Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 494

Elize Botha (1930–2007)

$
0
0

Gebore en getoë

Elize (Elizabeth) Botha (gebore Lindes) is op 19 November 1930 op Krugersdorp gebore as die jongste van twee kinders. Haar broer, Nick, was vier jaar ouer as sy. Haar ouers, Klaas (Nicolas) en Bess Lindes, het op Koesterfontein agt kilometer wes van Magaliesburg gebly, waar haar pa hoof van die “tweemanskool” was. Haar ma, wat baie lief was vir musiek, het orrel gespeel (’n tipe huisorrel, eerder as die tradisionele kerkorrel), eers in die skoolsaal en later in die kerksaal op Magaliesburg waar kerkdienste gehou is. Haar pa is aanvanklik onderwyskollege toe en is in 1920 op 28-jarige leeftyd na Stellenbosch vir sy graadstudies, waar hy een van die eerste inwoners van die manskoshuis Dagbreek was.

Sy het aan Jo-Ann Floris (Die Burger, 29 Julie 2005) vertel dat haar pa uit ’n arm gesin gekom het. “Hy kon eers op 21 jaar matriek maak. Toe is hy onderwyskollege toe. Ná sewe jaar van skoolhou kon hy eers bekostig om heeltyds aan Stellenbosch te gaan studeer. Hy het besef geleerdheid is mens se enigste wapen teen armoede.”

Elize het onthou: “Koesterfontein en Magaliesburg was destyds ’n armoedige en stowwerige stukkie wêreld, die tuiste van Jochem van Bruggen. Die Van Bruggens was interessante mense wat baie gedoen het om ons bestaan op te luister. Jochem met sy wonderlike aanvoeling vir musiek het ’n koor saamgestel wat baie mooi gesing het. Op debatsaande het sy vrou dan ook voorgedra, dramatiese monoloë wat hy geskryf het. Hy het ook van sy werk vir die verhoog verwerk en dan het sy gesin dit in die skuur op sy plaas opgevoer. Sy kinders was baie begaaf wat voordrag en sang betref.” (Rooi Rose, 14 April 1999)

Sy en haar broer het met die mooi dinge in die lewe grootgeword. Haar pa se trougeskenk aan haar ma in 1924 was ‘n clavier. “Sy het gespeel en ons het gesing, eers uit Miss Joan van Niekerk se Afrikaans-Hollandse Sangbundel en later uit die FAK-Volksangbundel. Dan het Ma ook nog uit die Worldfamous Piano Pieces gespeel, Beethoven se Minuet in G, bekende arias uit die operas. En ons het naweke Johannesburg toe gery vir musiekuitvoerings en die finale koor-aande van die Afrikaanse Eisteddfod, 45 myl ver in die aand oor daardie tyd se paaie … dit was geleerdheid wat hierdie dinge moontlik gemaak het.

Op Elize Lindes se einde-van die-jaar-skoolrapport in standerd twee staan dié opmerking: “Elize werk baie fluks.” Vir Afrikaans het sy 96% gekry, vir Engels 94%. Sy was toe sewe jaar en vyf maande oud. “My pa sou gesê het ek het ‘mooi geleer’,” het sy aan Willa de Vos (Die Voorligter, Maart 1990) vertel.

Sy was ’n groot deel van haar kindertyd alleen. Haar enigste broer, Nick, is op twaalf koshuis toe, toe sy agt was. Hulle huis op Koesterfontein was langs die skool en daar was nie ander mense naby nie. Smiddae het sy oor die skoolterrein geswerf en hardop vir haarself stories vertel. (Rooi Rose, 14 April 1999)

Toe sy vier jaar oud was, het die juffrou van die plaasskooltjie haar agter in die klas laat sit, waar sy rustig haar tyd verwyl het terwyl die ander skoolgaan, en só het sy leer lees. “Leer skryf ook, maar dié was maar swakkies. Maar die lees, dit was vir my die wonderlikste gawe.”

Dit was daar waar haar passie en liefde vir die geskrewe woord ontstaan het. “Die tekstuur van daardie skoolboekies, hoe hulle linnebandjies gevoel het – die Nasionale Pers het destyds linnebandboekies met sulke dik blaaie uitgegee, sulke dík papier, daardie dik bladsye wat jy so lekker kan óm blaai, jy het gevoel hoe jy hom blaai, dit was vir my allersaligs.

“Ek was baie lief vir skool, buiten naaldwerk en speletjies met ’n bal omdat ek my van kleins af as baie onhandig ervaar het. Ek was nie baie gewild by die naaldwerkjuffrou nie, veral nie toe ek eenkeer vir haar gevra het of ek liewers ’n opstel kan skryf nie.”

Die omgewing waar die jong Elize grootgeword het, was destyds ’n arm omgewing en dit was daar waar sy onder die besef gekom het van hoe belangrik geleerdheid en kennis is: “Ek weet dit klink verskonend,” het sy aan Willa de Vos vertel, “maar dit was my lewe deur vir my vreeslik lekker om te leer, dit is vir my heerlik om te leer. Tot vandag toe nog sit ek met groot vreugde en luister as iemand anders vir my iets vertel wat ek nie weet nie.”

Sy het aan Jo-Ann Floris (Die Burger, 29 Julie 2005) vertel dat wat sy ook by haar ouers geleer het, is dat daar twee goed is wat ’n mens nooit in die steek sal laat nie, en dit is boeke en musiek: “My pa het al in die ou Transvaal begin werk, toe kry hy nog Die Burger en die Huisgenoot deur die pos.

Vir mense op afgeleë plekke is boeke ’n lewensbron. Prof Elize het onthou hoe haar pa boeke uit Die Huisgenoot bestel het en dat hy ook lid was van Die Burger-Leeskring, sodat daar gereeld nuwe boeke in hulle huis was. “Ook het daar kleintyd ’n eg Victoriaanse oujongnooi by ons gebly. Die tante se boekery het saam met haar by ons huis ’n intrek geneem in ’n paraffienkissie en dit het in ’n pragtige boekrak uit my ouers se huis ’n staanplek in my huis gekry. Daar is leergebinde eksemplare van Shakespeare, Longfellow, Wordsworth en nog meer. Ek is aan die Engelse letterkunde voorgestel nog voordat ek skool toe is. En vir my finale eksamen vir my BA het ek ’n hoër punt vir Engels as Afrikaans behaal.” (Rooi Rose, 14 April 1999)

Sy was omtrent ’n jaar oud en haar broer vier jaar ouer toe hierdie tante van haar ma by hulle kom woon het. “Sy het ons leer Engels lees, en ons moes met die Chambers Twentieth Century Dictionary by ons sit en hardop lees vir haar en ons mág nie ’n woord lees wat ons nie verstaan nie. Ons moet nie kyk wat hy beteken alleen nie, maar ons moet hom uitspreek. Sy’t ons leer brug speel en sy’t my leer dans.” (Die Voorligter, Maart 1990)

Later, op Magaliesburg, was hulle naby genoeg aan Krugersdorp se Carnegie-biblioteek waar sy boeke kon uitneem. Daar was ook Carnegie-biblioteke in die Strand, waar hulle dikwels vakansie gehou het, en op Moorreesburg, waar haar ouma Lindes gebly het. En hier kon die klein Elize se boekewêreld blom. “Die saligheid, die luukse van die onbeperkte leesstof in daardie pragtige Carnegie-bibliotekie op Moorreesburg, die vreemde wêrelde waarin jy opgeneem kon word!” (Sarie, 29 Julie 1998)

“Lees was vir my een van die heel lekkerste goed van my kleintyd. Broer Nick, wat eintlik in wiskunde belang gestel het, was ook ’n hartstogtelike leser, met ’n effe gewaagde (vir daardie jare) smaak in letterkunde wat my in my hoërskooljare aan Oscar Wilde, die kortkuns van Hemingway en Boccaccio se Decameron voorgestel het.” (Rooi Rose, 14 April 1999)

Met die sluiting van Koesterfontein se skole, wat ook die lot van talle ander plaasskole was, het haar pa op Magaliesburg gaan skoolhou tot sy aftrede in 1951. Sy is saam met hom na Magaliesburg van standerd drie tot vyf. Daardie tyd het sy nog haar naam met ’n s op haar boeke geskryf. Dit was eers later dat sy dit na ’n z verander het na aanleiding van haar doopnaam.

In Elize se standerd 5-jaar het die gesin na Krugersdorp getrek, waar hulle ’n blok van die skool af gebly het.

“Die storie van my jeug,” het sy aan Corlia Fourie vertel (Rooi Rose, 14 April 1999), “is eintlik die storie van ’n dorp, Krugersdorp, waar ek in Monument Hoërskool was. PP Breytenbach, hoof van die Tegniese Kollege, en Jan Cronjé was baie aktief in amateurtoneel. Daar was dikwels toneelfeeste, reisende toneelgeselskappe het in die stadsaal opgetree waar ek baie van die pioniers van die Afrikaanse toneel sien speel het. Mense soos Anna Neethling-Pohl, Gert van den Bergh, Aletta Gericke, Babs Laker, Twinkle Hanekom. Daar was ook kunswedstryde en Monument Hoërskool het vier keer per jaar die stadsaal gehuur waar ons dan om die beurt volkspele gedoen en gedans het. Krugersdorp was werklik ’n sentrum vir kultuur en vermaak. Daar was koorfeeste, kunswedstryde, toneelfeeste en selfs ’n simfonieorkes. En Johannesburg was naby genoeg om in die ou Empire-teater operas soos Carmen en Samson and Delilah te sien.

“Krugersdorp was destyds op die grens tussen platteland en die stad. Dit het al die voordeel van die platteland gehad soos dat kinders vry kon rondbeweeg, maar dit was ook net twintig myl van die mooi winkels in Eloffstraat in Johannesburg waar ons ons inkopies gaan doen het, tee en skons in ’n mooi teekamer geniet het en by die lekkergoedwinkel Dick’s peanut dustersTurkish delight en coconut ice gekoop het.

“Parkstasie in Eloffstasie met sy groot Pierneefpanele was baie indrukwekkend en die teekamer met sy blou en wit teëls was dié plek om mekaar te ontmoet.

“Dis ook op Krugersdorp met sy groot Afrikaanse werkersklas waar ek ’n maatskaplike bewustheid ontwikkel het, want daar is in die jare dertig van Afrikaners verwag om om te sien na die armes en sukkelendes in die Afrikanergemeenskap. Roelf Britz, ’n jong mynkaptein, was ’n skrywer wat skaars ’n volsin in Kannemeyer haal, maar destyds in die jare veertig het hy my bewus gemaak van die probleme van die werkersklas in sy romans Mammon se afgronde en Lokstem van verleiding.

“Al het ons eers ’n radio in die huis gekry toe ek in standerd agt was, onthou ek my jeugjare as ryk aan geestesgoed.”

Elize Botha het grootgeword met die Bybel in die huis, het sy verder aan De Vos vertel: “Ek kan geen tyd onthou dat Pa nie in die kerkraad was nie. En Ma was veertien jaar lank orreliste op Magaliesburg, maar jy moet ‘orreliste’ in aanhalingstekens sit, want dit was eers die traporreltjie in die skoolsaal, toe later so ’n pomporreltjie in die kerksaal. Schalkie Meintjies van die stasie het die blaasbalk gewerk en ek onthou hoe ons gesing het.

“Ek onthou ook die eerste keer dat ek in dominee Lubbe se studeerkamer op Magaliesburg gekom het: die boeke, die rakke en rakke vol pragtige kommentare, dit het vir my ’n ongelooflike bekoring gehad. Om te dink dat jy dié boeke kon neem en die Woord daarmee kon ontsluit, dit het my geweldig aangegryp. Trouens, as kind was ek geweldig aangegryp deur die hele gedagte van prediking.”

Op ’n stadium, nadat Koesterfontein se skooltjie gesentraliseer is, het hulle gesin nog ’n tyd lank in die prinsipaal se huis gebly. “Die skooltjie het leeggestaan en watter wonderlike plek om te preek was dit nie! Ek het vir my ’n preekstoel gebou van leë paraffienkissies en ek het al die traktaatjies en preekbundels in die huis bymekaar gemaak en ek het alleen daar in die leë klaskamer gestaan en gepréék dat dit rondom my weergalm het – ek wonder wat het ek gesê?”

Kleintyd, as haar niggies en neefs gehoor het Elize kom kuier, het hulle vooraf vir mekaar gesê hulle gaan weghardloop “omdat Elize weer ’n klip of ’n kassie gaan soek om op te klim sodat sy vir ons kan preek”.

Oor haar ma het Elize gesê: “Sy het my die betekenis van onvoorwaardelik liefhê geleer. Ek was byna vyftig toe sy dood is. Kort voor haar dood het ek eenkeer vir haar gesê ’n kind kan ’n ma darem somtyds seermaak. Haar antwoord was: Toe maar, ’n ma weet wanneer haar kind se hart reg is” (Sarie, 7 Mei 1997).

Sy het aan Tom Gouws (De Kat, September 1989) ook meer oor haar pa vertel: “Pa was ’n stil en ingetoë man, hardwerkend, beskeie en ernstig. Hy het hom nie opvallend met die politiek bemoei nie. Hy was nie van die meer opstandige organisasies lid nie, maar hy was wel bekend as ’n nasionalis. Die politieke toestande was toe so dat hy kwalik geneem is deur die andere hoë geeste. Daar is toe besluit dat Koesterfonteinskool gesentraliseer moet word. Ons het dit destyds beleef as ’n ingryp in ons lewe wat op politieke motiewe berus het.”

Elize het in 1947 aan die Monument Hoërskool gematrikuleer met onderskeidings in Afrikaans, Engels, Duits, natuur- en skeikunde en wiskunde.

Verdere studie en werk

Ná skool is Elize na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1950 haar BA met lof geslaag het, met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke. Onder leiding van FEJ Malherbe het sy haar MA in 1952 voltooi met die verhandeling “Die poësie van DJ Opperman met verwysing na verwantskappe met TS Eliot”.

Elize het in 1950 vir Johan Botha, toe ’n MA-student aan die US, ontmoet en hulle het in 1951 verloof geraak. Sy was toe primaria van Huis ten Bosch op Stellenbosch, lid van die Studenteraad, het haar klavierlisensiaat gespeel (“en gedop!”), en was baie verlief op Johan, wat later hoof van bedryfs- en sisteemingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria geword het. Hulle is op 24 Maart 1956 in die Krugersdorp-Noord NG Kerk getroud en het drie kinders: Frederik, Liesbeth en Maria, ‘n laatlammetjie.

Vandat Elize haar verstand gekry het, het Stellenbosch ’n “paradyslike beeld” vir haar gehad. “Dit was ’n klein studentegemeenskappie en jy was in ’n groot mate absoluut beperk tot die dorp. Ek kan op my een hand se vingers tel die hoeveelheid kere wat ek in die Strand was en die kere wat ek in Kaapstad was.

“Dit was ook gedurende dié tyd die hoog-bloeijare van die Franse rolprentkuns en van die hele ná-oorlogse Europese rolprentkuns. En dié flieks het na Stellenbosch gekom. Hulle is daar in die ou Plaza Kinema vertoon. Ons het dikwels gesê ‘plaaskleinhuisie’, want die hele plek het na Jeyes Fluid geruik. So, dit was tog maar vir ons ’n klein mikrokosmos,” het sy met haar 70ste verjaarsdag aan André le Roux (Beeld, 17 November 2000) vertel.

Op Stellenbosch het sy in Gawie Cillié se kerkkoor gesing en op dié manier ook onder die indruk van die skat van ons kerkmusiek gekom: “Hy het ons die Hugenote-liedere laat sing, ons moes die woorde foneties leer, maar ons het Psalm 42 in Frans gesing. Hy het my geleer van die bydrae wat Jannasch en Hans Endler en ander mense tot ons kerkmusiek gemaak het – my Stellenbosse tyd was absoluut geknoop hieraan, ek het geleer dat ’n mens jou hart kan uitsing in ’n ou Geneefse psalm. Want die Hallelujaliedere was die idioom van my plattelandse kleintyd. Die eenvoud van die woorde en die wysies, dit was hoe jy as kind in die tyd van Hollandse psalms en gesange jou hart uitgesing het.”

Van Augustus 1952 tot Mei 1953 was Botha aan die redaksie van Die Burger in Kaapstad verbonde. “Dit was ook salige dae, en ek is nie besig om met die wonderlike, veelkleurige bril van herinnering terug te kyk nie. Ek het ’n wolk van getuies wat dit sou kon staaf.

“By Die Burger was daar destyds werklik goeie joernaliste – die onbetwisbare groot joernaliste van die Afrikaanse Pers. Phil Weber was my redakteur, Piet Cillié en Schalk Pienaar was die twee assistente en was as ’t ware Aäron en Hur.

“PA Joubert, Willem Wepener en HJ Grosskopf was almal senior verslaggewers. Hennie Cronjé was hoof-subredakteur en Dirk de Villiers, wat hom later sou onderskei by Die Oosterlig en by Huisgenoot, was ook daar. Hy was my nuusredakteur.

“En hulle het die jong leerling-verslaggewers met ’n arendsoog dopgehou. Om nou nie eers te praat van Louis Hiemstra, die taalredakteur, wat daar bo in die boonste echelons gesit het en elke dag se Burger van hoek tot kant met ’n rooi pen gemerk het nie. En jy was verplig om te gaan kyk watter flaters jy als begaan het en jy moes jou naam in ’n boek teken, dat jy daar was. En dat jy op die klapper gaan kyk het na net hoe treurig jy Afrikaans skryf.

“Die enigste persoon wat gesê het ‘aan my taal doen Louis Hiemstra niks’, was Rykie van Reenen, maar sy was absoluut enig in haar soort. Die res van ons moes almal gaan kyk het, voor die voet.” (Beeld, 17 November 2000)

Die Porter-stipendium van die Universiteit Stellenbosch is in dié tyd aan Botha toegeken, en ná ’n studietydperk in Nederland het sy in 1955 haar DLitt et Phil cum laude aan die Universiteit van Amsterdam behaal met die proefskrif “Veelheid en binding: ’n bydrae tot die ondersoek van die eenheidsprobleem in die literatuurwetenskap”. NP Van Wyk Louw was haar promotor.

Sy is middel-1953 Europa toe en het einde 1955 teruggekeer na Suid-Afrika. Sy het altyd gesê die belangrikste rede waarom sy Europa toe is, was vir studie en omdat haar toekomstige man toe reeds vir agtien maande by Cambridge in Engeland was. “Ek het net die gevoel gehad dat as ek nie nou op een of ander manier so naby as moontlik daar kom nie, raak ek hom kwyt,” het sy met ’n vonkel in haar oë aan Le Roux (Beeld, 17 November 2000) vertel.

“En ek was nie van plan dat dit moes gebeur nie. Dus, my soontoe gaan en my terugkom is in ’n groot mate deur JP (Johannes) bepaal. Ek moes teen 1955 klaar wees met my doktorsgraad, want toe het hy ook sy PhD in ingenieurswese behaal.”

Ná hulle terugkoms van oorsee is hulle getroud en het sy met die geboorte van die twee oudste kinders twee jaar “afgevat”. Om ’n gesin groot te maak, asook ’n loopbaan te behartig, het goeie beplanning geverg, maar gelukkig het haar ma ook toe in Pretoria gewoon en het hulle twee ’n goeie vennootskap aangegaan, het sy aan Diane de Beer (Pretoria News, 21 Julie 1987) vertel.

Sy het ook die ondersteuning van ’n klompie wonderlike swart vroue gehad en dít, tesame met haar vriende en familie wat haar bygestaan het, het haar gehelp om beide familie en beroep goed te hanteer: “The struggle was with myself rather than with other people. I had to grow and develop in the particular perception of my capabilities.”

Van die begin van 1956 tot Julie 1960 is sy verbonde aan die Departement Afrikaans-Nederlands aan Unisa, eers as lektrise en vanaf begin 1958 as senior lektrise. In Augustus 1962 is sy aangestel as dosent in die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria. In 1964 was sy ook deeltydse dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Oor haar tydjie by Wits het Botha aan André le Roux gesê dat dit ’n hartseer dag was toe die Departement Afrikaans se deure daar gesluit het: “Die ironie is dat Wits nog altyd van die grootste name in die Afrikaanse letterkunde gehuisves het. As jy gaan kyk wie almal deel is van hul dosentesamestelling, is dit verbysterend. Die jaar wat ek daar klasgegee het, het ons daar gehad NP Van Wyk Louw, Ernst van Heerden, PG du Plessis. PG het toe op die drumpel van sy debuut gestaan. En dit was behoorlike groot klasse – voor- en nagraads” (Beeld, 17 November 2000).

In Januarie 1981 is sy aangestel as medeprofessor aan die Universiteit van Pretoria en vanaf 1 Oktober 1982 was sy hoogleraar in die Departement Afrikaans-Nederlands aan Unisa, tot haar uittrede in 1995. Die onderwerp van haar intreerede was “Die dosent as leser”.

Elize Botha se navorsing was veral toegespits op Afrikaanse prosa. En in hierdie verband het sy meegewerk aan verskillende bundels literêre kritiek, onder andere Handleiding by die studie van die Afrikaanse letterkunde saam met AP Grové (1966) en Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig onder redaksie van TT Cloete (1980). Sy het ook ’n aantal bloemlesings uit die Afrikaanse prosa saamgestel, waarvan Afrikaanse essayiste (1965) seker die bekendste is, en ’n bundel van haar verspreide opstelle is in 1980 gepubliseer onder die titel Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle.

Sy het vanaf 1971 gereeld ’n rubriek in Tydskrif vir Geesteswetenskappe geskryf en was ook ’n gereelde bydraer tot die SAUK, waar haar praatjies oor letterkundige onderwerpe uitgesaai is. Dit is ook later in boekvorm uitgegee.

In 1980, met die herdenking van haar 50ste verjaardag asook die viering van haar 25ste jaar in die akademiese letterkundige wêreld, het Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle verskyn. Sy het aan Amanda Botha (Transvaler, 13 Desember 1980) vertel dat die Afrikaanse prosa in die 25 jaar sedert haar eerste treë in die letterkunde as moderne kunsvorm ontwikkel het – “’n ontwikkeling wat vir die konserwatiewe leser (en die volk) dikwels traumaties was. En tog was dit belangrik dat daar in hierdie oorgang soveel meer van die mens – die Afrikaanse mens – in die letterkunde ter sprake gekom het. Een van die ‘winste’ van die Sestigers met sy eksperimentering en ontginning van heelwat effektiewe tegnieke was dat dit die meerdimensionele mens sprekend gemaak het.

“Die prosa het ’n belangrike bydrae gemaak – in soverre dit gelees word – om die Afrikaner as cliché op te breek. Die Boere-Afrikaner is hier verbreed, wat op sigself betekenisvol was.”

Botha was vanaf 1981 lid van die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en vanaf 1989 tot 1990 voorsitter van die raad. In 1987 is sy verkies tot ondervoorsitter van die Akademie – die eerste vroulike ondervoorsitter – en in 1989 is sy aangewys as voorsitter – ook ’n eerste vir die vroulike geslag. Sy was ook lid van die Letterkundige Kommissie van die Akademie en sedert 1984 voorsitter daarvan. Oor haar verkiesing as voorsitter het sy gesê dat dit vir haar ’n groot oomblik was, nie net as ’n vrou nie, maar ook oor die uitnemende geselskap waarin sy haar vir die vorige dertig jaar bevind het. (Volksblad, 23 Junie 1989)

Sy was hoofbestuurslid van die Afrikaanse Skrywerskring en redakteur van Tydskrif vir Letterkunde, destyds die amptelike orgaan van die Skrywerskring. Sy het Coenie Rudolph in 1972 opgevolg as redakteur en was aan die hoof van hierdie tydskrif tot 1993. Aanvanklik was dit haar strewe om die opset en samestelling van die tydskrif ’n ander aanskyn te gee. Daarby was daar altyd die mikpunt om deur ’n beter bemarkingstrategie ’n groter afset te verkry. Sy het in Oggendblad (17 November 1972) aan Aletta Greyling gesê dat sy baie graag deur die Tydskrif vir Letterkunde ’n beeld opbou van wat die Afrikaanse letterkunde op daardie tydstip in al sy fasette sou beteken. Sy het die tydskrif ook gesien as ’n skakel tussen die skrywer en die leser, en dit moet die leser met vertolking help: “Ons letterkunde moet nie in die broeikas gehou en tot lesingsale en studente beperk word nie. Ek wil dit in ons voorkamers en op ons stoepe en in die tuin onder ons bome sien.”

En dit was onvervulde ideale wat haar tog ’n gedeelte van haar lewe aan die tydskrif laat vasknoop het, het sy in Tydskrif vir Letterkunde van November 1992 aan JC Kannemeyer vertel. Sy is as redakteur deur Henning Pieterse opgevolg, maar het steeds lid van die redaksie gebly.

Sy het aan Kannemeyer gesê dat die redakteur van ’n letterkundige tydskrif moet verseker dat die skrywers wat in die tydskrif gepubliseer word, van goeie gehalte moet wees en belofte moes toon; skrywers, dus, wat reeds gevestig is, asook beginners: “Hierdie samesyn, meen ek, was nog altyd belangrik, vir leser en skrywer tegelyk. Vir die leser word die geleentheid geskep om die letterkunde in sy groeiproses self deur te maak: die vaster tred van die gevestigdes, die soms wankelskrede van die beginners. Die leser bevind hom dan – so sien ek dit graag – in die werkwinkel van die literatuur. Vir die jong skrywer is daar die vreugde om sy werk in druk te sien, maar dit kan ook ’n proeflopie wees na uiteindelike bundeling.

“Vir my staan dit vas dat die literatuur wat die Tydskrif vir Letterkunde bekend stel, goeie gehalte of belofte van goeie gehalte moet vertoon: dat dit herkenbaar sal wees as goeie letterkunde of ten minste die moontlikhede van goeie letterkunde sal inhou.”

Elize is vermeld in die International Authors and Writers Who’s WhoThe World’s Who’s Who of Women in Education en die Who’s Who of South African Women.

In 1982 is die Gustav Preller-medalje vir Literatuurwetenskap en Kritiek aan Botha toegeken (die eerste keer dat dit aan ’n vrou toegeken is). Daar was verskeie faktore wat in ag geneem is by die toekenning van die prys aan haar, het Gus Cluver in Transvalervan 22 Maart 1982 geskryf: “Sy het haar loopbaan as universiteitsdosent 26 jaar gelede begin. Terwyl vooraanstaande kritici hulle in die verlede hoofsaaklik met Afrikaanse poësie besig gehou het, het prof Botha haar al vroeg toenemend op Afrikaanse prosa toegelê. Sy is bekend daarvoor dat haar kritiek nooit nydig is nie, maar simpatiek en begrypend. Sy was 15 jaar betrokke by die versorging van tydskrifte en vyf jaar redaktrise van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en is (tot op daardie stadium) deel van Cluver se woorde, byna tien jaar lank redaktrise van die Tydskrif vir Letterkunde.”

In 1989 het sy die Orde vir Voortreflike Diens (silwer) ontvang. By die stigting van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) in 1984 is sy gekies as die eerste voorsitter, ’n posisie wat sy tot 1990 beklee het.

Deur al die bedrywighede was Elize se gesin haar basis, het sy ná haar verkiesing as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Volksblad (23 Junie 1989) gesê: “My gesin is my onderskraging, my veilige hawe en ook my bron van krag vir alles wat ek aanpak. Ek is baie gelukkig. My man verstaan my werk en my vier kinders – ’n seun, twee dogters en ’n skoonseun – neem my weg van ’n soms suiwer akademiese bestaan.”

In September 1988 was sy die eerste vrou wat in die direksie van Naspers aangestel is en in 1998 die eerste vrou wat as kanselier van die Universiteit Stellenbosch aangewys is. Oor haar aanstelling in die direksie van die Nasionale Pers het sy opgemerk dat sy al ’n lang pad saam met die Nasionale Pers geloop het: “My liefde vir lees was van my vroegste leesjare, daar in die middel van die dertigerjare, verbind aan die Nasionale Pers se publikasies. Die Kleinspan, Die Jongspan, Die Huisgenoot en selfs Die Burger is ná ’n lang treinreis uit die Kaap afgelaai by die klein spoorweghalte naby die Wes-Transvaalse plaasskooltjie waar ons gewoon het. Ek het sedertdien my liefde en agting vir die Nasionale Pers se werk nooit verloor nie; ’n mens kan sê dat ek ’n ere-skuld het wat ek moet terugbetaal.” (Beeld, 10 September 1988)

In 1991 was sy ook die eerste vrou wat die “strakke ouderlingsbanke” van die NG gemeente Hartbeesspruit in Hatfield, Pretoria “met ’n tikkie vroulikheid getemper” het.

Sy het gesê dat sentiment die groot rede was wat haar die benoeming van kanselier laat aanvaar het. “’n Mens se jare as jong mens aan ’n universiteit is só deurslaggewend. Dis waar jy gevorm word, waar jy vriendskappe smee wat nou nog bestaan, waar dosente jou meer as feite leer en waar ’n dosent in baie opsigte ’n model kan wees. ’n Mens het dikwels ’n veel groter skatpligtigheid teenoor ’n universiteit as wat jy besef” (Beeld, 14 Mei 1998).

Elize se familie het elkeen op sy eie manier gereageer op hierdie aanstelling en veral op haar inhuldigingsrede: “My agtjarige kleinseun het weens gewigtiger sake op eie agenda laat week hy dink nie hy sal na sy ouma kan kom luister nie, ‘want ons leer daardie dag aanmekaar skryf’. En Liesbet, my dogter, het laat weet: ‘Ma. Hou Ma se toespraak tog lig, onthou, nie te innig en te plegtig nie …’

Hierop was prof Elize se gevatte kommentaar teenoor Jacqueline Leuvenink (Sarie, 29 Junie 1998): “’n Mens dra in meer as een opsig swaar aan daardie toga!” En dit was altyd een van Elize se opvallendste karaktereienskappe: haar bevrydende vermoë om vir haarself te lag, méér as wat sy vir ander lag, skryf Leuvenink.

In 2003 is sy eenparig herkies as kanselier. Sy was die enigste benoemde en haar tweede en laaste termyn sou op 17 Junie 2006 verstryk. Dit was vir haar ’n voorreg om die pad verder saam met dié universiteit te stap. “Wat my gewillig maak om voort te gaan, is my vaste vertroue in die US en sy rol in die huidige situasies in ons samelewing, asook sy toekomsrol. Dit is vir my ongelooflik opwindend om te weet dat ek my liefde vir die US kan uitleef soos wat hulle my nodig het” (Die Burger, 20 Mei 2003).

In 2004 het nog ’n eer Elize Botha te beurt geval toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns erelidmaatskap aan haar toegeken het. Haar groot intellektuele vermoëns en diepgaande vakkundige kennis en vaardighede het sy in diens van die internasionale akademiese gemeenskap gestel, asook van die breë samelewing. (Nuusbrief van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart/Junie 2004)

Sy het gedien as spesialisdirekteur in die direksie van die Stigting vir die Skeppende Kunste en was in die vroeë jare negentig lid van die raad van die SAUK. Sy was ook sedert 1990 lid van die raad van Truk. In 1992 is sy aangestel as voorsitter van die raad van die Staatsbiblioteek en was ook lid van die raad van US.

In 1986 is sy saam met die sakeman Theunis Bester die wenner van die Pretorianers van die Jaar-wedstryd . In 1989 het sy Unisa se Raadstoekenning vir Buitengewone Akademiese Meriete ontvang en in 1991 is sy deur die Association Bienvenue en France benoem as die mees gevierde vrouefiguur in Suid-Afrika.

Met haar sestigste verjaardag verskyn Lewe met woorde (Opstelle oor die prosa), ’n huldigingsbundel uitgegee deur Tafelberg-Uitgewers en saamgestel deur Henriette Roos. Dit is ’n bundel met veertien bydraes, almal oor die prosa; bydraes wat, soos Henriette Roos versoek is om te reël, “op vakgerigte wyse” wil demonstreer wat daar aan die verskillende Suid-Afrikaanse universiteite aan die prosa gedoen word.

Prof Elize was in 1993 aan die ontvangkant van die FAK se Prestigeprys en in Maart 1995 het die Universiteit van Pretoria haar met die graad D Litt (honoris causa) vereer as ’n buitengewone literatuurwetenskaplike en ’n hoogaangeskrewe dosent, navorser en kollega wat alles in haar vermoë gedoen het om haar vak en taal binne en buite Suid-Afrika uit te dra en te vestig. (Nuusbrief van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Junie 1995)

Ook in 1995 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns haar vereer met die NP Van Wyk Louw-medalje. In dieselfde jaar het sy saam met Jakes Gerwel die Johan Fleerackers-prys vir besondere verdienste op kultuurgebied van die Vlaamse Ministerie van Kultuur ontvang. Fleerackers, ’n Belg en oud-Matie wat in die laat 1950’s op Stellenbosch gestudeer het, het later verskeie kultuurbande tussen Suid-Afrika en Vlaandere aangeknoop.

Botha het in 1996 “een onderscheiding voor Nederlands/Afrikaanse kultuurdienste” ontvang. Dit is aan haar oorhandig deur Annie Fleerackers, die eerste vroulike voorsitter van die wêreldwye Orde van de Prince (Zuid-Afrika, Februarie 1996).

In 1996 het Elize ’n eredoktorsgraad van haar alma mater, die Universiteit Stellenbosch, ontvang en het die Universiteit van Suid-Afrika aan haar ’n eretoekenning vir voortreflike diens oorhandig. Die prys is onder meer toegeken vir haar uitmuntende bydrae tot die bevordering en bekendstelling van die Afrikaanse kultuurskat binne Suid-Afrika en in die buiteland, asook vir haar lewenslange en hartstogtelike betrokkenheid by die Afrikaanse letterkunde. Haar dinamiese en toegewyde dienstyd aan Unisa, waartydens haar kollegas by haar akademiese kundigheid en openbare statuur kon baat vind, is ook in aanmerking geneem vir die toekenning.

Sy het haar so half-en-half in die politiek begewe toe sy in 1993 deur die Veelparty-onderhandelingsraad benoem is as voorsitter van die kommissie insake nasionale simbole, en in 1994 gedien het in die nasionale inhuldigingskomitee wat vir die reëlings van die inhuldiging van Nelson Mandela as president verantwoordelik was. Sy is ook in 1997 in die Nasionale Kunsteraad benoem.

Elize Botha het in die tyd toe die kommissie insake nasionale simbole vergader het, aan Rapport gesê: “Dis meer as naïef om te dink ’n taal kan op sy eie voortgaan. ’n Taal kan nie self voortgaan nie, hy moet gepráát word. As jy uitgaan van die huidige feit dat die spreker van Afrikaans so ’n geweldige groot menslike ruimte met sy moedertaal het, is om daardie ruimte te verklein, ’n aantasting van die mens se regte en voorregte.”

Sy was van 1992 stigterslid van die Stigting vir Afrikaans en voorsitter van 1994 tot 1999. Sy het dit beskryf as een van die inspirerendste avonture van haar lewe om in die beginjare van die Stigting vir Afrikaans deel te kon wees van die vestigingspan. “Die avontuur was veral daarin dat ons kon ervaar hoedat ‘Die Afrikaanse Gedagte’ steeds nuwe vorme begin aanneem. In hierdie vernuwingsproses het die Stigting ’n voorloper geword: gevoelig vir verandering, pleitbesorger vir verskeidenheid. In dié jare het daar binne die Stigting soveel diepte aan leierskap en rigtinggewende denke ontwikkel dat ek met groot vertroue my plek aan my opvolger (Conrad Sidego) kon afstaan. My spanmaats weet ek sal steeds die pad van die Stigting volg” (Afrikaans Vandag, Desember 1999).

As voorsitter van die Stigting het Elize Botha in 1996 in Taalportaal (1ste kwartaal) gesê dat dit vir haar elke dag lekkerder word om Afrikaans te praat: “Soos ’n mens ouer word, besef jy hoe ’n geweldige ryk instrument jy in die taal het. Dit is juis dié plesier wat ek op alle maniere (in 1996) wil uitdra en oordra. Ek gaan dus nie dadelik van die standpunt uit dat iemand anders nié Afrikaans verstaan nie. Wanneer ek Afrikaans praat, probeer ek dan wys dat ek dit geniet. Ek praat dit met vertroue en so akkuraat moontlik. Ek het dit nog nooit in my persoonlike hoedanigheid nodig gehad om ‘kwaai Afrikaans’ te praat nie. Ek wil egter nie hiermee sê dat ’n mens nooit ’n mate van parmantigheid het nie. Maar ek dink tog dit is nodig dat ’n mens meer praat oor die plesier wat die taal gee. Dis ’n soete taal en ek hoop ander ontdek hoe sterk ek oor Afrikaans voel as hulle na my luister.”

In 2001 was Botha die ontvanger van die ATKV-Prestigetoekenning, die organisasie se hoogste eerbewys, vir haar bydrae tot Afrikaanse prosa en die prosateorie, asook haar rol in die bewaring en instandhouding van die Afrikaanse kultuurskat.

In 1991, Hoërskool Monument se 70ste bestaansjaar, het die bestuursliggaam besluit om gereeld aan Monumentare wat op velerlei terreine as ambassadeurs van die skool uitgestyg het, ’n eretoekenning te maak. In 2001, die 80ste verjaardag van dié tradisieryke skool, is besluit om die toekenning aan Elize te maak.

Oor al die eerstes wat sy as vrou in Suid-Afrika beleef het en die feit dat daar na haar verwys is as die “boegbeeld vir die Afrikaanse vrou”, was Botha ietwat krities teenoor Jacqueline Leuvenink: “Ek weet darem nie so mooi nie. Dit was gewoonlik sulke welbedeelde vroue met hare wat so terugstroom teen die seewind. Hoewel dit ’n aanloklike gedagte is, dink ek ek sal te kort skiet” (Sarie, 29 Julie 1998).

Sy het verder aan Leuvenink gesê dat dit nie sy is wat die slag vir vroue geslaan het nie, maar haar ouers, wat meer as vyftig jaar vroeër nooit vir haar laat voel het hulle gaan minder aan haar opvoeding bestee omdat sy ’n meisie is nie: “Ek kan werklik nie sê dat ek in my beroepslewe ooit ’n stryd as vrou gehad het nie. Daar was dalk soms institusionele struikelblokke, maar in die meeste werksituasies gaan dit oor spanwerk en ek hou daarvan om in ’n span te werk. Dit interesseer my ook meer wat ons gedaan gaan kry as om te tel hoeveel mans en hoeveel vroue saam met my die werk moet doen.”

Willa de Vos van Nuwe Voorligter het haar gevra hoe sy tussen al haar verpligtinge deur tog ook daarin geslaag het om al die drade bymekaar te vat en ’n huwelik en gesin te bou. (November 1998) 

“’n Moeilike vraag wat ek maklik met een woord kan beantwoord: genade. Maar dan klink dit of ek iets ontwyk. Tóg is dit so, daar was baie onuitspreeklike, vir my vóélbare, genade in alles. Eerstens omdat Johan en ek uit eenderse agtergronde kom – my vader én sy vader was albei Afrikaans-onderwysers. Die Afrikaans-onderwyser van meer as ’n halfeeu gelede, trouens, van ná die Engelse oorlog, het homself as ’n soort geroepene gesien. Hy moes iets vir sy mense ‘doen’ en hy kon dit ten beste doen deur homself te bekwaam, geleerdheid te verkry, en dan vir sy mense optimaal iets te gaan beteken. Dié lewenshouding van iets beteken, is in ons ingegrif deur ons eie waarneming van die wyse waarop ons ouers hulle gemeenskappe gedien het. Ons het verder ook in huise met boeke grootgeword waar die groei van die Afrikaanse taal en letterkunde van belang was. Hierdie erfenis wat ek en Johan gedeel het, het geweldig bygedra tot die wyse waarop my lewe kon verloop.”

Dit was nooit as vreemd beskou dat Botha haar in haar beroep sou uitleef nie. “Hierdie gesindheid, ook in die wyere familiekring, was ’n steunsisteem wat my van die spanning oor my beroep verlos het.” 

Elize se pa is in die eerste jaar van haar huwelik oorlede en haar ma het in Pretoria gaan woon. Op ’n dag het sy vir haar dogter gesê as sy lus het om na haar universiteitswerk terug te keer, sy haar baie graag met die huis en kinders sou help. Haar ma het nie eintlik in klubs of verenigings belanggestel nie, maar was baie gesellig, en ’n gebore huisvrou en liefhebber, het Elize in Sarie (2 Mei 1990) aan IL de Villiers vertel. “Ek dink haar soort sorg vir ons kinders was een van die grootste geskenke wat ons ooit ontvang het. Agttien jaar lank tot met haar dood.”

Maar ten spyte van al hierdie dinge was dit dikwels vir Elize fisies moeilik. “Vir my het dit deur die jare duidelik geword dat as ’n vrou trou, ’n gesin wil hê en ook ’n beroep wil beoefen, sy moet weet dat sy haar kragte gaan verdeel. Jy is baie kwesbaar vir jou skuldige gewete en daarom moet jy jou huwelik nugter en prakties en met toewyding benader. Ek is juis nie ’n goeie beplanner en bestuurder van my tyd nie, daarom weet ek, dit was genade, van begin tot einde.”

Vir Elize was die gevierde skrywer MER as ’t ware ’n mentor. “Ek het haar ontmoet toe sy al negentig en ek 35 was. Ek sal nooit die dag vergeet dat ek haar ontmoet het nie het sy aan Barrie Hough vertel: “Tant Miem het by die trap afgekom en my ewe flink ontmoet by haar tuinhekkie. ‘En dis nou ek en dis nou jy,’ het sy eenvoudig gesê. Haar ervaring en lewenswysheid was vir my ’n geweldige onderskraging. Sy kon veral so duidelik lig werp op die vrou se rol in die politiek van die dertigerjare. Sy het vroue die ‘aankantmakers’ van die wêreld genoem. Sy het geglo ’n mens moet skryf om die waarheid helder te maak, maar dat die side-lights van die verbeelding ook ’n groot hulp is.”

Vir haar het MER ’n tipe insig in Die Lewe met hoofletters gehad – veral, maar nie uitsluitend nie, uit die perspektief van die vrou. “Die bepaalde soort wysheid wat in ’n sekere sin ook teruggegaan het op die eenvóúdige Afrikaanse lewe wat vir my baie bekend was, maar ook wat ’n gewéldige prys gestel het op die vormende dinge. En haar regskapenheid … die gevoel dat as jy met haar te doen het, het jy te doen met ’n mens wat die wêreld met eerbied bekyk en wat dus jóú eerbied verdien. Sy het geweldige eerbied in ’n mens geïnspireer vir jou ewemens. Sy het nooit van ’n medemens gepraat nie, sy’t van ’n ewemens gepraat. Ek het haar vir tien jaar geken, en daardie kort kennismaking het so ’n kragbron geword, dit stráál uit oor die res van jou lewe.” (Die Burger, 30 Maart 2007)

En die invloed wat MER op haar gehad het, is soortgelyk aan wat Elize Botha op haar beurt na ander uitgestraal het, skryf Murray la Vita in bogenoemde onderhoud.

In 1990, net na haar 60ste verjaarsdag, het Elize in ’n onderhoud met Barrie Hough van Rapport (25 November 1990) gesê dat die literatuur self nog altyd vir haar die belangrikste ding was. “In die hele diskoers wat ons voer oor die literatuur, is dit die letterkunde self wat sentraal staan – om sigself se ontwil. En ek het nog al die jare geglo die letterkunde is ’n gawe vir en van die mens.”

Omdat sy die letterkunde as iets kosbaars sien, het sy geglo dat hulle as letterkundiges hierdie wonderlike medium waarin die mens homself openbaar, op ’n unieke wyse behoort te versorg. “Ons moet toesien dat hy nie verwaarloos word nie en ook nie misbruik word as galeislaaf vir die politiek nie.”

Soos in al haar onderhoude het haar passie vir lees ook in hierdie een met Hough na vore gekom: “Om te lees is ’n magnificent obsession, soos Hennie Aucamp dit noem wat ek van kleins af het. En die hartstog om te lees, maak ’n mens se oë skerper vir die teks. Daar is geen beter manier nie. ’n Mens moet tog geoefen raak as tussenganger tussen boek en leser. Dis die werk van die kritikus en navorser om daardie brug te slaan tussen teks en potensiële leser.”

Die roman is haar groot liefde, het sy teenoor Hough erken, dalk omdat dit handel oor die persoonlike verhoudinge tussen mense oor ’n breë gebied: “’n Vrou is geneig om te kyk na die manier waarop menslike verhoudings werk.”

Prof Elize was in haar leeftyd ook bekend as een van die beste kritici as dit kom by die letterkunde, asook by ander gebiede. Sy het haar op die oog af oor die algemeen nie veel gestuur aan enige kritiek wat teen haar gemik was nie. Aan Tom Gouws (De Kat, September 1989) het sy gesê: “Die ideologiekritiek het vir my die besondere waarde dat dit ons sensitief maak vir standpunte en gesigspunte wat teen mekaar afgespeel word. Dit kan op die ou end uitloop op ’n gevoelige en dus ryker lees van die teks, as dit nie gebruik word as ’n karwats deur sommige kritici nie. Want wat my hinder, is dat ideologiekritiek karwatskritiek begin raak. As ’n literêre werk nie die ideologie openbaar wat sy toevallige leser daarin wil sien nie, dan word die literêre werk gestriem as irrelevant na links, regs, centre, bo en onder, waar jy ook al georiënteer is. En dit is wat vir my potensieel verrykende leserstegniek aftakel.

“Kritici is spesialis-lesers. Hulle het in dié bedreigde tye (1980’s) van die boek ’n baie pertinente rol te speel. Hulle moet aan die een kant die wetenskap van lees, die akademiese gesprek wat nodig is in enige bedryf aan die gang hou. Hulle moet met hulle kollegas op die wydste vlak die gesprek in stand hou. Maar omdat die letterkunde ’n verskynsel is wat ten diepste uit en vir ’n samelewing bestaan, daarom moet hulle sorg dat daar vir die letterkunde ’n lewenskans binne die samelewing geskep word. Dus, as hulle die gawe het om die weg te berei in die woestyn, vir die literêre werk, dan moet hulle al die geleenthede wat hulle gebied word, met liefde benut.

“As die kritikus die dag sy rol sien as sou hy die letterkunde moet gebruik vir iets anders, moet hy hom nog afvra of hy as letterkundige aktief is en of hy dan as letterkundige geloofwaardigheid het. As die kritikus die dag besluit dat die letterkunde die galeislaaf sal word wat hom sal roei na die een of ander party-politiek-gedefinieerde utopie toe, dan is ek bevrees dat hy nie meer met die letterkunde as sodanig besig is nie.

“Ek ken my plek as kritikus. Ek wil nie voorskriftelik wees oor hoe daar geskryf moet word nie. Ek is daar om lesers te leer lees. George Mikes het gesê: ‘A plumber should plumb. And an important task that is. A writer should write.’ En ek meen: ’n kritikus moet hom binne sy constituency hou.”

In 1998 het die destydse (en ook die huidige) klem op wetenskaplike en bedryfsgeoriënteerde onderrig ten koste van die geesteswetenskappe haar bekommerd gemaak. Nie dat sy nie baie respek vir die wetenskappe het nie – haar hele huisgesin is immers in daardie rigting gekwalifiseerd. “Maar dis deur die menswetenskappe dat die mens in sy omgewing benaderbaar en verstaanbaar is. Deur die literatuur leer ken jy al die moontlike intrigue en al die rolverdelings van die menslike drama” (Sarie, 29 Julie 1998).

Dit was vir haar belangrik dat Afrikaans sy plek langs al die tale van die land moet inneem. “Dis ’n taal wat oor drie eeue heen ontwikkel het tot ’n uiters nuttige instrument waarin ’n mens op alle terreine kan groei. Dit het op een lyn met die tale van die wêreld kom staan en is tegelykertyd ’n taal van Afrika en Europa. Ek stem nie saam met die siening dat dit sal bly voortbestaan as ons dit net praat nie. Ons sal dit spesifiek moet bly versorg” (Sarie, 29 Julie 1998).

Prof Elize se persoonlike geloofsoortuiging was nooit vanselfsprekend nie, maar sy het altyd eerlik daaroor gepraat. Sy het teenoor Willa de Vos verder hieroor uitgebrei: “’n Mens sal nooit die woorde van die geestelike leiding van jou ouerhuis en ander vormende invloede kan oorskat nie, maar dit is dikwels dinge wat jy aanleer en vir jare mee kan saamleef sonder dat jy dit werklik, wérklik as individu, as enkeling, jou eie maak. (...)

“Vroeër het ek myself baie makliker met formaliteite en formules tevrede gestel. Maar hoe ouer ek word, hoe belangriker word dit vir my om beter te verstaan, náder te kom. Dit is vir my bevrydend om te besef dat hierdie twyfel, onsekerheid, behoefte aan groter lig en groter helderheid ’n mens nie tot vertwyfeling hoef te lei nie. Dit is deel van die geestelike groei, van die verlange, die baie, baie menslike verlange om náby God te kom. Daarom is die bywoning van die erediens op Sondag vir my so belangrik. Soms dink ek sommer in die week daaraan dat ek Sondag kerk toe kan gaan en ek word bly daaroor, dis vir my ’n kosbaarheid, ’n noodsaaklikheid.”

In ’n onderhoud in Maart 2007 met Murray la Vita het prof Elize hom vertel van die kanker wat by haar gediagnoseer is: “Weet jy, dit is so ’n half kaleidoskopiese aangeleentheid. Jy skud die prentjie dan lyk dit anders. Ja, in die begin van verlede jaar is ek met kanker gediagnoseer wat toe al in ’n redelik gevorderde stadium was. Maar dis ook relatief. Dis ’n beheerbare proses. Met die gevolg dat ek my nie voortdurend bewus is dat ek ’n kwelling het nie. En ek het in die afgelope jaar of wat geleer ’n mens gaan net met jou lewe aan.

“Ek was 75 toe ek die diagnose ontvang het. Dit is ’n tyd wanneer ’n mens in ieder geval begin afskaal. ’n Mens is jou klaar bewus dat jy suiniger moet wees met jou tyd en jou kragte, en nou is jy bietjie skerper bewus daarvan. Maar dan is jy ook enorm bewus daarvan wat nog oorbly om te geniet” (Die Burger, 30 Maart 2007).

Oor haar liefde vir mense het sy aan La Vita vertel: “As ek nou vir jou my lewe met boeke en met die joernalistiek en so aan uitlig, dan moet jy eintlik sien dat in al die gevalle daar menslike verbintenisse is wat daarmee saamhang. Ons vriende is nie noodwendig almal literêre mense nie. Hulle kom uit all walks of life.

“As ek moet sê wat naas my lewe met boeke die belangrikste is … Ek is nie ’n stokperdjie-mens nie. Ek is nie ’n versamelaar nie, ek is ook nie ‘n voorslag van ’n tuisteskepper nie. My man is ’n uitstekende kok en hy sê hy kook uit selfbehoud. Maar mense, mense … die menslike geselskap. Nie net die toegespitste, intieme gesprek nie, maar ook die improviserende gesprek. Die gespreksgenoot van dié soort wat dan by my opkom, is Etienne Leroux.”

Elize Botha is op 16 November 2007, twee dae voor haar 77ste verjaardag, in die Sungardens Hospice in Pretoria oorlede na ’n twee jaar lange stryd teen kanker. Sy word oorleef deur haar man, Johan, hulle drie kinders, Frederik, Liesbeth en Maria, en vier kleinkinders.

Huldeblyke

  • Ton Vosloo (in Maart 2007): “Ek het ’n groot verskeidenheid grotes ontmoet en selfs leer ken, maar nog nooit so ’n voete-op-die-grond grote soos Elize nie, een wat altyd haar standpunt met beskaafde oortuiging kan oordra. Jy het toenemende bewondering gekry vir haar vermoë om die grootsheid met so min vertoon en met ware insig oor te dra. Sy het nie voete van klei nie. Sy was in elke opsig indrukwekkend met haar fenomenale dieptekennis oor omtrent elke aspek, veral van haar vakgebied, lettere. Sy het Naspers aan ’n breë front versterk met haar insigte, so ook ons boek-uitgewerye. Elize was ’n mededeelsame en konstruktiewe kollega en vir die Naspersfamilie was dit ’n voorreg om haar op direksievlak op te neem. Van haar het uitgestraal ’n heilsame invloed wat ons land op vele terreine verryk het. Ons bring hulde aan ’n merkwaardige mens.” (Die Burger, 30 Maart 2007 en Volksblad, 17 November 2007)
  • Marlene van Niekerk: “Sy is die Elwekoningin van die Afrikaanse letterkunde. Sy het ’n besonderse sin vir humor gehad wat sy tot aan die einde van haar lewe behou het. Haar medemenslikheid en insig sal my altyd bybly.” (Rapport, 18 November 2007)
  • Andreas van Wyk: “Ons eie vorstin. Sy was ’n vrou met vele kante. Haar vakgenote in die breë Afrikaanse letterkunde het haar anders belewe as haar daaglikse kollegas in die Pretoriase leerbedryf. Die agbare lede van die Akademie het hul besondere ervaring met haar gehad. Net so haar kollegas in die direksie van Naspers. Ek het haar weer in die konteks van die Stellenbosse universiteitsbestuur en die Afrikaanse kultuurlewe uit ’n ander hoek meegemaak. En so het almal hul eie blik op hierdie vrou gehad. Stellenbosch gaan haar mis. Stellenbosch gaan haar poësie mis.” (Die Burger, 29 November 2007)
  • Elsa Nolte: “Elize Botha was ’n mens-mens wat skerp en helder kon formuleer en só in Afrikaans kon skryf dat ’n mens jaloers kon raak.” (Volksblad, 23 November 2007)
  • Henriette Grové: “Daar was ’n hegte vriendskap tussen ons oor baie jare en ons het baie belangstellings gedeel, soos musiek, lees en boeke.” (Volksblad, 23 November 2007)
  • Pik Botha: “Haar afsterwe is ’n droewige dag. Elize het ’n onvervangbare bydrae op die gebied van die Afrikaanse taal en letterkunde gelewer. Sy was ’n nederige, gulhartige, joviale en altyd vriendelike mens. ’n Mens kon enige onderwerp met haar bespreek, selfs die politiek. Sy was ook ’n ware Afrikaner wat in haar omgang met swart, bruin en Indiërmense ’n rolmodel was oor hoe ons moet versoen sonder om ons eie prys te gee.” (Volksblad, 23 November 2007)
  • Russel Botman: “Ek sal Elize Botha onder meer onthou vir haar vermoë om die universiteit te herinner aan sy waardes én sy rol om diversiteit te bevorder. Niemand wat haar pad gekruis het, kon vertrek sonder om geraak te word deur haar akademiese bedrewenheid, woordvaardigheid, belesenheid, spitsvondigheid en vonkel in die oog, haar liefde vir mense en die letterkunde, asook haar besondere nederigheid nie.” (Die Burger, 20 November 2007)
  • Maria Malherbe, dogter: “Ma het baie van sjokolade gehou. KitKat en Turkish Delight in die pers en goue papier was van haar gunstelinge. Sy was mal oor fliek en ek onthou nog hoe sy altyd, wanneer die ligte afgegaan het, na my sou oorleun en fluister: ‘the pleasure dome’. (Volksblad, 23 November 2007)
  • Liesbeth Botha, dogter: “Sy was nie net ’n wonderlike ma nie, maar my mentor, heldin, vriendin, klankbord, sielkundige, vertroueling, begeleier en rolmodel. Ek kan my die lewe sonder haar beswaarlik voorstel.” (Volksblad, 23 November 2007)
  • Volksblad: “Prof Elize Botha was inderdaad ’n formidabele “vrou van eerstes” en een van die belangrikste stemme in die Afrikaanse letterkunde en akademie die afgelope vyftig jaar. Haar gewaardeerde erflating strek oor verskillende terreine. Sy was altoos met haar voete stewig op die grond en ’n toonbeeld van fyn beskaafdheid. Haar respek en liefde vir haar medemense loop soos ’n goue draad deur haar lewe. Volksbladeer haar nagedagtenis.” (Volksblad, 19 November 2007)
  • Chris Brink: “Elize Botha was een van die mees kosbare bates vir die US. Ons het in Desember 2006 die laaste keer tydens ’n gradeplegtigheid die verhoog met mekaar gedeel. Sy was miskien kleiner van postuur, maar groter in statuur.” (Die Burger, 29 November 2007)
  • Ellen Botha: “Behalwe vir al haar ander talente, was prof Elize Botha met haar diep stem geseënd met ’n lieflike sin vir humor. Haar stem is stil, maar die voorbeeld wat sy met haar lewenstaak vir ons almal was, kan nooit van ons weggeneem word nie. Daarvoor is ons dankbaar.” (Die Burger, 20 November 2007)
  • Madeleine van Biljon: “My oudste vriendin met wie ek veertig jaar bevriend was, was ’n besonderse mens met ’n ongelooflike intellek. Sy het nie net ’n besonderse rol in my lewe gespeel nie, maar ook in die uitbouing van die Afrikaanse taal en akademie. Sy was ’n mens-mens. Haar vriendskap was die heel wonderlikste ervaring van my lewe.” (Rapport, 18 November 2007)
  • Margaret Bakkes: “Sy was ’n nederige mens, ondanks haar akademiese agtergrond. Ons het nooit geskinder nie, want daar was altyd te veel ander belangrike dinge om oor te gesels. Ons het baie boeke gedeel en daaroor gepraat. Sy het ook ’n baie belangrike rol in my skrywersloopbaan gespeel en het my aangemoedig om my skryfwerk in ’n ander rigting te stuur. Sy was altyd eerlik en opreg.” (Rapport, 18 November 2007)
  • Bettie Cilliers-Barnard: “Elize was vir my ’n groot inspirasie. Ons was geesgenote sonder om te dink, net om te weet. Sy was ’n deskundige op verskeie gebiede en sy het nooit haar kennis teruggehou nie. Haar waarde vir die land is onskatbaar. Sy het ’n omvattende kennis van die beeldende kunste gehad en sy het haar ? selfs gehelp met titels vir haar werk.” (Rapport, 18 November 2007)
  • Rapport: “Prof Elize Botha se dood is ’n besondere verlies in ’n tyd waarin die land se intellektuele lewe dikwels oorheers word deur die raserige ruimtes waar woedende politieke ontleders en wispelturige kunstenaars se menings die toon aangee. Laasgenoemde is nodig vir die openbare debat in ’n demokrasie, maar net so nodig is ’n stert, diep stroom van deurdagte akademiese werk. Dis waar Elize Botha se groot bydrae in ’n loopbaan van meer as veertig jaar was as literator en professor aan drie van die land se grootste universiteite. Van so ’n hoë gehalte was dié werk dat dit as erflating al genoeg is. Maar sy het ver buite die begrensing van die akademiese ivoortoring getree. Deur die jare het sy haar stempel afgedruk in talle instellings, tot in die nuwe Suid-Afrika in, waar sy die kommissie gelei het wat oor die nuwe vlag en volkslied besluit het. Sy was ook die eerste vrou wat etlike hoë poste beklee het, sonder dat sy ooit die feministiese vlag geswaai het. Dit alles sal in die annale aangeteken staan, maar wat dalk meer as haar invloedrykheid en vele toekennings en prestasies saak gemaak het, was die mens agter dit alles.” (Rapport, 18 November 2007)
  • HJ Pieterse: “In die Departement van Afrikaans, Unisa, was prof Elize net ’n vreugde as kollega. Tussen al die politiekery van die universiteit het sy nooit sinies of negatief geraak nie en het altyd krisisse met humor hanteer. Ek dink nie Unisa het ooit haar simboliese waarde vir die breë gemeenskap werklik besef nie. Jaareindfunksies was ’n verdere plesier saam met haar. Na die funksie sou “black velvet” (sjampanje en Guiness) in haar kantoor bedien word. Deur die jare het ek gereeld by die Bothas aan huis gekom. Daar was die jaarlikse vergadering met trustees van die Dagbreek-Trust wat Tydskrif vir Letterkundejare lank gefinansier het. Wanneer dinge te styf raak, sou prof Elize verneem wie ietsie wil ‘gebruik’ en dan het dinge makliker geloop, soms met ‘Mother’s Demise’ of ‘Who killed the Auntie’ (jenewer en tonikum) byderhand. Ek het haar in die eerste en laaste instansie as dosent en mentor leer ken en later as goeie vriendin oor ’n tydperk van 25 jaar. Haar titels en ampte het haar (en my) nooit gepla nie en ek sal haar altyd onthou as warm, skerpsinnige mens, nederig, vol humor, met ’n wye belesenheid en diep wysheid.” (Tydskrif vir Letterkunde, 2008)
  • Joan Hambidge: “Dit is vir my as literator belangrik om haar enorme bydrae tot die Afrikaanse letterkunde te beklemtoon. Haar belesenheid en haar vermoë om, vir die tyd dan, ingewikkelde tekste vir die gewone en ingeligte leser oop te maak, moet vermeld word. ’n Mens dink hier aan haar essays oor Etienne Leroux in die besonder, haar kritieke oor die moderne prosa, haar onderhoud met MER, haar bloemlesing van Hennie Aucamp se verhale, haar versameling van essayiste, om enkele hoogtepunte uit te sonder. As jong student het ek ’n MA-verhandeling onder haar kundige leiding voltooi.

“Deur die jare het ons vir mekaar gereeld boeke toegesend as geskenke: ek bewaar steeds ’n versameling van George Steiner wat sy vir my aangestuur het. Of ou uitgawes van The New Yorker.

“Haar menslikheid en liefde vir kuier en gesels, selfs met jong letterkundiges, moet eweneens vermeld word. By haar het ek die voorliefde vir outydse woorde – soos omfloers of koeterwaals – so geniet. Om nie te praat van die aanhalings uit Mikro of Van Melle nie!

“Die venyn wat so dikwels die letterkundige en veral kritiese bedryf kenmerk, was by haar volledig afwesig. Sy was gesteld op vriendskappe en sy was ’n raconteur van formaat wat haar gaste kon verkwik op anekdotes, ’n belangrike subgenre. Ek onthou haar artisjok-gereg en lang etes met ander skrywers. En as jy jou ‘misdra’ – nog ’n Elize-woord – het, sou Elize vergewe en vergeet. Wat my betref, was Elize Botha ’n letterkundige wat helder kon formuleer. Trouens, daar is min van ons wat so goed soos sy kan skryf. En gelukkig sal hierdie bydraes altyd bly staan, al is sy nie meer met ons nie. (Bron en datum onbekend)

  • Die Burger: “Suid-Afrika en spesifiek Afrikaans is een van ons beste mense kwyt met die afsterwe van die geliefde letterkundige en kanselier van die Universiteit Stellenbosch, prof Elize Botha. Die Burgerse meelewing gaan in hierdie tyd uit na haar naasbestaandes. U verlies is ons s’n. Sy sal altyd voortleef as iemand wat nie teruggedeins het wanneer dit nodig was om leiding te neem nie, soos Naspers, die Stigting vir Afrikaans en die Nasionale Kunsteraad onder meer kan getuig. In verskeie van hierdie liggame het sy baanbrekerswerk as vrou verrig, hoewel mens nooit die idee gekry het sy het hierdie posisies beklee omdat sy ’n vrou was nie. Sy was in ’n ander klas as kwotastelsels. Sy was ’n ywerige en gerespekteerde pleitbesorger van die demokratiese bestel in ’n soms skeptiese Afrikaanse gemeenskap, en het dieselfde rol gespeel vir Afrikaans in ’n soms skeptiese demokratiese bestel.

“Het jy die geleentheid gehad om haar te leer ken, was dit gou duidelik waarom soveel organisasies wou hê sy moet leiding verskaf. Sy het ’n beskawende invloed uitgeoefen waar sy ook gegaan het. Daar was ’n rustigheid en warmte, uitgespreek in haar diep stem, ’n oorwoënheid wat sekerheid verskaf het, en ’n dierbaarheid wat vertroue geskep het.

“Daarom staan Die Burger en veral ons land se Afrikaanse gemeenskap vandag met geboë hoof, waarderend maar treurig en ietwat blootgestel omdat haar seker hand nie meer leiding sal kan verskaf nie.

“Ons huldig haar met die woorde van iemand wat dit beter as ons kan doen, haar mentor NP Van Wyk Louw, wat haar al vroeg na waarde geskat het:

dat die skoonste gesterf het, dat die edelste wagter
koud lê langs haar vuur, en haar stam lê oop
soos ’n ou kraal in die gras waar die jakkalsies loop
deur die riete bedags.” (Die Burger 17 November 2007)

  • Beeld: “In ’n tyd waarin die waarde van dinge al hoe meer aan geld gemeet word, is prof Elize Botha deur kollegas en medewerkers as aristokraties bestempel. Dit was omdat die kwaliteite wat haar gekenmerk het, kwessies soos intellektuele insig, praktiese intelligensie en ’n verbintenis tot die letterkunde (spesifiek in Afrikaans) was. In dié sin was sy nie net ’n voortsetting van ’n lang tradisie van invloedryke Suid-Afrikaanse vroue nie, maar ook van wat die beste van die Afrikaanse letterkunde was. Vir mense wat haar geken het en die voorreg gehad het om op intellektuele vlak met haar saam te werk (hetsy kollegas, studente of skrywers), was sy die voortsetting van ’n tradisie waarin mense soos NP Van Wyk Louw skakels was. Sy het boonop die mooiste, suiwerste Afrikaans gepraat. Wat sy wou sê, het sy reguit en raak gesê. Suid-Afrika en Afrikaans is armer met haar afsterwe.” (Beeld, 23 November 2007)
  • Johann Lodewyk Marais: “Sy kon die feilbaarheid van haar oordeel erken: Toe ek haar ’n keer gevra het waarom sy nie ’n essay van Marthinus Versfeld in haar Afrikaanse essayiste(1965) opgeneem het nie, was haar antwoord: “Ek was dom.” Elize Botha is al “onse Mon Elize”, “die boegbeeld”, “die Nelson Mandela van die Afrikaanse letterkunde” en “een van die belangrikste stemme in die Afrikaanse letterkunde en akademie die afgelope vyftig jaar” genoem. In sommige van dié uitsprake is daar iets van ’n angel, maar dat Botha een van die grotes, toevallig ’n vrou, van die (Suid-) Afrikaanse kultuurlewe is, is gewis. Met háár, wat self krities was en haar sienings kon aanpas, behoort ons in gesprek te bly.” (Bron en datum onbekend)
  • Jakes Gerwel: “My ou vriend en kollega Elize Botha was ’n lady in persoon, taal en werkwyse. Niemand het styl- en sinvoller as sy oor die Afrikaanse prosa, en oor letterkunde oor die algemeen, geskryf nie. Soos daar glans in elke versreël van Eybers sit, straal iedere sin in ’n Botha-opstel verheldering uit. Sy het die gewoonte gehad om op ’n punt af te redeneer in haar ontledings en beskrywings; ek het dit altyd grootliks gewaardeer. En so was sy ook as persoon – geen flambojante vertoon om eie onthalwe nie; altyd die verstaanbare doelgerigtheid. En die eindproduk een van byna estetiese geïntegreerdheid en persoonlike integriteit. Lees, woorde, was letterlik haar lewe. En sy kon haar vreugde oor woorde deel. Dít sal ek baie besonderlik van haar mis: sy kon kuier met goeie wyn, oor woorde, boeke, die lettere.” (Bron en datum onbekend)
  • Andries Wessels: “Met haar intense liefde vir, betrokkenheid by en toewyding aan die tradisies van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde in die besonder, maar ook van vormgewing deur kuns in al sy fasette en dimensies, haar intense meelewing met elke aspek van die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis en kultuur, die breër Westerse en wêreldkultuur, en haar onvoorwaardelike liefde vir haar familie en sy geskiedenis, het haar lewe inderdaad die patrone van die voorgeslagte se ywer met waardigheid en grasie versier, verfyn en voltooi. Haar betrokkenheid het die hele spektrum gedek, van ’n diepe genot in die werke van skrywers soos Etienne Leroux of Marlene van Niekerk, TS Eliot of WB Yeats tot, wanneer die geleentheid reg en die atmosfeer gul genoeg was, om met haar mooi altstem ‘Net soos ’n waterstroompie’ gevoelvol vir ons in sang voor te dra.” (Bron en datum onbekend)

Ná Elize Botha se 70ste verjaardag het Madeleine van Biljon haar gevra of sy dink dat alles wat sy bereik het, ’n verskil gemaak het. “Moeilik. Ander sal moet beoordeel. Maar alles waarby ek betrokke geraak het, het met die liefdes in my lewe te make gehad – mense, boeke, musiek, teater, die taal – en ek het dit gedoen in die hoop dat dit ’n verskil sou maak.” (Insig, November 2000)

Aan die einde van haar onderhoud met Tom Gouws in De Kat van September 1989 wou Tom weet of sy wat Elize Botha is, nog iets het om te verklaar. En sy het dadelik geantwoord: “Dat ek myself gelukkig ag dat die lewe Here my hierdie ‘divine frenzy’ vir die literatuur toegelaat het. Dit was ’n genadegawe.”

In 2017 publiseer Litera Uitgewers Gespreksgenoot: ’n brieweboek wat deur Heilna du Plooy saamgestel. In die eerste deel van die boek verskyn korrespondensie met “gewyde” name soos NP Van Wyk Louw (onder wie Botha haar doktorale studie in Amsterdam voltooi het), Elisabeth Eybers, die Oppermans, Audrey Blignault, Elise Muller en Alba Bouwer. In deel twee kom die daaropvolgende geslag, onder wie Hennie Aucamp en Lina Spies, aan die beurt, en in deel drie en vier is dit die jonger geslag, soos Joan Hambidge en Koos Prinsloo, wat met Botha in gesprek tree.

In Volksblad (16 Oktober 2017) skryf Louise Viljoen dat van al die korrespondensie dit dié met Audrey Blignault, Hennie Aucamp en Lina Spies is wat as die mees boeiendes uitstaan: ‘Stilisties gesproke is hierdie briewe sowel ’n opvoeding as ’n vreugde: Elkeen van die viertal is uitnemende formuleerders, hartstogtelike lesers en intens betrokke by die Afrikaanse letterkunde. Uit hierdie briewe blyk nie net Elize Botha se literêre intelligensie nie, maar ook die emosionele intelligensie wat van haar so ’n bestendige en simpatieke vriendin gemaak het.

“Dit is in hierdie deurlopende gesprekke met literêre geesgenote eerder as in die enkelbriewe wat haar reaksie op literêre verwikkelinge deur die loop van jare blyk. Sekere dinge staan uit: haar voorliefde vir die ouer Afrikaanse prosa eerder as byvoorbeeld die betrokke literatuur in die 1970’s, haar gekweldheid oor die aanvalle van jonger vakgenote op haar in die polities onstuimige 1980’s en haar blywende pligsgevoel teenoor instansies wat die Afrikaanse letterkunde in stand hou. (…)

“Wat die redigering van die brieweversameling betref, is daar duidelik ’n keuse gemaak vir die minimum redaksionele intervensie. Daar is enkele verklarende voetnotas, maar nie oral waar dit nodig is nie. Daar is ook gevalle waar die transkribeerder van die briewe kennelik oor ’n moeilik leesbare handskrif gestruikel het (…).

“Ten slotte bevat Gespreksgenoot veel wat menslik en onderhoudend is; vir lesers van later geslagte sal dit ook insae gee in hoe Elize Botha en haar geesgenote gedink het oor die Afrikaans letterkunde. As sodanig kan dit gelees word as nog een van die kleurvolle blokkies in die groot en gediversifiseerde mosaïek van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis.”

Publikasies

Publikasie

Gids by My vyfde verseboek: ’n handleiding by die onderrig van poësie vir standerd vyf. Saam met Joan Swiegers

Publikasiedatum

[197-]

ISBN

0625001699 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare

Publikasiedatum

1965

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: SAUK

Literêre vorm

Biografiese sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Handleiding by die studie van die letterkunde

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1968
  • 1970
  • 1971
  • 1975

ISBN

0625001753 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gids by My derde verseboek: ’n handleiding by die onderrig van poësie vir standerd drie

Publikasiedatum

1970

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Hoogtepunte in die Afrikaanse verhaalkuns. Saam met NJ Snyman

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1987

ISBN

  • 0868740497 (hb)
  • 0868743011 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014967 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

NP Van Wyk Louw en die Afrikaanse prosa

Publikasiedatum

1982

ISBN

0869701355 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Prosakroniek

Publikasiedatum

1987

ISBN

0624025047 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Wat het geword van Brolloks en Bittergal? Spore (en spoke) van CJ Langenhoven in die wêreld van taal en lettere aan die eeu-einde in Suid-Afrika

Publikasiedatum

1999

ISBN

0869997394 (sb)

Uitgewer

Port Elizabeth: Universiteit van Port Elizabeth

Literêre vorm

Gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Boeke oor Elize Botha:

Elize Botha as samesteller:

  • Afrikaanse essayiste. Kaapstad: Human & Rousseau, 1965, 1967, 1974, 1975 [ISBN 079810368X (hb)]
  • Aucamp, Hennie: In een kraal: ’n keuse uit die prosa van Hennie Aucamp. Kaapstad: Tafelberg, 1979, 1983, 1990 [ISBN 062401326X (hb); 0624018830 (hb); 0624028925 (sb)]
  • Blignault, Audrey:
    • Mal Hansie en ander verhale. Saam met Hennie Aucamp. Kaapstad: Tafelberg, 1996 [ISBN 0624034771 (hb)]
    • Nogtans sal ek jubel: 30 essays en vertellings. Kaapstad: Tafelberg, 1977, 1985 [ISBN 0624010546 (hb); 0624023095 (sb)]
  • Louw, NP Van Wyk: ’n Keur uit sy gedigte. Saam met AP Grové. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 19-
  • MER: Van naby gesien: ’n keur uit die kortkuns van MER. Kaapstad: Tafelberg, 1975, 1976 [ISBN 0624007081 (hb)]

Elize Botha as redakteur:

  • Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Saam met TT Cloete, AP Grové en JP Smuts. Goodwood: Nasou, 1980 [ISBN 0625014901 (hb)]
  • Gids by die literatuurstudie. Saam met TT Cloete en Charles Malan. Pretoria: HAUM-Literêr, 1985, 1989 [ISBN 0798618310 (hb); 0798629592 (hb)]
  • Program en problematiek: handelinge van die stigtingskongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 25 en 26 Oktober 1984e. Saam met Henning Snyman. Durban: Butterworth, 1986 [ISBN 0409109096 (hb)]
  • Samehang en sin: opstelle oor die Afrikaanse poësie. Saam met Rena Pretorius. Kaapstad: Tafelberg, 1983 [ISBN 0624019675 (hb)]

Artikels oor Elize Botha op die internet:

 Artikels deur Elize Botha beskikbaar op die internet:

Elize Botha se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2012-10-31 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Elize Botha (1930–2007) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 494

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>