
Chareldine van der Merwe: Projekbestuurder: Vriende van Afrikaans, Marlene le Roux, uitvoerende hoof: Kunstekaap en voorsitter van die ATKV-MSW-direksie en Shireen Crotz: projekorganiseerder van Vriende van Afrikaans.
Foto’s en teks: Jean Oosthuizen
...........
Die uitvoerende kunste bied belangrike sleutels om weer menswaardigheid te ontsluit in ’n postpandemiese Suid-Afrika.
...........
Die uitvoerende kunste bied belangrike sleutels om weer menswaardigheid te ontsluit in ’n postpandemiese Suid-Afrika.
So het Marlene le Roux, uitvoerende hoof: Kunstekaap en voorsitter van die ATKV-MSW-direksie tydens die 18de Johan Combrink-gedenklesing in Stellenbosch gesê.
Die tema van vanjaar se lesing was: ’n Nuwe plek in die kuns- en kultuurwêreld.
Die lesing, wat elke jaar deur die Vriende van Afrikaans onder die vaandel van die ATKV aangebied word, is vanjaar vir die eerste keer ook virtueel in die buiteland uitgesaai. Hierdie jaar het die klem op menswaardigheid geval.
Johan Combrink is in 1999 op die betreklik jong ouderdom van 60 jaar oorlede. Vanjaar sou dit sy 83ste verjaardag gewees het. Sy vrou, Louise Combrink, en al drie sy kinders, van wie een in Brittanje woon, het vanjaar se lesing bygewoon.
Le Roux het in haar huldeblyk aan Combrink gesê in die tyd waar die Covid-pandemie die dood vir ons kom beklemtoon het, is dit belangrik om mense se bydraes, werk en nalatenskap te erken.

Marlene le Roux, Elizabeth en Wienand Combrink, Louise Combrink, Herman Combrink en Erla Celliers.
“Johan was ’n woordeman, en sy passie vir die Afrikaanse taal is duidelik uit die aantal akademiese publikasies en artikels, taalrubrieke, televisieprogramme en radiobydraes waaraan hy sy lewe gewy het. Hierdeur het hy nie net bewusmaking oor ons pragtige taal geskep nie, maar ook die taal help oorleef en groei.”
Hoewel ’n "nuwe normaal" die streng inperkings van die COVID-19-pandemie vervang het, het die pandemiespook steeds soos ’n wolk oor die aand gehang.
“Covid het ons alledaagse lewe ontwrig. Aanvanklik was vrees die grootste uitdaging. Nou, in die eerste treë na ’n postpandemie tydperk, is die vrees minder, maar die uitdagings selfs meer en groter as voor die pandemie,” het Le Roux gesê.
“Armoede en werkloosheid het toegeneem, en ons gaan nog lank moet saamleef met die fisieke, finansiële en emosionele gevolge van die pandemie, streng inperkings en die ‘nuwe normaal’.”
Sy sê die pandemie het almal gedwing om te innoveer net om te kan oorleef. By Kunstekaap moes hulle byvoorbeeld maniere vind om ballet, orkes, opera, Jazzart en die Unmute-fees te laat voortgaan. Die kunstenaars moes oefen en optree, want dit was hulle inkomste.

Chareldine van der Merwe, Louise Combrink en Amanda de Stadler, voormalige uitvoerende hoof van Vriende van Afrikaans.
Weens finansiële ondersteuning en digitale media het hulle daarin geslaag om te oorleef en steeds optredes en konserte uit te saai.
In haar lesing het Le Roux ook verwys na die Kunstekaap-gebou wat verlede jaar 50 jaar oud was en die transformasie wat sy voor haar daar sien ontvou het.
Die gebou is in 1971 ingewy as die slegs-vir-blankes Nico Malan-teater, maar is in 1975 vir alle rasse oopgestel. In die afgelope vyf dekades, waartydens Suid-Afrika onder meer ook ’n kultuurboikot beleef het, het die gebou ’n ruimte geword vir talent in alle genres en tale.
“Nou kan ons terugkyk op hierdie lang reis en glimlag.”
Die punt wat sy wou tuisbring, is dat daar deur mekaar se hande te neem ’n werkbare en sigbare verskil gemaak kan word.

Marlene le Roux
“Die uitvoerende kunste loop hand aan hand met opvoeding, en dit voed die siel en gees. Meer nog: Dit skep hoop, veral in moeilike tye,” het sy gesê.
..........
“Die uitvoerende kunste loop hand aan hand met opvoeding, en dit voed die siel en gees. Meer nog: Dit skep hoop, veral in moeilike tye,” het sy gesê.
..........
As voorbeeld het sy vertel hoe mense soos Adam Small en ander se werk vandag steeds mense bemoedig, inspireer en hoop gee.
Net soos Johan Combrink het Small ’n groot bydrae tot Afrikaans gelewer.
In sy gedig “Trap der bruin jeugd” skryf Small:
As ’n klein kind nog, wis ek
ek was Afrikaans in my hele wese,
of soos ons padlangs sê,
in murg en been.
Ek het reeds besef ek is
vir hierdie taal geleen
en sou myself beskikbaar maak.
Tóé al het ek besluit ek sou
die hoogste sport
in hierdie taal bereik, en nou,
in my ouderdom kan ek tevrede voel
versoen deur die gedagte:
ek het daardie belofte aan myself
gestand gedoen.
Verder in die gedig skryf hy:
...........
Nou, ná jare en jare, veertig jaar,
eintlik ’n halwe eeu, het ek
vir myself die Lig gevind, en daardie
klein bruin kind se Wil vervul:
hom ingebind in Afrikaans vir altyd.
............
Nou, ná jare en jare, veertig jaar,
eintlik ’n halwe eeu, het ek
vir myself die Lig gevind, en daardie
klein bruin kind se Wil vervul:
hom ingebind in Afrikaans vir altyd.
Small het volgens Le Roux meer gedoen as om bewustheid te skep en standpunt in te neem deur sy skryfwerk. Hy het geweet hulpverlening moet ook bemagtig. Bemagtiging moet gerig wees op ’n geheelperspektief waar maatskaplike, ekonomiese en kulturele ontwikkeling geïntegreer is, en dit kan nie sonder die inagneming van politiek beskou word nie, het sy gesê.

Louise Combrink
Dit bied volgens haar die buitelyne van ’n roetekaart vir die uitdagings wat wag op die postpandemie pad.
Sy sê die kunste bied ’n ideale platform om politieke grense te oorbrug en mense en gemeenskappe aan mekaar te bind.
“Dit spreek die brutaliteit van die verlede sowel as die uitdaging van die hede aan, en skep die geleentheid om te droom ten spyte van ’n onseker toekoms. Die kunste gee mense die geleentheid om te ontsnap van die harde werklikheid. Dit inspireer en verdiep. Wanneer ons ’n loflied sing in ’n koor, hoor en ervaar ons die harmonie van klank. Daar is geen politieke agenda nie.
“Deur verskeie projekte en jeuguitreik-inisiatiewe het ons – deur mekaar se hande te neem – ’n werkbare en sigbare verskil gemaak. Die uitvoerende kunste loop hand aan hand met opvoeding, en dit voed die siel en gees. Meer nog: Dit skep hoop, veral in moeilike tye.”
En dit is volgens Marlene le Roux die Suid-Afrika waarna ons streef. ’n Suid-Afrika waarin elkeen ’n geleentheid sal kry om hulself en hul identiteit te ontdek.
In hierdie strewe na groter menswaardigheid het Afrikaans volgens haar onskatbare waarde bygedra tot die groter Suid-Afrikaanse samelewing.
“Waardesisteme word in ons alledaagse kultuurbeoefening bevorder deur ons daadwerklike bydrae tot en in die kunste. Afrikaans staan sy plek vol in Suid-Afrika, en is nie vasgevang in die verlede nie. Die taal bly groei en dra ruim by tot ons land.”
The post Johan Combrink-gedenklesing 2022: ’n Postpandemie kultuur appeared first on LitNet.