Jan FE Celliers se LitNet | ATKV-Skrywersalbum is nou volledig bygewerk.
|
Sêgoed van Jan FE Celliers In Kuns in lewe en kultuur (1933): “’n Mens kan mos nie sommer boeke verbied omdat sommige moreel onaanvaarbaar is nie, net soos ’n mens nie alle vroue kan verbied omdat ’n paar van hulle sedelik bedenklik leef nie.” (Die Burger, 18 September 1999) Raad aan voornemende digters: “Lees veel gedigte, van alle soorte en in soveel tale as julle kan. Steur julle nie aan dié wat sê dat julle daardeur gevaar loop van jul oorspronklikheid te verloor. Wie se oorspronklikheid het uit homself ontspring, sonder iets of iemand wat daar die grond van is? Ons leer sien deur die oë van ’n ander; dog alleen as ons self oë het, nie blind is nie. Juis deur veel letterkunde te lees, en dit nie alleen nie, dog ook beoordelinge van boeke – dikwels heeltemal teenstrydig teen mekaar – leer ons insien dat ons op eie bene moet staan en dit durf doen. En moenie bang wees nie: glo my, as jy eie bene het, sal jy hulle ook voel en gebruik.” (Huisgenoot, Augustus 1921) Van die pessimis het hy gesê: “Dog as hy ’n pessimis en ’n tjank-kunstenaar word (en daar is baie sulkes), wat ons niks anders kan meedeel, van niks anders kan getuig nie as van die neerdrukkende van die smarte en hoe dit hom oorman, in plaas van die omgekeerde, dan moet hy liewer swyg. Groot poësie is digterlike uitdrukking van groot sielelewe in smart, vreug en vrees.” (Brandwag, 14 Junie 1940) “Die strewe van die digter moet wees ’n deursoeking, deurvoeling, deurgronding van die groot geheim in en buite die mens, in alle dinge, in alle vorme, in groot en klein, in natuur en siel.” (Brandwag, 14 Junie 1940) “As die geskikte grond in die siel aanwesig is, kan en sal dit vrugte dra van digterlike lewe, al word daar nooit ’n woord op papier gesit nie. So ’n swygende digter word dikwels eers tot verder en ryker ontwikkeling gebring, en tot uiting ook in geskrifte, deur te sien wat deur ander in geskrifte gelewer is.” (Huisgenoot, Augustus 1921) “Daar is niks wat ter wille van sigself bestaan nie. Alles bestaan ter wille van ’n alharmoniese geheel.” (Brandwag, 14 Junie 1940) “’n Mens se gees, se siel, is nie in vakke verdeel wat los en geïsoleerd van mekaar staan nie. Omgang, vertroulikheid, lewe met skoonheid en harmonie het invloed op al wat ons dink, doen of onderneem, ja, op elke woord en handel en bejegening van ons medemense.” (Brandwag, 14 Junie 1940) P de V Pienaar haal Celliers se kunsopvatting aan: “Daarom kan so ’n digter nie ’n goeie digter wees nie as hy hom van die maatskaplike lewe afsonder en nie met sy hand kan of wil werk nie, en nie net soos ons swaar gekry en gelag en bly gevoel het nie.” (Brandwag, 14 Junie 1940) In ’n brief aan PC Schoonees (iewers gedurende 1911): “Uit die werk van ’n egte digter spreek ’n aandrang of sterke gemoedsbeweging, wat brand om ons ’n treffende nieuwe, of ten minste persoonlike kyk te gee op die dinge wat hy beskryf. Die egte digter verras ons altyd min of meer, deur ons iets beter te laat verstaan of voel, of selfs maar deur iets wat ons lang géweet het op ’n treffende nieuwe, gevoelvolle of kragtige manier te sê.” (Brandwag, 14 Junie 1940) “Eers als die Afrikaner nie meer geleer word nie om sijn taal, en wat verder sijn eie is, als tweede-beste te beskouw naas uitlandse produk; eers als die Afrikaner-kind se respek nie meer ondermijn word nie, deurdat hom geleer word dat Afrikaans (die taal van Pa en Ma thuis) te min-beduidend is om die skool- en boeketaal te wees, en die taal van die predikant en die Bijbel en gebed, eers dan sal die Afrikaanse Letterkunde sijn ware bloei tegemoet gaan, omdat dit die hoogste siels-uiting sal wees van ’n volk-self, wat opbloei.” “Dit is die heilige plig van elke Afrikaner om, met verstandige waardering en gebruikmaking van wat die buiteland aan voortreffeliks en onmisbaars oplewer, ’n onverbiddelike en taaie strijd aan te knoop en vol te hou teen alles en almaal, wat hom sijn eie element nie gun nie, ten opsigte van lewe, opvoeding, taal, kuns, ontwikkeling in alle opsigte.” |
Johannes Francois Elias Celliers is op 12 Januarie 1865 op Wellington (Wagenmakersvallei) in die Wes-Kaap gebore. Sy oupa aan moederskant was die bekende sendeling te Wellington, Izak Bisseux. Magdalena Bisseux, Izak se een dogter, is op Wellington getroud met Jan Celliers. Hy was aan vaderskant ’n afstammeling van Josué Sellier (ou spelling van Celliers) en Elisabeth Couvret, Franse Hugenote wat uit Orleans gevlug het, en ná ’n verblyf van enige jare in Nederland in 1700 na die Kaap verhuis het.
Hy het een broer, Izak, en twee susters gehad. Een van Jan se susters was getroud met die bekende beeldhouer Anton van Wouw.
Jan het op ’n vroeë ouderdom saam met sy ouers na Kaapstad gegaan, waar sy pa subredakteur van Het Volksblad was. Jan het sy eerste onderrig aan ’n Engelse skool ontvang en sy tweede skool was ’n Skotse Kerkskool, ook in Kaapstad.
In 1873 het sy vader die koerant Die Volkstem in Pretoria begin en in 1874 is die gesin per ossewa ook na Pretoria. En daar word geglo dat Jan se liefde vir die vlakte wat ons oral in sy gedigte aantref, hier sy ontstaan gehad het.
In Pretoria was die onderwys van ’n beter gehalte as in die Kaap. Sedert 1874 het Jan skole onder CJ van Boeschoten (later ondersekretaris), H Dely en GJ van Nikkelen Kuyper (later Weesheer van die Republiek) bygewoon, voordat hy in 1879 teruggestuur is na die Kaap, waar hy na die Gimnasium op Stellenbosch is. Van 1881 tot 1882 was hy in Wellington.
As twaalfjarige seuntjie het hy op 12 April 1877 gesien hoe Sir Theophilus Shepstone die Britse vlag oor Pretoria gehys het.
Die Celliers-gesin het armoede geken. In Jan se kinderdae het dit soms so skraps gegaan dat sy ma hom drukkery toe gestuur het om rollerstroop te gaan haal wat hulle tuis op hulle brood geëet het, het Riena van Graan in Lantern (September 1990) geskryf.
Gedurende die eerste anneksasie van Transvaal was daar geen skool nie en het Jan by sy vader in die drukkery gaan werk teen tien sjielings per maand. Dit het hom ook heelwat van settery geleer.
In 1883 is Jan terug na die destydse Transvaal, waar hy tot 1887 die skool van die bekende meester Louis bygewoon het.
Verdere studie en werk
In 1887 het Jan na Nederland vertrek, waar hy aan die Politegniese Skool te Delft studeer het. Hy is ook na Leiden, waar hy tot 1890 onder proff Schols en Van de Sande Bakhuizen studeer het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy as landmeter in die (voormalige) Transvaal gekwalifiseer. Hy het egter gou besluit dat die landmeterberoep nie vir hom was nie, hoewel hy in Die Huisgenoot van Mei 1921 erken het dat hy aanvanklik verdiep in die wiskunde was, “en min of meer selfs daarop verlief was”.
“Die wiskunde (nodig vir my studie as landmeter) het my in die begin werklik bekoor: ek moes daarby voortdurend dink aan die ou Griekse tempels wat so sonder oortollige opsmuk, vas en sonnig en eerlik op hul sterk pilare staan. Dog die bekoring het verdwyn toe ek later by die waarskynlikheidsrekening gekom het; die geskarrel met foutjies-vereffening, en so meer, het my gewalg, hoeveel eerbied dit my ook al afgedwing het vir die menslike vernuf wat dit alles uitgedink het. Dit was vir my of ek nie diep en duidelik genoeg kon sien en vat wat my daar voorgeredeneer is nie. Dit het my op die duur te yskoud geword, te min in verband gestaan met die hele ryke lewe van gevoel en natuur en skoonheid, dit was my te eensydig.
“En selfs op eie gebied het dit my nie bevredig nie; dikwels as ek wou stilstaan en vra, is aan my gesê dat ek tevrede moes wees met wat my voorgesit word: daar was geen tyd vir inslaan van sy weë nie, vir spekulasies wat buite die draadheining van die vakpad gaan nie. Snaaks dat ek dit gevoel het terwyl alle lus in die vak vir my tog steeds verdwyn was – ek het besef dat ek dit in die wiskunde nooit ver sou bring nie; dog die weg daarvan wat bo my vak gaan, het my darem baie nuuskierig gemaak. My onmag daarin het my enigsins bedroef, dog ek was daar gou oor; die hele ding is dat ’n ander nooi my al van kleins af meer bekoor het en my hele hart in besit geneem het.
“Ek herinner my nog goed, al was ek toe maar ses of sewe jaar oud, dat ek sterk onder die betowering was van die dennebosse op die plaas van my grootvader, nie ver van Platklip af nie, teen die helling van Tafelberg. ’n Heeltemal ander bekoring het die groot Afrikaanse vlaktes op my gehad, waar ons kort daarna deurgetrek het, op ons reis na die Transvaal; die kontras was verrassend, en die indruk blywend, dog dit had die versterking van die rypere jare nodig om tot uiting te kan kom.”
Jan het in 1892 as amptenaar by die Onderwysdepartement begin werk, voordat hy in 1894 die aanstelling as Staatsbibliotekaris gekry het – ’n werk wat hom baie beter geval het. Daar het hy gewerk tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899. Hy was intens gelukkig in sy werk as bibliotekaris.
Hy is in 1894 getroud met Susanna Jacoba Dürr. Klaarblyklik het sy ’n redelike invloed op haar man se lewe uitgeoefen. Volgens ’n artikel in Die Huisgenoot (datum onbekend) het sy in moeilike dae deur haar liefde en toewyding, haar wyse hantering van huishoudelike sake, en haar aanmoediging, die huis staande gehou en hom gesteun, veral gedurende die tyd toe hy nog rigting gesoek het en sy selfvertroue maar redelik laag was. Sy eerste gedig, “Die vlakte”, het byvoorbeeld ’n jaar lank onder ander papiere gelê voordat Susann hom so ver kon kry om dit aan iemand voor te lees.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Jan hom by die kommando’s aangesluit. Hy was aanvanklik saam met ’n paar honderd burgers in die suidelike Vrystaat by die oorlog betrokke, maar met die finale ineenstorting van die Boeremagte is hulle na Kroonstad in ’n poging om lord Roberts se opmars vanuit ’n sterker verdedigingsposisie te stuit. Toe ook hierdie plan misluk het en hy op 29 Mei 1900 in Pretoria aangekom het, het daar chaos geheers.
President Paul Kruger en die meeste van sy amptenare het die stad reeds die vorige dag verlaat. In ’n poging om ’n vreedsame oorgawe van die stad te bewerkstellig, het generaal Louis Botha opdrag gegee dat alle vegtende burgers Pretoria moet verlaat. Voordat die burgers egter hierdie opdrag ontvang het, was die Britse soldate al in die stad.
Celliers was dus in ’n baie gevaarlike posisie, al kon hy nog maklik in die stad rondbeweeg het, skryf JC Kannemeyer. Toe dit egter vir Pretorianers verpligtend geword het om die eed van getrouheid en neutraliteit aan die Britse kroon af te lê, het hy weggekruip en planne beraam om uit die stad weg te kom en hom weer by ’n kommando aan te sluit.
Op 24 Augustus 1900 het Jan en sy vrou met die hulp van ’n paar vertrouelinge hul ontsnappingsplan in werking gestel. Celliers, vermom in vroueklere as ’n siek tante wat hospitaal toe moes gaan, is saam met mevrou Malan en twee seuntjies – die dogter en kleinkinders van generaal Piet Joubert – in ’n oop rytuig weg van die huis van die vriende waar hy geskuil het.
“Oor my skouers,” skryf Celliers, “’n mantel met hoë opgeslaande kraag, om my kort hare van agter toe te maak; op my hoof ’n reguit-rand-strooihoed, met ’n sware sluier oor my gesig; ’n paar handskoene aan, my voete gewring in ’n paar uitgetrapte dameskoene, met tamelik hoë hakke.”
Reeds met die uitstap in die tuinpaadjie het ’n potensieel gevaarlike situasie vir Celliers opgeduik toe ’n Kakie vlak voor hom by die oop hek verbystap. Toe hulle die eerste draai vat, kom ’n perdewa met Britse offisiere verby. By ’n volgende kruising staan nog ’n Kakie wat sy hand voor die perde hou, asof hy hulle wil stop. In werklikheid wou hy hulle net waarsku teen ’n aankomende voertuig.
“By die Leeubrug ry my vrouw haar broer ons te perd verby; hy haal sy hoed af vir die “dames” – hy weet van die hele gedoente niks nie. Ons ontmoet ook my vrouw haar suster, in ’n rytuig; sy weet van alles, kyk ons effentjies aan, en waag dit nie eers om ons te groet nie. As hulle verder in Kerksraat opry, kom Kakies van alle soorte en fatsoene ... oral verby.’
By die huis van ds Bosman staan die trolliewaentjie en osse wat hom na die Malans se plaas agter Magaliesberg moet neem. Toe die seuntjies sê dat hy met sy gesig agtertoe moet sit, vergeet Celliers dat hy ’n dame moet wees. Sonder om te dink, swaai hy sy bene oor die ysterhandvatsel van die bankie.
“‘Agter die wa,’ só skryf hy, “kom ’n Kakie aangestap in die straat, maar hy moet nog te ver gewees het, dink ek, om my stewige ferweel-kommandobroek te sien, wat by die opswaai van my bene gevaarlik sigbaar (onder die rok) moes gewees het.”
“Elke keer moes Celliers sy rok afdruk as dit te hoog opwaai in die wind en met die ander hand die hoed vashou op sy kort hare waaraan hy nie hoedespelde kon vassteek nie. ‘Ek voel my sluier onklaar word deur die wind, en dat my kort hare agter sigbaar word. Die twee seuntjies kan hul lag nie vir my hou nie; en herhaaldelik moet ek hulle waarsku om my nie so aan te kyk nie.’
“Die grootste probleme kon vir Celliers opgeduik het toe sy pas deur die wagte by die uitgang van die stad nagegaan moes word. Die eerste wag bekyk egter die pas net vlugtig en gee dit terug.
“‘By die Wonderboom-uitgang, skryf Celliers, neem die skildwag weer die pas aan, vou dit langsaam oop, en lees dit op sy dooie gemak van A tot Z deur. Ek kyk hom al die tyd brutaal in sy gesig, dog hy slaan sy oë nie naar my op nie.’ Ook toe hy by ’n offisier in heftige gesprek met ’n skildwag moes verbygaan, ontstaan daar geen probleme nie. Hulle bereik die plaas van die Malans veilig.
“Dit het Celliers ná sy ontsnapping uit Pretoria ses weke geneem om by ’n kommando naby die huidige Brits uit te kom. Van daar is hy saam met die manne van generaal Christiaan Beyers op ’n suidwaartse tog om hulle by generaal De la Rey aan te sluit.
“Hoewel hy op 13 Desember naby die Slag van Nooitgedacht was, neem Celliers nie aan die geveg deel nie, omdat hy gevra is om die perde op te pas. Later is hy ’n lid van ’n kommando onder generaal JCG Kemp, maar by gebrek aan ’n eie perd was hy ook in die laaste fase van die oorlog nooit by ’n offensief betrokke nie.”
Tydens die Anglo-Boereoorlog het Jan ’n dagboek gehou wat in 1978 deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing gepubliseer is. Hy het sy dagboek in Nederlands geskryf met woorde soos “kombaars” en “baadje” wat dit ’n Afrikaanse kleur gegee het. Ook het hy dialoog meestal in Afrikaans weergegee, skryf Biebie van der Merwe in Die Burger van 7 Oktober 2000. En hoewel hy in Nederlands geskryf het, het hy hom telkens ten gunste van die gebruik van Afrikaans as skryftaal uitgespreek. Hy het ook talle Afrikaanse verse van kommandolede in sy dagboek opgeneem.
Die dagboek het vir Celliers veel meer as net die stawing van gebeure beteken. Hy het sy gedagtes, idees en verlange opgeteken en het geskryf waar hy kom – met sy rug teen ’n klip op wagdiens, langs die vuur waar hy water kook, of onder ’n sinkplaat in ’n storm. Hy het groot klem op vriendskap en familiebande geplaas, maar tog verkies om alleen in die natuur te wees of eenkant te sit en lees. Hy het dit reggekry om deur die hele oorlog boeke in die hande kry – in ontruimde plaashuise, van ander kommandolede en in verlate Britse kampe.
Hy het ’n inligtingsvergadering van 12 Mei naby Swartruggens uitvoerig beskryf en was veral beïndruk met De la Rey. Hy het vertel hoe die burgers moes stem tussen vrede ten alle koste of vrede met die behoud van onafhanklikheid. Daar was nie ’n enkele stem vir vrede tot elke prys nie. “Ons beslissing is gevel, ek het dit nie anders verwag nie en dit kon ook nie anders nie, God help ons.”
Die nuus van die vredesluiting het Celliers se kommando op 5 Junie bereik, sonder dat die burgers besef het dit was vrede sonder onafhanklikheid. Die ongeloof wat Jan op dié dag beskryf, het gepaard gegaan met diepe dankbaarheid en vreugde: “Wat in my omgaan, kan ek nie beskryf nie. Ek het nog groot moeite om dit te glo.”
Wat die volgende dag en die dae daarna in hom sou omgaan, was vir Celliers nóg moeiliker om te beskryf. Dit was eers meer as ’n maand later, op 17 Julie 1902, dat hy hom so ver kon kry om sy verslag van die oorlog te voltooi. Hy het vertel hoedat hulle die middag van 5 Junie nog vreugdevure laat brand het en feesgevier het. Die volgende dag het hulle almal na Doornkom vertrek en van ver reeds die massa mense gesien. Hulle was ’n bietjie verbaas oor die stemmigheid en dat daar geen vlae gewapper het nie, maar het nog geen onraad vermoed nie. Niemand wou dit glo toe hulle by hul aankoms aangesê word om hul wapens te gaan neerlê nie.
Celliers het sy ontnugtering roerend beskryf: “Dit is asof ’n slag my bors tref. Nee, dit kan nie waar wees nie. Ek verlaat die wa en loop vooruit. Ek ontmoet meer en meer ongewapende burgers met terneergeslane blikke en trane in die oë. Ek wil dit nie glo nie. Waar is die generaal? Ek moet self met hom praat. Iemand beduie my na sy kar en ek sien hom daar sit. Dit jaag, dit storm in my: “Generaal, daar word gesê dat ons die wapens moet neerlê; ek wil dit nie glo nie, generaal, tensy ek dit uit u eie mond hoor.”’
“‘Maandagaand 9 Junie het ek Pretoria bereik. By die stasie was niemand om my af te haal nie. Alle rytuie was geneem en ek het my sak op my skouer gelig om as ’n vreemdeling deur die strate van ons goeie ou stad te loop en na my mense te gaan soek ...’”
Kannemeyer het voortgegaan in Die Burger: “Omdat hy hom aanvanklik nie met die prysgawe van onafhanklikheid kon versoen nie, het Celliers ná die oorlog met sy vrou en twee klein kinders met ’n trommel goue Krugerponde na Nederland uitgewyk. Hy het hom in Switserland gevestig ter wille van die gesondheid van sy eggenote, wat in die dorpie Pallens, aan die meer van Genève, aan ’n derde kind geboorte geskenk het. Die gesin het besoek van talle Suid-Afrikaners in Europa ontvang en in aanraking gekom met Paul Kruger en ander Boere-vlugtelinge wat in Switserland ’n heenkome gevind het.
“In Clarens, waar Paul Kruger as banneling gewoon het, het Celliers sy bekende gedig ‘Die vlakte’ geskryf. Dit is grotendeels aan sy vrou te danke dat hy tot 1907 in Europa kon bly sonder dat hy ’n vaste betrekking gehad het.”
Jan Celliers se dagboek is in 2001 heruitgegee deur die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika op Stellenbosch. Hierdie tweede uitgawe verskil ietwat van die 1978-uitgawe deurdat daar artikels wat in die Huisgenoot van Desember 1934–Februarie 1936 verskyn het, bygevoeg is.
Daniel Hugo was die resensent van Oorlogsdagboek in Die Burger van 4 September 2001: “’n Historikus sal uiteraard die dagboek anders lees as ’n literator. Fransjohan Pretorius slaan dit baie hoog aan. Hy noem dit in dieselfde asem as Deneys Reitz se Commando: ‘Met fyn waarneming teken Celliers die lewe op kommando op ’n wyse wat geen leser onbewoë sal laat nie – van onderwerpe soos lewensmiddele, klerasie, vlieë, debatte, die alomteenwoordige dood, die gebrek aan dissipline, en sosiale onderskeid, tot sy ervaring van die vrede. Die lees van sy dagboek is ’n emosionele ervaring wat ons kennis van die Anglo-Boere-oorlog oneindig verryk’.”
Hugo het afgesluit: “Die boek is op ’n voorbeeldige wyse van ’n inleiding en geskiedkundige aantekeninge voorsien deur AG Oberholster. (…) Die byna vergete digter uit die begin van die Afrikaanse letterkunde het met hierdie dagboek vir my onverwags lewend en geliefd word. Nooit weer sal ek dink aan Jan Celliers as ’n allitererende stamelaar uit oertye nie. In vele opsigte was hy ’n moderne, kosmopolitiese mens, ’n model vir die bevryde Afrikaner van die 21ste eeu.”
In Kultuurkroniek, ’n afdeling destyds van Die Burger (7 Julie 2001), haal Martiens van Bart die volgende passasie oor Jan Celliers se betrokkenheid by die 1899-oorlog uit sy Oorlogsdagboek aan: “Teen die einde van 1899 (…) het ek meteens (…) ’n swerwer oor die vlaktes geword toe ek die wapen opgeneem het om saam met die burgers op kommando te gaan.
“Gedurende die swerf- en vegtogte van meer as twee jaar – nag en dag oorgelewer, dikwels sonder beskutting, aan die luime en willekeur van mooi of kwaai weer – het die veld sy karakter en sy stempel nog dieper op my siel afgedruk.
“Ons klein burgermagte moes dikwels die aantogte van vyandelike oormagte vermy, en so het ons soms dae en weke aaneen stil gelê op plekke waar hulle ons nie maklik sou kon vind of vaskeer nie. Dag aan dag kon ons dan rustig die sonnige, stille vlaktes oorstaar, ons enigste tent was die sterrehemel, en die vol maan het ons oë toegedruk in die slaap.
“Die kleure en vorme van die solke, die sonsondergange, het in alle gedaantes en skakeringe mog geniet; van my bed op die grond het ek die son sien opkom agter die grashalme en skitter in die doudruppels.
“Op een van ons trekke het ek, van die wa af, so sit en kyk na die lang stroke – verskillend van kleur – wat die verre rante oor mekaar se rug uitrek, agter die blonde gras, en ek sien dat ek dié dag in my oorlogsdagboekie aangeteken het dat die veld nog eendag sy komponis sou kry wat dit in skone tone sou besing.
“Op brandwag het ek gestaan in die nag, regorent in die gietende reën. Die blits en donder van ons somerstorme is skrikaanjaend, dog ek sou hulle nie graag gemis het nie. Met dit al het dit nog geduur tot 1904 voordat ek die spoorslag gevoel het, voordat ek dit gewaag het om iets daaroor op papier te sit.”
In 1907 het hulle teruggekeer na Suid-Afrika, waar hy aanvanklik werkloos was. Hy is by die Argief geplaas en enkele jare later by Binnelandse Sake as vertaler. Hierdie werk oor aangeleenthede wat Celliers hoegenaamd nie geïnteresseer het nie, sou tien jaar voortduur, skryf JC Kannemeyer in Beeld van 10 Desember 1992.
Oor dié tydvak in sy lewe het hy gesê: “Ek het somtyds gevoel of ek kon beswyk ... Dit het amper bomenslike krag gekos om moed te hou en blymoedig te bly ... Dat ek kon bly staan teen die verdrukking, is alleen daardeur te verklaar dat ek tyd gemaak het, nie alleen vir skryfwerk nie, dog ook vir openbare lesings dwarsdeur die land; waarby ek my dan werklik gevoel het soos ’n duif losgelaat uit ’n knellende hok ...
“Ek het gesit en vertaal in ’n kamer waar nog baie ander kêrels gewerk het. Ek wou deur niemand op die hande gekyk word nie en het voorgegee dat ek êrens alleen moet sit om ongesteurd te kan werk. Van die een na die ander leë of amper leë kamer het ek so rondgevlug.
“Diep in die kamer, met my gesig na die deur, met ’n aaneengeslote ry groot woordeboeke voor op die tafel, sodat ’n binnekomende persoon nie kon sien wat daaragter plaasvind nie so het ek sit en werk ..., boeke deurgelees vir informasie, geskrywe, geskrywe ...
“As ’n stuk vertaalwerk klaar was, het ek dit nie gaan aankondig nie, dog ’n nuwe onwelkome opvolger daarvan afgewag. Die tyd tussenin het ek beskou as my tyd en dit gretig benut vir my lieflingswerk ... As ... ’n nuwe dik pak (vertaalwerk) inkom, ... kon ek somtyds my woede nie beteuel nie: die inbringer van die martelinstrument is skaars uit die kamer of ek smyt dit op die vloer en vertrap dit ... voordat ek die eerste hap in die
walglike brok gee” (Jan FE Celliers, “Hoe ek begin skryf het”, PJ Nienaber (red), Afrikaanse skrywers aan die woord, Johannesburg, 1947, pp 40-1).
JC Kannemeyer het in ’n artikel in Beeld van 10 Desember 1992 geskryf dat die digter volgens die meeste oorsigte oor sy lewe en werk in 1919 uit die verknorsing van ’n sieldodende werk gered is deur die welwillende optrede van die Universiteit Stellenbosch toe hulle hom as buitengewone hoogleraar benoem het. “Relevante dokumente dui egter daarop dat die inisiëring daarvoor nie van die universiteit uitgegaan het nie en dat die benoeming as sodanig nie heeltemal so ’n verlossing was as wat literatuurhistorici en biograwe te kenne wil gee nie,” het Kannemeyer geskryf.
“Die aanvoorwerk om Celliers van die knellende kantoorbestaan in Pretoria te verlos, het volgens alle aanduidings van CJ Langenhoven uitgegaan. In die loop van ’n toespraak oor ‘Die ideale van ’n nasie’ by geleentheid van die Geloftedagvierings op De Rust in 1918 het Langenhoven in teenwoordigheid van Celliers, wat as gas by die verrigtinge teenwoordig was, gesê die geskiedenis van die Afrikanervolk, waarmee hy die innerlike dryfvere, gevoelens en ideale bedoel, is tot dusver nie te boek gestel nie. Iemand wat so iets kan doen, was volgens Langenhoven Jan Celliers, wat beter daartoe in staat was as enige van die politieke leiers waaroor die volk beskik het. ‘Politici vorm wel die uiterlike geskiedenis, maar die inwendige geskiedenis word geskryf deur die man wat gedagtes versprei en die siel van die volk vorm.’
“‘Jan Celliers,’ so het Langenhoven voortgegaan, ‘is die man om vir ons daardie geskiedenis te skrijf, maar sij tijd gaat om, sij lewe gaat verbij, een jaar na die ander en hij skrijf dit nie. Waarom nie? Omdat hij in plaas daarvan op ’n kantoor moet sit vir sy lewensonderhoud en tok-tok-tok met ’n type-writer van die môre tot die aand. So word sij siel vermoor.’”
Volgens Kannemeyer was Langenhoven se verwagtinge van Cilliers nie om ’n “historiografiese arbeid” te verrig soos wat Gustav Preller gedoen het nie, maar om liewer die “essensie van die volkswording” vir die volk in gedigvorm te lewer. Vir Kannemeyer was hierdie verwagting van Langenhoven in ’n mate nogal ironies, aangesien dit hý was wat met Die pad van Suid-Afrika sy eie ideaal sou verwesenlik, terwyl Celliers meer geneig het tot stemmingspoësie.
Ná Langenhoven se toespraak op Geloftedag was daar ’n samekoms van belanghebbendes op Riversdal en is die Universiteit Stellenbosch formeel versoek om Jan FE Celliers as buitengewone hoogleraar te benoem. Só het Celliers dan aan die begin van 1920 op Stellenbosch beland.
Maar dit was egter nie maanskyn en rose vir Celliers op Stellenbosch nie. In ’n brief wat op 12 Januarie 1922 in Die Burger verskyn het, het Celliers geskryf dat hy as gevolg van die tekort aan wonings, verplig voel om na Pretoria terug te gaan om weer in sy eie huis te gaan bly. Hy sou egter sy verpligtinge teenoor die Universiteit Stellenbosch nakom om op ’n gereelde basis lesings daar te gaan gee.
Celliers het egter later aan Langenhoven gesê dat die hoofrede hoekom hy terug is Pretoria toe, finansieel van aard was. Die Universiteit Stellenbosch het hom £400 uit die Jan Marais-fonds betaal wat nie voldoende was vir hulle behoeftes nie. Hierdie probleem is toe in Oktober 1922 aangepak by ’n vergadering waar prof EC Pienaar teenwoordig was.
Maar, volgens alle aanduidings, het Kannemeyer verder geskryf, was Celliers se verblyf en werk in Stellenbosch nie baie suksesvol nie. In Jan Celliers, ons volksdigter (Johannesburg, 1941, p 41) skryf FCL Bosman dat Celliers nie “die kuns van voordrag besit (nie en) sy doofheid in besonder, ’n groot beletsel was vir vrye omgang tussen hom, sy kollegas en sy studente. Bowendien het sy buitengewone professoraat geen vaste blyplek in die erkende leerplan gehad nie.”
Die uitvloeisel hiervan was dat die studente nie sy klasse op ’n gereelde basis bygewoon het nie. Van die materiaal wat hy in sy lesings aangeraak het, is in 1933 in Kuns in lewe en kultuur gepubliseer. Vir Kannemeyer is dit ’n boek waarin Celliers ’n sterk voorstander van ’n volksletterkunde is, hoewel sy uiteensetting van begrippe soos “skoonheid”, “kuns” en “estetiese gevoel” naïef en ontoereikend was.
Dit was vir Celliers ’n geweldige slag toe sy vrou, Susanna, in 1926 oorlede is. Dit het meegebring dat hy geen skeppende werk meer gelewer het tot en met sy eie dood in 1940 nie. “My fonteintjie het opgedroog,” het hy gesê. Hy het dan ook in 1929 besluit om uit sy pos aan die Stellenbosse universiteit te bedank. Aangesien hierdie pos spesiaal geskep is sodat hy met sy skeppende werk kon voortgaan. Hierdie besluit dui op Jan Celliers se integriteit.
Jan Celliers het vanaf sy agtste jaar stadigaan doof geword, skryf Riena van Graan in Lantern van September 1990. Dit het mettertyd vererger en hy het gevolglik van mense afgesonder. Susanna, sy vrou, het altyd gesorg dat daar potlood en papier naby is en sy het die belangrikste sake vir hom neergeskryf om hom nie te laat voel dat hy uit die gesprek gesluit word nie.
Celliers put die boustof vir sy gedigte hoofsaaklik uit die Suid-Afrikaanse natuur en die 19de-eeuse plattelandse leefwyse van die Afrikaner met sy vaste waardestelsel en sy eenvoudige beskouing van die lewe. Waar hierdie wêreld meer verwikkeld raak, is dit weens uiterlike gebeurtenisse soos die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) of die Rebellie van 1914.
Kannemeyer het in Beeld (4 Maart 1993) geskryf dat Celliers se beste werk op die gebied van die poësie Die vlakte en ander gedigte (1908) en die epiese gedig Martjie (1911) is. Van die meer bevredigende verse in sy versameling van 1908 moet die titelgedig “Die vlakte” om literêr-historiese redes eerste genoem word. Die gedig is oorspronklik in De Volkstem van 15 Mei 1906 gepubliseer. Saam met Eugène Marais se “Winternag” in Land en volk van 23 Junie 1905 staan dit aan die begin van die bewuste literêre tradisie in Afrikaans. Dit is ná die oorlog geskryf, terwyl Celliers in Switserland gewoon het, maar volgens Celliers self is dit geïnspireer deur sy ervaring van die Transvaalse vlaktes terwyl hy as burger op kommando was.
“Celliers het self erken dat hy Shelley nagevolg het in die skryf van ‘Die vlakte’, maar dit sou naïef wees om te meen hy beoefen met sy navolging van Shelley ’n afgeleide poësie of maak hom aan plagiaat skuldig. As dit die geval was, is alle sonnetskrywers ná Petrarca en Dante ewe aandadig aan navolging. Celliers gebruik wel die eksterne vorm en volgehoue personifiëring van Shelley, maar met dié tegnieke bou hy ’n wêreld op wat tipies Suid-Afrikaans is en radikaal verskil van die Engelse natuur wat Shelley met sy beeldspraak oproep.
“Die vraag moet dus eerder wees,” het Kannemeyer verder geskryf, “waarom Celliers die eksterne vorm van ’n Engelse digter vir ‘Die vlakte’ gebruik. Die Afrikaanse poësie het voor die koms van Celliers en sy tydgenote hoofsaaklik bestaan uit strydverse, grappige vertellings en volksverse, en afgesien van navolgings van Burns was daar nie sprake van ’n literêre tradisie waarby aangesluit is nie. Daarom kan ’n mens begryp dat die geslag onmiddellik ná die eeuwending aan Afrikaans ’n nuwe waardigheid wou gee deur gedigte te skrywe wat met die beste in ander tale, in die besonder Engels, kan vergelyk. Deur die metrum en rym van Shelley se gedig minusieus na te volg, is dit byna asof Celliers wou illustreer dat die eens versmade kombuistaal Afrikaans tot dieselfde subtiliteit in klank en woordgebruik as Engels in staat is en dat hy ’n ewe verfynde vers as sy Engelse eweknie kan skryf.
“Of Celliers so bewustelik ‘Die vlakte’ aan ‘The cloud’ wou meet, blyk nie uit enige kommentaar wat hy later self gelewer het nie. Dat hy wel met sy gedig, soos trouens Marais met ‘Winternag’, die Afrikaanse poësie van sy ligte geestigheid en strydgebondenheid ontdaan het, blyk uit die inleiding tot Die vlakte en ander gedigte. Daarin sê Gustav Preller dat Celliers se ‘liriek van ’n heeltemal ander, ’n veel subtieler, inniger gevoel en skildering ... (is), vry van die oppervlakkige uiterlikhede wat dieselfde genre van ’n vroeëre generasie gekenmerk het’. Ondanks bepaalde gebreke bly ‘Die vlakte’ ’n datum in die ontwikkelingsgang van ons poësie: ’n illustrasie dat in Afrikaans dieselfde tegniese vaardighede as in Engels met groot sukses aangewend kan word” – aldus Kannemeyer.
Oor die skryf en inspirasie agter “Die vlakte” het Celliers aan Die Huisgenoot (Mei 1921) vertel: “Drie-en-twintig jaar ná ons vertrek uit die suidelike streke van ons wêrelddeel, en ná ons reis deur die eensame velde noordwaarts, het plotseling op ’n namiddag, in die trein, die veld vir my sy siel geopenbaar; dit was op ’n reis na Delagoabaai om die opening van die spoorweg te vier (1895) – die reis was naamlik ’n nommer van die feesprogramma. Ek weet dat ek op die oomblik na ’n struik of boompie gekyk het wat ’n skaduweetjie gewerp het; en in verband daarmee was daar iets in die lug of lig van die namiddag oor die Hoëveldse vlakte wat my die eensaamheid daarvan laat voel het soos nooit vantevore nie. En wat ek daar gevoel het, het my van dié dag af in besit geneem en was iets moois in my lewe.”
Dit het egter nog tot 1904 geneem voordat hy iets op papier neergeskryf het. “Ek was toe in Switserland, en by ’n herlesing van Shelley se ‘The Cloud’ het die vorm en opvatting van daardie gedig meteens vir my ’n lig laat opgaan oor die weg wat ek sou moet inslaan om my gemoed te ontlas van die drukkende verpligting tot uiting, wat die vlakte op my gelê het.”
“Ek het in Hoog-Hollands begin, dog gelyktydig met die oplewing van Afrikaans in Pretoria het Eugène Marais se gedig ‘Winternag’ in De Volkstem verskyn. Vir Celliers was dit die eerste regtige Afrikaanse gedig en dit het hom beweeg om onmiddellik oor te slaan na Afrikaans.
“Toe was daar geen keer meer aan nie; ek was vol van die vlakte: op die wandeling en oral het ek stukkies papier uit my sak gehaal, dit op wingerdmuurtjies en teen deure vasgedruk en invallende indrukke en beelde daarop neergekrabbel. En toe dit klaar was ... het ek dit in my tafellaai weggebêre, ontstem en teleurgestel omdat ek, myns insiens, te min eer gedaan het aan die verhewe onderwerp.”
Jan Celliers het verder in Huisgenoot van Mei 1921 vertel dat ten tyde van ’n besoek van sy broer, sy vrou hom omgepraat het om Die vlakte aan sy broer voor te lees. Sy broer se mening was dat hy dit dadelik moet publiseer. “Die vlakte” het toe in De Volkstem (1906) verskyn. Ongeveer twee maande daarna het daar ’n baie gunstige resensie daaroor in Neerlandia verskyn, asook ’n aanprysing van Afrikaans as skryf- en letterkundige taal.
Jan Celliers het verder vertel: “Daarby het ek verskeie private briewe ontvang van Afrikaners uit Suid-Afrika om ingenomenheid met die gedig te betuig. Dit was vir my bepaald iets onverwags en verblydend; ’n teken dat ek diep en goed getref het, ’n teken dat ons mense begin oë kry vir iets meer en anders as die ewige politiek, vir iets meer as die aldags-aanblik van die dinge se buitekant vir aldagse doeleindes.”
Mense het egter gemeen dat Celliers in “Die vlakte” die Nederlandse digter Jacques Perk se “Iris” nagevolg het. Hierop was sy reaksie: “Dis nie waar nie. Ek het eers veel later met Perk kennis gemaak Die waarheid is dat Perk, sowel as ek, getref is deur die skoonheid van Shelley se werk. Myns insiens is Perk ’n nouer navolger van Shelley as ek, ook in ander dele van sy gedigte as in ‘Iris’. In ‘Die vlakte’ het ek tog iets heeltemal anders behandel. En wat die vorm betref: sou Shelley, en ná hom Perk, dan alleen die monopolie mog hê van daardie besondere maatgang en vorm, en moet almal wat dit ná hulle gebruik ‘navolgers’ genoem word?”
EC Pienaar het in Die Huisgenoot van 6 Mei 1949 geskryf dat Gustav Preller nie net as peetvader van Die vlakte en ander gedigte opgetree nie, maar dat sy mooi “Inleiding tot Jan Celliers” van September 1908 tot op daardie stadium nog as klassieke voorbeeld staan van die eerste nuwe geluid in ons letterkunde. “Vir my was die sublieme sang van die veld, ‘Die vlakte’, ’n openbaring toe hy dit die eerste maal onder oë gehad het. (…) Hierdie eerste digterlike monument in Afrikaans het my nie net siende gemaak en van volslae denasionalisering gered nie, maar my ook oombliklik herskep in ’n vurige yweraar vir Afrikaans, die verontregte volkstaal. Vir my was daar tot 1949 nog niks weer in Afrikaans geskryf wat van groter betekenis was as ‘Die vlakte’ nie.”
Oor Die vlakte an ander gedigte het NP Van Wyk Louw geskryf: “As ’n volksboek het ons Die vlakte en ander gedigte leer ken en liefkry. Ons sien dit nie in die eerste plek afkeurend vanuit ’n ‘nuwe’, meer kritiese standpunt nie, maar as ’n afgeronde stuk van ons eie kultuurontwikkeling. Ons sien dit as iets wat uit ons ou dorpe se beskawing gegroei het, byna as iets soos die boer se snykuns en sy kennis van velbereiding, maar tewens as die mooiste bloei en voltooiing daarvan en die oorgang tot ’n nuwe kultuur.”
Oor die inspirasie agter Unie-kantate het Celliers geskryf dat hy hiervoor aan ’n bepaalde opdrag moes voldoen en wel in ’n bepaalde tyd. “In die nood van die oomblik het ek gebruik gemaak van ‘Die oorlog’ van Jan van Beers. Ek vlei myself dat ek dit met sukses passend gemaak vir my eie land en natuur. Toe ek gevra is om iets te skrywe as ’n nommer vir die feesprogramma tydens die besoek van die hertog van Connaught aan Pretoria in 1910, het ek ingestem op voorwaarde dat dit in die oorspronklike Afrikaans aan die hertog voorgesing word. Dit is toe in Afrikaans gesing deur ’n Afrikaanse koor van mans en vroue. ’n Engelsman in Pretoria het vrywillig aangebied om dit in Engels te vertaal, sodat die Hertog kon verstaan wat daar gesing word. Die Engelse vertaling was ‘uitstekend goed’.” Die Afrikaans en die Engels is toe saam in een boekie gedruk. Henri ten Brink het die Kantate getoonset.
Jan Celliers het ook vertel van Martjie. “Martjie (1911) was in sekere opsigte die oudste van my gedigte. Ongeveer agt jaar voor die verskyning daarvan het ek reeds daaraan begin werk – eers in prosa, toe in digvorm, maar ek het dit elke keer as onbevredigend opsy gegooi. Maar dit wou my nie met rus laat nie.”
Martjie (1911) was in sekere opsigte die oudste van Jan se gedigte. Ongeveer agt jaar voor die verskyning daarvan het hy reeds daaraan begin werk – eers in prosa, toe in digvorm, maar hy het dit elke keer as onbevredigend opsy gegooi. Maar dit wou hom nie met rus laat nie.
Op bespiegelinge dat Martjie dalk ’n weergawe van sy eie ondervindinge was, het Jan Celliers geantwoord: “Veel van elke skrywer se werk is natuurlik weergawe van eie ervaring, dog meestal nie suiwer volgens die werklikheid nie: die skrywer is nie fotograaf nie, dog komponis; hy doet ’n keus, hy besnoei; hy maak by, hy vat verskillende ervaringe van dieselfde soort bymekaar; dit kom daar net op aan om by sodanige komposiesie suiwer in die gees of stemming te bly van wat voorgesit is. Veel beoordelaars en lewensvorsers maak ’n groot fout en tas ver mis as hulle in ’n skrywer se werk suiwer biografiese ontboeseminge sien. ’n Skrywer is ’n menigvuldige persoonlikheid en verpersoonlik – net soos ’n toneelspeler – nou die een en dan die ander. Dit is my antwoord ...”
Martjie is oor die algemeen gunstig beoordeel en deur verskeie kritici as Celliers se “suiwerste” werk beskou. Daar was waardering vir die wyse waarop hy daarin geslaag het om ’n teer, ongerepte wêreld tot stand te bring. Rob Antonissen het melding gemaak van die “uitmuntende stillewe-tekening van milieu en mense”, terwyl CM van den Heever gewys het op die ongekompliseerdheid en die pastorale aard van Martjie: “Fyn en kuis het hy Martjie se liefde geteken in die omlysting van ’n landelike lewe waar haar gevoel steeds deur ’n natuurlike ingetoënheid getemper word.” Dié eenvoud, die ongesofistikeerdheid, word deur die hele Martjie gehandhaaf; dit beteken dat Martjie geen karakterontwikkeling ondergaan het – in die sin dat haar wesenlike aard aangetas is – nie, volgens HJM Schutte.
In Ons Eie Boek van Maart 1944 het Gerrit Dekker sy bespreking van Martjie só begin: “Hierdie werkie is van so ’n egte eenvoud, spreek so tot oud en jonk, dat mens half skugter voel om nog daaroor te skrywe, bang is om die spontane genot van die jeugdige leser te gaan bederf deur ’n literêre bespreking.”
Dekker het verder geskryf: “Ons vind te alle tye en alle lande te midde van die stryd en smart van die ingewikkelde lewe, die verlange, die heimwee, uiting na die geluk van die eenvoudige, ongekompliseerde lewe en dat dit tot uiting kom in die idille en die idilliese kuns. Dit verbaas my nie dat Jan Celliers die eerste was om ’n idille in Afrikaans te skryf nie, aangesien een van die mees kenmerkende trekke van sy kuns die heimwee is na die eenvoudige geluk van die intieme huislike lewe wat so wreed deur die oorlog verstoor is; daar is ook ’n heimwee na die landelike lewe wat ná die oorlog langsaam aan die verdwyn was voor die nuwe beskawing. (…)
“Martjie is nie groots of magtig nie; dit pretendeer ook nie om dit te wees nie. Maar dis eg en oortuigend. Dis ook nie sonder gebreke nie. Hier en daar dreig die losse eenvoud om in te sink tot triwialiteit. Soms voel mens of die digter amper te beskouend wil word. En onegte beeldspraak kom ook nog voor.”
“In sy voorwoord tot Martjie het Jan Celliers geskryf dat sy bedoeling was om ’n eenvoudige skildering van ’n liefdesverhouding tussen ’n Afrikaanse meisie en jonkman in Afrikaanse omgewing te gee: ‘’n algemeen-menslike thema op eie toneel opgevoer. Alle begeerte naar avontuurlikheid of ingewikkeldheid in die verhaal was dus uitgesluit Die inkleding, wat gebeurtenisse, natuurbeskrywing, ensovoorts betref, moes net voldoende wees om, teen passende agtergrond, die hoofmotief duidelik te laat uitkom. Die vraag is in hoever ek geslaag is om hierin harmonie en gesonde verhouding te bewaar.
“‘Ek het ’n losse en onafhanklike vorm gekies, omdat daar baie dinge gesê moet word, wat eenvoudige mededelinge is, en net ondigterlike rijmelarij is als dit op strenge maat en rijm gesê word, terwijl poësie in elke vorm goed uitgedruk kan word waar dit in ’n werk voorkom. Hoewel die vorm los is, is dit daarom nie ongebonde nie. Die goeie leser sal dit dadelik sien, en die sangerigheid en maatgang, wat ek bedoel het, tot hul reg laat kom.’”
Dekker het gevoel dat Celliers met hierdie inleiding die hoofskoonhede van sy idille aangedui: die milieuskildering, die uitbeelding van die menslike gebeure, die mooi harmonie tussen mens en omgewing, en die natuurlik vorm waarin hy dit alles uitbeeld.
Oor die verskuns en die beelding in die algemeen in Celliers se werk, en meer spesifiek in Martjie, het Dekker geskryf: “In sy voorgaande bundels het Celliers by gebrek aan ’n eie Afrikaanse verskuns bewus met behulp van die poësie van die buiteland ’n aan uitdrukkingsmiddele ryke digvorm geskep. Die nadeel hiervan was die opsetlikheid, die feit dat dit nie spontaan, soos byvoorbeeld Leipoldt se vers, gegroei het nie. Ons voel dan ook nog te veel die styl as afsonderlike skoonheid in plaas van as onmiddellike, noodwendige uitingsmiddel. Martjie bring in hierdie opsig ’n welkome nuwe rigting. Die digter het gevoel, volgens sy voorwoord, dat die aanwending van vaste versbou en rym sou lei tot onnatuur en berymde prosa. Daarom maak hy gebruik van rymlose verse van ongelyke lengte. Die resultaat is, vir ons letterkunde, verrassend.
“Wat ’n vrye, natuurlike beweging het die vers gekry, sodat dit loomdralend die Sondagagtermiddag-sfeer op die plaas kan uitbeeld, gemoedelik die skerts en gesprekkies aan die etenstafel, die jeugdige piekniekpret, diep ontroerd die verborge liefdeshartstog in die tuin op ’n someraand, troosteloos die triestige stemming van Martjie as sy op ’n vaal reëndag alleen op die plaas na Roelf verlang, hewig die hygende asem en struikelende gang van Martjie as sy haar aan die slot na haar geliefde haas. Gaan vir uself na hoe Celliers telkens hierdie effek heel natuurlik bereik.”
In sy Die Afrikaanse literatuur 1952–1987 noem JC Kannemeyer Martjie die eerste uitvoerige epiese digwerk en die eerste volwaardige uitbeelding van onbeantwoorde liefde in Afrikaans (p 51). In ’n artikel in Beeld van 2 Junie 1994 skryf Joan Hambidge dat dit ook die eerste vergestalting van kamp-literatuur in Afrikaans is. Hambidge skryf: “Wanneer ’n mens nou na hierdie teks kyk, kan jy nie anders as om die hoogdrawendheid én die oorgestileerdheid raak te sien nie. Menige leser onthou immers die klassieke reël waar Adam, die otjie, in die water lê:
stilbrommend van innig genot
na rukkies van roerloos drome.
“My argumente oor Martjie is nie uit die lug gegryp nie. Susan Sontag wys immers in haar ‘Notes on “camp”’ (in Against Interpretation, 1964) op die aspek van ekstravaganza in hierdie stylsoort. En, dat dit ónbedoeld aangewend kan word ... soos in Martjie (wil ons byvoeg).
“Celliers se teks gons van die oordaad. Martjie is geskryf met ’n swáár metriese en rymende hand. Die teks begin lig-dartelend:
Dis warm ...
en stil.
Stil ook in die grote boerehuis onder die eike;
geslote ten halwe die luike
“Maar dié dartelende gang gaan oor in ’n ánder (soos in ‘heavy’) trant. En dis hiér waar die pret in Martjie lê. Wanneer Martjie onder meer agterkom dat Roelf nie die ‘hots’ vir haar het nie, word haar woede so beskryf:
Martjie is kwaad
en met haarself ontevrede;
met hand-ruk driftige snel
het sy haar tjalie op ’n stoel gegooi (p 26).
“En in hierdie woede weet sy: hy wou nie langs haar op die bokwa sit nie, en, hy moenie dink dat die handdruk (ja, die handdruk) iets beteken nie. En vir diegene wat mag dink ek is besig om darem nou net te ver te gaan, gaan kyk gerus weer na Sontag. Sy ‘waarsku’ dat ’n mens nooit wanneer jy ’n kamp-interpretasie doen, te ernstig moet wees nie!
“Oom Jan F se onbetwisbare kamp aanslag blyk ook uit sy oordrewe beklemtoning van die styl. En, ja, ons weet ook dat kamp-kuns nie ‘goed’ moet wees nie.
Skud die Wysheid met sy hoof
as hy so ’n spel aanskou?
Wel moontlik, ja,
maar sonder ’n glimlag op sy lippe
seker nooit (p 36).
En aandoenlik:
Martjie is haarself nie meer,
sy voel haar op ’n weg gestoot
waar sy nie meer op kan terugkeer nie.
“‘Camp turns its back on the good-bad axis of ordinary aesthetic judgement’ (p 286), deklameer Sontag, en met hierdie beginsel in die hand word Celliers se swaarhand-weergawe van ’n Hamerling-gedig (hoor ek hamer?) duidelik. Martjie ontdek die gedig wat ’n ‘spieëlbeeld van eie siel’ word:
Ek mag jou nie lief hê nie en kan jou nie haat nie,
ek mag jou nie hou nie en ek kan jou nie laat nie.
O, leer my die bittere stryd te vol stry.
En, ag wat daarbinne my hart so deurknaë,
ek wil’t nie mis nie al kan ek’t nie draë,
die pyn wat genot is en mart’lend verlei (p 80).
“Ek gaan u nie verwen met die res van dié gedig nie. Maar geniet Martjie met die wete: die absolute eerste reël van kamp is dat dit goed is omdat dit so sleg is ...”
Celliers het vertel dat daar oor geen ander gedig van hom so baie geskryf en gevra is as oor Die rivier nie (Huisgenoot, Mei 1921): “Dis vir hom ’n verblydende teken, want dit beteken dat dit gelees word en dat lesers moeite doen om dit te verstaan. “Die rivier is ’n simboliese behandeling van die mens se lewe. Dog waar ek wil, het ek die simbool laat vaar om suiwer skilderend op te tree. Iemand onder my beoordelaars – dit was ’n ou skoolmeester – het my hieroor op die vingers geraps, en selfs gesê dat die gedig op ’n sekere plek, êrens in die middel, maar gerus gestaak kon gewees het. Na die ou meester se oordeel het ek my ‘tema’ te buite gegaan. Miskien dink ander ook so; dog sulke beoordelaars moet wel daaraan dink dat ’n skrywer hom nie laat skoolmeester in sy manier van werk nie, daarin heeltemal vry wil wees, en dan ook die beste kans het om iets goeds te lewer, al is die samehang en ordening miskien nie in ooreenstemming met skoolgebruik nie – al is dit selfs regtig laakbaar.”
Jan Celliers is in 1909 een van die stigterlede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en in 1930 word hy verkies tot erelid van die Akademie. Hy word in 1919 verkies tot buitelandse erelid van die Vlaamsche Academie voor Taal en Letterkunde. Op 20 Maart 1936 huldig die Oranjeklub in Kaapstad hom met die opvoering van liedere en voordragte uit sy werk. (https://www.thebookcollector.co.za/shop/africana/die-groot-geheim-jan-f-e-celliers/)
In 1936 het Celliers ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns ontvang. Dit is aan die woning van senator en mevrou FS Malan aan hom toegeken. “Die verdienstelike werke van Jan Celliers staan aan elke Afrikaner bekend,” het senator Malan gesê, “maar wat ek veral by die oorhandiging van die erepenning wil beklemtoon, is die baanbrekerswerk wat hy op die gebied van die Afrikaanse taal gedoen het.”
Die senator het gewys op die belangrike rol wat Celliers in die Tweede Taalbeweging gespeel het. “Die wyse waarop Jan Celliers die Afrikaanse taal aangewend het as literêre taal in Die vlakte en sy ander gedigte, het die nuwe volkstaal status gegee. Dit het die volk daarvan bewus gemaak dat hy ’n eie taal het en hom geleer om daardie taal te waardeer.
“Jan Celliers was van die eerstes wat vir ons ’n letterkunde begin skep het. Vir ’n jong nasie produseer ons vandag letterkundige werke waarop ons trots kan wees. Dit het ons in groot mate te danke aan Jan Celliers wat ’n vaste grondslag gelê het vir die ontwikkeling van die Afrikaanse taal.”
In sy antwoord het Celliers sy dank uitgespreek en gesê dat daar veel vir hom gedoen word. “Toe ek my gedigte geskryf het, het ek nooit ’n gedagte gehad dat hulle so lank sou lewe en van soveel betekenis vir die Afrikaanse taal en letterkunde sou wees nie. Ek het hulle sommer geskryf, omdat ek die drang daartoe gevoel het.” (Volksblad, 4 Mei 1936)
Jan Celliers is op 1 Junie 1940 in Johannesburg oorlede en is vanuit sy ou woonhuis in Sunnyside deur dr DJ Keet in die ou kerkhof in Pretoria begrawe. Hy het sy vrou, een dogter en drie seuns nagelaat.
Huldeblyke
- Gerrit Dekker: “Celliers het sy beste kuns gelewer in die gelukkige en ongekompliseerde tyd toe ons kuns nog volkskuns was, toe die bron van besieling van ons digters was die gevoel van geroepenheid om hul volk na aanleiding van konkrete gebeurtenisse en toestande te troos en te red van vertwyfeling. Saam met sy twee tydgenote het hy bevrydende uiting gegee aan die oorlogsmart, die diepere sin van die wrede gebeure probeer peil, ons getroos ook deur die skoonheid te openbaar wat ons nog behou het: die herinnering aan die verstoorde idille, die heerlikheid en grootsheid en tere prag van ons natuur, waarvoor veral hy ons oë geopen het, die besielende skoonheid van heldemoed, die genade van die grootse taak wat op ons rus om ons geestesgoedere te red en te verryk. (...) Celliers is geen kunstenaar van grootse konsepsies, van stoute verbeeldingskrag, geen sterk oorspronklike vernuwer nie. Daarom vermoed ek dat sy invloed groter was op sy leserskring, op die vorming van die Afrikaner, wie se sluimerende ontvanklikheid vir poësie deur hom, saam met Totius, Leipoldt, Marais, maar veral deur hom wakker geroep is, as op die ontwikkeling van ons digkuns, hoewel sy beoefening van die skone vorm ongetwyfeld sy spore nagelaat het.” (Huisgenoot, 28 Junie 1940)
- P de V Pienaar: “Ek sien Jan Celliers as een van die vurigste en een van die grootste Afrikanerseuns wat hierdie nasionale bodem voortgebring het. Hy is die digter wat saam met sy volk die bittere kelk van volkslyding en volksvernedering gedrink het. Hy is die patriot in wie die volk se wel en wee in die diepste wese weerklank gevind het, totdat hy as grysaard nog op die vooraand van sy heengaan, aan die volk se roepstem na Monumentkoppie gehoor gegee het, daar saam met duisende van sy volksgenote. In die credo van sy volksopvatting heet dit: ‘Daarom kan so ’n digter nie ’n goeie digter wees nie as hy hom van die maatskaplike lewe afsonder en nie met sy hande kan of wil werk nie, en nie net soos ons swaar gekry en gelag en bly gevoel het nie.’” (Brandwag, 14 Junie 1940)
- NP Van Wyk Louw: “’n Man wat helder is soos water, eenvoudig-groot soos die groot manne oor wie hy geskrywe het – Kruger, Steyn, De Wet – een van die beste van ’n geslag wat verby gegaan het, ’n man met die opregtheid van ’n ou boer en die fynheid van ’n kunstenaar.” (Brandwag, 14 Junie 1940. Uit: Skrywerskring-Jaarboek, 1936)
- JC Kannemeyer: “Celliers is vandag veral van belang as digter van enkele verse waarin die vreedsame landelikheid, die rustige Afrikaanse boerelewe en die Suid-Afrikaanse landskap besing word, en in dié opsig is sy werk van waarde as belangrike dokument van die Afrikaanse beskawing en kultuur in die negentiende eeu. Met sy nasionale verse het hy ’n rol gespeel om die Afrikaner van sy identiteit en waarde bewus te maak.” (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Deel 1)
- Gustav S Preller: “Hy was ’n volksdigter, een wat in woorde vaslê wat in die hart van die nasie omgaan.” (Huisgenoot, 28 Junie 1940
- C Louis Leipoldt:
Aan Jan Celliers
O slaap gerus, van smart en hartseer vry,
Al donder ook die droewige wêreld deur
’n Oorlogsonweer wat die lug verskeur
En met sy onmenslik’ mag tot raserny
Met haat en woede en raaklus voort te stry
Die volke dwing; al kan geen oog bespeur
Êrens op die kim ’n skyn van dagbreek-kleur
En nag nou troon met nydige heerskappy.Jou stoere siel kon uithou, ly, verdra
Op moed-verloor se vlakte sonder om ooit
Die skoonheid wat in lyding lê, te ontken.
Jy kon tereg dit raaksien en daarna
Tot rigsnoer van jou lewe maak, om nooit
Te twyfel aan ’n troos so duur gewen. (Huisgenoot, 14 Junie 1940) - Die Huisgenoot, 14 Junie 1940: Daar is nie nog ’n Afrikaanse digter wie se naam ons soveel beelde wat ten nouste met die lewe van die Afrikanervolk verbonde is, voor die gees roep nie. Ons sien voor ons geestesoog die hoëveldse vlakte wat hy so treffend geskilder het; ons hoor die ritmiese kloutjiesklap van die osse en die skokkende dreungeluide van die ossewa in die gedig van hierdie naam:
Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;En stille al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna –
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.“Maar in die eerste plaas sal hy altyd in die herinnering voortleef as by uitstek die nasionale digter, wat uiting gegee het aan wat in tye van beroering in die hart van die volk omgegaan het – soms in ’n stemming van berusting en dan weer met ’n gevoel van opstandige bitterheid. (...) Bo alles vind ons in Jan Celliers se poësie ’n grondtoon van liefde: liefde vir die natuur, liefde vir sy medemens, en bowenal eerbiedige liefde tot God, die Skepper van alles. En soos sy gedigte in hierdie opsig is, so was Jan Celliers die mens ook. Die liefde het ’n mens toegestraal in sy opgewekte sonnige geaardheid, sy blye lag en die simpatie wat hy selfs vir die nietigste diertjie betoon het.”
- Die Huisgenoot: “Jan Celliers is ’n digter wat die intellektuele behoeftes van sijn volk ken en wat meer als iemand anders gedaan het om in dié behoeftes te voorsien; en dit vereis dan ook nie ’n profeet om te sê, dat sijn werk sal lewe, so lank daar ’n Afrikaanse volk sal bestaan. Hij is ons eerste groot digter. Jan Celliers is ’n digter wat die hartklop van sijn volk beluister het en wat weet om dit te vertolk. Vernamelik die Afrikaanse smart het hij ons leer ken; en ons is hem daar dankbaar voor. Ja, Jan Celliers is ’n groot mens.” (Huisgenoot, September 1916)
- MSB Kritzinger: “Vir sy tyd het hy ’n boodskap na die behoefte van sy mense gebring. Die invloed wat van hom uitgegaan het, kan nie maklik oorskat word nie. In die eerste plek was dit natuurlilk vir sy tyd en sy geslag, maar die vaderlandse en opwekkingsverse sal tot in die verre toekoms vir doelbewuste Afrikaners ’n positiewe boodskap van die daad bring.” (Transvaler, 3 Junie 1940)
- Totius: “Ek het die eerste keer met my ou vriend, Jan Celliers, kennis gemaak toe ek sy gedig ‘Die Vlakte’ op die agterblad van ’n koerant gelees het en die blye verbasing en bekoring wat ek daardie oggend ondervind het, het deur die jare ’n blywende skat in my gebly. Daarná het ek intiemer met die digter kennis gemaak. Ons wat ons vir Afrikaans as spreektaal beywer het, het die wilgeboom in sy eerste tere botsels gesien. Maar daar was groot teenstand en in baie kringe was die atmosfeer kil en koud en ons was bevrees dat daardie eerste botsels deur ’n skielike koue verskroei sou raak. Dog met die verskyning van Jan Celliers se gedigte is ’n jubelende en blywende lente ingelui. Die liriek van Celliers het in die hart van die volk weerklank gevind en hy het ons volk wakker geskud.” (Die Burger, 10 Maart 1999)
- Dr DJ Keet: “Hy was ’n man van staal, van durf en daad. Laat ons sy vertroue in taal, volk en God ons eie maak. Celliers se geloof was die een aspek van hoop en vertroue wat die kenmerk is van alle kulturele en geestelike helde. Hy het die geloof gehad in sy volk en geglo in die siel van die Afrikaner en dat dit nie sal kwyn of sterf nie. Daarom kon hy sy volk leer om onsterflik te wees, fier en moedig in die stryd. Hy was baie teer van gevoel, byna vroulik van intuïsie, maar hy was die man van staal, die idealis wat nie deur die lewe ontnugter kon word nie.” (Die Burger, 5 Junie 1940)
- NP Van Wyk Louw: “Onder die groot digters kan ons Celliers nie plaas nie. Hy self sou daar nie geplaas wou word nie; hy het sy eie grense te goed geken. Maar die Afrikaanse volk het altyd nog iets anders as die skrywer in hom gesien. Hy en die ander ouer digters wat naas hom gewerk het, het meer gedoen vir die opwekking van die Afrikaanse volk tot nasionale trots en bewussyn as enige politikus of politieke party. Hulle het plekke bereik waar die politiek nie kan kom nie – die skoolkamer, die gesellige byeenkoms, die studeertafel, die eensame wandeling. Hulle het ’n nuwe lewe vir die Afrikaner moontlik gemaak nadat die oorlog en die vernedering van die verlore vryheid, dit laat lyk het asof ons maar sou moes verdwyn. Daarom het die Afrikaanse volk hom so vereer.” (Brandwag, 21 Junie 1940)
- Rud P Visser:
Op die dood van Jan Celliers
In die gaarde van die Skepper waar die skoonste rose bloei,
waar die Tuinman op sy ronde immer neerbuk om te snoei,
waar die rykste, geilse aarde ingedra is om te dien
as die kweekplek van die beste wat die oog die graagste sien,
het hy in die volle sonlig, uit die aarde wat hom voed
skoon gebloei en vir Sy liefde, vir Sy vadersorg vergoed.
Om hom heen was ryker kleure, rose met ’n dieper rooi,
plante deur die troue Tuinman met meer weelde uitgetooi;
maar Sy liefde was nie minder en Sy sorg het nie ontbreek:
hy het goed gestaan en veilig waar die dou nie kon verbleek,
waar hy yw’rig uit die volheid van die aarde geil kon put,
deur die Tuinman se genade teen die winterkou beskut.
Toe die donker toegesak het op die velde wyd en stil,
en die winterwind kom ween het oor die bulte bar en kil,
het hy as die groot geseënde ryk sy kleur ten toon gesprei –
en die aanblik was soos balsem aan die gode toegewy
wat die wonde kom verkoel het, roue strieme het genees …
En ’n nasie op die puinhoop is geleer om homself te wees.
Hy wat self soveel ontvang het, soveel skoonheid self kon sien,
het sy beste weer kom aanbied om as lafenis te dien …
En die Tuinman het geglimlag, diep ontroer en aangedaan,
om daarna op Sy ronde stadiger verby te gaan. (Brandwag, 14 Junie 1940)
- Mimi Cilliers, vriendin: “My herinneringe uit die dae toe Jan Celliers ons buurman was (op Stellenbosch) is vaag en fragmentaries; maar ’n paar indrukke wat wel skerp en duidelik uitstaan is sy vriendelikheid, sy vrolikheid en sy groot liefde vir kinders. En ek dink nog altyd met dankbaarheid aan dié kere toe hy saam met my vader en my in die motor uitgery het, en my geleer het om met verbeelding na die natuur te kyk. Vir hom was daar groot vreugde te vind in die berge, die bome en die blomme. Kinderlik in sy geesdrif vir die genieting van die skone en ewigblywende, het hy die gawe besit om ook sy vreugde aan ’n ander oor te dra.” (Die Huisvrou, 30 Oktober 1951)
- Marié Stegmann, Jan FE Celliers se dogter: “Hy het die eienaardige manier gehad om, as ons in die veld of in die berge stap, soms so by homself te loop en prewel. Dan het hy ’n stukkie papier uitgehaal en ’n paar punte neergeskryf. Hieruit het dan later ’n gedig ontstaan. Die dood van my moeder in 1926 was vir Pappa ’n geweldige slag. Hierna het hy hom nog meer as tevore van die lewe onttrek en wou nie sonder haar lewe nie.” (Hoofstad, 8 Julie 1970)
Hier is ’n paar gedigte van Jan FE Celliers:
Dis al
Dis die blond,
dis die blou;
Dis die veld,
dis die lug;
en ’n voël draai bowe in eensame vlug –
dis al.Dis ’n balling gekom
oor die oseaan,
dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan –
dis al.
EensaamheidMy vuurtjie en ek is op wag –
my vuurtjie en ek alleen;
die awend-ster
wink al van ver,
en die velde slaap omheen.En stadigies sterwe die dag,
soos een in sy armoed verlaat,
ongesien, ongeag,
sonder suggie of lag,
waar niemand van weet of van praat.Nou bly die lug alom
in stil aanbidding staan –
geen tampende bel
wat die ure tel:
net die sterre wat kom en gaan.Die osse, met koppe gebuie,
herkoue nog stil in die nag,
tot één vir één buk
en gaan lê by sy juk,
met ’n sug, ná die trek van die dag.My vuurtjie is al wat nog leef
in die eindeloos ruim met my,
en sy stemmetjie dwaal
soos ’n deuntjie wat draal
om dae lank verby,om jonkheids blye môre
en laggies lank verlewe.
Dan voel ek ’n traan
in my oë staan
en ek fluister: “Heer, vergewe!”Die slapende velde lê wyd,
en wyer die donker see,
wat my vuurtjie en my
vanawend skei
van die wêreld se vreug en wee;ek weet daar’s fees vanaand
in menig verligte saal,
maar geeneen wat my mis
by die dans en die dis -
’n balling vergeet en verdwaal.Maar al is ek, ver van die skaar,
in eensaamheids wonings getrede,
ek voel my soos een
met die Heer alleen –
’n kind aan Sy boesem tevrede.Trou
Ek hou van ’n man wat sy man kan staan,
ek hou van ’n arm wat ’n slag kan slaan,
’n oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!Ek hou van ’n man wat sy moeder eer,
in die taal uit haar vrome mond geleer,
die verraaiersgeslag in sy siel verag
wat, haar verstotend, homself kleineer.Die oog wil ek sien wat ’n traan nog ween
vir ’n heldegeslag, in hul rus daarheen,
maar ’n blits van trou in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.Vir my d’Afrikaner van durf en daad,
wat mammon’s eer en loon versmaad,
sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land
en ’n trap van sy voet vir laag verraad!O, ’k hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n daad wat soos donder slaan,
’n oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!Die Ossewa
Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hun skowwe -
hul dra dit getroos en tevree.En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna -
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe -
en ver is die tog van die dag.Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdraans is ver en is swaar;
die knars in die knakkende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ’n held van die daad ...
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver op die velde verlaat.
Generaal De WetStil, broers,
daar gaan ’n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.Die oog,
nou dof en weggesink,
soos vuurvonk kon hy blink -
die arendsblik,
die kakie- en renegateskrik.
Die stap en kraggebaar
is nou bedaar.
Is dit jul leier nog, per’ ruiterskaar?Gewis!
en soos hy ons s’n was
en is.Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.En hierdie pure man
jou kind, Suid-Afrika!
Wat vrees ons dan?
Geseën sal wees
die grond, die bloed, die vlees
wat sulke vrugte dra.
In ons De Wet se gees
Voortwaarts,
Suid-Afrika!Die Vlakte
Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
wat my swyend omsluit.Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe ’t oor die waat’re geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort
Lewiatansgeslagte, geweldig van kragte –
storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente –
die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
na die ewig hernuwingsgebod,
die van d’ verlede in vorme van d’ hede,
in eindeloos komme en gaan;
wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud,
en geen grein sal ’k verlore laat gaan.As die son oor my vloer in die more kom loer,
en die dou van my lippe kom kus,
dan kyk ek net stom met ’n glimlag om
en ek lê maar weer stil in my rus.
Hoog bowe die kim op sy troon geklim,
is hy heer van lewe en dood;
na wil of luim gee hy, skraal of ruim,
verderf of lewensbrood.
Uit die gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer,
tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in bewende wasem
al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rond om sy stam op die grond
staat ’n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:
my kinders versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
om my skrale dis te ontwyk.Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ’n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou
van marmer wat krul en leef –
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent:
die gras skud hul wakker om same te jakker,
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterte van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom soos deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en te buit
jaag ’n haelwolk langs verby,
soos ’n perde-kommando wat dreun oor die lande
vertrap en gesel hy –
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.Stil in die duister lê ’k so en luister
hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy ’n baan daardeur
om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas –
en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
op die boesem van die grote see.
Met ’n afskeidskus gaan die maan ook ter rus,
en ek wag op die daeraad –
so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi
wat lag in haar bruidsgewaad.Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
van die brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in rooi skemerduister
van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
styg ’n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
weergalm uit die sterre gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
tot die einde van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
wyd – in sy majesteit.
In Junie 1946 is die nasionale Jan Celliers-museum in die Jan Celliers-skool deur CM van den Heever geopen. ’n Borsbeeld van Celliers deur die bekende beeldhouer Coert Steynberg is deur Van den Heever namens die Afrikaanse Skrywerskring aan die museum oorgedra. (Vaderland, 4 Junie 1946)
En hoewel die huis in Sunnyside, Pretoria waar Celliers gebly het, gesloop is, het die woonstelgebou wat opgerig is op die perseel waar sy huis gestaan het, sy naam gekry. Daar is ook ’n gedenkplaat deur die Pretoria Stigting op die gebou aangebring. (Transvaler, 24 Maart 1971)
Publikasies:
Publikasie |
Die vlakte en ander gedigte (insluitende Die rivier en Unie-kantate) |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624005232 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Liefde en plig: Afrikaans toneelspel in vier bedrijwe. ’n Toneelspel in vier bedrywe vir 15 here en 2 dames en enige figurante |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
- |
Publikasie |
Die revier: ’n Afrikaanse gedig |
Publikasiedatum |
1909 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Potchefstroom: Het Westen-Drukkerij |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
- |
Publikasie |
Unie-kantate = Union cantata |
Publikasiedatum |
1910 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Potshefstroom: ? Het Westen-Drukkerij |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
- |
Publikasie |
Martjie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Heldinne van die oorlog: toneelstuk in vier bedrywe |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings | - |
Publikasie |
Die saaier en ander nuwe gedigte |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings | - |
Publikasie |
Afrikaanse leesboek (vir huis en skool) |
Publikasiedatum |
1920 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Skoolleesboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings | - |
Publikasie |
Jopie Fourie en ander nuwe gedigte |
Publikasiedatum |
1920 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Reg bo reg, of, Die doel heilig die middele: Afrikaanse toneelspel in vyf bedrywe |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die lewenstuin en ander gedigte |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Die groot geheim |
Publikasiedatum |
1924 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Ou Gawie en ander verhale en sketse |
Publikasiedatum |
1924 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kortkuns |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Proewe van oorsetting van die gesangebundel in Afrikaans. Saam met PL Louw en GBA Gerdener |
Publikasiedatum |
1924 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Amsterdam: J Brandt |
Literêre vorm |
Beryming van gesange |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Liefdelewe |
Publikasiedatum |
1924 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Kuns in lewe en kultuur: ’n eenvoudige bespreking van enige grondbegrippe |
Publikasiedatum |
1933 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Kunsgeskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Bloemlesing uit die gedigte van Jan FE Celliers. Saamgestel deur CM van den Heever en PJ Nienaber |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
0624011682 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Oorlogsdagboek van Jan FE Celliers |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0869654721 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Anglo-Boereoorlog: dagboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Vertalings deur Jan FE Celliers:
- Bordeaux, Henri: Bang vir die lewe. Kaapstad: Nasionale Pers, 1919, 1920, 1925
- Halt, Marie Robert: Mannie. Pretoria: Van Schaik, 1925
- Mérimée, Prosper: Colomba. Kaapstad: De Nationale Pers, 1920, 1924
Artikels oor Jan FE Celliers beskikbaar op die internet
Artikels oor en deur Jan FE Celliers beskikbaar
- Brand, Dawid: Jan FE Celliers
- Britz, Etienne: Die waarde van Celliers, Totius. Die Burger, 10 Maart 1999
- Celliers, Jan FE: Jan Celliers se gedigte: hoe sommige daarvan ontstaan het. Huisgenoot, Mei en Augustus 1921
- Cilliers, Mimi: Persoonlike herinneringe aan Jan F Celliers. Die Huisvrou, 30 Oktober 1951
- Dekker, G: ’n Versiende volksmens: Jan Celliers se betekenis veel groter as bloot letterkundig. Huisgenoot, 28 Junie 1940
- Die geheim van die kluisenaar: Jan Celliers jr dood. Beeld, 14 Mei 1967
- Gedenkplaat ter ere van die digter Jan Celliers … [foto]. Hoofstad, 12 Oktober 1971
- Gevierde volksdigter se loopbaan. Transvaler, 3 Junie 1940
- Groot volksdigter ter ruste gelê. Die Burger, 5 Junie 1940
- Jan Celliers †. Huisgenoot, 14 Junie 1940
- Jan FE Celliers
- Jan FE Celliers
- Jan FE Celliers
- Jan FE Celliers
- Jan FE Celliers in 76e jaar oorlede. Transvaler, 3 Junie 1940
- Kannemeyer, JC:
- Celliers – van landmeter tot professor. Beeld, 10 Desember 1992
- Taalbouer Jan FE Celliers en die Anglo-Boere Oorlog. Die Burger, 18 September 1999
- “Vlakte” datum in ontwikkeling van poësie. Beeld, 4 Maart 1993
- Kritzinger, MSB: Sy betekenis vir die SA letterkunde. Transvaler, 3 Junie 1940
- Leipoldt, C Louis: Aan Jan Celliers [gedig]. Huisgenoot, 14 Junie 1940
- Levenschets: JFA Celliers. Huisgenoot, September 1916
- Louw, NP van Wyk: Jan Celliers, gewete en stem van sy volk. Brandwag, 21 Junie 1940
- Museum ter ere van volksdigter. Transvaler, Junie 1946 (datum nie duidelik nie)
- Nasionale Celliers-museum geopen. Vaderland, 4 Junie 1946
- Nel, PG: Jan FE Celliers, gebore op 12 Januarie 1865. Die Patriot, 17 Januarie 1992
- Ontslape volksdigter in sy laaste rusplek gelê. Transvaler, 4 Junie 1940
- Pienaar, P de V: Die mens Jan Celliers: ’n huldeblyk. Brandwag, 14 Junie 1940
- Pretorius, Fransjohan: Só het Jan FE Celliers se “Die Vlakte” ontstaan
- Pretorius, Fransjohan: Vele helde – en skurke – lê hier. Beeld, 17 April 2019
- Prof Jan Celliers word gehuldig. Volksblad, 4 Mei 1936
- Schoonees, PC: Digter in wie die volk se wel en wee in diepste wese weerklank gevind het. Brandwag, 14 Junie 1940
- Schoonees, PC: Uit my letterkundige argief. Huisgenoot, 29 Oktober 1943
- Serfontein, Dot: Doofheid maak Celliers se digkuns intenser. Volksblad, 12 Augustus 2000
- Snyman, Hestrie: Jan Celliers se dogter onthou. Hoofstad, 8 Julie 1970
- Só het die Boere stormjaers gemaak. Die Burger, 6 Mei 2000
- So onthou ek hom: SAUK-Bulletin, 4 Januarie 1967
- T’Sjoen, Yves: “Die weg van eer en die weg van grootheid”. LitNet, 26 Junie 2017
- Van Bart, Martiens: Taalstryder Jan Celliers en die ABO. Die Burger, 7 Julie 2001
- Van der Merwe, Biebie: Oorlogsdagboeke as inligtingsbronne oor lotgevalle. Die Burger, 7 Oktober 2000
- Van der Mescht, Heinrich: Die oorsprong van die woordteks van Herbett Howells se twee Afrikaanse liedere [oor “Eensaamheid” en “Vryheidsgees”]. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 2001
- Van Graan, Riena: Jan FE Celliers (1865-1940): ’n digter in Afrikaans. Lantern, September 1990
- Van Vuuren, Helize: Skrywersdagboeke uit die Anglo-Boereoorlog. Stilet, Maart 2001
- Visser, Rud P: Op die dood van Jan Celliers [gedig]. Brandwag, 14 Junie 1940
- Woonstelgebou na digter vernoem. Transvaler, 24 Maart 1971
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Jan FE Celliers (1865–1940) appeared first on LitNet.