Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.
In Deon Opperman se dialoog Die herdenking vertolk Armand Aucamp en Hannah Borthwick die rolle. Wessel Pretorius was in die regisseurstoel.
Die herdenking
Deon Opperman
Karakters:
HY: Middel-30’s, goeie opvoeding
SY: Middel-30’s, goeie opvoeding
Hy oorhandig ’n bos rooi rose aan haar.
HY: Veels geluk, my skat.
SY: O, dis pragtig. Dankie!
Hy gee haar ’n warm soen.
HY: Ek’t ’n search gedoen. Mens gee glo koper vir die sewende herdenking, maar ek’t gereken rose is beter.
SY: Absoluut. Buitendien, ek hou nie van koper nie.
HY: Gee haar goud of gee haar niks.
SY: Anders as koper, slaan goud nie aan nie. Vir ewig blink.
HY: (Vat haar hand, vryf haar goue verloof- en huweliksringe met sy duim.) Daarom goue ringe. (Kyk haar in die oë, praat opreg.) Ek wil hê jy moet weet … Wat ook al vir die twee van ons voorlê … wat ook al die lewe mag bring … ek verstaan dat ek … jy … alle mense, nie goud is nie, meer soos … wel, soos koper. Dié dat huwelike “werk” verg … om dit wat aangeslaan raak weer blink te vryf. Maar dis seker wat mens eintlik voor daai kansel belowe … dat jy die lappie sal uithaal en vryf en poets waar daar gevryf en gepoets moet word.
Sy kyk hom stil aan, effe glimlaggie. Hy gee haar weer ’n soentjie, en nes hy klaar soen ...
SY: Oe, my rug jeuk. Krap asseblief … tussen my blaaie … (Hy krap.) … Bietjie hoër … ja … ja … daar … oooooeee jaaa dankie. Daarsy. Dankie. (Terug by vorige.) Ek’t ook besluit die tradisionele herdenkingsgeskenke is boring. (Oorhandig ’n koevert.) Hier’s joune.
Hy maak die koevert oop, haal ’n kaartjie uit met ’n groot goue 7 voor op.
HY: Voel soos net die ander dag wat ons voor die kansel gestaan het.
SY: Ja, dit voel so, nè.
HY: Jy’t so pragtig gelyk.
SY: Hulle troudag is mos die mooiste wat ’n paartjie ooit vir mekaar sal lyk, of so sê hulle.
HY: Nee wat, jy’s nog steeds net so mooi. Mooier.
SY: Maak oop.
Hy blaai die kaartjie oop. Daar’s niks binne-in die kaartjie geskryf nie. Net een ding daar: ’n lang haar (duidelik ’n ander kleur as haar hare) waarvan een punt aan die binneblad van die kaartjie met kleefband geplak is en die res van die haar binne-in opgekrul lê.
Hy kyk stadig op na haar.
SY: Aan jou baadjie se kraag gekry. Die een wat jy gisteraand oor die stoel gegooi het. Na jy laat gewerk het. Dis die derde keer in twee weke dat ek een van wie ook al sy is se hare aan jou klere vind. Ek hoop sy krap jou jeukplekkie lekker.
HY: So lekker as wat Jan-Hendrik die afgelope paar maande jóú jeukplekkie krap.
Sy kyk hom stil aan.
HY: Nie ’n haar wat ek gevind het nie, maar wel foto’s wat ’n privaatspeurder geneem het.
SY: Wat ek, na ek besef het ek word dopgehou, gesorg het hy maklik genoeg kon neem.
Hy – nie wat hy verwag het sy sal sê nie.
SY: Geweet jy sal eerder ’n tit for tat doen as vir egskeiding dagvaar. Oog vir ’n oog … een van jou meer onaangename neigings wat ek sewe jaar gelede voor daai kansel nie geweet het jy het nie. Net nie gedink jy sal so lank wag na jy die foto’s gesien het nie. Mensdom! Ek’t begin vrees dat jy dalk ’n lappie gaan haal het en daai aangeslaande stukkie van jou geaardheid weggepoets het.
HY: Jou rug wat netnou kastig gejeuk het, was …
SY: … ’n ironiese gebaartjie.
Hy staar ietwat wind-uit-die-seile na haar.
SY: Ek’t Jan-Hendrik lief. Die volgende huweliksherdenking wat ek vier, wil ek saam met hom vier. En daarvoor het ek ’n egskeiding nodig. Maar as ek sonder goeie rede vir egskeiding dagvaar, verloor ek my vyftig persent van ons boedel. So, dankie vir die “as sy my wil verneuk sal ek haar verneuk” tit for tat, al het dit bietjie lank geneem om in te skop. Wie wil skei en dan brandarm wees? “Die huwelik het verbrokkel, U Edelagbare, tot waar beide partye ontrou was, ewe skuldig – in pari delicto – en daarom versoek ons dat die hof steeds my kliënt se vyftig persent van die boedel, soos in die huwelikskontrak gestipuleer, sal toeken.” Jy sal van my prokureur hoor.
Sy stuur hom ’n koue glimlaggie en loop.
Eindig op hom.
***
Stemme is supported by the National Arts Council.
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:
The post Die herdenking appeared first on LitNet.