vir ‘absoluut’ en ‘totaal’ en replace dit met geen woord nie. Uiteindelik begin ek daar kom. Dag ek. Want my twee skrywerheldinne is toe nie met my klaar nie.
“In die elfde uur voor die verskyning van Sê Maria is daar ’n flenter wat ek wil verander. E-pos die nuwe teks aan redakteur Frederik de Jager. En kry sy lakoniese antwoord: ‘Jou paragraaf is reg so. Ek het net die woord “geweldig” verwyder, verder het ek gedoen wat jy vra’.”
In 1990 publiseer Tafelberg Wie is jy, Elizabeth?, Erika se eerste roman. En sy vertel aan Annemarie Marais (Insig, Oktober 2001) oor hierdie eerste boek se ontstaan: “Ek het ’n vriendin se doktorale proefskrif geproeflees. Op die koevert in haar krapperige handskrif, was die woorde ‘Hoofstuk ses’. Opeens wou ek my eie hoofstuk ses skryf.”
En Cecile Cilliers beskryf dit as ’n vroueroman met heelwat meer om die lyf as die gewone (Beeld, 3 Maart 1990): “Elizabeth Becker, ’n ma met twee kinders en ook huisvrou, beleef baie sukses as ’n beroepsvrou. Sy gaan op ’n maand ‘resesverlof’ Kaapstad toe, nie net vir haar werk nie, maar ook om klarigheid te probeer vind oor haar huwelik en haar vriendskap met Dawid Bosman.”
Cilliers skryf voort: “Elizabeth se soeke na haarself en haar strewe om haar plek in die bestaande strukture te aanvaar, is die hooftema van die boek. Haar wêreld word bewoon deur ’n groot verskeidenheid uiteenlopende karakters, van die meelewende Joodse Avrom tot die patetiese Meisie en die dinamiese Lilla, Jessica, Fia en Magdalena, almal het in ’n mindere of meerdere mate ’n invloed op Elizabeth se eindelike besluit.
“Erika Murray-Theron is ’n sielkundige en dit is in die uitbeelding van die verskillende karakters en hul invloed op mekaar dat die roman ten beste oortuig. Sommige karakters is meer geslaag as ander en Elizabeth, die hoofkarakter, is suiwer uitgebeeld.
“Dit is egter in die gebrek aan ondergeskikte temas dat die roman mank gaan. Ek sou graag ’n uitbreiding wou gesien het van Elizabeth se argeologiese lewe, en die invloed daarvan op haar persoonlike lewe.
“Soos dit nou staan, kon sy enige ander beroep beoefen het. Maar in die geheel gesien is dit ’n boeiende, bevredigende roman, wat deur baie vrouelesers geniet sal word.”
Drie jaar later, in 1992, publiseer Tafelberg Erika se tweede boek onder die titel Die toubrug. Elsabe Steenberg (Beeld, 23 November 1992) skryf as volg oor Die toubrug: “Die leser ervaar in die roman die bevestiging dat die skrywer in die Sielkunde gestudeer en daarin klasgegee het: sy openbaar ’n diep begrip omtrent haar karakters.”
In Die toubrug is Frieda Penny die hoofkarakter. “Sy is ’n intelligente vrou wat tussen haar hede en verlede reis in haar herinneringe en ervarings. Haar wêreld en dié van haar studenteseun Bert word afgewissel met Beatrice, haar huishulp, s’n. Albei vroue is lief vir Bert en raak indirek betrokke by sy probleme as hy met die kampuspolisie deurmekaar raak. Die ergste is nie dat dit hom met die polisie laat bots nie, maar dat hy medeverantwoordelik is vir ’n bomontploffing wat ’n veiligheidsbeampte vermink.
“En deur sowel Bert en Beatrice se seun Matome wat verdwyn het en êrens in Afrika as guerrilla-vegter opgelei word, loop ’n pad terug na Hans Cordua. As Duitser het hy hom in die Tweede Vryheidsoorlog beywer vir die saak van die Boere en is in 1900 in Pretoria gefusilleer deur die Engelse. Frieda raak gefassineer deur die min feite wat bekend is oor die jong man van 23 – skaars ouer as haar eie seun. [...]
“Cordua word die katalisator vir uiteenlopende geskiedenisse van persoonlike en landskonflik. Hy dwing Frieda, en op ’n volgende vlak die leser, om te besin oor tye en gebeure en die uiteindelike sin daarvan. [...]
“Dit bly die toubrug waaraan ’n leser ook gevra word om te bly vasklou: dat liefde en geloof sal voortbestaan tussen mense. Vir die letterkunde beteken dit dat ’n versinking in nihilisme en totale (onleesbare) somberheid ook nie nodig is nie. Steeds kan, soos in hierdie roman, met helderte en boeiende taal geskryf word en kan boeke die mens sinvol verder dra.”
In Rapport (1 November 1992) is Lucas Malan die resensent en vir hom is die kwellinge wat Frieda ervaar nadat die polisie haar meegedeel het dat hul haar seun soek, op ’n genuanseerde en met sielkundige insig geskryf: “Dit is trouens ’n positiewe eienskap van die hele roman dat die karakters afsonderlik én in hul verhoudinge met ander op ’n intelligente en sielkundig geskakeerde wyse voorgestel word. Daar is ook ’n lewendige variasie in die dialoog van die onderskeie karakters wat kontraste bewerkstellig en ’n eietydse tekstuur aan die verhaal gee.
“Ondanks ’n neiging tot te veel besonderhede hier en daar, asook te veel wisselinge in die tyd-ruimte, wat die verhaalgang aanvanklik strem, is Die toubrug ’n onderhoudende en sinvolle roman wat iets meer as net ‘gewilde’ leesstof bied.”
Manie Wolvaardt (Volksblad, 4 Januarie 1993) sluit sy bespreking van Die toubrug só af: “Die leser wat soek na aksie, ’n snelle handelingsverloop en intriges wat jou weens die spanning van die gebeure op die punt van jou stoel hou, sal met die boek teleurgesteld wees. Dog, as jy daarvan hou om besinnend met ’n verhaal om te gaan, as die ragfyn net van verhoudings tussen mense en die brose pogings om mekaar te verstaan jou interesseer, sal die lees van die roman ’n verrykende ervaring wees. Die wyse waarop die hede en verlede retrospektief op mekaar kommentaar lewer, is ’n wins in die Afrikaanse ontspanningslektuur en plaas die boek op ’n hoë vlak. Die kieskeurige leser behoort dit te geniet en te waardeer.”
Twee jaar verloop voor die verskyning in 1995 van Erika Murray-Theron se volgende boek onder die titel Vlegsel. Vir Mariette van Manen (Die Burger, 21 Februarie 1996) is die belangrikste toets waarin ’n roman moet slaag, die storietoets: “Word die storie bowendien so vertel dat dit die leser enduit boei, slaag dit hierdie toets met vlieënde vaandels. So ’n boek is Vlegsel.
“Sy is ’n vernuftige skrywer wat weet waar die grens lê tussen te veel en te min, wat die spanningslyn op die regte oomblik kan breek sonder om die natuurlike vloei te versteur.”
Isa, die ma, en haar twee dogters, Vivienne en Winifred, is om-die-beurt-vertellers van die verhaal – “’n stilistiese vlegsel wat terselfdertyd die tema versterk van drie mense wat hul verbondenheid nie kan ontken nie, ondanks hul wegdu van en toesluit vir mekaar.
“Elkeen van die vroue dra swaar aan haar eie vraggie skuld, seer, woede, wrokkigheid. Elkeen skep vir haarself ’n pantser teen in-die-steek-gelaat-te-word, hetsy deur verwerping, verraad of die dood – Isa met dodelike roetine, Winnie deur niks van haarself te gee nie, Vivvie deur bravade. [...] ’n Mens is dankbaar vir ’n lekkerleesboek wat meer as net die storietoets slaag.”
“Murray-Theron se romans getuig van ’n besonder vlot taalbeheersing en toeganklike styl,” skryf Helize van Vuuren in Insig (Maart 1996). “Sy skryf populêr, en tog ook met stimulering vir die intelligente en nadenkende leser. Hoewel haar eerste werk, Wie is jy, Elizabeth?, oënskynlik as ’n soort vroue-boek met romantiese verwikkelinge (’n Mills en Boon sonder die gehyg) bemark is as mens aan die omslag moet oordeel, het Die toubrug laat blyk dat dié prosateur nader beweeg aan ’n ernstiger, meer betrokke tipe roman wat kommentaar lewer op ons tydgenootlike maatskappy.
“Dié ontwikkeling word slegs ten dele volgehou in Vlegsel, wat nie die belofte van Die toubrug verder voer of die hoogtepunt van die voorlaaste roman kan ewenaar nie. Hopelik sal ’n volgende roman dié stand van sake verander.”
Marina le Roux skryf op RSG se Skrywers en Boeke dat die sterk steunpunt van Vlegsel die hooftema van die drie vrouekarakters en hul invloed op mekaar is: “Newetemas is soms ‘lamvlerkig’, om Vivienne aan te haal, en woordryke clichés soos die ‘groot rooi blom van bloed’ versteur die andersins sober gang van die verhaal. Maar oor die algemeen is dit ’n netjiese roman waarin die skrywer slaag om ’n stewige greep op uiteenlopende karakters en hul onderskeie verhaallyne te behou: hulle vorm immers ten slotte ’n vlegsel! Ek voorspel dat Vlegsel lesers op ’n aangename pad sal lei. Hierdie roman se vroue kan met trots plek inneem langs die ander onvergeetlike vrouekarakters van 1995: Olga Dolsjikowa van Margaret Bakkes, Isobelle van Elsa Joubert, Mathilda van Reza de Wet, Dalene Matthee se Jessie en die ander susters van Eva, André P Brink se Kristien en talle meer.”
Erika se volgende boek, Blikkie sonder boom, het eers as ’n vervolgverhaal in Sarie verskyn voor dit in 1997 in boekvorm uitgegee is.
Vir Marieke Brand in Sarie (2 Julie 1997) is Blikkie sonder boom ’n “nugter verhaal, vierkant in die hedendaagse werklikheid, sonder om dramaties, kras, stomend of sentimenteel te wees. ’n Mens onthou skielik dat talle van ons vroeë letterkunde eers in tydskrifte verskyn het, soos dié een in Sarie.
“Dis die verhaal van Sue-Mina, ’n bruin Kaapse meisie wat Gauteng toe vlug vir die wraak van haar broer, waar sy tog met hom gekonfronteer word. Tussendeur word sy ’n kitsmiljoenêr en vind sy ware liefde. Betreklik vergesog, maar dis die inkleur wat tel, die realisme van die verhaal en die nugterheid waarmee so baie karakters se krake deurskemer. En teen die einde word nie alle drade netjies vasgeknoop nie – nes die lewe is.”
En vir Hennie van Coller (Volksblad, 1 Desember 1997) is Blikkie sonder boom een wat as ’n Kersgeskenk aangekoop kan word. Hy beskryf dit as ’n “spannende liefdesverhaal oor ’n deel van die Afrikaanse gemeenskap wat dikwels verwaarloos word in die literatuur.”
Met haar volgende roman, Die Mezzanine-klub (1998), pak Erika Murray-Theron die terreine van generasie-gapings en verskille tussen die geslagte aan, skryf Lucas Malan vir RSG se Skrywers en Boeke (4 Oktober 1998): “Onder die sambreel van politieke verandering het hierdie twee onderwerpe gelei tot ’n algemene herskrywing van tradisionele opvattings oor die rolle wat kinders teenoor ouers, en vroue teenoor mans jare lank gespeel het.”
Dit is dan ook die kern van Die Mezzanine-klub. Die woord mezzanine is die Latyns vir tussenvloer en verwys in die roman na die stadium waarin mense rondom vyftig hulleself bevind – tussen “jonk en oud wees”.
Malan gaan voort: “Met al die plesier en kwetsure van ’n stuk of dertig jaar agter hulle, kom ’n paar eertydse studentemaats, kennisse en minnaars weens ’n enkele insident van wangedrag op ’n kusdorpie weer stukgewys by mekaar uit. Net om – soos die waarheid nou eenmaal geneig is om te doen – al die leuens en wangedrag van die vorige generasie geleidelik en meedoënloos te onthul.
“Die klassieke patroon van ’n liefdesdriehoek, dwase besluite oor huweliksmaats, verwerping, ambisie en ’n noodlottige ongeluk wat ’n gesin ontydig versteur – dit is alles deel van hierdie menslike verhaal van liefde, kompromieë en boetedoening waar ‘die sondes van die vaders aan die kinders besoek word’.
“Nou mag dit alles na die elemente van ’n roetine-liefdesroman klink, maar soos Eleanor Baker reeds in verskeie romans bewys het, kan Erika Murray-Theron ook van die mees alledaagse omstandighede in ’n gesinslewe ’n uitsonderlike verhaal maak. En soos Baker, kry sy dit reg deur haar karakters met ’n fyn sielkundige aanvoeling só te laat praat en reageer dat hulle as lewensgetroue ‘portrette’ van ’n eietydse werklikheid onderskei kan word.”
Ook Adéle Nel is beïndruk met Die Mezzanine-klub: “Die skryfstyl is deurgaans vlot en natuurlik. Chronologies speel die roman in enkele weke rondom enkele insidente af, maar daar is telkens terugflitse na gebeure in die verlede wat toenemend die intrige verhoog, maar ook algaande sin aan die gebeure gee. Die klem val eerder op interpersoonlike verhoudings en die menslike binnewerk van doodgewone hedendaagse stedelinge.
“Relevante kwessies van ons tyd waarmee die deursneeleser kan identifiseer, kry ook aandag: die emansipasie van die moderne vrou in die huwelik, die komplekse verhouding tussen ouers en kinders op die drumpel van volwassenheid. En die invloed van die nuwe politieke bestel en regstellende aksie op die gemiddelde wit Afrikaner.
“Dit is dus ’n boek wat enduit ontspannend boei, maar tog ook vir die leser iets gee om oor na te dink.”
Erika vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat haar hoofkarakter in Die Mezzanine-klub vorm aangeneem het toe sy eendag in ’n groentewinkel ’n vrou gesien het wat effe mank gestap het: “Die karakters in dié boek handel oor ’n groep mense in ’n ouderdomsgroep wat regtig swaargekry het onder die eise wat die veranderde politieke bestel gestel het. Dis die vyftigplussers wat dikwels nie die elastisiteit het om hul denke te verander nie. Dit waarin hulle jare lank geglo het, is skielik gediskrediteer. Maar ongelukkig het die meeste mense nie die dieper kwessies in die boek raakgesien nie. Dit maak my nogal hartseer.”
Met Erika se volgende roman, Sê Maria, haal sy die kortlys van die RAU-prys vir 2022 en dit besorg ook aan haar die ATKV-Prosaprys vir 2022. Dit handel, volgens die skrywer self, oor ’n vrou wat haar kinders se geskiedenis deur ’n reeks stories aan hulle verduidelik: “Ek het ’n stryd aangeknoop met hierdie teks want daar is baie karakters en baie subtekste, maar ek was lus om ’n groter verhaal deur kleiner verhale te vertel.” (Beeld, 25 Augustus 2001)
Sy vertel aan Annemarie Marais: “Maria se stories gaan ook oor mense se stomheid, om watter rede ook al. Sy pluk aan die rygdrade waarmee mense se oë en mond toegewerk is, al word sommige verhale dalk nooit kláár vertel nie.”
Vir Wium van Zyl (Rapport, 27 Januarie 2002) is hierdie uitspraak van Maria – “Dit wat met mense gebeur, het nie slotte nie. Daar is patrone, ja. Sirkels. Spirale [...]” – die grondslag van Sê Maria: “Want dit is enersyds ’n familieroman, maar ook ’n verhaal oor die verskynsel ‘storie’.
“Soos die titel aandui, is Maria die groot verteller. Met ’n oënskynlik terloopse verwysing na die ‘stem van die storieverteller’ verbind die skrywer haar met Eugène se Dwaalstories, dié versameling tekste wat die Afrikaanse letterkunde met ’n oertradisie verbind. Daar is ’n suggestie dat haar kunstenaarseun, Theodore, haar sal opvolg. Sy toon haar uiters bewus daarvan dat die individu ’n skakel is; sy dink in terme van ‘die vloei van ons familie’.
“Die roman bied dus ’n netwerk van verhale en sommer baie plesier vir lesers wat van interessante en geheimsinnige geskiedenisse hou. Byna elke liefdesgeskiedenis begin met ’n man en ’n meisie wat by die eerste aanblik onherroeplik met mekaar verslinger word. [...]
“Sê Maria is dus ’n heel verwikkelde roman met baie te bied vir sowel die liefhebber van stories as iemand wat dieper wil soek. Dit word aangebied in ’n uitstekende afgewerkte styl met vernuftige oorgange van die een tydvak na die ander.”
Gretel Wÿbenga beskou Sê Maria as ’n storie oor gewone stadsmense wat nie net ontvanklik is nie, maar ook boeiend. Tog is daar genoeg om die lyf vir die leser wat iets meer ernstig soek, “by wyse van die spel met feit en fiksie, sowel as in die metafiksionele aanbod”.
Ilse Groenewald is die resensent op OuLitNet en sy skryf as volg: “Dis ’n familie-sage met ’n twist. Sê Maria is ’n storie oor stories. Die verhaal handel oor ses geslagte se geheime wat deur die boek aan die leser blootgelê word. Alles begin met die lees van ’n koerantberig deur die verteller Maria wat haar aanspoor om te begin vertel, so ‘asof die tyd om klaar te vertel min geword het’. Maar, op die ou einde, moet Maria ook haar eie geheim ontbloot.
“Deur die daaglikse interaksie en gesprekke van die familie, word die verskillende karakters aan die leser bekendgestel en word die vertellinge aan die gang gesit. Aanvanklik word die leser meegesleur deur die verskillende stories, totdat jy skielik besef dat alles nie is soos dit voorkom nie. Na mate Maria se verhaal ontwikkel, word die leser al verder in die familiegeskiedenis teruggeneem en die leser raak partymaal verstring in die verskillende verhale en moet jy konsentreer om by te bly met al die spronge tussen hede en verlede. [...]
“Sê Maria, sê op die ou einde niks nuuts nie. Die Afrikaanse leser is lank reeds nie meer naïef nie en is al telkemale blootgestel aan bloedskande en verhoudings oor die kleurgrens. Niks skok die hedendaagse leser meer nie en teen die einde van die verhaal wil ’n mens amper sê, ‘so what’. Sê Maria word slegs ’n herhaling van wat Elsa Joubert, onder meer, in Die Reise van Isobel en André Brink in Sandkastele gesê het.
“Die boek bied beslis nie komplekse, literêre moontlikhede nie, maar as een van die finaliste in die Insig roman-wedstryd is dit ook nie ’n vodde-verhaal nie. Met al die dramas wat deurentyd plaasvind en die redelik donker einde, moet jy nie verwag om goed te voel na die lees van hierdie boek nie!”
In Kaapse Bibliotekaris is Elizabeth de Roubaix baie komplimenterend oor Sê Maria én oor Erika Murray-Theron: “Die skrywer beskik oor die gawe om die leser te dwing om elke woord te lees en aan te hou tot die einde. Maria se verhale is altyd interessant en onderhoudend, en die spanning word tot op die laaste bladsy volgehou. Dit is veral die outeur se oortuigende en realistiese beskrywings wat daarin slaag om die leser te bekoor. Die skryfster se taalgebruik is dikwels suiwer poësie en haar lewensbeskrywings deurgaans aangrypend en dikwels ook onthutsend. Ek het lanklaas ’n roman so geniet en al ons biblioteekgebruikers wat Afrikaans magtig is, moet dit lees.”
Gesien dat Erika haar skryfloopbaan met kortverhale begin het, is dit dus niks snaaks dat Protea Boekhuis in 2003 haar eerste kortverhaalbundel publiseer onder die titel Kaalvoet oor die berg: verhale oor die liefde nie.
In Die Burger (14 Julie 2003) skryf Cecile Cilliers dat die verhale in die bundel goed geskryf en toeganklik is: “Murray-Theron het die vermoë om omgewing én karakters lewend staan te maak in die verbeelding [...]. Al bly die name van karakters agterweë en word selfs die verhaalstrekking vergeet, bly die klein kompulsiewe optredes wat die karakters kenmerk, helder in die geheue agter.
“Die verhale is nie almal van dieselfde gehalte nie. Sommige stories neig na sentimentaliteit, of ly aan die onvermydelike gelukkige-einde-sindroom wat die vrouetydskrifverhaal kenmerk. Maar selfs sodanige verhale word in groot mate gered deur Murray-Theron se skryfvermoë en humorsin. [...]
“Onder die werklik bevredigende verhale ressorteer die titelverhaal in die bundel, ‘Spacewoman’, sowel as ‘Die sprong’, wat ’n innige kennis toon van die emosies wat verhoudings uitmekaar ruk.
“Hierdie bevrediging ten spyt, het ek die bundel neergesit met ’n effense gevoel van teleurstelling. Die titel en die mooi buiteblad stoei met mekaar. Behalwe in ’n verhaal soos ‘Jutta’ speel die Drakensberge van die daaglikse lewe waaroor barvoets gegaan moet word, geen werklike rol in die verhale en word die vrouetog oor die pieketande nooit met enige diepgang aangepak nie.
“Maar dan moet erken word dat die versameling juis in daardie opsig veral verfrissend is: Murray-Theron ken in hierdie verhale haar beperkinge en pretendeer hier nie tot ‘hogere kuns’ nie. Sy skryf ’n eerlike, goed gekonstrueerde kortverhaal met herkenbare karakters, en daarom is Kaalvoet oor die berge ’n leesbare bundel.”
Vier jaar verloop voordat Erika Murray-Theron se volgende boek in 2017 by Protea Boekhuis verskyn. Sy wend haar weer na die roman as genre met die skryf van Verblyf. Sy het 3½ jaar aan Verblyf gewerk en vir haar navorsing moes sy baie reis en met baie mense gesels en dit is veral die diaspora-polemiek en ontworteling wat haar aangryp.
Erika vertel aan Deborah Steinmair dat Verblyf ’n storie is oor immigrasie en verhuising: “Ek was altyd geïnteresseerd in wat met mense gebeur wat ontwortel word. Die hele geskiedenis van die mens gaan maar oor verskuiwing. Daar is nie eintlik so ’n ding soos ’n permanente huis vir iemand nie. Ek het begin dink oor kontak tussen mense en wat gebeur as die skakels tussen mense wegval, as jy oor ’n leemte na iemand moet uitreik, as dit wat jou aan mekaar gekonnekteer het, nie meer daar is nie.”
Oor die ontstaan van Verblyf brei Erika meer uit teenoor Steinmair: “Die hele diaspora-polemiek het my aangegryp, ek het begin praat met mense wie se kinders weg is. Toe kry ek die ATKV-prys vir Sê Maria, en die helfte van die prysgeld moet jy gebruik vir navorsing vir ’n volgende boek, jy moet motiveer hoe jy dit wil gebruik. Dit het my gestimuleer om daardie sprong te maak.
“Toe kry ek ’n uitnodiging na Noord-Carolina, en ek is Amerika toe met my prysgeld. Ek het onderhoude gevoer met Suid-Afrikaners wat daar woon, maar net geluister na mense. Een vrou het vir my gesê dit voel asof daar ’n doring in haar hand is wat toegegroei het. Mense het emosies rondom immigrasie. [...]
“Ek het die boek geskryf met soveel liefde vir daardie mense, dis hul storie. Ek is bly as mense dit koop om as geskenk te stuur vir immigrante in die buiteland.”
Oor Verblyf skryf Joan Hambidge in Die Burger (2 April 2007): “In die roman word hoofsaaklik met binnespraak gewerk: ’n verteller wat van binne na buite vertel. Moderne kwessies soos identiteit, vestiging in ’n vreemde land, globalisering word sensitief behandel. Stereotipes van die Vreemdeling/Ander kom aan die bod, soos in die verbintenis tussen Helene en Alassane, maar ook in die lewe van mense wat in die vreemde hul identiteit moet verander of ontdek hulle is gay – en die uitwerking daarvan op kinders en ’n voormalige eggenoot. [...]
“Helena en Nicolene, met hul aanhangsels en teëspelers, se verhaal word vertel: twee susters wat tot verskillende kontinente behoort. Skerpsinnig word die gevolge van emigrasie ontleed. [...]
“Die roman is vlot geskryf, maar nie oppervlakkig nie. Die skrywer het al vyf [sic] romans en ’n kortverhaalbundel gepubliseer; met dié teks wys sy sy is Afrikaans se Anita Brookner. Sy vermy sentimentaliteit, maar bied nie bloedlose analise nie. Lees dié roman.”
In Beeld (18 April 2007) is Helene de Kock die resensent van Verblyf en sy skryf: “Die karakterisering is behalwe vir Alassane wie se skadukant nie realisties genoeg uitgebeeld word nie, so deeglik as wat mens van hierdie bekwame skrywer kan verwag. Helena en haar disfunksionele gesin se verhaal word byna ’n volledige subteks maar dien tog die oorkoepelende tema van ontheemding en verhuising en die verreikende invloed wat dit op die mens se psige het. Helena en haar mense is uiters komplekse karakters en dié verhaallyn alleen kon ’n roman op sy eie gewees het.
“Skryfkunstig is hierdie roman fyn gedoen. Die leser is deurentyd bewus van die verteller wat, in dié roman, ’n bekoorlike en belangrike aanwesigheid is. Die feit dat die verteller ’n sterk inligtende sowel as atmosfeerskeppende funksie verrig, werk hier goed want die perspektief spring rond.
“Die fokalisering verskuif dikwels van een karakter na ’n ander en dra ook by tot die gevoel van onsekerheid wat die leser saam met die karakters en hul stryd met hul omgewing ervaar. Die leser identifiseer gewillig met veral Nicolene, en begryp daarom haar en haar gesin se dilemma in die vreemde. Murray-Theron beskik oor buitengewone insig in menseverhoudings.”
Met haar volgende roman, ’n Tapisserie met klein diere, palm Erika Murray-Theron in 2007 die Sanlam/Insig-romanprys in. Sy gesels met Deborah Steinmair oor hierdie storie: “Ek het nog nooit ’n ding geskryf waaraan ek nie al jare geloop en dink het nie. Dit lê maar in jou onderbewussyn en prut so ’n bietjie.
“Ek het gewoonlik ’n sterk gevoel van waarheen ek gaan met ’n boek. Ek begin met die karakters en skryf goed oor hulle neer. Ek dra altyd boekies by my, en het aantekeninge gemaak oor karakters, plekke; oor klein by Keurboomstrand waar ons vakansie hou.
“Verlede jaar (2006) moes ek eers my vorige boek poleer, en daar het heelparty dinge gebeur wat dit vir my moeilik gemaak het om te werk. In Augustus het ek besef die sluitingsdatum vir inskrywings vir die romanwedstryd is in Oktober. Ek het besluit om te maak soos my man my aanpor, en te go for it. Ek het die manuskrip in twee maande voltooi.
“Ek het dit eenvoudig gedóén. Dis die soort boek waarvoor jy in jouself, jou eie ervaring en verbeelding moet delf. Dit was ’n wonderlike ervaring.”
John Kannemeyer som die storie van ’n Tapisserie met klein diere só op: “Die uiterlike raamwerk is betreklik eenvoudig. Gerhardt, ’n geskeide alleenloper in ’n kusdorpie, reël ’n saamtrek vir sy seniele vader en tante Dorothea, saam met haar twee seuns, twee dogters en hulle mans en kinders. Hierdie mense se dikwels duistere verlede word dan in die week van saamwees geleidelik onthul totdat hulle uiteindelik nakend in hul ellende voor mekaar staan. [...]
“As onthullingsroman sluit ’n Tapisserie met klein diere aan by ’n lang tradisie in die verhaalkuns. In Die wilde loot deur Elise Muller, byvoorbeeld, word die gebeure egter gekonsentreer op Retta Steen, wat die huis vroeg verlaat en as aktrise ’n wilde lewe gelei het. In Tapisserie word die verlede versplinter oor ’n hele falanks karakters in wie se lewens almal diep verborge dinge lê. [...]
“Die stukke wat uit die verlede agterhaal moet word, bring mee dat die verteller soms te lank en regstreeks aan die woord bly. In die dele waar die verlede deur die karakters self in stukke oorgedra word, is die roman veel sterker en oortuigender. [...]
“’n Mens hoef maar net te kyk na Harry Mulisch se novelle Chantage op het leven om te besef hoe meesterlik die tegniek van verteller-skrywer aangewend kan word. By Murray-Theron bly dit ’n blote speletjie wat deur die sporadiese aanwending grotendeels misluk en daarom na ’n opsetlike nuutjie lyk.”
Joan Hambidge is van mening dat Tapisserie nie Erika Murray-Theron se beste boek is nie en dat dit ’n vraagteken plaas agter die toekenning van die Sanlam/Insig-romanprys.
’n Tapisserie met klein diere is in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens met Tsitsikamma as titel en in Zuid-Afrika (Februarie 2010) lui Hans Ester se laaste paragraaf oor die boek só: “Tsitsikamma is een goed geschreven roman. Soms vond ik de concentratie van dramatische botsingen en onthullingen uit het verleden aan de te hogere kant. De waarheid gebiedt echter om te zeggen dat de menselijke verhoudingen in Zuid-Afrika doorgaans heelwat turbulenter (en menselijker) zijn dan in het rustige, evenwichtige Nederland.”
Ses jaar verloop voor die publikasie van Erika se volgende roman, Stippellyn, wat in 2014 by Tafelberg uitgegee word.
“Die dood van Ribar Nicolic in ’n aftreeoord is die katalisator wat Lana van Breda, ’n verpleegsuster wat na hom omgesien het, se verlede opnuut oprakel,” skryf Annemarie van der Walt (Volksblad, 26 Mei 2014). “Lana se lot raak verweef met dié van die weduwee Therese Nicolic en haar kinders, Konrad en Hadwig. Daar is reeds spanning tussen die onderskeie karakters, maar die omvang daarvan moet blootgelê word nadat Lana en Konrad tydens die begrafnis van ‘mnr N’ herontmoet.
“’n Reis wat Lana onderneem saam met Therese van Pretoria na Clanwilliam word ’n roete waarop elkeen van die karakters se stippellyne met mekaar verbind om eindelik ’n patroon te vorm, al lyk dié patroon (konteks) anders vanuit elke karakter se invalshoek. [...]
“Dié leser het Stippellyn as ’n ‘stil’ boek ervaar, een wat herinner aan dié van die Britse skrywer Anita Brookner waarin nie handeling, maar die gedagtewêreld van die karakters die toon aangee. Oorlog en emigrasie kom onder meer aan die bod, asook die ontheemdheid wat dit op verskeie vlakke meebring.
“Daar is geen apokaliptiese wendinge in die verhaal nie, wat dalk tesame met die voorspelbare afloop as ’n leemte ervaar kan word. Maar dit is in pas met die gegewe dat ’n lewe se grootste omwentelinge dikwels meegebring word deur ’n oënskynlike onbenullige besluit of handeling. In die woorde van die protagonis: ‘...álles het gevolge. ’n Mens ken nie eens die einde van jou doodgewoonste woord nie.’ ’n Voedende leeservaring.”
Madri Victor bespreek Stippellyn vir Rapport van 15 Junie 2014: “Die verhaal is meesleurend, maar die einde net te onbevredigend. Die temas word met sensitiwiteit en fyn waarneming aangepak, maar nie met genoeg diepte ontgin nie. Die voorspelbare en kortaf einde het my leesplesier belemmer.”
Op LitNet skryf Maryke Roberts: “Die skrywer se agtergrond in Sielkunde en berading kom duidelik deur in die keuse van die karakters se hantering van mekaar en van hul situasies. Wat verblydend is, is dat die karakters menslik is, aan heelwat van mens se vriende en familie herinner. Mense wat nie aldag met hul ouers klaarkom, of gelukkig is nie ... wat diep geheime en diep seer ronddra. Dis die diepte van die karakters én die storie wat verblydende afwisseling bied van soveel ander oppervlakkige boeke nou te koop.
“Daar is ’n paar dele in die boek – soms die skrywer se eie woorde, soms aangehaal – wat jou na ’n potlood soek vir onderstreep, vir later se opsoek, weer herkou, weer oorlees en jou eie maak. Soos die stuk oor die opruim na ’n oorlog, waar die Nobel Prys-wenner, die Poolse digter, Wislawa Szymborska, skryf dat die opruiming nie vanself gebeur nie, ‘iémand moet die puin opsyskuif sodat die lykwaens kan verbykom, en deur pyn, slym, die uitgerekte draadvere van rusbanke en die bebloede vodde waad. In die gras wat oor oorsake en gevolge groei, moet daar iemand op die naat van sy rug lê en met ’n halmpie tussen sy tande na die wolke bokant hom staar.’
“Of ‘[...] om ouers te hê met ’n geskiedenis en geheime wat jy nooit sal ken of wat jy nie sal verstaan nie, al het jy dit ook geken. Jy het ouers met skade wat jóú weer beskadig, maar jy mag hulle nie daarvoor kwalik neem nie.’
“Dis sulke lewenswaarhede soos jou soms die storie laat vergeet en in jou eie lewe indelf. Wat jou laat wegglip in die dinge uit jou lewe wat jy gedink het diep gebêre is en afgesluit is.
“Dis vir my die eienskappe van ’n goeie boek: daardie waarhede en beskrywings wat lank nadat jy die storielyn vergeet het, nog iewers in jou binneste huiwer; wat jou eie emosies só goed beskryf, jy onthou later nie wie se woorde dit was nie. Jy maak dit jou eie.
“Stippellyn is ’n wonderlike ontsnapping aan die alledaagse, maar tog ook ’n dieper delf aan die seer waarvan rowe nog nie heeltemal genees het nie.”
In 2018 publiseer Protea Boekhuis ’n Skerfie glas, Erika Murray-Theron se boek met haar ouma aan moederskant, Isabella Johanna (Issie) Malherbe, as hoofkarakter. Erika beskryf dit egter nie as ’n “familieroman” nie, sê sy aan AJ Opperman op Netwerk24.
“Verlies speel ’n rol, byvoorbeeld met elkeen van ouma Issie se ouers se dood,” sê Erika. “Geskiedkundige gebeure soos die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie van 1914 kom ook voor. Die titel, ’n Skerfie glas, het ook te doen met ’n voorval waarin ’n skerfie glas oplaas ’n lewenslange invloed op Issie sou hê.
“Ek het gewonder oor my ma se familie. My pa se familie is wel goed gedokumenteer. Ek het eintlik gesukkel om te bepaal watter genre die boek is. Vir my is dit net ’n boek, ’n storie en jy dig by, jy interpreteer. Ek kon met baie foto’s werk. Om iets te beskryf waar jy nie self verteenwoordig was nie, voeg jy goed by om dit beter in te kleur.
“Ek het my navorsing met onder meer ou kookboeke, aantekeninge, foto’s, herinneringe, albums, briewe en geslagsregisters aangevul. Daar is die gevoel van opeenvolgende geslagte. Ek het nie die idee vir die omslag (krale wat van die een hand na die ander hang) uitgedink nie, maar toe maak dit vir my perfek sin, want daar is ’n aaneenverstrengeling van mense oor ’n klomp geslagte heen.”
Sy vertel verder aan Opperman: “Jy wil nie ’n boek skryf as jy nie iets het om te vertel nie. Hierdie storie gaan oor vroue. Dit is nie net ’n familieverhaal nie.
“Ek is ouma Issie se tweede oudste kleinkind. Ek was ongeveer 20 jaar oud toe sy dood is. Ek en my ouer nefie het haar dus die beste geken. Ek onthou baie gesprekke met haar. My ouma se stem is vir my ’n werklikheid. Wanneer ek enige dialoog skryf, probeer ek in my kop luister. Ek probeer hoor.
“Dit was vir my ’n fassinerende reis – een oor ’n vrou wat hard kon werk, maar wat ook haar foute gehad het. As jy oor familie skryf, wil jy nie dislojaal wees nie, maar jy moet eerlik wees.”
Ons kyk saam met Alta Cloete (LitNet) na ’n Skerfie glas: “Self nog ’n kleuter, moet die kleine Issie Malherbe ma speel vir haar twee jonger boeties. Enetjie laat val sy bottel (destyds van glas) op die stoep en ’n skerfie beland in haar oog. Meer as ’n eeu later vors haar kleindogter Erika Murray-Theron Issie en die res van die familie se geskiedenis na en bou die prentjie skerfie vir skerfie op. [...]
“’n Skerfie glas is, soos Murray-Theron se ander boeke (oa Die toubrug, Vlegsel en Stippellyn), nie ’n uitbundige, dramatiese boek nie. Groot en klein gebeurtenisse word met haar kenmerkende subtiliteit so lewend geskilder dat dit nie vir die leser moeilik is om ’n prentjie te vorm nie.
“’n Skerfie glas is die verhaal van Issie Malherbe, maar ook die verhaal van haar uitgebreide familie, van die skrywer self en uiteindelik van die Afrikanervolk. Murray-Theron volg die lotgevalle van Issie se familie deur baie jare en na verskillende belangrike plekke in die familiegeskiedenis, oa Tulbagh, Johannesburg en Pretoria, Wellington en die destydse Nylstroom (nou Modimolle). Sy slaag uitmuntend daarin om wat sy self noem ’n sense of time and place aan die verhaal te gee.
“Die lewenstyl van die tyd word vir die leser lewend gemaak. Veral Issie se ouma Bella slaag deurgaans daarin om soms te midde van groot smart op Tulbagh en later in Wellington ’n besondere lewenstyl te handhaaf. Sosiale aanvaarbaarheid was van die grootste belang en dinge om en in die huis is op baie spesifieke maniere gedoen.
“Dis soms hinderlik dat die skrywer die verhaal telkens onderbreek om van haar eie ervarings tydens haar navorsing te vertel. Aan die ander kant voeg dit ’n ekstra dimensie by die verhaal en verryk dit. Hoewel die skrywer haar eie metodes kritiseer, is die fyn besonderhede die stille getuienis van uitmuntende navorsing. Die insetsels toon dat die navorsing ook vir haar verskeie intense belewenisse en nuwe vriendskappe gebring het. Hoewel die verhaal op intensiewe navorsing en baie feite berus (die baie name en besonderhede is soms verwarrend), dui die skrywer hier en daar tong-in-die-kies aan dat sy haar tog soms die vryheid van haar verbeelding toegelaat het. Dit gee veral aan Issie en Piet se liefdesverhaal ’n besondere kwaliteit. [...]
“Die verhaal wemel van indrukwekkende karakters, mans sowel as vroue. Die meeste is geleerde mense met ’n sterk kultuuragtergrond. Ook die meisies kry ’n goeie opvoeding, veral op aandrang van ouma Bella, die matriarg van die familie.
“Bella is een van die aangrypendste figure in die boek. ’n Vrou wat kan raakvat, wat hard werk om haar elf kinders groot te kry en haar gekose lewenstyl te handhaaf, maar ook ’n vrou wat uiteindelik ses van haar elf kinders, sowel as haar man, aan die dood moet afstaan. Haar diep geloof bring nie altyd vir haar verligting nie, want sy worstel met God en soek soms die rede vir haar smart by haar eie vermeende tekortkominge. [...]
“’n Skerfie glas is die roerende verhaal van ’n individu en ’n familie, maar ook van ’n nasie. Die leser kom met ’n beter begrip van wit Afrikaners se komvandaan uit die ervaring wat die lees van hierdie boek is. Dit word sterk aanbeveel vir almal wat beter wil verstaan.”
Anna Kemp praat oor ’n Skerfie glas op Netwerk24 (16 September 2018): “Hoé Issie se verhaal vertel word, maak van hierdie boek meer as net ’n chronologiese opeenstapeling van vreugdes en verliese. Die skrywer/verteller verklap self die geheim van haar werkswyse: Soms kyk sy deur die loep van navorsing, soms met die oë van intuïsie of verbeelding. Hier en daar ‘jok’ sy ’n bietjie (wanneer dit nodig is om háár waarheid te praat) en soms is daar net ’n skerfie gebreekte, verwronge glas waardeur sy na al die gebeure kan kyk (bl 28); die skerfie glas van die titel, die skerfie(s) glas wat sowel fisieke as psigiese verwonding in hierdie familieverhaal veroorsaak. [...]
“’n Skerfie glas is ’n familiegeskiedenis wat veral tot vroue spreek. Geslagte sterk, onafhanklike (ondanks die ‘stelsels’ waarin hulle geleef het) vroue tree na vore, vroue wie se dapperhede dieper lê as heldedade. En oor 100 jaar sal die dokumentêre waarde van hierdie pointillistiese skildery (bl 203) ’n nóg groter reikwydte hê.”
In 2001 het Erika opgemerk daar is ’n ligte bewing in Tom se linkerhand se vingers. Hy het afgetree en is gediagnoseer. Hy is in 2014 aan griep oorlede.
Sy het nodig gehad om iewers te ontlaai en werklik te kon skryf wat sy gedink en gevoel het, verduidelik sy aan AJ Opperman (Netwerk24, 20 November 2021): “Daar is baie goed waaroor jy dink ’n mens moet nie eintlik so voel of dink nie. Ek dink as jy namens iemand praat wat nie weet hoe om dit voor te sê nie, dan moet jy bereid wees om die goed te sê wat hulle nie kan skryf nie.”
’n Paar jaar ná sy dood het sy alleen na hul huis in Keurboomstrand gegaan en het sy weer na haar skryfsels gekyk: “Ek het besef my lewe neem nou ’n ander koers. En ek het gedink ek kan dit nou maar weggooi. Dit het nou ’n doel gedien vir my om afsluiting te kry om aan te gaan. En toe besef ek van hierdie goed is dalk van waarde. Ek kan dit nie weggooi nie, maar wat doen ek nou daarmee?”
Sy het toe met Kristèl de Weerd, redakteur by Protea Boekhuis, gesels: “Sy sê toe dis deel van haar werk om goed uit die muurpapier te haal. Sy is bereid om met heeltemal rou materiaal te werk. Toe dink ek oukei, dalk moet ek dit doen and get it out of my life. En toe gaan ek terug na die goed, maar toe besef ek nee, ek kan dit nie doen nie, dis my goed. Ek het begin om dit reg te ruk en te orden en het sekere goed uitgegooi en dit uiteindelik in ’n vorm gemoker. Kristèl het daarna gekyk en ek het verder gedelf en sekere goed bygewerk.”
Erika se boek oor haar en Tom se pad met Parkinsonsiekte, Kom ons loop weg: ons pad met Parkinsonsiekte, word in 2021 deur Protea Boekhuis uitgegee – dit is ook die jaar waarin sy ’n knieoperasie gehad het, 80 geword het en weer getrou het: “Toe ek nou besef ek is nou besig om in ’n verhouding te gaan wat ek nie verwag het nie, het ek gedink ek kan nie daarmee begin as ek nie eers hierdie goed konfronteer nie, want jy is gekneus deur die ervaring.”
Sy het gedink dalk kan haar gedagtes vir iemand anders iets sê en beteken, maar sy wil byna nie teenwoordig wees in die boek nie: “En ek het gedink dat ek wat met woorde werk, dalk woorde kan vind vir die goed waarvoor baie mense nie kan nie. Ek kon dit nie doen as ek nie bereid is om daardie persoonlike goed te sê nie. En ek is eintlik verstom oor die goed wat ek aangeroer het, dinge wat ek op die naam genoem het. Maar as ek nie het nie, is ek ook deel van die verswygers.”
Juliana Coetzer skryf oor Kom ons loop weg op Netwerk24 (24 Oktober 2021): “Met ’n onverskrokke rou eerlikheid vertel Erika Murray-Theron van die pad met Parkinson se siekte oor 13 jaar, maar veral die intensiteit van die laaste drie jaar. Sy vertel hoe lank ’n mens in ontkenning is ná so ’n verdoemende diagnose, hoofsaaklik om jouself te beskerm.
“Eerlik is sy gewis. Sy skryf oor die breë spektrum van emosies wat sy ervaar – van magteloosheid en hartseer tot woede. Van die deernis wat sy voel vir die trotse man wat besig is om vinnig agteruit te gaan. Sy beskryf haar eie ambivalente gevoelens wat wissel tussen liefde vir haar man, maar ook die nodigheid om haarself te beskerm teen sy irritasie wat gedurende oomblikke van waan op haar geprojekteer word (bl 49). [...]
“Sy skryf hoe verhoudings verander, veral haar en Tom s’n. En tog is haar eie gesondheid self ook ’n probleem. Sy kry borskanker, beseer haar voet, spreek haar verlange uit na haar maat en verwoord haar eensaamheid. Die liefdesverhouding verander namate sy verplig word om die rol van versorger aan te neem en die titel dra die futiliteit van die situasie oor: Tom wat na Erika roep om by hom op die bed te kom lê (bl 123): ‘Ek verlang na jou. Ek is honger vir jou. Kom ons loop weg.’ [...]
“Daar is sekerlik ’n risiko verbonde aan ’n openlike, rou boekstawing van ’n traumatiese ervaring, veral wanneer iemand haar gedagtes en emosies so eerlik aan ’n groter gehoor blootstel, maar deurentyd met die lees van die boek kon ek nie anders as om die diepste meelewing en deernis te voel vir al die betrokkenes nie. Kom ons loop weg is ’n belangrike boek – nie net vir mense wat met Parkinson se siekte en demensie gekonfronteer word nie, maar vir enigeen in ’n situasie waar hulle die rol van versorger teenoor ’n geliefde met inneem. Of soos sy dit in ’n Woordfees-gesprek op TV gestel het: ‘Sodat dit ander kan help wat in soortgelyke situasies is en vir mense ’n taal gee waarmee hulle kan identifiseer. Dalk help dit vir iemand anders om te hoor dit is oukei om eerlik te wees oor hul gevoelens.’
“Kom ons loop weg het my diep geraak. Erika Murray-Theron is ’n sterk en dapper vrou.”
In Junie 2021 is Erika weer getroud met Gideon Kühn, wie se vrou ook ’n paar jaar vroeër oorlede is en deur die jare was sy en Tom en Gideon vriende. Sy vertel aan Carla Coetzee (Huisgenoot, 29 Oktober 2021): “Gedurende lockdown verlede jaar (2020) het hy hier by my gekuier en ek sê toe: ‘Jy moet maar intrek dat ons mekaar nog kan sien’ en hy sê toe ‘goed’. Die volgende dag daag Gideon toe voor my deur by die aftreeoord op met sy tas in die hand.
“Dit is ’n tuiskoms, ek is gelukkig. En weet jy? Hy is ook ’n ingenieur!”
Publikasies:
Publikasie |
Wie is jy, Elizabeth? |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0624027775 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die toubrug |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
0624031527 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1993 genomineer vir Rapport-prys |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vlegsel |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
9781874901471 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Blikkie sonder boom |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Mezzanine-klub |
Publikasiedatum |
1998 |
ISBN |
1874901775 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Sê Maria |
Publikasiedatum |
2001 |
ISBN |
0624040291 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Verblyf |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9781869191481 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Tapisserie met klein diere |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780624046189 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2007 Eerste prys in Sanlam/Insig/Tafelberg se Groot Romanwedstryd |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Stippellyn |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780624067771 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Skerfie glas: elke familie het ’n storie |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9781485309109 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Verhaalbiografie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2019 Finalis ATKV-Woordveertjie vir Niefiksie |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
’n Keur van artikels oor en deur Erika Murray-Theron
- ATKV-wenner het twee nuwes op rak. Beeld, 5 Maart 2008
- Brand, Gerrit: Murray-Theron bekroon. Die Burger, 24 Mei 2007
- De Vos, Willa: Betekenisvolle boeke. LiG, April 2004
- Erika bekoor deur woorde, klank van taal. Volksblad, 3 Junie 2002
- Erika Murray-Theron (Stellenbosch Writers)
- Erika Murray-Theron (Wikipedia)
- Erika Murray-Theron. LitNet, 19 Mei 2009
- ’n Jaar van boekseges. Rapport, 29 Desember 2002
- Le Roux, André: ’n Boek ‘seblief. Sarie, 17 Desember 1997
- Marais, Annemarie: Ouma se binnevreugde. Insig, Oktober 2001
- Murray-Theron, Erika:
-
- ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 27 Augustus 2001
- Ek en my pa sing [Katswink]. De Kat, Augustus 1993
- Harry Kalmer, ’n persoonlike huldiging. LitNet, 14 Augustus 2019
- Hoe praat jy met my? [rubriek]. Rooi Rose, Junie 2002
-
- Nieuwoudt, Stephanie:
-
- Aan reëls steur Murray-Theron haar nie graag. Die Burger, 29 Augustus 2001
- Sy dwing jou om te lees. Beeld, 25 Augustus 2001
-
- Roggeband, Ilza: G’n pretensie; net die werk van skryf. Beeld, 10 Oktober 2014
- Romanwedstryd lewer goeie oes. Insig, Julie 2007
- Skrywers vereer [foto]. Die Burger, 24 Mei 2007
- Steinmair, Deborah: Woorde van kleins af haar passie. Die Burger, 12 Julie 2007
- Van der Merwe, Elna: Boeke van toeka. Huisgenoot, 26 Mei 2016
Erika Murray-Theron se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2007-12-06 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Erika Murray-Theron (1941–) first appeared on LitNet.
The post Erika Murray-Theron (1941–) appeared first on LitNet.