Agter: Minette Mentz (beoordelaar, Afrikaanse vakadviseur Tshwane-Suid), Gerhard van Huyssteen (vraagsteller), Japie Gouws (besturende direkteur: ATKV-groep), Riaan Cruywagen (seremoniemeester), Brian Isaacs (beoordelaar) en Liane van den Bergh (CTexT)
Voor: Jamie-Lee Charles (derde, graad 10-afdeling), Diandra du Preez (eerste, graad 10-afdeling) en Daniyal Matthews (tweede, graad 10-afdeling)
Fotograaf: Waldo Swiegers
“Daar word dikwels oor kinders (en volwassenes!) se spelvermoë gekla, maar deur die ATKV-Spelathon raak die moedertaal- en niemoedertaalsprekers van Afrikaans ernstig oor die spel van Afrikaanse woorde,” sê Tina Mashobane, projekorganiseerder van die ATKV.
Volgens Evelyn Ferreira, senior bestuurder: taal van die ATKV, is die hoofdoel van die ATKV se taalafdeling om die Afrikaanse taal te bevorder. “Dit doen die ATKV deur middel van verskeie projekte waarvan die spelkompetisie, Spelathon, een is. Behalwe die opvoedkundige waarde van hierdie projek, sal die gehoor ook met die vermaaklikheidswaarde daarvan kennis maak.”
Deelnemers aan die nasionale finaal vir Afrikaans as Eerste Addisionele Taal het op 17 Oktober kragte meet. Die finaal het by die Leeuwenhof Akademie in Bedfordview plaasgevind. Gerhard van Huyssteen, van die Op die Spel-faam, het tydens die geleentheid as vraesteller opgetree. Riaan Cruywagen het as die seremoniemeester die deelnemers op humoristiese wyse vinnig op hulle gemak gestel.
Na heelwat taai rondes het Joshua Sadie van The Equestrian Academy of Cape Town in die Wes-Kaap as wenner uit die stryd getree in die graad 9-afdeling, gevolg deur Aaminah Hoosen van Saint Catherine’s School in KwaZulu-Natal en Nerina Pillay van die Shree Bharat Sharda Mandir School in Gauteng was in die derde plek.
In die graad 10-afdeling het Diandra du Preez van Germiston High School in Gauteng die beste gespel, met Daniyal Matthews van Wynberg Boys’ High School in die Wes-Kaap in die tweede plek. Jamie-Lee Charles van die Cape Academy of Maths, Science and Technology in die Wes-Kaap het die derde plek behaal.
Buiten die kontantpryse wat die wenners ontvang het, het hulle ook elkeen vir hulle skole lisensies vir Afrikaanse SkryfGoed 4, ʼn Afrikaanse speltoetser, geborg deur CTexT (die Sentrum vir Tekstegnologie van die Noordwes-Universiteit) gewen.
Die Spelathon-kompetisie word in Gauteng vir leerders van graad 6 tot 10 aangebied, maar in die ander provinsies op hierdie stadium net vir graad 9- en graad 10-leerders. Ferreira sê dat dit die ATKV se doel is om landwyd soveel moontlik deelnemers by hierdie opwindende kompetisie te betrek. “Die geleidelike groei in deelnemende skole maak dit vanjaar moontlik om vir die eerste keer verteenwoordigers uit al die provinsies by hierdie nasionale kompetisie te hê.”
Volgens Ferreira is die ATKV veral baie bly oor die groot belangstelling wat niemoedertaalsprekers in die ATKV-Spelathon toon. “By die ATKV beleef ons dit egter as meer as net belangstelling. Vir ons is dit ʼn uitreik van ander na Afrikaans. Met hierdie kompetisie steek ons dus ook graag ons Afrikaanse taalhand uit na enige taalspreker en erken ons die waarde van taal in die bou van wedersydse goeie verhoudinge tussen alle mense,” sê hy.
Die nasionale finaal vir Afrikaans as Huistaal vind op 24 Oktober by die Leeuwenhof Akademie in Bedfordview plaas.
- LitNet KlasKamer is ’n ruimte vir almal wat belangstel in die onderrig van Afrikaans op hoërskool.
The post Die ATKV-Spelathon is pret en bou wedersyds goeie verhoudinge appeared first on LitNet.