Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 493 articles
Browse latest View live

Johan Myburg (1957– )

$
0
0

Gebore en getoë

Johan Myburg is op 17 Julie 1957 in Pietersburg (vandag Polokwane) in Limpopo gebore. Hy bring sy skooljare op Potchefstroom deur. “Potch is wel ’n plattelandse dorp, maar in die konservatorium het ek merkwaardige kunstenaars sien optree, onder andere die Spaanse pianis Alicia de la Rocha,” vertel Johan aan Jaco Jacobs. “Ek dink ek was nog op skool toe ek die aand na haar gaan luister het. En daar was nog uitstallings – daar was toe nog ’n departement van beeldende kunste.”

Sy skryfloopbaan het reeds in sy skooljare begin vorm kry. “Ek is immer dankbaar vir onderwysers en ’n skoolbiblioteek wat wêrelde vir my oopgesluit het. In die skoolbiblioteek van die Hoërskool Gimnasium het ek onder meer die werk van NP Van Wyk Louw teëgekom, wat steeds ’n voorkeur is.” Hy het op skool gedigte in die skoolblad gepubliseer en later op Potchefstroom ook in die universiteitsblad.

Nadat Johan in 2020 die Hertzogprys vir Uittogboek verower het, vertel hy aan Jo Prins (Netwerk24, 24 Mei 2020) dat daar op Gimmies in Potchefstroom se Afrikaans-klas ’n ry swart-en-wit portrette van “die digters” gehang het: “As ek dit reg het, was daar die twee Louws, daar was Eybers – jy weet daai ene van haar met haar handpalm teen haar wang.”

“Die jonges was Fanie Olivier en Lina Spies ... en daar was Opperman. Nou sit jy mos so in die klas en ek het die hele tyd gedink: Dít is die digters.”

Verdere studie en werk

Johan bring ook sy studentejare deur op Potchefstroom, waar hy in die teologie studeer en hom in 1984 as predikant in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika bekwaam. Hy het gedurende die 1990’s sy MA-graad in pastorale terapie gedoen.

Hy was getroud met Marietjie, wat eers ’n joernalis was en tydens hulle verblyf in Oos-Londen ’n boekwinkel bedryf het. Johan was predikant van die Gereformeerde Kerk van Oos-Londen.

Oor sy tyd in Oos-Londen het Johan gesê dat hy daar as Afrikaanse skrywer baie geïsoleerd gelewe het, en hoewel dit sy voordele gehad het, het hy tog die stimulering gemis. Hy sou graag met Engelse lesers wou kommunikeer, maar ’n gedig kan nie vertaal word nie; in die nuwe taal moet dit herskryf word, in poësievorm, maar nie noodwendig in dié van die oorspronklike nie.

In 2000 verwerf Johan sy doktorsgraad aan Unisa onder die titel Deconstructing identity in a landscape of ideology, belief, culture, and power.

Sy eerste digbundel, Vlugskrif, word in 1984 deur Perskor gepubliseer. Die bundel bevat ongeveer veertig verse, en vir PD van der Walt (Kerkblad, 31 Oktober 1984) is dit heeltemal "in die gees van daardie moderne, haastige tyd met sy eiesoortige literatuur. ’n Mens kan dit poëtiese notisies noem – vandaar die titel: saaklik soos strooibiljette is die kort gediggies, miskien eerder versies, want 'gedigte' klink weer so half deftig-ouderwets, dui op volledige, afgewerkte, afgeronde lang of langerige gedigte. Party van die 'verskristalle' is knap, ander bewustelik en opvallend, selfs pretensieus, gekonstrueer."

By André P Brink (Rapport, 30 September 1984) laat hierdie debuutwerk ’n "indruk van versorgdheid en besinning. Daar is tekens van ’n naarstige nuk tot presisie, wat meermale ’n baie nette formulering tot gevolg het, maar ook soms die gevaar inhou van blóte tegniese versorging waaruit die vonk van die lewe ontbreek. Alles in ag genome is dit netjies-geslypte debuutverse, dikwels bietjie té 'knap', maar ’n hele paar gevonk met ’n vermoë om verbeeldingsreise en betekenisreise te onderneem. Daarom is dit ’n beskeie debuut waaruit belangriker werk nog kan voorkom."

Terwyl Joan Hambidge (Beeld, 23 Julie 1984) gemeen het dat daar net hier en daar ’n knap vers is, het TT Cloete (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1985) gevoel dat hoewel die gedigte nog "vlugskrifgedigte is, daar tog besondere verdienste in is. Dit het die waarmerk van egte poësie, en ’n mens sou graag wou sien wat daarvan gaan word."

Oor Vlugskrif het Johan in 1995 aan Barend Toerien (Die Burger, 19 Julie 1995) vertel dat die bundel min geresenseer is en eenvoudig verdwyn het. “Vandag voel ek ek het die bundel ontgroei. Dit het my wel geleer dat mens gedigte goed moet afrond voor publikasie. As ’n gedig gepubliseer is, is ek klaar met hom en gaan nie verder daaraan peuter nie.”

Dit het Johan ’n verdere elf jaar geneem voordat sy tweede digbundel, Kontrafak, in 1994 by Human & Rousseau uitgegee is. Met hierdie bundel het hy die resensente aan die praat gesit. En ook die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir 1995 ingepalm.

In Kontrafak gaan dit oor die onstuimige lewe soos dit op daardie tydstip in die digter se land afgespeel het. Hy is katvoet op reis deur ’n wêreld wat nie aldag sin het nie; hy is “uit pas” en mik daarom elders. Die bundel gaan nie oor die vreemde nie: ondanks die talle verwysings na die Wes-Europese kultuur is dit ’n Afrika-tafereel wat hom hier afspeel.

Die titel, Kontrafak, kom uit die Middeleeue en beskryf die praktyk waarvolgens mense drink- en minneliedjies se wysies vir gewyde melodieë gebruik het. “Dit is om ‘Prys die Heer’ op ’n ‘Sarie Marais’-wysie te sing,” sê Johan aan Alrika Heefers (Die Burger, 24 Junie 1995).

Heefers skryf dat Johan in Kontrafak in die bundel toor met sy "amper speelse taalgebruik; musikale ondertone en ’n deurlopende spanningslyn tussen die aardse en hemelse. Die bundel strek wyer as net sy Christelike wêreldbeskouing."

Johan verduidelik aan Heefers: “Ek dink die mens reageer volgens oerpatrone en daarin stel ek belang. Die dood is deel daarvan. En dit ondersoek ek graag. Miskien is daar ’n sentrale boodskap in my boek, naamlik dat die dood nie die einde van alles is nie, maar net ’n ander soort lewe is.

"My kort geheue dwing my om elke snippertjie gedagte of waarneming sommer dadelik neer te skryf. Ek skryf sommer agterop koeverte en stukkies papier, en skryf dit later oor in ’n boek of stoor dit in die rekenaar. Daar lê dit totdat dit weer my aandag trek.”

Hy benader die sinvolle gebruik van woorde baie ernstig. “Ons mors soms met woorde, en ek haat ’n getjommel. ’n Mens moet noukeurig werk met woorde. Ook in my preke gaan dit vir my as predikant, wat beter dink met ’n potlood in my hand, oor die juiste gebruik van die regte woord.

“Ons moet alles gebruik om ons aardse taal aan te vul, en ons moet onsself nie blind staar teen ’n beperkte woordeskat nie. As ons ’n bietjie Duits of Latyn insleep, is dit nie ’n verswakking van Afrikaans nie. Ek moet die Woord kommunikeer sodat al my gemeentelede dit kan verstaan. Ek hou nie van truuks nie.”

SW van Zuydam skryf in Tydskrif vir Letterkunde van Mei 1995 dat die digter se eerste twee nuwe bundels nie net in jare ver verwyderd is nie, maar ook wat kwaliteit betref. Want terwyl daar in Vlugskrif nog groot gebreke was, "getuig Kontrafak van ’n besondere rypheid en vaardige digterskap".

AP Grové (Beeld, 16 Januarie 1995) het geskryf dat die titel van die bundel sinspeel op ’n "omvorming, of meer bepaald dan om die spanning tussen kerk en wêreld, gees en liggaam, die rustige meditasie en die menslike doenighede van elke dag, die verhewene en die sekulêre. Dis ’n spanning wat hom in baie gedaantes en op verskillende vlakke in die bundel openbaar soos die digter sy voorbeelde uit baie terreine van menslike bedrywighede trek. Kortom, die titel is goed gekies; die vlag dek die lading en dra by tot die eenheid van die bundel.

"Afgesien van die titel is daar twee duidelike wegwysers vir die leser: die Holbein-houtsnee op die buiteblad en die inleidende 'Jongleur'-gedig. In die Holbein-prent sien ons hoe die hooggeplaaste paartjie die danssaal (of is dit dalk die slaapvertrek?) betree terwyl die Dood self in die gedaante van ’n skelet hulle geesdriftig met sy trommelmusiek begelei – vreugde en onheil in 'n wrang-ironiese samespel. Op ’n ander wyse laat die kontras hom in die genoemde gedig geld: op die markplein is die jongleur die musiek- en rympiesmaker, die ratse goëlaar wat met sy mal kaperjolle die massas vermaak, maar tuis is hy die liriese sanger met sy gevoelige liefdesliedere vol berou en verlange. Dit is dus vroeg al duidelik: in hierdie bundel sal teenstellings ’n belangrike rol speel. Wat mens veral waardeer, is die digter se sin vir ironie en sy humor. Hy openbaar ‘n gevoel vir teenstellings wat soms ’n makabere gedaante aanneem en soms pynlik is, maar het ook die vermoë om die teenstellings telkens verrassend en sinvol te laat klink. Dit is teenstellings wat van ’n oop-oog insig in die menslike situasie getuig. Daar is gedigte wat tegnies fyner afgewerk kon gewees het met ’n sinvolle aanwending van ritme en rym om bykomstige aksent en steun aan die teenstellings te gee (veral in die korter gedigte val dit sterk op), maar in sy geheel is dit ’n boeiende bundel. Dit het iets om te sê en verteenwoordig ’n groot vooruitgang op die bundeltjie Vlugskrif waarmee die digter tien jaar vroeër sy debuut gemaak het."

Wat Cecile Cilliers (Rapport, 12 Februarie 1995) opgeval het, is die "musikaliteit van die verse, die taalbeheer, die inherente gevoel vir rym en ritme. En die wye verwysingsraamwerk: die teologie, musiek, kerkgeskiedenis, die Middeleeue. En ook ’n taalgevoel wat op verrassende wyse ontgin word. Die digter goël met die taal."

En in Die Burger (7 Desember 1994) het Daniel Hugo geskryf: "Johan Myburg bewys met Kontrafak dat ’n digter belesenheid en intelligensie met fyngevoeligheid kan kombineer en in die proses verstaanbaar kan bly vir sowel die akademiese klerus as die literêre lekedom. Dit is ’n welkome verandering in ’n tyd waarin hermetiese intellektualisme alte hoog aangeprys word."

Benewens Johan se digwerk is hy ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en in die teologie studeer en was in 2012 besig met nagraadse studie in beeldende kuns aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was die kurator van visuele kuns van die KKNK en was ook kuns- en vermaakredakteur van Beeld. In 2011 was hy ook een van die beoordelaars vir die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk. Hy lewer ook gereeld praatjies oor die internasionale letterkunde op die RSG-program Skrywers en boeke. En vanaf 2008 is hy by verskeie geleenthede kurator vir groepuitstallings, asook vir feesuitstallings. Johan is ook ’n gewilde keuse as spreker by die opening van kunsuitstallings en skrywer van boekresensies en artikels oor die kunste. Hy is ook verbonde aan die Eenheid vir Visuele Kunste aan die Noordwes-universiteit op Potchefstroom.

Johan en sy lewensmaat, Marten van Wyk, ’n musiekonderwyser, het teen ongeveer 2017 vanaf Westdene na Quellerina, ’n woonbuurt in Johannesburg, getrek.

“Ek sien letterkunde as deel van die kunste. Die visuele kunste, musiek, verse, drama, ballet, dans, noem maar op, dit is alles een groot manier van uiting. En wat my verstom, dikwels letterlik, is die verskillende segswyses wat dieselfde objek of emosie of wat ook al beskryf,” aan Jaco Jacobs.

In 2008, ná veertien jaar van digterlike stilte, word Johan se derde bundel, Kamermusiek, by LAPA-uitgewers gepubliseer. En met elke nuwe bundel maak sy poësie ’n stewiger indruk, meen Andries Visagie (Beeld, 1 November 2008).

Die bundel belig ’n baie spesifieke ruimte, soos die titel aandui, gaan Visagie voort. “Kamermusiek speel met die private (binne), maar dan soos dit geïnformeer word deur die wêreld daar buite. Die kamermusiek as genre is juis bekoorlik omdat dit so intiem is. En in die intimiteit lê soveel fasette. Niks groots, soos simfoniese werke of opera nie, maar allermins klein!

“As jy die titel in twee woorde wil indeel, is daar, hoop ek, die musiek wat deur die kamer of kamers trek. Maar die kamer is myns insiens die domein van ’n enkeling. ’n Deur wat kan toemaak, maak juis van ’n kamer ’n kamer. ‘Kamer’ is die plek waar ek veilig voel.

"Die titel is ’n kernagtige samevatting van twee belangrike tematiese aspekte van sy gedigte. Myburg skryf, soos in sy bekroonde bundel Kontrafak (1994), steeds oor die musiek, maar baie gedigte gaan nou ook oor kamers, huise, forte en ander argitektoniese ruimtes.

"In die gedigreeks 'Aangepaste argitektuur' koppel die digter sy binnenshuise bestaan aan die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Sy 'Aankopelys' begin so: 'Lemmetjiesdraad, 300 meter/ alarmstelsel, met armed response/ panic buttons/ motorhek, gesweis, gegalvaniseer + afstandbeheer'. Hierdie hedendaagse beveiliging word egter geplaas binne ’n historiese konteks: die gedig­reeks verwys ook na die netwerk van forte wat die Engelse in die 19de eeu op die Oosgrens opgerig het vir die beveiliging van die koloniste teen die Xhosa-aanvalsmagte. Daar het oor die eeue heen dus nie soveel verander nie. In Kamermusiek is die binnenshuise bestaan ook ’n teken van isolasie en eensaamheid.

“Dit is opvallend dat Myburg sedert sy debuut, Vlugskrif (1984), ’n groeiende polities-maatskaplike belangstelling toon. Die religieuse inslag wat sy vorige twee bundels gekenmerk het, is nou minder prominent."

Vir Visagie is daar ook ’n sterk aanwesigheid van sensitiwiteit vir klank en word goeie musikale effekte bereik. Die gedigte in Kamermusiek is soms nogal donker, skryf Visagie, en dit is nie die soort musiek wat jou vrolik en opgeruimd stem nie. "Myburg se besonder netjies afgeronde bundel verdien ’n plek op die inkopielys van elke Afrikaanse poësieliefhebber."

In haar Volksblad­resensie (6 Oktober 2008) skryf Joan Hambidge: “Myburg se verse het nog altyd ’n fyn balans gehandhaaf tussen intellek en emosie, vorm en musikaliteit en die enigste gevaar van sy soort gedig was in die verlede dat die gedigte té sterk onder die invloed van TT Cloete gestaan het. Dit is egter in hierdie jongste bundel afgeskud en ons vind in hierdie bundel ’n trefsekere, helder stem.

“Die bundel terloops is deur Lapa gepubliseer en met hierdie bundel bewys hierdie uitgewershuis dat kleiner of randuitgewers ’n belangrike rol kan vervul vir die digkuns. Behalwe vir aksenttekens wat op Franse titels afgeval het, is die bundel andersins netjies uitgegee. Op die buiteblad word die gedigte van Myburg geloof deur Daniel Hugo, eweneens ’n digter van die kamermusiek.

“Nie minder as die groot simfoniese konstruksies nie, want vele gedigte tref eintlik júis om die dwarssegging of mineurtoon. In hierdie bundel word daar in gesprek getree met Virginia Woolf en Roland Barthes. Daar is ’n aangrypende gedig oor Biko. Daar is gesprekke met Neruda, Lorca, Ted Hughes, Totius, Ina Rousseau en vele ander slim toespelings wat van die bundel ’n opwindende leeservaring maak. Daar is egter ’n balans tussen interteks en eie teks. Die geleerde verwysings oorwoeker nie die verse nie en dikwels word die leser gekonfronteer met die onthutsende ontbloting van die self. [...]

“Die leser moet dikwels raaisels oplos, intertekste naspeur in ’n bundel wat soveel leesplesier verskaf. Dit is ’n melancholiese bundel en in die titelgedig vra die spreker dan ook: Is daar ’n ander lewe wat hy elders leef? Ja, daar is. Die digter het dit vir ons in hierdie mooi bundel gegee.”

As daar na die titels van sy bundels en gedigte gekyk word, is dit duidelik dat musiek ’n groot rol in Johan Myburg se lewe en digkuns speel. “Daar is in woorde ’n ongelooflike musikaliteit. En musiek is vir my belangrik,” vertel Johan aan Jaco Jacobs. “Ek luister graag, al kan ek nie self sinvol genoeg musiek maak nie. Maar ek sien dit nie as ’n leemte nie. Om te luister is om deel te kry aan die proses. Om te luister verg meer inspanning as om net jou ore oop te hou. Dieselfde dink ek van lees. Etienne Leroux het gesê dat as hy sewe jaar aan ’n roman skryf, verwag hy dat die leser sewe jaar daaraan moet lees ...”

Daar word dikwels in resensies verwys na die ooreenkoms wat Johan se digwerk toon met dié van TT Cloete. Hierop reageer Johan so teenoor Jacobs: “Dis minstens goeie geselskap, reken ek. Ek bewonder beslis Cloete se woordgevoeligheid en sy omgang met woorde. Ek het mettertyd doelbewus probeer om minder Cloete te lees. En dalk meer gewoond te raak aan my eie stem. Dit verklaar dalk ook iets van die lang tyd wat verloop het voor Kamermusiek. Maar invloed is iets waaraan ’n mens nie kan ontkom nie. Dis soos lug wat jy inasem. Die mikpunt is seker om nie jou eie stem – wat dit ook al mag beteken – te onderskat nie.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Johan aan Beeld (9 April 2001) gesê: “Ek weet ek moet skryf oor ’n boek. Maar ek kan die verleiding om oor die proses na te dink, nie weerstaan nie; die nimmereindigende proses. Want met die lees van elke boek, hoe goed of hoe sleg, verander my lewe.

“Daar is boeke wat my lewe verander het. Baie boeke wat indrukke gemaak het. Baie van die indrukke wat ek nie meer bewustelik onthou nie, maar iewers in my onderbewuste binneste is die boeke ingedruk. Ingeprent. En praat die boeke saam in die manier waarop ek dink en praat en skryf.

“Wat ek wel kan onthou, is die dag toe ’n ou vrou wat huis opgeruim het, gesê het ek kan uit ’n stapeltjie boeke kies. Ek het ’n boek gekies wat nog steeds helder in my binnekop is. Die Rubayyat van Omar Khayyam. Die swaar grysblou boek met gehawende bladsye (en haar man se naam is in ylblou ink op die vergeelde titelblad). Die boek het ’n paradyshek voor my oopgestoot. Daar was letters so eksoties soos die kwatryne se woorde. Daar was prente druppend van Victoriaanse obsessie met (Midde-)Oosterse oorde. Jongeling wat ek was, het die boek ’n towertapyt geword vir menige reise.

“Dit was nie net die Khayyam-kwatryne nie. Dit was die boek, die verpakking. Die oudheid. Die geleesdheid van die boek. Die etlike kilometers op die tapyt se odometer. Dit was my saamlees met almal wat die boek voor my gelees het. Saamdroom met al die voormalige dromers.

“Ná die Rubayyat het ek bewus geraak van my rusteloosheid. Het ek in die Wes-Transvaalse landskap iets probeer herken van die tuinerye van ander lande. Het ek palmbome sonder meer begin aansien as aanduiding van ’n oasis.”

Johan lees graag Afrikaans en probeer op hoogte bly met wat verskyn, ook in prosa. “Jostein Gaarder wat Sophie’s World geskryf het, het die vermoë om tweeduisend jaar se filosofie voor jou oë te laat leef. En ek haal Goethe aan: ‘He who cannot draw on three thousand years is living from hand to mouth.’ Richard Foster se Patterns of Thoughts: The Hidden Meaning of the Great Pavement of Westminster Abbey sluit aan by Gaarder: jy kan oor ’n sypaadjie loop en van die hand na die mond lewe, of jy kan die mat optel en kyk wat is daaronder en begin lewe" (Beeld, 8 Mei 1995).

Na Kamermusiek het Johan gehoop om in die toekoms meer te publiseer, maar “die gedagte laat my keel toetrek. Dit voel asof tyd moet verloop om sekerheid te kry van woorde en stellings. En dalk afstand. Onsekerheid speel seker ook ’n rol. Die immer knaende onsekerheid.”

In 2017 verskyn Johan Myburg se vierde digbundel – 33 jaar ná sy eerste bundel, Vlugskrif, in 1984 gepubliseer is. Dit kom neer op een bundel elke tien jaar, soos Daniel Hugo skryf in Volksblad van 22 Mei 2017.

Johan verduidelik hierdie lang periodes tussen publikasies aan Hugo: "Terugskouend meen ek my debuutbundel kon meer om die lyf gehad het as ek langer daaroor gewik en -weeg het en dalk later gepubliseer het. Ek vermoed dié gewaarwording het daartoe gelei dat ek daarna versigtiger was. Hoewel daar nadele aan lang stiltes verbonde is, is ek nie daaroor spyt nie."

Daar is al heel partykeer verwys na die invloed wat TT Cloete op Johan se poësie gehad het. Hy verel hieroor meer aan Hugo: "Cloete se stem was met die verskyning van my eerste bundel só klinkend dat die eggo's inderdaad in my werk deurgeslaan het. Wie is dit wat gesê het: As daar eggo's van ’n ander digter in jou werk opklink, is dit minstens nie so sleg as dit die stem van iemand soos Cloete is nie?"

Hy vertel ook aan Jo Prins (Netwerk24, 24 Mei 2020) dat hy vir TT Cloete geken het voordat hy gedebuteer het met Angelliera in 1980. "Ek het nie geweet hy dig nie. Hy het ’n ongelooflike teenwoordigheid gehad as literator ... jy't ’n ander klas gebank om sy klas by te woon. Dit was nooit ’n performance nie, maar studente het aan Cloete se lippe gehang. Ons het langs mekaar gewoon, my ouers en die Cloetes, en ek het hom op skool reeds geken. Ek het hulle huis opgepas wanneer hulle met vakansie gegaan het ... daardie tipe van ding.”

"En toe kom Cloete met sy digbundel en dit was net ’n nuwe wêreld. Hoewel ’n mens dit natuurlik kon vermoed het, het ’n mens nie werklik geweet hy skryf ook nie. As ’n mens woorde só kan strengel ...

"Op ’n manier dink ek die poel waaruit Cloete drink, is dalk ook die poel waaruit ek sou wou drink – dalk nie op dieselfde plek nie. Dit lê verder terug as net 'ek lees die man se werk en word beïnvloed deur hom'. Ek dink ons is beïnvloed deur soort van ’n oerbron. Ons drink dalk op twee verskillende plekke ... hy vat ongelooflike teue en ek sip-sip."

Jo Prins wou ook meer by Johan uitvind oor die ooreenkomste tussen Johan en Cloete se uitkyk op die oudwordproses en die godsdienstige: "Ek het nooit werklik aan Cloete gedink as ’n religieuse digter nie," sê hy aan Prins. "Soos wat ek aan myself nie dink as ’n religieuse digter nie. Daar is ’n religiositeit. En die aftakeling van die lyf? Ja, inderdaad, ek dink dis soos ’n koei ..."

Johan het hard gewerk om in hierdie vierde bundel ontslae te raak van die "eggo's" van TT Cloete, vertel hy aan Daniel Hugo. "Soos in baie ander gevalle ook is die uitdaging, dink ek, nie noodwendig om goed aan te leer nie, maar om goed af te leer. As ek ’n oordeel mag vel oor die nuwe bundel, voel dit vir my asof ek in Uittogboek ’n stem hoor waarmee ek gemaklik voel. As dit my eie is, sal dit gaaf wees."

In Uittogboek identifiseer Johan Myburg hom met die gay Romeinse keiser Hadrianus (76-138 nC). Hieroor praat hy met Hugo: "Benewens Hadrianus se strewe na vrede in ’n besonder bloedige tyd was hy die keiser wat ’n belangstelling in die kunste gehad het en ’n besondere argitektoniese nalatenskap gelaat het – benewens die Pantheon in Rome onder meer ook sy villa en tuinery by Tivoli. ’n Paar kilometer buite die stad, asook uitgebreide bouwerk in Griekeland.”

"Hy het opdrag vir heelwat beeldhouwerke gegee (onder meer van sy geliefde Antinous), het kuns versamel en was teen die einde van sy lewe ook digter – hoewel 'animula vagula blandula' die enigste vers van hom is wat behoue gebly het. As hy homoseksueel was, is dit toevallig. Hy het liefgehad."

Johan se uitgebreide kennis van die kunste is baie sigbaar in sy poësie. En, soos Hugo skryf, verryk dit sy verse, maar dit stel ook hoë eise aan die leser van sy gedigte. Die moonltikheid bestaan dat dit as elitisties geoormerk kan word: "Sonder uitsondering behoort alle mense toegang tot kuns te hê," is sy siening. "Nietemin is elitisties, of eerder ’n spesifieke verwysingsveld, allermins vir my iets negatiefs. Ek dink nie kuns is per se ’n demokratiese bedryf nie.”

"Vermaak – kuns kan ook vermaak wees en andersom – het wél ’n demokratiese ideaal, versterk deur die feit dat dit merendeels kommersieel gedrewe is. Kuns wat primêr ’n demokratiese en/of kommersiële mikpunt het, stel sigself wawyd oop vir middelmatigheid."

Willie Burger skryf as volg oor Uittogboek in Vrouekeur van 4 Augustus 2017: "In agt bundelafdelings bied Myburg fyn afgewerkte gedigte wat wal gooi teen verganklikheid. Soos in Kontrafak (1994) vind hy aansluiting by die Latymse wêreld, by enkelinge soos Ovidius as 'bakens van sterflikheid' en hy knoop sy sterflikheid daaraan.

"Hier is speelse gedigte, gedigte vol spot en ironie, soms bedreiglik toeganklik terwyl ander weer besonder dig is: dig aan verwysingsraamwerk (Bybel, Klassieke, Middeleeue en eietydse ervarings) maar ook aan tegniek. ’n Mens staan telkens verstom oor die vernuftige bindmiddels: versigtige woordkeuses wat op slim maniere saambind, deur assosiasies, deur klank, deur betekenis.”

"Uittogboek kan met groot genot op grond van klank- en woordspel en die betowering van beelde geniet word, sonder dat jy te veel verstaan. Maar dit verdien om weer en weer gelees te word en geleidelik raak ’n mens opgewonde oor nog en nog ontdekkings.”

"Daar het nog altyd baie tyd verloop tussen Myburg se bundels. Maar hy het ook met elke bundel verder en dieper gegryp en sy gedigte word tegnies al hoe boeiender. Hierdie is ’n hoogtepunt."

Vir Joan Hambidge (Rapport, 16 Julie 2017) is Uittogboek ’n "komplekse bundel wat handel oor die geskiedenis, ver en naby, en die programgedig is ’n herdigting van die bekende sterfgedig van die Romeinse keiser Hadrianus.”

"Myburg se bundels was nog altyd deurgekomponeer, veral rondom die musiek en die skilderkuns. Dieselfde geld die jongste bundel wat die leser kan oopmaak op enige plek om die kontrapuntale aard daarvan te kan raaksien. [...]

"Myburg se vorige bundels het swaar gedra aan ’n TT Cloete-invloed. In hierdie bundel het hy dit genoegsaam verwerk en sy eie stem gevind. Cloete is steeds daar, maar nou meer in die troop van die apophrades, soos Harold Bloom dit tipeer in A map of misreading (1975), oftewel die terugkeer van die dooies. [...]

"Die digter lewer ’n bundel met ryk tematiek en daar is vele vorme wat ontgin word, soos prosaverse, stringverse, eksperimente met die distigon, vierreëlige verse. Daar is lykdigte en reisverse. Ars poetica en stemmingsgedigte. Daar word verwys na skrywers soos Marguerite Yourcenar, Maurice Blanchot; kunstenaars soos Elza Botha en Diane Victor. [...]

"Dit is ’n ryk en komplekse bundel wat getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry. [...] Dit is ’n eerste lesing wat deur dieper besinnings sal moet gaan om reg te laat geskied aan Uittogboek."

Die beoordelaars van die pryse vir Afrikaanse poësie het saam met die resensente gestem. Nie net is Uittogboek in 2018 die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir poësie nie, maar in 2020 palm Johan ook die grote in – die Hertzogprys vir poësie.

Die beoordelaars van die ATKV-Woordveertjie het hul as volg uitgelaat oor Uittogboek: "Dit is ’n besonder indrukwekkende versameling gedigte dié wat omvang, diepgang en versvermoë betref. Johan Myburg gaan ewe selfversekerd met vrye as met formele verse en prosagedigte om.

Uittogboek is die werk van ’n beleë digterskap en verdien om ernstig van kennis geneem te word." (LitNet)

Hennie van Coller was die voorsteller van Johan vir die Hertzogprys en sy motivering het onder andere die volgende ingesluit: "Naas Marlene van Niekerk se bundels is Uittogboek die indringendste peiling van aftakeling, eensaamheid en die aard van kuns. Na my gevoel is dit een van die beste bundels van die afgelope jare."

Andries Visagie was verantwoordelik vir die commendatio namens die Letterkunde-kommissie van die Akademie vir Wetenskap en Kuns: "Met sy meevoerende digbundel Uittogboek demonstreer Johan Myburg sy ambagtelike beheer oor digvorme wat insluit die kwatryn met sy streng vormlike vereistes tot die losser en meer uitgesponne prosagedig. In die gedig 'Hadrianus' is die woord tanatografie een van die sleutels vir die oopmaak van hierdie bundel. Baie van die gedigte gaan naamlik oor die doodservaring of ten minste die onverbiddelik naderende uittog wat elke sterfte veronderstel. Klaarblyklik om te verseker dat die gedigte nie in die eng persoonlike vassteek nie, het Myburg in Uittogboek die Romeinse keiser Hadrianus as identifikasiefiguur en as gesprekgenoot betrek. Die bundel word omraam met verse wat fokus op Hadrianus en sy geliefde Griekse vriend Antinous. In die literatuur is die verhouding tussen Hadrianus en Antinous ’n bekende kode vir die liefde tussen mans en Myburg sluit op ’n besonder genuanseerde en eiesoortige manier aan by hierdie tradisie in die wêreldliteratuur.”

"Van die treffendste gedigte is stadsgedigte wat stede soos Johannesburg, Oos-Londen, Potchefstroom en ook Tirus, Beiroet, Düsseldorf en Venesië betrek. In die gedig 'Düsseldorf' lui die nadenke van die spreker oor sy kulturele gespletenheid tussen Afrika en Europa, soos volg: 'Ons haal asem tussen elkander, tussen twee vastelande, tussen twee drywende. Vreemd was ek daar, vreemder leef ek hier in ’n lyf'. Tog is daar ook ’n hunkering na Afrika en ’n kritiese taksering van Europese kolonialisme soos in die volgende kwatryn oor die Victoria-waterval in Zimbabwe:

Kan ’n mens só bang wees vir die vreemde, verwaand
genoeg of onbewus van jou eie blindekolle, dat jy op die rand
van ’n afgrond, katarak vol in die oog,
’n waterval kan noem na die koningin van Engeland?

"Johan Myburg skryf verder gereeld oor die eie huis en tuin as ’n onvolmaakte toevlugsoord in ’n omgewing wat onveilig geword het. Die troos is deurgaans dat die geskrewe woord ná die dood in ’n soms lewensbedreigende omgewing iets blywends van ’n eie nalatenskap sal bewaar.”

"Die verse in Uittogboek gaan een vir een op in ’n simfoniese geheel. Die indruk wat die bundel by die leser laat, kan met die volgende woorde omskryf word: weemoedig, ontroerend, oorwoë, afgerond en verbysterend goed." (Deur A Visagie aan LitNet verskaf)

Johan praat met Jo Prins oor die Hertzogprys vir Uittogboek (Netwerk24, 24 Mei 2020): "Daar is ’n klomp goed, lyk dit my, wat ek nooit was nie ... of sal wees nie. Soos in betrekkings, ek dink nie ek het ’n loopbaan van betrekkings agter my rug nie. Maar wat ek graag sou wou wees, is ’n digter. Ek dink dit het van daar af gekom ... die prys is as’t ware ’n bevestiging van die gedagtes wat ek dáár (op skool) gehad het van dalk, dalk kan jy daaraan begin dink om jouself ’n digter te noem."

Oor sy reaksie nadat hy die Hertzogprys gewen het, sê Johan aan Melt Myburgh (op LitNet): "Oorweldig is dalk ’n goeie beskrywing van hoe ek gevoel het toe ek die nuus gehoor het. Spesifiek ten opsigte van die onverwagsheid daarvan en terselfdertyd die opeenvolging van emosies wat ’n mens beleef by die aanhoor van sulke nuus – van 'is dit?' tot 'dit is!'"

Melt Myburgh wou by Johan ook weet of die teologie en die geloofswêreld (in 2020) steeds vir hom ’n ankerpunt is, of het hy soos baie ander predikante sy geloof ontgroei? "Sonder teologie sou ek nie die klassieke leer ken het nie. En ook nie filosofie nie. En ook nie sielkunde nie. Ek hou van die onderskeid wat jy maak tussen teologie en die geloofswêreld. Vir die dogma van teologie (soos ook vir die dogma van sielkunde) het ek besieling verloor. Soos wat die DSM (Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders) in sy vele gedaantes deur die jare blyke gegee het dat die mens se kennis beperk en ook tydgebonde is, het die stelligheid waarmee die 'gans andere' God in teologie (wat volledig afhanklik is van die mens se begrip) ingeperk word, vir my onhaalbaar geword. As ek nie geleer het wat ek geleer het nie, sou ek nie geweet het wat ek nié wil weet nie. Ek wil nie alles haarfyn verstaan nie. Want ek kan nie. Ek wil byvoorbeeld nie oomblik vir oomblik bedag wees op die fisiologiese prosesse wat betrokke is by my asemhaling nie. Nietemin wil ek behaaglik asemhaal en bly wees oor die feit dat ek dit kan doen. Sonder asem kan ek nie."

In sy onderhoud op LitNet met Johan wou Melt Myburgh by hom weet hoe hy voel oor hoe Suid-Afrika verander het sedert 1984 en hoe die veranderde omstandighede sy lewe en digterskap beïnvloed. Hierop antwoord Johan: "’n Mens vergeet maklik hoe sleg die 1980’s was. Ek was in die Oos-Kaap van die middel-80’s en dit was een van die grootste leerervarings wat ek gehad het. Rof is relatief, maar maklik was dié jare nie. Nietemin is ek immer dankbaar vir daardie blootstelling en die universiteit wat die Oos-Kaap vir my was.

"Soos demokrasie is menseregte en persvryheid en al die lofwaardige dinge waarvoor ’n mens jou beywer het, nooit finaal gewaarborg nie. Jy moet dit deurentyd lewend hou, aanwakker, verdedig en bereid wees om weer daarvoor in die bresse te tree. Dié goed kry net gestalte in dié mate waarin ’n mens dit lewend hou.”

"Hoe raak dit my lewe en digterskap? Waarvan ek oortuig is, is dat die manier van lewend hou nou anders is as toe. Woorde moet ’n mens steeds versigtig kies, maar ek dink luister raak ’n groter noodsaaklikheid. My geslag veral, neem aan ons weet. Ek dink ons moet minder dawer en meer luister. Die laaste ding wat ek hoop om te word, is bitter. Soos ek hieroor dink, sou ek graag hieroor wou skryf."

Publikasies

Publikasie

Vlugskrif

Publikasiedatum

1984

ISBN

0628026358 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kontrafak

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1995

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamermusiek

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342598 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uittogboek

Publikasiedatum

2017

ISBN

 9781485307761 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir poësie 2018
  • Genomineer vir Sala-toekennings vir poësie 2018
  • Hertzogprys vir poësie 2020

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Johan Myburg beskikbaar op die internet:

Artikels deur Johan Myburg beskikbaar op die internet:

Johan Myburg se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2015-06-03 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-06-03

The post Johan Myburg (1957– ) appeared first on LitNet.


ATKV-Woordveertjiewenners 2020: Kinderboekafdeling

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – het die waarde van lees weer opnuut na vore gekom en onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed.

Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die leerders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1
  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Sasha word stil
  • Illustreerder: Angela Banks (LAPA Uitgewers) – Sasha word stil

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3
  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Monsterpizza
  • Illustreerder: Yolandi Prins (LAPA Uitgewers) – Monsterpizza

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5
  • Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai
  • Illustreerder: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7
  • Skrywer: Annabel Allers (LAPA Uitgewers) – ’n Ou soos jy

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10
  • Skrywer: Nanette van Rooyen (LAPA Uitgewers) – Die 17de veer

Lees ook:

’n Leeslys vir kinders wat tuisbly: LAPA Uitgewers se keuse

Die sewentiende veer

The post ATKV-Woordveertjiewenners 2020: Kinderboekafdeling appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2020: Toekenning vir Leesbevordering

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – het die waarde van lees weer opnuut na vore gekom en onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed.

Die Toekenning vir Leesbevordering gaan vanjaar aan die Uyavula Lees- en Skryfprojek.

Die Uyavula Lees- en Skryfprojek wil ’n liefde vir stories en boeke by kinders kweek.

Die projek bedien kleuters tot 13-jarige kinders in Macassar, Chris Nissen Park en Onverwacht (wat die gemeenskappe van Nomzamo, Zola en Lwandle bedien) deur middel van leesklubs en voorleesgeleenthede in Grondslagfase-klasse of individuele kinders. Tydens 2019 het 119 vrywilligers ongeveer 2093 kinders bereik in vyf skole, 52 klasse en vier leesklubs.

Hierdie foto is verskaf deur die Uyavula Lees- en Skryfprojek.

Malinda Kruger, hoof van Altena Primêre Skool, som Uyavula se inset so op: “To all the classes the visits were the highlight of the week. Readers put great effort into the choice of books, questions they asked and discussions about the stories afterwards. A love for reading, stories and books were created. The learners started behaving better and some were even removed from the list of learners with behaviour barriers. We cannot imagine teaching and learning anymore without the support of Uyavula readers. May they forever be part of the Altena family.”

Keer op keer staan ons in verwondering oor die wyse waarop iets so maklik, eenvoudig en boonop “lekker”, gebruik word om ’n betekenisvolle verskil te maak op soveel vlakke en in vele harte.

The post ATKV-Woordveertjies 2020: Toekenning vir Leesbevordering appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies vir liefdesverhale en romanses

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – het die waarde van lees weer opnuut na vore gekom en onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed.

Romanses

Die prys vir romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust beoordeel met die wenner: Halsoorkop verlief – Dina Botha (Romanza).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor dié wenboek:

Dit is ’n emosioneel gedrewe storie waarmee die leser kan identifiseer, wat jou nuwe insigte kan bring in jou eie verhoudings en uitdagings. Jy ervaar ’n gevoel van emosionele versorging omdat die held die heldin se diepste behoeftes verstaan. Die fokus is op die ontwikkeling van die nuwe verhouding en die agtergrond van die storie is nie oorheersend nie. Jy kan eenvoudig nie die boek neersit nie!

Liefdesromans

Die prys vir liefdesromans se beoordelaars was Shireen Crotz, Roela Hattingh en Ilse Salzwedel met die wenner: Lira – Chanette Paul (LAPA Uitgewers).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor dié wenboek:

Baie keer is boeke wat deel is van ’n opvolg so half onvolledig om die leser te laat uitsien na die tweede boek of die opvolg. Lira se verhaal word met soveel gevoel en oortuiging vertel dat die leser met ’n sug van tevredenheid die boek neersit; ons wil tog maar almal ’n gelukkige einde hê. Soos gewoonlik is daar deeglike navorsing gedoen deur die skrywer oor die ruimte of omgewing waar die boek afspeel en jy voel asof jy die omgewing kan sien in jou geestesoog.

Lira voldoen aan elke vereiste van ’n lekkerlees-liefdesroman. Daar is genoeg romantiek, net die regte hoeveelheid “uitgestelde begeerte”, ’n goeie skeut spanning, hope humor en interessante, uiteenlopende karakters.

The post ATKV-Woordveertjies vir liefdesverhale en romanses appeared first on LitNet.

MM Walters (1929–2020)

$
0
0

Gebore en getoë

Mattys Michielse Walters is op 23 Januarie 1929 op Moorreesburg in die Swartland gebore. Sy pa was Gerhardus Walters; sy oupa, MM Walters, was ’n bekende in onderwyskringe in die Swartland. Van sy familie was ook sakemanne en koringboere in die Swartland. Hy gaan aanvanklik skool op Moorreesburg, maar voltooi sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool op Wellington in die Wes-Kaap.

Verdere studie en werk

Thys Walters, soos hy beter bekend is, gaan studeer na skool aan die Hugenote Universiteitskollege in Wellington. Hy sit sy studie voort aan Unisa, asook aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1972 sy MA-graad behaal met ’n verhandeling oor Peter Blum onder leiding van Merwe Scholtz.

Vanaf 1950 gee hy onderwys onder andere in Natal, by SACS in Kaapstad en op Ladismith in die Suid-Kaap. In 1960 word hy aangestel aan die Onderwyskollege op Graaff-Reinet as dosent in Afrikaans. Vanaf 1967 is hy verbonde aan die Paarlse Onderwyskollege as dosent in die Afrikaanse letterkunde tot in 1971, toe hy as dosent in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Kaapstad aangestel word – ’n pos wat hy tot en met sy aftrede beklee, waarna hy hom in Simonstad vestig. Hy is getroud en het twee kinders.

MM Walters se eerste gedigte word in die letterkundige tydskrif Standpunte gepubliseer. Later word hierdie gedigte saamgevat in sy eerste bundel Cabala, wat in 1967 verskyn. Hierdie bundel word in 1968 bekroon met beide die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys en in 1969 met die WA Hofmeyr-prys.

TT Cloete (Die Burger, 6 Oktober 1967) beskryf dit as ’n bundel van opspraakwekkende poësie, hoe rustig en effe dit op die vorm af by ’n eerste oogopslag ook al mag lyk. “Walters is een van ons digters wat met sy eerste bundel al iets buitengewoon te sê het en dit op die wyse van poësie buitengewoon vir ’n debutant sê, ook al deur die gebruik van ’n onverskillige taal in die grootste erns.” Cloete beskou ook hierdie bundel as waarskynlik die belangrikste eersteling-bundel wat na Breytenbach s’n verskyn het.

SJ Pretorius (Transvaler, 23 September 1969), wat saam met DJ Opperman die beoordelaars vir die Ingrid Jonker-prys was, spreek die volgende mening oor Cabala uit: “Walters is op sy beste in gedigte waarin hy objektiewe gestalte gee aan sy siniese kyk op sake. Dit kom veral te voorskyn wanneer hy van landelike beelde – veral dierbeelde – gebruik maak. (...) Wat ook te waardeer is, is dat Walters in ’n kompromie met die meer gebonde vers, ’n eie losser styl – byna ’n heffingsvers – ontwikkel het vir sy Reynaerde-agtige satiriek en La Fontaine-agtige fabelistiek. ’n Mens waardeer hierdie verse om hul on-, byna anti-sentimentele ruheid, waarin die realisme jou soms aan ’n Goya (Saturnalia) laat dink. Veel kan nog seker in die toekoms van Walters verwag word. Hierdie werk is eg.”

In sy huldigingswoord met die toekenning van die Eugène Marais-prys aan Cabala sê PD van der Walt (Jaarboek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1968) dat die selfstandigheid van die digter hom seker die sterkste openbaar in die satiriese poësie in hierdie bundel. “In dié opsig lewer Walters baie beslis ’n bydrae tot die Afrikaanse digkuns wat eintlik arm is aan die gerypte satiriese vers. Gedigte soos dié van Walters verstoor die idille, vestig die aandag op seker misstande in ons samelewing. Die satire is skerp en moedig, maar die digter is nooit beledigend of haatlik nie; daarvoor is hy poëties ook te vindingryk (...) Maar bowenal kom Walters in aanmerking omdat hy hom nie deur allerhande modes en modetjies laat heen en weer slinger nie, omdat hy hom besig hou met ’n wêreld wat hy ken en omdat hy met sy mag oor woord en beeld, belewenisse en probleme kan oorhewel na die gebied van die poësie. Die geheelindruk wat die bundel Cabala laat, is dat hier ’n digter aan die woord is met ’n sterk ondersoekende houding teenoor die lewe, dat dié poësie ’n selfverworwe neerslag is van sy geestelike verkenning, dat Walters iemand is met waaragtig poëtiese talent en vermoë.”

Merwe Scholtz (Die Burger, 28 Oktober 1969) sê in sy motivering vir die toekenning van die WA Hofmeyr-prys aan Cabala dat dit vir hom geen verrassing is dat Nasionale Boekhandel ’n versetdigter met ’n prys bekroon het nie. “Die Pers was nog altyd lojaal teenoor werklik lojale verset. Walters se verset is dikwels ’n soort hartseer oor die heroïese in ons tradisie wat ons ten dele verloor het. Dit geld vir baie van sy gedigte, hoewel Walters ook veel meer is as net ’n versetdigter. In baie van sy werk is die digter satirikus, hekelaar. Hy praat pront.”

Die Paarlse Opleidingskollege het in 1969 besluit om op ’n oorspronklike manier tot die fonds vir die Afrikaanse Taalmonument by te dra. MM Walters, wat senior lektor aan die Kollege was, het ’n spesiale geleentheidstuk in verse oor Afrikaans geskryf. Studente het dit opgevoer en die inkomste is in die monumentfonds gestort. Die naam van die stuk is Taalfees en twee vertellers tree op om die geskiedenis en ontwikkelingsgang van die Afrikaanse taal aan die gehoor voor te dra.

Walters is ook in 1970 deur die Paarlse tak van die Afrikaanse Taal en Kultuurbond gevra om ’n geleentheidstuk vir daardie jaar se Taalfees te skryf.

In 1969 word Walters se tweede digbundel, Apocrypha, deur Nasionale Boekhandel gepubliseer. In Die Huisgenoot van 27 Maart 1970 skryf die resensent dat die verse ’n bietjie geduld vra. Al begin ’n mens nie sommer daarmee ’n heftige vriendskap met die digter te sluit nie, sal jy met toenadering van jóú kant in sy geselskap onverwagte plesier vind.

PD van der Walt (Transvaler, 29 Desember 1969) skryf: “Walters het in hierdie bundel sy digterlike vindingrykheid en veral sy fyn satiriese talent bevestig.”

Oor Heimdall, Walters se derde bundel, skryf AP Grové in Hoofstad van 22 November 1974 dat ons hier poësie het wat waarskuwend die aandag vestig op onheilstekens van die tyd, gevaartekens in ons gemeenskap. “Dis egter nie poësie wat in die proses suur of swaarwigtig wil wees nie; dit wil eerder op speelse, plek-plek geniepsige wyse en met ’n jeugdige, byna kwajongagtige glinstering in die oog die spot dryf met alles wat lyk op vertoon, lamsakkigheid of vernaamdoenery. Naas die kompromislose verset teen aanstellerigheid bied hierdie verse ’n gesonde aardsheid en eerlikheid. Menslike begrip en spot lê soms verenig in dieselfde gedig, soos bv te sien is in die pragtige ‘Hoekie vir eensames’. Terwyl daar gespot word met dié soort rubrieke, kry ons terselfdertyd ’n ontroerende kyk op die menslike situasie en die onvermydelikheid van die oudword.”

Fanie Olivier (Rapport, 16 Maart 1975) beskou hierdie bundel van Walters as sy sterkste en belowendste bundel tot op daardie stadium, veral “vanweë die groter deernis wat hy met sy ‘slagoffers’ het en die werklik goeie integrasie van mitologiese, Bybelse en digterlike materiaal, sowel as sy vermoë om binne ’n betreklik vaste versvorm die rykdom van ons taal te ontgin.”

In 1975 wend Walters hom na ’n nuwe genre en verskyn die eerste van sy dramas, Die vroue van Kores: ’n spel oor die lot van mense.

André P Brink het as volg oor Die vroue van Kores geskryf: “Die geskiedenis waarop hierdie versdrama gebaseer is, kan ’n mens breedvoerig in die Bybelboek Esra vind: die Israeliete wat teruggekeer het uit hul Babiloniese ballingskap en hul stad begin herbou – en dan deur die profeet aangesê word om al die ‘vreemde’ vroue in hul midde (die Persiese ‘vroue van Kores’ met wie hulle in ballingskap getrou het en wat saam met hulle na Kanaän teruggekom het om hulle lot met hulle te deel), na Babilon terug te stuur ten einde die volk suiwer te hou.  Die stuk slaag nie ás stuk nie, hoewel die boodskap lofwaardig is. Meestal praat die figure nie werklik binne die konteks van hul stuk met mekaar nie, maar spreek hulle óns toe, onderrig en leer en profeteer hulle in óns rigting. Ek hoop opreg dat die drama oor die radio gehoor sal word.”

Ook in 1975 word Walters se geleentheidstuk vir die Paarlse Taalfees in Augustus 1972, Die wingerdstok sal rank, gepubliseer. Na die opvoering in die Paarl skryf KS in Rapport: “Dit kon so maklik brakdroë volkskultuurheid geword het, maar MM Walters se druiwe is soet. Hy het die ou soort lote vernuftig weggesnoei. Hy bou rondom die taalstryder ds SJ du Toit ’n verhaal wat met genoeg intrige die taalgeskiedenis lekker vertel.”

In Die Transvaler word geskryf dat hierdie stuk eerder ’n tablospel is as ’n drama en dat dit daarin slaag ten spyte van gebreke soos breedsprakigheid.

In sy volgende drama, Miskien woon julle onder ons, keer Walters weer terug na Bybelse stof. Hy lê die verhaal van die Gibeoniete bloot wat onder valse voorwendsels ’n verdrag met die Israeliete sluit. Dit red hulle lewens, maar hulle word tot slawerny verdoem. In Walters se werk fokus hy veral op die aanloop tot die besluit wat Gibeon geneem het om ’n vreedsame uiteinde vir die probleem te kry.

Dorothea van Zyl resenseer die drama in Die Burger van 29 Mei 1979 en volgens haar maak die interessante perspektief op die Bybelse gegewe, die aktualiteit, ensovoorts ongelukkig nog nie ’n goedbeplande stuk groots nie. “Daarvoor bly die karakters te veel verteenwoordigers van standpunte en te weinig mense. [Dit] is nogtans ’n verdienstelike bydrae tot ons dramaliteratuur.”

Vir sy volgende publikasie wend Walters hom weer tot die poësie en weer tot die satire. Saturae word in 1979 deur Tafelberg gepubliseer en die belangrikste temas daarin is die ydelheid van die mens, die betreklikheid van ons oordele wat dui op ’n gebrek aan perspektief, en ook versteurde prioriteite.

Johann Johl skryf in Volksblad (6 Februarie 1980) dat die vermenging van ’n elegiese toon met die satire binne ’n satiriese opset ’n distansiëring bring, ’n op-’n-afstand-beskryf in die spel, en tas die werking van dié satires en die satire self dus wesenlik aan. Die clichés en bekende gegewens uit ander bundels val in dieselfde kategorie en skaad die impak wat andersins tot oortuiging sou kon lei.

Met die verskyning van Walters se klug, Drakenstein. My Drakenstein skryf André Brink (Rapport, 5 September 1982) dat dit Walters op sy mees vaardige in die genre van die drama toon en dat dit genoeg egte gevatheid en vlotheid bevat om die maagsnare te kielie. Die opset is baie eenvoudig, naamlik die ontdekking, deur ’n staatsbeheerde organisasie Soekom, van olie in die Drakensteinvallei.

Walters se vyfde drama, Oor die limiete, is ’n opdragwerk vir die honderdste bestaansjaar in 1986 van die Goodnow-saal uit die dae van Andrew Murray toe die gebou deel was van die destydse Hugenote-seminarie op Wellington. Die stuk is gesetel in die stryd van Ware Afrikaner, Frans Malan, teen verandering op Wellington totdat sy vrou en dogter, in hul ondersteuning van Murray se seminarie en sy sogenaamde “liberalisme”, teen hom draai. Die stuk is in Oktober 1986 opgevoer en in 1988 deur Perskor gepubliseer.

MM Walters is ook die skrywer van drie boeke oor onderskeidelik die Weskus, Saldanhabaai en die Swartland, sy geboortegrond. Christo S Botha was die fotograaf in Droom van die Weskus, waarvoor Walters die byskrifte geskryf het met enkele verse tussen mymeringe wat aansluit by die foto’s. In 1990 verskyn Die Swartland is my tuisland: ’n nostalgiese reis. Die foto’s is deur Siegfried Behm geneem, wat ook verantwoordelik was vir die foto’s van Die Weskusvan die Kaap wat in 1998 deur Tafelberg uitgegee is.

In 1994 word Walters se bundel satiriese essays Saturae: die essays by Tafelberg gepubliseer. Hennie van Coller skryf in Volksblad van 9 Januarie 1995: “Hy bewys dat hy die derde satiriese genre, die essay, net so vlot kan hanteer as die satiriese poësie en drama waarmee hy al naam gemaak het. (...) Hierdie versameling essays bevat vermaaklike geleentheidstukke vol humor, skerp kommentaar op eietydse waardeoordele en indringende bevraagtekening van geykte ‘universele’ waarhede. Dit alles in geslypte Afrikaans waarin moeiteloos oorgeskakel word van register en selfs variëteit. ’n Satirikus veg nie met ’n veer nie, maar met ’n rapier. Wees daarom gewaarsku: ’n mens kan dié boek nie ongedeerd neersit nie.”

Volgens Fanie Olivier (Beeld, 29 Julie 1996) sluit Walters se volgende digbundel (sy eerste sedert Saturae) in 1996, Sprekende van God, direk by sy vorige vier bundels, sowel as sy bundel hekelstukke, Saturae: die essays, aan. Van die heel eerste vers af word die vertroostende waarhede ondermyn. “God is geen sekerheid nie, altans nie in die sin wat ons dit voorstel nie. Hy verken in die 66 verse die gesprek oor die godheid van die tyd van die Grieke tot hier digby die einde van die twintigste eeu.” Olivier meen dat Walters met hierdie digbundel sy belangrikste bydrae nog tot die Afrikaanse poësie lewer en ’n betekenisvolle stem in ons religieuse digkuns word.

George Weideman (Oor skrywers en boeke, Afrikaans Stereo, Junie/Julie 1996) meen dat die satiriese element nie afwesig is in Sprekende van God nie. “Die satirikus wil, sonder om noodwendig moralis te wees, bewus maak van wantoestande of wanopvattings. Indien ons die siening moet glo dat die satirikus óf remediërend wil spot, óf dat daar ‘geen helende warmte in sy lag’ is nie, dan verskuif Walters met hierdie bundel die grense.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 7 Maart 1998) skryf oor Sprekende van God: “Walters se stem wen met hierdie bundel sommer baie aan helderheid en resonansie en dit is ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse religieuse poësieskat.”

Na ’n stilswye van bykans nege jaar word Walters se volgende bundel, Satan ter sprake, in 2004 deur Protea Boekhuis gepubliseer.

Joan Hambidge (Volksblad, 18 April 2005) beskou Walters as ’n bestendige digter en ’n voorste satirikus binne die Afrikaanse digkuns. “In hierdie bundel gee hy ’n aweregse blik op die geding met God. Want om oor Satan te skryf, beteken dat jy ook óór en mét God praat. Hierdie gedigte gaan teen my geloofsiening in en ek beoordeel dit slegs as gedigte. Soms is dit skerp, navrant in die uitwys van teenstrydighede (geloof helaas berus nie op redelike bewysvoering of logika nie), in skerp metaforiek. Dikwels is die gedig nog te veel betoog en te min vers. Maar vir wat dit wil wees, is dit ’n bundel wat nie-gelowiges sal behaag en waarskynlik menige predikant sal aanstig om hierteen te preek.”

In die 1990's is Walters die redakteur van die reeks Poësie uit verre lande wat deur Perskor uitgegee is en wat vertalings van Portugese en Spaanse gedigte deur Uys Krige bevat, asook vertalings deur Marthinus Versveld. Walters is self later verantwoordelik vir die bekendstelling van Chinese en Japannese gedigte in Afrikaans met die bundels Shih-Ching liedereboek en Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte wat onderskeidelik in 2004 en 2006 by Protea Boekhuis gepubliseer is. In resensies deur Joan Hambidge en Gunther Pakendorf is dit duidelik dat hierdie twee boeke op elke poësieliefhebber se boekrak tuishoort.

Walters se werk is deur Johann Nel vir die verhoog verwerk en Praat van die duiwel, Uitverkoop!, Boer Loer en Ha-ha-ha! Afrika! is met groot sukses by Kunstefeeste en ander teaters landwyd op die planke gebring. Nel is die voordraer en Juanita Swanepoel die regisseur van hierdie stukke. Nel vertel aan Francois Smith (Die Burger, 7 Desember 2000) dat hy nie genoeg kan kry van Walters en sy werk nie. Die sukses van die vertonings het ook daartoe bygedra dat Walters weer gewild gemaak is. Volgens Nel rol Walters se poësie soos prosa van ’n mens se lippe. Hy sê dat om met Walters te werk ’n uiters verrykende ervaring is, miskien omdat hy, nes Nel, baie privaat is. Walters vul voortdurend Nel se teks aan met nuwe en aktuele verse, want “die satire se probleem is dat dit dateer, (...) maar sy gepubliseerde werk bly aktueel. En dit is die toets vir ’n satirikus.”

In 2004 skryf Walters die drama Die meester met Johann Nel en Pieter Retief in die rolverdeling en regie weer eens deur Juanita Swanepoel. Dit is daardie jaar by die KKNK opgevoer, sowel as by die Klein Libertasteater op Stellenbosch. Die onderwerp van Walters se spot is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel oor die dekades heen.

In 2015 is Praat van die duiwel weer tydens die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring nadat Walters die teks aangepas en bygewerk het om tred met die tye te hou. Tydens die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein in 2019 bied Johann Nel ’n praatjie aan oor MM Walters en sy werk as deel van Naln se “Hulde aan Helde”-reeks.

Volgens Cor Scholtz op LitNet word daar heerlik die spot gedryf met die belaglikhede en die verwronge waardes van ons onderwysstelsel, terwyl bytende kommentaar gelewer word op die heersende ideologieë wat die jeug van ons land se gedagtes oor die afgelope eeu gevorm het.

In 2011 word Braille-briewe by Protea Boekhuis uitgegee – Walters se eerste digbundel sedert 2004. Dit is weer ’n bundel satires en op LitNet skryf Charl-Pierre Naudé: “Die bundel is geskryf as ‘briewe’: ‘aan die Groot Onbekende’, ‘aan Lucifer’, die ‘ontslape Arnoldus’ (Pannevis), aan die Ou Gode, en die Nuwe Gode; Calvyn kry ook ’n ou notatjie, en die ‘Boertjies in die Binneland’ word ook vermeld. Die briefmotief herinner onmiddellik aan die briewe van Paulus, wat self ook ’n onverpoosde korrespondent was, en wie se geopinieerdheid oor die heelal nie hoef terug te staan vir Walters s’n nie, hoewel met veel minder humor gedoen as by renegaat-apostel Walters.”

“Alreeds in die titel is ’n groot gevaar vir Walters se huidige bundel geleë: die gestroopte helderheid van sy seggingsgwyse loop hier gevaar om te direk te word en sodoende die subtiliteit waarvoor hy bekend is, te kelder. Braille-briewe: geskryf vir die blindes.

“Maar die digterstem (jww) bou ook selfafstand in sy bundel in deur sake van twee kante te beskou, soos die brief aan die ou gode, wat onvermydelik jukstaponeer met die brief aan die nuwe gode. Die ‘jy-weet-wie’ oftewel ‘jww’ waarmee elke brief afgesluit word, suggereer iets van die uitgeslote, die profane, die apokriewe, die alter ego, die anima selfs – wat hier honend terugskryf aan die onbevraagtekende en onbevraagtekenende, piëtistiese ‘sentrum’ – en só sy eie plekkie in die annale opeis. Die effek is dikwels skrynend. En heerlik. As jy die brief aan Lucifer saam met die een aan Calvyn lees, wonder jy oplaas maar wie is die régte Lucifer ... Die brief aan Calvyn begin so: ‘Verstaan my goed:/ Ek wil nie aanstoot gee nie.’ Maar dis presies wat die digter wel gee, op die mees verteerbaar denkbare manier, omdat dit net so fyn en skerpsinnig gestel is.

“Sarkasme (die aspoester van humor) is selde so fynsinnig as in die afloop van die brief aan Calvyn, veral in die veelduidigheid van die woord ‘lig’, waar gesinspeel word op al die mense wat deur Calvyn tot die brandstapel verdoem is: ‘Die vuur van louter liefde/ wat jy aangesteek het,/ is lank nie uitgewoed nie./ In die Genève wat jou naam dra,/ moet elke nuwe Servetus steeds lig loop.’ Die woord ‘kanon’ kom onmiddellik op as jy Calvyn deur hierdie bril sien. Die kanon van die godsdiens, van kennis, selfs van die letterkunde. Want die satire is ’n uitkringende vuurtjie.

“Walters skryf in ’n effens gedrae, sonore en beeldryke Afrikaans wat wissel tussen erns en humor, swaarwigtigheid en speelse vlugvoetigheid. Woorde soos ‘blufferige’ bewyse; vrugbare jong meisies wat nie ophou ‘molstoot’ nie; die ‘kerk van afsonderlike voortreflikheid’; ‘die “windpomp-kerk” wat draai onder druk/ en wind pomp’ ... dit hou nie op nie.

“In ’n onderhoud beskryf Walters homself as iets in dier voege: verknog aan die grond, bodemgebonde (my woorde), gebind aan sy mense. Hier is ’n uiters kritiese digter, maar hy bly deel van sy mense. Die posisie laat mens dink aan ‘lojale verset’, die beginsel van Van Wyk Louw. Dis ’n bundel wat dieper bespreking verg as wat ek hier geleentheid het om te gee. Dit beloon herhaaldelike lees en vervaal nie.

“Ja, daar ís slaggate waarin die digter trap. Waarna die slaggate beter daaraan toe is.”

Op Versindaba is Zandra Bezuidenhout die resensent. Sy begin haar bespreking deur Walters te vergelyk met Juvenalis wat snydende, maar tog ook komiese kommentaar op die samelewing van die 2de eeu nC gelewer het. Die bundelopdrag lui dan ook: “Opgedra, ter afskeid aan Juvenalis” en Bezuidenhout bespiegel as volg: “Die woorde ‘ter afskeid’ kan dalk daarop dui dat hierdie bundel dalk Walters se ‘afskeid’ is van Juvenalis, asook van die satiriese versvorm, maar ek hoop van harte nie van sy rol as skrywer nie, want ’n mens kan jou dit nie indink dat die letterkundige mantel van MM Walters op iemand anders se skouers moet val nie.”

Bezuidenhout gaan voort: “Getrou aan die aard van die satirikus gaan Walters hiperbolies en brutaal te werk. Hy stel ‘ongeskikte vrae’, soos Johann Degenaar na die aard van die filosofiese vraagstelling verwys het, want Walters is ten diepste ’n denker eerder as bloot ’n eietydse spotvoël soos dit op die oog af mag voorkom. Dit is die ‘manewales van die mens’, sy praktyke (of wanpraktyke) en sy gode (of afgode) wat hier ondersoek en bedink word, maar dan deur ’n werkwyse wat daarop gerig is om te ontbloot, te skok, te vermaak en desnoods te vervreem. Deur hierdie berekende retoriese truuk word die aandag vir die boodskap opgeëis, want soos die kabaretgenre wil die satiriese vers die toehoorder uitlok en uiteindelik tot nadenke stem.

“Die beeldende titel Braille-briewe kan geïnterpreteer word as persoonlike geskrifte aan ’n ontvanger wie se sig of insig by implikasie aangetas is. Die sender gee dus voor dat die opgehewe tekens van ’n kodetaal (’n metafoor vir die satire) nodig is om die boodskap in te skerp sodat dit letterlik aan die lyf gevoel word. Daarby is die briefvorm met sy informele toon by uitstek geskik om die distansie tussen die sender en ontvanger op te hef, en die leser by die argument te betrek. (...)

“In meerdere opsigte is die bundel tipies postmodernisties. Afgesien van die vermenging van hoë en lae stylregisters en situasies word intertekste mildelik maar funksioneel aangewend, grense word oorskry en niks is heilig nie, selfs nie die ou, gevestigde verhale of narratiewe waarvolgens die mens nog altyd sy lewe gerig het nie. Die subteks is dat mensgemaakte gebruike, gode en konstruksies opnuut bekyk en desnoods gedekonstrueer moet word. Hierdeur verkry die bundel ’n sterk intellektuele lading. Die erns waarmee die bundel open, rig ’n waarskuwende vinger dat ‘die mens se manewales’ ’n geheimenis bly waarvoor die spreker antwoorde soek en waarvoor hy hom tog met piëteit tot die ‘Groot Onbekende’ rig. Die krag van die bundel lê in hierdie wisseling tussen wete en nie-wete; tussen sekerhede en onsekerhede, lag en erns.

“Juvenalis het natuurlik in Latyn geskryf en volgens die stylgebruike van sy tyd ’n strenger versvorm hanteer. Walters skryf losser en gemakliker en die praattoon is in pas met hedendaagse ontwikkelinge in die digkuns. Daarby dien die gemeensame geselstrant in hierdie geval om die intieme aard van die brief na te boots. Lesers sal maar hul verwagtinge van die poësie moet aanpas by eietydse digters se voorkeur vir die prosagedig waar struktuur en binding nie altyd afhang van bekende digpatrone nie. Soos in die denke, word daar in die vormgewing van die gedig wegbeweeg van ‘rigoreuse rituele, reëls en reglemente’. Die hedendaagse vers, mits dit noukeurig gekonstrueer word, verkry ’n eiesoortige struktuur wat gebaseer is op die inherente klank, ritme en melodie van taal, en op goedgekose sleutelwoorde en beelde wat met mekaar verband hou. Dit is juis deur die manier waarop die digter die taal hanteer dat die informele styl ’n poëtiese kwaliteit verkry. By tye laat Walters egter die spanning verslap en gaan hy te direk en betogend te werk. Ook steur hy hom opsetlik en opsigtelik min aan politieke korrektheid, waarteen daar op sigself geen literêre besware is nie, maar die fasiele rym en gebrek aan subtiliteit, hoe speels ook al, pas na my mening nie by sy statuur as digter nie. Maar ook hierin wou hy waarskynlik die grense van die elitistiese poësie oorskry.”

Bezuidenhout sluit af: “Dit sal sinvol wees om Walters se jongste bundel saam met sy hele oeuvre te lees of herlees, met inbegrip van sy meevoerende vertalings van Chinese en Japannese gedigte. Lesers sal nie koudgelaat word deur hierdie digter se werk nie. En diegene wat al saliger is (indien wel!), sal by tye in die graf omdraai, warm of koud, met permissie gesê.”

Fanie Olivier beskou MM Walters as die voorste satirikus onder die huidige geslag skrywers en ook miskien die enigste wat dit as genre bestudeer en deurlopend beoefen.

Walters se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan opgesom word in Riana Scheepers se woorde: “In enige letterkunde is die satire ’n skaars, en ’n moeilike genre. Die satirikus se bydrae is een van die eksotiese speserye wat ’n bitter ondertoon het, maar dan ook dié bydrae wat diepte en substansie aan die letterkunde verleen. ’n Letterkunde (en ’n samelewing) sonder satire is onvoltooid.”

In sy resensie van Braille-briewe op LitNet begin Charl-Pierre Naudé sy bespreking met ’n oorsig oor die poësie van MM Walters: “Min digters het die soomlose resonerende en ritmiese slag van ’n Walters, waarin ’n sekere informele poëtikale indruk met onopsigtelike en baie effektiewe onderliggende rigour gekombineer word. Trouens, dis hierdie ‘loslit’ inslag van Walters se poëtiese woord, hierdie misleidende ‘gemaklike’ indruk, wat al gemaak het dat sy digkuns verkeerdelik as ‘soos prosa’ beskryf is. Dat so ’n beskrywing vir iemand moontlik kon wees met verwysing na Walters, sê baie oor die histories eng kategorieë waarmee ’n sektor van die Afrikaanse poësiekritiek werk. Walters se poësie bevat al die elemente van goeie poësie, hoewel nie altyd op die tradisionele manier nie.

“Eerder is dit werk wat ’n baanbrekende voorgangerrol vir die hedendaagse losser – en andersoortige – ritmes in die digkuns gespeel het. Walters is niks minder as ’n tegniese meester wat vir homself met hierdie spreektalige inslag ander ruimtes geskep het om te verken wat nie aan bod kom in die meer tradisionele, ‘hegter’ digkuns nie. Hy maak byvoorbeeld interessante kombinasies van die liriek met die beskoulike en die betragtende; en kombineer ook die betogende met die liriese.

“Betogende verse word met reg deur vele gesien as die teenpool van hoogstaande poësie, as satire wat die fyn balans van suggestie en meervoudige beduidenis ingeboet het, en dis dikwels ook so die geval. Maar soos alle aannames wanneer die digkuns ter sprake is, het hierdie aanname sy perke; dit het sy presiese plek waar dit sneuwel, en jy kan daardie plek gaan opsoek soos jy Bles Bridges se gedenksteen op die pad buitekant Bloemhof kan gaan opsoek, as jy so wil. Die spel met ironie en satire, die vindingryke en beeldende segswyses wat binne hierdie ‘onpoëtiese’ verband (betoging) by Walters voorkom en plek-plek so diggepak ‘opdam’, is ’n versagtende omstandigheid en maak die geheel weldeeglik digkuns. Hoewel die saak waarteen betoog word in die tyd enkelvoudig mag staan, is die kommentaar daarop deur die digter vindingryk en snaaks en só verkneukelend problematiserend – so veelvlakkig – dat die eenduidigheid van die saak waarteen betoog word, lankal nie meer eenduidig staan nie.

“Maar Walters verskil ook weldeeglik van die hedendaagse spreektalige en praatstromige hierin: sy ritme is onmiddellik herkenbaar as klassiek, wat nie altyd by eersgenoemde die geval is nie.

“Overgesetsynde, en effens oorvereenvoudigend: jy hóór Van Wyk Louw en veral Peter Blum iewers in die agtergrond. Ritmikaal gesproke vind ek Walters een van die beste Afrikaanse digters van alle tye. Maar hier iewers – soos ook by sommige ander ouer digters – begin die appeltjie reeds op ’n peer te lyk, en nadere beskouing kan interessante gewaarwordinge oplewer.

“Dis interessant dat van die meer tradisionele poësie in Afrikaans soms sintakties so gedronge raak – soos ’n vel papier wat keer op keer na binne gevou word, as’t ware – dat daar eintlik nie meer van ritme sprake is nie. Ritmisiteit is dan veel minder deel van die effek as by sommige ander vorme van minder kriptiese poësie. Walters se vel papier vou egter keer op keer as’t ware eerder na buite uit. Dis poësie wat tegnies juis baie goed is, maar daar is aspekte daarvan wat nie onder die tradisionele plastiese kan ressorteer nie, aspekte wat buite-om die onmiddellik tegniese die beste beskryf kan word.”

Met MM Walters se 90ste verjaardag op 23 Januarie 2019 skryf Daniel Hugo ’n artikel in Die Burger van 21 Januarie 2019 getiteld “’n Welverdiende voetstuk vir Walters op 90” om hulde te bring aan Walters as skrywer: “Die letterkundige kánon is ’n vreemde ding. Oor die statuur van sommige skrywers bestaan daar groot eenstemmigheid. Hulle staan stewig op hulle voetstukke in die literêre beeldetuin ... (...) Geen kanón kan hulle wegblaas nie; geen engel kan hulle uit die paradys van die geletterdes verjaag nie.

“Ander digters staan en rondtrap by die poort en kyk verlangend na die vakante voetstukke onder die weelderige lower van daardie lushof. (...)

“En dan is daar digters soos MM Walters wat deur sommige kanoniseerders bekritiseer en selfs geïgnoreer word, maar deur ander weer geloof en gelourier word. Hy staan dus halfpad tussen die hek en sy voetstuk wat vir hom wag. En Walters se poësie is so uniek dat daar werklik niemand anders is wat sy plek kan inneem nie.

“Walters was in ’n mate self verantwoordelik vir sy onsekere posisie. Hy het nooit deelgeneem aan openbare skrywersdebatte en bekgevegte nie, hy was nooit lid van ’n skrywersorganisasie nie en het ver weggebly van die literêre stromings en teorieë van die oomblik.

“As satirikus was dit natuurlik noodsaaklik dat hy ’n buitestander moes bly wat met ’n ontroebel oog kon kyk na die onnoselhede van die samelewing om hom, na die opgeblasenheid van die kerklike en politieke leiers, en na die karpatse van sy skrywende kollegas. Vanaf sy debuut in 1967 was hy ’n vlymskerp waarnemer eerder as ’n luidrugtige deelnemer.”

Hugo wys voorts in sy artikel hoe Walters, wanneer dit by toekennings gekom het, misken is in sy loopbaan as skrywer. Hoewel hy drie pryse vir Cabala, sy debuutbundel, ontvang het, het die destydse moderator van die NG Kerk, Koot Vorster, hom in die pers aangeval as ’n vyand van die volk. In Perspektief en profiel, waarvan HP van Coller die redakteur was, is daar nie veel ruimte aan hom en sy werk bestee nie, en ook JC Kannemeyer is in die tweede deel van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur nie baie beïndruk met Walters se poësie nie.

André P Brink het egter van Walters se gedigte in sy 2008-samestelling van Groot verseboek ingesluit, terwyl Walters se gedigte sedert 1975 in voorgeskrewe bloemlesings vir skole verskyn het. Van Walters se vertalings uit die Japannese digkuns is ook deur Brink gebloemlees, skryf Hugo: “Die vertalings het in 2006 verskyn onder die titel Aki no kure / Herfsskemering, Die nugtere, rasionele aard van Walters se geestelike pelgrimstog word mooi geëggo in die volgende haikoe van Karai Senryuu (1718–1790): ‘Zen-priester/ ná meditasie/ soek vlooie.’ (...)

“In latere bundels soos Sprekende van God (1996) en Satan ter sprake (2004) gebruik Walters sy enorme kennis van die teologie, kerkgeskiedenis en mitologie om sowel skerp satiriese as ontroerend persoonlike verse – ek dink veral aan ‘Haven om te landen’ – te skryf. Wat Koot Vorster en die Kerkbode destyds misgelees het, is dat die digter ’n opregte hoewel aweregse soeker na God is.”

Daniel Hugo sluit sy artikel af: “En wat is die slotsom waartoe die digter, wat vandeesweek sy 90ste verjaardag vier, gekom het? In Sprekende van God staan die volgende reëls:

God sélf, die objektiewe, werklike, die Één
wat skuil gaan agter ons metafisiese projeksies,
bly op geen enkele wyse te benader.

“Matthys Michielse Walters het die afgelope halfeeu die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim met sy andersdenkendheid en eiesoortige verse. Ek plaas hom graag op sy welverdiende voetstuk.”

Ook ter viering van MM Walters se 90ste verjaardag vertel Gunther Pakendorf, ’n vriend van Walters, aan AJ Opperman in Beeld  van 23 Januarie 2019 dat Walters “eintlik nog nooit in pas was met die norm nie. Thys was nog altyd uniek vir sy tyd in ag genome die kritiek wat hy gelewer het. Selfs sy geboortejaar (1929) is jare lank as 1930 verkeerd op sy dokumente aangedui.

“Ek het hom in die 1980’s ontmoet toe ons albei aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was. Ek dink ek het in die 1970’s van sy werk bewus geword met sy kritiek teen die NG Kerk en sekere dominees wat hy in sy werk geopper het. Ek onthou dat Koot Vorster (die voormalige eerste minister John Vorster se broer) hom vreeslik kritiek op die hals gehaal het.

“Hy is ook nie iemand wat hom ’n rat voor die oë laat draai nie. Hy het nog altyd ’n afkeer gehad van skrywers met ’n opgeblaasde selfbeeld. Hy het ’n ongelooflike humorsin. So droog ... Hy het my al laat skater.”

Zandra Bezuidenhout vertel ook aan AJ Opperman dat MM Walters as digter ’n groot talent het om kommentaar te lewer op die gemeenskap: “Daar is nie nog so ’n Afrikaanse digter wat die satiriese mes so raak kan inlê wanneer hy kommentaar lewer op die samelewing en selfs Bybelse inhoud aan die kaak stel nie. Sy tematiese inkleding strek egter veel verder. Wat styl betref, durf hy die kort Japanse versvorms aan, en het hy trouens van daardie soort verse in Afrikaans geskryf en vertaal. Van Walters se ander gedigte is deur Michiel Heyns in Engels vertaal.

“Nog belangriker is dat Walters sy uiteenlopende denkinhoud by wyse van verstegnies afgeronde verse vol verrassende wendinge oordra, en dit altyd vervleg met woord- en klankspel om die wind uit jou seile te haal, soos net hy dit kan doen. Hy is ’n unieke figuur in die Afrikaanse letterkunde wat mense opnuut behoort te lees.”

Johann Nel, die akteur wat al verskeie van MM Walters se werke op die verhoog aangebied het en van sy verse op radio en by ander geleenthede voorgelees het, sê dat vir hom as persoon en sy persoonlike groei Walters se werk baie beteken het. “Hy het ’n ongelooflike teologiese kennis, maar ek dink nie ’n mens kan hom etiketteer wat geloof betref nie. Hy is Suid-Afrika se grootste satirikus wat poësie betref.

“As hy sy eie verse voorlees, is dit so ernstig. Hy klink eintlik soos ’n predikant. Selfs al is dit hierdie vlymskerp satire met inhoud waaroor ’n mens eintlik wil lag. Op sy verjaardagpartytjie wil ek beslis vir hom dankie sê dat hy vir soveel mense gedink het.”

In reaksie op Daniel Hugo se huldeblyk skryf Johann Penning van Bloemfontein in Volksblad (28 Januarie 2019) dat Walters ’n “reus is wat deur baie volksgenote eerder geïgnoreer wil word. Sommige sou ’n vuurtjie rondom sy voete wou maak terwyl hy aan ’n paal vasgemaak is. Hy het ’n reuse-intellek, uiters skerp waarnemingsvermoë en ’n sensitiewe gees met die insig in die menslike toestand. (...)

“As satirikus is en was daar nog nie sy gelyke in Suid-Afrika nie. Hy kloof twak en nonsens oop tot op die been, en laat nuwe insigte oopgaan vir die leser. En dit in die keurigste Afrikaans. Hy het ’n ereplek in my heldegalery. ’n Reus inderdaad.”

Vir Daniel Hugo (op Versindaba) is Walters se “Haven om te landen” een van die ontroerendste gedigte wat hy ken. Vanuit die stoepkamer van sy hooggeleë huis in Seaforth, Simonstad, hou die digter die aandskemer oor Valsbaai dop:

In die koue grys skemer van die Agterberg
laveer die laaste bote huis toe:
dun wit seile in ’n wintersee soek
na ’n haven om te landen.

Die meeue trek saam op Duikersklip
dig teen die donker en die wind
en oor die water hang ’n hunkerende roep
na ’n haven om te landen.

Die stomp neus van die Steenberg
los op tussen see en lug,
die nag word swart sonder lig wat wink
na ’n haven om te landen.

En ou herinneringe en vertwyfeling
sak oor my soos ’n swaar seemis
en heelnag deur dreun die branders en nêrens
is ’n haven om te landen.

                      (Uit: Sprekende van God)

MM Walters is op 28 Julie 2020 in ’n versorgingsoord vir bejaardes in Vishoek naby Kaapstad oorlede nadat hy geval het en sy gesondheid stelselmatig agteruitgegaan het. Hy het al die jare in Simonstad gewoon en het vroeër na die oord verhuis. Die drie dae voor sy dood het hy verder verswak. Anna, sy vrou, is ’n klompie jare vantevore oorlede. Walters word oorleef deur sy seun, Ludwig, en sy dogter, Sigrid, en kleinkinders.

Huldeblyke:

  • Dorothea van Zyl: “’n Groot dog miskende boom in die Afrikaanse letterkunde geval het. Hy was sy tyd vooruit in sy priemende kommentaar op die destydse NG Kerk en die boeregemeenskap. Sy humor was altyd hoogs gesofistikeerd en ironies. Ek dink nie hy is altyd waardeer vir sy bydrae nie.” (Die Burger, 29 Julie 2020)
  • Gunther Pakendorf: “’n Eenkantmens en ’n gentleman. Iemand wat nooit lid was van enige groepering of klub nie, ook nie die Skrywersgilde nie. [...] MM Walters het destyds die Broederbond, die NG Kerk en die Nasionale Party in sy visier gehad het. Hy het heilige koeie belaglik gemaak en het veral die spot gedryf met pretensie, later ook die akademiese lewe en jargon.” (Die Burger, 29 Julie 2020)
  • Daniel Hugo: “MM Walters was dié grootste (letterlik en figuurlik) satiriese digter in Afrikaans. Hy was iemand wat sy lewe lank al verbaas, verbysterd en diep ontsteld is oor die domheid van selfvoldane mense: materialiste en teoloë, nasionaliste en liberaliste.” In Vers & kapittel (Kraal, 2018) beskryf Hugo MM Walters as “die skerpste digterlike kastyder van die NG Kerk en die Afrikaner”. (Die Burger, 29 Julie 2020)
  • Johann Nel, akteur: “MM Walters se afsterwe laat nie net ’n baie groot leemte in die letterkunde nie, maar ook in my persoonlike lewe – hy was ’n baie groot vriend.” (Die Burger, 29 Julie 2020)
  • Zandra Bezuidenhout: “In die Afrikaanse letterkunde was daar maar één MM Walters, enig in die manier waarop hy met sy deurdagte aanpak en noukeurige vakmanskap aktuele temas sou invoer, dit in diens van die digkuns sou uitbuit, en met sy volstrek eie toonaard bekendheid sou verwerf. Hy het uit die staanspoor sy literêre kleim afgesteek en is nooit nageskryf nie, daarvoor was sy eie stem en benadering te uniek. [...] Sy afsterwe laat ’n leemte wat kwalik gevul kan word, en die Afrikaanse taalgemeenskap betreur sy heengaan, maar ons is dankbaar vir sy kulturele nalatenskap. ’n Mens wonder hoe sy digterlike respons op hierdie prosaïese woorde sou klink. Skerp en net so effens moedswillig? Of gedemp, met ’n angel in die stert? Albei, waarskynlik, maar dan ook met verrassend nuwe perspektiewe op die wêreld en haar mensdom. As ons dit maar te lese kon kry!” (LitNet)

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

MM Walters as samesteller

  • Die tiende muse: Afrikaanse satires . Johannesburg: Perskor, 1986 [ISBN 9780628030573 (hb)]

MM Walters as redakteur

  • Poësie uit Verre Lande (reeks). Johannesburg: Perskor, 1991

MM Walters as vertaler

Shih-Ching Liedereboek . Pretoria: Protea Boekhuis, 2004 [ISBN 9781869190415 (sb)]

Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte. Pretoria: Protea Boekhuis, 2006 [ISBN 9781869190521 (sb)]

Artikels oor en deur MM Walters beskikbaar op die internet 

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post MM Walters (1929–2020) appeared first on LitNet.

LitNet Akademies-navorsers ontvang gesogte toekennings

$
0
0

Johann Beukes en Rinda Botha, twee navorsers wie se artikels in 2018 in LitNet Akademies gepubliseer is, het die ATKV en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte ATKV-SA Akademiepryse ontvang.

Rinda Botha en Johann Beukes (Foto's verskaf)

Johann Beukes se artikel, “Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode van Middeleeuse filosofie”, het in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn, en Rinda Botha se artikel, “Geloof in heksery – ’n grondige verweer in die strafhof, of ’n gegoël met die reg?”, is in die Regte-afdeling gepubliseer.

Beide navorsers is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. Beukes is dosent in die Departement Filosofie en Botha in die Departement Publiekreg.

Die ATKV stel jaarliks prysgeld van R60 000 beskikbaar vir die bekroning van ses gepubliseerde Afrikaanse artikels wat in 'n betrokke jaar in ’n geakkrediteerde tydskrif verskyn het, dus R10 000 per artikel. Vier van die pryse is bestem vir artikels in die geesteswetenskappe en twee vir artikels in die natuurwetenskappe. Die keuringsproses vir die pryse word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hanteer.

Ander navorsers wat ook vanjaar met ATKV-SA Akademiepryse bekroon is:

Geesteswetenskappe

  • Pieter J Fourie, Departement Kommunikasiewetenskap, Universiteit van Suid-Afrika, vir sy artikel “Die invloed van die digitale medialandskap op mediateorie: Van effekteorie tot mediatiseringsteorie” in Tydskrif vir Geesteswetenskappe.
  • Cornelius Niemandt, Departement Godsdiensstudies, Universiteit van Pretoria, Jan F Marais en Pieter van der Walt, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, Willem J Schoeman, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van die Vrystaat, en Nico Simpson, Bybel-media, Wellington vir hulle artikel “Corrigendum: ’n Navorsingstrategie vir missionale transformasie” in Verbum et Ecclesia.

Natuurwetenskappe

  • Christine Taljaard en Hester Vorster van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes-Universiteit vir hulle artikel “Belasting op suikerversoete koeldranke in Suid-Afrika: Perspektiewe uit die voedingsveld” in SATNT.
  • Adriaan Reinecke en Sophia Reinecke, Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch vir hulle artikel “Bedreig antropogeniese omgewingsveranderinge grondbiodiversiteit?” in SATNT.

Al die artikels is in 2018 gepubliseer.

Besoek LitNet Akademies se invalsblad hier.

 

The post <i>LitNet Akademies</i>-navorsers ontvang gesogte toekennings appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies vir poësie, dramatekste en woordeboeke

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – het die waarde van lees weer opnuut na vore gekom en onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed.

Poësie

Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal het die Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Grondwater – Marlise Joubert (Protea Boekhuis).

Dramateks

Marina Griebenow, Theo Kemp en Ilse Oppelt was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Opdrifsel – Philip Rademeyer.

Woordeboeke en taalgidse

Die rol van woordboeke en taalgidse kan nie onderskat word nie en daarom bekroon die ATKV elke jaar een van die boeke. Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is beoordeel deur Wannie Carstens, Ernst Kotzé en Elsabé Taljard en is aan Legal terminology: English, Xhosa, Afrikaans/Regsterminologie: Engels, Xhosa, Afrikaans (2019) toegeken. Dit is saamgestel deur die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale. Uitgegee deur JUTA. (Verkorte titel).

Lees ook:

Resensie: grondwater deur Marlise Joubert

Grondwater: ’n onderhoud met Marlise Joubert

 

 

The post ATKV-Woordveertjies vir poësie, dramatekste en woordeboeke appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies vir prosa, niefiksie en spanningslektuur

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies, wat reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge bekroon, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met die aanlyn bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – het die waarde van lees weer opnuut na vore gekom en onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed.

ATKV-Prosaprys

Harry Kalmer word vir In ’n land sonder voëls (Penguin Random House) postuum vereer met die ATKV-Prosaprys. Die beoordelaars in die kategorie was Elmari Rautenbach, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenboek:

Hierdie teks is ’n kragtoer. Kalmer besin oor ’n bestaan/oorlewing in dié donkerwordende wêreld deur die swaksiende “oë” van sy hoofkarakter. Die leser kan nie anders as om Kalmer, die skrywer, in die teks in te lees nie. Kalmer was reeds terminaal toe die teks voltooi is.

’n Land sonder voëls is ’n avontuurverhaal, ’n aksieverhaal, ’n intieme liefdesverhaal en uiteindelik ’n aangrypende, gestroopte en wreed eerlike geestelike reis van ’n skrywer wat vir oulaas die verlede wil opteken, maar moet vrede maak met verlies en sy brose self.

Vir ’n skrywer van die kaliber van ’n Harry Kalmer – wat in sy lewe net vereer is vir die Engels vertaling van sy 1000 stories oor Johannesburg, kan ’n toekenning van dié statuur ’n wanbalans herstel deurdat dit nie ’n enkele boek vereer nie, maar ook ’n merkwaardige oeuvre.

Prys vir spanningslektuur

Die prys vir spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Anderman se vrou – Chris Karsten (Human & Rousseau).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenboek:

Hierdie boek staan uit bo al die ander wat die baie goeie spanningslyn betref. Die skrywer skep spanning vanaf die eerste bladsy tot aan die einde van die boek. Dit is veral verfrissend dat die storie (met sy tentakels in apartheid) so heen-en-weer tussen Kanada en Suid-Afrika pendel.

Anderman se vrou is ’n sielkundige riller wat ondersoek instel na die onsigbare motiewe wat een mens dryf om ’n ander onvoorstelbare leed aan te doen; maar dan is dit ook ’n niesentimentele liefdesverhaal wat die onverwagte vreugde van ’n tweede kans vier. Dit is ’n roman wat inlig én verras.

Prys vir niefiksie

Die prys vir niefiksie is deur Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen – Carel van der Merwe (Protea Boekhuis).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenboek:

Kansvatter bied ’n wonderlik openbarende blik op ’n fassinerende stuk Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis, wat boonop op verrassende maniere met ons huidige tydsgewrig resoneer. Dit bied die insig dat hoe meer dinge verander, hoe meer hulle dieselfde bly. Hierdie baksteen van ’n boek getuig van wye en diep navorsing (soos dit ’n oud-PhD-tesis betaam), maar bied die storie van Ben Cronje in elegante, hoogs leesbare prosa. Dis ’n boek wat groot plesier verskaf en wat ’n mens in een ellelange sitslag kan deurdraf, maar waarnatoe ’n mens telkens teruggekatrol word.

Lees ook:

Harry Kalmer (1956–2019)

Chris Karsten (1947–)

In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer: ’n resensie

Skrywersonderhoud: Carel van der Merwe oor Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen

Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Carel van der Merwe

 

The post ATKV-Woordveertjies vir prosa, niefiksie en spanningslektuur appeared first on LitNet.


Jeanne Goosen (1938–2020)

$
0
0

Gebore en getoë

Jeannette Helena Goosen is op 13 Julie 1938 in Parow gebore. Sy word in Parow groot in die dae van George se kafee en Visser se skoenwinkel op die hoek en die Roomse kerk. Haar ma was ’n storieverteller: "Die vreemdste, absurdste goed. Sommer so terwyl sy skottelgoed was. En sy’t gesing. Kastig in Russies. En dan sing ons kinders saam. Ook in Russies!" Sy onthou haar pa met die tuinslang in sy hand en sy liefde vir tuinmaak wat sy geërf het. Sy onthou ook sy vreemde humorsin. (Rooi Rose, 29 Desember 1993)

Op agtjarige ouderdom het sy met klavier begin en ’n paar jaar daarna met die klarinet as tweede instrument. Later verwerf sy haar lisensiaat in klavier aan Unisa, maar sy het dit altyd suiwer vir die plesier daarvan gedoen. "Vir onderrig, nooit," sê sy.

Jeanne begin as tiener skryf uit ’n emosionele behoefte van liefde, wraak, jaloesie en pyn – op los stukkies papier en in ou oefeningboeke. Op twaalfjarige ouderdom publiseer sy haar eerste poësie in Rooi Rose en skryf sy ook vir Die Jongspan. Haar skrywersloopbaan het rigting begin kry nadat sy op veertien jaar vir die eerste keer Crime and punishment van Dostojewski gelees het: "Die boek het my geruk."

Jeanne is trots op haar Poolse bloed. Sy het as kind Gorki begin lees en was daarna nooit weer ’n volbloed-Boer nie. Haar eerste werk was dié van junior Kersvader in standerd ses in Ackermans in Parow.

Verdere studies en werk

Na haar skoolopleiding ontvang sy ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad en gaan studeer radiografie. Sy werk in hospitale as radiografis en arbeidsterapeut. Sy was egter ook al smous, boer en visserman. As sy haar daarop sou wou toespits, sou sy ’n mikrobioloog gewees het, ’n kernfisikus en veral ’n konsertpianis, maar sy het verkies om outsider te wees, selfs tussen die outsiders.

Een van Jeanne se groot liefdes is musiek. Sy studeer musiek aan die Rondebosch School of Music en is in ’n klassieke rigting opgelei. Sy ontvang formele musiekopleiding onder Magriete Herbst van Parow, Japie Malan en Toronti Florenti van die Kaap. In 2003, met die bekendstelling van Deborah Steinmair se digbundel A see-through suitcase, het Jeanne vir die eerste keer in jare weer voor ’n gehoor klavier gespeel. Steinmair het ook in 2004 die lirieke geskryf vir Jeanne se kabaret Hartedief wat by die KKNK gehore gaande gehad het.

Jeanne was vir sestien jaar werksaam as joernalis en in daardie tyd was sy verslaggewer by die Transvaler, die OggendbladHoofstad en Tempo terwyl sy in (die destydse) Natal gewoon het en in 1986 by die Paarl Post.

Die 1980’s saam met joernaliste in die Vegkop-hotel in Johannesburg onthou Jeanne met nostalgie. "Die koerant is die enigste plek waar ek eintlik rêrig ingepas het. Dinge wat vir my in ander beroepe nie lekker uitgewerk het nie, was tot my voordeel daar.

"Dis nie meer vandag só by koerante nie. Almal is te bleddie reg in hul koppe, man. Almal is met almal bevriend. In my tyd moes jy betrokke raak by jou onderwerp, nie by die mense oor wie jy skryf nie. Nou’s joernaliste blykbaar hand om die blaas met elke storie wat hulle skryf.

"Voor ’94 het ons ’n saak gehad in Afrikaanse koerante. En ek was gelukkig, want ek kon nogal min of meer skryf wat ek wou, want die ou wat my gestoot het tot waar ek was op die ou end, was Harald Pakendorf. En hy was ’n fantastiese redakteur en mentor gewees."

Haar joernalistieke loopbaan wissel sy af met van ’n sitrusboerdery by Hartebeeshoek tot visvang aan die Weskus. Sy smokkel met die sitrusvrugte by ’n Griek totdat sy besluit om "eerlik" te wees en liewer haar suurlemoene aan die beurs te lewer. "Maar toe is daar ’n dokstaking. Ek het vir my totale oes net 24c gekry … Weens die staking moes hulle alles wegsmyt … Toe’t ek besluit eerlikheid loon nie; dis sommer nonsens daai. Ek dink ek het smokkelaarsbloed in my."

Jeanne publiseer in 1971 haar eerste digbundel, ’n Uil vlieg weg, maar sy het nooit rêrig welkom gevoel in die tradisionele letterkunde nie, en omdat sy só ontradisioneel is, het sy ook nooit regtig daarvoor gesoek nie.

In 1986 word ’n Kat in die sak gepubliseer na ’n stilte van elf jaar. Dit bevat verhale wat van 1965 tot 1986 geskryf is. EC Britz skryf in sy resensie in Die Burger (20 November 1988): "Goosen se neiging om bisarre verhaalsituasies op te bou, of om oor ontstellende sake soos lyke en begrafnisse te skryf, hou alles verband met haar 'gekwelde gees' as kunstenares, om vir ’n oomblik soos die Dertigers te praat. Agter die soms grappige verbeeldingsvlugte en die pront styl gaan verskriklike gevoelens skuil. Hoewel al die verhale nie op dieselfde peil is nie, het ek die beste verhale in ’n Kat in die sak besonder menslik, eerlik, humoristies, verbeeldingryk, gevoelig en tegnies versorg gevind. Jeanne Goosen het ’n oorspronklike en veelsydige talent as skryfster en ’n onthutsende kyk op die lewe. In haar jongste verhale verwoord sy die skisofrene sosiale situasie in ’n Karoodorp in die jare 1985/1986 op meevoerende wyse."

In 1987 verskyn die novelle Louoond, met herdrukke in 2010 en ’n e-boek-uitgawe in 2013. Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 6 Augustus 1987) "draai hierdie kort prosateks met ’n ongewone intensiteit om die problematiek van vervreemding en, meer spesifiek, die isolasie van die kunstenaar in ’n ontredderde wêreld sonder hoër waardes of bindende norme. Die uitgangspunt is die situasie van ’n persoon – ’n skryfster – wat in haar kombuis met huishoudelike takies besig is, begelei deur die stem van Callas en études van Chopin op ’n kasset. Terwyl ’n triestige sifreëntjie buite blykbaar nie wil ophou nie, slaan sy haar oë op na die berge, maar weet nie waar haar hulp vandaan sal kom nie, want die hele wêreld is vir haar soos ’n 'vreemde land'."

"Die teks is nie ’n verhaal in die konvensionele sin van die woord nie, maar bestaan eerder uit ’n reeks flitse wat assosiatief en kontrapuntaal aan mekaar geryg is en gedurig na die vraag oor die sin van die bestaan herlei word. Hierdeur word die kombuis simbolies van die afgesonderdheid van die enkeling (en die kunstenaar). Terselfdertyd is die kombuis ’n heelal in die kleine waar die 'lang elegie van die lewe' hom op verskeie vlakke afspeel, byvoorbeeld in die insekwêreld, waar ’n verbete oorlewingstryd die mens se soeke na betekenis relativeer, of in die bevrore varkvleis wat ontdooi, begin lewe en weer van vooraf sterwe."

Pakendorf beskou Jeanne Goosen as ’n skrywer met intelligensie wat haar taalgebruik goed kan beheer. Sy openbaar ook goeie beheer oor haar onderwerp en die algemene aanbieding van haar storie. "In die kortverhaal 'Karoo' (in haar bundel ’n Kat in die sak) het sy die problematiek van ’n veranderende Suid-Afrika baie oortuigend as die verwarrende botsing van wêrelde behandel. Dit is jammer dat sy in Louoond nie daarop voortbou nie, maar haar eerder in haar 'arbitrêre' kombuis terugtrek en toevlug neem tot die ahistoriese fatalisme van ’n (pseudo-) Darwinistiese siening van die mens en sy samelewing, soos blyk uit die groot aantal verwysings na stryd – byvoorbeeld die honde wat ’n hoender doodbyt of Hermien wat visse slag, om van die krioelende insekte nie te praat nie – of na dood, verrotting en ontbinding. In dié opsig is Louoond seker geslaagd, maar tog ’n deprimerende boek."

Sy het in haar lewe al oor die hele Suid-Afrika gewoon – van Pretoria tot die Weskus, Durban, die Karoo, Brixton, Hartebeeshoek, Franschhoek en Aucklandpark. Tans bly sy in Parklands "na die Weskus se kant toe" in ’n woonstelgebou. In ’n stadium tydens haar verblyf in Durban speel sy naweeksaande klavier en sing sy bas in die immigranteklub vir R80 ’n aand.

Sy trek in 2001 na ’n plek tussen Brits en Pretoria-Noord om plek vir haar honde, Bubbles en Wolf, te kry. Haar honde is haar konstante blymaats. Haar twee blymaats was toe Dolores en Mabel. Jeanne het al per geleentheid gesê dat sy diere bo mense verkies. Sy is lief vir die grond, natuur, musiek, skilderkuns, wetenskap en kuns, en wou nog altyd ’n biochemikus of insektekundige wees. Visvang is ook lekkerder as skryf. In die vyf jaar wat sy vis gevang het by Keurbooms, naby Pletternbergbaai, het sy drie boeke geskryf en ook geboer. Sy bring die boot saam toe sy daar weg is. Partykeer vang sy vis met die bakkie wat sy op die swartmark gekoop het, by Langebaan, en anderkant by Hermanus en by Velddrif waar sy snoek gevang.

Tydens die toekenning van die Afrikaans Onbeperk-toekenning in 1998 by die KKNK sê André P Brink (Beeld, 4 Maart 1998): "Oor meer as twintig jaar het dié besonderse vroumens die taal laat praat en dinge laat sê wat niemand haar nog regtig kon nadoen nie. En dit oor ’n verstommend geskakeerde en gevarieerde terrein: poësie, romans en novelles, kortverhale, teater en kabaret."

Dit som Jeanne se skryfloopbaan in ’n neutedop op. Sy behaal in al die genres sukses en die bekronings bly nie agter nie. Benewens haar veelbekroonde novelle Ons is nie almal so nie ontvang sy ook die Rapport-prys vir drama in 1992 vir Drie eenakters. Sy wen die Sanlamprys as Rubriekskrywer van die Jaar vir haar rubriek in die Natalse koerant Tempo en ontvang die Helen Maartens Fellowship van Athol Fugard. Kombuis-blues ontvang die Vita-Toneelprys en is in Londen, Frankfort, Brussel, Leuven en Den Haag opgevoer.

Ons is nie almal so nie, wat oorspronklik in 1990 gepubliseer is (13 jaar na Louoond), met verdere uitgawes in 2000 en 2007, is bekroon met die CNA-prys en Rapport-prys in 1990 en met die MNet-prys in 1991.

Oor die ontstaan van Ons is nie almal so nie vertel Jeanne aan André le Roux (Die Burger, 14 September 1991): "Die boek is langhand geskryf. In die bed!" Sonder bepaalde werkwyse of beplanning. "Ek het nog nooit iets in my lewe beplan nie. Ek het siekteverlof gehad en ek kon weer meer lees. Ek hou baie van die kontemporêre Amerikaanse skrywers. Ek het Richard Ford se Rock Springs gelees – die kultus van roadhouses en waitresses en goed ... ek het heelparty boeke in daardie trant gelees. En ek kon sien: maar ek kén ook sulke mense. Dit was vir my ’n geweldige bevryding." Sy het begin skryf uit haar eie geheue, mense en dinge wat sy onthou het uit haar grootwordjare in Parow in die jare vyftig. Die karakters het maklik gekom: mense soos ant Mavis en Doris en Uncle Tank deur die oë van klein Gertie.

"Toe Uncle Tank in ’n stadium (heel vroeg in die boek) sê jy kan nie so maak met mense nie, al is hulle kaffers, toe het die ding sy eie loop geneem. Maar ek was nie van plan om die boek te publiseer nie." Sy verduidelik met verwysing na die omstrede ANC-skrywersbesoek in Victoria Falls: sy het die Amerikaanse skrywers soos Ford die vryheid beny waarmee hulle kon skryf. "Ons is weg van die ANC af met feitlik ’n nie-amptelike opdrag om nou, jy weet, betrokke te skryf. Maar met dat ek die tyd gehad het en die Amerikaners so beny het, het ek sommer daar in my bed gelê en begin skryf wat ek self kon onthou.

"Ek dink ook ek kon eerliker wees omdat ek nie van plan was om die boek te publiseer nie. Toe ek kom by Doris wat die koek vir die bruin bure neem en sê ons is nie almal so nie toe hulle dit nie wil vat nie, toe dink ek: wat sal gebeur as ek só ’n boek publiseer. Ek het begin lag, want die boek is so teen letterkunde in; wat sal gebeur as ek my totale reputasie opneuk?"

Skryf is vir Jeanne deel van sosiale betrokkenheid. "Dis verset teen sosiale logika." En oor die aandrang dat ’n skrywer bepaalde temas moet hanteer, sê sy: "Ek dink dit gebeur vanself in die skryfproses, maar as jou vertrekpunt ’n ideologie is, glo ek vas dit kan nie werk nie, altans nie vir my nie."

Jeanne vertel verder aan Le Roux dat Ons is nie almal so nie die enigste van haar boeke tot op daardie stadium was wat sy geniet het om te skryf. Sy het ook betrokke geraak by die storie en Gertie, die kind, was ’n nuwe verteller: "Grootmense spreek menings uit en dan word dit kommentaar vir effek. Ek wou nie kommentaar lewer nie; ook nie dat die boek as pleidooi dien vir die Afrikaner nie. Toe het die boek ernstiger geword. Basies is dit so dat voor ’n Afrikaner-kind skoolgaande ouderdom bereik, is hy klaar sielkundig, godsdienstig, sosiaal en polities totaal en al opgeduiwel. En vandag se besluitnemers kom uit daardie agtergrond!"

Ons is nie almal so nie is deur André P Brink in Engels vertaal en Nederlandse en Franse uitgawes is ook uitgegee. Oor Brink se vertaling het Barend Toerien (Die Burger, 28 Desember 1992) geskryf: "[N]ou kom hy nou met hierdie uitstekende weergawe van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, in Suid-Afrikaanse werkersklas-Engels. Goosen se boek, so sappig en bekkig, een wat mens jou beswaarlik in ’n ander taal sou kon indink, verskyn as Not all of Us by Queillerie-uitgewery. En dit klink glad nie soos ’n vertaling nie. Doodnatuurlik, en soos dit verg, is dit deurspek met South Afrikanderisms, dinge wat die lokale Queen’s Englishers so laat gril. (...) Goosen se fyn oor vir spraak word doodreg weergegee: 'nee, sê hy vir my met so ’n stemmetjie, jy weet, hy weet nou nie, maar die laaste trein is al weg ...' So klink Brink: 'no, he tells me in a whiny little voice, no I’m sorry Madam, but you see the last train’s gone, so I really don't know ...' Doodreg."

Jeanne hou van mense wat "nie heeltemal kosher is nie," erken sy teenoor Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013), "en arm buurte".

"Daai mense skep taal. Kierkegaard het gesê taal is situasie-gebonde, maar ons is al so normaal en ghrênd ons het nie eintlik meer ’n situasie nie. Daai mense hét en die taal wat daaruit voorkom, is absoluut wonderlik.

"Ons is nie almal so nie speel byvoorbeeld in Parow af. Baie mense dink dit is sleng, maar dit is nie. Dit was hoe Afrikaans in die vyftigerjare gepraat is. Nou die heel teenoorgestelde daarvan is ’n Pawpaw vir my darling (2002). Aan daai taal van Pretoria-Wes en daai mense se stories kon ek my verluister. Ek het baie daar gekom as verslaggewer, want daar was altyd óf ’n moord óf ’n huisbaklei. Eintlik het ek nogal baie tuis gevoel daar. Iets in my kon hulle situasie begryp. En sieners. Daar was baie sieners gewees.

"Eintlik moet ek dankie sê vir die mense in my boeke, want sonder hulle sou ek dit in elk geval nie kon geskryf het nie. Ek dink mense is maar soos ek skryf. Hulle steek dit net weg."

Kombuis-blues, ’n eenvrouvertoning, is opgevoer met Trudie Taljaard in die hoofrol en Sandra Prinsloo as regisseur. Van die twee vroue wat met haar stuk werk, het Jeanne gesê: "Net wat dié twee vroue doen, is ’n kragtoer. Dit is vir my ’n groot eer, en ek dink hulle verbeter op my boek." (Vrye Weekblad, 20 April 1990) Dié stuk het groot opslae gemaak tydens die jaarlikse Leeskringseminaar in 1990 in Welkom, toe die predikant geweier het om ’n tafelgebed te doen na die opvoering daarvan.

Jeanne se kabarettekste en toneelstukke word altyd met groot sukses op die planke gebring. Lizz Meiring en André Stolz speel in 1990 die twee rolle in Jeanne se Kopstukke met Stephan Bouwer as regisseur en in 1991 regisseer Sandra Prinsloo die stuk. Dit is ook in 1990 met groot welslae by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. In 1991 skryf sy die kabaret Nagmerries met Lizz Meiring en Nomsa en Sandra Prinsloo as regisseur, en in 1993 ’n Mens huil nie oor alles nie / If only we had arsenic, ook met Lizz Meiring. By 2003 se Aardklopfees en 2004 se Woordfees en KKNK word haar stuk Desnieteenstaande met Sandra Prinsloo as regisseur met groot sukses op die planke gebring.

Jeanne is ook een van die Afrikaanse skrywers wat die ANC by die Victoria Waterval ontmoet het en dit bly haar by – die ontmoeting met Willie Kgotsisile, Barbara Masekela, Wally Serote en Steve Tshwete. Sy dien in die bestuur van die Afrikaanse Skrywersgilde en is nog altyd gekant teen alle vorme van onderdrukking en sensuur.

By die Woordfees van 2001 is ’n samestelling van Jeanne se werk gedoen deur Susanne Beyers en Joanie Combrink onder die titel Dalk is ons almal só.

Mercy Kannemeyer, ’n jong teatermaker, verwerk in 2019 Ons is nie almal so nie vir die verhoog en dit debuteer met groot sukses by daardie jaar se Woordfees en word ook op die Vrystaatse Kunstefees op die planke gebring met Daneel van der Walt in die rolverdeling. Jeanne kon nie die vertoning op die Woordfees bywoon nie, omdat sy nie meer in staat was om te reis nie.

In 1995 verskyn ’n Gelyke kans, ’n bundel kortverhale. Hieroor vertel sy: "My stories skryf hulleself. Daar’s geen mistieke proses nie. Al wat ek doen, is om mense dop te hou. En dis die sogenaamde 'laer klas' wat my van kleinsaf gefassineer het. Daar is ’n goudmyn van temas, verhale, volkskultuur, bygelowe, trots."

"Ek onthou hoe ek op my eerste skooldag nege-uur die aand deur die Polisie opgespoor is waar ek iewers in die onderdorp saam met ’n regte klomp fietas, ’n gesin van twaalf kinders, in die straat gespeel het. Ek het sommer saam met hulle huis toe gegaan. Dit het so lekker gelyk.

"Ek dink die ophef wat oor stories oor armblanke Afrikaners gemaak word, is omdat ons te gewoond is aan die stereotipe van arm, maar edel, veral in die geval van vroue. Maar daar was vroue daardie tyd wat lief was vir sonde, wat hul mans verneuk en gerook het, wat gehou het van bioscopes, en as waitresses en usherettes gewerk het." (Boekewêreld, 19 Julie 1995)

Nou speel Jeanne Goosen in ’n Gelyke kans klaar met dié tema. "Op ’n grandiose manier: geweld, bloed, derms; die antiheld wat met geweld ’n einde wil maak aan die getelery." Teen die einde van die boek word ’n ander tema sterker: dié van die magiese wêreld van tricks en die sirkus, waar alles wat onmoontlik is, moontlik word. Maar hierdie is ook die wêreld van die outsider, van mense wat 'anders' is, wat kan vlieg.

"Elke mens droom een of ander tyd van vlieg. Dink aan daardie kind op die dak met die klip en die laken: die angs en die spanning, maar ook, hel! die ademlose opwinding van net daardie klein kans dat hy tog sal vlieg ...!" (Boekewêreld)

Sedert November 2003 is Jeanne ’n gereelde en gewilde rubriekskrywer in By, bylae tot Die Burger, met haar rubriek Kaalvuis.

Met die verskyning van die novelle Wie is Jan Hoender? in 2001 vertel Jeanne aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 7 Februarie 2001): "Wie is Jan Hoender? is ’n metafoor vir die interafhanklikheid van mens en dier. Hoenders is getem na die mens se wil, maar die mens is ook getem tot opperekonomiese gesag," sê Goosen.

"Hoenders wat vry rondloop is skaars. Hulle sit almal in broeihokke, hoenderghetto’s waar hulle so gou moontlik eiers moet lê of geslag moet word. So is die mens ook. Hoenders is ’n bloudruk van die mens, wat sonder vlerke en ’n stert is. Mense wil vlug, maar kan nie vlieg nie. Die maatskaplike ineenstorting wêreldwyd is ’n simptoom van die mens se ingeperktheid."

Haar boek is nie filosofies nie. Dis eerder bespiegelend oor die dilemma waarin die natuur vasgevang is. "Mense verwag seker weer iets snaaks van Jeanne Goosen. Daar’s mense wat dink Ons is nie almal so nie is snaaks. Ek is glad nie f...n snaaks nie. Ek is doodernstig."

Het sy al deur haar skryfwerk en omswerwinge antwoorde op die lewensvrae gekry?

"Ek vra al twee dekades lank waarheen ek op pad is. Die tegnologie verander en jy kry nuwe insigte, maar jy pas dan net weer jou vrae aan. Ek verstaan nie mense wat sê hulle wil met vakansie gaan om hulself te vind nie. Ek wil myself net verloor."

Jeanne se eerste digbundel sedert die 1970’s, elders aan diens, word in 2007 gepubliseer. Oor die lang digterlike stilswye sê sy aan Marius Crous (op LitNet) dat sy gedurende dié tyd ander goed geskryf het. Sy het nie opgehou gedigte skryf nie en dit het naderhand opgehoop. Petra Müller het daarna gekyk en gevoel dit kan ’n bundel wees. Die bundel het aanvanklik aantekeninge geheet, maar Müller het nie daarvan gehou nie en elders aan diens voorgestel. "Somehow klink dit reg."

In hierdie bundel skryf sy oor haar ouers, kreatiwiteit, honde en hoe sy haar krag as kunstenaar ontdek het. In 2008 is elders aan diens verwerk tot ’n kabaret of ’n musiekvertolkingsteaterstuk met sang en aanbieding wat soms aan Laurie Anderson en Diamanda Galas herinner. Marion Holm het die rol van Goosen vertolk, met die sangeres Luna en die aktrise Frieda van den Heever agter die klawers en mikrofone. Albert Maritz was die regisseur. Van Jeanne se gedigte is getoonset en die waansin, wanhoop, verwondering en humor wat Jeanne in haar teks vasgevat het, is uitmuntend deur die vroue uitgebeeld.

Oor die drama gesels Jeanne in 2008 met Deborah Steinmair (Die Burger, 15 April 2008): "Dis jammer dat skrywers bang is om weer politieke kwessies aan te raak. Mense by ’n fees wil sports hê en lag. Daar moet nog baie oor apartheid geskryf word, lest we forget en dit herhaal, na watter kant ook al. Feeste moet meer uitreik na ander rassegroepe. Dis ’n wonderlike geleentheid om Afrikaans te bevry, te destigmatiseer en depolitiseer.

"Weens ’n gebrek aan geld, is dit dikwels een- of tweemensvertonings, met sepiesterre om vol sale te lok. Jy kan nie ’n woord hoor wat hulle sê nie. Daar het ook goed uit die sepiestergeledere gekom, soos Nina Swart wat besig is om te ontluik in iets groots."

"Daar roer beslis iets onder jong dramaturge: Adriaan Meyer van Stellenbosch en Willem Anker is uitstekend. Daleen Kruger van Langebaan se goed het lyf. Nico Luwes se Zollie van 2005, wat oor straatkinders handel, was skitterend. Hy is by Kovsies se dramadepartement. Die Vrystaat kom met wonderlike goed vorendag."

Goosen het drama studeer aan die Akademie van Dramakuns in Kaapstad, waar die basiese beginsels, soos artikulasie, by hulle ingedril is. Sy wou nooit self toneel speel nie; sy wou net meer van drama weet, met die oog daarop om dramas te skryf.

"My eerste drama was Kombuisblues in 1992. Trudie Taljaard wou dit doen, Sandra Prinsloo was regisseur. Dít was vir jou ’n produksie! Sandra is my mentor. Ek wens sy wil weer meer speel. Sy het ’n emosionele intelligensie wat skrik vir niks en ’n fyn sin vir satire. Sy is deeglik en vreesloos, laat haar nie intimideer deur politieke temas nie. Sy is moeilik, maar dis nodig. Sy het my baie vasgevat. Ek was dikwels in trane. As sy vlamvat, bly daar f–k–l van jou oor. Die volgende dag kom sy daar aan met R100 en tien pakkies sigarette, want sy weet jy’s broke. Dan’s alles weer orraait.

"Ons was so begeesterd daardie dae, iets het verkeerd gegaan, ons het nie meer genoeg kontak met mekaar nie. Skryf is ’n geweldige geïsoleerde oefening."

Goosen reken goeie stukke is tydloos. "Van Wyk Louw kom terug, Raka; Bartho Smit ook, soos Bacchus in die Boland. Heelparty van Smit se dramas was verbied in die ou bestel. Uys Krige is ook gesensor. Wilma Stockenström het vertel sy was in ’n stuk van hom toe die boodskap kom: 'Poep' en 'God' is uit’."

Hoe skryf ’n mens ’n drama? Goosen meen alles begin by die idee, jy brei daarop uit en sodra jy daarop ingestel is, begin jy dinge om jou opmerk wat kan werk in jou drama. Die belangrikste is ­dialoog tekenend van die karakters. "Dieselfde geld by drama as by ’n roman: waarneming en absorbering. Dit lê onder ’n ou se neus. Ek het geskryf om werk te verskaf. Ek skryf altyd sodat enige ouderdom dit kan speel. Jy moet dit só skryf dat dit op enige plek opgevoer kan word, selfs in ’n skoolsaal. Van die sketse uit my kabarette is al gebruik vir die opening van blomtentoonstellings en geld­insamelings vir die kankervereniging. Dramas beteken min geld vir die skrywer. Drama is ’n k–k show." (Die Burger, 15 April 2008)

In 2009 is Jeanne se kortverhaal "Spokie Snygans maak sy buiging" verwerk vir die verhoog en was dit die Universiteit van die Vrystaat se inskrywing vir Spat (Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater). Dit was een van die finaliste vir die prys.

Ná ’n kortverhaalstilte van 15 jaar verskyn Plante kan praat in 2010. Die karakters in Plante kan praat herinner die leser aan die karakters van Ons is nie almal so nie soos Joey van Parow wat haar sigaretstompie in ’n piering dooddruk. "Die skrywer ondersoek ook ’n magiese, soms donker wêreld. Dwarsdeur alles loop plante, musiek, diere en woorde soos ’n goue draad – dinge wat balsem word vir die siel, skryf Riette Rust (Rapport, 3 Julie 2010). "Plante kan praat is beslis ’n lees werd met interessante temas, karakters wat lewe en dialoog wat vlot. Die minimalistiese taal dwing bewondering af en die meeste verhale is goed gestruktureer."

Cilliers van der Berg skryf as volg oor Plante kan praat (Volksblad, 14 September 2010): "Dit gaan hier oor ’n betreklik eklektiese versameling van 16 kortverhale, om die bundel eerder as ’n soomlose en koherente tematiese eenheid daar te stel, ’n verskeidenheid verhaaltipes te vertoon: van tekste wat op realistiese wyse die subkultuur en geweld van die minder gegoede buurte beskryf (‘Malva’, ‘Spokie Snygans maak sy buiging’, ‘Hulle noem my Jean’), tot by die op die oog af soms byna allegoriese beskrywings van magiese gebeure (‘Lubbert Das’ of ‘Begeerte’). Die bundeltitel en omslag moet dus nie om die bos lei nie – dit is slegs in die titelverhaal waar plante letterlik aan die woord kom."

"Die tipiese Goosen-temas, -motiewe en -maniere van vertel is egter daar: Parow, geweld, agterlikheid, die gereelde kinderperspektief waaruit vertel word en ’n goeie skeut (soms baie grafiese) seks. Wat laasgenoemde betref, is dit die openingsverhaal (‘F**ked for life’), en veral ‘Wolwors’, wat vir sommige lesers dalk ’n ding of twee sal leer. Want soos wat Marna in eersgenoemde sê: ‘Dis my gat se deksel, ’n literator wat geen sin, laat staan nog begrip, vir erotiek het nie.’

"Maar ook die geweld kom aan bod – en dit alles in ’n onopgesmukte, gestroopte taalgebruik. Dít is waarskynlik juis die belangrikste samebindende faktor van die verhale.
Die verhale is nie almal van gelyke gehalte nie en sal oor die algemeen dus nie ná ’n herlees noodwendig opnuut ontsluit kan word nie. Binne die konteks van Goosen se hele oeuvre is van die motiewe dalk ook net te bekend. Maar dit beteken hoegenaamd nie die bundel is nie ’n baie interessante leeservaring nie."

"Goosen se vermoë om met die besondere taalregister wat sy handhaaf karakters en gebeure te laat leef, of die leef- en verwysingswêreld van sekere maatskaplike klasse te evokeer en in te kleur, is werklik goed. Soms is dit die eenvoud van vertel wat ’n verhaal soos 'Lemoene' laat uitstaan. Plante kan praat kan aanbeveel word vir diegene wat aanklank vind by Goosen se werk. Dit is eerder ’n bestendiging as hoogtepunt in haar oeuvre, maar vir iemand wat haar tyd verwyl 'met plante, diere, musiek, skryf en so aan' tog ’n beduidende bydrae."

Op 24 Februarie 2011 is Jeanne in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem nadat sy ’n hartaanval gehad en haar huishulp haar in haar woonstel in Parklands in Kaapstad gekry het. Sy sou ’n pasaangeër kry, maar was te swak vir die operasie en moes aansterk voordat die operasie gedoen kon word. Die pasaangeër was vir haar ’n vreemde gedagte. "Ek het altyd gedink dit lyk soos ’n sigaretboksie met ’n hart in, maar deesdae klink dit of elke Jan Rap en sy maat een het. Ek sal moet gaan oplees oor die ding." (Nuus24, 25 Februarie 2011)

Sy het haar geliefde honde geweldig gemis, hoewel sy nie gedink het hulle het haar te veel gemis nie. "Jy kan ’n hond se siel mos maklik vir ’n stuk droëwors verruil."

Jeanne se honde is vir haar soos kinders. Katte is vir haar anders as honde, omdat hulle vir hulself kan sorg, terwyl "elke haar op daai hond se lyf afhanklik is van jou". In 2012 moes sy vir Poppie, ’n "staffiekruis", laat uitsit nadat sy ’n hartaanval gekry het. Sy het haar in Johannesburg gekry toe sy ’n storie oor die DBV gedoen het. "Toe sit hierdie hondjie daar verlore en ek sê vir die mense: ‘Maak haar reg, ek kom haal haar môre’," vertel sy vir Murray la Vita (Die Burger, 17 Maart 2012).

Jeanne het met honde grootgeword. "Toe my ma met my pregnant was, het sy ’n wit-en-bruin pekinees gekoop. Haar naam was Toodles. Ek was ’n baie energieke kind. Soms het my ma Toodles saam met my in die cot gesit en ’n bietjie musiek aangesit. Dan was ek ­rustig."

Jeanne sê sy wou ’n ophef maak van Poppie. Sy het dit oorweeg om ’n doodsberig in die koerant te plaas: "Tot weersiens, lojale vriend." Sy het al dikwels vir La Vita gesê die mens het vir hom ’n lojale vriend geteel, maar dit is iets wat hy nie self kan wees nie.

"My enigste begeerte was dat my honde voor my moet doodgaan. En nou is enetjie dood en dit is vir my hel. Dolores is nog baie spelerig, maar haar beurt kom ook. Sy is ook 12 en die veearts sê labradors maak dit nie veel ouer as 11 nie."

Tydens die KKNK van 2012 is Kopstukke weer op die planke gebring met Sandra Prinsloo as regisseur en Lizz Meiring en André Stolz in die rolverdeling. Sandra Prinsloo het die stuk as "’n portret van die huwelik" beskryf. 

André Stolz, wat saam met Lizz Meiring in die stuk te sien is, sê die komedie dek ’n hele palet van emosies: "Teatergangers lag dat jy hulle wie weet waar hoor, maar daar is tye wanneer hulle tjoepstil word." 

Meiring en Stolz speel man en vrou wat albei ná ’n motorongeluk van die nek ondertoe verlam is en in hul dubbelbed gekluister lê. Die man is ’n professor in filosofie wat sy intellek en spitsvondigheid as wapen teen sy middelklas-vrou gebruik. Sy is nie naasteby op sy intellektuele vlak nie, maar sy weet hoe om hom met vroulike aanvalle terug te kry.

"Die twee se houding en siening wissel voortdurend. Kwinkslae word kwistig heen en weer geslinger en oomblikke daarna raak hulle weer diepsinnig. Selfbejammering is nie deel van die teks nie, hoewel die vrou tog haar man vir die ongeluk verwyt," sê Stolz.

Goosen het Kopstukke sowat 20 jaar gelede vir Meiring en Stolz geskryf. Sy was in daardie stadium ’n koerantjoernalis in Pretoria en het die stuk gegrond op berigte wat in die koerante verskyn het. Kopstukke is die eerste keer in 1991 opgevoer en weer in 2001. Prinsloo en Kosie Smit is van die begin onderskeidelik die regisseur en vervaardiger. 

Oor die ontstaan van Kopstukke vertel Jeanne aan Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013) dat André en Lizz een aand by haar huis aangekom het en gesê het hul toneelstuk vir die Potpourri-fees "is ’n total flop – kan ek nie iets vir hul skryf nie. Toe sê ek eers: 'Maar is julle mal? Dis oor twee weke, man!' En toe sê ek: 'nee maar goed, dan sit ek julle in die bed en julle’s verlam.' En dis hoe dit begin het. En vir die dekor vat ons sommer ’n bossie kosmos, want dit pluk jy verniet langs die pad en ons moes met daardie Potpourri-fees self vir rekwisiete en goed betaal.

"Daai stuk het toe vir my die anatomie van die huwelik geword: Jy lê later in ’n mekaar se dinges, maar jy’s verlam. Jy kan nie daar uit nie."

Jeanne vertel tydens die Woordfees van 2013 aan Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013) dat sy nog ’n drama klaar het. "Ek dink dit kan nogal ’n bom wees, want dit gaan oor wrywing in die Kaap tussen die bruin en die swart mense. Op ander plekke in die land moes baie boere hul grond afstaan omdat swart mense eerste daar was. Maar die Khoi-San en hul voorgeslagte was eerste in die Kaap – eeue nog voor Jan van Riebeeck. En dis vir my baie tragies wat besig is om met hulle te gebeur, want die tikverbruik is iets ontsettends en jy sien wonderlike mense totaal en al ondergaan oor hulle nie werk het nie. Ek kon nooit verstaan waarom niemand daaroor skryf of moan daaroor in die koerante nie. Maar dié drama het sy humor darem ook in. Ek weet net nie vir watter regisseur om dit te gee nie." 

Sy is ook druk besig met ’n boek wat uit drie novelles bestaan. Oor die inhoud was sy effe vaag, maar sy reken dit is nogal surrealisties en die een verhaal het ’n sterk musiektema.

Oor haarself het Jeanne aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 19 Julie 1995) gesê: "Ek’s nie moeilik nie. Ek is intens, ja. Ek’s ’n baie intense, emosionele mens wat met al my gevoelens op my mou loop. Ongelukkig laat dit mense skrik. En ek het ’n diep stem. ’n Militante stem. Maar ek haat geweld, en ek is naïef. Ek het na myself gekyk op daardie vroueprogram op TV en gedink: got, Jeanne, jy’s só naïef."

Daar is wel ’n familiegeskiedenis van endogene depressie, wat haar by tye onmoontlik maak. "Dan sien ek g’n siel nie. Ek gaan koop groceries, soveel as wat ek kan. En ek kook dat die walms in die straat afgaan. Dit was die inspirasie vir Louoond. En ek rook dat die bolle so staan. En plant, blombolle, steggies, enigiets. Ek luister musiek. Ek skilder mure. Maar ek lees niks nie. En ek skryf niks nie. Eers as die hond tot satwordens toe gevoer is, die vrieskas uit sy nate bars en die blare van die eerste bolle begin wys, is die depressie verby en kan ek weer begin werk."

Jeanne was self nog nooit getroud nie. "Die huwelik is uit die oude doos. Ek weet nie waarom mense dit nog doen nie. Ek is buitendien liewer vir diere as vir mense. Ek het elke langnaweek en vakansie altyd in die Wildtuin deurgebring. Dit was vir my die wonderlikste om te sien hoe ’n groep bobbejane daar sit en kibbel, of ’n trop olifante met die kleintjie by ... en hulle gewoontes. Dan het ek altyd hierdie ongelooflike warmte gekry, ’n welgeluksaligheid. Ek het nog nooit so teenoor ’n mens gevoel nie. Ek moet darem bysê, ek was nooit seksueel aangetrokke tot diere nie."

Sy was twee en ’n half keer verloof (aan mans) en "ek het na weerskante toe geëksperimenteer tot ek besef het, hoor hier, dis nie my emmer k*k daai nie. Forget about it. Want jy weet as jy eers begin verloof raak," verduidelik sy aan Marais, "dan begin dit daai ding word wat Kopstukke is. As jy die aand stil is, dan’s dit 'Waaraan dink jy?' en 'Is daar ’n probleem?'. Jy kan nooit eintlik jouself wees nie.

"As jy lief is vir diere, het jy ’n ander uitkyk. Iemand het eenkeer vir ’n vriend van my gesê: ‘Wat de hel makeer daai Jeanne Goosen? Eers praat haar hoenders, nou praat haar honde. Nou hoor ek haar plante praat ook.’"

Sy vind nog altyd haar troos in haar klavier en haar geliefde Chopin en Liszt. "Dit en ‘Mammy Blue’. Ek het besluit as ek veras word, moet iemand 'Mamy Blue' sing. En as die rokie opgaan, ‘I’ve got rhythm’," vertel sy aan Danie Marais."

Naomi van Niekerk het Jeanne se bekende gedig "My mamma is bossies" in 2016 verwerk tot ’n kortfilm met Elize Cawood wat die voordrag doen met ’n asemrowende uitvoering van Maria Callas in 1995 as agtergrond. Dit is ingeskryf vir ATKV: Filmverse 2 tydens die kykNET Silwerskermfees van 2016. Dit was ook op die program van die International Short Film Festival Oberhausen wat een van die belangrikste kortfilmverenigings, in die wêreld is. Dit is ook die oudste kompetisie vir kortfilms in die wêreld. Aan die einde van die fees in Duitsland neem die "Oberhausen on Tour" die kortfilms op ’n toer deur die wêreld en in 2019 is van die films, onder andere "My mamma is bossies" in The Bioscope in Johannesburg vertoon. Hierdie kortfilm is in 2018 die ontvanger van die Koreaanse Kulturele Sentrum se Creative Revelation Award tydens die Anima Fees in Brussels.

In 2019 stel Petrovna Metelerkamp (met die hulp van Izel Lutz en Maureen Boshoff en ook Celesté Fritze) Los gedagtes saam uit notaboeke waarin Jeanne Goosen met haar hand gekrabbel het. Die gevolg is ’n boek vol aforismes wat snaaks, absurd en ook hartseer is en, soos Joan Hambidge (Rapport, 15 Februarie 2020) dit stel: "114 bladsye van loutere genot. Diegene wat Goosen ken, weet sy is ’n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof ’n mens in ’n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer," eindig Hambidge haar resensie.

In 2020 publiseer Hemel en See Boeke van Petrovna Metelerkamp Jeanne se volgende digbundel, Het jy geweet ek kan toor? – 13 jaar ná die verskyning van Elders aan diens. Dit is ’n versameling gedigte wat deur Metelerkamp saamgestel is uit los aantekeninge en dagboeke van Jeanne Goosen wat ’n tydperk van meer as 50 jaar omvat.

Rudolf Stehle is die resensent in Rapport van 3 Mei 2020: "Die bundel is Goosen se vierde sedert haar debuut as digter in 1971 en volg op Elders aan diens (2007). Soos tevore is dit praatverse in soms platvloerse en gemengde taal. Tereg beskryf die samestellers die gedigte as 'broksgewys' – slegs ’n dosyn kom werklik tot hul reg – en dalk is dit dáárom nie voorheen vir publikasie oorweeg nie. Wat die leser merendeels hier aantref, is fragmente, los versreëls, 'voorstudies' wat die kiem bevat van gedigte of prosa wat later gepubliseer is.

"Het jy geweet ek kan toor? kan beskou word as ’n pendant vir die Goosen-biografie ’n Lewe vol sinne en ’n saamlees van die twee beloof om nuwe vistas op die toorkuns van hierdie 'rare voël' van die Afrikaanse lettere te open."

In Beeld (9 Maart 2020) skryf Joan Hambidge: "Hierdie bundel is ver van 'af' of voltooid, maar die voorwoord waarsku jou dat jy fragmente gaan lees. En selfs in die lopers is daar verstommende oomblikke wat jou weer terugneem na Jeanne Goosen se veelkantige oeuvre."

In die vroeë oggendure van Woensdag 3 Junie 2020 is Jeanne Goosen in haar meenthuis in Bloubergstrand naby Kaapstad oorlede, nadat sy vir ongeveer twee jaar bedlêend was. Haar versorger, Michele van der Westhuizen, en haar hondjie Fudge, wat deel was van Jeanne, was by haar toe sy dood is.

Petrovna Metelerkamp het aan Netwerk24 gesê: "Jeanne het Dinsdagaand in ’n koma verval. Daar sal die naweek ’n diens vir haar gehou word, maar ons weet nog nie wat nie. Haar konsentrasievermoë het die laaste ruk erg afgeneem en sy het fisiek baie onaktief geword." (Netwerk24, 3 Junie 2020)

"Bibberende Piet" deur Jeanne Goosen

Here

U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet – omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir ’n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir U poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra ’n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou
Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog ’n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan;
Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dààr toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie ’n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?
Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid
(Uit: Elders aan diens, 2007)

"My mamma is bossies" deur Jeanne Goosen

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
la sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
Sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid

My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sy sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou.
(Uit: Elders aan diens, 2007)

Huldeblyke:

  • Danie Marais, skrywer: "Jeanne Goosen se vertrek stem my bitter droef. Sy laat so ’n unieke en geweldige leemte. Ek het in 2013 die kans gekry om met haar ’n onderhoud vir byte voer en wanneer ek aan daardie Saterdagoggend dink, spoel daar altyd ’n warm gevoel deur my." (LitNet) 

  • Jackie Nagtegaal (skrywer en vriendin) op Facebook: "Jeanne Goosen is dood. Skielik is my hart so seer. Sy was ’n towenaar, goud gekleur. ’n Wals in die absurde. Dronk gedans, het ek soms probeer ontsyfer wat was wat. Sin gesoek. Maar sy het haar stories soos ’n kokon om my gespin sodat die terugkeer na die wêreld ’n sagte hergeboorte sou wees. Dat dit stadig sou ontvou. Dan weke later, in ’n onvergete kaal oomblik, onthou ek iets wat sy gesê het en lag hardop. Ander is mal, sê sy. En ons is nie almal só nie. Tussen haar en my ma kon mens die wêreld verstaan. Sonder mense soos hulle is als stukkend. So vanoggend maak ek my oë toe en hoor haar vingers oor die klavier ... haar blou oë. Take this waltz. This waltz, this waltz, this waltz, this waltz. With its very own breath of brandy and Death. Dragging its tail in the sea." (LitNet)

  • Jackie Nagtegaal: "Elke woord wat by haar mond uitgekom het, was ’n boek op sigself. Sy het gespeel met die wêreld. Sy het so baie stories vertel en dan het ek altyd gewonder: Maar kan dit waar wees? Sy was een van die slimste mense wat ek geken het.

    "Ek het Jeanne so 20 jaar gelede op Paternoster ontmoet. Ek en my ma, Reinet, het haar daar ontmoet. Dit was in die hotel en Jeanne het sit en klavier speel. Daar was ’n paar vroue in die hotel wat almal ’n Shirley Valentine-move gedoen het (hul mans verlaat het). Ek onthou dié absurde oomblik. Met Jeanne het dit altyd gevoel of jy in ’n fliek instap. Hierdie groot, unieke gees. Sy was seker die grootste karakter in Afrikaans." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Anroux Marais, minister, Wes-Kaapse regering: "It is with great sadness that we heard of the death of the Afrikaans writer, Jeanne Goosen. Jeanne was one of our country’s most iconic writers, who broke through boundaries with her acclaimed work Ons is nie almal so nie. This was an important text in voicing the emotional damage that was imprinted on many South Africans by the apartheid system. While Jeanne certainly marched to her own drum, she was an important voice in speaking up for those who had their rights violated – she wrote about the experiences of women in a time when they were seen as silent voices in the background. With the publishing of her first poetry anthology in 1971, Jeanne was one of a handful of women writers to publish in Afrikaans, and she paved the way for generations of women to publish their own work in a previously male-dominated environment. Jeanne was passionate about a variety of topics and explored the mysteries of the natural world, as well as human emotions, in her writing. Her contribution to literature in our country is immeasurable, and we are grateful for the words that she left for us. Her legacy will live on for many years to come. We express our heartfelt condolences to Jeanne’s family, friends and literary family, who will surely miss her unique character and warmth of spirit." (https://www.westerncape.gov.za/news/minister-anroux-marais-mourns-passing-jeanne-goosen)

  • Goosen, Anton, sanger: "Jeanne was nog daardie tyd op die redaksie van een van die koerante in Pretoria. Dit was in die tyd toe my treffer 'Kruidjie-roer-my-nie' uitgereik is. En dan bel mense na die kantoor en hoor dis Jeanne wat praat. En hulle vra: 'Is jy Anton Goosen se liewe vroutjie?' Dit was vir haar en vir my baie snaaks, want sy is so ’n groot, formidabele persoon. Nie ’n verkleinwoord nie. Eenkeer het ons ’n televisieprogram gedoen waarin celebs moes vertel wat hulle pla as die publiek hulle hinder. En haar groot storie was wanneer die Melville-drankwinkel nie haar tjeks wou vat nie. Ja, bra, dis ’n groot verlies hierdie." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Ferreira, Jeanette, skrywer: "Ek het een dag by ’n kroeg ingestap toe Jeanne my groet en met haar plathand op die tafel slaan: 'En nog iemand wat vasgevat moet word, is hierdie blindes. Ons boeke word vir hulle voorgelees sonder dat hulle ’n sent betaal,' het sy laat hoor.

    "Sy het dit spesifiek aan my gerig omdat ek toe voorsitter van die Skrywersgilde was. Nou moet ’n mens Jeanne ken om te weet sy het nie ’n woord daarvan bedoel nie. Sy het waarlik deernis gehad met mense wat om watter rede ook al op die rand van die kring moes leef, en ek hoef nie voorbeelde te gee nie. Haar roman, Ons is nie almal so nie het dit gesê – sy het nie onreg gedoog nie. [...]

    "Jeanne kon ’n vloekwoord só in die sin plaas dat dit lyk asof dit daarsonder geen betekenis het nie. Die hardste wat sy kon lag, was vir haarself. Afrikaans is armer sonder Jeanne. Ons sal haar so mis." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Marianne de Jong, literatuurwetenskaplike: "Jeanne word beskou as een van die eerste feministiese skrywers in Afrikaans. Solank dit nie stereotipering was nie. Sy is myns insiens die beste novelle-skrywer in Afrikaans. Sy het dié genre bewus en baie self-krities beoefen. Bondigheid was vir haar ’n literêre vereiste in prosa en sy kon dit in haar beste werk met poëtiese struktuur en taal verbind.

    "Sy was ’n briljante literêre outsider, selfs in haar gewilder werk – die mense van Pretoria-Wes in ’n Paw-paw vir my darling stem vir die ANC! Sy was ’n anti-volkskrywer wat nogtans 'vir die volk' kon skryf omdat die mense van (byvoorbeeld) Parow die bron van spontane kritiek is op die regering, op snobisme, en die bron van debunking en parodie." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Tessa Louw, betrokke by die uitgee van Goosen se laaste novelle: "Sy het die werk van Georges Bataille (Franse filosoof en letterkundige) intens bestudeer en haar erotiese kortverhale is direk beïnvloed deur Bataille se filosofie, die dood en erotiek. Mense (die onkundige leser) wat nie kennis dra van Bataille se werk nie, sal ook nie Jeanne se erotiese verhale na waarde kan skat nie." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Louise Viljoen, letterkundige: "Ek wonder waar ons weer ’n skrywer soos Goosen sal kry. Wie sal weer ’n roman begin met die woorde: 'Nóg ’n boek deur ’n vrou. Luister, vriende, die wêreld van die kombuis is van die mens en van God verlate. Dit is ’n toestand – een van beheerde histerie.' (uit: Louoond, 1987)

    "Wie sal weer karakters skep soos die kind Gertie, haar ma, Doris, en dié se vriendin Mavis in Ons is nie almal so nie? Wie sal weer vir ons deur die oë van ’n hond laat kyk soos in ’n Paw-paw vir my darling en die belange van hoenders aan die orde sal stel soos in Wie is Jan Hoender? En wie sal weer so ’n striemende gedig skryf soos die een in Elders aan diens waarin sy die Here vra om sekere dinge aan haar pa, Piet, uit te lê wanneer hy met die reuk van gas om hom en sy blou oë vol vrae in die hemel aankom? Haar werk is onherhaalbaar en haar impak op die Afrikaanse letterkunde onberekenbaar." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Joan Hambidge, skrywer en letterkundige: "Jeanne Goosen was veelkantig. Benewens haar prosawerk was sy ook ’n digter, rubriekskrywer, dramaturg en kabaretskrywer. Elders aan diens is ’n besondere digbundel met aweregse Haar lykdig oor haar pa, 'Bibberende Piet' is ’n hartgrypende vers, nes 'My mamma is bossies'. Die stem van die stemlose. In Plante kan praat skryf sy oor eko-kwessies lank voor dit mode geword het. My gunsteling van Goosen is Om ’n mens na te boots, want lewe en skryf bly vir haar ’n stuk valsheid en onegtheid.

    "Ek onthou Jeanne as ’n roekelose mens wat grense immer uitgedaag het. Sy was altyd bereid om vir die underdog op te staan. Sy kon geen onnoselheid of nonsens verduur nie. Om saam met haar te wees was asof jy in ’n teaterproduksie optree. Haar kennis van klassieke musiek en wetenskap was uitmuntend. Valsheid kon sy nog minder hanteer. Daarom beskou ek Om ’n mens na te boots as ’n belangrike boek. Ons is blote versinsels en nabootsings omdat ons bang is vir die waarheid. Jeanne was teerhartig – agter die harde aanslag was daar ’n diep gekweste mens." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Celesté Fritze, betrokke by publikasie van Los gedagtes: "God sal Jeanne met ’n glimlag verwelkom." (Netwerk24, 3 Junie 2020)

  • Willie Burger, letterkundige: "Jeanne Goosen was baie snaaks. Sy het een keer vir my gesê sy rol haar eie sigarette, maar as die tabak te min is, dan meng sy dit sommer met rooibosteeblare. En toe voeg sy by: Dit is eintlik dan ’n gesondheidsigaret! En dat sy dit dalk Jeannique moet noem." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Lizz Meiring, aktrise, skrywer en regisseur: "Ek sal Jeanne met die grootste deernis onthou. Haar nalatenskap, veral as dramaturg, is niks minder as magistraal nie. Haar werk is onvergeetlik en ewigdurend. Sy het die absolute hart van die menslike bestel – die goeie én die slegte – raakgeboor, en daar is soveel nuanses in haar werk wat tydloos en absoluut onsterflik is.

    "Die interessante ding van Jeanne was dat sy ’n ongelooflike goeie skrywer was, maar die einde van haar stukke was dikwels nooit voltooi nie – dan moet ons (die akteurs) dit vinnig fix en vir haar aanstuur. In dié verband was sy soos Leonardo da Vinci, wat in sy leeftyd glo sowat 3 000 projekte nooit voltooi het nie. Sy was nes hy ’n genie wie se belangstelling baie vinnig deur iets anders geprikkel word.

    "Goosen was ’n slim vrou, ongelooflike pianis en rubriekskrywer, soms wrede teaterresensent én gekwalifiseerde radiografis. Sy was ook ’n fassinerende karakter en so mal soos ’n haas. Elke generasie het sy court jester – soos Deon Maas – maar dít was Jeanne ook." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Sandra Prinsloo, aktrise: "Dit is baie tragies, maar ons verwag dit al lank. My grootste jammerte is dat die staat van inperking my gekeer het om vir haar in persoon tot siens te sê.

    "My pad het met dié van Jeanne Goosen gekruis toe haar novelle Louoond vir die verhoog verwerk is en Trudie Taljaard my genader het om die eindproduk, Kombuis-blues, te regisseer. Ek en Jeanne het onmiddellik gekliek. Sy het gelukkig baie gehou van wat ek met haar werk doen – en van toe af het ons goeie vriende geword. [...]

    "Ek was meestal net die regisseur van Jeanne se stukke, omdat óf sy óf die akteurs my gevra het om dit te regisseer. Jeanne het altyd gesê ek verstaan haar werk. Ek was versot op haar swart humor – so ’n heerlike swart humor wat ’n onkonvensionele blik op alles gehad het. Sy was ’n terroris – ’n wonderlike terroris met die taal – en ek het dit so geniet om dit dan op die verhoog te sit. Sy't vir jou so baie gegee om mee te werk; jou verbeelding het op loop gegaan. Haar uitklophou op die verhoog was altyd dat sy geskryf het soos ’n mens praat. [...]

    "Sy het werklik diep en anders na sake gekyk. Haar manier van sien was soos ’n kaleidoskoop – ’n enorme ingewikkelde manier om die lewe te sien. En sy het ook diep ervaar: Sy het baie seergekry – sy was soms hoog, soms laag – maar om tyd met haar deur te bring, was geweldig waardevol en pret. Sy was enig – werklik. Daar is niemand soos Jeanne nie." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Albert Maritz, akteur en regisseur: "Ek het Jeanne Goosen tydens ’n sop-en-sjerrie-aand in Melkbosstrand ontmoet. Sy't ’n bietjie gepraat oor haar musiek, gespeel op ’n klavier, en soos die wyn gevloei het, het ek ook later vir haar 'Die berggans' in my beste falsetto gesing. Sy was so with-it, dié ou goose. [...] Ek sal haar altyd onthou as ’n skrywer wat met sulke eenvoud soveel betekenis kon kommunikeer. Selfs haar rubrieke in Die Burger was ongelooflik snaaks, maar met geweldige diepte, soveel so dat jy tussen die lyne besef dié girl is eintlik waaroor alles gaan." (Die Burger, 4 Junie 2020)

  • Henk Serfontein, visuele kunstenaar: "Ek het vir Jeanne Goosen ’n dag ná haar 80ste verjaardag ontmoet. Sy het deelgeneem aan my projek Handskrif waarin ek vir bekende digters gevra het om ’n reël uit hul eie werk te kies en dit dan op hul hand te skryf sodat ek dit tot kunswerk kan verwerk. Toe ek Jeanne Goosen ontmoet, was dit soos om in een van haar kortverhale in te stap.

    "Ek is na haar slaapkamer gelei, waar sy in haar bed vir my gewag het. Die kussings was gepof agter haar kop, daar was ’n asbak op die deken en haar linkerhand het op ’n poedel gerus. ’n Chopin-mazurka het in die agtergrond gespeel en regs van haar het ’n abstrakte grafiese werk, vermoedelik deur Fred Schwimmel, gehang. Sy was reeds fragiel en nie besonder spraaksaam nie, maar het gekies om die kort sin 'wat sag is vergaan' op haar hand te skryf. [...]

    "Vir die portret het ek my invalshoek van my kamera verlaag en ek het laag gerus op haar bed se deken. Ek wou opkyk na die groot skrywer. Sy het stip na my lens gekyk, ’n diep teug van haar sigaret geneem en die rook in my rigting oor die bed geblaas. Haar mondhoeke het beweeg en as van die sigaret het op die deken geval. Van al die digters wat ek afgeneem het, het ek die minste van Goosen geneem omdat ek vinnig ’n werkbare beeld gevind het.

    "Sy was ’n karakter: eerlik, onverskrokke, onverdun, maar ook weerloos. Voor my lens kon sy nie iemand anders as bloot haarself wees nie." (Die Burger, four Junie 2020)

  • Mercy Kannemeyer, teatermaker: "My ontmoeting met Jeanne Goosen was een van die beste dae van my lewe. Ek het haar persoonlik gevra of ek Ons is nie almal so nie vir die verhoog kan verwerk. Sy was so ongelooflik gaaf en só gentle. Ek kan nog onthou hoe sag haar oë was. Toe ek haar vra of ek die roman mag verwerk, toe sê sy net: 'Gaaf. Ek voel gevlei.' En vir haar Om gevlei Te voel, was nogal ’n moment vir my.

    "Een van die redes hoekom ek die roman wou verwerk, was omdat daar so baie ooreenkomste tussen die verhaal, wat in die 1950's afspeel, en nou is. [...] Wat Jeanne reggekry het, is om ’n tydlose storie te vertel wat enige tyd kon afspeel. Sy het die storie met soveel deernis en so saggies vertel – maar dit steek jou. Die woorde 'ons is nie almal so nie' het volksbesit geword en dit is so ’n interessante stelling. Hoe is ons dan – en wat is dit waarvan ons onsself wil distansieer? [...]

    "Wat is daai gedig van Jan FE Celliers wat sê 'Stil, broers, daar gaan ’n man verby'? Ek voel vandag so: Stil, broers, daar gaan ’n vrou verby." (Die Burger, 4 Junie 2020)

Publikasies:

Publikasie

’n Uil vlieg weg

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1988

ISBN

0624026914 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Om ’n mens na te boots

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1986

ISBN

  • 0628008457 (hb)
  • 079861739X (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Orrelpunte

Publikasiedatum

1975

ISBN

0628008465 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die groot griep

Publikasiedatum

1981

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Geskiedenis (kinderboek)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Brood-hooglied

Publikasiedatum

1981

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Resepte

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Kat in die sak

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798620587 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Louoond

Publikasiedatum

  • 1987
  • 2010
  • 2013 (e-boek)

ISBN

  • 0798623047 (sb)
  • 9781869193072 (sb)
  • 9781869198756 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons is nie almal so nie

Publikasiedatum

  • 1990
  • 2de uitgawe 2000
  • 2007

ISBN

  • 0798630663 (sb)
  • 0795701160 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1990
  • Rapport-prys 1990
  • MNet-prys 1991

Vertalings

  • Engels; vertaal deur André P Brink 1992; 2007
  • Nederlands; vertaal deur Riet de Jong-Goossens 1993
  • Frans 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie eenakters: Kombuis-blues; Kopstukke; ’n Koffer in die kas

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798632942 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Rapport-prys 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

o.a. Daantjie Dromer

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2de druk 1993

ISBN

1874901104 (sb)

Uitgewer

Strand: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Gelyke kans

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wie is Jan Hoender?: ’n novelle

Publikasiedatum

2001

ISBN

0795701276 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Straataf

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799329398 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

’n Pawpaw vir my darling

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2006
  • 2007

ISBN

  • 0795701454 (sb)
  • 9780795702419 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Elders aan diens

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780980260663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Genugtig! Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Plante kan praat

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780795703003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Los gedagtes

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781928283379 (sb)

Uitgewer

Hermanus: Hemel & See Boeke

Literêre vorm

Aforismes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Het jy geweet ek kan toor?

Publikasiedatum

2020

ISBN

9781928283386 (sb)

Uitgewer

Hermanus: Hemel & See Boeke

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Vertalings deur Jeanne Goosen

  • Fast, Julius: Die mag van houding. Pretoria: Daan Retief, 1981 [ISBN 0868143502 (hb)] – Afrikaanse vertaling van Body politics: how to get power with class
  • Berry, Mary: Prutpot-etes. Johannesburg: CNA, 1982 [ISBN 0620059443 (hb)] – Afrikaanse vertaling van One pot cooking

Publikasies oor Jeanne Goosen 

’n Keur van artikels deur Jeanne Goosen op die internet

’n Keur van artikels oor Jeanne Goosen op die internet

Jeanne Goosen se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2018-10-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Jeanne Goosen (1938–2020) appeared first on LitNet.

Audrey Blignault (1916-2008)

$
0
0

Gebore en getoë

Audrey Bettie Blignault is op 6 Julie 1916 in Bredasdorp in die Overberg gebore. Sy was die oudste kind van Johannes Jochemus Albertus Swart en Maria Kennedy. Na haar volg Yvonne en twee broers, Ken en Christopher. Haar pa se familie was Strandveldse boere en die Swarts is een van die oudste Overberg-families.

Oor haar pa, Johan, het Audrey in In klein maat in die skets "In Pappa se studeerkamer" as volg oor haar pa geskryf: "Hier is ’n man wat ’n behae het in sy ewemens, met ’n ruimte van gees wat in elke mens wat hy leer ken, ’n potensiële vriend sien. Hier is ’n mens wat alle mense op dieselfde grondslag van suiwer menslikheid aanvaar." (Amanda Botha: Midde-in die storms plant Audrey bome van humor, Die Burger, 6 Maart 2004)

Haar ma se oupa het uit Ierland na Suid-Afrika gekom en sy kom uit die streek aan die voet van die Langeberge op die walle van die Breërivier. Haar pa was prokureur op Bredasdorp. Oor haar moeder het sy as volg geskryf: "Vir my ma sou ek graag ’n pienk boom wil plant, ’n plesierboom waaraan daar om die beurt al die pienk goed sal hang wat haar hart so knaend begeer: een dag ’n pienk ‘stool’ met pienk fraiings, een dag ’n driedubbele string pienk krale met oorkrabbe om daarby te pas; dan weer ’n pienk tafelkleed met pienk vlinders daarop, of ’n pienk teeservies met kantfyn koppies en ’n teepot soos ’n pienk krismisroos. Só ’n boom sou Ma gelukkiger maak as ’n brandpolis of slaapmedisyne of ’n getekende portret van Winston Churchill, en as dit ’n geskenk is van my, sal sy ook nie weer vir my sê ek is vol houdings en ligsinnig oor die ernstige dinge van die lewe nie." (Die Burger, 6 Maart 2004)

In haar sketse het Audrey haar suster, Yvonne, die naam Trix gegee. Yvonne was kleintyd ’n regte rabbedoe en ook ’n baie goeie vriendin vir haar oudste suster. Sy het Trix só beskryf: "Alles wat ek te bang was om te doen, het sy gedoen: saam met die masjinis binne-in die lokomotief gery toe ons een dag saam met tant Hettie op Drew-stasie was, en stralend vol roetkolle daar uitgeklim; op die pastorie se dak geklouter en die predikant se kleinseun uitgekoggel toe hy ons eendag te veel geterg het; haar pop se kop stelselmatig en koelbloedig afgekap omdat die pop se nek nie wou reg draai nie; en nie ’n flenter omgegee vir die straf wat gevolg het nie. Dit was juis daardie heerlike onverskilligheid ten opsigte van haar dade se gevolge wat ons ander se bewondering gaande gemaak het, wat haar vanselfsprekend tot leier van elke kwajongstreek verhef het en ’n mens in jou latere berou oor jou misstap by haar laat troos soek het." (Die Burger, 6 Maart 2004)

Haar broer, Ken, het Leon in Audrey se essays geword en daaruit blyk dit duidelik hoe ’n belangrike plek hy in haar lewe ingeneem het. In die essay "Dis nou van ’n man" het sy as volg geskryf oor sy bestuursvernuf: "... my broer Leon wat in die gewone lewe ’n inskiklike en verdraagsame mens is, word vir my anders sodra sy ego die onderskraging van sy roomkleurige motortjie het." (Die Burger, 6 Maart 2004)

In Die plesierboom het sy die plesierboom wat sy vir haar dogter, Marié (Marietjie in die skets) beskryf: "Marietjie, weet ek, sou hou van ’n rokboom, ’n uitsonderlike rokboom wat net een volmaakte rokbloeisel op ’n keer dra, heeltemal eksklusief, onberispelik van snit en natuurlik nêrens te nou nie. Die geskenk van só ’n boom sal haar darem baie lief maak vir haar ma en sal haar dalk ook weerhou van die gedagte dat haar ma in ouderwetse dinkpatrone vasgevang sit." (Die Burger, 6 Maart 2004)

En oor haar rol as ouma vir haar drie kleinkinders, Andries, Fritz en Adré, het sy as volg gesien: "Ek is nou ouma. Dit beteken dat ek van vandag af ’n boegbeeld word, ’n baken, ’n verwysingspunt. Van vandag af word ek ’n vertoonstuk op die agtergrond of ’n pretbederwer op die voorgrond. Ek word ’n towerfiguur uit ’n kindersprokie of ’n orang-oetang wat stoutigheid straf." (Die Burger, 6 Maart 2004)

Op LitNet het Audrey aan Marguerite Black vertel dat sy in ’n tweetalige omgewing grootgeword het en het sy verder verduidelik: "My ma was Engelssprekend en my pa Afrikaanssprekend. My ouma aan my ma se kant was Afrikaans, maar my oupa was Engels. Die opvoedingstaal in daardie tyd was Engels. My ma kon nietemin idiomatiese, egte Afrikaans praat. My pa, Johan Swart, was in ’n private skool in Hermanus, waar die voertaal Engels was. Die skoolkinders moes ’n bord om die nek dra wat sê: 'I must not speak Dutch.' Die een voordeel daarvan was dat my pa uitstekend Engels kon praat en jare lank die burgemeester van die dorp was. Hy het egter altyd met ons kinders Afrikaans gepraat, en in Afrikaans gebid by die huisgodsdiens. Ek het op Bredasdorp grootgeword waar die taal van die omgewing kern-Afrikaans was. Die bruinmense op die dorp het ook deur die bank Afrikaans gepraat."

Audrey gaan skool op Bredasdorp en matrikuleer in 1933. Sy kan onthou dat sy ongeveer drie of vier jaar oud was toe sy die eerste keer ’n boek in haar hande gehou het. Sy vertel aan Anine Capraro in Sarie van 14 Augustus 1985: "My mammie het na my gekom met die boek Wonder book: a picture annual for boys and girls. Op die buiteblad was ’n prentjie van ’n meisie met lang, goue hare, ’n wit rok, en wit en rooi krale om die nek. Op die agtergrond was ’n perskeboom. Van daardie oomblik was ’n boek vir my ’n betowering."

In Insig van Oktober 1995 vertel Audrey dat daar in haar ouerhuis altyd boeke was, maar dat sy tot op daardie stadium in haar lewe nog nooit John Bunyan se The Pilgrim's progress gelees het nie. Haar ma en pa het pal gelees; met die gevolg dat sy ook gelees het. "In ’n boekkas met glasdeure was al Dickens se boeke, Tennyson en Longfellow se gedigte, Emerson se essays en ’n lywige Practical guide to health wat ek van voor tot agter gelees het. Meer Die pelgrim se reis was daar nie.

"In ons dorpsbiblioteek was Miss Doris Eeds, ’n lang, vaal, sagpratende Engelse dame, wat my voorgestel het aan heerlike boeke soos The secret garden, Anne of Green Gables en The girl of the Limberlost. Maar nie Die pelgrim se reis nie.

"Skoolvakansies het ek by my Kennedy-tantes op ’n plaas naby Bonnievale gekuier en dae lank al die lekkerlees-boeke in hulle biblioteek gelees. Al die boeke van Florence Barclay was daar, van Marie Corelli en Ethel M Dell. Selfs ’n weggesteekte boek met seksinligting deur Marie Stopes. Maar nie Die pelgrim se reis nie.

"Die tantes en my ma het baie oor boeke gepraat. Toe ek self nog nie kon lees nie, het ek gedink Mr Pickwick en Aunt Betsy Trotwood was familie van ons. Maar ek kan my nie herinner dat hulle ooit oor Die pelgrim se reis gepraat het nie. EK het ook nie dié boek as Sondagskoolprys gekry nie."

Toe die jong Audrey ongeveer elf of twaalf jaar oud was, het hulle op Waenhuiskrans vakansie gehou. Mrs Little en Miss Messenger het kom stranddienste hou in ’n tent en eendag, na al die vrolike gesing en Bybelstories, het Mrs Little begin vertel van die Christen se bitter swaar reis na die ewigheid. Die jong Audrey wou hoor wat van Christen geword het, maar al die vreemde mense wat hy op sy pad ontmoet het, was nie vir haar regte mense nie.

"Dis ’n groot verligting om te hoor dat Christen tog uiteindelik in die hemel aankom. Maar dit klink vir my dis vir ’n mens te bitter swaar om die Goue Poort te bereik. Ek sê dit vir niemand nie, maar ek raak bang oor dié storie. Ek wil Pappie oor die hemel uitvra en oor die rivier van die dood, maar ek weet nie hoe ek dit kan doen nie.

"Die vakansie is amper oor. By die voorlaaste diens sê Mrs Little dat al die kinders wat hul harte aan die Here wil gee, na hul tent moet kom om hul harte daar aan die Here te gee. Ek word al hoe meer ontsteld en ongelukkig. Hoekom moet ek na Mrs Little se tent gaan om my hart aan die Here te gee? Ek kan dit mos maar self doen wanneer ek bid. Buitendien, hoef ek nie my hart aan die Here te gee nie. Ek is mos klaar die Here se kind. Van ek in die wêreld gekom het, Nee, ek wil nie na die tent gaan nie.

"Die volgende oggend loop ek alleen langs die see. Toe ek naby die Spuitgate kom, sien ek Mrs Little kom van die agterstrand af aangestap. Sy sien my dadelik raak en keer my voor: 'Audrey, you haven't been to our tent yet,' sê sy. Ek weet nie wat om te sê nie. Ek kyk stip na ’n aankomende brander. 'You are such a nice child,' sê Mrs Little. What a pity that you soul should be lost.' En sy stap aan."

"Die herinnering aan daardie verdoemende uitspraak oor my verlore siel staan nog al die jare tussen my en Die pelgrim se reis na die ewigheid."

Die een rak met boeke in die biblioteek op Bredasdorp het Audrey baie vinnig klaar gelees. Dit was dus vir haar een groot vreugde om tydens vakansies op Bonnievale van die die familie se huisbilbioteek gebruik te maak. Vandat sy nege jaar oud was, kon sy vir elke Kersfees drie boeke kies wat haar pa dan vir haar in Kaapstad gaan koop het. Sy kon die afwagting om die boekpakkie met Kersfees oop te maak en in haar hande te hou, baie goed onthou.

Audrey het vroeg begin skryf. Op elfjarige ouderdom het sy ’n Engelse gediggie oor haar dorp Bredasdorp geskryf en dit vir haar juffrou, mej Gladys Huxam, gegee wat dit aan Die Bredasdorp en Napier Nuus gestuur het. En dit is aanvaar en gepubliseer.

Audrey het aan Marlene van Houwelingen (Die Burger, 2 Junie 2000) vertel: "Die poësie van my lewe het sy oorsprong gehad by [my] ma, ’n musiekonderwyseres. Daar was altyd musiek in die huis, ons het baie gesing. Dáár het poësie vir my begin. My ma se kas was vol boeke, met die mooiste woorde en klanke van Wordsworth, Shakespeare, Emerson en Longfellow. In standerd agt maak ek kennis met die werk van Wordsworth, wat vir my ’n universele ervaring was. Sy 'Groot Ode' is vir my een van die hoogtepunte van die wêreldletterkunde. In standerd nege kruis my pad met Eugène Marais se 'Die towenares' en hierdie lied van die verbanne jong meid verwoord die my gevoelens op daardie tyd. In daardie jaar ontdek ek ook vir Keats."

Verdere studie en werk 

Na matriek is Audrey na die Universiteit van Stellenbosch. Sy vertel dat haar pa sy tyd ver vooruit was. Hy het geen onderskeid tussen sy seuns en dogters gemaak nie en het die dogters aangemoedig om verder te gaan leer. Hy wou gehad het dat Audrey LLB moes loop, maar het berus toe sy hom meedeel dat sy net ’n gewone BA wil neem. Sy studeer vir ses jaar aan die US en behaal haar MA in Afrikaans-Nederlands met onderskeiding en so ook haar Sekondêre Onderwysdiploma.

In Die Burger (6 Maart 2004) vertel Amanda Botha hoeveel pret Audrey Blignault tydens haar studentejare gehad het: "Saam met ’n klompie vriende was sy ’n stigterslid van die Go to Heel Club, ’n heel gewaagde instelling vir die 1930's. 'Dit was vir my die lekkerste. Ons was ingestel op oordaad en jolyt. Sonder reëls en wette,' vertel sy, en verkneukel haar weer in die herinneringe van die klub en sy doen en late, Onder haar medeklublede was onder andere die joernalis Dirk Kamfer, die skrywer WA de Klerk en haar lewenslange vriendin, Annie Schumann (née Van Niekerk).

"Dié klompie het so laat waai dat Audrey en haar suster, Yvonne, op ’n keer selfs kaal gebaai het by Waenhuiskrans, en daar bestaan selfs só ’n foto. 'My pa was baie kwaad,' onthou sy. Maar sy het lank reeds besluit die gewaagde foto sal nie vir haar ’n verleentheid inhou nie, en daarom het sy selfs daarop aangedring dit moet deel wees van haar nagelate dokumente aan die US-dokumenstasiesentrum."

Na die verwerwing van die Tweetalige Onderwysdiploma in Voordrag en Toneel begin sy in 1940 onderwys gee – eers aan die Wellingtonse Opleidingskollege en daarna aan die Rynse Meisieskool op Stellenbosch. Op Stellenbosch dien sy in die redaksie van Die Stellenbosse Student saam met onder andere WA de Klerk, FA Venter en Andries Blignault. Van haar eerste skryfpogings word daarin gepubliseer.

Audrey en Andries Blignault is op 28 Junie 1941 getroud. Vanaf April 1942 tot Februarie 1945 is Andries hoof van die Jan Kriel-skool vir Epileptici in Kuilsrivier en dit is hier waar hulle enigste kind, Marié, gebore is.

In 1945 besluit Andries om voltyds medies te gaan studeer en vestig hulle hulle in Pinelands. Audrey word redaktrise van Die Huisvrou – ’n pos wat sy vir elf jaar beklee. Sy moes in hierdie tyd die pot aan die kook hou terwyl Andries studeer, maar hoewel sy baie hard moes werk, was dit ook bevredigende tye. By Die Huisvrou ontmoet Audrey skrywers soos Anna M Louw, Bertha Smit, Freda Linde en Alba Bouwer. Na Die Huisvrou word Audrey redaktrise van Die Naweekpos, ’n gewilde maandblad in die vyftigerjare. Andries het intussen klaar studeer en psigiater geword.

In 1946 nader Willem van der Berg vir Audrey om die SAUK seVrouerubriek-program te begin. Aanvanklik is dit een maal per week uitgesaai, maar spoedig het dit so gewild geword dat dit daagliks uitgesaai is. Haar liefde vir boeke het sy uitgeleef in hierdie program, waar sy oor ’n tydperk van 46 jaar die Afrikaanse mense en veral vroue geïnspireer het om te lees. Sy volg dit op met tallose persoonlike optredes voor leeskringe, Vroue-Landbou-Unies en ander instansies en verenigings waar sy ook met dringende oortuiging haar passie vir die geskrewe woord verkondig. Sy vertel aan Suzette Truter (Sarie, 14 Julie 1999) dat die wonderlikste ding van al die jare op die radio was dat sy nooit ’n enkele beswaar of kritiek gehad het nie: "Net dankbaarheid. Ek het eendag oor die skrywer-filosoof Montaigne gepraat. Die bestuurder van die Afrikaanse radio het ná die tyd vir my kom vra: 'Wat makeer jou? Dis heel buite vroue se ervaringsveld.' Ek het gesê as ek een klagte kry, sal ek die program dadelik stopsit. Daar was nie ’n enkele een nie. Dit stuit my teen die bors as die vrou onderskat word. Moenie namens haar besluit waarin sy sal belangstel of nie."

Audrey se invloed op haar luisteraars en lesers kan vergelyk word met die invloed wat Oprah Winfrey se boekklub deesdae het. Izak de Villiers vertel dat Heinie Jaekel, hoofbestuurder van Nasionale Boekhandel, in die vroeë 1970's vir JD Pretorius, destyds hoof van Tafelberg Uitgewers, laat weet het dat Audrey in haar boekbespreking oor Vrouerubriek gepraat het oor Afrikaanse woordelys en spelreëls. "Nou skreeu die boekhandelaars om voorraad. Ek moet binne ’n week nog drie duisend Spelreëls hê." Haar gunstige resensies oor enige boek en veral digbundels het veroorsaak dat dit blitsverkopers word, soos met Izak de Viliers se eerste digbundel in 1972.

Op 23 Augustus 1950 verskyn Audrey se eerste stuk onder die opskrif "Uit die dagboek van ’n vrou" in die vrouetydskrif Sarie. Dit gebeur op aandrang van Alba Bouwer en dit, tesame met Vrouerubriek, maak van Audrey ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika. In "Uit die dagboek van ’n vrou" doen sy verslag oor haar lewe en die mense wat haar geraak het. Alba Bouwer vertel self in Volksblad van 17 Julie 1996 dat dit gou een van die gewildste stukke in Sarie geword het. "Nooit een dag was 'Dagboek' laat of afwesig nie, behalwe in die maande na die tragiese motorongeluk op 2 Mei 1967 waarin haar man, Andries, oorlede is en sy self ernstig beseer is. Enkele maande daarna het sy dit weer hervat met die roerende stuk ’nogtans sal ek jubel', en dit nog ’n hele paar jaar volgehou." Gedagtes oor haar verlies bundel sy in Om die son te aanskou.

Audrey se broer Ken is ook in hierdie tyd oorlede, aan ’n gewas op die brein. Na die motorongeluk waarin Andries oorlede is, was Audrey in ’n koma en kon sy nie eens Andries se begrafnis bywoon nie. Haar suster, Yvonne, is na ’n ernstige siekbed oorlede, maar by al die ongeluk is daar ook geluk. In 1970 trou Audrey met Attie de Villiers, vir wie sy 33 jaar vantevore ontmoet het toe hy vir haar ’n vervolgverhaal vir Die Huisvrou geskryf het. Haar ander groot plesier is haar kleinkinders Andries, Fritz en Adré. Andries is egter ’n klompie jare gelede tragies oorlede, maar ook hierdie verlies verwerk sy na "’n dieper en groter waardering vir die lewe". Daar is ook twee agterkleinkinders.

In 1955 word Audrey se essays wat in Sarie verskyn het, gebundel in In klein maat. Nog bundels is deur die jare gepubliseer – die een so gewild soos die ander. Hierdie eerste bundel is twee keer deur Nasionale Boekhandel geweier en dit was eers toe Recht Malan, destyds grootbaas van Nasionale Pers, hoor dat Struik dit gaan publiseer dat hy Audrey versoek het om dit tog maar by hulle te laat uitgee.

Audrey word in 1960 redakteur van die reeks Juweelnovelles, ’n reeks boeke wat uit die wêreldletterkunde in Afrikaans vertaal is.

Audrey se liefde vir boeke is vir haar een van die heel belangrikste dinge in haar lewe en haar liefde vir die poësie ’n hartstog. In 1966 is sy en Andries op ’n wêreldreis en in haar bundel essays Die verlange loop ver (1969) beskryf sy hoe sy oral in die voetspore van skrywers en digters geloop het. In Ierland het sy Yeats se eenvoudige graf gaan opsoek, in Rome op Keats se spore gegaan, en op die Aran-eilande dié van Synge gevolg. In Rapport van 19 Desember 1993 vertel sy vir Hanlie Retief dat sy elke Oujaarsaand Ralph Waldo Emerson se essays van die solderrak haal. "Daar's een essay, 'Compensation', van hoe die lewe gebou is op wins en verlies. Vir alles wat ’n mens wen, verloor jy ook iets. Ek lees dit Oujaarsaande, want ek voel dit bepaal my lewe. Dis al voos onderstreep."

Audrey se ma het haar aan Emerson bekendgestel en baie jare later het sy Emerson se herkoms gaan opsoek in Concorde, in Massachusetts in Amerika: "Ek het sy kleinseun daar ontmoet. Hy't my na sy oupa se graf geneem, op ’n heuweltjie. Dit was die mooiste grafsteen wat ek nog gesien het, van rooskwarts. Ek het ’n plantjie op sy graf gesit, toe sak die potjie af in die sneeu tot net die groen sprietjies uitgesteek het. En die man haal sy hoed af en sê vir my: 'To think that you've come from South Africa to put a plant on my grandfather's grave.'" (aan Hanlie Retief)

In 1985 verskyn Die goue vreugde, ’n bloemlesing uit haar lewenslange omgang met boeke. Met die viering van haar tagtigste verjaardag verskyn Dit reën rose: beeld van ’n kindertyd en Mal Hansie en ander verhale, wat saamgestel is deur Elize Botha en Hennie Aucamp. Hennie Aucamp skryf ook die voorwoord vir Dit reën rose. In die 1990's behartig sy ’n reeks in Insig oor die wêreldletterkunde en hierdie besprekings word in 1993 gebundel onder die titel Die eindelose avontuur.

Audrey presteer op vele gebiede en die akkolades het nie agterweë gebly nie. In 1961 ontvang sy die Eugène Marais-prys vir In klein maat en Die vrolike lied en in 1965 die WA Hofmeyr-prys vir Met ligter tred. In 1980 word die Italiaanse Adelaide Ristori-prys aan haar toegeken. Die Adelaide Ristori-kultuursentrum in Rome ken elke jaar vyftig pryse toe aan vroue dwarsoor die wêreld op grond van die leidende rol wat die persoon in die kultuurlewe speel en die wyse waarop sy haar in ’n bepaalde werkskategorie onderskei het. In 1982 ontvang sy ook die Dekorasie vir Voortreflike Diens van die Suid-Afrikaanse regering. In 1988, tydens die 150-jarige bestaan van haar geboortedorp, Bredasdorp, ontvang sy ereburgerskap van die dorp. Die Universiteit van Stellenbosch vereer haar in 1990 met ’n eredoktorsgraad en in 1994 ontvang sy ook erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy was ook die eerste vrou wat tot die fakulteitsraad van die Akademie verkies is en was lank lid van die letterkundige kommissie wat onder meer jaarliks die Hertzogpryswenner moet aanwys.

Die Klub van Oud-Studenteraadsvoorsitters van die Universiteit van Stellenbosch se Prestige-toekenning vir voortreflike diens aan die Universiteit en die Suid-Afrikaanse gemeenskap word in 1997 aan Audrey toegeken. Dit is die hoogste nie-akademiese toekenning wat aan ’n oud-Matie gegee kan word. Haar kleindogter, adv Adré Heese, het dit namens haar ontvang. Vir haar uitstaande bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek en literatuur word die ATKV se Prestige-toekenning van 2000 aan haar gegee op grond van die feit dat sy danksy haar unieke bydrae ’n legende in die Afrikaanse skrywerswêreld en in die joernalistiek is. Na afloop van die KKNK in 2005 word sy ook vereer met die Kanna-Insig-prys vir haar lewensbydrae tot Afrikaans, asook vir haar lewenslange passie vir die Afrikaanse boek en die vestiging van die leeskringkultuur onder Afrikaanse lesers.

Veral Audrey se bydrae tot die vestiging van ’n leeskringkultuur in Suid-Afrika kan nooit onderskat word nie. Sy het talle leeskringe landwyd help stig en om in hierdie vraag te voorsien, publiseer sy in 1980 ’n handleiding vir leeskringe getiteld Van leser tot leser. Sy vertel in ’n onderhoud met Cas van Rensburg in Insig van Augustus 1996 dat toe sy sewe was, haar pa haar gekry het dat sy sit en huil omdat sy nie kan lees nie. "My pa het ’n vreemde uitdrukking in sy oë gekry, so asof hy iets begryp, en ek is dadelik skool toe gestuur. Ek is destyds uit die skool gehou weens die dood van my sustertjie. Ek onthou nog toe ek my eerste leesboek kry, kon ek nie wag om te begin lees nie. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar op ’n dag kon ek lees. Op pad van die skool af het ek vir Michael, die tuinier, by die voorhekkie teengekom, en ek het gesê: 'Michael, ek het my boek. Ek kan lees.' Ek het hom net daar teen die muur staangemaak en begin lees."

So het die verhaal van Audrey en die boek begin. En vandag staan sy bekend as die vrou wat, in Hennie Aucamp se woorde, die Afrikaner aan die lees gehou het. In 2000 skryf Marlene van Houwelingen in Die Burger (2 Junie): "Audrey is ’n boekemens, wat jou pad onmeetbaar verruim, wat jou tot ontwaking en selfontdekking lei. ’n Vrou wat gul en gasvry haar vriendskap soos ’n rooi granaat aan ons gee."

In 1992 verhuis Audrey en Attie van hulle huis in Kampsbaai na ’n aftree-oord in Tuine in die Kaap. Die afskeid van die huis waarin sy vir 32 jaar gewoon het – 23 daarvan saam met Attie – was vir haar ’n "geweldige aflegging". Sy vertel aan Jacqueline Leuvenink (Rooi Rose, 20 Oktober 1993): "Ek het besluit om alles, van minnebriewe tot manuskripte, te gee aan die Universiteit van Stellenbosch, wat ’n eredoktorsgraad aan my toegeken het." Haar vriendin Annie Schumann, wat haar kom help uitsoek het, vertel (Rooi Rose, 20 Oktober 1993): "Audrey het met haar verstand besluit die trek is noodwendig. Maar sy kon nie voorsien watter emosionele uitwerking dit sou hê om veral van haar boeke afskeid te neem nie. Elke boek het vir haar iets beteken. Dit was om ’n hele lewe in oënskou te neem."

Nadat die mense van die universiteit Audrey se huis met die derde vrag boeke vertrek het, was dit vir Audrey asof sy doodgegaan het. Annie het probeer om haar te troos en het ’n digbundel van die Nobelpryswenner, Derek Walcott, gevind en "[sy] het net daar, tussen die stof, op een van die trommels gaan sit en begin lees."

In 2001 is die Audrey Blignault-katalogus deur die Universiteit van Stellenbosch amptelik deur die rektor, prof Andreas van Wyk, aan Audrey oorhandig. Dit is ’n vierdelige katalogus in rooi leer gebind wat die storie van die loopbaan en lewe van Audrey Blignault vertel.

Haar vriendin Petra Müller vertel in 1996 (Die Burger, 6 Julie): "En as hulle afsit, sit hulle af Waenhuiskrans toe, na die strandhuis. 'Laat ek jou vertel,' jil Audrey. 'Ons het ’n nuwe huishulp daar, Violet. Violet kan nie kook nie, nou leer Attie vir haar oor die kospotte: doen so en maak sus. Ek kan mos niks met my hande doen nie. Nou trek Violet haar gesig op ’n plooi en sy sê vir Attie: 'Wat van daardie ouvrou wat daar op die stoep sit, kan sy dan nie kook nie?' 'Los jy die ouvrou op die stoep,' sê Attie, 'sy kan haar eie ding doen.' En Audrey se stout oog straal. Ka! lag sy haar eksplosiewe lag. Boem! Skiet die twaalfuurkanon dieselfde oomblik oor die koue stad. En sy staan op en skink vir ons ’n goudgeel sjerrie. Wat gloei van eie lewe, nes syself."

In 2000 bied Joanie Combrink, Susanne Beyers en Johann Nel ’n program, Drafstap of drentel, aan, ’n program met woordkuns en poësie wat geskoei is op Audrey se werk. Tydens die Woordfees in Maart 2004 op Stellenbosch is Audrey se bydrae tot die Afrikaanse boek- en leeskultuur gevier met ’n program wat deur Amanda Botha en NALN saamgestel is. By hierdie geleentheid praat haar dogter, Marié Heese, ’n skrywer uit eie reg, oor haar ma. Sy vertel: "Ek wil vir u in alle eerlikheid sê, sy was soms ’n liability. Die kind wat gou-gou in Sub A leer lees het, maar wie se naaldwerk Miss Clarke in die snippermandjie gegooi het, het ’n ma geword wie se hande vir omtrent alles verkeerd gestaan het. Daar was die episode met my skoolhoed in die primêre skool. Ons het sulke Panama-hoede gedra en daar moes rek aan vasgewerk word. Maar my hoed se rek het permanent makeer, want my ma kon dit nie aanwerk nie en ek ook nie, want wie moes my leer? Toe word ek op ’n dag gestraf oor my reklose hoed. Kom in trane by die huis aan. My ma voel ontsettend sleg. Sy kommandeer iemand op om die rek vas te werk – seker my tante Yvonne wat baie prakties was – en sy gaan sit en skryf ’n brief vir die onderwyseres. Die volgende dag is ek skool toe, met hoed en brief. Die onderwyseres lees die brief en sê vir my: 'Well, my dear, your mother may not be able to sew, but she writes a very eloquent letter.' [...] En tog. En tog. Natuurlik was dit ’n lewenslange verryking en ’n vreugde om so ’n ma te hê. Dieselfde liefde en waardering vir boeke wat Audrey by haar ma gekry het, het ek weer by haar gekry. Wanneer ek soggens aan die ontbyttafel kom sit het, wat het sy gedoen? ’n Eier gebak? Nee. Pap gekook? Nee. Toebroodjies gemaak? Ook nie. Nee, sy het vir my gedigte gelees. Tydens ontbyt, want netnou gaan sy werk toe. Ek kry nie ’n eier nie, maar ek kry, byvoorbeeld, die versamelde werke van Charlotte Mew toe dit in 1953 verskyn het. [...] My ma het my geleer van toewyding aan ’n lewenstaak – toewyding wat nie toe en ook nie nou soek vir dankbetuigings en eerbetoon nie. Sy het my geleer van volgehoue diensbaarheid, deurlopende selfkritiek en filosofiese refleksie. Bowenal het sy my geleer, soos sy generasies van mense in Suid-Afrika geleer het, om boeke lief te hê. En daarvoor sê ek, dankie Ma."

In 2008 bied Saartjie Botha ’n program oor Audrey aan met die titel Audrey. Coba-Maryn Wilsenach is die speler in hierdie eenvroustuk. Deborah Steinmair skryf hieroor: "Die prentjie wat voor ons oë vorm aanneem, stem ooreen met die stem in Blignault se oeuvre: ’n mens van onblusbare lewensblyheid, entoesiasties en bekoorlik soos ’n dogtertjie, met ’n ondersoekende gees en ’n hekel aan hoogdrawendheid."

Ook in 2008 verskyn Blywende vreugde: briewe van Audrey Blignault, saamgestel deur Lynne Fourie en Marina Brink met die medewerking van Petrovna Metelerkamp. Petrovna stel dit so reg as sy sê dat Audrey die hele spektrum van ménswees oopgeskryf het. Die eerste oplaag is vinnig uitverkoop en die boek word tans herdruk.

Op 1 Oktober 2008 is Audrey in die ouderdom van 92 jaar in ’n hospitaal in Kaapstad oorlede. Dr Izak de Villiers het die begrafnisdiens waargeneem. Die teksvers was Job 32:8: "Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom ...". In 1993 in ’n onderhoud met Jacqueline Leuvenink in Rooi Rose het sy genoem dat dié teks vir haar die wonderlikste teks in die Bybel geword het: "Daardie Gees in die mens, glo ek, is die vermoë wat deur God aan ons gegee is om onsself te vernuwe solank ons leef."

Die huldeblyke het ingestroom: 

  • Daniel Hugo: "Toe ek in 1991, om haar 75ste verjaardag te vier, ’n hoorbeeld oor die lewe van Audrey Blignault maak, het sy gesê dat sy eintlik drie lewens gehad het. Eers was sy Audrey Swart, toe Audrey Blignault en uiteindelik Audrey de Villiers. In haar eerste lewe het sy op Bredasdorp in die Overberg grootgeword en op Stellenbosch gestudeer, in die tweede was sy ’n joernalis en die vrou van ’n skoolhoof wat later ’n mediese dokter geword het, en in die derde ’n gevierde skryfster en die vrou van ’n parlementsamptenaar wat haar literêre belangstelling en liefde vir die helder kleure van die lewe gedeel het. Audrey Blignault het nou haar vierde lewe binnegegaan: dié een waar sy bly voortleef in haar boeke en in die harte van haar tallose lesers en bewonderaars." (Die Burger, 3 Oktober 2008)
  • Danie van Niekerk: "Ek glo niemand ná Langenhoven het meer gedoen om die boekkultuur by Afrikaanse mense te bevorder as Audrey Blignault nie. Dit het sy op baie maniere gedoen: met haar uitsaaipraatjies, haar persoonlike optredes ... maar veral met die boeke wat sy geskryf het en wat haar een van die topverkopende Afrikaanse skrywers gemaak het. [...] Sy was een van die mees belese mense wat ek teëgekom het, iemand wat steeds met drif en oorgawe oor ’n nuwe digter, of oor ’n verrassende nuwe roman kon praat en skryf." (Die Burger, 3 Oktober 2008)
  • Izak de Villiers op haar begrafnisdiens: "Audrey Blignault het begrip gehad van waar háár asem, haar insig, vandaan kom. Daarom het sy dié teksvers (Job 32:8) as begrafnisvers gekies. [...] Sy het ook die gees gehad van humor, en humor is insig. Jy moet kan lag, want die lag is ook heilig, En sy't heerlik met haarself gespot, ook met haar lyf en haar step-in. Soos MER ’n moeder van die volk was, was Audrey ’n suster vir die volk, ’n suster vir elkeen, ’n vriendin, ’n helder ster. En ’n ster lei, soos in Bethlehem. [...] Jy was ons almal se suster, almal se ma, almal se maat. Jy was Audrey, uniek, want God het nie baie van jou soort gemaak nie. Ons groet jou." (Volksblad, 7 Oktober 2008)
  • Petrovna Metelerkamp: "Een van Suid-Afrika se groot geeste: opreg nederig, en hardwerkend toegewyd aan haar groot liefde en lewenstaak: die woord." (LitNet)
  • Nettie Pikeur: "In haar kinderjare op Bredasdorp het ek altyd ’n nuwe maat gevra: 'Wat droom jy as dit op die dak reën? Hou jy van kool? Sal jy onder die volmaan kaal dans?' [...] Audrey Blignault het kaal onder die volmaan gedans, haar lewe lank. Dis dié dat sy bykans ’n eeu gelewe het." (LitNet)
  • Marié Heese: "My ma was ’n baie lekker ma. Sy het altyd opreg gedink ek is wonderlik." (Volksblad, 7 Oktober 2008)
  • Amanda Botha: "Dit was ’n feesdiens om Audrey as mens te vier en haar omhelsing van die lewe opnuut te waardeer." (Volksblad, 7 Oktober 2008)
  • Melt Myburgh: "Met Audrey Blignault se afsterwe is die Afrikaanse letterkunde ’n formidabele veldwerker armer. Dié besondere vrou se volledige nalatenskap is moeilik meetbaar, want die omvang daarvan was reusagtig. Mens besef nie werklik watter invloed sy met haar entoesiasme en ywer op die leeskultuur van Afrikaanse mense gehad het nie." (LitNet)
  • Mike de Vries (by die aankondiging dat die US ’n eredoktorsgraad aan Audrey Blignault toegeken het): "As Langenhoven die Afrikaner leer lees het, het Audrey Blignault gesorg dat hy aan die lees bly. Sy verteenwoordig die 'ewige' waardes waarop beskawing gebou is: kennis, verdraagsaamheid en respek vir alle prestasies wat sin aan ons menslike bestaan gee." (Die Burger, 22 November 1990)
  • Willemien Marais: "In die week van haar dood ontdek ek die skryfwerk van Audrey Blignault. Ja, wat ’n skande, ek weet. Maar dit het nou maar so gebeur dat ek nog nooit voorheen enigiets van haar gelees het nie. (...) ’n Rukkie terug kan ek een aand nie slaap nie. (...) Ek staan voor die boekrak en soek iets wat my vaak sal maak. (...) Toe sien ek die Audrey Blignault-boek raak. Op die voorblad van Met ligter tred huppel iets wat na ’n perd lyk. ’n Uur later lê ek wawyd wakker en giggel soos iemand wat teeblare snuif. Tannie Audrey is onverwags snaaks en baie skerp. (...) Een van my gunsteling-uitdrukkings in Afrikaans is husse met lang ore. Die husse is al klaar iets – hoekom nou juis lang ore? Hoe meer ek daaroor dink, hoe snaakser raak dit. Tannie Audrey skryf dat ons almal ons eie husse het. Nie eksotiese grênd goeters nie, net jou husse. Hare, sê sy, is ’n pakkie gekleurde rekkies, ’n kort liniaaltjie, ’n rolletjie tou en ’n paar skuifspelde. Myne, dink ek, is my wekkertjie, ’n potjie Vaseline, en my gekraakte rooi memory stick. Sommer net goetertjies waarin ek my kan verheug vir geen goeie rede nie.

"Tannie Audrey sê ’n mens kan 'maar met ’n geruste gemoed jou paar ou hussies vertroetel, jou in hul hussigheid verkneukel en sommer so alleen-alleen hul lang ore streel'. My hele slaappoging was in sy glory. En nou dat ek daaroor dink, voeg ek Met ligter tred van Audrey Blignault ook by my versameling husse. Ek sal meer gereeld oor hul lang ore streel. Ek is spyt ek het so lank gewag." (Volksblad Jip, 13 Oktober 2008)

In Die Burger (22 November 1990) skryf Joan Hambidge as volg oor Audrey Blignault en haar skryfwerk: "Daar is min mense wat sulke onderhoudende essays as Audrey Blignault kan skryf. ’n Puik hantering van Afrikaans, ’n warm humorsin en diepe menslikheid is die kenmerke van al haar stories en vertellinge. Gaan kyk maar gerus na haar essays. Dit is nie net vir verveelde huisvrouens bedoel nie. Daarvoor is dit te slim geskryf. Maar Audrey Blignault word binnekort vereer vir haar kritiese bydrae. In die maandblad Insig verskyn daar die afgelope jaar of wat ’n literêre rubriek uit die pen van hierdie grande dame van die Afrikaanse letterkunde. Sy skryf onderhoudend en ingelig oor Groot Boeke in die wêreldletterkunde. (...) Vir Audrey Blignault se vermoë om die tydsgees telkens korrek te interpreteer én sulke boeiende en toeganklike rubrieke te skryf, hierdie eulogie."

By die bekendstelling van Die eindelose avontuur in November 1993 het Hennie Aucamp só oor Audrey Blignault gesê: "Dis waarskynlik MER wat die begrip 'gewers' algemeen in omloop gebring het met haar verhaalbundel Die gewers van 1950. Audrey Blignault sluit by ’n lang tradisie gewers aan; by mense wat kennis, liefde en goedheid aan hul gemeenskappe geskenk het.

"Kyk ’n mens terug op haar lewe, val dit jou op dat sy letterkunde, en kultuur in die algemeen, met ’n bykans heilige geesdrif in sirkulasie gehou het, en nog steeds hou, soos Die eindelose avontuur opnuut bewys. "Maar dis nie net letterkunde wat sy in sirkulasie hou nie; dis ook ’n waardestelsel: ’n geloof in dít wat bo die oomblik uitgaan en die mens help om sy oog op ’n ster gerig te hou, al staan hy ook kniediep in die modder."

"MER het dikwels besin oor die krag wat in en deur sommige mense werk. Ook in haar outobiografie, My beskeie deel, filosofeer sy oor dié kwessie. Nêrens in haar oeuvre stel sy dit so duidelik nie as in haar jeugboek, Die oorwinnaar, waarin sy verhale oor pres Steyn vertel. Sy het dit soos volg verduidelik:
’nou en dan ontmoet jy in jou lewe ’n besonder mens, man of vrou, by wie jy iets gewaar word. Jy word gewaar dat daar deur hulle ’n besonder krag loop wat iets goeds en heilsaams vir die mense bring. Ek sê deur hulle: die krag het nie in hulle sy oorsprong nie, maar kom elders vandaan. Ek dink dit is Gods krag, en dat dit in hierdie seldsame mense ’n geskikter deurloop kry as in die algemene mense.'

"As ’n volk in die woestyn is soos die Afrikaner nóú, het hy behoefte aan sieners en aan weters. In Audrey Blignault het die Afrikaanse kultuurgemeenskap ’n aangewer van formaat." (Beeld, 19 November 1993)

Oor haar grootste vreugdes in die lewe het Audrey Blignault aan Suzette Truter in Sarie (14 Julie 1999) vertel: "Ek is bewus van die kortstondigheid van my dae; ek kan dit nie negeer nie. Mense kla so maklik oor die ouderdom, maar ek sou reken ’n soort beskoulike uitlating af en toe sal ook goed wees."

"Attie is my grootste vreugde. Ons het baie plesier aan mekaar. Hy is ’n intellektueel, ’n goeie gespreksgenoot. Skryf gee my genot. Ek hou steeds dagboek, my lewe lank, oor ervarings, aanhalings wat my tref. Boeke bly ’n vreugde; daarsonder kan ek nie. Die wonder van boeke as teenspoed jou tref, is dat jy altyd kan herroep wat jy gelees het. Toe ek onlangs baie siek was, is ek onder meer vir ’n breinskandering, om vas te stel wat skort. Toe hulle my in daardie donker buis instoot, het ek net my oë toegemaak en Keats se 'Ode to a nightingale' vir myself opgesê: My heart aches, and a drowsy numbness pains my sense, as though of hemlock I had drunk ..."

Audrey Blignault se geloof was deur haar lewe een van haar belangrikste eienskappe. Sy het aan Hanlie Retief (Rapport, 19 Desember 1993) verduidelik: "Verwagtinge, als wat mens nog kan hoop, word bepaal deur die jare wat jy reeds geleef het. En vorentoe, wat ook al vir my voorlê, wil ek dit met waardigheid tegemoet gaan. Of eintlik met moedigheid. As jy in God glo, moet jy tog glo dat daar ’n plan is met jou lewe, nè, en dus kan jy nie te aanmatigend wees nie. Ons kan maar net probeer om die begrip genade te verstaan, in die hoop dat dit vir hou genoeg sal wees."

"Die Bybel is vir my die wonderlikste boek. Dit is onuitputlik, dis onoortreflike letterkunde, veral die Ou Testament. Dink maar aan daardie allegorie van Jona in die engte van die vis. Sy gebed oor hoe hy afgedaal het na die dieptes, met seewier om sy nek gedraai, oor hoe die Here hom gered het uit die engte om Sy heilige aangesig weer te aanskou ... Dis ’n wonderlike renaissance, hierdie man wat in die donker dieptes was."

"Ek dink vrede is die geleidelike bewuswording van wat goed is in jou lewe. Ek dink dis dit. Dat jy die goeie herken, dat jy God op daaardie manier in jou lewe inseël."

 

Publikasies

Publikasie

Die uitdaging van die huwelik

Publikasiedatum

[19–]

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Godsdienstige lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Met eenheid van hart

Publikasiedatum

[19–]

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Godsdienstige lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

In klein maat: uit die dagboek van ’n vrou

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1956
  • 1958
  • 1960
  • 1963
  • 1966
  • 1968
  • 1969
  • 1970
  • 1975

ISBN

0624006220 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

CNA-prys 1961

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vrolike lied

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1960
  • 1961
  • 1966
  • 1968
  • 1969
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

CNA-prys 1961

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die dammetjie en ander sketse en essays. Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde, Elise Muller, MER, Rykie van Reenen

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1961
  • 1962

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Met ligter tred

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1964
  • 1965
  • 1966
  • 1967
  • 1970
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1965

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die blye dae

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1966
  • 1969
  • 1978

ISBN

0634001016 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die plesierboom

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1968
  • 1969
  • 1971
  • 1973
  • 1991 (Grootdruk)
  • 1994

ISBN

  • 062400094X (hb)
  • 0795924100 (hb)
  • O624033465 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Daan Retief
  • Kaapstad: Ametis

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om die son te aanskou

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1970
  • 1978

ISBN

0624001040 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verlange loop ver

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1971
  • 1978

ISBN

0624003191 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die rooi granaat

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1971
  • 1974

ISBN

0624005119 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die wind van die see af

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624002799 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nogtans sal ek jubel: 30 essays en vertellings, saamgestel deur Elize Botha

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1985

ISBN

  • 0624010546 (hb)
  • 0624023095 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Pasop vir Jantatarat

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1981
  • 1988

ISBN

  • 0624013138 (hb)
  • 0624026469 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Van leser tot leser: ’n gesprek met leeskringe

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624015130 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Handleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die goue vreugde: ’n keur uit jare se leesgenot

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118458 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human ’n Rousseau

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oulap se rooi: 32 essays tot lof van blydskap, ingelei deur Berta Smit

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624026957 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Groet van Audrey

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031845 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays (beperkte oplaag van 350 vir ’n spesiale huldigingsgeleentheid)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die eindelose avontuur: ’n venster op die wêreldletterkunde

Publikasiedatum

  • 1993
  • 1994

ISBN

0624032132 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dit reën rose: beeld van ’n kindertyd. Inleiding deur Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034844 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mal Hansie en ander verhale: ’n keuse deur Elize Botha en Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034771 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Blywende vreugde: briewe van Audrey Blignault. Saamgestel deur Lynne Fourie en Marina Brink met Petrovna Metelerkamp

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780620405768 (hb)

Uitgewer

Hermanus: Hemel ’n See Boeke

Literêre vorm

Briewe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die eindelose avontuur: ’n venster op die wêreldletterkunde

Publikasiedatum

  • 1993
  • 1994
  • 2020

ISBN

0624032132 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dit reën rose: beeld van ’n kindertyd. Inleiding deur Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034844 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mal Hansie en ander verhale: ’n keuse deur Elize Botha en Hennie Aucamp

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2020

ISBN

  • 0624034771 (hb)
  •  9781485312536 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Blywende vreugde: briewe van Audrey Blignault. Saamgestel deur Lynne Fourie en Marina Brink met Petrovna Metelerkamp

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780620405768 (hb)

Uitgewer

Hermanus: Hemel ’n See Boeke

Literêre vorm

Briewe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met  my rooi rok voor jou deur. Saamgestel deur Lana Burnett

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780624091424 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Audrey Blignault as samesteller

  • MER: Kom nader: ’n keur uit die werke van MER; saamgestel deur Alba Bouwer, Audrey Blignault en Rykie van Reenen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1965
  • Goedgeluk: verjaardagalbum; saamgestel deur Audrey Blignault en Alba Bouwer.- Kaapstad: Tafelberg, 1969, 1988

Audrey Blignault as vertaler

  • Partridge, Jenny: Kolonel Knor. Kaapstad: HAUM, 1981
  • Partridge, Jenny: Mnr Skeel. Kaapstad: HAUM, 1981
  • Partridge, Jenny: Sarel Snuifmeel. Kaapstad: HAUM, 1981
  • Partridge, Jenny: Springjan. Kaapstad: HAUM, 1981

Artikels oor Audrey Blignault beskikbaar op die internet

Artikels deur Audrey Blignault beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Audrey Blignault (1916-2008) appeared first on LitNet.

Christoffel Coetzee (1945–1999)

$
0
0

Gebore en getoë

Christoffel Coetzee is op 10 November 1945 gebore en word in die Oos-Vrystaat groot. Sy suster, Sara Fouché, vertel aan Jannie Ferreira (Beeld, 17 November 1999) dat hy in ’n gelukkige en bevoorregte gesin grootgeword het. Sy pa, Kobus, en sy oupa, na wie hy vernoem is, was albei boere in die distrikte Smithfield en Wepener en later langs die Caledonrivier in die distrik Rouxville. Sy oupa het ’n leidende rol gespeel in die oprigting van die hospitaal op Smithfield. Sy pa was ’n besproeiings- sowel as ’n merinoboer.

Sy ma was Susara Bruwer, die enigste kind van Danie en Anna Bruwer, ’n boere-gesin wat in die Wepener-distrik gewoon het. Anna was ’n nooi Roos van Bethlehem en dit was haar ma wat tydens die Anglo-Boereoorlog self haar huis afgebrand het en onder ’n krans gaan woon het.

Sy ma se kinderjare was bra eensaam en dit kon dalk een van die redes gewees het dat hulle besluit het om ’n groot gesin te hê – teen die raad van die dokters wat hulle meegedeel het dat hulle nie kinders kon hê nie. Christoffel was die oudste van agt kinders. Daarna het nog vier broers en drie susters gevolg.

Tydens ’n onderhoud met Elmari Rautenbach (Boekewêreld, 1 Julie 1998) het Coetzee vertel dat sy ma ’n Libanees was – "[in] daardie jare in die Vrystaat is ons op politieke, sosiale, selfs kerklike vlak verstoot." Sy suster, Sara, het egter aan Jannie Ferreira vertel dat hierdie storie ver van die waarheid was.

Sara het vertel dat die verwerping wat Christoffel as laerskoolkind beleef het, verband gehou het met sy pa se politieke sienings en nie met sy kamtige Libanese afkoms nie: "As buitestaander van die NP Afrikanerstrukture het sy pa hom onder meer skerp uitgelaat oor onreg in die samelewing, byvoorbeeld oor prysbevoordeling van seker boere met die onteiening van plase vir die bou van die Welbedachtdam en begunstiging by die toekenning van Landbanklenings. Verder het sy pa later by die Vrymesselaars aangesluit en ’n senior lid in die Suidoos-Vrystaat geword. Dit het hom in elitistiese Afrikanerkringe ongewild gemaak en Christoffel het hom dit as jong seun sterk aangetrek."

Sara vertel verder: "Oor sy groot ouergesin het Christoffel hom as jong seun geskaam. Wanneer die Ford stasiewa met Pa en Ma en die agt kinders deur die dorp ry, het die oudste seuns dikwels plat gelê. Wanneer die gesin in Bloemfontein inkopies doen, het die oudste twee agterna gedros en gemaak of hulle nie deel van die voorste groep is nie."

Christoffel vertel aan Elmari Rautenbach dat hy wel baie bevoorreg grootgeword het. "My pa was ’n merkwaardige man. Hy het ons met boeke grootgemaak: Faulkner, Marx, Dickens."

Christoffel matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Christoffel na die Universiteit van Stellenbosch vir sy naskoolse opleiding en drie van sy broers en twee susters volg hom na dieselfde universiteit. Hy behaal sy nagraadse kwalifikasie in politieke wetenskap en as Rhodes-beurswenner studeer hy aan die Universiteit van Oxford in Engeland.

In 1988 voltooi hy met lof sy M.A.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met ’n verhandeling oor die Amerikaanse filosoof Willard Orman Quine met die titel The received view of scientific theories: the immediate background to the philosophy of Quine – ’n studie wat hy nou wou opvolg met ’n doktorsgraad.

Hy werk en doen navorsing in Londen en in Oxford voordat hy aan verskeie universiteite doseer. Tydens sy verblyf in Londen was hy ook ’n navorsingsassistent aan die London School of Economics.

Na sy oorsese studie het hy hom in 1992 in Windhoek gevestig, waar hy eers argivaris is by die Staatsmuseum en toe vir lank joernalis by Times of Namibia en daarna The Windhoek Advertiser, vir wie hy die gereelde rubriek "Devil’s Advocate" skryf. Wanneer hierdie koerant geldelike probleme ondervind, is hy in 1997 afgedank en was hy vir ’n ruk verbonde aan ’n konsultasiemaatskappy in Windhoek. 

Etlike akademiese werke het ook uit Coetzee se pen verskyn. Die Universiteite van Durban-Westville en die Witwatersrand het vir baie lank gebruik gemaak van sy boek Mathematical logic, a concise introduction to modern logic and its techniques terwyl The Cape Nguni peasantry 1850-1890: towards the reconstruction of the self-image of an age beskou kan word as ’n gesaghebbende geskrif oor die Nguni-volk. (Die Burger, 20 Julie 1999)

Christoffel het in die sewentigerjare die Oxford Poetry Prize gewen en Claire, sy vrou, vertel dat hy nooit opgehou dig het nie.

In 1998 word Op soek na generaal Mannetjies Mentz by Queillerie Uitgewers gepubliseer, en onmiddellik maak dit sy merk op die Afrikaanse letterkunde-toneel. Dit word bekroon met die De Kat-Sanlam Romanwedstryd se eerste prys in 1998, sowel as die Eugène Marais-prys en die M-Net Boekprys in 1999. Hy was redelik beskeie oor die De Kat-Sanlam-prys. Herman Wasserman (De Kat, Oktober 1997) wou by hom weet hoe hy daaroor voel: "Wel, ek het die geld nodig, want ek het lank daaraan gewerk – vyf jaar. Ek skryf maar stadig."

Die leser ontmoet in die verhaal vir Mannetjies Mentz en sy wraakkommando, vir Ounooi, die bekkige Soph, Japie wat vertraag is, Aunt Jane en Jan Witsie en sy mense – almal wat na die Skuiltes getrek het om van die Engelse te ontsnap.

Op Goodreads word die storie van Mannetjies Mentz só opgesom: "Daar loop gerugte van twee honde en ’n jakkals, gruwelike gediertes, wat snags vreet aan mens en dier in die poorte deur die berge van die Brandwaterkom. Dis waar die Vrystaatse magte futloos aan die Engelse oorgegee het. Waar iemand die Kakie-eskorts in die poorte voorlê en wreedaardig straf – maar ook die hensoppers, tot selfs die pakdiere.

"Drie Boere loop aan die spits van dié geheime Wraakkommando: die dierlike haaslip Niemann, die geslepe Voss en hul ontsagwekkende leier, Mannetjies Mentz. Deur hulle kom talle burgers weer vry om voort te veg.

"En in spelonke hoog teen die berg leef Boervroue en -kinders die Anglo-Boereoorlog deur. Ma, die onverbiddelike. Aunt Soph, die roekelose. Ounooi met die groot ore. En aunt Anne, die ontluikende. Hulle plaas het hulle self laat afbrand, en ’n onderlinge verdrag laat gedy hulle daar saam met Jan Witsie en sy half-Basotho, half-Griekwa mense.

"Maar dis die verkeerde tyd vir Anne om te blom toe Mentz se burgers die gevange jong Kakie-luitenant daar los – verlief soos sy is, en blind vir die onvermydelike: dat die burgers sal terugkom, en dat hulle bloed sal soek. En so word nog ’n konflik gebore, want Soph se eie broer, blink Frans Naudé, is deel van daardie Wraakkommando."

"Botsing en hartstog, ontrou en lotsverbondenheid tussen Boer en Brit, wit en swart, mens en dier … Die mengsel is ryk en kragtig in hierdie verhaal wat diep en ver loop deur Afrika: tot onder sy skoonste berg, Kilimandjaro, en tot in die skadu van die grootste oorlog, in die middel van die vorige eeu."

André P Brink sê dit is ’n manuskrip wat al die beoordelaars van die wedstryd "uitgeboul het". Hy meen dat dit "stof en kruitdampe deur hierdie gaan land laat trek. Dit keer die Anglo-Boereoorlog op sy kop en dwing ons om op ’n nuwe manier na daardie oorlog te kyk. Dit is nie bloot ’n debunking nie, maar ’n blik op wat geskiedenis beteken, hoe geskiedenis geskryf word." (De Kat, Oktober 1997)

Christoffel het dit aanvanklik in Engels geskryf, maar later – asof vanself – na Afrikaans oorgeslaan. "Ek is nie ideologies ’n Afrikaner nie, maar daar was ’n dwingendheid om in Afrikaans te skryf. Ek was self verbaas toe Afrikaans oorgeneem het. Ek praat Afrikaans, maar het nog selde in dié taal geskryf. As joernalis het ek in Engels geskryf. Ek is nie skaam om in Afrikaans te skryf nie, want die taal is nie meer so eksklusief nie," vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt. (Die Burger, 20 Mei 1998)

Stephanie Nieuwoudt skryf dat Mannetjies Mentz ’n boek is wat fyn gelees moet word. Die inleidende hoofstuk bestaan uit redakteursnotas en voetnotas, maar dit moet nie met werklike gegewens verwar word nie. En dit was ook nie bedoel om die oorlog en die hooffigure van die oorlog te ontluister nie.

Op ’n vraag of die verwysing in die openingshoofstuk, "Ons geslag (gebore 1940–1950) is die laaste wat eerstehands die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse oorlog kon aanhoor", nie die skrywer se manier is om die leser bedag te maak daarop dat hy wel met die waarheid te make het nie, het hy geantwoord dat dit maar net die skrywer se speletjie met sy leser is. "Die roman is uit my duim gesuig. Maar ek gaan nie sê Mannetjies Mentz het nie bestaan nie. Dis ’n fiktiewe karakter, maar dalk is hy ’n saamgestelde figuur."

Hy het neutraal teenoor die Anglo-Boereoorlog gestaan. "Ek wou hê dat die leser verbande moet deurtrek van dié oorlog na die huidige lieg en gebieg. Die WVK het die nuwe leuens en waarhede na vore laat kom. Ek het grootgeword met een waarheid oor die Anglo-Boereoorlog. Ek probeer nie om die geskiedenis te herskryf nie, maar om ’n alternatiewe waarheid te skets, want elke oorlog het ’n skadukant," verduidelik hy aan Nieuwoudt.

Volgens Elize Parker in Sarie (17 April 2002) is die roman die eerste keer toe dit by ’n uitgewer voorgelê is, na die skrywer terugverwys. Die keurder was blykbaar nie in staat om die inleidingshoofstuk in verband te bring met die verhaal nie en was van mening dat die skrywer ’n amateur was. Dus het die keurder die skrywer aangeraai om die verhaal voor te lê aan die plaaslike kerkblad. Hierop was Coetzee se reaksie in ’n radio-onderhoud: "Ek het hulle lekker gefool."

Herman Wasserman (Die Burger, 10 Junie 1998) skryf dat die skrywer van Mannetjies Mentz in die roman by uitstek daarin slaag om die aard van geskiedskrywing beter demonstreer as om ’n betoog af te steek: "Deur die weef van ’n fyn gestruktureerde, streng beheerde verhaal herskryf hy die geskiedenis, subtiel maar treffend en onvergeetlik genadeloos."

"Deur verskillende mense aan die woord te stel, neem ’n verhaal vorm aan oor ’n Wraakkommando wat tydens die Anglo-Boereoorlog onder die leiding van ’n enigmatiese generaal, Mannetjies Mentz, ’n skrikbewind gevoer het wat Boerekrygsgevangenes ge-eskort het deur die berge van die Brandwaterkom." (...)

"Die teks is egter meervlakkig, en daar word baie meer gesê as hierdie korrektief op literêre heldeverering van ’n groep mense wat, so laat die roman ons glo, hulle soms skuldig gemaak het aan die growwe skending van menseregte."

"Deur die inweef van ’n ander verhaal, dié van ’n tragiese romanse tussen ’n Boerevrou en ’n Engelse offisier, word kommentaar gelewer op die waansin van oorlog en hoe dit bande tussen mense verbreek. Daarmee saam hang kommentaar wat subtiel gelewer word op rasseverhoudinge en die mens se verhoudinge tot die natuur."

"Die roman ontmasker egter nie net genadeloos die bose van die oorlog nie, dit toon ook fyn begrip vir die mens, sy weerloosheid, swakheid en skuld, en teken hom met deernis."

"Coetzee skep lewendige, oortuigende karakters en sy dialoog is doelgerig, hoewel soms effens strammerig en gemanipuleerd. Die verhaal is boeiend en spanning word veral gewek deur die weerhou van sekere inligting en die groot rol wat die leser moet speel om betekenis voort te bring." (...)

"’n Mens kan verskeie verhandelinge skryf oor ’n teks so sekuur, vindingryk en meerduidig soos Coetzee s’n. Hoe jy dit ook al gaan lees, dit slaan soos ’n vuishou. ’n Verstommende debuut."

JP Smuts (Oor skrywers en boeke, RSG, 31 Mei 1998) sê dat Coetzee met ’n vaste hand skryf. "Hy is in beheer van nie net sy romanstruktuur nie, maar ook sy medium, en hy slaag daarin om aan sy werk ’n groter resonansie te gee. Romandebute van hierdie gehalte is skaars."

Wium van Zyl sluit sy resensie in Rapport van 9 Augustus 1998 soos volg af: "Op soek na generaal Mannetjies Mentz het daarom alles om die eerste klassieke roman oor hierdie deurslaggewende oorlog te word ... maar niks om die Afrikaanse leser rustig te laat slaap nie."

In The Sunday Independent (2 Augustus 1998) het André P Brink geskryf dat Coetzee se roman merkwaardig is en wel om die volgende: "With breathtaking boldness it barges into territory where angels would fear to tread. But Coetzee is no fool. Making his debut at nearly 60, he shows an uncanny insight into the passions that rule the relationships between fathers and sons, or mothers and daughters, between Afrikaner and English, between black and white, between man and woman. And he controls the unfolding of these passions with deftness and maturity, unflinchingly probing even the darkest recesses of a mind.

"The result is a major contribution, not only to our understanding of a recent past, but to our grasp of the present."

Die roman is verwerk tot ’n verhoogstuk wat in 1999 by die Aardklop-kunstefees sy première gehad het met Ilse van Hemert as regisseur. Ilse en Chris Vorster het die teks ontwikkel, wat gegrond is op die verhoudings tussen die hoofkarakters in die boek. Marthinus Basson was verantwoordelik vir die stel- en kostuumontwerp en Marius Weyers en Sandra Prinsloo het teenoor mekaar gespeel. Die drama is as ’n multimedia-produksie aangebied.

Op Oujaarsdag 1998 trou Christoffel met sy tweede vrou, Claire, nadat hy vroeër van Etta, sy eerste vrou, geskei is. ’n Tweeling, Jacobus en Tharina, is uit sy eerste huwelik gebore. Na sy huwelik met Claire het hy politieke wetenskap aan die Universiteit van die Noorde begin doseer, omdat Claire in Pietersburg gewoon het. Tydens sy dood was hy nog verbonde aan bogenoemde universiteit.

Op 17 Julie 1999 is Christoffel onverwags oorlede in Windhoek, waar hy by sy kinders gaan kuier het. Hy is aangetref met ’n bos sleutels in sy een hand en ’n blom in die ander. Riana Barnard skryf dat dit miskien metafories van sy nalatenskap is.

Huldeblyke:

  • Stephanie Nieuwoudt: "’n Moeilike mens wat nie geskroom het om sy sê te sê nie. Dwarstrekkerig. Iemand wat nie met hom laat mors nie. (...) En dit is dié eienskappe wat aan hom in die jare sestig die bynaam Chris Kommunis besorg het toe hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch was." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Johan Roux, ’n vriend: "’n Rebel, iemand wat dit geniet het om stroomop te wees. Hy was briljant en dit was opwindend om sy vriend te wees. Hy het ’n harde, bedonnerde dop gehad, maar hy was ’n sagte mens wat hom dit aangetrek het as hy gemeen het hy het iemand te na gekom. Hy was skugter en dit het soms as aggressie oorgekom. Ek weet dat joernaliste soms uit onderhoude met hom gestap het – hulle het vir hom kwaad geword omdat hulle hom nie verstaan het nie." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Claire, sy vrou: "Chris was ’n Renaissance-man sonder die sport en fisieke bedrywighede. Hy was ongelooflik kompleks, maar hy was ook gaaf en besonder liefdevol. Hy was ’n wonderlike mens." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Sara, sy suster: "Christoffel het ’n vreemde humorsin gehad wat wat sy vriende en familie geken en waardeer het. Die gewoonte om soms ’n lopie met die waarheid te neem, om ’n klip in die bos te gooi, om reaksie uit te lok, het aanleiding gegee tot die ongegronde storie dat sy ma ’n Libanees was." (Beeld, 17 November 1999)
  • Pieter Duvenage, hoogleraar in filosofie aan die Universiteit van die Noorde ten tyde van Christoffel se afsterwe: "Christoffel was in die jare sestig vir ’n rukkie dosent in die filosofie aan die Universiteit van Wes-Kaapland. En hoewel hy die Suid-Afrikaanse filosofiese gemeenskap vroeg verlaat het, het hy nooit kontak verloor nie. In teenstelling met die meeste Afrikaanse filosowe, wat hulle meer by die Europese kontinentale filosofiese tradisie tuis voel, het Chris eerder by die Brits-analitiese tradisie aangesluit het. Dit is ’n soort empiristiese, common sensefilosofiese benadering waar bruikbaarheid en logiese analise sterk ter sprake kom. Op ’n vraag of hy homself as ’n analitiese filosoof sou beskryf, het Christoffel geantwoord dat hy eerder nader aan die pragmatisme staan. Verder het hy ’n hekel in die postmodernisme gehad." (Die Burger, 20 Julie 1999)
  • Riana Barnard, Christoffel se uitgewer by Queillerie Uitgewers: "Sy afsterwe, juis op dié stadium, was onbegryplik. Binne oomblikke het ’n merkwaardige debuut ’n hele oeuvre geword. Hierby hoort sy sagte baard en skuifelstappie waarmee hy diep spore in die Afrikaanse letterkunde én in ons harte getrap het. (...) Enersyds kon hy met sy skerp blik nuwe perspektiewe bring, mites deurbreek en ’n alternatiewe waarheid bring. Maar dit was volkome deurdrenk met sensitiwiteit en ’n eie estetiek waarmee hy selfs geweld en kruheid tot kuns kon verhef." (Insig, September 1999)
  • George Weideman: "Ek het tydens my Namibiese verblyf vir Christoffel as ’n barometer vir integriteit leer ken: hy kon bedonnerd wees, ja, maar dan was dit omdat hy ’n wrewel in alle geveinsdheid gehad het. Hy het nie doekies omgedraai wanneer dit by politieke of sosiale ongeregtigheid kom nie, maar jy kon peil trek op sy mening." (Insig Boekeseksie, Sept 1999)
  • André P Brink: "Sy ontydige dood is ’n werklik groot verlies, veral op ’n tydstip toe ons hierdie inset wat hy begin lewer het, werklik nodig gehad het. Sy bydrae was uitdagend, maar eerlik. En van kardinale belang vir ’n gehoor wat sou wou luister." (Insig Boekeseksie, Sept 1999)

Christoffel se suster, Sara, het aan Jannie Ferreira vertel dat die mense na aan hom gereeld onder sy spot deurgeloop het: "So moes sy twee predikantswaers dikwels hoor dat die mense op Stellenbosch regtig eers hul motordeure sluit wanneer die tokkelokke van vakansie terugkeer. Toe sy swaer, Geroge Fivaz, Kommissaris van Polisie word, moes hy dikwels na soustreinstories luister.”

"In gesprekke met Christoffel het mense dikwels – soos by die lees van sy roman – gewonder wat spot en wat erns, wat fiksie en wat nie-fiksie is. So is die jintelmanboer, Kobus, wat hy op bladsy 18 in Mannetjies Mentz beskryf, sy pa en een van die drie tekkiedraers aan wie hy die boek opdra."

"Net soms was hy self aan die ontvangkant, soos toe ’n susterskind hom toevoeg: 'Oom Christoffel, wanneer skeer jy jou baard af, jy lyk soos ’n bostrol!'"

"Waarop sy antwoord was: 'Solank jy die woord net mooi uitspreek, is dit reg. My baard skeer ek eers af wanneer die Vierkleur weer oor Transvaal wapper.'"

Ten tye van sy dood was Christoffel reeds besig met sy tweede roman. Piet van Rooyen, wat ook ten nouste met die groei en redigering van Op soek na generaal Mannetjies Mentz saamgewerk het, het toe reeds die onvoltooide roman van buite geken en hy het dit as vanselfsprekend beskou dat hy hierdie manuskrip ná Christoffel se dood verder sou neem. Die gebeure in hierdie tweede roman, wat in 2003 as Toewaaisand deur Protea Boekhuis gepubliseer is, speel hulle in Namibië af, ’n land en omstandighede wat Van Rooyen soos sy handpalm geken het.

Van Rooyen vertel aan Elize Parker dat toe hy eers begin skryf het, het die teks gevloei: "Amper asof Chris self inspraak gehad het."

Parker beskryf die roman as ’n "meesterstuk in die kleine met die verhaal wat slim geweef word rondom die verdwyning van Meisie, met die uiteindelike grusame klimaks in die woestyn. Toewaaisand is ’n geheel wat, soos Van Rooyen tereg sê, uiteindelik tot die leser se voordeel veel groter is as die som van sy vertellerdele." (Sarie, Maart 2004)

Louise Viljoen (Rapport, 8 Februarie 2004) beskryf die verhaal: "Hierdie roman speel in die dorp Aib in Namibië af, wat omring word deur die woestyn wat deurentyd dreig om dit te oorweldig, soos die titel reeds aandui. ’n Jong man met gemengde bloed (Freddie Chemal), oorspronklik van die Vrystaat, word hier onderwyser en raak verlief op ’n plaaslike dame, wie se ma haar as klein dogtertjie verlaat het. Deur gebruik te maak van ’n veelvoud ek-vertellers word interessante perspektiewe verkry. Dit is ’n vlot en leesbare verhaal waarin heelwat belofte skuil, maar waarin die potensiaal vir ’n werklik onthoubare roman nie gerealiseer word nie."

Publikasies

Publikasie

Op soek na generaal Mannetjies Mentz

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2008 (Klassieke Uitgawe)

ISBN

  • 1874901945 (hb)
  • 9780624046493 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • De Kat /Sanlam Romanwedstryd 1998
  • M-Net-Boekprys 1999
  • Eugène Marais-prys 1999

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

 

 

 

Publikasie

Toewaaisand (voltooi en geredigeer deur Piet van Rooyen)

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190440 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Christoffel Coetzee beskikbaar op die internet

Christoffel Coetzee se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-04-15 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Christoffel Coetzee (1945–1999) appeared first on LitNet.

ATKV-Tienertoneelfinaal 2020: Jy word hartlik uitgenooi!

Christine Barkhuizen le Roux (1959–2020)

$
0
0

Hierdie artikel is oorspronklik op 14 Februarie 2019 gepubliseer.

Gebore en getoë

Christine (doopname Cornelia Christina) Barkhuizen is op 18 November 1959 in Vryburg in die Noord-Kaap gebore. Sy, haar broer en haar suster word groot in ’n “padmakersgesin”. Haar pa was ’n dieselwerktuigkundige wat aan masjinerie soos padskrapers, stootskrapers, laaigrawe, ens gewerk het. Haar ma, ’n huisvrou, se passie was, en is, haar kinders. Hulle trek tussen die jare 1954 en 1980 rond tussen verskeie dorpe in die ou Kaapland, waar daar toe deur die regering hoofpaaie tussen die dorpe gebou is. Die drie kinders woon gesamentlik sewe verskillende skole by as gevolg van die voortdurende verskuiwing.

Christine vertel aan Elmari Rautenbach (Huisgenoot, 10 Junie 2010) dat haar pa ’n padmaker was. "As kind het ek en my ouer broer en jonger sussie so saam met ons ouers van padkamp tot padkamp getrek. Dit was ’n swerwersbestaan en die 'regte mense' het meestal met ’n gesonde dosis afkeer na die bewoners van die tydelike Masonite-huise gekyk.

"Ek was baie na aan my pa, maar het my ma nogal laat swaar kry. Ek was ’n moeilike kind, rebels, 'anders'; vinnig om my mening te lug, vinnig om te sê as ek nie saamstem nie."

Christine vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat dit ’n sub B-juffrou (juffrou Aucamp) op Steynsburg in die Oos-Kaap was wat haar liefde vir die letter vasgeknoop het. “Boeke was van altyd af ’n manier om ook op ander plekke te kan wees as daar waar jy jou bevind. Dié juffrou het hierdie leesgierigheid aangewakker. Ek onthou hoe ons as kinders elke Vrydagmiddag biblioteek toe gegaan het en teruggekom het met ses boeke onder die arm.”

Haar eerste leeservaring was vroeg in haar lewe. Sy vertel (Rapport, 6 Mei 2007): “Die eerste keer dat ek self ’n verhaal gelees het, was in die jaar voor ek skool toe is – een van my broer se st 2-boekies. Oor ’n man wat waatlemoene verkoop langs die pad. Toe ’n vrou laatmiddag die laaste waatlemoen wil koop, wys hy haar ’n steekplek en raai haar af om dit te koop. Iets aan die egtheid van die man, van die storie, bly by my. Ek wil só skryf dat mense terugkom om ’n waatlemoen te koop, en geloofwaardig bly.”

Tydens ’n onderhoud met Elna van der Merwe na die verskyning van Drieklawerblaar in 2016 vertel Christine hoe haar skeppingsdrang reeds as kind na vore getree het: "Van kleins af wou ek graag dinge maak. Ek onthou my sussie was dikwels kwaad vir my, want as sy ’n speletjie wou speel, wou ek dit self maak. En as dit klaar was, wil ek nie verder daarmee speel nie.
"Ek onthou hoe ek in Queenstown, toe ek tussen twee en ses jaar oud was, op die agterstoepie gesit het en met verskillende kleure klippies op die sement geteken het. Opstel skryf op skool was vir my die lekkerste, want dan kon ek self iets maak. Ek hoef nie wat iemand anders geskryf het, te memoriseer nie.

"Die skrywer, Mark Haddon, het gesê 'as ek nie skryf nie, voel ek soos ’n hond wat nie uitgelaat word nie'. Dit is presies soos ek voel."

Ook haar liefde vir Nederland en Nederlands het sy ontstaan in haar kinderjare gehad: "Toe ek ’n kind was, kon ’n mens Die kinders van die wêreld-boeke nog uitneem. Ek het daardie boeke oor en oor en oor uitgeneem en die land waarheen ek wou gaan, was Holland. Dit was altyd iets wat my bygebly het. In matriek het ons ’n voorgeskrewe boek, Karakter, gehad. Tussen die pa en die seun in die boek het daar iets afgespeel wat my my lewe lank bygebly het." (Eikestad Nuus, 17 Oktober 2016)

Verdere studie en werk

Christine studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in 1980 haar BA-graad behaal met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke.

In 1980, kort voor haar gradedag en haar 21ste verjaardag is haar pa op 47-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede. Haar ma se beserings was so ernstig dat sy nie die gradeplegtigheid kon bywoon nie. "Dit het my omtrent 15 jaar gekos om die skok te verwerk," vertel sy aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot. "Uit so iets moet ’n mens vir jouself sin maak. Uiteindelik het ek ’n gedig geskryf oor ’n meisietjie wat by die hek wag dat haar pa huis toe kom. Ek het dit eenkeer by die KKNK vir Hans du Plessis gegee om te lees. Sy kommentaar was: 'Christinatjie, dis nie ’n gedig dié nie, dis ’n roman ...'"

Haar pa se afsterwe het ’n baie groot invloed op die res van Christine se lewe gehad, vertel sy aan Elmari: "Ek's allermins ’n smartvraat, maar daardie intense verlies wat ek destyds ervaar het, het by my ’n deernis geskep vir mense wat verlies ervaar. My sielkunde-professor op Stellenbosch, Herman van Niekerk, het destyds vir ons gesê ’n sielkundige moet saam met die kind wat bang is vir spinnekoppe, onder die tafel gaan sit en sy vrees sáám met hom ervaar. Ek dink die dood van my pa het gemaak dat ek daardie empatie met mense kan hê."

Sedert 2001 studeer sy verder en behaal in 2002 haar honneursgraad cum laude aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit op in 2005 met ’n meestersgraad, ook cum laude, in Afrikaans en Nederlands met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met Wium van Zyl as haar studieleier.

Christine begin in 2006 met haar MA in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden. Sy was ook die wenner van die beurs vir Skeppende Skryfwerk wat deur NB Uitgewers en die Departement van Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad toegeken word. Sy slaag hierdie graad met lof en die roman wat sy as Meestersprojek voltooi het, word in 2010 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Padmaker.

Christine woon saam met haar man, Bertus le Roux, ’n wyn- en vrugteboer, op ’n plaas 30 kilometer vanaf Barrydale in die Suidwes-Kaap. Hulle het drie kinders, Joané, Albert en Carli. Sy meen dat die afgesonderde leefwyse op die plaas en in ’n kleindorpse gemeenskap ’n definitiewe invloed op haar skryfwerk het. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.

Sy erken teenoor Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat sy nie ’n goeie boervrou is wat melktert bak en ander boervroudinge doen nie, maar dat sy baie lief is vir die ghwarriebome en die grysgroen van die Klein Karoo. “Dít, dink ek, is wat my tot skryf gedwing het. Die afsondering hier, dertig kilometer buite Barrydale. Die natuur het my klankbord geword. Barrydale is my gemeenskap, ook my kerk.”

Een van Christine se groot liefdes is lees. Sy voel dat as jy lees, “reis” jy na ander plekke, situasies, mense. “Wie lees, leef soveel meer lewens as maar net een. En dis iets wat ek so dikwels dink: as ek meer lewens kon hê, want daar’s soveel wat ek nog wil sien, beleef en deel wees van. En as jou kinders jou sien lees, en die plesier wat jy daarin het, sál hulle lees – daai ou ding van woorde wek, voorbeelde trek.” (Rapport, 28 Mei 2006)

In 1994 woon Christine ’n ATKV-Skryfskool by en daarna is heelwat van haar gedigte in die letterkundige tydskrif Literator opgeneem. In 1999 is sy weer na ’n ATKV-Skryfskool, waar die poësiekursus deur Breyten Breytenbach aangebied is. Dit was vir haar ’n groot aansporing toe hy gesê het hy kan sien sy “begin haar eie stem hoor”.

“Ek is eintlik Christine le Roux,” vertel sy aan Willemien Marais (Volksblad), “maar toe ek begin skryf het, was daar klaar ’n Christine le Roux. Eleanor Baker het soms onder die skuilnaam Christine le Roux gewerk, en ek kon beslis nie met iemand soos Eleanor Baker meeding nie! Gevolglik het ek besluit om my nooiensvan tot die vergelyking toe te voeg.”

Christine het artikels en kortverhale vir Insig geskryf en van haar kort prosa verskyn ook in Rooi Rose. Tussen 2000 en 2006 word verskeie van haar gedigte en/of verhale in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings opgeneem, soos Schoon Schip, Altijd Dichtbij, Kostbare momenten, Vrede sluiten is wegen openen, Een honderd dichters 3, Mense is mense, Metafore van herlewing, As die son kom oogknip, Honderd jaar later, Vers  reise en Woordreise. In 2005 en 2006 is van haar gedigte en kortverhale in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Van haar verse is ook in Groot Verseboek opgeneem.

In 2000 het John van Reenen, die diskusgooier, haar na ’n voorleesaand op Stellenbosch in die Dorpstraat Teaterkafee genooi. Die digter Ronnie Belcher het sulke aande gereël waar digters kon voorlees en daar was ook geleentheid vir ongepubliseerde digters van die vloer af. Christine se vriendin Cobie Cilliers het voorgestel dat sy ’n boekie van haar gedigte maak om daar te gaan uitdeel. Sy het die aand haar gedig “roudiens” voorgelees, maar nie die indruk gekry dat sy enigiemand “geraak” het nie. John het die boekies uitgedeel en Ronnie Belcher het ook een gekry.

Christine vertel op LitNet: “Twee maande daarna kom ek by die huis en my man sê: ‘Ronnie Belcher het gebel; hy soek jou – jy moet hom terugbel.’ Ek het dit gedoen sonder om enigsins opgewonde te raak, want ek het teen daardie tyd al harde lesse geleer oor mense, uitgewers, ander digters en lesers wat hulle nie aan die poësie steur nie; veral glad nie belangstel daarin om te kyk na die werk van nóg ’n ou (boer) vroutjie – soos Ronnie later gesê het om my siel uit te trek – wat nou ook gedigte wil skryf nie. Dus, ek het gebel, maar sonder om ooit te dink dat Ronnie dalk dink daar steek iets in my werk.

“Wat hy my oor die telefoon gevra het, was ‘Het jy nóg van hierdie gedigte?’ Ek het gesê, ja, ek het, en hy het gesê, ‘Stuur dit vir my.’ Ek het gesê ek sal dit pos. ‘Nee,’ het hy gesê, ‘faks dit, dis baie gouer.’ Die faksmasjien (wat ons nou nog het) het Noag gebruik om die buitewêreld te laat weet hy sit op Ararat, en dit het ure geneem om die omtrent 60 gedigte deurgestuur te kry. Maar ek het nie verwag dat hy dit ernstig sou opneem nie. In hierdie lewe is daar min mense wat ander sommer help – daar is uitsonderings, en ek het agterna met nog sulkes te doen gekry – maar dit is nie ’n algemene ding nie. Veral nie met iets soos poësie nie.”

Intussen is Christine en Cobie deur Marzanne Leroux-Van der Boon genooi om na die Afrikaanse Skrywersvereniging se jaarvergadering in die Kaap te gaan. Ronnie het ook gebel en vir nog gedigte gevra, aangesien hy baie goeie goed gevind het. Christine het gemeld dat sy Kaap toe gaan, maar Ronnie het ’n ander afspraak vir dieselfde aand gehad.

Die aand van die vergadering was die hoofspreker nog aan die praat toe Ronnie ingestap kom. “In sy hand het hy ’n bruin papiersak gehad, soos iemand wat op pad was om êrens ’n skof handewerk te gaan doen en sy toebroodjies daarin saamgeneem het. [...] Toe die vergadering verdaag vir die teepouse, het Ronnie na my toe gekom en gesê ek moet by hom kom sit en tee drink, want hy wil met my praat. [...] Hy het gevra of ek van my gedigte die dag daar het. Ek het gesê ja, ek het, want Marzanne het gesê ek moet iets lees, en toe vir hom gevra: ‘Maar wat dink jy? Dink jy ek moet lees, of nie?’ Sy antwoord was: ‘Ja, ek dink definitief so, en ek sal jou ’n baie goeie rede gee hoekom ek dit sê – want jou eerste bundel is vandag gepubliseer ...’ Hy het die papiersak wat langs hom op die vloer gestaan het, opgetel en ’n stuk of agt proewe van die bundel dimensie uitgehaal.”

In De Kat skryf Wium van Zyl (Februarie 2001) dat dimensie een van die sterkste en mooiste eerstelinge in ’n lang tyd is. "Die gedigte betrek ’n wye verskeidenheid temas – boervroue, verplant na harde, vreemde streke word stem gegee. Die veelvlakkige aandag aan die natuur is deel van ’n ryk verkenning van die menslike bestaan. dimensie bied egter ’n oes aan wysheid en sensitiwiteit in keurige verse uit ’n landskap waar ver en helder gekyk word, iets wat poësieliefhebbers nie mag mis nie.”

In Volksblad van 13 November 2000 skryf Bernard Odendaal en Sulette Bruwer dat die bundel nie sonder "mankemente is nie (hier en daar ’n gesogtheid, of ’n versierseltjie wat nie so funksioneel is nie). Al die gedigte bereik nie ruimer dimensies nie, tog is dit ’n goeie debuut wat van aansienlike digterlike rypheid en geslyptheid getuig. Hulle voel dat sy met haar debuutbundel ’n belangrike bydrae lewer tot die plaasliteratuur in Afrikaans en spesifiek op die gebied van plaasdigbundels waarvan daar maar enkeles in Afrikaans is. In dimensie word die boervroubestaan enersyds as ’n uitdagende, soms moeilike bestaan geteken; andersyds as ’n wêreld wat veel skoonheid en wonderbaarlikheid inhou. [...] Dit sou egter ’n verskraling van die bundelgegewe wees om dit te reduseer tot die verwoording van die plaaslewe. Die kompleksiteit van geometriese vorme waaruit (deur die digter self) geskilderde figuur op die voorblad opgebou is, illustreer reeds die veelkantigheid van ervaringe waaroor dit in die bundel gaan.”

Hoewel Joan Hambidge (Die Burger, 12 Maart 2001) meen dat die bundel nooit uitgegee moes gewees het nie, is Fanie Olivier van mening dat daar verse in hierdie bundel is wat vir sekere lesers baie sal kan beteken en "wat bowendien die sê-krag van Afrikaans bevestig".

Vir kritiek skrik Christine nie, hoewel die resensie van Joan Hambidge oor dimensie haar geweldig geskok het. Dit het haar egter ook weerbaar gemaak, erken sy.

Tydens die ATKV se Skryfskool in April 2001 in Potchefstroom het Christine ’n lesing gelewer oor poësie, met verwysing na haar eie gedigte, en by die KKNK van dieselfde jaar het sy ’n voorlesing van haar gedigte gedoen tydens die program Verslantern. Sy was ook in 2001 die redakteur van PoësieNet, LitNet se poësie-afdeling.

In 2005 word Christine se kortverhaal “Persiese sprokie” aangewys as die naaswenner van die Stellenbosse Woordfees, Protea-Boekhuis en LitNet se nasionale kortverhaalkompetisie. Rachelle Greeff se verhaal “Swiets in Rhodesië” is as die wenner aangewys. Christine se ander twee verhale behaal die vyfde en sesde plekke. Haar reaksie op die tweede prys: “Ek was heeltemal oorstelp. Ek het gehoop om in die bundel opgeneem te word, maar beslis nie om ’n prys te wen nie!” (Die Burger, 10 Februarie 2005)

In Januarie 2006 word sy aangewys as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 vir “’n Persiese sprokie”.

Christine se tweede digbundel, roset, verskyn in 2006 by LAPA. Op die agterblad skryf JC Kannemeyer: “In dimensie, haar debuut van 2000, bundel Christine Barkhuizen le Roux ’n aantal geslaagde verse waarin die woordgebruik, beelding en klankgevoeligheid reeds besonder opvallend is en van ’n sensitiewe poëtiese vermoë getuig. Dit sit sy nou voort in roset, ’n versameling kompakte, kriptiese, soms ook singende verse wat die leser musies meevoer. Sentraal in die bundel staan die Griekse Phaistos-tablet waarvan die 45 simbole nog deur niemand bevredigend verklaar kon word nie. Hierdie ‘old stone that cannot be deciphered’ (TS Eliot), en spesifiek die Griekse roset in die middel van die tablet, is dan feitlik die toonsleutel vir die belangrikste motiewe in die bundel: die kringloop van geboorte, dood en herrysenis; en die verlange na die afwesige liefde. Roset is nie alleen ’n vooruitgang opdimensie nie, maar in sy eie reg ’n sterk en waardige toevoeging tot die hedendaagse Afrikaanse poësie.”

Cecile Cilliers (Die Burger, 23 April 2007) noem haar ’n sprankelende stem. “Soos die historiese roset, vra die bundel stiplees om die volle woordwaarde daarvan te ontdek. Barkhuizen le Roux is lief vir die ongewone woord. [...] Sy skrik nie om woorde op eiesinnige en eiesoortige wyse in te span nie. Dit gee aan haar poësie ’n uitsonderlike varsheid en sjarme, mits sy daarteen waak om té vergesog, té esoteries te word, en sodoende haar lesers vervreem. Poësie is metafoor en begrip, maar poësie is ook  begrip. Die Phaistos-steen is aanloklik in sy geheimsinnigheid, maar uiteindelik verloor selfs die verbete navorser belangstelling ... Geboorte, groei, dood en herrysenis is van die temas wat in roset aan die bod kom, en elkeen van die onderwerpe toon Barkhuizen le Roux se enigmatiese, soms kriptiese aanslag. Dat sy haar aan haikoes waag (’n digvorm wat nie altyd met sukses in Afrikaans aangepak word nie), toon haar voorliefde vir die digte vers, en sy het wel sukses daarmee. [...] roset met sy wye verwysingsraamwerk (die bundel is van ’n register voorsien om sommige simbole en beelde te verklaar) is vanweë die ontginning van die Afrikaanse taal, maar ook ter wille van die liriese gehalte en die onverwagte metafore, ’n stuk digtersvreugde. Die naam Christine Barkhuizen le Roux is een om dop te hou.”

Ampie Coetzee (Rapport, 5 November 2006) begin sy resensie só: “Daar is gedigte waarin dít wat gesê word, analiseerbaar is van inhoud, onderwerp en tema; én dan die poëtiese. Maar dan is daar ook gedigte waar die gedig op sigself beteken, en dan nie eintlik saamgevat kan word nie. Só is die meeste gedigte van Christine Barkhuizen le Roux in hierdie nuwe bundel, roset. [...] Daar is by die digter ’n intense ervaring, visueel, van die natuur, waar waarneming en beskrywing ook ellipties werk. [...] Die assosiatiewe, die skeppende metafoor, wending, en veral die selfreflekterende vers bewys die poëtiese vaardigheid van Christine Barkhuizen le Roux.”

Volgens Bernard Odendaal (Volksblad, 30 Oktober 2006) verteenwoordig roset aan die een kant ’n bepaalde groei in Christine se digterskap, maar aan die ander kant tog ook nie. “Daar is ’n opvallende klank- en beeldgevoeligheid, wat tesame met die romantiese getinte kyk op sake dikwels tot mooi liriese uitinge aanleiding gee. Veral die natuurverse in afdeling drie van die bundel, en die gedigte oor die skugtere herontdekking van die erotiese liefde in afdeling 4, is sprekend hiervan. Die digter is haar klaarblyklik bewus van die gevare van ekstatiese liriese belydenisse, sodat sy ’n aantal strategieë aanwend om vormlike en stilistiese beheersdheid en objektivering in die hand te werk. [...] Barkhuizen le Roux is ook ’n skilder, en in sommige gedigte word natuur- en toneelsienings treffend tot woordgestalte geformeer, wat in die haikoes en ’n gedig soos skemerkombuis byvoorbeeld stillewe-agtig aandoen. Alles werk egter nie so goed uit nie. ’n Paar keer vind ’n mens dat ’n stuk beelding wat belofteryk gekonsipieer is, ontspoor as gevolg van ’n troebelheid of ’n ongeldigheid op reële vlak. [...] Daar is egter ’n klompie gedigte in roset wat enige individuele vers uit die debuut oortref.”

In 2010 is die Nederlandse vertaling van roset tydens die Boekebeurs in Antwerpen in België bekendgestel. Die vertaler was Joost van Hulle. Vir Christine was dit ’n wonderlike gebeurtenis, vertel sy aan Willem de Vries (Volksblad, 20 Julie 2010).

Christine se eerste bundel kortverhale, Waar koek en wyn ontbreek, word ook in 2006 deur LAPA gepubliseer. Die bundel was op die kortlys vir die M-Net/Jan Rabie-prys saam met Dana Snyman en Johan Engelbrecht wat gewen het met Kaffertjie.

Sy vertel aan Willemien Marais (Volksblad): "Ek skryf my verhale vir gewone mense; meestal vroue, maar nie doelbewus nie. Ek probeer egter ook om elke verhaal op verskillende vlakke te skryf sodat skryf ’n mens dit as ’n blote storie kan lees, of as iets diepers. Ek skryf nie vir akademiese lesers nie, ek wil hê my verhale moet toeganklik wees.”

Christine huiwer nie om kwessies aan te pak nie. Iets wat haar baie na aan die hart lê, is die netelige kwessie van “subtiele onderdrukking”. Dít is daardie onderdrukking van vrouens deur hulle mans wat nie as “mishandeling” beskou kan word nie. “’n Mens hoor dikwels hoe ’n man in ’n geselskap opmerk dat hy sy vrou ‘toelaat’ om dit of dat te doen. Toelaat!" Sommige lesers en kritici het al haar bundel as negatief teenoor mans beskou, maar sy reken dat dit beslis nie so is nie. “Ek glo wel dat daar sekere sake is wat eenvoudig aangespreek moet word.”

Wium van Zyl moes by die lees van hierdie verhale gereeld dink aan die verskriklike oomblikke wanneer die lont sy lading bereik. “Die leser word gekonfronteer met die klein tragedies wat dikwels nie die koerant of statistieke haal nie. Juis daardeur word deernis gewek vir die eg-menslike.”

Hans Ester van Nederland (Zuid-Afrika, Oktober 2006) beskou dit as “een mooie bundel” wat hopelik deur ander gevolg sal word. “De enige valkuil door Christine Barkhuizen le Roux ligt in de afsluitende regels van veel van de hier verzamelde verhalen. De schrijfster neemt de lezer hier en daar te veel bij de hand uit angst dat het toch misgaat met het begrijpen. Ze kan dat begrijpen gerust aan haar lezers overlaten.”

Vir Belia van der Merwe (Literator, Augistus 2006) staan "afskeid, verlies en vervreemding voorop in hierdie aangrypende en goedgestruktureerde verhale waarin die leser volkome kan identifiseer met die uiteenlopende en eg-menslike situasies waarbinne die karakters geplaas word. [...] Die ruimte waarbinne ’n groot aantal verhale in Waar koek en wyn ontbreek afspeel, is die plaas. In ’n paar verhale val die klem veral op die afsondering en isolasie wat die karakters binne hierdie ruimte ervaar en hoe dit die tema van verlies en vervreemding ondersteun. As teenpool vir die plaas of platteland as verhaalruimte is daar twee verhale wat binne die stadsmilieu geplaas is. [...] Hierdie is werklik, soos op die agterblad gestel word, ’n bundel soos ’n ‘geknoopte mat met ineenvloeiende aardsgekleurde drade’ en lesers kan met verwagting uitsien na nog verhale uit die pen van Christine Barkhuizen le Roux.” Carolyn Meads meen dat Barkhuizen le Roux se bundel vir ’n besonderse leeservaring sorg en sy stel voor dat lesers al hul sintuie en verbeelding inspan en hulle in haar stories inleef. “Laat woorde beelde word waar koek en wyn ontbreek.”

Hierdie verhale laat Lisa van Aswegen (Rapport, 28 Mei 2006) dink aan  gevoelens van medelye en menslikheid vir jou medemens en vir haar is dit een van die redes hoekom sy hierdie redelike beskeie bundel sal onthou.

In 2007 het Christine ’n biografie van die Nederlandse skrywer Simon Carmiggelt gelees. “Hierin figureer die groot skrywersfiguur Heijermans, want ‘hij (had) geen deel aan de nieuwsgaring (nuussoekery). Hij legde alleen vast hoe grote nieuws de kleine mense beroerde’. Hiermee vereenselwig ek my ook – om dít neer te skryf wat die mens ten diepste raak. Iets van ‘where do you go to ... when you’re alone in your bed’.” (Rapport, 6 Mei 2007)

Die Versindaba van 2009 se oorkoepelende tema was die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Om dit toe te lig is ’n kunsuitstalling in die Oude Libertas Ouditorium gehou van digters wat ook skilder, en van Christine se skilderye is ook daar uitgestal.

Padmaker, Christine se roman wat in 2010 verskyn het, word beskryf as ’n deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind wat een geslag op ’n volgende laat.

Christine vertel aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot (10 Junie 2010) meer oor Padmaker. "Dit is die storie van Katrien wat voor ’n kruispad in haar lewe staan. Haar verhouding met haar man stuur op ’n mislukking af en boonop verdwyn haar bejaarde ma, met wie sy van kindertyd af ’n troebel geskiedenis deel. Daar is vir haar net een uitweg: Sy moet haar ma gaan soek. Toe sy haar motor se neus draai in die rigting van die padkampe waar sy grootgeword het, is dit haar pa se wyse woorde wat haar lei: om te weet waarheen jy op pad is, moet ’n mens onthou waar jy vandaan kom."

Christine het baie lesse by Etienne van Heerden geleer terwyl sy gewerk het aan haar meestersgraad, maar die moeilikste een was om te besef dat ’n mens se lewensverhaal nie altyd geskik is vir ’n storie nie: "jy moet nog fiksie daarvan maak".

Die verlede in Padmaker is dus Christine se verlede, maar die intrige is fiksie. "Etienne se rol was om sulke chevron-borde, daardie geel-en-swart waarskuwingsborde wat ’n mens langs die pad sien, op te hou, wat sê: Pasop! Dan het ek geweet hier is ’n beskrywing of karakter wat nie werk nie."

Katrien se ma se siekte word nooit in Padmaker by die naam genoem nie, maar daar is tog rigtingwysers in die boek wat daarop wys dat dit Münchhausen se sindroom is. Christine het aan die idee vir die roman gekom deur ’n vriendin se ma wat aan hierdie vreemde siekte gely het. Die invloed wat so-iets op ’n hele familie kan hê, het ’n groot indruk op Christine gemaak, vertel sy aan Kirby van der Merwe in Beeld (17 April 2010). "Ek wou ook nog altyd iets oor die padmakerslewe skryf en hierdie twee heeltemal verskillende dinge het ’n eiesoortige dinamika verkry wat die storie gedryf het."

Stephanie Nieuwoudt skryf in Rapport (11 April 2010) dat Christine met Padmaker ’n "stuk ervaring oopgeskryf het wat nog nie voorheen so grondig in die Afrikaanse letterkunde aangepak is nie. Hierin kry ’n mens te doen met die geskakeerdheid van menswees in die padkampe: die drinkers en die skellers teenoor die verfynde vroue en mans wat hule kinders lei om opgevoede volwassenes te word.  (...)

"Dis byna onmoontlik om ’n boek oor ’n emosionele reis te skryf sonder om die een of ander grootse naam in die sielkunde by te sleep. En ja, Jung se spore lê duidelik in onder meer die drome en in Ma Kinnie se bykans obsessiewe betrokkenheid by haar breiwerk.

"Maar Padmaker raak nie verstrik in allerlei intertekstuele verwysings wat die leser vervreem nie. Dis ’n boek wat op verskillende vlakke gelees kan word weens sy geskakeerde verwysings.

"Die leser wat net agter ’n lekker storie aan lees, het nie kennis van die sielkunde of letterkunde nodig om die boek te kan verstaan of, belangriker nog, te kan geniet nie."

Ook Adéle Dempers (Volksblad, 12 April 2010) was positief oor Padmaker: "Padmaker is ’n weldeurdagte, sensitiewe roman wat netjies geskaaf is. Dit sou kon deurgaan as deel van die molesteringsgenre en as sulks is dit effe neerdrukkend en wroegend. Tog het dit ’n interessante invalshoek met sy gelyklopende innerlike en uiterlike reistema. Die hoopvolle einde, die berusting en heling wat Katrien vind, maak die roman ligter. Barkhuizen le Roux kan ’n storie vertel, ons sien uit na meer."

En vir Jeanette Ferreira is Padmaker ’n "knap en genoeglike, selfs ontroerende, leeservaring". (Beeld, 12 April 2010)

Christine se volgende bundel kortverhale, Wat die oog gesien het, word in 2011 deur Human & Rousseau uitgegee. In Die Burger (21 Maart 2011) sit Joan Hambidge die inhoud van die bundel as volg uiteen: "dit bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ’n raamvertelling ('Verby') waarin die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ’n vroulike werker se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture op die noodlot reageer.

"Hierdie verhale lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Dikwels word in verhale, tersluiks, verwys na ’n beperkte begroting en ’n vrou wat van die man se begroting afhanklik is. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe waarnemings in ’n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en gelowe verhaal word."

Vir Hambidge is die gehalte van die verhale nie almal dieselfde nie. Daar is ’n klompie verhale wat baie knap is, maar dan is daar etlikes wat vasgevang is in die "anekdotiese of die momentopname".

Vir Riette Rust (Rapport, 1 Mei 2011) is Wat die oog gesien het ’n bundel wat geskryf is vir die leser en nie vir die resensent nie. Die verhale is toeganklik en die slotte van die meeste verhale het ’n impak. Die stories lees lekker, maar het ook diepte.

Hoewel die bundel kon gebaat het by besnoeiing van die aantal verhale en konsolidasie van sommige van die verhale, aldus Cilliers van den Berg, maar die bundel is nie sonder wins nie. Die verhale is toeganklik en baie lesers sal kan identifiseer met die temas. (Volksblad, 12 Maart 2011)

Christine het in Oktober 2009 Vlaandere besoek, waar sy saam met Jooris van Hulle (die vertaler van haar gedigte) en Ingrid vander Veken, wie se boek sy vertaal het, opgetree het in die boekwinkel De Groene Waterman in Antwerpen; in November 2009 het sy saam met Laurinda Hofmeyr in die Arenbergskouburg en in die Cultuurfabriek Sijsele opgetree.

Sy begin in 2009 met ’n vertaling van Ingrid vander Veken se boek Papavers – ’n ontroerende verhaal van die lewe saam met ’n skisofreniese seun. Die vertaling, Papawers, word in Mei 2010 deur LAPA uitgegee. Tans werk sy aan nog ’n vertaling, De kinderspelen deur Marc Pairon, en nog ’n bundel nuwe kortverhale vir Human & Rousseau. Christine weet nie of De kinderspelen ooit gepubliseer is nie.

Christine se volgende roman is in 2013 onder die titel Getuie gepubliseer. Hierin pak sy ’n redelike omstrede onderwerp aan, naamlik die Jehova se Getuies. Sy vertel aan die Landbouweekblad (25 Januarie 2013) dat sy ongeveer in 2007 ’n oproep van ’n skoolmaat van haar gehad het. Hulle twee het ontmoet en die vriendin het aan Christine vertel dat sy grootgeword het in ’n gesin van Jehova se Getuies en dat dit haar lewe verwoes het. Sy kon nie na skool verder studeer nie en het ook emosionele probleme gehad.

Christine het dadelik geweet dat sy, wat op daardie stadium nog besig was met Padmaker, een of ander tyd ’n roman wou skryf wat die lewe van só ’n mens uitbeeld. "Ek wou aan mense wys hoe ’n individu in omstandighede vasgevang kan word en wat die verloop daarvan kan wees. In Getuie het ek die karakters se lewensloop bepaal op grond van dit wat werklik soms met lede van die Jehova se Getuies gebeur. Ek wou wys dat dié mense slagoffers is van hul leierskorps, en dat hulle, wanneer hulle daarin slaag om 'uit te gaan', bitter alleen in die wêreld is.

"Die titel Getuie slaan enersyds op die 'Jehova se Getuies', maar ook op die feit dat Maggie ’n getuie word van wat met Mignon gebeur, en van Bea, die vrou in die tronk, ’n niggie van Mignon. Eindelik word die leser ook getuie van wat in dié vroue se lewens afspeel."

Vir Christine was die grootste uitdaging met die skryf van Getuie om ’n ewewigtige verhaal van die Getuies te vertel - nie net die leiers wat die lede uitbuit nie, maar ook dié verhaal van die gewone mense en die mense wat die Getuies verlaat het. Sy was ook lugtig dat dit nie moet lyk na ’n aanval op die Getuies nie, maar om te wys hoe gevaarlik dit kan wees om in so ’n fundamentele groep jou man te kan staan en die gevolge daarvan. "Die uitgangspunt van my skryfwerk is altyd om vir die leser iets te probeer oopmaak waarvan hy tevore nie eintlik geweet het nie."

Christine het baie deeglike navorsing gedoen voordat Getuie geskryf is. Hierdie navorsing maak egter nie inbreuk op die vloei van die verhaal nie. Dit help om die lesers bekend te stel aan die wêreld van die Jehova se Getuies en hulle meer breedvoerig in te lig oor die praktyke en geskiedenis rondom hierdie godsdiensrigting.

Oor hierdie navorsing vertel Christine aan Phyllis Green (Sarie, 3 Januarie 2013) dat dit as ondersteuning tot haar verhaal moes dien. Sy kon egter nie al die navorsing in die skryf van die boek gebruik nie, want sy wou nie ’n storie vol feite aan die leser opdien nie, maar die leser moet meer vertel word oor die Getuies. "Dis eintlik ’n godsdiens met twee verskillende bene. Die een is die leiers bo wat hulle volgelinge breinspoel en misbruik. Dis ’n geldmaak-organisasie. Daar is miljoene der miljoene dollars op die spel. Die mense wat in die veld werk, wat die publikasies verkoop en versprei, besef nie dis ’n geldmaakstorie. Ek wou die leiers blootstel en ek wou wys dat die Jehova se Getuies eintlik die prooi van ander mense is."

In Vrouekeur (22 Februarie 2013) skryf Willie Burger: "In Getuie word gekyk na iemand uit ’n klein subkultuur waarteen die groter gemeenskap vyandiggesind is. Die hoofkarakter, Maggie, ontmoet ná jare weer ’n skoolvriendin, Mignon. Op laerskool was hulle vir ’n klein rukkie boesemvriendinne, maar hul vriendskap het skipbreuk gely omdat Maggie se pa, maar ook die hele gemeenskap, dit vir Mignon onhoudbaar gemaak het omdat sy ’n Jehovasgetuie was. Die roman ondersoek die invloed van ’n gemeenskap se norme en die manier waarop sekere mense in- en uitgesluit word. Dit is egter ook ’n ondersoek van die vernietigende houvas wat ’n godsdiensgroep op individue kan hê. Dit is gewigtige temas en Barkhuizen le Roux lei die leser om met veel begrip en deernis na groepe en die invloed daarvan op mense te kyk. Die roman behels egter meer. Maggie ontmoet vir Mignon weer ná baie jare – as haar man al dood is en kort voor haar kleinkind in Frankryk gebore word. Wanneer Mignon selfmoord pleeg, raak Maggie ook by ’n ander Jehovasgetuie betrokke, wat tronkstraf vir moord uitdien, en sodoende leer sy geleidelik nog meer oor die effek van dié geloof op mense. In die proses ontmoet sy ook ’n ander skoolvriend – wat ’n hoë pos in die gevangenisdiens bekom het. Die verhaal gaan dus nie net oor die problematiek van ’n geslote groep se invloed op individue nie, maar dit word ook die verhaal van hul ontluikende liefde – terwyl sy dit geleidelik regkry om emosioneel van haar oorlede man los te kom."
Op LitNet skryf Dineke Volschenk dat die lees van Getuie vir haar baie bevredigend was. Een van die rigtingwysers in die roman is dat dit dui op die gevare van godsdiens, asook op die vernietigende invloed wat ouers op hulle kinders kan hê.

In Volksblad (19 Januarie 2013) skryf Riaan Grobler dat Christine ’n "knap skrywer is wat die destruktiewe natuur van fundamentalisme subtiel aanbied. Getuie is die soort boek wat die leser laat besin oor die donker kant van die godsdiens en die vernietigende invloed wat dit op mense se lewe kan hê."

In 2015 verskyn Christine se volgende bundel gedigte by Naledi onder die titel skynskadu. Dit is uitgegee met ’n CD waarop sy haar gedigte voorlees en waarop sangers ook van haar gedigte sing.

Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge dat "herinnering en haar skynmaat, nostalgie, belangrike dimensies in hierdie bundel is." Op die agterflap van die bundel beskryf Fanie Olivier die bundel as ’n "herroeping van talle verledes".

Die digter keer in hierdie bundel terug na die jeug, skryf Hambidge; "vandaar die verse oor ouers en oumas en oupas en die bestaan op die plaas. Behalwe hierdie verse is daar ook lykdigte oor ander digters, soos Lucas Malan, Chris Lombard en George Weideman. In die laaste afdeling van die bundel vind die leser reisgedigte oor stede wat die digter besoek het en, skryf Hambidge, besinnings oor ’n stad, ’n besoek aan ’n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van besoek".

Christine het aan René Bohnen op Versindaba uitgebrei oor die reisgedigte: "Kyk, ek bly mos op ’n plaas, nie ’n landgoed nie, ’n regte egte boereplaas. Hier by ons is dit meesal droog; jy kyk die reën uit die wolke uit, en dan kom daar net ’n buurmansreën. Maar dis in die spanning tussen hierdie lap grond en die groter wêreld wat die skryfwerk gebeur.  Dis om dit wat jy weet van jou eie wêreld te amalgameer met ’n nuwe omgewing. Om te beleef: hoe anders is ons – en hoe dieselfde is ons nie! En dan sien jy jou eie plek, dorp, plaas, met nuwe oë – kry jy nuwe beelde om die ou vertroude dinge mee te beskryf. Dan sien jy die man buite die Primada-katedraal in Toledo as iemand anders as die bedelaar voor die OK in jou eie dorp."

Vir Hambidge is Christine se herinnerings- en nostalgie-verse die skerpste, terwyl sy die reisgedigte as "minder gefokus" vind. Maar dit is ’n bundel vir diegene wat "hou van afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar verwysings te sit om te werk nie. Daar is ’n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns."

In ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba oor skynskadu verduidelik Christine aan Bohnen dat dit nie haar bedoeling was dat die gedigte in die bundel oor ’n spesifieke tema gaan nie, aangesien sy nie so skryf nie: "Söteman praat van 'impure en pure dichters'. Laasgenoemde skryf uit die hart, uit die taal, nie uit die aktuele gebeurtenisse van die dag nie. Ek dink dat my gedigte deur die jare heen ’n sekere strekking het, maar dit sien ek eers wanneer ek na ’n lang tyd die skryfsels langs mekaar sit. Dus daar is nie vooraf ’n 'program' nie – eerder die resultaat van ’n stuk lewe wat geleef is, en waaroor daar agterna besin is."

Op Versindaba resenseer Marlies Taljard skynskadu en som sy die bundel as volg op: "En dit bring my by die totale aanbod van die bundel. Soos dit so dikwels met onlangse (en minder onlangse) digbundels gesteld is, is ook hierdie bundel te lywig. Dit behoort uit my bespreking in die eerste deel van die resensie duidelik te wees dat daar ’n aantal sterk gedigte in skynskadu is wat weldeurdag en deeglik afgewerk is. Barkhuizen le Roux kan wel dig, maar sy het nie die ondersteuning van ’n streng teksredakteur gehad wat, in haar eie belang, vir haar gesê het: 'Kill your darlings!' nie. Veral die laaste afdeling, wat 18 gedigte oor die reiservaring bevat, is heeltemal te lomp. Die meeste van dié gedigte kon myns insiens weggelaat gewees het ten einde ’n meer gebalanseerde digbundel te produseer. Minder gedigte beteken dikwels ook ’n waardevolle seleksie van goed afgeronde gedigte met groter diepgang. Ook die gebrek aan die metaforiese 'goue draad' wat die bundel tot ’n geheel sou kon saambind, ontbreek tot ’n groot mate deurdat te veel gedigte willekeurig opgeneem is en die klem waarskynlik geval het op 'wat kom in?', in plaas van op 'wat moet uit?'"

In 2015 publiseer Naledi Diane Broeckhoven se Die buitekant van Meneer Jules wat deur Christine vertaal is. Op Netwerk24 skryf Danie Botha (13 Julie 2015) dat binne 60 bladsye leer die leser vir Alice en haar gevoelens ná haar man se dood van naderby ken. Een wintersoggend vind sy vir Jules wat doodstil op die bank sit en nie sy koffie drink nie. Dan ontdek sy dat hy dood is.

"Hier aan die begin bespreek sy lank hoe hulle twee nog altyd verskil het oor hoe hul wil sterwe. Daar is aanvanklik nie skok nie. Ontsteltenis en gemengde gevoelens volg eers ’n bietjie later. Sy besluit: niemand moet weet hy's dood nie – 'Hy is nie dood solank as wat sy dit nog nie vir iemand gesê het nie.’"

Danie Botha skryf verder: " Haar gedagtes is insiggewend en geloofwaardig, maar neig dit nie na skrywersmanipulasies om dit tog net in die teks te kry nie? (...)

"Iets wat nog baie sterker bydra tot geloofwaardigheid is die tonele met Dawid. Wanneer sy nog wik en weeg hoe om Jules te versorg, besef sy skielik dat Dawid stiptelik om tienuur sal opdaag om skaak te speel saam met Jules. Dawid is ’n outis en veilig binne roetine, herhaling en orde. Sy buitengewone invloed op Alice verskerp die intrige, sy nugter uitsprake en optrede skep klimakstonele.

"Broechhoven het reeds heelwat jeugboeke en prosa vir volwassenes in die Lae Lande gepubliseer. Danksy Barkhuizen le Roux se woordkeuses en sinsbou gaan die Nederlands vlot oor in 2015-Afrikaans. Maar ... die leestekens en hoofletters het nie genoeg aandag gekry nie."

Christine se nuutste roman is Drieklawerblaar wat in Augustus 2016 gepubliseer is. Oor die ontstaan van die roman en die impetus wat haar dit laat skryf het, vertel Christine aan Elmari Rautenbach (Netwerk24, 20 September 2016) dat die agtergrond ’n ware verhaal is: "Abré Marais van die Paarl het een middag, aangedaan, vir my die verhaal van sy familie se verlies vertel – hoe sy oupa Abraham Bier die familieplaas verloor het nadat hy vir ’n buurman borg gestaan het. Maar die wiel het gedraai, het die oupa gesê – oor hóé, wou hy egter nooit uitwei nie. Die antwoord het Abré eers later as ’n amper middeljarige man by een van die oudste inwoners van Barrydale gehoor. Die res van die gemeenskap het óf nie geweet nie, óf dit doodgeswyg. Die verlies wat die familie ervaar het, was die vonk om die roman te skryf, maar ook die tragiese geheim wat Abré laat in sy lewe eers ontdek het – daardie 'wiel wat gedraai het'."

Die roman speel in die hede in die Klein Karoo, waar Christine bly, af. "Drieklawerblaar verweef die verhale van drie karakters: Kate, ’n afgetrede verpleegster, Tinneke, gastehuiseienaar en weduwee, en haar hardkoppige buurman, Abel, ’n wildboer. Op die plaas Doringboomlaagte soek Kate na antwoorde: hoe het haar Ierse oumagrootjie hier, in Afrika, beland? Terselfdertyd is Abel gemoeid met sy familiegeskiedenis: watter houvas het die grond waarop Doringboomlaagte nou is op sy voorsate gehad? ’n Roman oor herkoms en grond, en hoe om vrede te maak met die verlede." (uitgewers se inligtingstuk)

Op LitNet skryf Juliana Coetzer die resensie oor Drieklawerblaar. "Hoe is dit moontlik om enigsins kritiek te lewer op ’n storie waarin soveel belê en soveel diepte bereik is, dink ek telkemale terwyl ek die boek lees. Ek kan nie anders as om te dink die skrywer het moeite vir haar lesers gedoen nie. Dit is asof ’n mens dit aanvoel; die storie kom van ’n goeie mens en dit gaan oor goeie mense.

"Drieklawerblaar beskryf die lewens van die drie hoofkarakters, Kate, Tinneke en Abel. Elkeen dra swaar aan sy eie storie, 'die gisterdae wat soos die agterpant van ’n trui is', soos Kate dit noem. Hulle paaie loop onafhanklik van mekaar, maar die behoefte om die verlede agter te laat, om ’n skoon toekoms tegemoet te gaan, bring die drie uiteindelik bymekaar uit en hulle lewens word in mekaar verweef.

"Die storie word tydsaam vertel, met baie detail. Alhoewel die drie karakters die buitelyne vorm, amper soos ses arms wat inmekaar gevleg is, gebeur daar ook baie aan die binnekant. Elkeen se lewe word totaal oopgeskryf en jy leer hulle intiem ken. Die skrywer neem jou op ’n reis binne elkeen se realiteit terwyl die raaisels en geheime in die agtergrond teenwoordig is en die gewete van die storie uitbeitel. Jy leer ken hulle vriende en kinders en die alledaagse bedrywighede waarmee hulle hul besig hou. Jy lees van ’n proteaboerdery waarin ’n karakter haar honger na ’n konneksie uitleef en van die skaam protea wat hoog in die berge groei, die Trots van Franschhoek. En van iemand wat sy herkoms in Frankryk soek en die effek van ’n impulsiewe daad in Egipte. (...)

"Die skrywer maak ruim van godsdienstige simboliek gebruik, soos ’n kruis, heiliges en gebede om die storie ’n dieper betekenis te gee. En dan is daar die onverklaarbare wond aan die arm, dalk as stigmata bedoel.

"Vir my het die storie gelees soos ’n spanningsverhaal. Ek het letterlik my asem opgehou tot by die laaste hoofstuk. Wat kan dan so erg wees dat iemand so swaar onder die gewig van die verlede loop? En dan die skok, die ongeloof en skielik het alles wat ek in die vorige hoofstukke gelees het en nie kon verstaan nie, sin gemaak. Dit is wat die skrywer regkry; sy hou die leser aan die wonder, asof ’n mens met ’n frons lees, die hele tyd.

"Lesers wat van intriges hou, sal die boek geniet. Die storie is aangrypend en raaiselagtig. Boonop is dit menslik met deernis geskryf sodat ’n mens nie anders kan as om selfs onvergeeflike dade te verskoon nie. Alhoewel die storie boeiend is, is dit die skrywer se vermoë om taal in te span om ’n beeld te skep sodat jy dit op jou tong proe en haar gebruik van beskrywende woorde, soos medemens wat 'ewemens' word, wat die boek ’n besondere sjarme gee.

"Die boek eindig met die woorde van Iyanla Vanzant: 'Forgiveness is giving up the hope that the past could be any different.' Ja, die geheime, ja, die raaisels, ja, die onreg, maar dan kom die verstaan en die vergifnis, opstaan, aangaan en nuut lewe. Vir my was dit die boodskap, vir elkeen sal dit iets anders wees. Jy sal nie met leë hande wegstap nie."

Marida Fitzpatrick was op Media24 (4 Oktober 2016) net so positief oor Drieklawerblaar. Sy beskryf Christine as ’n "vaardige storieverteller wat weet hoe om volronde, komplekse karakters te weef. Dit is ook Drieklawerblaar se sterk punt: Die karakters is volrond en lewensgetrou. Al drie is ouer mense wat deurleefd en geskakeerd is.

"Die skrywer kry dit ook  baie goed reg om ’n sterk kontras te skets tussen die eenvoudige, rustige buitelewe op die plaas en die verstrengelde, stormagtige binnelewens van die karakters. Dit sorg vir lekker afwisseling in toonaard.

"Plek-plek trap sy in die slaggat om haar karakters oor te verduidelik. (...) Die dialoog tussen die karakters wil ook nie altyd vlot nie. (...) Maar behalwe vir dié paar dinge wat pla, is Drieklawerblaar ’n sterk roman met stories, karakters en temas wat oortuig."

Oor die wisseling tussen genres het Christine aan Phyllis Green in Sarie verduidelik: "’n Roman is vir my soos ’n kasteel met baie vertrekke, sale en kamers en op ’n manier moet jy alles met mekaar verbind. ’n Kortverhaal is vir my soos een vertrek waarbinne alles binne ’n beperkte tyd afspeel. ’n Gedig is die plantjie wat buite in die skaduwee groei, wat baie min mense raaksien. Dis soos ’n verwisseling van ratte en in elke rat doen jy iets anders. Elke genre het sy eie dissipline en dan moet jy oorskakel na daai dissipline toe."

Christine Barkhuizen-le Roux is op 19 November 2020 oorlede.

Publikasies:

Publikasie

dimensie

Publikasiedatum

2000

ISBN

0620263369 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch: Suider Kollege Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar koek en wyn ontbreek: kortverhale

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336297 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

roset

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336939 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

In België 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Padmaker

Publikasiedatum

2010

ISBN

97807981 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat die oog gesien het: kortverhale

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152563 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Getuie

Publikasiedatum

2013

ISBN

9778079815707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

skynskadu

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780928316117 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drieklawerblaar

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174039

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Vertalings deur Christine Barkhuizen le Roux

Artikels oor Christine Barkhuizen le Roux beskikbaar op die internet

 
Artikels deur Christine Barkhuizen le Roux beskikbaar op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Christine Barkhuizen le Roux (1959–2020) appeared first on LitNet.

Dalene Matthee (1938–2005)

$
0
0
Foto: dalenematthee.co.za
Sêgoed van Dalene Matthee

"Skryf is ’n eensame ding. Jy weet nie wat jy gedoen het nie. En die skrywersirkus rondom ’n boek staan my nie aan nie. Ek is ’n baie private mens." (Insig, April 2000)

"I just want to be happy ... Maar daar is so baie dinge wat tussenin foeter. Mens moet net altyd sorg dat jy altyd ’n mooi geheime plekkie iewers het. Al is dit in jou voorskootsak." (Insig, April 2000)

"Navorsing is soos dobbel. Jy raak verslaaf daaraan. Jy weet nie wat jy kry vandag nie. En dan het ’n vrou mos nog op haar solar plexus ’n spesiale sintuig. Jou maag sê vir jou as ’n ding nie reg is nie." (Insig, April 2000)

Oor haar eie vertaling van Kringe in Engels: "Afrikaans is a language which is highly emotional. You can go right down to the core. English is reserved, beautifully reserved. But I wanted somehow to get that emotion into English." (The Daily News, 28 Augustus 1984)

"Engels is weliswaar my beste vriend, maar ek moes ontdek dat my siel Afrikaans is. Vandag kan ek net sê Afrikaans was goed vir my. Baie goed. Ek skuld Afrikaans. En ek dink die vreeslikste ding wat ’n mens kan oorkom, is as jy nie in jou eie taal sou kon skryf nie." (Die Burger, 22 Mei 1992)

"Maar ek gaan nie in ’n ander taal skryf nie. Afrikaans is die taal van my siel." (Beeld, 22 Oktober 1992)

Oor dagdrome: "In my dagdrome woon ek bo in ’n bergkloof tussen die bome in ’n klein houthuisie. Elke dag verander ek aan dié huisie. Dit het ’n kalmerende uitwerking op my om aan die huis te 'werk'. Dit is baie klein, net vir my alleen, en het net een vertrek. Ek slaap baie en voel veilig in die nag. Ek loop ook baie in die bos rond en as die bobbejane my dalk kom pla, is ek ook daarmee tevrede." (Rapport-Tydskrif, 3 Maart 1996)

Wat sy in die hemel gaan doen: "Ek gee nie om nie, die hemel moet net ’n bos wees." (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"As kinders nie van geskiedenis hou nie, maak dood die onderwyser!" (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"Mans is die draers van die intellek en vroue die draers van die siel – hulle ontwikkel nie hul geweldige potensiaal nie en wil soos die mans wees. Hulle kry dit nie reg nie en word ’n bitch." (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"Ek gaan gereeld Bos toe. Daar’s ’n energie wat ek nodig het en moet absorbeer om reg te kom." (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"Ek hou van waarheid. Die waarheid as ’n kern van ’n verhaal. Die historiese roman bevredig my behoefte aan waarheid. So dikwels bring die verlede juis vir jou helderhede en ook skokkende insigte." (Sarie, 5 September 2001)

Oor selfone: "Dit lyk my na ’n handige ding, maar daar is natuurlik mense wat net daarna gryp om raakgesien te word. Dis snaaks dat mense nog sulke goed gebruik om hul ego te streel." (Sarie, 29 Maart 1995)

Haar grootste wens: "Dat daar oor hierdie land ’n waas moet neerdaal en die waas se naam moet wysheid wees. Maar eintlik kan dit nie neerdaal nie, dit moet van onder af kom. Uit die mens self." (Sarie, 19 November 1986)

Wat glo sy van God, sy wêreld, sy skepping? "Ek dink dit is ’n baie groter storie as wat ons vermoed. Baie groter as wat ons in die Kerk leer. Die Kerke sal ons later nog reg leer. Want die Kerke moet ook nog leer om ons te leer. Naasteliefde is nog nie eens naastenby begin ontgin nie. En baie ander dinge." (Sarie, 19 November 1986)

"Elke storie het ’n ritme en jy moet heeltyd net dink hoe om by die wysie te hou. Dit is hoe ek werk. Soms kos dit baie dinkwerk om daardie ritme aan die gang te hou." (Rooi Rose, 29 Oktober 1986)

"Baie mense dink ek het ’n spesiale verhouding met die Bos en met die olifante. Hulle sien maande lank nie ’n enkele olifant nie en skielik op ’n dag lê daar ’n bol stomende mis. Dan sê hulle: 'Dalene Matthee is hier iewers. Daarom het die olifante gekom.'" (Tempo, 18 September 1987)

"Ek is ’n koppige soort mens. Ag, op die ou end is ek altyd verkeerd en moet ek maar luister. Ek dink die engeltjies geniet my, maar God raak soms baie moeilik oor my." (Keur, 11 Maart 1988)

"Ek is die eensaamste mens. En ek klou aan my absolute privaatheid. Dan is ek op my gelukkigste. Dan het ek geen probleme nie." (Keur, 11 Maart 1988)

"Jy kan baie dinge doen. Jy kan skerp skryf. Jy kan omstrede wees. Maar jy kan nie die wette van die Muse oortree nie. Jy mag nie lieg nie en jy mag nie iets skryf wat ’n mens verlaag nie. Hulle sal jou dit nooit vergewe nie." (Keur, 11 Maart 1988)

"Ek het in die Bos gesien wat is orde. Ek het respek gekry vir orde. Jy kan net veilig voel as daar orde is. En as die orde van my ’n groot prys verwag, dan moet ek dit gee." (Rapport-Tydskrif, 25Oktober 1992)

"Geskiedenis is eintlik die storie van hoe volke baklei en stry oor wat hulle gaan maak met mekaar se goed. Dié wat het, baklei om dit te hou en dié wat nie het nie, baklei om dit te vat. Dié patroon bly loop sonder dat hy ooit breek." (Rapport-Tydskrif, 25 Oktober 1992)

"Suiwer fiksie sal ek egter nooit kan skryf nie. Ek het ’n tekort in my kop daarvoor. Ek moet iewers ’n waarheid hê om mee te werk. Ek hoef nie baie te weet nie, maar dit wat ek weet, moet die waarheid wees." (De Kat, 1995)

Oor Charles Fryer, die eerste drie Bos-boeke se redakteur: "Ek mis Charles soos ’n stukkie brood. Ons het gestry dat jy ons in die straat kon hoor, maar Charles was gewoonlik reg. Charles het my van baie skandes gered, o, Charles het my van baie skandes gered. Deur sy fyn lees, sy fyn oplettendheid. Daai man ... Ek is baie verskuldig aan Charles." (Rapport, 27 Julie 2003)

"As ’n mens ’n man wil vernietig, leer hom om homself te haat. As jy ’n volk wil vernietig, leer die kinders om hulself te haat." (Oosterlig, 23 Oktober 1992)

"Skryf verg dissipline meer as enigiets anders. Die muse toets jou. Vir elke tree wat jy gee, gee hulle twee. Skryf is maar ’n werk soos alle werke. Ek het baie geleer uit my werk en ek kom keer op keer weer op my onkunde af. Soms is dit skokkend." (Oosterlig, 23 Oktober 1992)

Oor al die pryse en eerbewyse: "Ek waardeer dit, maar die kollig is vir my ’n swaar smaak. Dit alles sê vir my iets, maar ’n mens wonder in jou hart of jy dit werklik verdien het. Dit maak my ook bang, want ek wou nie beroemd wees nie. Ek probeer nou maar net om ordentlik beroemd te wees." (Oosterlig, 23 Oktober 1992)

"’n Skrywer kan nie sonder tekstuur, sintuiglike waarneming en intieme besonderhede skep nie. Ook nie sonder ’n eie geskiedenis nie." (Rapport, 16 April 2000)

"’n Honger leserspubliek is my brood en botter. Ek kan maar net hoop dat hulle nie sal sat word van die kos wat ek vir hulle voorsit nie." (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Dalena Scott is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Sy was die middelste van vyf kinders – drie dogters en twee seuns. Die Scotte is van die ou Stilbaaise geslag Scotte wat afstammelinge van sir Walter Scott is. Dalene word groot op Riversdal en vakansies bring hulle op die nabygeleë stranddorp Stilbaai deur. Langs daardie see het sy elke poel, elke slangsleepsel in die duine en elke tortelduif se nes geken. Toe sy klein was, het sy gedink alle mense het ’n huis op die dorp en nog een by die see. (aan Petra Müller, Sarie, 9 Mei 1984)

Dalene se pa, Danie, het ’n fyn aanvoeling vir musiek gehad en het tot op sewentig nog pragtig viool gespeel. Hy was ’n bouer en haar ma, Hester, ’n huisvrou.

Dalene vertel aan Cynthia Zietsman dat sy ’n leeshonger kind was en dat die eerste boek wat haar werklik aangegryp het, The Water-Babies van Charles Kingsley was. Sy beskou dit as ’n groot metafisiese werk.

Dalene het gedistingeerde voorvaders gehad, maar sy erken onomwonde dat sy maar altyd die swart skaap was. Haar pa se ma was familie van president Steyn en baie bewus van haar sosiale stand. Sy het Dalene as onmoontlik beskou: die kind wat nie op haar borduurwerk wou konsentreer nie en haar glad nie soos ’n dame gedra het nie.

Reeds as kind het sy bevliegings gehad om van ’n onderwerp wat haar beetpak, alles te wil weet: musiek, seilvaart, die pole, sterrekunde. "Om te weet jy kan hier in die grondpad sit met jou sterreboek en jou flits en die naghemel bo jou en jy kan die lig van die verlede sien ..." vertel sy aan Petra Müller (Sarie, 9 Mei 1984).

In Dalene se derde jaar op skool ontdek sy tyd en doen onmiddellik ’n hoë koors op by die besef dat sy nog tien lange jare op die skoolbanke sou moes deurbring.

Daar was net twee dinge wat sy goed kon doen en dit was opstelle skryf en klavier speel. Toe haar tienerjare aanbreek, is Dalene slegs geken as die stoutste kind op Riversdal.

In 1956 matrikuleer sy aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal.

Verdere studie en werk

Dalene was skaars agtien jaar oud toe sy in 1957 met Larius Matthee, ’n skoolvriend, getroud is. Hy het by die bank gewerk en saam met hom trek sy van Oudtshoorn na Darling, na Graaff-Reinet en Uniondale. Dalene beskryf Larius as haar veiligheidsgordel.

Drie jaar nadat hulle getroud is, terwyl hulle in Oudtshoorn woon, maak die oudste dogter, Amanda, haar opwagting, en daardie selfde jaar word een van Dalene se talle kinderverhale vir die eerste keer oor die radio uitgesaai. Ook die tweede dogter, Toni, is op Oudtshoorn gebore. In 1962 trek hulle Darling toe, waar die jongste dogter, Hilary, gebore word.

Haar musiekopleiding ontvang sy by die Van Zyl-musiekskool op Oudtshoorn en die Holy Cross Convent op Graaff-Reinet. Met ’n lisensiaat in klavier van die Trinity College of Music in haar sak gee sy musiek op verskeie dorpe in die Suid-Kaap, waar hulle gewoon het.

Oral waar hulle woon, lees Dalene dorpsbiblioteke deur en verken sy saam met haar kinders die wêreld van kennis. Gedurende die jare van rondtrek ontmoet Dalene mense wat ’n blywende invloed op het – soos die geoloog Japie Dekenah, wat bekend was vir sy ontdekkings van die prehistoriese mens, maar benewens dit ook fotograaf en metafisikus wat die rykdom van sy intellek en ook sy biblioteek met haar gedeel het. Daar was die Duitse bibliotekaris wat altyd swart gedra het en die moeilike boeke aan Dalene gegee het en haar dan daarna uitgevra het om seker te maak dat sy dit gelees en iets daaruit geleer het. Op Graaff-Reinet was dit suster Felix wat Dalene aangemoedig het om haar musieklesse voort te sit. Vir haar was net perfeksie goed genoeg.

Gedurende die gesin se verblyf op Darling begin Dalene kinderverhale skryf vir die radioprogram Siembamba om die gesin se inkomste aan te vul. Sy het die kinderverhale eers vir haar kinders gelees voordat sy dit aan die SAUK voorgelê het. As hulle aandagtig tot aan die einde van die storie geluister het, het sy geweet dat dit sou werk. Sodra enige van die kinders begin vroetel het, het sy geweet dat dit oorgeskryf moet word. Sy het gereeld gholf gespeel en het die Ladies Country Open op Rondebosch se gholfbaan in Kaapstad gewen.

Vanaf 1967 tot 1971 het die gesin op Graaff-Reinet gewoon, waar Dalene, op ’n halfdag-basis, kurator van die Hester Rupert-kunsmuseum was. Sy sluit by Anton Rupert se restourasiespan aan en is betrokke by die restourasie van Stretch se hof.

In 1971 word Larius aangestel as bestuurder van Standard Bank op Uniondale in die Langkloof. Daar is Dalene instrumenteel in die restourasie van die watermeule en die Ou Fort wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer. Larius het egter gesondheidsprobleme en in 1978 tree hy af en verhuis die gesin na Hartenbos.

Dalene begin toe skryf – eers kinderverhale (haar eerste gepubliseerde boek was Die twaalfuur-stokkie wat in 1970 deur Voortrekkerpers uitgegee is), toe kortverhale, en ook dramas (haar eintlike ideaal) waarvan SATV egter niks wou weet nie. Die dramas word later in boeke verwerk waar sy skielik in die groter ruimte wat die roman haar bied, haar ware slag vind.

Dalene het bykans ’n jaar gesukkel voordat een van haar verhale deur ’n tydskrif aanvaar is. En dié verhaal het sy in Italië laat afspeel sonder dat sy ooit die land besoek het. In 1982 verskyn die kortverhaalbundel Die Judasbok, asook die roman ’n Huis vir Nadia. In 1983 verskyn Petronella van Aarde, burgemeester, wat eers as vervolgverhaal in ’n tydskrif verskyn het.

Oor Die Judasbok skryf Ia van Zyl in Die Suidwester (31 Desember 1982): "Dit is verblydend om ’n bundel in die hande te kry met as doelgroep die leser wat nie in die eerste plek lees om die intellektuele bevrediging wat die teks verskaf nie, maar hoofsaaklik ter wille van die leesgenot." Vir André P Brink (Rapport, 26 September 1982) het Dalene Matthee "op deeglike, verantwoorde, en soms opwindende manier die kortverhaalkuns bemeester." Hennie Aucamp (Transvaler, 15 November 1982) beskryf die bundel as "vermaak met gehalte" terwyl JP Smuts (Die Burger, 25 Novmeber 1982) meen dat ’n "wye leserspubliek die versameling toeganklike en goedgeskrewe verhale behoort te geniet". Enkele kenmerke van die bundel wat deur kritici uitgesonder word, is die eenvoudige, direkte taalgebruik, oortuigende dialoog, aantreklike ligte aanslag van ’n aantal van die verhale, en wye verskeidenheid temas wat in die verhale aangeroer word.

Martjie Bosman skryf in Die Taalgenoot van Oktober 1985 dat Dalene se kennismaking met die Knysnabos tot haar groot deurbraak gelei het. Dalene vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 27 September 1984) dat sy by ’n kruispad was wat haar skryfwerk betref. "Ek het geweet ek is klaar met kortverhale, maar was nie seker waarmee en hoe om aan te gaan nie. Om nie heeltyd by die huis te sit en daaroor te broei nie, het ek en my man besluit so ’n staptog kan net ’n goeie ding wees. Min het ek geweet ..."

Rautenbach skryf verder: "Want van die eerste tree af het die Bos haar geboei – veral omdat so baie van die vrae wat by haar opgekom het, onbeantwoord gebly het: Waarom is sulke groot dele van die bos afgekap? Wat maak die eik tussen die inheemse bome? Wat het van al die olifante geword?"

Dalene het nie gerus voordat sy antwoorde op haar vrae gekry het nie. Die eerste plek waar sy om inligting aangeklop het, was Knysna se dorpsmuseum, Millwood House. Nadat sy deur die dokumente, briewe en verslae gewerk het, kon sy in haar verbeelding ’n prentjie sien van die lewe wat in daardie jare gesentreer het rondom die Knysnabos, asook die bittere verskille in stand tussen die boswerkers en die Engelse mense van die dorp. Haar navorsing het intense leeswerk oor die bome, die delwers en die olifante behels.

Maar dit was veral die lot van die boswerkers wat sy só aangrypend gevind dat sy besluit om die storie van die Bos neer te pen. En die oomblik toe sy op die storie afkom van ’n man wat sy familie verlaat het om op sy eie geluk te gaan soek dat sy besef het: "Hier is my boek," vertel sy aan Rautenbach. "Sy geskiedenis was so ongelooflik en so nou verweef met die geskiedenis van Knysna in daardie tyd, dat ek nie anders kon as om hom my hooffiguur te maak nie."

Die seun noem sy Saul Barnard en die verhaal word haar bekende Kringe in ’n bos. Dit was hierdie boswerkers se armoedige bestaan wat haar gedwing het om die boek te skryf, want, vertel sy aan Petra Müller (Sarie, 9 Mei 1984), "baie van hulle was verpand aan houthandelaars in ’n soort onbeskrewe feodale bestaan. Dit het daarop neergekom dat hulle die Bos moes uitroei om hul skuld by die handelaars afgewerk te kry en om aan die lewe te bly. ek wou daardie waarheid vertel en dit is vir my die grootste vreugde van die boek: dat sy haar nie voor hierdie vriende hoef te skaam nie. Want op ’n dag het een van hulle na Dalene gekom en vir haar gesê: 'Sal iemand dan uiteindelik voor die Here ons storie vertel?'"

"Die titel Kringe in ’n bos het ek reeds vroeg gekry. Dit gaan oor die patrone van die olifante en die verdwaal van mense – oor die eeue heen is soveel kringe in die Bos geloop," vertel sy aan Nols Nieman. (Volksblad, 7 Oktober 2002)

Aan Koos Prinsloo (Beeld, 19 Mei 1984) vertel sy: "Ek wou probeer om ’n werk te skryf wat ’n bietjie van Rooikappie se sukses het. Dit was ’n poging – as ek baie eerlik moet wees – om ’n glorified fairy-tale te skryf."

Na elf maande se navorsing en nege maande se skryf, was Dalene platsak. Haar "aktetas" waarmee sy die manuskrip na Kaapstad en die uitgewers wou neem, was ’n appelkissie wat met ’n stuk tou aanmekaar gehou is. Haar kinders protesteer egter só heftig dat sy toe maar die manuskrip in ’n OK-inkopiesak vervoer het. Terwyl die manuskrip by die uitgewers lê, pak Dalene en Amanda, haar dogter, die vertaling in Engels aan. "Net gekke en dwase doen sulke dinge. Toe ontdek ek hoe onvertaalbaar mooi ons taal is." (Aan Petra Müller, Sarie, 9 Mei 1984)

Die eerste weergawe is met ’n geel HB-potlood in ’n reeks aantekeningboeke geskryf. Daarna is die hele roman oorgetik, en dit was toe sy die "vanilla" byvoeg. Sy het nooit in die Bos geskryf nie, maar daar gewerk en dan die materiaal teruggeneem huis toe om daar verder daardeur te gaan en te sif en die feite na te gaan.

Dalene vertel aan Nols Nieman (Volksblad, 7 Oktober 2002) dat sy ’n goeie pianis was, maar "die eerste dag toe ek my geel potlode skerp maak om Kringe te skryf – dis die gospel truth – was die laaste dag dat ek aan ’n klavier gevat het. Daarna het ek ook my piano weggegee."

Intussen kom sy te hore dat André P Brink baie van die boek hou, vertel sy aan Müller: "Hier gebeur iets in Afrikaans ... ’n Roman met ’n breedte en ’n diepte en ’n verskeidenheid en ’n wysheid wat ’n hele loop deur ons prosa kom loop," was Brink se kommentaar.

Dalene skryf toe vir hom en vra wat sy met die Engelse vertaling moet doen. "Uit die goedheid van sy hart skryf hy vir sy persoonlike agent, Dinah Wiener, by ’n groot ou Engelse letterkundige agentskap ..." Dinah Wiener laat weet haar dat daar "toorgoed" in Dalene se manuskrip is. Die manuskrip is na van die mees kieskeurige uitgewers in Europa gestuur en die aanbiedinge vir vertalings het begin instroom. Dalene is Bos toe om te gaan dankie sê. Die boek word in Nederlands, Engels, Fins, Frans, Hebreeus, Yslands, Italiaans, Noorweegs, Portugees, Spaans en Sweeds vertaal.

Die Afrikaanse Kringe in ’n bos geniet ongekende sukses en die kritici is almal positief. André P Brink (Rapport, 27 Mei 1984) beskryf dit as ’n "ryk en nuwe bydrae tot die Afrikaanse letterkunde" en vir Wium van Zyl (Die Suidwester, 29 Junie 1984) is dit ’n boek wat jonk en oud, slim en minder slim enduit sal vashou, en Elsa Joubert (Die Vaderland, 2 Julie 1984) beskryf dit as ’n boek waar die gevoel van waarheid vooroop staan met Saul Barnard as ’n figuur wat enig in ons letterkunde is.

Binne twee en ’n half jaar is 118 874 eksemplare van Kringe verkoop en in 1985 ontvang dit die eerste ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde Afrikaanse prosa. Dit is bekroon, is daar gesê, omdat dit ’n oorspronklike verhaal is wat op ’n boeiende en vlot leesbare wyse vertel word. Hierdeur word ’n oortuigende verhaalwêreld geskep waarin feit en fiksie mekaar afwissel. Die historiese agtergrond getuig van deurdringende navorsing en die verhaal besit drif en vaart wat nie kunsmatig geskep is nie.

Sedert 1986 is Kringe in ’n bos landwyd voorgeskryf vir standerd 9- en matriekleerlinge en saam met Fiela se kind is dit vir meer as twintig jaar op die voorskryflys.

Die toestroming wat die dorp Knysna beleef het na die publikasie van die boek, word goed benut deur die publisiteitsvereniging van die dorp deurdat hulle botteltjies olifantmis verpak en verkoop het. Dit het glo soos soetkoek verkoop!

Britse resensente was net so ingenome met die boek. Peter Grosvenor van die Daily Express noem dit ’n "haunting novel" en bestempel ’n toneel daarin as "aangrypend genoeg om jou ’n knop in die keel te gee". (Rapport, 2 September 1984)

Maar Dalene geniet dit die meeste om oor die Bos te praat en nie oor die sukses van Kringe nie. Sy vertel aan Angela van Schalkwyk in The Citizen (14 September 1984) dat die Bos ’n entiteit is met ’n siel van sy eie. Wanneer sy daar in loop, kry sy ’n gevoel in haar binnenste. Dit is ook ’n gevoel wat haar hoofkarakter, Saul, goed ken. "The more the Forest closed round him, the lighter his body felt. He wanted to stretch out his hands and touch the nearest trees. He wanted to sit down and feel the cool, clammy moss under his fingers. He drew the forest air into his lungs as if to fill himself with it."

Die sterkste tema van die boek is die verwoesting van die Bos en die ondeurdagte doodmaak van die Knysna-olifante. "Daar was ’n tyd gedurende my navorsing toe al hierdie aaklige verwoesting my baie sterk geaffekteer het. Ek het ’n diepe woede in my gehad en het tred verloor met waarheen ek op pad was. [...] Eenhonderd jaar gelede was daar tussen 400 en 500 olifante in die Bos. Vandag (1984) is daar slegs drie oor. Die Knysna-olifante is die mooiste in die hele wêreld," aan Angela van Schalkwyk (The Citizen, 14 September 1984)

Dalene se navorsing vir Kringe in ’n bos oor die Bos en sy mense het nog ’n boek in die hand gewerk. "Ek was nie eens halfpad nie, toe het ek al geweet daar gaan meer as een boek uit die Bos kom."

In 1985 word Fiela se kind gepubliseer. Die eerste oplaag was 30 000 eksemplare – die meeste wat Tafelberg-Uitgewers nog ooit van een titel gedruk het van ’n boek wat nie voorgeskryf of ’n kroonboek by Leserskring was nie. (Beeld, 22 April 1985)

Dit speel min of meer in dieselfde tyd as Kringe af – tussen 1860 en 1880. Elias van Rooyen, die houtkapper, en sy gesin woon in die Bos. Op ’n dag verdwyn hulle driejarige seuntjie, Lukas, en word as dood aangeneem. ’n Bruin gesin wat aan die ander kant van die berg in die Lange Kloof woon, vind ongeveer dieselfde tyd ’n driejarige wit kind voor hulle deur. Fiela Komoetie maak hom met liefde groot as haar eie totdat hy nege jaar later tydens ’n sensusopname opgemerk word. Elias se vrou wys hom aan as haar verlore seun en hy word teruggestuur na die Van Rooyens, en so word Benjamin Komoetie skielik Lukas van Rooyen en moet hy leer om by die houtkappersbestaan aan te pas. Sy enigste vertroueling tydens hierdie identiteitskrisis is sy "suster" Nina, vir wie hy ’n besondere liefde ontwikkel. Die verhaal, wat op die werklikheid gebaseer is, is aan Dalene vertel deur ’n sekere Elizabeth Grimble en lesers word binne-in die boswêreld geplaas, terwyl hulle ook met die kontrasterende, harde volstruiswêreld van die Lange Kloof kennis maak. (Sarie, 19 Junie 1985)

Weer is die kritici gaande oor die boek. Gert Jooste (Oosterlig, 6 Mei 1985) noem dit ’n "fassinerende brok lewe en ’n plesierryke, bloedlewende vertelling", en vir André P Brink bevestig Fiela se kind op "skitterende wyse dat min mense by Dalene Matthee se onderhoudende vertelkuns kan kers vashou". Cecile Cilliers (Beeld, 29 April 1985) meen dat dit ’n bewys is dat Dalene Matthee twee wenners na mekaar kan skryf.

Teen Januarie 1988 is 83 200 eksemplare van Fiela se kind reeds verkoop. Dit word deur Suzanne van Wyk vir die verhoog verwerk en ’n filmweergawe word onder regie van Katinka Heyns gemaak met Shaleen Surtie-Richards as Fiela Komoetie. In 1993 is dit as ’n Engelse opera deur die studente van die Wits-musiekskool op die planke gebring met die musiek deur prof Carl van Wyk en die liriek deur Andries van der Walt. In 1999 is dit as ’n musiekblyspel in Kaapstad opgevoer deur Ian von Memerty en word dit met twee Vita-toekennings bekroon. Fiela se kind is net soos Kringe in ’n bos ook met die ATKV-Prosaprys vir 1986 bekroon. In 1999 word Fiela se kind as Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys. Tolkien se Lord of the rings was eerste, met Fiela tweede en Kringe in ’n bos in die derde plek.

Vir Fiela se kind moes Dalene die enigste meestersgraad ter wêreld oor ’n volstruis deurwerk. "Jy kan nie ’n volstruis in ’n kamp sit met ’n potlood nie. Jy was nog net by die Safari Ostrich Farm op Oudtshoorn. Wat weet jy van ’n volstruis?" (Die Burger, 22 Maart 1985)

In 1986 het Tukkies se Studenteraad vir Dalene vereer deur ’n eremedalje aan haar toe te ken vir haar uitstaande bydrae tot die mense van Suid-Afrika, haar voorbeeldige Christelike karakter en haar integriteit.

Die Raad van die Suider-Afrikaanse Instituut van Boswese het in 1986 eenparig besluit om daardie jaar se Bosbouprys aan Dalene toe te ken. Volgens ’n verklaring van die Instituut het sy die Outeniekwa en die ekonomiese en maatskaplike omstandighede van hierdie gebied in die tydperk 1880 tot 1890 aan die leserspubliek bekend gestel. "Deur haar romans het sy mense vertroud gemaak met die Knysnabos, die vroeë houtkappersgemeenskap en die groei en die ontwikkeling van die houtbedryf in Knysna. Enersyds het sy begrip by die lesers gewek vir die destyds verarmde en dikwels veragterde boswerkersgemeenskap en andersyds het sy die aandag gevestig op die noodsaaklikheid om die inheemse diere en plantegroei te bewaar. Haar romans is gegrond op ’n deeglike studie van die Bos en die houtbedryf van die streek. Die vakkundige, tegniese en geskiedkundige inligting in die romans is juis en bo verdenking." (Oosterlig, 26 Februarie 1986). In 2004 ontvang Dalene weer die Bosbouprys uit erkenning vir haar uitsonderlike diens aan bosbou in Suider-Afrika.

Dalene se derde Bos-boek, Moerbeibos, verskyn in 1987. Vir Dalene was hierdie boek die moeilikste om te skryf, maar sy het altyd geweet dit gaan kom. "Dit is eintlik die boek wat ek heel eerste wou skryf," vertel sy aan Nico van Gijsen in Rapport van 27 September 1987. "Daar reg aan die begin, toe ek begin het om stof bymekaar te maak vir ’n boek, toe ek nog nie eens van Kringe geweet het nie, toe het ek al geweet ek gaan dié een skryf. Dáárdie tyd al het ek gehoor van 33 Italiane – sy-boere – wat in 1882 na die Bos toe gekom het. Dit is vir my een van die mooiste stukkies geskiedenis in die Bos. Ek hoop die mense het geduld vir nog ’n boek."

Dalene vertel dat hierdie Italianers – "uitgesoekte mense, fyn mense, vakmanne – uit Italië bos toe is nadat daar aan hulle gesê is die hele woud bestaan uit moerbeibome. Hulle wou die sybedryf daar gaan vestig. Hulle is sommer net so in die Bos afgelaai. My broer, jy moet sien hoe lyk dit daar. Daar was nie eens ’n pad nie. Hulle moes self ’n pad oopkap boontoe." Sy kon egter nie toe al met hierdie boek begin nie, want die navorsing was te duur. Sy moes eers die ander twee skryf. En die twee ATKV-pryse het ook gehelp.

Moerbeibos word vertel deur die oë van Silas Miggel, ’n tipiese Bos-karakter, omdat "geen volk die reg het om oor ’n ander volk te skryf nie. Jy ken nie sy siel nie. Die naam Silas het ek uit die Bybel gehaal. Die Bos-mense was lief om hul kinders name uit die Bybel te gee. Dit het my drie dae gevat om op daardie naam te besluit. En weet jy hoe bly was ek toe ek sy betekenis gaan opkyk? Silas beteken dan 'uit die bos', 'man van bome'," vertel Dalene aan Nico van Gijsen. (Rapport, 27 September 1987)

Die navorsing vir Moerbeibos was baie harde werk. "Jy weet, ’n mens kry niks verniet nie; jy moet werk; jy moet soek; jy moet uithou. As jy ophou, is daardie ding nie die moeite werd nie." En sy hét uitgehou. In Italië het sy vreeslik gesukkel om by die symuseum uit te kom – niemand daar het van so ’n museum geweet nie. En toe sy hom uiteindelik in die hande kry, lê alles toe onder die stof en vol spinnerakke. "Asof dit nie erg genoeg was nie, gee die konsul my boonop so ’n wulpse jong meisietjie om my te help ... het jy nou al gesien hoedat my ou man sommer net daar en dan die grootste belangstelling in geskiedenis kan ontwikkel?"

In Londen in die Britse Museum het sy lang ure gesit en werk en haar nie van haar stoel af gelig nie – nie eers om toilet toe te gaan nie – omdat sy te bang is iemand vat haar stoel. "Maar dan kom jy by die huis en jy gaan in die eensaamste stukkie tyd van jou lewe in. [...] Ek eet, slaap, werk en dink ... alles doen ek in my studeerkamer. In die begin lees ek nog gereeld my Bybel, maar later kom ek nie eens meer daarby uit nie. En dan vra ek die Here om verskoning. Ek sê vir Hom dat ek later weer gereeld sal lees. Hy verstaan. Ek kan mos net een ding op ’n slag doen." (Rapport, 27 September 1987)

En net soos die eerste twee Bos-boeke is Moerbeibos onmiddellik ’n treffer. Binne die eerste drie maande word 67 500 eksemplare verkoop. Moerbeibos word in 1988 met die ATKV-Prosaprys bekroon. Met die ontvangs van hierdie prys het Dalene gesê: "Ek sluit my sewe bosjare af."

In Dalene se volgende boek, Brug van die esels, wat in 1992 verskyn, verskuif die agtergrond van die verhaal uit die Bos uit en speel dit ook in die moderne tyd af. Sy dwaal egter nie te ver van die bekende af nie – die verhaal het as agtergrond die omgewing van Mosselbaai, Knysna en George in die Suid-Kaap waar sy grootgeword en gewoon het.

Die titel Brug van die esels kom eintlik van ’n ou Latynse gesegde, pons asinorum, vertel Dalene aan Die Oosterlig (23 Oktober 1992), wat sê dat ’n mens ’n brug vir ’n esel moet bou om hom by die waarheid te kry. Dit is dan ook een van die sentrale temas in die boek.

Die verhaal handel oor ’n jong vrou wat die land wil verlaat. Om geld te kry werk sy as eiendomsagent op George en spaar sy elke sent wat sy verdien. Tydens ’n kooptransaksie bied ’n egpaar haar ’n hand vol diamante aan as gedeeltelike betaling vir ’n huis. Sy onthou van ’n man, ’n ryk familievriend, oor wie daar geskinder is dat hy sy geld uit diamantsmokkel gemaak het, en gaan besoek hom. Hy gee haar die naam van ’n koper in Kaapstad en ’n transaksie word beklink. Sy besef sy kan op hierdie manier vinnig geld maak om haar droom te verwesenlik om die land te verlaat.

Dalene vertel aan Hoffie Hofmeister (Rapport-Tydskrif, 25 Oktober 1992) dat sy aan die skryf was aan Kringe toe sy eendag in 1981 ’n foto op die voorblad van die koerant sien van ’n jong vrou wat in verband met diamante in die hof verskyn het. Dalene het die meisie en haar ouers geken en dit het haar laat wonder hoekom sy dit gedoen het. Sy het met die meisie gaan praat en haar gevra of sy vir Dalene sal vertel vanaf die eerste dag toe die eerste diamant in haar hand gelê het. Dalene het vier swaar jare aan Brug van die esels gewerk en nagevors.

Met die skryf van hierdie boek het sy die eerste keer in haar skryfloopbaan tou opgegooi voordat die werk voltooi was. "Dit was die enigste boek wat ek opgegee het. Regtig neergesit het en nie gedink het ek sal dit klaarkry nie. Dit was so driekwart deur die boek. My groot probleem was om die soveel [met wyd uitgestrekte arms] soveel [wys met voorvinger en duim] te kry dat dit nog sin maak." Gelukkig het ’n wonderwerk gebeur wat haar weer aan die skryf gesit het. Oor die wonderwerk wou sy nie teenoor Hofmeister uitbrei nie.

Dalene en lede van haar gesin het, net soos Araminta Rossouw van Brug, dit net voor die skryf van die boek ook sterk oorweeg om Suid-Afrika te verlaat. "Jy kan deur ’n karakter loop," vertel sy aan Willem Pretorius (Beeld, 22 Oktober 1992), "maar as jy nie daai krisis beleef het nie, sal jy nooit so ’n karakter laat leef nie. Ons gesin is deur daardie krisis van jou land wil verlaat. [...] Dis ’n baie ernstige ding as ’n kind van jou aan jou wortels kom pluk. Hulle hou die wonderlikste politieke toesprake. Ek en die karakter het deur daardie toesprake geworstel met die skryf van die boek. En dieper in die boek het die krisis al dieper geword. [...] Nou is ek deur die krisis, maar my kinders nog nie."

Pretorius vra haar of sy voel dat daar plek vir wittes in Afrika is: "Ek voel nou daar is plek vir my. Daarmee saam het die besef gekom dat ek Afrika skuld en hy nie vir my nie. So driekwart deur die boek wou ek emigreer. Net so voor Kodesa. [...] Die keerpunt het gekom toe ek besef ek sal vergaan as ek ophou om in wonderwerke te glo. Daar het toe ’n groot vrede oor my gekom. Elke keer as ek nou in die buiteland is, moet ek ná 21 dae tuis wees. As daai vliegtuig oor George draai, praat die aarde met my. Daarom is dit goed om weg te gaan – sodat jy kan terugkom."

George Weideman (Die Burger, 17 November 1992) skryf in sy resensie: "Stel jou voor jy leef in ’n tyd van ekonomiese probleme, geldvrate en politieke opportunisme, seker die gevaarlikste tyd vir ’n skrywer, want juis dán word die skrywerstem nie maklik bo die klank van geld gehoor nie. En juis dán verskyn ’n roman soos Brug van die esels, as bevestiging van die enigste eerbare rol wat die skrywer nog altyd durf speel het in so ’n tyd: om skeefgetrekte waardes te bevraagteken, om ’n boodskap van opstand en hoop te bring, om korrektief te wees vir opportunisme. Dalene Matthee kry met haar roman die onmoontlike reg. Dit is om ’n haas oppervlakkige, maar boeiende storie met soveel wysheid te laai dat selfs die grootste filistyn nie onaangeraak bly nie."

In 1992 word Dalene aangewys as een van die twee wenners van die Stab-prys. Stab (Stiftung für Abenländische Besinnung) is ’n Switserse vereniging onder leiding van dr Hans Jenny wat jaarliks erkenning gee aan mense wat ’n aansienlike bydrae tot die uitbouing van die Westerse kultuur gelewer het. Dalene word vereer "vir haar warm en kragtige romans wat uitdrukking gee aan haar betrokkenheid by die bedreigde omgewing en iedere mens se intellektuele reg op sy kulturele identiteit".

In 1988 ontvang Dalene die ereburgerskap van haar geboortedorp Riversdal en in 1994 die ereburgerskap van Hartenbos. Sy was die eerste en laaste mens wat hierdie eer gekry het, aangesien Hartenbos by Mosselbaai ingelyf is. Voor Dalene het net die ATKV hierdie erestatus geniet.

Susters van Eva (Dalene se gunsteling van al haar boeke) verskyn in 1995, en soos almal al gewoond geraak het, word dit in 1996 met die ATKV-Prosaprys bekroon. Sy vertel aan Suzaan Steyn dat sy weet dat sy nie altyd "so gaaf" is nie en dat sy soms "’n pyn" is. Sy beskryf haarself ook as "Hartenbos se nie-maklikste inwoner", maar dit is oor sy so "diep omgee". (Volksblad, 26 Mei 1994)

Soos wanneer sy praat oor die vrou aan wie sy Susters van Eva wou opdra – "die vrou wat my op ’n lang reis geneem het deur die wêreld van vrouwees, wat my laat krap het deur die psige van die universele vrou en myself anderkant laat uitstap het om ten minste myself beter te verstaan en al die ’nonsens' wat ek in my lewe aangevang het." (aan Suzaan Steyn, De Kat, 1995)

Vir Susters van Eva het haar navorsing haar geneem na skaapplase in die Karoo, deur die wêreld van die bobbejane, tot by ’n vrou wat sielkundige in Londen is. Sy erken dat sy nog altyd wou weet wat in ’n vrou se kop gebeur. "Waarom ’n goeie, denkende vrou dikwels vooraf baie goed weet wat sy wil sê, maar die oomblik wat sy haar mond oopmaak, sê sy die teenoorgestelde. Of sê wat sy dink daar van haar verwag word om te sê en nie wat sy regtig dink nie. Hoekom?" (aan Suzaan Steyn, De Kat, 1995)

Die boek is geweef rondom vier vrouekarakters wat die vier verskillende soorte vroue in die samelewing uitbeeld: die intellektuele vrou, die intuïtiewe vrou, die sensasievrou en die gevoelsvrou. Die gebeure het sy fyn geweef om en deur die plek wat hierdie vroue in die samelewing volstaan, wat hulle gemaak het wat hulle is en deur watter katarsis hulle moet gaan. Die vier vroue is die geëmansipeerde stoetboer Cecelia, die onderdanige Louise, die wyse bruin Sofia en die wilde Jessie wat die bestel in die Kloof kom omkrap het.

Dalene het in 1988/89 aan die roman begin werk en na ’n ruk begin dink dat die onderwerp te groot is vir haar om reg daaraan te laat geskied. Sy sê haar ander boeke is "eenvoudiger", want dit was geskiedenis en daarvoor gaan jy argief toe. "Wat ’n vrou se kop laat werk, staan nêrens in argiefmateriaal opgeteken nie."

Susters van Eva se kern is om ’n ware storie gebou. ’n Vriend van haar het haar vertel van ’n vrou wat ’n baba verdrink het en Dalene het onmiddellik geweet dit kan die kern wees van die storie oor vroue wat sy nog altyd wou vertel het. Sy is na die omgewing waar die vrou gebly het en het gesoek totdat sy die plek gekry het waar die gebeure hulle afgespeel het. "Nou kyk," vertel sy aan Suzaan Steyn, "ek het ’n redelike sterkte in my, maar iets het op daardie oomblik gebeur waaroor ’n mens regtig nie kan praat nie. Ek het gehuil en vir haar gesê ek is jammer. Oor ek in haar lewe kom krap het." Dalene het besluit om ’n deel van hierdie vrou haar hoofkarakter te maak en het al dieper by haar betrokke geraak.

Vir die sielkundige in Londen het sy gevra: "Ek het ’n vrou. Sy het eers die kind drooggemaak, toe bottel gegee en toe in die water gelê om te verdrink. Help my om te begryp."

Haar navorsing het net meer as drie jaar geduur voordat sy begin skryf het. "Toe ek die dag die laaste sin skryf, het ek besef ek het presies nege maande lank geskryf ... So al asof dit ’n soort geboorte was." Vir Dalene was die vier jaar wat sy aan die boek gewerk het, van die lekkerste in haar lewe. Dit was vier jaar waarin sy die meeste geleer het – oor vrou wees.

Wat haar die naaste aan die hart gelê het, was die bobbejane wat ’n sentrale tema deur die verhaal vorm en (amper soos die olifante in die Bos-boeke) ’n magiese teenwoordigheid word. Sy vertel aan Steyn: "Weer eens was dit die wyfie binne die trop wat my belangstelling geprikkel het. Wat my na bobbejaankenners gestuur het. Berge toe om self waar te neem. Aan die BBC laat skryf het oor ’n program wat ek tien jaar gelede in Londen gesien het en wat hier in Kaappunt oor ’n trop wilde bobbejane gemaak is. Hulle het my ’n afskrif laat kry. Die orde binne die troppe het my bekoor. Hulle is so individualisties, elkeen met sy eie plek in die groep, maar saam vorm hulle ’n bewonderenswaardige eenheid."

Vir François Bloemhof (Die Burger, 25 Oktober 1995) bied die boek baie vreugdes, ten spyte van klein haakplekkies. Dalene tref weer met haar woordspel wanneer sy keer op keer die regte woord op presies die regte plek inspan vir maksimum effek. "En min skrywers kan só met die natuur werk. Matthee het nog altyd die vermoë gehad om mens en natuur met mekaar te verstrengel en hulle mekaar te laat weerspieël. Hier weer is die mens en die natuur één. Die gedeeltes wat die heel meeste beïndruk, kom voor wanneer die bergbobbejane beskryf word. In ’n stadium beskerm hulle Jessie. Dit is duidelik dat Matthee deeglik navorsing gedoen het oor hierdie diere; hulle kry lewe en vorm ’n parallel met die mense in die Kloof. Die Kloof is nog ’n lewe: ’n plek wat opofferings verg van dié wat in hom woon, en hulle soms beloon vir hulle arbeid, en ander kere straf ten spyte daarvan. Brug van die esels was nie so gewild soos die drie Bos-romans nie, dalk omdat dit teen so ’n assosiasieryke agtergrond afgespeel het. Die Kloof is ’n goeie plaasvervanger vir die Bos; die naam alleen roep ’n gevoel van grootsheid op, asof niks wat hier gebeur alledaags kan wees nie. Dwarsdeur Susters van Eva is dit asof die omgewing ’n krag oor sy bewoners uitoefen, soms op ’n demoniese wyse. Al val die roman se fokus op menseverhoudinge, is dit duidelik dat Dalene Matthee niks van haar storievertellersvaardighede verloor het nie."

Alexa Strachan het Susters van Eva tot ’n verhoogstuk verwerk en by die KKNK op die planke gebring.

In Augustus 2000 is Dalene se man, Larius, na ’n lang siekte aan kanker in Hartenbos oorlede.

Dalene se volgende roman, Pieternella van die Kaap: historiese roman oor Pietenella van Eva-Krotoa, word in 2000 gepubliseer. Sy glo hierdie roman is eers deur die gode gestuur toe sy "reg was om die rekenaarknoppe te druk, want daarsonder sou ek nie Pieternella kon skryf nie". Die Nasionale Kunsteraad het in 1998 ’n toelae aan Dalene gegee vir gedeeltelike finansiering van haar navorsing vir Pieternella van die Kaap.

Sy loop al vir jare met die gevoel dat daar ’n vrou is oor wie geskryf moet word – "’n heerlike, slinkse vrou. Sy is ’n Hottentottin, Eva van die Kaap. Maar sy’t nie asem nie. Elke keer as ek begin, gaan sy onder my hande dood." Dalene kontak die bekende historikus Dan Sleigh en vertel hom dat sy met hierdie vrou wil werk. "Maar as ek in die algemene dagregisters van die VOC gaan oplees, is sy ’n spikkeltjie. Tog was sy ’n belangrike mens: die tolk vir handeltransaksies tussen die amptenare van die Kasteel en die Hottentotte," vertel Dalene aan Elmari Rautenbach (Sarie, 22 Maart 2000).

Dan Sleigh gee toe vir Dalene die wenk om eers Eva se dogter, Pieternella, by die Deense chirurgyn Pieter van Meerhoff te gaan soek. Toe Dalene begin werk, besef sy dat sy dit nie alleen sal kan doen nie en vra Dan om haar te help, en stel hom aan. In hul navorsing oor drie jaar het hulle antwoorde gekry op vrae wat tot op daardie destyds nog onbeantwoord was, asook oor details oor minder bekende feite – veral oor die belangrike rol wat die "Godseiland" Mauritius as ’n verversingspos en later as ook as tuiste vir Pieternella gespeel het.

"Ek dink dit is die eerste keer dat Dan saam met iemand gewerk het wat vir hom sê: die feite is vir my onaanvaarbaar," vertel sy aan Elmari Rautenbach. "Hy’t later geweet as ek eers sê my maag sê dis nie waar nie, soek ons van voor af ..."

Dalene se navorsing vir Pieternella het behels dat sy Robbeneiland moes besoek. Daarvoor moes sy toestemming kry om die eiland in sy geheel te leer ken. "Elke baai, rots, pikkewynplek, waar die Uitkyker op Vuurberg gesit het, wat hy gesien het. Daarna begin jy met die dagboeke van die Poshouers en immers begin jy weet waar waarvan hy praat, val dinge in perspektief." (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Om die agtergrond vir die martelkamers na te vors, is sy Nederland toe, want in Den Haag is ’n museum waar al die VOC se ou martelkamers se apparate gehuisves word en waar die kurator jou presies vertel hoe daar gemartel is. Daarna na Amsterdam waar daar by die Skeepsmuseum ’n presiese replika van ’n VOC-seilskip in die hawe dryf. Van hierdie seilskip moet elke hoekie verken word "sodat jy ten einde so korrek as moontlik ’n seilskip op die water kan hou". (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Daarna is sy Mauritius toe waar sy gaan kyk het waar die ou Losie van die Hollanders gestaan het, waar die skepe aan anker gelê het. "Jy fynkam Lamotius se dagboeke, elke brief wat van Mauritius af an die Kaap gerig was." En dit was alles net die punt van die ysberg en het Dalene uiteindelik ’n yslike R59 000 uit die sak gejaag. (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Dalene vertel aan Charles Fryer in Insig van April 2000 dat sy ’n geweldige respek vir die waarheid het, veral as dit kom by haar navorsing: "Dit sal verskriklik wees om te weet jy't ’n lieg geskryf. As ’n skip moet uitvaar, is die windrigting tog belangrik. Pieternella se skip verlaat die Kaap in die winter, dus sal die noordwester waai. En jy moet weet wanneer die seesiek hulle begin tref. Jy moet weet hoe so ’n seilskip werk, hoe die winde loop, hoe die storm hulle slaan, hoe hulle deur die koraalrif rondom Mauritius kom."

Barrie Hough (Rapport, 14 Mei 2000) beskryf Pieternella as ’n aangrypende lewensverhaal van Pieternella en dat dit ’n panoramiese en deurtastende beskouing gee van die lewe aan die Kaap, op Robbeneiland en Mauritius in die sewentiende eeu. Hy skryf: "Matthee dis nie net droë geskiedenis soos wurgpap op nie. Sy sit dit in fyn porselein voor as ’n smulmaaltyd met subtiele speserye, nuwe geure en geheime sousies wat die smaak nog verder prikkel."

Hoewel Dalene na die verskyning van Moerbeibos gesê het dat sy klaar is met die Bos, het sy altyd gevoel daar moet ’n "vierde poot van die tafel" wees (Beeld, 18 Julie 2003). Byna twintig jaar na die publikasie van Kringe in ’n bos skryf sy Toorbos. Dit gaan oor die onsigbare en bonatuurlike in die Knysnabos. "Dié deel van die Bos wat die oë nie kan sien nie. Dis ’n persoonlike, eerlike boek. Ek sou graag vir die Bos wou gaan sê ek het my dankie geskryf. Daar is ’n ding in die Bos wat onsienlik is," vertel sy aan Nols Nieman in Volksblad van 7 Oktober 2002.

Met Toorbos word die verhaal van die mense van die Bos, voltooi. Sy vertel aan Francois Smith (Beeld, 18 Julie 2003) dat sy geweet het dat sy die stories oor die Bos moes afsluit waar die houtkappers die Bos verlaat. "En dít is grootliks die verhaal van die bittere laaste dae van die Knysna-houtkappers, ’n soort maatskaplike realisme wat jy jou nie maklik onder die titel Toorbos kan voorstel nie", skryf Francois Smith. Maar die titel was van die begin af in Dalene se kop. "Daar is ’n aspek van die bos wat van die begin by my was, maar wat nie in die ander boek gehoort het nie. Vandat Kringe in ’n bos geskryf is, sou ek darem baie graag ’n fairy in ’n boek wou hê." As Francois sy skeptisisme wys, antwoord Dalene hom: "As jy ’n Christen sien, kom wys hom vir my. Ek het nog nie een gesien nie. Maar oor fairies het ek nie twyfel nie."

En deur al die jare bly Dalene se skatpligtigheid teenoor die Bos voorop staan. In Toorbos is ’n sin wat lui: "Dit voel vir my die wêreld begin kantel om ons almal na verskillende kante toe af te gooi." Vir Dalene is dit ’n sin wat uit die hart uit kom. "Die wêreld is gatvol vir ons," sê sy vir Francois Smith. "Nee magtag, ons brou te veel. En ons sal onsself pootjie totdat ons by die groot waarheid uitkom, die waarheid agter die groot gelieg."

Die eiesinnige hoofkarakter in Toorbos, Karoliena, het hierdie swaar pad na waarheid geloop. En Karoliena is ’n vrou so na Dalene se hart wat dadelik erken dat sy nie met bang mense werk nie en met "vróúslim" mense. Sy hoef egter nie met Karoliena te gesukkel het nie. "Sy het geweet wie sy is. Maar sy sou dit nie maklik hê nie, nè? Ek moes haar van ’n krans afstamp, want haar verbesondering vind plaas as sy terugklim tot bo. Dis die lekker van Karoliena – ek ken sulke vroue – sy sal haar nie doodval nie. En sy soek nie simpatie nie ..."

Dalene vertel verder aan Francois Smith dat elkeen van haar boeke ’n wysie gehad het. Sy het letterllik na ’n spesifieke stuk musiek gesluister terwyl sy haar Bosboeke geskryf het. En sy het agtergekom dat dit ’n Rossini-wysie is. "Ek het gaan nalees en agtergekom dat Rossini lief was daarvoor om in die woud te gaan stap. Toorbos wou ek egter op ’n Mozart-melodie skryf. Dit sou my slim boek wees. Maar pas nadat ek begin het, luister ek na ’n Joan Sutherland-CD. En skielik hoor ek die éintlike wysie vir my boek. Ek gryp die CD-kassie om vas te stel wat dit is: en weer eens is dit Rossini! Ek skrik my bedonnerd. Maar Karoliena het gejubel."

In Toorbos se geval moes Dalene weer intensief navorsing doen – hierdie slag oor die laaste houtkappers in die Bos en die werk van die Carnegie-kommissie onder die armblankes daar. Sy was gou meegevoer. "Veral MER se verslae was vir my van groot belang. Nadat ek dit fyn gelees het, het ek respek vir haar. Sy was so akademies korrek. Maar ek het haar nie gespaar nie. Sy het probeer, maar sy was te kort in die bos. Sy was een van die spreeus waaroor ek in die boek skryf: dié waarvan Karoliena sê hulle het nog sagte kos nodig. By die regte probleem – dat die boswerkers opsétlik so verarm is – het sy nooit uitgekom nie."

Daar was gelukkig nie net ongelukkige eindes vir die Bos se armes nie. "Uit die armoede het ’n groeipunt gekom. As jy vandag die nasate sien van die bos se eenvoudigste mense: ek kan nie vir jou sê watter sterk, gesonde mense uit daai bos gekom het nie," vertel sy aan Sonja Loots. (Rapport, 27 Julie 2003).

Vir Dalene was een van die heerlikste goed wat sy in Toorbos geskryf het, die toneel waar Karoliena haarself in ’n boom verander het. "Dit het vir my vreugde gegee wat hier uit die solar plexus kom. Jitte, sy was nou ’n nice boom. Was sy nie ’n nice boom nie?" (Rapport, 27 Julie 2003)

Toorbos speel hom af in die 1930's en die sterkste temas daarin is dié van ontmagtiging en bemagtiging van die boswerkers en hulle gesinne en dié van Karoliena. Elize Parker skryf in Sarie (Augustus 2003): "As groep moes die boswerkers en hul gesinne vir hul waardigheid en voortbestaan veg teen die mag van geld, staatsmag en die mag van die natuur. Karoliena het hiervoor en om selfbemagtiging geveg. As vrou en as bosmens moes sy die Bos agterlaat en ’n nuwe lewe vir haarself vind. Hiervoor moes sy letterlik en figuurlik ’n brug tussen twee wêrelde oorsteek."

Dalene vertel vir Elize Parker dat sy sterk op haar eie ervaring staatgemaak het om dit uit te beeld. "Daar is ’n spesifieke plek ná die Gounarivier waar jy oor ’n brug tussen die Bos en die werklike wêreld móét gaan. Voor jy daar kom, moet jy jouself innerlik voorberei om die werklikheid, the real world, in die oë te kyk. Agter jou lê die ongelooflike Bos met sy eie identiteit. Op ’n punt begin dit gewoon dennebos word. Dan kom daar in jou ’n ontevredenheid en dit is ’n hartseer oomblik. Jy verloor iets. Die Bos verloor nie iets nie. Daar is nie ’n mens so slim soos die Bos nie. Jy kan altyd net van die Bos gaan leer."

Nog goed waarvan Dalene moes leer vir die skryf van Toorbos, is die motte wat Karoliena gevang het en wat op die voorblad van die boek uitgebeeld word, asook die veelkleurige dwergverkleurmannetjie. Toe sy die Leto Venus gemonteer gesien het, het dit haar asem weggeslaan. ’n Boswagter, Willie Cooper, het vir Dalene vertel dat hy in sy agtien jaar in die Bos nog nooit ’n dwergverkleurmannetjie gesien het nie, maar saam met Hilary en haar vriend het hulle twee in die Bos gekry.

Thys Human (Rapport, 31 Augustus 2003) skryf dat Toorbos ’n wye draai loop en ’n universele verhaal vertel. "Die roman se mooiste gedagtes is dikwels dié wat ongesê bly, terwyl daar in die mees terloopse opmerkings soms ’n hele geskiedenis en verhaal opgesluit lê. Vir hom is dit ’n boek vol wysheid en warmte, met karakters wat lééf, en dit bevestig Dalene Matthee se statuur as storieverteller."

In 2003 trek Dalene van Hartenbos na Mosselbaai, waar sy Toorbos en Die uitgespoeldes voltooi het.

In Februarie 2005 word Dalene in die Bayview-kliniek in Mosselbaai opgeneem vir hartversaking. Sy sal nie weer die hospitaal verlaat nie en op 20 Februarie is sy oorlede. Vir die hele land was dit ’n geweldige skok en haar dood is bestempel as ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde en vir die Afrikaanse leserpubliek. Sy word oorleef deur haar drie dogters, Amanda en Hilary Matthee en Toni van der Walt.

Huldeblyke

  • Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers: "Sy was een van die mees geliefde skrywers in Afrikaans. Met haar boeke het sy die Afrikaanse publiek weer aan die lees gekry en is ’n suksesvolle brug geslaan tussen gehalte- en populêre lektuur." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Elsa Joubert: "Sy het dit reggekry dat mense wat nooit Afrikaans lees nie, Afrikaans lees, en dit is ’n wonderlike bydrae. " (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Wium van Zyl, letterkundige: "Sy was soos Langenhoven. Soms het sy iets vir die intellektuele leser en vir die gewone leser gebied. Sy het die leser blootgestel aan verskeie problematieke. Sy was ’n ekologis en ’n milde feminis wat met aandag en respek na die arm mens gekyk het." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Abraham H de Vries: "As daar nou iemand is oor wie die Afrikaanse skrywersgemeenskap vandag treur, is dit Matthee. Die stem van een van die heel beste storievertellers is dood. Net sy sou daardie bosverhale kon skryf, niemand anders sou kon nie." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • André P Brink: "Matthee was een van die werklik beduidende stemme in die Afrikaanse letterkunde." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Chris Barnard: "Dit is ’n reuse-verlies vir Afrikaans, vir die storie in Afrikaans. Ons het almal gedink sy gaan nog vir ons ’n klomp goed skryf. Ons sal miskien eers agterna besef watter plek sy in Afrikaans gevul het – sy het skielik weer die Afrikaanse letterkunde na die leser gebring." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Willie Burger: "Ek dink sy het mense weer aan die lees gekry. Wat hulle daai tyd gesê het, is dat haar werk tussen gewilde en hoë literatuur was. Met haar romans het sy ’n belangrike rol in dié verband gespeel. Sy het weer begin om 'stories te vertel': op haar manier het sy ’n bydrae gelewer wat betref perspektiewe oor ras, vroue en die omgewing." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Prof Elize Botha: "As romanskrywer het sy ’n unieke gawe gehad. Dit is ’n baie, baie groot talent wat weg is. Sy het groot opgesette romans geskryf waarin daar geweldig baie navorsing en scholarship inbegrepe was. En tog was sy altyd volkome toeganklik vir ’n baie breë leserspubliek. ’n Mens duisel dat Dalene miskien nog – menslikerwys gesproke –meer van die groot werk sou kon gedoen het. Dat dít vir haar en vir ons nie gegun is nie ..." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Paul Eilers, akteur: "As enigeen ooit in die bos tussen die varings rondloop, staan vir ’n wyle doodstil: Dalene Matthee sal daar wees." (Volksblad, 24 Februarie 2005)
  • Ds Dawid de Wet, predikant by roudiens: "Sy was een van onse mense, ’n dogter van die Suid-Kaap. Ons het die voorreg gehad om iemand te ken wie se hart ook die bos se hart was. Sy het met ’n verbasende eerlikheid gelewe en was geseën met unieke gawes wat die lewe van almal geraak het." (Volksblad, 24 Februarie 2005)
  • Amanda, haar dogter: "My ma het geglo skryf is harde werk. Sy het nie kortpaaie gevat nie, want 'daar is altyd iemand wat meer weet as jy'. [...] Dalk is dít wat haar skryfwerk spesiaal gemaak het – die kombinasie van nuuskierigheid, eerlike werk en die wysheid om te luister na 'die gevoel op jou maag." (Die Burger, 1 Desember 2014)
  • Shaleen Surtie-Richards, aktrise wat die rol van Fiela gespeel het: "Ek sal altyd daardie wonderlike mens onthou wat haar oë so groot gemaak het wanneer sy "ai, foei tog" vir haar bewonderaars gesê het, sy was so nederig." (Rapport, 27 Februarie 2005)
  • Hennie Aucamp:

Groot gryse

In donker dieptes van die bos
Het ingestort ’n swaar kolos
’n olifant of dalk ’n boom:
Matthee word wakker in haar droom. (Die Burger, 28 Februarie 2005)

  • Charles Fryer: "Dalene was waarskynlik die mees geliefde skrywer naas Langenhoven in Afrikaans. Ná haar skielike dood het ’n gevoel van volslae ongeloof onder haar aanhangers geheers. Met haar vitale teenwoordigheid was hierdie oervrou, hierdie wyse 'ou siel', ’n tydlose mens." (Insig, Mei 2005)
  • Petra Grütter: "Die bos, ’n seldsaaam magtige gegewe, wat alles gee en niks daarvoor terugverwag nie, was haar ware leidsvrou. Haar baarmoeder: Dáár het sy aangekom. En so versigtig daardeur beweeg soos die Grootvoete self, van wie ons nog nie weet hoeveel daar van hul is nie. Maar baie is dié nié." (Insig, Mei 2005)
  • Suzette Kotzé-Myburgh: "Dalene het help afbreek aan die stigma dat Afrikaanse boeke ontoeganklik is." (Die Burger, 1 Desember 2014)
  • Riana Scheepers: "Dalene was ’n moeilike, maar regverdige mens, ’n wonderlike skrywer, ’n verbysterende storieverteller. Sy het ons relatief klein Afrikaanse letterkunde vér oor die grense van ons taal geneem. Ek is op ’n vreemde manier nie verbaas dat Dalene aan haar hart dood is nie; sy het immers met haar haar hele, ruim hart geskryf." (Die Burger, 23 Februarie 2005)

In September 2005 publiseer Penguin Dalene se Die uitgespoeldes, die eerste Afrikaanse boek wat regstreeks deur hulle gepubliseer is. In hierdie roman vertel sy die storie van ’n uitgespoelde by Rietfontein naby Kaappunt en laat sy die gegewe afspeel op drie plase: Springfield, Renosterkop en Ratelrivier. Die verhaal speel hom af van 1950 tot 1960 en draai om twee Britse edelliede, James St Vincent Broke, vyfde baron De Saumerez, en sy Sweeds-gebore vrou, Gunhild Black, lady De Saumerez. Hulle vestig hulle op Springfield.

Amanda Botha (Die Burger, 23 September 2005) vertel dat die stories wat Die uitgespoeldes gevoed het, al vanaf die middel-tagtigerjare na Dalene toe gekom het, maar tussenin het sy vier ander romans voltooi. Soos met al haar vorige werke was Dalene se navorsingswerk weer vir haar die belangrikste. Sy het wyd gelees oor die mense van die omgewing – gepubliseerde en ongepubliseerde bronne – totdat sy begin speel het met wat die hoofmomente van haar verhaal sou word. "Sy had haar eie pas. Vir haar moes die karakters eers gestalte kry, en van daar ontwikkel sy die storielyn. Die gegewe is op die werklikheid gebaseer, maar dit word slegs die bestanddele van haar storie. Sy het herskep en omvorm so in die werk. Sy het dit self só gestel: 'Ek weet wanneer om stadig te loop; ek weet wanneer ek moet draf.' Die 'stadig loop' is wanneer sy intens oor ’n onderwerp lees, en die 'draf' is wanneer haar storie haar op loop neem," vertel Amanda Botha.

Die uitgespoeldes word uiteindelik Moses Swart se verhaal. "Hy is die een wat regtig in Rietfontein se baai uitgespoel het. Daar waar ’n mirakel hom kom optel het, en ’n flentertjie onthou diep in hom agtergelaat het," vertel Dalene aan Amanda Botha. (Die Burger, 23 September 2005).

In Volksblad van 24 Februarie 2005 vertel Suzette Myburgh, uitgewer, dat sy in ongeveer 2004 ’n oproep van Dalene gekry het om te vertel van die manuskrip van Die uitgespoeldes, maar sy weet nie of dit gaan werk nie. Dit is ou stories oor skeepswrakke en skipbreukelinge wat sy in die Overberg opgetel het. Suzette kry die halfklaar manuskrip. Sy vertel dat die storie ’n vreemde bekoring het, "iets van die mistieke verbondenheid tussen mense wat op die onsêbare vlak lê. Heelwat anders as haar Bos-boeke, maar onmiskenbaar Matthee. ’n Paar maande later volg die manuskrip, ’n besonderse storie. Veral interessant, nou by terugskoue, is hoe spesifiek sy hierin oor die dood skryf. Ek dink sy het reggemaak om te vertrek."

Marinda Schutte (Volksblad, 13 Maart 2006) meen dat Die uitgespoeldes nie vergelyk kan word met haar Bos-romans nie, maar dit is ’n "toeganklike verhaal met ’n interessante tema en karakters wat baie leesgenot verskaf en is dit ’n waardige afskeidsverhaal van een van die gewildste skrywers in Afrikaans."

Hans Neervoort (Die Burger, 6 Februarie 2006) skryf dat Moses Swart "een geniale tovervondst" is.

In 2007 word die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur se Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekenning postuum aan Dalene toegeken.

Dalene Matthee is die enigste skrywer in Afrikaans van wie meer as een miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. In 2007 kondig Exclusive Books ’n lys van 101 Books to read before you die aan en beide Kringe in ’n bos en Fiela se kind is op hierdie lys. Slegs drie Afrikaanse boeke het die lys gehaal.

In 2007 gee Tafelberg Uitgewers Om ’n man te koop uit. Dit is ’n versameling van Dalene se heel eerste kortverhale wat in die sestiger- en sewentigerjare in Die Huisgenoot en Sarie verskyn het. Dalene het spottend daarna verwys as haar jeugmisdade. Corné Coetzee (Beeld, 23 April 2007) meen dit is ligte verhale wat volgend die tydskrifresep geskryf is, maar die skrywer kán ’n storie vertel: "Sy teken haar karakters, ter wille van vermaak, effens vereenvoudig, groter en kleurryker as lewensgetrou. Binne die beperkinge wat die meeste verhale as liefdesverhale loop, vind Matthee genoeg ruimte om haar onmiskenbare talent te oefen en soms selfs vlerke te laat kry."

Voormalige president Nelson Mandela het, terwyl hy in die tronk op Robbeneiland was, die boeke van verskeie Afrikaanse skrywers gelees en het veral van Dalene se boeke gehou. Hy het ook die film Circles in a forest in die tronk gesien. Hy het Dalene gebel om haar geluk te wens met Pieternella van die Kaap, wat onder meer op Robbeneiland afspeel.

Jan Liebenberg vra haar in Keur van 11 Maart 1988 waar sy aan haar idees kom en wat eerste kom. "Navorsing bring die storie. Soos dit loop, kruip die storie daaruit. Jy raak hipersensitief vir ’n moontlikheid. Dan word dit ’n dringendheid. Jy wil die storie vertel. Ek is baie bang en baie versigtig. Jy moet seker wees van jou feite. Jy durf nie op hoorsê staatmaak nie. Baie dikwels moes ek ’n goeie storie, ’n episode wat ek weet hiér is ’n ding, weggooi omdat ek nie dokumentêre bewys daarvoor kon kry nie."

En wanneer sy haarself, soos so baie ander skrywers, "geestelik op die kaalhaaivlakte" bevind, vlug sy na haar geliefde Bos toe. Sy sit haar rugsak op haar rug en gaan soms vir ’n paar dae, partymaal net vir ’n dag se stap; alleen of soms saam met ander. Sy het ook al nagte in die Bos deurgebring as deel van haar navorsing. Sy verduidelik aan Jan Liebenberg (Keur, 11 Maart 1988): "Ek gaan Bos toe om te herlaai. Ek is op my gelukkigste in die Bos. Dit maak jou siel skoon, jy raak ontslae van ’n paar onnodige dinge."

Oor haar karakters, soos Fiela, se aardse en mensbeklede godsdiens gesels Dalene met Jan Liebenberg: "Ek as moderne mens lag vir die ou mense se geloof in die duiwel met sy vurk en horings. Vir hulle is dit ’n groot saak. Jy moet rein leef en rein dink anders gaan jy hel toe. Dit is hulle veiligheidsgordel."

"Hulle het ’n eerliker, openliker, reguiter manier gehad met die Skepper. Hulle het min in die kerk gekom en dikwels gevlug as die predikant op huisbesoek kom. Maar hulle het gereeld die Bybel gelees. Beslis elke Sondag.

"My eie beskouing? Dis ’n ontsaglik persoonlike beskouing. Ek is ’n binnekamermens."

Boeke was nog altyd iets waarsonder sy nie kon klaarkom nie, vertel sy aan Isabel Niehaus (Rooi Rose, 29 Oktober 1986). "In die swaarkrydae is ek altyd stad toe met geld in die sak om klere te koop. Maar, ai tog, wanneer ek die pad huis toe vat sonder die klere, maar met boeke in die bagasiebak, het ek skatryk gevoel!" Ander vreugdes in haar lewe was die sterrekunde: "Elke konstellasie wat ek uitken of sien, bied die grootste vreugde ... is mos my vrinne"; en haar tuin: "Elke plantjie word sorgvuldig geplant en het sy eie plekkie."

Baie goed maak Dalene benoud en sy gee maklik weg. "Elke besitting is net nog ’n blok aan jou been. My vanillas is die goed wat geld nie kan koop nie. My kosbare klippe wat ek oral opgetel het, sommer gewone ou klippies, maar elkeen met sy herinneringe ... dinge hoef nie duur te wees om iets te beteken nie." (Rooi Rose, 29 Oktober 1986)

Al die roem wat die skrywery meegebring het, het nie na Dalene se kop gegaan nie. "Daarvoor is ek te realisties. Dankbaar vir alles, dit is ek beslis. My skryfwerk is my brood en botter en dit wat ek ruil vir my brood en botter, moet goed wees. Daarom wil ek niks vir niks hê nie. Vir my man, Larius, is ek steeds die onnooslike vrou met wie hy destyds getroud is en die kinders ... nou ja, wat hulle partykeer oor ma se skrywery kwytraak, is allesbehalwe vleiend," vertel sy aan Isabel Niehaus in 1986. (Rooi Rose, 29 Oktober 1986)

Volgens Dalene kweek ’n skrywer ’n fyn waarnemingsvermoë aan. "Jy ontwikkel ’n sintuig van sien en nie net kyk nie. Jy sien dinge in mense en dinge wat by iemand anders verbygaan. Maar," waarsku sy Lydia van der Merwe (Sarie, 16 Oktober 1991), "jy moet jou verbeelding by die huis los. Anders projekteer jy dit op die dinge om jou."

Isabel Niehaus sluit haar onderhoud met Dalene Matthee af: "Sy het die aardse mens gebly wat sy was, wat die mooi uit die lewe geneem het, hetsy ’n klip of ’n inspirasie uit die bos, en ’n vanilla daarvan gemaak het."

Vanweë Dalene se spesiale verhouding met die Knysna-bos was Hilary, Dalene se jongste dogter, baie ontvanklik vir die idee van Kitto Erasmus, ’n voormalige direkteur van omgewingsake wat Dalene baie met haar navorsing vir haar Bos-boeke gehelp het, om ’n gedenksteen vir Dalene in die Knysna-bos op te rig. Dit was vir Hilary die logiese idee, want die Bos is waar Dalene herlaai het en dit is die plek waar sy op haar gelukkigste was. "Dit is waar sy feetjies gesien het, ’n voëltjie se vlug kon volg en lelies kon bewonder. Dit was haar inspirasieplek."

Nadat die ontwerp geskep is, was die probleem van watter materiaal dit gemaak moes word. Sandsteen is te poreus en verbrokkel maklik en hulle moes ook vandalisme in gedagte hou. Hulle het toe by Dawid Augustyn van JA Clift in die Paarl uitgekom wat ook monumente soos die Rhodes Memorial in Kaapstad en die nuwe Hugenote-monument op Franschhoek opgerig het. Die Italianer Mick D'Aquanno was destyds die enigste vakman in die Kaap wat die inskripsie met die hand op die steen kon sit. Volgens Hilary het die Wildernis Nasionale Parkeraad hulle ook baie gehelp. Hulle het die aansoek verwelkom en uit hul pad gegaan om dit ’n werklikheid te maak.

Die gedenksteen is by die geelhoutboom (Groot Boom) opgerig. Die boom is herdoop na die Dalene Matthee Big Tree. Langs die boom begin die Kringe in ’n bos / Circles in a Forest-sirkelroete van 9 km. Dalene se laaste wens was dat haar as by Krisjan-se-Nek in die Knysna-bos gestrooi moet word. "Dit is waar sy nou rus," sê Hilary. (Volksblad, 3 Maart 2008)

Publikasies:

Publikasie

Die twaalfuur-stokkie

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1991

ISBN

0628034962 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 1991

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Huis vir Nadia

Publikasiedatum

  • 1982
  • 2006

ISBN

  • 0624018164 (hb)
  • 0624044386 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Judasbok

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1999
  • 2008

ISBN

  • 0798113073 (hb)
  • 1874932107 (sb)
  • 9780624046172 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Johannesburg: Viva
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Petronella van Aarde, burgemeester

Publikasiedatum

  • 1983
  • 2006

ISBN

  • 0624019225 (hb)
  • 0624044394 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kringe in ’n bos

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1985
  • 1986
  • 1987
  • 1988
  • 1989
  • 1994
  • 1995
  • 1996
  • 2000
  • 2005
  • 2008

ISBN

  • 0624022560 (hb)
  • 062402184X (sb)
  • 0624028178 (sb)
  • 0624038475 (sb)
  • 0624043312 (sb)
  • 9780624046196 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1985

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1984, 1985, 2005
  • Portugees vertaal deur JA Arantes 1984
  • Nederlands vertaal deur Tess van Dongen 1984
  • Frans vertaal deur S Boulogne 1984, 1986
  • Yslands vertaal deur GO Erlingsson 1985
  • Spaans vertaal deur D Zadunaisky 1985
  • Hebreeus vertaal A Porat 1985
  • Duits vertaal deur G Stege 1985, 1986, 1987
  • Sweeds vertaal deur G Snellman 1985, H Lindenberg 1993
  • Italiaans vertaal deur MG Castagnone 1986, 1992
  • Fins vertaal deur M Haapio 1986
  • Noorweegs vertaal deur B Roald 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fiela se kind

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1987
  • 1988
  • 1992
  • 1994
  • 1996
  • 1997
  • 2000
  • 2005

ISBN

  • 0624022692 (hb)
  • 0868121355 (sb) (Grootdruk)
  • 0624025144 (sb)
  • 0624026019 (sb)
  • 0624038246 (sb)
  • 0624043320 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1986

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1986, 1987, 1990, 2005
  • Sweeds vertaal deur G Snellman 1987
  • Duits vertaal deur G Stege 1988, 1991
  • Frans vertaal deur A-M Jarriges 1989
  • Sloveens 198-

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moerbeibos

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1992 (Grootdruk)
  • 2000
  • 2005

ISBN

  • 0624025101 (hb)
  • 086812317X (sb)
  • 0624038912 (sb)
  • 0624043339 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1988

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1989
  • Sweeds vertaal deur S Olsson 1991
  • Duits vertaal deur N Gatter 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brug van die esels

Publikasiedatum

  • 1992
  • 2005

ISBN

  • 0624031586 (hb)
  • 0624043193 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1993, 1994
  • Hebreeus 1996

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Susters van Eva

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2005

ISBN

  • 0624034267 (hb)
  • 0624041328 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pieternella van die Kaap: historiese roman oor Pieternella van Eva-Krotoa

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624037843 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Malcolm Hacksley 2008

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toorbos

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2005

ISBN

  • 062404162X (hb)
  • 0624043665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Rika Vliek 2003
  • Engels vertaal deur outeur 2004, 2006

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die uitgespoeldes

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2007

ISBN

  • 0143024906 (hb)
  • 9780143025412 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Penguin SA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2005, 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om ’n man te koop

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045045 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

 

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Dalene Matthee beskikbaar op die internet

Dalene Matthee se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-11-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Dalene Matthee (1938–2005) appeared first on LitNet.

ATKV-Tienertoneel 2020: Wenners aangewys

$
0
0

Ná 223 nuutgeskrewe tekste, 478 mentorskapsessies en die fyn beoordeling van 255 video’s deur ons bekwame beoordelaarspaneel is die wenner van ATKV-Tienertoneel 2020 Saterdagaand digitaal aangekondig.

Die wenner

Nichola Viviers (18), ’n matriekleerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het met haar selfgeskrewe teks Bonuspunt die beoordelaars oorrompel en is as die wenner gekroon.

Naaswenner

Jeanne-Marie Koekemoer (16) van die Hoërskool Stellenbosch se selfgeskrewe Val is as die naaswenner aangewys.

Derde plek

Merwe van Gent (18) van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp is derde met Ingeperk.

Ilne Fourie het Ingeperk geskryf.

Merwe se monoloog is ook tydens die kykerskeusekompetisie as die gunsteling aangewys.

Uitdagings

Deelnemers is vanjaar, meer as ooit tevore, uitgedaag om die liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe temawolk (huis, isolasie, ingeperk, staties, alleen) in te skryf.

Hierdie nuutskeppings moes dan voor ’n kamera lewe kry en sewe mentors (Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, André Gerber en Henrietta Gryffenberg) beïndruk.

Nichola wat volgende jaar drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, sê sy was aan die begin van die jaar reg om aan ATKV-Tienertoneel deel te neem en toe tref Covid-19 die wêreld.

“Ek moes ’n monoloog skryf [vir die aangepaste ATKV-Tienertoneelkompetisie] en het algehele paniek ervaar.

“My eindproduk is maar eintlik ’n bewys van wat ek deur is. Bonuspunt is beslis ’n rebellie teen die aannames wat daar rondom drama is en teen mense wat amper neerkyk op drama.”

Nichola droom daarvan om eendag ’n goeie Afrikaanse riller te skep.

Die bekende aktrise Amalia Uys, wat ook een van die beoordelaars was, beskryf Bonuspunt as ’n baie intelligente teks.

“Nichola is ’n baie natuurlike aktrise wat ’n heerlike aanvoeling vir komedie het. Ek het die stuk baie geniet.”

Die beste nuutgeskrewe tekste in 2019

Die beste nuutgeskrewe tekste in 2019 is ook tydens die prysuitdeling aangewys.

In die derde plek was Johann Spies met Met Engel gesout. Hierdie produksie is deur die Hoërskool Swartland in Malmesbury tydens die Durbanville-streeksfees in 2019 opgevoer.

Die naaswenner vir die beste nuutgeskrewe teks in 2019 is Jo-Aithne Stemmet met haar teks Karnaval. Karnaval is deur Selborne College van Oos-Londen tydens die Port Elizabeth-streeksfees in 2019 opgevoer.

Pierre André Vivier het weggestap met die prys vir die beste nuutgeskrewe teks van 2019 vir Forte’ F: Har(t)d. Dit is opgevoer deur Helpmekaar Kollege. Forte’ F: Har(t)d het ook tydens die 2019 ATKV-Tienertoneelfinaal in die Adam Small-teater in Stellenbosch gespeel.

Volgens Pierre André was die nuus dat hy dié prys gewen vir hom heerlik. Veral in ’n jaar waarin almal so na die teater verlang het.

“Die skryfdeel is maar die moeilikste proses van teatermaak. Dit is so alleen en uitmergelend. Wanneer ’n mens hierdie tipe van erkenning kry, gee dit ’n mens alweer die moed om agter daai rekenaar te gaan sit.”

Beoordelaars het dié teks beskryf as ’n pragtige stuk werk gevul met empatie, eerlikheid, gevoel en beslis ’n aanwins vir die letterkunde.

Die ATKV-Tienertoneel digitale monoloogbundel

Vanjaar het die ATKV ook vir die eerste keer die ATKV-Tienertoneel digitale monoloogbundel bekend gestel.

Hierdie digitale bundel bestaan uit die 48 toptekste (wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90 – 100%] toekenning) tydens vanjaar se kompetisie ontvang het.

Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, het die skryf van nuwe tekste as voorvereiste nuwe stemme na die voorgrond gebring wat nie geïgnoreer kan word nie.

“Dit gaan nou stories in die volksmond word wat vlerke kry en die eiendom van ander ook word.”

Die bundel is gratis op die ATKV se webwerf beskikbaar.

Sien meer:

Die ATKV-Tienertoneelfinaal kan hier gekyk word:

The post ATKV-Tienertoneel 2020: Wenners aangewys appeared first on LitNet.


Dana Snyman: Commendatio by die oorhandiging van ’n ATKV-oorkonde

$
0
0

Op Vrydag 20 November 2020 is Dana Snyman deur die ATKV met ’n oorkunde vereer. Marlene le Roux, voorsitter van die direksie, het die oorkonde oorhandig.

Die nominasie om Snyman te vereer het gekom van die ATKV se Kaapstad-tak, die oudste ATKV-tak in die land. Die tak was ook verantwoordelik vir die opstel van die commendatio, wat deur die ATKV se hoofkantoor aan LitNet beskikbaar gestel is vir plasing.

Marius Ungerer, ATKV-direksielid, Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV-direksie, Dana Snyman en die sanger Jodi Jantjies. (Foto: Izak de Vries)

Dana Snyman (1963–)

In haar resensie oor een van Dana se vele boeke (Beeld, 9 November 2009) som Joan Hambidge hom soos volg op:

Dana Snyman is die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tydsdokumente wat vir Jan en Alleman bedoel is. Alles word beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan, is dit met woorde soos “side­board”, wat sy plek in die volksmond gekry het. In ’n verhaal word hy as “klein­dominee” aangespreek en wanneer hy met sy pa gesels, is daar vergifnis en begrip. Snyman het ’n natuurlike talent. Maar deur hierdie uit-die-hart-uit-stories gee hy ’n nuwe lewe aan gemoedelike, lokale realisme waarop daar al neergesien is. Dalk sou ’n mens Snyman ten beste kon opsom as ’n be-oefenaar van nostalgie en sy beskrywing van ’n nagmaalfees op Soebatsfontein, kan as een van die sterkste voorbeelde daarvan gesien word. Hy beskryf alles met erbarming, terwyl hy homself as waarnemer en op­tekenaar daarstel.”

Dana Snyman is in 1963 in Stellenbosch gebore, die enigste kind van Coenraad en Sara Snyman. Sy pa was predikant en Dana vertel in Rooi Rose van Maart 2007 aan Ilse Salzwedel:

My pa was een van daardie predikante wat byna altyd sy beroepe aanvaar het. Dus het ons min of meer elke drie jaar getrek: van Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika na Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Toe Naboomspruit toe. Ons het ook op Skeerpoort naby die Hartbeespoortdam en in Johannesburg gewoon. Dis moeilik om te sê waar was dit vir my die lekkerste. Miskien Naboomspruit. Ek was 12 jaar oud, die eienaar van ’n Challenger-resiesfiets, en onskuldig, so salig onskuldig.

Dana het van kleins af ’n voorliefde vir stories gehad. Sy oupa was ’n groot storieverteller en daar was altyd stories in die huis.

Nadat Dana in 1980 aan die Hoërskool Nylstroom gematrikuleer het, kry hy werk as veiligheidswag in Pretoria, maar vind die werk baie vervelig. Daarna gaan maak hy ’n draai in die weermag en kry werk in ’n boekwinkel. Toe verkoop hy in ’n stadium kaartjies by die Sunnypark-bioskoop en begin by Sterland-bioskoop werk waar hy tot skakelbordoperateur bevorder is.

En tussen die oproepe en mense met mekaar verbind deur het hy besluit hy wil joernalistiek studeer. Hy gaan studeer aan die destydse Technikon Pretoria en gaan werk daarna by Die Laevelder. Hierna begin hy as misdaadverslaggewer by Beeld in Pretoria werk. Jare later word hy artikelskrywer by Huisgenoot, waar hy vir tien jaar werk, maar gaan voort om sy gewilde rubrieke vir Beeld se “Beeld-Deurloop” te skryf. In 2007 word hy as reisjoernalis by die reistydskrif Weg aangestel. Sedert 2016 maak hy sy verskyning in sy eie televisiereeks, Op pad met Dana. Snyman skryf sy eerste verhoogteks in 2006 vir die eenmankomedie Die uwe, Pottie Potgieter deur Frank Opperman. In 2008 word Die uwe, Pottie Potgieter opgevolg met Wyk 14. Weer is Dana die skrywer en Opperman die akteur. Hierna skryf Dana nog ’n eenmanstuk vir Opperman getiteld Rooikaart. In 2014 span Dana en Frank saam met ’n solovertoning getiteld Die klaagliedere van ds Tienie Benade met Gerrit Schoonhoven as regisseur. Dit vertel van ’n Afrikaner-dominee in ’n tyd wanneer mense nie meer so gereeld kerk toe gaan nie. En weer is dit ’n sukses, met Frank wat aan die ontvangkant is van ’n Fiësta vir Beste Solovertoning in 2015. Selfs predikante het gesê dat die stuk baie raakvat.

Op die hakke van Ds Tienie kom Dana in 2016 met Hond vorendag en weer is dit ’n solostuk met Frank as die hoofspeler en Gerrit Schoonhoven weer as regisseur. Dit het by die Innibos Fees op Mbombela gedebuteer. Dana se teks gaan oor ’n joernalis wat op vryskutbasis vir Huisgenoot skryf en wie se hond dan siek word. Die joernalis moet ’n storie skryf oor ’n gesin wat in die parkeerterrein van ’n mall in ’n Toyota Camry woon. Maar dan word hy deur Rapport gescoop. Toe word hy aangesê om ’n storie te skryf oor sy hond wat aan die doodgaan is. “Dit vertel die storie van ’n ou wat nooit huil nie, maar nou ’n breakdown kry. As jy Hond sien, gaan jy hardop lag terwyl jy huil,” sê Frank vir Jaco Nel (Rapport, 19 Junie 2016).

Dana geniet sukses as rubriekskrywer en die volgende logiese stap was dat sy rubrieke gebundel sou word. In 2005 word sy eerste boek, Uit die binneland, gepubliseer. Hierna volg vele ander besteverkopers:

  • Anderkant die scrap, 2006
  • Op die agterpaaie, 2008
  • Op die toneel: stories, reise en stemme, 2009
  • Hiervandaan: op reis in die geliefde land, 2011
  • Onder die radar: stories uit ons land, 2013
  • In die blou kamp: Facebook-stories, 2015
  • Op pad: ’n reisjoernaal, 2017

’n Keur van artikels deur Snyman is ook op die internet beskikbaar gestel.

So pas, aan die begin van November 2020, het ’n keur van sy verhale by NB-uitgewers verskyn onder die titel Onder een dak: 100 ou en nuwe stories deur Dana Snyman.

Dana se program Op pad met Dana word in 2016 op DStv uitgesaai. Vir die maak van hierdie program het hy saam met ’n televisiespan bestaande uit Niel van Deventer (vervaardiger), Charlenè Brouwer (regisseur), Christiaan Scheepers (redigeerder en kameraman) en Leon Human (kameraman) van dorp tot dorp deur die land gereis. Dana se indrukke en ervarings is op kamera vasgevang. Sy grootste uitdaging tydens die program was om gewoond te raak aan die kameras wat hom oral agtervolg, het hy aan tvplus (17 Februarie 2016) vertel: “Ook was dit nogal moeilik om die kopskuif te maak dat die kameras my visuele rol as skrywer oorneem. Maar dit bring ook ’n nuwe dimensie aan die manier waarop ek reis.”

Dana word gereeld vir toekennings benoem. Voorbeelde hiervan is:

  • naaswenner van die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroestoekenning
  • goue Technikon-raadsmedalje in 1990 vir buitengewone prestasie op akademiese, kultuur- en sportgebied
  • bekroning in die Suid-Afrikaanse tydskrifwêreld in 2008 as die Pica-wenner vir Reisskrywer van die jaar
  • in 2005, tydens die jaarlikse Mondi-kompetisie, bekroning in die kommentaarkategorie vir sy Hans Wallaby-artikel oor die omstrede vleuel Clyde Rathbone
  • in 2005 en 2006 die ATKV-prys vir gedrukte media in die kategorie vir tydskrifjoernaliste, ‘n prys wat toegeken word aan joernaliste wat deur middel van die gedrukte media die meeste gedoen het om ’n kreatiewe bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur te lewer
  • in 2008 die gesaghebbende Pica-toekenning as Reisskrywer van die Jaar
  • in 2011 ’n Mondi-koeranttoekenning in die afdeling Artikelskryf
  • in 2012 ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie Rubrieke vir die verhaal van Rooikappie in SMS-taal wat in Die Burger en Beeld verskyn het
  • in 2013 herhaling van die prestasie toe hy weer ’n ATKV-Mediaveertjie vir beste rubriekskrywer ontvang.

Een van Dana se bekende sêgoed is: “Stories is soos brood vir die hart. ’n Mens het stories nodig soos jy water nodig het – as jy ’n betekenisvolle lewe wil lei. Stories is groter as mense” (Die Burger, 4 Mei 2007).

Met dank aan: Erika Terblanche vir die ATKV|LitNet-Skrywersalbum.

Lees ook:

Dana Snyman (1963–)

Dana Snyman vereer: ’n fotoberig

Dana Snyman: "Ek skryf nie maklik nie ..."

Resensie: Soekmekaar deur Dana Snyman

Soekmekaar deur Dana Snyman: 'n lesersindruk

Op pad deur Dana Snyman: ’n lesersindruk

Boekresensie: In die blou kamp deur Dana Snyman

The post Dana Snyman: Commendatio by die oorhandiging van ’n ATKV-oorkonde appeared first on LitNet.

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent

$
0
0

Merwe van Gent (regs). Fotobron: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/tienertoneel/

ATKV-Tienertoneel se formaat was vanjaar heeltemal anders. Die deelnemers moes toon hoe aanpasbaar hulle kon wees. Hulle moes hul eie toneelstukke skryf en dit digitaal vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.

Hier is nog agtergrond van hoe die kompetisie vanjaar gewerk het.

Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met Bonuspunt is as die wenner aangewys. Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch was tweede met Val. Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was vanjaar se kykerskeuse en het die derde plek behaal met sy produksie Ingeperk.

Naomi Meyer het met Merwe van Gent van Hoërskool Wesvalia gepraat.

Baie geluk met jou toekenning in die ATKV se tienertoneelkompetisie van hierdie malle jaar, 2020. Dit was ook 'n jaar waar jy uitsonderlike talent getoon het, want jy moes nie net 'n drama opvoer nie, jy moes een skryf. Oor die vreemdste tyd ooit. Waar sal ons begin? Wat was vir jou die grootste uitdaging en die grootste inspirasie van hierdie hele kompetisie – die skryf van die toneelstuk of die opvoer daarvan?

Die grootste uitdaging van die hele kompetisie was vir my sonder twyfel die opvoer van my monoloog. Enige iets aangaande my spel, of ek dit nou wil erken of nie, het my opgestres. Omdat my skool in 2018 laas aan die ATKV-Tienertoneel deelgeneem het, was ek nie meer seker hoe my spel sou vergelyk met dié van ander jong akteurs en aktrises nie, en boonop moes ek nou kompeteer teen talent van regoor Suid-Afrika. Vanjaar kon ons ook privaat inskryf om deel te neem en ek het ek weer die geleentheid gehad om deel te wees.

Alhoewel die terugvoer van die mentors baie hulpvaardig was en ek sonder twyfel ongelooflik baie by hulle geleer het, was ek maar baie benoud wanneer daar gedink moes word hoe ek dit gaan toepas en inkorporeer in my monoloog. Gelukkig het Ilne Fourie my deur elke ronde ondersteun en was sy altyd reg om iets te verduidelik of my moed in te praat. Ek en my ma het na elke ronde ten minste tien keer na die terugvoer van die mentors geluister en daarna met ’n baie kritiese oog my monoloog geanaliseer. Ek sou sonder twyfel nie so ver kon gekom het sonder die hulp van my ma nie!

Omdat ek deel daarvan self geskryf het, was die vertolking en die karakterisering van Cronjé en sy situasie vir my effens makliker, alhoewel nog steeds ’n baie groot uitdaging. Ek het myself nie net probeer plaas in Cronjé se skoene nie, maar ook in dié van elke jongmens wat hulle dalk in dieselfde situasie bevind. Dit was vir my belangrik om aan die gehoor die geleentheid te bied om die persoon agter sy seksualiteit raak te sien. Wanneer mense die muur wat hulle self gebou het, tussen hulle en mense soos Cronjé afbreek, gaan nie net hulle oë oop nie, maar hulle harte ook. My doelwit was uit en uit om dit te bewerkstellig en dit het my baie gehelp om Ingeperk en die boodskap wat dit oordra te regverdig.

Ek het ook baie gaan kyk na video’s op YouTube waar mense vertel van hulle ervarings as deel van die LGBT-gemeenskap. Sommiges het die uitdagings daarvan baie makliker ervaar, maar ander se lewens is heeltemal daardeur verwoes. Ek wou deur Cronjé se storie te vertel ’n lig skyn op hierdie onderwerp en hopelik terselfdertyd baie mense se sienings daaroor verander. Dit was juis omdat ek ’n baie groot boodskap gehad het om oor te dra dat die spel vir my so ‘n groot uitdaging was.

Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

In die begin van die jaar, toe die DigiToneel net aangekondig was, het ek ’n baie lang selfoonoproep met Ilne gehad. Ons het onder andere gesels oor die kompetisie en my monoloog. Ek het toe vir Ilne ’n stukkie wat ek self geskryf het, aangestuur en sy het dit omskep in die stuk kuns wat vandag bekend is as Ingeperk. Ek is nie eers heeltemal seker wanneer ek die stuk geskryf het of hoekom nie, maar ek het onmiddellik geweet dat dit is wat ek wil doen in dié jaar te Tienertoneelkompetisie, aangesien die onderwerp iets is wat baie naby aan my hart lê. Ek sal tot in ewigheid dankbaar wees vir Ilne se hulp en haar bydrae tot die skep van Ingeperk en die kragtige boodskap wat dit oordra.

Vertel my van jou toneelstuk. Die storie, jou hoofkarakter, die gebeure in sy lewe?

Ingeperk gaan vir my nie net oor Cronjé en die feit dat sy ouers hom dwing om ’n sielkundige te gaan sien oor iets waaroor niemand beheer het nie; dit verteenwoordig vir my die hele gemeenskap van jongmense wat uitgeskuif word en gedwing word om ’n valse beeld van hulself voor te stel sodat hulle aanvaar kan word.

Cronjé vat ons deur sy kinderjare waar hy reeds opgemerk het dat hy anders is. Van hierdie jong stadium af was hy deur sy ouers gestraf omdat hy belangstel in dinge wat deur die samelewing gesien word as uitsluitlik vir meisies. Cronjé het van hierdie stadium af ’n sin van verwerping gevoel wat hy as kind saam hom moes dra. Hy is deur sy ouers aangemoedig om eerder aan meer gepaste dinge deel te neem, maar sonder enige sukses.

Alhoewel Cronjé geweet het dat sy ouers dit glad nie sal goedkeur nie, het hy steeds toegelaat dat sy beste vriendin hom ’n "makeover" gee en dit was natuurlik die laaste strooi. As kleuter kan Cronjé nie verstaan hoekom daar so groot fout is met sy belangstellings nie. Hy is van jongs af ingeperk. Hy word gedwing om iemand te wees wat almal rondom hom gelukkig sal maak, maar ongelukkig betaal hy elke dag die prys daarvoor.

Ten spyte daarvan het Cronjé in sy tienerjare genoeg moed bymekaar geskraap om vir sy ouers te vertel dat hy gay is. Weer eens is hy vertel dat daar fout is met hom en dat dit nie aanvaarbaar is nie. Dus sit hy teen sy wil by ’n sielkundige.

Cronjé se storie is nie baie ingewikkeld nie. Die feit dat hy van die reg ontneem is om ’n normale, gelukkige lewe te lei is eerder waarop daar gefokus moet word. Net soos Cronjé is daar talle ander kinders wat ingeperk word deur die mense wat veronderstel is om hulle onvoorwaardelik lief te hê.

Was dit vir jou blootstellend of bevrydend om oor jou gevoelens en ervarings in hierdie tyd te skryf? Was dit vir jou iets wat jy eenvoudig geweet het jy wou doen, of het 'n onderwyser jou dalk aangemoedig? Kan jy ook iets onthou wat jou laat besluit het: Ja, hiervoor moet ek inskryf?

Dit was vir my baie belangrik om mense se aandag te kon vestig op die tema van homoseksualiteit, juis omdat daar nie genoeg daaroor gepraat word in Suid-Afrika nie. Van ’n baie jong ouderdom af kon ek nie juis verstaan hoekom mense van die LGBT-gemeenskap uitgeskuif word of anders hanteer word nie, en op skool was dit ’n alledaagse gebeurtenis. Kinders gebruik baie geredelik die woord "moffie" teen mekaar as ’n belediging, en soos wat ek ouer geword het, het ek begin wonder hoekom mense gestraf moet word vir iets waaroor hulle nie beheer het nie.

Dit was vir my baie lekker om uiting te kon gee aan hierdie frustrasie en vir een oomblik ’n spreekbeurt te kon gehad het sonder dat iemand jou in die rede val met een of ander teenargument. Ek het glad nie gedink dat ek in dié jaar ’n monoloog oor hierdie tema sou doen nie, maar toe ek en Ilne begin beplan, het ek onmiddellik gevoel dat ek vir haar my skryfstuk moet aanstuur.

My ma het my verskriklik baie aangemoedig oom deel te neem aan vanjaar se kompetisie. Wanneer ek koue voete gekry het, het sy my herinner dat hierdie immers die loopbaan is wat ek wil volg en dat ek nie kan toelaat dat hierdie geleentheid deur my vingers glip nie. Ek onthou dat ek as graad 8-seuntjie gedroom het daarvan om my hoërskoolloopbaan met ’n eenmanstuk by Tienertoneel te kan afsluit, en in werklikheid het dit gebeur.

Hou jy van teater bywoon? Ek bedoel nou in die tyd voor Covid. Dink jy dis belangrik, of van waarde vir die mensdom? Watter toneelstukke het al tot jou gespreek?

Beslis! Ek is mal daaroor om teater by te woon. Van kleins af het my ma my elke jaar Aardklop toe gevat om toneelstukke te gaan kyk. Ons het basies by die Tienertoneel-opvoerings geboer en ek is daarvan oortuig dat dit ’n enorme bydrae gelewer het tot my liefde vir toneelspeel. Teater is sonder twyfel vir my ’n noodsaaklikheid. Nie net gun dit mense die geleentheid om te ontspan nie, maar dit gee ook aan mense die geleentheid om sosiale kwessies aan te spreek en hulle stemme te laat hoor. Teater is vir my net so noodsaaklik soos water. Daarsonder sal die samelewing inmekaar tuimel. Mens kan soveel leer uit teater uit. Teater kan jou vat na wêrelde waarvan jy nog net gedroom het. En die belangrikste van alles – teater leer jou om dinge te sien vanuit iemand anders se posisie.

Ek kan nie eers onthou hoeveel toneelstukke ek al gekyk het nie, maar die meer onlangses wat ek gekyk het en nooit sal vergeet nie, is Tennessee Williams se Katvoet (verwerk deur Nico Scheepers) en Tom Lanoye se Koningin Lear. Die mees onlangste stuk wat ek gaan kyk het, was The Rocky Horror Picture Show en ek was so oorweldig met vreugde dat dit my tot trane gedryf het! Stel jouself voor ’n wêreld sonder teater: Absolute chaos.

Dink jy teater gaan verander – mense gaan meer in kleiner groepe teater kyk, of gaan dalk meer dinge verfilm in plaas van lewende teater op 'n verhoog? Hoe voel jy oor 'n hibriede samelewing, waar so baie dinge op 'n skerm gebeur of waar mense iets by die huis opvoer en kyk. En wat het hierdie ervaring van die ATKV se kompetisie jou geleer?

Ek hoop van harte dat dit nie die geval sal wees nie. Alhoewel ’n skerm teater meer toeganklik maak, neem dit tog iets weg van die magiese ervaring. Ek is verskriklik lief vir films en sal graag eendag in films wil speel, maar as ek lus is om ’n toneelstuk te gaan kyk of selfs om toneel te speel op ’n verhoog wil ek graag die opsie hê. Tot tyd en wyl dink ek ons het nie regtig ’n ander keuse as om die nuwe vorme van teater te verdra nie, maar ek dink dat dit uiters sleg sal wees as dit vir ewig so sal moet bly. Mense het teater – egte, lewende teater – nodig.

In dieselfde asem wil ek ook sê dat ek tog dankbaar is dat ons dié jaar ons monoloë moes opneem. Ek het baie geleer van kamerawerk en redigering, en dit gaan definitief tot my voordeel tel in my toekoms. Ek moes hierdie jaar my oudisie om aan die Universiteit Stellenbosch te gaan drama studeer ook opneem, en gelukkig was ek ‘n bietjie meer touwys te danke aan die ATKV-Tienertoneel.

Vanjaar se ATKV-Tienertoneel het my nie net geleer hoe om ’n beter akteur te wees nie, maar ook ’n beter kameraman!

Daar was ontsettend baie belangstelling in die ATKV se toneelkompetisie vanjaar, ten spyte van die jaar en die virus. Wat het jou die energie gegee om hieraan te kon of te wou deelneem? En dink jy dit was belangrik om so 'n kompetisie te kon hê vanjaar, so virtueel? 

Ek dink nie dat ek dié geleentheid met soveel selfvertroue en energie sou kon aangepak het sonder die ondersteuning van my ma nie. Die feit dat dit my laaste jaar op skool is en dat ek dit ten spyte van die omstandighede op ’n hoogtepunt wou afsluit, het ook ’n baie groot bydrae gemaak. Ek het gevoel dat die graad 8-seuntjie binne my wat so graag ’n eenmanstuk wou doen my nooit sou kon vergewe het as ek nie hierdie kompetisie met albei hande aangegryp het nie.

Ek het ook gevoel dat ek daaraan moet deelneem om te sien of ek ooit nog kan toneelspeel. Dit was baie lekker om weer te kon sien waar ek lê in vergelyking met ander akteurs en aktrises van my ouderdom. Dit het my beslis ‘n bietjie meer selfvertroue gegee om my studies as dramastudent in 2021 te kan aanpak.

Ek is baie dankbaar vir die ATKV wat ten spyte van die virus steeds so baie moeite gedoen het om aan ons as hoërskoolleerders die geleentheid te bied om aan Tienertoneel te kan deelneem. As ’n matrikulant was daar soveel dinge waarna ek uitgesien het in my laaste matriekjaar en nooit kon ervaar nie, maar te danke aan die ATKV is Tienertoneel nie een van daardie dinge nie.

Hierdie kompetisie het my, en ek glo ook vele ander, gered van die "lockdown blues". Dit het my definitief geleer om bo my omstandighede uit te styg, en ek is seker dat wanneer ek voor toekomstige struikelblokke staan ek sal terugdink daaraan en dan weer die moed sal hê om aan te kan gaan.

Kyk in jou kristalbal. Hoe lyk die toekoms? Vertel my wat jy sien.

Ek kan sien dat ek my jare aan die Universiteit Stellenbosch baie gaan geniet. Ek sien dat ek nog baie uitdagings gaan oorwin. Ek sien al die wonderlike mense wat ek gaan leer ken en by wie ek soveel gaan leer. Ek sien dat ek gaan groei in myself en ook as akteur voor die kamera en op die verhoog.

Wanneer ek dink aan my toekoms, word ek oorrompel met opgewondenheid. Daar is een spesifieke beeld wat ek kan raaksien wat my hart vinniger laat klop en my genoeg moed gee om enige berg te verskuif. Laastens kan ek sien hoe sit ek saam met my ma en my pa aan ’n pragtig-gedekte tafel by die Oscars. My ma gesels met haar nuwe beste vriendin, Meryl Streep, en my pa vertel vir Tom Hanks hoe baie hy Forrest Gump geniet het. Ek sit net en staar in bewondering en dankbaarheid wetend dat my grootste droom uiteindelik ’n realiteit geword het.

Lees ook:

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer

The post ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent appeared first on LitNet.

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer

$
0
0

Jeanne-Marié Koekemoer (regs). Fotobron: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/tienertoneel/

ATKV-Tienertoneel se formaat was vanjaar heeltemal anders. Die deelnemers moes toon hoe aanpasbaar hulle kon wees. Hulle moes hul eie toneelstukke skryf en dit digitaal vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.

Hier is nog agtergrond van hoe die kompetisie vanjaar gewerk het.

Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met Bonuspunt is as die wenner aangewys. Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch was tweede met Val. Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was vanjaar se kykerskeuse en het die derde plek behaal met sy produksie Ingeperk.

Naomi Meyer het met Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch gepraat.

Baie geluk met jou toekenning in die ATKV se tienertoneelkompetisie van hierdie malle jaar, 2020. Dit was ook ’n jaar waar jy uitsonderlike talent getoon het, want jy moes nie net ’n drama opvoer nie, jy moes een skryf. Oor die vreemdste tyd ooit. Waar sal ons begin? Wat was vir jou die grootste uitdaging en die grootste inspirasie van hierdie hele kompetisie - die skryf van die toneelstuk of die opvoer daarvan?

Sjoe, baie dankie! Dis ’n reusebeloning om te kan terugsit en te sien hoe alles verloop het en te sien wat ander se interpretasie is van jou werk (as ek dit ooit so mag noem). Ek was al van kleins af lief vir die kunste, en veral die uitvoerende kunste, en ek het eers onlangs begin skryf. Ek is wel mal daaroor om te skryf en beide afdelings was vir my ewe lonend, maar aangesien die skryf ’n redelik nuwe terrein is, was dit die grootste inspirasie om te sien watter effek dit op beide my en op diés rondom my het. Met dit gesê, was die skryf daarvan vir seker ook die grootste uitdaging van die twee. Verder was dit alles ’n absolute nuwe ervaring, maar beslis ook ’n uitdaging om my eie teks op te voer.

Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

Ek was bevoorreg genoeg gewees om die wonderlike Alma Nel as my mentor deur die proses te kon hê. Ek het vir ’n rukkie ideeloos gesit en toe stel sy voor ek skryf bloot ’n eerlike brief aan myself in die hoop om een of ander impuls van inspirasie daaruit te trek. En so, die hooftema wat daaruit gekom het was vryheid, verlange en soeke na antwoorde. So toe kom Alma op met die idee om dit heeltemal absurd te maak en alles in surrealistiese metafore te versteek. Ek was mal oor die idee en het dadelik begin skryf. Dit was wel ongelooflik uitdagend – ek moes ’n vrag YouTube-video’s kyk vir wenke oor hoe om dit reg te kry! Dit was ook in hierdie tyd maar moeilik om jou kop daarom te draai en idees toe te laat om uit te vloei, maar ek is ongelooflik dankbaar daarvoor, want anders sou dit ewig in my kop opgesluit gebly het!

Vertel my van jou toneelstuk. Die storie, jou hoofkarakter, die gebeure in haar lewe?

Baie van my toneelstuk kom uit my eie ervaring en is eie aan myself. Soos ek bo verduidelik het, het alles die vorm van absurde magiese realisme aangeneem, struktuurgewys. Alles draai om absolute eksistensialisme waardeur hierdie mens leef. Dit kom daarop neer dat alles gestroop en leeg is en dat sy in hierdie laagtepunt en in hierdie warboel sit en probeer sin maak van al die eksistensiële gedagtes wat uit haar kop vloei – alles simbole van verskillende kompartemente binne haarself en haar ervaring. Die karakter is eintlik ’n verwronge weergawe van myself – sekere eienskappe meer prominent in haar as in my. Verder het baie daarvan, vreemd genoeg, hul oorsprong in my drome gevind – die Clicks-visioen was iets waaroor ek een aand gedroom het. En die konsep van spring en val en vryheid en beheer en afwesigheid daarvan kom van ’n idee wat al in my kop van die begin van die jaar af was nadat ek by Dreunkrans in Hermanus in die see afgespring het tydens ’n graadkamp en sedertdien konstant daaroor droom. Alles is baie persoonlik en gestroop en uitgetap, geïnspireer deur Woody Allan se Blue Jasmine (een van my gunstelingfilms). Dis ook om dié rede dat ek gekies het om dit teen ’n swart agtergrond voor te stel, met die boks en die mens wat wegsmelt in die middel onder ’n warm kouete.

Was dit vir jou blootstellend of bevrydend om oor jou gevoelens en ervarings in hierdie tyd te skryf? Was dit vir jou iets wat jy eenvoudig geweet het jy wou doen, of het ’n onderwyser jou dalk aangemoedig? Kan jy ook iets onthou wat jou laat besluit het: Ja, hiervoor moet ek inskryf?

Ek onthou my drama-onderwyseres (my ewige motivering, mentor en omgee), Andrea Winckler, het my nog die een middag aan die begin van die jaar gebel en met aansteeklike opgewondenheid daarvan vertel. Dit het my onmiddellik opgewonde gemaak en ek het vir seker geweet ja, hiervoor moet ek inskryf. Hierdie is al my vierde jaar wat ek deelneem aan Tienertoneel, maar die idee in daardie oomblik was oorweldigend en angswekkend. Ek het in daardie stadium redelik uitgebrand gevoel en het baie amper nie deelgeneem nie en eerder die besluit geneem om nie water uit ’n leë kraan te tap nie. Ek is wel dankbaar ek het dit deurgesien en ek dink dit was goed om myself uit te daag, vorentoe te stoot en te ontwikkel. Dit was fantasties lekker en opwindend om tussen al hierdie wonderlike tieners, almal in dieselfde bootjie, te kon speel en te kon veilig voel op ’n manier wat nie sommer elders gevind was gedurende hierdie jaar nie. Ek sal die groei en vordering wat ek gemaak het deur die proses, vir niks anders verruil nie.

Hou jy van teater bywoon? Ek bedoel nou in die tyd voor Covid. Dink jy dis belangrik, of van waarde vir die mensdom? Watter toneelstukke het al tot jou gespreek?

Ja! Ek is op my gelukkigste en in my absolute element in ’n teater! Dis vir my die heiligste plek op aarde en so broodnodig in almal se lewens. My gunsteling- Afrikaanse toneelstuk tot dusver is Kleedkamer Blues, wat ek in 2019 (twee maal) by die Woordfees gesien het en enigiets sou gee om weer te sien! ’n Ander hoogtepunt was om Les Misérables in die West End in Londen te kon sien. Dit was iets waaroor ek al van kleins af droom en voorwaar, in alle voorreg, kon laat realiseer. Net soos met Kleedkamer Blues sal ek wat gee om dit keer op keer weer te beleef en het ek van begin tot einde geween soos ’n baba. Daar is iets daaromtrent om in die donker te sit met ’n groep vreemdelinge wat vir ’n paar uur meer word as net die kuns wat julle saam aanskou.

Dink jy teater gaan verander – mense gaan meer in kleiner groepe teater kyk, of gaan dalk meer dinge verfilm in plaas van lewende teater op ’n verhoog? Hoe voel jy oor ’n hibriede samelewing, waar so baie dinge op ’n skerm gebeur of waar mense iets by die huis opvoer en kyk. En wat het hierdie ervaring van die ATKV se kompetisie jou geleer?

Dit is ongelooflik om te sien hoe mense aanhou aanpas en vervorm binne hul gegewe omstandighede en ek dink dis vreeslik nodig om aan te hou beweeg, te verander en groei en dan met dinge soos digitale vertonings dit wel regkry en wel iewers kom. Maar, met dit gesê dink ek ook dis moeilik, want so baie van die waarde daarvan raak verlore sonder die lewende element. Ek dink en ek glo dat ons iewers ’n middeweg sal vind en sal moet vind om vorentoe te beweeg.

Daar was ontsettend baie belangstelling in die ATKV se toneelkompetisie vanjaar, ten spyte van die jaar en die virus. Wat het jou die energie gegee om hieraan te kon of te wou deelneem? En dink jy dit was belangrik om so ’n kompetisie te kon hê vanjaar, so virtueel?

Dis vir seker ongelooflik belangrik om die kompetisie te laat aangaan, virtueel. Dit bied ’n ongelooflike sin van normaliteit tussen die chaos en dien ook as ’n konstante herinnering dat ons kan aangaan en dat ons kan oorkom. Dat dit wel moontlik is. En dan ook is die kunste, ten minste vir my, en ek is seker vir só baie ander, die beste hulpmiddel om aan vas te hou in hierdie vreemde, vreemde tyd.

Kyk in jou kristalbal. Hoe lyk die toekoms? Vertel my wat jy sien.

Sjoe. Ek is nou op daardie punt waar my hele lewe voor my lê en ek nou moet besluit hoe ek daardeur sal loop. En hoewel dit vreesaanjaend is, is dit terselfdertyd onbeskryflik opwindend. My grootste wens is dat ek eendag in alle eerlikheid, sonder skroom en sonder bewustheid van self, as ’n vaartuig kan dien en kollektief stories vertel deur my kuns. Die droom sal wees om eendag in film te kan werk, as regisseur en as akteur. As ek eendag my eie film kan maak, sal ek gelukkig kan sterf. Daar is so baie kleur wat voor ons lê en ek kan nie wag om langs verskeie en diverse storievertellers deur die lewe te wandel nie.

Lees ook:

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent

The post ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer appeared first on LitNet.

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers

$
0
0

Nichola Viviers (regs). Fotobron: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/tienertoneel/

ATKV-Tienertoneel se formaat was vanjaar heeltemal anders. Die deelnemers moes toon hoe aanpasbaar hulle kon wees. Hulle moes hul eie toneelstukke skryf en dit digitaal vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.

Hier is nog agtergrond van hoe die kompetisie vanjaar gewerk het.

Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met Bonuspunt is as die wenner aangewys. Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch was tweede met Val. Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was vanjaar se kykerskeuse en het die derde plek behaal met sy produksie Ingeperk.

Naomi Meyer het met Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof gepraat.

Baie geluk met jou toekenning in die ATKV se tienertoneelkompetisie van hierdie malle jaar, 2020. Dit was ook ’n jaar waar jy uitsonderlike talent getoon het, want jy moes nie net ’n drama opvoer nie, jy moes een skryf. Oor die vreemdste tyd ooit. Waar sal ons begin? Wat was vir jou die grootste uitdaging en die grootste inspirasie van hierdie hele kompetisie - die skryf van die toneelstuk of die opvoer daarvan?

Hierdie jaar was beslis allesbehalwe waarvoor ek myself voorberei het. ’n Absolute mallemeule van verandering en aanpassing. Een van hierdie veranderinge was natuurlik die oorgang van teater-Tienertoneel na DigiToneel, wat tegelyk ’n teleurstelling en ’n absolute opwindende geleentheid was. ’n Teleurstelling siende dat ek reeds ’n teks gereed gehad het vir die leerderproduksiekategorie van ATKV en ons geselskap klaar besig was met gereelde oefeninge, maar die geleentheid om individueel ’n monoloog te skep, my regisseurs- en akteursvermoë te ontwikkel en om met ’n kamera te speel was ’n uitdaging wat my besonder gefassineer het. My grootste doelwit met Bonuspunt was om iets te skryf wat eerlik is en waarmee mense sal kan identifiseer, en Bonuspunt is dus ’n samevatting van alles wat ek op daardie tydstip van die jaar werklik gevoel het: vasgevang, gemiddeld en onseker. Die grootste uitdaging was beslis die skep van die teks, waaroor ek by die volgende vraag sal uitbrei. Alhoewel die skryfproses nie maanskyn en rose was nie, het die plaas en spel van die fisiese stuk meer natuurlik geval en het ek met elke karakterondersoek meer geleer en kon ek nie wag om elke keer met die kamera te werk nie.

Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

Na twee maande by die huis het ek myself in ’n kreatiewe leemte bevind. Ek het presies geweet wat ek wou sê, maar ek kon dit bloot nie op papier sit nie; ek was later bang om my skootrekenaar aan te sit en Word oop te maak omdat dit gevoel het asof ek met die woorde moes baklei. En vir iemand wat hoop om vir die res van haar lewe te skryf en regisseur te wees, was hierdie sukkel-sukkel beslis nie aanmoedigend nie. Ek wonder of mens as skrywer ooit tevrede met jou eindproduk sal wees: Mens is maar altyd onseker of jou teks die regte mengsel van komedie en tragedie bevat, of mense daarmee sal kan identifiseer, of dit relevant genoeg is, eerlik genoeg is. Ek het konstant aan die teks geskaaf en verander tot die naderende sluitingsdatum my tot ’n punt gebring het waar ek moes besluit, genoeg is genoeg: Hierdie is my finale teks.

Vertel my van jou toneelstuk. Die storie, jou hoofkarakter, die gebeure in haar/sy lewe?

Mia Benade is ’n 17-jarige (amper 18!) ietwat oorgewig matriekmeisie aan die Hoërskool Strand. Sy bly in ’n gewone woonbuurt in Brackenfell, in ’n gewone enkelverdieping-, rooibaksteenhuis waar hulle Saterdae-middae braai en Sondae-aande Carte Blanche kyk. Haar ma is ’n eiendomsagent, haar pa werk as ’n risikoanalis en haar ouer broer studeer aktuarieel. Heel eenvoudig en gemiddeld. Mia, aan die ander kant, droom van Meryl Streep, ernstige toneelspel en om eendag vir haar talent en kreatiewe genialiteit erkenning te kry. Hierdie droom kom egter in konflik met haar nie-ondersteunende familie en haar konfrontasie met haar eie, eintlik heel gemiddelde, spelvermoë. Met innerlike konflik en valse selfvertroue loop sy by haar drama-prakties-eksamen in waarvoor sy nie haar woorde ken nie, omdat haar selfgeskrewe stuk vir eindeksamendoeleindes (’n bewys van haar sogenaamde kreatiewe genialiteit) nie aanvaarbaar is nie en moet sy improviseer met ’n afgesaagde uittreksel uit Vaselinetjie. Hierdie interne spanning loop uit tot ’n langverwagte ineenstorting gedurende haar eksamen en die einde los die gehoor sonder katarsis. Bonuspunt en Mia gaan eintlik oor die ewige “sal-ek-ooit-goed-genoeg-wees”-element wat aan drama gekoppel word in ’n samelewing waar drome in die kreatiewe wêreld nie altyd ondersteun word nie.

Was dit vir jou blootstellend of bevrydend om oor jou gevoelens en ervarings in hierdie tyd te skryf? Was dit vir jou iets wat jy eenvoudig geweet het jy wou doen, of het ’n onderwyser jou dalk aangemoedig? Kan jy ook iets onthou wat jou laat besluit het: Ja, hiervoor moet ek inskryf?

Om Bonuspunt te skryf was 100% ’n bevryding van die opgekropte emosies, en om op so ’n publieke wyse van my gevoelens en ervaringe melding te maak het die vrees vir ’n loopbaan in skryf en spel amper minder gemaak en my vrede gegee. Ek het nooit gewonder of ek aan die DigiToneel-kompetisie sou deelneem nie – dit was van die begin af ’n sekerheid. Die afgelope paar jaar het toneel en drama ’n enorme deel van my lewe uitgemaak en was ek nie van plan om in my matriekjaar daardie proses op te gee nie. ’n Leerervaring bly ’n leerervaring, ongeag sy vorm.

Hou jy van teater bywoon? Ek bedoel nou in die tyd voor Covid. Dink jy dis belangrik, of van waarde vir die mensdom? Watter toneelstukke het al tot jou gespreek?

Blootstelling en deelname aan teaterstukke dmv ATKV-Tienertoneel, ander toneelkompetisies en groot feeste, soos Woordfees en KKNK, is die grootste oorsaak van die liefde en inspirasie wat ek vandag vir drama het en dra. Behalwe dat Tienertoneel my lewe totaal en al verander het, beide in my lewensuitkyk en persoonlike groei en vermoë, het Woordfees-produksies my oë vir die wêreld oopgemaak. Om net ’n paar te noem: Mi(SA), Godgodgod, Kraai, 10DuisendTon, Die sonkamer, Wag ek kry gou my foon en vele meer. Ek was bevoorreg genoeg om in die afgelope drie jaar oor die 30 Woordfees-produksies te kyk en die wyses waarop hierdie blootstelling my lewe verryk het, is oneindig. Teater is so belangrik vir opvoeding; dit is belangrik vir die gesprekke wat oopgemaak en begin word; dit is belangrik vir kreatiewe stimulering, om jou te herinner dat jy mens is, om by te dra tot die samelewing, om te motiveer, te inspireer. As elke kind die geleentheid kry om aan teater blootgestel te word, sal daar ’n hoogs emosioneel-intelligente generasie gekweek word wat die wêreld kan verander.

Dink jy teater gaan verander – mense gaan meer in kleiner groepe teater kyk, of gaan dalk meer dinge verfilm word in plaas van lewende teater op ’n verhoog wees? Hoe voel jy oor ’n hibriede samelewing, waar so baie dinge op ’n skerm gebeur of waar mense iets by die huis opvoer en kyk. En wat het hierdie ervaring van die ATKV se kompetisie jou geleer?

Alhoewel die virusregulasies leë teaters tot gevolg gehad het, het dit beslis die idee wat ons van teater het en kan hê, vir ewig en totaal verander. Omstandighede het kreatiewe skeppers forseer om nuwe maniere van kuns maak te skep en DigiToneel is maar net een klein voorbeeld van hierdie uiters voordelige aanpassings. Ek glo vas dat DigiToneel ’n groep kinders en jong volwassenes geskep het wat met ’n totaal nuwe aanslag rondom kamerawerk, filmwerk en teater op film die vermaakbedryf gaan betree. Dit is uiters belangrik, siende dat die grendeltydperk net weer eens bevestig het dat die aanlyn wêreld die toekoms is. En so ’n enorme platform gaan net meer mense na teater lok en ’n liefde vir teater by mense ontwikkel.

Daar was ontsettend baie belangstelling in die ATKV se toneelkompetisie vanjaar, ten spyte van die jaar en die virus. Wat het jou die energie gegee om hieraan te kon of te wou deelneem? En dink jy dit was belangrik om so ’n kompetisie te kon hê vanjaar, so virtueel?

My motivering vir hierdie kompetisie was die feit dat ek met my stem kan bydra tot die samelewing en inspireer met wat ek skep. Dit was beslis nie maklik nie – ek bedoel, die kompetisie was ’n totaal en al nuwe uitdaging en ek het eintlik glad nie geweet wat ek doen nie, maar die enorme groei in my menswees en skeppingsvermoë getuig van die noodsaaklikheid om geleenthede te skep vir kunstenaars om hulle werk te wys. Hierdie geleentheid was ook net ’n bevestiging dat om te skep my bydrae tot die samelewing is en dat ek dit vir die res van my lewe wil doen. Ek het ook baie goeie vriende en opvoeders wat met elke nuwe weergawe noodsaaklike kritiek en oplossings en motivering gegee het, waarsonder ek heel waarskynlik nie vandag hierdie onderhoud sou hê nie.

Kyk in jou kristalbal. Hoe lyk die toekoms? Vertel my wat jy sien.

Ek studeer volgende jaar drama by die Universiteit Stellenbosch. Ek beplan om nuwe dinge te leer, om aan ander mense en hulle kuns blootgestel te word, om te eksperimenteer met my vermoë as skrywer, regisseur en akteur, om ’n oneindige aantal produksies te kyk en om film en kamerawerk in my kuns in te sluit. Die belangrikste is om net meer te weet en meer te ervaar. Ek wil die vermaakindustrie betreë, my kreatiewe stem daar ontwikkel en transformasies te weeg bring. My grootste doelwit as kunstenaar is om ’n volhoubare, verwelkomende en ondersteunende industrie vir ander kunstenaars te skep, want Suid-Afrika is ’n kreatiewe goudmyn. Ons moet net die geleenthede na die tafel bring.

Lees ook:

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer

 

The post ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers appeared first on LitNet.

JC Kannemeyer (1939–2011)

$
0
0

Gebore en getoë

John Christoffel Kannemeyer is op 31 Maart 1939 op Robertson in die Wes-Kaap gebore. Sy enigste broer, Freddie, was veertien jaar ouer as hy.   

Kannemeyer vertel in Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag (Jutalit, 1990) dat sy pa op Vanwyksvlei in die Klein Karoo gebore is en op Ladismith skoolgegaan het. Hy was net ’n paar jaar in die skool en was aanvanklik in die boubedryf werksaam, net soos sy broers. In 1915 verhuis sy pa na Robertson waar hy opgetree het as "middelman" en vrugte, droë vrugte en pluimvee gekoop het. Hy was blykbaar ook ’n moeilike man wat baie liggeraak was met ’n vinnige humeur.

Kannemeyer vertel verder dat sy ma, Katie, se persoonlikheid in direkte kontras met sy pa s’n gestaan het. Sy was geneig om "labiel van die hoogste vreugdes en uitbundigheid tot die uiterste aanvalle van swaarmoedigheid" oor te gaan. Sy moeder se familie was ook mense wat hulle sterk bemoei het met godsdienstige aangeleenthede en hy kan onthou dat sy ma gedurende sy kinderjare om die beurt byeenkomste van die Heilsleër, die Apostoliese Geloofsending en die Sewendedag-Adventiste bygewoon het.

Kannemeyer was van mening dat hy sy belangstelling in die letterkunde en die kunste van sy ma ontvang het. Hy vertel verder: "My moeder het ’n aanvoeling vir die poësie gehad en ek onthou nog haar vreugde tydens my skooljare wanneer ek iets vir haar voorgelees het. Daarby kon sy by tye haarself in sappige Afrikaans uitdruk en ’n gewestelike idioom gebruik wat van ’n sluimerende taalvaardigheid getuig het. My vader het wel ’n bietjie kennis van en baie bewondering vir Langenhoven gehad, maar origens was hy sonder belangstelling of orgaan vir die letterkunde. As ek dus my aanleg vir die letterkunde van my moeder ontvang het, was my vader se logiese inslag seker vir my die basis om in later jare as kritikus sistematies verslag te doen van wat ek op dié gebied ervaar."

Robertson was in Kannemeyer se jeugjare ’n klein idilliese dorpie waar die woelinge van die wêreld daarbuite (soos die Tweede Wêreldoorlog) hulle nie eintllik geraak het nie. Ná skool het sy broer Freddie by sy pa gaan werk en ná sy pa se dood het Freddie nie alleen sy sakebelange uitgebrei nie, maar was hy ook vir bykans 20 jaar stadraadslid – in welke posisie hy ’n waardevolle bydrae tot die Robertsonse gemeenskap gelewer het.

Kannemeyer se ouers het nie ’n groot vriendekring gehad nie en dít, tesame met die feit dat sy broer soveel jare ouer as hy was, het meegebring dat hy van jongs af op homself aangewys was – "’n soort situasie wat naas vlugte van die verbeelding en die opbou van ’n eie towerdomein genoeg tyd gelaat het om uitgebreid te lees en geleidelik die wêreld deur boeke heen te leer ken" (Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag, p 14).

Twee van die jong Kannemeyer se beste maats, Issy Epstein en Ralf Pinto, was beide van Joodse afkoms. By Issy het Kannemeyer die volledige reeks Hardy Boys-boeke gelees, terwyl hy by Ralf te hore gekom het van die uitdelging van die Jode in Nazi-Duitsland.

Uit sy laerskooljare onthou hy veral mnr HMO Arangies wat sy onderwyser in standerd 3 (graad 5) was. Hy het sy lesse oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis op ’n meevoerende en lewendige wyse aangebied.

In 1953 is Kannemeyer na die Hoërskool Robertson waar hy in 1956 sy matriek gemaak het. Sy hoërskooljare was ’n tydperk waar leerlinge hard moes werk, maar waar hulle ook die kanse gekry het om hulle kennis uit te brei en hullself op geestelike gebied te verryk. Hy was nie ’n groot sportman nie en het gevolglik die grootse deel van sy vrye tyd gelees. Hy was reeds op laerskool lid van die plaaslike biblioteek waar die versameling grotendeels uit Engelse boeke bestaan het. Hy het die Afrikaanse boeke wat daar op die rakke was, verslind. Hy kan nie onthou of daar een Afrikaanse digbundel was nie. Gerrit Dekker se literatuurgeskiedenis was wel daar en dié het hy stelselmatig deurgewerk. Valerie Lewis was die bekwame bibliotekaris van die skoolbiblioteek en dáár het hy klassieke werke van Dickens en Hardy uitgeneem, asook ontspanningsverhale.

Omdat die biblioteek nie Afrikaanse digbundels op die rakke gehad het nie, het Kannemeyer van die bundels wat in Dekker se boek vermeld is, met sy sakgeld aangekoop. In 1953 het hy in ’n plaaslike boekwinkel die vierde druk van Die stil avontuur van Elisabeth Eybers bekom vir 6 sjielings en 9 pennies (ongeveer 70c). Hy kon egter nie veel van die bundel begryp nie en is na sy Afrikaans-onderwyser vir hulp. Groot was sy teleurstelling toe mnr Loubser begin lees het aan die eerste gedig, "Die gebed van verstarrende siele", en aan hom gesê het dat geen mens daardie gedig sou begryp nie.

Hierna het Kannemeyer ’n katalogus van die Nasionale Boekhandel bestel en ’n klein versameling Afrikaanse digbundels opgebou. Gelukkig het hy in daardie jare bevriend geraak met die landbou-onderwyser, mnr JH Pienaar, en sy vrou, wat vroeër Afrikaans-onderwyseres was. Mnr Pienaar het ’n lewendige belangstelling gehad in die literatuur en verwante gebiede soos die geskiedenis en het die vroeë digkuns van Celliers, Totius en Leipoldt met Kannemeyer bespreek, en het hom ook bekend gestel aan baie skrywers, soos NP Van Wyk Louw, met wie Kannemeyer nog nie kennis gemaak het nie.

Kannemeyer het gedurende sy hoërskooljare self gedigte geskryf en ook vir die skool se jaarblad enkele prosastukke geskryf. Op laerskool is ’n geleentheidsgedig vir Kersfees van hom by ’n byeenkoms van die Heilsleër voorgedra. Reeds in standerd 8 het hy in ’n brief aan DJ Opperman sy bewondering vir Periandros van Korinthe uitgespreek en ook van die geleentheid gebruik gemaak om enkele van sy digpogings aan Opperman voor te lê. Opperman se kritiek was nie so skerp soos dié van Ernst van Heerden, vir wie Kannemeyer ook gedigte gestuur het nie.

Op hoërskool het Kannemeyer ’n aktiewe rol gespeel in die debatsvereniging en het in sy matriekjaar die redenaarsbeker gewen, "iets waarop ek nogal trots was, omdat ek nie van nature ’n goeie spreker is nie en dit dikwels moeilik vind om sonder voorbereiding saak en woord bymekaar uit te bring". (Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag, p 30)

Verdere studie en werk

Vir Kannemeyer was dit vroeg in sy hoërskooljare ’n uitgemaakte saak dat hy na skool universiteit toe sou gaan, en spesifiek na die Universiteit Stellenbosch. Sy pa wou gehad het hy moet in die regte gaan studeer, maar hy het van die begin af geweet dat die literatuur sy vakgebied sou wees met Afrikaans-Nederlands en Latyn as hoofvakke, saam met Frans en filosofie. Hy sou ook nie by ’n BA-graad ophou nie, maar sou daarna ook sy honneurs, MA en doktorsgraad verwerf. Só het hy dus aan die begin van 1957 met sy naskoolse studie aan die Universiteit Stellenbosch begin.

Gedurende sy eerste jaar was Kannemeyer ’n inwoner van Dagbreek of John Murray-huis, maar daarna het hy privaat geloseer, eers by mnr en mev Mey en daarna in ’n kamertjie in Verreweide by mev Joubert. In 1959 het hy sy BA-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en filosofie as hoofvakke en sosiologie, Frans, sielkunde en Latyn as eerste- en tweedejaarsvakke. Aan die einde van 1959 is hy verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Studiekring.

In 1960 het hy sy BA Honneurs cum laude verwerf en in 1962 sy MA, ook cum laude. Hy het hom daarna ingeskryf vir sy doktorale studie onder promotorskap van DJ Opperman. In 1964 het hy die graad DLitt verwerf met sy studie oor "die stem in die literêre kunswerk" wat Nasou in 1965 as boek sou publiseer.

In 1962 is Kannemeyer tydelik as lektor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad aangestel. In 1962 het hy vir Beatrix Marianne Broer, ’n meisie van Nederlandse afkoms, in Pretoria ontmoet en hulle is in April 1963 getroud. Twee seuns, Johan Mark en Anton Christoffel, is in 1965 en 1967 uit die huwelik gebore.

In Junie 1968 is Prosakuns gepubliseer wat ’n inleiding tot die tegniek van prosa was en die resensies was oor die algemeen gunstig.

Hoewel Kannemeyer ’n aangename tyd aan die Universiteit van Kaapstad gehad het, het hy tog gevoel dat hy liewer binne ’n oorwegend Afrikaanse gemeenskap sou wou werk en meer Afrikaanstaliges studente sou wou hê. Hy het dus in 1965 aansoek gedoen om ’n betrekking by die nuwe Universiteit van Port Elizabeth en ’n jaar later by die Universiteit van Suid-Afrika, maar sy aansoeke was nie suksesvol nie. Einde 1968 was daar ’n vakature vir ’n senior lektoraat aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, nou UJ) in Johannesburg, maar hy het nie aansoek gedoen toe die pos geadverteer is nie. Nadat Frans van Rensburg so te sê die pos van senior lektor in Nederlandse letterkunde aan Kannemeyer aangebied het, het hy aansoek gedoen en op 1 April 1969 in Johannesburg begin werk.

As gevolg van die druk doseer- en administratiewe program by RAU het Kannemeyer tydens sy termyn nie baie geleentheid gekry om te publiseer nie, en die enigste stukke wat in hierdie tyd in tydskrifvorm verskyn het, was die kommentaar op die toekenning van die Hertzogprys vir drama aan Opperman, ’n artikel oor die debuutdramas van George Louw en PG du Plessis, en ’n bespreking van PG du Plessis se Siener in die suburbs.

Teen 1970 was sy werk só ingedeel dat hy in die eerste semester slegs nagraadse klasse gehad het en dus redelik los was. Ook het hy gevoel dat hy lanklaas iets konstruktiefs gedoen het. Hy het gemeen dat dit tyd was om sy gedagtes oor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, waaroor hy baie aantekeninge gereed gehad het, te orden en die boek te skryf wat hy lankal wou. En in Maart 1970 het hy die manuskrip van Op weg na Welgevonden aan Human & Rousseau gestuur; dit is later dieselfde jaar in ’n beperkte oplaag gepubliseer.

In Desember 1970 is Kannemeyer en sy gesin na Europa, waar hy in Nederland wou navorsing doen. Sy terrein het hy beperk tot ’n verkenning van die moderne Nederlandse poësie, met die aksent op die verhouding tussen eksegese en beeld as ’n tema – iets wat hom al sedert 1960 geïnteresseer het.

Dit was Kannemeyer se plan om die tweede deel van 1971 in Amsterdam met sy navorsingswerk voort te gaan, maar sy persoonlike lewe het hom gedwing om vroeër na Suid-Afrika terug te keer. Trix, sy vrou, het hom om ’n egskeiding gevra en het verkies dat hy die kinders behou. Daarby het Mark siek geword, en nadat behandeling in Frankryk nie gehelp het nie, het Kannemeyer en die kinders na Suid-Afrika teruggekeer, waar Mark gediagnoseer is met tuberkulose van die linkerknie.

Kannemeyer se vader is in Januarie 1972 oorlede en hy het gevoel dat hy terug Kaap toe wou gaan. Die middel van 1972 is ’n pos by die Universiteit van Kaapstad geadverteer en hy het daarvoor aansoek gedoen. Hoewel hy ’n lektoraat aangebied is en hy reeds senior lektor was, het hy dit tog aanvaar en het begin 1973 weer by die Universiteit van Kaapstad begin werk, vir twee jaar.

In 1973 is Kannemeyer weer getroud, hierdie keer met Estelle, dogter van die gewese eerste minister JG Strijdom, maar die huwelik was ’n mislukking en hulle is na slegs enkele maande uitmekaar. In die middel van 1974 is hy met Althea Roberts van Mosselbaai getroud. Hulle is in 1981 geskei en aan die einde van 1984 is hy met sy ou skoolvriendin Sugnèt Kriel getroud.

Kort na hulle terugkoms het Johan Smuts van Stellenbosch Kannemeyer meegedeel dat daar twee vakante lektorate in die Nederlandse letterkunde in die Departement Afrikaans op Stellenbosch is. Hy het vir die pos aansoek gedoen en dit op 1 Januarie 1975 aanvaar. In 1976 is hy as senior lektor aangestel, ’n posisie wat hy tot 1981 beklee het. Daar was vroeg in 1981 twee professorate in Afrikaans en Nederlands vakant: een aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en een aan die Universiteit van die Witwatersrand. Kannemeyer het om albei poste aansoek gedoen en sy aansoek by Wits was suksesvol. Hy het hierdie professoraat tot die einde van Maart 1987 gevul.

Kannemeyer het in Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag geskryf dat hy op Stellenbosch gelukkig was om briljante studente in sy klasse te hê. Daar was Gerrit Olivier, Anlen Jordaan (wat as Anlen Marais gedebuteer met Die wolf in die blare), Marianne de Jong, Jean Lombard en Koos Bekker. In later jare was daar Louise Viljoen, Daniel Hugo, Louis Krüger, Joan Hambidge, Etienne van Heerden (wat in sy honneursklasse was) en Marlene van Niekerk en André le Roux (wat voorgraadse kursusse bygewoon het).

In 1973 het Koos Human van Human & Rousseau Kannemeyer genader oor die moontlikheid om ’n literatuurgeskiedenis van Afrikaans aan te pak, aangesien die vorige twee skrywers van literatuurgeskiedenisse van Afrikaans, Gerrit Dekker en Rob Antonissen, albei oorlede is en dit beter sou wees as so iets deur ’n nuwe skrywer op hierdie gebied gedoen moet word – en Human en DJ Opperman het albei gemeen dat Kannemeyer die mees geskikte persoon is om so ’n taak te onderneem. Opperman was veral beïndruk met sy Nederduitse digkuns wat in 1973 verskyn het en was bereid om advies te gee en die aanpak van die werk met Kannemeyer te bespreek.

Na twee weke het Kannemeyer die ander twee meegedeel dat hy die uitnodiging aanvaar. "Oor ’n formidabele middagete in Lanzerac op 15 Julie 1973 het ek dan ook aan my twee gashere gesê dat ek die uitnodiging om ’n literatuurgeskiedenis te skryf, as iets soos ’n doodsvonnis sien. Die enigste twee persone wat dié taak in Suid-Afrika onderneem net, is reeds oorlede, al is ek met die gelatenheid van ’n Germanicus bereid om dit te aanvaar ‘soos ek ook die dood aanvaar’. Koos se enigste lakonieke kommentaar was dat een van die twee literatuurhistorici darem op hoë ouderdom gesterf het!" (Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag, p 188). En só het Kannemeyer begin werk aan dít wat sy naam in die Afrikaanse letterkunde gevestig het.

Die projek het aanvanklik stadig gevorder, maar in die loop van 1974 het dit skielik op dreef begin kom. Terwyl Kannemeyer aan die literatuurgeskiedenis gewerk het, het hy ook tyd ingeruim om aan ander publikasies te werk. Só is Verspreide opstelle, ’n bundel met kritiese opstelle van Opperman, in 1977 uitgegee.

’n Bundel van Kannemeyer se eie kritiese opstelle is ook in 1977 gepubliseer, onder die titel Konfrontasies: letterkundige opstelle en kritiek, 1961–1975. Die bundel is aan DJ Opperman opgedra. LS Venter het sy resensie van Konfrontasies in Oggendblad met die volgende woorde afgesluit: "Kannemeyer bestendig met dié bundel sy beeld as verantwoordelike literêre vakman, van wie mens soms mag verskil maar wie se oordeel jy altyd graag verneem."

In 1977 het Kannemeyer die taak van redaksie-sekretariaat van die letterkundige tydskrif Standpunte op hom geneem. Die eerste nommer wat hy behartig het, was 127 van die 3de reeks, jaargang 30:1, Februarie 1977. Hy het hierdie amp beklee tot 1983, en die uitgawe van Standpunte 168(XXXVI) van 6 Desember 1983 was sy laaste een. André P Brink het hom opgevolg.

Die eerste deel van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur is op 4 Augustus 1978 tydens ’n skemeronthaal in die ou Burgerhuis op die Braak op Stellenbosch bekendgestel. Die reaksie daarop was "oorweldigend gunstig". Ernst Lindenberg (Die Burger, 13 Julie 1978) het dit beskryf as "volledig, skerpsinnig en uiters bruikbaar. As naslaanwerk sal dit om sy omvang én deskundigheid moeilik geëwenaar kon word." Op 2 Augustus 1979 het Kannemeyer in die Klub Here XVII in Kaapstad die Recht Malan-prys vir die boek ontvang.

In Oktober 1978 is Kannemeyer vir drie maande na Europa vir navorsingswerk en ’n vakansie. Dit het hom die geleentheid gebied om afstand te kry van die literatuurgeskiedenis en ook om sy "sintuie op te skerp".

Met sy terugkeer het hy voortgegaan met sy navorsing vir die deel 2 van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Hy het gedurende hierdie tyd ’n aandeel gehad in die bundel Voetpad vir verkenning (1978), wat bestaan het uit Elisabeth Eybers se kritiese opstelle en wat André P Brink "een van die belangrikste bundels kritiese opstelle" genoem het.

Ook was hy intensief besig met sy studie van DJ Opperman se oeuvre wat in 1979 onder die titel Kroniek van klip en ster verskyn het. En by dieselfde geleentheid is Die galeie van Jorik, ’n faksimilee en transkripsie van die oorspronklike dokumente met ’n weergawe van die finale teks bekendgestel.

Sommige van die resensies van Kroniek van klip en ster was positief, soos dié van André P Brink, maar Kannemeyer vermeld self dat daar vir hom die eerste aanduiding was dat "daar onder sommige vakgenote ’n wrewel aan die opwel was oor my produktiwiteit as literator". Terwyl AP Grové se waardering "gekwalifiseerd" was, was Hein Viljoen, DH Steenberg en TT Cloete se menings grootliks negatief (Die rym neem ook ’n hele leewe in beslag). Ook Cloete (Die Burger, 18 Okt 1979) en FIJ van Rensburg (Beeld, 29 Okt 1979) se besprekings van Die galeie van Jorik was negatief.

1980 was ’n besige jaar vir Kannemeyer, met die verskyning van die twee bundels van Etienne Leroux, Tussenspel en Tussengebied, wat onderskeidelik keuses uit sy verspreide korter stukke en sy lesings en opstelle bevat. Ook is C Louis Leipoldt se Versamelde gedigte uitgegee.

Tydens Kannemeyer se tyd as professor by Wits het bekendes soos Lucas Malan, Daniel Hugo en Etienne van Heerden, die eerste twee as doktorale studente en Van Heerden as MA-student, onder hom studeer. Onder die honneursstudente was Peter Kannemeyer Massyn, Dan Roodt, Johan van Wyk en Philip Kannemeyer.

Op 15 September 1983 is Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2 in die Hotel Sunnyside Park bekendgestel, en meer nog as in die geval van deel 1 het die radio, televisie en pers die geleentheid gedek. Met die uitsondering van TT Cloete s’n (Tydskrif vir Letterkunde) was die reaksies op hierdie tweede deel besonder gunstig. Ena Jansen (Vaderland, 6 Februarie 1984) het gesê dat die twee bande saam ’n "magnum opus" voltooi, terwyl André P Brink (Rapport, 18 September 1983) dit ’n "monumentale stuk werk" noem. Dit was, net soos die eerste deel, op die kortlys vir die Louis Luyt-prys vir 1983.

Reeds voor die voltooiing van die tweede deel het Kannemeyer begin dink om ’n werk van biografiese aard te skryf. Sy aanvanklike idee was om so ’n werk oor NP Van Wyk Louw te skryf, maar hy het gou besef dat hy veel meer kennis en dokumente oor DJ Opperman tot sy beskikking het. Daarby het hy geen ander skrywer se werk so goed geken soos Opperman s’n nie en was hy dié figuur wat Kannemeyer feitlik sy hele lewe lank begelei het. En só het Kannemeyer se loopbaan as biograaf van formaat begin.

Ná die voltooiing van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2 het Kannemeyer in Maart 1983 begin met sy navorsing oor Opperman en dit is enkele dae na Opperman se dood op 22 September 1985 voltooi. Na die finale wysigings aangebring is, is DJ Opperman: ’n biografie op 30 Oktober 1986 by De Volkskombuis in Stellenbosch bekendgestel. Weer was die resensies oorwegend gunstig en het onder andere Antjie Krog (Beeld, 3 November 1986) Kannemeyer se aanbieding van feite en sy "besondere skryftalent" geloof. "Opperman en Kannemeyer sorg vir ’n boeiende kombinasie – asof die een spesiaal so moes lewe en die ander met sy detail-neus en verstommende werkvermoë eventueel oor hom móés skryf."

Kannemeyer het vir hierdie biografie ’n navorsingstoekenning van die senaat van die Universiteit van die Witwatersrand, ’n RGN ad hoc-toekenning en steun van Radio Suid-Afrika se Skrywersfonds ontvang. DJ Opperman was op die kortlys vir die Rapport-prys vir 1987 en die Ou Mutual-prys vir niefiksie is in 1987 daaraan toegeken.

Alhoewel Kannemeyer gelukkig was by Wits, was daar tog bepaalde aspekte wat hom gehinder het en het hy dus aan die einde van 1986 as professor bedank. Aan die begin van April 1987 het hy diens aanvaar as senior navorsingspesialis by die Instituut vir Taal- en Kunstenavorsing van die RGN en daarmee saam het hy ook na Pretoria verhuis. Hierdie pos het hom in staat gestel om voltyds navorsing te doen, die tipe werk waaraan hy in daardie stadium van sy lewe voorkeur gegee het. Hy het binne enkele maande begin met die beplanning van ’n nuwe kultuurgeskiedenis van Suid-Afrika waaraan 38 vakkundiges oor die hele land sou meewerk. Hierdie werk is egter nooit gepubliseer nie, want ná FW de Klerk se dramatiese aankondigings in die parlement op 2 Februarie 1990 was dit duidelik dat die werk in ’n baie verouderde polities-kulturele sleutel geskep was. Hy het ook by die RGN ’n projek oor die Dertigers geregistreer wat op ’n verkenning van veral die Stellenbosse dokumente berus en waarin hy ’n beeld wou gee van die prikkels binne die literêre lewe van daardie tyd.

In 1988 is die Gustav Preller-prys vir literêre kritiek deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Kannemeyer oorhandig en in 2002 het die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde die       C Louis Leipoldt-prijs aan hom toegeken vir die opstel "Uys Krige en die Suid-Afrikaanse politiek". Die NP Van Wyk Louw-medalje van die Akademie is in 2003 aan hom oorhandig en daarby het hy deur die jare etlike beurse van onder andere Rupert International, Het Jan Marais Internationale Fonds, Stichting Neerlandia, Van Ewijck-Stigting, en Voorsittersfonds van Nasboek en Tafelberg-uitgewers ontvang vir navorsing plaaslik en in die buiteland.

Kannemeyer is in September 1992 terug na Stellenbosch, waar hy hom voltyds op navorsing toegespits het en vryskutwerk gedoen het. In 2003 is hy vir drie jaar as buitengewone professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch aangestel. As buitengewone professor sou hy ’n module in dokumentasiekunde aanbied waarin studente opgelei sou word om die Dokumentasiesentrum van die JS Gericke-biblioteek van die universiteit meer sistematies in hul bestudering van die Afrikaanse letterkunde te ontgin. Belangrike Afrikaanse skrywers het talle versamelings dokumente aan die sentrum nagelaat. Dit is die belangrikste sentrum van dié aard in die land. Gevolglik kan dit as ’n soort "laboratorium" by die aanbieding van so ’n kursus dien.

In die dokumentasiekunde-module sou onderrig in verskillende onderafdelings gegee word. Dit sluit in teksologie, edisiewetenskap en redigering, die voorbereiding van verskillende soorte uitgawes (soos histories-kritiese uitgawes, lees- en faksimilee-uitgawes), die uitgawes van versamelde werke van skrywers, van briewe, dagboeke en geskiedkundige dokumente, en die gebruik van dokumente by die skryf van biografieë en literatuurgeskiedenisse.

In Stellenbosch het John Kannemeyer dit begin doen waarvoor hy grootliks onthou sal word. Hy het na sy eerste biografie nog agt biografieë die lig laat sien, asook twee fotoboeke. In 1993 het hy die boek oor sy soektog na Peter Blum, getiteld Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf: ’n narrasie in veertien episodes met ’n naspel, gepubliseer. Hennie Aucamp (Die Burger, 1 Junie 1993) noem dit ’n studie oor Peter Blum en nie ’n biografie nie, aangesien daar maar min oor sekere gedeeltes van sy lewe bekend is. En Kannemeyer het Blum "oortuigend" laat herleef.

Naas die biografie oor Opperman het Kannemeyer in 1994 Die bonkige Zoeloelander: DJ Opperman in beeld uitgegee. Dit kan dien as aanvulling tot die biografie, het Johann Botha (Die Burger, 30 November 1994) geskryf, en daar is genoeg aanvullende materiaal om hierdie aparte bundel te regverdig.

In 1996 het Kannemeyer sy tweede van drie Recht Malan-pryse ingepalm met die publikasie van Langenhoven – ’n lewe wat in 1995 verskyn het. As aanvulling is Die dienswillige dienaar: ’n Langenhoven-fotoboek ook in 1995 gepubliseer. Abraham de Vries (Afrikaans Stereo: Skrywers en Boeke, 19 Junie 1995) het dit as volg geskryf: "Dit is een van die pluspunte van hierdie biografie dat dit ’n skrywer wat so lank byna oorbekend was, weer verlewendig vir die avontuursoeker, benewens dan dat dit vir die gewone leser die verhaal vertel van ’n bekende skrywer en volksfiguur se soms tragiese gespletenheid en van die worsteling met die demone in sy skadukant.

Kannemeyer het al in 1990 aan Langenhoven se biografie begin werk en naas die massiewe argivale materiaal het hy ook wyd in die Klein Karoo gereis om met Langenhoven se wêreld vertroud te raak. Aangevuur deur dié unieke geskiedenis van die streek, sy natuurskoon en gasvryheid van sy mense het hy in 1993 ’n paar kollegas op ’n driedaagse "Langenhoven-toer" geneem. Een van sy reisgenote, Wium van Zyl, het besluit om hierdie ekskursie aan die groter publiek te bemark. So het ’n unieke literêre reis "op die spore van Langenhoven" ontstaan wat die voorloper was van baie ander toere op ander Afrikaanse skrywers se voetspore met Wium van Zyl as organiseerder en Kannemeyer as kundige en geestige kommentator. Daar is tot in Nederland skrywerstoere gereël.

Oor Langenhoven – ’n lewe het JC Steyn (Volksblad, 4 September 1995) geskryf dat dit ’n uitstekende werk is "wat ’n magdom nuwe en interessante inligting oor die bekende skrywer bevat. Dit is beter as die Opperman-biografie. Kannemeyer slaag daarin om Langenhoven as mens voor te stel sonder om hom te ontluister of as vlekkelose held op te hemel." Ook Joan Hambidge (Beeld, 15 Junie 1995) het dit as ’n verstommende werk beskryf: "oerdeeglik, openbarend én knap vertel".

Met Leipoldt: ’n lewensverhaal het Kannemeyer in 2000 die driekuns aan Recht Malan-pryse verower. Dit het ook die Helgaard Steyn-prys in 2000 ingepalm. Kannemeyer het aan Boekewêreld vertel dat toe hy sy werk aan die Langenhoven-biografie afgehandel het, hy reeds geweet het dat Leipoldt sy volgende projek sou wees. Reeds as honneursstudent in 1960 het hy ’n uitgebreide opstel oor Langenhoven geskryf.

Daardie opstel was sy eerste kennismaking met Leipoldt se werk en ’n voorstudie tot sy uitgawe van Leipoldt se Versamelde gedigte wat in 1980 tydens die Leipoldt-eeufees uitgegee is. Agter in Versamelde gedigte het Kannemeyer in die verantwoording alle variante van die Leipoldt-tekste vir verdere navorsing gekatalogiseer. Hy het ongeveer tien jaar later Leipoldt se kritiese opstelle en resensies in twee bundels versamel. Leipoldt was dus al die jare nie ver uit Kannemeyer se gedagtes nie.

In sy navorsing het hy gesteun op MPO Burgers se uitgebreide aantekeninge wat by die Staatsargief in Pretoria bewaar word. Uit Burgers se briewe het dit geblyk dat hy in die laat jare veertig en vroeë 1950’s van plan was om ’n biografie oor Leipoldt te skryf, maar dit het nooit gebeur nie. Kannemeyer het begin deur Leipoldt se gepubliseerde skeppende werk weer met aandag te lees en die omvangryke versameling van Leipoldt by die Universiteit van Kaapstad van ’n kant af deur te werk.

Daar was egter probleme, want Leipoldt se handskrif was dikwels moeilik ontsyferbaar en die feit dat hy op ’n verskeidenheid gebiede werksaam was, skep probleme vir ’n biograaf met beperkte kennis op mediese gebied, botanie en die kulinêre kuns. Gelukkig kon Kannemeyer met deskundiges skakel om hom te help. Hy is ook na Londen om in die Colindale Newspaper Library Leipoldt se berigte oor die Anglo-Boereoorlog op te spoor en kon ook daar Leipoldt se redaksionele werk op die gebied van die geneeskunde tydens sy jare as student by die Guy’s Hospital nagaan. Tydens sy besoek in Londen is Kannemeyer ook na Berkhamsted om dr Peter Shields, bekende "grootmaakkind" van Leipoldt, te ontmoet. In Suid-Afrika het hy ’n onderhoud gevoer met Jeff Leipoldt, sy wetlik-aangenome kind, ongeveer ’n jaar voor sy dood.

Van Londen is Kannemeyer na Amsterdam om Leipoldt se Nederlandse joernalistiek tydens die Boereoorlog en daarna te verken. In Desember 1996 en Januarie 1997 is hy ook na Indonesië, omdat die Ooste ’n sterk neerslag in Leipoldt se werk gevind het.

AP Grové (Rapport, 23 Mei 1999) het sekere vraagtekens en bedenkings gehad, maar ten spyte daarvan het hy die biografie beskryf as ’n "indrukwekkende studie wat van grondige navorsing getuig. Dis ’n belangrike inligtingsbron oor ’n veelsydige en verwikkelde mens. Daarby is dit ’n boek wat lekker lees, ’n boek waarin kritiese erns meermale met ’n vermaaklike insident of opmerking afgewissel word, ’n kwinkslag of moedswillige uitspraak van Leipoldt wat ook guitig kon wees en daarvan gehou het om sy toehoorders te skok – klein besonderhede wat help om die mens Leipoldt tot lewe te bring en die leesvreugde te verhoog."

Hennie van Coller (Volksblad, 16 Augustus 1999) het die Leipoldt-biografie as volg beskryf: "Dit is ’n monumentale werk. Kannemeyer is die egte biograaf wat sy bes doen om sy subjek nie net te beskryf nie, maar ook te begryp. En uit die biografie is dit duidelik dat hier ’n gedugte letterkundige aan die woord is, veral waar hy hom wend tot tekste self en dit op verhelderende wyse ontleed of toelig."

Ná die afhandeling van sy Leipoldt-biografie in Junie 1998 was Uys Krige se lewensverhaal ’n vanselfsprekende keuse vir Kannemeyer. Hy het reeds op skool by die lees van werke soos Sol y sombra en Ver in die wêreld onder die bekoring gekom van ’n skrywer wat baie in die Mediterreense lande gereis het. Hy het ook onthou watter genot die ervaring van Uys se "Tram-ode" was toe hy in die skoolbloemlesing daarmee kennis gemaak het. Sulke verse met hul ritmiese stuwing en vreemde musiek was so anders as die verse van ander Afrikaanse digters.

Maar hy het tog getwyfel of Krige (of dan Uys, soos Kannemeyer hom van die begin af geken het en wie hy in die vroeë 1960’s ontmoet het) hom enduit sou boei – die gebruiklike huiwering wat ’n mens dikwels aan die begin van ’n omvangryke projek beetpak.

Die werk aan die Krige-biografie, getitel Die goue seun: die lewe en werk van Uys Krige, het in Junie 1998 begin met die verkenning van die Krige-dokumentasie wat in die US se Dokumentesentrum geberg word. Dié versameling is omvangryker as dié van enige van die ander skrywers met wie Kannemeyer vroeër gewerk het. Die vordering daarmee is egter kort-kort onderbreek deur die afhandeling van ander projekte en twee ernstige operasies. In Augustus 2000 het hy met die skryf van die biografie begin en in Oktober en November 2000 is hy na Den Haag om inligting oor Krige se Nederlandse verbintenisse te bekom. Die manuskrip is op 15 Junie 2001 voltooi, gevolg deur die finale redigering.

Vir Kannemeyer as biograaf was dit ’n probleem dat Krige nie, soos die ander skrywers oor wie hy geskryf het, ’n besliste of vermoedelike skadukant gehad het nie. Hy het nie te veel gedrink nie, het nie buite-egtelike verhoudings gehad nie en was te eerlik, oop en naïef om misdadig te wees. Sy fases van depressie was oorgeërf en hy kon daaroor praat. En dit was vir Kannemeyer ’n aanpassing om iemand as onderwerp te hê wat "psigologies" só probleemloos was, al het die boeiende veelsydigheid van die hele Krige-figuur daarvoor vergoed.

Vir Kannemeyer was die biografie van die "goue seun" ’n verrykende ervaring en ’n projek waaraan hy met vreugde gewerk het, ten spyte van die omvangryke dokumentasie wat hy moes deurwerk en ander probleme.

Weer eens was die besprekings oorwegend gunstig. Hennie Aucamp skryf in Insig in 2002 dat die biografie aan die grootste eis voldoen wat aan een gestel kan word, "naamlik dat dit die subjek in ’n nuwe, verhelderende lig stel, maar Kannemeyer kon strenger gesnoei het aan die stambome en hy kon ook die jeugjare van Krige ingekort het". Ook Hennie van Coller (Volksblad, 17 Junie 2002) het gevoel dat daar gebreke is, "soos dat die biograaf persoonlike byltjies geslyp het, maar Krige is tog met die werk literêr in ere herstel. Dit is ook ’n uiters leesbare biografie met baie nuwe inligting, sprekende foto’s en bewyse van deeglike navorsing".

Twee jaar ná Die goue seun is Jan Rabie: prosapionier en politieke padwyser uitgegee. Oor sy besluit om Jan Rabie as onderwerp van ’n biografie te kies, het Kannemeyer tydens die bekendstelling vertel (Volksblad, 29 November 2004): "In die geval van Jan Rabie was ek vroeg in my lewe beïndruk met die mooi dinge wat hy gelewer het. Op Stellenbosch het hy my en my studentemaats, in ’n tyd toe die Afrikaanse prosa deur droogtes en sprinkaanplae oorheers is, beïndruk met die volgende sinnetjie in sy Een-en-twintig: 'Paul Roux was ’n krombeen-boertjie wat sy twee liters wyn per dag gedrink en sy lande en vrou met strenge reëlmatigheid vir hul jaarlikse oeste geploeg het.' Dit was ’n sin so bevrydend soos NP Van Wyk Louw se verse oor die liefde en die vreugde van die vroulike liggaam.

"Nou het ons vir die eerste keer ook van sulke dinge in ons prosa gehoor. Ek was egter van vroeg af ook bewus daarvan dat Rabie ’n hele paar romans geskryf het wat literêr gesproke mislukkings is, en die vraag was of dié mislukkings my nie in my biografiese ywer sou ontmoedig nie. Toe ek egter onder die vel van Rabie begin inkom het, is ek gou meegevoer deur die wyse waarop hy as prosapionier met sy Een-en-twintig die weg na Parys as kultuursentrum en intellektuele Mekka vir jongmense aangedui het." [...]

"Anders as baie van sy enigsins ouer tydgenote, wat volgens sy oordeel van die Suid-Afrikaanse realiteit weggeskram het deur ’n ‘estetiese ster’ na te jaag, het Rabie met mag en mening sy skeppende werk in diens gestel van die protes en van sy feitlik fanatieke ideaal dat daar aan die suidpunt van Afrika uit die smeltkroes van rasse, afkomstig van drie kontinente, ’n nuwe volk tot stand moet kom met Afrikaans as gemeenskaplike taal."

Oor die Jan Rabie-biografie het Ampie Coetzee (Rapport, 9 Januarie 2005) gemeen Rabie is in hierdie boek ’n mens: "nie net word van sy lewe vertel nie, maar daar word ook bespiegel oor die aard van sy en Marjorie se huweliksverhouding en oor Rabie se soort seksualiteit. Veel word vertel van sy vriende en medeskrywers. Hy praat dikwels en sê onthoubare dinge. Dit bring verdiende hulde aan ’n prosapionier wat vreesloos gestry het om gelykheid en om ’n taal wat versoenend sou kon wees."

"Op sy kenmerkend deeglike manier," skryf Gunther Pakendorf (Die Burger, 20 Desember 2004), "het Kannemeyer omtrent alles wat deur en oor Jan Rabie geskryf of gesê is, geraadpleeg, die argief gefynkam en boonop onderhoude gevoer met mense wat Rabie geken het. Die resultaat is ’n omvattende kompendium van Rabiana en ’n uiters gedetailleerde naspeur van dié skrywer se lewe wat boonop ’n interessante lig werp op die werkinge en woelinge van die Afrikaanse literêre bedryf, veral in die dekades voor 1990/1994. [...] Tog is daar te veel vrae wat pla. Om met Kannemeyer se werkswyse te begin, moet ’n mens vra waarom elke titseltjie inligting bygehaal moet word, waarom ellelange aanhalings nie verkort of geparafraseer is nie, hoekom daar so baie – dikwels gewoon banale – besonderhede en so min oorsig is. Die boek kon wesenlik verkort gewees het. ’n Lewensverhaal bestaan kennelik uit stories en anekdotes, maar van ’n biografie verwag ’n mens ontleding, interpretasie, waardering – wat grootliks afwesig is in Kannemeyer se werk."

Met Hannes van der Merwe: argitek en skrywersvriend het Kannemeyer afgewyk van skrywers as subjek vir sy biografie. Lucas Malan (Die Burger, 23 Desember 2006) was nie verbaas dat Kannemeyer vir Van der Merwe as onderwerp gekies het nie, "aangesien Van der Merwe teen die laat 1950’s ’n indrukwekkende loopbaan op sy gebied gehad het. Van der Merwe het ook ’n sterk belangstelling in die literatuur gehad wat gevoed is deur sy vriendskappe met Boerneef en DJ Opperman. Met kenmerkende aandag aan historiese en geografiese besonderhede beskryf Kannemeyer Van der Merwe se herkoms en kinderjare en daarna sy uitdagende en suksesvolle loopbaan as argitek. Die biografie lees vlot en bied met talle foto’s ’n onderhoudende beeld van ’n begaafde skeppende figuur in ons kultuurgeskiedenis."

Die volgende toevoeging tot Kannemeyer se lys biografieë was een oor Etienne Leroux, wat beskou word as een van die grootste, indien nie dié grootste nie, Afrikaanse romansier, getiteld Leroux: ’n lewe (2008). Vir Heilna du Plooy (Volksblad, 19 Januarie 2009) is daar ’n goeie balans tussen die feite oor Leroux se skrywers- en persoonlike lewe – "en word daar ook deurlopend rekening gehou met die wyer Suid-Afrikaanse geskiedenis en die literêre ontwikkelinge in Afrikaans en in Suid-Afrika. Maar wanneer Kannemeyer oor die Leroux-navorsingseenheid aan die Universiteit van die Vrystaat skryf, is hy besonder venynig oor die sogenaamde naïewe' navorsers wat hulle dan kwansuis nie goed sou gedra het ten tye van besoeke aan Leroux se plaas nie.

"In hierdie biografie kom staan die biograaf met sy eie oordeel en vooroordeel te duidelik tussen die leser en sy stof, en dit is jammer, maar gelukkig is die grootste gedeelte van die inligting oor Leroux as mens en as skrywer so boeiend dat die meeste lesers hierby verby sal kan lees. Dit is ’n tydige en noodsaaklike toevoeging tot die reeks biografieë oor Afrikaanse skrywers."

Daar was egter ’n nadraai aan die publikasie van Leroux: ’n lewe wat so ’n ietwat slegte smaak in die mond agtergelaat het. Kannemeyer het in Februarie 2009 aangekondig dat hy regstappe gaan doen teen Nicol Stassen, uitvoerende hoof van Protea Boekhuis wat Leroux uitgegee het. Hy het Stassen gedagvaar vir die wanbetaling van tantième wat glo aan hom verskuldig is vir die biografie. Volgens Kannemeyer wou Stassen hom ook nie inlig oor die aantal eksemplare van die boek wat gedruk en verkoop is nie. Stassen het die bewerings ten sterkste ontken. Volgens hom word tantième elke ses maande betaal en sou Kannemeyer sy geld vir die 657 eksemplare van die 3 000 wat gedruk is, betaal word. Stassen het aan Rapport (15 Februarie 2009) gesê dat Kannemeyer vergeet het dat Protea Boekhuis hom reeds ’n voorskot van R5 000 betaal het. "Dis jammer om te sê, maar John is nie die maklikste mens nie," was Stassen se kommentaar. "Ek ís vooraf gewaarsku. Daar is groot uitgewers wat weier om sy boeke uit te gee omdat hulle geen wins maak nie. Dis te verstane, want dit word deur ’n beperkte getal mense gelees. Protea beskou sy werk egter as uiters substansieel vir die Afrikaanse letterkunde. Ek wou nie toelaat dat dié mylpaalwerke om geldelike redes nié verskyn nie. [...] Waar het jy al gehoor ’n uitgewery met Protea se aansien betaal nie sy skrywers nie? Dan kan ons maar toemaak."

Vir Thys Human (Beeld, 29 September 2008) wys Kannemeyer met Leroux dat biografiese geskiedskrywing ’n bydrae tot ’n beter begrip van die letterkunde kan lewer, "veral in die opsig dat dit ingewikkelde aspekte in Leroux se romans konkretiseer en meer verstaanbaar maak. Daarby het die biografie veel te vertel van die ontwikkeling van Leroux as skrywer. Verder lewer dit ’n onmisbare bydrae tot die literatuurgeskiedenis, deurdat dit Leroux se verhouding tot ander skrywers deeglik belig en aandui hoe hy bygedra het tot die literêre klimaat van sy tyd. Dit is ’n skrywersbiografie wat ek weer sou wou lees, aangesien dit ’n gedugte werk is wat ryke stof tot nadenke en navorsing bied."

Die laaste werk wat Kannemeyer voor sy ontydige dood op Kersdag 2011 aangepak het, was die biografie van die Suid-Afrikaanse skrywer JM Coetzee. Op ’n dag oor middagete het die ouduitgewer Hannes van Zyl aan Kannemeyer gevra: "Hoekom skryf jy nie oor John Coetzee nie?"

"Ek was ’n bietjie uit die veld geslaan," het Kannemeyer aan Murray la Vita (Die Burger, 1 Oktober 2011) vertel. "En toe het ek begin dink daaroor. En gedink dit is nié so ’n gek idee nie. Maar mense het my gewaarsku dat hy nooit gaan toestem tot ’n biografie nie. En toe het ek vir Hermann Giliomee gevra, wat ’n kollega was van hom en goed bevriend, of hy Coetzee sal pols."

Coetzee het laat weet hy is in beginsel nie teen so ’n biografie gekant nie. "En toe het ek aan hom geskryf. In Afrikaans. Hy het in Afrikaans geantwoord en gesê hy sal álles in sy vermoë doen om die projek te laat slaag. Ek het hom bedank en gesê: ‘Jy besef natuurlik ek sal in Afrikaans skryf? Dít is my medium.’ En ek het vir hom geskryf: ‘Jou Afrikaans is baie goed, máár ek sal wil hê dat jy in Engels aan my skryf, want ek wil sien hoe jy formuleer in die medium wat vir jou natuurlik is.’

Coetzee het geantwoord: "Very well, I’ll write in English. I have of course understood that you would be writing in Afrikaans. I wouldn’t like to have it any other way."

Dit was in Junie 2008. Kannemeyer het teenoor La Vita erken dat hy nie geweet het waarvoor hy hom inlaat nie. "Ek het geweet dit is ’n belangrike skrywer. Nobelpryswenner ... daar is oral aandag aan hom. Maar ek het die ómvang daarvan nie besef nie."

As deel van sy navorsing oor Coetzee moes hy al sy werke, asook die werke oor hom, herlees; hy moes die Karoo waar Coetzee grootgeword het, besoek, asook Harvard in Amerika waar Coetzee se manuskripversameling is. "Januarie het goed begin," het hy verder aan La Vita vertel, "want ek het ’n baie delikate hoofstuk waarin ek heelwat persoonlike sake moes ter sprake bring, hoofstuk 12, voltooi. Toe het ek begin met hoofstuk 13, wat ek geweet het ’n baie lang hoofstuk gaan wees. Santayana praat van ‘the enormous burden of perception’ ... Ek het gewonder: Hoe op gods aarde gaan ek dít wat ek wil sê in hiérdie hoofstuk akkommodeer?

"Ek moes eers ’n beeld gee van hom in die negentigerjare ... Kyk, hy is met ontséttend baie dinge besig. Dis nie net dat hy ’n paar boeke publiseer nie. Hy gaan na Amerika toe. Hy hou hier lesings, daar lesings. Dan kom die stroom eredoktorate wat aan hom toegeken is ...

"En ek was ook nie lank besig nie toe het ek werklik siek geword. Ek het binne 14 dae 10 kilo’s gewig verloor. Toe het hulle my opgeneem in die hospitaal waar vasgestel is dit is ’n virus.

"En nou is die ding natuurlik: Hoe eindig jy ’n biografie oor ’n man wat nog lewe? Hy het eintlik die oplossing gebring. Ek het hom besoek in Ade­laide in Maart 2009. Wat hy nié vir my gesê het nie, is hy was in daardie stadium aan die skryf aan Summertime. En in Summertime het jy te make met ’n fiktiewe biograaf wat kom navorsing doen oor die gestorwe skrywer JM Coetzee.

"En hier meld ’n wérklike biograaf hom aan. En daardie situasie, wat hom sekerlik ten minste moes laat glimlag het, kon ek gebruik, want ek het die manuskrip begin met ’n lang inleiding. Daarin skryf ek natuurlik in die ek-vorm. Ook in die epiloog. Ek kon daardie ding gebruik as ’n soort maneuver."

Kannemeyer het verder aan La Vita vertel: "Kyk, John Coetzee staan bekend as teruggetrokke, en dit is hy sékerlik wél. Hy is iemand wat waak oor wat hy sê, maar ek het dadelik die indruk gekry dat hy met entoesiásme, met ’n óórgawe, meewerk aan die biografie. Álle vrae wat ek gestel het, het hy beantwoord. Ook oor sensitiewe sake. Wat my opgeval het, is ... ek dink as jy met John Coetzee besig is, dan moet jy baie sterk rekening hou met die feit dat hy ’n opleiding het in wiskunde. Dis ’n matemátiese brein wat daar praat. Dit wil sê die essensiële woord; hy gee die inligting matematies juis.

"Ek sou sê ’n mens het daar die verbinding van ’n ongelooflike intellek en ’n ongelooflike skeppende vermoë. Kyk, hy is ook iemand wat dáágliks skryf. Hy gaan eenvoudig voort met werk. Selfs teenspoed wat hy het, en hy’t báie teenspoed gehad in sy lewe, persoonlike dinge ook ... dit tas nie sy absolute toewyding aan nie  ... die kreatiewe vaart word nie aangetas nie."

Daar was nooit ’n gemoedelikheid in die gesprekke met Coetzee nie. "Daar was ’n saaklikheid in die gesprekke, maar ek het hom baie meelewend gevind. Hy is ’n ontséttend beskaafde persoon. Jy sien dit ook in sy briewe. Briewe is staccato-agtig. Hy konsentreer op die essensiële. Sy briewe, e-posse aan my ... nie één enkele woord oorbodig nie."

Kannemeyer het groot dele van sy tyd gebruik om Coetzee se dokumente te bestudeer. "Hy het in ’n stadium ’n seleksie van e-posse wat hy gekry het deur die jare aangestuur. Uitgedruk, beslaan dit dúisende bladsye. E-posse van vriende en medeskrywers soos Breyten Breytenbach. Maar in hoofsaak onderhandelinge met sy agente en met uitgewers en met vertalers."

Coetzee wou nie die manuskrip sien nie. "Jy kan nooit sê, behalwe in sy literêre kritiek miskien, wat dínk John Coetzee nie. Of wat is sý oortuigings nie. En daarom ook, hy het vir my van die begin af gesê hy sal graag wil sien dat die féite in die boek korrek is, maar die interpretasie laat hy aan my oor. Ek het vir hom geskryf aan die begin van die jaar die enigste persoon wat eintlik kan sê of alles reg is, is hý. Maar hy wil dit nie sien nie."

Ouduitgewer Hannes van Zyl, het ná Kannemeyer se afsterwe die Afrikaanse en Engelse uitgawes versorg. Hy het dit verkort, maar nie ingrypend nie, geen hoofstukke of belangrike insidente nie, eerder klein snitte binne paragrawe om die verhaal te laat vloei.

Daar was diegene wat gemeen het die biografie is te omvangryk; dat Kannemeyer nie daarin geslaag het om die enorme hoeveelheid inligting wat hy oor Coetzee ingesamel het, na wens te integreer nie; dat dit met tot die helfte verkort kon word.

Daarteenoor staan die woorde van David Attwell, een van die voorste kenners van Coetzee se werk. Hy skryf in Oktober 2011 aan Kannemeyer: "Now that I have read the whole ms carefully, the scale of your achievement comes home. It is a remarkable book, in fact I’m astounded at the amount of information you’ve been able to assemble, and your eye for the illuminating fact, incident or quota­tion is wonderful ... I could never ­have attempted, much less been successful at, a work of this magnitude. You have placed Coetzee scholarship on a completely different footing with this book, both in criticism and in future work that will be done in the field of critical biography." En: "[W]hatever work those of us do who come after you, it will always be a mere supplement to your achievement."

Vir Murray la Vita lê die waarde van Kannemeyer se biografie veral ook daarin dat hy aan ons ’n blik op die lewe van Coetzee bied wat afwyk van die stereotiepe beeld van hom as ’n kil, geslote mens.

Joan Hambidge skryf in Rapport (7 Oktober 2012): "So pas het JC Kannemeyer se uitgebreide en deeglike verslag oor die enigmatiese JM Coetzee verskyn, in Engels (as JM Coetzee: A Life in Writing) en Afrikaans (JM Coetzee: ’n Geskryfde lewe).

"Die dissipline en talent van die outeur om te midde van teenspoed en ellende steeds ’n skryfdissipline te kon handhaaf, word oortuigend weergegee. Die onthulling van persoonlike leed – die dood van ’n kind, die siekte van ’n ander, die troebel lewe van die pa – word nooit transgressief aangebied nie. Vir my is die ellendes juis dit waarteen die skrywer hom verweer in sy tekste. Die verset teen die vaderfiguur en gesag is ’n sterk tema in sy werk.

"Daar is eweneens ’n meer gedistansieerde skryfstyl en dié biografie mis genadiglik die persoonlike aanvalle wat die biografie oor Etienne Leroux ontsier het. ’n Goeie biograaf is ’n buikspreker en Leon Rousseau, die skrywer van die onoortroffe Die groot verlange, het op ’n keer verwys na die biograaf as ’n advokaat wat ‘sy man’ moet verdedig.

"Boonop is ’n biografie des te moeiliker wanneer die ‘onderwerp’ nog lewe en in sy romans, soos onder meer in Boyhood, Youth, Summertime, sy eie lewe fiksionaliseer én verdraai. (...)

"Die biografie handhaaf ’n fyn balans tussen letterkundige analise en ’n beskrywing van die lewe. Onder meer is die debat oor die besoek van Salman Rushdie (wie se memoire, Joseph Anton, nou by Random House Struik verskyn het) – en die openbare verskil met Nadine Gordimer – ’n belangrike sleutel tot Coetzee se beginselvastheid en sy vermoë om agterna ’n uitspraak of siening te verander."

Tussen die skryf van al die biografieë deur het Kannemeyer ook nie sy werk as literêre kritikus en navorser vergeet nie. Só het hy in 1990 sy "outobiografie", Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag, geskryf en sy eie kritiese opstelle en resensies gebundel onder die titels Ontsyferde stene (1996), Op weg na 2000: tien jaar Afrikaanse literatuur 1988–1997 (1998), Verse vir die vraestel (1998) en Uit puur verstrooiing (2007). Ook is Die Afrikaanse literatuur twee keer hersien – in 1988 en 2005.

In 2000 het hy ’n teksuitgawe versorg van DJ Opperman se ongepubliseerde laaste manuskrip, Sonklong oor Afrika. Hieroor het Kannemeyer (Die Burger, 24 Junie 2000) gesê dat dit een van die moeilikste projekte was wat hy ooit onderneem het. "Daar was die probleem van die plek-plek haas onleesbare manuskrip, die probleem van die variante. Sommige dele het reeds poësie geword. Maar ook die baaierd wat hierdie wordende bundel in baie dele nog gebly het, is vol lewe en gisting, feitlik gereed vir die finale omstookproses."

In 2009 ontvang Kannemeyer ’n eredoktorsgraad van die US vir sy "uitsonderlike bydrae tot die beklemtoning van die waarde wat die Afrikaanse letterkunde inhou". Hy is vereer vir sy rol as navorser, skrywer en kenner van die edisiewetenskap en sy bevordering van die Afrikaanse letterkunde. (Rapport, 7 Februarie 2010)

Op 25 Desember 2011 is John Kannemeyer aan ’n beroerte op Stellenbosch oorlede. Hy was alleen in sy wooneenheid in die aftreeoord Agapé, en toe sy metgesel van veertien jaar, Santa Hofmeyr-Joubert, nie antwoord kon kry op Oukersdag nie, het sy ’n inwoner van die aftreeoord na sy huis gestuur. Hy het op sy bed gelê en is per ambulans na Stellenbosch Medi-Clinic geneem, waar hy om 05:20 op Kersoggend oorlede is. Hy wou geen samekoms hê nie en is veras. Hy laat twee seuns, Mark en Anton, agter.

Sy enigste erfgename is sy twee seuns, terwyl die Universiteit van Stellenbosch sy letterkundige dokumentasie en sy persoonlike korrespondensie erf. (Rapport, 5 Augustus 2012)

Huldeblyke

  • Melt Myburgh: kora-treurlied (vir john kannemeyer)

o vader, rus jy vandag vir altyd in jou wysheid?
lê jy daar met ’n hartseer gesig en sonder glimlag?

asseblief, staan op vir my
seun van ’n skoonmoeder

o, is jou rus vandag vir ewig?
van wie weet jy wat na ons kan omsien noudat jy so daar lê?

waar sal ek weer iemand van jou gelyke in wysheid raakloop?
ek huil nie oor jou nie – is jou rus van so ’n aard dat ek jou moet betreur?

my susters, laat ons die man uitlos sodat hy kan rus,
kom ons kyk wie kan sy wysheid verbysteek

eers môre sal ons ween
nou, my susters, moet ek eers gaan (LitNet)

  • Helize van Vuuren: "Met sy biografie oor JM Coetzee in die pyplyn vir 2012, ’n boek waarna almal in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld reikhalsend uitsien, verlaat John Kannemeyer ons "with a bang, not a whimper". Met sy kennis, ongekende werkywer en die toewyding van ’n monnik, het hy die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing en skrywersbiografie as genre verryk met ’n boekrak vol fassinerende en ensiklopediese boeke, wat ons nog lank sal gebruik. Ons gedenk ’n groot gees ..." (LitNet)
  • Jerzy Koch:

Papierblom
(by die dood van JC Kannemeyer)

Toe hulle die deur oopbreek 
stroom hulle deur klein gangetjies wat tussen 
die kordate boekrakke en kombinasiemeubels ontstaan het 
na binne

die voorste bruin brandweerman wat die eerste in die slaapkamer kom
sien hom lê 
op sy bed
’n wit man van postuur 
ontdaan van statuur 
op sy eie 
daar 
weerloos soos ’n gevalle olifant

lyk 
die halfgeopende mond 
op ’n swart wond 
en gaap dit donkerder? 
(want donkerder is die bloed wat uitstroom 
nadat dit die olifantsgeheue eers vertroebel het
om daarna finaal uit te wis)
– wonder die voorste bruin brandweerman

terwyl die ander met die draagbaar maneuvreer 
en hy vir ’n oomblik die man se wit kaalkop
bebloede wang en gapende mond van digby betrag, dink hy 
skielik aan die heftige kleur van bougainvilleas 
teen die witkalk van sy eie huis 
(of soos sy vrou altyd sê: papierblomme)

wanneer hy sy blik van die katel afwend sien hy dat die hele huis 
vol boeke geprop is 
muurkaste, staankaste, hoekkaste 
en hy aanskou die baie boeke op broos papier 
voor hy weggaan (LitNet)

  • Johann Lodewyk Marais: "Prof JC Kannemeyer was ’n onvergelykbare navorser, kenner en interpreteerder van die Afrikaanse literatuur. Met sy afsterwe klap die deure van ’n biblioteek van kennis toe." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Etienne van Heerden: "’n Era van ongekende boekstawing van veral Afrikaanse literêre aktiwiteit is verby met die dood van JC Kannemeyer. Dat John Kannemeyer se woeste arbeid – hy het inderdaad met ’n kille besetenheid gewerk – verby is, is ’n groot slag vir die Afrikaanse letterkunde. Hy sluit sy loopbaan af met die biografie van JM Coetzee, wat nou in produksie-fase is. Daarmee gee Kannemeyer ’n tree na die wyer, internasionale literêre wêreld. Hy was een van ons letterkunde se mees interessante en knorrige figure. Hy was ’n verbete dokumenteerder. Ek sien geen opvolger op die horison nie." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Wium van Zyl: "Dit is nie net vir my persoonlik ’n pynlike slag nie, maar ook ’n swaar slag vir Afrikaans. Kannemeyer was die mees produktiewe literatuurkritikus wat Afrikaanse letterkunde en trouens Suid-Afrika in die geheel ooit opgelewer het. Hy het ingesien dat in die nuwe tydperk met enersyds die koms van elektroniese media en andersyds die pogings om Afrikaans te marginaliseer, uitgereik sal moet word na ’n breë publiek. Daarom het hy as literêre toergids aktief geraak, iets wat ’n wyd uitkringende effek gehad het. Hy was allermins ’n ivoortoring-akademikus." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Leon Rousseau: "Soos Karel Schoeman die Afrikaanse kultuur met literêre werk en navorsing na ons vroeë verlede verryk het, en dit nog doen, het Kannemeyer die standaardwerk ten opsigte van literêre kritiek gelewer en ’n aantal biografieë tot stand gebring wat soos bakens sal bly staan." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Peet van Aardt, ’n joernalis en oudstudent: "Hy was ’n streng, maar inspirerende mentor. Sy liefde vir en kennis van die Suid-Afrikaanse letterkunde het my altyd verstom." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Etienne Britz: "Sy dood is vir sy vriende en almal wat die Afrikaanse letterkunde op die hart dra, ’n onvervangbare verlies. Niemand het met soveel selfdissipline, dryfkrag, toewyding, lojaliteit en strydlus sulke enorme dienste aan die Afrikaanse letterkunde bewys nie. Sy buitengewone produktiwiteit kon toegeskryf word aan die Germaanse lyn in die Afrikaanse letterkunde, ondernemend, deeglik, uiters gedissiplineerd, maar ook met dominerende, onredelike en selfs dekadente trekke, tipies van die formidabele Germaan. As akademikus het Kannemeyer behoort tot ’n byna uitgestorwe, aristokratiese soort wat inkomste, status en ’n magsposisie binne die akademiese establishment geringgeskat het. Hy wou sy vak beheers, ’n vak wat uitdagings bied waaraan ’n mens jou lewe kan wy. Met sy bydraes het hy sy vak inderdaad op daardie peil help bring. Kannemeyer was ’n baie kleurvolle persoonlikheid wie se boeke onderhoudend lees. Daar kon nie altyd maklik met hom huisgehou word nie. Maar wanneer die gesprek binne sy belangstellingsveld beweeg het, was hy altyd geestig en boeiend, ’n vriend wie se geselskap ek ten seerste sal mis." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Russel Botman: "Ek onthou hoeveel vreugde Kannemeyer geput het daaruit dat sy alma mater met die toekenning van ’n eredoktorsgraad twee jaar gelede uiteindelik erkenning aan hom gegee het. Maar wat my nóg beter bybly, is die passie waarmee hy toe gepraat het oor die volgende boek en wat hy wou doen. My gevoel is dié is ’n mens wat eintlik onsterflik is, selfs in sy weggaan wil hy agterbly – op vele rakke, in talle huise en in baie mense se gedagtes." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Ton Vosloo, Naspers se nie-uitvoerende voorsitter: "Kannemeyer was die hardwerkendste van Suid-Afrika se ernstige skrywers. Ons uitgewers het hom oor dekades leer ken as ’n kwasterige outeur – puntenerig – maar ’n mens wat ’n produk van hoë gehalte gelewer het. Hy was die doyen van Afrikaanse biografieë. Sy werk- en uithouvermoë om iets wat hy aangepak het, klaar te kry, was indrukwekkend. John Kannemeyer was enig in sy soort. Ons bring hulde aan ’n groot Afrikaanse letterkunde-kenner en ’n waardevolle bydraer tot ons kultuur in sy volste sin." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • Santa Hofmeyr-Joubert, sy metgesel die vorige 14 jaar: "Al was ek vir hom belangrik, was niks belangriker as sy liefde vir die letterkunde en sy werk nie. Dié hele grote man was boeke." (Die Burger, 27 Desember 2011)
  • David Attwell, voorheen verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand en nou ook by die Universiteit van York: "John Kannemeyer se massiewe bydrae tot die Afrikaanse literatuurgeskiedenis is welbekend en ek het hom in die konteks van sy biografie oor JM Coetzee beter leer ken. Die internasionale gemeenskap sal dié biografie ook in Nederlands en Engels kan lees. Dit was ’n seldsame voorreg om iets van John Kannemeyer as persoon te kon beleef. Van ons eerste ontmoeting het ek sy ou-wêreldse hoflikheid, integ­riteit en algehele toewyding aan sy werk bewonder. Sy skielike dood is tragies, omdat hy op die punt gestaan het om internasionaal gelees te word en om die eerbetoon te geniet wat daarmee saamgaan." (LitNet)
  • Amanda Botha: "Die bydrae van dr John Kannemeyer tot die Afrikaanse letterkunde kan kwalik oorskat word. Inteendeel, sy bydrae bly steeds die belangrikste verwysingsbron vir enige literatuur navorser. Ek wil graag aan hom hulde bring as onvergelyklike leermeester en gulhartige mentor. Vir my is John Kannemeyer as leermeester en mentor enig in sy soort – ruimhartig, onbaatsugtig en inspirerend in wat hy deur sy onmeetlike groot liefde vir die Afrikaanse letterkunde deurgegee het. Hy was ’n man van onberekenbare waarde." (LitNet)
  • Petrovna Metelerkamp: "John Kannemeyer was ’n jare lange vriend en ondersteuner van Hemel & See Boeke. Ek dink met groot respek aan hom en het net goeie herinneringe aan die jare wat ons saam aan boeke gewerk – en saam lekker geëet en geskinder! – het."
  • Marina Brink, Dokumentesentrum: "Kannemeyer het ons soms kwaad gemaak en meesal baie hard laat werk, maar ons het heerlike en baie leersame tye saam gehad. Ons mis hom."
  • Lynne Fourie, Dokumentesentrum: "Kannemeyer was ’n gereelde besoeker en het tydens een van ons koffietye gehoor dat ek en Marina Brink op pad is om Jan Rabie se dokumente op Onrus te gaan haal. "Ek is in!" sê hy. Tipies Kannemeyer het hy hom nie gesteur aan ons verduidelikings dat hy nie in die universiteitsmotor mag saamry nie. Toe ons wou vertrek, staan hy langs die motor. Dit het ontaard in ’n heerlike uitstappie deur die Hemel-en-Aarde Vallei na ’n restaurant waarvan net hy geweet het. Dit is hartseer dat hy nie die verskyning van sy grootste biografie, dié oor JM Coetzee, sal beleef nie."
  • Kerneels Breytenbach: "Die afsterwe van John Christoffel Kannemeyer op Kersdag 2011 het groot literêre betekenis vir Afrikaanssprekendes. Dit is nie ’n gewone afsterwe van ’n skrywer of literator nie, maar een wat op unieke wyse die oorgang van een tydvak na ’n volgende in die Afrikaanse letterkunde markeer.

"Kannemeyer is die verpersoonliking van die toegewyde akademikus wat met onblusbare drif alle beskikbare feite navors ten einde volledig aan die geslagte van die toekoms verslag te kan doen oor die skrywers en skryfwerk wat hulle voorafgegaan het. Die tumult en wydlopendheid van sy privaat lewe was niks in vergelyking met die felheid van sy aanslag op primêre en sekondêre bronne nie; niks eens naby aan die vitterigheid waarmee hy dinge waaroor daar onsekerheid was onder sy deurpriemende blik gebring het vir verifikasie nie.

"Wat werkvermoë betref, had John Kannemeyer baie gemeen met Karel Schoeman. Sy werk getuig nie alleen van erudisie nie, maar ook van die allesomvattende literêre liefde wat dit aangevuur het. As biograaf het hy in Afrikaans haas geen gelyke nie, met net JC Steyn wat in dieselfde asem genoem kan word.

"Kannemeyer was die ideale literêre historikus vir ’n era waarin skrywers dagboeke gehou het en uitvoerig per brief met mekaar gekorrespondeer het. Skrywers wat hul literêre versamelings en private boekerye aan universiteite nagelaat het, het geweet dat die geoefende oog van John Kannemeyer reg sou kon laat geskied daaraan." (LitNet)

  • Ingrid Glorie: "Drie jaar lang had ik de beste leermeester die iemand zich kan wensen. Helaas trad er later een verwijdering in, want vriendschap met John Kannemeyer was nooit ongecompliceerd. Het was de tragiek van zijn leven, dat hij zelfs de mensen die hij het liefst om zich heen had kon wegjagen. Hij had geen tijd om er lang bij stil te staan en zich rekenschap te geven van het verlies, omdat dat hem maar zou afhouden van zijn heilige taak, de letterkunde. Maar vanaf een veilige afstand kon je niet anders, dan van hem blijven houden. En naarmate de jaren verstrijken, besef ik steeds meer hoe veel ik aan hem te danken heb." (LitNet)
  • Hennie Aucamp het in 2008 só oor JC Kannemeyer geskryf:

JCK – ’n saluut

Hy weet, teen vyandskappe in,
en kwale van die vlees
dat hy, tot aan die einde,
die scriba van die groep gaan wees.

God en genes het beslis
oor die grysgroen van ys oë
maar sy wilskrag is sy eie
en, onbeperk, sy werkvermoë. (Die Burger, 30 Junie 2008)

  • Johann de Lange:

JC Kannemeyer
Vry na A Roland Holst

Wat kan die geheim van jou reuse-arbeid wees?
Verder as China s’n strek jóú Muur van die Gees.
O, teenpool van die bitterbek Peter Blum,
jy skryf vinniger as wat selfs God kan lees! (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Die stem in die literêre kunswerk: ’n ondersoek na die aanbiedingswyse in die liriese en epiese poësie, verhalende prosa en drama

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Jochem van Bruggen

Publikasiedatum

1965

ISBN

(sb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Monografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die heks en Die laaste aand deur C Louis Leipoldt

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1972

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Prosakuns

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1976

ISBN

062500177X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Opstelle oor die Afrikaanse drama

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Academica

Literêre vorm

Dramakritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Op weg na Welgevonden: ’n studie van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nederduitse digkuns: ’n inleiding met tekste en aantekeninge tot die sewentiende-eeuse Nederlandse poësie

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1984

ISBN

  • 0940064107 (hb)
  • 0868742112 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Nederlandse poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Afrikaanse bewegings

Publikasiedatum

1974

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Letterkunde en beweging voor 1900: oorsig en bloemlesing

Publikasiedatum

1975

ISBN

0949964530 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Konfrontasies: letterkundige opstelle en kritiek, 1961–1975

Publikasiedatum

1977

ISBN

0940064808 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1984

ISBN

  • 0949964972 (hb)
  • 0868741892 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Recht Malan-prys 1979

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kroniek van klip en ster: ’n studie van die oeuvre van DJ Opperman

Publikasiedatum

1979

ISBN

0868740624 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2

Publikasiedatum

1983

ISBN

0868741752 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die taak van literêre geskiedskrywing

Publikasiedatum

1985

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

DJ Opperman: ’n biografie

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119993 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1987

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Afrikaanse literatuur 1652–1987

Publikasiedatum

1988

ISBN

0868743364 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Getuigskrifte: lesings en opstelle

Publikasiedatum

1989

ISBN

0702122572 (hb)

Uitgewers

Kenwyn: Jutalit

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bevestigende vlam

Publikasiedatum

1989

ISBN

9780798126007 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag: by wyse van outobiografie

Publikasiedatum

1990

ISBN

0702124052 (hb)

Uitgewers

Kenwyn: Jutalit

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dokumente van Dertig

Publikasiedatum

1990

ISBN

0702125237 (sb)

Uitgewers

Kenwyn: Jutalit

Literêre vorm

Letterkundige kritiek en geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rotsmusiek van eie hiëroglief: ’n visie anderkant die teks

Publikasiedatum

1991

ISBN

(sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch

Literêre vorm

DJ Opperman-gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Figuur en fluit

Publikasiedatum

1992

ISBN

9064120951 (sb)

Uitgewers

Leiden: Dimensie

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf: ’n narrasie in veertien episodes met ’n naspel

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624031969 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A history of Afrikaans literature.Translated by Elaine Ridge

Publikasiedatum

1993

ISBN

0796005486 (sb)

Uitgewers

Pietermaritzburg: Shuter & Shooter

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bonkige Zoeloelander: DJ Opperman in beeld

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032957 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Langenhoven – ’n lewe

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033570 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Recht Malan-prys 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die gespitste binneblik: ’n opstel oor die poësie van Elisabeth Eybers by geleentheid van haar tagtigste verjaardag op 26 Februarie 1995

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033678 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie Elisabeth Eybers

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Arbeidsgenot: ’n besoekersgids

Publikasiedatum

1995

ISBN

 9780620190336 (sb)

Uitgewers

Oudtshoorn: Arbeidsgenot

Literêre vorm

CJ Langenhoven-geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die dienswillige dienaar: ’n Langenhoven-fotoboek

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033570 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Probleme van ’n Langenhoven-biograaf

Publikasiedatum

1995

ISBN

0869886231 (sb)

Uitgewers

Port Elizabeth: UPE

Literêre vorm

Letterkundige opstel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ontsyferde stene: herinnerings, huldigings, herlesings en herbevestigings

Publikasiedatum

1996

ISBN

062020544X (sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Inset

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verse vir die vraestel

Publikasiedatum

1998

ISBN

062403657X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësiebesprekings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op weg na 2000: tien jaar Afrikaanse literatuur 1988–1997

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624037312 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Bundel resensies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leipoldt: ’n lewensverhaal

Publikasiedatum

1999

ISBN

062403738X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

  • Recht Malan-prys 2000
  • Helgaard Steyn-prys 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kaap van skrywers: ’n literêre reisgids

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038904 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige toergids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goue seun: die lewe en werk van Uys Krige

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624040828 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jan Rabie: prosapionier en politieke padwyser

Publikasiedatum

2004

ISBN

062404243X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Afrikaanse literatuur 1652–2004

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144734 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hannes van der Merwe – argitek en skrywersvriend

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869191366 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit puur verstrooiing: lesings, praatjies, artikels, onderhoude en besprekings

Publikasiedatum

2007

ISBN

 9780620388528 (sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Inset

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leroux: ’n lewe

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869192341 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

JM Coetzee: ’n geskryfde lewe

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781868424962 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Jonathan Ball

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels: JM Coetzee: a life in writing vertaal deur Michiel Heyns 2012

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

JC Kannemeyer as samesteller:

JC Kannemeyer as redakteur:

Artikels oor JC Kannemeyer beskikbaar op die internet:

’n Keur van artikels deur JC Kannemeyer beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

JC Kannemeyer se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2012-11-21 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • Kannemeyer, JC. 1990. Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag: by wyse van outobiografie. Kaapstad: Jutalit
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post JC Kannemeyer (1939–2011) appeared first on LitNet.

Viewing all 493 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>