Tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal wat vanaf 23 tot 27 September by die Adam Small-teater in Stellenbosch plaasvind sal 18 produksies van dwarsoor Suid-Afrika meeding om as die algehele wenner van dié teaterkompetisie aangewys te word.
Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is al vir 55 jaar ’n platform vir talent- en teaterontwikkeling. Hierdie projek bied aan hoërskoolleerders die geleentheid om betrokke te raak by alle aspekte van teater, soos toneelspel, regie, skryf van tekste, kostuums, grimering, dekor, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie.
Lizané Basson, projekorganiseerder van die ATKV, sê dat hierdie projek ’n uitstekende platform bied waardeur deelnemers hulle passie uitleef en kreatief kan wees. ATKV-Tienertoneel slaag daarin om deelnemers met vaardighede toe te rus en vir die toekoms voor te berei. “Die toekomstige leiers van Suid-Afrika moet uit vandag se jeug na vore tree. Die ATKV is trots daarop dat ons deur middel van ons projekte kan bydra om leiers te kweek.”
ATKV-Tienertoneel spog met ’n rekord aantal inskrywings vir 2019, naamlik 220 tienertoneelproduksies. Vanjaar is 11 streeksfeeste in Suid-Afrika en een in Namibië aangebied.
Die 18 tienertoneelproduksies wat te sien sal wees tydens die finaal is:
- Afrikaanse Hoër Seunskool met Aksie!
- Die Hoërskool Menlopark met BRO(O)S
- Hoërskool Noordheuwel met ’n Brug na die sterre
- Hoërskool Tygerberg met Die Meisie met Môre in haar oë
- Hoërskool Stellenbosch met Donkievel
- Helpmekaar Kollege met Forte F:Har(t)d
- Bernadino Heights High School met Hoekpark
- Hoërskool Tygerberg met In die duister en deurmekaar
- Hoërskool Eldoraigne met Lentelus
- Hoërskool Florida met Patriarchy
- Hoërskool Hugenote met Skryf
- C&N Sekondêre Meisieskool Oranje met tyd.saam
- Hoërskool Parel Vallei met V(LUG)
- Hoërskool Zwartkop met Vrinne
- Hoërskool Noordheuwel met Waterbrief
Slegs leerders produksies*:
- Hoërskool Parel Vallei met Bruwelik
- Hoërskool Zwartkop met Sonder
- Hoër Meisieskool Bloemhof met Uhm ...
*Produksies waarvan die hele geselskap (die regisseur(s), skrywer(s), spelers en tegniese personeel) almal hoërskoolleerders is, neem deel in hierdie afdeling.
Kaartjies is beskikbaar by https://www.quicket.co.za/
Die wenproduksie van ATKV-Tienertoneel ontvang R30 000 prysgeld, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens KKNK 2020. Die produksie in die tweede plek ontvang R20 000 en in die derde plek ontvang R10 000. Die beste produksie deur slegs leerders ontvang ook R10 000 prysgeld.
Vir meer inligting kontak Lizané Basson by 084 789 1477.
The post 'n Fees van tieners. 'n Fees van talent. 'n Fees van teater! appeared first on LitNet.