Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 493 articles
Browse latest View live

Mediaverklaring: Taalgenoot nou vir ’n ieder en ’n elk

$
0
0

 

Vir die eerste keer in 90 jaar sal die ATKV se bekroonde tydskrif, Taalgenoot, vir Afrikaanse lesers oor die wêreld heen beskikbaar wees.

Die elektroniese weergawe van dié tydskrif sal op die ATKV se webwerf beskikbaar wees. Lede van die ATKV kan steeds die gedrukte weergawe* as deel van ’n lidvoordeel ontvang.

Taalgenoot bied soveel meer as die tradisionele nistydskrif: boeiende, interessante stories en artikels oor die Afrikaanse taal, kultuur en leefstyl, asook ’n in-diepte kyk na die werk van die ATKV.

“Ons is baie opgewonde oor die nuwe wending”, sê Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot.

“Hoe meer mense die tydskrif kan lees hoe beter. Dan kan almal daar buite ook sien met watse wonderlike werk die ATKV besig is.

“Daar is reeds ’n tekort aan Afrikaanse tydskrifte met murg in hul pype en weinig fokus nog op Afrikaanse literatuur, kuns en kultuur. Ons sien uit om meer lesers te by die Taalgenoot-familie te verwelkom.”

Die SA Publication Forum bekroon jaarliks korporatiewe publikasies en Taalgenoot is in 2020 vir die derde jaar agtereenvolgens aangewys as die beste interne tydskrif. Taalgenoot het ook met die pryse vir beste skryfwerk, beste opskrifte en die Loretta Steyn-toekenning vir beste publikasievoorblad weggestap.

Die beoordelaars is dit eens dat Taalgenoot reeds vir die afgelope paar jaar die gehalte bepaal waaraan interne tydskrifte gemeet kan word en dat Taalgenoot jaar ná jaar meesterlike skryfwerk, ontwerp en inhoud aanbied. “In ’n tyd waarin dit uitdagend is om relevant te wees binne die taal- en kultuur-genre, slaag Taalgenoot daarin om eerlike, inklusiewe leesstof van ’n hoë standaard vir lesers te bied.”

In die jongste uitgawe pronk Tarryn Wyngaard, ’n jong Kaapse aktrise, op die voorblad en gesels oor die uitdagende rolle wat sy al moes vertolk.

Wyle Christien Barkhuizen le Roux het kort voor haar dood ’n aangrypende artikel vir Taalgenoot oor die droogte in die Klein-Karoo geskryf.

Johan het ’n draai by die Bull Run gemaak en nou kan jy ook ’n geleentheid kry om die ATKV-Tienertoneelwenners se monoloë eerstehands te beleef.

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.

* Indien jy nie ’n ATKV-lid is nie, maar die gedrukte weergawe van die tydskrif wil ontvang, kan jy Lillian Meyer by 011 919 9112 skakel om in te teken.

The post Mediaverklaring: <em>Taalgenoot</em> nou vir ’n ieder en ’n elk appeared first on LitNet.


E (Sussie) Kotze (1933–)

$
0
0

Gebore en getoë

Elizabeth Kotze, of Sussie soos sy later bekend sou staan, is op 17 Oktober 1933 op die plaas Langrietvallei in die distrik Hopefield gebore. Op eenjarige ouderdom trek hulle Doornbaai toe, waar sy grootword. Doornbaai is ’n vissersdorpie aan die Weskus waar haar pa, Coenraad Walters, as ingenieur by die kreeffabriek van North Bay Canning Company gewerk het. Petra Müller (Volksblad, 18 Augustus 1993) vertel: "Doornbaai was in daardie tyd totaal afgeslote: ’n vissersdorpie wat om ’n visfabriek ontstaan het, met sy gesig na die koue see. Daar was nie eens ’n telefoon op die dorp nie, kerk net met Pinkster en een maal ’n maand het die vragskip die proviand gebring." 

Sussie vertel ook: "Ons was volkome op onsself aangewys. Ons het gelewe uit die see, die veld, bystand van die bure en wat ons self kon prakseer. Dokter was daar nie; siekte was ’n ramp. As die sieke nie met tant Sarah Baard se ou-kennis en kruie reggedokter kon word nie, het die dood voor die deur gestaan."

Sussie en haar twee susters en broer het neffens die see grootgeword en "dinge soos toemis en stormsee, joppel en Walsiek, bokkem, kreef, perdeklou en veldkool – die dinge wat deesdae legendes op televisie is – was vir hulle alledaagse dinge."

Sussie beskryf haar pa as ’n "vrydenker, ’n man op sy eie soos alle Weskusmense, en [hy] het ’n baie groot invloed in my lewe gehad. Hy was ’n intelligente mens wat sy tyd ver vooruit was. Ek het soms as kind gewens hy wil ook naweke soos ander mans naweekklere aantrek. Maar hy het hom nie aan sulke dinge gesteur nie – flanelbroeke en wit hemde was nie vir hom bedoel nie. Hy het hom eenvoudig in ’n kakiemondering ingeskud en klaar. Maar ek het die feit dat hy so geheel en al onpretensieus was eers later in my lewe behoorlik waardeer."

Haar ma, daarenteen, was ’n "klein, gedetermineerde vroutjie met twee blink oplettende ogies, en ’n sintuig vir wat netjies en paslik is" – en Sussie het dieselfde gawe. "Ons ma het vir ons laat les opsê. Ons móés werk. Sekuur!"

Sussie vertel verder aan Petra Müller dat daar nog mense was wat kón praat. "Saans aan tafel is daar verslag gedoen met stories wat die voëls, die vis, die golwe, en fabriek en veral die mense aanmekaargeryg het. Stories, die vertaalde werklikheid, was my boek. Ek is baie uitgestuur. Dan loop sit ek op die sandstoepie buite die kombuisdeur, en my ore rank binnetoe."

Sy het baie skelm gelees en het die kuns vervolmaak; veral Huisgenote, Burgers en Jongspanne wat die poslorrie kom aflewer het. "Ons was gulsig om te lees." En al die lees het haar laat peins en besin oor dinge, en ook het sy gesels oor die wêreld daar buite.

Op Doornbaai was daar gedurende Sussie se grootwordjare nie baie boeke beskikbaar nie en dit het veroorsaak dat sy "leeshonger en onversadig" was, vertel sy aan Petra Müller: "Gevolglik het ek alles gelees wat voorkom: die inhoud van die bruin kas in ons eenmanskool; Ma se Fanny Edens; die doktersboek onder in die skoenekas en die Kinderbybel met ’n kriewelrige sedeprekie aan die einde van elke hoofstuk. Oorweldig deur die oorvloed van ’n volwaardige biblioteek het ek later op hoërskool blindelings gelees; nie altyd ewe oordeelkundig of opbouend nie, suiwer leesgenot. ’n Keerpunt het in my matriekjaar gekom toe ’n onderwyser dié aspek van ons opvoeding onder hande geneem het en iewers vandaan tyd gehaal het om boeke van ’n meer literêre aard as speur- of liefdesromans vir die klas voor te lees."

Sussie ontvang haar laerskoolonderrig in die eenmanskooltjie op Doornbaai en gaan vir haar hoërskoolloopbaan na Vredendal. Sy is koshuis toe en daar maak sy met leesboeke kennis – meisiesromanses, en ander. Daar begin sy ook briewe skryf, want hulle familie was, en is nog steeds, ’n familie van briefskrywers.

Haar ouers trek later na Lambertsbaai, waar hulle die Kotzes ontmoet het – die Kotzes met ’n seun, Willie, wat tien jaar ouer was as sy – sy was 14 en hy 24. Hy het as klerk gewerk in die winkel van oom Allert de Waal, vertel Petra Müller – dieselfde winkel wat vroeg in die boek Die swerfjare van Poppie Nongena beskryf word.

Sussie vertel aan Die Burger (30 Augustus 2014) oor waar sy aan die humor in haar boeke kom: "Moontlik omdat ons van 'buite' gekom het – van ’n plaas in die distrik Hopefield – het die andersheid van die mense ons opgeval. My ma kon hulle lekker napraat, gesigte trek, mimiek.

"Pa, ’n aardse mens, het fyn gekyk. Op ’n ­manier was hy ’n ­kunstenaar wat karikatuur-etse sommerso op ’n stuk bruin­papier gemaak het om ’n gelaatstrek te aksentueer. Bewus daarvan dat hy eksentriek was, het ons ewe lekker vir hom gelag. En het hy dit geniet."

In 1950 matrikuleer Sussie aan die Hoërskool Vredendal.

Verdere studie en werk

Na skool is Sussie na Kaapstad, waar sy ’n sekretariële kursus volg en by Sanlam werk.

In 1954 trou sy met Willie Kotze, die skipper van Lambertsbaai. Hy staan ook bekend as die Lang Skipper, een van die ware legendes van die Weskus. Hieroor vertel sy aan Petra Müller: "Toe hy dertig was en ek negentien, sit ons een Vrydagaand langs mekaar op ’n bankie in die bioskoopsaal na ’n cowboyfliek en kyk. Saterdagaand dans ons in dieselfde saal. Sondag gaan ons kerk toe. Toe gaan wys hy my waar hy grootgeword het, langs die soutpan. Hy beduie waar hul lande was, die hoenderkamp, die land waar hy soggens voor die trekgoed deur die duwweltjies geploeg het. ‘Hier,’ sê hy, ‘het ons rogbrood geëet.’ Deur sy oë en ore het die tekens na my toe gekom, die roep van ’n voël, die skynsel van ’n bok se oog, die soet smaak van die rogkorrel waaruit die angel gewan is. En ek het geweet, dié man kan my maar kry." Vier kinders word uit die huwelik gebore: ’n dogter, Marlene, en drie seuns, Petru, Hannes en Oostenwald.

Vanaf 1954 tot 1972 woon die gesin op verskeie dorpe aan die Weskus – Lambertsbaai, Walvisbaai en Houtbaai waar Willie skipper op ’n vissersboot was. Hier het die gesin 12 jaar lank gebly totdat Willie as gevolg van sy gesondheid sy geliefde see moes groet. Hulle trek na die plaas Sunnybrooke naby Piketberg, waar hulle gaan boer het. Petra Müller vertel: "Piketberg se berg is ’n soort paradys van aardse groene. Die proteas sleep af op die teerpad. Vrugteboorde marsjeer in die skoonveld tussen bosklowe deur. Die klowe sing van strome. Hier het hulle, wat die sandveld geken het, met die vrugbare swart berg-aarde deurmekaargedraai. Sussie het daagliks met oesplukkers en pakkers saamgewerk."

Tussen die boerdery deur maak Sussie die vier kinders groot en begin sy saans, eers baie effe-effe, stories vir tydskrifte skryf. Die skrywery was ’n tydverdryf om haar besig te hou toe Willie nog lang tye op die bote besig was. Dit was ook Willie se relase oor sy tye op die see wat die inspirasie vir baie van Sussie se stories was. Aan Petra Müller vertel sy: "Hy was ’n onderhoudende en ’n natuurlike verteller, nie net van sy ervarings op see nie, maar ook van sy gebeurtenisvolle kinderlewe aan die soutpan naby Lambertsbaai."

Volgens Sussie sal sy nou nie sê sy het die titel "skrywer" in die oog gehad toe sy begin skryf het nie. "Die dinge wat rondom ’n mens gebeur, beïnvloed jou op die ou end. Dis wat my op ’n dag laat besluit het om dit neer te skryf – sonder dat ek eintlik geweet het hoe." Hoewel sy geen formele opleiding in skryfwerk of letterkunde gehad het nie en hoewel sy van jongs af geweet dat sy wil skryf, het sy nie eintlik geweet waaroor nie.

Martjie Bosman (Taalgenoot, Maart 1986) skryf dat omdat Sussie so ’n ywerige leser was, sy die werke van MER en wêreldberoemde skrywers soos Gorki en Faulkner ontdek het. Hulle het haar gelei tot die besef dat ’n skrywer oor alledaagse dinge kan skryf.

Sy begin toe skryf oor die Weskus en sy mense en die bedrywighede daar – kortverhale en vervolgverhale. Van haar vervolgverhale, Die prys vir Vogelsang (1972), Oggendblom en bitterkalbas (1973), Kielwater (1975) en Die vuurgety (1978), word deur Human & Rousseau in boekvorm gepubliseer.

Dit is egter as kortverhaalskrywer dat Sussie op die voorgrond tree in 1982 met die verskyning van Halfkrone vir die nagmaal. Die meeste van hierdie verhale het oor ’n tydperk van 18 jaar in verskeie tydskrifte verskyn voordat dit in boekvorm uitgegee is. Die bundel word in 1983 met die Eugène Marais-prys bekroon. "So ’n boek is ’n groot werk. Al die verhale was nie goed genoeg nie, en ek het ’n hele klomp oorgeskryf. Dit het my baie uitgeput, en ek wil graag nou ander aanpak, maar so ’n boek is ’n lang proses en dit bly so lank met jou. Dan was daar nog die onsekerheid of dit gaan slaag. Nou is die boek taamlik suksesvol, maar ’n mens moet realisties wees. My jongste het glad vir my gesê: ‘Ma kan nou maar weer normaal raak!’" vertel Sussie aan Sarie Cloete (Die Burger, 27 Mei 1983).

Haar gesin het haar op daardie stadium nie baie aanmoediging gegee nie, maar haar man het haar tog met praktiese feite gehelp: "Hy is ’n baie fyner waarnemer as ek. Veral met die seegoed is die vissers gou-gou by as jy ’n fout maak." Met haar seestories moes Willie help met die agtergrond sodat niemand ’n vinger na haar kant kon wys nie.

Halfkrone vir die nagmaal het André Brink (Rapport, 19 Desember 1982) laat sê: "Here, maar dis ’n mooi boek!" Hy skryf ook: "[V]an die verhale handel (...) oor die doodgewoonste mense in die doodgewoonste situasies, geplaas teen die Kaapse Weskus, boerstories en skydestories, aardstories, maar elk vertel in ’n taal so gedronge van lewenskrag en kleur dat mens partykeer wil hyg van vreugde."

Hans Ester skryf in Zuid-Afrika van Mei 1983: "Deze verhalen bevattenen een schat aan observaties uit de praktijk van het leven en de beeldende taal van alledag. Maar hun betekenis gaat ver uit boven een epische verpakking van regionale Westkaapse bijzonderheden. In laatste instantie is de vertelster op zoek naar een zin, tenminste naar een verband in het geheel van oppervlakkig gezien losse menslijke ervaringen."

En Hennie Aucamp skryf in Die Vaderland van 28 Januarie 1983: "Ek ken min skrywers in Afrikaans wat die ding so volledig in sy dinglykheid aankyk as E Kotze in Halfkrone vir die nagmaal. In verhaal na verhaal, selfs die minder geslaagdes, is dít wat jou slaan: die byna mistieke vermoë om dinge te laat praat met die leser. [...] ’n Wonderlik en geseënde skryfster soos E Kotze mag nooit voel dat sy Literatuur moet maak nie. Wat sy skryf, is dit meesal – en oënskynlik spontaan."

Sussie se tweede bundel kortverhale, Silt van die aarde, verskyn in 1986 en weer word dit hoog aangeslaan. Fanie Olivier (Transvaler, 9 Desember 1986) skryf dat dit in hierdie verhale die gewone mense, die sout van die aarde, is wat op deernisvolle wyse voor ons kom staan. "Maar dit is ook die souterigheid van mens-wees, van die seelug en van die soutpanne self wat in die titel opgesluit lê. [...] Daar is min dinge in Silt van die aarde wat ’n mens by die lees nie ontroer nie. Dat dit gebeur sonder groot vertoon of letterkundige truuks, is ’n bewys dat haar eerste werk geen gelukskoot was nie."

Vir André Brink (Rapport, 14 Desember 1986) is dit die taal: "En hoe lees mens nie agter die taal aan nie. Want daar is bloedmin Afrikaanse skrywers wat ’n gewestelike taal só kan hanteer dat dit nie net jou tone laat opkrul van lekkerlees nie, maar dit ook in sin op sin in die diepste betekenis van die woord openbarend is. [...] Silt van die aarde [is] ’n stimulering en ’n verkwikking van die gees."

Met die verskyning van Halwe hemel in 1992, ses jaar na haar vorige bundel, bevestig Sussie haar statuur as een van die voorste kortverhaalskrywers in Afrikaans. Petra Müller skryf (Volksblad, 18 Augustus 1993) dat dit verhale van sweet en bloed is wat sy vertel, "van taai mense wat soveel geleef het dat hulle dit kan waag om soms met profetiese woorde te praat. Sussie tel die klank van daardie soort oerpraat op en sit haar sinne sekuur en helder langs mekaar neer – ’n kuns van gees en oorleg. Sussie vertel self dat die verhale gaan oor elke mens se verwagtinge en die teleurstellings en ontnugtering wat dikwels volg."

Ria Smuts (Skrywers en Boeke, 15 April 1993) meen dat Sussie se storiewêreld aards en realisties is. "Sy het dieselfde talent as die volkse vertellers van alle tye: hulle kyk goed, luister fyn en het soveel fantasie dat hul vertelsels egter as die werklikheid is. [...] E Kotze, moenie dat ons weer sewe jaar wag nie."

Tom Gouws (Beeld, 22 Maart 1993) beskou haar as een van die min geseënde vertellers van ons vasteland. "Dis ’n deurleefde hand wat hier die indelibelpotlood vashou en versigtige drukletters maak – rustig, lokaal en realisties sou jy miskien durf om te sê. Maar duidelik ’n hand wat weet dat onder die verhaallyne en ingekleurde detail van die smoet getekende wêreld daar oneindig veel is wat woel, wat ongesê bly, wat terg, wat diep ontstel én bevredig."

Waterwyfie en ander woestynverhale word vyf jaar na Halwe hemel gepubliseer en ook dié bundel word deur die kenners aangeprys. Louise Viljoen skryf in Volksblad van 1 Junie 1998: "Dit is nie ’n swaarmoedige bundel nie en humor, skalksheid en skunnigheid is deel van die realiteit. Dit is ’n heel besonderse bundel: suiwer, onsentimenteel, subtiel, en, soos daar van een van die karakters in die bundel gesê word, 'eindeloos wys'."

Vir Rykie van Reenen (Insig, Maart 1998) is die verhale met "groot mensekennis en nog groter erbarming, plus ’n lawende skeut lag, gebou uit die harde lewens en hartstogte van die vissermense en sukkelboere van die onherbergsame stuk wêreld tussen die mondings van die Breë- en Grootriviere".

LS Venter (Rapport, 8 Maart 1998) beskryf Waterwyfie as ’n "groot leeservaring", nie net as kontreiliteratuur nie, maar ook as ’n boek wat in die geheime van die menslike hart delf.

Wat vir Joan Hambidge (Die Burger, 21 Januarie 1998) van E Kotze se werk uitstaan, is haar "subtiele aanslag" en haar uitbeelding van ’n vroeëre wêreld wat die meeste hedendaagse lesers nie meer ken nie.

In April 1989 is Willie oorlede, en vir Sussie was dit ’n geweldige slag, veral toe dit saamval met haar ma se afsterwe na Alzheimer-siekte en haar suster se breinkanker.

Jare na Willie se dood kon Sussie uiteindelik oor haar verlies skryf en verskyn Die slag van die breekbrander in 2000. Hierin skryf sy haar storie oor die eensaamheid wat sy na Willie se dood ervaar het en haar aanpassing by die lewe sonder hom. In Beeld van 16 Oktober 2000 beskryf Gretel Wybenga Slag van die breekbrander as ’n "waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse rouliteratuur, maar 'waardevol' is ’n te neutrale woord vir hierdie meesleurende boek oor lewe en dood, oor die fyn-fyn drade van menslike verhoudings, oor ons innige verbintenis aan dié aarde waarop ons blote bywoners is. Sussie maak van Willie se lewe ’n storie en wil daarmee sê dat die storie ons verskansing teen die tydelikheid is."

Hanlie Retief (Rapport, 24 Januarie 2001) sien dit as ’n liefdesverhaal op vele vlakke – dié tussen man en vrou, gesinne en families, vir die see en die grond, en liefde vir die genot wat geput kan word uit werk. "Dis ’n verhaal oor die lewe en al die onbeantwoorde vrae, oor die belewenisse van vreugde en hartseer – en dood – wat elkeen van ons, as mense, aanmekaar bind. Dis ’n boek wat ’n mens uiteindelik moeilik toemaak."

Op LitNet skryf Linda Rode: "Die slag van die breekbrander is nie net ’n uitsonderlike elegie vir ’n afgestorwe geliefde nie, maar ’n ode aan die lewe self, veral die lewe sáám; en dis ’n besondere milieubeeld van die son- en soutgebreide wêreld wat die basis van E Kotze se verhaalkuns uitmaak. Dis selde dat lesers so ’n eerlike blik in die lewe van ’n geliefde skrywer gegun word."

Soos alreeds gesien is, is Sussie nie ’n skrywer wat kort-kort ’n bundel publiseer nie. In 2007, tien jaar na die vorige een, word haar volgende bundel, Die wind staan oos, deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Die vyftien stories in die bundel bevat twee soorte verhale – die eerste is stories oor die Weskus en in die latere stories word verskillende soorte mense teenoor mekaar gestel: deftige stedelinge en gevoelige, goeie, kontreimense.

Susanne Harper (Beeld, 8 Mei 2007) beskryf E Kotze as "’n woordmeester" en sê dat Die wind staan oos ’n lekkerleesboek is waarvan die meeste lesers sal hou.

In Die Burger van 21 Mei 2007 skryf Jaybee Roux dat die boek "vibreer met sinne en frases wat lank in jou kop sal draal omdat dit so mooi en ráák is".

Nog iets wat Sussie na Willie se dood alleen moes doen, was om huis te koop, en hierdie keer vir net een. In Vrouekeur (12 Januarie 2001) vertel sy aan Maretha Maartens hoe moeilik dit was: "Ek het vier maal verhuis en dit is simbolies van die eensame swerftog van gees van elkeen wat ’n geliefde verloor het. In ’n huurhuis in Moorreesburg huil ek met ’n verdriet sonder perke, buite verlatenheid om; in ’n huis wat ek op Vredenburg laat bou het, baklei ek teen swak vakmanskap, die reën en die westewind. My volgende staanplek is ’n eenheid in ’n meenthuiskompleks, maar die geraas van musiek en honde is vir my net een te veel." En toe kom Velddrif en word die vissersdorpie aan die Bergrivier vir haar ’n tuiskomplek. Sy sê: "Hier op Velddrif het die vrede my oorval."

Petra Müller (Volksblad, 18 Augustus 1993) skryf dat daar in Sussie se skryfwerk twee verskillende landskappe duidelik te bespeur is: die see en die berg. Die see was nog altyd in haar bloed en die berg het sy van naderby leer ken toe sy en Willie na Piketberg verhuis het. Sy het met haar skryfwerk lank rondgetas, op haar oorwoë manier, en skaars die oorvloedige lof van kritici geglo. "Daar is mense wat Sussie se verhale kontreikuns noem: ek is een van die Kotze-lesers wat daaroor baie driftig word. Sy het haar lank gelede uit die kontrei in die universele ingeskryf. Dáár bestaan haar verhale, oop en stralend, ’n belangrike stuk van ons gesamentlike selwe wat sy teen vergetelheid bestendig het. ’n Mens moet daaroor nadink: sy’t geen formele letterkundige opleiding gehad nie, en sy hou haar ver van teorieë daaromtrent. Hoe’t sy so op haar eie so ’n goeie skrywer geword? vra mense my soms. Maar bekyk haar lewe. Hoe kon sy nie?"

Ná ’n stilswye van bykans 20 jaar op die gebied van romanskryf publiseer Kwela in 2009 Toring se baai, ’n storie oor ’n plek aan die Weskus: ’n baaitjie met ’n lamlendige kreeffabriek, ’n jettie en ’n klein nedersetting. Dit speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog en die plattelandse tydsgees word uitstekend weergegee, skryf JB Roux op LitNet.

Dit is egter nie soseer die plek wat die hoofrol speel in die roman nie, maar die inwoners: Kerneels Koch, die winkelier; Sieber, die bestuurder van die inmaakfabriek; juffrou Dippenaar, die skooljuffrou; en die wasvrou Marija. "Kinders en grootmense en amper-grootmense; die bruin mense en wit mense en die klomp wat in die Gaat loop nesmaak het. Dit is ’n uiteenlopende spul wat saamgebind word deur hul afhanklikheid van die see en wat elkeen op sy eie manier swaarkry."

Roux gaan voort: Die mooi kant van die boek lê in Kotze se karakterisering en legendariese verbeeldingsvermoë. Maar daar is een swakheid in die boek en dit is dat daar geen struktuur is om van te praat nie. Veral in deel II is daar toenemend die gevoel dat die boek nêrens heen op pad is nie. Daar is nie veel intrige nie en al wat die leser laat aanhou lees, is Kotze se byna hipnotiese vermoë om lesers geïnteresseerd te hou in mense en hul dinge, al gebéúr daar nie veel in hul armsalige lewens nie. Die geheelindruk is dieselfde as met kortverhaalbundels soos Die wind staan oos: tegnies is die boek nie geslaag nie, maar ’n mens bly diep dankbaar vir die voorreg om dit te kon lees."

Vir Jeanne Goosen (Rapport, 22 Desember 2009) was Toring se baai haar Afrikaanse boek van 2009. "Kotze gee ’n intieme blik op die inwoners se lewe, hul taalgebruik en die eenvoud van die karige bestaan. Haar uitbeelding van die inwoners sleur mee en getuig van ’n intellektuele sowel as emosionele begrip van haar karakters.

"Die tyd is die hede, vandag, en twee susters wat hul grootwordjare aan hierdie Weskus-vissersdorpie deurgebring het, bring ’n besoek en kyk terug. Die meeste van die inwoners is dood of het weggetrek. Alles het verander. Die vissershuisies is gesloop en vervang deur glaspaleise en ander moderne bousels. In die naam van vooruitgang is alles gemoderniseer. Ironies vier misdaad ook nou hoogty.

"Die taal wat aan daardie deel van die Weskus gepraat word, is nie net in die kol en kleurvol nie, maar die argaïese taalgebruik verhoog ook die waarde van die roman. Dit op sigself is genoeg rede om die werk aan te skaf en kennis te neem van hoe Afrikaans in daardie jare gepraat is – en soms nou nog deur ouer inwoners aan die Weskus. Toring se baai dien dus ook as ’n soort argief van die taal. Ook is die streekkennis van hierdie skrywer en hoe sy met haar materiaal omgaan, verstommend. Lank nadat jy die roman klaar gelees het, bly dit jou by."

In Beeld van 28 September 2009 meen Leon Rousseau dat Toring se baai nie net ’n roman is nie, maar ook ’n stuk sosiale geskiedenis. "Die leser ervaar diegene wat in die oorlogsjare na die Afrikaanse uitsendings op die Duitse sender Zeesen luister, dié wat weens Duitsgesindheid geïnterneer word, dié wat met 'rooi lissies' in Noord-Afrika of Europa gaan veg, dié wat saam met die opbloei van die plaaslike visbedryf welvarender word nadat die toevoer van geblikte vis van Noorweë, Kanada en Japan weens die oorlogjare lank onderbreek word. Uiteindelik ook die waar word van ’n voorspelling dat die see nie sal kan byhou met die groot toename in beroepsvissers nie.

"Kotze kies selde kant. Haar karakters is mense, goeies en slegtes, OB’s en Sappe, verkragters en vromes, dronkes en nugteres, wittes en bruines. Toring se baai bied ’n besonderse leeservaring."

In 2011 verskyn Hoogty, ook by Kwela. Die skryf van Hoogty was ’n baie vinniger proses as met Toring se baai. Met die eerste een was een hele venster in haar blyplek beplak, "helemaal toegeplak, met papiere en insidente wat ek so een vir een moes afmerk. Hierdie een (Hoogty) was ... asof hy vir my ingegee is, asof hy net gevra het om neergeskrywe te word. Ek het presies geweet wat my te doen staan, nêrens gehuiwer nie ... Snaaks, nè, veral as jy dink ek het destyds partykeer drie maande aan ’n kortverhaal geskryf!" sê sy aan Johan van Zyl (Die Burger, 30 April 2011).

"Oor sekere dinge en veral die redenasies wat die karakters gehad het, moes ek partykeer bietjie dink, hier en daar ’n geleerde vra. Maar ek’s soos daai tannie wat, toe sy uitvind wat sielkunde is, gesê het: ‘Maar my magtie man, ek pas dit dan al my hele lewe lank toe.’"

Die saadjie vir Hoogty – of Sy-kant na die wind, die werktitel wat sy gebruik het – is al geplant toe sy in die jare sewentig, tagtig en negentig bekendheid verwerf het met haar kortverhaalbundels.

"Ek het daardie jare al sulke duine voor my gesien," sê sy aan Van Zyl. "Duine – dis ál wat ek destyds in my gedagtes gesien het, maar ek het toe reeds geweet dis ’n liefdesverhaal wat daar afspeel. Toe Toring klaar was, het ek besluit nóú gaan ek sit om hom neer te skryf."

Die meisie op die voorblad ken Sussie nie. "Ek hoop nie ek gaan in die moeilikheid beland nie ... dis vermoedelik een van die vele meisies wat Willie, my oorlede man, vóór my gehad het; dit is een van vier foto’s van haar wat ek in sy viskatrolboksie gekry het. Jy weet, destyds as Willie en sy vriende vir die dag saam met die klompe meisies af see toe is, het hulle ’n kerkpak aangetrek! Dis hy wat my geleer het jy maak nie ’n kerkpak skoon nie – die wit seesand doen dit vir jou!

"Willie het altyd gesê as hy sy voet op ’n skuit sit, is hy ’n ander man as die een wat ek ken. Ek onthou hoe een van die dronkies op die kaai eendag van hom gepraat het as ‘die lang, dun dônner met die rooi jersey’. Maar Willie het hom seker uitgewoed op see, want by die huis was hy die bedagsaamste, vreedsaamste man. Hy was verskriklik populêr onder die meisies. Hy was nie net ’n baie aantreklike man nie, maar ook ’n baie beminlike mens."

Ook met Hoogty, soos met ander stories, het Sussie gaan soek na die stories (onvergeetlike vertellings) wat Willie aan haar vertel het. Hoogty se motto – "When shall we set sail for happiness ..." – is aan Willie opgedra; hy "wat die ongelooflikste stories kon vertel van sy jeug, sy jare op en langs die see, sy jagtogte. Hy kon dit so onophoudelik, so absoluut onderhoudend, laat uitkom, amper soos rolprente en baie boeiend, sonder om ooit vervelig te raak."

Hoogty is ’n liefdesverhaal wat afspeel aan die Weskus in die 20ste eeu. Helena, of Hillie Burre, het probeer ontvlug van haar pa en die eenvoudige lewe van die vissersdorpie Vollemink. Sy was skaam vir haar pa wat haar ma onderdruk het, maar besluit tog om terug te keer na Vollemink om haar ma en boetie te gaan help. Terug op die dorpie besef sy dat sy nooit regtig die see en die wêreld met sy natuurskoon agtergelaat het nie. Die visser Auret kom in haar lewe en dit veroorsaak ’n tweespalt in Helena: Moet sy terugkeer na haar werk en Chris of moet sy in Vollemink agterbly?

 "Pragtige beskrywings van die see en die duine versier die roman. Tog word dit nooit soetsappig nie. Die gewoontes van die mense in ’n vissersgemeenskap, maar ook die gebruike van die veertiger- en vyftigerjare van die vorige eeu in Suid-Afrika word uitgebeeld (soos die geblomde rok, hoëhakskoene en haarstyl van die meisie op die sepia-voorblad reeds weerspieël)," volgens Susanne Harper (Beeld, 16 Mei 2011).

"Lesers met ’n geïdealiseerde weemoed oor hierdie tyd sal die boek baie geniet. Ook die taalgebruik, ’n lieflike Sandveldse Afrikaans eie aan die omgewing en helfte van die vorige eeu, is self ’n akademiese studie werd. Almal wat die skrywer se vorige werk geniet het, sal ook hierdie roman geniet en lekker daaraan kan lees."

Ampie Muller skryf in Die Burger van 16 Mei 2011: "Min mense kan die Weskus in al haar verskynings, deur al die ­seisoene en weersomstandighede, die land sowel as die see, so goed en indringend beskryf soos Sussie Kotze. Dit is opnuut duidelik dat sy elke faset van die lewe op die Weskus in die fynste besonder­hede self meegemaak het.

"Só is Frost die fabriekbestuurder van die visfabriek op ­Vollemink (oftewel Flaminke-baai) nie ’n vreemdeling vir haar nie, want haar pa was ’n senior ­figuur ­(ingenieur) by die kreef­fabriek in Doringbaai en jy kan doodseker wees dat sy ­figure soos die ­befoeterde ou Jasper (Jas) ­Burre (Burger) 'So dwars soos ’n ­donnerse deur' self geken het."

In aspekte van Auret en Helena se verhaal mag sommige getroude lesers hul eie huwelik weerspieël sien. Vir Stoffel Cilliers (Volksblad, 24 Mei 2011) skryf Sussie Kotze "met ’n lewenswysheid wat op wye ervaring berus en ’n universele kleur aan haar skryfwerk gee. Die rustigheid van die verteltrant gee ’n uitsonderlike bekoring aan die roman. Nêrens laat die skrywer haar aanjaag nie.

"Sy gebruik selfs nie tradisionele tegnieke soos naelbytslotparagrawe vir hoofstukke om die spanningslyn te versterk nie. Sy boei eerder voortdurend met fyn beskrywings, detail van tientalle situasies, karakters en voorwerpe. As ervare skrywer borduur sy rustig voort, bladsy ná bladsy. Só betrek sy die leser onwillekeurig by haar verhaal van liefde, swaarkry en bittere ontbering aan die onherbergsame Weskus. Die leser geniet die storie, omdat die skrywer dit kennelik geniet het om dit te skryf. Dit was asof sy nie van haar karakters wou afskeid neem nie. Enkele bladsye van die einde af flits sy nog terug na Helena se babadae.

"Taalkundiges kan die boek maar net vir sy seemansterminologie lees. Woordeboekmakers sal ure lank vrugbaar hierin kan ronddelf. Uit watter hoek hierdie veelkantige roman ook al gelees en geniet word, die skrywer moet bedank word. Sy vertel haar verhaal op haar eiesoortige, rustige wyse en bied só ’n verrykende, genotvolle leeservaring wat lank in die geheue van talle lesers sal voortleef."

Deesdae bly Sussie in ’n aftree-oord in die noordelike voorstede van Kaapstad, waar sy in die winter wanneer dit vroeg donker raak, "soos ’n pompdonkie al in die rondte stap op die terrein", vertel sy vir Johan van Zyl. "Ek is nie eintlik ’n rondloper nie, en in hierdie plek stap jy buitendien nie agter die mooi aan nie. Jy stap omdat stap stap is en omdat ’n mens darem moet uitkom en ’n bietjie oefening kry. Dis ’n hééltemal ander soort stap as langs die see of in die veld."

Tydens die Woordfees van 2013 is ’n profielaanbieding van Sussie Kotze aangebied, met Petra Müller en Nèlleke de Jager wat haar werk en lewe in oënskou geneem het.

In 2014 stel Suzette Kotzé-Myburgh ’n keur uit Sussie Kotze se kortverhale saam onder die titel Diepsee. Die verhale is saamgestel uit Halfkrone vir die nagmaal (1982), Silt van die aarde (1986), Halwe hemel (1992), Waterwyfie en ander verhale (1997) en Die wind staan oos (2007).

Hieroor skryf JB Roux in Die Burger van 30 Augustus 2014: "Die onaangename waarheid is dat Kotze se laaste drie bundels nie eens amper die verbluffende vernuf openbaar waarmee die verhale in haar eerste twee bundels geskryf is nie. Die skrywer wat so beïndruk het met haar instinktiewe begrip vir die kortverhaal as vorm en haar vermoë om lewe en swaarkry met min woorde omvattend weer te gee, het op enkele uitsonderings na verval in die skrywer van futlose, anekdotiese verhale.

"Die uitdaging aan Kotzé-Myburgh was om desondanks al vyf bundels te betrek in ’n samevatting wat Kotze se grootsheid bevestig en terselfdertyd haar vergeetbare verhale vergete laat bly. Die eindresultaat is ’n pragtige boek wat doeltreffend hulde bring aan ’n skrywer wie se beste werk dalk nooit oortref sal word nie."

In Vrouekeur (14 November 2014) skryf Willie Burger dat dit verblydend is dat Tafelberg-Uitgewers hulle weg oopgesien het om die versamelbundel uit te gee, aangesien die ouer bundels dikwels nie meer verkrygbaar is nie. "Kotze tel onder die subtielste vertellers in Afrikaans. Die verhale gaan oor arm mense wat swaarkry – meestal aan die Weskus. Hul wêreld is beperk en hulle voer ’n moeilike stryd teen die elemente. Baie mense het al stories oor die Weskus vertel en liedjies gemaak en dikwels steek dit maar in die lawwe, in vermaaklike taal of spottery of in die skooloperetteromantiek van huisies langs die blou see.

"Kotze se verhale oorstyg al die slaggate en clichés van Weskusvertellings. Telkens, in verhaal ná verhaal, gryp iets ’n mens aan die hart sonder dat daar in patos verval word, ’n oomblik waarin alles goed word of aangenaam gemaak word. Hierdie uitgesoekte verhale is ideaal vir proe-proe-lees in tussenintydjies."

Francois Verster is die resensent op LitNet. Vir hom is die stories wat in Diepsee opgeneem is "skitterstories wat so fyn bedraad is, waarvan die humor en tragiek (en die deernis wat die twee oorbrug) wel duidelik uitstaan, maar die boodskappe soos ’n vernuftige, byna onsigbare naat gevolg moet word om die geheime binnesak te vind." [...]

"Kotze volg altyd MER se raad en sê net wanneer sy iets het om te sê, en doen dit soos die ware kunstenaar kan: sy ken die kuns om komplekse gevoelens duidelik te stel. Daarom bly hierdie stories so vars soos die dag toe hulle aan wal gebring is. Kotze is dus geen blote kontreiverteller nie. Sy skets met ’n kennersoog die tonele wat sy intiem ken, bevolk die landskappe met lewendige karakters wat deur son en en wind en sand en swaarkry verweer is tot hulle so taai soos bokkoms is, en net so heilsaam. Daarom herinner haar werk aan die stelling: 'Om ’n werklik goeie kunstenaar te wees, moet jy jou kuns aan jou lewe koppel.' (Reality hunger, David Shields, 2010)

"Daar is geen oppervlakkige anekdotes nie, geen papierknipsel-karakters nie, geen taalmoord met die beginner se gunstelingwapen, die byvoeglike naamwoord, nie, en geen 'laat ons lig op die onderwerp gooi'-clichés nie. Tog is daar die plattelander se slag met kleurvolle, kolskoot-vergelyking." [...]

"Ek kan Diepsee beswaarlik té hoog aanskryf en té entoesiasties aanbeveel. [...] Die Weskus, en groter Namakwaland, het al talle uitstekende storievertellers opgelewer, maar min kan skryf om hulle verhale en kultuur só te bewaar."

In 2016 verskyn Sussie Kotze se volgende roman onder die titel Soetloop by Kwela. Sussie vertel vir Maryke Roberts (Vrouekeur, 23 September 2016) dat die manuskrip van Soetloop lank en uitgerek was. "Dit dek die tydperk van een mens se lewe. Ek het die stambome op ’n stuk karton geskryf en gereeld geraadpleeg."

Sy beeld die swaarkry van die 1920's en 1930's op ’n hartroerende wyse uit – hoe Ellen en haar kinders ver moet stap om vars water te kry en dan weer die lang pad terug huis toe. Sit gryp die leser aan die hart wanneer hulle uiteindelik ’n watertenk kry om reënwater op te vang, skryf Maryke Roberts. Sussie vertel dat dit as gevolg van armoede is wat die tenk nie eerder kon opgesit word nie, want "as daar nie geld is nie, is daar bloot nie ’n keuse, maar uit daardie bitter armoede het daar ook baie mooi en positiewe dinge gebeur."

"Dit gaan maar oral in die lewe so: party kinders aanvaar hul lot; ander se woede motiveer hulle tot groter hoogtes. Kattie (hoofkarakter in Soetloop) se woede het haar egter die verkeerde uitkoms laat kies. Ek het haar juis as donker kind geskep om die donker van haar lewensloop te skets."

"Ek het diep in my kinderherinneringe gaan grawe om die storie volledig te hou en ook baie bygeskryf. Nie een van die karakters is geskoei op iemand spesifiek nie; eerder ’n samesmelting van verskillende mense."

"Ek sien mense raak en bêre grepe in my agterkop. Ek sien later my karakters as mense wie se stories ek kan uitbou. Maar soms ontwikkel die karakter onder jou uit en moet jy die leisels intrek."

Die titel dui op water wat brak of sout kan wees, skryf Riette Rust (Rapport, 16 April 2017). "Die letterlike soetloop is ’n plek waar die vroue hul wasgoed was. 'Wanneer dit reën, dreineer ’n soetloop, vars soos neut, waarskynlik in ondergrondse are af see toe en slaan op die strand tussen die kalkklip en ronderug-granietrotse uit.'"

In Soetloop vertel Kotze die verhaal van Kattie wie se ouers op die plaas De Hoop in Agterbaai gewoon het. Maar hulle verloor die plaas en Kattie moet noodgedwonge vir die nuwe eienaars (die Laumbaarts) van De Hoop gaan werk. Sy besef algaande dat op De Hoop dinge nie is wat dit voorgee om te wees nie en beland so by die Van Aardes in die Swartland. Daar leer ken sy ’n wêreld van musiek, en boeke.

Sy trou later met Mike Laumbaart al is sy nie lief vir hom nie. Maar later besef Kattie hierdie huwelik is ook nie ideaal nie – Mike is nie baie standvastig nie en die gesin moet van een dorp na ’n ander swerf. Maar, skryf Rust, "Kattie is ’n doelgerigte, sterk vrou. Ook eiewillig. Sy kry dit reg om kop bo water te hou en haar huwelik op haar manier te laat werk. [...]

 "Soetloop se sukses lê in die beskrywing van die milieu, die treffende taalgebruik en in die geloofwaardigheid en ontwikkeling van die karakters. Dit is boonop ’n toeganklike lekkerleesroman. [...] Niemand kan Kotze se passie vir skryf miskyk nie. Dit borrel deur elke reël. Wanneer jy Soetloop toemaak, sal Kattie se verhaal jou bybly."

In Die Burger (14 November 2016) noem Johan van Zyl Kattie se verhaal "’n "tragiese verhaalgegewe". Hy gaan voort: "Sonder om ooit in soetlikheid te verval, sal Kotze sekerlik weer aanhangers se hart- en smartsnare tokkel, maar selfs chroniese galballies soos die uwe staan verwonderd oor hoe deurtastend goed die skrywer nie net haar milieu en tydvak ken nie, maar ook haar karakters op hul mees weerlose oomblikke wanneer hulle volkome uitgelewer is aan die elemente én hulself." [...]

"Soetloop het by tye gevoel soos ’n volronde, volkse Weskus-Downton Abbey met die fokus net veel stewiger op Klaas wat tot lewenslange knegskap en ’n vergeefse, nederige lewe gedoem is onder Baas."

Johan Anker sluit sy resensie oor Soetloop op LitNet as volg af: "Soos met haar vorige romans en kortverhale blink Kotze uit met die beskrywing van ’n ruimte en tydsgees en is haar woordgebruik uiters treffend in die herskep van daardie wêreld en sy mense." [...]

"Besonderhede oor die lewenswyse en aard van ruimte en bestaan is so uitgebreid soos die beskrywing van die pluk van die gansdonse en die verwerking daarvan tot donskomberse (p 167) en ’n wêreld waar perde nog beslaan word, die velling van ’n wa- of karwiel nouer getrek word, die ploeë uitmekaargehaal word en die skare skerp gemaak word (p 93)."

"Kotze skep lewensgetroue karakters met goed gemotiveerde handelinge binne ’n uiters realistiese konteks. Die deurlopende atmosfeer is egter dié van mense wat die vryheid na ’n ander lewensbestaan soek, na ’n ander kant van hul wêreld waar dit beter sal wees, waar hulle tog iets van die 'soetloop' sal ervaar. Die werklikheid is egter huwelike waarin daar stiltes heers, waar die stiltes harder spreek as die woorde en sommige van die familie hulle moet oorgee aan 'besluiteloosheid en die genade van ’n onseker toekoms' (p 120)."

"Die roman is weer eens bewys van Kotze se besondere vermoë om ’n spesifieke ruimte en karakters te skep wat die leser saamneem op die familiegeskiedenis van mense wat jy sal onthou lank na jy klaar gelees het."

Sussie Kotze vertel aan Maryke Roberts in Vrouekeur (23 September 2016) dat skryf vir haar nie maklik gebeur nie: "Ek gaan sit nie en woeps-waps is ek klaar nie. Dis ’n langsame proses. Ek het altyd op ’n elektriese tikmasjien gewerk, maar kon later nie meer linte kry nie. Nou werk ek op ’n rekenaar, maar is nie baie rekenaarvaardig nie. Ek het byvoorbeeld meer as ’n derde van hierdie manuskrip (Soetloop) verloor. Dit het gevoel of ek die rekenaar met ’n stomp voorwerp kon bydam." (Vrouekeur, 23 September 2016)

Sussie glo nie aan gelukkig eindes nie, want dit is te maklik om te skryf en "daar is baie oppervlakkige geluk ook." En oor opvolgstories staan sy net so vas: "Kattie en haar lewe is klaargeskryf. Sy het nooit die vrede gevind waarna sy só gesmag het nie en dis hoe die lewe baie keer is."

Publikasies

Publikasie

Die prys vir Vogelsang

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1989 (grootdruk)
  • 2005 (grootdruk)

ISBN

  • 0798102411 (hb)
  • 0795918526 (hb)
  • 1415003564 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oggendblom en bitterkalbas

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1989 (grootdruk)
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0798103329 (hb)
  • 0795916809 (hb)
  • 1415002371 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kielwater

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798106425 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vroue van Kores: ’n spel oor die lot van mense

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1989 (Grootdruk)
  • 2005 (Grootdruk)

ISBN

  • 0798108436 (hb)
  • 079591850X (hb)
  • 1415003181 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Halfkrone vir die nagmaal

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1984
  • 1988

ISBN

  • 0624016749 (hb)
  • 0614021270 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1983

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Boetie-Jan se skilpadnes

Publikasiedatum

1984

ISBN

062402024X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Tweeluik

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798116323 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Silt van die aarde

Publikasiedatum

1986

ISBN

0624023982 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Halwe hemel

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031853 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waterwyfie en ander woestynverhale

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036103 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

E Kotze-omnibus

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037649 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die slag van die breekbrander: outobiografies

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038572 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wind staan oos

Publikasiedatum

2007

ISBN

978062404503X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toring se baai

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780795702877 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoogty

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780795703140 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Diepsee: ’n keur uit die verhale van E Kotze. Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624069881 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soetloop

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780795707735 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Elizabeth Kotze beskikbaar op die internet

E (Sussie) Kotzé se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2015-04-09 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post E (Sussie) Kotze (1933–) appeared first on LitNet.

Die volkspeler agter die Taalgenoot se sukses

$
0
0

Ná 90 jaar in druk gaan die Taalgenoot nou ook aanlyn gelees kan word. Wat het julle dié besluit laat neem?

Ons het besluit dis tyd dat meer mense moet weet wat die ATKV ten opsigte van projekte en werk in die gemeenskap doen. Almal is besig om te diversifiseer en die aanlyn paadjie te loop en aangesien Taalgenoot die mondstuk van die ATKV is, het ons gereken dis ’n goeie skuif.

Julle persverklaring maak dit egter duidelik dat die gedrukte tydskrif nie gaan verdwyn nie. Waarom albei behou in ’n tyd waarin die drukmedia ... wel,  onder druk is?

Ons het heelwat ouer lesers wat steeds die gedrukte weergawe verkies – en as ek moet bieg, ek verkies ook steeds die reuk van ink en papier. Baie moeite word gedoen tov illustreerders, fotograwe en uitleg en dit kom die beste na vore in die gedrukte weergawe.

Negentig jaar is ’n baie lang tyd. Hoe het die eerste Taalgenoot gelyk?

Hoe gereeld is die formaat oor die jare aangepas?

Die formaat het verander namate nuwe redakteurs oorgeneem het en hul stempel afgedruk het. Gedurende die eerste uitgawes was die tydskrif nog in wit-en-swart, met illustrasies van sigarette en veilings as advertensies. Ons het intussen wegbeweeg van ’n leefstyltydskrif-formaat en die klem word op die kunste, literatuur en kultuur geplaas. Ek verkies om stories te publiseer wat elders nie te sien is nie en ek probeer wegbly van sensasie.

Die afgelope aantal jaar het jy en jou (redelik klein) spannetjie, enorme pryse gewen vir die werk wat julle doen, en sommer baie van hulle. Spog so ’n bietjie?

Sedert 2017 het ons drie keer die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se prys vir beste interne tydskrif, asook die gesogte toekenning vir beste korporatiewe publikasie, gewen. Die afgelope vier jaar het ons al weggestap met die pryse vir beste koppe (headlines), beste skryfwerk, beste kommunikasie, beste ontwerp, asook beste voorblad. Dis nog net die redakteur van die jaar wat kort …

Die pryse gaan onder meer vir die inhoud en die beeldskone manier waarop julle die tydskrif uitlê. Hoe lank werk julle aan elke uitgawe?

Die vryskutskrywers het ’n week om stories voor te stel en twee weke om dit te skryf, en die uitleg van die tydskrif neem ongeveer ’n maand, wat nog proeflees en redigering insluit. Daar is genoeg tyd om te verfyn. Vir my en van die redaksie wat by dagblaaie gewerk het, is dit hemels.

Vertel ons van die mense in jou span wat dit als moontlik maak?

Martie Swart is ons produksieredakteur en sosialemediaboffin; Marelise Scholtz doen die ontwerp en uitleg; en Reza Clifford proeflees vir ons en gooi ’n laaste oog. Ons almal besluit saam watter stories ons gaan plaas. Die vryskutte (skrywers en illustreerders) het egter ’n baie groot aandeel in die tydskrif se sukses.

Die Taalgenoot is ’n mondstuk van die ATKV. Maar dit is ook ’n tydskrif uit eie reg. Hoe bepaal julle die balans tussen korporatiewe stories en addisionele inhoud?

’n Spesifieke aantal blaaie word vir ATKV-nuus geoormerk. Dit sluit in stories oor vlagskipprojekte en die wonderlike werk wat die takke doen. Uit die aard van die saak sal ons plek maak vir ons eie nuus as dit moet. Dis ook belangrik om stories aan te bied wat met lesers sal resoneer.

Sedert jy beheer geneem het van die Taalgenoot is die inhoud beslis uitdagend, maar nie skokkend nie. Hoe bepaal jy die hitte van jou kooksel?

’n Mens leer maar deur die jare wat mense ongemaklik maak en waar om die streep te trek. Enige onderwerp is egter bruikbaar, solank jou redenasies, bronne en motivering net gebalanseerd is. Dis maklik om te skok, maar dis moeiliker om in te lig sonder om te skok. Soms moet ’n mens egter ’n bietjie die hok skud. Dit was egter nog nooit my doel nie – ’n goeie storie bly ’n goeie storie, ongeag die onderwerp.

Jy is bekend vir die puik voorblaaie wat jy laat skiet. Wat is jou gunsteling(e)?

Dit klink soos ’n cliché, maar elkeen is vir my besonders. As ek egter moet uitsonder: Die eerste een saam met Andre Badenhorst van Gérard Rudolf lê my aan die hart, asook die huidige een van Tarryn Wyngaard – dis wêreldklas.

André Badenhorst skiet gewoonlik jou voorblaaie. Waar kom hierdie samewerking van julle vandaan?

Ek het hom op Facebook ontdek, hom ontmoet vir ’n bier, en dit gaan steeds voor die wind. Ek hou van die idee dat iemand wat Jack Parow en Fokofpolisiekar se fotosessies doen, nou vir Taalgenoot foto’s neem. Dit was so reg in my kraal.

Daar was ook al voorblaaie wat die tonge los gehad het. Wil jy iets daaroor deel?

Onder my redakteurskap was die een van Bibi Slippers in haar Voortrekkergewaad nogal ’n teer puntjie. Lesers het laat weet ons sleep hul Voortrekkervoorouers se naam deur die modder (seker oor die tatoes op die foto). En dan die een van Mielie Senekal natuurlik – wat ons gedink het, is baie progressief! Wie het al gedurf om iemand met ’n “voller figuur” só te laat poseer? Ek het al geleer: Jy kan nie almal tevrede stel nie.

Jy is ’n joernalis, maar ook ’n romanskrywer, digter en rockster. By Oppikoppi was daar al ronde oë as die volkspele vreemd geraak het. Van waar kry jy jou kreatiewe idees?

Ek was maar altyd lief daarvoor om alternatiewe dinge die lig te laat sien. Afrikaans het so ’n dramatiese, donker kant – maar ook satiries. Ek dink in die beginjare was dit seker maar om ’n bietjie te skok – om ’n standpunt te maak, om te baklei teen die biertentmentaliteit, maar ek is deesdae meer verdraagsaam. Gun almal wat hulle toekom.

Deesdae is jy die pa van ’n pragtige knaap, en daar is ’n trousertifikaat in jou staalkabinet. Volkspeler is tans net die naam van jou Twitter-rekening. Hoe het die gesinslewe jou gehelp, of gestuit, in die rol van ’n praatbuis vir ’n gesinsorganisasie soos die ATKV?

Dit het my rustiger gemaak en meer bedees. Ek skree nie meer nie.

Taalgenoot het nou al soveel pryse gewen – wat motiveer jou om aan te hou nuwe idees uitdink en dit relevant, en mooi, te maak?

Ek wissel gereeld rubriekskrywers af – asook my illustreerders. Dit help om die inhoud vars te hou. Ek kyk ook wat is internasionale neigings en pas dit toe.

Waarna kan ons uitsien in komende uitgawes?

Die digitale formaat bied net soveel meer en maak dit meer interaktief vir lesers. Aan die ander kant wil ek vir Gary Busey aanhaal uit die rolprent Soldier: “My daddy use to say – If it ain’t broke, don’t fix it.”

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.

Lees ook:

Mediaverklaring: Taalgenoot nou vir ’n ieder en ’n elk

The post Die volkspeler agter die <em>Taalgenoot</em> se sukses appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Laat jou gedig die lig sien | Bring your poems to light

$
0
0

Taalmonument bied weer gewilde werkswinkel, maar nou virtueel

Vir diegene wat dalk soms ’n bietjie dig voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ’n gedig op te tower, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) weereens ’n poëtiese oplossing: ’n virtuele werkswinkel met die geliefde digkunskenner Bernard Odendaal op Dinsdag 30 Maart 2021. 

Die genotvolle laatmiddag, aangebied in samewerking met die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, sal verskeie aspekte van digkuns bespreek asook ’n praktiese afdeling waarin daar aan deelnemers se gedigte geskaaf sal word. Aangesien die werkswinkel gemik is op belangstellendes wat reeds dig, maar kundigheid oor hoe om hul gedigte beter en treffender te maak wil opdoen, word hulle aangemoedig om een van hul gedigte byderhand te hou. 

Odendaal, die direkteur van die ATKV-Skryfskool, is 'n deskundige op die gebied van die Afrikaanse digkuns en self 'n gepubliseerde digter, liedteksskrywer en essayis; sy tweede digbundel – Nootvat. Kwashaal. Stapel. – verskyn in April 2021. Hy sal die gesprek lei, met verwysing na ’n gidsboekie wat vooraf beskikbaar gestel sal word aan ingeskrewenes.

Van die vrae wat onder die loep geneem gaan word, is: waarom skryf ons as mense gedigte; wat onderskei gedigte van ander soorte skryfwerk; verskil liedtekste en gedigte enigsins van mekaar; en op grond waarvan kan 'n mens die kunsgehalte van ’n gedig bepaal? Ná afloop daarvan sal werkswinkelgangers genooi word om twee weergawes van ’n eie gedig aan die aanbieder te stuur vir kommentaar: soos dit gelyk het vóór die tyd, en hoe dit verwerk of herskryf is na aanleiding van die kundighede wat by die werkswinkel opgedoen is. 

Dit kursus vind vanaf 17:00 tot 20:30 plaas om leerders en werkendes in ag te neem, en kos slegs R250 per persoon. Getalle word beperk, dus bespreek asseblief teen 28 Maart 2021 by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker. Meer oor die ATKV-Skryfskool by http://humanities.nwu.ac.za/af/atkv-creative-writing/oor-ons

Die ATM bied jaarliks ’n reeks kursusse en werkwinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos boekherstelwerk en ’n AWS-werkwinkel in. Voorstelle vir bykomende werkwinkels word verwelkom. Vir meer inligting oor al die ander beplande geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (met covid-19 wat in gedagte gehou word), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook

DIE MONUMENT EN MUSEUM IS STEEDS OOP VIR BESOEKERS.

The post Persvrystelling: Laat jou gedig die lig sien | Bring your poems to light appeared first on LitNet.

Mediaverklaring: ATKV-tak PEAAT vier sewe dekades op die planke

$
0
0

Foto: Mauricio Keller Keller | Pixabay

 

Vir die afgelope sewe dekades het die amateurteatergeselskap ATKV-tak PEAAT gehore geboei en laat lag met hulle toneelproduksies.  

Vanjaar vier dié tak sy 70ste bestaansjaar en daar gaan groot makietie gehou word.

“Ons is die oudste Afrikaanse amateurteatergeselskap in die land,” sê Emercia de Lange, takvoorsitter.

PEAAT staan vir Port Elizabethse Afrikaanse Amateur Toneelvereniging. Dit is gestig op 22 Maart 1951 in die sitkamer van die pastorie van die NG kerk PE-Wes in Port Elizabeth.

“Waar ’n organisasie normaalweg van krag tot krag gaan, het PEAAT letterlik van kerk tot kerk gegaan.”

Uit die staanspoor was die doel om in diens van die kerk en onderwys toneelstukke aan te bied en sodoende geld in te samel vir broodnodige sake.

“ATKV-tak PEAAT bied al vir 70 jaar ’n platform vir amateurtoneelspelers waar hulle, hulle passie vir teater kan uitleef. Ons bied geleentheid vir inwoners van Port Elizabeth om kwaliteitteaterproduksies op hulle voorstoep te sien,” sê Emercia. 

In 2005 is daar op ’n spesiale algemene vergadering besluit dat PEAAT voortaan as ’n ATKV-tak sou funksioneer.

PEAAT het oor die jare al 175 produksies op die planke gehad en regisseur- en dramakursusse by skole aangebied. Dit het ook ’n jaarlikse instelling geword om uit te reik na ouetehuise.   

ATKV-tak PEAAT het groot planne vir 2021 en beplan om die mylpaal – indien die Covid-19-pandemie dit toelaat – met drie produksies te vier.

Hulle beplan om ’n musiekblyspel saam met televisieaanbieder en sanger Willem Botha te hou. Die teks moet nog gefinaliseer word.

In Junie word ’n tweemanstuk, Die Roadtrip, saam met plaaslike talent aangebied.

Die Roadtrip handel oor twee mans wat van hulle verantwoordelikhede wil ontsnap en onderneem ’n reis deur die land. Hulle besef gou dat die lewe in die laaste 20 jaar baie verander het en dinge rafel vinnig uit as die twee hul verlore jeug probeer herleef, met skreeusnaakse gevolge.

Dan is daar ook die tak se jaarlikse komedie. Verlede jaar is My boetie se sussie se ou – ’n opvolg van Ray Clooney se klug [wat deur Lefra Produksies vertaal is], My vrou se man se vrou – weens die pandemie en die inperking nie opgevoer nie.

“Ons hoop om dit hierdie jaar op die planke te sien.

“ATKV-tak PEAAT beteken geweldig baie vir die mense van Port Elizabeth. Danksy die passie van amateurteaterlui bestaan ons al 70 jaar lank.

“As ’n mens op die verhoog stap, vergeet jy van al jou sorge. En dit geld nie net die akteurs en aktrises nie, maar ook vir die gehoor. Om ’n bietjie te vergeet is iets wat ons veral in die tye bitterlik nodig het.

“Al ons lede sit hulle hart en siel in hierdie produksies in. Hulle word nie betaal nie en doen dit slegs uit die pure passie van die saak.

“Ons sien baie uit om ons 70ste bestaansjaar te vier,” sê Emercia.

The post Mediaverklaring: ATKV-tak PEAAT vier sewe dekades op die planke appeared first on LitNet.

Ronelda Kamfer (1981–)

$
0
0

Sêgoed van Ronelda Kamfer

Oor Afrikaans: "Hou op praat en doen iets! Skryf ’n boek, maak ’n cd; hei, maak ’n fliek, bou ’n brug en get over it!" (LitNet)

"Afrikaans is ’n taal; mense moenie dit ’n issue maak of die Groot Stryd nie. Daar is ander belangriker dinge om oor te baklei – soos om goeie mense te wees." (Die Burger, 27 Junie 2008)

"As dit ’n goeie gedig is en dit laat mense dink, is dit irrelevant oor wie dit gaan. Aan elke gedig in die bundel is daar ’n waarheid of ’n werklike persoon gekoppel, ongeag of dit ek is of iemand anders." (Die Burger, 27 Junie 2008)

"Poetry is vir my ’n vorm van self-expression. Om gepubliseer te word, is daarom nie dié belangrikste aspek van my digterskap nie, wél as iemand die gedigte lees en dit ’n emotional chord raak." (Die Burger, 27 Junie 2008)

"Die skryfproses vind vir my natuurlik plaas. Ek hoef nie in ’n hoekie te gaan sit met sagte musiek in die agtergrond nie. Net inspirasie waar ek ook al is." (Die Burger, 27 Junie 2008)

Oor die taal waarin sy skryf: "Kaaps het comic relief vir mense geraak; as iemand ’n joke wil vertel, is dit altyd in Kaaps. Dis baie irriterend, want die manier waarop ek skryf, is my manier van praat. Dis nie ’n grap nie; dis reality. En ek sal nie daarvan hou as dit ge-pigeonhole word nie, ingeboks word nie." (Die Burger, 27 Junie 2008)

Waaroor gaan haar gedigte? "In my 25 jaar het ek nogal heelwat dinge gesien en ervaar en ek skryf daaroor." (LitNet: onderhoud met Danie Marais)

"Van stories aandra weet ek baie. Ek bedoel: is dit nie maar wat skrywers doen nie? Stories aandra. Op die een of ander manier probeer hulle tog ’n storie vertel. Somtyds as ek niks het om te doen nie, maar ek wil ook nie gaan slaap nie, gaan staan ek maar buite by die hek, kyk so af in die straat en dink ’n klomp goed wat ek onmiddellik weer vergeet." (Rapport, 3 September 2009)

"Toe ek as ’n tiener begin gedigte skryf het, het ek selde digbundels gelees. Digters was nie cool nie, digters was nie street nie, digters was nie hip hop of rock ’n roll nie. Digters was boring en gedigte was te veel moeite, jy weet, te veel dinge." (Rapport, 30 Oktober 2009)

"Daar is duiwels in my drinkwater, die soort wat uit die hel verban is."

"Ek was 16 jaar oud toe ek die heel eerste keer gehoor het van die hele panic attack rondom Afrikaans. Ek is daai selfde dag biblioteek toe om vyf Afrikaanse boeke te trek – nie omdat ek gedink het die taal gaan sterf nie, maar omdat dit op die top tien uitleenlys was. Ek dink dit is makliker vir my om Afrikaans as ’n taal te sien en nie as ’n wapen nie. Daar’s 11 amptelike tale en die oomblik wanneer iets uitgesonder word, word dit vreemd en net nie kwaai nie. Afrikaans dra swaar aan haar verlede en as almal haar heeltyd vertel van hoe sleg sy was en wat in haar kas hang en hoe om te verbeter gaan sy nooit tot haar volle potensiaal kan groei nie. Hou op praat en doen iets! Skryf ’n boek, maak ’n cd; hei, maak ’n fliek, bou ’n brug en get over it! Afrikaans groei, gaan nêrens, hét reeds ’n ons. Laat die taal toe om ’n taal te wees en praat met mekaar oor goeters wat julle regtig pla."

"Ek het nie ’n ‘beef’ met Afrikaans nie. Ek is Afrikaans, so ek skryf in Afrikaans." (LitNet: onderhoud met Danie Marais)

"Jong digters moet net onthou dat om te skryf, werk is, en werk moet ’n mens altyd probeer goed doen.
Jy moet jou kuns respekteer en baie lees en leer van ander skrywers." (Die Burger, 11 Junie 2012)

"Omdat ek skryf, was my oupa die groot invloed omdat hy baie lief daarvoor was om stories te vertel. Net sy stem en sy manier van praat en sy manier van dinge vertel." In die roerende gedig "Oupa Thomas Daniel Granfield" skryf sy:
die swaarste vir my was nie dat my oupa dood was nie
maar
dat die aarde aanhou draai het
dat ek aanhou leef het
dat alles wat verkeerd was nog steeds verkeerd is

(Die Burger, 16 Julie 2011)

"Musiek is waar ek meeste van my inspirasie kry, maar ek het besef om te kan skryf, moet jy die geskiedenis ken van jou taal en lees wat al gedoen is. Dis useless om arrogant te wees en te sê ek lees nie al die ou wit mense nie, ek luister net rock ’n roll." (By, 16 Julie 2011)

Vir wie skryf sy? "Ek skryf vir mense wat nie belangstel in boeke of poësie nie, mense wat nooit by kunstefeeeste uitkom nie. Ek skryf vir gewone mense, soos my ma en haar skoonmaker- en fabriekswerkersvriende, daai generasie wat lewensvernederings vir hul kinders geborsvoed het, wie se kinders daarom hulle pyn en woede verstaan." (Die Burger, 25 Februarie 2016)

Die mooiste woorde wat haar ma ooit vir haar gesê het: "Toe ek na ’n oordosis pille gebroke wakker word – dit was in November 1999 – en my ma langs my bed staan en vir my sê: ' ... jy is my kind en jy bly my kind tot die dag wanneer die maan ’n ander naam kry.' Die maan ís nog die maan. En my ma sal altyd my ma bly." (Die Burger, 25 Februarie 2016)

Wat haar ma haar geleer het: "Ek dink as mens het my ma my geleer dat mense kompleks is, dat dit oukei is om nie al die antwoorde te hê nie. As digter het sy my lief gemaak vir lees, wat baie belangrik is. En sy het my gewys wat ware moederskap is, al leer ek nog elke dag." (Vrouekeur, 9 September 2016)

"Sonder ma's sou ons nie ’n wêreld gehad het nie. Almal soek seker maar na onvoorwaardelike liefde, iemand wat altyd daar is vir hulle. Almal het nie moeders in die tradisionele sin van die woord nie. Ek is altyd bewus daarvan dat die definisie van 'ma' vir almal anders is." (Vrouekeur, 9 September 2016)

Oor Afrikaans: "Natuurlik het Afrikaans ’n toekoms. Ons skryf en praat dit. Maar daar moet natuurlik nog baie gedoen word, veral op skoolvlak, ten opsigte van Standaardafrikaans en haar ander variëteite, sodat veral leerders in armer gemeenskappe meer van hulself in Afrikaans lees en hoor." (Vrouekeur, 9 September 2016)

"Skryf is nie vir my terapie nie. Skryf is my werk; ek skryf altyd net om die storie so suiwer as moontlik uit te kry. Ek vermy om te skryf oor goed waaroor ek nie kan praat nie." (Beeld, 9 Januarie 2020)

"Ek is onseker wie my gedigte lees. Ek hoop daar kom ’n tyd waar alle Afrikaanse stories normaal en toeganklik is en mense nie van hulle stoele sal afval as daar ’n bruin skrywer voor hulle staan nie. Ek ken baie lesers wat happen om wit te wees en my werk kan lees sonder om te voel ek attack hul fragile ego's." (Beeld, 9 Januarie 2020)

Hoe maak mens die sprong van digkuns na drama? "Ons is skrywers – dit is ’n baie natuurlike proses. Jy skryf iets, nie noodwendig vir een spesifieke vorm nie." (LitNet)

die baas van die plaas (vir Mammie)

ek het ’n ouma
wat net een taal praat
sy vertel my stories van baas Willem
en dr Metzler
hoe goed baas Willem vir haar was
sy kon altyd eerste kies
watter ou klere sy wou hê
sy vertel van myle se stap dorp toe
en hoe baas Willem haar voor
in die bakkie laat sit het
baas Willem het gesê haar kinders
hoef nie standerd 10 te maak nie
hulle gaan mos op die plaas werk
en help met die kinders grootmaak
dr Metzler het gesê
my ouma se kinders confuse hom
hulle’t ’n immorality in hul oë
hy sê my ouma kan dankie sê
die laaste een is doodgebore
daai een se naam sou Judas gewees het.

Gebore en getoë

Ronelda Sonette Kamfer is op 16 Junie 1981 in Blackheath in die Kaapse Skiereiland gebore. Op driejarige ouderdom gaan bly sy by haar oupa en ouma, Thomas Daniel en Sarah Granfield, wat op ’n appelplaas by Grabouw gewerk het. Sy is terug na haar pa en ma, Gertruida en Ronald, in Blackheath toe sy tien was. Hulle verhuis later na Eersterivier op die Kaapse Vlakte, waar sy eerstehands kennis maak met die berugte bendekultuur. ’n Skoolmaat is voor haar oë buite die skool in kruisvuur dood geskiet. Ronelda se ma is op Moedersdag 2011 onverwags oorlede weens breinvliesontsteking.

Ronelda vertel aan Annemarié van Niekerk (Die Burger, 25 Februarie 2016) dat daar nie altyd ’n nou band tussen haar en haar ma was nie. Haar ma kon altyd maklik vir Ronelda sê dat sy lief is vir haar, maar Ronelda self kon eers in haar tienerjare "affectionate" teenoor haar ma raak. "Ek dink dis omdat ek van kleins af sterk en onafhanklik moes wees. As jy klein is en jy sien nie jou ma gereeld nie, is daar half ’n ongemaklikheid tussen julle. My ma moes altyd werk om die pot aan die kook te hou, en ek moes van kleins af by my ouma of by oppassers bly."

Ronelda se leesgewoontes en –patroon het by haar ouma en oupa se huis sy beslag gekry. Dáár het sy werklik begin lees en dáár het haar persoonlikheid ook sy beslag gehad. Haar waardesisteem wat gebaseer is op eerlikheid en dat jy teenoor ander moet optree soos jy wil hê hulle moet teenoor jou optree, is in haar ouma se huis vasgelê. "Ook die belangrikheid van familie is in my vormingsjare by my ingeprent – en dat mens nie altyd moet vinger wys en jou circumstances moet blameer nie," vertel sy aan Murray la Vita (Die Burger, 27 Junie 2008).

Murray la Vita vertel verder: "In haar ouers se huis is daar kunsafdrukke teen die muur en ’n aantal bofbalpette wat by die deur hang. Aan die kombuismuur se kant hang ’n babaportret van Ronelda; teen die ander kant ’n portret van haar as ’n opgeskote dogtertjie, en op die vertoonkas is daar talle latere foto’s van haar. Sy spot dat die sitkamer ’n ‘Ronelda shrine’ is. En sy lag: graag, en maklik, en lekker. Kou bubblegum regdeur die onderhoud. Haar tongring wys soos wat sy praat. Haar intense oë deurdring jou."

Ronelda skryf haar eerste gedigte as ’n tienderjarige as ’n manier om aan haarself uitdrukking te gee.

Oor haar ma en haar stories vertel, skryf Ronelda (Rapport, 3 September 2010): "So nou, op daardie dae wanneer ek rondhang en eintlik besig moet wees met skryf, staan ek by die hek en vat notas van die goed waaroor die mense praat, nie juis van dit waaroor hulle praat nie – dit sal te skandalig wees vir publikasie – maar oor die manier waarop hulle dit sê.

"Neem nou maar my ma en die vrou langsaan, met hul ‘geheimsinnige’ manier van ’n storie oorvertel, ’n manier – wat nou vir my baie duidelik is – wat deur die jare aangeleer is by hul ouers en tantes en wie weet dalk ’n paar ooms.

"Deesdae voel ek nogal ’n bietjie spyt dat ek altyd my ma en anties se ‘skinnersessies’ vermy het. Terwyl hulle in die voorhuis, kombuis of waar die lig ook al reg val, vergader het, het ek eerder in my kamer gaan sit met Dylan Thomas en daar gedink oor skryf. Iets sê my nou ek kon miskien meer by my ma-hulle geleer het oor skryf as by Dylan Thomas. In die ongeskrewe verstandhouding tussen vroue en dié in wording het ek juis by hulle die basiese goed geleer: ’n dame lag met haar mond toe, sit met haar bene gekruis, sy mag insit in die skinder solank sy weet om nie in te chime nie, om nie tande te tel nie, nie ‘oor’ te vertel nie ... So waar anders, hoe gaan ek leer van oorvertel?"

Ronelda matrikuleer in 1999 aan die Eersterivier Sekondêre Skool.

Verdere studie en werk

Na skool werk Ronelda as verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskappy. In 2010 was sy ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland met die digter Antjie Krog as een van haar professore.

In 2005 het ’n vriend van haar, Richard Roberts, haar aangepor om van haar gedigte vir Nuwe Stemme 3 voor te lê. En soos sy self sê: "Daai was basies die begin van alles." (Die Burger, 27 Junie 2008). Van haar gedigte is later ook opgeneem in My ousie is ’n blom en Bunker Hill.

Uit die meer as vier duisend gedigte wat die samestellers, Antjie Krog en Alfred Schaffer, vir keuring moes lees, het twee van Ronelda se verse, "Bedrewenheid" en "Kuns en Culture", haar in dié bundel laat debuteer. Die samestellers was só beïndruk met haar verse dat hulle drie maal in hulle "Verantwoording" Ronelda vermeld het. Nie net oor die manier waarop sy en ander daartoe bygedra het dat Kaaps se register wyer gemaak is nie, maar ook hoe hulle daarin geslaag het om hulle nuwe wêreld in hulle verse saam te bring en ook oor die wyse waarop hulle die taal wat die jeug praat, oorgedra het in hulle poësie.

"Dit is ’n Afrikaans waarvan die Engelse woorde nie in kursief verskyn nie," skryf Krog en Schaffer, "maar ingesluk deel van die brei van Afrikaans vorm wat skrynende ondertone met ironie bedek".

Krog en Schaffer skryf ook voorin Nuwe Stemme 3 hoe jaloers hulle is op die bruin Afrikaanse digters wat beskik oor die onontginde nuwe woordeskat, agtergronde en temas wat nou vir die eerste keer in Afrikaans gehoor word. En dit is hulle wens dat die digters met hulle verskeidenheid van sterk en nuwe stemme wat in Nuwe stemme 3 opgeneem is, "die droogte in Afrikaanse digbundels gaan breek en dat ’n bloeitydperk van opwindende debuutwerke op hande is".

In 2008 maak Ronelda S Kamfer se Noudat slapende honde die samestellers se wens ’n werklikheid. In 2007 nader Nèlleke de Jager van Kwela Ronelda vir ’n manuskrip en sy besluit om dit ’n go te gee. En so is Noudat slapende honde gebore. Nèlleke se opinie oor die gedigte is dat dit jou "soos ’n vuis in die maag slaan. Sy werk vér verby woorde." (Die Burger, 27 Junie 2008)

Hierdie is ’n debuutbundel wat ’n mens opgewonde maak. Dit verskyn op ’n tydstip dat digbundels al minder gepubliseer word en toe daar ’n tekort aan nuwe, maar veral jong stemme in Afrikaans is: "Kamfer se gedigte is vreesloos, en skram nie weg van taboe-onderwerpe nie. Sy skryf veral oor tragedies wat alledaags geword het in die wêreld waarin sy haar bevind – dwelms, druglords, en kinders wat doen wat hulle nie hoef te doen nie. Kamfer se gedigte is tegelyk toeganklik en onkonvensioneel. Sy is ’n sterk nuwe stem in Afrikaans. ’n Vonds." (Die Burger, 27 Junie 2008)

"Dit voel vir my vreemd," vertel sy aan Die Burger (27 Junie 2008), "omdat baie ou gedigte is wat ek net afgerond het. Maar ek voel ook trots en pleasantly surprised, want dit is iets waarop ek nie prepared was nie, maar tog gewillig."

Haar inspirasie kry sy deels uit haar liefde vir rockmusiek en rap en van haar heroes is die digters Derek Walcott en Charles Bukowski wat sy voorin die bundel aanhaal. Sy vertel aan Danie Marais op LitNet dat sy mal is oor Bukowski se skryfstyl, "sy houding en die feit dat hy vreesloos skryf – reguit en tot die punt".

Oor Bukowski vertel Ronelda in Rapport van 30 Oktober 2010 ("Onder my literêre laken") dat hy nie die soort skrywer is wat jy nog moet reg lees om te besluit of jy vir of teen hom is nie; hy is ja of nee en as gevolg hiervan diskrimineer sy teen hulle wat nie van hom hou nie. "Een van die redes waarom ek so erg is oor Bukowski, is omdat sy werk sonder moeite lees. Hy doen nie iets pateties soos om ’n gedig te pleeg nie of nog erger – te gaan sit diep in die kamers van die hart en een te word met die skryfproses nie. Nee. Hy doen twee van my gunsteling-dinge: ‘I write what I like’ (Steve Biko) en ‘I write what I see’ (Lupe Fiasco). [...]

"Dit is die eenvoudige eerlikheid wat my vashou; niks is mooi nie: ‘Pretty words like pretty ladies wrinkle up and die’ (uit sy ‘A trick to dull our bleeding’). Elke keer as ek enigiets van Bukowski lees, voel dit soos die eerste keer. Gedigte, stories, prosa, opstelle – die hele wêreld van Bukowski is so disgusting en aantreklik gelyk. Hy is lelik, vuil, vet en varklik, maar sy woorde is helder, seepglad en verskiet soos ’n ster. [...]

"Hy laat jou verstaan dat hy die digter is en jy die leser; hy laat jou sien presies wat hy wil hê jy moet sien. Dit wat Bukowski met woorde doen, is amper onregverdig – hy skryf met ’n vermetelheid waarvan ek net kan droom. Hy is my gunstelingskrywer omdat daar nie ’n einde aan sy ellende is nie. Hy het alles gebruik wat veronderstel was om hom te vernietig en vir die wêreld teruggegee:

peace of mind and heart arrives when we accept what is
having been born into this strange life we must accept
the wasted gamble of our days and take some satisfaction in the pleasure
of leaving it all behind. (Uit: ‘Mind and heart’)

"Net soos ek nie van NP Van Wyk Louw hou nie, is Charles Bukowski nie vir almal nie. Maar as daar een skrywer is wat sy middelvinger vir die wêreld gewys het, is dit Bukowski. Hy het die verskille tussen rock stars en losers opgehef – soos Leonard Cohen gesê het: ‘He brought everybody down to earth, even the angels’. Bukowski het my geleer daar is plek vir almal, en mooi kan somtyds nogal lelik wees."

Ook Antjie Krog is iemand van wie Ronelda hou, want sy was die eerste digter op hoërskool wie se werke Ronelda nie vervelig gevind het nie. "Toe ek haar werk ontdek, het ek geweet dat poësie nie veronderstel is om gekompliseerd of vervelig te wees nie. Ek hou ook nogal van Koos Kombuis."

Oor die dwelmverwysings in die gedigte het sy net die volgende te sê: "Dis maar net ’n geval van been there; done that. Dit was deel van my eksperimentele fase, en ek veronderstel dit het my wyser gemaak. Nou oordoen ek niks meer nie, want te veel van enigiets is nie goed vir ’n mens nie, glo ek." (Die Burger, 27 Junie 2008)

Noudat slapende honde se voorlopige titel was Vergewe my, maar ek is Afrikaans. "Ek was een oggend op pad werk toe," vertel sy aan Danie Marais (LitNet), "en toe ons so verby ’n construction site ry, was daar graffiti teen die muur met dié woorde. Ek het skielik gevoel soos die klein kindjie wat die eerste keer haar veters reg vasgemaak het, maar wie se ouers te besig was om op mekaar te skreeu om dit op te let. Vir my beteken dit basies om nie skaam te wees oor watter dialek jy praat nie; om nie weg te probeer hardloop van jou agtergrond en verlede nie, en bowenal, om nooit minderwaardig teenoor enigiets of enigiemand te voel nie."

Charl-Pierre Naudé skryf op Poetry International Rotterdam se webwerf dat Ronelda met haar gedigte skerp fokus op die "bruin gemeenskappe" wat op die rand van die samelewing woon. "This shines on the racial faultline that continues to divide Afrikaner culture and on that uneasy territory where the Afrikaans language was integrated into the so-called Coloured community long before white Afrikaners claimed it as the flagship of their nationalism and identity."

Vir Naudé is daar ’n skynbare teenstrydige kinkel in haar sterkste werke wat die leser nie maklik kan mislees nie, maar vir diegene wat dit wel raaksien, word alles duidelik. Dit is haar suiwer liriese krag – sotto voce, maar beginselvas. Haar poësie kan ook beskryf word as ongekunsteld, vars, rou en intelligent.

Naudé gaan voort: "Her best poems create a sense of inevitable expression, as if, despite the manifest freshness, they have existed since the beginning of time. However, it is not only in expressive power, which often characterises the work of younger poets, that she shines, but also in her furtive, seering insight, not least into character. This gives the impression that she has a latent poetic reservoir. A quiet irony starkly underlies much of what she has to say. In the tone of her reserve lies a sting that should not be underestimated, but this is not ‘political poetry’. It is, rather, political reality experienced in intensely private terms."

Noudat slapende honde het die Afrikaanse literêre toneel met ’n slag getref. Dit is in 2009 bekroon met die Eugène Marais-prys vir Poësie wat sy met ’n ander jong digter, Loftus Marais, deel. Dat sy dié prys ontvang het, was vir Ronelda ’n groot eer. Heilna du Plooy, een van die beoordelaars, het gesê Ronelda se bundel is aangrypend en die simplisiteit, direktheid en dinamiek van die gedigte tref die leser.

Loftus Marais wen die Ingrid Jonker-prys in 2009, met Ronelda se Noudat slapende honde ’n baie sterk naaswenner. Een van die beoordelaars vir laasgenoemde prys het gesê "dat haar poësie gekenmerk word deur belydenis, maar dan ’n belyding wat ’n gat deur die bladsy brand". Nog een het dit só gestel: "’n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taaldemografie praat deur haar in ’n besondere sterk stem op ’n manier soos nog nooit tevore nie."

Die opskrif van Joan Hambidge se resensie in Beeld van 22 September 2008 lui: "In ’n sterk stem basuin sy haar sê uit." Hambidge beskou dit as ’n debuut wat geen kompromisse maak nie en self die leser ontsenu met die wyse waarop die lewe in Blackheath uitgebeeld word. Die Afrikaanse is in ’n lekker loslit, alledaagse taal geskryf. "Die gedigte subverteer die gedagte van die mooi gedig of die vers as ’n soort skoonheidstroos. Dit word gekenmerk deur ’n soort woede en opstand wat herinner aan Krog se ‘ek skryf omdat ek woedend is’."

"Die bundel lewer sterk sosiale kommentaar sonder om ooit die digterlike eise te verontagsaam. Hierdie digter het kennelik kennis geneem van haar tradisie – die motto’s verraai dit – en sy skryf helder oor haar ervaring van die lewe. Die harde werklikheid van ’n tussen-in-bestaan word vir die leser verduidelik: hoe die verlede die hede kleur en jong mense swaar dra aan dit waaraan hulle nooit deel was nie. [...] Dis beslis ’n talent om dop te hou. In haar eie woorde: sy weet presies waar sy staan met haarself en die wêreld. Sy het ook iets om te sê, wat die bundel nóg meer verfrissend maak."

Op LitNet meen Steward van Wyk dat dit gedigte is "wat inhoudelik ’n mens laat regop sit en ongemaklik skuif in die stoel, ’n ‘hardcore comedown experience’, as ek haar uitdrukking so mag gebruik. Dit verwoord ’n ervaring wat op die grense van middelklasbestaan beleef word en spreek van ontgogeling, die verlies van ’n prille, onskuldige jeug, ontvlugting in dwelms, moontlik dood, soos in ‘OD 1’ en ‘OD 2’, verbrokkelde verhoudings met afwesige pa’s in ‘Pick n Pa’, uitsigloosheid en verval. ’n Mens hoor die stem van jong werkersklasvroue, wit, bruin en Afrikaans, in ’n subtiele en wrang aanklag teen die samelewing wat hulle tot statistiek en opskrifte in poniekoerante reduseer – vgl ‘Lolla’ en ‘goeie meisies’. Dit word egter goed gebalanseer deur vertellings oor vertroeteling en geborgenheid binne die eie groep – vgl ‘kliek van sewe’."

"Wat bybly, is die maatskaplike inslag van die verse wat die fokus op die nood op die Vlakte laat val. In ‘Klein Cardo’ en ‘Dis vroeg winter in die Kaap dié jaar’ word die uitgelewerdheid aan bendegeweld, dwelmsmouse en armoede verbeeld, maar op ’n ingehoue wyse wat paradoksaal die skreiendheid daarvan aksentueer. Die politieke onderbou van hierdie sosiale onreg is onmiskenbaar, soos in ‘Klonkies’, en word juis deur die voortreflike gebruik van ironie en onderbeklemtoning na die oppervlak gebring.

"Vertellings van miskenning en verontregting is welbekend in die Afrikaanse literatuur en in ons politieke onderbewuste. Dat Kamfer mens weer opnuut daarmee boei, is toe te skryf aan haar skryftalent.

"Die minimalisme, bedrieglike eenvoud en strak versbou van sommige gedigte herinner aan Valda Jansen se werk – vgl haar ‘Vrye vers’ en ‘toe skoene’ Sy maak voorts effektief gebruik van enumerasie en herhaling wat, soos by Adam Small, as ’n refrein werk wat die aanklag versterk. Daar is dikwels ’n mooi reël of twee wat sommer klaar staan, soos ‘Ek wil so erg myself saam met jou wees/ dat my vriende moet sê dat ek anders is’. Alhoewel dit ’n dunnerige bundel is, kry mens die indruk dat Kamfer nog ’n wye register het om te ontgin."

"Die impak van Kamfer se debuut kom voort uit ’n miskende wêreld wat sy na die sentrum bring, en sy is terdeë bewus van haar ambivalensie jeens Afrikaans en digterskap, soos sy te kenne gee in die openingsgedig, ‘Waar ek staan’, maar veral pittig uitgedruk in die woorde van die oom in ‘ek soek ’n goue sterretjie’:

terwyl ek so staan en preek sal ’n stink kwankiedronk oom
my voor God uitkak en sê jy is maar net ’n hotnot
met ’n goue sterretjie voor jou kop
moenie met jou verkakte gedigte na ons toe kom nie
gaan vertel daai kamtige sad stories van jou vir die mense
wat die reëls maak
jy ruik elk geval nes hulle.

"Ek sien daarna uit dat sy hierdie ambivalensies verder oopskryf. Die toets is nou om hierdie debuut op te volg, noudat slapende honde wakker is!"

In Die Burger van 25 Augustus 2008 skryf Joan Hambidge dat toe sy die eerste keer Ronelda se gedigte in Nuwe Stemme 3 gelees het, sy geweet het dat daar ’n nuwe vrouestem in die Afrikaanse poësie is. "Haar gedigte breek deur alle grense. Taal, die kanon, fatsoenlikheid, noem maar op. Sy spreek alle kwinte en kwale aan: familieskap, gender, ras, politiek, dwelms, bloedskande, armoede, verwerping, buitestanderskap, jeugervarings in Blackheath ... […]

"Dit is iemand wat deur baie pyn beweeg het en alle selfbedrog minag. En paradoksaal is dit juis die weerloosheid wat agter alles skuilhou wat tot my gespreek het. Sy is al met ’n jong Antjie Krog vergelyk. En dit ís so. Dis praatverse, vrye verse, ’n ampere traak-my-nie-agtigheid. Maar om só te kan skryf, moet jy baie gelees het. En geleef het. (Bukowski en Walcott pryk as motto’s.)"

Daar is niks in die bundel waarvan Hambidge nie gehou het nie – van die voorblad tot die ongelooflike gedigte. Die ontgogeling en onbeskermdheid kan soos ’n swart draad deur die bundel getrek word en die leser kan aanknoping vind by die buitestaanders en uitgeworpenes.

"Die vader des huises en verskillende soorte pa’s word raak beskryf. Die afwesige pa is egter die een wat die dogter die meeste verwond. [...] ’n Mens vind lewensinsigte wat jou ontstig. Die desperate poging om in die nou te leef, word gekelder deur die onmoontlike van vergeet. Die nu­we geslag is in elk geval te jonk om te weet, maar te sinies om te aanvaar dat alles reg is. Oor Afrikaans het sy ’n mening. Oor die boereooms ook. ‘Vergewe my maar Ek is Afrikaans’ speel klaar met etlike mites oor aan wie Afrikaans nou eintlik behoort:

ek praat julle taal 
ek eet julle kos 
ek bly in julle vaderland 
ek drink julle wyn 
ek sing julle musiek 
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns.

"Dis ’n aangrypende debuut. Praatverse. Vry, loslit, keelgrypend. Ek lees hierdie bundel op GRA-dag, 14 Augustus, en dink hoe het Afrikaans nie verander en verruim nie.

"Waarvoor moet sy oppas? Dat minder begaafde woordvrate haar tot ikoon verhef en haar stem so mag stilmaak. Kwela Boeke moet geluk gewens word met hierdie helder, suiwer debuut. Ek was laas met Jeanne Goosen se Elders aan diens so opgewonde oor ’n digbundel.

"Lyk my die ongekunstelde, uit-die-hart-uit-gedig is aan die terugkeer. Dis ’n dun bundeltjie. Maar elke gedig ontplof soos ’n klapper. Ja, luister hoe tjank die honde oor die geraas."

In Tydskrif vir Letterkunde (Februarie 2009) sluit TT Cloete se resensie af: "Hierdie bundel wys vir ons ’n aandoenlike wêreld, so aangrypend dat die digter nie al die lyflike taal nodig het waarmee sy die leser wil wakker skok nie. Haar vers steun ook nog te veel op die aandoenlike van die onderwerp self en is daarom dikwels nog onvolgroeid en fragmentaries. Maar desnieteenstaande bly dit ’n pakkende bundel gedigte. Ondanks sekere tekortkominge of nog ’n sekere onvolgroeidheid weet Kamfer tóg soos sy in die openingsgedig sê baie goed waar sy staan."

Charl-Pierre Naudé (Rapport, 13 Augustus 2008) meen dat ’n debuutbundel "’n gebeurtenis in ’n kleiner letterkunde is". Daarom word baie van hulle "hopeloos oorspeel. Ander se voortekens word onderskat." Hy vervolg: "Noudat slapende honde – ’n veelseggende titel wat die leser laat raai – is die debuut van Ronelda S Kamfer, van vroeg in die twintig. Hierdie lakoniese, wars, gedrewe liriese digstem gaan nie beteuel word volgens projeksies nie. Dit dwing jou tot stilstand, ondanks sommige voorbehoude.

"’n Raps meer as ’n derde van die gedigte is besonder geslaag en onthoubaar. Dit bevat minstens een gedig wat, konserwatief gesproke, briljant, is: ‘Die huisvrou’ oor ’n hardwerkende vrou met die trots van diegene wat dit minder breed het wie se voorstedelike neurose ’n onverwagte wending neem. Dis ’n gedig wat, soos die bestes, ’n vermoë toon vir die uncanny, verrassende afloop, wat Kamfer baie goed doen, dikwels met ’n skok-effek. […]

"En selfs die gedigte wat nie in hul geheel slaag nie, het stembuigings, karaktergrepe of streek-, subkulturele en volkse segswyses wat oor ouderdomsgrense sal bekoor en die Afrikaanse digkuns vernuwe. Die beste gedigte wek ’n indruk van onvermydelikheid, asof dit nie nie gesê kon gewees het nie. En die direkte segging laat alles ongemaak klink: asof gevonde, nie geskryf nie.

"Dis seggingskrag wat skitter, iets waarvoor jonger digters meer bekend is. Maar dan dra van die gedigte ook die saad van eienskappe wat vir die langer duur belofte inhou: sosiale en karakter-insae, en vertel- en besinningsvermoë, byvoorbeeld. […]

"Kamfer bring die steeds onderbeligte kultuurwêreld van die bruin woongebiede tot lewe, tot in die senuwee. Die gedigte bevat indirekte politieke kommentaar wat op eie risiko veronagsaam kan word. Maar nooit aangeplak nie. Meestal kom dit deur ’n baie persoonlike belewenis liries te vertel. [...]

"Die bundel is aan die dun kant, asof die uitgewer publikasie gehaas het. ’n Groter gerf van die beste verse sou welkom gewees het, maar ’n besondere toekoms wink vir hierdie nuwe digter op Kwela se kerfstok."

Een van Ronelda se gunstelinggedigte in die bundel is ‘Klein Cardo" en dit is opgedra aan twee jong slagoffers van geweld op die Kaapse Vlakte, Alfonso Cloete en Valencia Farmer. Dit begin só:

Cardo was gebore
maar niemand het hom verwag nie
sy ma was sestien
en sy pa gemeenskapsbouer vannie jaar
sy ouma was ’n cashier
en sy stiefoupa het gedrink virrie pyn.

en eindig op treffende wyse:

Die aand voor Cardo se eerste dag op grootskool
het die Schoolboys klappers innie pad geskiet
Cardo het by die venster uitgeloer
die koeël het in sy keel gaan sit
sy ma hettie gehuil nie
die politicians het ’n boompie geplant
en die Kaapse Dokter het hom uitgepluk
en gegooi waar die res vannie Kaap se drome lê
oppie vlaktes.

By die Aardklop Kunstefees in 2008 tree Ronelda saam met onder andere Andries (Roof) Bezuidenhout op. Daar was nie genoeg kaartjies vir almal wat dit wou bywoon nie. Andries vertel: "Ronelda het ’n encore gekry. Waar in jou lewe het jy al so iets gesien? Al die kaartjies vir ons vertoning was uitverkoop en dit saam met Ronelda se encore maak my opgewonde. Dit wys my daar is ’n energie om die digkuns." (Die Burger, 21 Maart 2009)

Oor haar gewildheid sê Ronelda: "Ek dink dis omdat ek oor dinge skryf waarmee jongmense kan identifiseer. Soos bendegeweld en armoede. Ek noem my gedigte stories, omdat ek ander mense se stories deur my gedigte vertel. Daar kom gereeld mense van my gemeenskap wat sê hulle het hul storie herken. Dit beteken vir my veel meer as enige encore." (Die Burger, 21 Maart 2009)

In 2010 verskyn die Nederlandse vertaling, Nu de slapende honde, vertaal deur Alfred Schaffer, by Podium Uitgewers. Erik Lindner skryf in De Groene Amsterdammer, een van die vernaamste literêre publikasies in Nederland: "De gedichten van de Zuid-Afrikaanse Ronelda S Kamfer zijn des te aangrijpender omdat ze vrij rechttoe, rechtaan anekdotes uit het dagelijks leven vertellen."

Na hy kortliks aandag aan die bloemlesing De 150 mooiste gedichten uit het Spaans gegee het, swaai sy fokus volledig na Ronelda: "Een verrassing is Nu de slapende honden van Ronelda S Kamfer, een jonge dichter uit Zuid-Afrika die vertaald is door Alfred Schaffer [...] De bundel is volop een debuut. Een jonge stem die zich presenteert. Veel gedichten bestaan uit gruwelijke anekdotes, koel en ingehouden gebracht: ‘tegen de eerste pauze was er een lijk in de Skoolstraat/ een miskraam in mijn klas’. Het effect van de gedichten van Ronelda Kamfer is vooral dat je al lezend steeds beter doorkrijgt dat er geen woord gelogen is van de familie- en buurtverhalen die ze opdist."

Na ’n besonder knap oorsig van die bundel – met gepaardgaande kontekstualisering van bepaalde gedigte – eindig hy met die volgende samevatting: "Documentair, aangrijpend, confronterend. Nu de slapende honden is een zeldzame kans om een dichter op een heel andere plek aan het werk te zien, die van opvallend nabij tegen je praat."

Dit is beslis ’n groot kompliment vir een van Afrikaanse se opwindende digters van die hedendaagse geslag.

Ronelda vertaal self ook heelwat van haar gedigte in Engels.

In 2010 woon Ronelda die 14de jaarlikse Poësiefees van Afrika in Durban by en bekoor die gehoor in die Elizabeth Sneddon-teater met haar gedigte waarin sy die lewens en drome van die mense op die Kaapse Vlakte uitbeeld. Sy is ook uitgenooi na die Winternagfees in Den Haag saam met Antjie Krog. Van haar gedigte is in Frans en Portugees vertaal en word later dalk ook in Turks vertaal.

In Februarie 2011 is Ronelda erg getraumatiseer nadat die polisie een aand – die tweede keer in ’n week – haar huurhuis "afgebreek" het. Karin Burger skryf in Rapport (5 Februarie 2011) dat die polisie glo op soek was na dwelms, onwettige wapens en gesteelde goedere in die huis wat Ronelda en haar vriend Nathan Trantraal met Nathan se broer en nog vyf ander mense in Athlone deel.

Ronelda was toe vyf maande swanger. Ronelda vertel dat sy so groot geskrik het dat sy huilende op die vloer gelê het. "Een van die polisiemanne het gesê hy sal my iets gee om oor te huil."

Ronelda gee raad aan voornemende jong skrywer (Die Burger, 25 Maart 2013): "Toe ek op skool was, was ek ’n erge taal-geek. Ek het opgewonde geraak oor opstelle skryf. Ek het boeke vol opstelle, gedigte en diaries vol geskryf. Eendag stuur my vriend Richard my gedigte in vir ’n kompetisie vir nuwe stemme. Ek het toe nog as kassier by Clicks in Somerset Mall gewerk; ek was daai meisie wat jou gevra het of jy ’n clubcard het. Maande later bel Tafelberg-Uitgewers my en sê my gedigte gaan in Nuwe Stemme 3 opgeneem word.

"Drie jaar later sit ek in my kamer en skryf aan my debuut, Noudat Slapende Honde, sonder ’n rekenaar, sonder dat ek literatuur ge-swot het, sonder dat ek Breytenbach, Small of Van Wyk Louw aanbid het. Ek het toe nog elke dag bedpanne in die Mediclinic aangedra.

"Die moral of the story is dat niemand jou kan leer skryf nie, dat jy niks nodig het om jou ’n beter skrywer te maak nie. Ek het geskryf en gehoop wat ek weet oor die lewe sal genoeg wees. Ek wou ’n goeie boek skryf, ek wou ’n boek skryf wat almal kon lees.

"Om te skryf need ’n mens eintlik maar net twee goed: eerlikheid en ’n storie, jou eie storie, een wat jou sal deurdra, deur die tye wanneer almal vir jou lag, die tye wanneer almal by jou verbykyk en jou minag. Skryf soos jy wil skryf; niemand kan dit van jou af wegvat nie."

Ronelda is op Maandag 4 Julie 2011 met Nathan Trantraal getroud, ook ’n digter en grafiese kunstenaar. Hulle het ’n dogtertjie, Seymour Gertrude. Ronelda en Nathan vertel aan Willemien Brümmer (Die Burger, 16 Julie 2011) oor hierdie vinnige troue: "Ons beplan nooit goed voor die tyd nie; toe besluit ons net die Maandag, oukei, ons het tyd vir trou.Ons het darem al die Vrydag voor die Maandag besluit. En toe kry ons gelukkig iemand wat willing was om ons te trou."

As hulle praat, los Nathan en Ronelda mekaar af asof hulle uit een mond praat. "Ons het na home affairs in Bellville gegaan, want ons het nie geweet precisely hoe dit werk nie," sê Nathan. "Ons het baie lank daar gestaan, en toe begin ons foto’s neem van mekaar, en toe het die vrou wat daar werk seker uitge-figure ons wil trou. Sy’t gesê: ‘Vra dié man wat hier staan. Hy trou altyd mense.’"

Ronelda val in: "Dit was ’n random marriage officer. Ons het nie geweet of hy legal is nie, maar hy’t ons sommer hier kom trou Maandag. Daar was nie juis gaste nie, en ná die tyd het Nathan ’n post bachelor’s party gehou en sit en Guinness drink op die bank. Ons sê vir almal dit was nie ’n troue nie, ons is net getroud."

Seymour is minder as twee maande na Ronelda se ma se afsterwe gebore. Oor hierdie moeilike tyd in haar lewe vertel sy aan Annemarié van Niekerk: "Gelukkig het ek vir Nathan gehad. Hy was baie beskermend teenoor ons twee. Hy het my toegelaat om so mal en irrasioneel te wees soos wat mens maar is as jy hartseer én hormonaal is."

Oor hoe sy haarself as ma sien, verduidelik sy aan Van Niekerk dat haar ma haar goed voorberei het vir die dag wanneer sy dood is, "en dis al wat regtig tel, hoe jy jou kinders voorberei om sonder daai beskermde skild te kan aangaan. Ek probeer my bes om Seymour weerbaar te maak."

Ronelda voel dat sy en Nathan mekaar aanvul, vertel sy aan Marlene Malan (Vrouekeur, 9 September 2016). "Dis baie belangrik vir ons om mekaar se werk te verstaan. So, die skryfproses behels ’n gedurige oor-en-weer-lees en kritiek. Ek publiseer niks voor hy dit nie goedgekeur het nie en hy doen dieselfde."

"Ek dink die verskil tussen ons werk is dat ek altyd die vroulike ervaring probeer pen. Ons kom uit baie eenders omgewings, so die stories het ’n gewoonte om hulself inmekaar te vleg. Elke mens ervaar die lewe anders, omdat so baie dinge ons ervarings beïnvloed. Hoe jy die lewe sien, het baie te doen met hoe jy dit ervaar. Soms skryf ek ook goed waaroor hy nie kan nie, al het ons dit albei ervaar. Daar is so baie dinge wat hy weer beleef het, waaroor hy maklik skryf, en ek nie. Ek dink vir ons albei is dit belangrik om toeganklik te skryf, dat lesers kan 'relate'."

Sedert 2016 woon Ronelda en haar gesin in Makhanda in die Oos-Kaap. Sy vertel aan AJ Opperman (Beeld, 9 Januarie 2020) dat sy baie van die stilte daar hou, sy kry nou die kans om oor dinge te dink en dit te verwerk.

Ronelda se tweede bundel, grond/Santekraam, is in 2011 uitgegee, weer deur Kwela, en geïllustreer deur die broers Nathan en André Trantraal. Sy vertel aan Rapport (5 September 2010) oor dié geïllustreerde digbundel: "Ons (sy en die Trantraal-broers) meen poësie moet voortdurend op nuwe, vars maniere aangebied word. Ons leef in ’n visuele milieu en sien geen rede waarom die digkuns nie ook meer visueel kan word nie. Só word dit toegankliker en is dit interessant om te sien hoe die twee mediums saamsmelt om iets nuuts en opwindends te skep."

Dit is nie die eerste maal wat hierdie idee gebruik word nie, sê sy. "Die konsep van geïllustreerde gedigte is baie oud. William Blake het dit onder meer gedoen en plaaslik het Breyten Breytenbach iets soortgelyks gedoen."

’n Belgiese webwerf het Ronelda gevra om ’n gedig oor haar skoene vir hulle te stuur, met ’n foto by, en dit het daartoe aanleiding gegee dat die drie van hulle besluit het om "iets anders" te doen. Die resultaat was die gedig "Splinters en Converse", met illustrasie deur die Trantraals.

grond/Santekraam het sy ontstaan gehad terwyl Ronelda in 2009 aan die Universiteit van Wes-Kaapland aan haar honneursgraad gewerk het. Antjie Krog, mede-samesteller van Nuwe stemme 3 waarin Ronelda gedebuteer het, was haar studieleier vir die kreatiewe gedeelte van die kursus. Ronelda vertel aan Willemien Brümmer (By, 16 Julie 2011): "Antjie was amazing, want sy wou my nie beïnvloed nie. Sy wou my heeltyd net hou soos ek is. Haar ding was net ek moet meer lees, want ek het baie min Afrikaanse digters gelees. Ek lees dieselfde digters oor en oor. Dylan Thomas en Charles Bukowski. Daai’s maar al en that’s it."

In grond/Santekraam word die storie vertel van Ronelda se ma, Gertrude Granfield, se familie. Die boek is ongeveer ’n maand na haar ma se dood, uitgegee. Hierdie tweede bundel is ’n "deurgekomponeerde eenheidsbundel wat haar vir goed ’n staanplek sal gee in die kanon van die hogere Afrikaanse digkuns. Dit is meer deurdag, die produk van ’n deurwinterde digter. Ná elke lees word nuwe betekenislae oopgevlek, met vergete stemme wat bo en onder water saampraat. Dis ’n wêreld waar meerminne skinner en afkopskepe roer," aan Willemien Brümmer van By (16 Julie 2011).

Oor die titel verduidelik Ronelda aan Andries Bezuidenhout op Versindaba dat die woord "Santekraam" uit die Nederlands afkomstig is en dat die "die res" beteken. Sy wou nie ’n boek skryf wat net oor grond of grondverskuiwings handel nie en het die woord in Nederlandse poësie raakgelees. Toe sy haar ma daaroor vra, het sy gesê dat dit ’n redelike outydse woord is. Die bundel handel dus oor "grond en die res wat daarmee saamhang".

Fred de Vries skryf in Rapport (1 Julie 2011) dat hierdie 42 gedigte van Ronelda hom sonder woorde gelaat het. "Hulle het my dae lank bygebly, rondgespoel in my kop, vrae laat opkom, nuwe vistas laat oopgaan. Hulle het by my gespook en my gepynig. Hier is ’n digter wat ongeag verwysings na popmusiek (Arcade Firs, Elbow) met ’n tydlose stem praat, wat wysheid anderkant die grense van haar ouderdom het (sy is in 1981 gebore). 

"Hierdie is gedigte oor konflik en verlossing, waarheid en leuens, wat diep in die siel en die geskiedenis van die land se ongesproke stories delf. Hierdie is volksverhale in vele lae wat die verlede, die hede en die onderbewuste saamsnoer. Kamfer neem verskillende persona aan, gebruik vele dialekte, neem ons na die Kaapse Vlakte, verlate vissersdorpies en die bodem van die see. Alles ewe moeiteloos. 

"Daar is ’n verblindende rykheid, nie net wat onderwerp betref nie, maar ook in die taal wat menings opper. Dis in die vorm en kadense, in die manier waarop sinne, woorde, letters en leestekens krul en draai (‘Mislukte Mitchy manmin staan op voor die spieël dis sy wens wat waar waar waar word word word’). Maar die toon is peinsend, nooit te oordrewe of oordadig nie – afgetrokke, selfs effens fatalisties."

grond/Santekraam lees vir Fred de Vries soos ’n "wettige weergawe van onwettige, verbode opnames, iets wat uit Amerika se Suide van die 1930’s kon gekom het. Dié is ’n moderne Suid-Afrikaanse weergawe van die ‘dust bowl blues’ van die liedjies van die katoenplukkers en chain gangs – ’n oproep tot medemenslikheid en begrip wat nooit gekunsteld of pateties aandoen nie."

Ronelda se grond/Santekraam is ook in Nederlands vertaal onder die titel Santenkraam. Haar Nederlandse uitgewers, Podium, het haar aan die einde van 2012 na Amsterdam genooi om die bundel bekend te stel en ook vir ’n gasskrywerskap in Athenaeum se Skrywershuis in Amsterdam. Ronelda is genooi na die Festival voor het Afrikaans in 2012 in Nederland, maar moes die uitnodiging van die hand wys nadat haar ma oorlede is. Sy en Nathan en ook hulle dogtertjie het 2013 se Festival voor het Afrikaans bygewoon.

In 2012 is Ronelda die ontvanger van die Kanna Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n Jong Stem by die jaarlikse KKNK. Vir Ronelda was die toekenning ’n toegif: "Dit beteken baie, veral omdat dit ’n toekenning is vir ’n jong skrywer. Om te skryf is vir my so ’n intieme en persoonlike ding dat ek die meeste van die tyd net bly is dat daar mense is wat dit lees, ek is dankbaar vir lesers, ’n verering is ’n bonus." (Die Burger, 25 Januarie 2012)

Kamfer is eenparig deur ’n paneel bestaande uit Steward van Wyk, Elmari Rautenbach, Anastasia de Vries en Frederik de Jager aangewys.

Ronelda se gedigte is al in Italiaans, Nederlands en Frans vertaal. In 2019 het die PEN Afrikaanse Vertaalfonds die befondsing vir die vertaling van Ronelda se gedigte in Frans goedgekeur. Éditions Caractéres sal ’n Franse vertaling van ’n keur uit haar bundels (Noudat slapende honde, grond/Santekraam en Hammie – almal Kwela Boeke) uitgee. Pierre-Marie Finkelstein, vooraanstaande literêre vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman, sal die vertaling behartig. Éditions Caractéres is in 1950 gestig en is ’n gerekende uitgewer van onder meer essays, poësie, romans en kunsboeke. Die uitgewery is ook bekend vir sy kunsuitstallings en skrywersbyeenkomste en beoog om ook byeenkomste rondom Kamfer se poësie te reël. Kamfer se werk het voorheen tot groot lof in Nederlandse vertaling verskyn (Uitgeverij Podium), en haar bundel grond/Santekraam is ook onlangs in Italiaanse vertaling uitgegee (Raffaelli Editore). (LitNet)

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het vanaf 19 tot 21 Januarie 2016 vir die tweede keer hul tweejaarlikse kongres vir jong navorsers, USAN (Universiteit Stellenbosch, Afrikaans en Nederlands) aangebied. Die kongres het dit ten doel om ’n platform te bied vir jong, opkomende navorsers waar hulle deur middel van referaataanbiedinge idees oor die taal- en letterkunde kan uitruil en sodoende kongreservaring opdoen ter voorbereiding van hul loopbane as akademici en/of navorsers.

Die twee hoofsprekers by die kongres was Alfred Schaffer (US) en Bassey Antia (UWK); beide lesings het aangesluit by Johan Hattingh se vertoog rakende veeltaligheid. Schaffer het kongresgangers meegedeel oor sy ervaring om die poësie van die digters Charl-Pierre Naudé, Antjie Krog en Ronelda S Kamfer in Nederlands te vertaal. Schaffer se vertaling van Kamfer se bekroonde debuut, Noudat slapende honde (2008), het iets nuuts vir die gemiddelde Nederlandse leser gebring: ’n werklikheid waaroor daar net in koerante gelees word. Hy het erken dat die vertaling van Naudé se poësie aansienlik makliker as dié van Krog en Kamfer is, omdat dit minder ideologies gelaai is. Wat die vertaling van Kamfer se poësie verder uitdagend gemaak het, was die groot aantal slengwoorde en die Kaapse taalregister wat so ’n sterk stem aan Kamfer se poësie verleen, en daarom meen hy dat vertalings van Kamfer, asook van Krog, se werk, altyd "onvertaal" sal voel. (LitNet)

Die Jan Rabie-Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir 2016 is aan Ronelda toegeken. Die bemaking behels dat dit ter ondersteuning van kreatiewe skryfkuns in Afrikaans moet wees en op daardie stadium was die bedrag R380 000. Dit word ook toegeken vir die skryf van ’n roman.

Ronelda was baie oorbluf dat die prys na haar kant toe gekom het. Sy het aan Jo Prins (Beeld, 18 Desember 2015) gesê: "Dit beteken baie vir my, dit koop beslis meer as tyd. Maar essentially, wat dit beteken, is dat ek sonder finansiële bekommernis ’n roman kan navors en skryf."

Dit prys word deur die Universiteit van Wes-Kaapland geadministreer en volgens hulle het Ronelda ’n "uitsonderlike voorstel ingedien met ’n weldeurdagte uitleg vir ’n beplande roman. Die agtergrond is plaaswerkers in die Wes- en Oos-Kaap en die beplande roman toon besliste belofte van varsheid en vernuwing in ’n bekende Afrikaanse literêre tradisie."

Vir Ronelda was die skryf van ’n roman iets wat nog altyd "onder die surface" gelê het. Maar dit is beslis ’n "werkersklasroman en ’n liefdesverhaal".

Sy sluit haar lesing wat sy aan die einde van haar termyn as ontvanger van die prys gelewer het, as volg af: "Iemand het my onlangs gevra wat dink ek van die klomp bruin skrywers wat nou gepubliseer word, toe sê ek ek dink dis te min en ek dink daar moet meer wees, daar moet báie meer wees."

"Die Duitse skrywer en filosoof Goethe het gesê: 'He who cannot draw on three thousand years is living hand to mouth', en ek dink daar is min wie enige begrip van die waarde van idees, kennis, ondervinding en geskiedenis het wie nie sal saamstem met daardie sentiment nie, maar ek wonder soms waar dit ons los, as bruin mense in Suid Afrika, want daar is so baie van ons geskiedenis wat nie oopgeskryf is nie."

"Ons is ’n gemeenskap wat nie net materially arm is nie, maar wie ook spiritually van dag tot dag lewe. Almal uit ons gemeenskap wat suksesvol word, is die uitsondering, en ons sukses kan net behaal word deur afsondering van ons eie gemeenskap. En ek glo dit is so omdat ons niks geskiedenis het om van krag te trek nie, want so baie van ons geskiedenis is van die rekord geskrap – ons herkoms, ons bydrae tot die veg teen apartheid, ons historiese pyn en humiliation, ons bydrae tot die kos en kultuur van die land."

"Daar is so baie lewens, ondervinding en kennis wat reeds verloor is. Daar is so baie van ons kultuur wat reeds uitgesterf het. En daar is geen monumente van klip, marble, brons of op papier vasgevang in die literatuur vir toekomstige generasies om dit weer te ontdek nie."

"Ek dink aan Kassiesbaai, en hoe tydens my navorsing vir Kompoun my oupa se laaste oorlewende neef, oom Hendrik, vir my sit gemaak het en toegelaat het om ons gesprek op film op te neem, omdat hy een van die laastes was wie ook sit gemaak was en ons hele familiegeskiedenis vertel was. Hy het geglo dat as jy nie weet waar jy vanaf kom nie, gaan jy dink jy kom van niks af."

"Ek dink aan al hierdie stories wat grootouers oorvertel het en hoe dit verlore gaan en al wat oorbly is Afrikaanse volksliedjies wat soos die taal herskryf word sonder die ware geskiedenis. Ons geskiedenis is afgekap, fragmented. Hele gemeenskappe is geskuif na die sykant in hul eie verhaal, hele lewens reduced na footnotes."

"Baie van ons hier is die afstammelinge van een van die oudste groep mense op die planeet, maar hierdie geskiedenis is geskryf in sand." (LitNet)

Ronelda se derde digbundel verskyn in 2016 by Kwela onder die titel Hammie. Oor die bundel het Rustum Kozain gesê dat die haar "reputasie in die Suid-Afrikaanse poësie vasmessel". Ronelda dra die bundel aan haar suster, Allisen Gertrude Kamfer, op.

In Die Burger van 25 Februarie 2016 skryf Annemarié van Niekerk in ’n onderhoud met Ronelda: "Dit is ’n ontroerende bundel met intens eerlike, selfs filerende gedigte oor veral haar ma, haar hammie [...]." (Hammie is ’n Kaapse woord vir "ma".)

Van Niekerk wou by Ronelda weet of dit ’n elegie of ’n pryslied is. Sy vertel aan Van Niekerk so ’n maand voor haar ma se dood het sy en haar suster ’n lied van Tupac Shakur "Dear Mama" vir haar ma gerap het. Van die woorde lui as volg: "I wish I could take the pain away, If you could make it through the night, there's a brighter day, Everything will be allright if you hold on."

"Sy het die song geken, maar om een of ander rede – sy was seker ’n bietjie sad daai dag – het sy begin huil. Al het my ma nooit regtig oor haar eie goed gepraat nie, weet ek dat sy die laaste paar maande van haar lewe deur ’n baie moeilike tyd gegaan het. Toe ek amper twee jaar later die eerste keer weer kon skryf, wou ek my eie weergawe van 'Dear Mama' skryf, eerlik, mooi en onsentimenteel, iets wat haar lewe opsom en ook die lewe van ander hammies, veral van haar generasie."

Ronelda vertel in ’n onderhoud met Marlene Malan (Vrouekeur, 9 September 2016) meer oor haar verhouding met haar ma wat beslag gekry het in baie van die gedigte in Hammie. Haar ma is met ’n stukkende hart dood, skryf sy in die bundel: "haar oë is ’n gewonde dier, haar neus is ’n naald en haar liggaam / is gekneus soos vrugte onder in die bak / my ma is bang dood / ek tel die glasstukkies op / en begrawe dit onder my vel."

Sy vertel verder aan Malan: "Ek identifiseer met my ma se pyn, want ek dink ons dra mekaar se pyn en seerkry, doelbewus of nie. Ma se hart was stukkend, want almal het maar dinge wat net hulself ervaar, in hul kop. Vroue van my ma se generasie loop met diep grafte in hulle rond. Nie soos ons vandag wat heeltyd fulfillment soek nie."

Die pad wat Ronelda geloop het na haar beskouing oor haarself en haar selfbeeld, was ’n lang pad. Sy verduidelik verder aan Malan dat daar ’n tyd was dat sy gedink het sy is net goed genoeg vir skoonmaak, "want ek kom uit ’n lang lyn van domestic workers. My kinderjare was gevul met subtle hints van hoe om ’n vloer te strip en polish (uit die gedig 'Die skoonmakers' in Hammie). Maar dit het verander, op 21, toe my ma my eendag geskel het oor my vuil kamer en dat ek ’nie ’n f** kan skoonmaak nie'. Ek dink daai was haar way om vir my te sê ek moet iets anders met my lewe doen."

In Hammie is daar 61 gedigte wat grotendeels gaan oor Ronelda se ma, maar daar is ook gedigte oor ander familielede en kennisse, die plaas en die Vlakte, taal en skrywerskap, feministe en peuterige pa's, maklike meisies en dié wat rebelleer, skryf Clinton V du Plessis (Die Burger, 29 Februarie 2016).

"Wat tref in hierdie bundel is die eerlike, pretensielose skryfstyl, die oopskryf van die lewens van gewone mense, die outentieke stem, die onopgesmuktheid, die naatlose, natuurlike manier waarop die Engelse woorde, uitdrukkings, seggings langs die Afrikaans plek inneem."

"Hier is geen literêre truuks of banale belese vertoon nie. Die digter het geen illusies oor die taal, digterskap, oor mense en literêre groupies nie. Hammie is die koop en die lees werd."

Op LitNet is Vincent Oliphant die resensent en vir hom was die lees van Hammie ’n besonderse ervaring. "Ek hoop en glo dat hierdie bundel vir baie lesers van meer tradisionele poësie ’n venster op beide ’n ander en tog herkenbare wêreld sal laat oopgaan. Hammie is ’n belangrike toevoeging tot ons poëtiese en literêre skat."

In Rapport (21 Februarie 2016) skryf Joan Hambidge dat Hammie ’n stérk bundel is; een wat jou tussen die oë tref: "oor die vreeslose ondersoek van familiegeweld, haat (oor apartheid), die ómbereidwilligheid om te vergewe (en vergeet), genderpolitiek en geweld op alle vlakke. Die gedig word selfs ’n ruimte waar die emosionele geweld opstu en jou as leser voortsleep. Die gedig word ’n soort 'mission impossible'." [...]

"In hierdie bundel word die emosionele reaksie op die moeder se siekte – met skerp aanduidings dat dit deur uitbuiting veroorsaak is – en die uiteindelike besoeke aan die hospitaal ontgin." [...]

"Dit is ’n kompromislose bundel en een wat nie doekies omdraai nie. Die bundel verraai diepe wonde. [...] Hammie is ’n sterk bundel en een wat Kamfer se reputasie gestand doen ná die effense insinking van die tweede. Dit is nie 'mooi' verse nie, maar is bloedige, aanvallende verse. En ons weet mos dat woede ook pyn is, omdat dit ’n groot stuk magteloosheid dra. Die gedig op die agterplat som dit op: Die glasstukkies is onder die vel begrawe ..."

Ronelda se vierde digbundel (met 44 verse) word in 2019 onder die titel Chinatown deur Kwela uitgegee. Die titel van die digbundel verwys na ’n winkelsentrum wat die agtergrond is vir baie van Ronelda se gedigte.

In ’n onderhoud met Ronelda skryf AJ Opperman (Beeld, 9 Januarie 2020) dat Ronelda in Chinatown geweld en dan ook seksuele geweld en die gevolge daarvan kaalvuis aanpak. Sy pak ook ander onderwerpe soos patriargie, feminisme, wit vroue se feminisme en hul medepligtigheid aan patriargale stelsels wat voortbestaan: "En witheid – nie wit mense nie, maar witheid as ’n tool vir oppression."

Chinatown was op die kortlys vir die Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse poësie vir 2020. Die beoordelaars skryf as volg oor dié bundel van Ronelda: "Met haar vierde digbundel, Chinatown, bereik Ronelda S Kamfer ’n nuwe hoogtepunt in haar ontwikkeling as digter. Sy waag haar hand aan langer gedigte en slaag uitmuntend daarin soos die verse 'my poems is nie confessions nie' en 'try dié' demonstreer. Eweneens met groot sukses slaag Kamfer opnuut daarin om die leser in vers na vers te ontroer en daarmee versamel sy retoriese krediet – die leser word deur sy/haar ontroering oorgehaal om die sake waarvoor Kamfer pleit simpatiek te bejeën. Hierdie proses verloop egter nie sonder verwikkelde selfrefleksie nie. In die reeds genoemde 'try dié' word die leser se meelewing bewerkstellig deur die opnoem van die struikelblokke waarmee jong mense uit arm gemeenskappe te kampe het in hulle strewe na selfverwesenliking. Die spreker besef dan dat sy haar eie pogings om aan hierdie ervarings sin te gee, nie kan vertrou nie: die diskoers van oorlewing wat sy wil aangryp as rasionalisering van haar jeugervarings is bes moontlik ’nog ’n supremacist invention'."

"Kamfer reken genadeloos met witheid af, maar Chinatown is ook ’n ondersoek na die trauma wat weens kleurdiskriminasie van generasie tot generasie oorgedra is. Heel moontlik in aansluiting by die herwaardering van veragte vrouefigure binne die feminisme posisioneer Kamfer haar in die bundel as ’n ondermynende soort heksfiguur ('brujas'). Die afrekening in die bundel word na die vaderfiguur uitgebrei ('Chinatown daddy', 'Powerade' en 'grapjas-dêddie') nadat sy in haar vorige bundel Hammie veral die moederfiguur sentraal geplaas het. Chinatown is ’n kragtige digterlike credo uit die pen van Ronelda S Kamfer." (LitNet)

In Volksblad van 23 Desember 2019 skryf Clinton V du Plessis: "In Chinatown word ’n distopiese wêreld aan die leser voorgehou. Kamfer loop met ’n kamera deur die woonhuis, familieverhoudinge en die township en zoem meedoënloos en ongenaakbaar in op veral die 'fake' en die 'shiny kak'. [...]

"Kamfer slag die karkas van die wanfunksionele gesin en samelewing met ’n vlymskerp mes af en ontbloot die bloedige binnegoed met ’n koue, kliniese blow by blow account. Byna elke gedig tref soos ’n goedgemikte vuishou [...]."

"Slegs enkele van die korter gedigte werk nie altyd vir my nie, bly bloot interesting statements, maar dit doen geensins afbreuk aan die geheel nie. Daarvoor vergoed die beste verse."

"Chinatown is nie die tipe bundel wat jy vir ontsnapping of ontspanning sal lees nie. Die digter konfronteer jou met die onaangename name, skroom nie, deins nie terug nie, tel nie haar woorde nie, soos sy dit aan haar kind stel: 'ek smile en sê / babygirl / Mammie is fearless."

Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf Joan Hambidge dat Kamfer se verse goed is, "verpak met dinamiet en onrus."

ek soek nie ’n plek langs die tafel nie

ek soek nie ’n plek
langs ’n women’s enfranchisement act table wat
in 1930 geset is vir white women only nie
hou julle tafel
ons maak vuur buitekant (28)

"Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede; verwysings na ander digters en ook mob-films; die durende pyn van die neerdrukkende jeug; haat teenoor witmense; die kompromislose aanslag oor afwesige vaders."

"Die verse ondersoek die inbeweeg in die ongeneeslike wond. ’n Handvol goeie verse, maar die gevaar van herhaling van dieselfde temas begin nou opval. Maar terselfdertyd: die meeste digters ontgin dieselfde kwessies en keer terug na die psigiese scene of the crime.

"Wanneer sy nie haar anger uitstal nie, maar werklike pyn weergee, tref dit:

terrorist attack 

in ’n hotelkamer in Istanbul
gooi ’n man my op
die vloer
druk my gesig in die mat 

en verkrag my

buite op Taksim
gaan ’n bom af
ek bel my ma
en vertel haar net
van die een aanval 

die een wat sy op CNN
kan volg (26)"

Op Versindaba is Janien Linde die resensent en sy sluit haar bespreking af: "Chinatown is nie ’n gemaklike bundel om te lees nie. Dit kan beskryf word as ’n uitdagende en betrokke bundel wat beweeg binne die verwarrende konteks van hedendaagse identiteitspolitiek, en indirek in gesprek tree met kwessies soos die #metoo-beweging en oproepe om die dekolonisering van denke. Kamfer gebruik outobiografiese inligting as narratiewe wegspringplekke om die gevolge van sistemiese interseksionele diskriminasie uit te wys. Die gevolgtrekking waartoe die spreker in 'ver was nog nooit naby nie' (p 37) en 'try dié' (p 52-54) kom, is dat die sisteme waarteen sy so hard baklei, uiteindelik onoorkombaar is, en dat haar en haar nageslag se enigste verweer geregverdigde woede is. Waar dié woede in vorige bundels ’n vlam was, is dit in Chinatown ’n vuur, gemaak deur die as van die spreker se ma te verruil vir 'gunpowder' (p 50), en gestook met die 'freedom' wat sy gekry het toe sy haar 'virtues' geruil het vir haar 'vices' ('Miss Militancy' [p 35])."

By 2020 se Woordfees op Stellenbosch is Ronelda en Nathan se drama Wit isse colour vertoon. Die egpaar het die teks daarvoor geskryf. Jason Jacobs het die regie behartig en Ashwin Arendse en Tayme Philander was in die rolverdeling.

In ’n onderhoud met Remona Voges op LitNet vertel Ronelda bietjie meer oor die stuk: "Daar is ’n stel met twee akteurs, Ashwin Arendse en Tayme Philander. Hulle stel twee karakters voor, en die storie wentel rondom hulle twee se perspectives, oor hulself, hul gemeenskap en hul toekoms. Dit is hoekom ons vir Ashwin en Tayme het – die produksie maak staat op goeie akteurs wat met baie min die storie dra. Die teks is ook geskryf met hulle individual personalities in gedagte, sodat die karakters regtig hul eie word.

Voges wou ook weet hoekom wit nou ’n colour is en wat sedert die verskyning van Nathan Trantraal se boek Wit issie ’n colour nie verander het. Hierop reageer Ronelda as volg: "Eerstens, ek dink te veel mense interpreteer daai titel te letterlik. Gaan lees gerus die storie, die lines is 'Wit issie ’n colour nie, is ’n religion. Soes religions die wêreld oo wôd it vi jou gevoer…' Ras is ’n social construct, so ons moet probeer om dinge van meer as een perspective te kyk. Al is jy ook hoe krities van social injustices moet jy kyk na hoe jy self-conditioned is en hoe jy glo en wat jy in glo."

Publikasies:

Publikasie

Noudat slapende honde

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780795702730 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 2009

Vertalings

Nederlands deur Alfred Schaffer 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

grond/Santekraam

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780795703652 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

2012 finalis vir ATKC-Woordveertjie vir poësie
2012 Kanna vir Afrikaans Onbeperk vir ’n Jong Stem

Vertalings

Nederlands deur Alfred Schaffer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hammie

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780795707582 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir poësie, 2017

Vertalings

Nederlands deur Alfred Schaffer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chinatown

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780795709500 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Kortlys vir 2020 Elisabeth Eybersprys vir Poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor Ronelda Kamfer op die internet

Artikels deur Ronelda Kamfer op die internet

Ronelda Kamfer se ATKV LitNet-Skrywersalbum is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Ronelda Kamfer (1981–) appeared first on LitNet.

Jodi Jantjies die hakkelaar stel ’n mini-album bekend met ATKV-Crescendo

$
0
0

Jodi, ’n eerste album. Vertel ons wat om te verwag en wanneer om dit te verwag?

Regstelling, ek bring ’n EP uit, dit is ’n mini-album. Ek weet almal is geneig om te sê hul werk is iets wat niemand nog ooit gehoor het nie, maar my musiek is definitief anders, dit is glad nie mainstream Afrikaanse musiek nie.

Ek dink dit sal verfrissend wees vir die luisteraar om onder andere so bietjie jazzy blues in Afrikaans te hoor.

Die mini-album is maar my gedagtes en hoe ek nou die lewe ervaar. Ek dink soms skryf ek iets, dan lees ek dit en dink: “Jô, is dit rêrig wat hier binne my kop aangaan?” [Sy lag.]

Ek is so ’n bietjie beside myself as ek skryf.

Julle kan die mini-album vroeg Maart verwag!

Ek ken jou nou al lank, maar vir die lesers wat nie so gelukkig is nie: Wie is Jodi as sy nie op die verhoog staan nie?

Hierdie vraag maak my altyd beangs, ek weet nooit hoe om dit te antwoord nie!

Jodi is maar ’n baie, baie skaam meisiekind wat totally socially awkward is. Sy is ’n homebody.

Ek het ’n bietjie ’n omwenteling ondergaan, dink ek. Voorheen sou ek heeltemal mense soos die pes vermy, maar ... Ek voel hoe meer ek gesels, ander se teenwoordigheid omarm, en natuurlik waardeer...

Izak, ek sukkel altyd vreeslik baie met hierdie vraag!

Wanneer het jy begin sing en hoekom?

Ek sing al my hele lewe lank. So ver as wat ek kan terug onthou, staan ek en my tweelingsuster al saam-saam op die kerkbanke en sing. Of by partytjies! Sing-sing, met ons haasbekkies en deurmekaar hare!

Ek het nogal ’n sangloopbaan oorweeg daardie tyd toe ek vir Crescendo ’n oudisie gedoen het.

Ek het die poster op my skool se bulletinbord gesien, en ek weet nie, maar die aantrekkingskrag van daai poster was magies.

My ouer broer, Adrian, sing ook. Hy doen toere in Spanje. Ek het dalk daar aangesteek!

Ek en my sussie sing en speel albei instrumente in die kerk, so die liefde vir musiek het beslis in die kerk ontstaan.

“Die woorde oor my lippe kom sukkel-sukkel deur ...” Dit is ’n aanhaling uit ’n lied wat jy self geskryf het. Vertel?

Daai eenvoudige lyntjie som my hele lewe op.

Ek is swaar van spraak, ek hakkel al my hele lewe lank.

Mens besef nie die voordeel van vlot spraak nie. Dis ’n voorreg.

Ek het die lied self in minder as ’n uur geskryf, want die woorde het, ironies genoeg, so maklik na my toe gekom.

Die lied is oor my reis as ’n hakkelaar.

Dis nie noodwendig hoe ek dit oorkom het nie, want ek sukkel tot vandag toe om vlot te praat, maar hierdie lied wat ek al vier jaar lank sing, gee my moed om genuinely myself te wees, hakkel en al.

En ek hoop vanuit die dieptes van my hart dat die song ander mense ook sal raak. Jy hoef nie te hakkel om te verstaan hoe dit is om met iets te sukkel waaroor jy geen beheer het nie.

Ek wil jou terugneem na Maart 2016. Daar was ’n skoolsaal in Mitchells Plain en ’n baie, baie bang skoolmeisie het op die verhoog geklim ... Sy’t vreeslik gesukkel om te praat, maar toe sy begin sing ... Hoendervel. Die ATKV se hoofkantoor het daardie aand al die boodskap gekry dat ’n ster gevind is. Vertel vir ons hoe jy daardie eerste oudisie met ATKV-Crescendo ervaar het?

Daardie ervaring is iets wat ek nie sommer maklik sal vergeet nie.

Ek onthou Morne van Staden, ATKV-Crescendo se projekbestuurder, was by die deur en het die deelnemers ingelei. Ek onthou nog so vaagweg hoe ek vir Morne fluister: “Kan meneer asseblief die beoordelaars laat weet dat ek swaar van spraak is?”

Dit was ’n ou gewoonte van my om altyd die onnies, en ander mense, in te lig dat ek sukkel, juis sodat daar niks surprises is nie, dat almal verstaan.

En ek sing toe hierdie lied wat ek gou geskryf het agter in my Afrikaanse klas. Toegegee, ek het nog nooit in my lewe ’n lied geskryf nie, so dit was maar rof!

My lewe was nooit weer dieselfde nie. Daai dag was, for real, een van die dae wat my lewe op koers gesit het. Na hierdie oomblik toe.

Jou eerste groot verhoogoptrede saam met ATKV-Crescendo was in so ’n onskuldige wit rokkie. Nou, op die vooraand van jou eerste mini-album, is jy ’n (baie mooi) jong vrou ... En tog – iets in die jonger Jodi het vasgesteek: Jy is presies wie jy is. Daar skuil nog iets van die onskuld. Ek weet nie eens of jy kan stout spel nie. Hoe het die jare met ATKV-Crescendo jou verander, of nie?

[Sy lag.]

Ja, daar is beslis ’n verandering. Ek dink voor Crescendo was ek totaal en al in my eie wêreld. Ek was maar net teruggetrokke en skaam. Bang vir die wêreld. Ek was vyftien.

Heel eerste formele optrede, 10 Desember 2016

Crescendo het my aan die hand gevat en my toegelaat om myself te ervaar. Ek het myself gevind en so ook my selfvertroue voor ’n gehoor. Ja, vreemd genoeg, voor ’n gehoor vol ménse.

Ek het in ’n stadium gedink ek sou nooit so ’n groot stap kon neem om voor mense te wees nie. Dit sou nie gebeur het sonder Crescendo se mentorskap nie.

Vandag sing ek nie net nie, maar ek praat ook graag met my gehoor. This journey is my becoming.

Mens hoor so baie van die gruwels wat in die musiekbedryf aangaan, maar ek dink Crescendo doen goeie werk om deelnemers toe te laat om hulself te wees. Ons conform nie om die bedryf te akkommodeer nie, die bedryf moet mý akkommodeer. En ek dink daai ding is ... powerful.

So, ja. Ek dink daai klein bietjie onskuld van daardie vyftienjarige Jodi is nog iewers hier binne my, maar dis omdat Crescendo my toelaat om dit te behou.

Goed, Maart 2016 tot Maart 2021. Vyf jaar saam met ATKV-Crescendo. Optredes, vertonings, video’s ... maar ook werk met mense soos Die Hooflig, HemelBesem, YOMA, Anna Davel, Danie du Toit, Deon Meiring, Hennie van Greunen, Pedro Kruger, Mynie Grové ... en nog. Jou musikale pad het saam met groot name geloop. Wat het die noue kontak met sulke mense vir jou beteken?

Dit help baie dat al hierdie mense, met hul groot status en groot name, dat hulle so down to earth is soos die grond onder my voete.

Ek sê altyd ek is so bevoorreg om die wysheid te ervaar van dié ongelooflike kunstenaars. Ek het, danksy hulle, ’n uitstekende ervaring van die bedryf.

My ervaring is soveel ryker, danksy mense soos Mynie Grové, wat ’n flippen legende is, wat vir my, ’n klein bruin meisie van Mitchells Plain, moed inpraat en my aanmoedig.

Ek is forever grateful vir die forever relationships en forever teachings wat by my sal bly.

Die hooflig

Kontak met Die Hooflig, of dan Robin Fourie, is veral ’n sonderlinge ervaring. Robin en ek hakkel albei, so ons verhouding is baie spesiaal omdat daar ’n onderliggende verstandhouding is tussen ons twee. Ons albei weet wat dit is om met letsels te loop wat kom hakkel, maar ons weet ook hoe bevrydend dit is om onsself te kan uitdruk deur middel van ons kuns.

Robin is soveel ouer as wat ek is, en daai jare se ervaring en wysheid gee hy vir my op ’n silwer skinkbord, sodat ek maklik deur die lewe kan gaan, ten spyte van die hakkel wat die vermoë het om só seer te maak.

Die een voordeel van ATKV-Crescendo is dat daar ’n groep musikante is wat baie gereeld saamwerk. William Jacobs op klawers, Isaac Jones op tromme en Prayburn Links op die bas was reeds daar met jou eerste groot optrede. Melvin Williams, wat nou die vervaardiger van jou EP is, speel al jare die hoofkitaar vir jou wanneer jy optree. Eddie, altyd agter in die saal, uit die kollig uit, meng al jou stem van toentertyd af. Wat beteken hulle vir jou?

Hulle is my staatmakers! Ons het almal letterlik saam gegroei deur die jare. Die guys is my family, my broers wat my siel uittrek en altyd seker maak ek het kos in my liggaam. Ek lag altyd dat die trane loop wanneer hulle in die omtes is – ek is so lief vir hulle almal.

Ek onthou ’n hele paar jare terug, by ’n kuier na ’n show, sit ons almal so gesellig om ’n tafel en lag. En ek sê vir Isaac: “Eendag gaan julle my eerste liedjie saam my opneem …”

Kyk waar is ons vandag.

Dit help baie dat ons almal dieselfde agtergrond het. Ons almal se liefde vir musiek het in die kerk ontstaan. Dit is ’n groot voordeel, want hulle verstaan my en hoe ek dinge gedoen wil hê.

William Jacobs (bo links) Isaac Jones (bo regs), Melvin Williams (onder links) en Prayburn Links (onder regs) oefen voor 'n groot optrede.

Ons gebruik die hele tyd die naam ATKV. Morne van Staden is ’n yster agter die skerms, maar teen hierdie tyd is Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof: kultuur, en Sonel Brits, die besturende direkteur, nie onbekendes aan jou nie. Hulle gee om vir jou. Hoe voel jy oor die werk wat die ATKV in Suid-Afrika doen?

Ek sê altyd die werk wat die ATKV doen, is revolusionêr. Die ATKV bemagtig baie projekte wat kultureel só belangrik is vir die land.

Ons doen al nou ’n paar jaar die Vir die liefde van-show, waarvan die Rieldansers ook deel is. Dit was vir my ’n opvoeding om so ’n ryk kultuur te ervaar; en nog beter: om hulle te sien op platforms soos die Suidoosterfees.

Ek is so trots om deel te wees van die ATKV, hulle bemagtig my om ’n verskil te maak in ander se lewens.

Met Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV-direksie

Ek wil gou terugkeer na jou EP. Jy het om baie goeie redes gekies om Anneli van Rooyen se “Ek glo” ook op te neem. Vertel ons meer?

Ek wou baie graag hulde bring aan die vorige Crescendo-wenners. Selfs ek het nie besef Crescendo was so ’n groot deel van die Afrikaanse musiekbedryf destyds nie.

Ek het dit net goedgedink om ’n legende soos Anneli van Rooyen te vereer. Die song “Ek glo” is ook so legendaries – ek het maar net my eie spin daarop gesit.

Ek hoop Anneli hoor dit iewers en dat sy dit sal love! Of al is dit net my dapper-genoeg-wees om so legendariese song te cover wat sy sal love! [Sy lag.]

Jou geloof is vir jou belangrik, nie waar nie?

Ja, dis my fondasie … die godheid.

My ouers is pastore en ek weet daar is die stigma rondom pks (pastors’ kids) – dat ons deurmekaar kinders is. [Lag.] Maar ek dink dis so ’n voorreg om my ouers as my geestelike leiers te hê.

Omdat die fondasie vir my gelê is, kan ek dan op my eie twee voete staan as ’n Christen. Ek kan met al die lesse en waardes wat my ouers my geleer het, die lewe invaar.

My EP is basies net ’n gesprek met God, en ek dink baie mense sal kan relate …

Soms voel ’n mens so verlore en dat God nêrens is nie. En dis eg, dit gebeur. Dis goed wat mense voel en dis oukei.

Die godheid is nie maklik nie en die EP praat daaroor: die donker plekke, die vrae aan God.

Dit gaan oor daai periode in jou lewe waar als net bevraagteken word. En ek vra daai vrae.

As jy een ding anders kon doen die afgelope vyf jaar, wat sou dit wees?

Wow, wat ’n vraag. Ek dink nie ek sal enige iets wil verander nie. Ek bedoel ja, daar hét slegte goed ook gebeur, maar al daardie goeie en slegte gebeure het gemaak dat ek die Jodi is wat ek vandag is.

So, ja, absoluut niks wil ek verander of anders doen nie.

Ek is nou nog nie heeltemal waar ek wil wees nie, maar ek is sterk op pad en elke ding wat gebeur, maak my as mens net sterker. Dit bou karakter. Alles is ter voorbereiding vir die volgende hoofstuk in my lewe.

Sê nou ’n bang sestienjarige skoolkind lees hierdie artikel. Watter raad het jy vir daardie persoon?

Ek wil veral vir ’n bang sestienjarige wat hakkel iets sê ... My advies is: Omarm al die ongemaklike goed. Comfort zones is gemaklik, maar dit voorsien glad nie vir enige groei nie.

Dis belangrik om eers jouself lief te hê, met jou hele hart, sodat jy ander se liefde met jou hele hart kan aanvaar.

Jy kan enige iets doen wat jy goeddink, die lewe is te kort om weg te kruip. Jy is soveel meer as daardie “gebrek”. Wanneer jy praat, forseer jy almal om jou om na jou te luister en daai ding is kragtig.

Jy is pragtig.

***

Jodi se mini-album sal waarskynlik van die middel van Maart 2021 beskikbaar wees.

Sy het op 26 Februarie die finale opnames voor ’n klein, uitgesoekte gehoor gemaak.

Op 28 Februarie is daar ’n musiekvideo vir haar geskiet.

LitNet is genooi om beide geleenthede by te woon. Foto’s en addisionele beriggewing sal volg.

Fotografie: Izak de Vries

Lees ook:

ATKV-Crescendo: Grensloos bekendgestel

ATKV-Crescendo: vanjaar se finale ronde

The post Jodi Jantjies die hakkelaar stel ’n mini-album bekend met ATKV-Crescendo appeared first on LitNet.

Persverklaring: Aanlyn dramakompetisie vir jong akteurs

$
0
0

Is jy ’n leerder met ’n droom om eendag die verhoog jou loopbaan te maak? En bruis die adrenalien deur jou are as jy net dink aan toneelspel – die opwinding van die kollig, daardie stil oomblik voor die eerste woorde ’n gehoor se aandag vasvang?

Skryf dan in vir die Dramaweb SA aanlyn dramakompetisie, en speel jou hart uit teen ander leerders wat jou liefde vir die kunste deel – vanjaar aangebied in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV).

Dramaweb SA het in 2020 die lig gesien, ’n projek van die drama-afrigter en aktrise Ira Blanckenberg om aan kranige jong akteurs die geleentheid te bied om hul verhoog-staal te wys, ondanks die kansellasie van ander dramakompetisies en eisteddfods weens die COVID-19-pandemie.

“Ek is baie opgewonde oor Dramaweb SA 2021”, sê Blanckenberg. “Ons wil vanjaar nog meer leerders betrek, met nuwe kategorieë wat elke aspek van akteur-wees sal bevorder. Ons is verheug om die KKNK as vennoot te verwelkom en beoog om saam met dié Afrikaanse moederfees ’n platform te skep waar ons land se jong akteurs mekaar beter kan leer ken, in mekaar se kreatiwiteit kan deel en waar hulle landwyd die wonder van toneelspel kan vier en hul talent kan slyp.”

“Die reaksie verlede jaar was oorweldigend positief, en deelnemers se reaksie op die professionele en gedetailleerde terugvoer van professionele afrigters en ander kenners in die bedryf was inspirerend,” sê sy.

Vir die KKNK lê dié vennootskap na aan die hart. “Ons leef in ontwrigtende tye en jongmense het ’n uitlaatklep nodig,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur. “Die kunste in al sy vorme bied ’n geleentheid vir ontvlugting. Dit is nie net ’n geleentheid vir jongmense wat in die toekoms professioneel by die uitvoerende kunste betrokke wil raak nie, maar ook ’n belangrike platform om ’n liefde vir letterkunde en die kunste te kweek.”

Deelneem is maklik, en die koste minimaal – als gebeur aanlyn. “Leerders kan in die gemak van hul eie huis deelneem, met kundige beoordelaars wat regstaan met raad,” sê Theart.

Die ATKV deel die KKNK se entoesiasme oor Dramaweb SA. “Die kunste verryk en inspireer mense, oud en jonk, en dit bevorder kreatiwiteit en bring gemeenskappe by mekaar,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van taal en kultuur by dié organisasie. “Kuns en kultuur is fundamenteel tot persoonlike ontwikkeling en groei. Die ATKV ondersteun Dramaweb SA met trots en ons glo dié projek sal die voordele van toneel, digkuns en skryfkuns beklemtoon, en help om brûe te bou tussen al die mense van Suid-Afrika.”

’n Unieke aspek van Dramaweb SA is die feit dat deelnemers nie tot hul eie streek beperk word nie, maar landwyd met ander leerders kan meeding.

Inskrywings open Maandag 8 Maart, en kos R150 per item. Deelnemers kan met gedigte, monoloë, prosa en selfs mimiek deelneem. Laai eenvoudig ’n video-opname van jou inskrywing op teen Maandag 31 Mei 2021. Blanckenberg en haar man, die akteur Waldemar Schultz, is vanjaar se beoordelaars, en prysgeld vir elke kategorie is R1 000 per wenner. Jy kan deelneem in Afrikaans of Engels: die finale ronde vir Afrikaanse deelnemers is op 3 Julie 2021 en vir Engelse deelnemers op 4 Julie 2021. Al twee dié rondes word virtueel uitgesaai.

Besoek dramawebsa.co.za vir die lys van kategorieë en meer inligting, of bel Daventia Kennedy by 044 203 8600 met navrae. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@dramawebsa.co.za of direk aan Blanckenberg by ira@dramawebsa.co.za.

Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24 met verdere ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Departement van Kultuursake en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn Munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton Stigting. Die presidensiële stimuluspakket (stroom 1), geadministreer deur die National Arts Council (NAC) namens die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSAC) ondersteun ook die KKNK in sy huidige bedrywighede. 

The post Persverklaring: Aanlyn dramakompetisie vir jong akteurs appeared first on LitNet.


Persverklaring: Winterskool, met skryfkompetisie vir opkomende skrywers

$
0
0

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit bied op drie opeenvolgende Saterdae in Junie 2021 (5, 12 en 19 Junie) ’n aanlyn-Winterskool vir opkomende skrywers aan.

Bekende skrywers en toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Die skryf van verhale en gedigte staan in 2020 in die kollig. Die werkswinkels in die twee skryfgenres word gelei deur Francois Smith (die skryfproses), Ingrid Winterbach (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) – ervare woordkunstenaars, met Smith en Winterbach wat ook bekroon is vir hulle skryfwerk.

Hierdie aanlyn-geleentheid bied ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat verhale of gedigte wil skryf. Dit word aanlyn aangebied en die inskrywingsgeld beloop R1 000 per persoon.

Die ATKV-Skryfskool bied vanjaar ook weer ’n kompetisie vir skryfwerk in die genoemde genres aan. Die wenner in elk van die twee kategorieë (vir ’n kortverhaal of ’n gedig) sal die Winterskool gratis kan bywoon.

Kom put uit die ervaringskat van bekroondes by dié Winterskool – vir ’n wegspring op jou skrywerspad soos min!

Vir meer inligting oor die Winterskool sowel as die skryfkompetisie, skakel per e-pos met mev. Kobie van Aswegen (Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za). Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings: 26 April 2021.

The post Persverklaring: Winterskool, met skryfkompetisie vir opkomende skrywers appeared first on LitNet.

Piet van Rooyen (1953–)

$
0
0

Gebore en getoë

Petrus Hendrik van Rooyen is op 17 Julie 1953 in Vryheid in Natal gebore. Sy oupa was ’n renperdteler en ’n Vrystaatse rebel en sy ouma "’n Vrystaatse mooinooi". Sy pa was predikant op die nabygeleë Louwsburg, en volgens een van sy uitgewers se inligtingstuk het sy ma "geskaaf en geslyp, soos ma’s maar doen".

Dis op Louwsburg waar Piet sy verstand gekry het onder toesig van ’n ou Zoeloe, Lucas, saam met ’n hond, Patrys, as speelmaat. Sy ma het by die huis gebly om hom groot te maak.

Toe Piet drie jaar oud was, trek die gesin na Bredasdorp, waar hy in sub A en sub B (vandag graad 1 en 2) op skool was. Vanaf standerd 1 (graad 3) is hy in die Volkskool op Senekal in die Vrystaat waar hy sy laerskooljare voltooi het. Piet vertel self (in sy biografiese skets aan NALN) dat hy net lank genoeg op hoërskool in Senekal was om ’n meisie te kry toe hulle weer moes verhuis – hierdie keer Windhoek toe. Hy woon die Hoërskool Windhoek by, waar hy in 1971 matrikuleer en teen daardie tyd reeds ’n geswore Namibiër was.

Intussen word daar nog drie broers en ’n sussie vir sy ma en pa gebore en sy pa word moderator van die NG Kerk in Suidwes-Afrika (vandag Namibië).

Terwyl hy in standerd een in die Volkskool Senekal met klei sit en speel, hoor Piet ’n stem wat sê dat hy eendag as hy groot is, ’n skrywer gaan word. Hy begin op hoërskool dig met die leiding van sy Afrikaans- en Engels-onderwysers en op inspirasie van die liefde.

Verdere studie en werk

In 1972 is Piet na die Leërgimnasium in Heidelberg in Gauteng, waar hy ’n offisierskursus voltooi en na Walvisbaai en Katima Molilo uitgeplaas word.

Piet begin sy naskoolse studie in 1973 aan die Universiteit Stellenbosch. Hy studeer BA met Volkekunde, Bantoereg en -administrasie en Afrikastudie as hoofvakke en verwerf hierdie graad cum laude. In 1976 verwerf hy sy BA Honneurs in Ontwikkelingsadministrasie (cum laude) en in 1977 sy MA oor die inheemse reg van die Kavango. Hy doen vir verskeie maande veldnavorsing hiervoor in die Kavango. Piet neem in 1978 op Stellenbosch waar as dosent in die plek van sy professor wat oorsee was. In Desember 1978 word hy aangestel as arbeidsverhoudingsbeampte by ’n titaanmyn noord van Richardsbaai in KwaZulu-Natal. Hy gee ook op Richardsbaai vir ’n jaar lank onderwys.

In 1982 word Piet aangestel in ’n doseerpos in die Departement Ontwikkelingsadministrasie aan die Universiteit van Stellenbosch en voltooi sy doktorsgraad in 1983 in die studieveld Arbeidsverhoudinge getiteld Zuluwerkers in ’n Noord-Natalse nywerheidsonderneming – bedinging, die dissiplinêre kode en grieweprosedure en die hantering van nywerheidsverhoudingsprobleme.

Piet skryf verskeie akademiese boeke oor arbeidsverhoudinge voordat hy "daarmee ontgogel raak" (volgens ’n uitgewer se inligtingstuk).

Piet se eerste bundel skoolverse, Draak op die erf, word in 1973 by HAUM gepubliseer. André P Brink het dit in Rapport (22 April 1984) beskryf as ’n "bundel wat naas heelwat onbeholpe en pretensieuse gerymel ook ’n klompie baie bekoorlike liedjieverse bevat".

Tien jaar later, in 1983, verskyn Rondom ’n boorvuur, ’n tweede digbundel, by Tafelberg. André P Brink het dit beskou as ’n "herdebuut", aangesien twaalf van die beste verse van Draak op die erf ook die kern van Rondom ’n boorvuur vorm.

Brink (Rapport, 22 April 1984) het voortgegaan: "Dis meestal aangename liedjies dié, sonder veel pretensie: met Boerneef se speelsheid, maar sonder sy woordvirtuositeit; met die konkrete liriek van Louw se Klipwerk, maar ook weer sonder die essensiële primitiwiteit wat daardie poësie so 'laai'. Soos wat mens ’n 'naïewe skilderkuns' aantref, sou ek hier dan ook eerder van naïewe poësie wou praat: soms in die mooiste sin van die woord, soms in die swakkere."

In Die Burger (26 Januarie 1984) het EC Britz die bundel as volg opgesom: "Dit is genietlike gedigte om te lees: onpretensieus en onliterêr, oorspronklik, eg-Afrikaanse en outentiek-Afrika-georiënteerd, konkreet, aards, plek-plek primitiwisties, speels, moreel suiwer sonder om naïef of vroom te wees."

In 1988 verskyn ’n boek by Southern Uitgewers oor onderwater visjagtery. Piet lewer ook gereeld artikels oor populêre onderwerpe aan tydskrifte, veral oor wilde diere.

Kort voor Namibië sy onafhanklikheid verkry, keer Piet in 1989 terug na sy hartland. Hy huur ’n plaas in die Gobabisdistrik, waar hy begin boer voordat hy later sy eie plaas koop. Nadat die filmmaker-antropoloog John Marshall weg is, aanvaar Piet die pos by die Boesmanstigting naby Tsumkwe. Dit was geleë in die gebied wat destyds bekend was as die Namibiese Boesmanland of N//oaq!’ae. Hier het Piet saam met die San-mense gejag, geleef en spoorgesny en het hy en hulle saam iets van beesboerdery probeer leer. Dit was hier waar Piet vir Paul Chapman ontmoet het. Chapman was ’n filosoof, draadspanner en mensejagter, en gesprekke met hom het die grondslag vir Piet se eerste roman, Die spoorsnyer, gelê.

Piet is getroud met Annalie Schoombie en hulle het ’n seun en ’n dogter. Sy tydverdrywe is visskiet en perde-uithouritte en hy verwerf sy Namibiese nasionale sportkleure vir beide. Hy is ’n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Namibië en boer deeltyds met Arabierperde en volstruisperde op sy "mooi oop savanneplaas met koedoes, hartbeeste, vlakvarke en kameelbome" naby Gobabis. Sy lewenstaak is om te skryf.

In 2002 het hy sy Sabbatsjaar in Dunedin in Nieu-Seeland deurgebring. Hy wou vir vyf jaar daar gewoon het – "vir die see, die natuur (so reg uit The Lord of the Rings) en die mense (onder andere die Maori’s – mooi sterk mense vol mana, of krag). Maar Afrika het steeds my gees volledig beet. Al sou ek soos Karen Blixen noodgedwonge moes uit, sou my hart daar bly." Sy verblyf in Nieu-Seeland het voor- en nadele gehad. Hy vertel aan Sonja Loots (Rapport, 21 April 2002) dat "[dit] effens verwyderd [is] van die bloedskandelike verhouding tussen sommige skrywers, maar net te ver vir stimulering".

Piet se eerste roman, Die spoorsnyer, word in 1993 bekroon met die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romankompetisie se eerste prys en verskyn in 1994 by Tafelberg Uitgewers. Die sameroeper van die beoordelaars vir die groot romanwedstryd, Cecile Cilliers, sê dat die verhaal van Paul Chapman in die Suid-Afrikaanse konteks so belangrik is omdat dit diep ingaan op verdeelde en verwarde realiteite en ander waardes. "Hier is ’n oerverteller aan die woord. ’n Onstuitbare verhaal. Briljante taalgebruik. ’n Nuwe dimensie aan die Afrikaanse vertelkuns" (De Kat, Januarie 1993). Hy ontvang ook die CNA-prys vir debuutwerke en tydens dié geleentheid skud hy Nelson Mandela se hand.

Tydens die plegtigheid met die oorhandiging van die Sanlam en De Kat-prys vertel Piet aan Lize Odendal (De Kat, Januarie 1993) dat hy nie ’n natuurlike skrywer is nie. "Ek boer self met beeste en skryf maar so in die aande. Die spoorsnyer het my drie maande geneem om te skryf. Die navorsing twee jaar. Ek praat eerder maar op papier. Noem my maar skugter en stil. Ek praat moeilik met mense."

Die spoorsnyer vertel die verhaal van ’n joernalis en ’n polisieman wat saam met ’n spoorsnyer (Chapman) op die spoor is van ’n groepie Khoi wat gevang moet word omdat hulle beeste geslag het wat nie hulle eiendom was nie.

"Op die spoor vertel hy die verhaal van sy eie makwording, sy bewustheid van eerlikheid en plig, sy betrokkenheid by die Boere, sy trots op sy spoorsnyvermoë," skryf Cecile Cilliers in Insig (November 1994).

Odendal skryf in De Kat: "Met die ontvouing van die verhaal, word die agtervolgers egter die agtervolgdes en andersom; kom elkeen se verhaal tot sy reg; groei die karakters in hul nuwe omstandighede in en is daar nie ’n antwoord oor reg of verkeerd nie. Soos altyd wen die woestyn en niemand anders nie."

Oor Chapman vertel Piet aan Odendal dat hy ’n Khoi van die Ju/’hoanstam van Namibië is en gebruik is om sy eie mense te jag. Piet het hom ontmoet toe hy in die Nyae Nyae-gebied in die noordooste van Namibië onder die Khoi gewerk het. "Paul het weggeloop van die boere wat hom so gebruik het en by my kom werk. Hy het my gehelp met die opleiding van die ander Khoi in die omgewing."

Vir Cecile Cilliers is daar baie temas in die roman te vind: "Die vervreemding tussen mens en mens, en mens en die omgewing, die verhouding tussen werkgewer en werknemer, tussen die persepsies van beskawing en van barbaar. (…) Ten grondslag van die boek lê die tema van agtervolging, van spoorsny, en die kuns word volledig deur Paul uitgelê, veral binne die raamwerk van mense soek. (…)

"Die boek is nie sonder foute nie, maar hierdie vertelvermoë vergoed ruimskoots vir ’n effens stamelende begin, vir die gebrek aan ontginning van sommige temas (byvoorbeeld die skrywer se teenwoordigheid) en – by digterlikheid – ’n soms té bewuste taalgebruik. Die stem van die storieverteller is nie dood nie. In Die spoorsnyer leef hy opnuut."

Wat die verhaal van Die spoorsnyer vir John Miles (De Kat, Desember 1995) so merkwaardig gemaak het, is "die gemaklike wyse waarop half-dokumentêre getuienis en die simboliese trekke van ’n geestelike reis met mekaar versoen word deur ’n uiters boeiende verhaalmatigheid. Die uitvoering geskied so soepel en pretensieloos, so 'vanself' dat menige skrywer dit Van Rooyen moet beny."

’n Persoonlike joernaal van sy "Boesmanland-ervaring", Agter ’n eland aan: een jaar in Namibië, word in 1995 by Queillerie gepubliseer.

Dit is "[d]ie of skreiend eerlike, outobiografiese relaas van die gesin se verhuising, en die eerste jaar van hulle verblyf in Namibië. Ten spyte van die persoonlike aard van hierdie relaas, voel die leser egter nooit verleë, óf dat hy/sy teen wil en dank betrek word by ’n huishoudelike krisis nie," sê Riana Scheepers oor Vrouefokus: Afrikaans Stereo. Sy beskou hierdie boek as een "wat jou laat met ’n vreemde droefnis, maar ook met die voldoening dat daar tóg êrens in die wêreld nog ruimte is vir iemand wat na aan die natuur wil leef. Want die onrustige skrywer wat 'op soek was na sy siel' het vrede gekry – hoe onvolmaak ook al. Aan die einde van sy eerste jaar in Namibië haal hy die profeet Jeremia aan wat sê: 'Daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.'"

John Miles skryf in De Kat (Desember 1995) dat die maand-vir-maand optekening van Van Rooyen se wedervaringe in Namibië ses maande voor die verkryging van onafhanklikheid begin. En die skrywer teken ’n prentjie wat op ’n nugtere wyse die uiteenlopende politieke klimaat van daardie tyd uitbeeld. Vir Miles is Agter ’n eland aan ’n "onderhoudende verslag van iemand met ’n skerp sintuiglike ontvanklikheid vir die veld en omgewing."

Tom Gouws was die resensent in Beeld (4 September 1995), en vir hom is Van Rooyen se skryfstyl gemaklik en ontspanne en is daar genoeg lekker vertellinge, asook pragtige beeldende taal en humor, maar daar is ’n oormaat aan onbenullige besonderhede in die boek: "Dit kon met goed ’n derde gesny geword het én dit sou die leesplesier verhoog het. ’n Vindingryke toevoeging tot die genre, is die omboorselsketse van Bennie Kruger.

"Omdat daar so min boeke van hierdie aard in Afrikaans verskyn, is Agter ’n eland aan ’n welkome toevoeging. Soos met byvoorbeeld Sue van Waart se boeke is dit ’n rykdom van stories en ervarings wat braak lê vir ander skrywers om te ontgin. Wat op sigself behoort te getuig dat in dié ruwe, onpretensieuse vorm dit reeds allerheerlike leesstof is. Dit is ’n storie met siel."

Vir sy derde roman, Die olifantjagters (1997), ontvang Piet in 1998 die M-Net-Boekprys. Hy vertel self "[die] tema van die moderne mens se verlies van ’n natuurlike 'Paradyslike' bestaan en sy staat as 'kaal voor God' bly hom interesseer in die beeld van die boesman wat hom help om die vae spore van die eie verlore Self deur die woestyn van sy onbewuste te sny".

Met die ontvangs van die M-Net-prys doen Piet toe sy bedankings in Engels en veroorsaak ’n klein herrie. Sy verweer was dat "ek so onkant betrap [was] toe my naam genoem is, dat ek net begin praat het"; dat die praat in Engels was, skryf hy daaraan toe dat hy in Namibië gewoond is om Engels te praat wanneer hy toesprake doen. Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat Die olifantjagters ’n "hartboek" is. "Dis ’n storie wat ek in my binnegoed gevoel het. Ek het geglo daaraan" (Die Burger, 1 Junie 1998).

Aan Nieuwoudt (Beeld, 4 Junie 1998) vertel hy dat Die olifantjagters grootliks gebaseer is op Moby Dick. "Soos die walvis in dié boek is die olifant ’n reusagtige, onskuldige dier. Maar die diere kan ook gevaarlik wees. Dit simboliseer die stryd tussen goed en kwaad."

Piet van Rooyen se kennis van die natuur en Boesmans is duidelik in Die olifantjagters te sien. Dit is ’n boek waarin mens én dier se oorlewing uitgebeeld word.

"Ek het twee jaar lank saam met die Boesmans gebly en gewerk," vertel hy aan Nieuwoudt. "Ek het toe kennis gemaak met die mens se stryd teen die natuur. Dié mense is daagliks in ’n stryd om selfbehoud. Hulle lewe weke sonder kos en dae lank sonder water. Maak die stryd hulle beter of slegter? Ek kan nie ’n antwoord daarop gee nie. Maar daar is ’n edelheid in hulle wat ek bewonder."

Die twee karakters Huger en !Asa in Die olifantjagters is gegrond op ’n Duitser en sy Boesmanvrou met wie Piet kennis gemaak gedurende sy verblyf by die Boesmans. !Asa is deels die stukrag agter die groep mense wat Maxamesi, die olifant, jag, en die karakter van die skrywer in die boek en !Asa kommunikeer deur middel van lyftaal en gebare, aangesien hulle nie mekaar se taal kan verstaan nie.

Hieroor brei Piet verder uit teenoor Nieuwoudt: "Die Boesmanvrou wat ek in die veld ontmoet het, het my gefassineer. Sy was ’n weeskind wat uitstekend aangepas het by die Duitser – ’n moeilike mens om mee saam te leef. Sy het hom van die veld geleer en hy het my weer geleer."

Op Radiosondergrense se destydse boekeprogram, Skrywers en boeke, skryf Petra Müller dat Piet van Rooyen ’n skrywer is wat met Afrika stoei. "In sy boeke is Afrika die hoofpersonasie, en die mense wat die land bewandel, dryf oor haar heen soos miertjies oor ’n enorm ontoegeeflike liggaam wat dikwels die groot ervaring bied, en ook dikwels die groot dood."

Vir Müller begin die drade van die verhaal by twee groepe mense: die primitiewe kamp van ’n organisasie waarin twee oorsese vroue saam met die Afrikaanse skrywer probeer om die Boesmans te versorg en op te hef, en die jagkamp van Huger en sy Boesmanvrou !Asa. Die skrywer self is, volgens Müller, ’n wese sonder persoonlikheid wat "sy persona van Huger af vang. Huger verskaf definisie, en so ook sy wispelturige, half-wilde vrou. Mettertyd suig hulle die skrywer in hul dampkring op."

Die derde mag wat ook op die toneel verskyn, is die olifant Maxamesi, wat gejag word vir sy ivoor om te help met die befondsing van die Stigting vir die Boesmans.

Müller sluit haar resensie af: "Daar is heelwat onopgeloste paradokse in die boek, soos dat hierdie onvervangbare, edele dier, Maxamesi, uitgeroei word ten behoewe van die heeltemal efemere voordeel van die groep verworde Boesmans. En daar is dinge wat my as leser geïrriteer het, soos die heeltemal onnodige naamloosheid van die ek-personasie, en sy onwaarskynlike verledeloosheid; asook sy ewigdurende filosofiese gebabbel oor God en die wêreld met mense wat daar klaarblyklik nog minder van weet as hy. Maar so is Afrika nou eenmaal: dis ’n plek van paradokse, en dus juis daar, op die skarnier van die onwaarskynlike, waar dikwels ook die bliksem van begrip inslaan. En dit gebeur hier ook, en sleur jou op die ou end mee.

"Ja, Piet van Rooyen is op sy beste ’n meesterverteller en hy lewer hier ’n paar onvergeetlike tonele."

Herman Wasserman is die resensent van Die olifantjagters in Die Burger van 17 Desember 1997. Vir hom is Van Rooyen se beskrywings van die Boesmanland en die obsessiewe jagtog op die olifantbul só filmies dat die leser ingetrek word by hierdie omgewing en persoonlikhede en nie gou weer gelos word nie.

"Die olifantjagters is tegelyk ’n boeiende avontuurverhaal, met spanning, machoïsme en aksie, én ’n letterkundige werk waarin die jag ’n wyer metaforiese lading kry. (…)

"Die storie is redelik eenvoudig: die verteller wil ’n jagprojek van stapel stuur vir toeriste, met behulp van ’n beroepsjagter. Die uiteindelike doel is om geld in te samel om die Boesmans op te hef. (…)

"Maar behalwe die sentrale jagtema word ander sake ook in die roman aangeroer. Hierdie newetemas – die Boesmankultuur, die erotiek, die onlangse geskiedenis van Namibië – word moeiteloos ingeweef by die hooftema, sodat hulle saampraat en aan die jagtema ’n nog groter metaforiese reikwydte verleen. (…)

"In uiters vaardige passasies skep Van Rooyen ’n gevoel van tydloosheid en beelde van hallusinasies wanneer die soektog afwentel, en bied ’n aangrypende beeld op ’n wêreld wat in sy wreedheid en wydsheid groter as die mens se vernietigings- en oorwinningsdrange is.

"Daar is nog veel te sê: die manier waarop fabels en mites binne die Westerse waarneming opgeteken word, die verhouding tussen mens en natuur en die mens wat sowel vriendelik as vyandig is, die simboliek. Maar net soos op ’n jagtog, wil ’n mens nie te veel stilstaan nie. Ten minste nie voordat jy nie die verhaal, wat jou meesleur tot op die einde, ingehaal het nie."

Van Rooyen se vierde roman, Gif, verskyn in 2001 by Protea Boekhuis en dit handel oor ’n uitmergelende perdewedren. Piet sê met verwysing na die titel: "Gif bring dood én lewe. Gif is ook teengif, soos die mooie, oftewel kuns, ’n teengif teen die dood is" (Die Burger, 19 Desember 2001).

Gif handel oor ’n man wat saam met twee broers, Frans en Baltur, na die diep binneland van Botswana reis, skryf Chris van der Merwe in Die Burger van 27 Mei 2001. "Frans het ’n teorie dat die bron van die hele Suider-Afrika se waterstelsels in dié ongerepte wêreld bestaan, en dat dit ook die bron is van al die diamante in Suider-Afrika.

"Die verteller besluit om saam te gaan omdat hy ’n besondere merrie by die broers gekoop het wat hy op die reis wil leer ken en wil brei vir ’n groot wedren.

"Wat volg, is ’n verhaal vol avontuur en ontbering. Van Rooyen skryf met groot kennis van die wêreld wat hy uitbeeld, en die storie het ’n meevoerende krag. Dis egter veel meer as ’n avontuurverhaal; ook die mens se soektog na betekenis en innerlike genesing word weergegee."

Die belangrikste tema is die innerlike verskeurdheid van die mens. Aan die een kant van dít wat die menslike natuur uitbeeld, staan die twee broers met Frans as die verteenwoordiger van die rasionele kant en Baltur die verteenwoordiger van die skadukant. Maria is ’n Boesmanvrou wat saam met hulle reis en sy is nie alleen die beliggaming van die wysheid van die natuurmens nie, maar ook die offerfiguur, skryf Van der Merwe verder.

"Die gif waarna die titel verwys, is ’n ambivalente simbool: dit hou lewensgevaar in, maar dis ook ’n gawe, dit bied die moontlikheid tot redding; lewe en sterwe is trouens nou met mekaar verbonde."

Van der Merwe sluit af: "Daar is skrywers wat ná ’n paar jaar vergete raak, daar is ander wat mettertyd vir hulle ’n langdurige plek in ’n literatuur verower. Van Rooyen hoort myns insiens tot die laasgenoemde groep. Deur die duidelike unieke stempel van sy werk, die diepsinnige lewensvisie, sy groot kennis van die onderwerpe waaroor hy skryf en bowenal deur sy vermoë om ’n boeiende storie te vertel, is hy een van die Afrikaanse skrywers wat werklik saak maak."

Mathilda Smith (Volksblad, 3 September 2001) beskryf Gif as ’n avontuurverhaal wat die leser van bladsy een af verlei om die werklikheid agter te laat en vir ’n rukkie saam met ’n groepie kleurryke karakters ’n interessante reis mee te maak. "Van Rooyen se visuele manier van skryf laat die wispelturige Afrika-kontinent voor die geestesoog lewe. Jy voel naderhand jy ken die karakters persoonlik. Die oormekaarskuif van grense – waar fiksie die leser se alledaagse bestaan absorbeer – is ’n wesenskenmerk van die verhaal."

In 2002 verskyn Die brandende man, ook by Protea Boekhuis. In hierdie roman vorm nie Afrika nie, maar Amerika die agtergrond van die verhaal. Die verteller en sy vriendin reis na Black Rock City in die Nevada-woestyn om die fees van die Brandende Man te ervaar. In die werklikheid het hierdie fees sy ontstaan gehad toe Larry Harvey ná ’n liefdesteleurstelling ’n pop op ’n strand in Kalifornië aan die brand gesteek het om sy hartseer te besweer. Dit het ’n jaarlikse gebeurtenis geword waar duisende mense saamkom.

In Die Burger van 6 Mei 2002 skryf Chrisna Beuke-Muir dat Van Rooyen se manlike hoofkarakters dikwels nie beheer oor hulle lot het nie en redelik passief staan ten opsigte van die verhaalgebeure. "Die brandende man is geen uitsondering nie: die ek-verteller word die speelbal van die noodlot, hoewel die inligting wat hy vooraf op die internet kry, hom waarsku dat hy nie as toeskouer die fees kan bywoon nie, maar dat 'jy kom om te oorleef … te skep … te ervaar … (en) om te vier' (pp 7, 8).

"Ironies bly die hoofkarakter ’n toeskouer tot aan die einde as hy teen sy wil ingesleep word 'om te ervaar'.

"Die soektog na die verlore Self kan selde van religieuse kwessies geskei word, en in Die brandende man gebruik Van Rooyen met vrug die idee van ’n ritueel wat sterk op die religieuse steun. Deur die aanloop tot en die voltrekking van die ritueel van die groteske man-konstruksie wat aan die brand gesteek word, word die onskuldige en die bose teen mekaar uitgespeel en slaag Van Rooyen daarin om te wys hoe vaag hierdie skeidslyn tussen goed en kwaad is."

Beuke-Muir is van mening dat gesofistikeerde manlike lesers Die brandende man interessant sal vind – dit is dan ook die lesersmark wat die skrywer in gedagte het met sy romans. "Die ritueel van die brandende man wat blootgelê word, bied boeiende leesstof wat die Afrikaanse leser in Afrika konfronteer met kwessies rakende (onder meer) identiteit teen ’n religieuse agtergrond in ’n vreemde, interessante wêreld weg van Afrika."

Fanie Olivier resenseer Die brandende man in Beeld (6 Mei 2002) en sluit af: "’n Goeie Afrikaanse leser kan nie nalaat om Die brandende man te lees met ’n agterkop vol van ’n soortgelyke 'inlywing' van Henry van Eeden in Sewe dae by die Silbersteins nie (…). Tref ’n mens dan ’n vergelyking, kom Leroux se voorspellings van byvoorbeeld ’n dierekarnaval en ’n Walpurgisnag binne die idee-konteks oortuigender en roerender uit die verf.

"Daar is oomblikke in Die brandende man dat Piet van Rooyen se skryfkuns ’n mens na jou asem laat snak, vol bewondering. Maar ek kan die gevoel nie afskud dat hierdie eintlik ’n kortverhaal is wat soos ’n wegholperd koers gekies het anderpad toe en homself in die romanwoestyn gaan staan en verdwaal het nie."

Die brandende man is binne twee maande klaar geskryf. Piet het die idee gekry nadat hy ’n televisieprogram oor die fees gesien het en meer inligting op die internet raakgeloop het. "Ek was nie in die liggaam by die fees nie (ook dalk maar goed), maar wel in gees en gedagtes. Talle van die beelde in die boek het werklike teenvoeters."

Na die publikasie van Die brandende man sê Piet in Rapport: "Ek is ’n Christen, hoewel miskien nie altyd in tropverband nie. Ek bedink my verhouding met God op ’n baie individuele manier. Hoewel Die brandende man uiters dekadent is, glo ek dat genade juis uit sonde te voorskyn kom. (Nou darem nie presies soos Raspoetin, wat geglo het dat hoe meer jy sondig, hoe groter word die genade nie.) Ek beskou myself as ’n geredde sondaar (die tollenaar, nie die priester nie)."

Ná ’n digstilswye van bykans 20 jaar word ’n digbundel, Goedsmoeds, in 2002 deur Protea Boekhuis uitgegee. In ’n onderhoud met Sonja Loots van Rapport (21 April 2002) vertel Piet dat die gedigte in Goedsmoeds "so stuk-stuk gekom" het in hierdie 20 jaar. 

Vir Bernard Odendaal (Volksblad, 8 April 2002) is Goedsmoeds ’n goeie titel vir die bundel, "want verskillende betekenisse van die titelwoord vind neerslag in verskillende fasette van die bundel.

"Eerstens sou ’n mens kon sê dat die tematiese verskeidenheid in die bundel paradoksaal verbonde staan juis deur die onoorsaaklike 'goedsmoedse' saamgevoegdheid van uiteenlopendhede waaroor dit dikwels gaan. Partykeer werk die jukstaponering van teenstrydighede komieklik ontluisterend. Hiervan is die gedig, 'Fakir', waarin die Mohammedaanse bedelmonnik dit met flitsende knieë in die gimnasium uitsweet 'op ’n doodstilstaande, geen tree gevorderde gerekenariseerde gesimuleerde simpele oefenfiets', ’n treffende voorbeeld.

"Ander kere verkeer die saamgedronge teenstellings van die werklikheid verwonderlik in ewewig. (…) Sekere tematies verwante reekse gedigte, wat met opvolgendes of voorafgaandes in kontras staan, is wel te onderskei in die bundel. Formeel is daar egter geen indeling van die verse nie."

Odendaal sluit dan af: "Die digter slaag egter grootliks daarin om styl en vormgewing oortuigend met die tematiek te versoen. Goedsmoeds is ’n digterlike stap vooruit vir Van Rooyen, ’n bewys van sy literêre veelsydigheid."

Vir TT Cloete (Beeld, 1 April 2002) mislei die bundeltitel die leser in ’n "soort avontuurlike, eg digterlike misleiding. Die gedigte is wel pretensieloos, party verse is amper sierloos, en dit is juis hul aantreklikheid, maar dit is nie sommer goedsmoedse gedigte nie. Dit is uitsonderlike poësie, op ’n uitsonderlike manier geskryf, vol onverwagse verrassings."

In 2003 is Piet die redakteur van Toewaaisand, Christoffel Coetzee se roman wat postuum gepubliseer is. In die nawoord tot die boek skryf Piet: "Ek het ten nouste met die groei en redigering van Op soek na generaal Mannetjies Mentz saamgewerk, en Chris het ook die nuwe manuskrip in sy verskillende stadiums met my bespreek. Dit was vir my byna vanselfsprekend dat ek die manuskrip ná Chris se dood verder sou wou vat. Die gebeure speel hulle die keer, anders as Mannetjies Mentz, in Namibië af en het te doen met plekke en omstandighede wat my ook raak. Ek het aan die werk gespring."

Piet skryf verder in sy nawoord oor sy werkwyse met Toewaaisand: "Ek dink ek het Chris goed geken. So goed soos vriende mekaar kan ken. Omdat geen mens egter ten volle in ’n ander se kop kan inkyk nie, was daar waarskynlik dele in die teks waarin ’n mens Chris nie volledig sal kon omvat nie, waar die teks waarskynlik nader aan die 'waarheid' sou lê as Chris dit self sou kon klaarskryf. Dit sou waarskynlik ook veel langer geneem het om tot stand te bring. Ek het my taak gesien as die invul van die grootste gapings en wou daarom nie veel meer as die helfte van die teks bydra nie, anders het dit my storie geword en nie meer Chris s’n nie. Ek sou eerder die leser wou betrek by die 'klaarskryf'.

"Ek en Chris het verskeie gesprekke oor die gebeure gehad. Dit is dus moeilik om te sê waar wedersydse beïnvloeding opgehou het. Soms is ’n hoofstuk rondom ’n enkele paragraaf gebou. Ek het kwaai geredigeer aan halfgeskrewe dele.

"Uiteindelik, glo ek, is daar tussen die twee van ons ’n produk bymekaargesit wat op sigself, onafhanklik van elkeen se aandeel, meriete het; ’n tipiese geval van die geheel wat uiteindelik groter raak as die som van die dele."

Op ’n vraag van Sonja Loots hoekom van sy boeke by Protea Boekhuis gepubliseer is en nie by Tafelberg nie, is sy antwoord: "Dis ’n lang pad en nie altyd goeie storie nie. Dit kom maar daarop neer dat hulle my manuskripte afgekeur het, nie ek vir húlle nie. Dikwels is gesê dis ‘van top literêre gehalte, maar ’n boek vir mans – en Afrikaanse mans lees nie’!"

Akwarius, wat in 2005 by Tafelberg gepubliseer is, lui ’n hele nuwe rigting in Piet se skryfwerk in. Hy self sien dit as "’n wetenskaplike speurroman oor die dekodering van oorlogsdolfyne met die mens as teenpool in die evolusiehiërargie. Hierdie keer is daar geen woestyn en geen aboriginale nie (behalwe die dolfyne self)!" (Rapport, 21 April 2002).

Akwarius het as hoofkarakter Anton Dreyer wat in Sewastopol in die intelligensiediens werk as dieresielkundige om dolfyne wat gedurende die Koue oorlog as biologiese wapens gebruik is, te demobiliseer. Anton word bygestaan deur Sasja en tussen die twee ontwikkel daar ’n vurige verhouding.

Aan die ander kant staan ’n Switser, Edelweiss, wat aanvanklik vir Anton help, maar later met vier van die intelligentste dolfyne die pad vat. Sasja en Anton volg hom deur verskeie wêreldstede, maar hy kom elke keer weg en laat kriptiese leidrade uit die letterkunde agter wat ontsyfer moet word om die dolfyne terug te kry.

Hierdie boek kry deur die bank goeie resensies en Melt Myburgh skryf in Rapport van 2 April 2006 dat dit "’n vernuftige tapisserie [is] waarin spannende avontuur verweef word met ’n magdom motiewe en simbole uit verskeie verwysingsvelde. Carl Jung se individuasie-teorie dien as skelet waarom die verhaal gebou word – ’n tegniek waarmee Etienne Leroux met sy Sewe dae by die Silbersteins die Afrikaanse letterkunde destyds ligjare vooruit gestoot het. Vir die ondernemende leser is Akwarius ure se genot in die hoogste graad. Soos ’n meesterverteller laat val Van Rooyen deurgaans leidrade waarmee hy lesers noop tot deelname aan ’n opwindende speurtog en raaiselspel."

In Die Burger van 8 Oktober 2005 skryf Martina Klopper dat Piet van Rooyen met Akwarius twee dinge regkry: "Hy boei met ’n interessante storielyn, en slaag daarin om sy leser nuuskierig te maak oor die Russiese letterkunde-reuse."

Piet se volgende digbundel is Kwansuis wat in 2008 deur Human & Rousseau gepubliseer is. Chrisna Beuke-Muir (Republikein, 4 September 2008) skryf dat dit oor ’n diepgang en eerlikheid beskik wat die beste van sy digwerk tot dusver opgelewer het. Sy sluit af: "Oor (en vir) hierdie bundel is nog veel te sê. Hoewel die gedigte nie almal ewe toeganklik is vir die breër leserspubliek nie – soos dit dikwels die geval is met poësie – is die literêre kwaliteit van Kwansuis van so ’n aard dat Van Rooyen met gemak kan saampraat met die gerekendes onder die Afrikaanse digters."

Joan Hambidge (Die Burger, 29 September 2008) skryf dat Piet in Kwansuis oor baie dinge dig: die liefde, die aarde, die see, die dood, vergange dinge en nog ander dinge ook. "Sy verse is oënskynlik eenvoudig in aanbod, maar met elke lees wen dit aan betekenisse wat die digter netjies wegsteek. (…) Soms is die gedigte (vir my gevoel) te vormloos, totdat jy dieper kyk en besef dit is ’n liriese praataanslag. Jy moet die verse hóór. En voel. (…)

"Die temas is dikwels manlik soos in die vele verse vanuit die manlike blikhoek, verse oor jag, ’n ervaring van ’n poolreisiger. En dis reg so. Die feministiese verse kry hier hul teenpool in die manlike ervaring wat eweneens getuig van pyn én ontnugtering."

Hambidge sluit dan af: "Piet van Rooyen is ’n regte digter. Hy is nie kammakastig nie. Om sy woorde aan te pas: Hy breek sy kartetse op ons digkuns."

Neil Cochrane is die resensent in Beeld van 27 Oktober 2008: "Met sy klem op die konkrete bemoeienis met die mens-natuurverhouding en verwondering oor die natuurlike wêreld sluit Van Rooyen met Kwansuis aan by sy vorige werk, alhoewel daar in dié bundel ’n meer deurleefde begrip is vir die onafwendbare verganklikheid van die mens en die gepaardgaande relatiwiteit van alle aardse dinge."

In 2010 verskyn Piet se volgende roman, Etosha, by Human & Rousseau en is dit een van die finaliste vir die ATKV-Prosaprys vir 2011.

Karel Fechter, Etosha se parkhoof, se beheer oor sy teenstropingseenhede is besig om ondermyn te word en dit, tesame met sy al groter wordende administratiewe werk, en sy verhouding met ’n Britse navorser vererger sy probleme. Die voorval wat alles op die spits dryf, is die dood van ’n Himba-hoofman nadat die teenstropingseenhede hom gevang het vir wilddiewery en hom doodmaak. Die hoofman se seun sweer dat hy gaan wraak neem teen Fechter, hoewel dié niks van die saak weet nie.

Met die aanstelling van ’n nuwe parkhoof word die politieke situasie ook aan bod gebring, aangesien die eenhede nie onder hulle vorige vyand wil werk nie. En toe die plaaslike Mafioso ’n aanbod aan die regering maak om ivoor uit te voer, word die kwessie van natuurbewaring ook aangeraak.

Vir Pieter J Haasbroek (Die Burger, 17 Mei 2010) het Van Rooyen die nodige agtergrond om oor so ’n "kontensieuse onderwerp" te skryf. Sy studie in die arbeidsreg en volkekunde en sy kennis as professor in die politieke wetenskap maak hom uiters geskik hiervoor.

"Die uitgangspunt van Van Rooyen se roman is – soos in soveel boeke oor Afrika deesdae – die tema van 'Things fall apart, the centre cannot hold.' (…)

"Hy voldoen uit die staanspoor aan sy lesers se verwagtinge van ondergang; die laaste verteenwoordigers van die ou bedeling moet uit die weg geruim word. Hulle het nie ’n kat se kans om teen die mag van die nuwe regering staande te bly nie. Al waaroor die leser nog kan wonder, is die hóé daarvan: Sal dit minder of meer gewelddadig wees?

"Al is die einde voorspelbaar, is Etosha ’n spannende verhaal wat boei danksy die volgehoue intensiteit van die skrywer se waarneming. (…) ’n Hoogtepunt is sy aangrypende beskrywing van die Himba-kaptein se begrafnis. So kán dit wees, voel dié leser. (…)

"Uiteindelik stel Etosha die ongemaklike vraag wat nóg die skrywer nóg sy lesers kan vermy: Wat is ons verantwoordelikheid nou in Afrika? Ons het – wat die skrywer elders 'die oorspronklike natuurparadys' noem – help vernietig. Is dit reg om ons nou op te hou bekommer oor die einde daarvan?"

Adéle Dempers bespreek Etosha in Volksblad van 26 Junie 2010 en sê die roman het haar van die begin af geboei met spanningslyne wat snaarstyf gespan én behou word.

"Van Rooyen gebruik kort sinne, soms telegramstyl, tog is sy beskrywings uitstekend. Hierdie taalgebruik pas by die gestroopte, harde omgewing en mense en werk die spanning en gevoel van angstigheid op. Die karakters word teen ’n flink pas bekend gestel en karakterisering is op die man af. (..)

"Aanvanklik lees ’n mens Etosha agter sy lekker storie aan, maar op ’n dieper vlak konfronteer dit jou met verskeie aktuele kwessies wat in jou kop draai. Aan wie behoort Afrika? (…) Etosha is ’n sterk roman. Dit ontstel, maar verdien om deur baie gelees te word. Nie net omdat dit ’n goeie storie vertel nie, maar ook omdat dit die leser laat dink en sy grense verruim."

Oor Piet se volgende roman, Rodriguez (2012), stem die kritici nie almal saam nie. In Rodriguez word die verhaal van Skerf Malan vertel. Hy was in Nasionale Intelligensie en is in 1990 onder die naam Rodriguez na Mosambiek gestuur om die Renamo-beweging te infiltreer. Hy word deur generaal Dhlakama en sy manne aan vele toetse blootgestel om seker te maak hy is wie hy veronderstel is om te wees. Hy raak ook betrokke by die vegters se daaglikse lewe, maar tob tog ook oor wat sy rol uiteindelik in die geskiedenis sal wees.

Vir Thys Human (Die Burger, 16 Julie 2012) is hierdie roman ’n bewys dat fiksie beslis vreemder as feite kan wees, maar, skryf hy, "in die hande van ’n bedrewe skrywer kan dit net so oortuigend en geloofwaardig klink."

Van Rooyen het tydens die bekendstelling van Rodriguez erken dat hy nie eers in sy wildste drome sulke dinge soos wat in die boek gebeur, sou kon uitgedink het nie. Rodriguez is dus op ware feite gebaseer.

Human gaan voort: "As gefiksionaliseerde weergawe van ’n veelbewoë hoofstuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en veral die betrokkenheid van die destydse regering in Mosambiek, kan Rodriguez as ’n interessante toevoeging tot die snelgroeiende getal prosatekste oor die Grensoorlog in Suidelike Afrika beskou word. (…)

"Van Rooyen begin sy roman op treffende wyse met die plasing van Rodriguez in die Mosambiekse bos. Die gebeure wat op hierdie kernmoment volg, maar ook allerlei voorvalle wat dit voorafgaan, word beurtelings in die daaropvolgende hoofstukke meegedeel.

"Aangesien die eerste hoofstuk heel dramaties in die historiese presens aangebied word, het ek die keuse om hoofstukke 2 tot 4 van die roman in die verlede tyd te vertel eerder as in die historiese presens (soos wat wel van hoofstuk 9 en verder die geval is), vreemd gevind. (…)

"Hoewel lesers wat ’n tradisionele spioenasieriller verwag, dalk teleurgestel kan wees, wag daar vir die geduldige leser wat bereid is om Rodriguez al lesende op al sy swerftogte te vergesel, ’n baie verrassende en bevredigende ontknoping. En boonop een wat wemel van die heerlikste ironieë."

Marius Visser (Rapport, 15 Julie 2012) is nie baie komplimenterend oor Rodriguez nie. Die roman word as ’n spanningsverhaal aangebied, maar "stuur seine van ’n parodie uit en is gegrond op ’n ware verhaal. Dié elemente werk eenvoudig nie saam nie," is Visser se mening.

"Die helder, meesleurende traksie van Van Rooyen se vorige romans is afwesig. Daar is ’n reeks opeenvolgende episodes van Rodriguez se wedervaringe in die bos, maar geen oorkoepelende intrige nie. Die leser soek verniet na die leidrade wat gewoonlik die ontknoping sou verhelder. Die gevolg is gebeure gelaai met betekenis, maar daar is uiteindelik geen bevredigende uitbetaling nie. Dié doelloosheid dwing mens om die roman as parodie te lees. (…)

"As regte mens is Rodriguez onaantreklik, as aksieheld is hy te passief en besluiteloos, en as ’n waarnemer van die verhoudings tussen mense is hy sy tyd agteruit. Die idees in die boek is nie moeilik om te snap nie en die intertekstualiteit met elke ander Grensoorlog-verhaal is voor die hand liggend. Dis net uiteindelik nie baie bevredigend om die kaf van die koring te skei nie."

Ook in 2012 verskyn daar by Protea Boekhuis ’n roman van Piet van Rooyen onder die titel Vaarwel, klein soldaat. Dit handel oor Jim Thorpe, ’n Skot, se Leër van die Laaste Dae. Thorpe is ’n voormalige huursoldaat wat ’n krygskamp in die Vrystaat stig op ’n plaas met die naam Langlaagte. Thorpe ontmoet in Lourenço Marques (Maputo) twee Chinese susters – hy trou met die een en die ander een word later sy bywyf. Hy het twee dogters, een by elke vrou, en die verhaal speel af wanneer die dogters albei in hul tienerjare is.

Vir Joan-Mari Barendse (Tydskrif vir Letterkunde, 2013) is die saamgooi van gebeure uit verskillende tye hinderlik, aangesien die leser nie die storie in ’n spesifieke tyd kan plaas nie. Daar word van Maputo gepraat en nie Lourenço Marques nie, Chris Hani se moord word vermeld en so ook Nelson Mandela se tydvak as president van die ANC. Nuusgebeure uit 2006, 2007 en 2008 word ook genoem.

Barendse sluit af: "Van Rooyen raak aan interessante temas en skep ’n aantal sterk karakters in Vaarwel, klein soldaat. Die laaste hoofstuk is ’n opsomming van wat (moontlik) van die onderskeie karakters geword het. Hierdie afsluiting kom geforseerd voor. Die verskeie elemente van die roman (die spanningselement, die Suid-Afrikaanse situasie, die Oosterse interteks) word nie suksesvol bymekaargebring nie. Saam met die verwarrende tydsaanduiding veroorsaak dit dat die roman as geheel nie oortuig nie."

In 2013 keer Van Rooyen terug na die poësie met die publikasie van Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde, wat by Protea Boekhuis verskyn.

Piet vertel aan Rudolf Stehle (Die Burger, 17 Mei 2014) dat hy van kindsbeen af baie lief is vir perde en dat hy van toeka se dae af al tuis voel op ’n perd se rug. Sy oupa was van die plaas Rondehoek in die Vrystaat, waar hy ’n perdeteler was. Hy het ook tydens die Eerste Wêreldoorlog perde aan die regering verskaf. Piet is nog altyd ’n ruiter en is ook lid van Namibië se uithouritspan.

Reisiger te perd is op meer as 400 boeke gebaseer en Stehle wou by hom weet hoekom hy op hierdie werkwyse besluit het – om sy perdgedigte op ander se tekste of idees te skoei. Hierop antwoord Piet: "Oral in die klassieke letterkunde duik perde op. Ek het met die leeswerk oor baie jare die idees oor perde kans gegun om op my te groei. Nie alle werke het sulke mooi verwysings na perde gehad nie. Ek het net daardie gebruik wat ’n gedig in die siel gehad het."

Dit is veral die Russiese skrywers wat vir hom uitstaan. Hulle is in die algemeen "perde-mense en Rusland ’n plek vir perde. Dink maar aan die gejaag van die Kosakke oor die steppe. Elke woord in hierdie sin praat perd. Dus is die Russiese skrywers vir my voor in die verstaan van die siel van die perd. Ek praat dan veral van Tolstoi, Iwan Toergenjef, Isaac Babel en Michail Sjolochof: die jagters, oorlogmakers en liefdemakers onder die Russe."

Die buiteblad is ’n nuwe kunswerk deur Jahni Wasserfall wat sy geskep het vir ’n uitstalling in 2013 in Pretoria en heet Somnio (Equus).

Piet verduidelik oor sy keuse van hierdie spesifieke kunswerk: "Wat tot my spreek, is veral die manier waarop perd en ruiter ’n byna ononderskeibare eenheid vorm, amper as ’n soort geesteswese, ’n Centaurus, ’n sterrebeeld."

Johann Lodewyk Marais skryf in Rapport (23 Maart 2014) dat digbundels waarin die gedigte ’n geheel of eenheid vorm, al ’n hele rukkie in Afrikaans voorkom. In Reisiger te perd (sy vierde digbundel) dig Van Rooyen oor die verhouding tussen mens en perd.

"In prosa het hy tekste oor perde uitgelig en daaroor gedig. Daarmee kon hy sy 'digterlike vryheid vrye teuels gee', maar hy het soms net ’n idee uit die bron gebruik. Agterin die bundel is ’n bronnelys van tekste in Engels wat as aanknopingspunt vir die gedigte gebruik is. (…)

"Reisiger te perd bied portrette van tydperke en kulture waarin die perd aktief was. Sodoende kom ’n beeld van Equus caballus met sy verskillende hoedanighede tot stand. Daar is nie altyd ’n aanduiding van die ruimtes en/of landskappe waarin die perde voorkom nie, wat tot ’n vervloeiende beeld van die perd bydra en mooi in die voorplat na aanleiding van Jahni Wasserfall se kunswerk Om van ’n perd te droom (2013) vergestalt word.

"Heel dikwels help die naam van die outeur onderaan die gedig om die leser na ’n bepaalde konteks te lei. (…)

"Reisiger te perd beteken vir Van Rooyen se poësie wat sy roman Die olifantjagters (1997) vir hom as romansier beteken het: ’n onbetwisbare hoogtepunt in sy groeiende oeuvre."

In Beeld van 5 Mei 2014 is Joan Hambidge die resensent en sy beskryf hierdie gedigte wat gebaseer is op ’n ander teks en waarin die skrywer sy eie interpretasie daaraan gee, as ’n "jazz-vertolking van ’n bekende liedjie of melodie. Jy herken die ou wysie, maar die nuwe interpretasie maak van die oorspronklike as ’t ware ’n nuwe kunswerk.

"Om 100 gedigte oor perde te maak (die Pegasus as simbool van die digkuns) is reeds ’n projek van vernuf. En om dit uitsonderlik goed te maak en elke keer die leser te verras met ’n nuwe wending of toepassing, wil gedoen wees.

"En dit is dan presies wat Piet van Rooyen regkry. (…) Dis een van daardie digbundels wat ’n mens met een asemteug lees en met elke herlees bewonder vir die besondere navorsing en herdigting. In die gedig 'kavallerie' (na Stefan Zweig, bladsy 68) sluit die digter: 'so reis ons deur die landskap / net ek en my perd en ons twee se skaduwee / die mees volhardende grys verskuiwende bewys / dat ek deel is van, en lewe en bestaan / vir my is dit heeltemal genoeg'.

"En hierdie vers kan as ars poetica gelees word. In hierdie verse vang ’n mens iets op van ’n digter wat sy manier-van-doen as 'heeltemal genoeg' ervaar. Hierdie is geen digterlike toertjies of afshow nie; net ’n helder kyk na die wêreld om hom. Vanselfsprekend spreek die bundel van geweldige belesenheid, en om van Joseph Conrad, Ernest Hemingway tot Bolaño te kan dig oor perde, wil gedoen wees.

"Party lesers mag vra, maar waar is ’n gedig oor daardie historiese gebeurtenis en hoekom nie hierdie vers nie? Maar onthou, dis sy persoonlike keuse! Hierdie digter is kennelik bedot oor perde, soos ’n gedig van Hemingway dan ook lui. En my gunstelinge is Leo Tolstoi en Iwan Toergenjef.

"wat is lekkerder as om voluit
met die drieperd-slee
deur dik wit sneeu te jaag
die vodkabottels blink in die vuiste.

"Só begin 'troika' van Tolstoi en ja, dit eindig natuurlik in die poorte van die hel.

"Hierdie digter het in 1973 gedebuteer en met hierdie bundel – gebaseer op meer as 400 boeke – steek hy beslis ’n kleim af. Dis eenvoudige, toeganklike verse, maar die skoonheid is opgesluit in hierdie deursigtigheid. Maar dis ook ’n vakman wat só sonder fieterjasies kan dig."

Op LitNet meen Susan Smith dat die bundel as ’n historiese dokument beskou kan word deur die plasing binne die wêreldletterkunde en dit is waar die bundel se grootste krag lê.

"Die gedigte getuig van ’n wye en indrukwekkende belesenheid, en deurlopende intertekstualiteit word op vernuftige wyse met klassieke tekste en outeur (…) bewerkstellig. Terselfdertyd slaag die digter daarin om die gedigte meestal gestroop en toeganklik aan te bied, ’n helderheid wat dikwels bedrieglik kan wees. (…)

"Teen die agtergrond van die klassieke riddertyd versterk die eerste aantal gedigte in die bundel onmiddellik die idee van man as ridder en held. (…) Hierdie beelde van manlikheid is egter nie beperk tot die 'tydperk' wat die eerste gedigte verteenwoordig nie, maar word deur getrek tot die einde."

Smith eindig haar bespreking deur te skryf dat hoewel die bundel knap geskryf is en leesbaar is, dit nie ’n "bruising in die bloed" van haar as leser veroorsaak het nie. "Te veel testosteroon tussen die bladsye vir hiérdie leser se smaak."

Met sy volgende roman, Voëlvry, keer Piet terug na Namibië. Dit word in 2017 deur Penguin Random House gepubliseer.

Hans Kramer, ’n berugte Duitse swendelaar, is die hoofkarakter. Hy vlug na Namibië met sy gesin ná grootskaalse geldelike skelmstreke en met Interpol en die Duitse regering agter hom aan. Hans beland later in die tronk en Gabriella, sy vrou, en kinders trek terug na Europa. In die tronk deel Hans ’n sel met ’n rebelleleier en deur hom ontmoet hy vir Rachel da Silva, ’n prokureur en dogter van Hans se selmaat. Op ’n daaglikse basis besoek sy die prisoniers en leer Hans só ken. Sy sien uiteindelik ook kans om die afgetakelde te red en ook lief te kry. En vir Deborah Steinmair is Rachel die "verpersoonliking van die sterk land wat Hans liefkry".

Steinmair skryf in Rapport (14 Augustus 2016) dat Voëlvry haar ongemaklik laat voel, met gemengde gevoelens. "Bewondering is darem een van hulle. Piet van Rooyen kán skryf. Daarvan getuig die pryse wat hy reeds gewen het. Maar ’n mens wil soms 'hokaai!' roep. Daar is iets bombasties aan sy ongebreidelde verbositeit, iets gedateer. Dit, gemeng met ’n satiriese inslag, vervreem die leser, herinner aan Etienne Leroux op ’n afdag.

"Daar is heelwat sprake van relaas, van narratief. Die skrywer konstateer feite en geskiedenis eerder as om die leser toe te laat om in die oomblik te wees en haar eie afleidings te maak. Hy vertel jou hóé iemand is. (…)

"Daar is lieflike gedeeltes wat die landskap helder voor die leser laat opspring. (…) Die kat-en-muis-speletjie tussen die Namibiese en Duitse owerhede oor die skaakstuk Hans sorg vir spanning en ’n moord of wat word gepleeg. Daar is misdaad, persoonlik agendas, gekonkel, komplotte en skelmstreke. Daar is wraak, vergelding en wilde diere wat verskeur.

"Maar is dit ’n spanningsverhaal?" vra Steinmair haar af. "Waar sal ’n mens dit indeel, wonder ek soos ’n vervaarde boekwinkelassistent. Daar is eggo’s van Die pelgrim se reis na die ewigheid en van Fanie se veldskooldae. Dis ’n spanningsverhaal wat mik na die Groot Afrikaanse Roman. Daarom is Voëlvry myns insiens soms te groot vir sy skoene. Tussen die boom en die bas mag dit moontlik lesers van verskillende genres louwarm laat."

In Die Burger van 28 November 2015 is Riaan Grobler egter ’n ander mening aangedaan. Sommer in die eerste sin van sy resensie – "’n Spanningsroman met ’n openingshoofstuk soos Piet van Rooyen se Voëlvry voorspel net goeie dinge" – is hy vol komplimente. Hy gaan voort: "In ’n bietjie meer as twee bladsye lê die skrywer die grondslag vir ’n kat-en-muis-spel wat die leser uit die staanspoor na ’n wêreld van intrige lok. (…)

"Die hoofstukke is kort, slegs twee of drie bladsye elk, wat van Voëlvry ’n toeganklike lekkerleesboek maak. Van Rooyen kry dit ook reg om die bladsye met lieflike beskrywings van die Namibiese landskap in te kleur.

"Met Voëlvry bewys Van Rooyen weer eens hoe ekonomies en knap hy met ’n pen kan omgaan en hoe hy met ’n oorspronklike en interessante verhaal deurgaans die spanningsdraad styf kan hou."

In 2016 verskyn Van Rooyen se tiende roman onder die titel Amatola, weer by Penguin Random House. Amatola is nie gesitueer in Namibië nie, maar speel grotendeels in die Sneeuberge in die Oos-Kaap af.

Professor Attie Vermaak hoor ’n gerug van ’n weggesteekte kloof in die Sneeuberge waar buitengewone rotstekeninge te sien is. Hy en sy sekretaresse, Estie, versamel ’n span argeoloë en studente om na hierdie rotstekeninge (’n tafereel van ruiters in uniform, gewapen met gewere, wat jag maak op vlugtende figure) in die Sneeuberge te gaan soek.

Charles Smith (Die Burger, 8 Augustus 2016) beskryf Amatola as ’n boek met twee helftes. Attie Vermaak bring sy span in die eerste helfte bymekaar en hulle reis van drie dae vanaf Gauteng na die Oos-Kaap word beskryf. Hierdie reis is ook belaai met eienaardige insidente, onder andere een in Reddersburg, waar hulle kameras gesteel word en hulle ’n kleindorpse dwelmbaas, die Kakhuiskoning, volg. Smith beskryf hierdie insident as ’n "dagga-trip". Daar is ook ’n ontmoeting met ’n Afrikaanse skrywer wat net skreeu: "Fok die leser!"

In die Vallei van Verlatenheid help Jan die Kaktusman hulle toe hulle pap bande kry. Twee lede van die groep oornag saam met Jan in sy huis, waar hulle ’n soort dwelmtee inneem en op ’n wilde trip gaan. En dan is jy in die tweede helfte van die storie.

Smith skryf verder: "Dis asof dit skielik ’n ander verhaal is – dieselfde mense in die groep, maar nou is dit ’n meer realistiese omgewing. Hulle is wetenskaplikes wat die oorlogstafereel van ruiters en diegene wat vlug, soek en dan ontleed. Dan slaan die noodlot toe in die vorm van die wrede Amatola-bende.

"Waar jy nog ’n klompie bladsye gelede gegrinnik het oor die Kakhuiskoning, die vreemde skrywer en Jan die Kaktusman se sêgoed, kyk jy geskok toe hoe die bendelede een student wegsleep en verskriklik verkrag. Waar die span wetenskaplikes teorieë oor die rotskuns bespreek het, word hulle nou onderwerp aan ’n primitiewe spul rowers en moet hulle uintjies grawe en rotte jag om te oorlewe.

"Die dwelm-trips van floozies word ’n hiperrealistiese nagmerrie. Die span argeoloë, wat hul kennis van rotskuns wou toets en uitbrei, word ’n groepie wat soos Boesmans van ouds in die veld moet oorleef – en selfs hul kennis van Boesmans inspan. Die stedelinge word gehard en slu, soos die rowers.

"Eindelik word Vermaak en sy span dié wat vlug op die rotstekening. Waar die Boesman-stam op die sjamaan en sy mitiese figuur se krag kon reken, kan hulle net hul kennis van die Boesmans en hul veldkuns gebruik om te oorleef (al is dit ongesê). Dis ’n oorlog tussen die wetenskap en oorlewing. Wat is belangrik in die lewe en wat nie? Dis ’n verhaal van verraad en menslike gedrag onder die ergste toestande denkbaar. (…)

"Van Rooyen vat die spanning in Amatola baie goed vas. Lees gerus, maar dit is nie ’n New Age-handleiding vir jappies nie."

Deborah Steinmair begin haar resensie van Amatola (Rapport, 18 September 2016) as volg: "Die tipering 'satiriese inslag' kan ’n meulsteen om ’n skrywer se nek word. Vele lesers word deur satire geïrriteer: dit impliseer dat die skrywer vanaf ’n emosionele afstand neersien op karakters en situasies, tong in die kies en effens uit die hoogte. Dit vervreem. Dit is moontlik waarom Piet van Rooyen sy jongste boek inlui met die statering: 'Die gebeure wat hier opgeteken staan, is doodernstig, en nie ’n satire van watter aard ook al nie. Dit is in elk geval nie veronderstel om snaaks te wees nie. As enigiemand hom die absurde wil verbeel, is hy welkom.'

"Daar is eenmaal iets omtrent dié skrywer se styl wat satire suggereer, ’n slimgeit, ’n skerpheid, die afwesigheid van deernis. Hierdie boek is egter meer 'realisties', meer onomwonde avontuurverhaal as de vorige. Tog skuil daar vir die verbeeldingryke leser oorvloedige absurditeit tussen die reëls. (…)

"Die gebeure ontvou absoluut chronologies, die verhaalstruktuur is eenvoudig, ontdaan van terugflits of newe-storielyn. Dit bly in die oomblik en word ’n studie van mense onder druk, die dinamika van ’n groep wat tot die uiterste beproef word. Watter helde gaan vou, watter bleeksiele gaan heldhaftig uit die stryd tree? (…)

"Die boek begin redelik stadig, met pap wiele in die Vallei van Verlatenheid en ander ontberings langs die pad, maar tel gaandeweg momentum op, en in die laaste gedeelte laat die skrywer die angsvlakke onrusbarend styg. Dis hier waar die satiriese inslag plek maak vir rou spanning.

"Van Rooyen is ’n bedrewe tekenaar van woordprente. Die leser voel met hierdie boek wel dat die skrywer se kontrak nagekom is. Daar is nog steeds, soos met Voëlvry, die onsekerheid oor genre-klassifikasie, maar dis ’n sterk spanningsverhaal met ’n boeiende einde."

Piet van Rooyen was nog lank nie uitgeskryf nie. In 2019 verskyn sy volgende roman, By die brandende berg, ook by Penguin Random House.

Op LitNet som Alta Cloete die storie van By die brandende berg as volg op: "JJ van Solms is nou nie eintlik wat mens ’n storieboekheld sal noem nie. Hy is wel intelligent, fluks en uiters ondernemend, maar mettertyd kom sy ongunstige eienskappe al hoe meer na vore: geldgierigheid, chauvinisme, rassisme. Tog behou die leser ’n teensinnige soort simpatie vir hom, want hy het heelwat selfinsig en kan homself sien vir wat hy is. Tot op ’n punt – dan verloor hy alle perspektief. Rondom hierdie komplekse karakter het Piet van Rooyen die verhaal van By die brandende berg gebou.

"Teenoor die middeljarige JJ staan Dominique, die langbeenskoonheid uit die Kongo, ’n skooldogter nog, op soek na ’n wit man om haar uit haar benouende omstandighede weg te neem. Sy kry wat sy gesoek het, maar ook heelwat meer. Met haar jeug en oënskynlike onskuld staan sy in sterk kontras teenoor haar man, wat geen engeltjie is nie en self ook deeglik daarvan bewus is, selfs ’n bietjie trots is daarop."

Die natuurbeskrywings in By die brandende berg is vir Cloete die sterk punt van die roman. Ook gebruik die skrywer taal wat "lieflik en liries" is. Die leser leer word bekendgestel aan Van Solms se woestyn, die Namib, asook aan die oerwoude van die Kongo. En hoewel hy nie gemaklik voel in die Kongo met sy uiterste klimaat nie, bly hy daar in sy soeke na avontuur en rykdom.

Dinge raak egter vir hom ’n bietjie warm in die Kongo en hy en sy gesin trek terug Namibië toe, waar hulle aan die voet van die Brandberg vir hulle ’n woonplek inrig.

"Die Brandberg word mettertyd ’n volwaardige karakter in JJ se verhaal. Sy is ’n oorweldigende teenwoordigheid in sy lewe; misterieus, beeldskoon, gevaarlik. By twee geleenthede loop hy hom lelik vas teen haar hange, maar hy is nie ’n man wat sy lesse maklik leer nie," skryf Cloete voorts.

"In die Kongo ontmoet hy twee Chinese vennote wat deur die amptenaar aan hom opgedring word. Hierdie aspek van die storie is besonder relevant, gesien in die lig van die toenemende Chinese bedrywighede in Afrika. JJ sien dit dan ook vir wat dit is – ’n nuwe vorm van kolonialisasie, wat ook maar ten doel het om soveel van die gebied se natuurlike hulpbronne as moontlik in die hande te kry. Terug in Namibië vind hy dat dieselfde ook daar aan die gebeur is – selfs die land se donkies is nie meer veilig nie.

"Die natuurbewaarder, Chris, wat JJ in Namibië leer ken, toon nogal ’n besondere ooreenkoms met die skrywer en natuurbewaarder, Christiaan Bakkes. Die situasies waarin Chris hom bevind, word gereflekteer in Bakkes se boek Plunderwoestyn, waarin hy die probleme en korrupsie in Namibië se natuurbewaringskringe aan die kaak stel. Selfs die dood van die karakter se hond as ’n waarskuwing van sy vyande, stem ooreen met Bakkes se ondervinding.

"Piet van Rooyen is ’n ervare skrywer van vele romans, waaronder verskeie pryswenners. Hy skryf met intieme kennis oor die landstreke en situasies waarin sy karakters hulle bevind. Sy manlike hoofkarakter is oortuigend in sy onvolmaaktheid en uiteindelike paranoia.

"Die storie word meestal uit die perspektief van ’n alomteenwoordige verteller weergegee, andersins uit JJ se hoek. Die verteller is soms geneig om ongevraagde kommentaar oor die karakters uit te spreek, wat afbreuk doen aan die verhaal. Op die paar plekke waar daar in die middel van ’n toneel onverwags na Dominique se perspektief oorgegaan word, is dit hinderlik en verbreek dit die vloei van die verhaal. Hier en daar kom klein tipografiese foutjies voor, veral twee woorde wat per abuis vas aan mekaar geskryf word, maar dis nie genoeg om werklik hinderlik te wees nie.

"By die brandende berg is die verhaal van ’n man en sy gesin se aftakeling, gesien in die konteks van die stroping van Afrika deur verskeie rolspelers wat hulle hande op haar rykdom wil lê. Dit is ’n harde verhaal, die storie van ’n man onder die manne, geskryf deur iemand wat sy onderwerp deur en deur ken."

Op Netwerk24 (21 Oktober 2019) beskryf Riaan Grobler By die brandende berg as ’n "roman met sterk postkoloniale en hegemoniese temas – waar uitbuiting, vergelding, kansvattery, leë beloftes en die illusie van maklike rykdom na vore kom."

Vir Jonathan Amid (die resensent in Rapport van 15 Februarie 2020) is een van die verskynsels in By die brandende berg die besluit van die skrywer om binne die bestek van die eerste paar bladsye ’n klomp van Solms se karaktereienskappe uit te lap. Ook gaan die leser na die eerste ongeveer 20 bladsye weet hoe ’n groot deel van die storie hom gaan uitspeel. "Dis letterlik telling wat bo showing die botoon voer."

Ook is Amid onseker vir wie die roman bedoel is: "Die spanningsvlakke bly getemper; geen adrenalien bruis deur die are nie; daar is nie genoeg sterk teenargumente om die teks se macho houdings en geweld teenoor vroue te regverdig nie; die gruwels van die Kongo bly by twee dimensies. (…) Vir hierdie leser bly By die brandende berg futloos en frustrerend: ’n verspeelde kans."

In 1999 lewer Piet die Langenhoven-gedenklesing by die Universiteit van Port Elizabeth. In sy lesing, "Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman", wys hy watter rol sy kennismaking met die Ju/'hoansi van Namibië in sy romans Die spoorsnyer en Die olifantjagters gespeel het. "Die belangrikste opleidingsveld vir enige skrywer is die lewe. Hierdie lewe sluit nie net persoonlike ervarings van die skrywer in nie, maar word ook ingekleur deur ontmoetings met die ander wat jul eie lewe deur vertellings met die skrywer deel. Hy inkorporeer hierdie invloede in sy eie bestaansfeer, maak daarvan eie besitting, word gevorm deur die onbekende, maar omvorm self ook die onbekende." Paul Chapman speel die oorheersende rol in Die spoorsnyer, maar "[h]y word meer as die werklikheid. Ek speel die rol van die meelopende skrywer ... wat as die skrywer sin maak uit die gebeure ... met Paul saam leer die skrywer veel van sy eie wese en iets van die ander" (Die Burger, 23 September 1999).

In ’n onderhoud met Chrisna Beuke-Muir (Die Burger, 27 Maart 2002) vertel Piet dat hy "Die spoorsnyerDie olifantjagter en Gif [sien] as ’n soort 'spoorsny-trilogie' waarin die Ju/’hoansi ’n belangrike funksie vervul. (...) Ek wou dus nie in die eerste plek oor die 'Boesmans' skryf nie, maar oor die Self. Hulle is juis daar om daardie oorspronklike, natuur- (paradys) en Godgebonde verlore deel van die moderne mens te help naspoor. Hulle kan ons dit nie finaal maak vind nie, daarvoor is ons te verlore, maar kan tog vae oorblyfsels daarvan help aandui." In hierdie trilogie het hy sy eie "Moby Dick" agtervolg – die eland, olifant en die perd. "Die dier is simbool van onskuld, maar ook van betrokkenheid en afhanklikheid van die Skepper. Tussen jagter en prooi bestaan daar ’n kosmiese verband. In die Boesman-kosmologie het die jag ’n oerverbintenis met die voortplantingsdaad."

Piet haal hom ook die gramskap van mense op die hals toe hy in sy aanvaardingstoespraak tydens die oorhandiging van die M-Net-prys die stelling maak dat hy nie "feminine" Afrikaanse manlike skrywers lees nie. Sy "feminine" word toe vertaal as "verwyfde", maar hy staan steeds by wat hy gesê het. "Ek vind nie aanklank by die Afrikaanse manlike skrywers nie. Die vroue lees ek graag, maar ek het grootgeword met PJ Schoeman en Doc Immelman ... Ek weet nie of die mans ’n probleem met die vaderfiguur het nie, en of dit in hul godsdiensbelewing lê nie, maar as Karel Schoeman byvoorbeeld oor die Boereoorlog skryf, is dit ook maar net in die huis met koppies en tee. ... Ek wil definitief nie so skryf nie" (in ’n onderhoud met Francois Smith in Die Burger van 19 Desember 2001).

Piet van Rooyen praat dus steeds as Afrikaner, selfs in sy afwysing van groepsidentiteit. Hy erken egter sy ambivalensie hieroor teenoor Francois Smith en sê dat dit vir hom baie belangrik is om in Afrikaans te lees, gesels en aanbid. "Maar Afrikaskap is eerste. En die Afrikaner is deel van Afrika. Die vroeë trekboere en die Dorslandtrekkers was volledig deel van Afrika, maar die moderne ouens staan dit af."

Piet vertel verder aan Francois Smith dat dit in Afrika is waar hy werklik tuis voel. "Ek is in die natuur, en tussen wilde diere beleef ek die kombinasie van vrees, emosie en skoonheid wat my lewend laat voel," erken hy. "Ook as Afrikaner is ek tuis en ek gaan nie soos talle van my tydgenote gebuk onder skuldgevoelens nie. Ek is teenoor niks en niemand skuldig nie. Om mag uit te oefen, is nie sonde nie, maar dat ons nie meer die mag het nie, maak my ook nie ongelukkig nie."

Hy brei verder uit: "Die Boesman dra nie skuld nie, skuld is buite homself, net soos die dier nie boosheid ken nie. Die Boesman sien homself as deel van ’n matrys van kragte, en as ’n mens hierdie ingesteldheid kan leer, kan jy skoonkom."

Publikasies

Publikasie

Draak op die erf

Publikasiedatum

1973

ISBN

0798600977 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Rondom ’n boorvuur

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022986 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die spoorsnyer

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032892 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • De Kat/Sanlam-romanwedstryd
  • CNA-debuutprys

Vertalings

Duits vertaal deur Kuno FR Budack 2001

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agter ’n eland aan: een jaar in Namibië

Publikasiedatum

1995

ISBN

18874901171 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die olifantjagters

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035980 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

M-Net-Boekprys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman

Publikasiedatum

1999

ISBN

(sb)

Uitgewer

Port Elizabeth: UPE

Literêre vorm

Gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ten years of endurance riding in Namibia

Publikasiedatum

2000

ISBN

 

Uitgewer

Windhoek: Namibia Capital Press

Literêre vorm

Uithouperdewedrenne

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gif

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919825371 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die brandende man

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825681 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Goedsmoeds

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825762 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Akwarius

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042731 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kwansuis

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149945 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Etosha – ’n roman

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151559 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Finalis ATKV-Prosaprys 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op soek na Witbooi

Publikasiedatum

2011

ISBN

9789991624778 (sb)

Uitgewer

Windhoek: Macmillan Education Namibia

Literêre vorm

Nama-geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rodriguez

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780795800351 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vaarwel, klein soldaat

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781869197230 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Diving and spearfishing in South Africa

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2012

ISBN

9781431701018 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Southern Books
  • Kaapstad: Randomhouse Struik

Literêre vorm

Natuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781485300250 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voëlvry

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781415201879 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Amatola

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781485903161 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Radom House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

By die brandende berg

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485904021 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Akademiese publikasies deur Piet van Rooyen:

  • Swart mannekrag in Suid-Afrika. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers, 1985
  • Black workers and changing industrial relations in South Africa. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers, 1985
  • Worker representation in South Africa. Saam met PS Nel. Pretoria: Academica, 1985
  • South African industrial relations. Saam met PS Nel. Pretoria: Academica, 1991
  • Gobabis: a brief history of the town and region. Windhoek: John Meinert Printers, 2000 

Gedigte deur Piet van Rooyen beskikbaar op die internet

Keur van artikels oor Piet van Rooyen beskikbaar op die internet

Piet van Rooyen se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-12-09 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Piet van Rooyen (1953–) appeared first on LitNet.

Persverklaring oor Kruis van liefde: ’n uitsending van die Paasoratorium

Die ATKV wys biblioteke maak saak

$
0
0

Rentia Burger by die rak met Jodi Picoult se boeke.

Biblioteke maak saak. Die spasie tussen die rakke van ’n biblioteek is nie bloot vir rondloop nie – dis daar waar mense se lewens geraak word op maniere wat hulle nie onmiddellik besef nie.

Baie onlangs, op 18 April 2021, het die Jagger-biblioteek op die kampus van die Universiteit Kaapstad afgebrand en kort daarvoor, op 27 Februarie 2021, is die Suider-Strand-biblioteek in ’n brand vernietig. Die hartseer wat met die verlies van hierdie instansies gepaard gegaan het, was oor veel meer as die enorme verlies van boeke. Mense het gerou, want ’n biblioteek is immers meer as ’n versameling boeke.

Die ATKV wou die belang van biblioteke vier.

In Maart 2021 is lede van die publiek genooi om stories aan die ATKV te stuur met die tema “Biblioteke maak saak”. Dié kompetisie het saamgeval met Biblioteekweek, van 15 tot 21 Maart.

Herenig: Bongi Moss en Rentia Burger

Rentia Burger, ’n onderwyser van die Strand, het uiteindelik die wenstorie geskryf. Sy vertel hoe ’n rakpakker, Bongi Moss, haar raakgesien het, haar die regte boek in die hand gestop het en toe begin gesels het.

Burger se storie is op die ATKV se webwerf te lees.

Johan Esterhuizen

Op Vrydag 7 Mei het Johan Esterhuizen, bestuurder: Jeugprojekte van die ATKV, die Strand-biblioteek besoek om Burger se prys aan haar te oorhandig.

Burger vertel dat sy en haar gesin ’n aantal jaar tevore vanuit Mpumalanga na die Strand moes verhuis. In hierdie oorgangstyd, wat vir haar swaar was, het sy moeite gedoen om gereeld neer te skryf wat die mense om haar vir haar beteken. Toe sy dus die ATKV se kompetisie sien, het sy besef dat sy lank terug reeds daardie verhaal van Bongi Moss neergeskryf het.

Kathleen Laishley (links) is die hoof van die biblioteke in dié streek. Erika van Staden (regs) is die senior bibliotekaris van die Strand-biblioteek.

Die Strand-biblioteek in Millstraat, waar die verhaal afspeel, het ook ’n boekpak ontvang. Erika van Staden, senior bibliotekaris, het die prys in ontvangs geneem.

Johan Esterhuizen, Rentia Burger en Bongi Moss

Bongi Moss, die rakpakker, het intussen afgetree, maar is ook spesiaal na die geleentheid genooi en het ook ’n boekpakkie van die ATKV ontvang.

Burger het ook ’n dankiegeskenk aan Moss oorhandig.

Chareldine van der Merwe

Chareldine van der Merwe, die projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), het die belang van biblioteke onderstreep. Die VVA ondersteun talle skoolbiblioteke.

"Ek groet die rakpakker en stap met Boet onder my vlerk na die toonbank." So skryf Burger destyds. Nou is Boet, sy naam is Valk, groot en neem sy ma onder sy vlerk.

Biblioteke in die tyd van COVID-19

Die Strand-biblioteek is trots om te sê hulle was een van die eerste biblioteke wat weer oopgemaak het ná alles toegemaak is weens COVID-19. Bo en behalwe die normale protokolle plaas hulle ook alle boeke in kwarantyn vir vier dae. Op hierdie manier maak hulle seker dat geen virus meer sal oorleef op enige boek wanneer dit aan ’n nuwe persoon uitgeleen word nie.

Hulle vergadersaal, waar leeskringe altyd na skrywers kom luister het, is nou die kwarantynlokaal.

Alfred Ngalo, Rollen October en Thando Cacambile hanteer die inneem, kwarantynproses en die terugplaas van die boeke in die stel.

Vinnig, sonder 'n masker!

Hier is Cacambile by ’n stapel boeke wat weer veilig is om terug te gaan na die rakke toe.

Ná die Suider-Strand-biblioteek afgebrand het, kom heelwat van daardie lesers ook na die Strand-biblioteek toe. Boeke wat daar uitgeneem is, word ook nou teruggebring na hierdie biblioteek.

Die Strand-biblioteek doen ook baie moeite om rekenaars en die internet aan lesers te bied. Hulle het ook fasiliteite vir blinde lesers om boeke te bestel en daarna te luister.

Rina Engelbrecht

Kinders word in die biblioteek verwelkom. Daar is elke week ’n tema en die jongspan kry daarmee saam aktiwiteite om te doen. Rina Engelbrecht is die kinderbibliotekaris.

Jonk en oud is welkom, wat wys: Biblioteke maak saak.

Lees ook:

Universiteit Kaapstad-brand

Heritage to ashes, dust to dust

The post Die ATKV wys biblioteke maak saak appeared first on LitNet.

Sheila Cussons (1922–2004)

$
0
0

Gebore en getoë

Sheila Cussons is op 9 Augustus 1922 op die sendingstasie Morawië naby Piketberg gebore en is van Ierse afkoms. Sy het een suster, Maureen. Haar broer, André, is op twintigjarige ouderdom deur sy verloofde vermoor. Hoewel daar gereeld Engels in hulle huis gepraat is, was Afrikaans hulle huistaal.

Sheila se ouers was beide begaafde mense, maar soos baie van hulle tydgenote, kon hulle nie verder gaan leer nie, weens ekonomiese probleme. Haar pa wou graag ’n ingenieur word, maar moes as klerk by die Spoorweë begin werk. Hy het wyd gelees en Sheila se logika altyd probeer opskerp. Hy tree in 1953 af as afdelingsbestuurder van Oos-Kaapland en is in 1972 oorlede. Sheila se ma was ’n verpleegster wat eintlik wou dokter word. Sy was, volgens Sheila, ’n meer emosionele mens, en vol deernis, en kon pragtig sing.

Vanweë haar pa se werk woon Sheila ’n groot aantal skole by. Haar suster sê dit was net 13 skole, maar vir Sheila voel dit soos 23. Sy vertel aan André le Roux (Die Burger, 11 November 1988) dat sy plekke in die ou Transvaal onthou: Witrivier en ’n Modderfontein. "Maar toe word dit groter dorpe: Port Elizabeth – twee keer – Beaufort-Wes, Pretoria. Ek het matriek in Pretoria geskryf aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Dit was die eerste keer in my skoolloopbaan dat ek onderrig in Afrikaans gekry het, en dit was nogal ’n taamlike aanpassing." 

In Rooi Rose van Augustus 2002 vertel sy aan Amanda Botha dat haar duidelikste herinnering dié is van ’n kloosterskool in Port Elizabeth. Sy dink nou dat sy in daardie milieu haar latere aangetrokkenheid tot die Katolisisme herken het.

Van kleins af het sy al met woorde gespeel, en sy kon nog skaars praat, toe het sy haar al aan die woordklanke verluister. In Rooi Rose van 13 Februarie 1980 vertel sy: "En wanneer ’n mens effens ouer is, skryf jy goedjies neer en jy lag daaroor of dis vir jou mooi. En dan sal jy sê: 'Mammie, ek het vir Mammie ietsie geskryf', en hier kry jy jou eerste aanmoediging. Die aanmoediging is baie belangrik, want dit plant die eerste saadjie. Jy's natuurlik nog te klein om van ’n ding soos ’n digter te weet. Of jy loop miskien en sing dingetjies waarvoor jy die woorde self gemaak het. En dan is daar later die eerste skoolboeke met versies, en Palgrave se Golden Treasury en Pegasus waarvan ek so baie gehou het."

Sheila het begin teken toe sy twee-en-’n-half jaar oud was. Later begin sy stories skryf, wat sy self illustreer. In Die Taalgenoot van Augustus 1935 verskyn sketse van haar by die gediggie "Reënboogvlerkies" van De Wet Laubscher. In 1934 neem sy aan die Afrikaanse Kunswedstryd in Port Elizabeth deel waar sy uit vyf inskrywings vier eersteklas-diplomas verwerf het, een daarvan was in die ope klas. (Taalgenoot, Januarie/Februarie 2001)

Op sesjarige ouderdom verskyn haar eerste kinderversies in Die Jongspan en in die ATKV se amptelike tydskrif. Kort daarna het sy haar versies en ander stories geïllustreer. Amanda Botha (Rooi Rose, Augustus 2002) vertel dat sy selfs vir die pret van AG Visser se versies in die laerskool vertaal het. "Ek het so ’n gelukkige kindertyd gehad. My ouers het soveel ruimte toegelaat om net myself te wees en my verbeelding ten volle uit te leef. Dit was so spesiaal."

Sy vertel ook dat sy altyd gelees het: "Shakespeare, Dickens en wat daar was. Sê maar grootmensboeke." Sy het later baie van Rupert Brooke se werk gehou (Rooi Rose, 13 Februarie 1980).

"En ek het gedink ons eie Afrikaanse digters se werk is net so mooi ... Eugène Marais se 'Winternag' en Jan Celliers se 'Martjie'. Ek het regtig gedink dat 'Martjie' een van die grotes is. Maar dis nou nog vir my mooi; daar's so ’n mooi beskrywing van ’n plaaskombuis in 'Martjie' … 'die tafel in die kombuis / is blank geskuur vir die Sondag, / en daar staan, in eensaamheid singend, die ketel op die gele konfoortjie'."

"Later op skool, met die skryf van opstelle en die kinders wat vorentoe geroep word om hul opstelle voor te lees, dan begin jy al so effens die gevoel van skryf kry. En toe het ’n onderwyseres, Miss Lovelace van Pearston Skool, vir my gesê: 'Sheila, jy moet skryf.'"

Haar eerste verse was in Engels, want dit was net toe die Dertigers begin skryf het en min mense het nog in Afrikaans geskryf. 'Ook was die Engelse poësieskat soveel ryker', vertel sy in Rooi Rose (13 Februarie 1980).

Sheila onthou ook dat haar eerste groot freskoskildery in haar ouers se toilet was – "’n Maria-figuur wat haar pa met verslaentheid laat vra het: 'Hoekom die ongemak in die gemakshuisie?'"

Verdere studie en werk

In 1939, op sestienjarige ouderdom, ontvang Sheila ’n beurs vir studie in die skone kunste aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. In 1942 verwerf sy haar BA-graad in die skone kunste met lof en ontvang die goue medalje van die Fakulteit. Sy studeer onder Rosa Hope en professor John Hopley en word baie gou as ’n belowende jong kunstenaar erken. Na haar BA-graad word ’n verdere studiebeurs aan haar toegeken om haar meestersgraad te voltooi. Sy verwerf daarna haar Hoër Onderwysdiploma met dubbele onderskeiding.

Een van haar opdragte van die universiteit was om ’n portretstudie van die Nederlandse digter A Roland Holst te maak tydens sy besoek aan Pietermaritzburg in 1941. Sheila neem aan verskillende groepuitstallings deel en bied onder beskerming van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging ook solo-uitstallings aan. Voor haar vertrek na Europa in die 1940's bied sy ses solo-uitstallings aan in Johannesburg, Kaapstad en Pretoria. Sy word vir ’n jaar as tydelike dosent in die skone kunste aan die Universiteit van Natal aangestel.

’n Ander aspek van haar talent wat in haar universiteitsjare sterk op die voorgrond tree, is haar kreatiewe digwerk. Sy skryf hier, net soos in haar kinderjare, gereeld gedigte in Engels en Afrikaans en bied meestal die Engelse werk vir die universiteit se jaarblaaie aan. Die agtergrond in Pietermaritzburg was in daardie tyd oorwegend Engels, maar daar was tog ook ’n kerngroep Afrikaners wat in en rondom Pietermaritzburg gewoon en gewerk het. Onder hulle was die Nienaber-broers, Gawie en Stoffel (albei letterkundiges), Philip Grobler (radioman en letterkundige) en DJ Opperman (toe digter-onderwyser) en sy vrou Marié.

Sheila vertel aan Amanda Botha dat sy op daardie stadium van haar lewe min kontak gehad het met die Afrikaanse letterkundige-wêreld en feitlik net Engels gelees het. "In die Afrikaans-klas het ek kennis gemaak met die digters van Dertig en het ek ’n baie begaafde dosent in Gawie Nienaber gehad. Só het ek die Nienaber-broers leer ken en is ek op ’n aand vir ete na die Oppermans genooi. Dit was die begin van ’n intieme kring wat gereeld vergader het, meestal aan die huis van Dirk en Marié. En hier was die gesprek hoofsaaklik net rondom die Afrikaanse literêre toneel." (Beeld, 17 November 1999)

Opperman het toe Afrikaans gegee aan die Hoërskool Voortrekker en hy was toe reeds gereken as ’n goeie digter, vertel Sheila verder aan Botha. "Hy het aan my begin torring dat ek eerder in Afrikaans as in Engels moes skryf en het aangebied om my met eerlike kritiek te help. Ek kon net nie "nee" sê nie, want elke keer as ons mekaar gesien het, was dit sy storie. En só het ek Dirk se eerste protégé geword. Elke gedig wat ek geskryf het, het ek aan hom voorgelê."

"Daar was kritiek, wenke en ek moes dikwels herhaaldelik dinge oorskryf. Ek was by tye so begeesterd dat ek later lang tye afgesonder het om net te skryf. Publikasie was nie die eerste gedagte nie; net die leerskool van skryf."

Opperman het ’n keur uit haar vroeë verse gemaak en aan die Louw-broers en Jan Greshoff gestuur, en die gedigte word in 1946 in Stiebeuel gepubliseer. Vertalings van hierdie verse is later opgeneem in The Penguin Book of South African Verse. Sheila was gretig om as negentienjarige reeds te publiseer, maar Opperman wou nie. Hy het altyd gesê sy moet eers haar ondervindings in Europa verwerk voordat sy publiseer.

In 1943 is Sheila met Stoffel Nienaber getroud. Stoffel is elf maande na Sheila Cussons ook na Europa.

Kort voor Sheila se vertrek na Europa in die 1940's is sy na Worcester, waar sy tydelik verbonde is aan die Hugo Naudé-kunssentrum, met Jean Welz as hoof. (Die presiese jaar wanneer Sheila na Europa vertrek het, verskil van bron tot bron. Party bronne gee dit as 1945 aan, ander as 1947 of 1948.)

In Londen studeer Sheila aan die Camberwell Polytechnic onder Victor Passmore en kom diep onder die indruk van die na-oorlogse Europa, wat duidelik in haar gedig "1945" in Plektrum spreek. In 1948 vertrek sy na Amsterdam, waar sy verder in die etskuns studeer onder Theo Berrendonck, en word sy weer deel van die groep Afrikaners wat in Amsterdam gewoon en gewerk het. Sy werk ook as vryskutjoernalis vir die Afrikaanse en Engelse senders van Wêreldomroep in Hilversum, Nederland, en vir die BBC in Londen.

In Amsterdam dig die jong Sheila onverpoosd voort en ’n groot aantal gedigte verskyn uit haar pen. Sy stuur steeds haar verse na Opperman in Suid-Afrika, wat nog nie wil publiseer nie, maar belowe dat haar gedigte "’n beroering sal veroorsaak".

Gedurende hierdie tyd het die verhouding tussen Sheila Cussons en NP van Wyk Louw verinnig en rondom 1950, met Stoffel se vertrek na Suid-Afrika vir sy pa se begrafnis, het die verhouding ernstig begin word. Louw se vrou, Truida, en hulle kinders was op daardie tydstip nog in Suid-Afrika.

Sheila vertel in Insig van Januarie 1999 dat Louw daarop aangedring het dat sy vir Stoffel van hulle verhouding vertel met sy terugkeer vanaf Suid-Afrika. Stoffel het hulle egter toe reeds een middag saam gesien en Sheila het hom verlaat en alleen gaan bly. Hulle is in 1950 geskei. Daar was ’n onmiddellike aanvoeling tussen Sheila en Louw. Hulle kon oor alles gesels en "’n heerlike geargumenteerdery het baie van ons saamwees gekenmerk – dit was idee teen idee en argument teen argument." Die verhouding het egter later tot ’n einde gekom.

Sheila het in die 1950's na Suid-Afrika teruggekeer met die skielike dood van haar enigste broer. In 1957 gaan sy na Spanje en vestig haar in Barcelona. In 1956 trou sy met die Spaanse sakeman Juan de Saladrigas, vir wie sy ontmoet het terwyl sy radiowerk gedoen het. Sy aanvaar in Barcelona amptelik die Rooms-Katolieke geloof en word in 1957 in die imposante katedraal gedoop. Uit hierdie huwelik is twee seuns gebore – Jordi, wat as kunstenaar bekend is, en Jaume, eers mode-ontwerper en later toerismeleier.

Sheila vertel aan Jeanne Coetzer in Die Burger van 15 Augustus 1979 oor haar herdoop as Katoliek in die katedraal van Barcelona. "Dit was ’n baie groot oomblik in my lewe, wat noodwendig in my werk neerslag vind. Ek het gevoel ek het tuisgekom. Ek het heel gevoel, volkome. Die Katolisisme betrek die héle mens – die emosionele, die sintuiglike én die intellektuele mens. Toe eers het ek die Christendom in die grote begryp. Dinge wat vroeër nie gerym het nie, het tóé geklop."

Sy verduidelik die verskil tussen skryf en skilder aan Jeanne Coetzer (Beeld, 15 Augustus 1979): "Dis moeilik. Wanneer jy skryf, verbeel jy in woorde. Wanneer jy skilder, verbeeld jy jou in formules op doek. Jy't te make met ritmes in vorm, lyn en kleur. Op die oomblik vind ek dat wanneer ek skryf en ek probeer dan tussendeur skilder, ek stram is. Ek maak klein vignettes in plaas van groot vrye bewegings en vorms. Ek dink om die digkuns en die skilderkuns te versoen, moet ’n mens meer abstrak skilder. Jy moet die ekwivalente vir idees in vorms vind. Dit is nou vir my die ideaal: om die poësie en die skilderkuns te integreer."

In Sheila se eerste dertien jaar in Spanje is sy huisvrou en moeder. Saam met haar man bou hulle twee pragtige huise – een in Barcelona, waar sy ’n pragtige ateljee het en waar sy die grootste deel van haar poësie skryf, en een ’n vakansiehuis aan die Costa Brava by Estartit.

In 1970 verskyn Sheila se eerste digbundel, Plektrum, by Tafelberg Uitgewers. Dit word beskou as die beste poësie-debuutbundel wat ooit in Afrikaans verskyn het. En dit doen die verwagtinge gestand deurdat dit met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en WA Hofmeyr-pryse bekroon word. Sy sê self dat hoewel Van Wyk Louw haar aangemoedig het om vroeër te publiseer, sy op advies van Opperman daarmee uitgestel het "totdat die lewe my ingehaal het".

Vir Ernst Lindenberg (Huisgenoot, 9 April 1971) getuig elke gedig in hierdie debuutbundel van Cussons van vakmanskap en in Volksblad van 12 Desember 1972 skryf hy dat daar deur die bundel ’n vaste greep is, "’n sekere aanslag en boonop geen vormloosheid, onsekerheid of tasting nie en dat Plektrum die bekronings verdien".

Hy eindig sy bespreking as volg: "’n Bundel soos Plektrum is iets unieks – ’n debuut, maar een wat onmiddellik in volwasse geselskap kan meepraat."

Ook Lina Spies is beïndruk deur Plektrum en in Klasgids (September 1971) skryf sy as volg: "Anders as by ons ander digters-in-die-buiteland kom daar by Sheila Cussons weinig van die nuwe vaderland tot uitdrukking, maar in haar 'helder spel van sien', het sy waarskynlik op besondere wyse erfkind van Spanje geword. ’n Mens kan alleen maar hoop dat sy dit nie by een bundel sal laat nie, dat sy in die toekoms die moeilike speletjie van die poësie weer sal speel – Veo, veo op syn Afrikaans."

TT Cloete (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 1971) noem Plektrum ’n saaklike bundel: "Dit bevat nie besonder baie gedigte nie, en die gedigte is meestal kort, geskryf in ’n vers sonder valse sier. In sy bondigheid is dit egter ’n véél seggende bundel – gedigte geskryf in veelseggende taal, vol kosbare dinge. (…) In alle opsigte sou mens van die bundel kan praat as ’n sterk, gevormde debuut."

Sy vertel aan Paul Alberts in Sarie van 15 Junie 1977 dat haar verblyf oorsee vir haar ’n oorweldigende ervaring was waartydens sy baie geskryf het: "Ek wou toe weer bundel, maar Opperman het nog steeds geweier om sy seën daaroor uit te spreek. Hy't gesê ek moet twee, drie jaar wag, sodat ’n vergisting van die baie invloede kan plaasvind. Dit was ongetwyfeld wyse raad."

Dit was in Estartit waar Sheila in 1974 in ’n ernstige brandongeluk was. In Rapport van 8 Augustus 1982 het Sheila Cussons aan Roelof Vorster vertel dat sy net die vlamme kon onthou voordat sy haar bewussyn verloor het: "Toe ek bykom, het ek oor die stofie gelê wat onder my omgeval het. Ek was naar verbrand. Daar was geen telefoon nie en ek was alleen in die huis. Die naaste bure was ook te ver."

Sy was langer as twee jaar in die hospitaal. Omdat sy so lank sonder behandeling was, het die wonde ontsteek en die punte van vingers aan albei hande is afgesit en so ook haar linkerbeen onder die knie.

"Ek praat nie graag hieroor nie. Dit was vir my ’n uiters traumatiese ervaring, maar omdat dit so ’n positiewe effek op my lewe gehad het, praat ek vandag, net voor my sestigste verjaardag, weer hieroor. Ek was op die rand van die dood en moes van voor af leer skryf. Ek onthou nog die vrees dat ek weer sou kon skryf nie."

Cussons het dag vir dag probeer om net een lettertjie leesbaar te skryf, Sy moes ook van voor af weer leer loop met ’n kunsbeen: "Ek het gevoel ek gaan gek word. Bloot as terapie het ek begin skryf, enigiets, dagboek gehou, en toe het die gedigte begin kom," het sy aan Vorster vertel.

"In die hospitaal het dinge in my onderbewuste gebroei en gekook en gegis. En toe breek die sluise en daar kom ’n stroom gedigte … en die tyd van groot produktiwiteit breek aan.

"Daar is niks wat met jou gebeur nie, nie eens wrede negatiewe dinge wat eindelik getransformeer kan word in presies die teenoorgestelde, in iets baie sterk positiefs, nie. Dit is die plan van die voorsienigheid. Daarom noem ek wat met my gebeur het ’n goeie ruil en ek is vandag glad nie spyt oor die ongeluk nie. Dit moes gebeur het, want dit het my as mens gelouter en daardeur my kuns verryk."

Dat sy hierdie ongeluk oorleef het om as gestremde haar lewe weer te moet aanpak, getuig van haar wil om te leef. Sy skryf hierna van haar aangrypendste gedigte. Amanda Botha skryf in Rooi Rose van Augustus 2002 dat Sheila alles in oënskou kon neem en met haar gedig "Christ of the burned men" erkenning gee aan die "verskriklike akkoord" dat sy gemerk is vir die avontuur van Christus.

Sheila vertel in ’n onderhoud met Rooi Rose van 13 Februarie 1980 dat ’n kombuis nog altyd ’n bekoring vir haar ingehou het. "Soos my ouma se kombuis en die kombuis van my tant Siel – nie om eendag daar te staan en kook nie, maar dis altyd vir my asof die hele siel van die gesin in so ’n kombuis is."

Op ’n vraag of die kombuistema wat soos ’n draad deur haar lewe loop, al kleintyd begin het, soos in die bundel Die swart kombuis wat agt jaar na haar eerste bundel in 1978 verskyn het en ook die gedig "Die geel kombuis", antwoord Sheila: "Ja, is dit nie miskien interessant nie? Dit was toe al vir my ’n toorkombuis, ’n alchemistiese plek. En daai ou ysterstowe wat altyd warm is en waarop daar altyd iets is wat in ’n pot of ’n ketel staan en sis, amper soos die alchemis se eksperimente."

Die publikasie van Die swart kombuis in 1978, sewe jaar na haar debuutbundel, is later beskryf as ’n "mylpaal in die Afrikaanse poësie". Sy het in hierdie bundel baie gebruik gemaak van drome en sy het self die titelvers beskryf as "’n soort nagmerrie wat sommer op ’n dag onverwags by my in versvorm opgekom het. Al wat ek moes doen, was maar net om dit te transkribeer". (Lantern, 1992)

Danie van Niekerk, afgetrede hoof van Tafelberg Uitgewers, beskou Die swart kombuis saam met die res van haar oeuvre as ’n hoogtepunt van die Afrikaanse letterkunde wat ’n groot bydrae gelewer het tot die geestelike literatuur van nie net Afrikaans nie, maar die hele Dietse taalgebied. (Insig, Maart 2002)

FR Gilfillan het Die swart kombuis in Beeld van 7 Augustus 1978 geresenseer: "Met hierdie nuwe bundel het die onderskatte Sheila Cussons immers op magistrale wyse geslaag om persoonlike ervaring te omskep tot van die belangrike poësie in Afrikaans en ’n waardige teëhanger en gespreksgenoot vir die indrukwekkende religieuse werk van Van Wyk Louw in Tristia. (…)

"Aan ’n bundel van hierdie gehalte kan ’n mens kwalik in beperkte ruimte laat reg geskied. Maar Cussons se ongewoon sterk taalvermoë en tegniese perfeksie wil ek nie verswyg nie – opmerklik veral waar sy besin oor die digterskap en die woord." (…)

"Ten slotte: in sy vormgewing, sy briljante komposisie en ontroerende filosofie is Die swart kombuis ’n heuglike toevoeging tot die Afrikaanse literatuur."

Vir Johann Johl (Volksblad, 29 September 1978) is Die swart kombuis meer verwikkeld, "plek-plek hoogs geslaagd en moeilik beskryfbare verse. Want dit gaan juis hier om ’n godsdienstige, ’n breër religieuse en mitologiese beswering van mistieke transformasies deur die woord." (…)

"In Die swart kombuis kom dieselfde temas (as in Plektrum) aan die orde, maar veel verwikkelder en met soms verbluffende virtuositeit. Breedweg gestel gaan dit om fisieke en geestelike verandering deur loutering tot ’n staat van suiwerheid."

"As spesifiek poëtiese prosesse is transformasie en transfigurasie twee sleutelbegrippe in hierdie konteks van die herenscenering van Christus se lye en die gevolglike suiwering – soos verwoord deur die Rooms-Katolieke vagevuur-idee. (…) Hierdie transformasie op geestelike en liggaamlike vlak vind ook neerslag in die strukturering en ordening van die verse."

Vir Johl was daar hinderlikhede soos oordrewe alliterasie, asook ’n "te geïnterpreteerde" stormweer-reeks en onfunksionele steun by Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers. As gevolg hiervan is daar heelwat verse in die bundel wat "sommer net flou aandoen".

"Saam met die beste verse wat beslis waardige toevoegings tot die Afrikaanse poësie is, is hier ook heelwat mindere verse en momente wat die bundel – om Van Wyk Louw aan te haal – ’n pakkie gemengde kruie maak," het Johl afgesluit.

Kortweg enkele uittreksels uit ander resensies oor Die swart kombuis:

  • André P Brink (Rapport, 9 Julie 1978): "In hierdie swart kombuis is ’n koninklike feesmaal voorberei wat aan dié jaar in ons poësiekalender nuwe waarde en waardigheid besorg."
  • Hilda Grobler (Hoofstad, 21 September 1978): "Met Die swart kombuis wat 82 bladsye beslaan en nie net lywig is nie, maar groots ook is, vestig Cussons haar digterskap stewig binne die skraal jare van sewentig en sorg sy vir een van die min werklike besonderse bundels in dié yl tyd."
  • Lindenberg (Transvaler, 29 Julie 1978): "Die swart kombuis is duidelik afkomstig van ’n kunstenaar met buitengewone gawes; ná Plektrum is dit egter ’n effense teleurstelling omdat die skerpte van segging verdwyn het."
  • Johan Bosman (Insig, Mei 1981): "Sheila Cussons verwoord ’n wye spektrum van temas in hierdie bundel; temas wat wemel van sintuiglike ervarings wat in ritmiese en klankvolle woorde weergegee word."

Sheila se derde bundel, Verf en vlam, wat sy geskryf het gedurende ’n vakansie aan die Spaanse kus, verskyn ook in 1978, slegs enkele maande na Die swart kombuis. Amanda Botha skryf in Lantern (1992), dit is haar "mees visueel-geïnspireerde bundel, vol beelde en verwysings na die skilderkuns". Hoewel Verf en vlam in die geheel as swakker beskou word, bevestig dit, saam met Die swart kombuis, Sheila se digterskap.

Hilda Grobler skryf in Hoofstad van 21 Desember 1978: "Cussons het met Verf en vlam haar vakmanskap letterlik met verf en vlam ingebrand. Die titelvers druk die twee teenoorstaande emosies, soos dit deurgaans in die bundel onder die verf en vlam van die woord gebring word, uit. Die foltering word deurgaans in balans gebring met die ekstase, vergelyk die slotreël van die titelvers: 'En skater sy vlammende brein ’n blakerende sonnet' (p 33).

"Kenmerkend van dié bundel is die volgehoue religieuse stroom wat sonder uitsondering in verskillende gedaantes in al die gedigte voorkom. In sommige gedigte is dié religieuse segging direk soos in die pragtige, mistieke deurlewing van die algehele heiligheid in 'H Teresa van Avila op ’n sending', en soms is dit ’n indirekte segging, ’n deureenspeling van gegewens wat dit verhef tot ’n religieuse hoogtepunt, ’n suiwer gebed soos in 'Abélard in sy looibasboomhut'."

Grobler sluit af dat Verf en vlam sy tekortkominge het en sy vermeld enkele daarvan, maar uiteindelik is dit vir haar ’n besondere bundel, "want dit is eerstens die suksesvolle versmelting van twee mediums (kuns deur verfskepping en kuns deur woordskepping) en tweedens is dit ’n bundel met ’n wye, ’n treffende geestelike drakrag as gevolg van die religieuse inslag in die algemeen en oorgawe in die besonder: 'Ou naakte manne / kruip handeviervoet / snags uit Hades / en soet en hopeloos / roep hulle God' (p. 36)."

Ronèl Johl (Volksblad, 13 Desember 1978) beskou Verf en vlam as op ’n laer peil as haar vorige bundels en vir haar sluit dit wat tema en struktuur betref, baie nou aan by Die swart kombuis, en daardeur ook by Plektrum. Sy sluit af: "Dat Cussons se digterlike oeuvre tot die bestes in Afrikaans behoort, is ongetwyfeld waar, dat sy vir haar ’n standaard gestel het waarby dié laaste bundel in die geheel nie kom nie, is jammer. Vir die tiental puik gedigte is ’n mens baie dankbaar: dit is ’n welkome toevoeging tot ons digkuns."

Vir André P Brink (Rapport, 5 November 1978) verteenwoordig Verf en vlam in die geheel ’n insinking in haar verbasende oeuvre: "Dit openbaar ’n hele paar onrusbarende verskynsels en tendensies. (…) ’n hoogs irriterende weergalm van Van Wyk Louw in gedig ná gedig; (…) Dit, tesame met soms moeisaam gemanipuleerde beelde (vergelyk die Breytenbach-invloed 'Ou kerkhof') skep ’n indruk van tweedehandsheid wat hierdie bundel skade aandoen." (…)

"Nog steeds is daar uitmuntende verse. (…) Genoeg om, binne die bestek van dié voorlopige verkenning, te bevestig dat daar in Verf en vlam van Cussons se beste verse tot op datum staan; maar daarby moet mens ook kommer konstateer oor ’n te grote fasiliteit, die skep van ’n eie retoriese woordeskat en die hinderlike navolging van Van Wyk Louw, wat van hierdie bundel as geheel iets heelwat minders maak as Plektrum of Die swart kombuis."

Ander menings oor Verf en vlam:

  • Merwe Scholtz (Die Burger, 16 November 1978): "('H Teresa van Avila op ’n sending') is op sy minste die eweknie van die beste uit haar vorige bundel. Maar, ongelukkig nie ’n aanduiding van ’n beduidende aantal van die ander gedigte in hierdie bundel wat so gou (te gou!) op Die swart kombuis volg nie. Want die (heelwat minder) gedigte in Verf en vlam het ’n beperkter tematiese spektrum; daar ontbreek by te veel van hulle die digtheid, die spaarsamig-suggestiewe wat Cussons se beste werk kenmerk."
  • FR Gilfillan (Oosterlig, 19 Desember 1978): "Die briljante konsepsie weer eens, en die oorwoë progressie in die rangskikking maak van Verf en Vlam nog altyd iets besonders. As geheel het dit my egter minder bevredig, selfs die gedagte laat ontstaan aan nawater."

Op uitnodiging van die SAUK om die boekeveiling van die Afrikaanse Radiodiens in 1979 by te woon, bring Sheila vir die eerste keer in tien jaar besoek aan Suid-Afrika. Sy was toe al reeds oor die dertig jaar in Europa. By die geleentheid word Die sagte sprong en Die skitterende wond, haar dubbeldoorbundels, gelyktydig bekendgestel. Dit was ook haar eerste ontmoeting met die Afrikaanse literêre wêreld. Met dié bundels verseker Sheila vir haar ’n plek onder die heel sterkste Afrikaanse digterstemme van die 1970's, sê Wium van Zyl, en bevind sy haar weer in noue verbinding met haar Afrikaanse wortels. (Rapport, 11 Augustus 2002)

Oor die verskyning van hierdie twee bundels, Die skitterende wond en Die sagte sprong in 1979 het André P Brink sy resensie in Rapport van 19 Augustus 1979 só begin: "Dít is weelde, dít is oordaad: twee nuwe digbundels van Sheila Cussons tegelyk. (…) [Daar] is nou klaarblyklik ’n milde aar oopgeboor wat nie bedwing kan word nie. ’n Smál aar, maar met ’n intensiteit wat ons nog maar min in Afrikaans gehad het; en, onder meer, seker die grootste religieuse poësie in ons literatuur.

"Die verse in die nuwe bundels lê op ’n smal baan van baie suiwer lig; en baie van hulle is onderling uitruilbaar – uitruilbaar ook met gedigte uit die twee vorige bundels. Wat soms, net soms, ’n indruk van déja dit skep. Maar juis herhaling is (…) sin en essensie van dié digterskap."

Vir Brink draai Die sagte sprong in sy geheel om die "teken van die uitgryp na die mistieke ekstase, die eenwording met die Enige, die vleeslike en geestelike vereniging van bruid en Bruidegom."

Oor Die skitterende wond het hy hom as volg uitgelaat: "As ’n toonverskil" tussen die twee bundels aangedui moes word – maar ek sou huiwer om te stellig te wees – sou mens in Die skitterende wond dalk ’n instelling op die meer skitterend-uitbundig-ekstatiese kon aandui (noem dit, grof gesproke, die 'ekshibisionisties-ekstatiese') – terwyl die mistieke ervaring in die tweede meer 'na binne toe', sagter, stiller, introvert waargeneem word. Dus eintlik nóg gevaarliker terrein, omdat alles op die oog so 'gewoon' is: met, as essensiële uitgangspunt, natuurlik juis die deurlig van die gewone sodat dit verheerlik beleef kan word. (…)

"Dit is ’n Achterberg-agtige ars poetica, óók in aansluiting by Van Wyk Louw se spel van prefigurasies en voorbereidinge wat in 'Beeld van ’n jeug: duif en perd' die afsonderlike gegewens rig. En dit is belangrik, nie maar as omskrywing van Cussons se werk nie, maar – weer eens – as sleutel tot haar manjifieke spel van wysigende herhaling (veral ook met betrekking tot assonansie en alliterasie, uitgryp-na-ryme) in haar gedigte. Dit, méér as enige 'gedagtegang', is die geheim van die wyse waarop sy teenstrydighede kan saamdig; dit is die medium waardeur, byvoorbeeld, Diana en Damaskus mekaar kan ontmoet ('Onderweg na Damaskus').

"In Die sagte sprong is daar meer effenhede, en ook meer óneffenheid, heelwat meer verse van geringer allooi, as tevore. Maar bring ’n mens die reeks waaragtig beduidende verse bymekaar, dan word jy met iets soos verbystering geslaan oor die Mozartiaans voortborrelende aar wat Sheila Cussons in ons poësie oopgeboor het."

Die gehalte van die verse in Die skitterende wond is volgens TT Cloete (Vaderland, 29 November 1979) nie almal ewe goed nie. "Daar is verskeie bespiegelende gedigte, sterk onder die invloed van Van Wyk Louw se soort bespiegeling in Tristia wat nie bo die redenasie uitstyg nie; ook heelwat moraliserende poësie wat weinig meer as deskriptief-moraliserend is.

"Gelukkig egter dat mens kan sê dat naas die dowwe gedigte daar talle goeies is, wat die reeds gevestigde naam van Sheila Cussons waardig is."

"Die skitterende wond is ’n bundel van baie lig, klank en beweging. Dis gedigte wat hulle lig, klank en beweging veral haal uit ’n diepe godsdienstige oortuiging en uit ons gewone menslikheid. Die wonderbaarlike van die geloof en van die lewe word veral gesien in paradokse, iets tipies van Sestig, Sewentig. (…)

Hierdie diep godsdienstige gedigte is ook – tipies van die kontemporêre poësie – hewig aards en hewig liggaamlik soos ons gesien het. Sentraal onder hierdie aardse gedigte (wat verwant is aan sekeres uit Cussons se vorige bundels) is 'Eenvoudige vrae van ’n vroeë Christen'." (…)

"Ten spyte van ’n hele aantal swakker gedigte, wat liefs agterweë kon gebly het, is Die skitterende wond vol uitstekende gedigte van hierdie digteres wat so ’n weelderige bloei beleef en een van die grootste bydraes tot die kontemporêre poësie reeds gelewer het."

Vir Hilda Grobler (Hoofstad, 5 Januarie 1980) is Die sagte sprong se gehalte nie op dieselfde peil as Verf en vlam nie, maar dit sit die tendens wat in die vroeëre bundels voorgekom het, voort. "Dié verse word ook deur ’n sterk religieuse onderstroming gekenmerk; trouens, party van die verse is suiwer religieus sodat die mistieke, wat so dikwels in haar werk voorkom, binne die religieuse uitkring totdat dit uiteindelik in spontane eenvoud saamsmelt."

"Die grondtoon in dié bundel is die bevestiging van ’n skakel, wat alles wat die Skepper geskep het, op een of ander wyse bind – geheel die skepping is deel van die skepping, hou verband met mekaar en huldig die Skepper op ’n unieke wyse. Die bundel het dus tot tema die werklike, onsigbare dog besliste skakel wat daar tussen mens en dier of insek of insek of voël bestaan. Cussons werk aanhoudend met terugkerende motiewe en beelde." (…)

"Die sagte sprong is dus die verdere uitbouing van ’n religieuse belydenis, ’n verdere samevloeiing van ’n moderne mistiek en ’n eeue-oue religie sodat dit tot ’n nuwe, eietydse religieuse mistiek verhef word. En dit word deurgaans met ’n suiwer eenvoud aangebied."

Ander menings oor Die sagte sprong en Die skitterende wond:

  • FR Gilfillan (Beeld, 13 Augustus 1979): "Sheila Cussons is meermale gewaarsku teen aankondiging pleks van beelding, teen retoriek en betoog ten koste van die gedig. [In Die sagte sprong] is daardie besware myns insiens nou meer as ooit geldig."
  • PP van der Merwe (Hoofstad, 24 November 1979): "Tog bevestig Die skitterende wond, ten spyte van die besware, ’n besondere digterskap. Cussons hanteer die taal en motiewe van ons sekulêre tydsbestel sonder enige skyn van selfbewustheid, maar gee terselfdertyd die ding ’n religieuse sinvolheid wat besonders is. Haar verse herinner aan laat-Middeleeuse ingesteldhede, terwyl hulle terselfdertyd volkome modern is en streef so miskien verby baie wat aan die tydsdenke gebonde bly."
  • DH Steemberg (Transvaler, 1 Desember 1979): "Met hier en daar ’n gevaar van oordaad, wat in hierdie konteks egter op sy aanvaarbaarste is, spel verse in hierdie twee bundels in die beelding van pyn en vreugde ’n onmiskenbaar Christelike visie, wat nie net opmerklik is by behandeling van sekere temas nie, maar uit elke gedig sprankelend spreek – asof die woorde wat in die monde van die Emmaus-gangers gelê word, orals staan: 'o verlossende lag wat óp / uit ons harte brand na U."

In 1979 stuur Sheila haar jongste seun, Jaume, na Suid-Afrika om hier te kom woon en werk. Hy gaan woon by sy ma se suster, Maureen.

Met Die somerjood wat in 1980 gepubliseer is en haar vyfde bundel in drie jaar is, sit Cussons haar produktiewe streep voort. Volgens Amanda Botha kom haar eie sieninge oor kunstenaarskap en die digkuns in die bundel na vore. (Lantern, 1992)

"Die kunstenares Sheila Cussons laat haar besonder sterk geld in Die somerjood," het AP Grové (Beeld 18 Augustus 1980) geskryf. "Dit val al dadelik op in die titels waarin daar na skilders of skilderye verwys word: 'Cuadro Negro', 'Monnik met skedel', 'Spaanse skool' en 'Pieter Paul (Rubens)'. Ook ander titels is daar wat die skilderes verraai: 'Klein ode op wit', 'Vetkrytkrabbel' of 'Lepeltjie rooi'. Deurgaans word in die gedigte bowendien sterk aksent gelê op kleur, op sien, op waarneming. Daar is selfs gedigte, soos byvoorbeeld 'Die dooie bome', wat ’n mens wil laat glo dat die poësie sonder die visuele nie kan lewe nie. Kortom, ons kan Cussons ’n visuele digter noem: 'Ek wil hulle sien, ek wil hulle skerp sien'.

"Die poësie is dus, kan ons sê, in sekere sin die erkenning van die feitlike, die hier en nou, die sintuiglike werklikheid. Om digter te wees, beteken dat jy jou moet besig hou 'met die besigheid van wees'."

Johann Johl (Volksblad, 3 September 1980) is van mening dat Die somerjood saam met Cussons se vorige bundels haar beslis onder die grotes in die Afrikaanse digkuns plaas. Hier kom herhaling weer voor, skryf Johl, "maar dis eerder aansluiting by vorige temas en help so profiel gee aan Cussons se steeds verdigtende oeuvre. Die drade wat tussen verse onderling en tussen die verskillende bundels en hul verse gespan word, vorm haas al hul verfynde net."

"Maar daar is definitiewe klemverleggings hier: die fisieke en geestelike loutering deur vlam en lig en pyn maak plek vir ’n tipe religieuse vers waarin die konkrete en aardse afgespeel word teen die goddelike en ewige, die sondige teen die perfekte en suiwere, die mens teen God. Hierdie teenstelling word benut in paradoks, satire, ironie en (wat die saamtrek daarvan betref) ook vir die mistiek. Anders as in vorige bundels is die taal hier nie net ’n medium nie, maar ook tema." (…)

"Die somerjood is ’n Cussons-bundel in ligter aanslag en soms ook in ligter luim, maar die virtuose wat juis so onverwags hierin skuil, getuig van ’n vaardigheid wat meesterskap kenmerk."

EB Grobler (Hoofstad, 27 November 1980) skryf: "Die somerjood, met sy kleiner opset van 33 verse, waarvan die meeste ook betreklik kort is, besit ’n kragtige gekonsentreerdheid. Die religieuse aanspraak van haar vorige bundels word hierin weer dualisties gestel. (…) Wat egter veral verras, is die kinderlike godsdienssiening, die gekonsentreerde woordgebruik, die terugkerende doodsbesef en die varsheid van die somermilieu."

Die bundel wat Sheila "onbetwistelik as voorste digter kroon" (Amanda Botha, Lantern, 1992), Die woedende brood, verskyn in 1981. Dit verken haar gebondenheid aan haar geloof en "plaas haar as mistieke digter op die voorgrond". (Lantern, 1992)

Die bundel word met al die belangrike pryse bekroon: die CNA-, WA Hofmeyr-, Louis Luyt- en Hertzogprys. Benewens Die woedende brood word die Hertzogprys ook aan al haar vorige werk toegeken. Sheila vertel aan Kerneels Breytenbach (Rooi Rose, 13 Februarie 1980) dat hierdie bundel van haar beste werk bevat en dat daar heelwat gedigte in is wat haar gunstelinge is.

Ook die resensies oor Die woedende brood was oor die algemeen gunstig, hoewel die resensente bykans almal melding gemaak het van die swakkere verse wat ook in hierdie bundel aanwesig is. Dit was haar sesde bundel in minder as vier jaar en vir Wium van Zyl (Volksblad, 1 Julie 1981) het sy in hierdie tyd ’n "digterskap oorbluffend uitgebou en is sy in dié opsig reeds een van die merkwaardigste figure wat ons poësie nog opgelewer het."

Van Zyl het sy bespreking afgesluit: "’n Groot literêre gebeurtenis is hierdie bundel nie. Soos met eintlik al Sheila Cussons se bundels van die afgelope vier jaar is die poësie hierin ongelyk van gehalte. Die beste gedigte vergelyk egter met haar beste vorige werk en daar is genoeg goeie poësie om die bundel ’n leesplesier te maak."

In Vaderland (25 Februarie 1982) is FR Glfillan min of meer dieselfde mening aangedaan as Van Zyl hierbo. Volgens hom is Die woedende brood nie ’n groot vernuwer nie: "In menige opsig is hierdie poësie steeds náwater, maar dan bedoel ek nie negatief nie – al behoort hierdie bundel nie tot die groot werk soos van haar vorige bundels nie."

"Maar in sy gebalanseerde verskeidenheid, pikante humor, sy waardevolle aanvulling by die godsdienstige motief en die indigting en kommentaar by vroeëre verse, is Die woedende brood tot dusver nie na waarde geskat nie."

"Maklik is hierdie poësie steeds nie, inteendeel. Daarvoor is die kontemplatiewe vers wat Cussons skryf, te verwikkeld. Tog is daar enkele kort beeldgedigte wat aansluit by die tipe vers wat Plektrum in 1970 so uitsonderlik gemaak het en waarvoor daar soveel waardering was."

Ander menings is kortliks:

  • Ronèl Johl (bron en datum onbekend): "’n Ongelyke bundel dus, maar nogtans een wat nie in ’n kort resensie uit te put is nie – ’n bundel met leesbare verse en ’n paar baie goeie gedigte wat tot die bestes van die Cussons-oeuvre gereken kan word."
  • Hélène de Villiers (Beeld, 29 Junie 1981): "Sheila Cussons is ’n veelsydige en bekwame digteres wat steeds nuwe skynsels en nuanses van die fundamentele menslike ervaring na vore bring: paradys, sondeval,"

Sheila vertaal die Argentyn Jorge Luis Borges se kortverhale uit Spaans en dit verskyn in 1981 onder die titel Die vorm van die swaard en ander verhale. Hieroor spreek Sheila haar teenoor Kerneels Breytenbach (Beeld, 26 April 1982) as volg uit: "Maar die vertalings eis baie van jou. Hy is so ’n woordmens, elke woord tel so, selfs sy interpunksie, en jy moet getrou daaraan bly en dit tog nog laat lees soos Afrikaans. ’n Mens werk lank aan een so ’n verhaal. Dit is tydrowend. Dit het my maande gekos voor ek tevrede was."

In 1982 keer Sheila na Suid-Afrika terug. Haar man het op 58-jarige leeftyd besluit om verder te studeer en haar twee seuns was groot, en hulle het as gesin elkeen in hulle "eie rigting" getrek. Dit lei tot Sheila se groot besluit. Sy het aanvanklik gedink dat sy net vir drie maande op ’n slag na Suid-Afrika sou terugkom, maar haar toe afgevra: Hoekom nie vir altyd nie? Daar was egter geen sprake van egskeiding nie. Sy moes ook na Suid-Afrika kom om die CNA- en Louis Luyt-pryse vir Die woedende brood te ontvang en besluit toe om te bly.

"Ek het al hoe meer na my land gegroei," vertel sy aan Loep Jordaan in Rapport van 20 Junie 1982.

Vir haar sestigste verjaardag in 1982 publiseer Tafelberg Uitgewers twee geleentheidstukke: Gestaltes 1947, haar eerste prosastuk, wat sy reeds in 1947 in Londen geskryf het, en Omtoorvuur, ’n keur uit haar vorige ses bundels. Die omslae van hierdie twee werke is deur Sheila self ontwerp.

Gestaltes 1947 is ’n jeugwerk wat in ’n beperkte oplaag van ’n duisende getekende eksemplare uitgegee is. Dit is nog nooit voorheen gepubliseer nie, maar Hennie Aucamp het drie fragmente in die bundel Blommetjie gedenk aan my (1978) opgeneem. Die aanvanklike titel van die bundel was Tot dusver: ’n jeugrelaas.

Dit beslaan vyftien stukke van wisselende lengte met die totale teks wat net dertig bladsye lank is en vir JP Smuts (Die Burger, 16 September 1982) moet dit beslis getel word onder een van die "opvallendste voorbeelde van volgehoue liriese prosa in Afrikaans".

Smuts het voortgegaan: "Teen 1947 was daar beslis nie in Afrikaans ’n vergelykbare werk wat so uitdrukking probeer gee het aan die geesteswêreld van die fantasieryke kind nie. Die daarmee samehangende verkenning van die onbewuste en pogings om dié peilings literêr onder woorde te bring, is wel die vorige jaar deur CJM Nienaber in Keerweer uitgewerk, maar hy het, anders as Cussons, met die abnormale personasie gewerk."(…)

"Die vroegste herinneringe is dié van ’n kind wat intens die sintuiglike wêreld én die wêreld van die fantasie, die droom, ervaar. Daar is die vrees vir leë oë, die gefassineerdheid met bloed, pyn, wonde; die intense waarnemings van veld en see en musiek."

"In daardie stadium het die verteller oor die vermoë beskik om gestaltes wat nie deur die oog waargeneem kan word nie, te sien: die fee in die roos, die jong man in die grys manel wat vir haar wag." (…)

"Die boek eindig met die spreker se besef van menslike onvermoë om alles te ken en die sensasie dat die enkeling inpas in die groot onthou, 'een klein bewussyn (is) in die galmende ruimte van ’n ontstellende, antieke geheue'." (…)

"Die werk bevestig dat daar reeds vroeg by Cussons ’n verkenning van die verbeelding was, ’n opskerping van die sintuie en ’n poëtiese omgang met die taal. Dit bevat ook etlike verwysings wat later in haar poësie sterker sou terugkeer, onder meer in bundeltitels.

"Gestaltes 1947 is ’n unieke werk binne die Afrikaanse prosa en terselfdertyd ’n belangrike aanvulling by en uitbouing van die wêreld van Sheila Cussons. Vir die gesofistikeerde leser wat belangstel in wat met Afrikaans as medium vermag kan word, bied dit in baie opsigte ’n boeiende leeservaring."

Ander menings oor Gestaltes 1947:

  • DJ Hugo (Volksblad, 5 Oktober 1982): "Gestaltes 1947 is ’n boek van drome, visioene en herinneringe wat hulle afspeel in landskappe van die onbewuste, In hierdie onbewuste wêreld stol verlede, hede en toekoms tot ’n durende moment. Cussons besit dus reeds van vroeg af die sintuig vir die mistieke – hier uiteraard nog nie spesifiek Katoliek-Christelik soos in haar poësie nie."
  • Annie Schumann (Vaderland, 20 Augustus 1982): "Hierdie versameling prosa-fragmente, geskryf in haar vroeë twintigerjare, dien dan ook as ’n klein poort tot haar latere volwasse poësie. Hierdie is fragmente, herinneringe, drome, visioene – obskuur, asof deur water gesien, opgeefsels, opdrifsels, iriserende borrels wat stadig uit die dieptes van oer-moerasse opwel, breek en verdwyn. Die grens tussen die bewuste en die onbewuste word hier na willekeur oorgesteek."

Die versamelbundel, Omtoorvuur, is vir Fanie Olivier (Transvaler, 13 September 1982) keurig versorg en gepubliseer deur Tafelberg-Uitgewers en hy beskou dit as ’n "testament vir die sê-krag van Afrikaans en ’n lekkermaak bewys van die talent van ’n gróót digter".

FR Gilfillan (Die Burger, 23 September 1982) beskryf Omtoorvuur as ’n bundel met tipografie wat keurig versorg is en vir hom is dit ’n gepaste huldiging van Sheila Cussons wat as Afrikaans se belangrikste godsdienstige digter beskou kan word. "Dit verteenwoordig dan ook van die digteres se beste werk sedert sy die poësie-registers oopgetrek het en aan die Afrikaanse letterkunde die grootste verryking van die afgelope dekade besorg het.

"Maar dis ’n bundel wat ook om ander redes ryk en waardevol is. Een daarvan is die gebruik van verskeie etse van die digter self: enersyds op die omslag, andersyds om die verskillende afdelings van mekaar te skei."

Met die ontvangs van die CNA-prys vir Die woedende brood spreek Sheila haar sterk oor die kwessie van sensuur uit en sê sy onder andere (Die Burger, 29 April 1982): "[Ek] glo die hele sensuuraffêre is tydmors, geldmors en self-defeating (...), maar ek dink ek sien ’n dag kom, wanneer almal in SA, al daardie waarskynlike lesers, byvoorbeeld, eindelik vry sal wees om te wei waar hulle wil, sonder om hulle siele in die proses te verloor. (...) As kampvegter vir ’n vrye literatuur, bloei ek natuurlik die meeste vir die skrywer – of tóg miskien ewe veel vir skrywer en leser: vir die geknelde kreatiwiteit, én die verarmde leser. As ’n ryk, vitale literatuur ons erns is, sal daar eenvoudig ’n end moet kom – nie ’n halwe end nie, maar ’n hele end – aan die preutse, skrikkerige onderdrukking van die natuurlike kreatiewe libido." Tydens hierdie toespraak voeg Sheila ook haar stem by al die ander vir die begenadiging van Breyten Breytenbach.

Met die oorhandiging van die Hertzogprys aan Sheila lewer prof Merwe Scholtz (Die Vaderland, 7 November 1983) van die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans-Nederlands die huldigingswoord. Hy het gesê: "Sheila Cussons se werk is die eerste volgehoue verwoording in ons poësie van die haas onverwoordbare mistieke ervaring en ekstase."

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy ook haar nuwe bundel, Verwikkelde lyn, saamgebring wat in 1983 gepubliseer is.

Vir André P Brink (Rapport, 5 Junie 1983) is Die verwikkelde lyn nie "so dig" soos Die woedende brood nie, maar vir hom was dit ’n "voorreg om saam met Cussons te verwyl in ’n dimensie waar die gewoonste dinge en verskynsels getransfigureer raak – ’n proses wat nie nét die mistieke ekstase onder tekens bring nie, maar ook die digterlike proses self. Die transendensie van mimese tot semiosis, en van betekenis tot sin, 'meaning' tot 'significance', demonstreer."

AP Grové doen die bespreking van Die verwikkelde lyn in Beeld van 20 Junie 1983. Hy meen dat hierdie bundel nie liriek in die aanvaarde sin van die woord bring nie: "Daar is geen spontane sang of strewe na musikaliteit nie. Van al Sheila Cussons se bundels kom dié een waarskynlik die naaste aan wat ons bespieëlende poësie kan noem."

"Die besinnende aard van die verse openbaar hom op verskillende maniere, soos byvoorbeeld al klaar duidelik word in die aanvangsgedig 'En as ek vurig antwoord: ja!', ’n gedig wat ondanks sy mistieke inslag redenerend aandoen met sy tastende vrae (…), sy gebruik van direkte rede, sy afweeg van moontlikhede, die bewuste rekenskap gee van ’n groeiende spanning tussen selfverlies en selfhandhawing."

"Daarby die betreklike lang versreëls en die afwesigheid van rym – uiterlike faktore wat daarop dui dat die gedig sy eindbestemming (in hierdie geval ’n selfverloënende opgaan in die 'heilige wil' van God) – langs die moeitevolle weg van die beskouing eerder as dié van die musiek of die beelding wil bereik. ’n Mens sou dit byna ontroerde beeldspraak wil noem."

Ook HP van Coller (Volksblad, 6 Augustus 1983) is beïndruk met Die verwikkelde lyn. Hy beskryf dit as ’n "digbundel van groot kwaliteit en kompleksiteit; ’n toetssteen vir die produkte van die talle jong digters wat deesdae deur die muse geïnspireer word."

"Die verse dra nooit swaar aan verwysings nie, hoewel daar voortdurend in gesprek getree word, selfs implisiet na ander digters verwys word: Breytenbach, Small, ensovoorts. ’n Mens kan byvoorbeeld ook alleen waardering betuig vir die subtiele wyse waarop persoonlike en religieuse verwysings saamvloei in 'Rigtings."

Haar eerste ses bundels noem Sheila haar "Spaanse bundels", omdat hulle almal in Spanje ontstaan het. Verwikkelde lyn is haar laaste bundel wat op Spaanse bodem geskryf is. "Dit is metafisies van aard en deurgaans introspektief bespiegelend. Dit staan in sterk kontras met die vroeë bundel Verf en vlam wat ’n uitjubeling is van die sintuiglike vreugde." (Amanda Botha, Lantern, 1992)

Terug in Suid-Afrika tree sy vir die eerste keer in die openbaar op. In 1983 vra Merwe Scholtz haar om vanaf die derde kwartaal die Letterkundige Laboratorium by US te lei. Hierdie Laboratorium is in 1960 deur prof DJ Opperman begin vir senior studente in die letterkunde met geld wat deur Nasionale Pers bewillig is. Na Opperman se aftrede het hy voortgegaan om elke jaar ’n groep gekeurde studente te lei en te inspireer. Weens slegte gesondheid moes hy die taak in 1982 verlaat en het Lina Spies dit behartig. Sy aanvaar egter ’n pos aan die Universiteit van Pretoria en die pos was dus vakant. Sheila het dit aanvaar en die Laboratorium vir twee jaar gelei. Sy het haarself egter nie as ’n dosent of lektrise gesien nie, maar gesê sy sal haar taak op haar eie manier aanpak en "net as digter oor die digkuns gesels". Sy meen ook dat sy veel uit haar kontak met die studente sal leer. Sheila gee ook voorlesings oor haar eie werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland. (Amanda Botha, Lantern, 1992)

Sheila is genooi om op ’n Akademiese Dag by die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch te praat oor die betekenis van pyn soos dit in haar gedigte vergestalt is, maar ook soos sy dit aan lyf en gees ervaar het.

In 1983 word ’n retrospektiewe uitstalling van haar kunswerk wat tot die dertigerjare terug dateer, by die Wes-Kaapse tak van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging aangebied. Dit het saamgeval met die publikasie van Die verwikkelde lyn. Die uitstalling word ook by die Bellville Biblioteek aangebied. Oor hierdie uitstalling laat Johan Bruwer (Rapport, 26 Junie 1983) hom as volg uit: "Die meeste werke op die tentoonstelling is dus ouer werk, veral uit die jare veertig en die laat sestigs. Hulle spreek van ’n fyn talent, maar ’n talent wat nog besig was om die visuele media te ondersoek en nog nie tot ’n sterk persoonlike visuele taal gevoer is nie. (…) Die visuele taal wat Cussons in haar jongste sketse praat, is basies nog dieselfde as dié van haar vroeër werke. Die verskil is dat dit wegbeweeg van die stywe, goedgemanierde idioom na die regstreekse, alledaagse uitdrukkings van ’n gewone mens wat in sy gewoonheid liefde gevind het en daarom wonderlikheid."

Sheila se eerste bundel wat in Suid-Afrika sy ontstaan gehad het, Membraan, word in 1984 gepubliseer. Sy beskou die bundel self as haar jubelbundel, en drome is die onderwerp van baie van hierdie gedigte. Dit is ook die eerste keer dat sy gebruik gemaak het van die Bolandse landskap in haar verse en sy het baie genot geput uit die alledaagse lewe in die Kaap soos sy dit beskou het uit haar woonstel in die Tuine en in die Kompanjiestuin. (Amanda Botha, Lantern, 1992) Die bundel is egter met gemengde gevoelens deur die breë publiek ontvang en koel deur die literatore. Sy self het erken dat die ontvangs haar ’n knou gegee het.

M Nienaber-Luitingh (Beeld, 6 Augustus 1984) het geskryf dat die mistieke ervaring van eenwording met die Goddelike ook in Membraan die hooftema is, soos in haar vroeëre bundels en dat daar dus nie ’n groot verskil is tussen die gedigte wat in Spanje ontstaan en dié wat in Suid-Afrika hulle ontstaan gehad het nie. "In Cussons se poësie gaan dit in die eerste plek om die 'ek' se verkeer met die Goddelike, en die geografiese situasie is daarby van ondergeskikte belang."

Nienaber-Luitingh het voorts geskryf: "Tot die mins geslaagde gedeelte van die bundel behoort die twee groepe kwatryne, 'Drie voorbeelde en ’n vertroosting' en '’n Kransie wildekruie', waarin die gebrek aan ’n strikte ekonomiese woordgebruik en die soms duidelike gevalle van rymdwang ’n verswakkende uitwerking het.

"Soos elke digbundel van Sheila Cussons bevat Membraan verskillende mooi gedigte. Die bundel as geheel bring egter ten opsigte van haar vorige bundels weinig nuuts wat temas, insigte en verstegniek betref; dit dui dan ook geen stygende lyn in haar poësie nie."

Ook Joan Hambidge (Vaderland, 3 September 1984) was nie oortuig van die gehalte van hierdie negende bundel van Cussons nie. Sy meen ook dat daar min digters in Afrikaans is wat die mistieke belewenis só duidelik en só herhaaldelik gekonstateer het as Sheila Cussons.

Hambidge het verder geskryf: "Ongelukkig is dit dan ook so dat dit waarvoor ’n mens die meeste waardering het, uiteindelik ook by Cussons middelmatig raak. Die gedigte wil soms té eksplisiet uitspel en dikwels kom die digter voor dié probleem te staan: hoe verwoord ’n mens die mistieke op ’n mistieke wyse?"

"In The pleasure of the text (1973,1975) skryf Barthes oor hierdie probleem: 'If I read this sentence, this story, or this word with pleasure, it is because they were written with pleasure (such pleasure does not contradict the writer's complaints). But the opposite? Does writing in pleasure guarantee – guarantee me, the writer – the reader's pleasure? Not at all' (p 4)."

"En dit is ongelukkig van toepassing op die meeste verse in Membraan: té min het ’n mens 'stuipbevange van angs en genot' soos die voorlopers in Plektrum en die vele daarna."

André P Brink (Rapport, 5 Augustus 1984) het geskryf: "Iets van ’n vroeëre digtheid en deurdigtheid bly hier soms agterweë; iets van ’n herhalerigheid vreet aan verskeie verse. Maar dan nog is veral daardie klompie verse wat ek vlugtig probeer uitwys het, stof tot dankbaarheid."

In Desember 1985 besluit Sheila om voorlopig na Spanje terug te keer. Sy is in Februarie 1985 gehospitaliseer na ’n ineenstorting weens slapeloosheid. Sy is ook na Spanje vir die geboorte van haar eerste kleinkind, Max. Sy bly in Spanje tot ses maande na die geboorte op 21 Desember 1985. Sheila beskryf die ervaring in De Kat van Mei 1988 as volg: "Toe ek Max vir die eerste keer in my arms hou, het ek emosies ervaar wat ek nie geweet het ek het nie. Emosies wat ek nie onder woorde kon bring nie. Dit was die besef dat Max iets onbetwisbaar herkenbaars van my dra."

In 1985 word Poems gepubliseer, wat ’n vertaling is van ’n keur van haar verse deur Sheila self. Die kritici was oor die algemeen redelik beïndruk deur die vertaling. Albert du Toit (Eastern Province Herald, 9 September 1986) het gehou van die oorspronklike Afrikaanse gedig wat naas die vertaling gedruk is sodat die leser kon deel in die digter se kreatiewe proses. Hy noem Sheila Cussons "a metaphysical poet of the highest order".

In The Natal Witness (26 November 1987) was Yvonne Grimbeek nie heeltemal so komplimenterend nie. Sy was nie ten gunste van die plasing van die oorspronklike naas die Engelse vertaling nie, aangesien dit die gehalte van Cussons se skryfwerk dramaties verswak as gevolg van die metode en, volgens haar, sou dit die leser net deurmekaar maak.

Heather Mackie (Cape Times, 14 Mei 1986) het geskryf: "The deceptive simplicity of her work has translated very well."

Die heilige modder (1988) bevat gedigte wat gedurende die laaste derde van 1986 hulle ontstaan gehad het, asook sommiges wat in 1987 ontstaan het. Sheila Cussons het die bundel aan Amanda Botha (Lantern, 1992) beskryf as "die gladwaterbundel wat homself los geworstel het uit swaar medikasie". Botha (Lantern, 1992) skryf dat die mistieke krag van Sheila in hierdie verse treffend is. "Sy verwonder en verlustig haar in die eenvoudige dinge wat vir haar die ewige wonder van God omskryf."

Cussons het teenoor André le Roux (Die Burger, 11 November 1988) gesê: "Ek het doelbewus probeer om my formulering in Die Heilige modder eenvoudiger te maak omdat ek bewus was van die feit dat sommige mense my werk ontoeganklik vind. Ek het probeer om oper, toegankliker te skryf."

In Republikein van 14 Oktober 1988 het IA van Zyl gemeen dat Cussons se sintaksis in Heilige modder eenvoudiger is en só ook die woordgebruik en dat dit die opvallendste verskil is tussen hierdie bundel en haar voriges: "Daar is hier ook ’n nog groter toespitsing op die digteres se verhouding met God as tevore. (…) Gepaard met haar intense Godsbelewenis, wat elke gedig deurstraal, gaan ’n verlange om weer in die eie vaderland wortel te skiet."

Van Zyl het afgesluit: "Dit is, ten slotte, ’n bundel wat spruit uit die 'transfigerende kragveld, Jesus' (p 52) en waarin alles weer 'stromend' teruggedig word, 'tot in daardie Onstuimigheid / wat Is voor Abraham was'."

"In hierdie bundel vind die leser Cussons op haar suiwerste."

André P Brink (Rapport, 25 Julie 1988) was egter ’n ander mening toegedaan: "Nou, vier jaar ná die verskyning van Membraan, het Die heilige modder uiteindelik verskyn en met watter afwagting maak die Cussons-liefhebber dit nie oop nie."

"Helaas. Dit moet dadelik gesê word. Die gedigte in Die heilige modder is byna deurgaans flou afkaatsings of napratings van haar vroeër stralende werk." (…)

"Vernuwing, in die drastiese en dramatiese sin van die woord, het mens nooit by Cussons gesoek nie. (…) Tog het sy elke keer die bekende nuut gemaak, hout omgebrand tot vuur en vlam. Maar in dié bundel is dit – meestal – ’n moedelose geblasery aan die stompe wat net rook voortbring en jou oë ergerlik laat traan: ’n uitspreek van vroeër magiese woorde wat nou net nie meer besweer nie." (…)

"’n Spesifieke prosedure aan die hand waarvan die verandering in Cussons se poësie geïllustreer kan word, is dié van 'herhaling'. In haar vroeëre werk het dié verskynsel sterk gefigureer en het dit inkantasie geword. In die huidige bundel beïndruk die prosedure soms deur die blote menslike stameling en dringendheid waarmee dit die mens se biddende uitgryp na Betekenis of Illuminasie uitdruk ('Biddende'); en in die drieledige herhalingspatrone van 'Klag' breek die geslaagde inkantasietoon van vroeër ook deur; maar elders raak dit ’n geteem en ’n gesanik, soos in 'Impromptu' ..."

Brink het afgesluit: "Cussons het klaarblyklik ’n ontstellende vonklose fase in haar digterskap bereik: mens wil opreg hoop dat sy haar mettertyd weer daar sal uitbrand."

TT Cloete het tot die volgende slotsom gekom in sy bespreking van Die heilige modder (Volksblad, 21 Mei 1988): "Die heilige modder is ’n baie suiwer bundel, baie meer beskeie, meen ek, as Sheila Cussons se beste werk. Dalk het ons hier met ’n wending te make, omdat Cussons uitdruklik in 'Eenvoudig' sê: 'Woorde wil nie oopgevlek nie / maar eenvoudig belewe word', en daar is ’n bemoeienis met die eenvoudige en gewone en die aangetrokkenheid daartoe in die bundel. Maar wat sy aan eenvoud gewen het, het sy miskien in rykdom van die taal en beeldrykheid van haar vers ingeboet. Die 'wêreld' van die bundel is egter boeiend en glansend."

Na die verskyning van laasgenoemde bundel vertel Sheila aan André le Roux (Die Burger, 11 November 1988) dat sy ’n inspirasiedigter is. "Verse moet by my opkom, jy weet. Ek moet ’n paar reëls gegee word. Dan werk ek daaraan. (…) Sommige kom baie, baie maklik. Ek moet sê, veel van my gedigte is sommer byna in hul geheel aan my ingegee. (…) Maar ek wil nie eens probeer om te ontleed hoe ’n gedig ontstaan nie ... daar is soveel misterie in die hele skeppingsproses."

Sheila se laaste bundel is Die knetterende woord wat in 1990 verskyn en bekroon is met die WA Hofmeyrprys. In trant sluit die bundel aan by Die woedende brood en Verwikkelde lyn. Dit sluit ook ’n aantal Spaanse en Engelse verse in. Die Spaanse verse is vergesel van Afrikaanse vertalinge wat, volgens Wium van Zyl (Rapport, 2 Desember 1990), "gedigte in eie reg word".

Van Zyl skryf verder: "En inderdaad is die poësie in Die knetterende woord nie in ’n enkele definisie vas te vang nie. Dit is ’n beleë, rykgeskakeerde, veeltalige verkenning van menswees en woord in ’n verskeidenheid stemminge.

"Cussons sorg hier vir een van die min meertalige digbundels in die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Die meeste verse is in Afrikaans, ’n hele aantal in Engels, maar sommige ook in Spaans. In die gedig 'Pour un jeune homme gai' vloei Afrikaans en Frans selfs vrolik ineen."

"Die veeltaligheid is egter maar een keerkant van ’n sterk mediumbewustheid in die bundel – iets wat trouens ook voorheen in Cussons se oeuvre voorkom, maar nie so gekonsentreerd as hier nie." (…)

"Die religieuse, ’n Cussons-watermerk, oorheers ook in dié bundel. Dit begin al met die voorbladontwerp (weer deur die digter self) wat onder meer ’n priester uitbeeld, besig om die hostie omhoog te hou. Die bundel is losweg afgebaken in terme van stadiums van die Katolieke mis: eers die Kyrie (…), daarna die Gloria (…), gevolg deur die Sanctus (…) en die Agnus Dei (…)."

Vir AP Grové (Beeld, 10 September 1990) is dit in al Cussons se digbundels duidelik dat sy as digter worstel om tot klaarheid te kom oor die goddelike wese, "oor sy werking in die wêreld en die lewe van die mense. Dié bepaalde drif was natuurlik nie die enigste motief in haar werk nie, maar dit was die sentrale dryfkrag in haar digterskap."

"In haar jongste bundel, Die knetterende woord, is dit nie anders nie. Ook hier is die religieuse besinning ’n deurlopende tema: die vernuwende werking van God, sy ingryp in die lewe van die mens … Trouens, die hele opset van die bundel met sy onderdele Kyrie, Gloria, Sanctus en Agnus dei wil ’n eksplisiete verband lê met die RK Mis.

"Maar hierdie religieuse preokkupasie is in die huidige bundel nie los te dink van Cussons se besinning oor die wese en werking van die taal nie, meer bepaald as die taal van die poësie. Net soos die denke oor God, speel die denke oor die taal vanaf die titel ’n essensiële rol in die opset en aard van menige gedig in die bundel."

"Cussons het haar in die verlede meermale op die poëtiese woord besin. Onder verskillende beelde het sy ingegaan teen die 18de-eeuse idee (van Locke, byvoorbeeld) dat die woord bloot die houer is wat ’n reeds bestaande betekenis (inhoud) moet ontvang en bewaar. Vir haar is die woord nie die passiewe ontvanger van wysheid of insig nie, maar eerder die dinamiese ontdekker of skepper daarvan." (…)

"… [O]ns het hier met poësie te make wat ’n mens nie op jou rug kan lê en lees nie. Dis werk wat inspanning van die leser verg. Die digteres maak geen toegewings nie en suggereer êrens dat ’n 'vrygewige digter' 'oorbodig' is." (…)

"Daar is gedigte wat met ’n verwikkelde redeneertrant gepaard gaande met ’n verwronge sintaksis in ’n onklare denkworsteling bly steek. Iets hiervan was al merkbaar in Die heilige modder, maar in die huidige bundel word dit ’n al hoe sterker bedreiging waarteen die digteres moet waak."

Ander menings kortliks oor Die knetterende woord:

  • Tom Gouws (Insig, Oktober 1990): "Dit is ’n bundel wat nie die peil van Plektrum, Die swart kombuis en Die woedende brood handhaaf nie, maar dan: Dit is ’n bundel wat, alhoewel dit nou aansluit by haar poëtiese mitologie, tog sy eie barograaf is. Dit is ’n bundel wat die leser aanvanklik op ’n afstand, veral ’n talige afstand laat bly, maar dan – soos die nuwe taal aangeleer word – jou in die klein resonante holte van die bundelmond die hoogte en diepte van poësie laat ervaar."
  • Merwe Scholtz (Die Burger, 16 Augustus 1990): "Sommige van die gedigte het nie die dramatiese aanslag en impak van die groot religieuse gedigte van die vorige bundels nie. En ’n mens kan dit ook nie bly verwag nie: by ’n digteres van die formaat van Cussons is daar, met respek gesê, in iedere vers ’n soort poëtiese 'stofwisseling'. Die poësie bly die aangrypende getuie van die lewensreis van ’n uiters verwikkelde, merkwaardige vrou. Geen kenner van Cussons se poësie sou die veelsydige getuienis hiervan in Die knetterende woord wil misloop nie."
  • TT Cloete (Volksblad, 18 Augustus 1990): "Al die gedigte is nie op dieselfde vlak nie, en dié bundel kom nie op dieselfde peil as van die beste vroeëres van Cussons nie. Moontlik is dit omdat die drif soms te min deur die langsaamheid getemper word, moontlik is dit so dat die beskoulike vers soms te min knetter of heldersiendheid in hom het – dalk is dit albei tegelyk. (…) Die bundel is ongetwyfeld egter sterker as sy direkte voorganger, en as ’n mens dan dié vergelyking tref, wil jy in die taal van Upon a darkening flood sê: ons het hier ’n nuwe 'self' van Cussons, subtiel gerestoureer. Die beste gedigte in Die knetterende woord laat ons Cussons weer sien soos ons haar in haar beste momente tot nou toe leer ken het."

Sheila word in 1992 vereer toe die Universiteit van Natal ’n eredoktorsgraad aan haar toeken uit erkenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. In 1996 word ’n DLitt (honoris causa) deur die Potchefstroomse Universiteit aan haar toegeken vir haar onderskeiding as een van die belangrikste religieuse digters in die Afrikaanse digkuns en vir haar temas in poësie wat algemeen-Christelik toeganklik bly.

Vanaf Januarie 1997 woon Sheila in Nazareth House, ’n eertydse kloosterhuis in Vredehoek in Kaapstad. Dit is in 1910 volgens ’n ontwerp van sir Herbert Baker gebou. Met die viering van haar 75ste verjaardag publiseer Tafelberg-Uitgewers ’n keur uit haar godsdienstige verse getiteld ’n Engel deur my kop. In 2000 verskyn Die asem wat ekstase is, ’n keur uit haar niereligieuse poësie.

Oor ’n Engel deur my kop skryf Joan Hambidge (Die Burger, 8 Oktober 1997) dat die versameling verse die leser weer onder die indruk bring van Cussons se besonderse talent "om God in die kleinste, banaalste oomblik raak te sien" en in Volksblad (5 Januarie 1998) is Bernard Odendaal van mening dat "die aangenaamheid van Cussons se religieuse poësie by uitstek geleë is in die verwoorde 'maklik wees' ('Pastorale'), oftewel die spontane omgang van die gelowige met God en die wondere van die skepping."

Louise Viljoen (Insig, Desember 1997) kom tot die gevolgtrekking dat tot die Afrikaanse digkuns se voordeel is dat "Cussons se geestelike avontuur ook ’n versavontuur word in dié sin dat die religieuse ervaring verwoord word in ’n taal wat by geleentheid self die skittering van openbaring dra."

AP Grové (Beeld, 26 Junie 2000) het die publikasie van Die asem wat ekstase verwelkom, aangesien haar vroeëre bundels nie meer so algemeen verkrygbaar is nie: "Dit gee die poësie-leser as 't ware die geleentheid om hom opnuut in hierdie oeuvre te verdiep; om vas te stel watter prikkels oor die jare op haar ingewerk het; haar jeugagtergrond en die sterk Europese invloede in haar latere werk; haar poësiebeskouings en haar interessante sienings oor die ontstaan van ’n gedig."

In Rapport van 27 Augustus 2000 beskryf TT Cloete Sheila Cussons se poësie as volg: "Die werk van Sheila Cussons is ten slotte ’n taalprestasie. Dit is Afrikaanse woorde soos wyn. (…) Die titel Die asem wat ekstase is sê alles van die gedigte wat in hierdie keur opgeneem is. Cussons se beste en bekendste gedigte is hier. Die bundel bevat ’n deel van haar werk, maar dis die hele Cussons."

’n Multimedia-produksie rondom Sheila se gedigte waarin die teatrale en die digkuns bymekaargebring word, het deel uitgemaak van die hooffees se Poësie-Paleis by 1998 se KKNK. Die produksie, getiteld Cussons se kombuis, is geskep deur en geregisseer deur Charles Fourie. In 2000 word ’n produksie, Heilige modder, in Bloemfontein aangebied onder regie van Gerben Kamper met teks deur Marc Hosten. Annette Engelbrecht was die aktrise.

Met haar 70ste verjaardag skryf Charles Fryer in Die Burger (8 Augustus 1992): "Sheila Cussons se beste gedigte word gekenmerk deur ’n sensuele aardsheid; ook ’n duiselende uitreik na die 'Onverwoordlike' – ’n dwarreling, ’n dans van woorde waardeur soms ’n straal skiet van 'daardie rilling wat God is'. Sy het Afrikaans na uiterstes gevoer waar sy seggingskrag soos selde tevore beproef is, op soek na woorde wat gestalte kan gee aan dit wat raaiselagtig en verwikkeld is. Of dalk net ’n glimp, want 'die hemel verblind verbeelding'. (...) Om Cussons te lees, is om ’n vinger oor '’n hunkering se grein' te voel soek; om te weet daar het so pas ’n engel deur jou kop gegaan."

Tydens 2002 se Woordfees en in haar 80ste geboortejaar is Sheila se dubbele kuns – woord- en skilderkuns – gevier. ’n Tentoonstelling van haar werke is in die Sasol-kunsmuseum op Stellenbosch gehou en Amanda Botha en Adrie van Eeden het die verband tussen die woord en die skilderkuns belig in ’n lesing getiteld "Sheila Cussons: verf en vlam". Die lesing was ’n voorloper tot Helena Conradie en Annalise Wiid se woord-en-musiekprogram oor Sheila. ’n Huldigingsprogram vir Sheila is ook tydens die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein in 2002 aangebied.

Wium van Zyl skryf in 1997 in Die Burger van 9 Augustus dat Sheila, ondanks haar laat debuut, kan aanspraak maak op ’n unieke oeuvre wat styg bo tyd en ouderdom, poësie met ’n volgehoue lenige gang "oor Sy sneeuende sierras".

Sheila is op 25 November 2004 in Nazareth House oorlede. Haar oudste seun, Jordi, was langs haar bed toe sy oorlede is. Haar begrafnisdiens wat in die vorm van ’n Katolieke Mis was, is in die klein kapel van Nazareth House gelei deur vader Peter John Pearson en die preek is deur ds IL de Villiers gelewer. Wium van Zyl het ’n huldeblyk gelewer.

Selfs na haar dood bly sy steeds die fokuspunt van besprekings. In 2007 was sy die tema van die Afrikaanse Letterkundevereniging se simposium tydens die Woordfees en in 2006 verskyn haar Versamelde gedigte, wat tydens die Versindaba op Stellenbosch bekendgestel word. Hierin verskyn sekere verse van Sheila vir die eerste keer – verse wat haar debuutbundel sou gewees het, soos aanbeveel deur NP van Wyk Louw. Hierdie verse is deur Johann de Lange "ontdek" in ’n stapel dokumente wat in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bewaar word. De Lange meen dat die verse, wat onder die titel Dekade 1943–1953, verskyn, pragtig is uit eie reg. "Ek glo hulle gee ’n vollediger beeld van die jong Cussons en hoe sy met haar medium geworstel het op soek na ’n eie stem." (Insig, Junie 2006)

In 2007 verskyn daar by Uitgeverij 521 in Amsterdam ’n Nederlandse bloemlesing van Cussons se poësie onder die titel De schitterende wond. Dit is deur Gerrit Komrij vertaal, saamgestel en ingelei.

Vir Hennie Aucamp (Rapport, 16 September 2007) is Komrij se inleiding presies wat ’n inleiding moet wees – dit verskaf sleutelinligting en -insigte in bedrieglik eenvoudige taal. Sy gevolgtrekking is as volg: "Gerrit Komrij het Afrikaans se Hoë Ambassadeur in Die Lae Lande geword. Léwe, Komrij!"

Daniel Hugo (Die Burger, 15 Januarie 2007) beskryf dié bundel as ’n heerlike bonus vir die aanhangers van Sheila Cussons se poësie.

In 2008 ontvang Sheila die Suid-Afrikaanse Literêre Toekenning Postuum van die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur vir haar letterkundige bydrae.

’n Engelse sprokie wat Sheila vir haar broer geskryf en geïllustreer het, Trevor in the land of fantasy, is in 2018 deur Imbali Akademies uitgegee. Haar seun, Jaume, het sy ma se wens verwesenlik. Die direkteur van verkope en bemarking, Ute Späth, het die volgende te sê gehad oor hierdie publikasie: "As volwassenes verloor ons dikwels die fantasiewêreld wat as kinders in ons verbeelding bestaan het. Ons is bevoorreg om dié kreatiewe werk beskikbaar te stel. Cussons het ’n ouwêreldse sjarme en ’n verbeeldingryke droomwêreld in Trevor in the land of fantasy geskep.

Sy het die verhaaltjie geskryf toe sy 14 jaar oud was en in ’n onderhoud het sy gesê: "Ek het ’n Engelse storie geskryf vir my boetie wat toe twee was en dit ook geïllustreer. Ek het dit in ’n hangmat in ons tuin geskryf." Sy het vir haar broer voorgelees en later ook vir haar twee seuns.

Huldeblyke:

  • André P Brink: "Met maar min woorde het sy vir haar ’n plek in die Afrikaanse literatuur, en in ons gewete, oopgeskroei waaruit nog lank heling en nuwe groei denkbaar is." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Antjie Krog: "Ek het deur baie digters leer skryf, maar deur Sheila Cussons se werk het ek leer leef. Sy het die sintuie oopgeboor van almal wat poësie liefhet en ons met taal op ’n high" (Die Burger, 27 November 2004)
  • Wilma Stockenström: "’n Vriendskap meet jy nie in jare nie, veral nie as ’n mens reeds in die eerste oomblikke ’n affiniteit voel gegrond op ’n respek vir mens, dier en ding nie. Haar aardse humorsin het my aangetrek. Sy bly vir my die vrou van die onverminkte gees. Haar liggaamlike gebrek het jy sommer dadelik vergeet, want haar gees was helder, so deurstraal soos haar verse." (Die Burger, 27 November 2004)
  • TT Cloete: "Cussons kon ’n gedig skryf oor hoe ’n digter ’n gedig skryf, wat ons ’n insig gee in haar innerlike werkwyse. Sy was nie net digter nie, maar ook skilder, wat graag geskryf het oor ander skilders en oor skilderye, etse en akwarelle. Hierdie gedigte bied ’n verstommende insig in die onvergelyklike talent van hierdie digter en in die toorkrag van haar woord." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Hennie Aucamp: "Sheila Cussons het ’n Helleense helderheid en harmonie na die Afrikaanse letterkunde gebring, in haar prosagedigte sowel as in haar poësie. Ook in haar alledaagse spraak was daar ’n swewende ligtheid, die deursigtigheid van ’n vlam, veral haar beeldspraak." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Johann de Lange: "As digter was Sheila Cussons se bydrae tot die Afrikaanse poësie onberekenbaar. Haar begeerte om tydloos te wees, is vervul." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Hannes van Zyl: "Sy het lig gedra aan haar wysheid, haar wye visuele geletterdheid, haar fyn humor. ’n Tyd by haar het ’n verskerpte sin vir wonder en wondbaarheid gebring; ’n stil blydskap in die lewe, asof ’n mens ’n uur naby ’n engel was." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Zandra Bezuidenhout: "Vir my was Sheila Cussons die een met die aanvoeling vir die mistieke." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Wium van Zyl: "Ons het ’n groot digter verloor, maar ’n digter met ’n nalatenskap só ryk dat ons haar bede, troos en skerpte nie sal kan vergeet solank ons die onbekende deur Afrikaans bly oopkloof nie." (Beeld, 1 Desember 2004)
  • Vader Peter John Pearson: "Sy was iemand wat ’n evangelie van transendensie geleef het, een van vreugde en vrede oor pyn." (Beeld, 1 Desember 2004)
  • Hans Ester: "Sheila Cussons toets die taal voortdurend op sy moontlikhede. Die versreëls rol dikwels soos golwe oor mekaar. Daar is soveel wat by die digter aandring om in woorde weergegee te word." (Zuid-Afrika, Desember 2004)
  • Jaume, Cussons se jonger seun: "Sy het haar eienaardighede, maar sy's meer ons beste vriendin as ons ma. Met tye kon ons vir haar woedend raak, maar haar humor het ons altyd weer gewen." (Die Burger, 18 Desember 2004)
  • Jordi, haar oudste seun: "Ons het oral op ons fietse saamgery. Ons maats het toe na haar verwys as ons ouer suster. Ons het so baie van die idee gehou dat ons haar altyd as 'Sheila' voorgestel en aangespreek het. Sy kon in enige geselskap wees, want sy was cool lank voordat iemand die woord uitgedink het." (Die Burger, 18 Desember 2004)
  • Elsa Joubert: "Ek onthou haar 80ste verjaardag met al haar vriende om die lang tafel. (…) Sy het baie broos gelyk. Daar was stil – mag ek sê 'skittering', nee, die woord is te skerp, liewer stil, afgetrokke glans – om haar. Die gedagte aan ’n 'heilige' het by my opgekom. (…) Ek het besef ons is om die tafel vergader by ’n baie besondere en, ondanks haar liggaamlike pyn en skending, ’n besonder geseënde mens. Die vreugde, dikwels ekstase anderkant pyn, mistieke eenwording, straal uit die religieuse verse. Die verse is vir my ’n kosbare besit." (Die Burger, 27 November 2004)
  • Joan Hambidge: "Sy is ’n voortreflike digter en haar enorme bedevaart en vermoë tot gelyktydigheid verdien vermelding. ’n Gedig soos 'Christ of the burnt men' laat enige ander digter swymel voor die seggingskrag. Hierom huldig ek haar dan ook in my bundel Lykdigte en die invloed van haar digterskap, reeds sedert Plektrum, het die hele Afrikaanse digkuns verryk. Nie net op tegniese vlak nie, maar ook om die Spaanse en Katolieke invloed." (Die Burger, 30 November 2004)
  • Amanda Botha: "Ek kan met alle vrymoedigheid sê dat dit vir my ’n voorreg was om haar te ondersteun en by haar te wees (tydens haar siekbed en afsterwe – samesteller). My lewe is oneindig verryk deur die aanraking met haar." (Die Burger, 26 November 2004)
  • Lina Spies: "Toe sy dit nie meer kon verduur om die taal van haar verse net met die binne-oor te beluister nie, het sy teruggekeer na die geboortegrond van Afrikaans. In haar verse kon die taal weer een word met die landskap waaraan dit onlosmaaklik verbonde is. Ten slotte was die allesoorheersende passie van Sheila Cussons se lewe die poësie. Dit het neerslag gevind in een van die belangrikste digterskappe in Afrikaans." (Beeld, 27 November 2004)
  • Herman Lategan: "Sheila het ’n beskeie lewe (in die Kaap) gelei en haar woonstel was minimalisties, amper spartaans, gemeubileer: ’n bed, sketse teen die mure, ’n sitkamerstel, ’n kombuisie en ’n badkamer. Sy kon ’n gedig oor die eenvoudigste dinge skep: ’n koekie seep, ’n brood, ’n vlieg. Sommer daar, so tussendeur die gesels, in haar woonstel. Sy is in 2004 oorlede, dié klein, onpretensieuse mensie wat soos ’n blink liewenheersbesie onverwags op my hand kom sit het." (Die Burger, 9 April 2011)

 

Publikasies:

Publikasie

Plektrum

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1974
  • 1981

ISBN

0624005038 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Ingrid Jonker-prys 1970
  • Eugène Marais-prys 1971
  • WA Hofmeyr-prys 1972

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die swart kombuis

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1980
  • 1987

ISBN

  • 0624011364 (hb)
  • 0624014177 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Verf en vlam

Publikasiedatum

1978

ISBN

062401181X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die skitterende wond

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012948 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die sagte sprong

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012956 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die somerjood

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624013952 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die woedende brood

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1982

ISBN

  • 0624015637 (hb)
  • 0624017702 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1981
  • Louis Luyt-prys 1982
  • WA Hofmeyr-prys 1982
  • Hertzogprys 1983 (haar hele oeuvre)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Omtoorvuur: ’n keur uit die poësie van Sheila Cussons

Publikasiedatum

1982

ISBN

9780624017967 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gestaltes 1947

Publikasiedatum

1982

ISBN

0624017974 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Verwikkelde lyn

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624019233 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Membraan

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020533 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Poems: a selection

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624023222 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die heilige modder

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026078 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die knetterende woord

Publikasiedatum

1990

ISBN

0624029565 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1991

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Engel deur my kop: ’n keuse uit haar religieuse gedigte. Saamgestel deur Amanda Botha

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036057 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die asem wat ekstase is: ’n keuse uit haar nie-religieuse verse. Saamgestel deur Amanda Botha

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038564 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624043916 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Sheila Cussons as vertaler

  • Borges, Jorge Luis: Die vorm van die swaard en ander verhale. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624016579 (hb)]

Artikels oor Sheila Cussons beskikbaar op die internet

Sheila Cussons se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-03-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

The post Sheila Cussons (1922–2004) appeared first on LitNet.

Persverklaring: Aanlyn werkswinkel oor lokatiewe literatuur aangebied

$
0
0

“Een van die uitsonderlikste werkswinkels in sy 32-jarige bestaan,” só beskou die personeel van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) die drieledige aanlynkursus wat hulle in samewerking met die bestuurspan van die Byderhandprojek van die NWU beoog.

Die Byderhandprojek is gemik op die inisiëring en ontwikkeling van digitale installasies wat die lees en beluistering van nuutgeskepte literêre tekste moontlik maak ín die omgewing en bý die dinge wat in die tekste figureer. Sulke gedigte en vertellings staan onder vakkundiges bekend as plekspesifieke of lokatiewe literatuur. Besonderhede oor die bekroonde Byderhandprojek kan deur middel van die internetskakel http://www.byderhand.net/ nagespeur word.

Die komende kursus in die beplanning en loodsing van soortgelyke lokatieweliteratuurprojekte word vir aanlyn aanbieding beoog om oor drie Saterdae te strek: 17 Julie, 31 Julie en 21 Augustus 2021.

Die kursusfooi beloop R300 per persoon en inskrywings sluit op 10 Julie 2021.

Die multimedia-aard van die lokatieweliteratuurprojekte vereis indiwiduele aandag om werkswinkeldeelnemers touwys gemaak te kry daarvoor; daarom dat hoogstens 30 inskrywings aanvaar sal word.

Rig navrae oor die drieledige werkswinkel en oor inskrywing daarvoor per e-pos aan Kobie van Aswegen by die ATKV-Skryfskool: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za.

The post Persverklaring: Aanlyn werkswinkel oor lokatiewe literatuur aangebied appeared first on LitNet.

Charl-Pierre Naudé (1958–)

$
0
0

Gebore en getoë

Charl-Pierre Naudé is op 27 Augustus 1958 in Kokstad in die Oos-Kaap gebore. Sy pa was ’n patoloog en sy ma ’n nooi Dönges, uit huis uit Engels, ’n onderwyseres van beroep, maar meestal ma en huisvrou. Hy het ook ’n suster. Hy stam van beide sy ouers se kant uit sendeling-voorouers met Hugenotewortels – dus, wat temperament betref, dra hy soms die toga, en soms loop hy kaal.

Totdat Charl-Pierre sewe was, het hulle in Durban gebly. Daarna verhuis hulle na die voormalige Transvaal, bly vir ’n rukkie in Londen in Engeland en daarna in Oos-Londen in Suid-Afrika, waar hy die grootste deel van sy grootwordjare deurbring en matrikuleer.

In ’n biografiese skets vir NALN gedateer 1997 vertel Charl-Pierre dat die Oos-Kaap vir hom ’n soort droomwêreld is, "’n somnambulistiese strook harde depressie-wêreld en Hiernamaals. Ek sal altyd daar wil gaan stap." Sy pa was ’n patoloog in Oos-Londen tot sy dood.

Charl-Pierre begin al in standerd drie "boeke" skryf en wou ’n bibliotekaris word – maar besluit gou: "Boggher ander mense se reëls, ek gaan al die boeke in mý biblioteek self skryf, dan weet ek sommer waar hulle is nog voor hulle geskryf is. Ek't gehou van die idee dat my maatjies by my boeke uitneem: dan kan ek hulle 'beboet'." (Biografiese skets, 1997)

Hy vertel aan Theunis Engelbrecht (Die Burger, 28 Februarie 1996) dat sy grootste invloede in daardie dae Jasper, Rooijan en Tarzan was. "Ek het twee boeke geskryf in my laerskooljare op Rustenburg, albei sonder paragrawe. Die een se naam was Agter die terroriste aan en die ander was ’n plaasboek, Sononder, waarop ek prentjies uit die Landbouweekblad geplak het. Maar nie een van my maats wou dit uitneem nie." Daarna het seerowerboeke en Karl Kielblock hom geïnspireer en het hy ook ’n seerowerboek vir sy biblioteek geskryf.

Op hoërskool in Oos-Londen het hy in ernstige letterkunde begin belangstel nadat hy die werk van die Sestigers ontdek het. Hy begin in standerd nege in erns gedigte skryf. "Die Xhosa-misterie van die Oos-Kaap – daardie woordeloosheid – het ’n groot vormende invloed op my gehad." (Biografiese skets, 1997)

Charl-Pierre erken dat hy nie ’n besonder goeie leerling of student was nie – meestal onvergenoegd rebels of neurotiese luiaard. "Ek het reeds vroeg in my hoërskoolloopbaan ’na binne geïmmigreer', na waar dit meer demokraties was. Ek het ook die president van my eie republiek geken." Die belangrikste keerpunt in sy jong lewe was om te besef dat apartheid onmenswaardig is – "my besef was miskien ’n bietjie naïef en selfingenome – maar ek het geleer dat waardes ononderhandelbaar is." (Biografiese skets, 1997)

Charl het weer teruggegaan na sy geboortedorp, vertel hy aan AJ Opperman (Die Burger, 8 Januarie 2019): "Maar ek moet vir jou sê, toe ek weer teruggaan, het dit vir my gevoel of ek weet waar elke afdraaitjie is. Dit was asof ek deur ’n glas kon kyk na ’n ander lewe wat ek gehad het.

"Ek het sommer instinktief geweet waar die hospitaal is. Ek het gaan kyk na die hospitaal waar ek gebore is. Ek het gaan kyk na waar my pa gepraktiseer het in Franklin, ’n klein dorpie wat vandag ’n spookdorp is. Net soos die dorpie in die Lyksovlakte in Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (2019)."

Verdere studie en werk

Na skool is Charl-Pierre na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ’n honneursgraad in filosofie verwerf. Hy beskryf sy universiteitsjare as wonderlik vormend. Hy het hom gou met groot blydskap aan die koshuislewe in Stellenbosch onttrek nadat hy dit ervaar het as ’n kweekhuis van onverbloemde fascistiese houdings. Hy was ook ’n weieraar teen militêre diensplig.

Hy is joernalis van beroep en het op gereelde basis vir die kunsblad van die Vrye Weekblad artikels en resensies gelewer, en het daar en by ander koerante as subredakteur gewerk. "Maar die professie waarop ek die trotsste is, is dié van droster. Dis ’n ou Suid-Afrikaanse tradisie wat terugloop na die matrose van die VOC." (biografiese skets, 1997)

Charl-Pierre beskou die tydperk wat hy in Kaapstad gebly het, 1983-87, as die belangrikste vormingsjare vir hom as skrywer. Dit was jare waarin hy niks op papier geskryf het nie, en dít wat hy wel geskryf het, het hy weggegooi. Hy vertel self dat hy homself op ’n baie toegewyde manier "geslyp" het en dat die "weggooi" van sy skryfwerk deel was van ’n leef-vir-die-oomblik ingesteldheid wat in daardie tyd aan die orde van die dag was. (biografiese skets, 1997)

In 1990 verhuis hy na Johannesburg – ’n stap waaroor hy bly is, anders kon hy dalk oor Tafelberg begin skryf het. Hy beskou Johannesburg tot redelik onlangs nog as die sentrum van die boheemse. In Mail & Guardian van 17–23 Oktober 1997 sê hy aan Richard Jürgens: "This concept of bohemia isn't quite the one most people have in mind. It's got to do with the degree of fracturedness in a society and how that makes people live."

Hy beskryf die besef dat daar lewe na "aktivisme" is, as die belangrikste ontwikkeling in sy skryfloopbaan. "Dat die soort letterkunde wat iets 'anders' nodig het om teen in opstand te wees, nie die hoogste prestasie is nie. Ek het vervaard geskryf toe ek sewentien tot twintig jaar oud was en toe vir ’n ruk net opgehou. (…) Maar ek was altyd tog heimlik, hartstogtelik met woorde en idees besig." (Biografiese skets, 1997)

In 1995 word Charl-Pierre se eerste digbundel, Die nomadiese oomblik, by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. En onmiddellik trek hy die aandag. Die bundel word in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Die beoordelaars, Barend Toerien en Ronel de Goede (Vrydag, 23 Mei 1997), sê in hulle verslag dat die bundel ’n mens ruk met plesier en voldoening: "Hier is verse van ’n wye inslag en insig, fyn afgerond soos deur ’n bedrewe vakman, maar digter genoeg om tegnies sy gang te gaan as dit hom pas. Wat opval, is die wye verskeidenheid onderwerpe, toonaarde, stemme. (…) Die meesterskap van die sonnetvorm in al sy variasies beïndruk die leser deur die sekerheid van segging en siening daarin. Dit is gedigte wat ryk is aan swart humor en ironie. Verstegnies is Naudé ’n bedrewe skrywer; sy hantering van die rym is vlot en flink; sy beeldspraak verrassend. Naudé is deurgaans in beheer van sy gevoelens en weet presies wat en hoe hy sy sê wil sê. Vir ’n debuutbundel is dit amper te afgerond, te beheers, maar die man is glo oor die dertig en ryk aan lewenservaring, dus hoef sy rypheid ’n mens nie te verbaas nie. ’n Debuutstem soos hierdie het ons lank laas gehad."

Op Afrikaans Stereo sê George Weideman (23 Junie 1996) dat dit lekker is om ’n nuwe stem in die koor van digters te hoor – veral as daardie stem ’n heel eie kwaliteit het. "Meer nog so as daardie stem uitstyg bo ander. So ’n solostem behoort aan Charl-Pierre Naudé. Sy debuut, Die nomadiese oomblik, verras op baie maniere. Daar is die ryk verwysingsveld, die ineenvlegting van talle verbandhoudende én uiteenlopende motiewe. Dan is daar die besondere verbintenis tussen die vervlietende (selfs die tydgenootlike) en dit wat dúúr. (…) Dis loshande die sterkste debuut, tot sover in hierdie dekade, in Afrikaans." Barend Toerien beskou dit as ’n dik gerf pragtige, stimulerende, nadinkwaardige poësie. Die digter "speel met idees, so vernuftig, so boeiend, dat as jy met nadenke besluit dat die argumente, die abstraksies tog dikwels op niks uitloop, jy opgewonde is oor die nuwe insig, asook die knap uiteensetting."

Die surrealisme, meer as die magiese realisme, het sy liriese sy sterk beïnvloed en hy erken teenoor Jaco Botha op LitNet dat Breyten Breytenbach sy vroegste bepalende invloed was, wat hy toe later ingeruil het vir die invloede van Pablo Neruda, Cesar Vallejo en Jorges Luis Borges. Hy het alles gelees wat Uys Krige geskryf en "vertaal" het en vertel aan Bernard Odendaal (Tydskrif vir Letterkunde, Januarie 2008) dat sy poësie nooit eerste in Engels gebore kon gewees het nie. En dat Uys Krige dalk die rede daarvoor is. Vallejo het hom iets geleer van hoe "die verstand en die hart" kan saamdig. ’n Eietydse digter by wie hy aanklank vind, is die Hebreeuse digter Yehudah Amichai; en ’n ander Afrikaanse digter aan wie hy die naaste in terme van gees voel, is Eugène Marais met die klem op die hipnotiese, op die geheim as oopsluiter van moontlikhede.

Na ’n periode van amper tien jaar verskyn Charl-Pierre se tweede bundel, In die geheim van die dag, in 2004 by Protea Boekhuis. Hierdie bundel word in 2007 in Engels uitgegee onder die titel Against the light – ook by Protea Boekhuis. In die onderhoud met Jaco Botha (op OuLitNet) vertel hy dat hy hierdie manuskrip aan Tafelberg Uitgewers voorgelê het, maar dat die eerste voorlegging afgekeur is. "Tafelberg wou ’n tweede voorlegging hê, maar ek het gevoel die keurders projekteer verkeerd wat ek beoog. Vandag is ek bly dat die eerste weergawe afgekeur is, maar ek besef dat ek en daardie keurders in verskillende wêrelde skryf. Ondanks spanninge, nee, as gevolg daarvan, het ek net die hoogste agting vir Petra Müller. Sy is ’n wereldklas-digter en ’n naslaanbiblioteek vol geheime hoekies."

Hierdie bundel word in 2005 bekroon met die M-Net-prys vir ’n Afrikaanse Poësiebundel, sowel as met die eerste Protea-prys vir Poësie in dieselfde jaar.

Charl-Pierre het in die Karoo – in Nieu-Bethesda, om presies te wees – aan hierdie tweede bundel gewerk. Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 16 Junie 2001) dat die Karoo die sentrale metafoor is van die Suid-Afrikaanse identiteit. "Daar is iets aan die stilte, die uitgestrektheid en die verlatenheid wat resoneer in die psige van Suid-Afrikaners. Die Karoo bevredig jou drang om by iets essensieel uit te kom. Daar is ook iets magies en misterieus aan Nieu-Bethesda. Miskien het dit te doen daarmee dat dit in ’n ou uitgeholde seebed lê." Na drie en ’n halwe maande daar was hy egter reg om huis toe te gaan.

Op ’n vraag van Bernard Odendaal (Tydskrif vir Letterkunde, Januarie 2008) of hy moeilik skryf, gesien die lang verloop van tyd tussen sy eerste twee bundels, sê Charl-Pierre dat dit afhang van die soort werk. "Die gedigte in Geheim en Against the light is ’n moeilike soort. (…) Van die gedigte het ek periodiek oor ’n tydperk van vier jaar geskryf. (…) Maar die laaste twee bundels het my nie tien jaar geneem om te skryf nie. Ek was besig met ander materiaal ook – ’n filmteks, ’n roman, en ek hou voortdurend notaboeke met idees, onder meer vir twee kortverhaalbundels, alles onvoorgelê. Die eerste gedigte vir die bundel is geskryf net voor 2000, ’n paar in 2000, en die res tussen Januarie 2001 en Desember 2004. Die hele bundel is gelyktydig in Engels gekonsipieer."

Danie Marais (Rapport, 22 Mei 2005) skryf in sy resensie van In die geheim van die dag dat dit ’n ambisieuse verbeeldingstog deur ons vreemde, alledaagse werklikhede is. "In die hande van ’n onervare digter rafel vrye vers dikwels uit in vermoeiende pretensieuse inkantasies. Naudé vermy sulke slaggate. Sy lang verse word deur verhalende elemente tot ’n eenheid gebind. Binne ’n narratiewe raamwerk skep hy ruimte vir filosofiese mymerings sonder dat die gedigte halfpad verdwaal saam met ’n digter wat te lief is vir sy eie stem. [...] Dit is ’n literêre gebeurtenis om te vier – ’n komplekse maar toeganklike bundel wat hart en verstand laat tintel."

In Alfred Schaffer se resensie in Die Burger van 16 Mei 2005 skryf hy: "Gedigte wat elke poësieliefhebber op die boekrak behoort te hê, om oor en oor te lees, ook hardop. Dit is ’n bundel waarin met verwondering gekyk en beskryf word, altyd met deernis vir ons tekortkomings." "Naudé herdefinieer die begrip 'poësie'."

Bernard Odendaal (Volksblad, 27 Junie 2005) meen dat die dekade lange wag op Naudé se tweede bundel dubbel en dwars die moeite werd was. "Dis ’n merkwaardige, unieke werk wat leesgenot verskaf, maar ook poëtikaal en aanskoulik boei. En heel waarskynlik lánk sal boei."

Met die verskyning van Against the light verduidelik Charl-Pierre dat hierdie bundel nie vertalings is nie, maar eerder "omdigtings", want hy wil die ervaring van die Afrikaanse gedig in Engels aan die leser oordra. Hy vertel aan Marius Crous (Rapport, 8 Februarie 2008) dat wat hy as "direkte, eweredige korrelasie" bestempel, dikwels nie moontlik is in ’n ander taal nie. "Die volgorde van die gedigte in die Engelse bundel is ook nie dieselfde as in die Afrikaanse een nie. Die ou Afrikaanse volgorde skep blokkasies – ek wou juis ’n ander storie in Engels vertel."

Crous skryf verder: "Omdat Charl-Pierre se werk so ’n sterk verhaalelement bevat, dit ’n bepaalde digtheid veronderstel wat hom nie noodwendig deur die digter se geneigdheid tot beeldryke taal laat inperk nie. Dis dié dat hy gelyktydig in Afrikaans en Engels kan dig – oor en weer. Tog erken hy dat wat die verfyning van die klankaspekte betref, hy op net een taal op ’n slag fokus. (…) In my idee van gedigvertaling moet twee gedigte, wanneer hulle langs mekaar lê, ewe lank wees en dieselfde bladspieël hê. Maar volgens Naudé hoef dit nie so te wees nie. Die lengte van sy eie gedigte en die vertaalde weergawes verskil, maar dit is vir hom belangrik dat die Afrikaanse en Engelse weergawes onmiddellik in mekaar herkenbaar is – en hy wil tevrede voel met die grammatikale en selfs idiomatiese sinergie. Sulke vertalings is goed en nodig, want deur ’n teks te vertaal, word ’n internasionale gesprek tussen digters en tale aangeknoop."

Aan Bernard Odendaal (Volksblad, 6 November 2007) verduidelik Charl-Pierre die rede hoekom die Engelse Against the light eers in 2007 verskyn het: "Die eerste fase was oor en weer: Ek sou die Afrikaanse weergawe skryf, en onmiddellik daarna die Engelse; of die Engelse, en dan die Afrikaanse. Heeltemal op gut feel. In hierdie fase het dit gegaan oor die inhoudelike: die idee, die emosie, die drama. Tydens die tweede fase het die tale 'geskei'. Ek het eers volledig die Afrikaanse bundel tot stand gebring. Dis toe die metriese en klankaspekte voorop kom staan het, en dit kon beslis net in een taal op ’n slag gebeur. Toe, daarna, het ek die Engelse weergawes by die Afrikaanses aangepas, en volledig net in Engels gewerk om die Engelse produk te kan 'hoor', te kan 'voel'. By die verskyning van die Afrikaanse bundel was die Engelse een dus nog nie klaar nie."

In 1999 word Charl-Pierre deur Gerrit Komrij genooi om saam met vier ander Afrikaanse digters ’n toer deur Nederland en België te onderneem waartydens hulle van hulle gedigte voorlees. Vertalings van sy gedigte verskyn sedertdien in verskeie Nederlandse en Belgiese letterkundige tydskrifte. In 2000 was hy deel van die 31ste jaarlikse Poetry International-fees in Rotterdam, waartydens sy gedigte ook deel was van die vertaalprojek. Die Turkse digter en vertaler Ilyas Tunc het onlangs van Charl-Pierre se gedigte in ’n Turkse vertaling gepubliseer.

In 2008 word Charl-Pierre se volgende bundel, Sien jy die hemelliggame, gepubliseer. Dit is ’n klein versameling verse wat hy in 2007 tydens ’n verblyf in ’n kunssentrum in Vlissingen, Nederland, geskryf het. Twee van die verse, "Inisiasie" en "Die brand", het al in vorige bundels verskyn. Die bundel is deur die Centrum Beeldende Kunst Zeeland uitgegee in die Slibreeks. Die twaalf gedigte word vergesel van ’n Nederlandse vertaling. Die bundel bevat ook tekeninge en sifdrukke wat ontstaan het uit die uitwisselingsprojek E-POS tussen Belgiese en Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Louise Viljoen skryf in Die Burger van 15 Desember 2008 dat Naudé met die kombinasie van woord- en visuele kuns beweeg in die rigting van "dubbelkunstenaars" soos Breyten Breytenbach en Sheila Cussons, hoewel die visuele aspek by hom nog nie so sterk ontwikkel is nie. "In sy werk as resensent en polemikus blyk dit Naudé verwag van digters om grense te verlê. Die vernuwende en eksperimentele van sy eie werk lê in die wyse waarop hy die grense van begrip en samehang toets met sy verhalende en filosofiese gedigte wat gebind word deur sterk metafore, subtiele klankbindings en ’n liriese verbeelding. So bevat die bundel ’n prosateks, 'Demokrasie', wat ’n gedig word deur die wyse waarop metafore en klank gebruik word."

Charl-Pierre vertel self oor bogenoemde projek dat die E-POS 2-program tussen België en Suid-Afrika die interessantste "vertaal-ervaring" was waaraan hy nog deelgeneem het. "Twee beeldende kunstenaars en twee digters van elke land het saamgekom, mekaar met idees beïnvloed en mekaar vertaal, alles met die doel om ’n samebindende, samelopende kollektiewe produk te kry. Verskeie soorte 'vertaling' en komplekse kruisbestuiwing kom ter sprake – van een taal na ’n ander, van idees in ander idees in en van genre na genre. Drie tale was ter sprake: Afrikaans, Nederlands en Engels. Drie genres: konseptuele kuns, grafiese kuns en die poësie."

Bernard Odendaal (Volksblad, 21 Oktober 2008) skryf dat die bundel se hart steeds die gedigte is. "Hulle illustreer myns insiens veral drie van die uitstaande kenmerke van Naudé se besondere digwerk. Eerstens die vindingryke beeldingsvermoë, as verfynde werktuig om die skeidslyne tussen realiteit en droom- of verbeeldingswêreld – en byvoorbeeld tussen hede en verlede – te vervaag (tweede kenmerk). (…) As derde kenmerk wil ek Naudé se soms opvallende benutting van aanwysende woorde, aanspreekvorme en retoriese vrae en uitroepe noem. ’n Sekere dramatiserende en daardeur konkreet-verlewendigende effek is die gevolg, wat die sterk fantasie-element in (speelse) balans hou. Die speelsheid (en meermale humorvolheid) ten spyt, is daar feitlik deurgaans ’n bewustheid van hoe prekêr die mens se lewe en strewes is, hoe nietig in historiese en kosmiese terme – of dit nou in die politiek, die kuns of die liefde betref. Vandaar die bundeltitel as relativering van die doen en late wat in die bundel verwoord word."

In 2014 is Charl-Pierre op ’n jaar lange skrywersbeurs na Berlyn in Duitsland. Dit het deel uitgemaak van die Berliner Künstlerprogram van die Deutschen Akademischen Austauschedienst.

Ses jaar ná die publikasie van Sien jy die hemelliggame verskyn Al die lieflike dade in 2014 by Tafelberg-Uitgewers. Oor sy nuwe bundel vertel Naudé aan Deborah Steinmair (Die Burger, 18 Augustus 2014): "Sommige verse is liries, ander narratief, ander het ’n nadenkende en besinnende inslag. Laasgenoemde soort vers is baie algemeen in byvoorbeeld die moderne digters van Pole. Dis liriese gedigte waarin die private en die eie ervaring voorop staan, maar op dieper lae is dit ’n gesprek met die geskiedenis en die spiritualiteit.

"Die beeld het meer staanplek as in my vorige bundel, en in daardie opsig is hierdie bundel meer 'liries'. Die klankaspekte is meer op die voorgrond, maar steeds probeer ek ’n matter of fact 'onpoëtiese' toon handhaaf."

Wat vir Steinmair stom slaan van Naudé se vorige bundels was hoe hy daarin kon slaag dat die "saaklike, ondigterlike toon ’n hoë poëtiese akkoord" kon raakslaan. Vir haar goël hy "met konsepte en beelde, in taal varser as songedroogde wasgoed".

In Rapport (16 November 2014) is Gilbert Gibson die resensent. Hy verduidelik dat die titel ontleen is aan Montesquieu, die Franse filosoof, wat geskryf het:

"[Soms] beoordeel jy dade nie as goed of sleg nie maar as mooi;
nie as regverdig nie maar groots; en nie as redelik nie maar buitengewoon."

Gibson skryf verder: "Dit is ’n poësie van gebeurtenisse in stilte, uitdagend, in plek. Naudé werk in die tegniese apparaat en ritmiese instink van ’n inheemse digter, sy gewig dié van historiese en literêre verwysing wat in die omvang van poëtiese filosofie hom onderskei.

"Die basis van alle poësie, sê Aristoteles, is metafoor. Hierdie gedigte herinner oor en weer aan ’n metafoor buite die gedig, geïsoleer van elke beeld. En anders as in ander digters se werk staan hierdie metafoor búite die gedig as simbool vir die leser se private druk van sterftes, verliese, mislukking, verraad – die hele konglomeraat van menswees wat oor begeerte en misplaaste hoop waak.

"Die gedigte hou koers deur die persoonlike verlede, die visioenêre oog, die afgodediens van taal, die slimmige liriek. Hierdie bundel is ’n filosofiese ondersoek in die tema van modernisering en geheue wat spoor nie net deur die woorde in die gedigte nie, maar ook deur die manier hoe Naudé die metafoor buite sy gedigte bou en behou. (…)

"Dit is asof daar ’n klem of ’n aandag kom wat nie net op abstrakte waarhede fokus nie, maar subtiel ook op bestaande werklikheid, die hier en nou. In Naudé se gedigte vind die kilheid van hierdie gegewe dikwels uitdrukking in ’n selfverband, ’n byna paniekbevange behoefte aan insig. So asof enige afwyking van hierdie gegewe nie net die bundel nie, maar ook die leser en die skrywer in vlamme sal laat opgaan. Dit is die drama van Al die lieflike dade. (…)

"In Naudé se gedigte word die oomblik van staar ’n outentieke poëtiese geleentheid wat die leser in staat stel om binne-in die gedig ’n flits van verligting (wat Gerard Manley Hopkins 'inscape' noem) te ervaar. Die gedig lei dan die leser om die problematiese aard van sy eie modus van bestaan te bevraagteken.

"Om hierdie rede word Charl-Pierre Naudé gevestig as die filosofiese digter in Afrikaans, waar nie net woorde nie, maar ook die idees weerklink net soos die hare op jou vel regop staan voor die aankoms van ’n elektriese storm: die geweegde woord, om te praat ten volle."

Jannie Malan skryf in Beeld (6 Oktober 2014) dat die lees van die bundel aan hom die gevoel gegee het dat hy deur die gange van ’n museum loop waar "gestilde gebeure deur ’n onsigbare digter-kurator uitgebeeld word en jy net so naby kan beweeg as wat die glas jou toelaat. Die taferele wat aan jou voorgehou word, meestal met ’n besinnende inslag, dwing jou om – soms teen jou sin – stil te staan en die toneel gade te slaan.

"In Al die lieflike dade pleeg Naudé moontlik juis dit: Gedigdade wat op ’n gegewe oomblik nóg goed, nóg sleg is, maar wat ongetwyfeld 'lieflik' is."

Vir Louise Viljoen (LitNet) daag Al die lieflike dade die leser van die Afrikaanse digkuns uit "met sy omvang, kompleksiteit, beeldkrag en unieke poëtiese segging. Dit vra om ’n toegewyde lees, maar diegene wat volhard sal in alle opsigte beloon word."

In 2018 word Charl-Pierre se eerste roman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, by Tafelberg uitgegee, en in 2019 word dit met die UJ-prys, die Jan Rabie-Rapport-prys en die Sala-toekenning bekroon. Dit was ook op die kortlys vir die WA Hofmeyr-prys vir 2019.

Die paneel beoordelaars skryf as volg oor Dirkie Verwey: "Op ’n uiters vernuftige wyse ondermyn hy die hele konsep van chronologie. Aangesien drome in die roman as werklike wesens aangebied word, speel Naudé met die idee dat hierdie lewe ook net ’n droom kan wees. Hy bied swyes as geskiedskrywing aan. Hy daag die aard van menslike bestaan uit deur die moontlikheid te ondersoek dat ons gelyktydig op verskeie plekke in verskillende tye kan bestaan" (Beeld, 11 April 2019).

Ná die ontvangs van die UJ-Prys het Charl-Pierre Naudé as volg gereageer (Volksblad, 8 Mei 2109): "Dit is vir my ’n eer om hierdie prys vir my eerste roman te ontvang, juis omdat die UJ-prys sinoniem is met die idee van ’n werk wat miskien die potensiaal het om te verras. En dit was nog altyd vir my ’n belangrike beginsel. (…)

"Ek het die boek met die ewewêreld as leitmotief geskryf. Dit is omdat die idee my juis eerstens as metafoor aangryp. Omdat ek aan min scenario's kan dink wat in ’n neutedop meer aan die verwikkeldheid en veelvoudige aard van Suid-Afrika se landskap herinner. Fiksie is dikwels ’n vorm van feitelikheid, nie die teenoorgestelde vorm daarvan nie.

"Uiteindelik is ek meer geïnteresseerd in die implikasies van die ewewêrelde as in hierdie ondermaanse soos wat dit dag vir dag in ons manifesteer – dat elke mens in hom- of haarself baie mense ronddra.

"Nadat ek die storie geskryf het, dink ek weet ek minder van die wêreld, maar het ek tog meer daarvan gesien. En het ek minder oortuigings, maar glo ek in meer moontlikhede, want fiksie is werklikheid. Só leer die ewewêrelde ons. As iets voorstelbaar is, bestaan dit. Iewers deur die wiel van die tyd."

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey begin in 1973 in die dorpie Lyksovlakte. Die koster kom een nag op die kerkbanke op twee jongmense, Dirkie Verwey en Anna Bandjies, af. Die polisie word ingeroep, maar die twee jongmense word beide in hul ouerhuise aan die slaap gevind – hoe hulle daar gekom het, weet niemand nie. Daar was selfs ’n foto wat bewys kon lewer dat hulle terselfdertyd in die kerk was. Later verskyn ’n motel op ’n afgeleë stuk grond en weer weet niemand waar dit vandaan gekom het nie.

Naudé vertel aan AJ Opperman (Die Burger, 8 Januarie 2019) meer oor die verhaal en roman wat hy "ontdek" het: "Ek wil juis daardie dubbelvisie hê dat dit ’n fiksie is, miskien nie. Die karakter Hermanus Verdomp het ’n bepaalde stem en styl. Hy word die stem van die storie. My gevoel is dat die leser die heeltyd moet dink, maar kan dit waar wees? Of nee, dit is waarskynlik fiksie. Dis wat ek wil hê die leser moet ervaar.

"Dit was my reaksie toe ek die heel eerste keer hierdie tegniek teëgekom het – in ’n ander boek. Dit is al gebruik, maar ’n mens moet natuurlik die gebruik van die tegniek in elke boek op sy eie beoordeel."

Dirkie Verwey het ’n lang aanloop gehad voordat dit gepubliseer is. Naudé het die eerste weergawe in 2011 begin skryf. "Dit het so 11 maande geneem," vertel hy aan Opperman. "Ek het toe ’n derde daarvan gesny en ’n ander derde bygeskryf. Die res van die ses jaar het ek gebruik om die regte struktuur daarvoor te kry."

Dit is ook aanvanklik voorgelê vir ’n M-graad aan die Universiteit van die Vrystaat met die Vrystaatse dosent en skrywer Francois Smith as sy studieleier. Kerneels Breytenbach het die "komplekse" (soos Naudé dit self beskryf) roman reeds in 2012 vir publikasie aanvaar.

Aan AJ Opperman vertel Naudé verder oor hierdie "dikke" boek met baie karakters: "Hulle speel almal teen mekaar af," sê hy. "So dit is eintlik almal een karakter op ’n manier. Al die Annas byvoorbeeld. Alle moontlikhede. Dis nie ’n storie wat op die gewone manier lynreg is nie.

"Kerneels (Breytenbach) was mal oor die idee van ewe-lewens, wat Hermanus se nuutskepping is vir parallel lives, wat eintlik die karakter Maria se woord is.

"Daar is breedweg twee stories in die boek. ’n Liefdesverhaal – tussen Maria en Dirkie. En die ander is van Hermanus en Anna. Maar die hele storie wil vir my metafories wees van aspekte van die apartheidsbestaan.

"’n Plek wat so werklik was as jy daarin grootgeword het en wat glad nie meer bestaan nie. Oukei, mense sal sê daar is baie aspekte wat nog bestaan. Maar op ’n baie interessante manier was dit ’n totaal ander planeet."

Charl beskryf Dirkie Verwey as ’n "boek van inspirasie": "’n Mens kry die indruk dat die hele boek vir Hermanus ’n verbeeldingsvlug was. Die idee het my absoluut geïnspireer. En ek hoop dit kan so gelees word. Die idee van ewe-lewens en om metafore te vind vir lewens wat anders is, maar ook dieselfde. Die ewe-lewens is ’n spektrum. Dis soos om in ’n spieël te kyk waarin daar eindelose afbeeldings is van die lewens wat jy kon gelei het."

Naomi Meyer (LitNet) wou by Naudé weet hoe hierdie storie by hom "beland" het. Só verduidelik hy: "Soos my Vorwoord dit stel, is die manuskrip aan my aangestuur deur ’n vriendin van die skrywer. Haar naam is Rentia Melck. Die Voorwoord suggereer dat die skrywer, Hermanus Verdomp, die gebeure eerstehands amper vyftig jaar gelede as joernalis ervaar het. Die Voorwoord sê verder dat die roman onder my naam, die naam van die annoteerder, gepubliseer word omdat Verdomp niks meer met sy manuskrip te doen wil hê nie. Skerpsinnige ingeligte lesers sal dié inligting miskien as ’n literêre blufspel eien, as iets wat die oogmerk het om die waarheidsgevoel van die gerapporteerde gebeure by die leser te verhoog, en ek gaan hulle nie weerspreek óf in hul kwaad sterk nie. Ander lesers sal my Voorwoord op sy letterlike woord neem. En waarom nie? Soms is daar meer as een vertolking van ’n situasie, van ’n geskiedenis, wat ewe waar kan wees. En dit geld hierdie boek ook. Die hooftema, ewewêrelde, begin reeds hier, by die opset en samestelling van die boek."

Naudé verduidelik verder aan Meyer waaroor Dirkie Verwey werklik gaan: "[D]ie onwaarskynlike gebeurtenis wanneer die moontlikhede naas die aanvaarde werklikheid as alternatiewe werklikhede sigbaar begin word, en selfs by hulle oorneem. In die storie is daar meestal ʼn verband tussen ʼn bepaalde werklikheid en sy alternatief wat realiseer. Gewoonlik gebeur dit as ʼn soort foltering omdat dit dikwels ʼn verband is wat eerder versweë moes gebly het." 

Op LitNet begin Marni Bonthuys haar resensie van die boek só: "Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is dié bekende digter se eerste roman. Dit word in die voorwoord aangebied as die manuskrip van ’n 'amateurskrywer', Hermanus Verdomp, wat een van die hoofkarakters en die vernaamste verteller in die roman is. Die verteltegniek is ongewoon, aangesien Verdomp duidelik die storie aan die leser vertel soos hy dit meegemaak het (in die voorwoord word dit ’n 'dokumentêre roman' genoem), maar soms ander karakters se stemme/perspektiewe verbeel om gebeure wat hy tweedehands gehoor het, aan die leser oor te dra. As leser is jy dus deurgaans bewus van die feit dat jy ’n oorvertelde verhaal lees – via die 'C-PN' (’n verwysing na Naudé?) wat oënskynlik die voorwoord, nawoord en verskeie voetnote skryf; Verdomp, die eensame oujongkêrel-joernalis; en/of een van die talle mense met wie Verdomp onderhoude gevoer het om die groter verhaal aanmekaar te stik. Soos dit maar met oorvertelde stories gaan, veral oorvertelde stories op ’n klein dorpie soos die (fiktiewe) Lyksovlakte, weet die leser dus instinktief dat ons hier moontlik met net soveel stertjies as stories te make gaan hê. Verdomp (wie se naam assosiasies oproep met woorde soos 'verdamp' en 'verdomde' – sy karakterisering deur die loop van die verhaal maak wel hierdie assosiasies helder) kom ook uit die verf as ’n man wat nie altyd die mees neutrale waarnemer is nie. Boonop speel die roman af tydens die hoogty van apartheid, waar veiligheidspolisiemanne enige geluide (in een geval, letterlik) kan uitluister wat die staat in ’n slegte lig stel. Rekords en bewyse word dan ook telkens in die roman verwoes om mense en geheime te beskerm. Die leser maak dus die afleiding dat die sprekers 'die waarheid' nie sommer so kan oordra nie, maar as vervlegte stories vertel om hulleself te beskerm. Die duidelike impak wat die trauma van intimidasie op die betrokkenes het, veroorsaak natuurlik verder dat die leser nie altyd oortuig is aangaande die akkuraatheid van die verhale wat Verdomp opteken nie.

"Dié metaroman (oftewel: ’n roman-binne-’n-roman waarin die skryfproses sentraal staan) speel met verskillende genres – wetenskapfiksie (reeds in die voorwoord lees ons dat die verhaal oor 'ewelewens' of 'doppelgängers' gaan waar 'identiese weergawes van sommige mense gelyktydig in dieselfde omgewing gesien is'), die plaasroman of selfs die kontreiverhaal (die plattelandse milieu waar dit afspeel, staan sentraal in die storie), die liefdesverhaal (eintlik liefdesverhale), psigologiese roman (diegene wat bekend is met die psigoanalise sal gou agterkom dat die roman wemel van die argetipes, simbole en drome; asook ’n paar psigiaters), en les bes, as magies-realistiese verhaal (’n soort verhaal waar die bonatuurlike of magiese naatloos met die reële vervleg word)."

Bonthuys sluit af: "Hoewel die digterlike kwaliteit van die roman ’n sterkpunt is, bring dit mee dat dit stadiger lees en die teks redelik dig is. Ek het egter gevind dat dit juis ’n roman is wat nie oor ’n lang periode in veelvuldige sarsies gelees moet word nie, maar in enkele sittings. Daar is gewoon te veel besonderhede, asook te veel karakters en verwysings wat veroorsaak dat mens maklik die draad kan verloor. Hierdie faset skakel dan ook met my enigste werklike punt van kritiek: die roman kon sterker gewees het met die nodige redigering. Sekere tonele dra nie genoeg tot die verhaallyn of atmosfeer by om die bestaan daarvan te regverdig nie. Ander beklemtoon weer ’n waarheid/tema/idee wat reeds goed gekommunikeer is. Die roman is ryk en kompleks. Van hierdie toevoegings raak oorbodige vet wat eerder afgesny kon gewees het.

"Ten slotte is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ’n fassinerende roman. Een wat lesers om verskeie redes sal bybly lank ná hulle dit gelees het."

In nog ’n resensie skryf Willie Burger in Beeld van 19 November 2018 dat die leser in hierdie boek te staan kom voor baie verbeeldingryke konfrontasies, "soos die 'mis-voor-die-son-hoed' wat in ’n yskas bewaar moet word omdat die mis waaruit dit gemaak is teen hoë temperature kan verdwyn. Enige vrou wat hierdie hoed opsit, ongeag hoe sy lyk, word onweerstaanbaar vir mans."

Burger skryf verder dat Naudé se bekroonde digbundels by die leser die verwagting kan skep dat ook sy debuut as romanskrywer ’n toonbeeld sal wees van sy tegniese vernuf en eksperimentering en dat die filosofiese onderbou van die roman sterk sal wees.

"Dalk verwag mens ook buitengewone metafore, treffende beelde, en Naudé se kenmerkende sin vir ironie en humor," skryf Burger verder.

Vir hom kan die leser al hierdie dinge en nog meer in Dirkie Verwey vind. "Die lywige roman (470 bladsye) vermaak en boei met ’n sterk spanningslyn asook die betowering van ’n soort magiese realisme wat mens wil-wil herinner aan Murakami. Dit beteken egter nie dat dit sonder meer ’n maklike roman is om te lees nie. (…)

"In die roman word die idee van parallelle lewens, van 'ewewêrelde', op verskillende maniere ondersoek. (…) Aan die een kant is die parallelle wêrelde ’n metafoor vir die parallelle lewens, die aparte wêrelde, wat mens van verskillende rasse tydens apartheid ervaar het. Maar die ewewêrelde bied ook meer.

"Dit maak die ondersoek na die aard van fiksie moontlik. Fiksie behels immers die skep van alternatiewe wêrelde, en soos die kruiedokter, Oom Willempie, aan Verdomp verduidelik: 'Die wêreld bestaat oorlat die mense hom so dink.' Hy verduidelik dat dinge tot bestaan gedink word, en dat dit ook weer weggedink kan word. Dit is asof mense net kan sien wat hulle glo.

"Ewewêrelde hef grense op. Die wêrelde sluit mekaar uit, is teenstrydig, maar oorvleuel terselfdertyd op ’n tipiese postmodernistiese wyse. Sodoende word die aard van ons eie wêreld, ons kennis oor die wêreld ondersoek. (…)

"Onbetroubare vertellers onthuts die leser. Hulle maak vaste kennis onmoontlik. Een van die polisiemanne word as '’n man van enkel emosie' beskryf. Enkel emosies en enkel verklarings vir wat 'regtig' gebeur het, word ten spyte van C-P Naudé se 'verhelderende' aantekeninge, nie verduur nie.

"Die klem val op verskillende weergawes van ’n onkenbare werklikheid en die leser se onskuldige geloof in ’n vaste greep op die wêreld, word ondermyn."

Jean Meiring (Rapport, 4 November 2018) is eweneens beïndruk met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Hy skryf dat die skrywer aan die een kant die sentrale tema ("van als wat elders afgespieël word") gebruik om aan te toon hoe absurd apartheid was, asook die nasleep daarvan: "Eweneens, die stommiteit van ’n outoritêre lewensuitkyk wat geloofs- en kennisstelsels ongetoets ervaar.

"Derhalwe skuif hierdie boek stilletjies by Mark Behr se Die reuk van appels (1993) in gelid en by die linie niefiksietekste wat onlangs die lig begin sien het wat die derms van die dekades 70 en 80 van die vorige eeu in die son blootlê.

"Ook is dit natuurlik ’n speurverhaal wat die loep skerp oor die konsepte van verantwoordelikheid en aandadigheid plaas. Die dubbelsinnigheid in die titel – is Dirkie se gewaande onskuld ooit globaar? – suggereer dit natuurlik reeds.

"Dan is dit ook ’n spookstorie én ’n teer liefdesverhaal én ’n boek oor stories – die mens se oeroue behoefte aan die metamorfose wat stories in die hand kan werk. Maar bowe als is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ’n knallend vermaaklike en slim boek. Dikkedensie wat sy is, lees sy soos ’n uitasem-sjoebroekie."

Naomi Meyer wil by Naudé weet of en hoe die boek sy lewe verander het: "Naomi, ek dink so, ja. Die boek was vir my soos om deur ’n sleutelgat te kyk na ʼn ander wêreld. Die mense wat ek so afgeloer het, ek bedank hulle uit die diepte van my hart: Anna, Hermanus, Dirkie, Maria en die ander. Dit was bevrydend vir my om my 'self', daardie selfingenome trapkar van die digkuns, agter te laat en ánder lewens te beskou. Ek dink die boek het my gehelp om te groei."

Charl-Pierre vertel aan Willemien Marais (Volksblad, 9 Februarie 2006): "Ek hou in die eerste plek van lewe. Om te sit en filosofeer en argumenteer met goeie vriende is wonderlik. Daarna lees ek graag – prosa, poësie – en kyk af en toe ’n rolprent. Wat prosa betref, hou ek byvoorbeeld van Yann Martel. Ek hou van Breyten se poësie." En in sy agterkop dryf idees vir ’n meestersgraad in filosofie. Hy wil graag werk oor die gedigte van die Duitse digter Paul Celan. "Helaas, poësie en musiek, al is dit naby mekaar, kan nie gelyktydig aandag kry nie. Dus skryf ek in relatiewe stilte. Dis oor die metrum. ’n Mens moet ’n gedig in jou binne-oor kan hoor terwyl jy skryf of hom lees. Musiek meng in daarmee."

Charl het ’n laai vol notaboekies in sy studeerkamer, vertel AJ Opperman. Die boekies is vol idees wat hy met die hand geskryf het: "Dit is idees waarvan die meeste nooit gebruik is nie. Die hele ding van ’n notaboek … dit help jou om die idees te vorm," brei Naudé uit.

"Ek skryf nooit met die hand nie. Op skool, ja. Maar my hand het altyd vreeslik seer geraak. Van daardie jare – ek het nog steeds hierdie eelte wat my nooit verlaat nie. So selfs met gedigte sal ek ook allerlei komposisies op die rekenaar self probeer."

Publikasies

Publikasie

Die nomadiese oomblik

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624034127 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 1997

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die geheim van die dag

Publikasiedatum

2004

ISBN

1869190866 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • M-Net-prys vir Afrikaanse Poësiebundel 2005
  • Protea-prys vir Poësie 2005

Vertalings

Sien volgende publikasie

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Against the light

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191849 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sien jy die hemelliggame

Publikasiedatum

2008

ISBN

9789063541279 (sb)

Uitgewer

Middelburg (Nederland): CBK Zeeland

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Al die lieflike dade

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624069386 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Sala-prys
  • Kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir poësie 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084341 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Wenner 2019 UJ-prys
  • Sala-toekenning 2019 vir Afrikaanse roman
  • Jan Rabie-Rapport-prys 2019
  • Kortlys vir WA Hofmeyr-prys 2019

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Charl-Pierre Naudé as samesteller

’n Keuse van artikels en gedigte van Charl-Pierre Naudé op die internet beskikbaar

* Lesers moet asseblief daarop let dat weergawes van gedigte wat op die internet verskyn soms nié die korrekte weergawes is nie, veral as dit voor die publikasiedatum van die bundel op die internet geplaas is. 

Artikels oor Charl-Pierre Naudé beskikbaar op die internet

Charl-Pierre Naudé se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-06-02 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

The post Charl-Pierre Naudé (1958–) appeared first on LitNet.


Kerneels Breytenbach (1952–)

$
0
0
kerneelsbreytenbach280
Foto © Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Cornelis Tobias (Kerneels) Breytenbach is op 13 April 1952 in Emmarentia, Johannesburg gebore – die oudste kind van die gesin met een jonger suster, Elsebe. Sy pa, Braam, soms ook bekend as Breyt, was ’n skoolinspekteur in die ou Transvaal nadat hy die gebruiklike pad van onderwyser tot skoolhoof, ensovoorts gevolg het. Hy het op die plaas Leliefontein tussen Carolina en Belfast grootgeword en was lid van die Breytenbach-tak wat van Swellendam via Humansdorp na die Transvaal getrek het.

Kerneels se ma was ’n nooi Schumann – haar pa was PWS Schumann, dramaturg van Hantie kom huis toe en Katrina, en op sy dag hoof van die Hoërskool Monument. Kerneels se ma was ook in die onderwys, onderwyseres aan die Hoërskool JG Strijdom en Suidheuwels (die omstreke waar die sepie Agter elke man afgespeel het).

"In my eerste vier lewensjare het my oupa Schumann nog by ons ingewoon ná die afsterwe van my ouma. My pa-hulle het in die nadraai van die oorlog vier groot erwe in New Redruth, Alberton gekoop, waarvan drie gebruik is vir vrugtebome. Dit was ’n klein paradys, en tussen dié boorde het ek gespeel. Sulke donker, vrugbare hoëveldse grond." (Aan LitNet)

Kerneels vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Februarie 2009): "(Daar was) altyd druiwe, altyd vye, appelkose ... hy het selfs mielies gegroei, aarbeie en dan nog groot hoenderhokke ook aan die een kant. Dit was eintlik ... dit was vreeslike idilliese, paradyslike kinderjare. Maar toe het dit te veel vir hom geword en hy het die plek verkoop. Ons het net een van die erwe gehou."

Aan LitNet: "My oupa het in daardie jare homself besig gehou deur vir Nasionale Boekhandel boeke by skole te bemark. Ek het by hom in sy kamer met die groot boekrakke geboer – daar was altyd boeke. Hy het my verbeelding oopgemaak met die stories wat hy vertel het uit die ou klassieke (hy is een van die geslag wat nog Plato se Republiek in Grieks gelees het), en met die geïllustreerde kinderboeke van Nasionale Boekhandel en die ou JL van Schaik. Een wat ek spesifiek onthou, is ’n Duitse uitgawe van Heinrich Hoffmann se Der Struwwelpeter. Hy het dit nog saamgebring uit Duitsland waar hy kortliks voor die oorlog met nagraadse studies besig was voordat die rassehaat hom laat terugvlug het. My ma het speurverhale verslind, en ek het my eerste JT Edson-boek by my pa geleen."

Kerneels woon die Laerskool Generaal Alberts by en voltooi sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Alberton in 1969. "Ons hoërskool was in daardie jare een van die Transvaal se top-presteerders en het puik onderwysers gelok. Die twee wat die grootste invloed op my gehad het, was Mafie Geyser, die Engelse onderwyseres (wat nogal ’n besielende soort mens was) en Johann (Tjol) van der Westhuizen, die wiskunde-onderwyser – ’n ongelooflike mens, en tragies vroeg oorlede. Ons klas was daardie jaar in die eindeksamen gemiddeld 10% bo die Transvaal-gemiddeld."

Van Kerneels se herinneringe uit sy kinderjare is dié van New Redruth Fish & Chips wat net om die draai van die Laerskool Generaal Alberts was. "Dáár het my pa elke Saterdagmiddag vir ons vis en tjips gaan koop. Saterdagmiddag was vir my die kulinêre hoogtepunt van die week. Dit was die voorspel tot die aand se inry-bioskoop, en ek en my suster het baklei vir die leeue-aandeel van die tjips.

"Teen die tyd wat ek besig was met katkisasie, was ek al heeltemal verslaaf aan tjips. Ek het tydens die diens gemaak of ek my kollektegeld ingooi, en ná die katkisasieklas saam met ’n paar mede-katkisante op pad huis toe ons kollektegeld gebruik om ’n pakkie slaptjips met asyn te koop. Dit het maande lank aangegaan totdat ’n Van Rooyen-outjie ’n gaatjie onder in sy sakkie ontwikkel het en sy asyn met ’n boog oor my Sondagpak uitgespuit het. Sedertdien kan ek asyn slegs oor my lippe kry as dit hewig gemaskeer is."

Hy beskryf sy ouers as uiteenlopende mense. "[M]y pa was joviaal en ontsettend lief vir die jongste skinnernuus. Sy skolekring was die Suid- en Oos-Transvaal, en ek het altyd die indruk gehad dat hy feitlik almal ken en weet watse kattekwaad hulle aanvang. My ma weer sou niks leliks van enigiemand sê nie, het glad nie geskinder nie, maar kon haar verkneukel aan my pa se stories. Wat my ouers wel spesiaal gemaak het, was dat hulle kinders as gelykes benader het – nooit neergepraat op jou nie."

Kerneels se oupa se boeke het hom, nog voor hy kon skryf, laat besluit hy wil ’n skrywer word, en teen die tyd dat hy ’n tiener was, het hy al begin boeke koop met sy sakgeld. "Ek het nou nog die oorspronklike stel Fritz Deelmans en wens ek het vasgeklou aan my ou Swart Luiperd-, Trompie- en Keurboslaan-boeke!"

Sy eerste stuk skryfwerk was ’n Bybelse drama, Die sterre sal buig, wat in 1969 deur hulle matriekklas van Hoërskool Alberton op die planke gebring is, vertel hy op LitNet aan Lien Botha. "Gelukkig moes ’n klomp klasmaats my bystaan met die redigering, anders sou dit nooit op die planke gekom het nie. Wat wel lekker was, was dat my oupa die eerste opvoering kon bywoon."

Oor die oorsprong van sy liefde vir musiek vertel Kerneels: "Musiek is ’n ander storie. My ma het ’n musiekgraad op Stellenbosch verwerf, en het Engels op skool gegee en musiek tuis aan privaatstudente. Daar was altyd musiek in die huis. Fritz Potgieter, een van my pa se vriende, het my eerste plate as geskenke aan my gegee toe ek vier was: Harry Belafonte se 'Banana Boat Song' en Chris Blignault se 'Bosveld Bul' (met 'Kom dans nou saam op die Nuwe Jaar' aan die ander kant). Ek het nie voor my ouers na LM-radio geluister nie, maar by die bure. Só het ek versot geraak op Elvis, die Beatles, die Stones en veral die Beach Boys. Ek het eers laat in die laerskool voor my ouers na rock geluister, en was verbaas toe my ma ook van die melodieë hou."

Verdere studie en werk

In 1970 is Kerneels weermag toe – na Geneeskundige Dienste te Voortrekkerhoogte. Hy vertel dat die kamp oorvol was en dat die weermag redes gesoek het om mense medies ongeskik te verklaar. "Ek is glad nie lief vir militêre dinge nie, en hulle het met my saamgestem dat ’n letsel wat ek met ’n sonsverduistering opgedoen het, my baie ernstig kortwiek. Hulle het ook mense met asma en plat voete vrygestel. Toe moes ek blitsvinnig ’n besluit neem. My neef, Peter Schumann, het in Bloemfontein ingeskryf om te gaan leer vir argitek. Ek dag ek sou sy voorbeeld volg, maar die enigste universiteit waar daar nog plek was, was Natal s’n in Durban. Binne twee maande het dit tot my deurgedring dat ek op pad na groot ellende was (Fisika het gelol), en het ek stert tussen die bene huis toe gevlug." (aan LitNet)

Hy het die res van die jaar as kassier by Volkskas gewerk en genoeg tyd gehad om te kon insien wat hy met sy lewe wou doen. In 1971 is hy na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom vir ’n BA-graad ingeskryf het. In 1975 verwerf hy sy MA-graad met die verhandeling "Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde" onder DJ Opperman. Die besluit om aan die US te gaan studeer was ’n voortsetting van ’n tradisie: sy ma se mense, die Schumanns, is ’n ou Bolandse familie met diep verbintenisse met Stellenbosch en met die universiteit.

Kerneels was die laaste student wat ’n MA by DJ Opperman gekry het voor sy koma; ná Opperman se herstel, toe Kerneels reeds by Die Burger was, het ’n ander soort vriendskapsband tussen hulle ontwikkel. Opperman was aanvanklik vir hom ’n groot enigma. "Hy was nie naastenby so aangrypend agter die podium as WEG Louw nie, maar tog het hy, waarskynlik danksy sy status as digter en boheem, daarin geslaag om mens deeglik te toets en te besiel. Ek was wel deeglik daarvan bewus dat Opperman ná die koma ’n heeltemal ander mens as daarvoor was. Voor die koma was hy kamerasku, daarna was hy die een wat versoek het dat ons ’n foto moes kom neem van hom terwyl hy herstel. Die foto het nogal opspraak verwek, maar hy was tevrede daarmee. Opperman het my beïnvloed om die letterkunde op ’n sekere manier te benader, maar sy invloed was nie naastenby so groot op my soos dié van JJ Degenaar nie." (LitNet)

In Junie 1977 is Kerneels met Carien Hoffman getroud. Hy het op universiteit met haar suster Jalna uitgegaan, maar sy was lankal vergete toe hy Carien weer sien. Carien was lank grafiese kunstenaar en het ook juwele gemaak en is ’n baie goeie fotograaf. Hulle het twee kinders, Jana en Braam. Jana aard meer na Kerneels as na Carien en het dieselfde humorsin as haar pa. Sy sien humor in die vreemdste situasies. Jana is tans verslaggewer by Die Burger. Braam was as kind meer sagmoedig en, soos sy ma, kan hy dit nie verduur dat ’n probleem onopgelos bly nie.

Carien is in Maart 2016 aan mondkanker oorlede. Kerneels het aan Marelize Barnard van Die Burger (Die Burger, 28 Maart 2016) gesê dat Carien ’n droomvrou was, baie belese met ’n baie lewendige belangstelling in die kunste.

Na universiteit begin Kerneels werk as joernalis by Beeld in Johannesburg se kunsredaksie waar George Boshoff die redakteur was en Johan Bruwer, Thys Odendaal, Annelize van Rooyen en Cas van Rensburg sy kollegas. In September 1976 begin hy by Die Burger werk. Met Victor Holloway (Kerneels beskryf hom as sy groot mentor) se afsterwe in 1983 is hy aangestel as kunsredakteur. Hy vertel aan Jaco Botha op LitNet die feit dat sy selfvertroue ’n hupstoot gekry het toe hy Holloway se opvolger geword het. Dit was vir hom een van die hoogtepunte van die eerste deel van sy loopbaan.

In ’n onderhoud met Suzette Truter (Sarie, 19 November 1997) beskryf Kerneels die koerantwerk, veral die soort by die kunsredaksie, as "ongelooflik stimulerend". "Ek het die geluk aan my kant gehad, want ek hou van nuwe dinge en by Die Burger het die lewe presies dit gebied: elke dag iets nuuts."

Onderhoude waarvan Kerneels gehou het, al het dit nie altyd goeie kopie opgelewer nie, was dié met Dollar Brand (voordat hy Abdullah Ibrahim geword het), Wilma Stockenström, Ross Devenish, Goldie Hawn (in haar hotelsuite in die ou Landdros-hotel, waartydens haar bedgenoot skielik die kamer binnegeloop het – "Ek sal liewer nie sê wie nie"), Dennis Wilson van die Beach Boys, Milos Forman, David Brown, David Kramer, Pieter Fourie, Hennie Aucamp, Chris Rea ("Ons het heeltyd gesels oor ons babas"), Jan Scholtz en Con de Villiers.

Suzette Truter skryf verder: "Tydens sy jare as joernalis kon jy Kerneels se onvergelykbare skryfstyl altyd uitken aan sy ewe onvergelykbare humorsin. Hy was ook vir baie mense sinoniem met musiek. Hy het immers ’n hele generasie se musieksmaak beïnvloed met sy jare lange musiekrubrieke op die kunsblad ("Byklanke") en in Huisgenoot."

En sy eintlike passie in die lewe ís musiek: "By Koos (Prinsloo) het ek leer luister na Arvo Pärt en Chett Baker, die trompetblaser wat ook gesing het. Koos het van sy plate gehad waar hy sing in so ’n desolate stem. Dit was fantastiese musiek. Vir my was dit altyd ’n plesier om by Koos te gaan kuier, want hy het hierdie fantastiese musiek gehad," vertel Kerneels aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Februarie 2009).

Sy resensies oor daardie tyd se popmusiek het hy aanvanklik met oorgawe geskryf, en later alleen uit genade; in 1993 het hy egter opgehou, omdat hy besef het hy is te oud. "Jy kom agter jy kan nie meer soos ’n tiener dink nie en jy verstaan nou wat jou plek in die kosmos is. Die boekewêreld het ál meer aandag geverg; ek het nie meer tyd (gehad) om te analiseer hoekom Acid House meriete (gehad) het nie."

Daar was baie hoogtepunte in die jare waartydens hy "Byklanke" behartig het, vertel Kerneels aan Emile Joubert (Die Burger, 7 Mei 1993). "Daar’s verskillende soorte hoogtepunte. Soos die brief van 'Heavy Metal Freaks' in Kroonstad wat my met die dood gedreig het as ek nie my mening oor Def Leppard en Judas Priest verander nie. Dan was daar Bles Bridges wat verseg het om te glo dat ek ’n suster het en dat sy dol is op sy musiek. Of die dag toe Cora Marie in Die Burger se kunskantoor ingestap het en daarop aangedring het om my ’n soen toe te dien. Of my heel eerste jazz-resensie vir Die Burger, in September 1976, van ’n Dollar Brand-konsert, en hoe sy warme reaksie daarop baie dinge vir my verander het."

Voorvalle wat hy wil vergeet, is albei kere dat hy deur Ipi Tombi moes sit en die kulturele boikot en die manier waarop dit alle plaaslike musici benadeel het. "Dan het ek ook Cher se Sun City-konsert misgeloop. Maar die grote was dat ek nié by was toe Freddie Mercury voor ’n klomp joernaliste ’n carry pack-bier op Jan Smuts-lughawe sit en uitdrink en toe oor die tafel siek geword het daarvan nie." Hoewel die kulturele boikot sy blootstelling aan internasionale popsterre beperk het, is local darem ook lekker. "Daar’s baie myle tussen Jurie Ferreira en Johannes Kerkorrel. Die ontwikkeling was alles ten beste, veral die sogenaamde 'alternatiewes'."

Hy vertel aan Corné Coetzee (Volksblad, 18 Februarie 2000) dat dit nou vir hom baie lekker is om te skryf oor die musiek van pre-1990’s op sy blog "Naklanke" op LitNet: "Dis wonderlik wat ’n mens kan regkry met behulp van YouTube se videogrepe – ek skryf oor musiek waarvan ek hou en illustreer dit met videogrepe. Ek luister nie meer aaneen soos twintig jaar gelede nie, maar daar is selde stilte in ons huis."

Hy is in 1989 na die uitgewery Human & Rousseau en toe hy daar instap, het hy besef hy weet niks nie. "Dit hou jou op die aarde en leer jou met ander oë kyk na dinge waaroor jy voorheen skepties was." By Human & Rousseau was Koos Human, een van die stigters van die uitgewersmaatskappy, Kerneels se mentor en by Koos het hy baie ander truuks geleer as net oor die uitgewery. In 1994 volg Kerneels vir Koos amptelik op as hoofbestuurder van Human & Rousseau.

"Koos het vir my heel in die begin twee goed gedoen: Hy het vir my twee boeke gegee om te lees en daarna die kontrak gegee wat met skrywers aangegaan word. En so ’n kwessie van ’n week daarna het ek en hy eendag gaan sit en eet en hy het vir my verduidelik (...) wat (die kontrak) alles beteken. As jy die skrywerskontrak van ’n kant af vat en jy lees hom behoorlik, dan weet jy eintlik álles wat aangaan in ’n uitgewery en wat daar behóórt aan te gaan," vertel Kerneels aan Murray la Vita. (Die Burger, 13 Februarie 2009)

"Jy weet, dis ’n vreemde ding, maar die verhouding tussen die skrywer en die uitgewer; uitgewer en skrywer; hoe beskerm die kontrak die twee teen mekaar; met ander woorde: watse voorregte het die een en watse verpligtinge het die ander een. Dis dáái ding. En dan weet jy presies wat die werk behels. En toe ek dit nou eers agter die blad het, toe weet ek ek gaan nooit weer terug koerante toe nie."

Oor die kuns van uitgewer wees vertel Kerneels aan Murray la Vita dat ’n groot deel daarvan is om ’n "móérse respek" te ontwikkel vir ’n die persoon se skryfwerk en vir sy privaatheid, "maar ook naby genoeg te wees om binne daai privaatheid te operate deur die persoon te hélp of te beskérm of aan te moedig om net weer aan die gang te kom.

"Jy weet Koos (Human) self het vir Etienne Leroux gewéldig baie beteken. Selfs so ver gegaan in die ou dae as Leroux ’n manuskrip gelewer het, het hy afgekom Kaap toe en dan het hulle ’n week lank al twee ’n kamer gevat in die Metropole Hotel daar in Langstraat. En dan het hulle in die hotel gesit en í­n daai week het hulle daai manuskrip van ’n kant af deurgewerk en hom reggekry.

"Baie skrywers kan jy nie só hanteer nie, maar jy moet tog weet om iets soortgelyks vir hulle te kan doen. André Brink, byvoorbeeld, gee vir jou ’n manuskrip wat, danksy die manier wat hy skryf – Afrikaans-Engels tegelyk – al so goed gestruktureerd en deurgedink is dat jy nooit rêrig eintlik vir hom hoef te sê: 'Man, jou slot werk nie; skryf dit oor', nie.

"Jy kan by André hoogstens vir hom sê, soos ek gemaak het met Duiwelskloof ... vir hom sê: 'Man, jy’t hier ’n misdaadjoernalis wat nooit bliksem sê nie.'

"By Karel Schoeman, weer, soek jy eintlik net vir tikfoute in die manuskrip. Jy peuter nie daaraan nie. Breyten ... dit is ook ’n digter wat so goed nagedink het oor sy goed, dis eintlik ’n belediging om vir hom te sê: man, luister die gedig werk nie vir jou nie, want jy weet die fout lê eintlik by jou, nie by hom nie."

Kerneels praat met Murray la Vita oor wyle Koos Prinsloo en onthou die aand toe hy die manuskrip van Slagplaas by Prinsloo se woonstel in Hillbrow gaan haal het en hoe hy terug is na sy blyplek, waar hy tot laat die nag aan dié "geweldige sterk, brutale, emosionele bundel" gelees het.

In April 2001 het Tafelberg en Human & Rousseau saamgesmelt onder die NB-Uitgewers-vaandel, met Hannes van Zyl as hoofbestuurder en Kerneels as publikasiehoof.

In 2009 het Kerneels afgetree en het hulle ná jare as Kapenaars in Kloofnekweg na ’n huis tussen die see en die vleie van Bettysbaai verhuis.

In 2012 was Kerneels baie betrokke by die stigting van PEN Afrikaans, die Afrikaanse vertakking van PEN International. Hierdie organisasie dra die belange van skrywers, joernaliste en ander mense wat met Afrikaans as taal werk, se belange op die hart en sien om na hulle – veral op die gebied van kreatiewe skryfwerk. Kerneels was ook vanaf 2013 vir vier jaar die voorsitter van PEN Afrikaans.

Maar Kerneels is nie net joernalis en uitgewer nie. In 1992 word sy bundel kortverhale, Morsdood van die honger, gepubliseer en in dieselfde jaar met die CNA-Debuutprys bekroon. Hennie Aucamp het hom soos volg oor Kerneels se verhale uitgelaat: "Sy speelsheid is ’n gevaarlike frenetiese gewals op die rand van die afgrond." (Beeld, 3 September 1992)

Kerneels skryf baie van die sukses van hierdie bundel toe aan sy beoefening van die joernalistiek: "Dit maak jou vingers los en jou selfvertroue sterker," verduidelik hy aan Emile Joubert (Die Burger, 7 Mei 1993). Hy het hierdie bundel beskryf as kortverhale wat probeer aantoon dat die ergste apartheid (seksueel, godsdienstig, sosiaal, polities) dié is wat jy in jou gedagtes bedryf.

HJ Pieterse (Rapport, 18 Oktober 1992) skryf dat Kerneels met Morsdood van die honger as satirikus baie ontwikkel het en dat hy, soos enige ander satirikus, alle heilige koeie aansny. "Om die waarheid te sê: ná dié boek sal die naaste heilige koei in die omstreke van die Ganges gesoek moet word." (...)

"Alles en almal loop deur onder Breytenbach se pen: wittes, swartes, gays, feministe, kultuursnobs en pretensieuses ('Die teater van bloed'), godsdiensdwepers, Afrikaanse liedjies, en, veral natuurlik, politici. Kortom, die hele Suid-Afrikaanse samelewing kom onder skoot." Pieterse meen dat die gehalte van die verhale wissel, maar dat daar selfs in van die mindere verhale heelwat passasies is om die leser se lagspiere te prikkel. Die verhale word verbind deur onder meer figure soos Chelodie Davel/De Villiers, Broer Shawn, OD Hardon en Realdus Columbus wat herhaaldelik in verskillende verhale optree."

Abraham de Vries (Die Burger, 8 September 1992) voel dat daar laas in Afrikaans by Etienne Leroux so ’n "redelik ondeugdelike, komieklike stoet" bymekaar was. "Die satirikus, sê Walters iewers (en hy behoort te weet), is heimlik ’n idealis, in diens van die genesing van menslike booshede. Wat Aucamp waarskynlik in die oog had, is dat daar onderliggend aan hierdie skeefbekykte karakters, aan selfs die hilariteit, die breër konteks van 'inherente dekadensie' is; patrone van ’n afloop, ’n eindtyd, verwant aan die laat-romantiek van die einde van die vorige eeu: die 'cherishing of the unnatural'. Dat juis Aucamp dit raaksien, verbaas nie, want dáárin is sy eie verhale (hoe verskillend ook sy aanslag en stem) verwant aan dié van Breytenbach. (...)

"Dis in die skep van fantastiese situasies wat Breytenbach homself oortref. Insinkings in die vertel is die onvoorbereide, dus moeilik interpreteerbare slot van die titelverhaal, grootliks ’n oorvertelling van Dahl se 'Taste'. (...) Maar as dit kom by die werklik goeie verhale, (...) sê hierdie resensent: Sny ’n stadige lyn; dis kos vir diegene wat die lag nog nie afgesterf het nie, wat hulle in ongeregtigheid nie verheug nie, en wat by die herken van die ondeugdelikhede nie vir genadeloosheid skrik nie. Daar’s nie baie sulkes in Afrikaans nie."

Cecile Cilliers (Insig, Desember 1993) skryf dat die veertien verhale van uiteenlopende aard en ongewone inhoud in Morsdood op interessante wyse tot eenheid saamgesnoer word. "Sekere karakters kom naamlik by naam in etlike verhale voor, maar in wisselende situasies en omstandighede. (...) By dié bindende effek, prikkel en verras hierdie werkwyse, én boei dit.

"En binne die satiriese raamwerk kom daar ’n belangrike allemansidentifikasie tot stand, sodat én situasies én karakters die ganse samelewing geld. 'Mnr X hou braaivleis' is ’n goeie voorbeeld: die alomteenwoordige dood en die samelewing se groeiende disrespek word skitterend verbeeld in die steeds meer bisar verloop van die verloop, en die oop einde.

"Breytenbach het ’n verbasende vermoë om die leser, meteen, in die eerste paragraaf, in die verhaal te laat beland, en om maksimale inligting met ’n minimum van woorde te verskaf. ’n Vermoë wat hy ongelukkig nie deurgaans benut nie. Van die verhale is gans te lank sodat, die prikkelende ongewoonheid ten spyt, belangstelling verflou.

"Kerneels Breytenbach kyk met ’n skuins blik na die mensdom, en hy skryf en béskryf om te skok. En die resultaat skok wel, én amuseer, want hy ken die kuns van koddige segging en vergesogte situasies. Maar ’n werklik geslaagde satirikus, in my woordeboek, moet ook deernis toon, empatie, bý die skerpte. En dit ontbreek in hierdie bundel geheel en al. Die verhale is bitter goed, bitter snaaks, en bitter. Net dit. Bitter."

In Zuid-Afrika van Maart 1993 skryf Hans Ester dat Kerneels Breytenbach ’n begaafde en selfs virtuose skrywer is en dat die bundel sy talent bewys. Hy voel egter dat Breytenbach se volgende boek minder grotesk en selfs positief moet wees.

En hoewel Gretel Wybenga (Beeld, 16 November 1992) voorbehoude gehad het, voel sy daar is te veel wat goed en lekker in die bundel is om dit nie ter hand te neem nie. "Enige gesonde samelewing móét ’n hofnar hê wat met lag en spot konings van trone mag afhaal. Welkom aan ons eie hofnar, Kerneelsie!"

Glimlag, Kerneels se eerste roman, word in 1993 uitgegee. Hierdie roman is een van die min romans in Afrikaans waarin populêre, oftewel popmusiek, as deel van die struktuur van die roman gebruik word.

Kerneels vertel aan Willem de Vries op LitNet meer oor die ontstaan van Glimlag: "Dit is struktureel gevorm deur ’n ou speurroman van EC Bentley getiteld Trent’s Last Case, maar die titel is ’n direkte verwysing na die Beach Boys se Smile, wat nooit uitgereik is nie, maar waarvan ek ’n roofopname het.

"Baie van die hoofstuk-opskrifte is Smile-liedjies. Smile had ongelukkig minder snitte as wat Glimlag hoofstukke het, dus het ek by die Beach Boys se voorafgaande LP, Pet Sounds, gaan leen. Met die lirieke het dit effe anders gegaan: ek het enigiets geneem wat daardie sardoniese afstand kon help vestig – banale gedagtes, nooit aangehaal uit werklike Afrikaanse liedjies nie, maar in strekking en sfeer vanuit die Afrikaanse musiek-dampkring. In ’n vroeë draft het ek FAK-liedjies gebruik, maar dit was té styf en formeel. Ek wou iets gehad het wat oënskynlik diep dinge sê, maar in wese flou en geweldig oppervlakkig is."

In Glimlag is Trens Phillips die hoofkarakter en een van sy karaktereienskappe is dat hy te eniger tyd mense en situasies reduseer tot lirieke wat eie is aan die gewilde Afrikaanse musiek. Willem de Vries skryf verder: "Kerneels beaam dat hierdie sardoniese draakstekery ’n hoofbestanddeel van Glimlag is. Hy wou hê die leser moet van Trens en Quarta (die hoofkarakter se groot liefde) hou, maar wat die res betref, moes hy/sy baie bewus bly van almal se feilbaarheid. By sommige wou hy hê dat dit duidelik moet wees dat hulle verteenwoordigend is van tipes Afrikaners: ambisieuse, korrumpeerbare mense."

De Vries het dit aan Kerneels gestel dat die lirieke "so kenmerkend prosaïes is van vele ligte musiek in Afrikaans en dat Afrikaanse musikante hier aan die kaak gestel word sonder dat name genoem word".

Kerneels se antwoord was: "As iemand sou sê hier is nou ’n geval van ’n oudmusiekresensent wat die Afrikaanse musiekbedryf die middelvinger wys, maar dit met fiksie verbloem, is dit beslis waar. In die eerste draft was daar ’n lang stuk oor Cora Marie, die country-sangeres. Ongelukkig kry sy toe kanker en het die boek se redakteur gevoel dit sou swak smaak wees om die deel in te hou. Maar ek het in daardie stadium baie beslis genoeg gehad van Afrikaanse musiekkunstenaars. Ek was in die tweede laaste jaar van my termyn as Huisgenoot se popresensent, en in daardie stadium het die hele luisterlied-beweging in sy eiewaan versmoor, en was Afrikaanse musiek besig om geweldig onopwindend en selftevrede te word. My liefde vir popmusiek was altyd daarin gesetel dat ek altyd soek na iets nuuts en iets vernuwends. In die vroeë negentigs was dit ’n skaars ding in Afrikaanse musiek. Ek het dit ook ’n stap verder gevoer deur baie van die dinge in die roman in verband te bring met werklike Afrikaanse films. Aan die een kant die musiek en hierdie menslike smagting om te sing en te besing, al is dit hoe vrot, en aan die ander, die romanwêreld wat gelyk gestel word aan aardsetter-flieks en -karakters wat, om die minste te sê, wêreldvreemd is."

De Vries het ook gesê: "Dié soort kensketsing en vervreemding deur liriek is sentraal tot die humor van die boek. Die glimlag is eerder grimas. Watter ander musiekidees is in die roman bygewerk?"

"Daar was in 1990 in die tydskrif Q ’n beskrywing van ’n klankateljee, Karl Wallinger se ateljee," sê Kerneels. "Dié het ek gebruik vir die ateljee in Glimlag. Die dinge wat tóé so wonderlik was, is nou alledaags. Vir die slot het ek aan twee dinge gedink: die middelste deel van die Smile-liedjie 'Cool cool water' en Gavin Bryars se komposisie Sinking of the Titanic, waarin hy die skip se orkes laat voortgaan met die speel van 'Autumn' onder die water. Mense wat bekend is met die verse van Rilke, sal dwarsdeur die roman verwysings na sy Duino-elegieë opmerk." 

Na Gunther Pakendorf (Die Burger 23 November 1993) se mening is daar heelparty raakpunte tussen Glimlag en Morsdood van die honger. "Soos sy voorganger speel Glimlag in die onmiddellike hede in die Kaap af en toon eweneens ’n sterk satiriese neiging wat hier en daar bisarre en groteske vorme aanneem. In ’n ander opsig sluit dit aan by ’n duidelike waarneembare kenmerk van die jongste Afrikaanse prosa, en dit is dat die verdwyning van apartheid skynbaar groter beweegruimte en dus ’n ongekende oplewing van kreatiwiteit onder Afrikaanse skrywers veroorsaak het. (...)

"In wese is Glimlag ’n kombinasie van speurverhaal en triviale liefdesverhaal. Kort nadat Helen Mills as Sakevrou van die Jaar aangewys is, verdwyn sy op geheimsinnige wyse. Die koerant, Ons Stem, berig eers verkeerdelik dat sy vermoor is, maar pas nadat die berig reggestel is, word haar lyk in geheimsinnige omstandighede gevind.

"Dit is die begin van die ondersoek deur Trens Phillips, vryskut-joernalis en popmusikus, wat hom al dieper in die militêre en politieke knoeispul van die land laat inbeweeg. Terselfdertyd beland hy in die arms van die beeldskone Quarta Prins saam met wie hy die een en ander avontuur beleef."

"Glimlag mors behoorlik met die ou Suid-Afrika en gooi sommer ’n paar ander temas by. Dit is dus ’n satiriese bredie met ’n verskeidenheid bestanddele wat aan die leser opgedis word. Die vernaamste een is die Afrikanerpolitiek, knoeiery, korrupsie en al, wat ten spyte van sy kitsch-vertoonsug, nie stuit voor kriminele aandadigheid nie."

Die skrywer raak ook heel geniepsig oor die Afrikanerkultuur en daar word ook verwys na die Afrikaanse joernalistiek, gewilde kultuur soos popmusiek en Afrikaanse rolprente en die staatsdiens. Hy maak ook weer gebruik van karakters wat al in van sy kortverhale gefigureer het en ander karakters het bekende name soos Sonny Corleone, Sonja Groesbeek, Joey en Gert van Rooyen.

Maar vir Pakendorf is Glimlag oorhaastig geskryf en was die redigering nie deeglik genoeg nie. Hoewel hy tydens die leesproses baie keer lekker gelag het, moes hy net soveel keer terugblaai om die verband tussen verskillende episodes of karakters na te gaan.

In sy resensie in Rapport (28 November 1993) het JC Kannemeyer geskryf dat Breytenbach vrek goed skryf, maar dat wat hy skryf, vir hom, Kannemeyer, nie aanstaan nie. "Ek erken dat ek persoonlik reageer en dat dit ’n groot fout is. Vir sommige mense mag die soort satire en die soort seks van Glimlag snaaks wees, maar vir my was dit kru en aangeplak; diegene wat genoeë neem met al die vlugtige stukkies geestigheid en die politieke toespelings sal die boek egter geniet."

Tom Gouws (Insig, Desember 1993) meen dat hierdie debuutroman van Breytenbach in dieselfde trant is as sy resensies van films, restaurante, boeke en musiek – "stout en stuitig, maar intelligent en ingelig, met with-it slengfrases, klinkende stukkies taal uit die lospraatjies van elke dag. Die vertelhouding is sinies, boosaardig, grynsend. Die 'glimlag' van die titel is ’n sardoniese beskrywing van die verteller se grynslag terwyl hy vertel. Die fiktiewe verklarings van werklike landsprobleme van daardie tyd bly ’n vertelling van oordrewe selfgenoegsaamheid. Die beterweterigheid en gemeensaamheid van die alwetende verteller irriteer op die lang duur."

LS Venter (Beeld, 22 November 1993) sluit sy bespreking af met: "Daar is gesê dat ons tyd nie meer die tragiese toelaat nie. Al wat moontlik is, is die komiese: óók as die skrywer ernstig is. Glimlag val in die genre van hierdie komedie van die erns. As dit laat lag, goed. Maar dit wil eintlik laat dink. Kerneels Breytenbach laat na my mening albei gebeur."

Oor die negatiewe dinge wat resensente oor Glimlag geskryf het, vertel Kerneels aan André le Roux (Die Burger, 23 November 1993) dat die eerste paar resensies wat jy lees, jou geweldig ontstel, maar dan moet jy maar jou eie raad aan ander skrywers volg: dat dit net ’n persoonlike mening is. "Ek dink nie Glimlag is ’n foutlose roman nie, maar ek dink ook die resensente het nie werklik gesien wat hulle behoort te gesien het nie."

Kerneels het in 1997 aan Suzette Truter vertel dat wat sy skryfwerk betref, hy ná Glimlag heeltemal tot stilstand gekom het. "Daar kom manuskripte by jou as uitgewer verby wat jou laat nietig voel, wat jou laat dink jy moenie jou naam krater maak deur te skryf nie; laat dié maar aan die regte skrywers oor. Maar aan die ander kant is dit baie inspirerend. Dis ’n plesier om in die kantoor in te stap en ’n pakkie daar aan te tref, soos ’n nuwe roman van André Brink of Karel Schoeman. Of iets opwindends deur iemand van wie jy nog nooit gehoor het nie, maar jou van die eerste sin af vasgryp. En dat ek een van die eerste mense in die wêreld is wat dit gaan lees."

Oor die gewilde Harry Potter-reeks wat Human & Rousseau in Afrikaans laat vertaal het, was Kerneels in ’n polemiek met Maretha Maartens betrokke. Maretha het in die rubriek "Soos ek dit sien" in Volksblad onder meer geskryf dat hoewel Potter "in die goeie leef, hy boosheid bemin en dat ouers twee keer moet dink voordat hulle dié boeke vir hul kinders vir Kersfees koop". Sy het in Rapport gesê haar rubriek is onvolledig en nie in die regte konteks aangehaal nie. Sy het ook verwys na wat JK Rowling in ’n onderhoud met Time te sê gehad het, iets waarna Breytenbach (in Rapport) nie verwys nie. Breytenbach het gesê sy kry haar inligting in die satiriese internet-koerant The Onion, wat feite fabriseer.

"Ek het ’n baie groot bewondering vir die fantasiewêreld wat JK Rowling geskep het. Maar wat ek aangehaal het, staan in swart op wit," het Maartens gesê. Hoewel dit eintlik "nie vir publikasie is nie", sê sy Breytenbach moet maar met "sulke groot kanonvoer skiet as hy wil" in sy opmerking dat hy haar integriteit bevraagteken. Wat het geword van die feit dat elkeen op ’n mening geregtig is, het sy gevra. "Weer eens, ek kan nie my bewondering vir JK Rowling se werk genoeg uitspreek nie. Maar dit gaan oor wat sy gesê het."

Kerneels het gemeen dat Maartens moet erken dat sy mislei is deur The Onion en dat sy net die gedeelte van Rowling se onderhoud met die Amerikaanse nuustydskrif Time gebruik wat haar argument pas. "Lees ’n mens die hele paragraaf in die onderhoud en jy sien wat Maartens weggelaat het, besef jy dat Maartens besig is met ’n baie slim, maar nogtans gemene spel," het Kerneels gesê. Hy het gevoel dat sy die eerbare ding moet doen en die publiek wat haar ondersteun het, moet inlig dat nóg Rowling nóg die Harry Potter-boeke enigiets met satanisme te make het.

In antwoord hierop het Maartens in ’n brief aan Volksblad geskryf dat sy nóg slim, nóg berekend was, maar dat sy, soos die meeste ander denkende mense, net na antwoorde soek. Sy haal dan voorts passasies uit die Harry Potter-boeke aan om haar sieninge te staaf.

Kerneels was darem nie heeltemal stil wat kreatiewe skryfwerk betref ná die publikasie van Glimlag nie. Hy het ’n paar stories geskryf wat in versamelbundels opgeneem is en nêrens anders beskikbaar is nie. In 1998 is "Oorlog ter plaatse", ’n anti-oorlog-, antimilitêre stuk opgeneem in Boereoorlogstories wat deur Jeanette Ferreira saamgestel is en deur Van Schaik uitgegee is. ’n Liefdesverhaal, "Die einde van die pad", is opgeneem in Liefde loop ver, wat ook deur Jeanette Ferreira saamgestel is en in 1999 deur Human & Rousseau uitgegee is. Piet Roodt het ook ’n stuk opgeneem in Granaat en Kerneels het vir Queillerie bydraes gelewer vir die bloemlesings van skrywers se reaksie op die verkiesing van 1994 en die bestekopname daaroor ’n jaar later: 27 April 1994: ’n Skrywersdagboek en 27 April een jaar later.

In 1987, by die viering van die Baxter-teater se eerste tien jaar, het Brian Barrow en Yvonne Williams-Short ’n bloemlesing getiteld Theatre Alive! saamgestel. Kerneels se bydrae was "What the critic should know about the theatre".

In 2001 het Kerneels se humorsin aanleiding gegee tot die publikasie van Die skoon grapboek. Oor die grappe in die boeke sê hy dat min van die grappe oorspronklik genoem kan word. "Of dit nou op die internet of papier is, daar is min grappe wat nie baard het nie. Grappe wat oor Stalin vertel is, word deesdae oor George W Bush en Tony Blair vertel. Koos van der Merwe en Mike Schutte het ’n Ierse neef genaamd Paddy. Ek het die meeste van hulle verplaas na ’n landelike omgewing in Mpumalanga. Hopelik sal baie daarvan vir ons lesers onbekend wees." (Uit ’n inligtingstuk van die uitgewers.)

Hy is trots op die feit dat al die grappe, ofskoon baie van hulle in kroeë afspeel, aan jou ouderling of dominee vertel sal kan word tydens die volgende huisbesoek.

In Die skoon grapboek het Kerneels as ’n soort teenhanger vir Leon Schuster se versameling doelbewus net "skoon" grappe oorvertel, vertel hy aan Corné Coetzee (Beeld, 18 Februarie 2010). "Dit spaar ’n mens ook al die verdriet van kinders wat hul skaam vir hul skurwe pa. Maar algaande het ek besef dat ek ’n effens meer gewaagde versameling ook sou kon saamstel. Een wat bronstig is sonder om smerig te wees. Ek is versot op James Thurber se humor, en die titel kom direk van een van sy skeppings af."

In 2009 verskyn toe Die ding tussen man en vrou, nog ’n grapboek. "Ek vermoed dat dit is omdat ek, soos enige ander mens, lief is vir die ontlading wat humor bring en met verloop van tyd agtergekom het dat Afrikaners taamlik skatologies in hul humorsin is, maar dat daar gelukkig meer aan ons humor is as die gatkant van die wêreld. Daar is ook ’n magdom seks-, skoon, rassistiese, seksistiese en siek grappe." (Die Burger, 16 Oktober 2010)

Kerneels staan ook bekend as ’n smulpaap en in sy hoedanigheid as restaurant-resensent – alias die pittige Braam Kleinhans – het hy almal se lagspiere geprikkel. En hy het oor die jare ’n groot kosliefhebber gebly en in Insig ander kosliefhebbers aan ’n groot verskeidenheid restaurante bekendgestel.

In 2005 gee hierdie liefde op aandrang van Leserskring aanleiding tot die samestelling van Die lekkerste lekker, ’n resepteboek wat Madeleine van Biljon (Volksblad, 11 Januarie 2006) as volg beskryf: "Daar is inderdaad baie gesellige resepte, sommige geyk, sommige kraakvars en heel oorspronklik. Elkeen wat onder ’n bekende se naam verskyn, dra die amper proebare stempel van die persoonlikheid – van wyle Rufus Kenney se werklik topklas-tamatiebredie tot die romantiese kookster (soos in hemelliggaam) Marlene van Niekerk se lofsang oor beet. Die foto’s is ’n fees, die uitleg netjies, ’n plesier vir die oog. Dit is ’n mooi boek, maar ’n bietjie swaar op die hand – nie maklik hanteerbaar in ’n kombuis nie. Eerder leesbaar as bruikbaar, en lekker om te lees daarby. Alles pluspunte." Sy het dit egter teen die swak nasienwerk – Kerneels moes haar oor ’n bord kos en ’n fles wyn om verskoning vra vir die verkeerde spelling van haar naam in die boek.

Madeleine Roux (skuilnaam van Madeleine van Biljon junior), ook ’n kok en koskenner, skryf in Rapport van 19 Februarie 2006 dat nostalgie volgens ’n Frans gesegde niks meer is as verlange na die kos waarmee jy grootgeword het nie. "En Kerneels Breytenbach, uitgewer en ook befaamde Kaapse gourmand, het uiteindelik geswig en ’n kookboek saamgestel wat drup van die nostalgie. Met resepte uit ons jeugjare, asook die gunstelinge van ons oumas, pa’s, jagvriende, ou tantes en ja, selfs ons kinderbediendes, weerspieël dié eklektiese versameling die tradisionele kossmake van geslagte Afrikaners. Dan het die skrywer ook heerlike onafrikaanse ekstras ingegooi, soos chowder (die onweerstaanbare Amerikaanse vis-en-aartappelsop gegeur met spekvleis), Franse uiesop, Griekse skaapboud, Thaise gemarineerde vis en Camembertkoek.

"Die aanslag is net reg: Jamie Oliver kook Huisgenoot se Wenresepte. Die samesteller se gevatte, skalks-vrome opmerkings, sy eie kort essays en lieflike bydraes van skrywers is in die kol. Veral mooi is die resepte binne-in die essays. Niks irriteer ’n kosleser meer as ’n gesoek na resepte by ’n verwysing in die meegaande storie nie."

"Vir my is kos onlosmaaklik aan humor verbind. Die beste resepteboeke is dus samestellings van sensuele inligting en vreeslike snaakse opmerkings – dink maar aan Elizabeth David met haar droë kritiek op gemorskos en passieryke kostoere deur Europa, of aan Julia Child se wonderlike verhale oor haar TV-rampe, maar ook die manier hoe sy haar hande so mooi op kos kon lê, soos alle goeie kokke. Breytenbach is ’n humoristiese skrywer en sy aweregse sin vir humor is nommerpas. 'Ek het die grootste respek vir vegetariërs. Dit wil egter nie sê dat ek dieselfde fout as hulle moet maak nie.' Kosbaar ook is sy vertellings oor ou eetplekke soos die Kaapse Tafel-restaurant in Koningin Victoriastraat in Kaapstad. Ewe goed is bydraes van onder meer Antjie Krog, die jagter Johan Botha, die rubriekskrywer Mariëtte Crafford en die rolprentmaker Herman Binge. Die akademikus Elize Botha se storie oor haar pa en die nagmaalwyn is van Herman Charles Bosman-gehalte.

"Kortliks, ’n indrukwekkende, mooi boek met werklik lekker resepte. Daar is mooier foto’s binne-in die boek as dié op die voorblad, maar dis kibbel. Die foto van droë harders en ’n knipmes op bl 179 is lieflik, maar hulle sê mos vis op die voorblad van enige resepteboek behalwe ’n vis-een, sal nie die boek laat verkoop nie."

Sy het egter dieselfde voorbehoude oor woorde wat verkeerd gespel is en ander foute in die boek en haar vraag is waarom Breytenbach soveel moeite gedoen het om vir sy lesers plesier te verskaf en dan taal- en resepteversorging laat links lê het.

In Oktober 2010 verskyn 7de Laan kook, wat saamgestel is deur Daleen van der Merwe, Human & Rousseau se kookboekredakteur, met teks deur Kerneels. Hy hét slaafs die sepie 7de Laan op SABC2 gekyk, en doen dit al die jare, en daarvoor blameer hy vir André P Brink. Brink se bewondering vir een van die karakters in die reeks het Kerneels nuuskierig genoeg gemaak om te begin kyk. In hierdie boek deel sewe van die karakters in die sepie hul beste resepte. "Die lekkerte hiervan was om ’n storie rondom elke karakter te skep, binne karakter te bly, en in sy of haar 'stem' te praat.

"Matrone het byvoorbeeld ’n vorige lewe wat so saam met haar resepte uitkom: die mans wat sy in die oog gehad het, die jare by Bothaville se landbouskou. Hel, daai vrou het ’n stem waarmee jy boerpampoen kan skil, maar haar Generaal De la Rey-koek met droë vye en pekanneute maak jou knieë slap!" vertel hy aan Elmari Rautenbach.

En al het Daleen van der Merwe die meeste van die 75 resepte bymekaargenaak, het Kerneels nie teruggestaan as dit gekom het by die soek-en-proe-sessies nie.

Hy vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 23 Oktober 2010) dat daar egter ’n storie ágter die storie is: "In 1995 het ek by die Frankfurt-Boekebeurs een aand langs ene Barbara Beck gesit. Sy was ’n uitgewer by die Metropolitan Museum of Art en vertel my toe hoedat sy in die bedryf beland het."

"Rex Stout, ’n Amerikaanse skrywer, het van die dertigs tot die sewentigs ’n misdaadreeks, die sogenaamde Nero Wolfe-boeke, die lig laat sien. Wolfe was ’n speurder met ’n lyf so groot soos sy ego en ’n voorliefde vir geel sypajamas, orgideë en die gastronomie. Al probleem was Stout kon nie kook nie. Dit was Barbara se taak as jong uitgewerassistent om elke boek se resepte en kookrituele uit te dink en agterna die manuskripte na te gaan om seker te maak Wolfe kap darem ’n ui op die regte manier. En dis hoe sy die idee gekry het vir The Nero Wolfe Cookbook – tot vandag toe een van die top-kookboeke op amazon.com!"

Na sy sogenaamde aftrede is Kerneels nog steeds besig met boeke: resensies, lees van manuskripte en ander soortgelyke dinge. "Aftree is miskien iets wat ek eendag sal doen. Op die oomblik wentel my lewe om boeke, musiek en pogings tot my eie skryfwerk. En natuurlik, my hond, Jasper. Ek en my vrou, Carien, kan dit net nie oor ons harte kry om hom te vertel hy is nie ’n mens nie," vertel hy aan Corné Coetzee.

Breyten Breytenbach (Die Burger, 13 Februarie 2009) beskryf Kerneels so: "Die kern van Koning Neels (of Klimneels, of Knorneels) is gulhartigheid en ’n fyn-fyn onbevange gees propvol intelligensie en nuuskierigheid. (In die ope-gemoed en vermoë tot verwondering sin ...)" Breyten sê verder: "[V]ra hom, in alle erns, of ons nou die blerrie groot skrywer wat hy is, vreesloos na vore gaan sien tree."

Hierdie vraag is beantwoord toe Kerneels in 2009 gepols is oor waarom hy tóé, op 56, uittree: "’n Mens werk mos maar altyd met daardie idee dat jy nou as jy 60 of 65 is, sal gaan. Ek het in 1993 laas gepubliseer – Glimlag (...), wat ek gedink het ernstige werk is."

"Sedertdien was daar daai kookboek (Die lekkerste lekker) en ’n grapboek (Die skoon grapboek). Maar op een of ander manier het ek verskeie kere begin met goed skryf en elke slag dan ontspoor dit ... of tyd haal my in, of ek het nie tyd om daaraan te werk nie, of ek raak sinies halfpad want ek besef ek hou nie daarvan nie – daai soort van normale goed."

"Maar die eintlike ding is jy sit by ’n uitgewery en jy sien ander mense se goed en jou kreatiewe tyd gaan in personeelsake in en in die bestuur van ’n maatskappy. En uiteindelik skryf jy basies níks. En daar is nou twee of drie goed. Een is ’n roman wat ek al mee begin het in 1999, 2000 – daar rond, en wat ’n baie ernstige terugslag gekry het toe hulle my laptop (in November 2003) gesteel het met ’n klomp hoofstukke daarmee saam. Toe moes ek hom van voor af skryf want ek het nie ’n backup gehad nie, maar sedertdien hou ek religiously backups."

"Maar dit het ek toe herskryf, ek het toe gaan sit en ’n taamlike poging aangewend. En met dáái roman het ek verder as halfpad gekom, maar hy sit nou daar en wag vir my. Dis die eerste ding wat ek nou gaan doen. ’n Mens raak so verlief op die stories partykeer en die karakters ... in hierdie geval is dit ’n bruin vrou wat groot opgang maak in die sakewêreld en hoe sy trou met ’n jong wit ou en dan die familie wat vir haar vra hoe kan sy benede haar met ’n witmens trou – die omgekeerde situasie van wat voorheen sou gebeur het."

André Brink sê naas rugby is musiek die ding wat ook húlle oor die jare "baie heg verbind het". "[A]s ’n paar manne eers saamgehuil het oor ’n Habana-drie op die rugbyveld, of ’n Monty-skop in die doodsnikke, of oor Anna Netrebko in Traviata, dan staan daardie vriendskap soos ’n paal bo water."

Oor Kerneels die uitgewer sê hy: "Hy was soos oorle' Watermeyer se mure teen die suidewind."

In ’n onderhoud met Elmari Rautenbach gesels hulle oor ouer word en lesse leer en Kerneels vertel vir haar van sy dogter, Jana, wat as ’n junior verslaggewer by Die Burger die moeilike opdrag gekry het om die Eersterivier-taxi-ongeluk op die treinspoor te dek. "Die een waarin tien kinders dood is."

"Ek tel die oggend die koerant op en ek lees: 'Ek is lief vir jou. Wees tog gaaf met die taxi-bestuurder.' Dít was gisteroggend me Rochelle Smith van Eersterivier se laaste woorde aan haar seun, Reece.' En ek dink: my dogter het dit heeltemal op haar eie geskryf. Weet jy hoe trots voel ’n mens?"

In 1995 het Kerneels aan Rapport-Tydskrif gesê dat hy graag sy goue jare op Carolina in Oos-Transvaal wil woon. "Daar moet ’n Aga-koolstoof in die kombuis wees en baie koffie en boerebeskuit. Met ander woorde, dit moet rustig wees en ek moet tyd hê vir baie herinneringe – selfs oor goed wat ek nie gedoen het nie.

"Ongelukkig moet elkeen maar self vir sy eie oudag voorsiening maak. Hoewel pensionarisse en senior burgers afslag kry op uitgawes soos fliek en haarsny, kry hulle nie korting op die werklike uitgawes van die lewe nie. G’n wonder so baie van hulle moet hulle bekommer nie."

En as hy ’n tweede kans kry om terug te kom aarde toe: "Ek sal graag Mozart wil wees. Hy is die enigste mens wat weet hoe die Requiem werklik moes geëindig het. En met die moderne mediese wonderwerke sou ek graag ’n kat in my skoonsuster se huis wou gewees het – dan sou ek ewigdurende vreugde kon hê en heerlik baas kon speel." 

Sarie wou weet hoe hy hom in die winter warm hou: "Daar’s ’n paar stelreëls. Nommer een: bou voortdurend aan jou koolhidraat-vlakke – wat goed is vir atlete, is goed vir TV-kykers. Jy’t daardie ekstra energie veral nodig vir nuusberigte.

"Nommer twee: betaal jou mediese rekenings eers ná maande. Nommer drie: gebruik die rooiwyn-en-blondine-opsie slegs wanneer jou vrou en kinders tydens die skoolvakansie Wildtuin toe is saam met jou skoonouers. Nommer vier: onthou, ’n knetterende kaggelvuur is die duiwel se oorkussing."

Soos in sy jeug is Kerneels steeds ’n ywerige leser. "Ek verslind alles van Reginald Hill, Lee Child en James Ellroy wat ek in die hande kan kry. Dis my verstrooiingsplesier. Onder die ernstiger skrywers is dit ’n vreugde om met nuwe name soos Jonathan Franzen, Ian McEwan en Roberto Bolano kennis te maak. Die skrywers wat my beïnvloed het, is Henry Adams, Thomas Pynchon, Don DeLillo, Milan Kundera, Richard Ford en William Gaddis. Ek betrap myself ook elke paar jaar dat ek Pynchon se Gravity’s Rainbow en DeLillo se The Names herlees. Wat Afrikaanse boeke betref, probeer ek byhou." (Aan LitNet)

Kerneels erken op LitNet aan Lien Botha dat ’n mens nie van die rituele van die daaglikse bestaan kan ontsnap nie – dit is altyd daar. Hy begin ongeveer vieruur in die oggend skryf en staan dan na ’n paar uur op. En dit is wanneer die rituele begin – soos om met Jasper, sy hond, te gaan stap, ontbyt te maak, koerant te lees en takies in en om die huis te verrig. Maar "met die skryf self is daar geen ritueel nie. Sommige dae gaan dit maklik, ander dae nie. Voor ek in die aand aan die slaap raak, probeer ek om die toneel wat ek die volgende oggend eerste gaan moet takel, in my verbeelding te sien. In detail. Wat die teenwoordige karakters sê en voel. Wanneer ek dan hier skuins voor vier wakker word, vind ek dat ek die ding omtrent kan sien en voel. Dis maar net ’n truuk wat vir my werk. Mens het so ongelooflik baie dinge wat jy op TV en rolprente sien, en jou eie ervaring, dat jou droomtyd soms wonderlike dinge oplewer."

En toe word Kerneels se tweede roman (’n lywige een) getiteld Piekniek by Hangklip in 2011 uitgegee en is dit een van die finaliste vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk saam met Sonja Loots se SirkusboereNet ’n lewe van Fransi Phillips, Onversadig deur TT Cloete en Wals met Mathilda van Dan Sleigh.

Louise Viljoen (LitNet) beskryf die storie van Piekniek by Hangklip op LitNet so: "Die twee hoofkarakters in Piekniek by Hangklip is Sonja Griessel, ’n jong Gautengse prokureur, en Joshua Gumbo, oorspronklik van Zambië en lid van die Lucky Thirteen-misdaadsindikaat in Johannesburg. Hulle lewensverhale raak verweef wanneer Joshua op ’n dag die motor probeer steel waarin Sonja en haar ouers by hulle huis aankom. In ’n toneel wat herinner aan Quentin Tarantino op sy absurde en gewelddadige beste skiet hy per abuis Sonja se ouers dood wanneer sy uit die motor struikel en onbedoeld ’n soen op sy mond plant, ’n daad waarmee sy hom onwetend van sy mojo beroof. Na die tragiese gebeure pak Sonja alles in Gauteng op om ’n nuwe lewe in die Overstrand-gebied te begin. Joshua volg haar spoor na die Kaap. Hy het haar net rakelings in die donker gesien, maar hy onthou haar reuk en hy begin soek na haar om sy mojo terug te kry. Op haar beurt soek Sonja na ’n eerlike eiendomsagent en ’n behoorlike argitek sodat sy haar met styl in Bettysbaai kan vestig.

"Uit hierdie eenvoudige gegewe ontspring daar ’n reeks avonture waarby daar allerlei interessante karakters, onvoorsiene gebeure, vernuftige wendings, smaaklike maaltye en heelwat goeie seks betrokke is. Alhoewel sommige van die episodes net lossies met die sentrale intrige skakel, is daar op storievlak heelwat om die leser besig te hou. Die verteller se beskrywings is raak en spitsvondig (die een karakter se ken het byvoorbeeld 'iets Brits in die teruggehoue plasing onderaan die skedel'). Daarby het hy ’n goeie oog vir besonderhede en ’n fyn oor vir dialoog.

"Die roman eindig met ’n uitspattige partytjie by die Hangklip Hotel waar Sonja die voltooiing van die planne vir haar huis wil vier en tegelykertyd ook wil wraak neem op die drie mans wat ’n weddenskap oor haar verleibaarheid aangegaan het. Soos dikwels in romans en films, is dié partytjie die karnavaleske hoogtepunt waarheen al die gebeure in die roman opbou. Al wat ek van die partytjie mag verklap, is dat dit sommige van die roman se plotlyne bymekaar bring en afbind sodat die leser ten minste ’n gevoel van (voorlopige) sluiting ervaar. Soos ander Afrikaanse skrywers voor hom betuig Kerneels Breytenbach met die beskrywing van hierdie partytjie sy skatpligtigheid teenoor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins wat as ’t ware die oermodel geword het vir alle partytjies in die Afrikaanse letterkunde. Leroux se roman word ook in herinnering geroep deur die talle filosofiese gesprekke tussen die karakters."

Vir Louise Viljoen is een van die kenmerke van die roman die feit dat dit wys dat belangrike kwessies nie alleenlik met erns aangepak hoef te word nie. "Klugtigheid en spot is eweneens wapens in die stryd om die behoud van goeie waardes, esteties bevredigende argitektuur, opbouende literatuurkritiek, onpretensieuse eetgewoontes en volhoubare maatskaplike verandering. Wat ’n seepgladde plesier was dit nie om hierdie roman van Kerneels Breytenbach te lees nie!"

Michiel Heyns se resensie in Beeld van 10 Oktober 2011 eindig so: "Piekniek by Hangklip is ’n oordadige, baldadige, balhorige aanslag op preutsheid en pretensie. Ontspan en geniet dit."

In 2014 is Ester gepubliseer en het dit weggestap met die kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie vir 2014. Dit was ook op die kortlys vir die ATKV-Woordveertjies, die WA Hofmeyr-prys en die UJ-prys vir 2015.

Ester se agtergrond is merendeels gesetel op ’n treinrit tussen Windhoek in die voormalige Suidwes-Afrika en Kaapstad. Ao Dieter Bergman word vanaf die dorpie Piet Retief opgekommandeer om op ’n landsbelangrike sending te gaan. Hierdie sending kan die geskiedenis van Suid-Afrika verander. Bergman moet ook vir Thyra Denk, ’n Duitse spioen, op haar plaas buite Windhoek gaan haal en saam met haar met die trein na Kaapstad reis waar sy voor die Gekose Parlementêre Komitee moet verskyn.

Maar die eintlike doel van die ondersoek, wat in opdrag van die Smuts-regering daargestel is, is om uit te vind of DF Malan, LV vir die opposisie, enige kontak met die Nazi-regime gehad het met mevrou Denk as skakelpersoon.

In sy commendatio vir die kykNET-Rapport-prys vir die rolprentkategorie skryf Herman Binge van Lion’s Head Productions: "Wat meer wil ’n fliekmaker hê as die stomende verhaal van ontluikende liefde tussen ’n maagdelik-rigiede polisieman van Piet Retief en ’n verleidelike Duitse spioen van Namibië? Saam op ’n lotsbepalende treinreis na Kaapstad. Op ’n lokomotief van die ou SAS&H. In 1946, ’n jaar van groot politieke intrige in Suid-Afrika.

"Kerneels Breytenbach se Ester is ’n teks wat netjies binne ’n bewese kommersiële fliekgenre val. Dink maar aan Marlene Dietrich in Shanghai Express van 1932, Rex Harrison in Night Train to Munich uit 1940, Tony Curtis, Jack Lemmon en Marilyn Monroe in die onvergeetlike Some ­Like It Hot uit 1958 ... Breytenbach se treinrit bied die rolprentmaker lieflike visuele metafore. Stoom en vuur, swaar wiele wat knars op spore. Afwagting op die spore wat vir ­kykers voorlê en die spore wat die karakters agterlaat in die verbysnellende werklikheid.

"Daar is oorgenoeg ruimte vir die nodige afwisseling tussen die dialooggedrewe interieurtonele en die buitetonele van stasies waar ons (en die storie) kan bene rek. Die moontlikheid van wye skote op ’n trein wat deur pragtige natuurtonele gly, vanaf die wydsheid van Namibië deur die dorre Karoo na die groene Boland verlos die kyker ook vir ’n oomblik van die kloustrofobie van klein kompartemente en benoude gangetjies. Breytenbach se fyn beskrywings van onvergeetlike karakters en sy slim, gevatte dialoog kan feitlik onveranderd in ’n draaiboek opgeneem word." (Rapport, 23 November 2015)

Dewald Koen skryf in Die Burger (22 November 2014) dat die roman gedeeltelik op die werklikheid gegrond is. "Breytenbach het sy feite deeglik nagevors en gevolglik word die fynste besonderhede as deel van die storielyn weergegee. Hierdie roman is egter nie ’n vervelige geskiedenisles nie.

"Die treinrit word op gedetailleerde wyse verwoord en Breytenbach skenk besonderse aandag aan die beskrywing van die landskap, hoewel dit nie met landskapbeskrywings van Karel Schoeman kan wedywer nie. Die leser word meegesleur op ’n spanningsvolle rit deur die natuurprag van Suider-Afrika. Op amper nostalgiese wyse herroep Breytenbach die vergange dae van die stoomtrein en die sjarme wat met dié treinreise gepaardgegaan het.

"Breytenbach se kennis van kos en musiek kom duidelik in die narratief na vore. Die vyfgang-maaltye tydens die treinrit word op amper poëtiese wyse beskryf en prikkel die leser se sintuie behoorlik. Breytenbach slaag daarin om die spanningselement tot aan die einde van die roman te behou. Die tempo van die roman begin relatief stadig, maar tel geleidelik spoed op soos die trein nader aan sy bestemming beweeg. Met talle onbeantwoorde vrae word die leser gedwing om stip te lees om sodoende te verseker dat enige terloopse handeling nie misgelees word nie.

"Die groot vraag wat die leser van bladsy een af teister, is die vraag rondom Ester se identiteit. Wie is Ester en waarom tree dié klaarblyklike skim­figuur nie na vore nie? (Die leser sal egter self die roman moet lees om die antwoord op dié vraag te verkry.) (...)

"Ester is ’n spanningsroman wat ongetwyfeld die meeste lesers sal boei. Hoewel die roman spanningslektuur is en nie as hoë letterkunde geklassifiseer kan word nie, gaan dié roman myns insiens deur lesers verslind word. Die roman lei die leser ook tot verdere nadenke oor die politieke gebeure van 1946, aangesien dit die nuuskierigheid oor die ware geskiedkundige gebeure prikkel. (...)

"Ester is die tipe roman wat meer as een maal gelees moet word. Met hierdie roman het Breytenbach die resep vir ’n aksiebelaaide spanningsroman vervolmaak."

Kerneels het al in 2001 die eerste keer met Ester te make gekry toe ’n juris hom vertel het van hierdie Duitse spioen en die regering van Jan Smuts se poging om haar te gebruik om DF Malan se politieke loopbaan kort te knip. Hy vertel verder aan Lien Botha op LitNet: "Dit was vir my amper ondenkbaar dat politici dit oorweeg het om Malan van hoogverraad aan te kla. Ongelukkig het ek eers jare later die storie uitgesnuffel kon kry toe iemand my vertel het van die biografie wat Jeremy Lawrence geskryf het oor sy pa, Harry Lawrence, wat in 1946 minister van justisie was.

"Die Smuts-regering is ingelig oor geheime verslae wat gevind is in Von Ribbentrop se gekonfiskeerde dokumente, en Harry Lawrence, ’n man wat skynbaar nagedink het eers nadat hy gehandel het, het die kans benut om die wêreld vir Malan warm te maak. En toe ek eers Lawrence se biografie gelees het, het die storie vir my al hoe aantrekliker geword. Soos die toeval dit wou hê, het ek kort nadat ek dit gelees het, kort na mekaar die rolprent Salon Kitty gesien en ’n klomp romans deur Alan Furst gelees. My verbeelding laat nie sulke prikkels verbygaan nie. Ek het Lindie Koorts se proefskrif oor Malan gelees, wat vir my bevestig het hoe ’n soort mens hy was – maar toe moes ek hom probeer sien deur die oë van ’n vrou wie se ideale deur Malan se beginselvastheid verydel is. Dit gee toe ’n hele verhaal af."

Lien Botha wou weet of Kerneels se "vernuf met die vleeslike avonture op die trein" natuurlik kom. Vir hom was dit "jare van toegewyde studies in die skool van die lewe. En ek vermoed baie mense sal my siening deel, dat ongeag hoe gelukkig jy met die sake van die hart en vlees is, jy steeds saam met Leonard Cohen sing dat iemand tog jou tong van die verlange moet kom verlos."

Kerneels vertel ook verder aan Botha oor die rol van die trein. Hy self het nooit as kind ’n modeltreinstelletjie gehad nie, want hy was te "woelig", maar ’n maat, Gerald Bosworth, het wel ’n Scalextric-stel gehad waarmee hulle tot in standerd 7 nog gespeel het. En die enigste keer wat hy trein gery het, was toe hy nog ’n peuter was toe sy tante Liesbeth hom met die trein van Germiston na Alberton en terug geneem het.

"Maar my belangstelling in treine het gekom uit vriende se wedervarings op die Orient Express en die Trans-Siberië-trein. En Paul Theroux se verskillende boeke oor treinreise, veral The Old Patagonian Express. Een van my vriende, Herman Binge, het in sy jeug dikwels met die Windhoek-Kaapstad-trein gery, en kon my geweldig baie vertel van die soort klanke, geure en bewegings op daardie spesifieke trein. Herman se herinneringe was omtrent vir my ’n openbaring, want hy verlang self so terug daarna.

"Erla Diedericks, ’n Facebook-vriendin, kon my vertel van die binnekant van die kompartemente, hoe die beddens opgemaak is, waar die nagliggie gesit het, ensovoorts. Die aktiwiteite van die drywer en stokers is in besonderhede vir my beskryf deur Jaap Diedericks, Erla se pa, wat ook die model geword het van die karakter Jurie Kimberley. Les bes was daar Werna Maritz se pragtige drie boeke in die Ysterwiele-reeks. Met al hierdie inligting moes ek net die oë sluit en die verbeelding op loop laat gaan. Ek wou self daardie rit aanpak, maar die trein van Windhoek af stop deesdae op Karasburg en draai dan om. Maar jy het reg, ek het die trein gesien as ’n soort kokon, ’n lewende teenwoordigheid waar mense minnaars kon word."

Lien Botha wou ook weet hoe Kerneels tot siens sê aan ’n boek wanneer hy klaar is. Vir hom is dit swaar om afskeid te neem en die manuskrip aan die redakteur te oorhandig en te weet daar is niks meer wat hy daaraan kan of wil verander nie. "En op daardie presiese oomblik breek daar ’n walletjie in jou gemoed, en stroom vertwyfeling en onsekerheid in jou gemoed in. Dit stabiliseer uiteindelik eers wanneer die resensies begin verskyn. Noudat daar bekendstellings vir die boek is, en ek oor haar moet praat, is dit baie soos die lang afskeid wat mens neem van iemand vir wie jy lief is, maar die verhouding is afgeloop, en nou werk julle nog saam, sien mekaar elke dag, maar jy kan nie meer aan haar raak nie."

Joan Hambidge skryf op "Woorde wat weeg" oor Ester dat die "enorme, goed verwerkte navorsing indrukwekkend" is en dat dit "veerlig geskryf is, met ’n subteks vol verwysings en toespelings".

In 2016 skenk Kerneels sy dokumente rondom die skryf van Ester aan die Universiteit Stellenbosch se JS Gericke-biblioteek.

Tussen Kerneels se eie nuwe skryfwerk deur vind hy ook tyd om Deon Opperman se drieluik televisiereekse, HartlandDonkerland en Kruispad, in romanvorm te verwerk. Opperman was nie intens by die verwerking betrokke nie. Met een van die boeke het hy die finale manuskrip gelees en ’n paar insette gelewer, maar nie met die ander nie.

Ná die sukses van die drie reekse op televisie het die uitgewer Riana Barnard gemeen dat die werke ook vir die leserspubliek toeganklik moet wees. Barnard het aan Francois Verster (op LitNet) vertel dat uitgewers in diens van die leser staan en uitgewers wil mense laat lees. Suksesvolle films laat gewoonlik mense die boeke koop, selfs mense wat nie baie lees nie, en omdat hierdie drie boeke van Opperman so ’n aangrypende tema het, was sy van mening dat die boeke net so goed sal vaar soos die reekse op televisie. En nadat Kerneels se verwerking van Hartland so positief ontvang is, was die besluit maklik om ook verwerkings van die ander twee te doen.

Kerneels vertel aan AJ Opperman (Beeld, 13 Oktober 2014) dat die verwerking van hierdie drie romans ’n "goeie uitdaging was om ’n sekere skryfkuns te verfyn. ’n Moeilike aspek was onder meer die karakters se fisieke voorkoms. Mense het hulle reeds op televisie gesien. Ek kon hulle nie mooier maak nie. Maar party van hulle is so mooi, jy kán hulle nie mooier maak nie. Ek was ook gebonde aan die dialoog."

Kerneels vertel aan Francois Verster dat hy met Opperman se oorspronklike teks plus die DVD’s van die televisiereekse gewerk het en dit toe "oorgeskryf [het] in prosavorm". "Ek kon nie dinge beskryf wat nie in die uitsendings was nie, insluitende dialoog, maar ek kon wel dialoog weglaat of, in enkele gevalle, verander. Die keuses wat werkbaar sou wees vir die roman, al dan nie, was ’n tydrowende proses."

Oor die moontlike raakpunte tussen Karel Schoeman, FA Venter en Deon Opperman vertel Kerneels aan Verster: "Ek glo nie Donkerland is ’n reaksie op daardie skrywers nie; en ’n ondersoek na ’n 'gesprek' sou eerder moet konsentreer op die manier waarop die skrywer die plaaslike geskiedenis sien, en hoe hy die Afrikaner se reaksie daarop teken. Wat my aangespreek het in Donkerland, is hoe Deon die verhouding tussen swart en wit in elke tydvak uitlig, die intellektuele (of eintlik anti-intellektuele, soos Dirk aan sy bas voel) kaartehuis wat die Afrikaner vir homself opgerig het, en die flenters wat daarvan oorbly agterna. Die Afrikaner se verhouding met Engelse is belangrik, en die maniere waarop medemenslikheid na weerskante vertoon word. ’n Mens sou baie kleiner tematiese lyne kan uitlig, en uiteindelik dink ek Deon se analise is een van die mees volwasse, nugtere sienings wat ek nog raakgeloop het. Jy sou ook die politieke neerslag van elke tydvak as voeder van die spesifieke episode kon analiseer. Hoeveel lyne kan jy dan terugtrek na Venter en Schoeman? Ek vermoed nie veel nie, want Deon se aanpak het ’n groter deel van die geskiedenis wat dit onder die loep neem."

Vyf jaar na die publikasie van Ester word Kerneels se volgende roman, Hond se gedagte, in 2019 by Human & Rousseau uitgegee.

Hy vertel aan Murray la Vita (Volksblad, 16 Augustus 2019) dat hy direk nadat Ester klaar geskryf was, met die nuwe een begin het, hoewel die idee al voor Ester op die horison was, "maar die goed moet eers ryp word in jou voordat jy by hulle kan uitkom. Hierdie sou aanvanklik net doodgewoon ’n rugbyboek gewees het, maar met Carien se goed (sy vrou, Carien, is in 2016 oorlede) … ’n ou gaan mos dan deur verskriklike gemoedstoestande en die hele rouproses …

"Rou is nooit te skei van godsdiens nie, godsdiens sal altyd íewers inkom en dan begin jy nou weer worry oor wat is nou rêrig aan die gang in die wêreld en al daai."

"’n Mens begin mos nadink: is daar nou ’n God en as daar ’n God is, is Hy van Liefde? Ek was my hele lewe lank nie gelowig nie, en dan kom jy by ’n punt waar jy skielik besef: Oukei, miskien … You're hedging your bets a bit."

Toe begin hy weer met Hond se gedagte, maar hy het baie gesukkel want die idee om die kerk in te bring, het by hom begin posvat: "En toe onthou ek in Piekniek by Hangklip was daar so ’n verwysing na ou Jaap Schvantz wat in cahoots is met hierdie bemagtingingsfamilie, hierdie struggle-aktiviste, en toe het ek dit nou maar net ’n stappie verder gevat en skielik het die rugby- en godsdiensding begin saamloop."

In Hond se gedagte is Jaap Schvantz en sy vrou, Krystle, die hoofde van Corpus Christi, ’n nega-onderneming wat beide rugby en ’n charismatiese kerk in Suid-Afrika beheer.

In Piekniek by Hangklip het Kerneels klaar daarvan melding gemaak dat Sarvu (die Rugby-unie) onder beheer van Corpus Christi is; dus moes net die detail nog uitgewerk word vir Gedagte. "Dit het ’n bietjie lank gevat, want ek het nooit besef hoe ’n ou deur iemand se dood getraumatiseer is nie."

Die roman het ’n vaste struktuur, skryf La Vita – dit speel in die twee weke voor die Wêreldbekerrugbytoernooi van 2025 af: "Élke dag gebeur daar goed. Iemand het vir my gesê ’n rugbyspeler se lewe is waarskynlik die verveligste blerrie ding, want jy het 80 minute per week op die veld en dan die res van die week moet jy volmaak waarmee? Leer wat jy wil doen of planne uitwerk vir die volgende wedstryd, en op die duur is dit ’n blérrie vervelige lewe, so jy moet die boek vol maak met ander goed. En só het dit maar tot stand gekom," verduidelik Kerneels verder aan La Vita.

In Hond se gedagte gebeur daar ’n wonderwerk en dit het Kerneels gevind in NP van Wyk Louw se Die hond van God toe die groot inkwisiteur aan Christus sê hy mag nooit weer ’n wonderwerk laat gebeur nie.

"Wat sal gebeur as daar weer ’n wonderwerk gebeur?" vra die skrywer aan La Vita. "En waar is die beste plek vir ’n wonderwerk om te gebeur as op die rugbyveld? Waar álmal dit kan sien?"

"Rugby gaan deesdae oor geld. Dit is ’n onderneming van ’n aard," gaan Kerneels voort. "En as jy dit en godsdiens [soos beoefen deur mense soos Angus Buchan wat in stadions vir groot groepe mense preek wat betaal om na hom te luister] kombineer, dan het jy mos die absolute ideale situasie."

"Jy het die velde, jy hoef nie te betaal vir die huur van die stadions waar die dankseggingsdienste plaasvind nie – al die geld gaan reguit na jou sak toe."

En dan is rugby mos ook ’n vorm van geloof, skryf La Vita, waarop Kerneels sê: "Daardie geweldige belewenis wat mense vandag nog het … In ’n tyd waarin die voortsetting van Cyril Ramaphosa se presidentskap onder ernstige beleg is, speel ons één wedstryd teen die All Blacks gelykop en die hele land voel of ons op water loop … Ek kan nie dink wat met die land gaan gebeur as ons sokker ewe skielik opvlam nie. Kan jy dink hoe eufories dit sal wees?"

Oor die karakter Fleur de Villiers vertel Kerneels aan La Vita dat hy haar met ’n doel hierdie naam gegee het, omdat die oorspronklike Fleur de Villiers een van die beste joernaliste is wat Suid-Afrika nog gehad het: "Ek het net gedink: Oukei, dis ou waardes wat eintlik beliggaam word in ’n jong persoon en hoe sal so ’n jong persoon reageer op wat in die moderne lewe aan die gang is? Hoe gaan sy optree as sy gekonfronteer word met godsdiens en rugby bymekaar?"

"So jy het ’n persoon wat sinies kyk na die dinge en haar belewenis daarvan word skiélik so skeefgetrek wanneer sy iets bonatuurliks beleef. Dan sit jy met die moderne mens wat in daardie dilemma is: Kán ek glo en wát moek ek nou glo? Is daar vir my enige keuse oor as om wonderwerke te aanvaar?"

In die roman ontwikkel die skrywer "’n situasie waar die afrigter nie ’n afrigter is nie, maar die stem van God is wat deurkom en die dinge lei".

"Ek is geïnteresseerd in hoe dinge gebeur wat ons as alledaags beskou, maar dit is eintlik deel van ’n baie groter verandering in die samelewing en in die maniere waarop ons sport en godsdiens beoefen. Sport is nie meer wat dit was nie, dit is basies nie meer sport nie, dit is iets heeltemal anders."

Oor die einde van Hond se gedagte het Kerneels nie sekerheid gehad nie, totdat sy vriendin Ali een oggend vir hom gevra het of hy al weet hoe dit gaan eindig. "En ek begin sommer praat en ek sê vir haar ek dink dít gaan gebeur en dít gaan gebeur en dan dít. En toe ek klaar is, sê sy: 'Maar hoekom skryf jy dit nie?'

"Dit is ’n einde wat vir my gegee is; ek het nie besef dit gaan só gebeur nie. En toe hy klaar is, toe is hy daar. Maar dit is maar basies jou onderbewuste wat waarskynlik al klaar die proses aan die gang gesit het. Om die ding bymekaar te kry, was vir my ’n baie groot plesier."

"Hond se gedagte is ’n heerlike draakstekery met die heilige erns waarmee sommige mense sport bejeën," skryf Willie Burger (Beeld, 7 Oktober 2019). "Dit is ook ’n gespot met die fanatiese wyse waarop sommige mense godsdiens beoefen. Ondanks die spottende toon, die draakstekery met clichés van die media en rugbyspelers, die oordrewe byname en die byna siniese ironie, word die leser tóg met ernstige vrae oor die lewe, oor sin, oor geloof, oor skyn en werklikheid, oor lewe in Suid-Afrika gekonfronteer."

"Die glans van professionele rugby verdof in die verveling. Die verwondering van godsdiens word korrupte mensewerk. Alles is ’n mediaspel. Nietemin bied Breytenbach se boek ook op ’n manier troos – in die betowering van die onverstaanbare, die eenvoud van die skone."

Burger meen ook dat Breytenbach ’n briljante idee gehad het toe hy besluit het om ’n boek oor rugby én godsdiens te skryf.

In Rapport (25 Augustus 2019) noem Jonathan Amid Hond se gedagte ’n "monumentale tydsdokument waaroor daar nog lank en met mening gedebatteer gaan word, al is die verhalende onderbou betreklik eenvoudig en maklik om te volg: Fleur de Villiers, ’n gerekende joernalis, maar geen rugbykenner nie, word gevra om ’n biografie oor die Springbokkaptein, Katstert Nel, te skryf. Niks nuuts of uitdagends daar nie, of hoe?

"Diegene wat vriende is met die skrywer op sosiale media, sal weet van sy amusante fiktiewe 'gesprekke' tussen die voormalige staatspresident, Jaap, die Nommer Een, en sy trawante. Dié ragfyn oor vir dialoog, vir stellings wat wemel van wilde betekenismoontlikhede en soepel sinsnedes wat skitter, is ten volle aanwesig in sy fiksie, en vernaam in Hond se gedagte. Die genotvolste paragrawe is inderdaad van so ’n aard dat die gekruide taal en gemoedelike spot so goed integreer dat die glinster amper geruisloos verbygaan.

"Elke nou en dan is daar die stem wat fluister: Fyn lees, Frikkie, wees bedag op swenk en systap; antisipeer die fopaangee en gaan vir die onderskepping.

"Fiksie is dalk ’n sport met reëls waaraan Breytenbach hom min steur. Sy skrywes het ’n eie interne logika wat motjiesmaat en met genoegdoening geproe moet word. Rugby-afrigters praat altyd van die vertroue in die 'proses' eerder as die blote uitslag: Beskou hierdie sleutel as deel van die bloudruk om die beste uit die leeservaring te haal. Klugspel en die spot dryf is immers deel van verstaan en heling.

"Met Hond se gedagte – en haas ongelooflike tydsberekening voor die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi – het Kerneels Breytenbach se vermenging van die prosaïese, die fantastiese en die blom van ’n lieflike vroulike protagonis sowaar die wonderbaarlike byeenbring van uiteenlopende en oënskynlik onversoenbare elemente vermag. Sport word inderdaad ’n saak van lewe en dood, maar beslis nie soos jy vooraf sou dink nie. Hierdie roman is ’n wonderwerk in die kleine, maar ’n wonderwerk desondanks."

Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge oor Hond se gedagte: "’n Lekker analise van sosiale kodes en gewoontes. En hoe vinnig vriendskap kan oorgaan in vyandskap."

"Elke hond kry sy dag; lyk soos ’n hond wat vet gesteel het; moenie slapende honde wakker maak nie is eweneens hier ter sprake.

"’n Mix van speurverhaal en sosiale mores. Prisplooi en sekswerkers. Corpus Christi teenoor rugby. Die obsessie met Britse adel is ook hier en hul manewales wat die pers aan die lewe hou. En die name: Katstert, Lektriek, Slapogie, Consuela, Pedrovene, Funky DD ...

"Soveel siele, soveel gebede. Soveel spanne, soveel reëls. Soveel kaartjies, soveel parkeerplekke. Soveel lesers, soveel menings. Veral rugbykenners en -liefhebbers sal die roman geniet."

Op LitNet sluit Dewald Koen sy bespreking van Hond se gedagte só af: "Hond se gedagte is ’n lywige roman waarin belangrike sosiale kommentaar gelewer word oor Suid-Afrikanerskap, rugby, geloof en die rol van die kerk. Belangrike en interessante temas, soos vooroordele, stereotipering, demensie, magsug en geldgierigheid, kom ook aan bod. Hierdie roman vorm ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing (die verlede, hede en toekoms), maar fokus veral op die Afrikanergemeenskap. Breytenbach dwing die leser by wyse van spreke om daadwerklik introspeksie te doen en vrae te vra oor belangrike vraagstukke waarmee die samelewing daagliks gekonfronteer word. Laasgenoemde geskied egter op humoristiese wyse en die roman slaag daarin om ’n genotvolle leeservaring te verseker sonder enige pretensieuse hoogdrawendheid. Breytenbach beskik boonop oor die vermoë om sensuele sekstonele te skryf wat nie sy naam op die Literary Review se Bad Sex in Fiction Award-lys sal laat verskyn nie. Alhoewel nierugbyliefhebbers moontlik langtand aan die roman sal begin lees, sal die geleidelike opbou van spanning, die nimmereindigende dramatiese intrige en skreeusnaakse humor lesers soos een van Jeanne Goosen se opgewonde toeskouers in "dag op nuweland" naarstiglik laat aanhou lees – selfs al weet jy nie wat die verskil tussen ’n skrumskakel en slot is nie. Die eindresultaat was net so opwindend soos die Wêreldbekereindstryd op 2 November 2019.

"Met Hond se gedagte het Breytenbach ’n waardevolle en belangrike bydrae tot die rugbyroman in Afrikaans gelewer."

Publikasies

Publikasie

Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde

Publikasiedatum

1976

ISBN

(hb)

Uitgewers

Stellenbosch: CT Breytenbach

Literêre vorm

M-verhandeling

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Morsdood van die honger

Publikasiedatum

1992

ISBN

098129859 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

CNA-debuutprys 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Glimlag

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131977 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ding tussen man en vrou: grappe byeengebring en oorvertel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150729 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Grapboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

7de Laan kook. Teks deur Kerneels Breytenbach en saamgestel deur Daleen van der Merwe

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151634 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Piekniek by Hangklip

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156035 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartland (verwerking van Deon Opperman se televisiereeks)

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624056911 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donkerland (verwerking van televisiereeks van Deon Opperman saam met Deon Opperman)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624065241 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands deur Ingrid Glorie 2015

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruispad (verwerking van Deon Opperman se televisiereeks)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624071426 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ester

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167956 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hond se gedagte

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798179294 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Kortlys WA Hofmeyr-prys 2020

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Kerneels Breytenbach as samesteller

Kerneels Breytenbach as vertaler

  • Impey, Rose
    • Gril jouself simpel. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028143 (sb)]
    • Die groen enkelgryper. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028704 (sb)]
    • Lappe-Lena. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028712 (sb)]
    • Ou Platkop. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028135 (sb)]

Artikels oor Kerneels Breytenbach op die internet

’n Keur van artikels deur Kerneels Breytenbach op die internet

Kerneels Breytenbach se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2016-07-20 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Kerneels Breytenbach (1952–) appeared first on LitNet.

Petra Müller (1935—2021)

$
0
0

Gebore en getoë

Petra Helena Müller is op 27 Julie 1935 op Botrivier gebore as een van vyf kinders van Hermanus Barend Müller en Anna Susanna Dippenaar. Haar pa was ’n polisieman en toe die kinders “groot skool” toe moes gaan en Petra tien was, trek hulle na Swellendam.

Petra vertel aan Beeld (20 September 2011, onderhoudvoerder nie vermeld in berig): “My ma was een van 25 kinders. Sy was die laaste oorlewende. Daar was darem drie vrouens ná mekaar. My oupa Arend was bekend in die Swartland as Mooi-Arend Dippenaar Stywe­snaar. Dit was sy bynaam vir hom gegee deur Kloppie Galoppie Hanekam, die rymelaar van Malmesbury. Hy was van die rooi Hanekamme. So, ek het grootgeword in hierdie web van verhale, want my ma was ’n manjifieke storieverteller.”

Haar pa, ’n berede polisieman, kom uit ’n volstruisboer-familie. “Hulle het ’n woeste streep in hulle wat ek toe geërf het. En gelukkig nog nie ontgroei het nie,” vertel sy aan Riana Scheepers (Die Burger, 13 Oktober 1993).

Na ’n paar jaar op die dorp tree haar pa uit die polisie en gaan boer op ’n plaas, Eenzaamheid, onder die Langeberge. In 1951, op sestienjarige ouderdom, matrikuleer Petra. Sy het met haar vinger in die sand geskryf voordat sy kon lees en het altyd geweet dat sy ’n skrywer wil word.

Petra se ouers was vertellers, haar ma “’n storieverteller soos min” en die wêreld waar sy vandaan kom, vol storiemense. En as jy oor haar liefde vir die mitologie vra, sê sy dat Homerus se stories vir haar so vanselfsprekend was soos dié van haar pa en ma. Boeke ontdek sy in Swellendam se dorpsbiblioteek. Op 12 lees sy die hele Dickens en Shakespeare, en nie omdat sy dit moes doen nie.

As kind, voordat sy geweet het sy gaan gedigte en kortverhale skryf, het sy al sprokies, raaisels en fantasieë vertel, skryf Riana Scheepers (Die Burger, 13 Oktober 1993). “Ons het grootgeword sonder ’n televisie en radio, maar ons het geluister, én afgeluister, en self vertel. Die ryk wêreld van stories wat om ons vertel is, was ons boeke.”

Riana wou weet hoe ’n soort kind sy was: “Onregeerbaar,” sê sy, “en tot sterwens toe nuuskierig.” En daar is in haar later jare nog altyd ’n sweem van daardie meisie wat in haar kinderjare lang tye in die veld kon rondgespeel het. Hierdie meisiekind wat maar redelik wild grootgeword het, kon vir haarself stories vertel.

Op tienjarige ouderdom word ’n storie van Petra in Die Jongspan gepubliseer en kry sy ’n tjek in die pos. Haar pa raai haar aan om die geld in grond te belê, want “dit loop nooit weg nie”, maar sy koop toe eerder "scent" en ruik lekker. Later koop sy wel haar stukkie grond, want “ek kan nie daarsonder nie.”

Oor watter digters ’n invloed op haar uitgeoefen het, vertel Petra aan Gerrit Brand (Volksblad, 7 April 2005): “Die dorpsbiblioteek in Swellendam het ’n ou Victoriaanse boekery bevat van die Swellendam Reading Circle: pragtige, goedgebonde volumes. Gelukkig het ek op my eie daar ingesak; ek is nie voorgesê nie, en kon alles self ontdek. Tennyson het my geleer dat woorde musiek is. Die musikale komponent is nog altyd die eerste ding. Ek het Shakespeare daar deurgelees, op die vloer. By hom kry jy die gewone volk, die rustics.

“My wêreld was vol sulke mense. Dis nie boekmense nie. Hulle het gepraat uit die Psalms en Gesange, en die Bybel. Ek was ’n verskriklike kraai, wat alles namaak, afluister, onversadigbaar en krimineel nuuskierig is. Van my ma, en uit daardie ongeskoolde praat, het ek oor poësie geleer. Dan was daar Bêrnd van As, ons weerprofeet. Die boere wou ’n keer weet of dit sou reën. Toe sê hy: ‘’n Vroemôre reën en ’n ou vrou se dans hou net ewe lank.’

“Dis Delfies! Ek het dié ‘oertigheid’ probeer behou. Daar is niks nuuts in my poësie nie. Ek gebruik voor-Christelike fragmente. In die voor-Sokratiese digters ontmoet jy die aristokratiese persoonlikheid. Van Wyk Louw se Nuwe verse verbind al dié wêrelde; so ook Leipoldt en Boerneef. Op skool het ons Gezelle gelees – ’n reguit pad in die diepste, diepste mistiek. Dan is daar die Bergpredikasie en die Zen-natuurgedig.”

Verdere studies en werk

Na matriek werk Petra vir ’n jaar as klerk by Nasionale Pers in Kaapstad, waarna sy na die Universiteit van Stellenbosch gaan en haar BA-graad in 1955 verwerf met Afrikaans en Engels as hoofvakke. Direk daarna is sy na Die Burger om as verslaggewer te werk.

Sy trou met Wilhelm Grütter, ook ’n joernalis, en omdat ’n getroude vrou in daardie dae nie toegelaat is om ’n joernalis te wees nie, tree sy uit as verslaggewer. Onder die skuilnaam Magriet Smalberger skryf sy ontspanningsverhale terwyl sy hulle drie seuns, Anton, Herman en Philip, grootmaak.

Petra het vir haar ’n plasie naby Piketberg gekoop waar sy haar intense liefde vir die natuur kan indrink. Sy het haar later in haar lewe gaan vestig by die Lamenier Village van die Nazareth-klooster-hospitaal in Vredehoek in Kaapstad.

Vanaf 1969 is sy vir tien jaar verhaleredaktrise by Sarie en dit is daar waar sy leer hoe ’n storie inmekaar gesit word – iets wat haar later as keurder en skrywer baie help. Vanaf 1980 tot 1989 is sy redaksielid by Tafelberg Uitgewers, waar sy keuring doen en veral werk met die ontwikkeling van jong skrywers. Petra besit die vermoë on skrywerstalent raak te sien en dit te ontgin. By Tafelberg Uitgewers werk sy in die bellettristiese afdeling en dit bly vir haar ’n wonderlike ervaring om die eerste te wees wat die manuskrip oopmaak en lees. Sy dring dan ook daarop aan dat die manuskripte onoopgemaak by haar aankom, want sy wil dit self oopmaak.

Petra se een broer, Nico, het op 22-jarige ouderdom verdrink en hierdie tragiese gebeurtenis was die impetus wat haar in die rigting van die digkuns gelei het. “Poësie is so ’n intense manier waarop jy probeer om jou smart uit te druk.” (Die Burger, 31 Augustus 2007)

Petra vertel aan Beeld (20 September 2012) dat haar broer se verdrinking “sinneloos” was. Voor sy dood het veral Petra gemeen dat almal vir altyd sou lewe en met Nico se dood het dit vir haar gevoel of die wêreld opgehou draai het. En dit was as gevolg van hierdie verdriet wat sy toe begin gedigte skryf het, maar aanvanklik net vir haarself.

Obool, haar eerste digbundel, is eers in 1977, ongeveer twintig jaar na Nico se dood, gepubliseer. “Ek het nie gedink ek kan ’n gedig publiseer en ’n bydrae maak nie, man. Maar iewers in daai tyd sê ek op ’n dag vir Uys Krige en Jan Rabie, wie ek goed geken het, ek skryf gedigte. Toe sê Uys vir my maar stuur dit vir [die poësie-tydskrif] Contrast. En ek sit toe ses gedigte bymekaar – drie in Engels en drie in Afrikaans.

“En daar publiseer hulle die gedigte – net een het hulle betwyfel – en [die redakteur] Jack Cope het vir my ’n kaartjie teruggestuur waarop gestaan het: ‘Never neglect your talent.’ Ek het nog altyd daai kaartjie. En as ek die dag moeg is vir skryf, dan dink ek net aan daai vier woorde van Jack Cope wat al lank onder die grond lê.” (aan Beeld)

Daar is ’n goeie kombinasie van “eenvoud, gedrae skoonheid en die mitologie” in Petra se werk, skryf die joernalis in Beeld ((20 September 2012). Hierop reageer Petra: “Die probleem met die mitologie is mense dink dis iets fantasties daar anderkant die berge. Die mitologie is hiér. Ou Martin Versfeld het my dit geleer. Hy was ’n wonderbaarlik eenvoudige ou man, maar ’n totaal bevryde siel. In sy kop het ’n spul kennis gesit wat verwerk is.

“Ons het dikwels op sy plasie in daai tweevertrek-kliphuisie van hom gekuier. (Onheilige vriende van ons het dit genoem ‘die broeikamer’ en ‘die stoeikamer’.) As dit koud word in die winter, sit ons ’n halwe boom in die vuur en dan gesels ons met ons kaalpote op die lip van die haard. En daar het hy my geleer – al die groot konsepte, al die groot narratiewe, is goed wat hiér geskied: die wederkoms van Christus is die opkoms van die son; die hemel is as jy vrede in jou huis het en die hel is as julle so baklei dat julle soos katte in die bossies wegraak.

“Maar weet jy wat het Martin Versfeld ook een keer met my gedoen? Ek het vir hom een van my digbundels gegee, ek onthou nie meer watter een nie, en vir hom gevra of hy my sal sê wat hy daarvan dink. En weke gaan verby en ek hoor nie ’n stomme woord van hom nie. Eendag is ek toe weer in daai spelonk van ’n studeerkamer van hom waar die wysheid van die wêreld in sulke bruin volumes teen die dak verdwyn het. Hy’t so ’n katedertjie gehad en ek sien my boek lê daarop. Ek vra toe vir hom: Nou wat dink jy daarvan? En hy sit sy hand so troostend op die boek asof dit ’n kind se kop is en hy sê: ‘Eendag sal jy nog ’n goeie digter word.’ Ek skryf nog altyd agter daardie eendag aan.”

Sy dig ook haar die dood van haar ouers, haar man, Wilhelm Grütter, se afsterwe en vriende soos Martin Versfeld wat ook dood is. Hieroor vertel sy aan Murray la Vita (Die Burger, 31 Augustus 2007): “Martin Versfeld het vir my gesê: ‘As dit by die dood kom, word almal behalwe die malles stil.’ Die verlies, daai gat, jy sien hom dán. En die dood word vir jou baie bekend. Hy’s nooit weer ’n vreemdeling as jy hom een keer in die oë gekyk het nie. Ek was al twee keer naby die dood gewees. Water is my ding. Ek kan nie van water af wegbly nie.”

Voor die verskyning van Petra se eerste digbundel, Obool, in 1977, word twee romans,Verlore vallei (1962) en Die windskerm (1963) gepubliseer. Sy volg Obool op met Patria in 1979. In 1980 word Patria met die Eugène Marais-prys bekroon. Van Petra se ander digbundels is Liedere van land en seeMy plek se naam is Waterval, Swerfgesange vir Susan en ander en Die aandag van jou oë.

Met die publikasie van My plek se naam is Waterval skryf Joan Hambidge (Die Burger, 3 Desember 1987) dat ná die verskyning van Liedere van land en see (1984) Petra al die eienskappe van ’n besondere digter getoon het en hierdie belofte word bevestig met My plek se naam is Waterval. Hambidge gaan voort: “Hierdie bundel bevat poësie wat getipeer kan word as die soort wat sê: die voël is in die lug; die vis in die water . . . En juis hierom is sóveel verse (dikwels fragmente, ‘stukkies woorde’) omtowerings van bekende Japannese én Sjinese voorbeelde. Die digteres voorsien die leser ook van ’n bruikbare inleiding: ‘Die Sjinese en Japannese gedigte hier weergegee, is nie lettergetroue weergawes van die oorspronklikes nie. Soms word hulle, in ooreenstemming met die Oosterse tradisie van die verbruik van tradisionele poësie, by die Afrikaanse landskap aangepas.’ Poëtiese omdigting is dus hier aan die orde van die dag. Die wind, gras en water blyk die belangrikste simbole (eintlik ding-e) te wees in die Oosterse poësie en hóé hierdie simbole omgedig word, sal vir die leser van die poësie 'n heerlike leeservaring wees. En bely die digteres: die plasie Waterval is ná 'n brand verwoes en daarom het hierdie verse hul beslag gekry. So bevestig sy dan ’n oeroue beginsel dat die poësie (dikwels) uit verlies ontstaan. Ek het lanklaas ’n digbundel gelees wat uitroeptekens in die kantlyn ontlok het. Maar by die lees van Müller se My plek se naam is Waterval, was hierdie leser dikwels só verruk deur ’n beeld (of hele vers) dat ’n kompliment soos ‘pragtig’ of ‘mooi’ onwillekeurig neergepen is.”
Vir Hambidge is hierdie bundel een wat jy stadig moet lees en ook nie alles op een slag nie. Die bundel moet ook geniet word, want dit sal ’n “leeservaring wees wat die moeite” werd sal wees. Hambidge beskou Petra Müller as een van die Afrikaanse poësie se voorstes.

In 1997 verskyn Swerfgesange vir Susan en ander. Dit handel oor afskeid van vriende en ander bekendes en die verdriet wat daarmee saamhang. Geliefde vriende waaroor gedig word, is onder andere Susan Rudnitzky, Eraine Nankin en Marint Versfeld. En as Petra nie oor hulle geskryf het nie, sou hulle grootliks onbekend in Afrikaans gebly het, skryf Joan Hambidge (Die Burger, 23 Julie 1997).

Sy vervolg: “Swerfgesange vir Susan en ander bevestig Müller se posisie as liriese digter. Sy is nie akademies ingestel nie; eerder spiritueel. En as sy in gesprek tree met ander digters, dan is dit op 'n praatvlak: een mens tot ’n ander. (Terloops, agterop verskyn nie ’n foto van haar nie, maar van Osip Mandelstam (1891-1938).

“Dit is ’n ars poetica van Petra Müller: haar poësie is soos ’n helder landskap. Of dit is eenvoudige weefwerk wat ’n mens imponeer om die helder kleure. Sy het al dikwels oor die Russiese digters geskryf – ek dink hier aan haar gedig oor Martina Tsjwetajewa. Die gesprek met Anna Akhmatowa. En die verdigtings van Osip Mandelstam, die Russiese digter wat in ’n kamp naby Wladiwostok gesterf het tydens die Stalinistiese vervolging. Snags het hy sy gedigte aan sy vrou Nadezjda voorgedra, en sy het dit gememoriseer en sodoende het sy poësie oorlewe. Die bundel praat dan in die idioom van oorlewing.

“Dit is ’n bundel wat sy beslag gekry het in ‘helderte en pyn’. Die digter knoop ook ’n gesprek aan met haar eie poësie en sy word al suiwerder. Die eiesoortige aanslag van Petra Müller se poësie, en die onbekende of minder bekende verwysings wat sy aan lesers voorstel, moenie onvermeld gelaat word nie.

“Haar poësie is uiters sintuiglik. Sy dig aards, konkreet. Dit is iemand wat die wêreld om haar sién. Sy praat terug met Leipoldt, met Boerneef en met Opperman. Vir die leser lê daar ’n leeftyd voor om uit te pluis aan hierdie digter se alfabet (om haar woorde aan te pas.) Dis die moeite werd om saam te reis.”

Vir TT Cloete in Beeld van 8 September 1997 is daar “baie herinneringe in die gedigte, baie onthou, wat ’n vashou, ’n staning of opdam in die swerftog is, daar is ’n opskort of ’n sesuur, ’n klont in die vloei van Herakleitos, ’n duur in die aftik van die tyd, ’n talm in die werklike oomblik. Soos die lewe, word die dood vanselfsprekend met groot intensiteit belewe, soos in die digter se vroeër werk. Van die beste gedigte is aan die een kant vreugdevolle genieting van ’n nietige skoonheid (‘Die vraat’), en aan die ander kant is van die mooiste verse elegies, van ’n mooi droefheid.”

In 2005 ontvang Petra die Hertzogprys vir Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde. Petra se man, Wilhelm, is in 2001 na ’n huwelik van 45 jaar oorlede en hierdie bundel bevat gedigte rondom sy dood en is geskryf tydens sy lang siekbed en na sy dood. Nadat sy gehoor het dat die Hertzogprys aan haar toegeken is, sê Petra aan Anastasie de Vries (Rapport, 3 April 2005) dat sy “skoon verstadig” is. “Verstadig, omdat ‘verstom’ nie haar gevoel so lekker kan beskryf nie. Vandat die bundel verskyn het, sê my vriende en van die digters saam met wie ek werk dat ek die prys moet wen, maar ek het vir hulle gesê hulle moet hul groot monde toehou. Want wen jy nie die prys nie, lyk jy soos ’n pampoen. Die prys is nie iets waaraan ek gedink het nie, want ek het gedink dit lê nog vorentoe. En nou is die toekenning so onverwags.”

Oor Die aandag van jou oë skryf Joan Hambidge in ’n brief aan Die Burger (29 Julie 2010) dat nadat sy die bundel die eerste maal gelees het, “het my hele liggaam begin bewe. Dit was, soos Ted Hughes se Birthday letters, ’n leeservaring wat ek nooit sal vergeet nie. En dit, volgens Emily Dickinson, is die waarmerk van egte poësie. Petra Müller is 75 en haar ‘gedigte vir die liefde’ is bepaald ’n hoogtepunt in die digkuns. Haar lykdigte en hartgrypende verse oor haar gestorwe broer Nico, wat regdeur haar digkuns vibreer, verdien vermelding.

‘met poësie wat inwoon soos ’n mak rot/
in die skuifelende lasvrag van die lyf.’

“Dit staan in die onvergeetlike vers oor Marina Tsvetaeva. Haar gesprekke met buitelandse digters en portrette van skilders en filosowe is eweneens onthoubaar. Haar natuurverse kan ’n mens nooit vergeet nie, nes haar uitspraak dat wanneer jy ’n gedig skryf, dit eenvoudig en in sigself afgerond moet wees soos ’n klip of ’n druppel water, aldus die inskrywing op Poetry International se webruimte. Jong lesers geniet en waardeer ook haar werk in sowel Afrikaans as Engels (Night Crossing het in 2006 verskyn, ’n bundel wat sy vir haar kleinkinders in die buiteland geskryf het). Op 75 drink ons ’n heildronk op haar digterlike kwashale.”

Bernard Odendaal skryf in Die Volksblad (5 Augustus 2002) dat die bundel bestaan uit verse oor die liefde wat, as gevolg van Petra se man, Wilhelm, se afsterwe, algaande meer ontroerend en elegies word. Petra het ook al in Obool en Swerfgesange vir Susan baie suksesvolle elegiese verse geskryf.

Odendaal gaan voort: “Die bestek van ’n resensie kan nie naastenby die volle tematiese en verwysingsrykdom van dié diggeweefde bundel blootlê nie. Trouens, juis die verweefdheid van die persoonlike met ’n verskeidenheid bowe-persoonlike verwysingsvelde werk, deur die interpretasieweerstande wat dit meebring, plek-plek stroefheid in die hand. Die aandag van jou oë is egter ’n besonderse mylpaal in die oeuvre van Müller, waarmee sy ’n werklik uitstaande bydrae tot die Afrikaanse poësieskat lewer”

Petra waag ook haar hand aan die skryf van kinderboeke en Die kind van konings (1968), Klein Wiek se groot pampoen (1980) en ’n Reënboog vir Hannatjie (1990) is die goeie gevolg daarvan. Petra skryf nie net self kinderboeke nie, sy is ook die vertaler van etlike uit Engels, Duits en Sweeds (Die groot sneeustormFerdinand die fluitspelerDie drie koningsDie lepelboom en Die verhaal van die drie bome).

As kortverhaalskrywer maak Petra haar merk in die Afrikaanse letterkunde met bundels soos Werf in die rûens (1980), Voëls van die hemel (1982), Die dwerg van die Infanta en ander verhale (1993) en In die omtes van die hart (1995).

Die verhale in Petra se eerste twee bundels kortverhale, Werf in die rûens en Voëls van die hemel, openbaar ’n “werklike, plaaslike aardsheid”, skryf Fanie Olivier in Beeld (15 November 1993). Maar met Die dwerg van die Infanta wil dit met die intrapslag blyk (as gekyk word na die titel en die buiteblad) asof die leser met nuwe en minder bekende wêrelde gaan kennis maak.

Dit is egter net waar van die eerste drie verhale van die bundel. Die ander veertien verhale “staan vierkant in ons gemeenskap en byna uitsluitlik in die verkenning van die plattelandse saamleef wat ook in Müller se vroeëre prosa treffend gestalte gekry het. Soek ’n mens na deurlopende motiewe in hierdie ongelyke versameling, lyk dit my dat die hooffigure byna deurgaans voorgestel word as buitestaanders met fisieke of sielkundige gebreke.”

Olivier voel egter dat die skrywer “in die meeste verhale dalk net nie duiwel genoeg (is) om die spanning tussen goed en boos bedrieglik en bedreiglik genoeg hier gestalte te gee nie. Müller is ’n knap woordkunstenaar wat telkens met ’n skerp of gevatte formulering haar tekste kan knoop, of met vaart verder kan stuur. Sy is ’n betroubare verteller (hoewel sy nie altyd die perspektief suiwer hou nie) wat deur die gebruik van enkele woorde (deur haar verteller of in die mond van haar karakters) die taal- en geografiese wêreld van die karakters vaspen en wys hoe Afrikaans pretensieloos lééf.”

In die omtes van die hart en ander verbeeldings is aan Petra se kleinkinders opgedra: “om eendag te lees wanneer sy deel word van húlle stories” (Die Burger, 27 Julie 1995). Met hierdie bundel kortverhale gaan Petra nie net terug na die plekke van haar kinderjare nie, maar ook na die verhale en gebeure van daardie tyd.

Vir Gretel Wybenga (Beeld, 8 Januarie 1996) is In die omtes van die hart ’n baie spesiale bundel wat “van die mees beleë prosa in Afrikaans bevat”. Die bundel bevat 76 “kortverhale” wat dikwels soos poësie klink.

Oor In die omtes van die hart skryf Hennie Aucamp (Die Burger, 27 September 1995) dat Petra Müller met hierdie bundel “die waardige alchemie-tradisie in die vertelkuns voortsit. Sy is 'n moderne Sjeherazade; 'n vennoot van skrywers soos Karen Blixen en Calvino. Op haar beste spin sy goud uit strooi en pers sy attar uit rose. Bundels soos In die omtes van die hart van Müller en Die donker melk van daeraad van George Weideman kom byna as antwoorde op Salman Rushdie se pleidooi dat die oerbron van alle stories teen besoedeling beskerm moet word. Müller en Weideman probeer die begrippe tel en vertel in vertelling heraktiveer; hulle vra, elk op 'n eie komplekse manier, respek vir helder fonteinwater.” (…)

Vir Aucamp is daar ongelukkig verhale in In die omtes van die hart “waar die verteller via toon en aanslag ’n spelbederwer binne eie werk raak. Ek dink aan daardie tekste waar Memórie die verteller na die oerherinnerings van die Westerse beskawing lei, en die verteller ’n Laertes, ’n Kirke, ’n Antigone laat word. Dié identifikasies is al oor en oor deur skrywers aangegaan, en wat sonder uitsondering gebeur, is dat die oermodelle te sterk is vir hul nabootsings. Dié leser is hom bewus daarvan dat hy vooroordele het, en dat sy ontvangs van sekere Petra Müller tekste hierdeur gekleur mag word. Die wêreld van haar ‘wilde verbeeldings’ (sien reklameteks) spreek my met weinige uitsonderings minder aan as die fantastiese wêreld van haar werklikhede; of laat ek dit só stel: ’n werklike wêreld wat deur die magiese vermoë van ’n Petra Müller tot wonderwêreld getransformeer word.”
As Petra self die Hertzogprys aan een van haar boeke sou moes toeken, sou dit aan In die omtes van die hart wees, erken sy teenoor Gerrit Brand (Volksblad, 7 April 2005). Want “dit teken verskillende taferele uit die lewe, en bestaan uit ’n groot reeks transformerende tekste.”

In 1996 ontvang Petra die Leserskring se toekenning as Boekjoernalis van die Jaar. Haar werk word ook in Frans, Nederlands en Russies vertaal.

In 2001 is Petra ook betrokke by die publikasie van Nuwe stemme 2 toe sy as samesteller saam met Nèlleke de Jager optree.

Petra vertel in 2001 aan Breyten Breytenbach in Ja-nee (poësie) op kykNET dat sy op daardie stadium in haar lewe haar gedigte net in Engels skryf. Petra het vir die eerste keer amptelik met Engelse gedigte in aanraking gekom toe sy as kind die biblioteek op die dorp besoek het en dit daar gekry het. Dit was veral die liedjies in Shakespeare se drama wat vir haar bekoor het. “Ek is baie lief vir Engels, maar ek gooi dit nie in my eie taal in nie,” sê sy aan Breytenbach. Sy bedkryf haarself as ’n “primitiewe mens”, net soos haar pa was en ook een van haar kleinkinders. Poësie is vir Petra “so eenvoudig as om water te drink” en dit moet “’n deurskouing van die sluiers van illusie” wees, skryf Carel Lessing (Beeld, 3 April 2001).

Petra se eerste bundel Engelse gedigte, Night crossing, word in 2006 uitgegee. Dit was die gevolg van ’n beroep wat haar vier kleinkinders in Kanada op “ouma Petra” gedoen het om tog asseblief iets te skryf wat hulle ook kan verstaan.

In Die Burger (18 Desember 2006) skryf Carrol Clarkson hierdie Engelse bundel ’n interessante skuif is binne die opset van al Petra se werke. “Haar poësie vra nou om ’n gesprek in verband met die werk van ander tweetalige digters. Elisabeth ­Ey­bers, Ingrid de Kok, Antjie Krog en Joan Hambidge is van die ander name wat by ’n mens opkom.
Wat die temas sowel as die taalvorm betref, vind Müller se gedigte hul stem in ’n enigmaties liminale ruimte. Die gewaarwording van ’n drumpel, van ‘betekenis in afwagting’, geld ook die leser se ervaring: Die gedigte laat hulle nie eenduidig vertolk nie; resterende betekenisse kan nie netjies afgedig word nie; dis asof die taal bly weerklink nadat die boek toegeslaan is.

“Tematies vleg Müller ’n delikate draad tussen tradisionele teenoorgesteldes, en destabiliseer sodoende die beperkende logika van wedersyds uitsluitende twee­delings. Skyn­­baar duidelike onderskeide tussen land en see, dag en nag, lewe en dood, taal en die ­wêreld, word verdof en die begrippe verbeelding ryk herverbind deur die taal van die gedig.”
Vir Clarkson is Night crossing op sy beste wanneer die digter in ’n “eietydse, persoonlike idioom praat – dis die beelding van ‘cellphone souls’, van die ‘bitter backbite of the strong beer’, wat help verhoed dat Engels in Suid-Afrika artrities en vergange raak.”

In 2007 verskyn Desembers, ’n keur uit Petra se kortverhale saamgestel deur Rachelle Greeff. Hierdie bundel is opgedra aan “Charles Fryer, leermeester en bron”, destyds uitgewers by Tafelberg Uitgewers en ’n kollega van Petra. “Ek het ’n dekade lank in die kantoor langs hom gewerk. Hy’t langs jou gaan sít . . . Hy het jou elfuur in die nag gebel oor ’n komma. Vakmanskap. Maar hy het ons almal geleer; hy’t die hele trop van ons daar geleer. Daar het nie destyds ’n boek met ’n drukfout in verskyn nie,” aan Murray ;a Vita. (Die Burger, 31 Augustus 2007)

Vir Hennie Aucamp is die titelverhaal in Desembers een van die uitstaande verhaal oor hoe om skeppend te werk te gaan in Afrikaans. Petra Müller se verteltrant is nie ingewikkeld nie, maar tog beeldend. Sy slaag daarin om nie pretensieus te wees nie, deur die “subteks aan homself oor te laat” (Rapport, 7 September 2007).

Aucamp vervolg: “Die operatiewe woord by Müller is ‘beeldend’. Wat jou ná jare bybly in ’n Müller-verhaal is ’n bepaalde beeld. Vir my staan van Müller se mooiste poësie in haar kortverhale. Hou in gedagte dat ’n luiperd destyds in die volksmond ’n tier genoem is – en wie vergeet dan ooit hierdie beeld van ’n dooie ‘tier’’? ‘Hy is lig en donker soos hy daar lê, maanlig en skaduwee. Hy leef nie, maar dit lyk of hy leef. Sy patroon vloei om sy kop en bene saam asof hy leef. Sy kop is ’n deel van die boom waarin hy gevind is. Sy liggaam is ’n veld vol donker blomme. Sy dooie oë is twee splete waarin maanlig opdam, vlak soos sanderige poele water.’ In die aangehaalde gedeelte gebeur wat net in suiwer elegieë gebeur: dít wat dood was, mens, dier, blom, boom, herleef in die woord.

“Greeff het uitstekend gekies. Byna al Müller se groot verhale is opgeneem in Desembers: ‘Koendoes’, ‘Engel by die vleiland’, Dis dag, Hans Klou’, ‘Brooddoek’, ‘Junkheap in Oktober’. Een sterk verhaal is ongelukkig nie daar nie, ‘Jerusalem is omgeploeg’ (uit Werf in die rûens), een van die beste tekste in Afrikaans oor Joods-Afrikaanse verhoudings. Maar geen bloemleser kan alle lesers bevredig nie – bloemlees is op stuk van sake ’n subjektiewe onderneming.

“Müller is nie net ’n knap verteller nie. Sy het, soos Wiesa in Joernaal van Jorik, die gawe om ‘die vuurtjie binne alle dinge’ raak te sien, en dit is hierdie vermoë wat aan baie van haar tekste hul blywendheid gee.”

Nadat Wium van Zyl Desembers gelees het, het hy weer eens onder die indruk gekom van hoe ryk en divers Petra Müller se kortverhaalskat is. Desembers beklemtoon net Müller se “ryk prosastem” wat hy hoop nog lank gehoor sal word. (Die Burger, 20 Oktober 2007)

Van Petra se gedigte is ook al getoonset en Die aandag van jou oë is deur Lize Beekman opgeneem en kan op haar CD Draadkar oor die see gehoor word.

Petra se jongste werk is haar digbundel Om die gedagte van geel wat in 2012 verskyn het.

In ’n onderhoud met Melanie Grobler op Versindaba vertel Petra oor hoe sy (in die algemeen) te werk gaan as sy skryf aan ’n nuwe bundel, maar ook spesifiek toe dit Om die gedagte van geel gegaan het.

Petra vertel aan Melanie Grobler dat haar redakteur, Francois Smith, wat sulke goeie werk doen, moes in gryp om Om die gedagte van geel korter te maak. Sy wou by Petra weet watter impak dit op die bundel gehad het.

Petra se antwoord: “Ek het opgemerk in my laaste twee digbundels dat my gedigte soos ’n jaghond in kringe loop. Ek skryf die gedigte oor maande of jare en as dit tyd word vir ’n bundel pak ek die verse uit op ’n tafel of op die vloer waar ek hul rondskuif sodat een gedig op die ander volg. Weldra begin die een na die ander tema ook na vore tree; temas verander van bundel tot bundel. In my vorige bundel was dood ’n sterk aanwysende tema. Maar hier het geel na vore gekom en word dit ‘n bundel van die lewe. Opwindend vir die digter om te sien wat uit die onbewuste na vore tree. Geel is oorheersend: die skildery op die voorblad is lewendig geel, ek skryf oor die son as bron van energie, die sonblom, die graanvelde van die Overberg, die lemoen, die lemoenboorde, die lemoenduifie en die geel lappe waarvan my ma klere gemaak het. In die namiddag het sy so gesit in die sagte lig van die son en dan op die naaimasjien gewerk. Geel kring uit en word die titel van die bundel. Ek werk op ’n organiese wyse, dig totdat die interne goed na vore tree. Die gedigte vermenigvuldig en word soos deeg wat uit ‘n kom uitrys. Dit word onhanteerbaar. My redakteur, Francois Smit, neem van die gedigte weg. Daarna moet nuwe hegtinge gemaak word sodat niks los staan nie. Die hele proses verbeter die bundel.”

Petra vertel verder aan Grobler dat Om die gedagte van geel ’n verhaal geword het – daar is ’n begin, ’n middel en ’n einde en dat daar ook karakters daarin is. Dit vertel die verhaal van ’n dogter wat opgroei met ’n pa wat eers polisieman was en toe ’n boer met sy eie plaas naby Swellendam. As kind het die meisiekind pal weggeloop en in die bundel vind die leser gedigte oor “paadjies en waterslote”.

Spesifieke mense kom ook in die gedigte voor, soos die pa en ma wat altyd daar is. “Dan is daar iemand met ? demoniese geaardheid, Mal Elsie. Ander figure wat opgeroep word is Hanna Bladcher, ‘n Jodin, ‘n ouer vrou en Harold, ’n gespreksgenoot. Hanna het groot donker oë soos ’n panda, ‘n wyse vrou. Reis saam met haar in Sjina, deel ’n kamer met haar. Terug in Kaapstad word ons vriende. Elsie, die draer van my biografiese gegewe kom sterk na vore. Dis die storie van ’n kind wat groot word, van jeugliefde, en grootmens hartstogte, verliese.

“In die volgende afdeling word daar weg gespring na Griekeland, na Ceres, die Godin van Graan en die tema van geel, ’n verbinding met die wêreld waar die kind groot word met die alomteenwoordigheid van geel. Ek moes by die vader gode verby na die moeder gode. Die digbundel is verhaalmatig; geen vry-swewende gedigte met ’n bepaalde liriese element nie. Die werk staan op ’n manier nader aan die nuwer digkuns wat genoem word ‘gewone praat poësie’. Die karakters praat gewoon en daar is nie bewysbare poëtiese konstruksies nie, maar eerder stories wat iets wil openbaar. WA de Klerk het destyds ’n opwerking gemaak oor die digterlikheid in my verhale en iets verhalend in my gedigte. In In die omtes van die hart is daar sprake van impressiewe prosa wat neig na die poësie. In hierdie bundel is die gedigte verhalend.”

Melanie Grobler (Versindaba) vra Petra nader uit oor die magiese in Om die gedagte van geel: “Magiese goed is dit wat saam met kinders gebore word en wat hul vir ’n tyd saam met hulle dra. Dan begin hulle die realiteit deur taal ervaar. Maar vir ’n lang tyd bly die magiese en dan beweeg dit weg en dan word die kinders deel van hierdie wêreld. Ek is een van die mense wat in ’n groot mate in die kinderwêreld vas gesteek het. Het die kinderlike magiese kwaliteite behou en op ’n manier is ek nog altyd aan die speel. Dit is wat die magiese is, ’n vrye toegang tot die moontlikhede van die wêreld, tot fabulasie, tot die geweldige verlenging van betekenis wat mens in die simboliese wêreld vind. As mens oud word keer mens terug na daardie ding toe; mense word mos kinderlik, op ’n mooi manier en die ‘getier’ van die wêreld val weg en hulle word weer eenvoudig. Ek self is baie kinderlik en soms ook kinderagtig en is op my gelukkigste as ek met klein kindertjies speel. Miskien het iets hiervan oorgebly in die gedigte. Ek sal bly wees as dit die geval is.”

Met die bekendstelling van Om die gedagte van geel het Petra die skildery van Neil Armstrong wat as omslag vir die bundel gebruik is, saamgevat om vir die gehoor te wys. Vir Petra het die skildery aanleiding gegee tot haar denke en die daaropvolgende skrywery oor geel. Die sewe telefoonpale in die skildery kan beskou word as ’n belangrike “bindingselement” in die bundel, aangesien die bundel in sewe afdelings verdeel is. Die eerste afdeling is dan ook getitel “Telefoonpale”. (Bibi Slippers, LitNet)

Daar is rondom 187 gedigte in Om die gedagte van geel wat beteken dat dit ’n redelike dik bundel is. Fanie Olivier (Rapport, 31 Augustus 2012) skryf dat daar ’n wye verskeidenheid gedigte in so ’n lywige bundel is: “Soms is daar vrye vers wat herinner aan die sogenaamde praatpoësie (maar tog telkens met sterk klankbinding); oorwegend is egter die indruk van losser liriese gedigte waar veral teen die slot met rym geknoop word.

“Die geel waarvan die bundel­titel praat, is iets wat as ’n sentrale gegewe deur die hele bundel loop. Reeds in die bandontwerp met Neil Armstrong se skildery word die leser daarmee gekonfronteer en telkens kom ons dit weer teë: As kleur in die landskap wat die spreker in die gedigte omring, as teken van die son en warmte, vuur uiteraard en as aanduider van rypwording. (…)

“Daar is in hierdie bundel, soos mens kan verwag in so ’n opgawe, mindere gedigte. Maar selfs daar bly jy as leser bewus van die ongewone in die gewone, die oënskynlik lewelose dinge wat vol lewe is; wat met oop oë en vingers deur die digter raakgesien en in verwondering in gedig op gedig gestalte kry of aan die woord kom.

Om die gedagte van geel is ’n oorweldigende bundel. Nie op die wyse waarop byvoorbeeld Breyten Breytenbach se oorweldigende bundels jou asemvoete onder jou uitslaan nie, maar op ’n rustiger wyse, sodat jy saggies asemhaal en prewel omdat hierdie verse jou laat besef: ‘Is ons nie ’n mooi gedig vir onsself nie’.”

Vir Marius Crous (LitNet) lees Om die gedagte van geel “soos ’n impressionistiese skildery. Dit is die werk van ’n beleë digterskap en sal net soos sy voorgangers sedert Liedere van land en see vir lesers visueel en intellektueel stimuleer.”

Petra was vir baie jare ’n baie kundige resensent in koerante en tydskrifte, maar na haar man, Wilhelm, se dood in 2001 het sy die praktyk gestaak, “want ek het gedink: wat het ék nou soveel te sê oor ander mense se werk. Ek sal nie maklik weer klompe resensies skryf nie. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Jy moet élke woord tel. Jy weet, kreatiwiteit is ’n lewende ding, ’n organiese ding. Jy moet versigtig wees vir organiese prosesse; hulle vang jou. Ek dink enige vorm van kreatiewe lewe het absoluut iets onberekenbaars daaraan. En dít is wat my trek. Die wilde gedeelte daaraan. Want ek is eintlik nog maar ’n halfmak mens. Ek het nog nooit mak geword nie. Ek wil dit ook nie wees nie. Dit is ’n streep wat in my familie is,” aan Murray la Vita (Die Burger, 31 Augustus 2007).

Petra beskou nie gedigte skryf as werk nie, vertel sy aan Anastasia de Vries (Rapport, 3 April 2005). Sy is ook deeglik bewus daarvan dat daar ander digters is wat glad nie van hierdie stelling sal hou nie. “Dis net iets wat ek doen, soos brood eet, want skryf is vir my gewoon net lekker. Werk is mos iets wat vir jou swaar is. As iemand my sou vra om 'n ete vir twintig mense te kook, slaan ek net daar dood neer. Dit is werk. Digkuns is nie werk nie. Dis ook nie iets om oor huis toe te skryf nie. Want die digter is eintlik 'n afhanklike, iemand  wat die aarde bewandel en mense beluister wat nie eens besef hulle praat poësie nie.”

Ná sy onderhoud met Petra sluit Murray la Vita só af: “Sy praat oor haar plasie waar sý ’n storie geword het wat daar ronddwaal; oor hoe sy as kind in die nag onder haar bed met ’n kers weggeraak het in die wêreld van lees; die Zen-kern van die Bergpredikasie; hoe die Boeregrap vry maak; die gewone mens as held; heersers wat stadigaan mal word; drome wat verlei; haar kleinseun wat taal ontdek. Om ouer te wees is lekker, sê sy. En fluister: ‘Jy kan maak wat jy wil.’”

Met Petra se 75ste verjaardag het Willem de Vries (Die Burger, 27 Julie 2010) met persone gesels wat Petra goed ken. Charles Fryer het in die 1980’s saam met Petra by Tafelberg Uitgewers gewerk: “Petra is ’n onblusbare 75. As Dalene Matthee nog hier was, sou sy gesê het: ‘Skaam jy jou nie voor die Here dat jy nie ouer word nie?’ Maar dit het te doen met goeie gene en bly­moedigheid wat elke dag opnuut sprankel. Petra het ’n in­gebore wysheid, ’n springbron van ­onbesoedelde menslikheid, wat met die jare net toegeneem het. Die wens wat ek vandag vir ­Petra het, is om die lewe te vier in sy heilige aardsheid. En vir vorentoe: Skryf nog poësie wat asemhaal, wat die stilte besweer – die stilte wat ons omsluit ten spyte van ons baie woorde, ons strome klank, die stilte van ons onbeantwoorde vrae, van ons dooies, van die misterie van God.”

Toe Petra die Hertzogprys vir Die aandag van jou oë in 2005 ontvang het, het Louise Viljoen oor haar digkuns gesê: “Petra Müller is ’n waardige ­genoot vir ... Louw se Tristia, dele van Breytenbach se werk, ­Cussons se Die swart kombuis en Opperman se Komas uit ’n bamboesstok.”

Jeanne Goosen het vir Petra in die 1970’s ontmoet tydens Petra se tydperk by Sarie as verhaleredakteur: “Daar bestaan net een pil wat werk teen sinisme en dis Petra Müller.”

Hennie Aucamp het Petra beskou as ongetwyfeld een van die uitmuntendste kortverhaalskrywers in Afrikaans. “En as ek dit sê, kyk ek ­terug oor meer as ’n eeu. Op haar beste skryf sy ­‘klas­sieke’ verhale wat haar in ­gesel­skap van Jan van Melle, ID du Plessis, Abraham H de Vries, ­Elise Muller en ander ‘groot ­kanonne’ plaas. Is dit toevallig dat sy verlangs verwant is aan Elise Muller wat die Hertzogprys vir haar kortver­hale gewen het? Ook Petra sou dié gesogte prys vir haar ver­hale kon verower het. Sy hét die Hertzogprys gewen, maar vir haar poësie, wat vir my op ‘poëtiese geregtigheid’ neerkom: Is die kortverhaal in die hand van ’n meester nie ook maar poësie nie?

“In ’n telefoongesprek het Petra ­onlangs vir my gesê: ‘Om die mens­wetenskappe te verstaan, moet ­jy­self mens wees’. Met ’n toegewing hier en daar sou ’n mens kon beweer die ­letterkunde is by uitstek ’n mens­wetenskap. Het Terentius nie al ­gesê: ‘Ek is ’n mens: niks mensliks is aan my vreemd nie?’ Party skrywers is gelukkiger as ander: Hulle is vroeg al geskool in die menskunde. Petra se vader was ’n polisieman, en van hom het sy twee van haar allermooiste verhale gekry: ‘Dis dag, Hans Klou’ en ‘Brood­doek’. Verder het sy in ­lan­de­­like omgewings groot­­­ge­word, dié van die Overberg, en MERen Anna Rothmann baie goed geken: mens-mense. Maar die inkyk in die psige van die medemens, dié het Petra ­verfyn tot iets wat bó wetenskap uitgaan, en wat by gebrek aan ’n woord kuns moet heet. Die kuns, onder meer, van mededoë, van oorwoë vertel, met be­son­dere ­aandag aan toon­waar­des.”

Nèlleke de Jager, uitgewer, en saam met Petra Müller het sy ook Nuwe stemme 2 saamgestel, praat as volg oor Petra: “Dit sou moeilik wees om haar bydrae tot veral die Afrikaanse ­boekebedryf na waarde te skat. Ontel­baar hoeveelheid skrywers het al by haar insig en kundigheid ­ge­baat? – om maar ’n paar op te noem met wie ek al saam gewerk het: Pat Stamatélos, Kgebetli ­Moele, Ilse van Staden, Anchien Troskie (die skrywer van Dis ek, Anna). Die ­boekebedryf sou sowaar ’n leër, dowwer plek sonder Petra gewees het.”

Riana Barnard, ’n uitgewer van Tafelberg-Uitgewers, sê: “As uit­gewer is sy ­sekerlik een van die onbesonge helde. Sy is wel in 1995 bekroon as Boekjoernalis van die Jaar, maar haar bydrae tot die uitgewers­bedryf het hoofsaaklik ágter die skerms geskied. Oor ­menige ­manu­skrip wat onopvallend in ’n plastiek­sak op haar tafel land en uiteindelik topverkopersukses ­be­haal, plaaslik én in die buiteland, daaroor praat sy nié. In die tien jaar dat sy vir manuskripontwikkeling by Tafelberg verantwoordelik was, is publikasies van dié uitgewershuis nege keer met die Eugène ­Marais-prys bekroon.”

Abraham H De Vries, samesteller van Die Afrikaanse Kortverhaalboek, sê: “Wie van Müller se sensuele, ­malse, aardse verhale net die ‘kontrei’- aspek raaksien, mis die skagte ­in­sig in die menslike ­toestand. Ja, natuurlik is die ­werwe van haar wêreld die glooiinge van die Rûens. Maar die bestes stuur nie af op die omtes van die kontrei en sy knoet­sige bewoners nie, maar op die ­intes van ons ­gedeelde menswees: In die ‘hulle’ skuil daar telkens ’n ‘ons’.”

Publikasies:

Publikasie

Verlore vallei

Publikasiedatum

1962

ISBN

Geen

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekkring

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die windskerm

Publikasiedatum

1963

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die kind van konings

Publikasiedatum

1968

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: John Malherbe

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Obool

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624010570 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Patria

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013278 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 1980

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Werf in die rûens

Publikasiedatum

1980
1983 2de druk

ISBN

0624014002 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klein Wiek se groot pampoen

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014703 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Voëls van die hemel

Publikasiedatum

1982

ISBN

0614018628

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liedere van land en see

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624021238 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My plek se naam is Waterval

Publikasiedatum

1987

ISBN

0624024784 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Reënboog vir Hannatjie

Publikasiedatum

1990

ISBN

0624027643 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die dwerg van die Infanta en ander verhale

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624032221 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die omtes van die hart

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624034259 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Swerfgesange vir Susan en ander

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035727 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624041042 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Hertzogprys vir Poësie 2005

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Night crossing

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044645 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Desembers / saamgestel deur Rachelle Greeff

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045519 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om die gedagte van geel

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780624054467 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir Poësie 2013
  • Sala se Poësieprys 2013

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

As Magriet Smalberger

Publikasie

Die elande van Kruisberg

Publikasiedatum

[195-?]

ISBN

Geen

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekkring

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hy wat die goud bring

Publikasiedatum

1966

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die koue vuur

Publikasiedatum

1970

ISBN

Geen

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tant Madeleine se somer

Publikasiedatum

1974 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

0909231044

Uitgewer

Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Sanlamprys vir Afrikaanse Teater

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Magriet Smalberger-omnibus

Publikasiedatum

1982

ISBN

07981113170

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels deur en oor Petra Müller beskikbaar op die internet:

Biografiese artikels oor Petra Müller op die internet

Gedigte en artikels deur Petra Müller beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-05-18
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

The post Petra Müller (1935—2021) appeared first on LitNet.

Persverklaring: Finaliste van aanlyn dramakompetisie bekend

$
0
0

Die finaliste in Dramaweb SA se aanlyn dramakompetisie sal tydens ’n regstreekse stroming hul harte uitspeel op Saterdag 3 Julie (Afrikaanse kategorie) en Sondag 4 Julie (Engelse kategorie). Dit word aangebied in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en met ondersteuning van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV).

Inskrywings vir Dramaweb SA het vanjaar landswyd ingestroom en is deur die beoordelaars gekyk, geniet en beoordeel. "Na ’n wonderlike tyd van sweet en terugvoer skryf, is die beoordelaars werklik geïnspireer deur die talent in ons land," sê Ira Blanckenberg, eienaar van Dramaweb SA.

"Dramaweb SA wil jong akteurs se talente vier, maar ook help om jong mense te slyp vir hul pad vorentoe. Alle kinders wat aan dramakompetisies deelneem, gaan nie noodwendig professionele akteurs word nie, maar neem die vaardighede saam met hulle – waaronder selfvertroue, dissipline en kreatiewe denke, asook kommunikasievaardighede."

Deelnemers kon in Engels en Afrikaans deelneem in verskeie soorte items – ongedramatiseerde gedig en/of prosa, gedramatiseerde gedig en/of prosa, voorbereide lees, monoloog en selfs mimiek.

Die finaal word op albei dae (3 en 4 Julie) aanlyn aangebied en sal regstreeks gestroom word vanaf dramawebsa.co.za. Vier beoordelaars sal die optredes evalueer. 

Die program lyk só:

09:00    Graad RR tot 1
10:00    Graad 2 tot 4
11:00    Graad 5 tot 7

Middagete

13:00    Graad 8 tot 10
15:00    Graad 11 tot 12
17:30    Regstreekse aankondiging van die wenners in elke kategorie en prysuitdeling

Vir die KKNK lê dié vennootskap na aan die hart. "Ons leef in ontwrigtende tye en jongmense het 'n uitlaatklep nodig," sê Hugo Theart, die artistieke direkteur. "Die kunste bied 'n geleentheid vir ontvlugting. Dit is nie net 'n geleentheid vir jongmense wat in die toekoms professioneel by die uitvoerende kunste betrokke wil raak nie, maar is 'n platform om 'n liefde vir letterkunde en die kunste te kweek."  

Die ATKV deel die KKNK se geesdrif oor Dramaweb SA. "Die kunste verryk mense, oud en jonk, bevorder kreatiwiteit en bring gemeenskappe by mekaar," sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van taal en kultuur by dié organisasie. "Die ATKV ondersteun Dramaweb SA met trots en ons glo dié projek sal die voordele van toneel, digkuns en skryfkuns beklemtoon." 

Baie geluk aan die finaliste.

Afrikaans Graad RR tot 1

  • Adriaan Meintjes, Vryburg-voorbereidingskool
  • Alice Engela-mari Grobler, Laerskool Roodekrans (Dramatix)
  • Anje Moolman, Laerskool Die Krans
  • Gerhardus Oosthuizen, Voluit Primêre Skool
  • Johandré Conradie, Laerskool Eikestad
  • Kaylene Verheem, Laerskool Elarduspark
  • Khanya Duvenhage, Tuisskool
  • Lexi Hanekom, Pikkies-paradys
  • Logan van Heerden, Laerskool Garsfontein
  • Mieke Drenth, Laerskool Wonderboom

Afrikaans Graad 2 tot 4

  • Aaron Blake Anderson, Laerskool Roodekrans
  • Anzel Schuck, Laerskool Middelburg
  • Gustav Kruger, Curro Nelspruit
  • Isabella Steynberg, Laerskool Roodekrans (Dramatix)
  • Jacobus Oosthuizen, Voluit Primêre Skool
  • Kara Taute, Welkom Volkskool
  • Leila Barnes, Laerskool Eikestad
  • Leila Erasmus, Welkom Volkskool
  • Ronan Pienaar, Tuisskool
  • Wehann Snyman, Laerskool Anton van Wouw

Afrikaans Graad 5 tot 7

  • Annerie Havenga, Laerskool De Hoop
  • Elzerie Vermaak, Laerskool Elarduspark
  • Ilé Snyders, Laerskool Bredasdorp
  • Joane van Geest, Laerskool De Hoop
  • Luca Human, Curro Durbanville
  • Luhan Kruger, Curro Nelspruit
  • Mabel Matthee, Rûens Kollege
  • Mia-Cecilia Kriel, Curro Durbanville
  • Neldri Muller, Laerskool Gene Louw
  • Rossouw Van Wyk, Curro Nelspruit

Afrikaans Graad 8 tot 10

  • Anna Pretorius, Hoërskool Bredasdorp
  • Carisa Ahlers, Hoërskool Nelspruit
  • Danelle Jacobs, Hoërskool Martin Oosthuizen
  • Genna Labuscagne, Hoerskool Noordheuwel (Dramatix)
  • Liné Allen, Dramatix
  • Marelee Ferreira, Curro Windhoek Gymnasium
  • Mieke Saayman, Hoërskool Bredasdorp
  • Monja Van Heerden, Hoerskool Noordheuwel
  • Rudo Andreas van Diemen, Pretoria Boys High School
  • Somé Louw, Hoërskool Bredasdorp

Afrikaans Graad 11 tot 12

  • Cara-mari Botha, Hoërskool Framesby
  • Estia Scheepers, Hoerskool Noordheuwel
  • Helené Jansen van Rensburg, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Karli Marais, Hoërskool Noordheuwel (Dramatix)
  • Lieske Naude, Hoërskool Lutzville
  • Marlé Strauss, Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Marshallino Jantjies, Apex-hoërskool 
  • Megan Bester, Hoërskool Nelspruit
  • Mia van Loggerenberg, Axios Dramaskool
  • Zoe Labuscagne, Hoerskool Noordheuwel (Dramatix)
  • Zoë Louw, Hoërskool Bredasdorp

Engels Graad RR tot 1

  • Alice Engela-mari Grobler, Laerskool Roodekrans (Dramatix)
  • Isabella Augusto, Veeashe (Studio)
  • Khanya Duvenhage, Tuisskool
  • Stefan Pretorius, Laerskool Randfontein

Engels Graad 2 tot 4

  • Aaron Blake Anderson, Laerskool Roodekrans
  • Elizabeth Coetzer, Curro Durbanville
  • Isabella Steynberg, Laerskool Roodekrans (Dramatix)
  • Jacobus Oosthuizen, Voluit Primêre Skool
  • Lourens Pauer, Laerskool Helderkruin (Dramatix)
  • Miané Roux, Cambridge School Online
  • Milan van Niekerk, Laerskool Roodekrans
  • Peyton Finlay, Laerskool Gene Louw
  • Theodore Neil van Diemen, Laerskool Anton van Wouw
  • Wehann Snyman, Laerskool Anton van Wouw

Engels Graad 5 tot 7

  • Annebelle Spies, Laerskool Stellenbosch
  • Elzerie Vermaak, Laerskool Elarduspark
  • Ilé Snyders, Laerskool Bredasdorp
  • Janel Meijer, Laerskool Anton van Wouw
  • Leané Nortje, Laerskool Helderkruin
  • Lenadri Groenewald, Laerskool Helderkruin (Dramatix)
  • Liané Schuck, Laerskool Middelburg
  • Mabel Matthee, Rûens-kollege
  • Mia-Cecilia Kriel, Curro Durbanville
  • Sebastian Pretorius, Laerskool Randfontein

Engels Graad 8 tot 10

  • Anna Pretorius, Hoërskool Bredasdorp
  • Anriette Otto, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Christopher de la Hunt, Paarl Hoër Seunskool
  • Courtney Schelhase, Hoërskool Tygerberg
  • Daniela Demaio, Fairmont-hoërskool 
  • Kamryn Lowe, Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Kayla Pietersen, Worcester-gimnasium
  • Lucia van der Spuy, Hoërskool Swartland
  • Rudo Andreas van Diemen, Pretoria Hoër Seunskool
  • Unathi Mankahla, Hoërskool Parel Vallei

Engels Graad 11 tot 12

  • Christopher Smal, Hoërskool Voortrekker 
  • Emma Louise van Wyk, Global Leadership Academy
  • Helené Jansen van Rensburg, Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Jemma Miller, Tuisskool
  • Karli Marais, Hoërskool Noordheuwel (Dramatix)
  • Marlé Strauss, Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Pamela Phakathi, Apex-hoërskool 
  • Taylor Davids, Apex-hoërskool
  • Thembakuye Tu, Fezekile Sekondêre Skool
  • Tyrique Pienaar, Apex-hoërskool
  • Zoë Louw, Hoërskool Bredasdorp

Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24 met verdere ondersteuning van onder meer die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Departement van Kultuursake en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton-stigting.

The post Persverklaring: Finaliste van aanlyn dramakompetisie bekend appeared first on LitNet.

ATKV is dáár vir jou. Woes lekker. Duidelik.

$
0
0

Die ATKV is ’n diverse en inklusiewe kultuurtuiste vir alle Afrikaanssprekendes, ongeag hóé jou Afrikaans klink.

Die ATKV span vier “lekker” landgenote in om sy nuwe veldtog vlytig aan die volk oor te dra. Met die tema “Belê in jouself, belê in die toekoms” en die hutsmerk #weesdieverskil wil die organisasie sy strewe daarna om in Afrikaans ’n verskil te maak wyd laat weerklink.

Terence Bridgett, Cindy Swanepoel, Germandt Geldenhuys en Lundi Khoisan het geen bekendstelling nodig nie. Elkeen is geliefd in eie reg vanweë die vernuftige uitstal van hul veelsydigheid – of dit nou op die verhoog, op die kassie, voor die kameras of agter die mikrofoon is.

“Suid-Afrikaners word gedaag om vanjaar in hul eie menswees te belê en die wêreld om hulle ten goede te verander,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW.

Mahatma Gandhi het gesê: “Wees die verandering wat jy in die wêreld wil sien.”

Waar begin ’n mens om die wêreld te verander? Dis maklik, begin by jouself. Een klein verandering in jou binnewêreld kan ’n rimpeleffek hê wat kan uitkring na jou gesin, jou familie, die gemeenskap, jou dorp en land en selfs die wêreld.

Sonél sê voorts:

In 2021 wil die ATKV hierdie manier van “wees” uitdaag deur Suid-Afrikaners aan te moedig om met die hulp van die ATKV in hul menswees te belê.

Wanneer jy jouself ontwikkel en groei, word jy ’n volronde mens. ’n Mens wat dan danksy nuwe vaardighede en kennis ’n verskil kan gaan maak. Die ATKV het in elke fase van jou lewe ’n ontwikkelingsgeleentheid vir jou en die mense naaste aan jou.

Ons is baie opgewonde oor die nuwe bemarkingsveldtog en hoop dat Suid-Afrikaans dit sal geniet en dat dit hulle ook sal inspireer om by die ATKV betrokke te raak.

ONTHOU: As jy jou tussen 14 Junie en 14 Augustus by die ATKV aansluit, staan jy ’n kans om R10 000 of een van twee lewenslange ATKV-lidmaatskappe te wen. WhatsApp #weesdieverskil na 082 654 7577 as jy belangstel om deel van die ATKV-familie te word. Bepalings en voorwaardes geld.

#weesdieverskil

The post ATKV is dáár vir jou. Woes lekker. Duidelik. appeared first on LitNet.

Martin Steyn (1976–)

$
0
0

Gebore en getoë

Martin Steyn is in 1976 in Goodwood in die suidelike voorstede van Kaapstad gebore. Hy is die jongste van twee kinders en sy suster, Annelize, is tien jaar ouer as hy.

Hy word groot in Somerset-Wes, begin daar skoolgaan en matrikuleer in 1994 aan die Hoërskool Hottentots-Holland.

Op sy webwerf skryf Martin dat hy nie van jongs af lief was vir lees nie, maar wat hy baie geniet het, was "om storielyne uit te dink, of dit nou Lego-mannetjies, karretjies, houtgewere of sommer net my verbeelding was. Ook maar goed, want met ’n suster van amper tien jaar ouer en sonder vandag se magdom tegnologie, moes ek gereeld myself vermaak."

Vandat Martin ongeveer 16 jaar oud was, was dit sy droom om stories te skryf, "en nie net stories opmaak nie, die hele skrywerslewe," vertel hy aan Volksblad (18 Augustus 2014). "Die sit en skryf, die navorsing, en die manuskrip-tot-boek-proses saam met die uitgewer en die interaksie met lesers. Ek wil dit graag vir die res van my lewe doen."

Martin het ook as tiener John Irving se The world according to Garp present gekry en dit het hom gestimuleer om verder te lees, vertel hy aan Dirk Jordaan. (Beeld, 1 Oktober 2016)

Martin vertel verder op sy webwerf dat hy op vyftienjarige leeftyd een van Stephen King se boeke in hulle plaaslike biblioteek uitgeneem het. Hy en vriende het baie van gruwelprente gehou – hulle het onder andere gereeld na die video’s van Nightmare on Elm Street gekyk – en Stephen King was vir hom ’n bekende naam as gevolg van sy rolprente. Hy het The dark half uitgeneem en was dadelik ’n aanhanger. Die volgende paar jaar het hy feitlik net King se boeke gelees.

Hy vertel verder: "Dit was terwyl ek IT gelees het wat die skryfsaadjie in my ontkiem het. My eerste storie was 'Vengeance', 26 handgeskrewe bladsye en ’n pot waarin ek alles van duiwelsaanbidders tot ruimtewesens bymekaar geroer het. Dit was nie besonder wonderlik nie, maar ek was verlief. Ek het nog kortverhale begin skryf. Almal gruwel- of bonatuurlike stories, en party was nie te sleg nie. ’n Droom is so stilweg gebore: ek wou ’n skrywer wees."

By Stephen King het hy ook die kinderlike plesier van ’n goeie storie geleer en hoe belangrik gewone, egte karakters is, vertel Martin verder aan Elmari Rautenbach (Volksblad, 17 Augustus 2016): "Hy is ook die bron van een van my gunsteling-aanhalings: 'It’s the tale, not he who tells it'."

Verdere studie en werk

Dit was eers ná skool dat Martin in Afrikaans begin skryf het. "Sommer net. Uit nuuskierigheid. En toe skryf ek so lekker, die storie word my eerste vollengte roman. Dit was ook nie besonder wonderlik nie, maar ek het ontdek hoe lekker dit is om in Afrikaans te skryf – veral dialoog – én dit was ’n bewys dat ek ’n hele boek kan skryf. Dit lyk soos ’n verskriklike hoeveelheid bladsye om vol te maak wanneer jy dit vir die eerste keer aanpak."

Martin het ook sewe ware misdaad-verhale aan Crime Library, ’n CourtTV-webwerf, verkoop. Hulle het onder andere Moses Sitole, die verkragting en poging tot moord op Alison en die Sizzlers-moorde in Seepunt as onderwerpe gehad.

Uit al hierdie belangstellings, soos byvoorbeeld vampiere wat sy "gunsteling-gruwelingkreatuur" was, het ook ander fassinasies ontwikkel. Hy het ’n intense belangstelling in reeksmoordenaars ontwikkel. Hy vertel self verder: "Die groot verskil tussen reeksmoordenaars en vampiere is dat reeksmoordenaars bestaan. Hulle beweeg tussen ons. Hulle lyk soos ons. Mense soos Jeffrey Dahmer en Ted Bundy was vir my geweldig interessant. Ek wou weet hoekom hulle so word. En dis toe dat ek ware-misdaadboeke begin lees het," vertel hy aan Riette Rust (Vrouekeur, 23 Oktober 2015).

Martin gaan studeer aanvanklik BRek aan die Universiteit van Stellenbosch, maar hoe langer hy studeer het, hoe meer het hy besef dit is nie wat hy wil doen nie. Hy wou ook in Kanada gaan werk sodat hy genoeg geld kon maak om voltyds te skryf, maar na agtien maande het hy besluit om sy studies in ’n besigheidsrigting te groet. En om eerder sielkunde deur Unisa te studeer.

Hy wou ook nog meer oor die denkpatrone van misdadigers uitvind en het dus kriminologie ook geneem. Onder krimonologie het penologie (tronkstudie) en profielsamestellings geresorteer en dit was ook vir hom interessant, vertel hy aan Books LIVE: "Dit was eerder sielkunde wat my verlei het – ek was in ’n stadium oorgehaal om ’n kliniese sielkundige te word, maar skryf was maar nog altyd my droom."

Hy behaal dan ook sy honneursgraad in sielkunde. En toe begin hy sy eerste misdaadroman skryf, maar besef gou dat dit nie so maklik is om gepubliseer te word nie. Hy stuur sy manuskrip aan uitgewers en die keurverslae kom die een na die ander terug met positiewe kommentaar, maar daarna altyd die onvermydelike "maar".

En toe kom hy op ’n dag op die skakel van die South African Writer’s College se "Skryf ’n roman"-kursus af. Wat hom opgeval het, is dit feit dat jy saam met elke module ’n gedeelte van jou storie aan jou mentor stuur. En dit is hier waar Wilna Adriaanse in Martin se lewe ingekom het.

Hy begin skryf aan sy roman vir die kursus en onder die titel Donker spoor begin hy die storie vertel van die middeljarige speurder wat die moorde op die tienermeisies moet ondersoek. Wilna begin raad en hulp gee en sy is die een wat Martin se skryfwerk in die regte rigting gestuur het. "Haar ondersteuning hou nie saam met die kursus op nie; sy bly in my manuskrip glo."

Martin neem die woorde van een van die keurders, "Skryf is herskryf; skryf is deurgaan en regmaak", ter harte en die manuskrip is deur ’n hele paar weergawes. Hy pos dit aan LAPA Uitgewers en toe die e-pos van Cecilia Britz in 2013 op sy rekenaar deurkom, word Martin se droom waar. Sy eerste misdaadroman, Donker spoor, word gepubliseer en al die harde werk was die moeite werd, want in September 2014 word dit gekies as LAPA se Lekkerlitboek vir die maand en kom dit tweede ná Chanette Paul se Lekkerlitboek van die jaar in 2014. Dit word ook met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur vir 2015 bekroon.

Chanette Paul, manuskripontwikkelaar by Lapa, het in haar opsomming as volg oor Donker spoor geskryf (Volskblad, 3 September 2018): "Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ’n manuskrip soos met hierdie een. Dis ’n grusame verhaal waarin afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid – die goeie en die bose word op skitterende wyse teenoor mekaar gestel. In sy geheel is die manuskrip van internasionale gehalte. (…)

"Ek kan nie aan een speurkarakter dink wat my al ooit so ontroer het soos Mags nie. En hou veral daarvan dat hy nie die suiplap en rokjagter is wat al ’n cliché geword het nie. Die persoonlike demone wat hy beveg is eg menslik en oorspronklik aangebied."

In Donker spoor leer die leser die twee speurders, Jan "Mags" Magson, middeljarig en al ietwat afgestomp, en die jonger, effe meer entoesiastiese Colin Menck ken. Hulle is verantwoordelik vir die ondersoek na ’n reeks grusame moorde op hoërskoolmeisies in die Durbanville- en Bellville-omgewing.

Op LitNet skryf Jonathan Amid oor Donker spoor en Martin Steyn se gebruik van twee speurders: "Eerder as om slegs een speurfiguur vir die leser aan te bied, gewoonlik in die speurgenre dan ook telkemale ’n man wat met alkoholisme worstel of ’n rokjagter is, is dit hier allermins die geval: Mags en Menck is ’n dinamiese duo wat mekaar uitstekend aanvul: van kameraadskap, ondersteuning en humor tussen die twee is daar oorgenoeg.

"Menck is die jonger inspekteur wat daarvan oortuig is dat sy vrou hom probeer manipuleer met haar keuse van vleisgeregte en dat sy dogter Casey met niks minder as ’n perd tevrede sal wees as troeteldier nie. Dit is, vir alle praktiese doeleindes, die grootste kopsere in sy lewe.

"Mags se lewe sien heeltemal anders daar uit: ná sy vrou se stryd teen kanker, wat hy deur middel van genadedood beëindig het, was sy seun, Hannes, van hom vervreem. Hannes het aan Christien verloof geraak en sedertdien nie ’n woord met sy pa gepraat sedert hulle in die buiteland woon nie. Hannes verwyt sy pa vir die manier waarop sy ma dood is, en een van die roman se vele sterkpunte is die sonderlinge wyse waarop Steyn die kwessie van genadedood opper. Die onderwerp word nie net in ’n paar paragrawe nugter beskou nie, maar word ’n integrale deel van Steyn se besinning oor die waarde van elke mens se lewe. Wat is erger: Om te sterf? Of om agter te bly?

"Mags se verhouding met sy vrou Emma, met besonderhede soos haar teenkanting teen vuurwapens, en die janfiskaal wat sy elke dag kos gegee het, asook voorbeelde van haar deernis vir ander, word met sensitiwiteit weergegee. Dit verleen beslis ’n ekstra dimensie aan Mags se verhaal. Mags is nie ’n Bennie Griessel nie, maar ook nie ’n Thys Krige nie. Hy is alledaags, maar daar is iets mensliks en spesiaals aan dié man met sy diep groen oë. Mags se worsteling met die wanhoop, ellende en trauma wat met die dood gepaard gaan, asook die amperse onmoontlikheid om van geliefdes afskeid te neem en sodoende aan te beweeg, word ’n donker hoogtepunt te midde van die moordondersoeke.

"Wanneer Mags, verpletter, selfmoord oorweeg en die reg op vergifnis vir sy rol in sy vrou se dood bepeins, is jy daar saam met hom. Hy spandeer aande op sy eie met sy dienspistool, en hierdie tonele is intens in hul treffende eenvoud. Enigiemand wat al intense verlies ervaar het, kan met Mags se trauma identifiseer. Daar is verstáán hier. Te midde van ’n ondersoek wat hom tot die uiterste beproef, ontvang Mags berading."

Amid beskryf Donker spoor as ’n "digverweefde tapisserie wat geleidelik vir die leser oopgevou word" en die roman as ’n "debuutwerk wat ondersoek instel, maar nie preek nie. Steyn krap die rofies af, hy dolwe grafte om, maar hy bly nugter in sy aanslag. Daar is niks sensasioneel of oordadig te vinde nie – ’n pluimpie vir die skrywer, wat sy navorsing en kennis oor sy onderwerp laat tel.

"Donker spoor is uit die staanspoor ’n naatlose vermenging van die speurroman/polisieroman en die forensiese ondersoek. Steyn se aanslag is berekend maar nooit kil nie, intelligent maar nie vertonerig nie, verwikkeld sonder om oordadig aan te doen. Sy roman is ook kenmerkend van ’n belangstelling in die psigopatologie van geweld en die afbreek van sosiale norme en morele waardes. Steyn blyk te vra: Wat is een mens se lewe werd in vandag se Suid-Afrika?

"Dit sit beslis nie in elke genrefiksieskrywer se broek om ’n roman te skryf waar die bose en die goeie, die verrotte en die onskuldige, die waarheid en die skyn, met ewewigtigheid en omslagtigheid teenoor mekaar gestel word nie. Net so sou ’n roman wat beide die perverse moord vir plesier en die uiters omstrede genadedood teenoor mekaar stel, ’n bitter sekure hand verg. En dis presies wat Steyn vir die leser bied.

"Dat die goeie eindelik oor die bose uittroon, al is dit slegs tydelik, is beslis nie ’n swakplek of ’n ongeloofwaardige wending in die verhaal nie, ten spyte van die feit dat die genre self die herstel van orde en die vooropstelling van hoop en die skuldige wat aan die pen ry verwelkom, selfs daarop aandring. Daar is min verheerliking van die speurfigure, maar ook nie ’n eindelose gehamer oor die korrupsie van die land en sy polisiediens nie.

"Steyn onderskat nie die leser nie. Hy probeer ook nie om die leser in elke hoofstuk met vergesogte 'red herrings' op ’n dwaalspoor te bring nie. Anders as gewoonlik in die genre – een wat vinnige aksie en warrelwindvertelling beklemtoon – is die hoofstukke baie langer as in die deursnee-misdaadroman.

"Die roman is amper 400 bladsye lank, met slegs 19 hoofstukke. Baie min misdaadskrywers kies hierdie roete, wat dalk net afstuur op ’n stadiger manier van lees op die ou einde: al wil jy weet wat volgende gebeur, wil jy glad nie deur die storie jaag nie. Inteendeel, jy wil elke bladsy, elke paragraaf, elke sin, met die nodige respek vir die skrywer se vernuf en oordeel behandel. Langer hoofstukke gee ook vir die skrywer die kans om die pas net ’n rapsie stadiger te maak waar nodig, om die leser se aandag op sekere elemente, karakters of besonderhede te fokus, en om die hoof- en newekarakters sodoende genoeg kans te gee om asem te skep – om voor ons oomblikke van die alledaagse, krisisoomblikke, of oomblikke van groei en besinning te beleef.

"Steyn se titel is ook op sy kop, en bied verskeie interpretasiemoontlikhede. As leser kan ons die 'spoor' van die titel as tekens, bewyse en roetes karteer – duidelike of sigbare spore, asook die onsigbare spore wat menslike gedrag en aksies agterlaat. Daar kan ook spore van aanvoeling, intuïsie en ervaring wees, spore in die vorm van bewysstukke en leidrade en doodloopstrate, forensies sowel as emosioneel, en in die verwantskappe en verhoudings tussen verskeie karakters."

Amid beskryf die geweld in Donker spoor as "eksplisiet en grusaam" maar deurentyd in goeie smaak. Die roman is ook enduit "gefokus: na aan ’n meesterstuk waar langsame kronkelings en insigte oor die psigopatologie van ons beleërde samelewing skouers skuur met sekure, spanningsvolle, seningrige skrywe wat bewys dat daar meer as een manier is om lewens te neem. Steyn se geslypte styl – realisties maar nie kil of afsydig nie – asook sy oog vir besonderhede, sy ystergreep op die klein sowel as groot oomblikke van die vertelkuns, is verblydend. Hier voer 'showing' oor 'telling' die botoon.
Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly, ’n teks wat heelwat meer uitdagend as gewone genrefiksie blyk te wees."

Martin vertel aan Books LIVE dat die hele proses om Donker spoor gepubliseer te kry, ’n lang proses was, vanaf die kursus onder leiding van Wilna Adriaanse, die eerste voorleggings en die keurdersverslae, LAPA en Chanette Paul se aanbevelings totdat dit eindelik gepubliseer is. Hy is dus tevrede met die boek, hoewel hy weet dat dit nie perfek is nie.

Books LIVE wou ook weet hoe ’n mens ’n moordenaar skep wat nie net boos is nie: "Dis belangrik om te onthou dat elke mens grys is. Geen mens is heeltemal sleg nie en geen mens is heeltemal goed nie. Ted Bundy het meer as dertig vroue vermoor, waarvan ons weet. Hy was ’n psigopaat, sonder empatie, sonder ’n gewete. Op pad na die elektriese stoel toe, het hy nog probeer om sy slagoffers te gebruik om sy lewe te red. En tog het hy in ’n stadium saam met Ann Rule by ’n krisislyn gewerk. Wat ook al sy redes was om daar betrokke te wees, die feit bly staan, sy het langs hom gesit terwyl hy mense se lewens gered het."

Oor sy skepping van speurders as gewone mense ook, brei Martin as volg uit: "Ek dink die truuk is om mense te skryf en nie karakters nie. Mense maak foute. Mense het nie die luukse om voor ’n rekenaarskerm te sit en te dink, 'Hoe sal ek nou in hierdie situasie optree?' nie. Baiekeer is die situasie nou en jy moet optree, jy moet ’n besluit neem sonder dat jy noodwendig al die gevolge in ag kan neem. En dan is daar nog die emosie van die oomblik ook. Ek is ook baie meer geïnteresseerd in ’n gewone speurder. Met die uitsondering van Patrick Jane (The Mentalist) staan briljante speurkarakters my nie regtig aan nie. Daar is hierdie wonderlike sin in Homicide van David Simon: 'The homicide detective endures.' Dis die soort speurder wat my interesseer. Die ou wat elke dag inkom en sy werk doen. Hy is nie altyd lus nie. Hy sien nie elke leidraad raak nie. Hy breek nie elke verdagte nie. Partykeer loop hy in die verkeerde rigting. Partykeer weet hy nie waarheen om te loop nie. Maar hy hou aan en hy probeer sy bes om geregtigheid te kry vir daardie persoon wat nou ’n nommer op ’n moorddossier is. Terwyl hy weet hy gaan dit nie noodwendig regkry nie.

"Die regte magic gebeur wanneer daardie karakter begin leef. Ek was ’n ruk terug in die Paarl vir navorsing en terwyl ek in die gebou rondkyk, begin Mags en Menck met mekaar praat. So hier staan ek en grinnik soos ’n idioot vir die stemme in my kop. Maar dis wat skryf so intoxicating maak."

In Rapport van 7 September 2014 skryf Johan Smith: "Martin Steyn verras met sy debuut, Donker spoor. En met ’n oorvloed speur- en misdaadverhale wat deesdae in Afrikaans verskyn, is hierdie ’n vars 'bloedspoortjie' in hierdie genre. (...) Hierdie is ’n emosioneel uitmergelende mallemeulerit, en net wanneer jy dink die karretjie is op ’n gelyke vlak, kom die volgende afgrond, maar jy wil nie afklim nie. Ek kan nie wag om te sien wat volgende uit hierdie belowende skrywer se pen gaan verskyn nie."

En in Beeld van 28 Julie 2014 skryf Riaan Grobler dat Martin Steyn ’n nuwe naam in die misdaad-spanningsgenre is wat dopgehou moet word en hoewel die storie vir Grobler ’n bietjie resepmatig is, is dit vir ’n debuut stewig en oorspronklik.

Martin is self die vertaler van Donker spoor in Engels wat in 2017 onder die titel Dark traces gepubliseer is. In 2018 ontvang Martin die gesogte Kirkus Star review vir hierdie vertaling. Kirkus Reviews is een van die groot Amerikaanse tydkskrifte wat boekresensies doen en om ’n Krikus Star te ontvang, is elke skrywer se droom.

Hieroor vertel Martin aan Carla van der Spuy (Vrouekeur, 9 Maart 2018): "Dit beteken Mags se storie werk op ’n universele vlak, selfs vir lesers in ’n vreemde land waar daar elke jaar duisende misdaadromans verskyn. En dis ’n baie lekker gevoel."

"Mense dink jy verskyn met jou eerste boek net op die toneel en dit gaan goed en jy is ’n oornagsukses. Miskien as jy in Alaska bly en die nag hou ses maande aan!"

Nadat die Engelse vertaling op die Frankfurtse boekemark voorgelê is, het Lapa se agent, Catrine Wessels, in 2018 die vertaalregte van Donker spoor aan ’n Turkse uitgewer verkoop.

Martin het nie sy ondersteuners lank laat wag op sy volgende naelbyttreffer nie. In 2015 verskyn Skuldig, weer by LAPA. Hy vertel aan Naomi Meyer op LitNet hoekom hy Skuldig geskryf het: "Wel, die idee, die beeld van ’n hand wat daardie sewe letters in bloed teen ’n muur skryf, was onweerstaanbaar! Daar was veral twee (ander) dinge wat my aangetrek het. Die idee het net eendag in my kop ontkiem. Dit was nie soos die reeksmoordenaar in Donker spoor wat ontstaan het omdat ek ’n regte moordenaar se storie gelees het en sy persoonlikheid en sielkunde fassinerend gevind het nie.

"Die moordenaar in Skuldig is ook heeltemal anders as die reeksmoordenaars wat my so interesseer. Hy is ’n huurmoordenaar. Waar reeksmoordenaars vir hulle eie plesier moor, maak hy dood om iemand anders tevrede te stel. Soos reeksmoordenaars voer hy ook ’n ritueel met die slagoffers uit, maar dit kom nie van hom af nie. Hy doen dit namens iemand anders. Die storie vra ook ’n interessante vraag, maar dis iets wat self ontdek moet word."

Skuldig se manuskrip was alreeds geskryf voordat Martin sy eerste manuskrip van Donker spoor aan LAPA voorgelê het, dus was dit nie vir hom moeilik om sy tweede spanningsroman te skryf nie. "Daar was net ’n paar 'oop' gedeeltes waarvoor ek nog navorsing moes doen," vertel hy verder aan Meyer. "Natuurlik wonder mens hoe die tweede boek ontvang sal word, veral omdat ou Mags van Donker spoor nie weer ’n hoofkarakter is nie. En die tweede boek is natuurlik belangrik, want dit moet bewys dat die eerste een nie net ’n vloekskoot was nie. Mens wil ook nie die lesers wat bereid was om ’n kans op jou debuut te waag, teleurstel met die opvolg nie."

Martin het ook glad nie gesukkel om Skuldig te skryf nie: "Skuldig was ’n maklike geboorte. Dit was ’n idee wat baie mooi gevorm na my toe gekom het, titel en alles. Dis nie hoe dit gewoonlik gaan nie. Gewoonlik het ek maar ’n vae idee van wat gaan gebeur en dit raak helderder hoe verder ek skryf. Met Skuldig het ek van die begin af geweet waaroor alles gaan, hoe die storielyn min of meer gaan loop, en dit was ook een van die min stories waar die einde gebeur het soos ek dit aan die begin gesien het. Natuurlik was daar nog steeds die lekker om al die besonderhede in te kleur."

In Rapport van 2 Augustus 2015 is JB Roux vol lof vir Skuldig: "In Skuldig gee Magson nou klas by ’n polisiekollege. Sy plek word deur Colin Menck ingeneem, wat ’n kleiner rol in Donker spoor gespeel het. Menck is ’n gebore speurder wat nie twak vat nie, maar andersins is hy, verfrissend genoeg, ’n doodgewone man met ’n gelukkige, stabiele gesinslewe sonder ’n drankprobleem of diepliggende demone.

"Iemand word in Skuldig in sy huis in die kop geskiet – nadat sy hand gesny en hy gedwing is om 'skuldig' met sy eie bloed teen die muur te skryf. Wat was die motief? Wie is die moordenaar? En as die slagoffer wel skuldig is, waaraan?

"Dit is die kraaines wat Menck en sy sidekick, Winters, moet ontrafel en vinnig ook, want nog moorde word gepleeg. Aktuele kwessies soos gewelddadige seks en ’n gebrekkige regstelsel word betrek.

"Skuldig laat die bladsye onder jou vingers ritsel. Steyn weef ’n web van intrige en net sodra jy vermoed hy het hom in ’n hoek geskryf, gebeur daar iets. Die roman draf teen ’n maklike pas en die dialoog is flink. Die navorsing is omvattend, sonder dat die skrywer onnodige feite in die leser se keel afdwing. Steyn het daarby die vermoë om iets in ’n enkele sin raak op te som. (...)

"Skuldig is so goed geskryf dat die storie sy foute oorleef. Die boek eindig met twee lekker cliffhangers, wat ’n mens reeds na ’n opvolgroman laat uitsien. Steyn blaas in die nek van die puik spanningsromanskrywer Chris Karsten, veral wat die bestendige gehalte van sy romans betref."

In Volksblad (6 April 2015) meen Coenraad Walters dat meer ervare lesers van misdaadromans ook Skuldig sal geniet: "Die deernis waarmee Steyn sy karakters uitbeeld en die helder beeld wat hy skep van die omgewing en die misdade verseker dat ek beslis in die toekoms leestyd sal afstaan aan sy speurtogte."

Ook Jonathan Amid skryf op LitNet baie vleiend oor Skuldig. Hy meen dit kan ’n kandidaat wees vir krimi van die jaar 2015. Hy meen dat wat Steyn met Skuldig regkry, "is om die rateltaai dog deernisvolle vertelling, balans tussen eksposisie en innerlike benadering, en raakvatkarakterisering van sy debuut aan te vul met ’n ietwat meer beweeglike benadering tot die skep van spanning: hier worstel speurder en leser saam oor die komplekse antwoorde op yslike morele kwessies wat tot die diepste donkerste dieptes van die menslike psige spreek. Skuldig is, soos Donker spoor, beslis nie vir sensitiewe lesers bedoel nie, en dit is allesbehalwe ontspanningslektuur. Ek is dit wel met Coenraad Walters eens dat die roman uiters leesbaar en bevredigend is. (...)

"Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman wat die leser se morele kompas stuk vir stuk aftakel en doelbewus met meer vrae as antwoorde laat. Steyn maak dit dan ook herhaaldelik so vir ons duidelik: swart en wit as grense of skeidslyne wat menslike gedrag betref, is eenvoudig ’n mite, ’n mite wat vir slagoffers van misdaad uiteindelik bitter min genoegdoening of heling kan bring.

"Met Skuldig het Steyn bewys dat hy vir geen plaaslike skrywer hoef terug te staan nie, en dat die hoë verwagtinge hom geensins in die toekoms van stryk sal bring nie. Dit is dus die tipe krimi wat lesers net soveel soos Deon Meyer se Ikarus (indien nie meer nie) sal boei, maar ook met nuwe oë na ons komplekse samelewing sal laat kyk. Dit is hierdie dimensie wat Skuldig – uitdagend, intelligent, insiggewend – vir my die lees en herlees die moeite werd maak. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ’n uitgewer hierdie wêreldklas skrywer se boeke begin vertaal en die oorsese regte verkoop. Steyn is

Oor sy karakters in Skuldig verduidelik Martin meer uitvoerig aan Books LIVE: "Ek hou van gewone mense. Menck is nie ’n uitsonderlike speurder nie. Hy weet nie sommer met die intrapslag wie is skuldig en wie nie. Hy het sy ervaring, sy instink en watter leidrade ook al beskikbaar is en hy werk daarmee totdat dit hopelik iewers heen lei. Hy is ’n grys karakter, wat nie altyd die regte besluit neem of die beste opsie kies nie, maar hy is ’n getroue polisieman wat meestal sy bes doen om ’n saak op te los en geregtigheid te probeer kry vir die slagoffer. Soms is dit moeilik, want moordsake is ook nie altyd swart en wit nie.

"Verder is Menck gelukkig getroud, hy is lief vir sy vrou, lief vir sy kinders, al sukkel sy verhouding met sy tienerseun maar ’n bietjie. Hy het nie ernstige persoonlike probleme of demone nie. Nie alle polisiemanne is geskei en sukkel met drank of vroue of geweld of die een of ander sielkundige eksentrisiteit nie. Dit interesseer my om te sien hoe hierdie ’normale' speurders hulle werk doen, hoe hulle hierdie gruwelike moorde ondersoek en dit hanteer.

"Menck kom natuurlik uit Donker spoor, waar hy ou Mags (die hoofkarakter) se partner was. Hy sit nou met ’n nuwe partner, die jonger Derek Winters, en die twee het mekaar nog nie gevind nie. Winters wou graag EGM toe kom om groot moordsake te ondersoek. Hy is in sy middel twintigs, ongetroud, en nog nie baie lank in die Kaapse metropool nie. Winters is eintlik nogal ’n gekompliseerde mens. Daar lê nog interessante tye voor."

Oor hoe hy sy navorsing aanpak, vertel Martin aan Books LIVE dat dit ’n kombinasie van leeswerk en gesprekke met mense behels. Sy eerste stap is om oor die betrokke onderwerp te lees voordat hy met deskundiges op die spesifieke gebied gaan gesels. "Ek probeer om, sover dit moontlik is, ’n realistiese, Suid-Afrikaanse storie te vertel. En daarvoor is ek afhanklik van speurders en forensiese deskundiges wat bereid is om hulle kennis en ondervinding met my te deel.

"Met die Jehovasgetuies het ek al die inligting op hulle webwerf gekry. Hulle het nogal ’n besondere deeglike webwerf – wat selfs in Afrikaans beskikbaar is. Ek het ook met ’n Getuie gaan praat. Ek het vir hom verduidelik presies waarvoor ek die inligting wou hê, juis omdat ’n karakter hulle organisasie uitbuit, en hy wou nie deel wees daarvan nie. Wat my toe laat nadink het. Maar uiteindelik het ek gevoel die Jehovasgetuies word regverdig behandel in die boek – een kry ook die geleentheid om hulle saak te stel.

"Die navorsing is vir my belangrik, maar dis ook net regtig lekker. Mens ontmoet interessante mense, sien interessante plekke, leer interessante dinge. En jy besef ook dat dit maar net gewone mense is wat hierdie werk doen, wat probeer om geregtigheid te kry vir die slagoffers van misdaad."

Martin skryf die oplewing in die gewildheid van spannings- en misdaadlektuur toe aan die soort stories wat in die genre vertel word. "Karakters in lewensgevaar. Stukkende helde. Interessante boosdoeners. Donker dade. Die konfrontasie tussen goed en sleg. Dis stories wat aandag trek en emosie uitlok. Daar gebeur dinge, sigbaar en agter die skerms. Daar is raaisels en wendings. Die situasies is oor die algemeen moontlik, al is dit dalk ’n bietjie oordrewe. En jy kan in ’n veilige plek saam met die karakters deur hierdie gevaarlike gebeure gaan.

"Mense hou daarvan om ’n mate van spanning te ervaar. Dit laat jou lewend voel. Een van die dinge wat gebeur wanneer mens spanning ervaar, is dat endorfien vrygestel word. Die doel is om jou te help om vrees en pyn te oorkom, maar dit veroorsaak ook ’n effens euforiese gevoel. Wanneer jy ’n spannende boek lees of ’n riller kyk, ervaar jy ook spanning as jy jou inleef. Jou liggaam ervaar die simptome van spanning, maar omdat jy weet jy is veilig, is dit nie so erg nie. Maar jy kry nog steeds jou endorfien-'high'." (Books LIVE)

Beyers de Vos het vir Martin tydens Open Book 2015 uitgevra oor die verantwoordelikheid wat die skrywer van misdaadverhale het in die beskrywing van geweldstonele. Martin se antwoord hierop is dat hy glo die skrywer moet geweld beskryf soos wat dit is. "So ook – eintlik veral – die gevolge van die geweld. Regte geweld is nie 'romanties' nie; dis lelik en erg en dit veroorsaak skade. Die fisieke skade word baie keer relatief gou gesond; dis die emosionele skade wat bly en mense verander. As die slagoffer dit nie oorleef nie, het dit ’n dramatiese impak op die mense wat lief is vir daardie persoon. Geweld verander lewens. Selfs iemand soos Alison Botha, met die innerlike krag om letterlik haar ingewande op te tel en pad toe te kruip om te oorleef, wat deur daardie aand se gebeure gewerk het en vandag ander mense motiveer, was nog steeds bang toe sy vroeër vanjaar hoor haar aanvallers kom in aanmerking vir parool.

"Maar daar is ’n streep en dit lê voor sensasie. En hoe meer realisties jy skryf, hoe belangriker is dit dat die geweld funksioneel moet wees. American History X is ’n fliek wat die balans baie goed reggekry het. Daar is ’n toneel waar mense kom om by die hoofkarakter se motor in te breek. Hy hardloop uit met ’n pistool, skiet die een dood en laat die ander een die sypaadjie byt, waarna hy sy kop trap. Dis erg en dis steurend, juis omdat dit realisties en sonder sensasie uitgebeeld word. Dis ’n fliek met ’n baie sterk boodskap en die realistiese geweld en die gevolge daarvan maak die impak groter."

Wat vir Martin as skrywer aangetrek het tot die skryf van misdaad- en speurverhale, was aanvanklik sy fassinasie met reeksmoordenaars. Hy wou agter die redes kom wat hulle tot sulke gewelddadige misdade gedryf het. "Profielsamestelling interesseer my ook baie, en ek wou weet hoe hulle by die afleidings uitkom. Gevolglik het ek baie oor reeksmoordenaars en profielsamestelling gelees, en die sielkunde is fassinerend. Toe ek daaroor begin skryf, en navorsing oor die polisie begin doen, het hierdie deel my net so aangegryp. Ek het ’n diep belangstelling in die psiges van geweldsmisdadigers en die mense wat baklei om geregtigheid vir die slagoffers te kry, in polisiewerk en forensiese ondersoeke.

"Dan is daar ook die plesier om die storie te sit en skryf, om die speurders op die moordtoneel neer te sit en te kyk wat hulle doen, om hulle te volg terwyl hulle die spoor volg, om te sien wat uiteindelik gaan gebeur. Die navorsing, veral wanneer ek met speurders en forensiese deskundiges gaan praat, is ’n uitstekende bonus."

Vir Martin is goeie navorsing een van die elemente wat ’n storie meer geloofwaardig kan maak. As dit reg gebruik word, kan dit jou verhaal ook interessanter maak. Hy verduidelik verder aan De Vos: "Vir die skrywer is daar die potensiaal om byvoorbeeld die binnekant van die lykshuis te sien, of uit te vind hoe ’n misdaadtoneel geprosesseer word by iemand wat hierdie werk doen, en dan kan jy dit aan die leser wys. Daar is baie Amerikaanse en Britse polisiereekse, maar hoe werk hierdie ondersoeke in Suid-Afrika?

"Wat polisieprosedures betref, hang dit af van die skrywer en die soort boek wat hy of sy wil skryf. Vir my is dit baie belangrik, want ek skryf police procedurals. Ek skryf uit die polisie se oogpunt en ek mik vir soveel outentisiteit as moontlik. Aan die een kant maak dit die gevoel van realisme hoër, maar aan die ander kant interesseer dit my net geweldig baie. Ek wil weet hoe word al hierdie goed gedoen, hoe verwyder ’n patoloog ’n koeël uit ’n slagoffer se brein, hoe word daardie koeël aan ’n spesifieke vuurwapen gekoppel.

"Die probleem is natuurlik mens raak soms so meegesleur met al die wonderlike, interessante dinge wat jy leer en uitvind en sien dat jy álles in jou storie wil gebruik. Dis veral vir my ’n probleem (want ek sal dit alles wil lees!), maar mens moet onthou jy skryf ’n storieboek. Soos Wilna Adriaanse vir my gesê het, die navorsing moet nooit sigbaar wees nie. Maar dis nie altyd maklik nie."

De Vos wou ook by Martin weet hoe hy seker maak dat sy werk oorspronklik bly, veral in hierdie tyd waarin die misdaadgenre so gewild is. Martin se reaksie is dat sy temas dié is waarin hy belangstel en waaroor hy opgewonde kan raak: "Ek volg die karakters en die storie en kyk wat gebeur. Dis vir my ’n baie organiese proses, wat hoofsaaklik iewers uit my onderbewussyn kom. Dit word ook deur navorsing beïnvloed, wat regtig in die omstandighede van die storie sal gebeur, wat in Suid-Afrika moontlik is. Om te probeer om vars en oorspronklik te wees, sal die hele proses onnatuurlik maak, soos plastiek. Ek vertel net die storie so goed ek kan – en hoop vir die beste.

"Wat wel in my guns tel, is dat ek met ’n vreemde paadjie by misdaadfiksie uitgekom het. My agtergrond is gruwelverhale, veral dié van Stephen King. My invloede toe my skryfstyl begin vorm het, was ook nie juis wat mens 'tradisioneel' sal noem nie – flieks soos Pulp fiction en Heat het my byvoorbeeld laat besef hoe vermaaklik en aangrypend goeie dialoog kan wees. Ek het sielkunde en kriminologie op universiteit studeer. En tot onlangs toe het ek hoofsaaklik ware misdaad gelees eerder as misdaadfiksie."

In 2016 verskyn Swartval in die boekwinkels en Jonathan Amid begin sy resensie in Rapport (15 Januarie 2017) soos volg: "Martin Steyn se derde krimi is ongetwyfeld die vreesaanjaendste, spannendste riller uit die korpus van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie wat in 2016 uitgereik is." (…)

"Swartval verteenwoordig die getuigskrif van ’n skrywer wat ontstaan as eweknie/opvolger vir die ontslape meester van die sogenaamde Nordic Noir, die Sweedse skrywer, dramaturg en humanitêre figuur Henning Mankell. Soos Mankell op sy beste (…) skoei Steyn sy meedoënlose dog simpatieke blik op verskillende wyses waarop geweld manifesteer in ’n samelewing wat gedurig aan die verander is."

Die sentrale figuur in Swartval is Claire, ’n ontkleedanseres. Sy word ontvoer en, skryf Amid, "haar stryd om oorlewing, en haar fisieke en psigiese foltering aan die hand van haar ontvoerders is die grondslag vir Steyn se virtuose skryfvertoning."

"Swartval is ’n aanklag teen die ineenstorting van die gesinslewe weens wreedheid en emosionele aftakeling, en ’n kloustrofobiese, maar ongelooflike uitbeelding van die geweldslagoffer. Dit is ’n onverskrokke misdaadriller wat die leser trakteer op eerstehandse ervarings van verkragting.

"Swartval is die derde grensverskuiwende roman uit Steyn se pen, maar is vars omdat die skrywer bereid is om meer as die genrekontrak met die leser na te kom: dié Steynkrimi bied die verruklike kombinasie van herkenbare skryfstyl, haarfyn plot, geloofwaardige karakters, puik navorsing, galgehumor, gekombineer met uiters onthutsende terugflitse en liriese beskrywings, en die houvas van die verlede op die hede.

"Swartval is meer as net ’n roman wat jy lees; dit is ’n onvergeetlike belewenis."

Ook Pieter Steyn (Beeld¸ 22 Augustus 2016) is beïndruk met Martin Steyn en Swartval. Hy beskryf die krimi as ’n "sielkundige spanningsroman wat jou boei, jou hart laat klop, jou woedend maak, ’n traan in die hoek van jou oë laat opdam – kortom, jou die hele spektrum van emosie laat ervaar."

"Die spanningslyn word van die eerste bladsy af snaarstyf gespan, verloor effens en kortstondig momentum, maar tel weer op dat jy nie kan wag vir die volgende sin, paragraaf en bladsy nie. In die skrywersnota en bedankings aan die einde van die boek word bevestig waarvan jy voortdurend tydens die lees van die roman bewus was: Steyn se deeglike navorsing."

"Hy bedank kenners en betrokkenes uit die professionele velde wat in die boek aangeraak word. Goeie navorsing is duidelik in die geloofwaardigheid van die tonele en gebeurtenisse. Steyn is beslis een van Afrikaans se voorste spanningsromanskrywers."

Martin verduidelik aan Elmari Rautenbach (Volksblad, 17 Augustus 2016) meer oor Swartval: "Dit word uit die perspektief van die hoofkarakter vertel wat dit persoonliker maak. Dis nie net die geweld/misdaad wat ondersoek word nadat dit gebeur het nie, maar ons beleef dit ook in die hier en nou sáám met die hoofkarakter."

Hy lê ook die verband uit tussen die titel, Swartval, en die storie daarvan: "Dit gaan oor ’n jong vrou, Claire, wat uit haar lewe gegryp word en in ’n kelder aangehou word. Daar is die letterlike swart van die kelder, want daar is nie lig tensy die ontvoerder dit inbring nie, en dis ’n val, want sy is daarin vasgevang."

"Die swart van die kelder word amper ’n entiteit. Dit voel partykeer vir Claire soos iets wat op haar vel kom sit; of sy vir ewig daarin sal wegval, en sy moet baklei dat haar geestelike gesondheid nie in die swart oplos nie."

Oor die verkragtingstema spreek Martin hom as volg uit: "Ek het hierdie tema gebruik juis omdat dit my so ontstel. Toe ek besluit het dis wat die storie gaan wees, wou ek ook hê dit moet ’n skop in die maag wees; ’n naakte weerspieëling van so ’n situasie, so goed as wat ek dit kan regkry. Daar is sóveel geweld teen vroue in Suid-Afrika, soveel verkragtings. Verkragting word grootliks as ’n vroulike probleem gesien, terwyl dit eintlik ’n manlike probleem is. Ons is die probleem. Mans moet betrokke raak. Ons moet leer wat dit aan ’n vrou doen." (…)

"Ons – mans – moet begin kwaad raak oor verkragting. Ek is nie iemand wat op ’n platform kan spring en mense opsweep nie, maar ek kan skryf. Ek het my bes gedoen om as ’n man hierdie storie uit ’n vrou se perspektief te skryf en te wys wat gebeur – ook ná die tyd, want verkragting het ’n blywende impak op ’n vrou."

Rautenbach wou ook by Martin weet hoe hy die sensitiewe gegewe van verkragting hanteer, maar steeds daarin slaag om die gruwelikheid daarvan oor te dra. Martin antwoord: "Die wreedheid van geweld behoort nie verdoesel te word nie. Regte mense staan nie op en gaan net met hul lewe aan soos akteurs op TV nie. Mense moet besef watter verwoestende effek seksuele geweld op ’n mens het. Die uitdaging was om ’n balans te handhaaf tussen die beskrywing van geweld en die binnewêreld van Claire, want dis waar die menslikheid intree; dis waar die betekenis van die geweld ontbloot word. Dis waar ons emosioneel betrokke raak."

Oor sy fassinasie met reeksmoordenaars verduidelik Martin aan Carla van der Spuy (Vrouekeur, 9 Maart 2018) dat hy nog altyd in "donker dinge" belanggestel het: "Ek weet nie hoekom nie. Ek was van kleins af lief vir gruwelstories. Toe ontdek ek reeksmoordenaars en hulle is baie erger as vampiere, want hulle bestaan regtig. Die meeste staan nie uit nie; inteendeel, hulle lyk doodnormaal. Maar hulle jag mense, mense wat hulle nie ken nie, mense wat niks aan hulle gedoen het nie. Hulle jag mense net vir die plesier daarvan. Ek wou weet hoekom. Dus het ek oor reeksmoordenaars en oor profielsamestellings begin lees."

Martin vertel verder aan Van der Spuy: "’n Reeksmoordenaar kry nie bevrediging uit moord nie, maar uit die uitvoering van sy spesifieke fantasie. (…) Dis ’n drang wat opbou en bevredig moet word en dit moet op ’n spesifieke manier bevredig word."

In 2018 verskyn Martin se volgende roman, Losprys, en weer skryf hy oor (vir hom) ’n ander tipe misdaad, naamlik ontvoering. Die verhaal het sy ontstaan in ’n werklike voorval gehad – die ontvoering van die tienerseun van ’n ryk Nederlandse gesin in Kaapstad. Die ontvoerders het ’n losprys geëis en die gyselaaronderhandelaars is by die gesin se lewe ingetrek.

"Ek het toevallig ’n regte polisieonderhandelaar ontmoet," vertel Martin aan Sarie (Maart 2019), "wat my aan daardie ou saak laat dink het. Die kans om oor onderhandeling te skryf, die proses, die sielkunde daaragter, was onweerstaanbaar. En die ander elemente, die karakters en hul motiewe het mooi in plek geval."

Oor die karakters in Losprys vertel Martin aan Sarie dat meeste van sy karakters, ook dié in sy vorige boeke, ’n manier het om sommer net op te daag. "Mags van Donker spoor en Enzo van Losprys het net 'opgedaag'. (…) My karakters word ook beïnvloed deur regte mense, polisielede met wie ek praat, misdadigers oor wie ek lees, my agtergrond in sielkunde. Stukkies en brokkies wat bymekaarkom."

"Ek doen altyd moeite met die misdadiger, veral ’n reeksmoordenaar, maar destyds met Mags het ek geweet hy is naby aftree, sy vrou is onlangs dood ná ’n kankerstryd, sy verhouding met sy seun is nie lekker nie, hy is in rou en nukkerig. Dit was dit, en ook een van die probleme met die manuskrip. Ek moes Mags leer ken terwyl ek geskryf het. Deesdae bestee ek meer tyd om die hoofkarakters se persoonlikhede te deurdink sodat ek hulle beter ken voordat ek ’n woord skryf. Ek en veral Enzo en Karla het eers saam gesit voor ek aan Losprys begin skryf het."

Martin verel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 22 Februarie 2019) dat hy dit baie geniet het om adjudant Losper se karakter te skep – "sy persoonlikheid, sy manier van praat. Die karakters (in Losprys) was oor die algemeen maar taamlik nukkerig, soos tieners wat net in hul kamers wil sit en musiek luister en nie deel van die gesinsaktiwiteite wil wees nie.

"Maar Losper het op die toneel gekom en net gedomineer. Ek kon skaars met die tik byhou wanneer hy praat, en hy praat aanmekaar. Ek het ’n sterk spesmaas hy was eintlik besig met ’n oudisie vir ’n boek van sy eie."

"Losprys handel oor oor die ontvoering van ’n Amerikaanse rykmanskind van Llandudno en die rolspel tussen die span speurders, polisielede en ander persone wat aan die saak werk, skryf Ronel." (Rooi Rose, Desember 2018).

"Adjudant Ariefdien (’n baie genotvolle karakter) verkies byvoorbeeld moorde. Want dan hoef hy nie nog vir ’n verdwene, lewende mens se lewe verantwoordelik te wees nie. Ook in die span is Adjudant Karla Blanckenberg en die veeleisende kaptein Lubambo. Dit klink dalk nie na ’n spannende whodunnit nie, maar glo my, dit is moeilik om neer te sit."

Nel is ook die resensent in Beeld (19 November 2018) en sy skryf: "Deur Steyn se oë leer jy ook Mitchells Plain beter ken. Toe hy destyds begin belangstel het in regte reeksmoordenaars en oor hulle begin lees het, was dit so 1993 -'94. En in Januarie 1994 is seuns se lyke in die duine by Mitshells Plain ontdek. ’n Klomp. Uiteindelik het hulle daardie maand 11 lyke gekry. Steyn het die saak gevolg. In die proses het Mitchells Plain vir hom meer as net ’n woongebied geword." (…)

"Daar is ook goeie, en duidelik persoonlik ervaarde, beskrywings van areas soos Imizamo Yethu en ander townships. Dit is een van Steyn se bykomende sterkpunte: sy manier om met ’n valkoog die omgewing waar te neem en die leser te laat voel dat sy of hy dáár is. Dit is landskappe wat dien as die ideale agtergrondpalet vir die raaiselagtige en duistere gebeure.

"’n Mens sukkel soms om te onthou wat die verskillende karakters doen, maar dit vervaag teenoor die drama wat afspeel tussen die hoofkarakters, die onderhandelaars en die skatryk Gordons, wie se seun Steven die ontvoerde is."

"Die boek volg sy eie pas, en verskil in toon effe van sy vorige boeke, maar dit is die karakters en hul dialoog wat jou bybly en vasgeklou hou. ’n Mens kan Steyn beslis benoem as die outeur wat die beste sielkundige rillers in Afrikaans skryf, Hy sit die sielkunde voor die riller."

"Martin Steyn se vierde en indrukwekkendste roman tref jou soos ’n trosbom," begin Jonathan Amid se resensie in Rapport (11 November 2018). "Dit sal van leser tot leser verskil, maar daar is verskeie geleenthede wat ’n mens eenvoudig laat steier. En dit verg veel meer as die opstapeling van lyke, die beskrywing van gruwels of die manipulasie van gebeure en emosies om die soort emosionele deurbraak en verbintenis te bewerkstellig wat Steyn met reëlmaat in sy romans vermag."

Amid gaan voort: "Losprys verteenwoordig Steyn se interpretasie van polisieprosedure-as-gyselaarsdrama, een wat aanvanklik afspeel in ’n klein paleis in Llandudno. Die legkaartstukke is uiteindelik legio, maar die kern behels die ontvoering van ’n tienerseun, Steven Gordon, en ’n ontvoerder wat ’n losprys van R20 miljoen van sy ryk Amerikaanse ouers eis. (…)

"Bewaar die siel wat die wipwarit van Losprys se plot op die lappe bring! Die groot wending is niks minder as briljant nie en stel Steyn in staat om die werk wat hy oor die bevraagtekening van die kontoere en karakter van skuld, verwantwoordelikheid en aandadigheid in veral Skuldig en Swartval gedoen het, tot nóg groter hoogtes te voer. (…)

"Oordeelkundigheid, fyn waarnemings, maksimale funksionele waarde vir elke gekose hoof- en newekarakter asook ’n sterk prosastyl is almal teenwoordig. Steyn vermy sekere tonele wat lesers sou verwag, soos kort en gekursiveerde afsonderlike hoofstukke wat óf van die ontvoerde óf die ontvoerde Steven as verteller gebruik maak. Vergeet daarvan – hierdie skrywer hou daarvan om oor die lyne in te kleur." (…)

"Losprys verteenwoordig ’n nuwe hoogtepunt in die skrywer se oeuvre. Bes moontlik is dit ook ’n nuwe baken van uitnemendheid waarteen toekomstige plaaslike pogings in dié genre gemeet sal word. Dié literêre trosbom sal geeneen onaangeraak laat nie."

Intussen sien al Martin se getroue (en ook nuwe) lesers uit na sy volgende naelbytstorie.

Publikasies:

Publikasie

Donker spoor

Publikasiedatum

2014

ISBN

9870799369656 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Speurroman

Pryse toegeken

  • LAPA se Lekkerlitboek vir September 2014
  • ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur 2015
  • Kirkus Star Review 2018

Vertalings

  • 2017 Engels Dark traces; vertaal deur skrywer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuldig

Publikasiedatum

2015

ISBN

9870799373608 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Speurroman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur 2016

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Swartval

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799380910 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Benoem vir ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur 2017

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Losprys

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799390889 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Martin Steyn beskikbaar op die internet

Martin Steyn se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2016-02-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Martin Steyn (1976–) appeared first on LitNet.

Viewing all 493 articles
Browse latest View live