Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 493 articles
Browse latest View live

ATKV vereer joernalistieke uitnemendheid

$
0
0

Die ATKV-Mediaveertjies, reeds vir meer as ’n dekade die mees vooraanstaande  Afrikaanse media-toekenningsgeleentheid, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met ’n nuwe beoordelingsformaat asook die aanlyn-bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dis noodsaaklik om die media te vereer, en vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – soveel te meer.

“Ons het die afgelope paar weke opnuut bewus geword van die kritieke rol wat die media ook in tye van krisis en uitdaging speel. Dit is die media wat ons ingelig hou; ons opvoed oor alle aspekte van onder meer die pandemie, nie slegs plaaslik nie, maar ook internasionaal; en wat vermaak, iets wat veral nou broodnodig is.

“Ons salueer die hele spektrum van die media, en veral ons 2020-wenners. Julle uitstaande bydraes verdien verering en erkenning. Doen so voort!”

Brits het ook aangekondig dat die ATKV later in die jaar ’n spesiale toekenning vir uitsonderlike joernalistiek rakende die Covid-19-pandemie sal toeken.

Vyf beoordelaars is vir elk van die kategorieë (LEES, LUISTER, KYK) aangewys wat uitnemende werk geïdentifiseer en benoem het.

Die ATKV het vanjaar ook twee LEWENSBYDRAE-toekennings gemaak aan die veteraan radio-omroepers, Nic de Jager en Margot Luyt.

Nic de Jager verdien verering vir 50 jaar se uitsonderlike talent, voordragte, radiospel, nuuslees en aanbieding, maar veral vir sy fenomenale kennis van opera, in Nic se Goed, wat Sondae om 12:00 op RSG uitgesaai word.

Hierdie elegante, soepel aanbieder se taalvaardigheid, sy kennis van die letterkunde, musiek en kunstenaars, sy goeie smaak en oordeel, maak van hom ’n  formidabele speler, opsteller en aanbieder – die soort maestro wat jong en ou kunstenaars kan lei en inspireer.

Nic de Jager is gemaklik en gemoedelik wanneer hy uitsaai en hy gebruik sy uitsonderlike stem om van elke program ’n besondere genotvolle luisterervaring te maak. 

Margot Luyt is al sedert 1978 betrokke by radio én televisie.

Sy het oor die jare ’n baie groot rol gespeel in die voortbestaan en verbetering van dramas en vervolgverhale vir die radio, nie net as regisseur nie, maar ook met die opleiding wat sy deurgaans aan regisseurs en spelers verskaf het.

Margot Luyt se vermoë om met mense te werk en haar kennis op só ’n manier oor te dra dat dit die uitsaaiproduk voortdurend bly verbeter, is uitsonderlik. Sy het veral ’n groot bydrae gelewer om die Afrikaans digkuns en skryfkuns op die radio te laat lewe, hoofsaaklik deur haar professionele aanbieding en haar keurige versorging van programme oor poësie en letterkunde.

Die bydrae wat sy gelewer het om die kollig op gevestigde en ervare digters en skrywers te laat val én nuwe Afrikaanse stemme bekend te stel, kan nie onderskat word nie.

Die wenners in die kategorieë LEES, LUISTER, KYK is soos volg:

LUISTER

Die beoordelaars in hierdie kategorie was: Bettie Kemp, Margot Luyt, Willemien Marais, Dawid van Lill en Leon van Nierop.

  • Joanie Combrink, regisseur van Man van Cirene – RSG
  • Elize Cawood vir haar voorlesing van Stralejakkers – RSG
  • Pietie Beyers vir sy vertolking in Blikslim – RSG
  • Kobus Burger, uitvoerende regisseur van drama – RSG
  • Lynette Francis, aanbieder van Praat Saam – RSG
  • Frieda van den Heever, samesteller en regisseur van Voetsoldaat van die vers – RSG

LEES

Die kategorie LEES se beoordelaars was: Joan Kruger, Carryn-Ann Nel,

Elmari Rautenbach, Kirby van der Merwe en Herman Wasserman.

  • Anneliese Burgess vir “’n Pad kronkel deur tyd en kom tot rus by ’n familiegraf op Koesberg” en “Plaasmoorde: Die skimme van geweld wat ons harte oopkloof” – Vrye Weekblad
  • Nathan Trantraal vir verskeie artikels, meningstukke, essays en “Hyper byrie Food Lovers Market” – Rapport
  • Marida Fitzpatrick vir “Vat hom, Bulldog” – Insig
  • Hannelie Booyens vir “Om te hoor jy’t Joost se siekte” – Insig
  • Dominique Botha vir “Gerugte van Rian” – Insig
  • Karin Brynard vir “Stil, broers, daar gaan ’n ... man verby” – Insig
  • Willemien Brümmer vir “Plaasaanvalle: Die misdaad wat wit én swart laat bloei” – Netwerk24

KYK

Die AKTUELE GENRE is beoordeel deur Gielie Hoffman, Mariëtta Kruger, Crystal Orderson, Harald Pakendorf en Bettina Wyngaard.

  • Lourensa Eckard as aanbieder van kykNET Verslag en kykNET In Gesprek – kykNET
  • Kabous Meiring as aanbieder van Prontuit en Megaboere – kykNET
  • Berdene & Janhendrik Burger as vervaardigers van Edik van Nantes, seisoen 3 – kykNET & Kie
  • Ivor Price as aanbieder van Landbouweekliks – VIA

Die VERHALENDE GENRE is beoordeel deur Diane de Beer, Jeff Dirks-Korkee, Cornelia Faasen, Ilza Roggeband en Réney Warrington:

  • Monique Rockman vir haar vertolking van die rol Beatrice Mack in Die Spreeus – kykNET
  • Jorrie van der Walt as kinematograaf van Dwaalster én Die Spreeus – kykNET
  • Carla Smith vir haar rol as Kitty in Tydelik Terminaal – kykNET
  • Rocco Pool vir produksie- en stelontwerp vir Dwaalster én Die Spreeus – kykNET
  • Erica Wessels vir haar rol as Ragel-Lee in Dwaalster – kykNET
  • Chris Vorster vir sy vertolking van Bas Koorts in Die Spreeus – kykNET
  • Albert Maritz vir sy spel as Frans Loots in Dwaalster – kykNET
  • Tarryn Wyngaard vir haar rol as Gina Devine in Dwaalster – kykNET
  • Anna-Mart van der Merwe vir haar vertolking van Julie in Tydelik Terminaal – kykNET
  • Lea Vivier vir haar rol as Lilani du Toit in Fynskrif 2 – kykNET
  • Pierre-Henri Wicomb vir die klankbane van Dwaalster én Die Spreeus – kykNET

The post ATKV vereer joernalistieke uitnemendheid appeared first on LitNet.


Etienne Leroux (1922–1989)

$
0
0

Gebore en getoë

Stephanus Petrus Daniël le Roux, vir sy vriende Stephen en vir die latere letterkundige wêreld Etienne, is op 13 Junie 1922 in Oudtshoorn gebore, die oudste van drie kinders en enigste seun van SP le Roux, wat later Minister van Landbou sou word in dr DF Malan se kabinet, en Elizabeth Helena Scholtz. Stephen, of Stephen soos sy vriende hom geken het, het ook twee susters, Annelie en Erna, gehad. CJ Langenhoven, bekende skrywer van Oudtshoorn, was sy peetpa.

Stephen het op die plaas Rietvlei sy vroeë kinderjare deurgebring, ongeveer veertig kilometer vanaf Oudtshoorn. Die eerste skool wat hy bygewoon het, was ’n plaasskool wat opgerig is vir die kinders van Middelplaats. Die enigste onderwyser daar was Jan Snyman en hy het bekend gestaan as Meester – "’n besondere karakter, briljant, ’n 'aparte' mens" beskryf JC Kannemeyer hom in Stephen Leroux: ’n lewe

In ’n brief aan Koos Human, sy uitgewer by Human & Rousseau, het Stephen die kinders in die skool beskryf: "Van Sub A tot standerd drie was hulle deurmekaar in demokratiese gelatenheid, sonder aansiens des standerds, ingehok deur Victoriaanse lessenaars, geleer om te skryf, te lees, somme te maak en die name van die Engelse konings vir ewig vas te lê." (JC Kannemeyer, p 55).

As gevolg van sy pa se politieke loopbaan moes die gesin baie rondtrek. Die kinders was dus genoodsaak om baie van skole te verwissel (onder andere in Kuilsrivier en op De Rust) en so is daar in 1928 ’n goewernante vir die Le Roux-kinders aangestel om hulle te onderrig.

Met dié dat die jong Stephen se pa en ma so dikwels van die huis af weg was, het sy pa se studeerkamer met die uitgebreide biblioteek aldaar, een van sy speelplekke geword. Aan die begin kon hy hom baie lank besig hou met die lees van stories en die interpretasie van die illustrasies in die Kinderbybel, totdat sy pa hom opgradeer het na die Griekse sages, Koning Arthur en sy Ridders van die Ronde Tafel en Andersen en Grimm se sprokies. (JC Kannemeyer, p 57)

Later, in 1932, het Stephen by sy moeder se ouers op ’n plaas op Koffiefontein gaan bly en het hy daar skoolgegaan. Sy ouers het later, tydens die parlementsitting, ’n huis in Tamboerskloof in Kaapstad gehuur en in standerd vier is hy na die Laerskool Jan van Riebeeck. Hy het in ’n onderhoud met Die Vaderland (18 Mei 1971) vertel dat in Jan van Riebeeck het "Albert Ahlers beter as hy gelees en is gevolglik tot klaskaptein gekies. In standerd vyf het Rina Roelofse met haar sybokkiehare Stephen bo Patrys Papenfus verkies en in standerd ses het Wennie Wiese ’n miniatuurstoomlokomotief gebou, maar ses jaar later BSc Ing gedruip." (Volgens Kannemeyer kan aanvaar word dat hy in hierdie vertellings skuilname gebruik het.)

Stephen se pa het in die 1930's die besluit geneem om sy boerdery se bedrywighede vanaf De Rust na die Vrystaat, en spesifiek, Koffiefontein toe uit te brei. Hy het vir hom die plaas Wagenmakersdrift gaan koop en die gesin het daar gaan woon. Om aan Stephen ’n meer standvastige skoolloopbaan te gee, is hy na Grey Kollege in Bloemfontein gestuur waar hy in die koshuis ingewoon het.

Aanvanklik het hy baie huis toe verlang en gereeld in sy briewe huis toe sy ouers gevra om hom te kom haal, maar met verloop van tyd het hy gewoond geraak aan die onpersoonlike atmosfeer en het hy hom begin toespits op sy skoolwerk en ook aan sport begin deelneem: "Hy het begin deelneem aan sport soos krieket, tennis, swem en boks, en gou besef dat daar nie plek vir ’n alleenloper in dié skool is nie," het JC Kannemeyer geskryf. (Etienne Leroux: ’n lewe, p 66)

Stephen het ’n afgesonderde lewe as jong mens gelei en hy was van vroeg af baie lief vir lees. In sy pa se omvangryke boekery het hy kennis gemaak met Shakespeare en Dickens en toe hy ouer was met Hemingway, Proust, Gide, Sartre, Dostojewski, Günther Grass en Evelyn Waugh. Van sy vroeë skryfwerk is in sy hoërskooljare in Grey Kollege se skooljaarblad opgeneem.

In 1939 is Stephen in matriek en is hy as prefek gekies. Hy het eerste gekom in die Vrystaatse Taalbond-eksamens. Hy het gematrikuleer terwyl die Tweede Wêreldoorlog aan die gang was en van die leerlinge wat saam met hom op skool was, se name het later verskyn op die lys van oud-Greys wat in die oorlog omgekom het.

Stephen was bevoorreg om van die beste onderwysers by Grey Kollege te gehad het. Die hoof, Jock Murray Meiring was, volgens Kannemeyer, die "argitek van wat Grey Kollege in die tweede helfte van die 20ste eeu sou word".

Sy Afrikaansonderwyser, Natie Ferreira, is beskou as een van die bestes wat die skool ooit gehad het. In Etienne Leroux: ’n lewe skryf Kannemeyer dat sy metodes nie altyd konvensioneel was nie; "voorgeskrewe werke wat vir hom slegs ’n vertrekpunt was en sy matriekleerlinge was wyer belese as baie studente aan universiteite."

Aan die anderkant van die Nasionaal gesinde Ferreira het Bill Marquard, die Geskiedenis-onderwyser, gestaan: "Hy het sy leerlinge as studente beskou en vir hulle lesings gegee. Oorspronklike navorsing en die reg op vrye spraak was die voorreg en reg van elke leerling wat by hom klas geloop het."

Verdere studie en werk

Na matriek is Stephen na die Universiteit van Stellenbosch waar hy ’n graad in die regte geloop het. In 1944 het hy sy BA LLB-graad behaal. Hy het nie belanggestel om in die letterkunde te studeer nie en het erken dat sy kennis van die ouer Afrikaanse skrywers maar baie beperk was. Hy het sy regstudie egter beskou as baie goeie dissipline vir sy skryfwerk en het in ’n brief aan Nico Schoombee geskryf: "Die sogenaamde 'regsbrein' (as ’n mens so ’n woord mag gebruik) het sy voordele wat die res van jou lewe by jou sal bly: ’n sekere helderheid, selfs wanneer jy later met die esoteriese vakke te doen het." (JC Kannemeyer, p 78)

Gedurende sy studiejare op Stellenbosch het daar slegs een gedig van Stephen in Die Stellenbosse Student verskyn, getiteld "Ets in pienk en smarag". Maar in 1943 en 1944 (sy LL B-jare) het agt bydraes in prosavorm van hom in die studente-publikasie verskyn – almal onder die skuilnaam "Etienne" wat die Franse vorm van sy voornaam is.

Hierdie stukke was korterig en met titels soos "Ek besoek Kaapstad" en "’n Dag in die gejaagde lewe op Stellenbosch", kon dit amper beskou word as skoolopstelle, maar, skryf JC Kannemeyer, dat as ’n mens dieper daarna kyk, "het jy hier die aanloop tot die geestigheid, fyn satiriese inslag en sin vir die burleske en fantastiese wat so kenmerkend van Leroux se latere en ryper werk sou wees". (Etienne Leroux: ’n lewe, p 95)

Na die verwerwing van sy graad het hy een "chaotiese" jaar (1945), soos hy dit self beskryf, by ’n prokureursfirma in Bloemfontein gewerk. In ’n brief, gedateer 7 Maart 1946, het hy aan Tienie de Kock geskryf dat die lewe by die regsfirma vir hom ’n bietjie te vinnig was: "Tog was dit nie alles verspilde tyd nie. Ek skat ek het in ’n jaar meer lewenskennis opgedoen as ’n normale persoon in drie reïnkarnasies. Die praktiese lewe het egter die romantiese streak in my doogemaak." (JC Kannemeyer, p 110)

Aan die begin van 1946 is Stephen terug na Koffiefontein in die Suid-Vrystaat. Hy was later aan die hoof van vier boerderye – sy en sy pa se plase en sy twee susters s’n – wat as ’n eenheid bedryf is. JC Kannemeyer skryf dat Stephen gevind het dat so ’n saamboerdery en vennootskap die ideale oplossing is vir ’n boer van die 20ste eeu. Terugslae wat met die klimaat verband gehad het, kon beter die hoof gebied word.

"En van die begin van sy loopbaan as boer het hy sterk gevoelens gehad wat die besoldiging en behuising van sy arbeiders betref. Hy het die grondslag vir ’n goeie verhouding tussen wit en swart op die plaas gebou. Onder sy leiding is swart en wit geleer om mekaar te verdra en te verstaan. Met wedersydse agting en hulp. Stephen kon met sy hele kreatiewe persoonlikheid in die boerdery opgaan en daarvan net so ’n sukses soos later met sy skryfwerk maak." (JC Kannemeyer, p 122)

Hy het tot sy dood ’n uitgebreide gemengde boerdery bedryf, onder ondere die teel van stamboekmerinoskape, die verbouing van saadmielies en saad en later ook katoen en tamaties.

Op 13 Maart 1948 is Stephen en Renée Malherbe, ’n skilder, op Stellenbosch getroud. Hy het haar deur sy suster, Anneli, ontmoet. Uit die huwelik is drie kinders gebore, die dogters Cherié en Helise en Stephen, ’n seun, wat later sy vader met die boerdery gehelp het.

Die jonggetroudes het aanvanklik by Stephen se ouers op Wagenmakersdrift gaan woon, maar later in 1948 het hulle na die plaas, Geluksdam, oorkant die pad getrek. Daar was net ’n hartbeeshuisie op die plaas met misvloere en kerse en Lena as kok en hulp. Renée het die hulp van Stoffel, die messelaar ingeroep en gou-gou die huisie omskep in ’n pragtige woonhuis met agt slaapkamers. Stephen het ’n gerieflike studeerkamer gekry en later het Renée ’n ateljee in die lieflike tuin gekry. Die huis en werf was ’n lushof en Stephen het dit in Tussenspel (p 59) "’n produk van toevallige argitektuur" genoem. (JC Kannemeyer, pp132-133)

In 1970 is Stephen en Renée geskei nadat die huwelik ses jaar vantevore al begin verbrokkel het.

Intussen het Stephen, tussen sy boerdery-bedrywighede deur, nie net alleen met oorgawe begin lees aan werke van verskillende skrywers nie, maar ook begin skryf – die een kortverhaal na die ander wat onverrigtersake na uitgewers gestuur is.

In 1953 het die Nederlander Jan Greshoff op besoek aan die Le Rouxs voorgestel dat hulle die plaas "Janee" moet herdoop en só is die nuwe naam by die ingangshek van die plaas aangebring waar dit vandag nog gesien kan word.

Deur die bemiddeling van vriende van Stephen en Renée, Jacques en Hélène Malan, het die Nederlander Jan Greshoff van Stephen se kortverhale onder oë gekry. Gedurende 1950, terwyl die Le Rouxs in Kaapstad was, het Greshoff en sy vrou, Aty, hulle genooi vir ete. Greshoff was redelik beïndruk met Stephen se skryfwerk en het hom aangemoedig om voort te gaan, veral om te eksperimenteer en teen gevestigde sienings in te gaan. Hy het Stephen egter gemaan dat hy die nodige dissipline moes ontwikkel en moes leer om die teks te sny. (JC Kannemeyer, p 164)

Die eerste kortverhaal van Stephen wat na sy skool- en studentejare gepubliseer is, het in Standpunte van Maart 1951 verskyn onder die titel "Kaartjie vir oortreding". Hy het weer Etienne as skuilnaam gebruik. Hierna was hy so begeesterd dat hy twee romans, Mosaïek (1952) en Die marionettedans, aan Nasionale Boekhandel versend het. Nie een van die twee is deur die keurders geskik vir publikasie bevind nie.

Maar voordat hy nog Die marionettedans aan Nasionale Boekhandel voorgelê het, het Stephen aan Greshoff geskryf dat hy ’n manuskrip getiteld Die jong lewe van Collette se eerste fase ook aan Nasionale Boekhandel gestuur het vir kommentaar. In ’n brief aan Greshoff het Stephen geskryf dat Colette ’n storie is oor ’n man van in sy vroeë twintigs. Hy het voortgegaan: "Die Jong lewe is van so ’n aard dat dit ’n siklus kan word omdat die karakter ’n stadium bereik dat hy ’n transformasie ondergaan, maar ek laat hom op ’n punt waar daar niks is nie." Vir JC Kannemeyer is dit iets merkwaardigs dat hy so vroeg in die skryf van die roman gemeen het dat dit uitgebrei kan word tot ’n siklus. (p 172)

Die manuskrip is later ook aan Van Schaik-uitgewers voorgelê, maar hulle wou ook nie Jong lewe publiseer nie aangesien die werk "tematiese helderheid" mis. Greshoff het onderneem om die manuskrip aan HAUM en Balkema te stuur of om ’n Nederlandse uitgewers te vind.

Op Nuwejaarsdag 1954 is Stephen en Renée aan boord van die Pretoria Castle na Engeland waar hulle van plan was om vir ’n week Londen te verken. Daarna is hulle na Amsterdam en op 7 Februarie is hulle via Switserland na hulle vriende, die Malans, in Italië. Vanaf Italië is hulle op 3 Maart na Parys waar hulle vir ses weke gebly het. In Parys het Stephen vir Jan Rabie en Marjorie Wallace ontmoet en ook vir Bartho Smit. Voor hulle vertrek terug na Suid-Afrika op 29 April het hulle ook Nederlandse en Vlaamse skrywers en kunstenaars ontmoet.

Parys het ’n groot indruk op Stephen gemaak en in ’n ongepubliseerde manuskrip het een van die karakters gesê Parys is "die enigste plek in die wêreld waar jy die res van jou lewe in ’n kafee kan deurbring en niks van jou verwag word nie". In een van sy briewe aan Ingrid Winterbach het hy ook gesê: "Besef jy hoe vry mens in Parys voel? Die stad leef in die nag en dis die enigste toegeeflike stad wat ek ken."

Op 1 Mei 1969 is Stephen se eerste huwelik met Renée ontbind en op 14 November 1970 het hy met Elizabeth Joubert, ’n bekende pianiste, getrou. Sy was vroeër lektrise in musiek aan die Vrystaatse Onderwyskollege, asook amptelike begeleidster van SUKOVS. Na haar huwelik met Stephen het sy musiek aan die Koffiefonteinse Hoërskool gegee en ’n aktiewe rol in die gemeenskap van Koffiefontein gespeel.

Stephen se debuutroman, Die eerste lewe van Colet, verskyn in 1955. Stephen kon nie ’n uitgewer in Suid-Afrika kry nie en die roman word deur bemiddeling van Jan Greshoff in Nederland gedruk en deur Aat Kaptein se uitgewery, Uitgewery Culemborg, in Kaapstad gepubliseer. Hy moes egter die publikasie daarvan self borg. Die Transvaler beskryf hierdie eerste roman as ’n "roman van dekadensie", maar nogtans word Stephen saam met Jan Rabie die aankondiger van ’n nuwe rigting in die Afrikaanse prosa.

Die eerste lewe van Colet vertel van die grootword van ’n seun tot vroeë volwassene. Colet van Velden is die hoofkarakter en sy lewe as kind, puber en volwassene in Kaapstad, op die plaas en later as student aan die Universiteit van Kaapstad word uitgebeeld. Hy kom tot seksuele bewussyn deur ’n reeks karakters (bediendes, vriendinnetjies, onderwyseresse en ’n homoseksueel) wat beskou kan word as sy inisieerders, skryf JC Kannemeyer (p 221).

Die eerste resensie van Die eerste lewe van Colet was E Lindenberg s’n wat in Die Huisgenoot van 19 Maart 1956 verskyn het. Vir Lindenberg was die roman prysenswaardig omdat dit gepoog het om iets nuuts na die Afrikaanse prosa te bring.

In Cape Times (21 Maart 1956) het Nancy Baines geskryf dat Colet probeer om die konflik tussen sy behoefte om sy ouers te plesier en om sy eie persoonlikheid te vind, op te los: "The author pursues his theme with a relentless frankness, refusing to gloss over defects or aberrations in any of the characters involved. This sincerity of purpose gives the book its remarkable strength and individuality."

Rykie van Reenen wat onder die skuilnaam Elizabeth Tredoux vir Sarie Marais boeke geresenseer het, was egter nie baie beïndruk met Colet nie. Die boek het haar verveel en sy het gemeen dit is omdat die skrywer nie daarin geslaag het om enige spanning te skep nie.

Maar die opinie van Rob Antonissen was die een waarop almal gewag het. In Standpunte van Mei-Desember 1957 het hy geskryf dat daar slegs een prosadebuut is wat hoop bring vir die toekoms van die Afrikaanse roman en dit is Die eerste lewe van Colet.

Selfs na die verskyning van sy tweede roman Hilaria in 1958 is daar maar min belangstelling vir sy werk. Hilaria neem die verhaal van Colet verder en vertel van sy lewe nadat hy van die oorlog af teruggekom het, sy huwelik met Thelma en sy werk vir Julius Johnson om ’n week lange advertensieveldtog vir plastiekblindings te organiseer.

Die roman is weer deur Aat Kaptein van Culemborg uitgegee. Hy het Stephen meegedeel dat hy 750 eksemplare van Hilaria sou druk en dat die boek vir 12/6 sou verkoop. Die boek kon goedkoper in die handel beskikbaar wees indien hy meer sou druk, maar daarvoor is die risiko te groot as gevolg van die "spesiale karakter" van die roman. (JC Kannemeyer, p 266). Hy vra ook van Stephen die garansiesom van £250 en hy vra ook dat sekere woorde en frases verwyder moet word anders gaan hulle probleme met die owerheid optel. (p 266)

JC Kannemeyer het in Leroux: ’n lewe geskryf: "Soos in die eerste roman, maar nou veel meer gekonsentreerd en konsekwent toegepas, is Colet die sentrale ervarende karakter deurdat haas alle gebeurtenisse met hom in verband staan, ook dié wat ná sy dood plaasvind. Daarby gee die gebruik van die bewussynstroomtegniek en terugflitse ’n verhewigde aksent aan Colet se herbelewing van momente uit die verlede, terwyl herinneringsbeelde en ervarings uit Die eerste lewe van Colet refreinmatig en sirkulerend meespeel en ’n besondere vorm van intertekstualiteit tussen die twee romans tot stand bring."

Weer was die grootste gros van die resensies oor Hilaria "oppervlakkig en niksseggend" (JC Kannemeyer, p 267). En was dit weer eens net Rob Antonissen (Standpunte, April 1959) wat daarin kon slaag om met insig oor Hilaria te skryf: "Dit is die relaas van Colet se binnelewe gedurende die laaste paar maande van sy verblyf op aarde, tussen ’n nuwejaar en ’n lente-inwyding; van ’n grondelose frustrasie, ’n ankerlose rondbeweeg en verwarring, en eindelik ’n 'bevryding', wat uitloop op .... Hilaria, die dood-en-'wedergeboorte'- van Attis-Colet, gevolg deur die vyfde en sesde dae van die kubeliese misteries, Reqquietio en Lavatio. Die smartlikheid van die verhaal lê natuurlik juis in die ironiese teenstelling – wat voorgee om nié teenstellinge te wees nie – tussen religieus-mistieke ekstase oor ’n lewensvernuwing, en harlekyns luidrugtige feesvierdery om ’n lewensbesef, dié van die lewe se doelloosheid, te vergéét; tussen ’n sakramentele lente-optog om god-self-in-die-natuur te eer en tot vrugbaarheid te prikkel, en ’n gemotoriseerde mooi-nooiens-'show'-stoet-op-23-September om die wêreld te oortuig van die onmisbaarheid van Johnson se plastiekblindings. In die lofrede op dooie Colet, tragies oorlede in diens van sy en die ’nuwe wêreld' se plastiekblindingideaal, bereik dié ironie ’n siniese hoogtepunt. In die onverwagte plebejiese wanorde waardeur die welberekende reklame-stoet ten slotte tóg nog in ’n soort orgasme – karikatuur van ’n onsterflikheidsorgasme – 'ontaard', en in die finale afdwaling (vérdwaling) na Helshoogte, word die ironie deur byna geniale simbolisering tot ontlading gebring in ’n grimlag (ook dít slegs skyn-'hilariteit') oor modern-menslike sieligheid."

Al beswaar wat Antonissen teen Hilaria kon inbring, was die telegramstyl waarin Stephen die boek geskryf het: "Sy eksperimenteer met ’n skryfwyse – ’nieu-saaklike' vinnigheid, wat sy heil soek in 'sinne' van een of ’n paar woorde – voer hom tot verkragting van die taaleie, wat sekere eise stel, nie alleen aan die woord en sin nie, maar óók aan woord- en sinsekwénsie." (JC Kannemeyer, p 268)

Ná die publikasie van Hilaria het Stephen gevoel dat dít wat hy in die werk van CG Jung ontdek het, nog nie volledig gebruik is nie. JC Kannemeyer (p 270) het hieroor in sy biografie oor Leroux geskryf: "Die mite met sy simbole, so kon hy met as sy wegwyser vasstel, is ’n bron van krag sowel vir die enkeling as die gemeenskap. [...] Wanneer die mite dus sy vitaliteit en helende krag verloor, word dit ’n dooie mite en sy simbole dooie simbole."

En hieroor het Leroux in Tussengebied (p 18) geskryf: "Om vas te klou aan dooie simbole en dooie mites lei tot allerhande neuroses en selfs psigoses aan die kant van die enkeling; en totale ontwrigting, selfs demoniese besetenheid deur ismes, aan die kant van die gemeenskap."

En dit is hierdie begrip van dooie of sterwende mites wat die volgende veld van belangstelling vir Stephen was, en om dit weer te gee in romanvorm, het hy teruggegaan na die sosiale verskyning van die eendstert uit die 1950's. Hierdie soort jongmens het vir Stephen gefassineer weens sy belangstelling in die afwykende en buitengewone.

Hy het vinnig aan die werk gespring in 1958 en voor die einde van daardie jaar was die eerste lesing van die roman, wat as Die mugu gepubliseer sou word in 1959, afgehandel. Mugu is die woord wat die eendsterte vir "square" gebruik het.

Vir Kannemeyer (p 273) was Hilaria deur die gebruik van die "mitiese parallel" vir hedendaagse gebeure, tegnies die eerste roman van die Sestigers "in ’n uitgesproke moderne gedaante en het Leroux daarmee die rigting van James Joyce voortgesit. Met Die mugu het hy op ’n ander wyse by ’n roman soos Ulysses aangesluit.

"Die tweedaagse dooltog van Gysbrecht Edelhart deur die strate van Kaapstad toon, naas alle verskille, sekere ooreenkoms met Joyce se Stephen Dedalus op sy dag lange peregrinasie deur die stad Dublin. Soos Hilaria, wat ’n konkrete uitgangspunt – die organisasie van ’n reklameoptog om plastiekblindings te adverteer – ten grondslag van die gebeure het, is die motoriese krag wat in Die mugu die gebeure aan die gang sit, ’n haas stereotipiese, burgerlike gegewe wat – soos Leroux se jeugwerk in Die Stellenbosse Student – aan ’n tema vir ’n skoolopstel laat dink. Gysbrecht Edelhart, ’n vyftigjarige winkelklerk wat in ’n daaglikse roetinelewe vasgevang is, verneem dat hy ’n lotery ter waarde van £50 000 gewen het. Hy kry dus skielik die geleentheid om uit sy klein wêreldjie weg te breek en begin te dink wat hy alles met die geld kan doen. In sy reis vanaf Rondebosch na Kaapstad om die loterykaartjie te gaan haal, ontmoet hy uiteenlopende karakters en ervaar hy ’n reeks groteske gebeurtenisse wat alles gesamentlik ’n klein mikrokosmos van die moderne (ook spesifiek Suid-Afrikaanse) samelewing vorm."

Aat Kaptein het intussen sy uitgewery aan HAUM verkoop en Stephen het reeds met Gerry de Melker, hoof van HAUM, onderhandel oor herdrukke van sy eerste twee romans. Hy het dus na voltooiing van Die mugu die manuskrip aan De Melker gestuur met ’n ontwerp vir die omslag deur Renée. De Melker het baie positief gereageer en genoem dat daar wel ’n paar dinge was waaroor hy met Stephen wou gesels. Op 10 November 1959 het 2 000 eksemplare van Die mugu verskyn en Stephen was baie in sy skik met die eindproduk.

En uiteindelik het een van Leroux se romans die aandag van die kritici, lesers en die akademici geniet. WEG Louw was een van die eerstes wat Die mugu bespreek het in Die Burger (20 November 1959): "Die verdienste van die boek lê vir my in die kaleidoskopiese waarneming van die afgetakelde wêreld van die 20ste eeu; in die vreemde, fassinerende nagmerrieagtige atmosfeer van dié siening, ’n atmosfeer wat my, ondanks alle verskille, in die verte aan dié van Franz Kafka se roman Der Prozess herinner, ja, selfs af en toe in ’n forse, fragment prosa."

Selfs Rykie van Reenen, onder haar skuilnaam Elizabeth Tredoux (Sarie Marais, 2 Maart 1960), het beken dat sy oor die "mitologiese en psigologiese verwysings" van Hilaria gelees het en dat sy Die mugu meer geniet en waardeer het as die eerste twee.

Wéér was dit Rob Antonissen wat die resensie met die beste insig geskryf het (Standpunt, April 1961): "Die groteske mosaïek van velerlei gebeurtenisvlakke, bewussynverslae en aanbiedingsvorme in Die mugu is die eerste beeld van ’n Westerse, ook Suid-Afrikaanse, maatskappy wat deur verlies van sy sin vir ’n 'lewende mite' tot mensdomsmassa ontmenslik is."

Die mugu het die eerste trilogie van Stephen afgesluit.

Stephen se volgende roman, Sewe dae by die Silbersteins, (Human & Rousseau, 1962) is dié een wat hom in die openbare oog laat beland het. Dit vertel die verhaal van ’n onskuldige en onkundige jong man, Henry van Eeden, wat die ryk Silbersteins van ’n Bolandse wynplaas vir sewe dae lank besoek. Die doel van die besoek is om sy verloofde, Salome (vir wie hy nog nie ken nie) te ontmoet en om vertroud te raak met sy aanstaande skoonouers se lewenswyse. (JC Kannemeyer, p 303)

Gedurende die sewe dae het Jock Silbersteins hom soggens vertroud gemaak met die hoogs geïndustrialiseerde boerdery op die plaas, terwyl die aande gewy is aan partytjies waar hy verskillende groepe mense ontmoet het. Hierdie mense verteenwoordig verskillende lae van die gemeenskap en stel Henry bekend aan verskillende fasette van die moderne mens en sy probleme.

Behalwe hierdie uiterlike ervarings word Henry se innerlike groeiproses geaksentueer. Hy het as "’n vlekkelose klein robot" en "die jongman met die engelgesig" en "die silwersiel" op die plaas gearriveer en binne sewe dae moet hy ’n "Jungiaanse indiwiduasieproses" deurgaan.

"Hy moet sy onskuld verloor, bewus word van die verstrengeling van die goeie en die bose, die gesigloosheid van die Syn, die chaos en die eensaamheid voordat hy waardig genoeg is om Salome te ontmoet," het Kannemeyer geskryf.

Die impetus vir die skryf van ’n roman met ’n Bolandse wynplaas as agtergrond was die skrywer Alexander Podlashuc se vertelling aan Stephen van sy neef se wynplaas, Bellingham, naby Franschhoek. Hierdie vertellinge van die plaas met sy uitgebreide boerdery en die omgewing van die huis met sy swembad en die interieur van die huis het vir Stephen gefassineer en hy het gereeld vir Podlashuc gekontak om meer uit te vind. Sy aanvanklike keuse vir ’n titel was Sewe dae by die Lichtensteins, maar aangesien dit gesien kon word as ’n toespeling op die vorstedom Liechtenstein in Europa het hy met die skryf van die tweede weergawe besluit op Silberstein – ’n van wat beter sou pas by ’n Joodse egpaar en met die "silber" die suggestie kon laat van rykdom en weelde.

Stephen het weer die manuskrip aan Gerry de Melker by HAUM gestuur. Hy het dit aanvaar, maar was op die punt om HAUM te verlaat. John Malherbe het hom opgevolg en hy moes verder met Leroux onderhandel. In Junie 1962 het Koos Human (wat intussen Human & Rousseau saam met Leon Rousseau begin het) ’n besoek van De Melker ontvang – met die manuskrip van Sewe dae in sy hand. Malherbe het te veel manuskripte en hierdie een sou moes oorstaan na 1963 en daarvoor het Stephen nie kans gesien nie. En só begin ’n jarelange verbintenis tussen Human & Rousseau en Stephen le Roux.

Al die resensies van Sewe dae by die Silbersteins was baie positief. In Die Burger (30 November 1962) het WEG Louw geskryf: "Sewe dae by die Silbersteins is volgens ’n eerste oordeel ’n vreemde fantasmagorie, sterk intellektualisties van inslag, ewewigtig van bou en met ’n simboliek wat hom nie met die eerste opslag laat 'kraak' nie. Dit is bowenal, glo ek, ’n merkwaardige boek – een soos daar nog nie baie vantevore in Afrikaanse geskryf is nie."

Almal was nie beïndruk met WEG Louw se resensie nie wat volgens Chris Barnard (in ’n brief, 4 Desember 1962) aan Leroux, duidelik wys dat Louw glad nie die roman verstaan het nie.

AP Grové wat tot op daardie stadium meestal resensies oor die digkuns geskryf het, het in Die Vaderland (14 Desember 1962) Sewe dae "’n ryk en veelvlakkige roman" genoem. "Die boek het ’n allegoriese trek; ’n moderne Pilgrim's progress, met die verskil dat die pelgrimsreis hier iets van ’n hellevaart word. Diep-in is die boek ’n besinning op die Bose, die Mag wat op elke terrein (die kuns, die godsdiens, die boerdery) steun ontvang van die mense wat, met die beste bedoelings soms, in opstand kom teen die orde-skeppende reël."

Ook Ernst Lindenberg (Kriterium, April 1963) was beïndruk. Waar sy vorige besprekings van Leroux se werke effe oppervlakkig was, was hierdie meer diepgaande. Hy het die "vindingrykheid, fyn spot, ongewone gegewens, boeiende problematiek en hegte konstriksie" baie geniet, maar was geïrriteerd met die "onbeholpe en foutiewe" taalgebruik.

Weer was een van die indringendste resensies van Sewe dae dié een deur Rob Antonissen in Standpunte van Februarie 1963. Vir hom is die motief van "gesigloosheid" dít wat sentraal staan in die roman en is dit ook die belangrikste skakel met Hilaria en Die mugu: "Teen die verwagtings en bedoelings van sy inisiators in ontstaan daar by Henry die verlange om ’n gesig, ’n beeld, ’n persona te vind, al bly dit ten slotte onderworpe aan die voorwaarde van die geloof. Dit is merkwaardig dat dwarsdeur die ongelooflikste aftakeling, die stelselmatige reduksie van die mens tot beeldloosheid, red hierdie roman die gesig van die mens. Hierdie roman het geen karakters, geen persone, geen gesigte nie; maar uiteindelik: wátter 'gesig' van die mens kry ons híér!"

Sewe dae by die Silbersteins, die eerste boek in Stephen se Welgevonden-trilogie, is in 1962 deur Human & Rousseau gepubliseer en so het Stephen vir die eerste keer werklik in die openbare oog beland. Die boek het ’n letterkundige storm ontketen wat vir ongeveer sewe maande aangehou het. ’n Landswye polemiek het in die pers ontstaan waaraan almal deelgeneem het – vooraanstaande literatore, akademici op verskillende terreine, leraars, huisvroue, onderwysmanne, pastoriemoeders, skrywers, skoolseuns en Jan Alleman. Daar was die goedpraters wat Sewe dae beskryf het as ’n hoogs morele boek en die afkeurders wie se slagkreet "Verban die Silbersteins!" oral gehoor is.

Die storm is op ’n spits gedryf met die toekenning van die Hertzogprys van 1964 aan Stephen vir Sewe dae in 1964. AP Grové het sy huldigingswoord as volg afgesluit: "Meneer die Voorsitter, Sewe dae by die Silbersteins is ’n diepsinnge en sterk roman, wat ’n belangrike boodskap het vir ons tyd. Ons is trots daarop dat so ’n werk in ons taal kon verskyn, en dankbaar dat dit juis op hierdie tydstip kon gebeur." (Huisgenoot, 7 Januarie 1966)

Selde tevore is ’n prosawerk so deeglik geresenseer in tydskrifte en dagblaaie as hierdie boek van Stephen. Die sinodale kommissie van die NG Kerk in die Vrystaat het gesê dat "sulke dinge bestaan, maar dat die skrywer hulle nie mag beskryf nie; respektiewelik, hy mag dit slegs beskryf in diens van die waarheid en die Christelike estetiese norme."

Al hierdie publisiteit het veroorsaak dat Sewe dae soos soetkoek verkoop het en baie gou moes dit herhaarldelik herdruk word en is 30 000 eksemplare verkoop.

Stephen se kommentaar in ’n onderhoud in Dagbreek en Sondagnuus van 9 Augustus 1964 was as volg: "Die skrywer skryf oor die hele mens – en dit sluit goed en kwaad in. Dit is egter die moralis se plig om op die foute van die mens te wys en dit duidelik te veroordeel. Daarom meen ek dat bv. predikante die volste reg het om mense aan te raai om nie die boek te lees nie. Ek is net soveel gekant teen die bose as die moraliste. Ek skryf nie ’n traktaat nie, maar my uitgangspunt is net so moreel soos hulle s’n. As ek egter doen wat hulle van my verwag, kan ek nie anders as om ’n swak boek te skryf nie."

In Insig van Desember 1999 het Elize Botha gesê dat Sewe dae ’n roman is wat die landskap van die Afrikaanse prosa ingrypend verander het. "Maar Sewe dae het ook ingegryp op die verhouding tussen die skrywer en die gemeenskap, op die verwagtinge wat lesers van ’n literêre kunswerk koester. ’n Ongekende polemiek is ontketen. Ook die apparaat en strategieë van die literêre kritiek moes verander om met groter doelgerigtheid te bou aan ’n kundige en toereikende leserspubliek, om die nuwe en uitdagende werk teen die vyandskap van ’n gekrenkte samelewing en hul politieke leiers te beskerm."

In 1967 word Sewe dae in Engels vertaal deur Charles Eglington en het die Amerikaanse uitgewers die proewe aan Graham Greene gestuur vir kommentaar wat hulle in hulle reklame kon gebruik. Greene was só beïndruk deur die boek dat hy dit in The Observer aangewys het as sy boek van die jaar. In ’n brief gedateer 30 Augustus 1967 aan Stephen het hy geskryf: "You must believe me when I say that I am not in the habit of writing ‘fan’ letters, but even before I have finished reading Seven days at the Silbersteins I must send an old man’s signal towards you of excited admiration. It’s 10 o’clock at night, I have dined well, and I want to leave the second half of your book till tomorrow, when my mind will be clear again."

In 1968 is Stephen na Europa en op die lughawe van Nice in Frankryk het hy Graham Greene vir die eerste maal ontmoet. In 1973 het Greene Suid-Afrika en Koffiefontein as Stephen se gas besoek en afgesien van ’n lang kuier op Ja-nee, het hy ook saam met Stephen rondgereis.

Die onafhanklike tydskrif Sestiger is in November 1963 gestig en Stephen het op die redaksie gedien. Aan die einde van November 1965 is die tydskrif gestaak, omdat die Sestigers gevoel het dat hulle hul doel bereik het. As een van die hooffigure in die Sestiger-beweging het Stephen hom midde-in die stryd bevind en was hy verplig om dit in koerante en praatjies te verdedig.

Stephen was in 1962 nog besig om die proewe van Sewe dae deur te gaan toe hy alreeds die idee gekry het om Welgevonden in nog ’n roman te laat figureer en ook om sy sieninge rondom die tragiek in ’n volgende roman uit te beeld.

In Desember 1962, tydens ’n besoek aan Kaapstad en in ’n gesprek met John Kannemeyer, het hy die idee gekry om sy gedagtes oor die tragiek en die speurverhaal met mekaar te verbind. Vroeg in 1963 het hy aan Chris Barnard geskryf dat hy besluit het dat Sewe dae die eerste verhaal in ’n Welgevonden-trilogie sou wees, hoewel hy nog nie seker was in watter rigting die nuwe roman sou ontwikkel nie.

Die eerste titel wat hy vir die nuwe roman uitgedink het, was Moord op Welgevonden. Hy het dit egter gou verander na Dood op Welgevonden. Die roman was al redelik ver gevorder toe hy nog nie op ’n finale titel besluit het nie – ander titels was Sewe vrae op Welgevonden, Die vampier van Welgevonden en Die stigting. Hy besluit uiteindelik op Een vir Azazel, ’n titel (só skryf Kannemeyer) "wat met ’n heenwysing na Levitikus 16 (maar dan met ’n gewysigde spelling) die Joodse sondebok, en daarmee die probleem van skuld en morele oordeel, sentraal in die roman plaas". (p 342)

Die nuwe roman, Een vir Azazel (1964), is weer gesitueer op Welgevonden en speel af agtien jaar na Sewe dae by die Silbersteins. Soos Sewe dae is die nuwe roman se gegewe basies eenvoudig. Lila, wat alom geliefd was, word vermoor en die gemeenskap op Welgevonden is baie geskok. Die speurdersersant, Demosthenes H de Goede (Demosthenes weens sy spraakgebrek, H vir Herakles, die held in die Griekse mitologie wat die gode gehelp het teen die reuse en De Goede wat die gemeenskap moet beskerm teen die bose magte), vergesel van dr Johns, moet die moordenaar vind. Die soektog eindig wanneer die reus en Henry en Salome se misskape kind, Adam Kadmon Silberstein, dodelik gewond word en sterf as hy by die fontein deur die vloedwaters weggespoel word.

Weer eens het dit uit die resensie van WEG Louw (Die Burger, 11 September 1964) geblyk dat hy nie veel van Azazel verstaan het nie. Vir TT Cloete was die roman "’n digte netwerk van simbole". Hy het waardering vir die feit dat die skrywer homself nooit herhaal nie al skryf hy ’n opvolg op ’n vorige roman (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1964).

Vir FIJ van Rensburg (Volksblad, 28 Julie 1964) was dit Leroux se "briljantste" roman tot op daardie stadium.

Van die jonger kritici het ook vir die eerste keer oor Leroux se werk geskryf. PG du Plessis (Sondagstem, 27 September 1964) was baie "entoesiasties oor die skitterende satire, die styl wat ten spyte van sy feitlikheid poëties opflikker en die baie moontlikhede tot interpretasie wat die roman bied." (JC Kannemeyer, p 356)

Ook AP Grové (Die Vaderland, 9 Oktober 1964) se siening van Azazel was gunstig: "Hierdie boek is verwikkelder as sy voorganger, en dis maklik om te voorspel dat daar byvoorbeeld teen die tallose verwysings besware ingebring sal word. Daar is natuurlik baie verwysings, maar dis geen ydele vertoon van geleerdheid nie; dis die fassinerende inskakeling van tallose gegewens in ’n patroon wat gaandeweg helderder word, toeneem in geldigheid en uiteindelik sy afsluiting en voltooiing vind in die onthutsende stenigingstoneel."

In Standpunte van Oktober 1964 het Rob Antonissen geskryf dat die satire in Azazel sterker is as in Sewe dae: "Daarby is daar ’n paar kosbare dele wat in Sewe dae hul gelyke nie het nie, kosbaar ook juis omdat hul so onverwags en opvallend kontrasteer met, en dus ’n besondere reliëf gee aan, die satiriese opset van die geheel; dele naamlik wat fantastiek gee van ’n ander orde, van ’n magiese orde en wat groei uit die droomlae van die bestaan."

Stephen het in 1965 die CNA-prys vir Een vir Azazel in Durban in ontvangs geneem.

Ná die sukses wat Een vir Azazel geniet het, het Stephen baie gou reeds begin notas maak vir die derde deel van sy tweede trilogie. Die aanvanklike titel was Boris Gudenov, maar dit is later tot Die derde oog herdoop. Hy wou weer eens vir Welgevonden daarin uitbeeld, asook van sy reeds bekende karakters uit die vorige twee romans, maar hy was nog ’n bietjie onseker waarheen dié roman op pad was.

In Die derde oog is die speurder Demosthenes de Goede weer aan die voorpunt van gebeure. Hy is van sy spraakgebrek genees, het kaptein in die speurdiens geword en is getroud met Hope wat ’n nimfomaan is. Brigadier Ornassis E, die hoof van die D-Diens, gee aan hom die opdrag om die "tycoon", Boris Gudenov, 'tot die lig te bring'. (JC Kannemeyer, p 408)

Stephen het in Die derde oog twee letterkundige vertolkings van die mite as "stramien". Twee dramas oor Herakles, Die kinders van Herakles en Trachiniai, is gebruik vir die basis van die verhouding tussen Gudenov, Katy en Iole in die roman. Saam met die Griekse dramas betrek hy ook Dante se Divina commedia as ’n verdere verwysingsveld, volgens Kannemeyer.

Stephen het in Maart 1966 die manuskrip onder die titel Boris Gudenov aan Koos Human gestuur wat dit onverwyld aan DJ Opperman voorgelê het vir keuring. Opperman het heelwat bedenkinge oor hierdie roman gehad en het wysigings voorgestel. Soos altyd was Stephen heeltemal inskiklik om verder aan die roman te werk en in Mei 1966 is hy Kaapstad toe waar hy en Human intensief aan die manuskrip gewerk het.

Die derde oog het in November 1966 verskyn met ’n oplaag van 4 500 en daarmee het hy sy tweede drieluik afgesluit.

Die eerste beskouings van Die derde oog deur die kritici was nie baie gunstig nie. FIJ van Rensburg (Volksblad, 24 November 1966) was teen die "oorbelastinge" en die "serebrale" verloop van die roman, terwyl RH Pheiffer (Die Burger, 21 Desember 1966) van mening was dat die té "serebrale inslag" die leser sal hinder.

Leroux se eerste uitgewer by Culemborg, Aat Kaptein, was dié persoon wat die sterkste kritiek teen Die derde oog in Dagbreek en Sondagnuus (20 November 1966) uitgespreek het.

Die slot-‘"boodskap" van die boek is ’n boodskap van die Brigadier: "'Is daar ’n groter triomf?' vra die Brigadier, 'as die besef dat God dood is en dat die mens, vry van tradisionele gebondenheid, sy lewe suiwer kan vorm ten opsigte van die Christelike moraal?'"

Kaptein het sy bespreking afgesluit: "Só eindig hierdie boek wat geskryf is in die skaduwee van die Vrouemonument van Bloemfontein. Die tradisie is dood. En God is dood. Nou is daar groot pret, EN groot vryheid. En uitbundigheid sonder perke. Só sê Etienne Leroux. Ek het twee ander woorde. Volksvergif. En anargisme. Ek weet nie van pret nie. Maar ek weet van verdriet om ’n begaafde skrywer wie se werk kon daal tot daardie stinkende moeraspeil."

Hierdie bespreking van Kaptein het tot gevolg gehad dat ’n sekere mev Stander van Pretoria ’n klag teen Die derde oog by die Publikasieraad ingedien het. Die Publikasieraad het nie die boek ongewens bevind nie, maar dit het vir Stephen bewus gemaak van wat moontlik was onder die nuwe sensuurstelsel.

Etienne se derde siklus word ingelei met die briefroman 18-44 in 1967, ’n boek wat hom baie na aan die hart gelê het en wat hy al as sy gunstelingwerk uitgesonder het. Sy briefwisseling met ’n jong Ingrid Winterbach wat later ’n Hertzogpryswenner geword het, het deel van hierdie roman gevorm. Charles Malan het opgemerk dat hierdie derde trilogie, net soos in sy vorige romans, ook gekenmerk word deur outobiografiese elemente (Transvaler, 27 Augustus 1987).

18-44, wat op 4 Oktober 1967 verskyn het, het hierdie korrespondensie tussen mnr Y, ’n 44-jarige skrywer, en die 18-jarige mej X as basis. Soos die roman vorder, word mnr Y se lewensverhaal opgeroep. DJ Opperman was baie opgewonde oor die roman en het dit beskou as iets heel anders as Leroux se vorige romans. (JC Kannemeyer, p 453).

Selfs die Engesle dagblaaie in Kaapstad (Cape Argus en Cape Times) het plek aan resensies van hierdie Afrikaanse boek afgestaan en 18-44 is oor die algemeen gunstig ontvang. Daar was egter ook persone soos FIJ van Rensburg (Volksblad, 23 Oktober 1967) wat veral omgekrap was oor Leroux se swak taal. "Aangesien ’n knolskrywer aan die woord is, sal ’n mens van funksionele tekortkominge kan praat, maar dan sou ’n mens van die primêre skrywer, Leroux, kon verwag om sy knolskrywer beter te laat skryf na gelang van sy insig in sy probleemsituasie toeneem."

Die tweede deel van Leroux se laaste trilogie is Isis Isis Isis wat in 1969 gepubliseer is. JC Kannemeyer (p 489) skryf dat die "soektog van die Egiptiese Isis na die lyk van Osiris wat deur sy broer Set vermoor en later in veertien stukke gesny is, die mitiese stramien vir hierdie nuwe roman vorm".

Kannemeyer het voortgegaan: "In aansluiting by die tradisie van die reisverhaal handel die roman oor die knolskrywer se poging om deur middel van ’n Europese reis en kennismaking met ’n aantal vrouens, die veertien stukke van die verminkte Osiris tot ’n nuwe geheel gevoeg te kry. Terwyl Isis in die Egiptiese mite na Osiris gaan soek, keer die twintigste-eeuse knolskrywer egter die mite om en is dit Osiris wat op soek gaan na die vroulike, transformerende wese wat hom weer heel sal maak."

Isis het in November 1969 verskyn en weer was die ontvangs oor die algemeen baie positief. In die Cape Times (26 November 1969) het Ian Forsyth melding gemaak van die "vitality and ease of style" en die "stimulating experience" wat dit was om die roman te lees.

In Die Burger van 13 Desember 1969 was Rob Antonissen die resensent en vir hom kan die begrip "anti-roman" toegepas word op die twee Osiris-romans van Leroux, veral op Isis – "veral in dié sin dat die knolskrywer nie ’n verhaal vertel nie, maar homself in ’n nuwe toekoms in skryf en dat hy in sy skriftuur homself na ’n toekoms toe verken. In dié opsig, behoort Isis, soos al Leroux se vorige romans, tot die peregrinale literaruur, maar in vergelyking met byvoorbeeld Sewe dae is alle boodskap afwesig. Deurdat dit voortdurend sigself ironiseer, wys dit enige aanspraak op singewing, leerstelligheid of leerbevoegdheid af."

En Elize Botha (Standpunte, April 1970) het in haar resensie gepraat van "die spel van kontraste en parallelismes en die parodiërende skryfwyse waarmee Leroux inspeel op die tradisie van Afrikaanse reisbeskrywings en dat hy sy boek in die rigting van ’n geestelike soeke na genesing stuur."

Weer was dit FIJ van Rensburg (SA Beeld, 30 November 1969) wat baie negatief was oor Isis. Vir hom was dit wat die struktuur betref, een van Leroux se swakste werke: "Dis ’n reisroman, maar die reis is te lank; dit het te veel skofte/ Die sewe fases van Sewe dae by die Silbersteins en die vier van 18-44 het hier veertien geword. Isis is ’n insinking, al staan daar in haas elke hoofstuk naas die gewone kwota aan beroerde Afrikaans paragrawe wat helder en sensitief is."

Stephen se werk aan die derde deel van die 18-44-trilogie het in 1970 ’n aavang geneem toe hy begin het met die aantekeninge wat die basis vir hierdie roman, wat hy Na'va sou noem, sou vorm. In Junie 1972 het hy die manuskrip vir Human & Rousseau gestuur. Opperman het weer sekere bedenkings oor die manuskrip gehd en wéér het Stephen sonder veel teenspraak die veranderings aangebring.

JC Kannemeyer (p 516 van biografie) het geskryf dat die uiterlike verhaal van Na'va Georgie, neef van die knolskrywer, as sentrale karakter het. Hy pleeg selfmoord met ’n Greener-haelgeweer en die storie handel in die besonder oor die "uitgerekte begrafnisfees waartydens die knolskrywer sy oom George se herhaalde, refreinmatige vrae in verband met die rede vir Georgie se selfmoorddaad met verwysing na die vier vroue in sy neef se lewe, moet beantwoord en waarop – naas aanwesiges soos ’n adjunkminister, ’n sigeuner en die 'aanstaande' van die 'oorledene' – ook ’n hele falanks karakters uit Leroux se vorige romans teenwoordig is, feitlik as 'outochone skimme' of mities geworde figure uit sy oeuvre. (...)

"Naas die vraagstelling oor Georgie se selfmoord, wat terselfdertyd ’n soeke na die sin van lewe en dood is, handel Na’va, soos die vorige twee romans in die trilogie, ook heel bewustelik oor die poging van die knolskrywer om deur middel van sy kunstenaarskap ’n onverganklike vorm op die spierwit papier te bereik, al is hierdie strewe na singewing tot mislukking gedoem. Al waartoe sy vermoë tot sintese hom miskien kan lei, is on hom 'by ’n enkele weergawe van die angs van menswees' te beperk en op dié wyse ‘’n vonk van die ewigheid (te) [...] vang'. Aan die einde van die roman is daar tog sprake van ’n herlewing wanneer die knolskrywer reguit kyk 'in die oog van die son' wat iets van ’n vernuwing in die natuur suggereer."

Weer was die resensies van Na’va, soos met Isis, oor die algemeen positief. Selfs FIJ van Rensburg het geskryf (Huisgenoot, 30 Maart 1973) dat Na’va "’n skatkamer van kamees [is]. Die swier en elegansie waarmee Leroux die drade van Georgie se lewebymekaarbring – die gemaklikheid waarmee elders en hier, voorheen en tans mekaar op die bergafnisfees afwissel – verraai die hand van ’n meester, die meester van die ligte aanslag."

In Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (TT Cloete, red) het Elize Botha haar bespreking van Na’va afgesluit: "Dit is ’n boek oor die skrywerskap, spottend, kleinerend soms, maar dit is ook onontkombaar ’n boek oor ’n bepaalde skrywerskap, dié van ’n skrywer genaam Etienne Leroux. Daarom dwing dit die leser terug na die agt boeke wat hieraan voorafgegaan het, dring dit aan op herontdekking, maar wys dit ook op die eindelose moontlike herformelinge van stellinge wat in die reeks boeke ingeneem is."

André P Brink (Die Burger, 15 Februarie 1973) was ook een van die kritici wat stelling ingeneem het oor Na’va: "Leroux het met Na’va aan homself die netelige taak gestel om nie net sy jongste siklus af te rond nie, maar ’n oorkoepelende roman te skryf wat ’n sluitsteen sou vorm vir al drie sy trilogieë tot dusver. Die situasie in die roman is vir my die fantastiese dodefees ter ere van Georgie wat in sy groteske verbeeldingsvlugte en afronding herinner aan ’n doek van Jeroen Bosch, maar dit word terselfdertyd ’n soektog tot sin en ’n poging tot integrasie."

Die Engelse vertalings van Sewe dae by die Silbersteins (1964) en Een vir Azazel (1968) is deur Charles Eglington gedoen en Die derde oog se vertaling is in 1969 deur Amy Starke gedoen. Die drieluik is in in 1985 onder die titel To a dubious salvation uitgegee deur Penguin in sy Modern Classics-reeks – die enigste Afrikaanse skrywer tot op daardie stadium vir wie so ’n eer te beurt geval het. 18-44 en Magersfontein, o Magersfontein! Is ook nog vertaal, maar die verfilming van Sewe dae by die Silbersteins wat op ’n stadium baie belowend gelyk het, het deur die mat geval – grootliks as gevolg van Stephen se agent in Engeland, Jeannette Zimmermann, se swak hantering van Stephen se manuskripte.

In 1968 is Stephen benoem tot lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde – ’n benoeming wat hy aanvaar het.

Met die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975 het Stephen die eerste beraad op Broederstroom as stigterslid bygewoon. Hy het etlike kere in die bestuur van die Gilde gedien en het gereeld redes by die jaarlikse berade gelewer.

Na ’n stilswye van ’n paar jaar is Stephen se volgende roman Magersfontein, o Magersfontein! in 1976 deur Human & Rousseau uitgegee. Volksblad het in Junie 1976 berig dat die roman op die oog af na ’n historiese roman lyk, maar dat Leroux dit self as ’n "surrealistiese roman" beskryf het met die beroemde veldslag as agtergrond. "Omdat die verhaal gebaseer is op ironie, is die getrouheid van feite hier nie so belangrik as wat dit by ’n werklik historiese roman sou wees nie."

Hy het weggebreek van die mitiese strukture en hy het (nog steeds) geweier om in die enger sin betrokke te wees by ’n spesifieke maatskaplike bestel op die wyse wat die "betrokke" skrywers tot onlangs gepropageer het. Stephen het tot so ver as in Skotland gegaan om inligting in te win oor die "Highland Brigade" wat aan die slag van Magersfontein deelgeneem het. Dit het hom twee jaar se intensiewe navorsing gekos om al sy inligting te versamel.

In Magersfontein, o Magersfontein! kom ’n film- en televisiespan onderleiding van lord Sudden en lord Seldom op Magersfontein aan om ’n film te maak van die destydse Slag van Magersfontein wat op 11 Desember 1899 hom afgespeel het. Tydens die verfilming is daar ’n onverwagte vloedramp wat die riviere laat oorstroom en van Magersfontein ’n see maak.

Stephen was gefassineer deur die manier waarop twee wêrelde, dié van die Skotte en Engelse aan die een kant en die Boere aan die ander kant mekaar agter die loop van hul gewere gevind het. Nog iets wat vir hom meegevoer laat word het, was die tragkomiese vergissings wat kenmerkend was van die historiese gebeure. Die Boere het gedurende die slag gedink die Skotse Highlanders is ’n klomp volstruise, die Engelse kon ook nie die Boere se loopgrawe uit die lugballon sien nie, omdat almal te naar was van die skommelings, generaal-majoor Andrew Wauchope kon vanweë die reën nie veel in die donker sien nie wat tot sy dood bygedra het en De La Rey was as gevolg van sy seun se dood, glad nie teenwoordig by Magersfontein nie.

Weer was die resensente baie positief oor Magersfontein. Vir André P Brink (Tweede voorlopige rapport, 1980) was dit "’n briljante prestasie, ’n grillige fantasie wat verdiep tot ’n verbysterende visioen" en in Standpunte (Desember 1977) het Tim Huisamen dit as die hoogtepunt van Leroux se oeuvre beskryf.

In Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980) het Elize Botha gesê dat "die historiese verhaal van die slag van Magersfontein [...] die sentrale mite (is) wat as verwysingsveld vir hierdie roman dien".

Weer was die stem van FIJ van Rensburg (uitgesaai op 18 November 1976 op die Afrikaanse Diens) die enigste wat voorbehoude oor Magersfontein gehad het: "Leroux gaan veels te nonchalant, dit wil sê met te min vakmanskap, met sy materiaal in hierdie boek om. Karakters word bygetrek wat oorbodig is en die taal het die bekende vleug slordigheid."

Die CNA-prys vir 1976 is aan die boek toegeken. In sy aanvaardingstoespraak het Stephen onder andere gesê: "Ek aanvaar [die prys] met groot genoegdoening as ek aan die tjek dink; ek aanvaar dit met nederigheid (in so ’n mate as wat ’n skrywer nederig kan wees) as ek aan die besondere eer dink wat aan hierdie prystoekenning verbonde is. [...] Die wyse waarop die beoordeling (van die prys) geskied, is ’n toonbeeld van integriteit en objektiwiteit."

En weer het daar daar ’n storm om sy kop losgebars – selfs erger as die een rondom Sewe dae. Die besware teen Magersfontein het veroorsaak dat die boek in November 1977 deur die Publikasieraad verbied is, nadat slegs 3 000 eksemplare verkoop is. Na die verbod op Magersfontein het die Minister van Buitelandse Sake, dr. Connie Mulder, gesê dat "ons hier waarskynlik uit pas [is] met sekere Westerse lande, maar gesien teen wat in daardie lande toegelaat word, wil Suid-Afrika graag uit pas wees ter wille van sy mense en sy voortbestaan." (Volksblad, 22 November 1977)

Protes is aangeteken en Stephen het self gesê dat hy nie skryf om moedswillig te wees nie, maar om te sê wat hy moet sê. (Transvaler, 27 Augustus 1987)

Na sy dood skryf sy dogter Cherié dat sy meen die verbod op Magersfontein was die grootste slag wat hom as skrywer kon getref het. Hy het eenmaal gesê dat dit hom byna totale stilswye opgelê het. (Stilet, Maart 2004)

In 1979 is die Hertzogprys aan Stephen toegeken vir Magersfontein ten spyte van die verbod en weer het dit wye bespreking uitgelok. Met die ontvangs van die Hertzogprys het hy die staat gevra om "die letterkunde te bevry". Hy het die Akademie bedank dat hulle die prys aan hom toegeken het ondanks die vloedgolf besware en het die wens uitgespreek dat wanneer die volgende Hertzogprys toegeken word, "die boek of die skrywer nie in die gevangenis sal wees nie". (Volksblad, 22 Junie 1979)

In 1980 het die appèl teen die Publikasieraad se verbod geslaag en is dit vrygestel. Na die opheffing van die verbod het Stephen hom as volg uitgespreek: "Desnieteenstaande is ek dankbaar. As misdadiger teen die sedes en die godsdiens bedank ek die owerheid dat hulle my boek formeel as onskuldig beskou. Die onskuld van my boek is miskien die grootste aanklag teen my. Ek was my tyd slegs twee jaar vooruit." (Vaderland, 24 Maart 1980)

Hy het teenoor Irna van Zyl (De Kat, Augustus 1987) erken dat die verbod op Magersfontein hom byna ses jaar met sy skryfwerk laat verloor het. Hy het gewoonlik twee jaar aan ’n boek gewerk, maar Magersfontein het byna vier jaar gelê voordat die verbod opgehef is en daarna het hy nog twee jaar verloor.

Stephen het hom in 1977 by ’n sewetal ander skrywers gevoeg wat uit die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bedank het omdat daar "onhoudbaar met die aanvaarding van Kleurlinge" deur die Akademie gesloer is. Die ander skrywers was Jan Rabie, Elsa Joubert, Abraham de Vries, Chris Barnard, Frans Venter en Leon Rousseau. (Volksblad, 8 November 1977)

As spreker was Stephen baie gewild en was hy ’n trekpleister by baie samekomste, al kon hy, volgens Cherié, ’n duisend dode sterf wanneer hy sosiaal moes optree of ’n toespraak moes lewer. In September 1964 het hy ’n lesing "Enkele probleme van die hedendaagse romanskrywer" by die Universiteit van die Vrystaat gelewer, een van verskeie praatjies waarin die skrywer se posisie bespreek is. Tydens die Sestigerweek voor die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad in Februarie 1973 was sy lesing "Tegnieke, temas en toekomsplanne".

Op 17 Oktober 1973 het hy die NP Van Wyk Louw-gedenklesing by die Randse Afrikaanse Universiteit gelewer met die titel "Wat beteken Vernuwing in die prosa vandag?" In hierdie lesing het hy erken dat daar min tematiese vernuwing in die Afrikaanse roman is. "Dit is met ’n mate van moedeloosheid dat ek, helaas, moet erken dat tematiese vernuwing op die gebied van die prosa in Suid-Afrika vandag meesal verdere nuanses is van die rasseprobleem, die huidige politieke embleem, seks as religie, en hedendaagse geweld as bevryding." (Rapport, Oktober 1973)

In Oktober 1988 het Stephen die sleuteltoespraak by die jaarlikse Nasionale Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat gelewer waar die tema Fokus op ’80 was. Hy het in sy toespraak sy bedenkinge uitgespreek oor die term ‘sleuteltoespraak’ uit en oor die feit dat sy toespraak "die deur van die Suid-Afrikaanse letterkunde moes oopsluit vir die dekade-kamer ’80." Aan die einde van die toespraak het hy homself as volg uitgespreek: "Oorsigtelik, dus, ’n merkwaardige ’80 waar Suid-Afrikaanse skrywers hulle vleuels strek buite ons landsgrense. Indien daar ’n kulturele boikot bestaan dan is die internasionale mafia van die letterkunde besig om ons hartsaar af te sny. Ons is nie van die Familie nie. Ek verlang na goeie buitelandse vriende op die gebied van die letterkunde wat volgens hulle kollektiewe gewete nie in staat is om die land van apartheid te besoek nie. Wat kan die skrywers daaraan doen? Sal ons maar ons talent groepsgewyse aanwend om apartheid tot ’n val te bring? Wat word intussen van die enkele skrywer wat ongeregtighede en verset op sy eie manier verkondig? En wie de hel is die skrywer om te dink dat hy hoegenaam enige invloed ter land het? Ons is almal die Ape van God, en die mense lag hulle dood. [...] Die feit dat soveel skrywers, literatore, en mense van die media deelneem [aan die seminaar] dui daarop dat die leser nie onderskat moet word nie: trouens hy is everyman wat uiteindelik die lot van alle geskrewe werk bepaal, en hy is eintlik die een wat besluit of ’n besondere werk die reg op bestaan binne ’n tydsverband het. Hierdie everyman kan wissel van ’n leek tot ’n besondere vakkundige op alle gebiede denkbaar. Ons ken Heil die Leser as ’n opskrif vir ’n getuigskrif. Ons wag angstig vir die opskrif van die lesers as ’n getuigskrif van ons werke in die jare ’80. Al wat ek kon vind, is: ‘Huil die Leser?’" (Rapport, 9 Oktober 1988)

Met die ontvangs van sy tweede CNA-prys vir Magersfontein, o Magersfontein! in 1977 het Stephen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse owerheid gedoen om die digter Breyten Breytenbach, wat in Leroux se eie woorde, "een van die grootste digters van ons taal" is, te begenadig. "Hy het sy apologia pro vita sua gelewer. [...] Selfs ’n verligte tronk kan die skaars mannetjie, genie, met blindheid slaan. ... Hierdie oproep van my is nie enig nie. Daarbenewens kan ons taal nie die verlies van ’n digter bekostig nie." (Oosterlig, 31 Maart 1977; Oggendblad 31 Maart 1977)

In 1978 het die Universiteit van Natal ’n eredoktorsgraad aan Stephen toegeken – die eerste Suid-Afrikaanse universiteit wat so ’n eer aan hom bewys het en die feit dat dit deur ’n Engelse universiteit gedoen is, het die koerante gehaal. In sy commendatio (6 Mei 1978) het prof JVO Reid gesê: "South African writing stands now at a critical moment when the profound writer sees a vision that clashes with what is acceptable to those who control the affairs of society. At such a time it is a fortunate nation that can produce a writer such as our honorary graduand who rises above local issues of time and place, and tells the age-old stories in modern language. [...] The instruments of the great writer are the passions of humanity, and in his hands they unite to form a theme whatever the clashing, the stridency or the singing."

Die Universiteit van die Vrystaat het in 1985 ’n eredoktorsgraad aan Stephen toegeken. Hennie van Coller het in Volksblad (26 September 1985) ’n huldeblyk gelewer waarin hy sê dat Leroux in bykans al sy boeke gestuit het op onbegrip van leserskant omdat hy die nate deurgaans versit het en verwagtings van lesers bly deurbreek het. "’n Deurlopende tema in Leroux se werk is sy morele afkeer van ’n moderne samelewing sonder ’n lewende mite, met ander woorde sonder lewende geloof. In die moderne tyd het die mens die rede (die intellek) in so ’n mate oorbeklemtoon dat die gevoelslewe verwaarloos geraak het."

Stephen se pa het ook ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat ontvang. In 1987 het Stephen sy derde eredoktorsgraad van sy alma mater, die Universiteit van Stellenbosch ontvang.

Stephen het in 1980 ’n eretoekenning van Grey Kollege in Bloemfontein saam met Morné du Plessis, Springbok-rugbykaptein, en regter M.T. Steyn tydens die skool se 125ste herdenking ontvang.

Perskor publiseer in 1980 twee bundels, Tussengebied en Tussenspel. Tussenspel is saamgestel uit vertellende stukke en kortverhale en Tussengebied bestaan uit beskouende stukke, lesings en tydskrifartikels. Die Perskorprys is in 1981 aan Stephen toegeken vir Tussengebied. Met die ontvangs van die prys het hy gesê (Die Burger, 14 Oktober 1981): "Dit is my boodskap vir alle uitgelese profete: indien dit jou werke is wat uiteindelik tel, indien jy uitsprake gelewer het wat op skrif gestel en op band opgeneem is, indien jy rondom jou werke gekoketteer het en met die media geflankeer het, hóú die kern van jou werke dig, hermeties verseël. Terg die leser. Dis my wyse raad. Die uitsprake van die Orakel van Delphi was ook ’n omseiling, en ’n twyngaring van die woord in sy slentergang op soek na die waarheid."

In 1982 met die viering van Stephen se sestigste verjaardag is twee huldigingsbundels, Beeld en waarheid en Die oog van die son op ’n onthaal in Kaapstad aan hom oorhandig deur onderskeidelik AP Grové en Charles Malan. Stephen het sy bedankingstoespraak afgesluit: "Die oomblik wanneer [die skrywer] ophou skryf, gaan hy dood. Wanneer laas het hy ’n boek geskryf? Leef hy nog? Sy enigste antwoord is dan: Daar lê baie boeke in my kelders. En as hy die dag dood is, en almal deur die spinnerakke hulle weg in die grafkelders gebaan het, dan vind hulle die bleekwit zombie met ’n pen in sy hand. Daar is niks op die perkament geskryf nie. Doen die skrywer ’n guns en slaan ’n skerpgemaakte wilgerstok deur sy hart. Daar is altyd die moontlikheid dat hy eendag weer by julle gaan spook, en sy pen in julle bloed sal doop!" (Die Burger, 29 Junie 1982)

Stephen se boek oor die smous, Onse Hymie, is in 1982 gepubliseer. Tydens die skryf van hierdie roman in 1980 het Stephen vertel dat hy geteister is deur luiheid om te skryf, karakters wat hand-uit ruk en probleme met die sensuurstelsel. Na die polemiek oor Magersfontein is hy maar lugtig om te skryf. Hy het erken "[d]it is nie vir my ’n groot vreugde om aan die roman te werk nie, want ’n mens weet nie altyd wat jy mag skryf nie. Sensuur maak dit vir my moeilik en daar is by onduidelikheid oor die beoordeling van werke." (Republikein, 7 Februarie 1980)

Hy het dit oorweeg om die roman so te skryf dat die laaste paar bladsye uitgeskeur kan word indien daar negatiewe kritiek oor die werk sou wees. Die roman het ’n plaaslike agtergrond en handel oor ’n smous. Hy het geen spesiale navorsing vir hierdie roman gedoen nie. Hy het gesê: "Ek wou al die jare oor ’n smous skryf. In sekere opsigte is hulle sulke eensame mense. Hulle is altyd op weg." (Volksblad, 26 Maart 1980)

Die eerste vonk vir die skryf van Onse Hymie was toe Stephen en Charles Malan in Charles se motor na Gordonsbaai gery het vir die Gildeberaad van 1977. Naby Drie Susters het die motor gebreek en Stephen was nie bereid om trein te ry nie omdat hy bang was vir die Swart Karoo se spoke (JC Kannemeyer, p 613). Hulle het in die kroeg op die dorp vir Flash Kruger ontmoet en dié het hulle genooi om saam met hom in sy kombi te ry.

Flash het saam met sy handlanger met plastiekware in die township gesmous en het vir Stephen en Charles beïndruk toe hy die "skarrelende klonkies met blink muntstukke soos gewyde water bestrooi" het – hierdie toneel het Stephen dan ook in Ons Hymie ingewerk.

Nog ’n vonk vir die skryf van Hymie was toe Graham Greene aan hom vertel het van ’n roman wat hy wil skryf "oor twee karakters wat in die Spanje van ná Franco op ’n pikareske ekskursie deur die land reis en waartydens hulle, feitlik as ’n reeks gelykenisse, sowel lughartig as sober, allerlei ervarings opdoen. Die twee karakters wou hy dan baseer op die matrys van Don Quijote wat, saam met sy agterryer Sancho Panza, deur Cervantes onsterflik gemaak is." (Norman Sherry: The life of Graham Greene IIII, Jonathan Cape, 2004)

Onse Hymie vertel die storie van die wedervaringe en omswerwinge en die dood in die Karoo van ’n Joodse smous. Die sentrale karakters in die roman is Hymie, Johannes Garies en die Belese Belgiese Vrou. Kannemeyer het geskryf (p 614) dat ’n klompie verskillende "gedaantes en werklikhede" in die figuur van Hymie betrek word.

Die kritici se menings oor Onse Hymie was hierdie keer nie oorwegend positief nie. In Die Vaderland (23 Desember 1982) het Elize Botha as volg geskryf: "Onse Hymie is entertainment in die trant van Graham Greene se romans, maar dan parodie deur Leroux op Leroux – totdat ’n mens dit herken as snelskrif, as ikoon, en dus as meesterlike kragtoer van die groot fantas: wat weer eens anderkant die flitsende ligte van sy vindingryke verhaal, die donker kamers van profesie al buitelend, al improviserend, ingebou het."

André P Brink (Rapport, 14 November 1982) was die volgende mening toegedaan: "Die ontmaskering van landsproblematiek is by tye skerp en en spitsvondig en Hymie die argetipiese dwaas wat in sy swerftog geen redding en bevryding vind nie, al het die teks nie genoeg lading om die leser met genoeg weerstande uit te daag nie."

"Die efemere verhaalgegewe (in Onse Hymie) dra net te swaar aan sy simboliese las," het Ia van Zyl in Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1983) geskryf. "Die rapiersteke van die satire wat na links en regs agter en voor uitgedeel word, probeer net in te véél rigtings gelyk raak te steek en verloor daardeur die geveg."

Al Stephen se projekte wat hy aangepak het, het nie altyd ’n suksesvolle uiteinde gehad nie. Só het hy in die 1970's saam met die fotograaf, Paul Alberts, begin werk aan ’n fotoboek oor ’n beeld van ’n tipiese Vrystaatse dorpie wat duidelik geskoei was op Koffiefontein. Stephen sou die byskrifte by die foto's doen.

Hierde teks is aan DJ Opperman vir keuring gestuur en hy het in geen onduidelike woorde nie sy misnoë hieroor uitgespreek: "Die basiese beswaar teen Leroux se teks is dat dit hoegenaamd geen intrinsieke waarde besit nie, geen inligting verskaf nie (en dus baie sleg afsteek by Abraham H de Vries se teks Die Klein Karoo) en slegs van belang is omdat Leroux dit geskryf het." (JC Kannemeyer, p 618)

Koos Human het nadat hy hierdie verslag van Opperman ontvang het, vir Leroux aangeraai om hierdie projek te staak – iets wat hy dan sonder teenstribbeling aanvaar het.

In 1983 word die erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring aan hom oorhandig en met die ontvangs spreek hy sy waardering uit vir hierdie eer aan "so ’n onhebbelike vent soos ek". (Volksblad, 19 November 1983)

Met Stephen se 65ste verjaardag in 1987 is ’n seminaardag deur die departemente van Afrikaans en Nederlands van die Vrystaatse en Potchefstroomse Universiteite aangebied in samewerking met die Stephen Leroux-navorsingsprojek van die Universiteit van die Vrystaat. Oor so ’n dag het Stephen hom as volg uitgelaat teenoor Irna van Zyl in De Kat van Augustus 1987: "Nee, eintlik doen so ’n dag my goed. Dit is sommer onsin dat ’n skrywer nie kritici nodig het nie. Wat jy sê, sê jy in ’n roman. Jy interpreteer nie – dis vir húlle om te interpreteer. Ek steek natuurlik goed weg in my romans en die lekkerte van so ’n dag is dat die boek nie ná die eerste of tweede uitgawe doodgaan nie."

Stephen was tot met sy dood boer op Ja-Nee. Bedags het hy geboer en snags geskryf. Hy het dit moeilik gevind om te skryf, maar was rusteloos as hy dit nie gedoen het nie en hy het gemiddeld twee jaar aan ’n boek gewerk. (Lantern, Augustus 1987)

Op vyftigjarige ouderdom het hy nog vir Koffiefontein se krieketspan diens gedoen op eerste glip en het hy "sulke hoë, stadige donkiedrops" geboul. Jy kon hom gereeld op ’n Vrydagaand in Koffiefontein se plaaslike hotel se kroeg met die een elmboog op die toonbank en sy donkerbril op vind. (Beeld, 11 Januarie 1986)

Bedags het hy die sonbril gedra omdat sy oë sensitief was en snags omdat hy nagblind was. Jy sou hom ook nooit sonder sy sigarette in sy hand vind nie – gewoonlik drie pakkies. Terwyl hy op die plaas rond gery het, het hy dikwels aan idees vir ’n boek gedink. Hy sou dan aantekeninge maak en dit in ’n klein sakkie gooi om later weer te gebruik. Sy boeke het altyd met hierdie aantekeninge begin en wanneer hy begin skryf het, het hy daardeur geblaai en dít wat hy klaar gebruik het, geskrap. (De Kat, Augustus 1987)

"Maar daar is geen vooraf beplanning nie. In ’n sekere stadium begin die boek vorm aanneem. Ek het slegs ’n vae idee in watter rigting die boek gaan. My romans is baie outonoom" – weer aan Irna van Zyl.

Chris Barnard vertel in Beeld van 11 Januarie 1986 dat op ’n vraag aan Stephen se boerevriende op Koffiefontein of hulle sy boeke lees, hulle so gereageer het: "Ons probéér, maar hy’s ’n bietjie slim vir ons. Jy sien, die ding is, ou Stephen kyk anders na die wêreld as ons ouens. Hy sal sit en lag oor goeters en dan weet nie een van ons wat is snaaks nie. Of ons gaan saam vendusie toe, dan skryf hy in sy boek oor daardie vendusie, dan lyk die hele vendusie anders. Dis daardie bril van hom. Dit laat hom allerhande aardige goeters sien."

In ’n huldeblyk met sy 65ste verjaardag het André Brink in 1987 in Rapport geskryf: "[D]it is ’n huldebetuiging aan ’n eienskap wat dié skrywer by uitnemendheid kenmerk: sy integriteit as kunstenaar. Op stuk van sake is dit wat mens met Stephen Leroux verbind: die indruk van ’n man wat verbete sy nagtelike vuurkolom bly volg het deur dekades waarin ieder bly woel het om verandering, sonder om hom òf deur modes òf enige ander oorweging behalwe die hartstogtelike geloof in sy eie gewete te laat voorskryf. Maklik kon dit nie gewees het nie, maar hy het déúrgeloop tot hier. En daar lê vir hom nog pad voor oop."

In ’n onderhoud met Jan van Tonder in Die Vaderland van 4 Augustus 1986 het Stephen erken dat hy sy eie gepubliseerde werke nooit weer lees nie – ook nie ander Afrikaanse skrywers s’n nie. "Dit gaan om beskerming van my eie skryfstyl." Sy boeke is van ’n hegte struktuur, nie maklik nie, is dig verweef met die mitologie. Maar hy hou van ’n hegte struktuur, daarom die inweef van die mitologie, en juis daarom, glo hy, sal die "gewone" leser deur iets in sy boeke getref word, al weet hy (die leser) nie wat dit is nie. Van Tonder eindig met die waarneming dat as daar kans was vir ’n Afrikaanse mitologie om te ontwikkel, sou "die hoogs gerespekteerde skrywer [...] dalk ’n verpersoonliking kon wees van een van die figure in so ’n mitologie: die skaam god in die swart klere."

Stephen se pa is in 1974 oorlede en sy ma, Bessie, op 21 Oktober 1989. Haar dood was vir hom baie swaar. En op 30 Desember 1989 het Stephen haar gevolg toe hy aan longkanker dood is. Hy is drie weke voor sy dood in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein opgeneem en word oorleef deur sy tweede vrou, Elizabeth, sy twee dogters, Cherié Collins en Helise Ashton, sy seun Stephen, ’n boer op Koffiefontein, en drie kleindogters. Ten tyde van sy dood was hy besig om te werk aan sy twaalfde roman, Die kaping. Sy begrafnis het plaasgevind vanuit die NG Kerk op Koffiefontein en die teraardebestelling op die plaas Wagenmakersdrift waar sy ouers ook begrawe is.

Huldeblyke het van oral ingestroom:

  • Koos Human: "Agter die donkerbril het die sagmoedigste twee groen oë geskuil wat met sy fynbesneë gesig die toonbeeld was van ’n minsame, sjarmante heer. Uiters korrek in sy optrede, ’n bedagsame gasheer en ’n sprankelende gespreksgenoot – dit was hy. Maar bowenal vir sy vriende ’n vriend en kameraad van wie ons die weerga nie maklik sal vind nie." (Beeld, 3 Januarie 1990)
  • ’n Koffiefonteiner in die Central op Koffiefontein die dag van sy begrafnis: "Hy het ons dorpie op die map gesit. Hy was ’n groot man." (Vrye Weekblad, 12 Januarie 1990)
  • JP Smuts: "Ons treur oor Stephen le Roux wat die onsienlike tegemoet gegaan het, maar ons is ook getroos omdat ons weet die stem van die storieverteller Stephen Leroux sal bly klink solank Afrikaans lewe en Afrikaans gelees word." (Beeld, 3 Januarie 1990)
  • JC Kannemeyer: "Die vriendskap tussen my en Stephen le Roux was vir my besonder verrykend, want naas die aangename ure in sy geselskap het dit my in die dikwels bisarre wêreld van Jung, heksery en vampiere ingelei wat ek sonder sy werk en sy gesprekke waarskynlik nie maklik sou leer ken het nie. [...] Met dit alles is hy die belangrikste romanskrywer van die Afrikaanse letterkunde en een van die heel weiniges wat op die gebied van prosa internasionaal met die literatuur van ons tyd kan meepraat. Ek is diep dankbaar dat my en Stephen se paaie so vroeg in my lewe gekruis het. Vir sy vriendskap van bykans dertig jaar staan ek by hom diep in die skuld." (De Kat, Maart 1990)
  • Chris Barnard: "Die onwaarskynlike het hom geboei. Die buitengewone. Die eksotiese. Ryk Eksentrieke mense. Onwaarskynlike situasies. En omdat dit hom aangetrek het, het hy klokslag in sulke situasies beland. Hy sou saam met jou in dieselfde doodgewone dorp inry, en vir hom gaan sigarette koop, en terugkom met ’n storie wat ewe goed deur Leroux geskryf kon gewees het." (Insig, Februarie 1990)
  • Charles Malan: "By dié van ons wie se lewens hy so ingrypend beïnvloed het, sal hy aanhou om in ons drome as die wyse ou man te verskyn. Ons sal altyd die tekens dra wat hy met die magie van sy intellek en die verbysterende insigte van sy derde oog gelaat het. Maar ons sal hom ook altyd onthou waar hy onbeholpe deur ’n onbekende wêreld beweeg, asof hy nie deur die bril kon sien nie, vroetelend met sy twee pakkies sigarette, sy strepsils en sy sakdoek. [...] Toe gaan hy dood. Selfs met sy dood het hy sy eie mite bevestig, hierdie man wat so met siekte en dood behep was dat hy soms spottend van ipekonders beskuldig is." (Die Suid-Afrikaan, Februarie 1990)
  • Alexander Strachan: "Daar was vir my van meet af aan iets mities rondom die figuur Stephen Leroux – die lang onversorgde hare wat mettertyd al hoe yler geraak het, die swart klere en die donkerbril waardeur hy na die wêreld gekyk het. Daar was iets aan Stephen Leroux wat my aan tyd laat dink het, en afgeleë plekke. Van agter die swart lense het hy dieper gekyk as die gewone mens, het hy in sy werk interpreteerder geword van die sosiale strukture waarin ons leef." (Vrye Weekblad, 12 Januarie 1990)
  • André P Brink: "Die blote nosie van die Oerteks, die Logos het verdwyn. Sy lewe insgelyks. Ook, wat my betref, in die mees persoonlike opsigte. ’n Beduidende moot van die baie wat ons deur baie jare gedeel het, is saam met hom weg omdat sy bewussyn daarvan weggeval het. Wat hy van my geweet, geken, onthou het, is saam met hom graf toe; wat ek van hom weet, ken, onthou, is nou sonder ’n ‘bestaande’ verwysingspunt. Ook dit het alles teks geword. Dit beteken ook [...] dat my verlies van Stephen ook ’n verlies van veel van/in mysélf is. En dit geld elke enkele mens wat hom liefgehad het, geken het, met hom te doene gehad het. Van niks kan ons wat agterbly nou meer heeltemal seker wees nie; nie eens – en juis nie – van wat daar in onsself bestaan of oorbly nie. [...] Maar, dit sou Stephen self – met sy sardoniese grynslaggie en sy wondbare oë verskans agter die donkerbril – teregwys, dit is juis waaroor dit gáán. Om óns daaraan te herinner dat niks en niemand voltooid of voltooibaar is" (De Kat, Maart 1990)
  • Elize Botha: "Leroux se betrokkenheid by mens en samelewing was dié van satirikus wat, in sy ontmaskering van menslike en maatskaplike verdorwenheid, skok en striem. Dit het die omstredenheid van sy werk veroorsaak, ’n omstredenheid wat telkens weer oorleef is. Daar is visioenêre en profetiese gehalte in die romans van Stephen Leroux wat die leser lei om die triviale, die tydelike te deurskou. Daarom sal steeds nuwe geslagte lesers vir die boeke van Stephen Leroux geskep kan word, daarom bly sy werk onvoltooid, bly dit leef. So sal ook die herinnering aan die mens Stephen le Roux bly leef. Sy ironiese, helder gees het vir ewewig en suiwering van oordeel gesorg. In die prys wat hy gestel het op vriendskap, wellewendheid en lojaliteit was hy geëerde mentor, geliefde kameraad." (Volksblad, 3 Januarie 1990)
  • Jan Rabie: "Elke jaar kon ons in Desember op Onrus bymekaar wees en nou moet die blikskottel van ’n Stephen by die Nuwejaar staan en weggaan, iemand vir wie ons almal so lief was." (Saamgestel deur Nic Swanepoel en uitgesaai deur die SAUK op 18 Januarie 1990)
  • Abraham H de Vries: "Ek onthou hom as die man met die swart broek en baadjie, die baard, die donkerbril en die weerlose blougroen oë. Hy was ook ’n Klein Karoo-mens, met iets van die kompromisloosheid van sy peetpa Langenhoven in hom. My seun het altyd van hom gepraat as die koning van die dwergies. Vir Stephen was dit een van die mooiste byname wat hy gehad het." (Saamgestel deur Nic Swanepoel en uitgesaai deur die SAUK op 18 Januarie 1990)

Elizabeth is op 26 Junie 1996 aan emfiseem oorlede en nadat sy veras is, is haar as langs Stephen op die klipkoppie op Wagenmakersdrift begrawe.

Voor die 300ste herdenking van die koms van die Hugenote na Suid-Afrika in 1988 het die lede van die komitee Koos Human genader met die versoek dat Stephen ’n roman moes skryf vir hierdie geleentheid. Hulle het ook beplan om ’n digter en ’n dramaturg vir bydraes te nader. Human was baie lugtig vir so ’n versoek omdat Stephen ’n omstrede skrywer is en dat hy hom nie sal neerlê by voorskrifte met betrekking tot die skryf van die roman nie. Die komitee het egter vir Human verseker dat hy die vryheid sal hê om te skryf wat hy wil. Stephen het lank oor die versoek nagedink en besluit om dit tog te doen.

Die aanvanklike titel van die roman was Die kaping en uit die 67 bladsye teks en 50 bladsye aantekeninge, het Kannemeyr (p 620) geskryf, kan ’n mens nie eintlik ’n geheelbeeld rekonstrueer nie, maar hierdie brokstukke kan tog vir die leser ’n beeld van Leroux se werkswyse gee.

Waarvoor Human bevrees was, het gebeur. Die komiteelede het hom versoek om vir Stephen te vra om tog maar "versigtig" te wees met sy woordgebruik en "om nie aanstoot te gee nie". Dit was dan ook die einde van Stephen se deelname aan daardie projek.

Hy het egter nie Die kaping heeltemal opsygestoot nie. Hy het nog tot voor sy afsterwe af en toe daaraan gewerk. Dit is in 1990 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman. Al die aantekeninge wat hy gemaak het tydens die skryf van roman, is saam met die roman gepubliseer in faksimilee, met ander woorde fotokopieë van Stephen se eie tikwerk en handskrif soos hy aan die manuskrip gewerk het.

Saam met Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman publiseer Human & Rousseau ook Magersfontein: die dokumente. Dit word as ’n huldeblyk aan Stephen gepubliseer en vertel die storie van die verbod op Magersfontein, die stryd om die verbod opgehef te kry en die dokumentasie daaromheen. Dit werp lig op ’n kritieke tyd en op sleutelfigure rondom die sensuurgeskiedenis in Suid-Afrika.

Na sy dood is Stephen se boekery, Hermes, sy tikmasjien en Mietjie, sy gelukbringerkopbeen wat hy op die plaas uitgegrawe uit na die Universiteit van die Vrystaat, waar dit deel vorm van die departement van Afrikaans-Nederlands se Leroux-projek. Koos Human van Human & Rousseau, Stephen se uitgewers, het ook al die dokumente wat betrekking het op die verbod op Magersfontein aan die universiteit geskenk.

Stephen is een van die skrywers wat nie na sy dood vergeet is nie. Hy het teenoor Pieter Fourie erken dat hy wens hy kon die karakter van Gert Garries in Magersfontein verder ontwikkel. Pieter skryf toe later die verhoogdrama Gert Garries – ’n Baaisiekel-babbelas wat in 2002 deur Marthinus Basson geregisseer is.

In Julie 2003 organiseer die Departement van Afrikaans-Nederlands van die Universiteit van die Vrystaat ’n Leroux-dag as deel van die Volksblad-kunstefees. Pieter Fourie was die hoofspreker en hy het gepraat oor sy verwerking van Die mugu tot dramateks. Ander sprekers was Elize Botha, Hein Viljoen, Jaco Fouché, Ingrid Winterbach en Stephen se dogter, Cherié. Die referate is later uitgegee in Stilet.

Willem Anker skryf in 2006 die toneelstuk Slaghuis – ’n donker, absurde stuk wat, volgens Anna-Retha Bouwer, nie vir die gewone teaterganger is nie. Dit is ’n gespook tussen Leroux en sy karakters en die karakters met mekaar. (Beeld, 29 September 2006)

In 2008 is die program Die onbekende Stephen Leroux wat deur JC Kannemeyer saamgestel is, as deel van die Woordfees op Stellenbosch aangebied. Sy graf waar hy saam met Elizabeth begrawe lê, is op die Horizon-toerismeroete.

In 2008 publiseer Protea Boekhuis in Pretoria Stephen se biografie, Leroux: ’n lewe, deur JC Kannemeyer.

In 2019 het Naln (Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum) ’n bespreking aangebied as deel van die Vrystaatse Kunstefees oor Etienne Leroux en sy betekenis vir vandag. Heilna du Plooy en Hennie van Coller was die deelnemers aan hierdie gesprek.

Tydens 2020 se Woordfees op Stellenbosch word ’n program aangebied getiteld Etienne Leroux: die man met die swart sonbril waartydens die digter Loftus Marais met Ingrid Winterbach en MC Botha sal gesels oor hulle konneksie met Leroux.

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Publikasies oor Etienne Leroux:

  • Grové, AP, red. 1982. Beeld van waarheid. Kaapstad: Human & Rousseau
  • Johl, Johann. 1988. Leroux-ABC. Krugersdorp, Sikelela Uitgewers
  • Kannemeyer, JC. 1970. Op weg na Welgevonden. Pretoria: Academica
  • Malan, Charles. 1978. Misterie van die alchemis. Pretoria: Academica
  • Malan, Charles, samest. 1982. Die oog van die son. Pretoria: Academica
  • Malan, Charles en Van Coller, HP, reds. 1983. Bronnegids: Etienne Leroux. Pretoria: Accademica
  • Malan, Charles en Van Coller, HP, reds. 1987. Vanweë die onbewuste. Pretoria: HAUM-Literêr
  • Van Coller, HP. 1980. Etienne Leroux as siklusbouer. Johannesburg: RAU (doktorale proefskrif)

Artikels oor Etienne Leroux beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Kannemeyer, JC. 2008. Leroux: ’n lewe. Pretoria: Protea Boekhuis

Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Etienne Leroux (1922–1989) appeared first on LitNet.

ATKV-Postmatriek – "’n geleentheid vir jongmense om uit te sorteer wat hulle met hulle toekoms wil doen"

$
0
0

ATKV-Postmatriek bied die ideale geleentheid vir jou wat 6 tot 7 weke beskikbaar het om jou CV te verbeter en emosioneel te groei. Remona Voges het met Lizette Odendaal oor die program gesels. 

Fotobron: Canva

Wat behels die ATKV-Postmatriek-program in ’n neutedop? 

ATKV-Postmatriek is ’n geleentheid vir jongmense om uit te sorteer wat hulle met hulle toekoms wil doen terwyl hulle aan ’n indrukwekkende CV werk, tonne blootstelling aan ’n wye verskeidenheid aktiwiteite en loopbaanrigtings kry, ’n gestruktureerde emosionele-intelligensie-program deurgaan en selfvertroue en lewensvaardighede opbou. Kortom – ’n jaar wat jou voorberei om kinderspeletjies te maak van die grootmenswêreld.

Wie sal aanklank by hierdie program vind? 

Enige 18–21-jarige jongmense wat nog onseker is oor die rigting wat hulle moet inslaan vir die toekoms, wat onseker oor hulleself is in die skielike grootmenswêreld, asook enigiemand wat wel seker is wat die toekoms inhou, maar net ’n breuk nodig het na 12 jaar se skool en iets anders wil doen voor die groot studies weer begin.

Hoekom is dit belangrik om veral in vandag se tye so ’n program te voltooi wat ’n mens help om te besluit wat jy regtig met jou lewe na matriek wil doen? 

Daar is ongelooflike druk op die jongmense vandag om al van ’n baie jong ouderdom af keuses te moet maak rondom hulle toekoms (loopbaangerigte vakke kies in gr 9 al), en met die huidige ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika, asook die groot werkloosheidkoers en die prys van studie, is daar nie meer ’n geleentheid om kanse te vat en foute te maak en voor te begin nie – dit kos te veel geld, of die geleentheid wat nie benut word nie, word deur iemand ander opgeraap. Hierdie program streef nie net daarna om hulle te help met loopbaankeuses en loopbaansekerheid nie, maar ontwikkel jongmense op alle gebiede van hul menswees sodat hulle ook in staat is om al die uitdagings wat die grootmenswêreld inhou te hanteer en as studente of jong werkendes in die arbeidsmag te floreer.

Hoe is die inhoud van die verskillende kwartale opgedeel? 

Die program is saamgestel sodat daar in elke kwartaal ’n gedeelte akademie is, ’n gedeelte avontuur, vaardigheidsontwikkeling, daaglikse emosionele groei en begeleiding deur personeel, en baie blootstelling aan nuwe en vreemde goed wat nie net selfvertroue bevorder nie, maar elke student se wêreld ’n bietjie groter maak in die proses om alles wat binne en rondom hulle gebeur vanuit ’n ander, objektiewe oog te beoordeel ten einde beter, meer ingeligte besluite te kan neem.

Kies mens een kwartaal, of kan mens meer as een kwartaal se program bywoon? 

Voornemende studente kan kies of hulle wil inskryf vir die jaarprogram wat strek vanaf Februarie tot November, en of hulle slegs vir een of meer kwartale apart wil inskryf volgens die tyd beskikbaar of die behoefte soos per kwartaalinhoud. Die inhoud van die program en die verskillende kwartale is beskikbaar by www.atkvpostmatriek.co.za en hulle kan my enige tyd kontak by lizetteo@atkv.org.za of 082 416 7217 indien hulle meer wil weet of vir ons wil kom kuier op ATKV-Drakensville om te sien wat ons doen en ons huidige studente te ontmoet.

The post ATKV-Postmatriek – "’n geleentheid vir jongmense om uit te sorteer wat hulle met hulle toekoms wil doen" appeared first on LitNet.

Hein Viljoen (1951–)

$
0
0

Gebore en getoë

Hein Viljoen is op 23 Maart 1951 in Pretoria gebore toe sy pa, ’n predikant, daar was vir ’n sinodesitting van die NG Kerk. Hulle het in Krugersdorp-Wes tussen die mynwerkers, arm en harde mense, gewoon, vertel hy in ’n biografiese skets aan Naln. Sy volle name is Hendrik Marthinus, vernoem na sy oupa en pa. Sy oupa is ook Hein genoem. 

In 1959 verhuis die gesin na Lindley in die Vrystaat waar Hein sy laerskoolloopbaan voltooi het. In 1964 is hulle na Potchefstroom. Hy woon die Hoër Volkskool by waar hy dan ook in 1968 matrikuleer. In sy matriekjaar begin hy gediggies soos limerieke skryf.

Verdere studie en werk

Ná matriek werk Hein vir drie maande in die Witrand-inrigting vir verstandelike gestremdes voordat hy met sy militêre opleiding op Potchefstroom begin. Hy voltooi sy militêre opleiding in Januarie 1970. Gedurende hierdie tyd studeer hy deur Unisa en voltooi sy eerste jaar vir ’n BA-graad.

In Februarie 1970 begin Hein sy universiteitsopleiding aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO en vandag Noordwes Universiteit). Hy verwerf in 1971 sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke.

In Desember 1971 tree hy en Rinie Kruger in die huwelik en drie kinders is uit die huwelik gebore. Hein gaan werk toe vir twee maande by die destydse Bantoe Administrasie in Carletonville terwyl hy wag om ’n beurs te kry om sy honneursstudie in Afrikaans voort te sit. Hy behaal sy BA Honneursgraad aan die einde van 1972 en Rinie verwerf terselfdertyd haar Onderwysdiploma.

Nadat hulle hul grade verkry het, trek Hein en Rinie na Pretoria waar hy in die vertaalkantoor van die Staatsdiens begin werk – as vertaler en versorger van onder andere staatskoerante, artikels oor "Ons groen erfenis", die delfstowwe van Suid-Afrika en kommissieverslae (soos die Schlebusch-verslag).

Tussen sy werk as vertaler skryf hy onder leiding van AP Grové ’n tesis getiteld Die anormalisering in die poësie van Breyten Breytenbach waarmee Hein sy MA-graad in 1975 verwerf.

Hy sluit hom in 1976 by die Universiteit van Pretoria aan as dosent in Afrikaans-Nederlands totdat hy in April 1978 na die PU vir CHO gaan. Einde September 1980 is Hein en sy gesin na Nederland vir verdere studie in algemene literatuurwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht.

Ná ’n "baie leersame en interessante verbly" keer die Viljoen-gesin in 1981, kort voor Kersfees, terug na Suid-Afrika en sit Hein sy werk as dosent aan die PU vir CHO voort. Hy maak ’n begin aan sy navorsing oor die Suid-Afrikaanse romansisteem in 1981. Die resultaat van hierdie navorsing is ’n proefskrif vir sy D Litt-graad (1985) getiteld Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981 wat in 1986 deur die universiteit gepubliseer is. Dit is ’n vergelykende studie van drie Suid-Afrikaanse romans waarin daar gebruik gemaak word van ’n stelselbenadering.

In 1984 word Hein oorgeplaas na die Departement Algemene Taal- en Literatuurwetenskap en in 1994 is hy weer terug by die departement Afrikaans-Nederlands. In 1986 word hy bevorder tot senior lektor, in 1987 tot medeprofessor en in 1992 tot professor. Hy word mettertyd vakvoorsitter van die vakgroep Afrikaans en Nederlands. Hy dien ook as direkteur van die Navorsingseenheid vir Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks. Sy navorsing is hoofsaaklik toegespits op die Suid-Afrikaanse letterkunde na 1980 en die Afrikaanse poësie.

Hein is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns waar hy op die Letterkundige Kommissie dien, die Maatschappij voor Nederlandse Letterkunde en die destydse Afrikaanse Skrywersgilde. Verder is hy voorsitter van SAVAL (Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap), wat hom ten doel stel om die studie van literêre teorie en vergelykende letterkunde te bevorder. Per geleentheid is hy gasprofessor aan die Universiteit van Antwerpen in België, waar hy ’n kursus in Afrikaanse taal- en letterkunde aanbied.

In 1981 terwyl hulle in Nederland is, hoor Hein dat sy bundel verse deur Perskor aanvaar is vir publikasie. Dit het egter eers in 1983 verskyn onder die titel Waterkristal.

In Woord en Daad van Januarie 1984 skryf Jan Swanepoel: "Die titel Waterkristal is ’n ietwat bedrieglike mooiklinkende titel wat nie die volle lading van die gedigte wat in hierdie versameling byeengebring is, dek nie. Die bekoorlikheid van hierdie bundel is geleë in die spanningsvolle saambestaan of dialektiek tussen die intellektuele en die sintuiglike en/of sinnelike."

"Die intellektuele aanslag maak homself op verskillende wyses kenbaar. Dit kan gesien word in die afstand wat die digter handhaaf teenoor dit wat hy verbeeld, in die 'koel oog' waarmee hy die menslike bestaan betrag. Dit word ook gemanifesteer in die opvallende spel-element in die bundel: ’n spel wat gespeel word met klanke, motiewe, konsepte en woordspel. Die intellektuele aanslag kan ook gesien word in die beheerste en gedissiplineerde versifikasie. [...]

"Die nie-intellektuele, die sintuiglike en direkte kan veral gesien word in die gedigte wat handel oor die liefde en die lyde. Die tweede afdeling liefdesgedigte en die sewentiende afdeling bevat dan ook van die beste gedigte in hierdie bundel, (byvoorbeeld 'Portret van die vrou as vugbaarheidsgodin', 'Viltwerk' en 'Lente-aand'). [...]

"Die uitreiking na die essensiële is ook te sien in ’n aantal religieuse gedigte, maar dié behoort - met uitsondering van 'Die profeet' - nie tot die sterker gedigte in die bundel nie. [...]

"Waterkristal is ’n verdienstelike bundel met ’n aantal goeie gedigte. Dikwels lê wat goed is nog in die fragment, maar daar is reeds in hierdie eerstelingwerk meer as genoeg bewys van digterlike vaardigheid."

Vir André P Brink (Rapport, 27 Maart 1983) is daar "enkele bekoorlike stemmingsoomblikke" in Waterkristal, soos die "vasvang van triestige verganklikheid" in "Na die Ou Iers" en die genoeglike "manier waarop hy ’n volledige vrugbaarheid oproep in 'Portet van die vrou as vrugbaarheidsgodin'" en enkele ander gedigte, maar dit is waar dit ophou.

"Origens is die gedigte meestal te yl van tekstuur, die stemminkies te vlugtig of te presieus, soms selfs sentimenteel. Was dit werklik gerade om in dié stadium al ’n bundel te publiseer? Te veel water en te min kristal."

Nienaber-Luitingh skryf in Volksblad van 9 Maart 1983 dat Waterkristal as titel heel paslik is vir hierdie bundel: "Viljoen se beste gedigte vertoon inderdaad iets van die helderheid en die geslotenheid van vorm wat deur hierdie woord gesuggereer word."

"Oor die algemeen is hierdie gedigte taamlik kort en vertoon hulle kort versreëls. ’n Dergelike digvorm vereis ’n ekonomiese en voldoende woordgebruik. En Viljoen slaag herhaaldelik daarin om deur middel van min, maar goedgekose woorde ’n bepaalde stemming en/of situasie op te roep of om ’n hele ontwikkeling saam te vat."

21 jaar na die verskyning van Waterkristal verskyn Hein se tweede bundel in 2003 onder die titel holtrom en groot kabaal.

In ’n onderhoud met Stephanie Nieuwoudt in Beeld van 12 Junie 2003 vertel Hein meer aan haar oor die titel holtrom en groot kabaal: "Eintlik staan die titel tussen die reëls ingeskryf in die gedig 'klankblurb' – tussen die pot en die klok was daar in ’n stadium ’n trom ook (dink ek). Die idee is maar dat die digter ’n soort hol ontvanger is van die lawaai wat die samelewing maak. Natuurlik maak hy sy eie soort kabaal ook, maar aan die ander kant is die digter se woorde in ’n samelewing waar die kuns en poësie klein en gering geag word, ook klein en gering."

Nieuwoudt wou by Hein weet hoe hy die bundel aan iemand sou verduidelik wat dit nog nie gesien het nie. Hein se reaksie was dat soos in meeste bundels die lewe, die liefde en die dood die hooftemas is. "Die gedigte is meer reaksies en minder persoonlik – op dinge wat die afgelope 20 jaar met my en om my gebeur het. Daar's liefdesgedigte in en gedigte van afskeid van geliefdes en oor die land en die politiek."

"As iemand wil weet hoe ek dink hy of sy die bundel moet lees, kan ek wel een leessleutel gee. En dit is: let op die ligwoorde en ligbeelde, want lig is nogals baie sentraal vir die bundel en wat dit beteken. Fotogevoelig was een titel wat ek oorweeg het."

Hein het baie van die verse in holtrom en groot kabaal in die buiteland geskryf en een van Nieuwoudt se vrae aan hom was hoekom hy lus kry vir skryf wanneer hy reis.

Hein antwoord: "Op reis is ’n mens uit jou gewone groewe en gewoontes uit en sien en ervaar jy ander dinge (en dinge anders) as gewoonlik – want baie goed pas by die idee dat die poësie daar is om die wêreld weer nuut en vreem te maak. ’n Mens het ook meer tyd – al die gesit in treine en dinge. Spesifiek my haat-liefde vir Nederland en die Nederlanders kom nogal in hierdie afdeling uit, dink ek. Eintlik behoort ’n digter elke jaar ’n lang reis te kan onderneem."

Die opskrif van Johann de Lange se resensie van holtrom en groot kabaal in Rapport van 7 Desember 2003 is: "Ná 20 j sou ’n mens meer groei wou sien" en hy sluit sy bespreking as volg af: "Hoewel holtrom en groot kabaal ’n hand vol goeie verse bevat, is die geheelindruk waarmee dit die leser laat dié van geforseerdeheid, van serebrale verse, of verse waarin die emosie nog nie verwerk is nie.

"Die invloed van Cloete is ook opvallend (die gebruik van wit spasies pleks van leestekens, die onoordeelkundige gebruik van enjambement), maar wat by Cloete tegniek is, word by Viljoen selde meer as maniërisme."

Andries Visagie is die resensent in Beeld (11 Augustus 2003) en hy skryf as volg: "Hoewel die titel van Viljoen se nuwe bundel taamlik onwelluidend is, gee dit tog ’n goeie beeld van die sowat 60 gedigte wat opgeneem is. Die titel laat ’n mens onwillekeurig dink aan die uitdrukking 'leë balies maak die meeste lawaai'. Keer op keer in holtrom en groot kabaal gee die digter uitdrukking aan sy stryd om deur middel van die poësie op ’n effektiewe en betekenisvolle manier te kan kommunikeer. Hy vermoed dat sy poësie ’n sinnelose kabaal is. [...]

"Tog weet Viljoen hoe om die 'holtrom' van sy digkuns op ’n besondere musikale manier te laat weerklink. Sy digbundel is ’n uitnodiging aan die leser om saam met hom op die maat van sy ritmiese gedigte te dans en te geniet. In 'graceland' en veral 'Swingin’ Gronigen' is dit moeilik om die ritmiese reëls stil-stil te lees sonder om met jou voete die ritme te begin volg.

"Die sensuele aanslag van holtrom en groot kabaal is nie net opvallend in Viljoen se verskeie gedigte oor musiek nie, maar ook in sy volgehoue verwondering oor die visuele effekte wat lig kan meebring.

"Die aanwesigheid van ’n bonatuurlike dimense word dikwels gesuggereer deur die onpeilbare kwaliteit van lig en dit is deur lig dat die digter bewus word van die geheimenisse van die skepping. [...]

"Dit is jammer dat Viljoen hom in hierdie bundel weer soos vroeër in Waterkristal ('Brief vir Breyten') besondig aan ’n skrille afrekening met literêre figure. In 'afskyt van mieke en maatjies" het hy onder meer die Nederlandse literatuurteoretikus Mieke Bal in sy visier. Anders as in sy afrekening met Freud en die psigoanalise, 'die interpretasie van drome', is daar in Viljoen se tirade oor Nederlandse literatore geen teken van kritiek wat die eng persoonlike oorskry nie. Sy 'ligte vloek' oor Bal en kollegas is ’n laagtepunt in holtrom wat verder ’n prettige en speelse bundel is en wat heel moontlik beduidende getalle lesers vir die poësie kan wen danksy die sterk emosionele gehalte en toeganklikheid van die gedigte."

In Literator (Augustus 2003) is Marthinus Beukes aan die woord oor holtrom en groot kabaal: "Met die titel holtrom en groot kabaal stel Viljoen die leser in op die geluidmatige. Soos met sy debuutbundel twintig jaar gelede waar die klem onder andere op die visuele waarneming geval het, is die instem op die sintuiglike meelewing van die oog en oor dit wat Viljoen digterlike wil verwoord in hierdie bundel."

En dan sluit Beukes af: "Wat die leser na die lees van hierdie bundel oorhou en sal onthou, is ’n handvol tonale gedigte wat sal nadreun in die hol trom, maar die groot kabaal van sekeres sal snel tot ’n klein tingel weg-eggo."

Daar het sestien jaar verbygegaan voordat Hein Viljoen se volgende bundel, Brisant, in 2019 by Naledi Uitgewers verskyn het.

Marius Crous (Beeld, 11 November 2019) beskou Brisant as soortgelyk aan Chris Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey (1971) waarin ’n baie ongelukkige amptenaar homself in sy dagdrome sien as ’n terroris. In Brisant maak ons kennis met Jan, ’n akademikus, wat uit weerwraak beplan om hom met geweld teen sy omstandighede te verset. Hierdie gegewe herinner vir Crous aan die film Falling down waarin William Foster die stad op horings neem nadat sy motor gaan staan het.

"Hein Viljoen bied hierdie gegewe in epiese vorm, nes TS Eliot, na wie hy in die gedig intertekstueel verwys. Daar word ook in gesprek getree met ander digters en van hulle tekste word ingeweef of in ’n ander idioom herskryf. [...]

"Die ontnugterde subjek van die lang gedig is ’n akademikus wat letterkunde doseer en ingelig word dat sy fakulteit tien poste moet besnoei. Hy troos hom daaraan dat hy heelwat navorsingsgeld ingebring het en hulle hom sal wil behou. Tussendeur wroeg hy ook oor sy verhouding met sy gesin.

"In die sogenaamde 'heilige halle van die letterkunde' word die 'wroegings van ’n dooie wit man gepreseveer' en as uitgeworpene wil hy hom wreek op diegene wat hom uitsluit. [...]

"In teenstelling met die bomobsessies in die res van die gedig word afgesluit met ’n kopknik na TS Eliot se vuursermoen – trouens die vuurmotief kom deurlopend voor. Eliot se Teems word nou getransponeer na Rietspruit en daar word sterk klem gelê op die grond, die modder en die transformerende en transmuterende krag van vuur.

"Anders as by Eliot waar die Boeddha waarsku teen ’n oorgawe aan aardse luste, is die klem hier op die paradoksale transformerende en vernietigende potensiaal van die vuur.

"Nes Jorik en Awater (van Marthinus Nijhoff) moet Jan sinvol probeer leef in die letterlike en figuurlike woesteny en myns insiens slaag Hein Viljoen heel goed daarin om dit te ondervang en te verwoord."

Op LitNet is Nini Bennett die resensent en sy skryf as volg oor Brisant: "Die hele bundel wemel van alledaagse vonke, vlamme en ontploffings, soos braaivleis(-vure), donderstorms, Coke of whisky wat 'brand' in die keel, ensovoort. Brisant eksploiteer hierdie detonatiewe drif op verskeie vlakke soos dit gestalte vind binne die siklus van geboorte, dood, Verligting, regenerasie, vrugbaarheid, inspirasie, pyn, martelaarskap, suiwering – of van vuur as die bemiddelaar tussen verskynsels wat verdwyn en weer verskyn. Die bundel is ryk aan intertekstualiteit, soos die gedeelte op bladsye 86–87 wat in gesprek tree met Eliot se 'The Sermon of Fire'. [...]

"Binne die postmoderne saamgesels van stemme, verwys Viljoen ook na die eksperimentele film The tree of life van Terrence Malick (61), en lewer kommentaar op die poësie van Breytenbach, Krog, De Lange, Hambidge, Slippers en HJ Pieterse (7).

"Aan samesweringsteorieë – reëel of denkbeeldig – ontbreek dit nie, en die bundel bied ’n ongewone en aweregse kyk op bleeksiele, staatspioene en ekstremiste wat te midde van ’n toondoof polities korrekte bestel hulself begin verset. Die epos lees vloeiend en maak mildelik gebruik van die uiteenplasingstegniek wat momentum gee aan die leeshandeling en soos ’n springveer die volgende versreël(s) voortsneller. Brisant beskik oor ’n goeie skeut humor, en die leser moet glimlag oor die eksentrieke akademikus wat met sy Camry rondry – ’n onwaarskynlike kandidaat as gevaarlike terroris. Een van die vele moontlike betekenisse van die gedig is waarskynlik die versugting na ’n suiwerende katarsis in die huidige sosiopolitieke bestel – of dalk die suggestie dat so ’n katarsis wel die een of ander tyd kan uitspeel."

Charl-Pierre Naudé skryf op Versindaba oor Brisant: "Brisant is by uitstek ’n teks wat die postmodernistiese styl se effekte nastreef: gelykstelling van die verhewe en die banale, byvoorbeeld. Die beplanners van ’n bomaanval, wat normaalweg met Moslem-ekstremiste of Afghaanse kleinboere verbind word, is hier akademici aan ’n universiteit. Daar is die gegewe van Aboobaker in die teks, geheimsinnig en nie heeltemal duidelik vir my nie. Maar hy staan op een of ander manier agter die bomplantplanne van die skynbaar regse sel te lande, as vergelding vir onder meer die moorde op Suid-Afrikaanse boere. Die implikasie is dat die Afrikaanse boer en die Islamitiese ekstremis dalkies nie te ver van mekaar te skeie is nie.

"Die verdere vermoede wat by die leser ontstaan is dat die spektrum oneindige redes wat gegee word vir geweldpleging, eintlik net ’n rasionalisasie is wat ’n onderliggende tragiek verswyg: dat die aanwesigheid geweld, op groot óf mikrovlak, deel is van ’n groter prentjie, buite die mens om, waarin die mens se eie kategorieë van platvloerse en verhewe nie meer bestaan nie en eintlik bo op 'geplak' is.

"Soos reeds genoem, is die teks indrukwekkend op die vlak van subteks en interteks. Dis op die storievlak wat daar probleme is.

"Die belangrikste interteks is ’n deel van The Wasteland, van TS Eliot, genoem 'The Sermon of Fire', waarin vuur deel uitmaak van ’n tema van verval. Maar hier word daardie eensydige siening juis aan die kaak gestel deur Viljoen se teks – op tipies postmodernistiese wyse.

"Om op te som: ’n Interessante, selfs boeiende teks, wat die bekende stylfigure van postmodernisme, soos die afwesigheid van sekere leestekens, nastreef – maar met bepaalde gebreke veral van die strukturele soort.

"Die heel laaste seksie in die epiek, is 'Ryk swartgrond die wêreld nuut'. Die swartheid van die ryk grond hang nou saam met vuur, en die teks eindig dus onomwonde as ’n aanvaarding van die vuur en bevrugting.

"Dit het baie interessante, dalk vir sommiges aanvegbare, implikasies vir sienings oor die huidige Suid-Afrika en sy probleme."

Publikasies

Publikasie

Die anormalisering in die poësie van Breyten Breytenbach

Publikasiedatum

1974

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Universiteit van Pretoria

Literêre vorm

Letterkundige kritiek (tesis)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Waterkristal

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628022778 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981: ’n vergelykende studie

Publikasiedatum

1986

ISBN

0869908618 (hb)

Uitgewer

Potchefstroom: PU vir CHO

Literêre vorm

Letterkundige studies (tesis)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Alkant olifant: ’n inleiding tot die literatuurwetenskap. Saam met Chris N van der Merwe

Publikasiedatum

1998

ISBN

062702668X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Literatuurwetenskap

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Holtrom en groot kabaal

Publikasiedatum

2003

ISBN

9781869190057 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brisant

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781928426660 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Hein Viljoen as redakteur:

  • In teen die groot vergeet: ’n bundel opstelle opgedra aan TT Cloete by geleentheid van sy sestigste verjaardag op 31 Mei 1984. Potchefstroom: PU vir CHO, 1984 [ISBN0869907689 (sb)]
  • Literêre terme en teorieë. Saam met TT Cloete. Pretoria: HAUM-Literêr, 1992 [ISBN 0798627077 (hb)]
  • Storyscapes: South African perspectives on literature, space and identity. Saam met Chris N van der Merwe. New York: Peter Lang, 2004 [ISBN 9780820467894 (sb)]
  • Beyond the threshold: explorations of liminality in literature. Saam met Chris N van der Merwe New York: Peter Lang, 2007 [ISBN 9781433100024 (sb)]
  • Crossing borders, dissolving boundaries. Amsterdam: Brill/Rodopi, 2013 [ISBN 9789042036383 (sb)]

Artikels oor en deur Hein Viljoen beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Hein Viljoen (1951–) appeared first on LitNet.

Inskrywings vir die ATKV-Woordveertjies 2020 nou oop

Elsa Joubert (1922–2020)

$
0
0

Sêgoed van Elsa Joubert:

“Die verste reis wat ’n mens kan onderneem, is van mens tot mens, deur die hart.” (Verste reis, 1958)

 “Dis ’n bedryf om te skryf. Ek kry nie bevliegings nie.” (Saffier, Augustus 1993)

Oor Poppie: “Maar dit was nooit my bedoeling om polemies te wees nie. Ek het ’n verhaal gehad om te vertel en dit wou ek so eerlik en boeiend as moontlik oordra.” (Bron onbekend, Maart 1990)

“Ek het grootgeword in ’n huis waar boeke baie belangrik was. As ons inpak om met vakansie te gaan, dan is die eerste ding wat ingaan ’n leeslamp vir elkeen. (...) As dit die slag vakansie is en ons is verveeld, dan het my ma vir my en my broer elkeen ’n oefeningboek gekoop en gesê: ‘Skryf nou elkeen ’n storie en kyk watter een is die beste’.” (De Kat, November 1988)

“Sonder Afrikaans is ek stom. ’n Taal word bedreig as hy nie meer die vanselfsprekende huis is waarin jy woon nie. So vanselfsprekend soos asemhaal.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Die geskiedenis bied ’n metafoor vir vandag sonder weerga. Jy krap nie in die verlede om sin van die verlede te maak nie. Jy probeer om, deur ’n betrokke gebeurtenis of persoonlikheid uit die verlede te verken, sin te maak van vandag. Dis al rede waarom jy skrywe. Dit, in elk geval, glo ek. Om sin te maak van jou vandag.” (Transvaler, 22 Mei 1989)

“Skryf is vir my soos ’n manier van lewe – vandat ek ’n kind was, het ek dagboek gehou en my ondervindings neergeskryf. Jy wil jou ervaring in woorde skryf. Dis vir my lekker om met woorde te werk. Woordeboeke is vir my leesstof. Toe ek my eerste betrekking as vroueredakteur kry by die destydse Die Huisgenoot (weliswaar ’n gans ander een as die huidige) het ek gedog: hier doen ek wat ek die graagste in die wêreld wil doen, en dan word ek boonop daarvoor betaal. Wat meer kon ’n mens vra?” (Insig, Oktober 2002)

“Ons hele lewe is ’n reis op aarde. ’n Mens reis en jy vind dinge uit oor jouself, maar dit is nie die reis wat op jou kaart staan nie. Jy sien, wat vir my so interessant is, is as jy jouself verplant in ’n ander omgewing, hoe anders jy dinge sien. (...) Dit is waarom reis vir my so ’n vormgewende ervaring was. Maar dan moet ’n mens liefs alleen reis – dat dinge vir jou, op sekere tye, swaar word. Dan is jy meer op jouself aangewys en jy ervaar baie helderder. (...) Ek het altyd gevind dat as ek reis, daar iets is wat spark. En in fiksie – al my romans: Die verste reis, Die reise van Isobelle, Die swerfjare van Poppie Nongena – is baie keer, nee, ís deur ’n reis gevonk. Ek is lief om reisverhale te skryf. Dit verruim ’n mens se leeswêreld: die oplees oor ’n plek, naspoor van inligting. Maar nie te veel vóór die reis dat jou gedagtes reeds in ’n gang is nie.” (Insig, Oktober 2002)

“Dit alles kon ek net in Afrikaans doen omdat Afrikaans met my wese verweef is. Gedagtes staan in my op in Afrikaans. Afrikaans is my avontuur en my vennoot. Sonder Afrikaans is ek stom.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Van jongs af was die geskrewe woord in my iets kosbaars. Al was dit net om ’n oomblik daarmee vas te vang – ’n klein wig teen die vervlietendheid in te slaan. Woorde het vir my ’n magiese kwaliteit – gedurig aan die verander, met nuwe skakerings van gevoel of betekenis wat bykom, intellektueel altoos aan die vibreer.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Om met woorde te werk is ’n ryk avontuur. Gedurig gaan nuwe vergesigte vir jou oop, nuwe verbintenisse met ander woorde laat newels voor jou wegskuif. Af en toe word aan jou gegun om vorm te gee aan iets wat tot daardie oomblik vir jou onbekend was, of nie bestaan het nie. En dan kom daar ’n verdere toegif – wanneer jy oor iets geskryf het, word dit op ’n vreemde manier jou eie. So het daar, toe ek oor my ervarings in Afrika begin skryf het, ’n nuwe verbintenis ontstaan met die vasteland waar ons woon. ’n Nuwe verbintenis met sy mense het gekom toe ek met die vrou op wie se lewe Poppie Nongena gegrond is, begin praat het en haar lewe in woorde probeer ontrafel en vaslê het.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“So het die geskrewe woord my ook gehelp om in ’n nuwe verbintenis te kom met myself, en met my  mense en my geskiedenis en ’n nuwe begrip daarvoor te kry, deur die skryf van Die reise van Isobelle.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Die Nuwe Suid-Afrika is eintlik ’n baie gemaklike land. Daar is ’n groot deksel afgehaal tot voordeel van ons musiek, kuns en drama. Hierdie nuwe bedeling bring egter sy eie sorge. Dit maak my hartseer dat Afrikaans oral afgeskaal word, maar ons probleme is nie uniek nie. In die Europese Unie is lidlande ook bekommerd oor soortgelyke uitdagings.”

“Ek het die skryf van ’n outobiografie ’n baie heilsame ervaring gevind. Na jare verbygegaan het, kyk jy terug op jou lewe en kry ’n klein tikkie insig oor hoekom jy destyds sus of so gemaak het. Jy sien stadig ’n patroon na vore kom; jy sien ten dele hoe die vóórkant van die tapisserie van jou lewe lyk, waar jy in die verlede slegs die onafgewerkte agterkant, die stukkies wol wat afgeknip is, raakgesien het. Dit word ’n ontdekkingsreis na jouself. Dit het ’n skoonmaakeffek op jou gemoed. Jy leer jouself vergewe; jy dink: dit was tog beter so.” (Beeld, 10 Maart 2012)

Oor reis: “Een van die hartseer dinge is dat reis vir baie mense beteken reisgroepe. En reis in groepe is nie reis nie hoor, dít is toeristies. Wat ek onder reis verstaan, is een lewe stopsit; jou wortels uittrek en dan toegerus met wat jy in jou het – dis ál wat jy het: wat in jou kop en in jou gemoed is ... en dán gaan jy op vreemde paaie. Álleen. Dis ’n swaar ding. Dis ’n moeilike ding." (Die Burger, 21 November 2009)  

Oor Afrikaans: “’n Gedagte of gevoel of situasie kom net in my tot stand deur Afrikaans. Ek kan nie in Engels kreatief dink nie. As ek nou iets moet sê van ’n boom en blare, is dit vir my ’n ander begrip as om te praat van ‘tree and leaves’. ‘Leaves’ is vir my heeltemal iets anders. Totaal iets anders. Dit is net … ánders; as ek dit gebruik, klink dit vals. Dit is vir my ’n herhaling van wat ek al alles in Engelse digters gelees het. Maar Afrikaans inkluseer, is dit die woord, eie gevoel in Afrikaans.” (Rooi Rose, Oktober 2002)

“Een rede waarom ek skryf, is om dinge vir myself te probeer interpreteer, om te besin daaroor, om dinge vas te lê. Die stroom van die lewe gaan so sterk en so vinnig verby. Deur woorde probeer ek ’n klein stroompie afkeer, ’n walletjie gooi, om te kyk hoe lyk dit as die water tot ruste kom.”

Hoe verander skryf (of die skryfdaad) haar as skrywer? “Dit verander my nie as skrywer nie, maar as persoon wel. Jy kry hopelik meer insig en begrip. Neem vir Poppie as voorbeeld: Ek is met haar vertellings ingedompel in ’n lewe en ’n gemeenskap wat ek op geen ander manier sou kon bereik nie.” (Rapport, 23 September 2018)

Gebore en getoë

Elsabé Antoinette Murray Joubert word op 19 Oktober 1922 in die Paarl in die Wes-Kaap gebore. Haar ma en pa stam albei van die Franse Hugenote af. Haar pa, WA Joubert, was hoof van die Onderwyskollege in die Paarl. Elsa gaan skool – vanaf sub A tot matriek – aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Sy behaal haar matriek in 1939.

In standerd drie gee Elsa haar eerste koerant uit en skryf sy gedigte in die “wonderlike Taal”. En so word die eerste saadjie geplant vir haar latere joernalistieke loopbaan. Net na die herdenking van die Groot Trek skryf sy ’n stukkie vir Die Burger oor “My grootste oomblik in die Ossewatrek” en slaan sy die tweede prys los.

Verdere studies en werk

In 1942 vertrek Elsa na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA-graad in 1942 behaal. In 1943 verwerf sy ook haar Sekondêre Onderwysdiploma aan die US. Sy gaan gee vir ’n jaar onderwys aan die Hoër Meisieskool Cradock in die Oos-Kaap voordat sy na die Universiteit van Kaapstad gaan vir haar Meestersgraad, wat sy in 1945 verwerf. Hier ontmoet sy Klaas Steytler, haar toekomstige man. Vanaf 1946 tot 1948 is sy vroueredakteur van Die Huisgenoot.

Maar die reisgogga pak vir Elsa en in 1948 reis sy vrou-alleen deur Afrika tot by die Nyl – iets wat in daardie dae amper ongehoord was. In 1957 word haar eerste reisverhaal, Water en woestyn, gepubliseer wat vertel van haar reis in Uganda en Egipte. Hieroor vertel sy aan Amanda Botha (Op Ou LitNet): “Ek het baie hard daaraan gewerk. Daardie boekie wat verskyn het, was seker ’n derde van wat dit was. Ek was so begeesterd oor die vroeë geskiedenis van die hele Afrika en met die ontdekkingsreisigers. Ek het baie tyd in die African Biblioteek in Johannesburg deurgebring om op te lees. Die mense wat daar gewerk het, het alles geken en my baie gehelp. Ek het baie aangename ure daar deurgebring. Toe probeer ek dit alles in die boek sit, en die uitgewers was geïnteresseerd in my indrukke en my beskrywings … en ek moes van al daardie geskiedkundige agtergrond ontslae raak. Die Nasionale Boekhandel, [George] Minnaar was destyds daar, het nie kans gesien om dit uit te gee nie. Hulle het gesê dit is te swaarwigtig, te swaartrillend … en hulle het dit teruggestuur. ’n Joernalis wat geweet het dat ek die boek geskryf het, het gevra of hy die manuskrip kon sien. Hy stel toe voor dat dit ’n baie meer hanteerbare boek sal wees en ’n baie groter mark gaan hê as ek al die geskiedkundige agtergrondsinligting uitsny. Ek willig toe in. Ek was lus dat die boek nou gepubliseer word. Dit verskyn toe by Dagbreekpers in Johannesburg. Vir daardie tyd was dit toe heeltemal ’n treffer gewees, baie voorgeskryf in die Engelse skole. Die Engelse onderwysers het gesê hulle is so bly om iets in Afrikaans te hê wat nie die boere, droogte of ’n geworstel met die kwaad/goedheid is of die verhouding van die pa/seun behandel nie.”

Die boek verskyn in ’n bepaalde politieke klimaat, apartheid was geformuleer, dis kort voor Sharpeville en ander woelinge, en dit het toe al vir Elsa binne ’n Afrikaner-gemeenskap geëtiketteer.

In 1949 reis sy en Klaas met rugsakke deur Europa en bly Elsa vir amper twee jaar daar terwyl sy vir die Verenigde Volke in Genève en die Suid-Afrikaanse Ambassade in Lissabon werk. Gedurende hierdie tyd voer sy ’n onderhoud met die burgemeesteres van die verwoeste Berlyn en saai die BBC dit uit. Hiermee verdien sy ’n stewige £25.

In 1950 trou sy met Klaas Steytler en vestig die twee hulle in Johannesburg, waar hulle vir vyftien jaar woon en Elsa self vir sewe jaar verbonde is aan die redaksie van Die Transvaler. Daarna trek hulle saam met hulle drie kinders (Elsabé, Henriëtte en Nicolaas) Kaapstad toe, waar sy vandag nog woon. Klaas is in 1998 oorlede.

Elsa skryf aanvanklik reisverhale soos Water en woestyn (wat ook in Braille oorgesit is), Die verste reis (1959) oor Wes-Europa, en Suid van die wind (1962) oor Madagaskar. Sy reis baie graag en wil dit wat vir haar treffend was, met ander deel. In 1964 volg Die staf van Monomotapa oor Mosambiek en in 1968 Swerwer in die herfsland oor hulle toer na Oos-Europa. In 2002 bel oudpresident Nelson Mandela vir Elsa met verjaardagwense en vertel haar dat Die staf van Monomotapa vir hom ’n baken was, want dit was die eerste keer dat hy kennis neem van ’n Afrikaner “wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart-wit regering in Suid-Afrika”.

In 1974 verskyn Die nuwe Afrikaan waarin sy die gebied Angola dek, en wat vir haar ’n logiese voltooiing is van ’n reeks reise wat sy as jong meisie reeds in Afrika onderneem het. Sy win haar inligting vir hierdie boek in tydens ’n besoek van vyf weke aan Angola, wat sy per vliegtuig, motor, Jeep en trein deurkruis en waar sy op haar eie versoek met mense op alle vlakke skakel. Elsa se laaste reisverhaal is Die gordel van smarag (1997), wat sy skryf nadat sy en haar man op die spore van die digter C Louis Leipoldt na Sumatra en Djakarta in Indonesië is. Elsa erken in ’n radiopraatjie dat sy in haar jong dae “nogal verlief op Leipoldt was”.

Elsa se eerste roman, Ons wag op die kaptein, word in 1963 gepubliseer en is in Angola gesitueer. Die roman ontstaan nadat sy gedurende 1961 ’n beriggie in Die Transvaler lees van twaalf mense wat op ’n plaas in Angola deur ’n bende vermoor is en hoe die “verhoor” van hierdie mense drie keer uitgestel is terwyl die bende “gewag het op die kaptein” wat oor die rivier sou kom. Die insident gryp vir Elsa geweldig aan en die raamwerk van die verhaal neem rondom hierdie berig gestalte aan.

Die uiteinde van hierdie gebeure verneem ons nie in die roman nie; dit word oorgelaat aan die leser se verbeelding, gelei deur afskuwelike tonele wat die einde voorafgaan en die moontlikhede wat daaruit ontstaan. (De Kat, November 1988)

In 1963 het Sarie Marais daaroor berig: “’n Merkwaardige verhaal oor die pro­bleme van ons tyd. Maar dit sou veel meer word.”

“In daardie slotparagraaf wat so ont­wykend oor die karakters se uiteindelike lot is, het Joubert die essensie van ons vasteland se problematiek vasgevang, so roerend, so meesterlik en onderbeklemtoon dat dit vandag nog net so swaar dra aan betekenis: ‘Die oë van die wagtendes word verblind deur die stof, sodat swart en wit, vasklouend aan die hek wat tussen hulle is, nie meer weet: hierdie hand is swart en hierdie een is wit nie’.”

Met hierdie roman ontvang Elsa ook haar eerste literêre prys, die Eugène Marais-prys in 1964 saam met Dolf van Niekerk. Die roman is in 1982 in Engels deur haar man vertaal onder die titel To die at sunsetOns wag op die kaptein is later ook in ’n toneelstuk verwerk.

Afrika is dié een groot inspirasie in Elsa se werke – nie net vir haar reisverhale nie, maar ook vir haar romans. Haar romans weerspieël die konfliksituasies in die geskiedenis van die kontinent. Na Ons wag op die kaptein verskyn Die Wahlerbrug (1969) en Bonga (1971). Vir Bonga ontvang sy die CNA-prys vir 1972 saam met PG du Plessis. Tydens Elsa se aanvaardingstoespraak by die ontvangs van die CNA-prys in 1979 pleit sy dat die Minister van Binnelandse Sake die groot aantal verbode werke deur swart skrywers van die vyftiger- en sestigerjare in heroorweging moet neem: “Veel van die politiek en protes in daardie werke is vandag – byna twintig jaar ná Sharpeville – hoewel nie irrelevant nie, reeds geskiedenis.”

En toe, in 1978, verskyn Die swerfjare van Poppie Nongena. Hierdie roman, wat ’n verhaal bevat wat aan Elsa persoonlik oorvertel is, het ’n ingrypende invloed op die Suid-Afrikaanse gemeenskap gehad wat al vergelyk is met die impak van Multatuli se Max Havelaar in Nederland. Poppie, wat handel oor die swaarkry van swart mense onder die destydse politieke bedeling in Suid-Afrika, ontvang drie toekennings in Suid-Afrika: die CNA-prys in 1978 en die WA Hofmeyr- en Louis Luyt-pryse in 1979.

Oor die ontstaan van die verhaal vertel Elsa op LitNet dat hoewel sy al baie lande in Afrika deurkruis het, sy by Tsumeb tydens die uitvlug van mense uit Angola in 1974, eers werklik besef het: “Ook in ons land weet ons mense nie. Selfs dié van ons wat op eie manier apartheid teëgaan en verafsku, weet nie diep nie. Op die diepste vlak is die swart en bruin mense se lyding, om ons, elke dag, vir ons nie bekend nie. Ek het gevoel ek wil hierdie onkunde afbreek, ek wil nie alleen vir myself afbreek hierdie onkunde wat lei tot nie-begrip en vervreemding nie, maar ek wil daaroor skrywe, sodat ander ook kan weet.” [...]

“Daar by Tsumeb het dit hard en duidelik tot my gespreek: nou moet my oë oopgaan, ek moet my eie land se mense in volkome eerlikheid leer ken. Apartheid het ons van mekaar weggehou, ek moes ten spyte van apartheid die grense afbreek.”

So het sy ’n landswye reis na die townships gereis – na Nyanga en Langa, Khayelitsha wat nog in aanbou was, ’n plakkerskamp wat gereeld platgestoot is, na Philippi, na Crossroads, ’n droewe plek, na Guguletu, na Nyanga East, na die Transkei en na Soweto.

En toe het Poppie oor haar pad gekom. Sy het drie dae ’n week by Elsa gewerk, vertel Elsa op LitNet: “Drie oggende ’n week sou ons die telefoon van die mik haal, na die spaarkamer gaan en met ’n mikrofoon voor ons, ’n uur of meer gesels. Natuurlik ’n wonderlike toegif en binding dat ons albei in ons moedertaal kon kommunikeer. Die gesprekke was van hart tot hart omdat daar geen taalversperring was nie.”

“Vir eers het ek haar gevra om net te vertel soos sy dit op die hart het, brokke en stukke van haar lewe, soos ’n mens maar aan iemand iets probeer oorvertel. Ek het die stukke uitgetik, dit op die twee beddens in die kamer uitgelê, die stukkies wat bymekaar hoort, bymekaar gesit, min of meer die tydsverloop deur herkenbare anekdotes, uitsorteer, die volgende dae die vrae in bepaalde rigtings gestuur, nog besonderhede, nog motivering, nog menslikheid probeer bekom. Dat sy van ’n grootouma Kappie, grootpa Fanie, kleinma Hessie, antie Lena gepraat het, het daarop gedui dat sy en haar mense ’n Afrikaanse verlede het. Sommige van haar uitdrukkings was na aan Hollands. As kind in die kroek van Upington het haar ouma vir haar en haar boetie Mosie berispe: Hou op met Afrikaans praat, praat Xhosa, die mense sal dink julle is Boesmans. Maar Afrikaans praat was vir ons die lekkerste, ja, sê Poppie.”

“Ek het haar ma, haar susters, haar broers, Plank en Hoedjie en Mosie, almal uiteindelik deur die wette Kaap toe gedwing, leer ken. Ons het jolige aande om my eetkamertafel deurgebring; hulle het so gesels ek kon later met moeite die deurmekaarpratery, die gelag, die stories van die band af tik.”

“Geleidelik het daar ’n patroon ontstaan, kon ek die fragmente op die twee beddens beter sorteer, ’n geheelbeeld kry. Ek was gegru deur wat die Stellenbosse professore later sou noem ‘die strukturele geweld’ waaronder sy moes lewe: ’n ysterharde, onvermurfbare struktuur wat haar daaglikse kom en gaan, haar kinders, haar huislike lewe, haar man se werk, beheer het. Waarvan ek, as huisvrou, wat daagliks met huishulp, met tuinhulp in aanraking is, geen snars van geweet het nie. Ek is gedryf om die boek so vinnig ek kon, klaar te skryf.”

In 1980 ontvang Elsa die Winifred Holtby-prys van die British Royal Society of Literature vir die beste streekroman in Engels vir die vertaling van Poppie in Engels, The long journey of Poppie Nongena. Elsa het die boek self in Engels vertaal. Sy word ook vereer met ’n Fellowship van die British Royal Society of Literature. Sy erken dat sy probleme ondervind het met die vertaling as gevolg van Poppie se taal wat ’n mengsel van Kaapsafrikaans en die Engels van die townships is. Elsa het die helfte van die outeursaandeel uit die verkope van Poppie aan die vrou by wie sy die storie gehoor het, gegee, waarmee die vrou vir haar ’n huis in die Transkei gekoop en vir haar twee kinders ’n opvoeding gegee het.

In 2005 word Elsa deur die Departement van Kuns en Kultuur vereer deurdat Poppie aangewys word as die beste prosawerk in Afrikaans. Dit haal ook die lys van die beste 100 boeke van die vorige eeu in Afrika. Oor hierdie eer gesels Elsa as volg met Amanda Botha op LitNet: “As ek terugkyk, was dit nie sommer ’n ‘flash in the pan’ nie … dat Poppie daar was nie. Dit was my hele werksingesteldheid wat daarop gerig was. Soos Elize Botha een keer oor my gepraat het, het sy gesê dat ek Afrikaners bewus gemaak het dat daar iets anderkant die Limpopo is. Dit was in die sewentigerjare. Toe was dit nog baie onbekend.

“Dit het vir my baie beteken, want dit was waarna ek eintlik onbewus na gestrewe het, om ander bewus te maak van die res van Afrika. Dit was vir my belangrik dat ons mense die boeke van Afrika moes lees. Daar is geen toekoms as ons nie ander mense ken nie. Om ander te sien soos hul hulself sien, dis belangrik. Sedert die sewentigerjare het ek dit op myself geneem om die Afrika-skrywers en -boeke hier bekend te stel. Ek het daaroor gepraat en ook gereeld in die koerante artikels daaroor geskryf. Ek wou veral Afrikaners in kontak bring met skrywers soos Chima Achebe, Wole Soyinka, Ngugi en ander. Dit was vir my so opwindend toe die lys boeke bekendgemaak word en dat ek so baie van die skrywers geken het en hul werk gelees het. Poppie is saam met Eugène Marais se Siel van die Mier (1934) die enigste Afrikaanse boeke op die lys. Met die erkenning van Afrika-tale op die lys en Afrikaans, naas Arabies, die eerste wat genoem word, het ek my meer as ooit gevoel dat ek nou hier – onder die skrywers van ons kontinent – tuisgekom het. Vir my is dit ’n stuk bevryding. Ek voel tuis in hierdie geselskap, veel meer so as toe ek byvoorbeeld deur die Royal Society of Literature in Londen erken is. Toe was ek ’n koloniale ‘peripheral writer’. Hier is ek nou in die hart van Afrika!”

Poppie word in veertien tale vertaal, onder meer in Frans, Duits, Nederlands, Hebreeus en Spaans. Saam met Sandra Kotzé verwerk Elsa die roman in ’n verhoogstuk en word dit ook in Engels vertaal. Tussen 1982 en 1984 is dit in talle lande op die planke gebring – by Off-Broadway, New York, die Edinburgh-fees, in Londen en San Francisco, Kanada en Australië. Dit verower die Olivier Award vir toneelspel in Londen se West End, asook die Obi Award vir die beste draaiboek in die Off-Broadway Theatre in New York. In Suid-Afrika is dit deur talle toneelgeselskappe in Afrikaans en Engels in al die groot stede opgevoer.

Elsa is saam met Klaas ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde en vanaf 1984 tot 1985 is sy ook voorsitter. Hulle aanvanklike motivering was antisensuur, maar later jare het hulle saam met ander lede van die Gilde Afrikaanse boeke en tydskrifte aan skole voorsien.

In 1985 is Elsa en Klaas na Suid-Amerika na die elfde Internasionale Boekeskou in Buenos Aires. Dit val saam met die publikasie van die Spaanse vertaling van Poppie, wat ook een van agt boeke was wat spesiale vermelding gekry het. Daarna lê hulle besoek af aan die “Boerenasate” in Argentinië en kry hierdie besoek beslag in die novelle Pampas, een van twee novelles wat in 2002 verskyn onder die titel Twee vroue. Tydens hulle besoek aan Buenos Aires bring hulle ook besoek aan die Argentynse skrywer Jorge Luis Borges. Op ’n vraag van Klaas sê hy dat hy altyd die begin en die einde van ’n verhaal het en dan net die middel invul. Sy self het nooit die einde nie: “As jy styf opgewen is, as jy in die regte sleutel is, moet jy dinge laat gaan. As jou probleemstelling sterk genoeg is, moet jy die einde van die verhaal, wat vanself kom, aanvaar.” (Die Burger, 19 Oktober 2002)

Ook een kinderboek verskyn uit Elsa se pen en op haar vier-en-sestigste verjaardag word ’n eksemplaar van Die vier vriende en ander stories uit Afrika aan elk van haar kleinkinders, Christiaan (5) en Elsa (3) Brink, oorhandig. Hulle was die inspirasie vir die opteken van die fabels wat sy teengekom het in haar navorsing oor Afrika en uit ou reisbeskrywings opgediep het.

In 1988 verskyn Missionaris, wat aan Elsa haar tweede WA Hofmeyr-prys besorg. “Missionaris was ná Poppie en ek was baie uitgeput. Soveel het gebeur: die Amerikaanse en Engelse uitgawes, die toneelstuk hier en op Broadway, in Edinburgh, Londen, Australië, Kanada … Ek het genoeg van daardie politieke situasie gehad. Ek het gedink ek gaan ’n veilige ding probeer. Ek wou aan die werk bly en het gedink om oor ds Van der Lingen van die Paarl ’n boek te maak. My oupa het hom geken – my oupa was ’n kind toe hy daar predikant was. Ek kry toe ’n boek oor daardie ds Van der Lingen in die SA Biblioteek. Daar was al oor sy lewe geskryf, maar daar was net ’n paragraaf oor sy pa, Antonie van der Lingen. Hy staan toe in my belangstellingsveld. Ek dink dit was ’n reisiger wat hom teengekom het daar in die verre Noordweste by die groot rivier. Hierdie rooigebrande, verlate Hollandertjie, wat nie weet watter kant toe nie, wou die Woord bedien aan die Griekwas. Dit was vir my in ’n neutedoppie die hele probleem – die Westerling in Afrika. Dit was vir my ’n fassinerende tema.” (Aan Amanda Botha op LitNet)

Sy begin Missionaris skryf om weg te kom van die destydse Suid-Afrikaanse politieke problematiek. Maar die ironie is dat hoe langer sy met Van der Lingen besig was, hoe meer het hy haar teruggelei na die hede. Want hy, soos sy, het gesoek om te verstaan. (De Kat, November 1988)

Elsa voel dat haar boeke deel is van die verkenning van die onsienlike. “Daar is altyd ’n soektog deur die vreemde nader aan wat essensie is,” vertel sy vir Amanda Botha in Rapport, 20 Oktober 2002. “Die doel om die vreemdheid af te breek, kom van vroeg af. ... Iets in my wou – en wil steeds – die onsiende versperrings afbreek.” Hierdie behoefte om die versperrings af te breek, kom dalk die sterkste uit in Missionaris. “Dit kom die naaste by wat ek wou sê.”

In 1990 begin die beplanning wat sou lei na Die reise van Isobelle wat in 1995 verskyn en waarmee Elsa die grote – die Hertzogprys vir prosa – in 1998 verwerf. Die reise van Isobelle is in wese ’n reisverhaal van ’n familie deur ’n eeu (aan Amanda Botha op LitNet). “Isobelle se oorsprong is baie eenvoudig. As dit nie reg gelê het om geskryf te word nie, sou ek dit nie geskryf het nie. Toe ek (in 1981) in Londen was, het Margaret Body van die uitgewer Hodder & Stoughton vir my en Klaas vir middagete geneem. Sy was baie opgewonde oor Poppie en sy sê toe dat ek die lewe van ’n swart vrou oor drie geslagte – dis haar ma en haar ouma en haar kinders in Suid-Afrika – uitgebeeld het, maar waar kom die wit mens van Suid-Afrika uit? Toe sê ek: ‘Ek belowe jou ek sal nog die epiese roman oor ’n wit familie in Suid-Afrika skrywe … daardie selfde goed in Poppie van ’n ander hoek deurgaan.’”

Baie van wat Elsa geskryf het oor die jong meisie, Agnes, se ervaringe in Afrika in Isobelle het sy self ervaar toe sy as 26-jarige alleen in Afrika gereis het en weergegee het in Water en woestyn.

Met hierdie verhaal het Elsa die storie gehad en haar navorsing was net om haar te vergewis van sekere feite. Die roman is drie keer oorgeskryf en vir Elsa is dit die hoogtepunt van haar skrywersloopbaan. Gewoonlik skryf sy slegs soggens, maar met Isobelle is haar middae ook in beslag geneem. Haar gunsteling-karakter, Belle, kom uit Die reise van Isobelle (Rapport, 20 Oktober 2002): “Die karakter wat my die naaste aan die hart lê, is miskien Belle, wat deur apartheid ondergaan. Die punt hier is nie dat sy ’n man in ’n kortstondige liefdesverhouding verloor het nie, maar dat sy haar plek in haar volk verloor het. Sy is van haar inlewing in haar volk beroof net soos sy van haar kêrel beroof was. Toe sien sy alles duidelik – die enormiteit van wat aangaan in haar land.” Isobelle word in Engels en Duits vertaal. In 1996 word die WA Hofmeyr-prys vir die derde maal aan Elsa toegeken – hierdie keer vir Die reise van Isobelle. Isobelle is in 2011 herdruk.

Elsa se eerste twee reisverhale is vir skole voorgeskryf – vir nie-Afrikaanssprekende kinders. Dit was weg van die droogte, die plaasstories en plattelandse karakters, is vir haar verduidelik. Die staf van Monomotapa (1964) is egter afgekeur oor die prentjie van die swart en wit dogtertjies, maar daar was later ’n nadraai aan die storie.

Elsa vertel aan Amanda Botha (Rapport, 20 Oktober 2002): “Die dag nadat ek uit die hospitaal gekom het (Oktober 2002 na ’n heupvervangingsoperasie), het Nelson Mandela my gebel. Hy sê hy het in ’n Kaapse koerant gelees dat ek die val gehad het en dat hy my beterskap wil toewens. Hy wil net vir my sê: ‘Jy is nie alleen daar nie. Ons is almal by jou.’ Dit was vir my merkwaardig. Hy wens my geluk dat Poppie op die 100 boeke (100 Afrika-boeke van die eeu) was. Ons het nog ’n rukkie baie lekker gesels en hy sê toe dat hy baie van my werk hou. Hy het my boeke in die tronk op Robbeneiland gelees. Ek was nie ’n verbode skrywer nie en hy kon dit dus lees. Madiba sê toe hoe baie Die staf van Monomotapa vir hom beteken het. Daarin het hy vir die eerste keer van ’n wit Afrikaner-vrou of -man gelees wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart/wit regering in Suid-Afrika. Hy sê toe spesifiek dat hy so ontroer was deur die foto van die klein swart en die wit meisietjie saam. Hy vertel dat toe hy sy vrou, Graça Machel, ontmoet het, het hy niks van haar land (Mosambiek) geweet nie, behalwe uit wat hy uit Monomotapa gelees het. Is dit nie ’n mooi storie nie … dat op hierdie ouderdom daardie ding nou vir my terugkom? En in ’n tyd toe ons ook baie geslote was. Al my ander reisboeke is een of ander tyd voorgeskryf. Maar daardie een het die uitgewer vir my spesifiek gesê dat die voorskryfmark het dit geweier omdat daar die prentjie was van die swart en wit kinders saam op die skoolbanke.”

Tydens die KKNK van 1996 word Elsa saam met André Brink vereer met die Afrikaans Onbeperk-toekenning. In die commendatio word gesê: “Haar grootste bydrae tot die kweek van goeie buurskap in ons deel van Afrika is Die swerfjare van Poppie Nongena. Dis ’n roman, dus per definisie fiksie, maar dit is net so sorgvuldig nagevors as haar reisverhale. Die leser kan hom nie in die aangesig van die onthutsende gegewens daaraan troos dat hy met fiksie te make het nie. Daar is waarskynlik geen ander boek wat so onweerlegbaar ’n mens-onterende sisteem blootlê as Poppie nie. ... Dat die verhaal hoofsaaklik deur die Afrikaanse Poppie vertel word, het die Afrikaanse literatuur en die Afrikaanse taal onmeetlik verruim en verryk.” (Die Burger, 23 Maart 1996)

In 2001 word Elsa deur haar alma mater (Universiteit van Stellenbosch) vereer met die toekenning van ’n eredoktorsgraad in die letterkunde vir haar uitsonderlike bydrae op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en vir die ingrypende invloed van haar werk op die samelewing. Die Universiteit van Pretoria vereer haar op dergelike wyse in 2007.

Die Afrikaanse Skrywersvereniging ken in 2001 die Patrick Petersen-gedenkprys aan Elsa toe. Hierdie prys verleen erkenning aan uitsonderlike bydraes tot die Afrikaanse letterkunde en gedenk die nagedagtenis van die digter Patrick Petersen wat in 1998 oorlede is. In 2003 ontvang sy die ATKV Prestige-prys vir haar volgehoue bydrae tot die Afrikaanse kultuur. Die Staatspresident vereer haar in 2004 met die Orde van Ikhamanga (silwer) vir haar letterkundige bydrae en haar vroeë betrokkenheid as skrywer met die Afrika-problematiek, asook vir haar bydrae tot die ontwikkeling van die joernalistiek in Suid-Afrika.

In 2005 ken die klub van studenteraadsvoorsitters aan die Universiteit van Stellenbosch hulle erepenning aan Elsa Joubert toe.

Tydens 2012 se Woordfees op Stellenbosch is Elsa aangewys as die Woordkunstenaar van 2010 se Woordfees vir Reisiger. In 2011 se Suidoosterfees in Kaapstad het sy saam met Hennie Aucamp en Abraham H de Vries opgetree in ’n program Drie legendes. Haar kortverhaal “Die sendeling se dood” is vir die verhoog verwerk en is tydens die Suidoosterfees en die Woordfees van 2011 op die planke gebring. Dit is saam met Hennie Aucamp se verhaal “When the saints go marching in” opgevoer.

Albei verhale is gedurende die apartheidsjare as “gewaagd” en “plofbaar” beskou, omdat dit raskwessies aanraak. Alhoewel nóg Joubert nóg Aucamp verhale met ’n beplande morele of etiese doel geskryf het, was dit onmoontlik om gedurende daardie jare onaangeraak te bly deur die omstandighede waarin hulle geleef het.

“Ek sê nou die dag vir iemand as ek oor ’n butterfly skryf, sal die butterfly seker per ongeluk in die verkeerde groepsgebied kom!” het sy aan Elsa Krüger (Beeld, 10 Desember 1988) gesê.

“Die dood van die sendeling” vertel die verhaal van ’n sendeling se weduwee wat graag wil hê dat sy bruin sendinggemeente die begrafnis in die moederkerk moet bywoon, maar die wit kerkraadslede is nie daarvoor te vinde nie. Wanneer sy dan besluit om die sendeling in die sendingkerk te laat begrawe, wil die bruin gemeentelede ook nie ’n blok aan die wit mense van die moederkerk afstaan nie.

In die verwerking van hierdie verhaal vir die verhoog het Lida Botha die rol van die sendeling se weduwee vertolk. Zane Meas, Denise Newman en Stian Bam was ook in die toneelstuk, getiteld Sendeling, te sien. Die VGK-koor van Eersterivier-Suid se sang het oor die verhoog opgesweef en die twee predikers in die toneelstuk het Bybeltekste in dramatiese beligting voorgedra.

Joubert se kortverhaal het die eerste keer in 1973 in Die Huisgenoot verskyn, maar dit was ’n stryd om dit gepubliseer te kry. “Mense het gedink dit is te plofbaar en hulle wou dit onderdruk.” Hennie Aucamp het egter gehelp met die kanonisering van dié verhaal, want hy het dit op ’n radioprogram waarvan hy die aanbieder was, gespeel en dit ook in die bundel getiteld Bolder uitgegee. “Dit was in die eerste plek ’n baie goeie verhaal,” het Aucamp by die bespreking gesê.

kykNET-Fiëstas het Elsa in 2012 met ’n goue beeldjie vereer vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns. Sy was ook een van die vroue op wie die fokus geval het in kykNET se reeks van 13 episodes getiteld Formidabele vroue. Daarin het die fokus geval op vroue wat ’n verskil gemaak het in Suid-Afrika.

In 2005 verskyn die eerste deel van Elsa Joubert se jeugherinneringe onder die titel ’n Wonderlike geweld by Tafelberg.

In die tydskrif Kakkerlak skryf die resensent dat ’n Wonderlike geweld in essensie ’n “karakterroman” is wat die vormingsjare van een van Afrikaans en Suid-Afrika se bekendste skrywers aan haar lesers bekendstel.

“Elsa Joubert groei op in ’n geborge omgewing, maar verlang terselfdertyd na ’n meer uitdagende lewe waarin sy haar kreatiewe talent tot uiting kan bring. Haar ouers speel hierin ’n kardinale rol: haar komplekse ma wat haar lewe probeer beheer, maar vir wie sy tog mettertyd begrip ontwikkel namate sy besef watter invloed die sterfte van ’n sussie gehad het en haar simpatieke en ondersteunende pa van wie sy soms skerp verskil. Boeiend is ook ’n verhouding waarin godsdiens, musiek, weemoed en erotiek saamsmelt in die verwarde gemoed van die jong meisie – dié met haar vioolonderwyser Herr Metzler.

“Die outobiografiese vertelling oorskou Joubert se Bolandse kinderjare, haar studie aan die Universiteit van Stellenbosch, haar ervaring as onderwyseres op Cradock, haar nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad en haar werk as joernalis by Die Huisgenoot. Totdat sy op 8 Maart 1948 as vyf en twintigjare op die dek van ’n skip – die diep, donker water onrustige onder die kiel – staan, in afwagting op ’n alleenreis deur Afrika.

“Dit is ’n verhaal wat met verstommende detail ’n bepaalde era in die land se geskiedenis uitbeeld, en daarby ook die wording van ’n skrywer. Met opwinding ontdek Elsa Joubert haar verbondenheid aan haar volk, maar ook die dwalinge van Afrikanernasionalisme. Die blywende beeld is dié van ’n vrou wat as kind reeds die drang na woorde ervaar, wat te midde van uiteenlopende invloede in die onstuimige tyd na die Tweede Wêreldoorlog haar onafhanklike stem as skrywer vind.”

In Rapport van 4 Desember 2005 het André P Brink ’n Wonderlike geweld  beskryf as ’n “vervelige, selfkoesterende en swakgeskrewe relaas wat liefs moes begin het waar die huidige narratief eindig: Elsa Joubert, in haar middeltwintigs, op pad om op haar eie deur Afrika en na Europa te reis.”

Maar op Ou LitNet verskil Desmond Painter baie van Brink. Vir Painter lê dit die “emosionele geografie van ’n Afrikaanse leefwêreld in die 1930’s en 1940’s” bloot die tydperk van “nasionalistiese uitbundigheid en konsolidering”.

“Die derdepersoon-perspektief waarin die boek geskryf is, word by tye afgewissel met dagboekinskrywings, wat tot die onmiddellikheid en emosionele intensiteit van die vertelling bydra. Soos JM Coetzee se Boyhood en Youth oortuig Joubert se boek eweseer as ’n roman, maar as ’n blik op ’n stuk kultuurgeskiedenis is Joubert dalk selfs meer oortuigend as Coetzee – dalk net omdat sy meer deelnemend en intens betrokke is by die wêreld wat sy beskryf, en minder kil en afsydig daarteenoor staan. (...)

“Brink se ‘who cares’-houding oor wat hier opgeteken is, berus op sy oordeel dat Joubert nie universeel genoeg omgaan met haar gegewens nie, dat sy vasgevang bly in die persoonlike en die partikuliere. Dit is egter juis die onherhaalbare, vinnig vervagende, maar steeds  selfs vir ’n veel jonger leser soos ek – bekende werklikheid wat hier beskryf word wat hierdie boek so ’n besonderse leeservaring maak. Wat Joubert regkry, is om ’n geskiedenis wat ’n mens van buite ken, meermale al opgeteken in boeke soos Hermann Giliomee se Die Afrikaners en etlike van JC Kannemeyer se skywersbiografieë, van binne te belig. En dit doen sy uitstekend. Die gewoontes, praktyke, ritmes en teksture van ’n gewone Afrikaanse lewe in die 1930’s en 1940’s word tasbaar, en die leser word asemloos deel van die emosionele opwellinge, vergesigte en irrasionaliteite van die era. (...)

“Eerder as dat haar verhaal nie ‘universeel genoeg’ is nie, bied dit die leser juis ’n insig in hoe een lewe, en haar unieke ervarings van grootword, gesinslewe, seksuele ontwaking, en dies meer, vervleg is met die veruniverselende, betekenisgewende narratiewe van ’n bepaalde tyd. (...)

“Joubert gee mens inderdaad ’n dieper begrip van die alledaagsheid waarbinne Afrikanernasionalisme en ’n bepaalde stel begrippe oor Afrikaans en Afrikaans-wees tot stand gekom het en genormaliseer is. Haar jonger self, ’n sensitiewe, emosionele en soms driftige jong kind en vrou, word die perfekte instrument vir Joubert om die verskuiwings, groot sowel as subtiel, in die Afrikaanse wêreld van haar tyd mee te registreer.

“Maar dit is nie net ’n verhaal van politieke ontwaking nie. Joubert skryf ook met groot sensitiwiteit oor die bietjie vreugdes en baie bemoeienisse van adolessensie; en soos ’n mens kan verwag, ontmoet die leser ook vele skrywers: haar latere man, Klaas Steytler, Leipoldt, Rykie van Reenen, Jan Rabie, en (my gunsteling-ontmoeting in die boek) ’n jong Etienne Leroux ... Ek wil nie sy manewales hier verklap nie; dus sal ek maar net sê dis regtig hoog tyd dat ons ’n biografie van Leroux te lees kry!

’n Wonderlike Geweld is ’n boek wat ryk is aan atmosfeer en teksture, wat die leser betrek by intieme en soms intense detail. Vir hierdie leser het die boek ’n amper hipnotiese kwaliteit gehad. Miskien omdat ’n mens weet waaraan hierdie dikwels onskuldige, onwetende alledaagsheid ook geboorte sou gee.”

Die tweede deel van Elsa se outobiografiese herinneringe, Reisiger, word in 2009 deur Tafelberg gepubliseer. In hierdie “outobiografiese bestekopname kry mens ’n binneblik op die wyse waarop die letsels van apartheid ons landskap versteur het tot dit wat ons vandag steeds aanskou,” skryf Melt Myburgh op LitNet.

In Reisiger word die besonderse band tussen Elsa en haar moeder onder die soeklig geplaas. Haar ma het 97 jaar oud geword het en haar verstand was tot die einde helder. In 1979 het sy op 88-jarige ouderdom meegehelp om Poppie in Engels te vertaal, vertel Elsa. Sy het ook op gevorderde leeftyd die belastingkantoor in die Paarl gaan wys op foute wat in haar opgawe gemaak is. Elsa self was nog nooit bang vir die ouderdom nie, alhoewel sy na twee heupvervangings bietjie sukkel. “Die liggaam is soos ’n ou kar. Maar binne jou kop het jy toegang tot dieselfde avonture van ouds, ten spyte van die liggaam se beperkinge.”

Met die skryf van Reisiger het sy opnuut onder die indruk gekom van hoe alles wat oor haar lewenspad gekom het, sinvol met mekaar verband hou: die reis langs die Nyl, na Madagaskar se sterwende woud, na die Portugese gebiede soos Mosambiek en Angola – elke onderneming het beslag gegee aan ’n volgende projek.

En deurentyd is sy gedryf deur die wil om feite na óns mense te bring. “Wit mense het nie besef daar moet rekening gehou word met die groot land ten noorde van ons nie. Ons mense se oë was tóé! In Tsumeb, met die Portugese vlugtelinge wat oor die grens gestroom het, het ek besef ek móét skryf oor my eie land.

“Ek was dedicated om die feite vir ons mense te bring. Wat is die woord vir dedicated nou weer?” Sy is nie tevrede met toegewyd nie en die begrip waarna sy soek, is eerder nader aan opdrag.

Die blootstelling aan die mense van Afrika en in Europa tydens die jong Elsa Joubert se vele reise het haar destyds laat besef hoe geslote die Suid-Afrikaanse samelewing was: “Ons was net vreeslik apárt! In ons land was die uitdagings feller, omdat ‘Apartheid te wetboek gestel’ was en mense onwillig was om verby die ‘colour bar’ te dink.”

Elsa se voorsate was Franse Hugenote en sy was te preuts om oor die tou te trap. Mens moet ook nie die Engelse Victoriaanse invloed onderskat nie – dis op dié manier dat die “colour bar” in die vesel van die Suid-Afrikaanse samelewing ingeweef is. Gelukkig het tye ingrypend verander. Die verhouding met Mahmoed waaroor sy so openhartig in Reisiger vertel, sou pre-1994 groot opspraak verwek het, terwyl daar nou geen haan na kraai nie.

Elsa se motivering met die skryf van hierdie twee outobiografiese vertellinge was ’n “diep begeerte om die lewe van ’n gewone wit vrou in die tweede helfte van die 20ste eeu op skrif te stel, binne die sosiale strukture van destyds. Nie ’n geskiedenis van dié era nie, net die geleefde ervaring van een mens. Laat dit dan my protes wees,” vertel sy verder aan Melt Myburgh.

“Een spesifieke vryheid het die outobiograaf: hy kan speel met tyd. Vooruitkyk was vir my taboe. Maar jy kan tyd vries en in minuskule detail ’n oomblik ondersoek, dan weer met ’n sprong vorentoe gaan.

“My doel was om die leser, as hy eers aan die lees is, saam met my te laat voortbeweeg. Niks verder gaan nie as wat ek beweeg. ’n Versoeking was byvoorbeeld om direk ná die Verwoerd-skietery verder te vertel dat hy ses jaar later in die Volksraad deur Tsafendas doodgesteek is. Ek kon dit nie doen nie. Ek sou daarmee die hele werklikheidsillusie van die oomblik deur dié stukkie agternawysheid heeltemal vernietig. Ek wou niks vooruitloop nie.”

Oor Reisiger skryf Naòmi Morgan (Volksblad, 10 Januarie 2010): “Dit is in die eerste plek ’n skrywersoutobiografie en die goue draad wat daardeur loop, is die stryd met woorde, die soeke na ’n eie stem en styl, ’n aktiwiteit wat eindelik die aftree-oord waarheen sy verhuis ná Steytler se dood, weer ’n bekende werk- en skeppingsplek maak en weer sin aan haar lewe gee. Die leser is verstom oor die besonderhede wat Joubert nog kan onthou, en haar vermoë om weer die stem te vind van die jong vrou wat ’n byna mistieke verhouding met Mahmoed, ’n tuberkulose-lyer, gehad het. Haar kennismaking met hom is ook die begin van haar lewenslange soeke na identiteit op die Afrika-kontinent – Mahmoed is, soos sy, nie oorspronklik van Afrika nie, en tog is dit hy wat die Afrika-bos vir haar ontsluit en magies maak deur sy pragtige verhale.”

“Joubert se liefdesverhouding met Afrika is ’n ander tema van haar oeuvre, die onderwerp van verskeie van haar romans en die bron van haar politieke oortuigings. Die kroon op dié Afrika-gerigte oeuvre was die insluiting van Die swerfjare van Poppie Nongena as een van die 100 beste boeke deur 20ste-eeuse Afrika-skrywers, en indirek die erkenning van Afrikaans as een van die tale van die kontinent.

“Taal is die skrywer se kosbaarste instrument, daarom is hierdie outobiografie ook ’n liefdesverklaring aan Afrikaans. Ander skrywers (soos Jaap Steyn in Hoeke boerseuns ons was) het ook al taal genoem as die hoofrede vir hul terugkeer na Suid-Afrika: ‘Waarom gaan ek terug? Omrede my taal, wat my medium is, omrede my gehegtheid aan die stuk aarde waarop ek gebore is, en, voel ek, omrede ’n gevoel van betrokkenheid, selfs verantwoordelikheid teenoor hierdie stukkie aarde’ (bl 60). Skryf is ’n manier van lewe, van insig verkry oor jouself: ‘Want die skrywer skryf eintlik vir homself, om oor vrae wat hom pla, waarvoor hy sterk omgee, te probeer helderheid kry’ (487). Dit is gepas dat Joubert se Afrika-ingestelde lewe die kringloop voltooi het: vanaf die ontdekking van die Afrika-bos op haar eerste reis die ‘donker’ kontinent in, tot die hoë bome wat voor haar venster in die aftree-oord groei en wat sy uit verskillende hoeke kan sien danksy spieëls wat haar ’n blik gee op die raaisel wat sy van boek tot boek eerlik en onverskrokke probeer oplos het.”

Naas Poppie is Missionaris die roman wat haar die naaste aan die hart lê, al het sy voorbehoude daaroor: “Dis te lank, die gebruik van die Nederlandse aanhalings sou ek vandag anders aangepak het.” Sy het in 2009 aan die Engelse vertaling van die boek gewerk, wat beslis meer vaartbelyn sou wees.

Miskien is die tegnologie wat so vinnig ontwikkel en hierdie wêreld in ’n globale voorstad omskep, die antwoord vir ons vrese oor die taal. “Al die verbindings is so maklik. Niks is meer afgeslote nie.” Die kleinkinders bombardeer haar juis oor die moontlikhede wat Facebook bied.

Die rekenaar waarop sy nou werk, is die derde of vierde in haar besit. “Ek het in die dae toe daar nog nie eens ’n muis was nie, al gewerk op ’n rekenaar.” Sy gebruik hom nou wél net as ’n “glorified tikmasjien”, maar die uitgewer Riana Barnard kom gereeld met “so ’n dingetjie wat lyk soos ’n sigaar” om manuskripte af te laai.

“Voor die oorgang in 1994 kon ons nog grappe vertel oor ons verskille; nou probeer almal dinge regmaak om korrek voor te kom.”

Sy is bekommerd oor so baie mense se stilswye oor kwessies soos misdaad en plaasmoorde. Mense probeer dit vergeet; wil dit nie beleef nie ... Om oor plaasmoorde te praat is soos om ’n faux pas in ’n geselskap te maak. Mense vermy die onderwerp, want hulle is te bang om dit in die oë te kyk.

“Ek was ontsteld oor die joernalis Chris Louw se selfmoord. Dit het my so geruk. Dis so ’n drastiese ding om te doen. Dis ’n baie simboliese ding met die AK47; alles is nie pais en vrede nie. Dit was so ’n desperate, significant daad. Vir wat was hy gatvol?”

Toe Elsa in Oktober 2012 negentig jaar oud geword het, het haar seun Nico (Volksblad, 17 Oktober 2012) onder andere geskryf: “Sy was in ’n ander wêreld (as die Sestigers), in ’n gesinshuis in Johannesburg waar haar skryfwerk sy plek moes vind in die ruimte van kinders grootmaak. Maar af en toe het die boheemse lewe van skrywervriende teen haar voorstedelike bestaan geskuur. In haar boek Reisiger bespeur ’n mens tog ’n verlange by haar as Jan en Marjorie met hul afdak-karretjie in Johannesburg by ons huis opdaag en hul vryheid ten toon stel.

“Dat sy wel die vryheid gesoek het, blyk uit haar reis na Madagaskar in die jare sestig. Pa hou huis terwyl sy die onbekende verken. Die tweespalt tussen gesin en vryheid kom ná baie jare weer na vore. My dogter verower as sestienjarige ’n plek om in ’n afgesonderde deel van Thailand in ’n dorpie ontwikkelingswerk te gaan doen. Sy kon nie wag om die nuus met haar avontuurlike ouma te deel nie. Ag nee, my hartjie, dis te gevaarlik! kom die onverwagte en, vir my dogter, teleurstellende reaksie. Hoekom wil Ouma nie hê ek moet gaan nie? 

“Miskien lê die antwoord in die liedjie wat sy altoos met haar kleinkinders uitgevoer het. “’Hansie slim, berg wil klim, in die wye wêreld in, stok en hoed, pas hom goed, hy is vol van moed. Maar die moederhart is seer, Hans is in die huis nie meer. Hoor nou net, Moeder sug, Hans is gou-gou terug.’ Die ouma het die avonturier getroef.

“Maar ’n Sewentiger was sy by uitnemendheid. Binne die kring van Afrikaanse skrywers vind sy ’n geborgenheid – die Skrywersgilde. Met die kinders uit die huis vind sy en my pa ’n kring vriende van Afrikaanspraters, teen-sensuurpraters, lekkerpraters. Dit gee vir haar ’n bevryding van die bevange dampkring van die tradisionele Afrikaner-wees. 

“Die dinamika tussen skryf en gesin word ook gekarteer in haar werkruimte. In ons huis in Johannesburg werk sy in die sitkamer: haar lessenaar in die boogvenster, die Remington-tikmasjien en papiere netjies weggepak wanneer ons van die skool af kom. Nie ’n teken van skryf nie, hoewel sy later beken dat sy notas op die agterkant van ’n sigaretdosie maak terwyl die kinders aan ’n swemgala deelneem.

“Met die skuif Kaapstad toe in die 60’s, na Belvederelaan 35, bly sy steeds aan ’t skryf in die sitkamer op dieselfde klein lessenaartjie, nou op ’n elektroniese tikmasjien, terwyl my pa die weelde van ’n eie studeerkamer kry. Weer maak sy haar lessenaar elke middag skoon wanneer kinders en later kleinkinders huis toe kom. Dis eers met die skuif na Belvederelaan 29, dertig jaar later, dat sy ’n werkkamer van haar eie kry. 

“Toe sy die huis ná my pa se dood in 1998 moes opgee, betrek sy ’n woonstel in Berghof, ’n aftreekompleks. Ewe skielik was die wêreld van twee vertrekke te klein, geen plek vir haar ou lessenaar nou met ’n rekenaar daarop, geen ruimte vir gedagtes nie, vir stories om hul loop te neem nie. Toe as tagtiger, nou chronologies, bekom sy nog ’n vertrek oorkant die gang wat sy as werkplek omskep vir haar boeke, papiere, foto’s. Dáár kan sy skryf. Daar speel sy ook wegkruipertjie met haar ál groter wordende kleinkinders. 

“Nou as negentiger wag die studeerkamer nog elke dag vir haar. Daar is nog stories om te skryf. Daar is nog stories om vir die kleinkinders te vertel, soos nou die dag – tot hul skok en plesier, die storie van hoe hul ouma op ’n Nyl-boot met Skotse skeepsoffisiere flankeer. 

“Die skrywer én die ouma is altyd daar.”

Amanda Botha wou weet of Elsa gedryf word deur ’n tema of deur ’n boodskap. Elsa reageer: “Daar is altyd ’n bietjie verwardheid oor boodskap en tema. Ek hou nie van die woord boodskap nie, want ’n skrywer moenie ’n boodskap hê nie. Hy is nie ’n predikant nie. Klaas het altyd vir my gesê: ‘Jy is nie op ’n preekstoel nie’. ’n Boodskap is die laaste ding wat jy moet bring. Die keuse van jou tema is alreeds ’n boodskap. Byvoorbeeld, toe ek gekies het om oor Poppie te skryf … toe was die boodskap mos nie in wat ek daaruit haal of te vertel het nie. Die boodskap is die hele tema waarin ek besluit het om my in te verdiep. Die boodskap is al klaar jou tema, jou tema is al klaar jou boodskap.”

Oor die skakeling tussen haar reisverhale en romans sê Elsa aan Botha dat elke roman sy kiem in ’n reisverhaal het. Die twee stories in Twee vroue (2002) het albei uit reise ontstaan. “Pampas” speel af in Patagonië en is gebaseer op ’n reiservaring wat sy en Klaas in die St Katherina-klooster in die Sinai-woestyn gehad het. “Dit is iets wat jou daar prik en daardie ding bly by jou. Jy wil dit verwerk. Want ek vind dat as ek reis, is ek oper vir situasies waar ek ’n probleem of iets kan sien wat ek kan ontgin. Die Wahlerbrug (1969) was direk uit ’n ervaring wat ek gehad het in een of ander museum in München. Bonga (1971) was direk beïnvloed toe ek oor die aringa (nedersetting van die Massangano aan die oewer van die Zambezirivier) gevlieg het. Ons wag op die kaptein was direk beïnvloed deur die mense waar ek gebly het in Lissabon toe ek by die Ambassade gewerk het in die maande voor my troue. Die Laaste Sondag (1983) kom direk uit ’n besoek in Angola.

Poppie – ja, Poppie (Die Swerfjare van Poppie Nongena, 1978) – kom ook uit ’n reisverhaal. Ek het gedink ek het te veel oor ander lande geskryf en wou reisverhale in ons eie land skryf. Ek het met navorsing begin. Ek het na al die tuislande gegaan; ek is na Langa, Nyanga, Gugulethu. Ek het daar gegaan na skole, ek het na kore geluister, na die hof gegaan waar die ma’s vir onderhoud vra, en na die paskantore gegaan. Ek het dit alles gedoen met die doel om ’n reisverhaal in ons eie land te skryf. Ek het gevoel ons weet nie wat om ons aangaan nie. Ek wou probeer om die sluier te lig van wat net tien kilometer van ons in Kaapstad aangaan. Ek was in Soweto, ek was orals. En toe ontmoet ek vir Poppie … en ek besluit om rondom haar ervaringe ’n storie te doen. Maar dit was ook direk uit my kennis van wat ek vir ’n reisverhaal voorberei het. Almal sê dat ek so gelukkig was dat die vrou spesifiek na my toe gekom het. Dit was nie ’n geval van geluk nie; ek was reg vir haar. Ek het al die inligting al versamel gehad. As sy iets sê, het ek geweet waarvan sy praat. Ek het die hele toneel gesien, want ek was in daardie kantore. Ek het by die kommissie wat die 1976-onluste ondersoek het, se sittings ingesit. Ek het my huiswerk gedoen gehad.”

Oor die vrouekarakters in haar boeke sê Elsa dat hulle meestal soekend is. “Net Poppie nie. Sy is die sterkste van almal. Sy soek nie. Sy moet net haar familie laat oorleef. In só ’n situasie word die vrou sterk. Dalk lê Belle (in Die reise van Isobelle) haar die naaste aan die hart. Belle wat ondergegaan het deur apartheid. Party mense sê hulle weet nie hoekom sy so ondergegaan het nie ... ná ’n liefdesverhouding na drie of vier dae nie. Die punt was nie net dat sy daardie man verloor het nie, maar ook dat sy haar hele plek in haar volk verloor het. Sy het eintlik haar inlewing met haar volk ook verloor. Sy was beroof van haar volk net soveel as wat sy van hom beroof is. Toe sien sy alle dinge duidelik en sy sien die enormiteit van wat aangaan in haar land.”

In ’n mate is dit ’n toespeling op Elsa self, aangesien sy reeds in die veertigerjare ook in ’n mate haar volk verloor het. “Ek is baie lief vir Afrikaans. Afrikaans is vir my baie belangrik … geweldig belangrik. Maar ’n mens kan nie Afrikaans en volk gelyk stel nie.”

In haar werke het sy twee manlike hoofkarakters geskep, naamlik Bonga en Van der Lingen. Teenoor Amanda Botha twyfel Elsa of sy ’n moderne man sou kon uitbeeld, “maar hierdie Bonga was … ek het sy milieu, sy probleem en sy situasie so goed geken. Ek het gevoel dat ek daarin kon opgaan. Ek het ook gevoel dat ek in Van der Lingen kan wees. Ek het natuurlik sy briewe en sy dagboek gehad. Ek het gevoel ek is in hom. Phil du Plessis kom een Woensdagmiddag kuier. Toe ek die deur oopmaak, vra hy: ‘Wat makeer jou, hoekom huil jy?’ Ek sê: ‘Van der Lingen is nou net dood.’ Jy weet toe is hy nou net dood. Ek was heeltemal, ja, heeltemal verweef met hom. Die twee mans … by Bonga was dit die situasie van geestesgoedere wat die meesterras nie wou deel met die ander nie en hoe dit tot albei se vernietiging gelei het. Dit was die toespeling. Toe, snaaks, ek het eers probeer om hierdie hele tema in Suid-Afrika te probeer afspeel. Dit het glad nie gewerk nie. Ek moes dit ver weg geplaas het. Die missionaris was ook ’n idee gewees, dit was ’n ideëroman van hoe die Westerling, die Hollander, aangepas het met sy geloof, sy lyf en met alles in hierdie dorre Afrika …”

In 2018 verskyn die derde deel van Elsa Joubert se outobiografiese tekste getiteld Spertyd. Die aanvanklike titel was Doodloopstraat. By die bekendstelling van Spertyd in Berghof waarheen Elsa verhuis het, spreek die redakteur van die boek, Etienne Bloemhof, sy bewondering uit vir Elsa Joubert se ongelooflike intellek. (LitNet)

“Langs die pad is daar een of twee klein hobbels, soos die uwe wat dink die teks is bestem om (soos enige ander) deur die normale redigeringsprosesse te gaan ... totdat mevrou Steytler my gedurende die eerste informele werksessie vriendelik dog ferm daarop wys dat die struktuur van die boek, met sy lange paragrawe, min interpunksie, die aaneenloop van gedagtes, ens, baie doelbewus beplan was om te illustreer ‘hoe deurmekaar ’n ou mens se gedagtes raak’. Die bewussynstroomtegniek, oftewel dit wat my vriend die joernalis Erns Grundling noem ‘die amperse James Joyce wat Elsa gedoen het’, en wat nogal groot uitdagings aan die uitlegkunstenaar, die proeflesers én redakteur Bloemhof gestel het, werk egter soos ’n absolute bom, en dit beklemtoon hoe interafhanklik, hoe onlosmaaklik, hede en verlede is, hoe assosiatief ’n mens se gedagtes.

“En met watter verstommende intellek het ons nie hier te make nie! Nie alleen sê Spertyd meer as byna enige ander boek wat ek ken oor die oudwordproses nie, maar – en dit sê die skrywer self – ‘Dis eintlik ’n boek oor die menslike bestaan.’ Om die flapteks aan te haal (want ek reken dis een van my beter oomblikke): ‘Dit bied nie alleen helder insig in die skrywer se lewensbeskouing nie, maar nooi ten slotte elke leser uit om diep na te dink oor sy of haar eie bestaan.’ En dít sonder enige sweempie van sentimentaliteit; trouens, mevrou Steytler het dit – vriendelik dog ferm – geveto toe ek een van my gunstelingwoorde, ‘deernis’, in die blakerteks wou inspan.

“In ’n jaar wat gekenmerk word deur groot boeke uit NB-Uitgewers se stal – ek dink aan dié van Etienne van Heerden, Eben Venter, Karel Schoeman, Marlene van Niekerk, en ja, ook Jacques Pauw – is Spertyd ’n publikasie waarop ons geweldig trots is. Dit is ’n belangrike boek wat een van Afrikaans se gróót geeste se reputasie opnuut bevestig. Klokhelder. Dit is ook ’n boek wat vir my en Solette Swanepoel die bevrediging bied – so hoop en vertrou ons – dat ons darem niks gedoen het om die indrukwekkende inhoud skade aan te doen nie!

“Ek vermoed Spertyd is ’n boek wat vir velerlei lesers ’n velerlei verskillende dinge gaan beteken. ’n Ryk boek wat baie verskillende invalshoeke kan akkommodeer. Net vanoggend skryf Erns Grundling byvoorbeeld aan my: ‘Waarvan ek veral hou is dat Elsa Joubert nou eers besef al haar boeke – romans en reisboeke – het gegaan oor die storie van die onderdruktes, die gemarginaliseerdes ... Op ’n manier is Spertyd dalk ’n voortsetting hiervan. As ’n mens dink aan bejaardes se uitdagings, hoe hulle uitgeskuif word in die samelewing ...’

“Hierdie boek is een wat homself by uitstek nie maklik laat inperk of kategoriseer nie. Ek dink dadelik aan die heerlike humor rondom StomJapie (die loopraam op wiele) of die amper burleske beskrywing van ’n groot ete saam met medenegentigjariges. Dan is daar die sober, deurtastende blik op maatskaplike en ander baie belangrike sake. En dan weer die sjarmante blik op ’n intieme gesinslewe ... Ek dink nie dis vergesog om te sê nie: dis ’n belangrike boek wat veel sê oor hoe dit is om in Suid-Afrika te lewe.

“Mevrou Steytler het nou al by ’n paar geleenthede genoem dat sy nie meer die energie het om op reis te gaan nie. Maar uiteraard ís Spertyd ’n reisboek ... oor die binnereis, ‘om die ouderdom as ’n kontinent te verken ...’ Bowenal is dit ’n geskenkboek – dit is ’n geskenk aan alle Elsa Joubert-aanhangers wat by die lees van dié boek opnuut sal besef, wel, presies hóékom hulle Elsa Joubert-aanhangers is.”

In sy resensie op LitNet skryf Chris van der Merwe dat hoewel Spertyd beskou kan word as ’n vervolg op ’n Wonderlike geweld en Reisiger, dit ook ’n teks is wat op sy eie bene kan staan. “Dit handel oor die belewing van ’n hoë ouderdom, maar die ouderdom is verstrengel met die verhale van vroeër. In die afsluiting van haar lewe is ’n ganse leeftyd opgeneem.

“In haar resensie in Rapport (26 November 2017) wys Louise Viljoen daarop dat die woord ‘spertyd’ verskillende betekenisse kan hê. ‘Spertyd’ dui op tyd wat verbygaan, op ’n taak wat betyds voltooi moet word. ’n Mens dink aan die Engelse woord ‘deadline’, wat vir hierdie boek baie relevant is, want die dood is hier die finale sperdatum. Dit speel ook mee in die titel van die eerste hoofstuk, ‘Doodloopstrate’. Viljoen wys egter daarop dat ‘sper’ ook etimologies met ‘wyd oopmaak’ verband hou; dink maar aan ‘oopgesperde oë’. Ook dié betekenis is hier van belang, want Spertyd is ’n boek oor sowel die afsluiting van die lewe as dinge waarvoor die oë in die laaste lewenskof oopgaan.”

Van der Merwe sluit sy resensie af: “Spertyd is ’n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ’n verskeidenheid van emosies. Dis ’n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is.”

In rooi rose (5 Februarie 2018) vergelyk Willie Burger Spertyd met Karel Schoeman se boek oor oudword Slot van die dag wat postuum in 2017 verskyn het. “’n Mens kan byna nie vermy om hierdie twee outobiografiese beskouings van die oudwordproses deur twee belangrike Afrikaanse skrywers, met mekaar te vergelyk nie. Een van die vernaamste verskille tussen Schoeman en Joubert is dat Joubert kinders en kleinkinders het.

“Soos Schoeman, skryf Joubert sonder skroom oor die verlies wat hoë ouderdom meebring (...). Sonder om sentimenteel te raak, sonder om selfbejammerend te wees, beskryf Joubert in Spertyd hoedat ’n ouerwordende mens se wêreld al meer ingeperk raak, dat ’n mens ‘met vermindering op elke terrein0’ leef. Maar dan vra sy haarself af wat die ‘seën van ’n geseënde hoë ouderdom’ dan sou wees. En sy antwoord: ‘Wat hier met helder ligte uitstaan, is jou kinders’. (...)

“Om te skryf is ’n manier om ervarings weer te bedink, om betekenis aan alles te kan gee. Joubert het haar lewe lank geskryf om haar bestaan in hierdie land te begryp. Sy doen dit steeds in Spertyd. Haar ‘agternaloop met woorde’ bied vir haarself insigte en gee sin aan haar al meer ingeperkte bestaan. Sy beskryf die inkrimping op nugtere manier sonder om haar aan ’n verlammende nostalgie of moedeloosheid oor te gee. Sy probeer steeds nuwe sin gee, nuwe dinge leer al is dit hoe om sinvol met haar afgetakelde liggaam om te gaan. En omdat sy steeds wil leer en oop is vir nuwe maniere van verstaan, is Spertyd nie so pedanties en negatief as Schoeman se Slot van die dag nie.”

Op Woorde wat weeg is Joan Hambidge eweneens beïndruk met Spertyd. “Spertyd sit vol vinjette wat vir die leser en Joubert-liefhebber sleutels gee tot haar sosiale gewete. Dit is ’n boek waarin die skrywer hardop dink, onder andere oor taal. Sy nuanseer telkens haar gevoelens. Enersyds is sy krities oor die Afrikaner se groepdenke (met Afrikaans wat nou ook in die spervuur is); andersyds weet sy Engels is die wêreld- en kompertaal. Sy is wel ’n taalpatriot, bely sy, en maan ons om eerder die klein erfie wat jou toebedeel is, te bewerk (128).

“Daar is herhalings wat te make het met die sirkelgang, met herbesoeke, met hardop-dink. Vriendskappe word beskryf (Audrey Blignault, Rita Scholtz, Annari van der Merwe, die taxi-bestuurder …) en die belangrikheid van haar kinders en kleinkinders – en natuurlik: haar man, wyle Klaas Steytler, ’n onderskatte skrywer.

“Wat Elsa Joubert skryf oor die behoud van boeke, moet ons almal ter harte neem. Hoe boeke (regte boeke) vertroos. Sy verwys na ’n boek uit 1926, Sahara, en hoe onmoontlik dit sou wees om hierdie boek op elektronies te lees. Hoe boeke om haar staan, wegraak, asemhaal, ja dit kan ’n mens nie vergeet nie.

“Eweneens boeiend, is die verhouding met haar liggaam en siekte; die agterbaksheid van die liggaam. Dan is daar ’n sterk besinning oor stilte wat in ons almal skuil. Boeiend, prikkelend, sensitief …”

In 2018 ontvang Elsa Joubert die kykNET-Rapport-niefiksieprys van R250 000 vir Spertyd.

“Hulle sê jy sak terug na jou wortels wanneer die winde van tyd jou liggaan en jou gees begin skeeftrek,” is die eerste sin van die commendatio vir bogenoemde prys (Rapport, 23 September 2018). Die beoordelaars het verder geskryf: “Spertyd is deels tragikomiese beskrywing van die lewe in ’n gegoede Kaapse aftreeoord met ’n aantal van Kaapstad se kulturele en intellektuele elite – skrywers, uitgewers, kunstenaars – as hoof- en bykarakters. Dit is ’n merkwaardige meditasie oor oudword in die stem van ’n beleë skrywer; dit lees gemaklik, onderhoudend. Joubert beskryf die kil afdraand van die dag in helder, soms humoristiese, deurgaans deernisvolle taal [...]. Die vertelling is egter nóg anekdote nóg klaaglied – Joubert gebruik haar fyn, self-relativerende waarneming van die alledaagse as ’n vertrekpunt vir die bepeinsing van meer universelse bemoeienisse [...].”

In Mei 2020 is Spertyd weer bekroon – hierdie keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie daaraan toegeken het.

In Mei 2020, midde-in die COVID-19-pandemie, rig Elsa Joubert ’n brief aan haar huisdokter, Hans Woermann, as deel van ’n pleidooi aan die regering en president Cyril Ramaphosa om beheerde besoeke deur familie aan inwoners van aftreeoorde moontlik te maak.

Sy skryf: “Ek is self in die 90 en daar is iets wat my diep hinder. Menslik gesproke is ons in die laaste weke en maande van ons lewe. En ons wat in tehuise of inrigtings bly, hoe wonderlik ook al, is totaal van ons familielede afgesny.”

“Daardie kloppende verbintenis tussen ouer en kind, vir elke kind eenmatig, vir elke ouer iets individueel, is uitgeskakel. Hierdie unieke persoonlike  verbintenis is  baie belangrik. Dit word uitgestuur van en na ouer en kind, na albei kante. Al is jy nie bewus daarvan nie. Al gebeur dit onbewustelik. Kinders word by die deur weggewys. Vrae help nie. Dit is teen die wet om enige besoekers te ontvang. Ek kwyn daaronder. Telefone en video's en Skype en vele meer help, maar dit is nie genoeg nie. Dis ook dieselfde. Werklike verbintenis gaan veel dieper.”

Die versoek is nie toegestaan nie en op Woensdag 3 Junie 2020 het Elsa Joubert siek geword. COVID-19 is op 6 Junie by haar gediagnoseer en sy is die volgende dag in die Mediclinic naby haar blyplek opgeneem in ’n saal vir COVID-19-pasiënte. Hier is sy om ongeveer 15:00 op Sondag 14 Junie oorlede. Sy laat haar seun, Nico, en twee dogters, Elsabe en Henriëtte, agter.

Huldeblyke:

  • Nico Steytler, haar seun: “My ma se siekte en dood is ’n groot skok. Al was sy baie oud, was sy so vol lewe.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Etienne Bloemhof van NB Uitgewers: “Ek is geskok oor haar dood. Toe ek saam met Solette Swanepoel van Tafelnerg Uitgewers die publikasie van Spertyd meegemaak het, het ek onder die indruk van Elsa Joubert se ruimheid van gees gekom. Ook van haar verbysterende intellek en haar groot nederigheid. Die gawe van breed en stip kyk, dit was hare. Om werklik aan haar nalatenskap reg te laat geskied, daarvoor ontbreek die woorde helaas.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Christiaan Olwagen, regisseur van Poppie Nongena: “Wat haar so merkwaardig gemaak het, is dat sy ’n intellektuele reus was, maar ook ’n gewone vrou. Sy was hierdie groot gees in ’n klein lyfie. Sy was ’n ongelooflike mens. Ek was bevoorreg om haar te ontmoet.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Marita van der Vyver: “Spertyd vir Elsa Joubert. Dit word ’n nare, nare maand vir legendariese Afrikaanse vroue wat skryf. Sy was ons almal se voorloper. Ek voel verlore vanaand.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Willie Burger: “Elsa Joubert het lewenslank aangehou om die onbekende uit te daag – ook toe haar wêreld al meer ingeperk geraak het, het sy tot op 94-jarige ouderdom in Spertyd daaroor bly skryf, steeds gemoeid met die spannings wat alleen deur vertellings opgelos kan word. Sommige ander skrywers verwoord ook die spanning tussen Afrikanerwees aan die een kant en skaam wees aan die ander kant, sommige met meer woede en skaamte, ander met meer lojaliteit en trots.
  • “Joubert neem ’n mens in haar oeuvre, veral in Die reise van Isobelle, op ’n omvangryke reis deur die geskiedenis en ontstaan van hierdie spanning, soos geen ander werk nie. Sy wakker die trots aan en skeur dit weer pynlik los, daarom bly Joubert ’n reisgids tot ’n ander bestaansvlak, deur die hart.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Eloise Wessels, hoof van NB Uitgewers: “Elsa Joubert was a pioneer, she was ahead of her time. She successfully reached her own people with her political message  something that evaded other Afrikaans writers. Apart from the cultural and political dimensions of her work it also carries a powerful human element. (Netwerk 24, 14 Junie 2020)
  • Anroux Marais, minister in die Wes-Kaap regering: “The Western Cape and South Africa have lost another big voice in the literary world with the passing of writer Elsa Joubert. Elsa Joubert played a major role in opening narrative spaces for the stories of women in South Africa. Her groundbreaking novel, Die swerfjare van Poppie Nongena, told the story of the complex relationship between women of different races living under the Apartheid era. With this work, she brought a very important political message to her audience. She was a woman of strength in Afrikaans literature who continued to publish many works and was also awarded with the Hertzog prize. Poppie was also recently adapted to a movie and received high praise for the story which still resonates with audiences today.” (https://www.westerncape.gov.za/news/minister-marais-mourns-loss-literary-giant-elsa-joubert)
  • Ena Jansen: “Dit was so ’n voorreg om Elsa Joubert te kon ken. Soos familie is ˄ grootliks geïnspireer deur Poppie Nongena se verhaal en deur haar uitstekende kortverhaal “Agterplaas”.” (LitNet)
  • Tyrone Pretorius, rector and vice-chancellor of UWC: “One of my fondest gifts was a signed copy of Ms Joubert’s book (Poppie Nongena). She had a close affinity to the University. Apart from her son, Nico, working at UWC, she held the University very close to her heart and was on occasion even a guest lecturer here. She was very supportive of UWC and had a personal relationship with our former Rector and Vice-Chancellor, Professor Jakes Gerwel, as they both were renowned literary figures.” (https://www.uwc.ac.za/News/Pages/Tribute-to-Ms-Elsa-Joubert.aspx)
  • Isabeau Steytler, kleindogter: “Ek en my broer, Nicolasi, was bevoorreg om ons ouma naby ons te hê in ons grootwordjare. Sy het so baie vir my beteken. Sy was altyd liefdevol en ondersteunend. Soos wat ek groter geword het, het ons verhouding verander. Sy was steeds liefdevol, maar ons het lekker gesels en oor verskeie onderwerpe gedebatteer. Sy het my mening gerespekteer en my ernstig opgeneem. Dit was wonderlik om met so ’n intellek en verstand te kommunikeer.” (Die Burger, 17 Junie 2020)

Publikasies:

Publikasie

Water en woestyn: ’n reis deur Afrika van die oorsprong van die Nyl tot by sy mond

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1960
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verste reis

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Suid van die wind: die verhaal van drie eilande

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1965
  • 1968
  • 1969
  • 1970
  • 1974

ISBN

062400435X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons wag op die kaptein

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1968
  • 1971
  • 1973
  • 1977
  • 1979
  • 1980
  • 1981
  • 1982
  • 1983
  • 1985
  • 1986
  • 2005 (Klassieke Uitgawe)

ISBN

  • 0624004120 (hb)
  • 0624009696 (hb)
  • 0624021769 (sb)
  • 0624042715 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1964

Vertalings

Engels vertaal deur Klaas Steytler 1982

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die staf van Monomotapa: reisjoernaal oor Mosambiek

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Swerwer in die herfsland

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1972

ISBN

0624002861 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Wahlerbrug

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Bonga

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1976
  • 1985

ISBN

  • (hb)
  • 0624022277 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

CNA-prys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die nuwe Afrikaan: ’n reis deur Angola

Publikasiedatum

1974

ISBN

0624005739 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die swerfjare van Poppie Nongena

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1979
  • 1986
  • 1993
  • 2000

ISBN

  • 0624011984 (hb)
  • 0624023338 (sb)
  • 0624123757 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1978
  • Louis Luyt-prys 1979
  • WA Hofmeyr-prys 1979
  • British Royal Society of Literature Winifred Holtby-prys 1980

Vertalings

  • Engels vertaal deur die outeur 1980, 1981, 1985
  • Frans vertaal deur D Petillot 1981
  • Spaans (Buenos Aires) vertaal deur Y Salvá 1981
  • Duits vertaal deur KH Kosmehl, 1981, 1982
  • Bulgaars vertaal deur C Karag’ozova 1982
  • Nederlands vertaal deur A Swierenga 1985
  • Amerikaanse weergawe deur die outeur 1985
  • Hebreeus vertaal deur M Singer 1987
  • Italiaans vertaal deur B Armellin 1987
  • Spaans (Madrid) vertaal deur Y Salvá 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Melk

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014969 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste Sondag

Publikasiedatum

1983

ISBN

06240022412 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur A Jonker 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Poppie – die drama

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020436 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vier vriende en ander stories uit Afrika

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1987
  • 1997

ISBN

  • 0624021181 (hb)
  • 0624025217 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur die outeur 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Missionaris: roman

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026639 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  •  WA Hofmeyr-prys 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dansmaat

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624030326 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die reise van Isobelle

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2011

ISBN

  • 0624034232 (sb)
  •  9780624053088 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 1996
  • Hertzogprys 1998

Vertalings

  • Engels 1998
  • Duits vertaal deur Stefanie Schäfer 2005, 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gordel van smarag: ’n reis met Leipoldt

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036065 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee vroue: novelles

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2006

ISBN

  • 062404145X (sb)
  • 06240444319 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Wonderlike geweld: jeugherinnerings

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042898 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Irene M Wainwright 2014 (A lion on the landing)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reisiger: die limietberge oor

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048121 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

  • UJ-prys vir letterkunde 2010
  • Recht Malan-prys vir Niefiksie of Nieliterêre werk 2010
  • Louis Hiemstra-prys vir Niefiksie 2011

Vertalings

Engels, vertaal deur Irene M Wainwright 2017 (A daughter of Africa)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spertyd

Publikasiedatum

  • 2017
  • 2018

ISBN

9780624084327 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

  • kykNET-Rapport-prys vir niefiksie 2018
  • Louis Hiemstra-prys vir niefiksie 2020

Vertalings

Engels 2019

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor Elsa Joubert op die internet beskikbaar

Artikels deur Elsa Joubert beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Elsa Joubert (1922–2020) appeared first on LitNet.

ATKV-DigiPraat 2020: ’n Zoom-onderhoud

$
0
0

’n Virus maak mense siek, ’n staat van inperking hou hul tuis. Klink dit soos die inleiding van ’n wetenskapfiksieriller ... of dalk die openingsinne van ’n redenaarstoespraak? Johannes Meyer het deur sy skool van die nuwe formaat van die ATKV se gewilde redenaarskompetisie gehoor en wou meer hieromtrent uitvind. René Zietsman van die ATKV zoom met die dertienjarige Johannes oor vanjaar se ATKV-DigiPraatkompetisie. Waar jy jou ook al bevind - in Londen, Mitchellsplein, Sydney of Putsonderwater: jy kan deelneem! Gou spring, want jy moet jou video teen 1 Julie 2020 stuur.

Hier is nog wenke vir die kompetisie:

The post ATKV-DigiPraat 2020: ’n Zoom-onderhoud appeared first on LitNet.

ATKV-Digipraat: wenke van ’n gereelde beoordelaar van redenaarskompetisies

$
0
0

Foto van Zesta Vorster: verskaf. Bron van die ATKV se foto’s: https://atkv.org.za/

Naomi Meyer het vir Zesta Vorster, gereelde beoordelaar van die ATKV se redenaarskompetisies in die verlede, vir wenke rondom vanjaar se ATKV-Digipraatkompetisie gevra. Hierdie wenke kan ook gebruik word as mens voorberei vir redenaarskompetisies in die toekoms.

Die inligting oor die Digipraat op die webwerf is baie waardevol en noodsaaklik – net soos die gewone riglyne (dis nie reëls nie!) van die gewone redenaarskompetisie. Ek sou tog mooi daarna kyk en dit so ver as moontlik probeer toepas – veral wat die raamwerk en inhoud van die toespraak betref.

Net ’n paar aanvullende gedagtes: Wanneer jy besluit het wat die doel van jou toespraak is – maw om te vermaak, in te lig, te motiveer of te redeneer – moet jy besin in watter formaat jy dit gaan aanbied (altyd maar begin, middel, einde, ens, nè), en wat die gepaste aanslag sal wees. Elke soort toespraak het sy eie uitdagings.

Die beredenerende toespraak (soos in die gewone ATKV-Redenaarskompetisie vereis word) kan al die elemente van die ander soorte toesprake bevat: vermaak, inligting, motivering (in veral die slot) en beredenering.

Wat aanbieding betref:

Kyk op ooghoogte na die "gehoor" – in die kamera. Afstand is belangrik – ons wil nie meer as kop en skouers sien nie – dit skakel ook lastige, onnodige handgebare uit. Die gesig moet praat! Moenie te veel gebare wys nie. Moenie elke nuwe gedeelte van die gesprek met dieselfde woord begin nie. Lei elke hoofpunt net mooi duidelik in, na ’n effense pouse. Maar moenie oogkontak verloor nie. Moet ook nie staar nie – ontspan, wees aangenaam en natuurlik – deur te dink oor en te bedoel wat jy sê. Verder: Nooit jaag nie – sê eerder minder, maar met pouses en beklemtoning.

Dit klink na baie moets en moenies – maar as jy mooi daaroor dink, is dit alles maar net logies!

Nederig, opreg en aangenaam doen die ding. Onthou, jy praat met ’n mens, nie met die kamera nie.

ATKV-DigiPraat 2020: ’n Zoom-onderhoud

 

The post ATKV-Digipraat: wenke van ’n gereelde beoordelaar van redenaarskompetisies appeared first on LitNet.


Berna Ackerman (1935–2015)

$
0
0

Sêgoed van Berna Ackerman

“Sonder om bedreig te wil klink, besef jy dat jou moedertaal maar één van elf amptelike tale is, en om die voortbestaan daarvan te verseker, rus daar enersyds ’n dure plig op die Afrikaanse skrywers om boeke te produseer maar ook op die leser om boeke te koop en te lees sodat die Afrikaanse boekebedryf lewenskragtig kan bly. Sodat daar vir ons kindskinders ook eendag leesstof in hul moedertaal sal wees.” (Volksblad, 8 Junie 1999)

“Hoekom word ons tog so ontroer deur die dinge wat ons self skryf? Seker maar omdat ’n mens moeilik afstand kry van die dinge wat jyself beleef het.” (Die Burger, 5 Augustus 2002)

Oor haar karakters: “Wanneer hulle die eerste keer selfstandig asemhaal, voel ek soos die kere toe ek met my swangerskappe die eerste keer lewe gevoel het.” (Die Burger, 5 Augustus 2002)

Raad aan aspirantskrywers: “Dagboeke. Ek het boeke en boeke volgeskryf. Dit leer jou waarneem en gevoelens uitdruk. Maar skryf gaan baie oor dissipline. En aanhou. Ek probeer elke dag skryf. Noudat ek afgetree het, hou ek die oggende oop daarvoor.” (Taalgenoot, Maart 2000)

Boodskap vir ouers en kinders: “Ouers is saam met die skool verantwoordelik vir hul kinders se opvoeding. Ons kinders moet geleer word wat respek en naasteliefde is. Hulle moenie hul eie identiteit verloor nie, maar tog ander se standpunte ook kan respekteer. Hulle moet werk vir hul taal en kultuur en nie hul Christenskap verloën nie. En die waarde van gebed leer besef.” (Taalgenoot, Maart 2000)

Oor die kriteria waarvolgens die ATKV-Prosaprys toegeken word: “Die prys is toegeken in die kategorie ‘gewilde Afrikaanse lektuur’ en die leesbaarheid en toeganklikheid van die voorgelegde werke was ’n belangrike kriterium. Sover my kennis strek, het die gewone leser en liefhebber van die Afrikaanse boek, ’n groot inspraak in die keuring gehad. Kategories stel ek dat die voortbestaan, nie slegs van die letterkunde nie, maar van kuns in die algemeen, afhanklik is van die ondersteuning van die ‘gewone’ mens, en dit is belangrik dat húlle smaak en voorkeure in ag geneem moet word.” (Algemene Kerkbode, 9 April 1999)

Hoe rym haar liefde vir musiek en haar skryfwerk? “Musiek en taal is nou verwant. Beide word deur middel van klank weergegee, in beide is konstruksie belangrik en deur middel van beide kan atmosfeer geskep word. My kennis en ervaring van musiek is vir my oneindig baie werd in my skryfwerk.” (Algemene Kerkbode, 9 April 1999)

“Ek het nog altyd belanggestel in die geskiedenis en het wyd navorsing oor 1939 gedoen (vir Liesbet Delport se oorlogboek). Ook wanneer ek klasgee, is die historiese konteks vir my baie belangrik. Geen gebeurtenis vind in ’n tydleegte plaas nie en daar is altyd ’n wisselwerking tussen wat gebeur en die geskiedkundige konteks.” (Die Burger, 25 Augustus 1999)

Verskil tussen musiek en skryf: “Musiek is ’n geweldige spanning. Dikwels het jy net een kans. As jy skryf, kan jy skaaf totdat iets nét reg is.” (Die Burger, 25 Augustus 1999)

“Vir my is skryfwerk soos tennis en klavier speel. Jy moet oefen en jy moet die taal kan hanteer, want dit is jou medium. Verder moet ’n mens baie kennis van ’n onderwerp dra – eerder te veel as te min.” (Die Burger, 25 Augustus 1999)

Gebore en getoë

Berna Barabra Ackerman is as ’n nooi Cloete in 1935 in Boksburg gebore. Toe Berna twee jaar oud was, het haar ouers Bloemfontein toe getrek, waar haar pa, Koos Cloete, van 1937 tot 1966 ’n proefleser by Die Volksblad was.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Berna se pa ’n Hitler-ondersteuner en lid van die Ossewabrandwag. Haar ma, wat niks wou weer van hierdie organisasie nie, wou nooit aan die jong Berna verduidelik wat “oorlog” is, of wat “interneer”, “aanrand” of “Heil Hitler” se betekenis is nie. En dit is tydens hierdie “geheimsinnige” dae wat die saadjie vir haar latere treffer Liesbet Delport se oorlogboek geplant is. Sy het haar gevoelens in ’n dagboek neergepen en troos by haar hond met die “oorlognaam” Mussolini, gesoek, het sy aan Adri Herbert (Volksblad, 11 Augustus 1998) vertel:  “Ek was nooit regtig kind nie. Toe ek drie jaar oud was, het die oorlog uitgebreek en toe ek agt geword het, het dit eers geëindig.”  

Sy kon baie goed onthou van die dag toe ’n vriend van haar pa hom by die huis opgesoek het met ’n pakkie geheime dokumente van die Ossewabrandwag. Omdat haar pa bang was vir ’n polisieklopjag, het hy dit onder die lêhen se nes in die agterplaas begrawe. Die polisie het egter nooit hulle opwagting gemaak nie en haar pa het later uit die Ossewabrandwag bedank. Hy was ’n proefleser by Volksblad voor die oorlog en het sy werk tydens die oorlog verloor en moes noodgedwonge by The Friend, ’n Engelse Bloemfonteinse koerant, gaan werk – “al moes hy daardeur sy siel en alles waaraan hy geglo het, verraai”, het sy aan Marietjie Beukes (Taalgenoot, Maart 2000) vertel. Hy is later aan nierversaking oorlede.

Berna se ma was ’n “fyn gevoelsmens”, maar het terselfdertyd nie enige nonsens van kinders verduur nie en het vinnig enige geite uit ’n kind geslaan. Berna skryf in Volksblad (29 Augustus 2007) oor haar ma se slag met kosmaak: “Ma het uit ’n geslag koskokers gekom en sy het die gawe gehad om sonder omhaal, doodgewone bestanddele in ’n koninklike gereg te omskep. Die groot kombuis (in die huis in Steynstraat in Bloemfontein) met die donker houtplafon was die ‘laboratorium’ waar sy haar kulinêre eksperimente uitgevoer het met ’n groen Moffat-stoof, potte en panne, ’n Fillery-drukkoker en die Praktiese kookboek van mevrou Van Tulleken wat op die kitchen dresser gestaan het. Nie dat sy haar vreeslik aan die Van Tulleken-boek gesteur het nie. (...)

“Geen kos het ooit weer naby my ma se kos gekom nie. Ek het al baie gedink aan ma se filosofie oor kos. Sy het nie veel aan vitamiene gesteur nie. Sy het geglo dat as daar rooi en geel en groen kos op die bord is, dit in alles voorsien wat ons groeiende lywe nodig gehad had.”

“Sy het geglo dat die huis op ’n trietsige wintersdag na kos moes ruik om die kilte te verdryf. Ma was nie ’n demonstratiewe mens wat heeldag soentjies en drukkies uitgedeel het nie. Die kos wat sy ons voorgesit het, was deel van haar liefde vir ons – ’n bewys van hoeveel sy vir ons omgegee het.”

Berna het haar liefde vir musiek by haar ma wat ’n baie fyn aanvoeling vir musiek gehad het, geërf. Sy het vroeg-vroeg vir die jong Berna allerhande liedjies geleer en sy was skaars agt jaar oud toe sy met musieklesse begin het. Klavierspeel was nooit vir Berna ’n straf nie en sy het as kind en jongmens lang tye voor die klavier deurgbering omdat sy dit so geniet het. (Kerkbode, 9 April 1999)

Terselfdertyd was die huis waarin sy grootgeword het, ook ’n plek van woorde en beide haar ma en pa se aanvoeling vir taal was sterk. Sy het ook van vroeg af ’n dagboek gehad en stelwerk was die één ding wat vir haar op skool baie lekker was. (Die Burger, 25 Augustus 1999)

Sy ontvang haar skoolopleiding aan die Laer- en Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein.

Verdere studie en werk

Na skool is Berna na die Universiteit van die Vrystaat, waar sy die grade BMus, MMus en ook haar doktorsgraad in musiek behaal. Haar verhandeling vir haar M-graad het oor die kerslied gehandel en sy het gewerk aan ’n boek oor die geskiedenis van die kerslied.

Sy beklee verskeie onderwysposte aan die Hoërskool Sentraal, Hoërskool Eunice en Hoër Meisieskool Oranje en was ook dosent in klavieronderrig aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege. In 1981 word sy aangestel as dosent in harmonie, kontrapunt en komposisie aan die Musiekdepartement van die Universiteit van die Vrystaat.

Sy was ook lid van die kommissie wat die bundel Sing onder mekaar in opdrag van die Sinode van die NG Kerk in 1988 saamgestel het. Oor wat hierdie werk vir Berna beteken het, vertel sy aan Kerkbode (9 April 1999): “Die kerklied bestaan nie net uit musiek nie, maar ook uit ’n teks, wat weer taal impliseer. Dit was vir my ’n wonderlike ondervinding om as musikus saam met teoloë en letterkundiges te werk, en sodoende ook met hulle uitgangspunte vertroud te kon raak. (...) Die toevoeging van Sing onder mekaar en die Jeugsangbundel het die bestaande kerkliedereskat aansienlik verryk en die NG Kerk in lyn gebring het met wat in Christelike kerke wêreldwyd gesing word. Ek dink nie dat Christene altyd besef watter voorreg dit is om hulle deur middel van hierdie wonderlike liedere te kan verenig met miljoene mede-Christene oor die lengte en breedte van die aarde nie.”

Berna is met Hansie Ackerman getroud en hulle het twee dogters, Doralize en Corli. Hansie was in die Weermag en het die grond baie lief gehad. Dit was dus verstaanbaar dat hulle nogal lank geboer het.

Berna begin vroeg al skryf – aanvanklik net as ’n stokperdjie. Etlike kortverhale, sowel as twee vervolgverhale, word in Sarie gepubliseer. Die vervolgverhale word albei in 1981 in boekvorm deur Tafelberg Uitgewers as romans uitgegee onder die titels Halfsuiwer-mossie en Seuntjie met ’n vlek.

’n Kortverhaal, “Die Donderdagtestament van Daan Delport”, is opgeneem in die bundel Om lief te hê – ’n keur van liefdesverhale wat in Sarie verskyn het. Sedert haar aftrede as musiekdosent bly Berna besig met haar skryfwerk in die vorm van musiekresensies vir Die Volksblad, programaantekeninge vir die Odeion Strykkwartet en die destydse Sukovs, en artikels van musiekwetenskaplike aard. Sy stig MUSACK, ’n uitgewery vir musiekboeke, en publiseer onder meer Luister na ... (’n gids vir musiekbeluistering) en ’nVyfpuntplan vir vierstemmige harmonie. ’n Derde oplaag van dié publikasie is uitgegee en dit is ook in Engels vertaal.

Halfstuiwer-mossie is die storie van Trudie Bressler, wat ’n jong ma en weduwee is. Haar seuntjie van vier is ’n bloeier. Hy en sy ma bly by sy ouma van vaderskant. Trudie gee musiek aan ’n skool buite die stad op ’n plekkie genaamd Boegoebron. Sy besef baie vinnig dat sy nie baie welkom by die skool is nie en dat die voorsitter van die skoolkomitee, Karl Venter, die een is wat die lewe vir haar moeilik maak. Hy wil hê sy dogter Esther en die aantreklike skoolhoof Gerhard Coetzee moet trou en hy wil ook die musiekpos vir sy houvrou, Tess Vermeulen, hê.

Eleanor Baker (Oggendblad, 7 Augustus 1981) het die verhaal beskryf as “’n teer verhaal van ’n moeder se liefde vir haar kwesbare kind en vir die man wat sy moet verwerp omdat sy die kiem van die bloeiersiekte in haar ronddra. Die karakters is wel baie eensydig geteken, maar dit is ’n verhaal wat die leser enduit sal boei.”

Die basiese gegewe in Berna se tweede boek, Seuntjie met die vlek, is dieselfde as die eerste. Hier gaan dit ook oor ’n seuntjie wat ’n fisieke probleem het en ’n ma wat hom oorbeskerm. Die vierjarige Robbie in Seuntjie met die vlek het ’n baie lelike geboortemerk op sy gesig en sy ma is só fyngevoelig daaroor dat dit die kind se persoonlikheid negatief beïnvloed. Dinkie Enslin, sy ma, wil hom glad nie kleuterskool toe stuur nie, terwyl sy pa, Anton, nie met haar saamstem nie. 

Tydens ’n besoek van die kleuterskool aan ’n melkfabriek beland Robbie, deur ’n sameloop van omstandighede, in die kombi van meneer Brummer. Hy is nie bewus van die seuntjie in sy motor nie en toe hy op die plaas kom, neem sy vrou aan dat Robbie haar kind is. Die gesin se kind is oorlede en die ma het aan erge depressie gely. Intussen het die res van die dorp aangeneem dat Robbie in die vloedwater verdrink het en Sally, die vrou wat Robbie onwetend na die verkeerde kombi geneem het, is weg. Sy het eers ’n paar dae later verneem dat Robbie vermis is en kon darem op haar siekbed aan ’n verpleegster vertel waar Robbie is.

EB (Eleanor Baker) (Oggendblad, 16 Oktober 1981) skryf as volg oor Seuntjie met die vlek: “Die ingewikkelde situasie veroorsaak dat ’n mens nie die boek kan neersit voordat hy deurgelees is nie. ’n Gebrek is egter dat Dinkie teen die einde tot nuwe insigte omtrent Anton kom, maar geen insig in haarself bekom nie. Verder gaan karakters darem alte maklik dood net om die spanning langer vol te hou of om ’n situasie op te los.”

Sewentien jaar het verbygegaan voordat Berna se volgende boek gepubliseer is. En dit is onmiddellik ’n wenner. Liesbet Delport se oorlogboek is in 1998 deur Tafelberg uitgegee en in 1999 met die ATKV-Prosaprys bekroon.

Berna ontvang die ATKV-Prosaprys die jaar na al die omstredenheid toe die ATKV ’n spesiale toekenning van Madelein van Biljon weerhou het nadat sy gesê het sy is nie ’n Christen nie. Hierop reageer Berna as volg: “Ek was verlede jaar (1998) baie ontsteld oor die wyse waarop die toekenning van Madelein van Biljon weerhou is en ek dink dat dit die beeld van die ATKV sowel as Christene in die breë geskaad het. Ek het baie waardering vir die groot werk wat die ATKV in belang van die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur doen, en dit is vir my ’n besondere eer dat die Liesbet-boek gekwalifiseer het vir die prys.” (Kerkbode, 9 April 1999)

Liesbet Delport se oorlogboek was ook op die kortlys vir die M-Net-Boekprys vir 1999. Oor die toekenningsaand wat Berna in die MTN Sundome in North Riding bygewoon het, vertel sy in die rubriek “Stop van Myne” in Die Volksblad (8 Junie 1999): “Maar gelukkig, gelukkig sien jy die beskeie bruin deurtjie met die kennisgewing: M-Net Bookprize so tussen die plekke van vermaak. Dit voel of jy deur die nou poort ingaan om in die reusagtige banketsaal te kom. Jy sluk ’n slag want voor jou oë ontplooi ’n stuk multikultuur soos ’n kleurige kaleidoskoop. Die reënboogkleure van die bont servette laat die tafels soos blombeddings lyk. Swart aandpakke word dowwe kolle tussen die Madiba-hemde en kaftans, die etniese rokke en blink sari’s in skakerings van kersierooi, poublou, kanariegeel en kikoejoegroen. (En jy was nogal bang dat jou grys fluweelnommertjie te flashy vir die geleentheid sou wees!)

“En daar word in tale gespreek – Venda, Tsonga, Sotho, Nguni, Engels, met hier en daar ’n brokkie Afrikaans. Jy eet Canadian Salmon/Kanadese salm/Nhlampfi ya le Khanada van die spyskaart af en drink Coffee/Koffie/Kofi terwyl Shaluzamax Collective musiek maak met die titel Meeting at the crossroads. En ’n kruispad is dit voorwaar! Klawerbord, kitaar, slagwerk, saxofoon, trompet en stemme kruis mekaar in ’n magtige kakofonie van klank. Jy voel naderhand hoe jou buise van Eustachius finaal ingee en dink aan ’n ander prysuitdeling waar André Howard die gaste vermaak het met ’n innige vertolking van Heimwee. En hier op die vooraand van die 1999-verkiesing besef jy dat jy jou oor, die buise van Eustachius ten spyt, op ’n ander frekwensie en desibeltelling sal moet instel.

“Nou die toekennings. Dit is lofwaardig dat M-Net in ’n tyd waarin boeke in gedrang kom as gevolg van elektroniese media soos die TV en internet, en waarin uitgewers sukkel om finansieel die mas op te kom, ’n kompetisie borg vir boeke in die kategorieë Venda, Tsonga, Sotho, die Nguni-tale, Afrikaans en Engels. Reeds by die uitstalling wat die dinee voorafgaan, bemerk jy, naas die bekende uitgewers soos Human & Rousseau, Tafelberg, Van Schaik en Juta, minder bekende name soos Vivlia, Random House, NAM en Bard. Die wenner in die Afrikaanse kategorie, Op soek na Generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond, word ’n bekende baken waaraan jy vashou, terwyl boeke soos The Tikieline Yuppie van Mehlaleng Mosotho, Umlimandlela van Ncedile Saule en Ditlabonyane Ke Ditlaboima van Jacobus Ramokokobadi Lesibana Rafapa vir jou die soeklig op ’n ander sy van ons geskakeerde samelewing laat val. Luister jy na die voorlesings uit dié boeke, is dit duidelik dat die letsels van apartheid en die struggle nog nie heeltemal verdwyn het nie.

“Dat daar wel ’n ander struggle is, een van eksistensie, een vir bestaansreg in ’n bestel waar regstellende aksie die wagwoord is, maar waar ’n mens uiteindelik op grond van sy bekwaamheid en verdienste vir hom ’n pad sal moet oopveg. Dat die pen in hierdie verband magtiger is as die swaard of die AK47.

“Jy ry huis toe met ’n gevoel van trots dat jy deel is van die Reënboognasie en ’n aandeel het aan die Suid-Afrikaanse boek. Maar, sonder om bedreig te wil klink, besef jy dat jou moedertaal maar één van 11 amptelike tale is, en om die voortbestaan daarvan te verseker, rus daar enersyds ’n dure verpligting op die Afrikaanse skrywers om boeke te produseer, maar ook op die leser om boeke te koop en te lees sodat die Afrikaanse boekebedryf lewenskragtig kan bly. Sodat daar vir ons kindskinders ook eendag leesstof in hul moedertaal sal wees.” 

Berna vertel in 1999 aan Riekie Human (Die Burger, 25 Augustus 1999) dat die grootste oomblik in haar skryfloopbaan tot op daardie stadium was die aand toe sy in die Kasteel gestaan en die ATKV-prys ontvang het. “Dit was so ’n wonderlike, soel aand in Kaapstad. EK het dit glad nie verwag nie. Ek ontdek juis nou die dag ’n brief wat ek aan iemand gestuur het met die woorde: ‘My ou manuskrippie het ek afgestuur Kaap toe, sal nou nie juis ’n prys of toekenning daarvoor ontvang nie.’ Maar vandag weet ek, as ek nie daai boek geskryf het nie, sou ek nie my kop eendag kon neerlê nie. Dit was ín my.”

In Volksblad van 11 Augustus 1998 het Berna aan Adri Herbert vertel dat toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, sy as ’n kleuterdogtertjie nagmerries gekry het van al die grootmensstories oor bomme en verwoesting, Vyftig jaar later het sy besluit om die verhaal van Liesbet Delport te vertel wat halfpad uit feite en halfpad uit fiksie bestaan.

Liesbet en die Delports se storie het lank in Berna gebroei. Sy wou van altyd af oor haar mense skryf en dit was in 1989, nog half beneweld van narkose ná ’n operasie, dat die verhaal eensklaps sy bestaan gekry het en die storie se vorm sy beslag gekry het. “Ek het omvattend navorsing gedoen vir die boek. Ek glo jy moet iets ken om daaroor te skryf,” het sy aan Marietjie Beukes in Taalgenoot van Maart 2000 gesê.

Sy het ou Huisgenote gebruik om inligting te kry oor resepte en modes van die 1930’s en 1940’s. Sy het daarin geslaag die huis waar sy grootgeword het, Steynstraat 30 in Westdene, Bloemfontein, tot op ’n tiekie te beskryf sodat die taal- en leefwêreld van daardie tyd voor die leser se geestesoog lewe. En hoewel sy nie heeltemal Liesbet is nie, het sy dit openlik gestel dat sy van haar eie belewenisse op Liesbet oorgeplaas het: “Baie van die pa se woorde is sinne wat my eie pa net so gesê het.”

In ’n onderhoud in die Algemene Kerkbode van 9 April 1999 het Berna aan Mariette Cloete-Hofer gesê: “Die boodskap wat ek deur middel van die karakters probeer weergee het, daarop neerkom dat ons as Afrikaners (en dit geld ook vir die ander taalgroepe) nie ons identiteit moet prysgee nie, maar tog wel mekaar se standpunt moet respekteer.”

Oor Liesbet Delport se oorlogboek het Henriette Grové in Beeld van 22 Februarie 1999 as volg geskryf: “Die verhaal betrek die leser met die intrap by die Tweede Wêreldoorlog en die verhaaltyd van die boek word ook vroeg al uitgesproke aan die duur van die oorlog verbind: September 1939 tot 8 Maart 1945. Dis ’n stryd wat die hele groot wêreld raak, maar ook die klein wêreld van die Delport-gesin van Steynstraat 30, Bloemfontein, en die nog kleiner wêreldjie van Liesbet, wat van alles wat sy hoor, so min begryp en waarvan sy tog in haar dagboeke probeer getuienis aflê. Wêrelde wat mekaar op ’n vreemde wyse weerspieël.” (...)

“Daar is ’n byna krampagtige opnoem van dinge soos die klem wat op feitlikhede gelê word in ’n poging om tyd en plek tot werklikheid te dwing. Dit is immers op daardie plek, in daardie tyd en onder daardie omstandighede dat Liesbet haar kwelvrae stel: ‘Pa, wat is oorlog?’, ‘Ma, wat is die rooi eed?’, ‘Pa, wat beteken aansluit?’, ‘Wat is die ander tyd?’. En as die babaseuntjie sterf: ‘Is dít dood? Wat is dood?’”

“Soveel woorde wat soveel vreemde begrippe moet dek. En waar die kind nie begryp nie, dien die vrae om die narratiewe gang van die verhaal te steun en sin te gee aan die kind se dagboekie: ’n reduksie van lotsbepalende gebeurtenisse tot ’n aantal naïewe frases in die onbeholpe skriftuur van ’n sesjarige. Ons het hier ’n duidelike outeursgreep wat maklik presieus, selfs sentimenteel sou kon aandoen. Tog is dit nie die geval nie. Skrywers gebruik slenters en sette, wettig en onwettig, in ’n byna onbegonne poging om die bont blerrie spul wat ons die werklikheid noem, nuut en sinvol te maak, want woorde en hulle sprekers word ook maar onherroeplik oud.”

“Daarom Liesbet en haar aantekeninkies. Dit staan in so ’n skrynende jukstaposisie teenoor die gruwel van die oorlog dat dit ’n soort konfrontasie word tussen skepsel en feit – ’n byna eksistensiële belewing. Een bedenking tog in dié verband. Daar is nie juis ontwikkeling in die sinne van die kind nie. En sy groei darem van ses na twaalf. Vitterig? Skools miskien? Maar die boek aksentueer uur en feit so sterk dat die leser gekondisioneer raak om waarheidsgetrouheid voorop te stel.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 28 Oktober 1998) is “die jong kind-as-waarnemer een van die verruklikste subgenres in die vertelkuns. Liesbet Delport se Oorlogboek vertel die verhaal van ’n jong kind se waarnemings in die Tweede Wêreldoorlog. Sy is ’n laerskoolkind, maar hou reeds ’n dagboek oor al háár gewaarwordinge, vrese en naïewe interpretasies. Die verhaal beklemtoon in welke mate vrees ’n mens se lewe kan verander. As ’n jong kind byvoorbeeld nou ’n dagboek sou hou, sou ’n mens waarskynlik oor ’n paar jaar die skokkende paranoïese kondisie van hierdie land na behore kon registreer.”

“Hierdie is ’n vaardige roman. Dit lewer verslag van ’n familie se reaksie op die oorlog, die onderlinge spanninge wat dít tot gevolg het, en hoe mense se daaglikse lewens geraak is: die vader, ’n proefleser by Die Volksblad, verloor tydelik sy werk. ’n Huwelik moet op ’n kleiner skaal plaasvind. Maar dit is veral Liesbet se emosies wat ’n mens interesseer. Dit is immers haar perspektief, en in geleerde terme vind ons ook hier ’n verslag van oedipalisering. In hierdie kort bestek verander nie net haar liggaam nie, maar word sy gekonfronteer met die beperkinge van grootmense en die dood.”

“Die sensitiewe kind se emosies word baie raak beskryf. Soos by JM Coetzee se Boyhood het ’n mens natuurlik altyd twee vertellers in so ’n jeugdokument: die kind en daaroorheen die ouer, ontnugterde grootmens wat saampraat. (Miskien is die kind se waarnemings by Ackerman soms net te gesofistikeerd maar dit is ’n klein beswaar. (...)

“Ook die ontwikkeling in die dagboek verdien vermelding. En daar is ander lieflike vinjette wat ’n mens altyd sal bybly: die ongedurige pa wat nie die kind se ontsteltenis by sy werk kan hanteer nie. En die jong kind wat die politieke spanning tussen haar pa en Jack kan aanvoel al kan sy nie presies die verloop van die oorlog begryp nie.”

“Die skryfster sinkopeer die historiese verloop goed met die persoonlike ontwikkeling van die kind. Dit is ’n boek wat ’n mens gerus kan saamlees met die kinderpsigoanalis, Alice Miller se The untouched Key – Tracing Childhood Trauma in Creativity and Destructiveness (Virago, 1990). In hierdie openbarende studie wys Miller daarop hoe traumatiese ervarings die kind se psige kan verander. Sy maak onder meer analises van Picasso en Hitler as voorbeelde van twee uiterste gevalle. Ook die psige van die skryfster sou ’n mens kon analiseer volgens etlike sleutels wat Miller verskaf in haar opwindende studie.

Liesbet Delport se Oorlogboek is ’n hoogs leesbare roman. ’n Mens wonder of Berna Ackerman nie dalk iets oor die konsentrasiekampe vir ons wil skryf nie? Haar goeie insig in die geskiedenis en fyn waarneming van klein besonderhede behoort haar goed te pas te kom. Die roman moes baie navorsing gekos het; klaarblyklik uit die subtiele draad wat regdeur die verhaal vleg. Maar die werklike fokus is die uitwerking van verwoesting op die psige van die mens. En hoe dit ’n litteken maak.”

Marina le Roux (Insig Boekeseksie, Februarie 1999) meen dat Liesbet se dagboek ’n pragtige oorlogsroman word wat deurleef is en ontroer. “Van die leser word egter verwag om skeptisisme op te hef en die besinnende, volwasse verteller te aanvaar saam met die naïewe kinderskryfster wat jou so meesterlik meevoer en laat deel in al haar reaksies op die oorlogsgebeure. Dis sy, hierdie kind op die periferie van die volwassenes en volwassenheid, wat ons telkens herinner, soos Kallie Magistraat in Schoeman se Verliesfontein: ‘Kyk na my; luister na my. Ek het ook eens gelewe.’

“Die leser het begrip vir Liesbet se isolasie en verwarring, vir haar geslotenheid wat dien as ’n verdedigingsmeganisme teen haar kwesbaarheid, maar ook vir haar innigheid en fyn waarnemingsvermoë. Die afwisseling tussen ’n volwasse eksterne verteller en ’n belewende, ongesofistikeerde ek-verteller, verplaas Liesbet se storie vanuit die verlede na die hede.”

“Die verhaal is stewig ingebed in ’n uiters realisties-historiese basis, sonder om dit op te dis as ’n verromantiseerde geskiedenishandboek. Historiese detail word heeltemal natuurlik en onopsigtelik ingeweef deur middel van interessante tegnieke (...). Soms, maar werklik net soms, word die leser verdwaas deur die oordaad van die historiese mosaïek (...). Maar dit is die sterk karakters en die genuanseerde karakterbeelding wat van hierdie dagboek ’n knap (jeug) roman maak. (...)

Liesbet Delport se oorlogboek word geraam deur ’n verhelderende proloog en ’n epiloog wat die storie van Steynstraat se mense in ons tyd plaas. Daar is egter selde ’n gevoel van emosionele manipulering aan die kant van die skrywer. Simpatie en soms selfs innige bewoënheid word geaktiveer deur eerlike meelewing. Die sirkulêre slot is sober en sensitief en ontroerend soos ’n Bybelteks in sy strakke eenvoud: ‘Alles het ’n bepaalde uur ... ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.’”

Leana Lategan (Volksblad, 4 Januarie 1999) beskryf Liesbet Delport se oorlogboek as ’n baie besonderse teks. “Dit mag ’n jong kind as hoofkarakter hê, maar is vir ’n wye spektrum lesers bedoel en is een van die mees sensitiewe tekste waarin gesinslede se onbegrip vir mekaar as onderliggende tema ter sprake kom.”

Net na die publikasie van Liesbet Delport se oorlogboek was Berna al klaar besig met navorsing vir haar nuwe boek – hierdie keer het dit oor nieroorplanting gegaan. Sy vertel aan Die Algemene Kerkbode in April 1999 dat sy alreeds baie navorsing gedoen het en onderhoude gevoer het met mense wat sulke operasies gehad het, en haar karakters het teen daardie al begin “asemhaal”. “Die groot kwessie is om die tegniese data te verwerk dat die voltooide produk nie klink soos ’n anatomie-diktaat nie, maar ’n verhaal oor iets wat gebeur met ’n mens van vlees en bloed, en wat sy lewe, asook dié van sy naasbestaandes, ten nouste raak.”

Die roman, Met ’n ompad, verskyn in 2002 en Berna het baie geput uit haar eerstehandse ervaring met haar broerskinders wat albei self nieroorplantings gehad het. Behalwe dat daar raakpunte met haar broerskinders is, het sy ook haar stof geput uit haar pa se afsterwe weens nierversaking en haar eie man se afsterwe. “Maar die roman is allermins ’n jeremiade rondom die dramas van ’n gesin waar die dogter nierversaking kry en op ’n skenker-nier wag. Ek glo ’n mens moet jou leser voortdurend hoop gee,” het sy aan Elize Parker (Die Burger, 5 Augustus 2002) vertel.

Aan Elize Parker het sy vertel dat sy regtig hard moes dink hoe sy die onverteerbare inligting gaan aanbied en in die verhaal inweef. “Dit is waar skryf se uitdaging vir my lê: Om met feitelike gegewens ’n nuwe wêreld te skep. Net soos haar hoofkarakter in die roman, Tina, rondom al haar lewenskrisisse letterlik met ’n ompad ’n plan moes maak, het Berna dié tegniese en mediese inligting in die roman via e-posbriewe tussen die ouers weergegee. Enige roman met ’n mediese tema voel ek moet ’n realistiese en geloofwaardige noot hê.”

Die karakters in Met ’n ompad het ’n lewe van hul eie. “Die ma is nie ’n supervrou nie, maar in haar is die kiem vir oorlewing. Hul huis is nie juis direk uit Garden and Home nie. Dan is daar die Franse horingspeler, Clemens, wat haar ondersteun op sy manier wanneer haar man in Ethiopië gaan werk. Ek moes net eenvoudig musiek inbring. Ek is so ingestel op klank wanneer ek skryf. Daar is ook nie enige literêre truuks in die roman nie, want ek is nie in staat om ’n geleerde boek te skryf nie. Ek skryf basiese boeke.”

Die tienertaal in die roman is nogal oortuigend en sy het dit reggekry deurdat sy na haar vriendinne se tieners se gesprekke geluister het.

Wanneer sy geskryf het, het sy nie altyd net op haar navorsing en eie ervarings staatgemaak nie, want toeval het ook ’n rol te speel gehad wanneer sy geskryf het. ’n Vriendin van haar het op ’n dag kom kuier met ’n stapeltjie interessante briewe uit Ethiopië en dit is daar waar Tina, die hoofkarakter, se man, Roy, sy beslag gekry. Een van Berna se dogters het een maal met ’n bos geel tulpe by die huis aangekom en so het die blomme deel van die boek geword. Haar eie kat, Krisjan, is die nierlyer, Anja, se kat en Herr Schmidt, Clemens se Franse horing, het ontstaan uit ’n herinnering aan een van Berna se musiekkollegas: “Ek weet self nie hoe al die dinge gebeur nie. Eintlik sien ek niks raak wanneer ek skryf nie.”

Waar die verhaal eintlik draai om Anja, wat op 13-jarige ouderdom ’n nieroorplanting moes ondergaan, wou Berna ook fokus op die menigte gebeure wat inwerk op ’n gesin wat deur so ’n siekte ingesluk word. “Dit is wat ek eintlik wou skets – die spanninge en dinamika in so ’n gesin.” (Volksblad, 10 Junie 2002)

Vir Gretel Wybenga (Beeld, 19 Augustus 2002) het die roman ’n besliste Christelike basis, maar gelukkig word dit nooit prekerig of opdringerig nie. “Dit is ’n heel natuurlike onderdeel van Tina se bestaan, ook weerspieël daarin dat haar gebede nooit apart gekursiveer of in aanhalingstekens geplaas word nie. Dit is gewoon deel van die vertelteks, soos dit deel van haar lewe is.

“Ook die titel hou verband met Tina se geloof: om te kan glo dat God weet wat Hy doen met hierdie ompad wat Hy haar, soos die Israeliete van ouds, deur die wildernis laat loop – die wildernis van veral Anja se siekte, maar sekondêr, ook die wildernis van onsekerheid oor haar huweliksverhouding. Sydelings is dit ook ’n verwysing na die pad wat Roy bou wat nooit klaar kom nie en hom van sy gesin vervreem.

Met ’n ompad is vaardig geskryf en ’n baie toeganklike roman. Dit sal ook terapeutiese waarde hê vir mense in soortgelyke situasies.”

Leana Lategan (Volksblad, 9 September 2002) skryf: “Ackerman het verhaalmatig hier ’n kundige en besonder goed-georkestreerde teks geskryf. Die proloog waarin die leser saam met die vertellende hoofkarakter, Tina, die dood van haar pa in haar kinderjare (her-)beleef, stem as ’t ware die res van die verhaal: Met ’n onverbiddelike deursettingsvermoë begelei sy haar meisiekind deur ’n byna twee jaar lange geveg om lewe na uiteindelike beterskap.”

“Dat sy in die proses noodwendig haar seun, Theo, emosioneel afskeep, ’n nogal stugge verhouding met haar ma moet afsluit en oënskynlik buite hoop kommunikatief van haar man, Roy, verwyder raak, is almal scenario’s wat die boek ’n dig geweefde teks maak. Die skrywer werk onder meer met die vraag na ‘realiteit’; die realiteit van siekte te midde van eise van ’n daaglikse bestaan en die mens se vermoë om op ’n persoonlike vlak na emosionele volwassenheid te groei.”

“Ackerman se unieke styl om die besonder emosionele aangeleenthede met ’n soort onbewoë realisme te klee, dwing die leser om kort-kort rekenskap van sy of haar eie ervaring te gee. (...) Met ’n ompad is ’n boek oor geloof en volharding; oor menslike ondersteuningstelsels wat feilbaar is; en genade en begrip wat van onverwagse oorde kom. En as ’n mens alles bymekaar sit en sien met hoeveel liefde Ackerman dit geskryf het, is dit, om Theo se woorde te gebruik, ’n ‘mighty nice boek’.”

Elize Parker (Die Burger, 9 September 2002)  skryf: “Net soos in Liesbet Delport se oorlogboek word die kind se emosies ook in Met ’n ompad sensitief verwoord, maar dié roman slaag in hierdie opsig beter as die eerste een, omdat Anja se waarnemings nie te gesofistikeerd is nie. Die gemaklike tienertaal gee haar gesprekke ’n eie kleur.”

“In ’n minder vaardige skrywer se hand kon die dikwels swaarwigtige verhaalgegewens maklik sentimenteel of melodramaties aangebied gewees het. Ackerman slaag egter deurgaans daarin om ten spyte van die tegniese detail die leser se aandag te boei en in beheer van die emosionele intensiteit van die verhaal te bly. Sy help ook haar lesers op ’n gemaklike manier om ’n greep op die siekte se werklikhede te kry. Karakters verval gelukkig nie in ’n jammerlike tranedal nie. Haar sterkste punt is dat sy ’n verhaal gemaklik en vlot kan vertel sonder literêre truuks.

“Sy huiwer nie om aktuele kwessies deel van haar verhaallyn te maak nie: die pa verloor sy werk as gevolg van rasionalisasie, daar is ’n moratorium op nieroorplantings, Tina se motor word gesteel, en staatshospitale ondervind kontantvloeiprobleme.”

“Die ontwikkelende vriendskap tussen Tina en haar loseerder, Clemens, sorg vir ’n paar mooi vinjette. Dit is hy wat vir haar toebroodjies in die hospitaal aandra, haar seun leer tuinmaak, deurgaans met sy musiekoefeninge sorg vir salf vir haar seer siel en met sy begrip vir haar omstandighede effe meer as net nog ’n klankbord word. Ná ’n terloopse aanraking deur Clemens dink sy byvoorbeeld: ‘Ek kom terug in die huis. Gaan staan voor die spieël in die gang. Sien die blos op my wange. Die oë wat vandag weer behoorlik groen is. Koester my ’n oomblik lank in die weelde om na al die maande van oorstuurde, verwaarloosde ma-van-’n siek-kind weer soos ’n vrou te voel’ (bl 173).

Met ’n ompad is ontspanningsleesstof op ’n hoë vlak wat stimulerend vir ’n nadenkende leser is en selfherkennend deur elke ouer gelees sal word.” 

Oor die rol wat God en haar geloof in haar lewe speel, is ononderhandelbaar. Haar Christenskap sal sy nooit versaak nie en sy kan nie sonder haar gebed nie. Haar liefde vir haar medemens is baie noodsaaklik – “’n loutering en ’n geleentheid om te groei”, het sy aan Marietjie Beukes (Taalgenoot, Maart 2000) vertel.  

Aan Mariette Cloete-Hofer (Kerkbode) het sy dit onomwonde gestel: “Oor God se plek in my lewe kan ek baie sê, maar ek volstaan by die woorde van die Psalmis: ‘Here, U is my lewe, U sorg vir my./ Wat ek ontvang, kom alles van U af.’”

Op 10 Augustus 2015 is Berna Ackerman aan lewerkanker in Bloemfontein oorlede. Sy is ’n week vroeër met kanker gediagnoseer nadat sy vir ’n rukkie nie lekker gevoel het nie. Sy word oorleef deur haar twee dogters, Dora en Corlia, en twee kleindogters.

Haar dogter, Dora, het gesê: “My ma het baie mense deur haar musiek, skryfwerk en betrokkenheid by die kerk geraak. Ons sien dit nou in die reaksie wat ons met die tyding van haar dood ontvang. Haar oudstudente is getuienis van die invloed wat sy op hulle gehad het. Corlia het gesê sy is bly oor die verskil wat haar ma in mense se lewe kon maak.” (Ruan Bruwer, Volksblad, 11 Augustus 2015)

In ’n huldeblyk in Volksblad van 18 Augustus 2015 skryf Leana Lategan dat vir Berna se vriende, kollegas, studente en lesers was sy ’n “Bloemfonteinse skrywer” al het sy haar wortels in Boksburg gehad. Selfs in haar eerste twee boeke het sy al “aktuele kwessies gebruik soos die verwikkelde sosiale en emosionele situasies van kinders wat met ’n fisieke rem moet leef: die lewe van ’n bloeier, die seuntjie met ’n onooglike geboortemerk, of ’n tienermeisie wat op ’n skenkernier wag.

“Kenmerkend van die romans is die geloofwaardigheid waarmee die fiktiewe storielyn met feite aangevul word, sonder dat die verhale swaarwigtig of uitsigloos word. Die Christelike perspektief waaruit sy skryf word nooit patroniserend nie maar bevestig slegs die potensiële innerlike krag van mense wat in hul geloof geanker is. Haar onwrikbare vertroue in die ‘gewone mens’, en die wyse waarop hulle na mekaar uitreik, vorm in al vier haar boeke die hooftema.”

“Dis alledaagse waarhede en situasies wat met nugterheid en empatie deurgewerk word: sosiale verwerping, sieklike heb- en selfsug, rasionalisering, terminale siektes, vereensaming, enkelouerskap. Kitsoplossings bestaan nie in die realiteit nie, en ook nie in Berna se verhale nie.”

“Die ATKV se prosaprys (1998) vir Liesbet Delport se Oorlogboek was vir Ackerman die hoogtepunt in haar skryfloopbaan. Dit is ’n boek wat steeds op eie stoom voortleef. Is dit omdat Liesbet se drome ook Berna s’n was? Of gewoon omdat die stem van die ware storieverteller nooit stil word nie?”

Publikasies

Publikasie

Halfstuiwer-mossie

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1999 (grootdruk)

ISBN

  • 0624015920 (hb)
  • 1869040740 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen    

 

Publikasie

Seuntjie met die vlek

Publikasiedatum

  •  1981
  •  2000

ISBN

  •  0624016544 (hb)
  •  1869044258 (hb)

Uitgewers

  •  Kaapstad: Tafelberg
  •  Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Liesbet Delport se Oorlogboek

Publikasiedatum

  • 1998
  • 1999

ISBN

0624037029 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1999

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met ’n ompad

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624040887 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Berna Ackerman op die internet

Artikels deur Berna Ackerman op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Berna Ackerman (1935–2015) appeared first on LitNet.

AHM Scholtz (1923–2004)

$
0
0

Sêgoed van AHM Scholtz

“Mens vat jou eie gevoelens en dan sit jy dit in ’n mens in. Dis wonderlik wat ek geleer het in die drie jaar wat ek die boek geskryf het. As jy op dieselfde plek sit, op dieselfde tyd, dan kom daai goed so maklik, en daar’s party dae wat jy jou eie goed kom sit en lees en dan wonder jy, het ek die geskryf, dit klink dan so mooi. En daar’s partykeer wat jou karakter jou sê wanneer hy wil huil of hy wil lag.”

“Alles wat ek maak, moet ek met liefde maak, anders kry ek dit nie reg nie. Apartheid of nie apartheid nie, as jy liefde het, kan jy alles verdra.”

“Nou in die rustige jare sê ek vir myself: Jammer dat Afrikaans sy eie haat gebroei het deur dié wat beter moes geweet het. Haat vir mekaar se velkleur – só simpel, só onnodig, só Goddeloos. Gedurende vyftig jaar van onderdrukking en nou nog eindig ek my gebede met: ‘Here, ek weet U verstaan.’”

Oor Afrikaans: “Laat ek dit mooi stel. My mamma se tet was bruin, en die melk wat die suigling gevoed het, was Afrikaans. Met mooi, sagte woorde druk die moeder haar kind teen haar hart vas. Hy kry die tepel in sy mond, met sy eerste lewende woorde in sy moedertaal – vat, my liefste. My oupa het vir my gesê, gaan haal my skoene, my kind. Ek voel die ou skeefgeloopde veldskoene, so sag, so teer, so Afrikaans en ek voel vir Oupa.

Vatmaar,” sê Scholtz, “is geskryf in ’n chronicle van gevoelens en menslikheid, van ’n tyd wat nie mag vergeet word nie. Toe ’n mens se naam meer werd was as die fatsoen van sy gesig. Daar was nie wit, bruin of swart mense nie, hulle was van Vatmaar.”

Aambeeld
Wie weet
sê die aambeeld vir die hamer,
Waarom slaan jy my op een plek?
En die hamer vir die aambeeld:
Waarom verander jy nie die klank nie?
Weet jy dan nie?
So verander die Smid die rou stuk yster
In sy Hand – met liefde

Dié gedig is deur die skrywer AHM Scholtz voorgedra by sy ontvangs in 1996 van die Eugène Marais-prys vir sy roman Vatmaar (Die Burger, 19 November 2007)

Is ‘goed lieg’ ’n vereiste om ’n goeie skrywer te wees (Stephanie Nieuwpudt): “’n Leuen se skepper is die leuenaar en ’n goeie leuenaar of eerlike mens weet hoe om sy goed sleg te balanseer, waar hy buite die storie staan.” (Die Burger, 29 Julie 1998)

“’n Skrywer sonder ondervinding en mensekennis sal ’n swak skepper van lewendagge gedagtes op papier wees.” (Die Burger, 29 Julie 1998)

Watter behoefte bevredig die skryfproses by hom (Stephanie Nieuwoudt)? “Daar sal altyd net 'n eerste wees. Die eerste houvas van jou baba in die kraamsaal en die eerste houvas van jou skryfwerk in die vorm van ’n boek. Alle babas en alle boeke is ’n entiteit op hul eie. Skryfwerk gee net bevrediging as dit aanvaar word.” “…” (Die Burger, 29 Julie 1998)

Hy het sy lewe op onderdanigheid gebou (aan Kobus Burger): “Ek het vroeg in die lewe gevind dat as jy onderdanig is, dan leer jy makliker. Maar onderdanigheid kan nie saam met onbeskoftheid gaan nie.” (Beeld, 12 Desember 1996)

Gebore en getoë

Andrew Henry Martin Scholtz is op 28 Julie 1923 in Kimberley gebore, die oudste van tien kinders. Sy ma was ’n “huismoeder”, soos hy self sê, en sy pa was ’n tuig- en saalmaker. Andrew slaag sy standerd vyf aan die Beaconsfield Coloured School in Kimberley, maar moet die skool verlaat om te gaan werk nadat sy pa sy heup gebreek het en bedlêend was. Sy ma kry vir hom werk by sy oom as ’n skrynwerkersleerling.

Verdere studie en werk

As gevolg van die gebrek aan geld en die nood wat hulle ondervind het, het die jong Andrew gedwing gevoel om hom in Oktober 1940 by die leër aan te sluit. Hy was net 17 jaar oud, maar het vir hulle vertel dat hy 21 jaar oud is. Hy wou aanvanklik by die Kaapse Korps aansluit, maar daarvoor moes hy ’n bestuurderslisensie hê en dít het hy nie gehad nie. Hy het gevolglik by die Artillerie-eenheid aangesluit. Almal het hom as blank aanvaar en hy het hom dit laat welgeval “om my familie te laat eet, nie om ’n witman te wees nie”.

Hy het later erken dat om ’n soldaat in ’n wit bataljon te wees, ’n groot indruk op hom gelaat het. Hy moes hierdie leefwyse vir vyf jaar volhou sonder om ooit sy masker te laat glip. In 1945, nadat hy in Kenia, Ethiopië en Egipte geveg het en ook twintig maande ’n krygsgevangene in die noorde van Italië was, het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het egter nie betyds ontsnap om sy pa te groet voordat hy gesterf het nie.

Op 12 Junie 1948 trou Andrew en Gazina Ortell, die moeder van sy twaalf kinders, in die hof in Kimberley. Die nuwe bestel in Suid-Afrika ná die Tweede Wêreldoorlog het Andrew ontnugter gelaat en hy het besluit om hom weer te wend tot die ambag waarvoor hy hom as jong man bekwaam het. Hy het vir ’n ruk as ’n bouer en skrynwerker in Swaziland gewerk, asook later in Botswana. Daarna het hy as bou-aannemer in Mafikeng gaan werk. Een van sy grootste ideale was om eendag sy eie beesplaas aan te skaf. Geld was nie die probleem om sy eie Bosveldplaas te besit nie, maar wel die apartheidswetgewing wat ’n stokkie voor hierdie ideaal gesteek het.

Annari van der Merwe skryf in Die Burger (19 November 2004) dat hy eers na sy aftrede, “ná ’n leeftyd van harde werk in sy ruim en selfgeboude huis, hom kan wy aan die dinge van die gees – ’n diep godsdienstige instelling wat sy skryfwerk gevoed het en dit gesuiwer het van bitterheid. Sy skryfwerk is deurspoel met erbarming en geduld met menslike swakheid en dit verklaar die aanklank wat sy werk by so ’n wye spektrum mense gevind het.”

In 1995 debuteer Andrew op 75-jarige ouderdom met sy debuutroman, Vatmaar: ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie. Vatmaar is in wese ’n boek met ’n Afrikaanse siel. Andrew het dit egter aanvanklik in Engels geskryf – in skoolkladboeke in sy eie handskrif waarna sy dogter dit oorgetik het. Hy het drie jaar lank aan die storie geskryf en gewerk en het dit daarna na die uitgewers David Philip in Kaapstad gestuur. Hulle het dit egter na die pasgestigte Kwela Boeke aangestuur omdat hulle gemeen het dat Engels nie reg aan die storie sou laat geskied het nie. Kwela Boeke is juis gestig om “nuwe talent te ontdek, te identifiseer en te ontgin”. Hy het self vertel wat daarna gebeur het: “Annari van der Merwe van Kwela Boeke sê toe ‘Dis ’n Afrikaanse storie, man, ons maak dit Afrikaans.’ Wat’s sy naam, Wium van Rensburg, nee Wium van Zyl, hy’t dit oorgetolk. Toe hy klaar is, stuur hulle dit aan my, en toe’t ek nou veranderinge gemaak, want sy Afrikaans is ’n bietjie te hoog. Jy weet, hy sê ’n vrou se dy; ek weet nie wat’s ’n dy nie, dis ’n boud. Ons sê ook nie wildheid nie, maar praat van wildigheid. Die’t ek dan verander. Want dis Afrikaans met ’n difference. Dis gaat eerder as gaan.” Annari getuig ook dat Vatmaar dié boek is wat in haar loopbaan as uitgewer bo alle ander boeke uitstaan.

Andrew het ook verder vertel dat Vatmaar sy ontstaan gehad het uit stories wat sy ouma aan hom vertel het, asook oor dít wat hy geweet het van die mense van die outyd toe mense “met liefde gelewe het en dit nie ’n skande was om met ’n gelapte broek te loop nie”.

Jakes Gerwel het as volg oor Vatmaar geskryf: “AHM Scholtz se eerstelingroman Vatmaar – ’n storie van die bruinmense van Suid-Afrika – is ’n merkwaardige letterkundige gebeurtenis. Die skrywer, met weinig van die opsigtelike literêre geskooldheid van die tipiese Afrikaanse skrywer, openbaar hierin ’n verbluffende tegniese beheer oor die verwikkelde ineengevlegtheid van verhaallyne, magdom van karakters, verskuiwing van tydsvlakke en afwisseling van perspektiewe terwyl hy steeds die ongekunsteldheid handhaaf waaraan die vertelling en uitbeelding hul egtheid en oortuigingskrag ontleen.”

En hy is nie al een wat so dink nie, want in 1996 loop Vatmaar weg met die Eugène Marais-prys, die M-Net-prys en die CNA-Debuutprys – ’n uitsonderlike prestasie vir ’n debuutroman. Vatmaar word ook vertaal in Nederlands deur Riet de Jong-Goossens en hierdie Nederlandse uitgawe beleef ’n tweede en derde druk. Dit word in Duits vertaal deur Arnold Blumer en die Engelse vertaling is deur Chris van Wyk behartig. In 2002 verwerk die bekende regisseur Janice Honeyman die roman vir die verhoog en première dit met groot welslae in die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch voordat dit ook by die KKNK en in die Baxter- en die Staatsteater op die planke gebring word. Honeyman ontvang in 2003 ’n Fleur du Cap-toekenning vir hierdie produksie.

Nadat Andrew die pryse vir Vatmaar gewen het, het Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 29 Julie 1998) aan Andrew gevra of sy lewe dalk anders sou uitgewerk het indien hy op ’n jonger ouderdom sou begin skryf het. Hierop het hy geantwoord: “Daar is ’n tyd vir alles, ’n tyd vir geboorte en ’n tyd om dood te gaan. Ek het nie veel lewenstyd oor nie. My siekte, asma, het my laat skryf. Ek kon nie meer so vryelik rondbeweeg soos toe ek nog ’n bou-aannemer was nie. Om besig te bly, het ek begin skryf. As ek vroeër moes geskryf het, het my siekte my vroeër ingevang. ’n Skrywer se skryfwerk verander by die dag, al het hy ook sy storie uitgelê.”

Die resensies oor Vatmaar was oorwegend baie positief. In Beeld van 4 Desember 1995 skryf LS Venter as volg: “Alles wat die skrywer hier (in die voorwoord tot die roman) oor sy eie roman sê, is waar. Maar dis beperk. Want in hierdie boek groei die stories van ’n eenvoudige bruin gemeenskap uit tot ’n roman wat die raaisels en diepte van menslike geluk en ongeluk peil.”

“Dat die mens in Vatmaar bly en arm en veronreg is, word in hierdie groei van storie tot roman half toevallig. Die lokale en anekdotiese word verruim tot ’n romangeheel wat oortuig en boei omdat dit ’n kunstenaarsvisie op al wat menslik is, bevat.”

“Die roman is los van bou, maar nie daarom struktuurloos of saamgeflans nie. In so ’n sestigtal hoofstukke vertel ’n hele aantal fiktiewe vertellers hulle verhale oor Vatmaar en sy mense. Elke storie voer die verhaallyn verder of vul ’n vorige vertelling aan. Hieraan lees die leser al klaar geboeid. Terselfdertyd dra elke storie by tot ’n sentrale romanidee, naamlik dat die mens net mens binne ’n gemeenskap is. En die geheue van hierdie gemeenskapbestaan is die stories wat vertel word.”

“Die hele struktuur van Vatmaar berus op die storieverteltradisie van die ongeletterde mens. Stories is in die Vatmaar-wêreld ’n veredelde en dikwels hoogs gestileerde kulturele besit. Wat daarin in herinnering geroep word, is die ontstaansgeskiedenis van die plek waar die mens bly, die familiegeskiedenis van jonk en oud, die groot skandes en skades en raaisels van die ou tyd. Om met die subtitel van Vatmaar te praat: stories hou die tyd wat nie meer is nie, ’n ‘lewendagge’ ding.”

“Dis nie net die inhoud van die stories in Vatmaar wat vol heerlike afwisseling en verbeelding is nie. Ook die aard van die stories en die storievertellers verskil. Daar is dié vertellers wat weet hoe om ’n kort storie lank te maak; daar is stories wat herhaaldelik vertel word; maar daar is ook stories wat net eenmaal vertel word, omdat dit te seer of te verleë maak.”

“Omdat die gesproke woord vir die ongeletterde mens ’n denkwyse is, kom daar in die vertellings van eenvoudige karakters skreinende en soms aforistiese formulerings voor. Nêrens klink dit egter onnatuurlik of geforseerd nie. (...)”

Vatmaar bied die leser dieselfde vreugde en stof tot nadenke wat Engela van Rooyen met haar Met ’n eie siekspens dit onlangs en Elsa Joubert dit destyds met Die swerfjare van Poppie Nongena gedoen het. Dis die soort roman wat Mikro met Die koperkan en FA Venter met Swart pelgrim probeer skryf het, maar nie kon nie. Scholtz se roman is derhalwe ’n belangrike gebeurtenis in die Afrikaanse prosakuns.”

Op LitNet skryf Chris van der Merwe dat daar nie in Vatmaar ’n hoofkarakter is waarom die roman gebou is nie, maar dat die dorp Vatmaar sentraal staan en dus kan ’n mens die dorp die ‘hoofkarakter’ noem – “al die verskillende karakters en verhale in die boek vorm ’n soort mosaïekpatroon, waarin alles saam bydra om ’n beeld te gee van die tipe plek wat Vatmaar was.”

Vir Van der Merwe is daar veral twee temas wat vir hom die belangrikste is. “Die eerste is die probleem van onskuldige lyding. Die roman bring die vraag na vore: waarom verhinder God nie dat ’n goeie mens swaarkry nie? Sorg God dan nie vir die goeies en straf die slegtes nie – waarom gebeur daar soveel dinge op aarde wat onregverdig lyk?”

“Tant Wonnie is seker die duidelikste voorbeeld van ’n goeie mens wat onverdiend swaarkry. Waarom moet sy so arm wees? Waarom moet sy onregverdig van diefstal aangekla word? Waarom moet sy in die tronk beland? Uit die geskiedenis van Tant Wonnie blyk dit egter dat die goeie mens (dikwels) wel geluk vind, maar eers na ’n tyd van swaarkry. Nadat sy in die tronk was, word Tant Wonnie vrygespreek en kry sy ’n pensioen. So ook, nadat Kenneth sy geliefde Kaatjie aan die dood afgestaan het, vind hy geluk met Suzan. Die feit dat hy Kaatjie verloor het, bring hom na Vatmaar, waar hy geluk saam met Suzan vind en vir Vatmaar ’n kliniek laat oprig. Die slegte dinge het wel ’n gelukkige en sinvolle einde – alles werk ten goede uit.”

Die volgende belangrike tema in Vatmaar is dié van die liefde. “Dit gaan om die liefde tussen man en vrou, maar ook die liefde in die algemeen tussen mens en medemens. Die liefde wat in die roman waardeer word, is ’n goedheid wat oor grense gaan: grense van taal, van ras en kleur, van kerk en geloof. Teenoor die algemene menslike neiging om mense wat ‘anders’ is, te veroordeel en te verstoot, is daar die helde en heldinne van Vatmaar met ’n grenslose goedheid: byvoorbeeld Ma Khumalo wat ’n blanke seun as kind aanneem en hom grootmaak; Oupa Lewies met sy liefde vir ’n swart vrou; Suzan wat vir Nellie Ndola troos, al is sy onaantreklik en donkerder van kleur.”

Van der Merwe eindig sy bespreking só: “Scholtz se romantiese uitbeelding van die wêreld van sy jeug, sy nostalgiese terugkyk na ’n verlore platteland – dit is in die Afrikaanse prosa nie onbekend nie. Maar Scholtz se boek is totaal anders as die tradisionele plaasroman. Hier is die ‘gekleurdes’ nie op die rand van die verhaal nie, maar in die sentrum. Hier is die opset nie patriargaal nie, maar vroue en mans is gelykes, met vrouekarakters wat dikwels die hooffigure is. In Scholtz se roman is daar nie ’n enkele verteller nie, maar ’n reeks vertellers, want Vatmaar is almal se storie – Vatmaar gee stem aan ’n hele gemeenskap.”

Ná die verskyning van die Nederlandse vertaling was ook die ontvangs in Nederlands oorweging positief. Gawie Keyser (Die Burger, 20 Oktober 1997) het berig dat Vatmaar ’n wêreld wat aan die Nederlanders onbekend is, blootgelê het, veral die feit dat Afrikaans nie net deur blankes gepraat word nie.

In Zuidelijk Afrika skryf Margreet de Lange: “Vatmaar is ’n pragtige boek, waarvan die literêre waarde minstens gelyk is aan die politieke belangrikheid van die publikasie daarvan.”

Robert Dorsman wat self ook verantwoordelik is vir vertalings in Afrikaans, skryf in Trouw “dat die skrywer deurgaans die baas bly oor sy vele karakters, mense met wonderlike name soos Ta Vuurmaak, Tant Wonnie, Boitjie Afrika... en Hendruk Jannewarie. Scholtz bring hulle oortuigend tot lewe; hulle word nooit marionette nie.” Dorsman vind dat die humor “van elke bladsy af dans”.

Dorsman gaan voort: “Die vernaamste probleem was miskien om die regte toon te vind. Scholtz se Afrikaans is bedrieglik eenvoudig; skynbaar agteloos vertel hy sy verhaal, en die Afrikaanse taal lyk so baie soos Nederlands. Dit lees soepel; die vertaling doen reg aan Scholtz se ongedwonge gewone-mensestyl. Die vertaling moet liefs naas die oorspronklike teks gelees word.”

Chris van Wyk was verantwoordelik vir die Engelse vertaling van Vatmaar wat in 2000 verskyn het. Hy het aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 14 Junie 2000) vertel dat die vertaling van Vatmaar Afrikaans weer vir hom “oopgemaak” het, aangesien dit ’n taal is “waarin jy soveel emosies kan uitdruk. Die verhaal het my ingetrek. Die boek is ’n herinnering aan ’n vergete tyd. As die mense van Suid-Afrika werklik ten volle ontwikkelde mense wil wees, moet hulle ook van hul verlede weet. Die mense van Vatmaar is simbolies van die Suid-Afrikaanse gemeenskap, waar mense van verskillende kleure en agtergronde tog bymekaar uitgekom en ’n nuwe gemeenskap gevorm het. Vatmaar is ’n historiese dokument wat vir elke mens van hierdie land van waarde behoort te wees.”

Oor die proses van die vertaling self het Van Wyk aan Nieuwoudt verduidelik dat dit vir hom makliker is om “woord vir woord te vertaal en dan later terug te gaan om aan die teks te skaaf sodat ’n sekere gevoel oorgedra kan word. Selfs al is dit hoe aanloklik, probeer ek om nie die teks aan te pas nie, want dan ontneem jy die skrywer van sy skepping. Die uitdaging was om nie net die woorde en beelde te vertaal nie, maar ook om die sentimente van die karakters oor te dra. Sommige woorde soos ta en ’n eienaam soos Vuurmaak kan jy nie vertaal nie, want dit is so inherent deel van die gemeenskap en die storie. Die woorde is ook behou met ’n glossarium, waar woorde soos skollie, tjarrie en vastrap verduidelik word.”

Chris van Wyk het ook vertel dat Vatmaar hom heeltemal onverhoeds betrap het. “Nadat ek hierdie pragtige boek gelees het, het ek die skrywer gebel en gesê ek het dit só geniet, ek sou dit graag self wou geskryf het. Hy het die kompliment innemend aanvaar, maar mnr Scholtz het nie besef in hoe ’n mate ek bedoel het wat ek gesê het nie.”

“Wat ek bedoel het, was dat skrywers gebore word om te skryf. Hulle word gebore met daardie misterieuse drang om vir ander mense stories te vertel. Om hul vaardigheid te slyp, lees hulle dan baie ander mense se stories. En literêre teorieë. En uiteindelik begin hulle vergeet dat al wat hulle eintlik wil doen, is om ’n storie te vertel.”

Vatmaar is ’n oorspronklike werk; daar is geen literêre teorieë, geen slypskool-nonsens, geen desperaatheid om gehoor te word nie. Geen kleur- of geurmiddels nie. Dit is skoon, vlekkeloos, suiwer. En dit pols met sy eie betowering.”

“Al wat ek sal doen as ek volgende keer ’n slypskool vir ontluikende skrywers aanbied, is om hulle aan te sê om Vatmaar te lees en só te skryf wat waarskynlik die moeilikste ding op aarde is om te doen. Rushdie se Midnight’s Children is beskryf as ’n vaart op ’n see van stories. Vatmaar dobber stadig op ’n rivier van verhale, onopvallend, op sy eie dierbare, hartseer tyd totdat jy tot op die boot verlei word en dan kán jy nie, inderdaad wíl jy nie, aan wal gaan nie.”

“Om dit anders te stel, om Vatmaar te lees, is soos om op ’n lui agtermiddag ou, swart-wit foto’s gewys te word deur ’n ouma. En dan vertel Ouma jou hoekom dié mooi vrou so jonk dood is, hoe dit gekom het dat daardie man blinde kinders gehad het, hoe hierdie mense te werk gegaan het om ’n gesteelde diamant te verkoop.”

“Terwyl die Suid-Afrikaanse letterkunde voortgaan om ons ou bekende landskappe te wys, neem Vatmaar ons na ’n plek en tyd wat deur geskiedenis en ideologie uitgewis is, wel, byna. Boeke soos Vatmaar behoort elke dag geskryf te word. Dit gaan egter ’n lang tyd neem voor ons weer ’n storie soos dié gaan hoor.” (Beeld, 15 Mei 2000)

Oor die verhoogstuk het die regisseur, Janice Honeyman, aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 10 April 2002) vertel dat sy die roman vir die verhoog verwerk het omdat Vatmaar ’n boek oor die land en sy mense is. “Ek dink aan alles in terme van die teater. Vatmaar is ’n boek wat ek onmiddellik besef het ek in teater kan omskep. Deur hul eie stories kan nasies hul eie geskiedenis ontdek en die konteks daarvan verstaan binne die tyd waarin hulle leef. Eie stories is uiters belangrik vir ’n nasie om trots in sy identiteit te kweek. As Suid- Afrikaners of dit nou ons krieketspan of ons akteurs is, het ons só ’n minderwaardigheidskompleks oor ons Afrikanerskap dat dit ons verlam. Dis nonsens. Ons is net so goed soos enige ander nasie.” (...)

“Die boek het my geroer oor die hart en die gees van die skrywer wat deur sy karakters na vore kom. Dit vergestalt onskuld en oorlewing in moeilike omstandighede danksy liefde, ondersteuning en mededeelsaamheid.”

Sy het op daardie stadium nog nie ’n kans gehad om met Andrew Scholtz te praat nie. “Ek wil ’n video maak en dit vir hom Mafikeng toe vat. Ek wens hy kon fees toe kom, maar hy is te siek vir die reis.”

Op die KKNK se Voorbrandfees het Honeyman Vatmaar voor gehore in die bruin gemeenskappe opgevoer. “Dit was een van die ongelooflikste ervarings van my lewe. Die stuk is na die gemeenskap waaruit dit gebore is, geneem. Die mense het uit die gehoor met die akteurs gepraat. Van kinders tot ouers het hulle ten volle in elke oomblik ingeleef.”

“Ek wil hê die stuk moet Johannesburg toe gaan, en Okiep toe, en Springbok en Oranjemund en Carnavon en Citrusdal en Clanwilliam toe. Ek wil hê elke Suid-Afrikaner moet die verhaal as hul eie opeis.”

“Kunstenaars is deur ’n tyd toe hulle onseker was oor die boodskap wat hulle moes uitdra. Hulle was so gewoond om die vorige bestel te kritiseer, dat hulle nie geweet het wat om met die nuwe regering te doen nie. In dié tyd het industriële teater gedy. Maar die afgelope paar maande kry ek die gevoel dat kunstenaars meer selfvertroue het om te sê wat hulle wil. Die argument dat gehore musiekteater wil hê en nie kans sien vir drama nie, is twak. Teatergangers sit deur die lang Vatmaar. Hulle is honger vir drama.”

Intussen sit Andrew nie stil nie en nog twee boeke vloei uit sy pen voort. In 1996 verskyn Langsaan die vuur: vyf lewensverhale, waarin daar verhale is wat deurdrenk is van ware pyn en lyding wat daagliks in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ervaar word. Gabriël Botma was Die Burger (30 Julie 1997) se resensent van Langsaan die vuur. Die vyf verhale in die boek kan gesien word as “lewensverhale” wat die periode dek vanaf die geboorte van Kasper Crudorp in 1695 tot en met die dood van ’n sekere Kwela Modise in 1982.

Vir Botma was die een groot negatiewe punt van Langsaan die vuur dat die verhale nie ’n geheel vorm nie en nie soos die omslagteks dit beskryf, “een groot verhaal oor die ‘agteruit dae van gister’ is nie.” Botma het voortgegaan: “’n Taamlike teleurstelling, want seker die uitstaande aspek van Vatmaar was juis die manier waarop ’n magdom karakters en stories tot ’n geheel saamgesnoer is.”

“Waar Vatmaar in alle opsig verras, verbaas, vermaak en ontroer het, is Langsaan die vuur ’n afskaduwing. Dit is asof jy voorstudies van die meesterstuk lees, of stukke wat nie daardie fassinerende legkaart gehaal het nie. Maar selfs al aanvaar jy dat Langsaan die vuur eerder as ’n versameling kortverhale as ’n roman beoordeel moet word, verdwyn die spook van Vatmaar nog nie.”

“Die parallelle met van die karakters en situasies in Vatmaar is in die meeste gevalle net te sterk. Waar die skrywer wel beduidend daarvan afwyk, soos in die eerste verhaal van die slaweseun wat later met sy eienares trou, en die laaste een oor die vryheidsvegter, is die resultate nie heeltemal oortuigend nie. Dit strek Scholtz nietemin tot eer dat hy dit regkry om selfs ’n afkeurende, onwillige leser soms te laat regop sit. Al is dit net deur ’n oorspronklike woord of frase, of met die ontwapenende menslikheid wat die onderbou van sy verhale vorm. Uit dié oogpunt is dit beslis die moeite werd om Langsaan die vuur te lees.”

In Beeld van 21 April 1997 sluit LS Venter sy bespreking van Langsaan die vuur as volg af: “Wie Vatmaar en Langsaan die vuur optel en lees, kan daarvan verseker wees dat hy/sy die vriend word van ’n verteller wat met die diep wysheid van ’n eenvoudige mens na ’n groot stuk Afrikaanse lewe kyk.”

In 1998 word Afdraai: ’n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering gepubliseer. Laasgenoemde, wat hy ’n roman van versoening noem, se aanvanklike titel was Tapisserie en dit handel oor die Anglo-Boereoorlog en sy nadraai.

Vir Phil du Plessis (Die Burger, 14 April 1999) was die grootste pluspunt van Afdraai die feit dat daar geskryf word oor sekere fasette van die Afrikaanse kultuur wat nie baie aandag geniet het in die verlede nie. “Die landelike gemeenskappe wat ten tye van die Anglo-Boere Oorlog in die republieke gewoon het, was ’n etniese mengsel, maar Afrikaans was ’n gemene deler, so ook die feit dat hierdie pioniers uit noodsaak gesorg het dat so ver moontlik vrede en toegeneentheid geheers het.”

“Scholtz se dorpie Afdraai, met die Brinks en hul bywoners die Oliviers, en as arbeiders die Juriese en Photso’s op Brinks Pos daar naby, word deur die skrywer met regte lewens geskiedskryf. Afrikaans as ontwikkelende taal is ’n belangrike deel van die kroniek. Die destydse Afrikaans wat die karakters gebruik, het die eenvoudige, direkte segging van die vroeë taalbewegings.”

“Ná die Tweede Wêreldoorlog, met die opkoms van gewettigde wit rassisme, verloor beide gemeenskap en taal deernis. Dat die skrywer hom in sy verhaal nie werklike wraak toeëien nie, is ’n kenmerk van sy duidelik piëtistiese geloof. Van plaas na konsentrasiekamp praat Scholtz dieselfde taal as in die vroeë vertellings van Magrietha Uys. Sy deel egter glad nie die skrywer se vergewensgesindheid nie.”

“In ’n verhaal wat oor ’n halwe eeu verloop, is dit natuurlik dat karakters sterf. In die helfte van die vertelling tref ’n weerligstraal Joshua en Hester, die sentrale karakters van die boek, een van die mees melodramatiese oomblikke.”

“Ongelukkig is dit ook asof die weerligstraal die boek toe getref het, want die hele vertelling verloor stoom. Mens voel daarna dat elke moontlike manier gebruik word om elke los draadjie met mening na die einde toe vas te maak.” (...)

“Op die ou end, in geheelindruk, is die verhaal té kompleks verweef, en gemanipuleer vir effek. My vertwyfeling oor die boek se waarde as skeppende literatuur het eers met die tweede en derde lees gekom. Die eerste lees was proe-proe, soos aan ’n nuwe bottel konfyt. Daarna het dit te soet geraak, sandsuiker en al. As roman is die styl soms werklik te outyds.”

“Aan die outentisiteit van ’n volksvertelling soos dié is daar nie te twyfel nie, en die boek het wel ’n emosionele slaankrag en baie kostelikhede. As skeppende literatuur is dit egter ’n goedversorgde, maar moeë ou motorkar wat jare lank op die sinkplaatpaaie van die ou republieke die stof laat opslaan het. Die nuwe verf van publikasie besorg daaraan geen groter literêre waarde nie.”

George Weideman (Rapport, 24 Januarie 1999) het as volg geskryf oor Afdraai: “Die vertelling is ’n mengsel van gelatenheid en emosionele opwelling en Scholtz slaag veral wanneer hy onderbeklemtoon. Die vertelling begin wel in die onlangse hede: twee susters en hul plaasvoorman haal uit dekades se rommel ’n aangeslane koperemmer vol skietgate, asook ’n paar velletjies papier wat gebruik is om ’n kas se laaie te bedek.”

“Dis hierdie ‘artefakte’ wat Scholtz gebruik om geslagte wit, bruin en swart se lotsverbondenheid storiegewys saam te snoer. Die byna onleesbare kampdokument word dan vanaf die tweede hoofstuk die beginpunt van die vertellinge, langs verskeie kleiner ‘geskiedenisse’, van Brinkspos en Afdraai se mense. Hoe dié mense ná 1948 uitmekaargedryf word, is hier nie net statistiek en dokumentasie nie; dis rou tot op die been.”

“Op die ou end, wanneer die leser terug is in die ‘hede’, is die oorheersende gevoel: ons moet na mekáár toe afdraai; ons het mekáár nodig. Soms hinder lastige perspektief-wisselinge; soms is daar veral aan die begin ’n soort ongemaklikheid in die vrystelling van inligting en kom dit nie altyd spontaan oor nie. En dan is daar die talle kere dat karakters die gang van die geskiedenis ‘voorspel’. Die ‘wete’ dat daar eendag ’n man uit die gevangenis gaan kom om die swartes te verlos (p 12 en verder) is myns insiens ’n hinderlike ideologiese greep. Die hinderlikste is dalk die manipulerende rol van die toeval, wat meebring dat die storie soms aan geloofwaardigheid inboet.”

Afdraai is ’n knap kroniek; knap vanweë die krag van sy eenvoud, die byna naïewe vertelstyl, die fyn flitse karakterisering en bowenal die onmiskenbare strekking van menslikheid en van ‘vergeefnis’, ‘erbarming’ en ‘versoening sonder maat’, soos wat die skrywer in sy opdrag en nawoord bepleit.”  

Andrew skryf ook gedigte, maar dit is nooit gepubliseer nie.

In 2002 vereer die Afrikaanse Skrywersvereniging vir Andrew deur die Patrick Petersen-gedenkprys aan hom toe te ken. Rudi Daniels onthou dat die ASV dit gedoen het omdat Andrew deur sy werk gestalte gegee het aan ’n belangrike doelstelling van die organisasie, naamlik “om die stories te vertel van mense wat andersins nie vertel sou word nie; om gesig te gee aan die gesigloses; en om stem te gee aan die stemloses”.

In 2009 is AHM Scholtz met ’n Suid-Afrikaanse Literêre toekenning (Sala) vereer in die kategorie postume literêre toekenning.

Op Woensdag 17 November 2004 sterf Andrew Scholtz op Mafikeng aan akute asma nadat hy die laaste twee maande van sy lewe ook blind was. Maar hy sal altyd onthou word vir Vatmaar.

Huldeblyke:

  • Annari van der Merwe: “‘Daar is in elke uitgewer se loopbaan een boek wat bo alle ander uitstaan,” het Danie van Niekerk, die voormalige uitvoerende hoof van Tafelberg, eenkeer gesê. Vir hom was dit Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Vir my is dit Vatmaar, slegs die derde boek wat onder die Kwêla-druknaam verskyn het. Selfs voor Vatmaar nog beskikbaar was, het ek geweet dat ek in my tyd by Kwêla nie ’n meer uitsonderlike publikasie sal hanteer nie. ’n Relatief groot eerste oplaag is gedruk, want, het ek vol oormoed gesê, as hierdie boek nie werk nie, verkoop ek my huis.”
    “Hy hét gewerk, en meer as enige ander boek het Vatmaar vir Kwela op die map gesit. Dié debuutwerk van ’n 72-jarige voormalige handewerker met net laerskoolopleiding is met drie literêre pryse bekroon, en was ’n sukses in Nederlandse, Duitse en Engelse vertaling. Dit is op die planke gebring en onlangs is ’n opsie op die filmregte geneem. Die simboliese betekenis van die man wat amper in ’n biegtoon, asof dit ’n beperking was, gesê het hy kan net oor die armes, oor die eenvoudiges van gees, skryf, is nie so maklik meetbaar nie. En nou is AHM Scholtz nie meer nie, net soos die tyd waarvan hy die ‘lewendagge verhaal’ in Vatmaar vertel.” (...)
    “Dit is vir Vatmaar – ’n storie van die bruinmense van Suid-Afrika – wat hy onthou sal word en waarmee hy die grootste bydrae tot die Afrikaanse letterskat van na 1994 gemaak het. Ek was bevoorreg om hom van naderby te kon leer ken, om intiem met sy unieke skryfwerk te kon werk, en saam met hom die ‘buite perke’ plat dak van die groot wit huis in Geraniumstraat te kon betree, waar hy soos ’n alchemis van ouds iets edels uit ’n vreemde blou vloeistof wou laat uitkristalliseer.” (Die Burger, 19 November 2002)
  • Willem Fransman jr: “’n Seder het in Mafikeng geval. Oom AHM Scholtz is nie meer nie. Maar wat ’n voorreg was dit nie om in sy teenwoordigheid te wees nie. Die oompie wat, met sy sagte stem, met soveel deernis kon praat oor ‘my mense’. En wat so gevoelvol daardie mense van sy grootword-wêreld met deernis en menslikheid kon teken.”
    “Ons eerste en enigste kennismaking was in Bloemfontein met die oorhandiging van die Patrick Petersen-toekenning wat die Afrikaanse Skrywersvereniging aan hom gegee het. Moeg van die lang reis vanaf Mafikeng na Bloemfontein het hy opgedaag. Hygend van die asma wat sy beweeglikheid sou beperk. Hy het die vertrek statig binnegekom. Amper soos ’n koninklike. Met al sy oorlogsmedaljes op sy bors het hy so trots, so fier, daar uitgesien. Sy aanvaardingstoespraak was ook nie deurspek met clichés nie. Nee, dit was eerder die woorde van ’n dankbare mens wat deur medeskrywers vereer word – en wat volgens hom nie waardig is om ‘so iets’ te verdien nie. Na die oorhandiging het ek ’n greep uit sy debuutroman, Vatmaar , opgevoer. Ironies genoeg nogal, die een oor die eerste begrafnis uit die Sendingkerk op Vatmaar. Dié van ouma Lewis!”
    “Na die vertoning het hy trane in sy oë gehad, opgestaan en my hand kom vat. Dit was die eerste keer dat hy sy eie werk op die planke gesien het. ’n Mens kon die dankbaarheid in sy oë lees. Vir hom was niks te veel moeite nie. Die uitlig van die klein mens het duidelik uit al sy werk geblyk. Maar daardie eienskappe was ook in homself teenwoordig.”
    “Hoewel dit nie wyd bekend is nie, was hy ook ’n digter. Maar hy was bowenal ’n fyn waarnemer wat oor sy bestaanswêreld met ’n eerlikheid geskryf het wat ons nie voor Vatmaar geken het nie. Hy het ’n nie-bruin leserskorps in die binnekamers van die bruin mense ingeneem en hul hartsgeheime ontsluit. Sonder pretensie. En sonder omhaal van mooi woorde soms.”
    “Annari van der Merwe moet ook baie krediet kry dat sy oom Henry ‘opgetrek het na ’n hoër plek en nie net daaronder gelos het nie’ (sy woorde). Vatmaar is haar vlagskip-produksie. ’n Seder het beslis geval in Mafikeng en die jong boompies (lees opkomende skrywers) treur oor sy heengaan. Die skrywerswêreld is van nog ’n stryder ontneem. Mooi loop, oom Scholtz.” (Die Burger, 20 November 2004)
  • Beeld hoofartikel: “‘Ek gaan ’n storie vertel van die bruin mense van Suid-Afrika,’ het AHM Scholtz in sy bekroonde roman Vatmaar Die verskyning van Vatmaar in 1995 was ’n belangrike gebeurtenis in die Afrikaanse letterkunde. Met dié boek het Scholtz skrywers wat vervreem was van Afrikaans teruggebring na hul moedertaal. Dit was nie langer ’n taal wat hulle net in privaatheid gepraat het nie, maar waarmee hulle hul in die openbaar kon identifiseer. Scholtz, wat net laerskoolopleiding gehad het, was die eerste skrywer sonder formele opleiding wie se werk gepubliseer is. Dit het aan ander die selfvertroue gegee om ook húl stories met lesers te deel. Laat ons vir Scholtz ’n kers aansteek omdat hy ’n bepaalde Afrikaanse leefwêreld vir ons oopgeskryf het soos nooit vantevore nie. En laat ons ook hulde bring aan sy uitgewer, Annari van der Merwe van Kwela, wat voorheen stemloses soos Scholtz ’n stem gegee het.” (Beeld, 22 November 2004)
  • Chris van der Merwe: “Met ’n pragtige humor en ’n sprankelende taal het Scholtz vir ons in sy drie boeke ’n aantal onvergeetlike karakters geskep; het hy nuwe ruimtes vir die Afrikaanse prosa en die Afrikaanse leefwêreld oopgemaak. Hy was ’n romantikus en ’n realis ineen, wat sowel die hoë ideale van ’n grenslose liefde as die harde realiteit van rassisme geopenbaar het. Sy werk is deurtrek met ’n positiewe religieuse instelling, maar beeld ook situasies uit waarin die gelowige kopskuddend sê: ’nee, nee, my God’ (Langsaan die vuur, p 115). Kenmerkend van sy oeuvre is die eenvoud daarvan; tog bevat dit ’n diepsinnige en gesofistikeerde lewenswysheid. Vir só iemand haal ek my hoed af.” (LitNet)

In sy huldeblyk op LitNet ná die afsterwe van AHM Scholtz vat Chris van der Merwe AHM Scholtz se klein, maar belangrike oeuvre as volg saam: “ (...) hy, wat maar min geleerdheid besit, besluit om ’n roman te skryf, en op 72-jarige leeftyd verskyn uit sy pen Vatmaar – ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie. Dit word ’n reusesukses, verower verskeie literêre pryse in Afrikaans en vaar ook uitstekend in Nederlandse, Duitse en Engelse vertaling.”

“Die meeste mense verbind Scholtz uitsluitlik met hierdie een grootse werk en vergeet van sy ander twee boeke: Langsaan die vuur – Vyf lewensverhale (1996) en Afdraai – ’n Kroniek (1998). In hierdie twee boeke toon Scholtz egter ook dat hy ’n uitstekende verteller is, iemand met ’n unieke styl en eie lewensuitkyk.”

“In Langsaan die vuur rig hy sy oog op vyf onbekende mense, soos wat hy self die grootste deel van sy lewe was, en vertel hul buitengewone stories. Die verhale het ’n dokumentêre inslag, met foto’s, geboorte- en sterfdatums daarby – Scholtz herinner ons aan die ‘stiltes’ in ons geskiedenis, hy wil aan die ongehoordes ’n stem gee. Die ‘terroris’ Kwela Modise van die laaste verhaal, wat uiteindelik as vryheidsheld vereer word, herinner ons daaraan hoe maklik die oordeel van die geskiedenis kan verander. Soos in sy ander werke, rig Scholtz hom steeds teen die kunsmatige verdelings in die samelewing en sien hy Afrikaans as bindende krag:”

“Ons is almal Afrikaners, sê Richard – soos in Engels gesê: African. En ons taal maak ons Afrikaans. Mens is die taal wat jy praat, Ethel, sê hy. Hulle gee die wit Afrikaners die naam Boere – wat ’n mooi woord is: mense van die land. Maar die Engelse se vrees draai ’n mooi woord om en sê: Boors, wat klink soos wildevarke op Engels. Dis ons almal se land, Ethel. Die land waarin jy gebore is, is jou land.” Sy klim op die bed. “Ek hoop hulle verander die lelike woord, Cape Coloured, sê sy moeg. Dit klink vir my soos ’n dier wat ingekleur is (p 77).”

“In Afdraai plaas Scholtz sy eie stempel op bekende temas in die Afrikaanse letterkunde: die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 en die plaasroman. Dit is asof hy afdraai van die ou bekende perspektief van Afrikaner-nasionalisme. Wanneer hy oor die konsentrasiekampe vertel, is dit nie Afrikaner-lyding wat sentraal gestel word nie, maar die feit dat ’n gekleurde persoon hier algemene waardering vind, anders as in die na-oorlogse jare. In die opbou van die verwoeste plaas is dit nie die blanke boereman wat sentraal is nie, maar ’n bywonervrou van gemengde afkoms; ook die belangrike rol van die gekleurde werkers word beklemtoon.”  

“‘Ras-egtheid’ word nooit by Scholtz op prys gestel nie, maar juis die liefde wat kunsmatige grense oorskry.”

“‘Die liefde ken nie grense nie’ – so sê Flip in die onvergeetlike toneel van Ouma Lewies se begrafnis in Vatmaar. ‘In my Father’s house are many mansions’ is die gepaste teksvers by hierdie geleentheid, waar daar uit die Engelse Bybel gelees word ter wille van Ouma Lewies se Engelssprekende man. Oom Chai, wat die diens lei, en Oupa Lewies omhels mekaar ‘soos net tweelinge kan’, haal elkeen sy kakiesakdoek uit en droog mekaar se trane af. Hierdie ‘tweeling’ kan nie deur die verskille in taal en kerkverband en ras geskei word nie.

“Die helde en heldinne van Vatmaar is diegene wat oor die grense van ras liefhet – mense soos die swart vrou MaKhumalo wat ’n wit seun aanneem, Oupa Lewies wat met ’n swart vrou trou, en Suzan wat vir Nellie Ndola troos, al is laasgenoemde swart en lelik.”

“Naas hierdie persone wat die ideale van die roman beliggaam, is daar egter ook ander wat die harde werklikheid van rassisme verteenwoordig, byvoorbeeld Oupa Lewies se twee kinders: Elsa, lig van kleur, Rooms-Katoliek en Engels, wat haar neus optrek vir die mense van Vatmaar, en Tommy, wat ’n swart vrou seksueel misbruik en dan verstoot.”

Vatmaar is ’n eenvoudige verhaal, maar dit is nie simplisties nie. Wanneer die goeie tant Wonnie onskuldig gearresteer word, kom oeroue kwelvrae na vore: Waarom moet die onskuldige ly? Waarom laat God dit toe? Wanneer tant Wonnie deur die konstabel tronk toe geneem word, flits ’n hele reeks herinneringe deur haar gedagtes. Hulle het almal te make met gevalle waar mense onregverdig ly – veral gekleurde persone wat deur blankes mishandel word. Tant Wonnie vind haar vrede deur die geloof in God wat in haar woon en haar onder alle omstandighede bystaan. Hoewel hierdie geloof deur ’n paar gevaarlike knikke gaan, het tant Wonnie se lewe wel ’n gelukkige einde – die gelukkige afloop wat so dikwels in Scholtz se werk te vinde is.”

“Sy boeke openbaar egter nie ’n naïewe siening dat goedheid altyd na verdienste beloon word nie. In teenstelling met die gang van tant Wonnie se lewe, waar haar geloof vrugte afwerp, is daar die geval van twee mense wat saam met haar in die hof beland: Benny O’Grady en Hendruk Jannewarie, wat albei van diefstal aangekla word. Benny steur hom nie aan die waarheid nie – sy advies is: ‘Onthou, sê altyd jy is onskuldig en doen jou bes om nie skuldig te lyk nie’ (p 163). Sy taktiek werk, en hy wen sy saak, alhoewel hy in werklikheid skuldig aan diefstal is. ‘Met ’n glimlag het hy gesê sodat almal dit kon hoor: Geregtigheid het geseëvier – en gedink aan die ander vyf skape wat hy by Mineer Lambrecht gesteel het’ (p 165). Hendruk, daarenteen, wat in werklikheid onskuldig is, en altyd die waarheid praat, en wat dink: ‘noulat ek die waarheid vertel het, sal die waarheid my vrymaak’ (p 171) – hy kry ag jaar hardepad.”

Publikasies:

Publikasie

Vatmaar: ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie

Publikasiedatum

  • 1995
  • Skooluitgawe 2008

ISBN

  • 0795700059 (sb)
  • 9780795702648 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 1996
  • M-Net-prys 1996
  • CNA-debuut-prys 1996

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens
  • Duits vertaal deur Arnold Blumer
  • Engels vertaal deur Chris van Wyk

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Langsaan die vuur: vyf lewensverhale

Publikasiedatum

1996

ISBN

0795700385 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afdraai: ’n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering

Publikasiedatum

1998

ISBN

0795700628 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor en deur AHM Scholtz beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post AHM Scholtz (1923–2004) appeared first on LitNet.

SJ du Toit (1847–1911)

$
0
0

Gebore en getoë

Stephanus Jacobus du Toit is op 9 Oktober 1847 op Kleinbosch, Daljosafat, in die Paarl-distrik gebore. Hy was die dertiende en jongste kind van David Petrus du Toit, ’n wynboer en Helena Elizabeth du Plessis. Sy vader was ’n regstreekse afstammeling van die Hugenoot, François du Toit, aan wie die plaas Kleyne Bosch (Kleinbosch) in 1692 uitgegee is.

Van die groot gesin het vyf broers en vier susters volwasse ouderdom bereik. Twee van die broers was Daniel François du Toit, later bekend as Oom Lokomotief en Charl Wynand du Toit, predikant eers van die NG Kerk en later van die NH Kerk.

Sy vader was die eintlike stigter van die Wellington gemeente waar SJ du Toit later predikant sou word.

Hy was ’n uiters begaafde leerling aan die skool op Daljosafat, en is later na die Paarlse Gimnasium, waar ds GWA van der Lingen en dr Arnoldus Pannevis van sy leermeesters was. Hulle het veel daartoe bygedra om hom te vorm en voor te berei vir die werk wat hy later so suksesvol sou aanpak.

Verdere studie en werk

Ná skool is SJ du Toit na die Kweekskool op Stellenbosch vir die vierjarige kursus aldaar om hom as predikant te bekwaam. Vroeg in die jare 1870 is SJ du Toit deur die Stellenbosse Kweekskool op ’n studiereis na Transvaal gestuur om kerklike kwessies te ondersoek. Ná sy toelating tot die amp van predikant in 1872 het hy ’n reis onderneem deur die Kaapkolonie, Vrystaat en Transvaal.

Met sy terugkeer het hy ’n ruk lank as hulpprediker op Wellington waargeneem en het hy, uit 12 beroepe, dié van Kruisvallei op Wellington aangeneem. In 1875 het hy die eerste predikant van die gemeente Noorder-Paarl geword waar hy werksaam was tot die einde van 1881.

SJ du Toit as kampvegter vir Afrikaans

Onder invloed van Pannevis het hy ’n vurige kampvegter vir Afrikaans geword. Na voorbereiding deur Pannevis en CP Hoogenhout is Du Toit die eerste Afrikaner – inderdaad die eerste Afrikaner “nasionalis” – wat in 1874 onder die skuilnaam “Ware Afrikaander” opgetree het as pleitbesorger vir die regte van Afrikaans as spreek- en skryftaal. Hy het ’n reeks artikels in De Zuid-Afrikaan oor “De Afrikaansche taal” geskryf, waarin hy bewys het dat Afrikaans die moedertaal van die Afrikaners is en gewaarsku het teen die verengelsing wat aan alle kante hoogty gevier het, met die wekroep: “’t is tijd dat gij ontwaakt!” Hy het sewe spelreëls opgestel, waarvan die eerste – “ons skryf soos ons praat” – reeds getuig het van gesonde taalinsig.

Hy het ook die leiding geneem in die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners en het die siel van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging geword. Hy was ook die stigter van die Taalbond en het saam met dr Hoffmann die eksamens afgeneem.

Hy het meegewerk aan die opstel van “Di Afrikaanse volkslied” (“’n Ider nasie het sy land”) en het gesorg vir die oprigting van die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, wat op 15 Januarie 1876 in die Paarl verskyn het as die mondstuk van die GRA. Hy was die eerste redakteur van die blad wat hy naas sy amp as predikant behartig het.

Hy was medeskrywer van die GRA se manifes en ander pleitstukke, belangrikste skrywer aan Die geskiedenis van ons land (1877) en opsteller van Die geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging (1880). Dit is, volgens JC Kannemeyer, duidelik dat Du Toit in die GRA nie slegs ’n suiwer taalbweging gesien het wat onder meer die Afrikaanse Bybelvertaling op hom moes neem nie, maar as ’n organisasie wat die nasionale bewussyn moes voed en die volksontwikkeling moes stimuleer. Vandaar dan ook sy medewerking aan die volkslied, eie blad van die GRA, woordeboek, grammatika en vaderlandse geskiedenis.

In 1896 het hy die Eerste Afrikaanse Taalkongres in die Paarl belê, gevolg deur ’n tweede in 1897. By die eerste kongres is ’n Afrikaanse letterkundige tydskrif, Ons Klyntji (1896 tot 1907) gestig waarvan Du Toit die redakteur was. Verskeie nuwe skrywers is deur die tydskrif ontdek.

Die politieke rigting wat SJ du Toit ingeslaan het, was die rede dat die Eerste Afrikaanse Taalbeweging waarvan hy 25 jaar tevore die vader was, teen 1900 doodgeloop het. 

In Volksblad van 28 Julie 2001 skryf Victor D’Assonville onder die opskrif “Du Toit-brief dalk eintlike ontstaan van 2de Taalbeweging”: “Die skrywer WA de Klerk het van Dal Josafat gesê: ‘Dit is ou Hugenotegrond, maar ook veel meer – dit is die mees inhoudryke stukkie aarde in die hele kroniek van die Afrikaner. Daar lê die spore van die oorspronklike Taalmanne, die aktiewe kern van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)'’. Die GRA het die Eerste Taalbeweging in 1875 op De Kleijne Bos begin.

“Maar met nuwe navorsing van onbekende briewe uit ’n argief in Potchefstroom kan ons vandag ’n stap verder as WA de Klerk gaan: Daar in Dal Josafat en wel op die plaas Schoongezicht (waar die Voortrekker Charl Cilliers gebore is), is ook die fontein waaruit die Tweede Taalbeweging (met as leier Gustav Preller van Pretoria) in 1905 opgeborrel het.

“Ná die Anglo-Boereoorlog het die toekoms vir die Afrikaanse taal weens lord Alfred Milner se onderwysbeleid baie donker gelyk. Op 6 Maart 1905 het JH Hofmeyr (Onze Jan) egter met ’n toespraak op Stellenbosch ’n vuurtjie aangesteek wat in die komende maande in Pretoria in ligte laaie opgevlam het. Met die vraag ‘Is ’t onz ernst?’ lewer Hofmeyr ’n vurige pleidooi vir die handhawing van Nederlands (nie Afrikaans nie).

“Gustav Preller, die jong assistent-redakteur van De Volkstem tree tot die stryd toe en wil aan Hofmeyr ’n antwoord gee: Nie Nederlands nie, maar Afrikaans! Afrikaans is die taal wat ons moet praat en skryf. Daar is egter ’n probleem: Preller is nie in staat om dit self te doen nie en in ’n dringende, vertroulike brief van 30 Maart 1905 vra hy SJ du Toit, wat toe op Schoongezicht gewoon het, om hom te help. Hierdie brief, wat eers in 1998 ontdek is, is só ’n buitengewoon belangrike dokument vir die geskiedenis van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, dat ’n uittreksel aangehaal moet word: ‘Wat ek nou van u as gelittekende veteraan op die gebied van die Afrikaanse taal wens om te weet, en wat ek beleefd versoek om my daaroor in te lig, is dit: Wat is reeds op hierdie gebied tot stand gebring?’

“As hierdie merkwaardige brief van Gustav Preller vroeg in April op Schoongezicht aankom, is SJ du Toit in die diepste armoede en verknorsing. Deur sy pro-Rhodes-politiek voor en gedurende die Anglo-Boereoorlog is hy ’n verstoteling onder die Afrikanervolk. Hy besit die plaas, maar deur sy geldelike terugslae het hy byna nie eens geld om kos te koop en sy skuldpaaiemente af te betaal nie. Sy omstandighede is só pateties dat hy nie eens genoeg ink vir sy pen het nie en hy vra aan Preller verskoning dat hy met ’n potlood skryf.

“Maar wat ’n merkwaardige, betekenisvolle brief op 4 April 1905! ’n Lywige antwoord van ses lang bladsye. Hier vind ons weer die dinamiese stryder vir die Afrikaanse taal op sy stukke. Hier sien ons ’n feniks wat uit die as opstaan. Du Toit se brief aan die jong Preller, wat hy aanspreek as ’neef, Stamverwant en Taalbroer’ word ’n ongelooflike, hartstogtelike, wetenskaplike resumé van Afrikaans se bestaansreg. In dié één enkele brief van SJ du Toit vind ons al die grondbeginsels van die Afrikaanse taal wat hy reeds in 1891 in sy boek Afrikaans ons Volkstaal bepleit het.

“Op sy beurt skryf Preller op 15 April 1905 sy tweede brief aan SJ du Toit nadat hy ook ’n klomp boeke van hom ontvang het, onder meer die werk Afrikaans ons Volkstaal van 1891. Hy vertel hoedat hy hom in studie afgesonder het: ‘Hartlik dank vir u geagte brief en al die boeke. Ek het my daarmee (soos ons in die oorlog gesê het) rantjie se kant toe teruggetrek. Nou het ek geen oog of oor vir ander dinge nie.’

“In stilte is een van die grootste gebeurtenisse in die Afrikaanse taalgeskiedenis gebore. En dit het by die plaas Schoongezicht naby die Paarl begin. Dit was inderdaad die ontstaan van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging in 1905.

“Gustav Preller het op 19 April begin om JH Hofmeyr se toespraak ‘Is’t ons ernst?’ te beantwoord. Dit word ’n reeks artikels in De Volkstem onder die titel ‘Laat ’t ons toch ernst wezen’. Dit is ’n pleidooi nie vir Nederlands (volgens Hofmeyr) nie, maar vir Afrikaans.

“‘Hierdie betoog kan beskou word as die manifes van die nuwe beweging’, skryf die Stellenbosse letterkundige, prof EC Pienaar in 1943. Hy gaan verder deur te sê dat dit ‘geen voortsetting van die Eerste Taalbeweging was nie, maar inderdaad ’n heeltemal nuwe taal- en kultuurbeweging in die volste sin van die woord’”.

In hierdie nuwe taalbeweging het SJ du Toit volgens Pienaar geen deel nie en is hy ’n ‘patetiese figuur’ (Die Triomf van Afrikaans, pp 214, 288, 292).

Maar is dit korrek? Die pas ontdekte dokumente vertel ’n heeltemal ander verhaal. Dit is selfs ’n skok, want Gustav Preller word in sy manifes as ’n slaafse naprater van SJ du Toit ontbloot. Preller se taalmanifes pas soos ’n legkaart in SJ du Toit se boek Afrikaans as Volkstaal en sy brief van 4 April 1905 van Schoongezicht in. Stelling ná stelling van Preller is die buikspraak van SJ du Toit.

“Slegs enkele voorbeelde uit tientalle ander bewys hoe sterk Preller sy stof letterlik van SJ du Toit en sy boek oorgeneem het. Die ironie is dat Du Toit se woorde in Afrikaans is en Preller se manifes steeds in Nederlands geskryf word. Die volgende aanhalings kom uit die oorspronklike bronne:

Preller: ‘De taal laat zich niet uitroeien dan met de uitroeiing van het volk’.
Du Toit: ‘Dit sal moeilik gaan om ons taal te wil uitroei; ’n volk laat hom nie maklik sy taal ontneem nie’.
Preller: ‘De geschreven taal van enige natie regelt zich onwillekeurig naar de gesproken woord’.
Du Toit: ‘Die skryftaal moet die spreektaal volg, nie omgekeer nie’.
Preller: ‘Onze schrijftaal verschilt só ver van onze spreektaal, dat voor ’t gros der Afrikaners het geschrevene als een vreemde taal is die zij nagenoeg nooit schrijven’.
Du Toit: ‘As ons vir ’n Afrikaner die eerste keer sy taal op skrif of in druk wys, dan lyk dit vir hom vreemd’.
Preller: ‘Da Costa se begripsbepaling is dat de taal een portret is van de geest in het leven van een volk, de afspiegeling van het karakter en het verstandsontwikkeling ener natie’.
Du Toit: ‘Die taal is ’n portret van die gees en lewe van ’n volk, die afspieëling van die karakter en verstandsontwikkeling van ’n nasie (Da Costa)’.

“Hierdie is slegs enkele voorbeelde van ’n eentonige, woordelikse, letterlike oorskrywe van SJ du Toit se stellings. Selfs die name Da Costa, Reitz, Beets, Max Müller en ander skrywers as bronne van Du Toit, word net so deur Preller oorgeneem.

“Die gedeeltes wat Preller uit Du Toit se brief van 4 April 1905 letterlik in sy manifes opneem, is baie opvallend. Hiermee enkele voorbeelde:
Preller: ‘Een taal wordt niet in mekaar gespijkerd, zoals men een stoel of een tafel maakt, doch groeit ...’
Du Toit (in sy brief): ‘’n Taal is nie ’n meganiese ding wat jy kan maak soos ’n tafel of ’n stoel nie, maar ’n organiese ding wat self groei...’

“Byna ’n eeu lank het nog geen taalnavorser die geskiedenis van die Tweede Taalbeweging aan die plaas Schoongezicht naby Kleinbosch verbind nie. Nog altyd word dit as ’n beweging geroem wat in Pretoria met Preller se Volkstem-artikels in die maande April tot Julie 1905 begin is. En tot vandag toe word Gustav Preller as die held gesien. Maar die rol van ds SJ du Toit in sy studeerkamer op Schoongezicht?”

SJ du Toit en die politiek

In Junie 1879 het SJ du Toit in ’n hoofartikel in Die Patriot die stigting van ’n “Afrikaner Bond” bepleit om die Afrikaners politiek bewus te maak; die Bond sou die vereniging onder een beherende liggaam beoog van alle persone wat Suid-Afrika as hul tuisland aanvaar: ’n Verenigde Suid-Afrika onder Britse kusbeskerming, maar met ’n eie vlag en ’n eie regeringsvorm wat uiteindelik op ’n Suid-Afrikaanse republiek moes uitloop. Kort hierna het hy die leiding geneem by die stigting van ’n politieke organisasie met onomwonde republikeinse oogmerke. Die organisasie het spoedig in die Kaapkolonie ingeslaan naas die bestaande gematigde Boeren-Beschermingsvereeniging van JH Hofmeyr (Onze Jan) wat hom slegs ekonomiese doelwitte stel.

Hofmeyr het daarin geslaag om die amalgamasie van die twee Afrikaner-organisasies te bewerk waarby hy die Bond van Du Toit se naam behou het, maar uit die program van beginsels die republikeinse strewe laat verdwyn het. Dat Du Toit die omvorming in 1880’s nie kon beheer nie, kon deels daaraan toegeskryf word dat hy toe nie meer in die Paarl was nie, maar reeds in die Transvaal. Hy het wel in 1882 se Program van beginselen van de Nationale Party met verklaring en toeligting gepubliseer, maar op die Afrikanerbond, waarvan hy die vader was, het hy in die jare toe dit in die Kaapse politiek ’n krag geword het, weinig invloed meer gehad.

Teen die einde van 1879 het ’n ernstige keelkwaal SJ du Toit begin aantas. Met verlof van sy gemeente is hy op reis na Europa waar hy kennis gemaak het met die invloedryke Nederlandse teoloog en staatsman, dr Abraham Kuyper wat later sy teologiese en politieke gids geword het.

Nadat Du Toit in Transvaal aangekom het, het dit baie goed gegaan met hom. Só goed dat hy aandele in goud en diamante opgekoop het en met monsters gouderts na Europa gereis het om die aandag van spekulante en myningenieurs op die nuutgevonde skatte van die ZAR te vestig, skryf Martiens van Bart in Bylae tot Die Burger (11 Julie 1998).

Toe het Cecil John Rhodes en SJ du Toit mekaar ontmoet. Hulle het ontdek dat hulle geesgenote is en Du Toit is ’n gereelde besoeker in Groote Schuur in Kaapstad waar hy ure lank in Rhodes se biblioteek deurgebring het. Dit was Rhodes wat Du Toit saamgenooi het om na die Zimbabwe-bouval te reis. Die bouval is van hoek tot kant opgemeet, gefotografeer en ondersoek. En Du Toit se Koningin fan Skeba was die uitvloeisel van hierdie reis.

Maar vir SJ du Toit het alles nie so goed afgeloop nie: Hy het al sy goud- en diamant-aandele verloor (ter waarde van nagenoeg £140 000), en so ook sy eiendom, sy predikantskap, asook sy pos as Kruger se regterhand. Hy het gevind dat hy meeste van sy vriende verloor het, dat Rhodes se vriendskap vals was en dat sy mede-Genootskappers en familie hom verag en verwerp het. In 1888 het hy bedank as superintendent van onderwys en in 1890 het na die Paarl teruggekeer as redakteur van Die Patriot.

Hy het op politieke gebied so vereensaamd geraak dat hy op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog in sy Afgeperste getuigenis pateties erken het dat hy onder stamverwante en geloofsgenote byna alleen staan. Nogtans het hy voor sy lesers die “ongeregtighede” van Transvaal voorgehou. Hy het Transvaal “land der scahndalen” genoem. Hy het sy eie posisie vergelyk met dié van die profete Miga en Elia, maar sy teenstanders het vir hom Agabsprofete en Baälpriesters gebly. In De Getuige het hy sy naam verdere groot skade aangedoen met ’n artikelreeks vanaf 15 Januarie 1900 in dieselfde trant: “Gedachten des vredens te midden van oorlog”.

Só heftig was die gevoel in hierdie tyd teen hom dat sy getrouste, vriend, mede-Genootskapper, Afrikanerbonder en eie broer, DF du Toit (Oom Lokomotief) op 7 Oktober 1899 geskryf het: “Ik heb lang gezwegen doch zou mijn geweten verkrachten indien ek nu niet getuigenis geeft dat, indien het tot een oorlog komt – het geen ik nog hoop en bid dat de Heere in zijn genadige ontferming moge afwering – maar mijn innige overtuiging, naast Rhodes, niemand in Zuid-Afrika grooter verantwoordelijkheid zal hebben voor het bloed dat zal vergoten worden dan ds SJ du Toit.”

SJ du Toit moes later nog ’n bitter pil sluk toe sy seun, Totius, besluit het om as predikant in die Gereformeerde Kerk te gaan studeer. Ten tyde van sy eksamen in 1899 het SJ du Toit verskeie briewe aan Totius gestuur om hom te waarsku dat die oorlog onvermydelik was en te laat weet dat hy ná sy eksamen reguit huis toe moes gaan. Maar die dag ná die uitbreek van die oorlog is Totius (as Kaapse rebel) saam met ’n kommando na Volksrust. Daar gekom, is hy begroet deur ’n telegram: “Verlaat onmiddellik die oorlogstoneel. Kom dadelik huis toe. Groete. Jou vader, SJ du Toit.”

Jaap Steyn skryf in Boekewêreld van 18 November 1998 dat Totius ná nadenke en gesprekke met sy vriende die pynlike besluit geneem het om sy vader se wens te verontagsaam. Hy was veldprediker tot die inname van Pretoria.

SJ du Toit en Paul Kruger

Die Eerste Vryheidsoorlog (1880 tot 1881) het Paul Kruger en SJ du Toit bymekaar gebring. Toe Paul Kruger in die Driemanskap saam met Piet Joubert en MW Pretorius sy stryd teen die magtige Groot-Brittanje vir die onafhanklikheid van Transvaal moes voer, was daar net één enkele koerant in Suid-Afrika wat die Boere se saak met geesdrif opgeneem het, naamlik Die Patriot van die Paarl. Deur middel van Die Patriot het ds du Toit, as redakteur, ná die anneksasie van Transvaal in 1877 eers ’n gees van lydelike verset gepropageer, maar naderhand het hy die gebruik van wapengeweld voorgestaan en het hy in Die Patriot gesê: “Lydelik verset is ydelik verset.” Die Boere het vir Du Toit hiervoor groot bewondering gehad.

Maar vir Kruger het dit nie net by bewondering gebly nie, skryf VE D’Assonville in Die Kerkblad (Julie 2004). D'Assonville skryf: “Hy het die Paarliet aangestel as superintendent van onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy het heelhartig saamgestem met SJ du Toit se beginsel van ’n Christelike onderwys vir die republiek.

“Du Toit het sy taak met groot ywer, oortuiging en bekwaamheid op 13 Maart 1882 begin. Sy onderwyswet (nr 1 van 1882) is deur die volksraad op 5 Oktober 1882 bekragtig. Die belangrikste grondbeginsels van die wet was dat die onderwys van die kind die taak van die ouers was; dat godsdiensonderrig die taak van die kerk was; en dat die onderwys op skool Christelik moes wees. Daar is bepaal dat die owerheid geldelike en ander steun aan die ouers sou gee, en die amptelike bydraes tot die skool is vasgestel. Die voertaal van die onderwys was Nederlands en daar sou vir elementêre en middelbare onderwys voorsien word.

“Die eerste paar jaar van SJ du Toit se termyn as superintendent van onderwys het die onderwys in die Transvaal vinnig vooruit geboer. Daar is skole op baie plekke gestig, toesig is uitgeoefen en inspeksie is gedoen. Die getal leerlinge het in daardie tydperk (1882 tot 1887) verdriedubbel. Maar Du Toit was te eersugtig om hom tot sy amptelike werk as hoof van die onderwysdepartement te bepaal en hy het tot die politiek begin toetree.

“Ná die Slag van Majuba het die Zuid-Afrikaansche Republiek weer groot aansien geniet. Daar moes egter oor baie dinge onderhandel word en in 1883 is SJ du Toit saam met Paul Kruger en generaal Nicolaas Smit na Europa. SJ du Toit was die 'geleerde' raadgewer wat die president in elke saak moes help en bystaan.

“Hierdie reis was ’n triomftog. Reeds op pad na Kaapstad waar hulle aan boord van ’n skip sou gaan, het die verwelkomingsfeeste begin. In die Paarl is hulle van 29 September tot 3 Oktober 1883 soos helde ontvang. In Londen het die moeilike samesprekings met die Engelse begin. Dokumente bewys dat SJ du Toit hier ’n besondere rol as bemiddelaar tussen Lord Derby, Britse minister van Kolonies, en Paul Kruger gespeel het. Hy was vlot in Engels met ’n skerp insig.”

Op die Europese vasteland was dit vir Kruger en sy manne ’n segetog. In Antwerpen is drie passasierskepe te water gelaat met die name “President Kruger”, “Minister du Toit” en “Generaal Smit”. Hulle het jare lank op die Rynrivier gevaar en tot in 1902 die Transvaalse Vierkleur gedra. In Frankryk was Kruger ’n simbool van ’n “vryheidsvegter” en Du Toit is “un soldat, un orateur, un poéte” genoem (’n soldaat, ’n redenaar, ’n digter). In die strate van Parys het die mense Du Toit se “Die Vierkleur van ons dierbaar land” in Frans gesing. In Duitsland is hulle deur die kanselier Otto Bismarck onthaal en weer is SJ du Toit Kruger se tolk.

Daar het egter gaandeweg ’n verbittering tussen SJ du Toit en Paul Kruger ingetree.  Hier volg enkele redes:

  • Op 16 September 1884 het Kruger ’n proklamasie uitgevaardig waardeur die gebiede van die swart kapteins Mochette en Montsoia aan die wesgrens van Transvaal op hulle versoek by die ZAR ingelyf word. Op 3 Oktober 1884 het SJ du Toit in opdrag van die Transvaalse regering die Vierkleur oor hierdie gebied gehys. Dit het ’n groot woede by die Engelse ontketen en Kruger het op 13 Oktober 1884 sy proklamasie herroep. En SJ du Toit is die sondeboek gemaak.
  • Met Kruger se konsessiebeleid aan sekere geldmagnate soos Sammy Marks en Nelmapius het SJ du Toit in botsing gekom.
  • Kruger was nie gediend met Du Toit se strewe van die Afrikanerbond dat die twee Boererepublieke met die Britse kolonies moet verenig om ’n Verenigde State van Suid-Afrika onder een vlag te vorm nie. Genl Piet Joubert het dit ondersteun. Volgens Du Toit was hierdie gedagtes van Kruger oor die toekoms van Suider-Afrika nie versiende genoeg nie.
  • SJ du Toit het met Kruger se regstoepassing in konflik gekom. Volgens Kruger was die geregshof onderhorig aan die Volksraad, terwyl Du Toit geglo het die regering was verplig om aan die hof gehoor te gee.
  • Vóór die Jameson-inval in 1896 het Du Toit se federasiebeleid vir Suider-Afrika steun gebied aan Rhodes se “groter Suid-Afrika-idee”. Dít kon Kruger hom nooit vergewe nie, selfs nie ná Du Toit se openbare protesvergadering teen Rhodes op 2 Januarie 1896 in die Paarl.
  • Daar was ook nog die fanatiese veldtog wat ds HLNeethling van Utrecht (destyds in die ZAR) in 1889 teen SJ du Toit met landswye petisies by die Volksraad geloods het.
  • Naas SJ du Toit se neiging tot onverstandige en eiemagtige handelwyse is die verdwyning van sy politieke invloed na 1884 in groot mate toe te skrywe daaraan dat hy by Kruger sy eertydse vertrouensposisie verloor het namate nuwe raadgewers na vore getree het, by name dr WJ Leyds.

SJ du Toit se ’n Afgeperste getuienis

Hierdie Afgeperste getuienis het SJ du Toit geskryf in Oktober 1899 net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Dit het destyds die volkslewe tot in sy fondamente geskud.

Reg aan die begin van die verklaring het Du Toit die kern van sy betoog gestel: “My herhaaldelik uitgesproke oortuiging is: Transvaal het ongeregtighede wat herstel moet word; dit is wat Engeland eis; weier Transvaal dit, en kom dit tot oorlog, dan stry hulle nie vir reg nie, maar vir onreg, en kan dus nie op Gods hulp reken nie, en dan vrees ek die ergste gevolge; en daarom roep ek  hulle toe om toe te gee aan Engeland se regverdige eise en nie tot die stryd toe te tree nie.”

Daar was veral drie punte waarteen Du Toit vir Paul Kruger gewaarsku het: Transvaal se konsessiepolitiek; Die regbank ondergeskik aan die regering; en Die stemreg.

In sy kommentaar op hierdie verklaring skryf Victor D’Assonville in Die Kerkblad (22 Oktober 1999) dat SJ du Toit hom oor ’n hele paar dinge misgis het. Die regering van Transvaal het reeds ’n maand vóór sy verklaring toegewings oor die stemreg gemaak. Ook het Kruger aan Groot-Brittanje gesê dat die vyfjaar verblyfkwalifikasie aanvaar is en dat die terugwerkend van krag was. 8 nuwe setels vir die Volksraad  is aan die Witwatersrand (die Uitlanders) aangebied. Dit was alles pogings van Transvaal se kant af om die oorlog te verhoed.

D’Assonville skryf dat die billikste oordeel wat in 1999 (100 jaar later) daaroor gegee kan word, is dat Du Toit geskryf het met die lig wat hy toe gehad het. Hy het grootliks die nuus wat deur die Engelstalige koerante verkondig is, onder oë gehad.

SJ du Toit en die kerk

’n Aantal beswaardes het rondom 1900 die kerklike verband met die NG Kerk verbreek omdat hulle gemeen het die gereformeerde belydenis kon nie langer ongeskonde gehandhaaf word nie. Die geestelike leidsman van hierdie groep was SJ du Toit. Die beskuldigings het onder andere gegaan oor sogenaamde “metodistiese invloede” in biduurbyeenkomste, opwekkingsdienste en spesiale evangelieprediking, maar ook oor die hou van Engelse dienste, skryf Ina van der Linde in Beeld van 26 Junie 1987.

Die Engelse dienste is gesien as ’n wesenlike bedreiging waardeur die kulturele en daarmee die nasionale belange van die Afrikaner, verydel kon word.

SJ du Toit was veral bekend as voorvegter vir Afrikaans, maar dit was sy latere kerklike bedrywighede wat vir die kerk stormagtige dae gebring het. Deur sy persoonlike optrede en met die mag en invloed van sy pen het hy ’n afskeidingsbeweging bevorder. By die wisseling van die 19de en 20ste eeu is ’n aantal selfstandige gemeentes gestig wat almal deur hom as konsulent bedien is.

Die agt gemeentes het bekend gestaan as die Geref Kerke onder die Kruis in Suid-Afrika, of kortliks as die Kruiskerke. Hierdie gemeentes het geen organisatoriese verband met mekaar gehad  en het heeltemal onafhanklik van mekaar bestaan. Dit was die gevolg van ds du Toit se kerkregtelike beskouinge. Hy het die bestaan van ’n kerkverband (Ring en Sinode) as onskriftuurlik verwerp.

Die geskiedenis van hierdie gemeentes het ten nouste saamgehang met die optrede van SJ du Toit.

Omdat hy met die beswaardes se sienings saamgestem het, het sy simpatie by hulle gelê. Dié wat met die NG Kerk ontevrede was, het Du Toit gesien as ’n persoon vir wie hulle kon volg en wat namens hulle kon praat.

Hy het ’n belangrike aandeel aan die stigting van die gemeentes gehad en daarna met persoonlike besoeke en eie geskrifte hul geestelike welsyn behartig en hul onafhanklike bestaan steeds probeer regverdig.

Tydens sy kweekskooljare op Stellenbosch het SJ du Toit al sy vrese uitgespreek met die “heersende rigting” in die NG Kerk en dat hy nie daarmee sou kon saamgaan nie. Hierdie sogenaamde heersende rigting het hy gesien as afwykende praktyke wat die kerk geleidelik binnegedring het en  hom van sy gereformeerde karakter beroof het. Hy het onder andere besware gehad teen biduurbyeenkomste, die opwekkingsdienste en spesiale evangelieprediking. Afwyking van die gereformeerde lees het hy bemerk in herlewingsgebede wat vra om die uitstorting van die Heilige Gees, en die onvermoë en onkunde by predikante om oor die wederkoms van Christus te preek.

Hy het die hou van dienste in Engels gesien as ’n wesenlike bedreiging waardeur die kulturele, en daarmee die nasionale belange, van die Afrikaner verydel kon word.

SJ du Toit kon die gemeentes net kwartaalliks besoek en dienste hou sodat daar van ’n gereelde geestelike bearbeiding niks tereg gekom het nie. In die tussentyd was dit die plig van die ouderlinge om dienste te hou. Binne drie jaar na Du Toit se dood in 1911 het die Kruiskerke in ’n doodloopstraat beland wat eintlik te wagte was, aangesien daar ’n herderlose toestand ingetree het.

Hy het op godsdienstige terrein tot en met sy dood aktief gebly as bekendsteller van die Gereformeerde leer na sy eie insigte en as kragtige opwekkingsprediker. Sedert se eerste Paarlse bediening, en veral na sy aanraking met Kuyper, het hy steeds meer krities uitgelaat oor die handhawing van die Gereformeerde leer deur die NG Kerk. Die suiwere vertolking van Gods woord en die stiptelike en ortodokse nakoming van die Dordtse Kerkorde het hy verkondig as die enigste rigsnoere tot die gereformeerde waarheid.

SJ du Toit en die Bybelvertaling en ander godsdienstige publikasies

Uit sy eerste Paarlse tydperk het Du Toit ook die eerste bundel met verklaring van die Bybelse profesieë gedagteken. Dit was ’n teologiese belangstelling wat deur GW van der Lingen by hom in sy jeug gewek is. Hy het in 1878 De onvervulde profetiën, stelselmatig behandeld gepubliseer waarop later De onvervulde profetiën naar tijdsorde gerangschikt en kortelijk toegelicht  in 1899 gevolg het.

Die moontlikheid en wenslikheid om die Bybel in Afrikaans te vertaal, was inderdaad die belangrikste rede vir die vergadering waarop die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is. Daarna het die GRA telkens sy aandag aan die saak gegee en in 1885 is die vertaling aan SJ du Toit opgedra terwyl hy nog in Transvaal was, met sekere voorskrifte daarby. Dit het geskied ondanks teenkanting, ook van die kant van die Sinode van die NG Kerk van 1866.

In sy Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging het SJ du Toit die volgende opmerking gemaak nadat hy die agteruitgang en laksheid van die Afrikaanse volk geskets het: “Daar moes dus iets gewigtigers bykom om die trae gees op te wek en die diepgewortelde vooroordeel te laat oorwin. Daar moes iets bykom wat die hart van die volk raak.” En volgens prof G van W Kruger was dit ’n Afrikaanse Bybelvertaling.

In die voorwoord tot sy publikasie van Genesis het SJ du Toit sy werkmetode duidelik gestel. Daar is uit die grondteks vertaal en dan vergelyk met ander bestaande vertalings. Vertalingsessies is nie alleen met gebed geopen en gesluit nie, maar daar is altyd eers probeer om, by vertaling, die mening van die Heilige Gees goed te verstaan. SJ du Toit het idiolekties vertaal, dit wil sê met nabootsing van die oorspronklike diksie, maar sonder om in die proses só letterlike te wees dat die idioom en segswyse van die reseptor-taal verkrag word. Dit was immers ’n vertalingsbeginsel wat homself lank reeds vir geslagte lank in ons stamlande bewys het. Interessant was dat SJ du Toit opgemerk het dat onder die vriende wat meegewerk het aan sy vertaling van Genesis ’n Jood getel het.

Reeds in 1889 het daar Die Bybel in Afrikaans verskyn wat die eerste drie gedrukte proewe van ’n Afrikaanse Bybelvertaling was, bestaande uit die eerste drie hoofstukke van Genesis en ander Skrifgedeeltes, asook ’n vergelykende vertaling uit die Nuwe Testament in Hollands, Fries en Afrikaans. Daarby was ’n historiese oorsig van die stand van die Bybelvertaling in Afrikaans.

Tussen 1893 en 1908 het daar uit die hand van SJ du Toit sewe Bybelboeke in Afrikaans in druk verskyn:

  • Di eerste boek van Moses, genoem Génesis (1893);
  • Die evangeli vollens Mattéus (1895)
  • Di Openbaring fan Jesus Gristus (1898);
  • Di Psalme (1907);
  • Hooglied (1905) gepubliseer in Stemmen des Tijds;
  • Handelinge fan die Apostels (1908) gepubliseer in Stemmen des Tijds;
  • Di evangeli follens Markus (1908) gepubliseer in Stemmen des Tijds.

As artikelreekse het hy ook sy vertalings met kommentaar van Hooglied (1905), Handelinge (1908) en Markus (1908) gepubliseer. By sy dood was ’n gedeelte van die Lukas-evangelie in handskrif gereed, maar van sy plan om die Nuwe Testament en daarna die Ou Testament in Afrikaans uit te gee, het daar nie veel gekom nie.

SJ du Toit se Bybelvertalings is destyds nie baie goed ontvang nie. Dit was as te plat beskou, in vergelyking met die Hoog-Hollandse vertalings waaraan die kerk gewoond was. Verder het Du Toit vasgeklou aan ’n ultrafonetiese spelling en die beginsel van Die Patriot, naamlik “Skryf soos jy praat” konsekwent deurgevoer.

Vandag oordeel ons miskien deels anders, skryf Kruger. Hy sou graag wou pleit dat SJ du Toit se Bybelvertalings weer opnuut uitgegee word in sy oorspronklike spelling en gewaad. Dit is ’n kosbare kleinood van ons volk: die vroegste (bewaarde) pogings om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Dit sou ’n waardige monument en erkenning van hierdie merkwaardige man kon wees, want hy sal altyd onthou word as die baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling.

Terwyl Du Toit in 1879 in Europa op reis was, het hy tyd ingeruim om Palestina te besoek en het hy De Bijbellanden doorreisd geskryf wat in 1883 gepubliseer is. In 1880 het hy twee belangrike godsdienstige werke gepubliseer: Bijbelse dagboek wat in 1907 aangevul is en Een sprekend portret van de laatste dagen. Sy Op reis door Duitsland en andere landen van Europa het in 1881 verskyn en so ook die godsdienstige tydskrif De getuige wat to 1904 verskyn het.

Nog tydens SJ du Toit se Transvaalse tydperk het die volgende publikasies die lig gesien: Nehemia als volkshervormer (1885); twee preke, naamlik De verdorde vijgeboom (1885) en De gave der gezondmakingen (1885); De vrucht des wijnstoks en haar gebruik volgens de Schriften (geen datum); Matigheid tegeover afschaffing (1886), die inhoud van ’n openbare disputasie in Pretoria in 1886 met die afskaffer Theophilus Schreiner; Gemeente of kerkgenootschap? (1886) en De kinderharp aan Gids Woord getoetst (1887). Hierdie werke, soos sy vroeëre publikasies, is almal deur DF du Toit van die Paarl gedruk en uitgegee. Daarby kom nog ’n publikasie oor Du Toit se Bybelvertaling in 1889 en ’n propagandastuk, Afrika: het land der toekomst (Amsterdam, 1890).

SJ du Toit as skrywer

Voor 1880 het SJ du Toit slegs enkele gedigte in Afrikaans geskryf, soos “Daar kom ’n stem uit Engeland”, ’n verafrikaansing van S Hattingh se “Lied van die Voortrekkers”; die verhaal van “Hendrik en Lettie”, uit die Eerste Vryheidsoorlog en die “Transvaalse vryheidslied”, ’n stuk geskiedenis op rym waardeur hy die vaderlandsliefde wou opwek. In 1881 het hy die bundel Transvaalse volksliedere saamgestel.

In 1876 het SJ du Toit namens die GRA die eerste Afrikaanse grammatikaboek gepubliseer: Eerste beginsels van die Afrikaanse taal, en in 1877 die eerste grondige opvoedkundige geskrif in Suid-Afrika: De Christeliljke school in haar verhouding tot kerk en staat, met ’n skerp verdediging daarvan in dieselfde jaar: Repliek op qlle recensiën van het werkje. Hy het gepleit vir ’n skool met moedertaalonderrig wat uitgeloop het op die stigting van die Hugenoten Gedenkschool in Dal Josafat in 1882.

SJ du Toit het in 1877 met ’n baie belangrike publikasie begin, naamlik Di Afrikaanse Almanak, burgerlik en kerkelik, wat met enkele onderbrekings tot 1918 voortgesit is.

  • Di geskiedenis van ons land in di taal van ons volk

In 1877 het SJ du Toit se Di geskiedenis van ons land in di taal van ons volk by DF du Toit verskyn. In 1976 skryf Edith Raidt (Beeld, 17 Mei 1976) dat hierdie boek ’n mylpaal was en steeds is omdat dit die eerste poging was om die geskiedenis van Suid-Afrika vanuit ’n Afrikaner-standpunt te beskryf. Du Toit gee in sy boek ’n uiters interessante kombinasie van historiese insig en populêre of volkse styl en beskrywing. Die boek is klaarblyklik vir ’n breë, taamlike onopgevoede leserspublike geskryf, daarom lyk die amper naïef en simplisties en tog blyk dit dat die skrywer met ’n skerp gees en ’n verrassende oordeelsvermoë die historiese feite interpreteer, veral dié van die negentiende eeu.

Hoewel die skrywer hier met volksopvoeding op ’n breë vlak besig was en daarom die gegewens gedurig vir sy lesers geïnterpreteer het, is die boek veel meer as ’n eenvoudige handboek van destyds, dit is eerder ’n persoonlike siening van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en weer eens, soos op alle terreine wat SJ du Toit in sy veelsydige lewe betree het, het hy hom as individualis getoon.

In ’n sekere sin is hierdie Geskiedenis, volgens Raidt, ’n weerspieëling van die botsende karaktertrekke in SJ du Toit se persoonlikheid: hy is individualis en volksleier; skerpsinnige denker en naïewe storieverteller; hier gee hy ’n oorwoë mening en daar maak hy ongeoorloofde, simplistiese veralgemenings. Daarom is Geskiedenis van ons land in die taal van ons volk vir Raidt meer as net ’n geskiedenisboek tot die tydperk van die Genootskappers, maar ook ’n belangrike skakel in die werk van ’n veelsydige Afrikaner.

  • Reisverslae en ander geskrifte

Hy het heelwat meer prosageskrifte in Nederlands en Afrikaans geskryf. Verslae oor sy reise in Europa en die Midde-Ooste het verskyn as Op reis (1881) en Bijbellanden doorreisd (1883) – albei in Nederlands – en Alweer op reis (1886) in Afrikaans. Verder het hy meestal in Nederlands brosjures geskryf oor matigheid in drankgebruik, die leer van die Sabbatariërs, verskilpunte tussen die Apostoliese broeders en die NG Kerk en twee belangrike stukke oor die onderwys: De Christelijke school in haar verhouding tot staat en kerk (1876) en De vrije school voor de Kaapsche parlement onrechtvaardig veroordeeld (1886). (SJ du Toit se Bybelvertalings word verder aan bespreek).

  • Die koningin fan Skeba

In 1894 het SJ du Toit Matabeleland (Zimbabwe) besoek waar hy die gedig “Nag en dageraad in Matabeleland” geskryf het. Dit is opgeneem in sy Sambesia, of Salomo’s goudmijnen bezocht in 1895 (1895) wat in Nederlands geskryf is. Hierdie reis het ook die stof opgelewer vir sy historiese roman (die eerste in Afrikaans) Di koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia (1898). Dit het eers as vervolgverhaal in Ons Klyntji  van Maart 1896 tot Mei 1898 verskyn en kan, volgens TT Cloete, gesien word as terselfdertyd ’n avontuurverhaal, ’n historiese roman en ’n populêr-wetenskaplike werk vol allerlei wetenswaardighede.

Die roman handel oor vyf persone, die skrywer ingesluit, wat ’n reis onderneem na die Zimbabwe-ruïnes en die berg Afoer waar hulle ou papirus- en perkamentrolle ontdek wat dan deur die skrywer vertaal en elke aand aan die ander vier voorgelees word.

Vir Kannemeyer het Du Toit op voortreflike wyse ’n realistiese situasie geskep, onder meer deur die leser direk aan te spreek en deur die roman outobiografies aan te bied. Die gerigtheid op die leser het ook die moontlikheid geskep vir die verteller om opvoedkundig op te tree, hoofsaaklik om die leser in te lig aangaande die Egiptiese geskiedenis en gewoontes.

Hy het dus sy lesers op hoogte gebring met die geskiedenis en die volkekunde, maar terselfdertyd het hy op ’n behendige wyse dit vermy dat die didaktiek ’n breuk in die werk veroorsaak deurdat die inligting – gedeeltelik, ten minste – esteties geregverdig word deur die tegniek van die raamvertelling.

Vir PD van der Walt (Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde) sou die onregverdig, of selfs dwaas wees, om by die beoordeling van Die koningin fan Skeba dieselfde maatstawwe te gebruik as by die waardebepaling van ’n “kultuur”-produk.

“Hierdie 'historiese roman, met prente' is doelbewus gekonsipieer as ’n volksboek, bedoel vir die kultuuronderlaag van die Afrikanervolk teen die einde van die negentiende eeu. En as volksboek met ’n bepaalde doel dra dit ook heel besondere kenmerke, ten dele dalk, maar miskien ook wel vir die reg ingestelde beoordelaar, interessant, selfs aantreklik. Verder, as volksboek, was dit geslaagd, soos die gewildheid van die verhaal getuig: Du Toit wou vir ’n bepaalde soort leser ’n interessante en oortuigende storie vertel (die essensie van alle epiek) en daarin het hy uitmuntend geslaag. Maar juis as gevolg van dierdie toedrag van sake kon (en wou?) hy geen tydlose en universele kunswerk skep nie. Wat hy ons egter wel gegee het, bly die heel gaafste in ons pre-literêre Afrikaanse prosa.”

Toe Die koningin aanvanklik in Ons Klyntji verskyn het, is dit baie gretig gelees. Daarvan is die talle navrae wat die redakteur ontvang het, ’n bewys. Daardie vrae het ook die mentaliteit van die lesers wat nie kon onderskei tussen waarheid en verdigting nie, duidelik ten toon gestel, het PJ Nienaber geskryf in Ds SJ du Toit, die eensame Ismael (Van Schaik, 1940). Reeds in Julie 1896 van Ons Klyntji het mnr JJC Grabe van Amersfoort gevra wat waarheid en verdigting in die roman is: “Mar dit sou di hele aardighyd daarfan wegneem,” het SJ du Toit geantwoord.

Net ’n maand later kla Du Toit weer dat die lesers nie kan begryp wat verdigting is nie; een vra hom selfs of ’n Christen die reg het om hom te bedien van verdigting. Die dominee-skrywer se geduld het begin opraak, want in Junie 1899 wou mnr JG du Preez van Delportshoop weet of die roman ’n ware verhaal of verdigsel is. “Myn skepsels,” het Du Toit uitgeroep, “dis tog al so dikwels gesê: Ds du Toit het eers ’n werklike ferhaal gegé fan zyn rys na di noorde, en toen het hy gesê op grond fan wat hy gesiin en gelees het sal hy nou ’n ferdigting of historiese roman gé waarin hy beskrywe hoe hy hom foorstel hoe dit in die dage fan ou Salomo  syn goudgrawery hiir gelyk het.”

Die koningin fan Skeba is in 1998, honderd jaar nadat dit die eerste keer verskyn het, in ’n faksimilee-herdruk uitgegee, met ’n nuwe, uitgebreide inleiding deur Fritz Ponelis en Dorothea van Zyl.

  • Magrita Prinsloo

Tydens die taalkongres wat in 1897 gehou is, is SJ du Toit se Magrita Prinsloo, of Liifde getrou tot in di dood in die Paarlse stadsaal opgevoer. Die bestaan uit vyf bedrywe, maar daar is so min samehang en innerlike noodwendigheid (volgens Kannemeyer) dat ons eerder kan praat van ’n verhaal wat in dertien episodes aangebied word. Dit is die geskiedenis van Magrita en Pieter wat van mekaar geskei word as gevolg van die Groot Trek: sy gaan saam met Retief se mense en hy bly in die Kolonie agter. Op die trek versprei Koos, wat die skurk van die verhaal is en ’n ogie op Magrita het, die gerug dat Pieter deur die swartmense vermoor is, maar sy bly “getrou tot in die dood” en wys vir Koos af. Die laaste van die dertien toneeltjies wys waar die Zoeloes die laer aanval en Pieter net betyds op ’n perd opdaag om sy beminde te red.

Die gang van die drama word dus bepaal deur heelwat afwisseling: naas die romantiese verhaal werk die stuk ook met historiese boustof, terwyl die Hottentot Danster en Swartland, die swartman, vir die lokale kleur en geestigheid sorg. In hoofsaak is dit egter die tipiese romantiese resep van die held, heldin en die skurk wat die patroon van die Afrikaanse drama en prosa tot ongeveer 1920 sou wees.

  • “Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het”

Ook in 1897 het Du Toit se beste gedig en een van die hoogtepunte in die Afrikaanse digkuns voor 1900 verskyn, naamlik “Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het”. Dit is die eerste voorbeeld van die dramatiese monoloog in Afrikaans.

’n Ou Griekwa, Danster, voer die woord in hierdie gedig en die leser kry ’n beeld van die eerste blankes se aankoms aan die Kaap. Hierdie beeld toon egter nie ’n groot ooreenkoms met die algemeen-aanvaarde siening wat uit die geskiedenis verkry word nie aangesien die gedig vanuit die oogpunt van die primitiewe mens geskryf is, soos duidelik te sien is uit die animistiese beeldspraak wat hy gebruik.

Hierdie ander siening word egter deur die hoorders aanvaar omdat ou Danster die waarheid van sy verhaal aksentueer wanneer hy sinsnedes soos 'glo vir my' en 'so waar as wat die waarheid is' gebruik. Só deel Danster nie alleen aan die hoorders sy siening mee nie, maar kry hulle ook ’n insig in ou Danster se karakter.

TT Cloete het geskryf: “SJ du Toit het in hierdie vers daarin geslaag om hom in die gedagtewêreld en manier van praat van die Griekwa in te leef en die verowering van die land deur die Duusvolk vanuit die bruinman se standpunt en siening weer te gee. In die gedig vind die leser ’n aanduiding van sowel Du Toit se taalbeheer as van sy humor en van sy talent vir vereenselwiging met ’n figuur buite homself, iets wat in daardie tyd selde voorgekom het.”

  • Liifde in oorlog

In Ons Klyntji van 1900 tot 1902 het SJ du Toit se novelle Liifde in oorlog waarin hy sy politieke idees verkondig. “Die tendens word hier egter die hoofstroom van die verhaal, terwyl die geheel ’n selfverdediging word waardeur karakterisering en vertelling deur onnodige uitweiding verwaarloos word,” aldus Kannemeyer.

SJ du Toit as joernalis

Tussen al sy ander bedrywighede deur het SJ du Toit altyd tyd gehad vir sy joernalistieke werk. Hy was nou betrokke by die stigting van Die Afrikaanse Patriot waarvan hy redakteur was. So ook met Ons Klyntji. In 1907 was hy ook stigter en redakteur van Ons Taal wat tot 1909 bestaan het as opvolger van Ons Klyntji. Stemmen des Tijds wat van 1905 tot 1913 verskyn het, was die opvolger van De Getuige en was Du Toit se teologiese mondstuk.

Hy het redakteur van Die Patriot gebly tot die blad in 1904 by die likwidasie van De Paarlse Drukpers Maatschapppij verdwyn het, saam met De Getuige en Ons Klyntjie wat hy ook behartig het. Sedert sy terugkeer na die Paarl het hy die beleidsrigting van Die Patriot merkbaar gewysig. Die blad het begin om die Krugerbeleid te kritiseer, was vyandiggesind teenoor die Hollandse invloed in die ZAR en het geesdrifitg geraak oor die gedagte van ’n verenigde Suid-Afrika met harmonie tussen Afrikaners en die Britte en ekonomiese samewerking tussen die Britse kolonies en die Boererepublieke.

Naas Die Patriot het SJ du Toit in 1896 Het Dagblad in Kaapstad opgerig en het hy in armoedige omstandighede gesukkel om hierdie mondstuk vir sy “konsiliasie-politiek” twee jaar lank aan die gang te hou.

SJ du Toit se persoonlike lewe

Uit sy eerste huwelik met Elizabeth (Bettie) Jacoba Joubert is twee seuns, David en Jacob Daniel (Totius), en twee dogters gebore. David is op 6 Augustus 1910 op 35-jarige ouderdom oorlede. David het as opsiener en bestuurder van die plaas Kleinbos opgetree terwyl sy vader as predikant van die Kruiskerk sy pastorale take op die platteland uitgevoer het. Die betrokke Saterdagoggend het David teen die steil trap wat na die boonste verdieping van die Hugenote-Gedenkskool lei, opgestap en toe hy bo kom, het hy morsdood neergeslaan.

Ná die dood van Bettie het hy in 1885 met Anna Francina Malan (oorlede 1945) getrou en nog vier kinders, twee dogters en twee seuns, is gebore. Een van sy dogters uit sy tweede huwelik, Bettie, is vyf maande na David ná ’n operasie oorlede.

In Augustus 1910 op ’n besoek aan Calvinia op een van sy reise vir die Kruiskerke het sy perdekar omgeval en het hy beserings opgedoen waaraan hy maande lank gely het. Hy is op 28 Mei 1911 op die plaas Kleinbosch oorlede en is ook daar begrawe, met die grafskrif “Vader van die Afrikaanse taal; stigter van die Afrikanerbond en stryder vir die Calvinisme.”

Huldeblyke:

  • TT Cloete (in Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde, Academica, 1980): “SJ du Toit kan geld as die figuur met die skerpste intellek uit die kring van die Patriotters en waarskynlilk die breedste algemene ontwikkeling. Hy is die enigste onderhulle wat doelbewus literêre werke van enige pretensie en omvang probeer skryf; sy talent reik verder as dié van die meeste medewerkers uit sy onmiddellike omgewing.”
  • Dorothea van Zyl (In die voorwoord tot die 1998-uitgawe van Die koningin fan Skeba): “SJ du Toit het op grond van sy ortodokse geloofsoortuigings en politieke oorwegings die idees van filosofie van die Romantiek verwerp. Hy het waarskynlik bygedra tot die ontwikkeling van rassepersepsies, rassisme dan, wat nog baie jare met ons sou wees: 'Bevooroordeelde standpunte oor die aard en vermoëns van ander, wat in die proses bevestig en versterk is, het die rigting van die Suid-Afrikaanse geskiedenis help bepaal.' Maar dit sal kortsigtig en ’n miskenning van die geskiedenis wees om Du Toit vandag eensydig te verwerp. Bestudering van historiese figure soos SJ du Toit sal juis help om die oorsprong van hul beskouinge vas te stel, afstand te neem en dit ter syde te stl of aan te pas in die lig van veranderde omstandighede.”
  • Fritz Ponelis (In die voorwoord tot die 1998-uitgawe van Die koningin fan Skeba): “Hy was ’n pleitbesorger vir Afrikaans as kultuurtaal en ’n mobiliseerder vir die kultivering van die taal. Van meet af aan het hy byvoorbeeld ’n Afrikaanse Bybelvertaling voorgestaan. In dié lig gesien, word Die koningin fan Skeba ’n gewigtige werk waarmee Du Toit die potensiaal van Afrikaans as kultuuraal probeer aantoon.”
  • Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel 1: “Afrikaans dien SJ du Toit getrou tot sy dood. Naas CP Hoogenhout was hy die gaafste digter uit die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, met gedigte soos 'Transvaalse Vryheidslied' en ’nag en dageraad in Matabeleland', sowel as 'Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het'. Op prosagebied het hy nie uitgeblink as ’n groot kunstenaar nie, maar as ’n besonder bekwame joernalis wat sy lesers geboei het deur ’n persoonlike styl en ’n vaardigheid van uitdrukking. Die eerste Afrikaanse historiese roman, Die koningin fan Skeba geld vandag nog as ’n belangrike kunswerk en word steeds herdruk.”

Publikasies

Publikasie

Eerste beginsels van di Afrikaanse taal

Publikasiedatum

  • 1876
  • 1882

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Di geskiedenis van ons land in di taal van ons volk. Saam met CP Hoogenhout en GJ Malherbe (Uitgegee deur die Genootskap van Regte Afrikaners)

Publikasiedatum

  • 1877
  • 1895 (aangevul en vermeerde met bijlage)

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Smuts en Hofmeyer (drukkers)

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De onvervulde profetiën, stelselmatig behandeld

Publikasiedatum

1878

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging ver vrind en vyand uit publieke en private bronne; bewerk deur ’n lid van die Genootskap van Regte Afrikaners; o’ergedruk uit “Die Patriot”

Publikasiedatum

  • 1880
  • 1909

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Taalkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Een sprekend portret van de laatste dagen

Publikasiedatum

1880

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gedenkskool van die Hugenote: o’ergedruk uit “Die Patriot”

Publikasiedatum

1881

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Op reis door Duitschland, Zwitserland, Italië, Egypte, Palestina, Turkije, Hongarije, Oostenrijk, Frankrijk, België, Holland en Engeland

Publikasiedatum

1881

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Reisbeskrywing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

  • Bijbellanden doorreisd (Palestinië en Sirië)
  • Bybellande deurreis (Palestinië en Sirië). Deel I en II (saam met DJ du Toit)

Publikasiedatum

  • 1883
  • 1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Paarl: DF du Toit
  • Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

  • Reisbeskrywing
  • Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Alweer op reis: di slag as lid van di Transvaalse deputasi in 1883–1884

Publikasiedatum

1886

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Reisbeskrywings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Di Bybel in Afrikaans: dri proewe

Publikasiedatum

1889

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Afrikaans as volkstaal: 71 theses, of stellinge neergeleg en verklaar deur SJ du Toit

Publikasiedatum

1891

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

  • Handboek ver godsdiins onderwijs: op di skool, in di katkesasi, by di huis
  • Handboek voor godsdienst onderwijs: by di huis, op de school, in de katechisatie, bij het huis

Publikasiedatum

  • 1892
  • 1913

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Paarl: DF du Toit
  • Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Werklike geesverskynings: Europese en Afrikaanse; o’ergedruk uit “Di Patriot”

Publikasiedatum

1892

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Di eerste boek van Moses, genoem Génesis vertaal deur SJ du Toit

Publikasiedatum

1893

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De Huiskerk: bevattende 57 preeken voor alle Zon- en feestdagen benevens zaadkorrels uit het Levend Woord voor onderlinge bijeenkomsten, huisgezin en binnekamer en het huisaltaar, wenken, Bijbelgids en gebeden voor ’t huisgezin

Publikasiedatum

  • 1893
  • 1909

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Paarl: DF du Toit
  • Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Di evangeli vollens Mattéus vertaal deur SJ du Toit

Publikasiedatum

1895

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Sambesia, of, Salomo’s goudmijnen bezocht in 1894

Publikasiedatum

1895

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Reisbeskrywing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De evangelische gezangen aan Gods woord getoetst

Publikasiedatum

1896

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Bijbelse vrage en antwoorde in Afrikaans

Publikasiedatum

1897

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

  • Magrita Prinsloo, of, Liifde getrou tot in di dood: ’n historiese toneelstuk uit di tyd fan die Grote Trek
  • 1896 Magrieta Prinsloo: toneelstuk in vijf bedrijwe

Publikasiedatum

  • 1897?
  • 1917

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

  • Fergelijkende taalkunde fan Afrikaans en Engels
  • Comparative grammar of English and Afrikaans

Publikasiedatum

  • 1897
  • 1902

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

  • Di koningin fan Skeba, of, Salomo syn oue goudfelde in Sambesia: historise roman, met prente
  • Die koningin van Skeba, of, Salomo se ou goudvelde in Sambesia: historiese roman met prente

Publikasiedatum

  • 1898
  • 1921
  • 1922
  • 1026
  • 1963
  • 1967
  • 1975
  • 1985
  • 1998 (Faksimileeherdruk)

ISBN

  • (hb)
  • 0624023354 (sb)

Uitgewer

  • Paarl: DF du Toit
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg
  • Kaapstad: Africana Uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Duits (Das Geheimnis der Goldfelder: Auf den Spuren der rätselhaften Königin von Saba); vertaal deur Wilhelm Niemeyer en geredigeer deur Ulrike Killer, 1981

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Di Openbaring van Jesus Gristus – met aantekeninge deur SJ du Toit

Publikasiedatum

1898

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De brief van Judas, als profetische waarschuwing voor onzen tijd

Publikasiedatum

1899

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De onvervulde profetiën naar tijdsorde gerangschikt en kortelijk toegelicht

Publikasiedatum

1899

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De gave der gesondmakingen

Publikasiedatum

1899

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De Godspraken van Jezaja op nieuw vertaald en toegelicht ...

Publikasiedatum

1901

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Na den oorlog: uit die “Afgeperste getuigenis” ...

Publikasiedatum

1902

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: DF du Toit

Literêre vorm

Politiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De Schriftverklaarde, of, Bijbelsch dagboek, Oude Testament. Eerste deel

Publikasiedatum

1907

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Aan de leden der Vrijstaatse synode: een antwoord op een besluit van gemelde synode

Publikasiedatum

1909?

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De predestinatie volgens Bijbelleer en kerkleer op nieuw in ’t licht gesteld

Publikasiedatum

1912

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

“Gedachten des vredes te midden van oorlog”: preken geleverd tijdens den Transvaalschen oorlog van 1899–1902

Publikasiedatum

1915

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Cape Times

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Disputatie over de verschilpunten tussen de Apostoliese broeders en de leer der Ned Ger Kerk

Publikasiedatum

1917

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

De leerstukken der sabbatariërs: een disputatie tussen SJ du Toit en GDJ Scholtz

Publikasiedatum

1923

ISBN

(sb)

Uitgewer

Paarl: Paarl Drukpers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Artikels oor SJ du Toit beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post SJ du Toit (1847–1911) appeared first on LitNet.

DigiKuns: ’n onderhoud met Jacqueline Göttert

$
0
0

Jacqueline Göttert praat met Naomi Meyer oor die ATKV se projek, DigiKuns.

Jacqueline, kunswedstryde is vanjaar wêreldwyd gekanselleer. Kunstenaars in alle genres sit morbied by die huis. Waarom sal die ATKV-projek DigiKuns hulle dalk hoop gee?

ATKV-DigiKuns bied aan kunstenaars van alle ouderdomme die platform om hulle kreatiwiteit met ’n unieke uitdaging te toets. Dit gaan nie net deelnemers se gemoedsvlakke ’n hupstoot gee nie, maar sal hulle ook die geleentheid gee om saam met die ATKV direk by te dra tot die ontwikkeling van kuns en kultuur. Deelnemers gaan ook die geleentheid hê om ander met hul kuns te inspireer, waarna die publiek ’n geleentheid sal kry om hulle gunstelinge te kies deur middel van ’n digitale kunsuitstalling.

Ek sal die inligtingstuk aanheg, maar wil jy dalk uitbrei op hoe DigiKuns sal werk? Wie kan inskryf, wat moet hulle doen en wat is die proses?

ATKV-DigiKuns vereis dat deelnemers ’n Afrikaanse gedig kies en ʼn visuele interpretasie daarvan skep in die vorm van ’n oorspronklike kunswerk. Jonk en oud kan deelneem. Wanneer deelnemers gereed is, kan hulle voor of op 24 Julie teen R50, of voor of op 31 Julie teen R80, inskryf. Meer inligting is op https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digikuns beskikbaar.

Die kunstenaars kan enige medium gebruik, is ek reg? Dink jy sekere kunsmediums gaan beter werk vir doeleindes van hierdie kompetisie? Voorstelle, gedagtes hieromtrent?

Alle mediums, soos verf, teken, collage, beeldhouwerk, fotografie of ’n oorpronklike digitale illustrasie, word aanvaar. Die kunswerke word per medium beoordeel, daarom dink ek nie dat daar ’n medium is wat beter gaan werk vir die doeleindes van hierdie kompetisie nie. Elke medium bied die geleentheid om ’n unieke konsep en die interpretasie daarvan uit te beeld. Dit is deel van die kunstenaar se opdrag om die mees gepaste medium vir sy unieke konsep te kies, want dit, tesame met tegniese aspekte – dws vaardighede in die gekose medium – vorm deel van die kriteria vir beoordeling.

Wat van digitale inskrywings? Hoe lyk die ruimte en potensiaal daarvoor? En wat van mense wat dalk doodgewoon niedigitale kuns verkies? Sal hulle 'n agterstand hê teenoor diegene wat tegnies vaardiger is?

Nee, ATKV-DigiKuns maak voorsiening vir elkeen. Ja, dit is ’n digitale kompetisie en geen fisiese kunswerke kan aanvaar word nie, maar kunstenaars wat niedigitale kuns verkies, soos teken, verf, collage of beeldhouwerk, kan steeds deelneem. Hulle gaan net ’n foto van hul kunswerk moet neem of dit inskandeer.

Dit is die eerste keer dat die kompetisie aangebied word. Wat is uiteindelik die kriteria om te bepaal hoe 'n goeie inskrywing sal lyk?

Die kriteria vir ’n goeie inskrywing word ooreenkomstig die opdrag aan deelnemers gemeet; dws as jy ’n Afrikaanse gedig of rympie gekies het (hetsy gepubliseerd óf selfgeskrewe) en ’n visuele interpretasie daarvan geskep het in die vorm van ’n oorspronklike kunswerk, wat terselfdertyd ATKV-DigiKuns se kriteria vir beoordeling bevredig of dalk oortref, dan is jý gereed om in te skryf!

Wie is die beoordelaars?

Ons hoofbeoordelaars is kenners op die gebied van die kunste en letterkunde. Hulle sal volgens ATKV-standaarde opgelei en belyn word alvorens beoordeling plaasvind.

Mag mense enige plek in die wêreld inskryf?

Ja! Mense uit enige uithoek van die wêreld kan aan ATKV-DigiKuns deelneem!

Sal mense enige plek in die wêreld die kuns kan besigtig?

Alle kunswerke sal op die ATKV se webtuiste en Facebook-blad beskikbaar gestel word sodat die publiek hul gunstelingkunswerk vanaf 7 Augustus kan kies. Die wenners word op 14 Augustus bekendgemaak.

Waarom is kuns vir die ATKV belangrik?

Te midde van die COVID-19-pandemie besef die ATKV opnuut dat die volhoubare ontwikkeling van kuns en kultuur kernbelangrik is vir ’n gesonde samelewing. ATKV-DigiKuns bied vir die ATKV die geleentheid om gedurende onsekere tye steeds ’n aktivis te bly vir die ontwikkeling van kuns, kultuur, die mens en uiteindelik die samelewing in sy geheel.

Laat asseblief weet waar die praktiese inligting beskikbaar is, en laaste belangrike reëlings.

Alle inligting ten opsigte van ATKV-DigiKuns is beskikbaar by https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digikuns. Gaan loer vir ander opwindende ATKV-Digiprojekte gerus by atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte.

ATKV-Digipraat 2020: ’n Zoom-onderhoud

ATKV-Digipraat: wenke van ’n gereelde beoordelaar van redenaarskompetisies

The post DigiKuns: ’n onderhoud met Jacqueline Göttert appeared first on LitNet.

Nathan Trantraal (1983–)

$
0
0

Foto: verskaf

goed van Nathan Trantaal

"Ek skryf poetry oo die liewe annie anne kant vannie kantlyn. As daa niks daa geskrywe innie margins staanie issit ma net oo dai stories nooit geskryf wod ie, of truthfully geskryf wod ie." (LitNet)

"Vir my is my wrting history as told by the losers. My moments of insight het ’n short half-life, soe ek need om altyd ie woorde innie most simple en vinnagste way oppie blaai te kry. Dai is hoekom ek poems skryf en nie novels nie." (LitNet)

Hoe lyk sy Afrikaans? "My Afrikaans lyk soesie mense wat it praat. Die geskiedenis van Coloured mense is heeltemaal locked up innie Afrikaans wat hulle praat. Is Engels, Dutch, Malay, Indonesian Arabic, Khoe. Dis ’n version van Afrikaans wat unedited is, sône gatekeepers en sône affectations. Die problem is net die Afrikaans wat ôs op skool gedoen ’et, het net ’n passing resemblance gehad to die Afrikaans wat ôs byrie hys gepraat ’et. Dis soos twee mense van dieselle familie wat anderste praat. Nie twee mense van een familie is mos dieselle nie." (Bron)

Hoe leef hy in Afrikaans? "Ek is Afrikaans grootgemaak, die groot meerderheid van my liewe het in Afrikaans gebeu. Omdat ek ’n skrywer is, en ek try om expression te gie an my experiences, is Afrikaans my tool, wan Afrikaans is al taal waarin ek heeltemal myself kan wies. It issie regtig ’n keuse wat ek maak ie. Ek hang nie enige ideologies an my taal ie en ek hou nie van anne mense wat it doen nie. Afrikaans is my taal, nie my liewe nie, maar dis al way wanne ek wil, om iets yt my liewe te deel." (Bron)

"Ek haat ie mense met ligte vel nie. Ek haat ie mense met blou oë en groen oë nie. Ek haat ie colours nie. Ek haat wit. Wit issie ’n colour nie. Wit isse religion." (Wit issie ’n colour nie, 2018)

Hoekom is Standaardafrikaans so uncool, wou Ronelda Kamfer by Nathan weet in ’n onderhoud op LitNet: "Omdat ’n mensie wiet watte woorde oud is en watte woorde modern issie. Ek dinkie die problem is mettie taal ie, ek dink issie mense wie die taal praat, die mense wie soe lief is vi Afrikaans soes ’n ienagste kind. Die taal het niks space om te groei nie, isse coddled taal. Isse insular, exclusionary taal en daa is nie net iets uncool ie maa iets downright linguistically incestuous daa aan; die result is ’n taal met stunted development, met weak genes, suppose ek."

Waarom is dit nodig om boeke te vertaal/skryf in jou variant van Afrikaans? "Dit is belangrik om te demonstrate hoe dynamic en versatile die taal is. Dat dit byte ’n Kaapse context kan bestaan. Daa is baie ooreenkomste tussen die wêreld in Long Way Down en die Kaapse vlakte. Maa ek is certain die taal kan binne ienagge context wêk." (afrikaans.com)

Is het leuk om strips te maken? "Ik wil je illusie niet bederven, maar nee, het is monnikenwerk dat je de hele dag binnenshuis houdt. Maar het is de moeite waard – het is een eenvoudige manier om complexe dingen te zeggen." (aan Annemarié van Niekerk, Streven Tijdschrift)

Nathan is ’n perfeksionis: "Ek is altyd disappointed, om die waarheid te sê. Iets wat ek chase is perfection, wat nooit kom nie. Die closest wat ek gesien het as jy kyk na kunstenaars, is Hergé van die Tintin-boeke; hý het vir my perfection gereach in sy later boeke." (Netwerk24, 7 November 2014)

Oor sy liefde vir sport: "Ek is ’n football fanatic, ek hou van sports, ek’s ’n massive Manchester United fan. It was belangrik dat ie title iets vannie athleticism en muscularity vannie writing convey. Ek isse baie physical pesoon. Football was en is nog altyd vi my important. For instance, it was al connection wat ek gehad et met die laities daa in Lavis. En dan is daa nog iets weird. Ek het altyd gedink dis odd vi my om for example na ’n meeting te gan met iemand soes Antjie Krog of Zapiro die oggend en dan kom ek die mirrag huis toe dan gan speel ek sokke mettie druggies innie pad; it was strange om inbetween twie werelde te exist. It was weird ommie social link tussen Antjie Krog en ’n moordenaar genaamd Sietjie te wies." (aan Ronelda Kamfer op LitNet)

Gebore en getoë 

Nathan Trantraal is in 1983 in Bishop Lavis, naby Kaapstad, gebore. Hy is een van ses kinders.

Nathan vertel dat hy grootgeword het in Mitchell’s Plain waar hy geleer het om Kaaps te praat, maar na sy ouers se egskeiding, het hulle Bishop Lavis toe getrek. Bishop Lavis het dus ’n spesifieke uitwerking op sy skryfwerk gehad. Op LitNet verduidelik Nathan aan Ronelda Kamfer oor die invloed wat Bishop Lavis op hom gehad het: "As daa een ding is wat ek gelee et van opgroei in Bishop Lavis issit dié: daa is niks meer unimportant as die liewens van arm mense nie. As arm mense doodgan los hulle niks agte nie, niks trace dat hulle exist et ie. Vi my is my writing history as told by the losers."

In die Nederlandse Streven Tijdschrift vertel Nathan en sy ouer broer, André (1980 gebore) aan Annemarié van Niekerk bietjie meer oor hulle grootwordjare. Hoewel dit nie maklik is om daaroor te praat nie, vertel hulle dat om kos te kry, om te eet, ’n permanente probleem gedurende hulle grootwordjare was.

André wy ’n bietjie meer uit: "As ek nadink oor my kinderjare, dink ek aan honger. My pa was ’n alkoholis. Toe hy dronk was, en hy was amper altyd, het hy ons geslaan. Maar die honger was erger. Altyd die vrees om nie kos te hê nie. ’n Grys sluier sou dan oor ons huis hang. Ons het ’n bietjie rondgehang, dikwels te moeg om te speel, en angstig gewag vir ’n maaltyd wat ons nooit geweet het of dit daar sou wees nie."

André onthou ook dat sy ma ’n kookboek iewers in die hande gekry het en dat hulle as kinders hulle kon verkyk het aan die glansfoto’s van "goudbruin pasteie, romerige sop en vars gebakte brood, soos jy na naakfoto’s in ’n pornotydskrif sou staar. Ek het ook prente van kos geteken, die geroosterde hoenderdye en die spek, dit uitgeknip en uitgedeel aan Nathan en ons oudste suster en myself. Dan het ons voorgegee om te eet. Dit was een van ons gunstelingspeletjies."

Nathan vertel aan Van Niekerk dat sy pa ’n ander vrou geneem het toe hulle al so ’n bietjie ouer was. Die geld wat sy pa vir sy ma gegee het, het later heeltemal opgedroog en hulle situasie in die huis het kritieke afmetings aangeneem. "Dikwels het ons geen geld gehad om elektrisiteit te koop nie en geen middagete as ons skool toe gaan nie."

Daar was nie boeke in hulle huis nie, maar André onthou dat hy sy eerste boek gekry het toe hy in Ridgeville Primêre Skool in Mitchell’s Plain eerste in sy klas gestaan het. "Daarna het ek elke jaar my bes gedoen om dit weer reg te kry."

Nathan onthou die Westridge Openbare Biblioteek ook in Mitchell’s Plain: "Ek en André het altyd probeer insluip, want ons was nie lede nie. Ons het geweldige respek vir al die boeke gehad. Ons kon nie boeke uitneem nie, want ons ma het geweier om die verklaring waarmee ouers toestemming moes gee, te onderteken. Ek dink sy was bang ons sou die boeke vuilsmeer en dat sy nie daarvoor sou kon betaal nie."

"Maar op ’n dag was ons nie meer tevrede nie en en André het haar handtekening nagemaak. Die eerste maal wat ek ’n boek huis toe kon neem, sal ek nooit vergeet nie. Ek het ’n Kuifie-boek gekies. Ek was onmiddellik betower, selfs verslaaf."

Kuifie het vir die jong Nathan gefassineer omdat hy al die eienskappe gehad het wat Nathan self sou wou hê. "Hy was dapper, intelligent, beleef en vol selfvertroue," verduidelik hy aan Van Niekerk. "Hy het dus my rolmodel geword. Natuurlik het ek geweet dat hy net ’n strokieskarakter was, maar juis dít was ’n openbaring. Ek het ’n verhouding met ’n prentjie, ’n artistieke uitdrukking gehad. En ek het die krag van kuns, van die verbeelding ontdek wat ongelooflik was! Ek dink dáár is my begeerte om kreatief te wees, te teken, te skryf, ’n wêreld te skep waarvan ek deel was, sy oorsprong gehad."

Nathan het nie self ’n Kuifie geword nie. Sy neiging om met Kuifie te identifiseer het op ’n teleurstelling uitgeloop. "Ek dink Kuifie het ’n te netjiese opvoeding gehad om soos ek te lyk. Die eienskappe wat ek aan hom toegeskryf het, kon eenvoudig nie myne wees nie. As jy in armoede leef en jou pa tree verkeerd op, is dit baie moeilik om iets goeds in jouself te sien. Ek moes van Kuifie wegbreek en my eie alter ego skep, die soort karakter wat by my eie omstandighede pas."

Hierop het André geantwoord: "Ons het besef dat ons ’n held moet skep wat ons eie taal praat, iemand wie se vermoëns nie in liggaamskrag, onvernietigbaarheid of ’n besonder speursin gelê het nie, maar iemand wat kan oorleef, iemand wat terugslae kan hanteer en wat ten spyte van alles staande kan bly."

In Valhalla Park se biblioteek, is Nathan blootgestel aan die wêreld van letterkunde en dis veral die Nobelpryswenner, JM Coetzee se werk wat ’n onvergeetlike indruk op hom gemaak het. Hy vertel dat wanneer hy teken, probeer hy om sy sketse te benader presies soos wat JM Coetzee sy skryfwerk benader. (afrikaans.com)

Verdere studie en werk

Voordat Nathan ontpop het as ’n wêreldbekende skrywer van grafiese romans, het hy op vuurhoutjie- en sigaretboksies gekrabbel. Ná matriek het hy tussen tydelike werke rondgeval, terwyl hy by sy ma en broers en susters aan huis gewoon het. Hy was nooit van plan om universiteit toe te gaan nie; hy het geweet dat hy iets kreatiefs met die res van sy lewe wil doen, maar het mismoedig geword as gevolg van al die afkeurings wat hy ontvang het. "I was very good at making excuses, but then I found out you can’t work that way," vertel hy vir Tasha Pinto.

As teenvoeter vir al die afkeurings wat André en Nathan beleef het, stuur André ’n prent wat Nathan geteken het aan die Cape Argus, ’n Kaapstadse koerant, om te kyk of hulle nie ’n inkomste kan genereer as skrywers en grafiese kunstenaars nie. Só is die broers opdrag gegee om ’n comic van 20 bladsye te skryf en te teken – en dit vir R20 000. "Dit is die meeste geld wat ek ooit op een slag gehad het – dit is nog altyd die meeste geld wat ek tot vandag nog gehad het," erken hy teenoor Pinto. Die comic strip is in 2003 in die Argus gepubliseer onder die titel Urban tribe.

Die broers het, na aanleiding van hulle sukses met Urban tribe, aangegaan met die skryf en illustrasies van comics al is hulle skeppings afgekeur. In 2008 is Stormkaap: drome kom altyd andersom uit deur Tafelberg uitgegee en in 2010 verskyn Coloureds as ’n gesamentlike publikasie van Tafelberg en Jincom Publishers.

Coloureds sou oorspronklik ’n boek van 100 bladsye wees, maar die broers het gou besef dat dit nie sou verkoop in só ’n formaat nie en het dit gesnoei tot ’n 12-bladsy comic. Dit was ’n baie groot sukses in Kaapstad en was vir drie jaar die comic wat die beste verkoop het. Van die ander strippe waarvoor hulle verantwoordelik was, is Ruthie in Rapport en The Richenbaums in die Cape Times. Ruthie en Coloureds is geïnspireer deur hulle ma se jeugjare tydens die apartheidsjare.

Sedert 2014 publiseer Nathan ook ’n reeks van ses titels in die Crossroads-reeks vir Isotrope Media in Woodstock, Kaapstad, op aandrang van die historikus dr Koni Benson saam met André en Ashley Marais. Dit is gegrond op Benson se werk wat vertel van die teenstand van die vroue in die Crossroads township op die Kaapse Vlakte teen die geforseerde uitsettings gedurende die apartheidsjare.

Van Nathan en André se werk is in Amsterdam en Hamburg in Duitsland uitgestal. Nathan is ook die skrywer van rubrieke vir die dagblad Beeld asook vir die Sondagkoerant Rapport en die aanlynnuus van Media24. Nathan is ook ’n gereeld deelnemer aan die Woordfees op Stellenbosch en het ook aan die Afrikaanse Fees in Nederland deelgeneem. In 2016 het hy ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan die Rhodes Universiteit aangebied – dieselfde universiteit waar hy besig is om vir sy meestersgraad te studeer.

Hy is met die Afrikaanse digter Ronelda Kamfer getroud en hulle woon sedert 2011 saam met hulle dogter in Lansdowne. André, sy broer, hulle ma en ’n jonger broer en suster bly ook by hulle.

In ’n artikel deur Earl Basson, "Die visuele storievertelling van die Trantraal-broers se comics" (https://klyntji.com/joernaal/2018/9/16/andre-nathan-trantraal), skryf Basson dat dit vir Nathan en André daarom gaan om die ervaringe en realiteite van arm mense op ’n akkurate manier te boekstaaf. "Met hulle spotprente druis die Trantraal-broers teen hierdie aanvaarde norm en verwoord die werklikhede en familiedinamiek van arm mense, soos gesien in The Richenbaums en Coloureds. André wys tereg daarop dat arm mense gewoonlik op ’n eendimensionele wyse en gevul met stereotipes, uitgebeeld word. As gevolg van hul bekendheid met die omstandighede van hul karakters, systap die Trantraal-broers die gewone indringende poverty porn gaze en omvat die komplekse aktualiteit van hierdie groep mense se bestaan in die taalvariëteit waarin dit geleef word."

"Hulle nuwe werk (Colour 1, 2 en 3), wat by die AVA Gallery te koop is, bied ’n satiriese terugkyk na (Afrikaanse) televisieprogramme in die 1990’s en hulle persoonlike ervaringe van dié programme. Met bitsende kommentaar maak hulle verwysing na televisieprogramme soos Vyfster en die whitewashing van die tronklewe asook die gepastheid van ’n Afrikaanse oorklanking van The Sopranos, wat die parallelle tussen die karakters in dié reeks en die Apartheidsregime uitwys."

Basson gaan voort: "Behalwe vir die tematiese tersaaklikheid van hul werk, skep die Trantraal-broers ook diskoers rondom die medium waardeur die betrokke temas aangebied word. Hul gebruik van spotprente en grafiese romans om aktuele kwessies te ondersoek en uit te beeld, bied nuwe maniere om geleefde ervaringe, hetsy geskiedkundig of kontemporêr, te vertel en te behou. In die geval van die Crossroads-reeks, word grafiese romans se toeganklikheid gebruik om nuwe (en jong) lesers aan ’n onbekende deel van ons geskiedenis bloot te stel. Die gebruik van Kaapse Afrikaans as skryfvariëteit (in sommige van die spotprente en grafiese romans) verbreed ook die huidige beperkte lys van Kaapse Afrikaanse-publikasies. Met hulle spotprente en grafiese romans dra die Trantraal-broers by tot gesprekvoering en aksieneming oor die sosio-ekonomiese stand van miljoene Suid-Afrikaners en bied ook ’n belowende nuwe manier om opvoedkundige materiaal te verryk en ’n leeskultuur te kweek."

In ’n onderhoud met Annemarié van Niekerk gesels die Trantraal-broers meer uitvoerig oor hulle comic strips.

Sy wou by hulle weet of mense se lewe draagliker kan word met die lees van hulle strips waarop Nathan antwoord dat mense daardeur kan sien dat dit reg is om uiting te gee aan jou gevoelens: "In het getto durft niemand te zeggen 'ik ben bang' of toe te geven dat hij aan traumatiserende ervaringen was blootgesteld. De gebruikelijke houding is 'je komt er wel overheen'. Men denkt dat je alle vastigheid kwijtraakt als je toegeeft aan je gevoelens. Wij gaan daar tegen in."

Van Niekerk wou ook ook weet hoe kombineer hulle die maak van strips met die skryf van gedigte. Hierop antwoord Nathan dat gedigte vir hom iets is wat hy af en toe doen en waarin hy dinge kan kwytraak waarvoor hy nie die energie het om te teken nie. Skryf is vir hom makliker as teken: "Het gaat nu beter, maar er was een tijd dat ik het gevoel had dat tekenen me ziek maakte, alsof het een aanslag pleegde op mijn afweersysteem. André kan alleen maar samen met mij tekenen, niet in zijn eentje, omdat hij een perfectionist is. Hij heeft er ontzettend veel moeite mee dat de tekening op papier nooit hetzelfde is als de tekening in zijn hoofd."

"Al je zwakke plekken komen in je tekeningen terecht. Dus is het André’s rol om mijn tekeningen beter te maken. Voor hem werkt dat. Dan weet hij dat het aan mij ligt als de tekening mislukt. Hij kan mij gemakkelijker vergeven dan zichzelf. En hij schrijft gewoonlijk het script."

Nathan se eerste bundel gedigte, Chokers en survivors, word in 2013 deur Kwela uitgegee en onmiddellik druk hy sy stempel af op die Afrikaanse poësietoneel deurdat die bundel bekroon word met die Ingrid Jonker-prys vir 2015, asook die ATKV-prys vir poësie vir 2014.

Die beoordelaars vir die Ingrid Jonker-prys is beïndruk deur die "sterk en pretensielose kommentaar op die wanhopige sosiale milieu van die Kaapse vlakte in Chokers en survivors. Dit is aangrypend, eerlik en sonder enige sentimentaliteit." (Rapport, 1 November 2015)

Op Versindaba word die beoordelaars se standpunte oor die Chokers en survivors verder uitgelig: "Die bundel lewer sterk en pretensielose kommentaar op die wanhopige sosiale milieu van die Kaapse Vlakte en die stryd om oorlewing waarin mense hul bevind. Die outobiografiese aspekte van die bundel word aangrypend en eerlik uitgebeeld, sonder enige sentimentaliteit. Die leser word in aanraking gebring met ’n wêreld wat onthuts, vermaak en skok. Die galgehumor en kwinkslae bring egter bloot tydelike verligting, want die leefwyse en ervarings van die gesin en die gemeenskap word onomwonde in al sy pynlike weerloosheid en wroeging gedemonstreer. Die taalgebruik en taalaanbod is een van die heel sterkste elemente van die bundel. Daar is blatante opstand in die bundel – óók teenoor die digterlike vader (en moeder)."

Die titel van die bundel verwys na die grondboontjiebotter-en-konfyt-toebroodjies wat die Trantraal-gesin moes eet wanneer kos maar skraps in die huishouding was. Die titel sinspeel dus op die grootskaalse armoede wat op die Kaapse Vlakte voorkom en die manier waarop die inwoners hierdie uitdagings te bowe moes kom.

In ’n onderhoud met Ronelda Kamfer op LitNet in 2013 maak sy die stelling dat die temas wat hy in sy bundel explore, alles van een plek afkom. Nathan reageer as volg op die stelling: "Is swaa vi my om veby die microcosm te kyk. Perhaps omdat os vi ’n lang tyd in soe ’n confined space gebly et wod dai plek vi jou die code waamee jy die res vannie wereld decipher; dai is hoekom ek nooit oo die wye wêreld skryf ie, hoekom alles gefilter wod dee ’n paradigm van sand-sypaadjies en anorexic honne. Bishop Lavis is vi my die hele wêreld."

Vir Kamfer is daar twee kontrasterende perspektiewe in Nathan se gedigte – "een wat flow uit ’n literary education en een uit ’n pop-cultural education."

Hieroor lewer Nathan as volg kommentaar: "Ek dink is vi ’n lank tyd al popular vi middle-class mense om te brag oo die fact dat hulle nie ’n TV own nie, maa vi my issit different. Ek was grootgemaak deurie TV – helfte van my education het ek vannie TV af gekry. Ek kyk nou nog Days of our lives en Bold and the beautiful, isse belangrike part van my intellectual diet. Wan ek dink as jy oorie wêreld wil skryf moet jy involved wies mettie wêreld. Jy kannie in jou ivory tower sit met jou hermetically sealed thoughts en skryf oo ’n wereld wat nie net een ding issie, maa ’n myriad van dinge at the same time, all the time. Ek gloe oek nie eintlik in cultural hierarchies ie en dai wod reflect innie writing."

Nathan sê aan Kamfer dat hy wil hê lesers moet ’n "physical reaction" kry terwyl hulle Chokers lees: "’n Orgasm preferably. As ek jou ’n orgasm kan gie wiet ek my next boek hoefie ees goed te wies nie." (LitNet)

Oor sy besluit om Chokers en survivors in Kaaps te skryf, het Nathan nooit gewroeg nie, vertel hy aan Danie Marais (Volksblad, 3 Augustus 2013): "Ek dink die laaste keer wat ek my kop gebreek het oor Kaaps was toe ek 14 jaar oud was. [...] [Dit was toe] ek begin werk het in Kaaps en daai wit character ge-eliminate het uit die storie uit en myself begin sien het as die hero.

"Ek gee nie om wat mense dink en of mense dié boek lees nie. En ek sal jou sê hoekom: As jy coloured is en jy lees dié boek en jy sê vir my dis nie goed geskryf nie, dan verstaan ek jou. Maar as die subject matter jou upset, is jy ’n f***in phoney. Dan hou jy vir joy ... dan act jy. En as jy sê jy kan dit nie lees nie, want jy verstaan nie die taal nie, is jy ook ’n f***in phoney. Dan associate jy jou net met die lower classes. En as jy wit it is en jy sê jy verstaan nie die boek nie, dan praat jy bulls**t."

In die onderhoud met Marais het Nathan hom die gramskap van ’n hele klompie mense op die hals gehaal toe hy gesê het dat hy dit teen Adam Smaal en Peter Snyders het dat hulle van Kaaps ’n "joke-taal" gemaak het.

"Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n f****n coon-taal. So, as jy ’n boek skryf in Kaaps voel dit jy moet van voor af begin skryf om mense te convince dis iets ernstig."

Skrywers soos Daniel Hugo, Jeanette Ferreira en Johann de Lange het hulle sterk uitgespreek teen hierdie stelling van Nathan. Ook Breyten Breytenbach (Volksblad, 2 Oktober 2013) het van hom laat hoor: "Dit sit duidelik nie in die jong man se broek om Adam Small se werk te konstekstualiseer nie. [...] Dis beter dat Trantraal die aandag probeer vestig met sy werklike interessante en goeie gedigte in die variant van Kaapse Engels."

Clinton V du Plessis is die resensent van Chokers en survivors in Die Burger van 29 Julie 2013: "Met die eerste lees van hierdie digbundel kom die gedagte van Adam Small by my op, maar met die herlees tref dit my soos ’n voorhamer. Hierdie is Adam Small, maar op dertig, met ’n hardegat street-cred attitude – op ’n kombinasie van Mxit-taal, tik, buttons, straws ... met nie ’n Bybel, ’n kitaar of ’n hakkelende Moses in sig nie."

"Die omslag van Chokers en survivors toon onder meer die bundeltitel en die digter se naam wat aan ’n wasgoedlyn hang. Die letters is wit en vuilwit. Dit roep onmiddellik die beeld op van 'vuil wasgoed' uithang op – uit die binnekamer praat oor persoonlike dinge wat tot verleentheid of ongerief sal lei as dit in die openbare domein kom.

"En dit is presies wat Trantraal in hierdie bundel doen. Hy skop die deure oop en af en gryp jou hardhandig aan die kraag tot binne-in ’n gestroopte bestaan op die ongenaakbare Kaapse Vlakte.

"Die wêreld wat aan die leser voorgehou word, het inderdaad die uitwerking wat op die voorblad deur Alfred Schaffer, Nederlandse digter en dosent, verwoord word: 'Skokkend, skreeusnaaks en ontroerend.'"

"Die sewe en dertig gedigte neem jou op ’n reis deur ’n verskeurde landskap met sy gepaardgaande onsamehangende en uitsiglose bestaan. Jy gaan op ’n rollercoaster ride van terugblikke [...] [en] jy word met dieselfde fatalistiese 'coloured' uitkyk op die lewe gekonfronteer as met Small se bekende: 'die Here het gaskommel.'" [...]

"Hierdie publikasie is ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse verswêreld – ’n wêreld wat, soos dit nou daar uitsien, Trantraal ooglopend nie imponeer nie."

In Tydskrif vir Letterkunde (Lente 2014) skryf Tertius Kapp as volg oor Chokers en survivors: "Chokers en survivors word gekenmerk deur ’n direkte, ondramatiese perspektief op ’n werklikheid wat terselfdertyd vervelend alledaags en vreesaanjaend is. Bykans al die gedigte verwys na die lewe op die Kaapse Vlakte. Vroeg reeds beïndruk 'Maya en Mr Piel' met slim woordspel (piel as sleutel / piel as wapen / piel as persoon) en so ook die onpretensieuse huldeblyk aan ’n moeder, 'Hammie'. Dit is interessant dat die jukstaponering van die verskriklike en die alledaagse dikwels deur die vaderfiguur uitgelok word: 'die Here wiet allien 1', 'Fifa 06' (waar aanranding treffend met ’n videospeletjie vergelyk word). In 'PES5' slaag die pa se dood net-net daarin om ’n videospeletjie te onderbreek. Die sterkste element van die bundel is myns insiens ’n estetika wat beskryf kan word as 'bitter ghetto camp': histeries-tragies, absurd en afgryslik."

    Joan Hambidge som Chokers en survivors op LitNet op as "in your face". "Op ’n vreeslose wyse word die ellendes van die Kaapse Vlakte vir die leser oopgemaak. Indien jy die bundel lees as ’n gesprek met die broer, kry dit ’n ander dimensie by, naamlik om ’n pynlike jeug te verwerk. Om námens ’n broer ’n stuk geskiedenis op te skryf – dalk onbewustelik met die broer as kontrole, as medebelewer van ja-dit-was-so ..."

"Die bundel gee ’n blik op die wêreld van geweld; dis geskryf in gangsta-taal en tref jou tussen die oë. [Alfred] Schaffer het gelyk: dis sowel snaaks as ontroerend. Die verse speel die spel van die inconnu, van afwysend staan teenoor die kanon, maar terselfdertyd as daar meer as genoeg blyke dat die digter presies weet wat hier aangaan." [...]

"Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps. Daar is humor. Daar is ’n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ’n duidelike afskeid van ’n pynlike, verwonde jeug. Die gebruik van plat woorde is opvallend: cunt, poes, kak, befok, fokkolpielnai (sic), fokof. Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ’n weergawe van sy mense se spreektaal."

"Daar is ’n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, geleer om onsentimenteel te wees.

Hammie

My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe
. (31)

"Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval, soos in 'Fifa 06' (52). Dit is gedigte wat ’n storie vertel. Dit wil duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ’n 'dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer' op die maat van 'Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei' (69). Daar is ’n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld) cassetteporn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.

"Die private word ontmasker en betree (masturbasie): 'die Here wiet allien 1' (67). Die tronkbestaan / gangsters versus ’n godsdiens (geloof) word ontgin. Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters, wat ’n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ’n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos Gert Vlok Nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie."

"Die gedigte wil soos strokiesprente toeganklik wees en soos in hierdie subgenre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ’n Mens dink hier oa aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.

"Die spel met die outobiografie – onder andere deur verwysings na sy vrou, Ronelda, en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het. ’n Sterk satiriese aanslag soos 'Hard to kill trilogy (DVD Boxset)', 23.

"By ’n deegliker lees word die leser egter gedwing om te kyk na die poëtiese tegnieke wat aangewend word. Die sterk narratiewe aanslag en slotreëls tref. Die digterlike proses word so al spelende ontmasker, soos in die gedig oor Groot verseboek. In 'South Korea' (36) bely die spreker: 'omdat ek wiet my poetry is kak/ en dat ekkie kan skryfie.' Maar dis inderdaad net ’n faux-tegniek, om al sy sieninge oor die digkuns uit te stal. Die digter is immers – en dit is vir ’n belangrike kode – stripkunstenaar."

In 2017 verskyn Nathan se volgende digbundel, Alles het niet kom wôd, by Kwela. Dit is in 2019 bekroon met die Sala-toekenning vir Afrikaanse poësie.

Hierdie bundel begin met ’n aanhaling uit Tales from Moominvalley van Tove Jansson: "It’s the right evening for a tune, Snufkin thought. A new tune, one part expectation, two parts spring sadness, and for the rest, just the great delight of walking alone and liking it." Vir Bibi Burger in Beeld (10 April 2017) sluit hierdie plesier wat gevind kan word uit die bittersoet "spring sadness" goed aan by die "humoristiese en melancholiese toon van Alles het niet kom wôd".

Nathan Trantraal het in ’n onderhoud op LitNet die gedigte in Chokers en survivors as "history told by the losers" beskryf. Net soos daardie gedigte, skryf Burger, handel die gedigte in die tweede bundel ook oor die bruin mense in Kaapstad en omgewing wat "losers" is – "in die opsig dat hulle nie die vrugte van kapitalisme of globalisasie pluk nie en wie se verhale nie opgeneem word in die geskiedenis of die gekanoniseerde literatuur nie. Omtrent die helfte van die gedigte in Alles het niet kom wôd kan beskryf word as karaktersketse van mense uit die omgewing, 'losers', 'walking alone and liking it'.

Omdat Trantraal verhalende gedigte skryf, is tradisionele gedigstrukture meestal afwesig, gaan Burger voort. "Maar daar word in hierdie tweede bundel wel meer aandag gegee aan ritme en metrum as in Chokers. [...] Behalwe vir die karaktersketse is die ander 'verhale' in Alles het niet kom wôd (soos dié in die poësie van Bukowski, Danie Marais en Ronelda Kamfer) outobiografies. Soos in sy eerste bundel; gaan dié outobiografiese gedigte veral oor Trantraal se jeug, maar nou is die fokus op sy verhouding met godsdiens.

"Soos reeds afgelei kan word van die bundel se voorblad en dubbelsinnige titel (’niet' kan verwys na ’nuut' of ’niks') is hierdie verhouding nie eenvoudig nie. [...] In die meeste gedigte is die outobiografiese spreker se perspektief eerder dié van ’n (emosioneel betrokke) sosioloog wat fokus op die sosiale en sielkundige funksies en gevolge ven godsdiens. [...]

"Die bundel eindig met die gedig 'Gebed zonder end' waarin die spreker verwys na ’n aand in Amsterdam saam met sy gesin, waarin hy kan vergeet van die probleme by die huis:

Venaand is ek myself
Die anne iteration van myself
Venaand worry ek oo niks
Ek dinkie aan my ma-hulle byrie hys ie
Ek dinkie aan my klein niefies
wie nog in Lavis bly nie 

"Hierdie 'gebed' aan die einde van die bundel het my weer laat terugkeer na die Tove Jansson-aanhaling aan die begin van die boek. Lesers (en kykers) van die Moomin-verhale sal weet dat die teengif vir die melancholie en donkerte in die Moomin-vallei dikwels gevind word in ’n gesellige huislikheid. Dit is só ’n geselligheid wat in die laaste gedig beskryf word ('Ek is hie met my vrou en my kind, tussen vriende / Ek is dronk en ek worry nie oo hoe ek lyk nie' as ek laggie. Ek worry nie oo môre nie')."

"’n Tragedie van die wêreld wat in die res van Trantraal se gedigte beskryf word, is dat dié alledaagse huislikheid ontbreek. Hierdie tragedie word met deernis, sinisme en humor in Alles het niet kom wôd verwoord," sluit Burger haar resensie af.

Vir Louis Esterhuizen (Rapport, 19 Maart 2017) bou Trantraal in hierdie tweede bundel voort op die bekende temas van sy debuutbundel, "maar nou is die toon meer teruggehoue, by tye selfs teer en gevul met patos.

"Die sardoniese humor is steeds teenwoordig, maar word nou aangevul met ’n groter verskeidenheid verstegnieke, waaronder ironie, beeldspraak (veral die vergelyking), parallelisme en die paradoks die opvallendste is.

"Trouens, Trantraal se volgehoue hantering van ironie is besonder indrukwekkend, soos dit reeds met die dubbelduiding van die bundeltitel geaktiveer word. [...] Nie net word die religieuse reeds met die openingsgedig, wat ook die titelgedig van die bundel is, geaktiveer nie, maar dit word deurlopend volgehou tot met die slotgedig." [...]

"Dit is egter met die twee verse oor sy dogtertjie wat die digter toon tot watter mate van teerheid en versvernuf hy in staat is: die gestroopte dog delikate 'Jaloesiegieste' [...], maar veral 'Die man wat ie kinnes vang'." [...]

"Ten slotte wil ek terugkeer na wat ek as die vernaamste pluspunt van die bundel beskou: die afgeronde geheel wat dit maak. Een van die moot's wat gebruik word, is ’n uitspraak deur Heinrich von Kleist: 'Paradise is now shut and locked, barred by angels, so now / we must go forward, around the world and see if somehow, / somewhere, there is a back-way in.'"

"Nie net verskaf dié aanhaling ’n uiters belangrike sleutel tot die bundel nie, maar dit het ook direk betrekking op die omslag, waarvolgens ’n dreigende engel met ’n spies ter hand troon oor ’n weerlose monnikfiguur in swart gewaad."

"Dit is dan juis hierdie paradoksale ingesteldheid wat aan die digter sy 'way-back in' verskaf: enersyds sy digkuns, dog andersyds die patos – en begrip – wat hy het vir die wêreld en die mense waroor hy skryf, want immers is sowel die hemel as die hel in ons almal teenwoordig 'soes swat embroidery op swat godyne' ('Swat embroidery')"

"En dit is nie altyd ’n gemaklike proses nie. Of jy daarvan hou, al dan nie: Alles het niet kom wôd bevat direkte en eerlike poësie; ontstellende gedigte wat opnuut Trantraal se reputasie as belangrike stem in die Afrikaanse digkuns bevestig."

Op LitNet sluit Louise Viljoen haar resensie van Alles het niet kom wôd af: "Alhoewel die bundel kleiner in omvang is as Trantraal se debuutbundel, het dit dieselfde kragtige effek. Dit is die produk van ’n digter volkome in beheer van sy vak. Veral is dit die werk van iemand wat met sy ingehoue, maar tog dringende stem die vermoë het om tot ’n wye spektrum van lesers te spreek."

In 2018 word ’n versameling van Nathan se rubrieke wat in Rapport verskyn het, gepubliseer onder die titel Wit issie ’n colour nie: aangedrade stories.

In Vrouekeur (22 Junie 2018) skryf Willie Burger dat die hele versameling in Kaapse geskryf is – ’n manier van skryf wat vir lesers in die noorde van die land ’n wyle neem om aan gewoond te raak. "Die keuse om só te skryf, is natuurlik meer as ’n 'tegniek' wat geloofwaardigheid aan die vertellings te verleen. Dit is ’n baie bewuste keuse met belangrike implikasies."

Burger vertel dat Trantraal in een van die stories vertel dat hy by die hoërskool waar hy op skool was, Afrikaans moes gee. Hoewel Afrikaans as die leerders se moedertaal beskou is, het Trantraal gou besef dat dié Afrikaanse wat hy aan hulle moes gee, asook die tekste wat hy moes behandel, vir die leerders vreemd was omdat hulle nie so praat nie. Hy het hulle aangemoedig om in hul eie spreektaal te skryf, "omdat die formele, 'standaard-Afrikaans' wat van hulle verwag word, hulle ontmagtig en tot oppervlakkige, oneerlike uitdrukking lei."

"Kaaps is dus volgens Trantraal ’n manier om aan ’n bepaalde ervaring van die wêreld, wat radikaal van ryk mense en van die meeste wit Afrikaanssprekers se ervaringswêreld verskil, uitdrukking te gee en is dus ’n merker van ’n identiteit," skryf Burger verder.

"Baie van die verhale skok die leser, veral wanneer blyk dat verkragting en kindermishandeling of drank- en dwelmmisbruik en geweld so algemeen voorkom dat dit as normaal ervaar word. [...] Die effek van skreiende armoede op mense word deur knap vertelling op onthutsende manier blootgelê. Dit is so maklik vir mense in ’n middelklasbestaan om oor armoede as abstraksie te praat, om kritiek op bendevorming, drankmisbruik en kriminaliteit te lewer, of om ’n paar rand deur ’n skrefie venster te gee, maar om liewer nie met die realiteit daarvan gekonfronteer te word nie. Daarom laat hierdie boek ’n mens ongemaklik."

"Trantraal se humorsin maak die lees van al die vertellings oor armoede, oor swaarkry, oor ’n renons in bevoorregtes se onbewoënheid en selftevredenheid verduurbaar. Hy is ’n uitstekende verteller wat die leser se gemoedstemming in enkele paragrawe kan laat swaai van skaamte na skok, na skaterlag (al is dit dikwels galgehumor of die snaakse wat deur kruheid bewerkstellig word)."

"Trantraal vra belangrike vrae oor iets waaroor baie wit mense hulle oë rol en kwaad word, naamlik witheid en wit bevoorregting. Gou verval gesprekke hieroor in naakte rassisme." [...]

"Witheid as godsdiens, as manier om na die wêreld te kyk sonder dat jy eens bewus is daarvan dat jy op ’n bepaalde manier kyk, wat jou laat oordele vel oor almal wat nie dieselfde glo nie (want hulle gaan immers hel toe), wat jou patroniserend laat optree teenoor dié wat nie dieselfde glo nie, behoort oral in ons samelewing uitgedaag te word. Trantraal lewer ’n belangrike bydrae daartoe."

Vir Valda Jansen (Rapport, 25 Maart 2018) is Wit issie ’n colour nie ’n spieëlbeeld van hoe hy as skrywer ontwikkel het – ’n mens kan dit uit die afgerondheid van sy rubrieke sien. "Hy het as rubriekskrywer ontwikkel," skryf Jansen verder, "danksy sy deursettingsvermoë én die versiendheid van die mense wat hom ’n kans gegee het. Redakteurs van koerante wat die teenwoordigheid van gees gehad het om iemand ’n kans te gee wat nie in die gewone hokkies pas nie, en aan te hou kans gee en hom in staat gestel het om sy ambag as krywer te slyp en uit te leef."

Vir Jansen is die stuk wat aan die bundel sy titel gegee het, die hoogtepunt van die bundel. "Dit is briljant geskryf, poëties, weldeurdag en onsentimeteel. Die duidelike boodskap wat hieruit straal, is: Ek is nie teen wit mense nie, wel teen die persepsie dat wit beter as ander is." [...]

"Trantraal skryf outentiek, oor mense en omgewings wat hy goed ken, maar hy skryf nie uit die hoogte nie. Hy is bínne-in daardie situasie wat hy beskryf. Daarby skryf hy in die taal wat hy ken en dit dra ook by tot die outentisiteit van sy tekste. Hy is ’n rubriekskrywer wat dinge van belang in die samelewing raaksien, besluit wat sy standpunt is en daaroor skryf." [...]

"Trantraal hou ’n spieël op waarin die leser, die rubriekskrywer en die samelewing hulself kan sien, En wat in hierdie bundel te sien is, is nie altyd mooi nie. Dis swaar, hartseer en vernuwend. Maar daar is ook humor in hierdie boek. Gelatenheid. Erge kritiek. En soms oneindige weemoed. Dit maak nie saak aan watter kant van die tou jy staan nie."

Ook Charles Smith (Volksblad, 12 Maart 2018) is beïndruk met Trantraal se bundel. Hy is van mening dat die skrywer van hierdie rubrieke nie van die leser verwag om met die lees van hierdie stories kennis te neem van die lewens van arm mense nie. "Hy dwing jou om te kyk na hoe hulle lewe en om na hul stories te luister. Dit is stories oor pornografie, prostitusie, hongerte, dwelms, alkohol, en die mense van die Vlakte en ’n skrywer se liefde én weersin in hierdie lewe en plek."

"En veral sy weersin in wit mense wat voorgee dat hul lewe meer saam maak as dié uitgeworpenes wat altyd aan die agterspeen moet suig. Moenie ’n fout maak nie. Lesers gaan plek-plek geskok wees en selfs aanstoot neem aan Trantraal se stellings en taal. Maar as jy belang stel in hoe jou landgenote lewe, dink en voel oor dié land – oor jóú –is Wit issie ’n colour nie ’n moet. Hier is van die beste stories wat in jare in Afrikaans geskryf is. Ook van die snaaksste en pynlikste. Lees dit en blaas jou kop oop."

Nathan se volgende digbundel verskyn in 2020 onder die titel Oolog: gedigte. Volgens die inligtingstuk van die uitgewer, Kwela, word daar in hierdie bundel gekyk na stryd, konflik en oorlogvoering op verskillende vlakke. Daar is in die bundel nie net verwysings na oorlog op internasionale en nasionale vlak nie, maar ook na belewenisse wat binne persoonlike ruimtes plaasvind. "Die gedigte is vindingryk en vreesloos, met donker humor, maar nie sonder deernis nie."

Op Versindaba skryf Alwyn Roux as volg oor Oolog: "Dit is dan ook die intellektuele aard van Trantraal se digwerk wat vir my vooropstaan. Ek lees sy digkuns omdat dit gedigte is wat draers is van sterk idees. Trantraal se digwerk is nie sommer oorloopsels van sterk gevoelens à la Wordsworth nie, maar idees oor polities-maatskaplike werklikhede wat gestalte in versvorm verkry. Dit beteken nie dat sy gedigte ontdaan is van stylfigure of beeldspraak of lees soos ’n filosofie-opstel nie; inteendeel, die krag van sy gedigte is die soepel, ritmiese en meesleurende gebruik van taal."

"Ten slotte: die belang van die poësie is veronderstel om die lewe te omvat en dit is wat Trantraal regkry. In 'Gie vi my ’n baby' (56) word dié gegewe soos volg tot vlees en bloed uitgewerk:

Gie vi my ’n baby

Jy vra my eendag wat poetry is
’n Attempt ommie wêreld te contain
in so min woore as moontlik
Toe ek sien jy verstaanie
Het ek ’n quote met jou gedeel
Nie die woore van Alexander Pope
of Walt Whitman ie
Maa die van my vriend Pangatollie,
"My broe ek wil noggie kondom ansit
Daa wys hai goose my, 'Gie vi my ’n baby'
Toe gie ek ha ’n baby, sy willit han hê."
En nou êrens oppie Cape Flats
loep daa ’n klein laitie rond
wie die son, die wind ennie
rien virrie eeste ke gevoel et
Wie honge, fear, pyn, joy,
liefde en haat gan ken
Wie gan liewe en doodgan
Dais poetry, min of meer"

Op LitNet word Alfred Schaffer aangehaal oor Oolog: "Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, in­your­face en nie ’n moment eendimensionaal nie." En ook Tertius Kapp: "Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek."

In Vrye Weekblad (21 Februarie 2020) skryf Deborah Steinmair dat Nathan Trantraal die stem is van "verlore generasies, van tikkoppe op die straathoek, van honger kinders, van gangsters en verslane mans wat vroue laat bloei, van vroue wat rondloop soos prooi."

Louise Viljoen is die resensent op Netwerk24 (24 Februarie 2020) en sy skryf dat dit nie net die tematiek van Trantraal se gedigte is wat boeiend is nie, maar ook sy beheer oor die verhalende gedig as vorm: "Dit is ook duidelik dat Kaaps, met sy mengsel van Afrikaanse en Engelse woorde, hom ’n besonder plooibare poëtiese instrument in die hand gee. Dit tel die resonansies van albei tale op en open so die moontlikheid om tussen die tale te speel met klank en betekenis."

"Bowendien skep die manier waarop woorde in Kaaps aanmekaar vasgemaak word ('innie', 'ommie') metriese moontlikhede: die reëls vloei gladder omdat sommige konsonante wegval; wanneer hulle egter wel opduik, staan hulle uit soos spykers in die pad. Ook treffend is die manier waarop die toon van die bundel wissel van groot bitterheid, teleurstelling en woede tot diep teerheid soos in ’nag iii'".

Oolog is die werk van ’n uiters bedrewe, maar ook gedrewe digter. Daarom vermoed ek dit gaan een van die keurbundels van die jaar wees."

Mike Dickman het sommige van Nathan se gedigte in Engels vertaal en dit is opgeneem in In the heat of shadows: South African poetry 1996-2013 (Deep South, 2014) en is saamgestel deur Denis Hirson. Alice Inggs het ook van sy gedigte vertaal en dit verskyn in die aanlyntydskrifte Asymptote en Europe now.

’n Keuse uit sy verse is deur Pierre-Marie Finkelstein in Frans vertaal en is in 2015 in die tydskrif Po'amp'sie (no 153-154) gepubliseer.

In November 2017 word die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan Nathan toegeken nadat sy vrou, Ronelda Kamfer, dit in 2015 ontvang het. Die beurs beloop R400 000 en word vir ’n skryfprojek toegeken.

Trantraal se voorstel is, volgens die beoordelaars, deeglik uitgewerk vir ’n grafiese misdaadroman wat op die Kaapse Vlakte afspeel. Dit sal kwessies aanraak wat van toepassing is op die breë Suid-Afrikaanse samelewing: "Die inhoud en genre is uitdagend, opwindend en vernuwend en het uitgestaan bo ’n aantal werklik uitstekende aansoeke. Hier is ’n dapper stem – een wat die grense van die letterkunde verlê."

Nathan se reaksie op hierdie toekenning was dat dit ’n groot oomblik vir grafiese kuns en comics in Afrikaans én in Suid-Afrika is. "Die beurs laat my toe om te fokus op die beplande grafiese roman."

In 2018 is Nathan die vertaler van Long way down wat in 2017 deur die Amerikaanse skrywer Jason Reynolds geskryf is. Nathan het hierdie verhaal oor vuurwapengeweld vertaal om aan te pas by Suid-Afrikaanse omstandighede. Die titel is Lang pad onnetoe en is deur Lapa uitgegee. Die Amerikaanse weergawe het met elf toekennings weggestap. Izak de Vries van Lapa het die roman beskryf as "’n woedende, verbluffende en briljante jeugroman wat in kort, vurige staccato-versvorm vertel word om ’n rou, eerlike blik op vuurwapengeweld te bied". (Die Burger, 12 Desember 2018)

Oor die vertaling vertel Nathan aan afrikaans.com oor wat so spesiaal aan die boek is: "Die Engelse weergawe Long Way Down is ’n besonderse boek in sy eie reg. Dit is ’n boek vir tieners wat nie tieners patronize nie. Die boek gan oo gun violence in America, en dit is die soot topics wat mense gewoonlik dink nie vi tieners is nie. Maa teenagers is presies die mense wie die meeste confronted wôd met die harhest aspects vannie society wat hulle in bly. Innie Syd-Afrikaanse context dink ek, en ek mag vekeed wies, maa dit is die eeste published vertaling van ienagge boek in Kaapse Afrikaans soevê ek wiet."

Oor hoe hy te werk gegaan het om Long way down te vertaal, vertel Nathan aan afrikaans.com: "Ek het iet soes ses maande gehad om die boek te vetaal, maa ek was soe biesag met anne goed dat ek nie daaby kan ytgekom et ie. Met soe drie wieke oo ommit klaa te maak het ekkie tyd gehad om te veel te dink daaoo nie. En toe sit ek maa net en vertaal vi drie dae straight, met omtrent drie ure se slaap tussenin. En die heeltyd hoep ek dat ek nie yt solutions run vi die problems wat vertaling create vi die vertaler ie. As ek veskriklik moeg is, dan volg ek maa net my instincts, en los die dink wêk. Dit is min of meer hoe ek die ritme gekry et."

Maar dit was nie vir hom ’n lekker proses, hoewel dit lekker was om dit te lees toe dit klaar was, sê Nathan: "Tewyl jy op ’n vertaling wêk, moet jy eintlik yt jou kop sit wie die skrywer is of wat die waarde is van wat jy doen ens. Dit wôd vi my maa net nogge job, wat my utmost concentration need. En daa is niks enjoyable daa an nie. Rewarding ja, maa nie lekke nie."

Shirmoney Rhode is die resensent van Lang pad onnetoe op LitNet: "Om van die Kaapse Vlakte te kom en Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds (oorspronklik Long way down en vertaal deur Nathan Trantraal) te lees, is soos om ’n splinter uit jou voet te haal met ’n skerp spyker. ’n Leeservaring waarin jy jou eie wonde verder oopkrap omdat die storie só bekend en close to home is. Ek moes plek-plek die boek neersit om asem te skep, want ek is (veral nou met die bendegeweldkrisis op die Kaapse Vlakte) uiters sensitief oor die onderwerp. Dis ook waarom hierdie boek so relevant is.

Alhoewel Jason Reynolds Amerikaans is, is die temas van die boek universeel en lees dit asof die boek in die Kaap afspeel. Dis natuurlik te danke aan Nathan Trantraal se sublieme Kaapse Afrikaanse vertaling van die boek."

"Lang pad onnetoe vertel die storie van ’n 15-jarige seun, Will Holoman, wie se ouer broer twee dae vantevore doodgeskiet was en daarom moet hy die reëls wat van generasie tot generasie aan veral seuns oorgedra word, toepas. Die reëls is: Moenie huil nie, moenie piemp (vir die polisie sê wie die moordenaar is) nie, en neem wraak vir die bloed van jou bloed." [...]

Nadat Will sy broer se geweer in die hande kry, klim hy in die hysbak met die doel om reël nommer drie tot uitvoer te bring. Maar toe hy in die hysbak klim, begin dinge eienaardig word. Die hysbak stop op elke vloer en dan klim daar iemand in wat verbind is aan die situasie waarin Will hom bevind.

Rhode gaan voort: "Die rit af tot op die 1ste vloer neem 67 sekondes en die inhoud pas by die vertelde tyd, want die gedigte is kort en ritmies. Vir Will voel dit soos ’n ewigheid, omdat hy gekonfronteer word deur die karakters en nuwe informasie in die hysbak. Op die 1ste vloer staan Will by ’n kruispad en moet hy een van die belangrikste keuses van sy lewe maak …".

"Die titel van die bundel, Lang pad onnetoe, sluit aan by die feit dat Will nie kan wag om uit die hysbak te kom nie, maar dit het ook ’n dubbele betekenis: disfunksionele besluite en reëls wat van generasie tot generasie oorgedra word en uiteindelik die ondergang van mense veroorsaak. Die gebruik van Kaaps vir die vertaling is uiters geslaagd, veral as jy dit met die oorspronklike teks vergelyk. Reynolds gebruik ebonics (African American Engels) en daarom maak die boek vir my meer sin in Kaaps (eerder as Standaardafrikaans). Die Kaapse vertaling behou die nodige ritme van die oorspronklike teks. Die titel van elke gedig vloei in die gedig en moet dus nie apart van die inhoud van die gedig gelees word nie."

"Van die hooftemas is die trauma en effek van bendegeweld op die individue, maar ook gemeenskappe, die rouproses van diegene wat familie en vriende weens bendegeweld verloor, en die rol wat dwelms en dwelmhandel speel. Die boek verf ’n algehele prent van hoe die sogenaamde gangster tot op die punt kom om iemand anders se lewe te vat. Dit ontmasker die gangster en laat jou die kind agter die masker raaksien." 

"Lang pad onnetoe sou ’n uitstekende voorgeskrewe boek wees vir skoliere. Die inhoud is maklik om te volg en na aan baie leerders se verwysingsraamwerk. Dit spreek die realiteite van leerders aan en behalwe dat dit vir hulle interessant sal wees, sal dit hulle ook moontlik kan beïnvloed om beter keuses te maak. Dis ’n uitstekende en broodnodige teks wat gesprekke rondom bendegeweld en ander sosiale euwels in die klas kan laat begin. Wat baie leerders nodig het, is dat iemand na hulle moet luister en moet verstaan waarmee hulle daagliks te kampe het, en die inhoud van die boek sit die fynste besonderhede in konteks sodat die leser Will se situasie sien vir wat dit regtig is. Die boek is beslis ’n moet-lees, nie net vir skoliere nie, maar enigeen wat graag wil verstaan wat regtig agter die skerms van 'skollies' se lewens gebeur."

Marita van der Vyver het in Rapport (20 Januarie 2019) as volg oor Lang pad onnetoe geskryf: "'Briljant' is ’n woord wat ’n resensent so spaarsaam soos wierook behoort te gebruik, anders hang die lofwolke naderhand so swaar in die lug dat ’n potensiële leser bedwelm kan raak. Maar soms, net soms, kry jy te doen met ’n projek waar ander woorde tekort skiet. Vir Lang pad onnetoe kan ’n mens minstens drie wierookstokkies aansteek. Die eerste is vir Jason Reynolds se oorspronklike Long Way Down (2017), ’n briljante vuishou-in-die-maag van ’n boek oor die stedelike straatkultuur van geweld en dwelms en bendes en wraak. Dié jeugroman in vrye versvorm is reeds bekroon met ’n lys van pryse wat selfs langer is as die jong skrywer se indrukwekkende dread­locks. Die tweede is vir Miemie du Plessis van Lapa-uitgewers wat die briljante idee gekry het om die boek in Kaapse Afrikaans te laat vertaal, want op die Kaapse Vlakte en ander dele van ons wye en droewe land moet vele jong mense daagliks probeer oorleef in dieselfde soort gewelddadige straatkultuur as in die verarmde woonbuurte van Amerikaanse stede. Die derde briljant word toegeken aan die keuse van die vertaler en aan die aangrypende vertaling. Dit is moeilik om aan enigiemand anders te dink wat hierdie skokkende, liriese verhaal so presies rég sou kon laat klink in Afrikaans soos die digter en skrywer Nathan Trantraal."

Op LitNet wou Ronelda Kamfer by Nathan weet watter boeke sy lewe verander het: "Die problem met boeke vi my is dat daa ’n klomp boeke is wat jou liewe change, maa is soes New Year’s resolutions: die change last nooit baie lankie. Ek was agtien toe ek The plague gelies et van Camus, en ek het ampe suicide commit agtena. Ek was vi ’n lang tyd na dai inne deep fog van existential depression – dai boek het my baie kak lat voel oo myself, en it klink soe phony nou, maa in dai way is ek grateful dat die effect van boeke, soes memories, oek fade. Elke boek van Coetzee wat ek al gelies et was vi my soes ’n fuckin … wat’s ie woord, ’n slypsteen, wat my senses gesharpen het; ek het Elizabeth Costello gelies en agtena decide om ’n vegetarian te wod – dai was hoeveel, vyf jaa geliede; ek is nog altyd ’n vegetarian. The catcher in the rye het my gehelp om te realise ek issie mal ie. Hesse se SiddarthaThe glass bead Game, het ’n groot impact gehad op hoe ek die wêreld sien: it seem galles obvious vi my nou, maa daityd het ekkit vi die eeste kee discover."

Nathan het in 2013 The childhood of Jesus van JM Coetzee en This is how you lose her van Junot Diaz gelees en het baie daarvan gehou. Hy vertel aan Kamfer hoekom: "Om Junot Diaz te lies is ampe soes oppie beach te stap en mooi skulpe op te tel. Soes iets wat deurie sea ytgespoel was. Coetzee se writing voel soes hyrie woore agte innie jaat ytgegrawe et. En dan heelnag gelê et inne klein kooi ennie woore polish tot it smooth en mooi is."

In ’n onderhoud met Murray la Vita (Netwerk24, 7 November 2014) vertel Nathan dat die twee broers se liefde vir boeke en lees baie keer ’n afstand geskep het tussen hulle en hulle ouer coloured mense: "Noudat ek ouer is, voel dit vir my of ek prepared is; meer as enigiets ander voel dit vir my ... mens weet van mense van ander social classes se eerste impulse is om jou te patronise ... Ek het vir jare na die art gallery toe gegaan met stukkende skoene en ’n baseball top wat ek by my suster se boyfriend geleen het wat ek elke dag gedra het met die vuil cuffs. So hulle kyk jou aan en perceive jou in a certain way. So as ek myself nie ge-armour het nie – dis vir my soos armour om goed te weet – sou ek nooit kon survive het in die climate nie; dis ’n baie vicious kind of environment."

"Party coloured mense, veral ouer mense, voel kinda' threatened as jy boeke lees. Ek het ’n vriend gehad wie se ma nie wou gehet het hy moet vriende wees met ons meer nie want ons lat haar kind boeke lees."

Nathan praat met La Vita oor armoede: "Ek dink as ’n mens arm grootword, word jy groot met ’n vuil gevoel; ’n gevoel van iets wil áfwas, afwas ... die heeltyd, en nie skoonkom nie. Al plek waar dit vir my reachable voel, is in my kop ... dit moet at least skoon wees; my thinking moet skoon wees ..."

"Toe ons in Mitchells Plain gebly het ... Ons het in ’n baie nice huis gebly in Mitchells Plain, ’n maisonette en oor die jare het my ma-hulle aangebou ... káste ingebou, en almal het gedink dit is ’n verskriklike mooi huis ... Maar ek onthou toe dinge begin uitmekaar val; soos toe my ma en pa divorce, het die huis vir my al hoe vuiler begin voel ... Ons het Lavis toe getrek en ek gewéét hoe dit is in Lavis .... Dis vir my ’n repulsive plek gewees in baie ways ... Niemand het respek vir enigiets nie. Almal is te arm om om te gee; mens kan dit nie meer wegsteek nie; niemand pretend om te hê wat hulle nié het nie."

"Ek het geweet dit is wat ons inwag toe ons trek, maar dit het vir my gevoel ek sal rather dáár gaan bly as wat ek bly in ons huis waar dit voel of niks wil skoon kom nie. Dis obviously ’n gevoel wat van binne af kom. Nóú as ek daarna terugkyk, dink ek wat de fok het my besiel om te dink dis ’n goeie idee om Lavis toe te trek.

"Bishop Lavis het die effect op my gehad dat ek voel ek wil alles wegstrip. Ek het alle airs verloor; als. Ek het rêrig besef wie ek is, want dis die type of plek waar die internal word external. Alles wat op die bodem is, kom op en mense lewe tussen dit. Dis ’n baie weird plek. Dit maak jou alles gewoond."

La Vita onthou hoe hy met die broers en hulle ma oor kuns gepraat het; spesifiek oor die skildery van die Vlaamse barokkunstenaar Jacob Jordaens van die sater wat saam met ’n boeregesin aan tafel sit. Nathan het in ’n e-pos aan La Vita daarop uitgebrei: "Ek en André het ’n running joke waa ôs soe baie as possible characters yt famous horror of sci films try en picture in Bishop Lavis bly, soes byvoorbeeld die alien in Predator, die 80's action horror film starring Arnold Schwarzenegger. Ek sal fascinated daa in wies om te sien hoe hy sal in fit oppe jaat in Bishop Lavis. Die ding wat vir my interesting is daa omtrent is dat dit sal vi ammel net about ’n wiek vat om gewoond te raak aan hom. En dan sal ammel hom maa net begin sien as nogge part vannie fabric vannie plek, nog iemand om mee te drink."

"Die satyr by die kostafel met die familie is dieselfde ding vi my, issie dat hulle nie kan sien hy isse satyr nie, is dat hulle ni omgee nie. Wan poverty en struggle by necessity maak dat mense goed at ’n hyper-accelerated speed process. Ek wiet vanne familie waa die hele familie behalwe die een suste in een jaar dood gegan ’et, ek wiet van klomp broes wie ’n jaa offe paar maande ytmekaa doodgeskiet was. Die mense wat agtebly move an, accept ’it as ’n normal part vanne painful life, sonne om te acknowledge meeste vannie tyd dat ’it ’n painful existence is. Is soes fantasy en reality wat seamlessly begin melt met tyd. Issie ding wat my fascinate vanne boek soes One Hundred Years of Solitude, jy wietie of jy ’it moet lies as fantasy of hyper reality nie."

"My eie skryfwêk operate innie selfde space. As ’n rule skryf ek net oo goed wat ek kan verify of goed wat ek self gesien ’et of experience ’et. Is vi my self somtyds swaa om te gloe dat siekere vannie goed waaoo ek skryf regtig kan gebeurit. Daa is goed wat ek ytgelos ’et yt my boek, omdat ’it unrealistic klink al het ’it gebeu."

"As ek kyk na ’n painting soes die een van Jacob Jordaens dan kyk ek veby die metaphor en die symbolism, ek kyk ’it an en dink die is hoe it vi my was toe ek groot gewod ’et. Die absurd ennie everyday locked inne handshake, en ôs stuck innie mirrel vannie unusual arrangement."

Tasha Pinto skryf op Grocott's Mail as volg oor Nathan Trantraal: "He is unapologetic in every sense of the word as he fiddles with his cigarette box and aligns and taps the pages he has prepared to read to us students. He is authentically himself, down to his casual attire and impenitent Capetonian accent that allows his ‘r’s to roll and his ‘ag’s to brush off any concerns. He affirms his creative expression and his nonchalant attitude with his last piece of advice: 'Whatever comes to mind, write it down'." (https://www.grocotts.co.za/2017/09/25/nothing-but-the-trantraal-truth/)

Publikasies

Publikasie

Urban tribe. Saam met André Trantraal

Publikasiedatum

2003

ISBN

(sb)

Uitgewer

Cape Argus

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Stormkaap: drome kom altyd andersom uit

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624045618 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Coloureds. Saam met André Trantraal

Publikasiedatum

2010

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg en Jincom Uitgewers

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chokers en survivors

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780795704888 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

  • Pryse toegeken
  • ATKV-prys vir poësie
  • Ingrid Jonker-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Crossroads. Saam met André Trantraal, Koni Benson en Ashley Marais

Publikasiedatum

2014

ISBN

9781629638355;

Uitgewer

Kaapstad: Isotrope Media

Literêre vorm

Grafiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Alles het niet kom wôd

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780795707919 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wit issie ’n colour nie: angedrade stories

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780795707988 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oolog: gedigte

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780795709517 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Nathan Trantraal as vertaler:

Artikels oor Nathan Trantraal beskikbaar op die internet:

Artikels deur Nathan Trantraal beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Nathan Trantraal (1983–) appeared first on LitNet.

Adriaan Snyman (1938–)

$
0
0

Gebore en getoë

Adriaan Snyman is op 28 Februarie 1938 op die plaas Klipkuil in die Lichtenburg-distrik in die destydse Wes-Transvaal (vandag Noordwes Provinsie) gebore. Hy woon saam met sy ouers in Lichtenburg tot hy dertien jaar oud is en hulle na Johannesburg verhuis het.

Hy behaal sy matrikulasie-sertifikaat aan die Tegniese Kollege in Johannesburg.

In ’n biografiese skets wat Adriaan vir Naln geskryf het, vertel hy dat hy gedurende hierdie tyd ’n “groot en dringende verlange ondervind na die rustigheid van die platteland, ná die dinge wat onherroeplik verby is en só ontstaan dan ’n klompie onbeholpe gediggies wat aan daardie heimwee uiting probeer gee het.”

Foto: YouTube

Hy ontmoet in hierdie tyd ook vir Jan Kromhout. Hy moedig Adriaan in so ’n mate aan dat hy die skrywery in alle erns aanpak. Sy eerste kortverhaal word in Huisgenoot gepubliseer toe hy agtien jaar oud was en sy eerste gedigte het twee jaar later in Brandwag verskyn. 

Verdere studie en werk

Ná sy skoolopleiding gaan werk Adriaan by die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie, aanvanklik in die klerklike afdeling en later as boekkeurder in die biblioteek van die Onderwysbiblioteek. Deur middel van deeltydse studies verwerf hy ’n BA-graad deur Unisa (Universiteit van Suid-Afrika). Hierna word hy joernalis in diens van die Departement van Landbou-Tegniese Dienste in Pretoria en sluit daarna aan by die redaksie van Hoofstad in Pretoria en later by Die Burger in Kaapstad. Hy was vir ’n hele rukkie perdewedren-skrywer vir Die Burger.

Nadat Adriaan en sy gesin vir ’n paar jaar ’n sigeunerbestaan gevoer het, vestig hulle hul in 1981 op Hartnebos(Hartensbos) in die Suid-Kaap en begin hy voltyds skryf. Hy vertrek later na Amerika, maar vroeg in die 1990’s keer hy terug na Suid-Afrika.

Hy vestig hom in Mosselbaai, vanwaar hy vanaf 1991 Vaandel-Uitgewers (eers Hugenote Publikasies, toe Libanon Uitgewers en vanaf 1996 onder sy huidige naam) bedryf, ’n uitgewery wat sy vele boeke oor Siener van Rensburg en boeke oor die regse Boere-politiek uitgee.

Hy maak ook ’n video van Siener se lewe en reis in 2001 regdeur die land om mense in te lig oor die voorspellings van ’n gewelddadige burgeroorlog in Suid-Afrika, waartydens blankes op groot skaal uitgemoor sal word. Die video wat hy oor die profeet en sy voorspellings maak word ook wyd vertoon. In 2002 word sy huis deursoek en die polisie lê beslag op verskeie dokumente, asook rekenaars wat inligting oor Siener se profesieë bevat. Die video wat hy gemaak het word later as bewysstuk gebruik in die hofsaak teen regse rebelle wat aangekla word van sameswering tot gewelddadige verset teen die regering.

Hy is getroud met Annelize Morgan, ’n bekende skrywer, en hulle het vyf kinders. Hulle verhuis in 2012 na Ladismith in die Karoo, waar misdaad volgens amptelike statistieke van die laagste in die land is.

Adriaan skop sy skrywersloopbaan af met ’n bundel kortverhale Die sorge van ons dae wat in 1963 by JP van der Walt verskyn. Die kortverhaal “Die telegram” word ook opgeneem in die versamelbundels Mosaïek en Kleinbegin in die prosa, met laasgenoemde wat lank voorgeskryf word vir skole. In Tydskrif vir Letterkunde van Februarie 1983 skryf H le R Slabbert dat die gebeure die belangrikste element in hierdie kortverhaal is. Die skrywer slaag daarin om slim leidrade vir die leser daar te stel sodat hy die slegte nuus verwag – dit word verder vooropgestel deur die koms van die telegram, maar die inhoud van die telegram is egter nie wat verwag is nie. Ander kortverhale van Snyman is ook opgeneem in die bundel Van spoke gepraat.

In 1966 verskyn Adriaan se novelle Priester van die rotte waarin gefokus word op die lewens van mense wat geen ideale meer oor het nie en wat hulle dae in kroeë en bordele deurbring. Benewens hierdie volwassenes wat in ’n stryd met die lewe self is, lees ons ook van ’n jong seun wat verlam is en eers saam met sy pa en later alleen in ’n huis vir sy ma lê en wag in die hoop dat sy sal terugkom nadat sy weggeloop het. (Wikipedia)

In Vaderland van 24 Februarie 1967 skryf Anita de Kock dat Priester van die rotte nie ’n blote dokumentêre verslag van die stadsmens in sy miserabele bestaan is nie, maar dat daar ook ’n tweede meer standhoudende verhaal vertel word: “Die allegoriese word egter subtiel gehanteer, soms óópgeskryf, soms tóégeskryf. In die hantering van hierdie soort dubbelloop-verhaal opanbaar Snyman ’n sensitiwiteit wat dikwels ontbreek by ander jong (en goeie) skrywers wat simbole probeer inwerk. Die parallelle is dáár en oortuigend – vlugtig aangestip sonder onnodige kommentaar of verduideliking.” (...)

“Die direkte verhaal met die bekende gegewe van drank, bordele, ontug en fisieke lyding is plek-plek te konvensioneel om te boei, maar tog goed genoeg om simbool te word. Aangevul en verryk deur die dieper betekenislaag word dit wat pessismisties, nihilerend sou gewees het, optimisties en positief.”

“Ook die styleksperimente in die verhaal is interessant. Die tegniek bly deurgaans deel van die ontdekkingstog. Soms is die vertelwyse strak en onbewoë, soms weer sagter, met meer sentiment. In sy geheel word die novelle gekenmerk deur ’n besondere selfbewustheid en dissipline – vermoë tot konsentrasie en integrasie. Hoewel daar ’n gemis is aan emosionele en intellektuele vitaliteit, maak die eerlikheid van analise en die artistieke ordening van die stof gewis indruk.”

In 1970 verskyn Skip van genade by Tafelberg Uitgewers waarin die verhaal van Noag se roeping, sy arkbouery en die sondvloed uitgebeeld word. In Transvaler van 8 Februarie 1971 skryf die resensent (onbekend) dat Adriaan Snyman se “omanmatige aanbiedinge, goeie eienskappe het, soos sy rekonstruksie van die sondige leefwyse van diegene wat teen Noag in verset kom. Maar ongelukkig kom Noag en sy gesin nie juis uit die werf nie, en die arkbouery self oortuig my nie heeltemal soos dit hier voorgestel word nie. Dit is egter ’n besonder leesbare boek wat ’n mens deurgaans interesseer, soms juis omdat die artistiese vormgewing die worsteling van die skrywer met sy stof openbaar.”

Vir Anna van Zyl (Volksblad, 28 Januarie 1971) het Skip van genade haar laat nadink en gee dit ’n mens nuwe insigte in die arkverhaal asook in die werklikheid van die gebeurtenis.

Een van Adriaan Snyman se bekendste boeke is Kruistog na die ewigheid wat in 1973 vir die eerste maal verskyn het met ’n herdruk in 1983 en ’n grootdrukuitgawe by Makro in 1989. Dit is ’n oorlogsrman wat die lotgevalle van ’n groep Suid-Afrikaanse soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika.

Anna Van Zyl (Volksblad, 2 Julie 1983) is van mening dat die roman heeltemal apart staan van die politiek van daardie jare. Dit beeld slegs die oorlog in Noord-Afrika uit, met spesifieke verwysing na die veldslae by Sidi Rezegh, El Alamein en Tobroek. Vir haar oortuig die roman as gevolg van die skrywer se uitstekende navorsingswerk wat hy oor baie jare gedoen het. Hy het hierdie navorsing verwerk tot ’n boeiende roman oor die lewe, ontberings, vrees en lyding van die soldate.

“Die boek is eg en oortuigend, sonder Konsalik-sensasie, en die soldate word menslik uitgebeeld met hul emosies, angs, vrae en heldemoed. Geweld word met rou realisme oorgebring, en liefde, heldhaftigheid en trou met deernis.”

“Die gestalgewing is so kundig dat die leser waarlik binne-in die oorlogsituasie geplaas word en jy neem kennis van omstandighede waarvan jy nie eens kon droom nie. Die boek verdien ’n wye leserstal omrede van die feitelikhede én die skrywer se oortuigende beeldingsvermoë,” sluit Van Zyl haar resensie af.

In Die Oosterlig van 27 Junie 1983 skryf Philip de Bruin dat Snyman se karakters in Kruistog na die ewigheid lewendig word en die leser lag en huil saam met hulle. Die verhaaltrant is “reguit, soldate-taal, soms miskien te kru vir die sensitiewe vroulike oor, maar heerlik realisties. Dit is ’n versamelstuk vir elkeen wat van oorlogsromans hou.”

In 1978 word Kruisvuur gepubliseer. Dit was die eerste roman in Afrikaans met die Angolese oorlog as agtergrond. Snyman het meer as twee jaar aan hierdie roman gewerk. Manie van der Walt, uitgewer by JP van der Walt, het hom in 1976 gevra om ’n verhaal oor die ervaringe van die jong soldate aan die grens te skryf. Van der Walt was van mening dat só ’n roman die jong dienspligtige in ’n mate sou kon voorberei op wat wag en ook aan die families van die soldate.

Snyman het aan Hoofstad (14 Maart 1978) gesê dat dit nie ’n maklike taak was nie, “want in daardie stadium is ons soldate pas teruggetrek uit Angola en was die senior mense in die weermag nie juis oorgretig om oor die saak te gesels nie.”

“Met verloop van tyd het ek egter broksgewyse my inligting versamel, onderhoude met tientalle dienspligtiges gevoer en was ek selfs in Suidwes om ’n beeld van die toestande waaronder die manne moet leef, te kry.”

“’n Mens kan niks anders as net lof vir die heldhaftige stryd, mannemoed en ontberinge wat die Suid-Afrikaners moes deurmaak, hê nie. Sommige van hulle het herhaaldelik hul lewens vir hul makkers gewaag, maar wanneer jy vandag met hulle daaroor praat, is daar geen sweem van trots by hulle te bespeur nie – net ’n nederige dankbaarheid dat hulle nog leef – al is dit dan sonder arm of in ’n rystoel.”

Adriaan Snyman skroom nie om omstrede onderwerpe as temas vir sy romans te gebruik nie. In 1983 verskyn Heuwel van getuienis, met as subtitel die belydenis van pater Nikolaas, wat teen God, mens en dier gesondig het, waarin die satanisme ’n belangrike rol speel. Kerneels Breytenbach (Die Burger, 22 Desember 1983) skryf dat as dit nie vir die verskyning van ’n motor in een van die tonele was nie, ’n mens sou kon dink dat hierdie roman die eerste Afrikaanse roman oor die Middeleeue is.

“Die agtergrond waarteen die verhaal afspeel, die mense en hul opvattings getuig daarvan, en verleen aan die vertelling die soort bekoring wat gewoonlik met (aardse) werke oor die Middeleeue geassosieer word. Maar die bekoring maak gou plek vir ’n makabere verwondering – die satanisme speel ’n sentrale rol in Heuwel van getuienis. Snyman het die onderwerp sonder skroom aangepak, en dit sprekend gekontrasteer met die Christelike geloof.” (...)

Heuwel van getuienis is ’n beskeie dog aangrypende verhaal, met ’n maklik verstaanbare simboliek. Die feit dat baie van die figure geyk is en dat Snyman nes Hammer Films glo dat geen Protestante en  slegs Katolieke die fyn grens van geloof en bygeloof sodanig bewandel dat hulle regstreeks met Satan slaags kan raak, doen myns insiens weinig afbreuk aan die belangrike wins van die boek nie.

“Die wins is naamlik die navorsing en verwerking van sake rondom die satanisme, en die wyse waarop die sterk rituele inslag geplaas word teenoor dié van die Katolieke geloof. Daar kan geen twyfel wees aan wie se kant Snyman eintlik is nie, maar sy beskrywing van ’n gemeenskap in verval, en die helse uiterstes waartoe Satan die mense dryf, is verweef met verwysings en ’n klaarblyklike kennis van geheime gebruike: dit boei, maar ontstem ook.”

Heuwel van getuienis toon daarbenewens ’n ontwikkeling in Snyman se skryfstyl wat net iets goeds beloof. Die dialoog-gedeeltes veral word nie meer ontsier deur die berekenheid wat dié van Kruistog na die ewigheid so dikwels kenmerk nie, terwyl hy telkens daarin slaag om ’n atmosfeer te skep wat by die vertelling pas. Soms voel dit of jy, die leser, hallusineer. Dit is juis dié gevoel en stemming van sondigheid wat sorg dat Heuwel van getuienis meer word as enige Hammer Horrer-verhaal.”

MC Botha (Vaderland, 2 Julie 1984) se mening is dat die woordkombinasies wat in die dialoog gebruik word, die boek se ondergang is. Ook die pater se “oorwinning” oor Satan word nie baie oortuigend verbeeld nie. “Alles bly maar nog by woorde ... Woorde waarmee die skrywer nie kon slaag om ’n brug tussen die sienbare en onsienbare te bou nie.”

Adriaan neem met sy boeke sy lesers op wêreldreise. In Die laaste vrees (1985) word die leser na Pole geneem en ’n kykie gebied in die partisane se weerstand teen die Duitse besetters. Die storie is tweeledig – fisieke oorlewing en die liefde. In die verhaal word vertel van hoe ’n paar Suid-Afrikaners by die Partisane in Pole betrokke raak. Weer was die skrywer se navorsingswerk uitgebreid en het hy onder andere navorsing gedoen oor Czestochwa, waar die grootste deel van die verhaal afspeel. Hierdie inligting het immigrante uit Pole aan hom meegedeel.

Anna van Zyl sluit haar bespreking van die boek as volg af: “Dis ’n wrede en bitter boek dié en soms onhelder omdat episodes deurmekaar gegooi word. Die verhaal word egter met volgehoue spanning gebeeld. Dit is ’n pakkende verhaal van liefde en haat, van wreedheid, verraad en bedrog.” (Volksblad, 30 November 1985)

In 1994 publiseer Tafelberg Uitgewers vir Meggie wat die verhaal vertel van Meggie, ’n meisietjie wat op twaalfjarige ouderdom saam met haar pa. swanger ma en nog drie kinders na Suid-Afrika kom om hulle fortuin op die delwerye te kom maak. Maar vir hulle werk dinge nie uit soos hulle verwag het nie.

Hulle pa word verplig om by ’n boer op Riversdal te gaan werk en só word die gesin uitgeworpenes in die blanke gemeenskap en word hulle deur die bruin gemeenskap aanvaar. Meggie begin kopdoek dra om haar voor te doen as ’n bruin meisie sodat sy werk by ’n boer kan kry. Sy ontmoet vir Maer-Flip, ’n aalwyntapper van Mosselbaai.

Ia van Zyl skryf in Die Burger van 11 Januarie 1994 dat Meggie vir haar die letterkundige verrassing van 1993 was. “Hier het ons eindelik ’n roman waarin met groot deernis, sonder melodrama en moralisering en met kostelike humor geskryf word oor die lotgevalle van mense wat die slagoffers van ’n bepaalde bestel word. Snyman trap nie in die slaggat van eensydigheid waarin boeke van hierdie aard dikwels beland nie.” (...)

“Snyman verleen deur middel van volgehoue dialoog en op gepaste plek ook vertellersfokalisering, in die tipiese streektaal – met net hier en daar ’n glips – ’n groot onmiddellikheid aan die leser se belewing van die personasies se lotgevalle. Warm humor bly deurgaans ’n reddende faktor in troostelose omstandighede.” (...)

“Uit ’n nawoord blyk dat Meggie se (ware) verhaal deur die skrywer nageloop is uit Edinburgh in Skotland tot in die Tarka-lokasie in Mosselbaai.”

Ook George Weideman het met lof van Meggie gepraat in sy resensie oor Afrikaans Stereo se Oor skrywers en boeke op 11 Augustus 1994. Meggie skryf ook briewe aan “missus Rensburg” waarin sy die “dieptes van haar siel en haar swaarkry” blootlê. “In hierdie briewe is dit veral die die plaaswerker, en by uitstek die bruinvrou, wie se lot onder die soeklig kom. Tydens haar verblyf by die Pertoorse word Meggie herhaaldelik misbruik, sowel deur die blanke voorman as sy bruin handlanger.”

“Wanneer Meggie vertel hoe sy uiteindelik uit hierdie hel ontsnap het, is die leser saam met haar verlig. Sy vind geluk my Maer-Flip wat sy tydens ’n reis na Mosselbaai ontmoet, en Snyman se krag as skrywer kom veral in die onthoubare ontmoeting tussen Meggie en Maer-Flip in die ‘five-forty’ se ‘luggage van’ na vore.” (...)

“Dis nie net die verre verlede waaroor dit hier gaan nie. Die roman ondersoek ook die verhouding tussen impulsiewe dade, toeval en die gevolge daarvan. Plek-plek op ’n naturalistiese wyse. Dit bied ’n besonder eerlike perspektief op sosiale agtergesteldheid.” (...)

“Dit is veral Meggie se onwrikbare optimisme en haar medemenslikheid wat die leser bybly. Die hoofstukke wat in die roman-hede afspeel, omvat die krisis wat opduik wanneer Meggie en Maer-Flip se dogter, produk van hul vermenging, laat weet dat sy haar Skotse vriend, Jamy, wil ‘huis toe bring’.”

“Meggie is ’n boek vol van die soet-suur van die lewe. Die swaarkry het Meggie leer krisisse hanteer; en sy word ’n werklik oortuigend heroïese figuur.”

Resensies van Adriaan Snyman se jeugverhale:

  • Talita koemi (1973) vertel die verhaal van die dogtertjie van Jaïrus, Ragel, wat deur Jesus uit die dode opgewek is. Na hierdie wonderwerk word Ragel se ouers volgelinge van Jesus, maar Ragel en haar oupa, Hiskea, bly agter in die huis in Kapernaüm. Weens haar geloof in Jesus word sy uitgeskuif en wil niemand enigiets met haar te doen hê nie. “Die skrywer slaag nie slegs daarin om die leser deur die persoon van die dogtertjie al die antagonisme en stryd teen Jesus en sy volgelinge laat ervaar nie, maar laat ook die bekende Bybelse plekke deur sy beeldende taal lewe. Hoewel die verhaal denbbeeldig is, is die milieu, gewoontes en historiese agtergrond redelik getrou aan die tydvak. Hierdie boek word verwerk en later heruitgegee as Dogtertjie staan op (1983).” (Kobus Koch, Die Kerkbode, 27 Julie 1983)
  • Jokkie vir die sweetvos(1978) is die verhaal van die arm seun, Francois, wat daarvan droom om ’n jokkie te word en met perde te werk. Sy pa is sieklik en sy broer wat vir predikant studeer, veroordeel sy werk as jokkie. Hy is ook verlief op die mooi Lize, dogter van sy Sy een groot ideaal is om met die Sieraad ’n wedren te wen. “In hierdie verhaal verweef, is Francois se oorwinning oor sy gebrek aan selfvertroue en die ontwikkeling van die verhouding tussen hom en Lize. Adriaan Snyman het ’n interessante, positiewe boek geskryf wat vir die meeste jong lesers ’n nuwe wêreld sal laat oopgaan. Sy simpatieke siening van Francois sal dit vir jongmense maklik maak om daarmee te identifiseer.” (Hannie Schutte, Transvaler, 24 Maart 1979)
  • In Die silwer wiel (1986) is daar by die Laerskool Ligbaken ’n fietswedren waaraan al die standerd vyf-seuns moet deelneem. Daar is die gebruiklike deursnee van kinders – die bullebakke, die arm kinders van die kleinhoewes wat self hul fietse moes bou. Boetie Faber het ’n horrelvoet en hy oefen op oom Sybrand, ’n alkoholis, se dikwielfiets tot tyd en wyl sy fiets klaar gebou is. “Die storie en die karakters is voorspelbaar en Die silwer wiel lê gevaarlik naby die moralisties-didaktiese tranetrekkers van die 1920’s. En tog is daar ’n opregte, onweerstaanbare, eerlike element in die boek. Die milieu van minder bevoorregte mense en klein besonderhede oortuig. As ’n mens dus verby die blatante seksisme, die geforseerde, soms onnatuurlike dialoog en die stereotipiese karakters kyk, word die leser tog oorgehaal deur die basiese, ongeraffineerde attraksie van die boek.” (Marina le Roux, Die Burger, 21 Mei 1987)
  • Die vuurwoud(1979) speel tydens die Eerste Wêreldoorlog met die slag van Delville-bos in Frankryk af. Dit is die een geveg waarin meer Suid-Afrikaners op een geleentheid hulle lewens neergelê het as in enige ander gebeurtenis. Nadat Stefan Meinhardt teen sy ma se sin by die oorlogtroepe aangelsuit het, bevind hy hom as baardraer by Delville-bos. Sy oom, dokter Wilhelm Coetzer, is hoof van die Korps en Stefan is onder sy toesig. Dus moet Stefan aan sy mede-troepe wys dat hy nie deur sy oom voorgetrek gaan word nie.
  • Die avontuurverhaal Nagbrug(1987) is ’n herskrywing vir die jeug van die roman Die laaste vrees. Hierdie verhaal speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog, wanneer ’n groep jong vlieëniers noodvoorrade van Italië na Warskou neem. “Nagbrug is ’n verdienstelike en lesenswaardige jeugboek wat eie reg kan aanspraak maak op outentisiteit.” (Marina le Roux, Die Burger, 31 Maart 1988)
  • Ons Koba(1989) speel in die gouddelwerye by Pelgrimsrus in die Oos-Transvaal af. Koba, ’n vyftienjarige dogter probeer om na haar pa se afsterwe, ’n lewe vir haar en haar drie boeties en sussie te maak deur self op Lourens Creek te delf. Maar dit is nie so maklik soos sy gedink het nie. Gelukkig is daar Len Greeff wat aan haar kant is. “Die spanning in die verhaal word oor die algemeen goed hanteer. Hoewel die skerpsinnige leser soms die ontlossings kan raai, is die ontknoping tog verrassend. Daarby het die verhaal ’n vlot verloop, word dit gedra en ondersteun deur gemotiveerde en oortuigende handeling. In 1993 is Ons Koba op die kortlys vir die toekenning van die Ou Mutual-prys.” (Marina le Roux, Die Burger, 8 Maart 1998)
  • Klipkuil: kroniek van die diamantveld(1989) fokus op die lewe op Klipkuil, ’n delwersdorp, met die dertienjarige Theo wat in diamantsmokkelary betrokke raak. Die skrywer is op die plaas Klipkuil gebore. “Die leser verwag dus ’n deurleefde en oortuigende milieuskildering, en dit kry hy dan ook. Die daaglikse roetine in Klipkuil en die onmiddellike omgewing word realisties beskryf. (...) Die intrige is opwindend genoeg, maar die spanningslyn word telkens verwring deur beskrywings, belaai met onnodig detail en vervelige monoloë. (...) Die stramien van karakterbeelding is nie deeglik ingevul nie. Karakters is soms so stereotiep en voorspelbaar dat die leser ongemaklik voel. (...) Die dialoog in Klipkuil is soms oorspronklik en verrassend realisties, maar ongelukkig is daar nog te veel asemlose stiltes, massiewe skouers, verweerde hande ensovoorts.” (Marina le Roux, Die Burger, 9 Augustus 1990)
  • Die jaar van die sneeuskip(1991) vertel die verhaal van Marianne, wat deelneem aan ’n soektog na Noag se ark (die sneeuskip van die titel) wat volgens oorlewering op berg Ararat (Agri Dagi of Berg van Pyn in Turks) in Turkye lê. Die klipharde en swaar tog op soek na die ark word die agtergrond waarteen Marianne haar verhoudings moet probeer uitklaar – veral met Theuns wat by haar broer was toe dié op Tafelberg verongeluk het. “Verhoudings bly die belangrikste element in die verhaal, en dit word genuanseerd en met begrip geteken. As belangrikste karakter oortuig Marianne. Sy is nie ’n vleklose heldin nie, sy ken twyfel en onsekerheid, word bang op pad na die bergtop en begin huil as sy nie meer verder kan nie. (...) Dié uiters boeiende verhaal beslaan juis 21 hoofstukke, wat die innerlike mondigwording van Marianne beklemtoon.” (Elsabe Steenberg, Beeld, 25 November 1991)

Vanaf die middel 1990’s poog Adriaan om die lesers meer  besef te maak van die visioene van die Boere-siener, Siener van Rensburg, deur dit te boek te stel. Van die ou Boere-generaals soos De Wet het in sy visioene geglo en om sy hulp gevra tydens die Anglo-Boereoorlog, terwyl De la Rey en en hoogaangeskrewe politici soos Hertzog, Louis Botha en Smuts getuig het dat van sy visioene bewaarheid is.

In 1992 sien ’n reeks oor Siener van Rensburg getiteld Siener van Rensburg: profeet vir sy volk in ses dele by Hugenote Publikasies. Stem van ’n profeet (1993, Hugenote-publikasies) is veronderstel om ’n uitbreiding van hierdie reeks te wees en is daar baie bykomende inligting wat ná die publikasie van die reeks verkry is.

Maar, skryf Ben de Kock (Die Burger, 30 November 1993), “dit is ook die swakheid van die boek, dat Snyman die bykomende  inligting nie met die oorspronklike reeks in ’n samehangende geheel kon verwerk nie. Wat hier ontbreek, is die ferm hand van ’n redakteur wat die snoeiskêr kon insteek om ’n helderder lyn en ’n stewige struktuur te verseker. (...) De la Rey het glo gesê as daar ’n boek oor Siener van Rensburg geskryf word, dit een van die interessantste bydraes oor die Tweede Vryheidsoorlog sal wees. Ons wag daarop.”

Oor Die stem van die profeet skryf At van Wyk in Beeld (23 Augustus 1993) dat Siener van Rensburg ongeveer 700 gesigte gesien en visoene gehad het oor die toekoms van spesifiek die Afrikaner. Hierdie visioene word in Die stem van die profeet versamel, maar daar word van die aanhalings en bronne nie genoegsaam geboekstaaf nie. “Historiese perspektief ontbreek, en as die uitlêer met die ‘voorspellings’ omgaan soos met sommige van sy kontroleerbare feite, kry jy bedenkinge. (...) Die uitlêer slyp die Siener tot profeet der profete. Hy sê voorin die kommentaar en verklarings dat dit nie noodwendig sy mening weerspieël nie, maar selfs ’n blinde kan sien wie se stem én politieke stekelhare dit is.”

Vir Daan Rossouw in Volksblad (21 Junie 1993) is Die stem van ’n profeet ’n “kleinood, vir redes wat wissel van die taamlik volledige lys voorspellings wat daarin voorkom, tot die besondere insig wat dit gee in oom Nieklas se tydgenote.”

Ook Charles Fryer (Insig, Junie 1993) was positief oor Die stem van ’n profeet: “In die laaste tien jaar van sy lewe het hy sy dogter Anna honderde visioene laat opteken nadat hy in 1916 ‘gesien’ het sy volk sal aan die einde van hierdie eeu weer met nuwe belangstelling na sy profesieë begin kyk.”

“Dit laat ’n mens wonder of dit blote toeval is dat Adriaan Snyman die oefeningboeke waarin Anna Badenhorst geskryf het, en wat jare lank soek was, juis nou (in ’n vergete houer in Lichtenburg se biblioteek) opgespoor het. Want dit was deurslaggewend vir die skryf van hierdie boek; ten spyte van onnodige herhaling hier en daar, ’n raps te veel geesdrif by sekere interpretasies, en plekke waar die materiaal dalk beter georden kon gewees het, ’n fassinerende, openbarende biografie – met ’n aantal ewe fassinerende foto’s – oor een van die merkwaardigste persoonlikhede in ons land se geskiedenis. ’n Boek wat die Boereprofeet teruggee aan sy volk.”

Stem van ’n profeet is in Engels vertaal as Voice of the prophet en dit is ook in Duits vertaal.

Op Wikipedia word Adriaan Snyman se ander boeke oor die profesieë as volg opgesom:

  • Teen die aand sal dit lig word(1994) is ’n roman met Siener se gesigte as tema en vertel hoe die Afrikaner hom uit die as van die 1994-verkiesing weer ophef en hom eindelik van die heerskappy van vreemdes bevry.
  • Siener van Rensburg: Boodskapper van God(1995) is die biografie van die profeet Siener van Rensburg. Dit bevat veral voorspellings van wat met sy volksgenote gaan gebeur en hierdie boek is vol onthullings, historiese gegewens, visioene en honderde verklaring van die Siener se gesigte.
  • Die laaste loopgraaf(1997) bevat besonderhede oor die volk se laaste groot stryd, die Derde Vryheidsoorlog en die oorwinning van die Boere in hulle vryheidstryd.
  • Siener: Blaas die basuin (1998) is aanvullend tot die visioene in Boodskapper van Goden verklaar wat vorentoe in Suid-Afrika gaan gebeur.
  • Die Oera Linda Boek(1998) bestaan reeds sedert 2193 voor Christus en handel oor ’n 4000 jaar oue beskawing. Merkwaardig genoeg bevat die boek talle verstaanbare Afrikaanse woorde en uitdrukkings. Die boek bevat ook ’n profesie wat oor dertig eeue strek.
  • Bloedvlaag oor Prieska(1999) bevat inligting oor die bloedige stryd wat die Boere sal moet veg voor hulle die oorwinning en vryheid verkry.
  • Waarskuwing 2000(1999) bevat inligting oor wat in lande regdeur die wêreld gebeur en waarskuwings oor wat mens in die nuwe millennium te wagte kan wees.
  • Die Messias-kode(2001) bevat inligting oor die geheime kode wat opgesluit lê in die Bybel en die uniekheid van die Bybel bewys, asook vele wetenskaplike ontdekkings verklaar.
  • Die lewende wesens(2001) verklaar die Bybelse verwysings na hierdie wesens en verduidelik die belangrike rol wat hulle aan die einde van die tyd sal speel.

Adriaan Snyman het ook tientalle boeke onder skuilname soos De Wet le Roux, Stephanie Meiring en Francois Richter geskryf.

Publikasies:

Publikasie

Die sorge van ons dae: kortverhale

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Onsterflike lig

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kruis van die liefde

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Priester van die rotte: ’n novelle

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Voorbrand-uitgewers

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Skip van genade

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kruistog na die ewigheid: oorlogsroman

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1983
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0624
  • 0868122262 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Oorlogsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die weg van ’n arend

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1977
  • 1978
  • 1979
  • 1982
  • 1983         
  • 1985
  • 1986
  • 1989

ISBN

  • 0624009319 (hb)
  • 0624020886 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Talita Koemi

Publikasiedatum

1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: El Greco Uitgewery

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Jokkie vir die sweetvos

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1984
  •  1987

ISBN

  • 0624011887 (hb)
  • 0624021025 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kruisvuur

Publikasiedatum

1978

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vuurwoud

Publikasiedatum

  •  1979
  • 1983
  • 1988

ISBN

  • 0628016875 (hb)
  • 0628026242 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dogtertjie, staan op

Publikasiedatum

1983

ISBN

0907992145 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Waterkant Uitgewers

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Heuwel van getuienis: die belydenis van pater Nikolaas, wat teen God, mens en dier gesondig het

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022919 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die laaste vrees

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798108679 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die silwer wiel

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1988
  • 1989
  • 1990
  • 1991

ISBN

0624024253 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nagbrug (herskrywing van Die laaste vrees)

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798122129 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die arkbouer

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798124091 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Klipkuil: kroniek van die diamantveld

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624027686 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ons Koba

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798125527 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Jaar van die sneeuskip

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030522 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Siener van Rensburg: profeet vir sy volk. Deel 1 tot 6

Publikasiedatum

1992

ISBN

(sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Hugenote Publikasies

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Meggie

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624062205 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Siener van Rensburg: boodskapper van God

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2007

ISBN

  • 0958408017 (sb)
  • 1919728473 (sb)

Uitgewer

  • Mosselbaai: Libanon-uitgewers
  • Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Waarskuwing 2000. Saam met Annelize Snyman

Publikasiedatum

1999

ISBN

1919728112 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Profesieë

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Bloedvlag oor Prieska: (en ander profesieë in aantog 1899-2000)

Publikasiedatum

1999

ISBN

1919728120 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Profesieë

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Siener van Rensburg – die laaste loopgraaf

Publikasiedatum

1999

ISBN

1919728023 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Teen die aand sal dit lig word

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2008

ISBN

1919728228 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Messias-kode: (’n verborge boodskap oor die eindtye)

Publikasiedatum

2000

ISBN

1919728139 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Profesieë

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

A last warning: 15 Feb 2006 – Lichtenburg

Publikasiedatum

2006

ISBN

191972866X (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Profesieë

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gebooie van mense

Publikasiedatum

2006

ISBN

1919728538 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Words of a prophet

Publikasiedatum

2007

ISBN

191972849X (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel-uitgewers

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 As De Wet le Roux:

Publikasie

Die afskuwelike sneeuman

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die weg na vryheid: ’n roman oor die Hongaarse opstand

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kruin van geluk

Publikasiedatum

1973

ISBN

0799300535 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Hoefslag teen die môre

Publikasiedatum

1973

ISBN

07993 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlug van verskrikking

Publikasiedatum

1974

ISBN

0799300608 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Skaakspel met die noodlot

Publikasiedatum

1974

ISBN

07993 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die geheimsinnige markies

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 079930185 (hb)
  • 0868122238 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Ou Kaapse verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Grendels van die hart

Publikasiedatum

1975

ISBN

0799301612 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kamp van vervloeking

Publikasiedatum

1976

ISBN

0799302376 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Lokval vir ’n meisie

Publikasiedatum

1976

ISBN

0799302333 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Swaard van vergelding

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0799302104 (hb)
  • 0868122351 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Treffer-Boekklub
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Ou-Kaapse verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koetsrit na onheil

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

  • 0799302848 (hb)
  • 0868122386 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Treffer-Boekklub
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Ou-Kaapse verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Horings van die takbok

Publikasiedatum

1978

ISBN

0799303062 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Pad na die afgrond

Publikasiedatum

1978

ISBN

0620031557 (hb)

Uitgewer

Totiusdal: Ignesco Uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die uur van afrekening

Publikasiedatum

1978

ISBN

0799303399 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die ruiters van onheil

Publikasiedatum

1979

ISBN

079930395 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Goud van verraad

Publikasiedatum

1981

ISBN

0799305448 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Laksman in boeie

Publikasiedatum

1982

ISBN

0799306010 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vallei van vrees

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0799305685 (hb)
  • 0868122114 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Treffer-Boekklub
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Onrus op Oesterbaai

Publikasiedatum

1984

ISBN

079930767X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die nag sal verdwyn

Publikasiedatum

1984

ISBN

07993 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Baai van vertwyfeling

Publikasiedatum

1989 (grootdruk)

ISBN

086812222X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Grootdruk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vesting van onheil

Publikasiedatum

1996 (In 1986 as vervolgverhaal verskyn in Keur)

ISBN

0624034860 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 
As Stephanie Meiring:

Publikasie

Espanja

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1981

ISBN

0799305022 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vrou in die skemering

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1982

ISBN

0799306363 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die wit ballerina

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

0868122416 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kasteel in die woud

Publikasiedatum

1972

ISBN

0799300411 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die blinde sirkel

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1993 (grootdruk)

ISBN

  • 0799300918 (hb)
  • 0868123498 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlinder in die wind

Publikasiedatum

1973

ISBN

0799301124 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Waar die soetdorings bot

Publikasiedatum

1973

ISBN

079930106X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Blomme in die winter

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0799301477 (hb)
  • 0868122254 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Branders van onheil

Publikasiedatum

1974

ISBN

0799301116 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die pad na die sterre

Publikasiedatum

1974

ISBN

0799301345 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Eike-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die son sal weer skyn

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 07993 (hb)
  • 086812219X (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gestaltes teen die skemer

Publikasiedatum

1975

ISBN

0799301906 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Môre se goue strande

Publikasiedatum

1975

ISBN

0799301736 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Eike-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Erfenis van geluk

Publikasiedatum

1976

ISBN

0799301965 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Pêrels van geluk

Publikasiedatum

1976

ISBN

079930221X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Eike-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die aandwind bring verlange

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0799302767 (hb)
  • 0868122182 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Masker van geluk

Publikasiedatum

1977

ISBN

0799302414 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Erfenis van eensaamheid

Publikasiedatum

1978

ISBN

0799303283 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Skaduwees van gister

Publikasiedatum

1978

ISBN

0799303100 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Anderkant die reënboog

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0799303976 (hb)
  • 0868122157 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die geheim van La Fleur

Publikasiedatum

1979

ISBN

0799304123 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Ou-Kaapse verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nonnatjie

Publikasiedatum

1979

ISBN

0799303801 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Swaard van die verlede

Publikasiedatum

1980

ISBN

0799304735 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Ou-Kaapse verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Trane sal verbygaan

Publikasiedatum

1980

ISBN

079930445X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Blye hoop

Publikasiedatum

1981

ISBN

0799305212X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlug na die verlede

Publikasiedatum

1982

ISBN

0799305626 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ruiter in die wind

Publikasiedatum

1983

ISBN

0798114746 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die goue droom

Publikasiedatum

1985

ISBN

0799308757 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die laggende mandaryn

Publikasiedatum

1986

ISBN

0799309680 (hb)

Uitgewer

Pretoria: President-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oo wieke van geluk

Publikasiedatum

1986

ISBN

0628031033 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Klub Dagbreek

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Smarag van wraak

Publikasiedatum

1986

ISBN

0628030738 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Klub Saffier

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Stephanie Meiring omnibus

Publikasiedatum

1998

ISBN

1919782060 (sb)

Uitgewer

Welgemoed: Tiara Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 
As Francois Richter:

Publikasie

Die muisval

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1990

ISBN

  • 062801225X
  • 0628034245 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Klub 707
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlug vir die strafgerig

Publikasiedatum

1995

ISBN

0958406111 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Libanon Uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Teen die hele wêreld vry

Publikasiedatum

1997

ISBN

0958406138 (hb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel Uitgewers

Literêre vorm

Sosiale geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die derde Wêreldoorlog

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919728309 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel Uitgewers

Literêre vorm

Profesieë

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kerkverraad

Publikasiedatum

2003

ISBN

1919728414 (sb)

Uitgewer

Mosselbaai: Vaandel Uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen


Adriaan Snyman as vertaler:

  • Die Oera Linda Boek: die verstommende verhaal van Atlantis waar Afrikaans 4 000 jaar gelede sy ontstaan gehad het. Mosselbaai: Vaandel-uitgewers, 1998 [ISBN 00919729058 (sb)]
  • Hawtin, George R: Lewende wesens. Mosselbaai: Vaandel-uitgewers, 2000 [ISBN 1919728236 (sb)]

Artikels oor en deur Adriaan Snyman beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Adriaan Snyman (1938–) appeared first on LitNet.

Veels geluk, liewe ATKV!

$
0
0

ATKV-jeugtak Kultuurmafia by Hoërskool Paarl Gimnasium samel 500 kg se boeke in en oorhandig dit aan drie instellings (foto: verskaf)

2020 is ’n jaar wat ons vir altyd sal bybly. Die lewe soos ons dit geken het, het handomkeer verander. Die COVID-19-pandemie het veroorsaak dat die skerp reuk van ontsmettingsmiddels en die anonimiteit wat gesigmaskers verskaf die nuwe normaal geword het. 2020 sal ook onthou word as die jaar waarin die ATKV nege dekades van opbou, uitbou en voortbou van die Afrikaanse taal vier.

Op 19 Augustus vier dié organisasie sy 90ste bestaansjaar en klink die woorde van NP van Wyk Louw al te bekend:

“Heer, gee ons reg, ons eis met diep ontsag ... dat ons daad in hierdie land moet bly ’n lig wat wink, ’n vlam wat skroei.”

Amper ’n eeu later is die ATKV sinoniem met die Afrikaanse taal en woeker die organisasie en sy takke om die taal te laat voortleef en ook ’n verskil in Afrikaans te maak.

Uitsonderlike projekte gee vir deelnemers die nodige platforms om hulle vaardighede te verbeter en hul talente te ontgin en te ontwikkel.

Tydens die jubileumjaar in 1980 was die woorde “’n monument van lewende diensbaarheid” deel van die ATKV se leuse. In ’n SAUK-program wat indertyd gehandel het oor die ATKV het die programaanbieder, Nic de Jager, ter afsluiting opgemerk: “Klein was die begin. Gering die krag wat gemonster kon word. Monumentaal die bouwerke wat opgerig is.”

Ná 90 jaar word die kernwaardes van die ATKV steeds met onverdunde ywer aktief en doelgerig gehandhaaf en tot uitvoer gebring in belang van sy lede en die breër gemeenskap.

Volgens Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW (maatskappy sonder winsoogmerk), is die ATKV 90 jaar terug gestig juis met die doel om die Afrikaanse taal en kultuur te bemark en te steun.

“Die eerste vakansieoord is ses jaar daarna aangekoop en só het die belange en bedrywighede van die ATKV gegroei tot die grootste taal-en-kultuurorganisasie in Suid-Afrika.”

Sy sê dit is veral in die laaste dekade of twee dat die ATKV as die mees inklusiewe en verteenwoordigende kultuurorganisasie gevestig is.

“Die feit dat die ATKV by jonk en oud aanklank vind, hetsy met ’n verskeidenheid van taal- en kultuurprojekte, óf by die vakansieoorde, spreek boekdele dat die ATKV oor die jare relevant gebly het.

“Die ATKV het daarin geslaag om ’n brugbouer te word tussen die verskeidenheid van Afrikaanses wat lede van die organisasie word of aan die taal- en kultuuraktiwiteite deelneem, sowel as tussen sprekers van ander tale en kultuurgroepe in Suid-Afrika.”

Weens die streng maatreëls wat die inperking gebring het, moes die ATKV ook aanpas en hulle projekte op ’n vindingryke manier aanbied.

“Sosiale afstand was nog nooit ’n term wat ons sou gebruik om die ATKV se projekte te beskryf nie. Ek dink aan verhoë vol singende Applous-deelnemers, jong akteurs en aktrises wat hul slag op die verhoog wys en werkswinkels en feeste waar ons kon skouers skuur,” sê Sonél.

“ATKV-DigiProjekte gee aan Afrikaanssprekendes – jonk en oud, oor landgrense heen – steeds die geleentheid om deel te neem. COVID-19 het weer bewys dat die ATKV het die vermoë om in ’n korter tydperk produkte van gehalte in die mark te posisioneer.

“Vaardigheidsontwikkeling lê ons nog altyd na aan die hart. Met DigiProjekte skep ons geleenthede vir ’n verskeidenheid van mense om te bou aan hul toekoms. Net daar waar hulle nou is. Dit geld ook Afrikaans se tweedetaalsprekers. Dit is die ATKV se visie om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel te maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika.”

Sy sê hulle werk hard om tegnologie en innovasie te omarm sodat mense van oor die wêreld heen met ope arms by die ATKV verwelkom kan word.

“Tog bly die kernwaardes die ankers waaraan alles verbind word. Gemeenskappe bly die spil waarom die ATKV se doen en late draai. Mag die volgende 90 jaar gevul wees met sielsverrykende ervarings, vele geleenthede om Afrikaans uit te bou en te bemark en om saam ’n verskil in die wêreld om ons te maak.”

The post Veels geluk, liewe ATKV! appeared first on LitNet.


Marita van der Vyver (1958–)

$
0
0

Foto: Francois Pistorius

Sêgoed van Marita van der Vyver:

Hoe maak ’n mens tyd om te skryf? "Iemand het op ’n keer gesê as jy ’n taak gou en goed gedoen wil hê, vra ’n werkende ma om dit vir jou te doen. Ek glo nogal daaraan. Dis ’n geval van nood leer bid. Of honger help skryf. Vandat ek kinders en stiefkinders het om te voer en te versorg, skryf ek met veel meer drif en dissipline as toe ek ’n selfsugtige alleenloper was. (Waarmee ek nie beweer dat alle alleenlopende skrywers selfsugtig is nie, maar ek was.) Voor die koms van my kinders kon ek skryf wanneer en hoe en waar ek wou, dwarsdeur die nag, enige plek in die huis. Ek het dikwels geskryf eerder as om te eet. Nou lei ek ’n lewe van kos wat op vaste tye geëet (en gekook) moet word – en woorde wat op vaste tye geskryf moet word. Ek het dissipline aangeleer. Ek leer steeds, elke dag. Dit kom nie natuurlik vir my nie. Maar dis óf gedissiplineerd skryf óf glad nie kans kry om te skryf nie. En ’n lewe sonder skryf is vir my ondenkbaar. Omtrent so ondenkbaar soos ’n lewe sonder my kinders." (LitNet)

Oor lees en skryf: "Ek skryf nie vir ’n spesifieke mark nie. Ek skryf boeke wat ek self graag sal wil lees. Ek hou van die soort boeke wat toeganklik is, maar tog intelligent geskryf is en die leser uitdaag en ek sukkel om ’n gunsteling-skrywer uit te sonder, want ek is ’n ywerige leser. Als wat ek doen, word aan die vraag Shouldn’t I rather be reading a good book? gemeet. Dit is hoekom ek seker nooit ’n goeie tuinier of iets sal wees nie. Ek noem tog twee skrywers – Margaret Atwood en Joyce Carol Oates – vir hul werk van hoogstaande gehalte, maar wat tog ook uiters leesbaar is." (Volksblad, 22 Mei 2010)

Oor die oorlewing van Afrikaans: "Wat ek te sê het oor die oorlewing al dan nie van Afrikaans, is ’n 'gut reaction'. Niemand kan voorspel wat met Afrikaans gaan ­gebeur nie, want dit kan nie met enige ander taal ­ver­gelyk word nie. [… ] Ek hou aan om in Afrikaans te skryf en te publiseer, ek lees ­Afri­kaanse boeke en ek praat ­Afrikaans met my kinders (selfs met my dogter wat in Frankryk gebore is en ’n ­Franse pa het). Ek weet nie of hulle eendag met hul kinders Afrikaans sal praat nie. Ek weet nie of ons vir hulle ’n ­wêreld gaan agterlaat waarin ­hulle nog ­kinders sal wil hê nie – en dit is ­eerlikwaar vir my ’n veel groter ­probleem as watter taal ­hulle in ­hierdie opgemorste wêreld gaan praat, lees of skryf. Dit is die ­ver­naam­ste rede waarom ek nie baniere wil swaai in ’n Taalstryd nie. Die ander, meer ongemaklike rede is bloot dat ek my nie tuis voel by baie van die Stryders vir die Taal nie. Ek wil nie soos ’n stom skaap in ­dieselfde kamp gejaag word as die jakkalse wat ek steeds nie vertrou nie." (Die Burger, 6 Oktober 2010)

Oor ’n nuwe boek: "Ek meen ek is bly, ek is verlig dis klaar, dis gedoen, maar ’n mens is so blootgestel en weerloos en angstig oor hoe dit ontvang gaan word, dat dit die lekker op ’n manier oorskadu." (Die Burger, 28 Mei 2010)

Wat is die ding wat sy die graagste vir haar dogter sal wil leer oor die jare van vrouwees wat nog vir haar voorlê? "Sorg dat jy sielsusters het om jou deur die lewe te help – nóg belangriker vir ’n meisiekind soos sy wat nie ’n bloedsuster het nie. Sielsusters is vriendinne en tantes en niggies en ander sterk vroue wat jou deur dik en dun sal bystaan terwyl die mans en die minnaars in jou lewe kom en gaan." (LitNet)

Oor die humor in haar skryfwerk: "Al wat ek in al die jare oor humor geleer het, is dat dit nooit werk as jy te hard probeer nie. As ek gaan sit en probéér om ’n snaakse sin te skryf, gaan dit waarskynlik ’n flop wees. My mees suksesvolle humoristiese frases kom gewoonlik ongevraag op, soos onkruid, dikwels wanneer ek iets ernstigs of treurigs wil skryf. Dis ’n skans teen sentimentaliteit en hoogdrawendheid en pretensie, meen ek." (LitNet)

"Dit is meer as blote vriendskap, die verhouding tussen my en die boek waaraan ek werk. Dis te emosioneel, te obsessioneel, om bloot as vriendskap voorgestel te word. Dus moet ek dit seker ’n soort liefdesverhouding noem." (Die Burger, 6 Desember 1993)

Hoekom skryf sy nie in Engels nie? "Ek skryf joernalistiek – essays, rubrieke – in Engels, sonder enige moeite. Maar ek sê altyd fiksie kom uit ’n ander plek uit my lyf, uit my maag uit ." (Die Burger, 26 Julie 2000)

"As ek dan ’n verantwoordelikheid het teenoor Afrikaans, is dit om te bly skryf daarin." (Die Burger, 26 Julie 2000)

"En op hoërskool het ek vir Breyten Breytenbach en Antjie Krog ontdek. Liefde met die eerste oogopslag. Betowering en verwondering. Die besef dat jy sowaar ENIGIETS in Afrikaans kan sê."

"Ek glo nie noodwendig aan gelukkige eindes nie, maar ek glo wel aan hoopvolle eindes. Ek glo in hoop. Iets om na uit te sien, hoe nietig ook al. Iets wat dit die moeite werd maak om aan te gaan."
"My volgende boek is altyd my gunsteling, seker maar omdat die boek wat uiteindelik op papier beland, nooit die boek is wat jy in jou kop gehad het nie." (Volksblad, 1 Desember 2003)

Maar kan jy iemand leer hoe om ’n kinder- of jeugverhaal te skryf? "Ek dink nie mens kan 'geleer' word om stories vir volwassenes óf kinders te skryf nie. Jy het skryftalent of jy het dit nie. Skryfskole kan wel beskou word as ’n soort kortpad deur ’n donker bos. Dit kan jou help om vinniger by jou bestemming uit te kom, sonder om op al die dwaalpaaie en ompaaie te beland – maar mens kan seker ook sê dat dwaalpaaie en ompaaie die reis net interessanter maak? Ek het op die stadige manier geleer skryf – met ompaaie en dwaalpaaie en 'trial by error' – en my reis is nog lank nie oor nie! Ek leer steeds elke dag." (Rapport, 5 November 2010)

Hoe inspireer Suid-Afrika haar kreatiewe siel? "Ek voel soos ’n blom wat water kry as ek hier kom. Suid-Afrika voed my wortels, al is my blare en stingels heel tuis in ’n ander land." (Sarie, 25 January 2010)

Oor hoe dit voel om 50 te wees: "Ek en my man, Alain, het al twee vroeër vanjaar 50 geword. Ons het ’n groot eeufeesviering gehad. Dit was nie vir my erg om die groot vyf-nul te begroet nie. It's all in the mind. Ek kan nog my tone raak en op my kop staan. Ek kan my voete agter my kop sit!" (Beeld, 4 Oktober 2008)

"En sover dit die kop aangaan, is 50 fantasties. Maar jy't dit nodig, want jou lyf begin agteruitgaan. Teen daardie tyd weet jy darem stywe boude en perfekte tieties is nie al waaroor die lewe gaan nie. Dis al wat ek kan sê vir die jonger meisies: hang in there." (Beeld, 4 Oktober 2008)

"Skryf is vir my ’n verslawing. Ek móét altyd met ’n storie besig wees, al is dit net in my kop. Maar daar moet ook ’n mate van obsessie wees, want dit is nie altyd lekker om te skryf nie. Wie kan daarvan hou om nagte om te werk en ure lank te sukkel om een sin reg te skaaf?" (Die Burger, 26 Mei 1992)
 
"Vandat ek ’n pen kon vashou, wou ek stories skryf. Ek was die kind in die straat wat die stories uitgedink het wat die anders kinders gespeel het. My behoefte is eerder om stories te vertel as om te skryf. As ek honderde jare terug in Afrika geleef het, was ek die storieverteller om die vuur." (Beeld, 4 Oktober 2008)

"Nee, ek sal nooit ophou skryf nie. Op die ou end is dit ’n skans teen die dood." (Beeld, 4 Oktober 2008)

"Genre is nooit ’n woord wat by my opkom wanneer ek ’n roman beplan nie. Ek skryf eenvoudig ’n roman wat ek graag sal wil lees: toeganklik, maar so dat dit nie die leser se intelligensie beledig nie." (Beeld, 4 Oktober 2008)

"Iewers het ek die volgende raakgelees en ek dink dis baie waar: 'Daar's net vier soorte boeke: goeie boeke wat goed verkoop, goeie boeke wat swak verkoop, swak boeke wat goed verkoop en swak boeke wat swak verkoop.'" (Beeld, 4 Oktober 2008)

Oor Calvinisme en kinders grootmaak: "Die arme jong meisies, die Afrikaner-meisies: Calvinisme sorg waarskynlik steeds dat hulle oor alles skuldig voel. Dis miskien in die Afrikaner se geheue. Dit gaan nie sommer net in ’n geslag of twee verdwyn nie. Ouers maak nog steeds hul kinders groot om skuldig te voel. Ek hoop ek doen dit nie. Ek probeer hard om dit nie te doen nie. Die ironie is dat ouerskap die een ding is wat my die heel skuldigste laat voel. Ek is lankal verby die sta­dium wat ek skuldig voel oor seks, drugs en rock ’n roll. Maar dis so maklik om jou kind op te bogger as ’n ouer. Dis baie moeiliker en scarier om ’n suksesvolle kind groot te maak as om ’n suksesvolle roman te skryf." (Beeld, 4 Oktober 2008)

"Maar my hart se punt bly maar fiksie. Om stories te vertel. Ons almal leef stories; ons het elkeen ’n storie in ons." (Beeld, 4 Oktober 2008)

"Reis doen baie meer vir my siel as ingevoerde rome vir my gesig." (Rapport, 29 Januarie 2006)

"My gunsteling is die een waarmee ek besig is. Dan vergeet ek al die ander. Dan is als moontlik. Dis eintlik al deel van die hele proses wat lekker is: daardie begin wanneer alles moontlik is ... Álles wat ek geskryf het, cringe ek oor. Ek haat dit om enigiets te lees wat ek geskryf het." (Beeld, 4 Oktober 2008)

 "Ek glo geluk word gemeet in oomblikke, nie in weke of maande nie. Daarom kan ek selfs op die saaiste, treurigste dag ’n intense oomblik van geluk belewe. Dit lê gewoonlik opgesluit in alledaagse sensualiteit – kleure, klanke, geure, smake, teksture. Metafisika en ingewikkelde letterkundige tekste kan my diep bevredig, maar dit kan my nooit so intens gelukkig laat voel soos die reuk van reën op droë grond of die stem van ’n geliefde in my oor nie." (Rapport, 28 September 2008)

"The most exciting part of a book is before I write one word on paper, when I’m thinking out the story. It’s like a game, playing God, inventing these lives and giving people names and ages and a personal history – it’s all in your head and everything is still possible, you don’t know where it’s going to take you." (Onderhoud met Vivien Horler)

Oor haar ma: "My ma was soos die spreekwoordelike teesakkie: eers toe sy in warm water was, het ons agtergekom hoe sterk sy is. Sy was ’n verpleegster en het presies geweet wat die kanker aan haar gaan doen, maar sy het dit tog reggekry om aan te gaan met die lewe. Sy was al baie siek toe ek verwagtend geraak het met Mia, maar sy het dadelik ’n truitjie vir die nuwe baba begin brei. Sy het besef sy sal dalk dood wees voordat die baba kom, maar het gevoel daar moet iets vir die kleinkind van haar ouma wees. En toe sy daarmee klaar was, het sy gevoel my seuntjie moet ook iets kry. Sy is dood terwyl sy Daniël se trui gebrei het." (Rapport, 2 November 2003)

"James Joyce het gesê: 'A writer needs three things: cunning, silence and exile'," skryf sy in haar 24.com-gesprek in 1999. "Die cunning en die silence kan ek hier (Suid-Afrika) ook vir myself skep, maar die geestelike exile is makliker in Frankryk." (Op LitNet en Die Burger, 21 Mei 1999)

Aan Francois Smith: Weet jy, ek dink soms aan my lewe as VG en NG – vóór Griet en ná Griet. Die eerste paar jaar ná Griet het ek gevoel of die karakter my verswelg, of die boek die res van my lewe ’n albatros om my nek gaan wees. Van ek in Frankryk woon, het ek vrede gemaak met die Griet-etiket. Dalk het die fisieke afstand gehelp om ’n emosionele afstand te skep. Ek wonder soms of ek sou kon terugkeer na die karakter as ek nog in Suid-Afrika gewoon het." (Die Burger, 7 November 2001)

Francois Smith wou weet of sy dink stories het ’n helende invloed? "Ja, ja, en nogmaals ja. En nou antwoord ek as skrywer en as leser. Om te skryf is vir my ’n manier om sin te soek in wat sinloos lyk, humor in wanhoop te vind, oomblikke van grasie in die alledaagse lewe. Om te lees is vir my dieselfde soort ervaring." (Die Burger, 7 November 2001)

Francois Smith: Is dit moeiliker of makliker om in Frankryk in Afrikaans te bly skryf? Sien jy die wêreld daar deur ’n ander bril? "Dis vir my altyd moeilik om te skryf in enige taal. En dis nou een ding wat nie makliker word soos ek ouer word nie." (Die Burger, 7 November 2001)

Jaco Jacobs wou weet wat beteken stories en storievertel vir haar? "Dis letterlik en figuurlik ’n manier om die dood te oorwin. Om sin te probeer maak van alles wat ons hier op aarde belewe. Met die klem op lewe." (Die Burger, 7 November 2002)

Aan Jaco Jacobs: "Ek skryf stories van ek geleer het om ’n pen vas te hou en letters te vorm. Soos iemand slimmer as ek gesê het, it’s not a gift, it’s a burden . Dis of ek hierdie vrag woorde in my ronddra, en die enigste manier om die vrag ligter te maak, is om te skryf." (Die Burger, 7 November 2002)

"Skryf is vir my ’n allesoorheersende passie. Wanneer ek skryf, voel ek hoe dieper ek in die boek betrokke raak, hoe verder dryf ek weg. Alain sê hy weet wanneer ek amper klaar met ’n boek is, want ek raak vaag. Ek is nie heeltemal dáár wanneer ons byvoorbeeld aan tafel sit nie." (Die Burger, 4 November 2003)

"Romanskryf is nou eenmaal nie ’n spansport nie. Dit word soms vergelyk met die eensaamheid van die marathonatleet, maar glo my, dis erger. Dis meer soos om stoksielalleen in ’n klein bootjie om die wêreld te seil. G’n toeskouers wat langs die pad staan en wuif nie." (Rapport, 2 Maart 2014)"

"Die werk aan ’n kosboek het my aangenaam verras. Met die twee kookboeke het dit gevoel of ek uit my eensame seilbootjie gepluk is om op ’n enorme plesierboot te vaar. Nie dat skryf ooit vir my ’n plesier was nie – nie eens die skryf van ’n kosboek nie – maar die kook en die proe van die kos kan wel erg plesierig word." (Rapport, 2 Maart 2014)

Marita verduidelik aan Mariana Malan (Beeld, 22 Julie 2014) wat haar idee van die ideale maaltyd is: "Die belangrikste vereiste is slim en snaakse geselskap – want die kop moet saam met die lyf gevoed word – en ’n kok wat met liefde kook. Liefde vir kos en liefde vir die mense wat die kos moet eet. Dan kan selfs ’n omelet en ’n glas wyn ’n koningsmaaltyd word. As dit boonop op ’n mooi plek geniet kan word, buite onder ’n boom in die somer of voor ’n kaggelvuur in die winter, met mooi eetgerei, ’n mooi tafeldoek en mooi servette, wat meer wil ’n mens hê?"

Daar is ’n verskil tussen kinderliteratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien? "Ek glo jy kan enigiets sê, maar in kinderboeke moet jy dinge versigtiger sê as in jeugboeke – en in jeugboeke moet jy dinge weer versigtiger sê as in volwasse boeke. Dis maar my baie basiese onderskeid." (aan Izak de Vries op LitNet)

As jy eendag ’n ouma gaan wees, watter soort ouma gaan jy wees? "Daar’s een ouma in my boek, Die coolste ouma op aarde, 'met ’n wilde bos spierwit hare en vreeslik baie boeke'. Sy lê in die bed, nie omdat sy siek is soos Rooikappie se arme ouma nie, maar omdat dit die lekkerste plek is om te lees. Ek hoop nogal dat ek so ’n ouma sal word, maar omdat ek ’n skrywer is wat nie beplan om ooit af te tree nie, sal ek seker meer agter ’n rekenaar sit en skryf as in ’n bed lê en lees!" (aan Izak de Vries op LitNet)

Skryf ’n jeugboek vinniger en makliker as ’n boek vir volwassenes? "In my geval is dit moontlik vinniger bloot omdat my jeugboeke gewoonlik dunner is as my volwassene-boeke. Maar dis beslis nie makliker om ’n goeie jeugboek te skryf as om ’n goeie volwassene-boek te skryf nie. Ek dink die rede waarom soveel literatore steeds jeugboeke onderskat, is dat hulle ongelukkig steeds onder die wanindruk verkeer dat dit 'makliker' skryfwerk is." (LitNet)

Gebore en getoë

Marita van der Vyver is op 6 Mei 1958 in die Kaap gebore, die oudste kind van Danie en Yvonne van der Merwe. Sy het ’n jonger broer en suster.

Ná die publikasie van Marita se kinderboek Die coolste ouma op aarde in 2015 vertel sy aan Izak de Vries op LitNet ’n bietjie meer van haar oumas: "Hulle was nie cool nie. Maar dis nie hulle skuld nie. Daai tyd was Afrikaanse oumas nie veronderstel om cool te wees nie. My pa se ma het soos ’n storieboekouma gelyk met spierwitgrys hare en ’n sagte, ronde lyf so lank terug soos ek kan onthou. Ek het nou die dag met ’n skok besef dat sy baie jonger as ek was toe sy al so gelyk het!"

"My ma se ma het hare op haar ken gehad wat ons gesteek het – my sussie het altyd weggehardloop as sy haar moes soen – en spatare wat soos blou slange om haar kuite gekronkel het en waarvoor ek my morsdood gegril het. Maar sy’t die lekkerste tjoklitkoek gebak wat ek ooit geproe het en sy't my ma se ou papierpoppe in ’n plat boks gebêre en my toegelaat om daarmee te speel, so dit was vir my heerlik om by haar te kuier. My dogter het nou nog daardie verflenterde ou papierpoppe hier in Frankryk en hopelik sal sy dit eendag weer vir haar dogter, wie weet waar in die wye wêreld, gee. Dit is waar die papierpoppe in my roman Die blou van onthou vandaan kom – nog ’n storie oor ’n ouma en ’n kleinkind."

Marita kan baie goed onthou toe sy vir die eerste maal begin vrae vra het, vertel sy aan Bibi Slippers (Vrye Weekblad, 22 November 2019): "Ek onthou die eerste keer toe ek iets bevraagteken het wat gebeur het, was ek in standerd 5. Dit was ’n atletiekbyeenkoms by die Pilditch-stadion. Daar was ’n swart roomysverkoper, en daar was ’n volwasse man wat waarskynlik ’n onderwyser was, nie by my skool nie, maar by een van die skole, want dit was onderwysers en skoolkinders, wat met hierdie roomysverkoper gepraat het op ’n manier wat ek gedink het mens sal nie so met jou hond praat nie. Minagtend. Net die toon het my as dogtertjie laat terugdeins het en laat dink 'Hoekom?' En ek dink as jy eers daai vrae begin vra, dan hou dit nie op nie."

Sy word groot en gaan skool in Bellville (Boston en Welgemoed) en Pretoria (Lynnwood en Menlopark). Die laaste twee jaar van haar skoolloopbaan spandeer sy as onwillige koshuiskind aan die Hoërskool Nelspruit. Marita skryf matriek in 1975 – Afrikaans se eeufeesjaar.

In ’n landwye digkunswedstryd vir matriekleerlinge word sy as een van die wenners aangewys en wen sy ’n studiebeurs vir vier jaar aan die universiteit van haar keuse. Sy kies die Universiteit Stellenbosch, omdat dit haar pa se alma mater was en omdat sy wou wegkom uit die Transvaal.

Verdere studies en werk

Marita verwerf haar BA-graad met tale en drama en in 1979 durf sy die nuwe honneurskursus in joernalistiek onder prof Piet Cillié aan. As deeltydse student verwerf sy later haar meestersgraad in joernalistiek met ’n tesis oor die groeiende rol van die vrou in die Afrikaanse pers. Na universiteit gaan sy vir ’n jaar oorsee om te reis, en werk sy as au pair in die suide van Frankryk en as skottelgoedwasser in Londen.

Sy begin haar joernalistieke loopbaan as verslaggewer by Die Burger, waar sy oor alles verslag moes doen – van moord en doodslag tot sport en teater. In 1987 begin sy met vryskutwerk – artikels, resensies, vertalings en proeflees- en subwerk vir uitgewers.

Marita skryf stories vandat sy kon skryf en toe haar eerste storie oor die radioprogram Siembamba uitgesaai word toe sy nog maar 12 was, het sy geweet dat sy ’n joernalis (en as alles goed uitwerk) en skrywer wil word.

Marita trou met David Bishop en in 1989 is hulle seuntjie Ian gebore en kort voor sy eerste verjaardag is hy oorlede. In die essay "Die begin van ’n storie" wat in Wreed én mooi is die dood (2019) opgeneem is, vertel Marita aan Willemien Brümmer (By, 9 November 2019) dat, die oomblik toe hy gebore is, het sy van hom begin afskeidneem: "Hy is eintlik doodgebore, maar met behulp van moderne masjinerie het hulle daardie blou babatjie van oorkant die water teruggebring na die land van die lewendes."

Maar sy breinskade was so erg dat sy hom nooit werklik kon huis toe neem nie. Met die essay bou sy "sin vir sin, woord vir woord, letter vir letter" ’n "heining ter herinnering" aan haar baba met die "seeblou oë en die swart seewierhare".

Haar eerste jeugromans word goed ontvang – Van jou jas ontvang ’n aanmoedigingsprys van Tafelberg Uitgewers en Sarie, en Tien vir ’n vriend is in 1987 onder die tien finaliste in Sanlam se jeugverhaalwedstryd. Eenkantkind is ook ’n Sanlam-finalis en word in 1992 bekroon met die ATKV-prys vir Jeuglektuur.

In 1992 beland Marita met ’n slag op die toneel van die volwasse Afrikaanse letterkunde met die publikasie van Griet skryf ’n sprokie. Dit was, soos die Engelse sê, ’n best-seller van die eerste dag dat dit op die rakke verskyn het – tienduisend eksemplare is ’n enkele maand verkoop. "Ek het dit nie in my wildste drome verwag nie. Dit is seker elke skrywer se ideaal om te sien dat die publiek jou skepping geniet, en ek is dankbaar oor die positiewe reaksie veral van die resensente. Maar ek voel nogtans baie blootgestel en weerloos. ’n Skrywer is nou eenmaal nie ’n rolprentster nie en die skielike fotosessies en onderhoude is ’n vreemde ervaring,'' sê Marita aan Una Nieuwoudt (Die Burger, 26 Mei 1992).Die karakters in Griet mag dalk fiktief wees, maar Marita het baie van Griet se ervaringe aan haar eie lyf gevoel. Sy moes, nes Griet’n egskeiding deurmaak en ook ’n kind aan die dood afstaan. "Ek het reeds lank voordat ek geskei is met Griet in my kop rondgeloop. Maar Griet sou aanvanklik net ’n gebroke verhouding gehad het. Toe ek skei, het ek besluit om haar ook te laat skei. Dis amper soos lewensgetroue kuns. Dit was eers suiwer fiksie, maar toe gebeur dít wat ek met Griet wou laat gebeur met my," vertel sy aan Una Nieuwoudt. 

Daar is nie ’n duidelike boodskap in Griet nie omdat Marita wou hê Griet moet vir haarself praat. Aan Una Nieuwoudt verduidelik sy verder: "Dit gaan basies oor ’n vrou wat leer vlieg en haar eie stem kry. ’n Resensent het gesê Griet verteenwoordig elke vrou van tussen twintig en veertig wat grootgemaak word met sprokies soos dat ’n prins op ’n perd jou sal kom red as jy in die moeilikheid is. Soos die Grietjie van Hansie en Grietjie die heks in die oond gestamp het om haarself en Hansie te red, het Griet ook besef dat haar redding by haarself berus. Dis vir my baie belangrik dat Griet in die hele proses geleer het om van haarself te hou."

Skuldgevoelens oorheers Griet se lewe. Sy het ’n mislukte huwelik, twee miskrame en ’n doodgebore baba agter die rug en vir haar voel dit of sy gestraf word omdat sy verkeerd gedoen het. Sy wou skryf en ook dit was nie reg nie, want as getroude vrou met ’n man om voor te sorg, moes sy ’n beter huisvrou gewees het. En dan, die groot sonde, sy geniet seks en "goeie vroue" kan nie van seks hou nie. "Tot my verbasing lyk dit of baie vroue hulself met dele uit die boek kan identifiseer. Baie vroue wat dieselfde skuldgevoelens oor kinderloosheid of ’n egskeiding en inhibisies oor seks het, maar nooit daaroor praat nie, beskou dalk die boek as ’n openbaring. Hulle besef dat dié probleme universeel is dat ander vroue ook daarmee worstel," sê Marita aan Una Nieuwoudt.

Aan die einde van die boek vind Griet vrede in haarself en word sy van haar skuldgevoelens verlos. Een van die lekkerste dinge van Griet skryf ’n sprokie is die heerlike humor daarin en Marita dink dit is hoekom mans ook die boek geniet. "Ek dink dit gee mans ’n beter idee van hoe ’n vrou aanmekaargesit is. Een van die mans wat die boek gelees het, het agterna vir my gesê dis die eerste Afrikaanse boek vir vroue wat hom nie laat voel het daar word ’n vinger na hom gewys nie. Griet spot immers nie net met mans nie. Sy spot ook met haarself. En ná haar egskeiding herwin sy haar vertroue in mans in so ’n mate dat sy kans sien om weer by ’n verhouding betrokke te raak."

Griet het die Afrikaanse letterkundige wêreld aan die praat gesit omdat dit die eerste keer is dat ’n vrou so openlik oor seks in Afrikaans geskryf het. Griet het egter nie net in Afrikaans probeer selfmoord pleeg en seks gehad nie, maar ook in Engels, Nederlands, Duits, Italiaans, Frans, Hebreeus, Tsjeggies, Sweeds, Spaans en Sjinees. En die Portugese en die Yslanders volg ook.

Marita verower ook die ATKV-Prosaprys, M-Net-prys en Eugène Marais-prys met Griet. Boonop verskyn die boek vir ’n volle jaar op CNA se Top Tien-trefferlys vir Afrikaanse fiksie en oorhandig die CNA ’n spesiale toekenning aan Marita tydens die Afrikaanse Skrywersgilde se byeenkoms in 1993. Griet is ook later in Engels in Braille uitgegee.

Die ATKV het as volg oor Griet gesê: "Die sprankelende skryfstyl, lewendige dialoog en pittige humor, maak die roman Griet skryf ’n sprokie vir die fynproewer, asook die lekeleser toeganklik en is ’n unieke leeservaring. Dit is ’n boek wat vanweë sy openlikheid, eerlikheid en kompromislose oopskryf die Afrikaanse leserspubliek op ’n lesersvriendelike wyse bewus gemaak het van die mondigheid van die Afrikaanse letterkunde."

Joan Hambidge skryf in Die Burger (21 April 1992): "Griet skryf ’n sprokie is Van der Vyver se eerste volwaardige roman, en op die koop toe is dit ’n verfrissende, onderhoudende teks. Vir diegene wat moeg is vir die post-modernisme en al haar avatare, wees gerus: die tegnieke word nie in die teks selfbewus of intellektueel gebruik nie. Me Van der Vyver gebruik die basis van die sprokie, en ontluister dit telkens deur op ’n grappige manier die harde werklikheid te skilder. (…) Dis ’n goed geskrewe teks, met oortuigende dialoog van die karakters."

In 1997 is Griet skryf ’n sprokie by die Grahamstadse Kunstefees op die planke gebring. Dit is verwerk deur Pierre van Pletzen met Susan Coertzen, Christo Compion, Hannes van Wyk en Judy le Roux in die rolle. Hannes Muller en Lizz Meiring het die regie behartig. Vir Herman Wasserman (Die Burger, 11 Julie 1997) het hierdie verhoogweergawe nie gewerk nie en was dit vir hom ’n teleurstelling.

In 1994 besweer Marita die gevreesde tweede-boek-sindroom met die verskyning van Die dinge van ’n kind, wat ook in Engels, Duits en Nederlands vertaal is. Na die publikasie van Die dinge van ’n kind is sy en Daniël na Frankryk, waar sy aan haar volgende roman gaan werk het.

Ná die publikasie van Dinge van ’n kind sê Marita aan André le Roux (Die Burger, 17 November 1994) dat die twee jaar na Griet tot en met die publikasie van Dinge van ’n kind vir haar niks lekker was nie. "Dit was twee jaar van hel, ja. Daardie oë wat wag, kritici wat wag to cut you down to size. Maar nou’s die boek klaar, ek kan niks meer daaraan doen nie. Nou’t ek net ’n soort fatalistiese angs."

In 1997 verower sy ’n internasionale beurs van die Stigting vir Skeppende Kunste wat haar in staat stel om na Iowa City in Amerika te gaan waar sy aan die plaaslike universiteit se School of Letters ’n International Writing Program volg. Sy neem ook saam met ander skrywers deel aan ’n program waarin die skryfkuns bestudeer word.

Intussen moet Marita ook vir Daniël gelukkig hou en in 1996 verskyn Olinosters op die dak – geïllustreer deur Piet Grobler – wat spesiaal vir Daniël geskryf is. Dit word ook in Engels uitgegee en verower die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur.

In Olinosters gaan kuier Daniel by sy oupa en ouma en slaap oor in ’n vreemde bed. Hy hoor baie vreemde geluide en dan moet oupa of ouma hom kalmeer dat dit net ’n "olinoster of ’n krokokoei, of ’n blouwildekameel of ’n bobberilla is". Hulle is almal goed waarvoor hy nie bang hoef te wees nie.

In 2015 verskyn ’n tweede uitgawe van Olinosters op die dak met Dale Blankenaar as die illustreerder. Die nuwe illustrasies gee ’n splinternuwe voorkoms aan die kinderboek en Marita was baie in haar skik daarmee. Oor die nuwe illustreerder en illustrasies vertel Marita aan Elna van der Merwe in Huisgenoot van 7 Mei 2015: "Ek is versot op die nuwe voorkoms wat Dale Blankenaar geskep het. Dit maak die boek toeganklik vir ’n nuwe geslag kinders van die 21ste eeu. Hy het nie net geïllustreer nie; hy het die hele boek herontwerp. Dale het byvoorbeeld klompe woorde op sekere bladsye ingepas sodat die monsters in die kind se verbeelding elke keer op ’n volle dubbelbladsy sonder enige woorde uitgebeeld kan word – wat hulle rêrig skrikwekkend maak.

"En die swart agtergrond met wit lettertjies op sekere bladsye om die donkerte en die vrees vir die donker te wys! Die lang voorkoms van die boek pas by die lang, dun huis waarin die oupa en ouma woon. Dale het nie eens geweet ek het so ’n lang, dun, ongebruikte graansilo op my erf op die Franse platteland nie; dit was net heerlike toeval, wat die Engelse serendipity noem."

In Rapport (7 Junie 2015) skryf Lona Gericke: "Kinders leer in die boek om hul vrese in die nag te oorwin en die humoristiese aanslag help ook. Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend."

"Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel van ’n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbelvolblad illustrasies van elke spesifieke monster is indrukwekkend." [...]

"Die boek is werklik ’n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar. Dit is ’n boek vir fynproewers."

Olinosters op die dak en spesifiek Dale Blankenaar is aangewys as een van IBBY se boeke van die jaar in 2015.

In 1999 word Wegkomkans gepubliseer en ook dit is ’n wegholsukses. Binne dae is die eerste druk uitverkoop en die tweede druk verkoop net so goed.

Ná die publikasie van Wegkomkans vertel Marita in ’n onderhoud aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 29 April 1999): "Met Dinge van ’n kind het ek vrede gemaak met goed uit my tienertyd en op ’n manier is Wegkomkans, met sy vraagstukke van die jare tagtig, ’n logiese verdere stap."

Wegkomkans handel oor vriendskappe. Die gebeure verloop oor ’n tydperk van tien jaar (1895 tot 1995) en die groep vriende kom gedurende hierdie tien jaar bymekaar vir ’n seevakansie om hulle vriendskapsbande te versterk. Deur die boek vind daar groei in die karakters plaas en verander hulle siening van die land en sy probleme van idealisme aan die begin tot ontnugtering en sinisme aan die einde. Ook is daar die erotiek waardeur baie van die karakters aan mekaar verbind is.

Marita het veertien jaar met die tien karakters van die boek en die tema van vriendskap in haar kop rondgeloop. "Ek sou nie toe die boek kon skryf nie. Ek was nie reg vir die logistieke verwikkeldheid nie. Ek moes eers meer eenvoudige goed skryf om die skryfkuns deeglik onder die knie te kry. Veertien jaar gelede het ek ook nie die guts gehad om uit mans se perspektief te skryf nie," sê sy aan Stephanie Nieuwoudt.

Ook in 1999 vertrek Marita en Daniël terug na Frankryk en word Marita en Alain Claisse se dogtertjie, Mia, gebore.

In 2001 verskyn Griet kom weer ten spyte van Marita se vroeëre uitspraak, "Nee, ek is bang om Griet kom weer te skryf …". Hierdie keer het sy stylgewys "met mites eerder as sprokies" gewerk. Ook hierdie Griet maak haar verskyning in Nederlands, net soos Marita se volgende romans, Vergenoeg (2003) en Stiltetyd (2006).

Op ’n vraag van Francois Smith (Die Burger, 7 November 2001) oor hoekom sy Griet kom weer geskryf het, antwoord Marita: "Die eenvoudige antwoord sou wees: Omdat ek nie anders kon nie. Soos met my vorige boeke het die karakter eenvoudig in my kop kom sit, omtrent soos ’n ongenooide gas in my huis, en geweier om pad te gee voordat ek haar in ’n storie verander het. Ek vermoed die meeste skrywers ervaar iets soortgelyks. Salman Rushdie praat selfs van ’n karakter wat hom 'aan die keel gryp' asof hy verwurg sou word as hy nie skryf wat hy moet skryf nie. My karakters is goddank meer passief. Hulle squat net eenvoudig daar, weke, maande, soms selfs jare, tot hulle uitgeskryf word. Griet het op hierdie ongenooide manier ’n herverskyning gemaak in Wegkomkans, net so ’n kameerolletjie gespeel, maar dit was genoeg om my van voor af te laat wonder oor haar."

Elmari Rautenbach skryf oor Griet kom weer (Die Burger, 24 Desember 2001): "Griet kom weer is ’n roman oor die liefde. Nie die vroeë blos van kalwerliefde nie, soos ’n vriendin tereg opgemerk het, maar ’n ryp liefde wat volwasse vrae stel. Nou gaan dit nie meer oor 'Is hy lief vir my?' nie, maar 'Het ons liefde ’n toekoms?' (…) Griet kom weer is ’n toeganklike boek met geloofbare karakters. En ja, die dubbele betekenis van die roman se titel kan inderdaad gesien word as ’n verwysing na die 'oopskryf' van seks in die eerste Griet. Maar dit is tog of ek aan die einde van Griet kom weer ’n bietjie meer verwag het van die sterk, komplekse karakter; die survivor wat ek tien jaar gelede ontmoet het. Die ironie is dat die flagrant kommersiële voorblad die verskil tussen Griet I en Griet II onderstreep."

In Volksblad van 26 November 2001 skryf HP van Coller dat hier ’n "rasegte storieverteller aan die woord is".

In 2002 word Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom uitgegee en word dit bekroon met die goue medalje in die Afrikaanse afdeling van die Sanlamprys vir Jeuglektuur en verskyn dit ook op IBBY se ererol vir Afrikaanse jeugboeke. Marita vertel aan Jaco Jacobs (Die Burger, 7 November 2002) van die storie: "Hanna is ’n tiener wat van kleins af te veel vrae gevra het, daarom het haar mense haar dan ook sommer Hanna Hoekom begin noem. Sy lewe nou in ’n taamlik eksentrieke laslapgesin (ma is ’n skilder wat verfkwaste in haar hare druk, pa is ’n gay klereontwerper wat sy omtrent nooit sien nie, stiefpa is ’n akteur wat sukkel om werk te kry, en dan is daar nog twee stiefbroers en ’n halfbroer wat ’n proefbuisbaba was) en haar grootste begeerte is om ’n ’normale' kerngesin te hê. Soos in ’n ma wat koekies bak en ’n pa wat ’n aktetas in plaas van ’n handsak dra. Daarom maak sy vir haar ’n lewe op in haar (besonder vrugbare) verbeeldingswêreld en skep ’n 'alter ego' met ’n eksotiese naam soos Fabienne wat allerlei fantastiese avonture meemaak.

"Die idee kom seker maar uit die feit dat ek self deesdae in ’n laslapgesin lewe – darem nie heeltemal so eksentriek soos Hanna s’n nie! – en dat ek begin wonder het hoe dit voel om ’n kind in so ’n gesin te wees. Dalk is die hele storie net ’n poging om my kinders en stiefkinders beter te verstaan."

Marlene Wiggill skryf in Die Burger van 5 Mei 2003: "Die lewensgetroue uitbeelding van die karakters in Hanna Hoekom dra by tot die sukses van die verhaal. Deur gebruik te maak van ’n ek-verteller weet die leser eerstehands wat Hanna ervaar en hoe sy voel en kan goed met haar geïdentifiseer word. Die verhaal ontvou en karakters ontwikkel in goeie taalgebruik, meesleurende skryfstyl en realistiese dialoog. Van der Vyver beeld byvoorbeeld die homoseksuele Gavin sonder stereotipering uit as ’n interessante en menslike karakter. Dit is duidelik waarom hierdie jeugverhaal verlede jaar met die Goue Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon is – dit is ’n kontemporêre, lekkerlees-verhaal wat die leser met deernis en humor aan ’n 'alternatiewe' gesinslewe bekend stel. Dit kan beslis hoog aanbeveel word." 

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is vir die grootskerm verfilm en is in 2010 in rolprentteaters vertoon. Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers was in die rolle van Hanna se ma en pa, met Anneke Weidemann as Hanna. Regardt van den Bergh was die regisseur. Die film is baie goed ontvang en Die Burger se resensent het dit 4/5 sterre gegee.

Marita se roman Vergenoeg is verwerk tot ’n musiekteater-stuk deur Alexa Strachan en is in 2010 by die KKNK opgevoer. Die twee aktrises was Sandra Prinsloo en Milan Murray. Herman van den Berg het die musiek vir die produksie geskryf. Oor hierdie nuwe verwerking van haar roman het Marita gesê dat dit vir haar lekker is dat haar boek nou ’n tweede lewe gekry het. "Vir ’n skrywer is dit iets besonders as een van sy of haar boeke vir die verhoog verwerk word. ’n Mens skryf so half in die niet en dis ’n besonderse ­ervaring wanneer jy saam met mense in ’n gehoor sit en die karakters word lewendig." (Die Burger, 12 Februarie 2010)

Vergenoeg gaan oor ’n sterwende vrou wie se twee dogters haar in haar laaste dae bystaan. "My eie ma is aan kanker dood. Ek het nie die geleentheid gehad om haar by te staan nie. Dalk is die boek ’n soort van boetedoening. Dit bekyk daardie ma-dogter-suster-ding." (Die Burger, 12 Februarie 2010)

In 2004 word sy aangewys as een van Rapport en City Press se tien inspirerende vroue en in dieselfde jaar verskyn Die hart van ons huis oor haar verblyf in Provence. Ook dit is in Engels vertaal.

’n Bundel kortverhale, Bestemmings (Short circuits) volg in 2005, waarin sy vir die eerste maal skryf oor die dood van haar eerste kind, Ian, in die verhaal "Kringvlug". Sy skryf agt jaar aan hierdie stories, waarvan die eerste een al in 1997 geskryf is. Van hierdie verhale is ook in ander tale vertaal selfs nog voordat dit in Afrikaans verskyn het.

In 2007 word die toneelstuk, Bestemmings, by die Woordfees en die KKNK opgevoer nadat Juanita Swanepoel dit verwerk het. Susanne Beyers en Joanie Combrink het daarin gespeel en hulle vertel aan Jeanne Hugo (Die Burger, 7 April 2007) dat in die verhale van Marita wat gekies is vir die toneelstuk word daar op gefokus hoe verskillende vroue verskillende soorte sin van hul lewens maak. En in 2005 maak Marita haar televisiedebuut toe sy in ’n episode van die sepie 7de Laan verskyn.

Voortrek mag Marita nie die een kind voor die ander nie en in 2005 verskyn haar boek vir Mia, Mia se ma, wat ook in Engels vertaal word. Marita is ook ’n bydraer tot Kagiso Uitgewers se Rimpelstories.

In 2006 verskyn Stiltetyd en soos meeste van haar boeke is dit baie gou ook ’n blitsverkoper. Die Human-gesin, Hester en André se dogter, Manon, word enkele weke voordat hulle na Provence sou vertrek om vir ’n jaar daar te gaan woon. Manon is doodgeskiet tydens ’n rooftog in Suid-Afrika. Hulle vertrek wel na Provence saam met hulle 13-jarige seun Emile.

Charles Malan skryf in Beeld (9 Oktober 2006): "Daar moet haar argitekman, André, ’n tuiste uit ’n bouval probeer skep en Emile probeer aanpas by ’n omgewing wat hy verpes. Die verhaal ontvou afwisselend deur dié drie se oë en ervarings. Haar gesin vind dit uiters moeilik om saam met haar depressie en morbiede stiltes te leef. Sy sê vir Emile sy moes liefs op haar eie gekom het en toe hy vra hoe lank, antwoord sy: 'So lank soos dit sou vat om weer mens te word?' [...]

"Die verwisseling van perspektief tussen die drie gesinslede is besonder oortuigend. Bloot hul onderskeie ervarings van die situasie gee aan elkeen ’n unieke profiel. Om dit te onderskraag, word boonop noukeurig aandag gegee aan die ruimtelike konteks en emosiewisselings. […]

"Die skrywer doen iets wat dringend vir die land en die kontinent nodig is: om stem aan die stemloses te gee. In die besonder die slagoffers van geweld en trauma. Selfs die dogtertjie wat doodgeskiet is, praat mee.

"Die roman is kort ná verskyning reeds ’n topverkoper, en geen wonder nie. Dit is een van die aangrypendste ontledings van die lot van slagoffers van geweld plaaslik en in Afrika wat nóg in Afrikaans verskyn het. Juis deur onderbeklemtoning en die wegstuur van sensasie word die roman só 'sensasioneel' dat dit deur alle Suid-Afrikaners gelees behoort te word, maar ook veel wyer."

Marita woon nog steeds in Frankryk saam met Alain, Daniël, Mia, en Alain se seuns, Thomas en Hugo.

Marita skryf op ’n maandelikse basis briewe aan Sarie waarin sy vertel van haar en haar gesin se daaglikse lewe in Provence in Frankryk. Sy het ons in Die hart van ons huis bekendgestel aan haar lewe daar, en in Franse briewe: pos uit Provence wat in 2008 verskyn het, vertel sy verder.

Hierdie briewe lees soos die leser se persoonlike pos uit Provence, want Marita weet hoe om haar leser tot vriendin te verklaar en intimiteit te skep, meen Annamarié van Niekerk in Beeld (9 Februarie 2009). Die hart van ons huis het die leser bekendgestel aan Marita se huis in Frankryk met die blou luike oorkant die klipkerk uit die 12de eeu. In Franse briewe word die leser weer ingenooi, "want my boek gaan eintlik oor die algemene vrese en vreugdes van die lewe. Natuurlik is daar ook ietsie eg Frans in, soos Franse mans se waardering vir ouer vroue."

In Franse briewe lees ons meer oor die aanpassing in ’n vreemde land, oor histeriese situasies waar mense mekaar misverstaan, liefde en ma-wees. "Sy doen dit innemend en meesleurend, met ’n vonkel in die oog – deur selfspot, deur regdeur die fasades van mense om haar kyk, deur te midde van alledaagsheid momente van absurditeit, erns en skoonheid raak te sien en dit met ’n soepele taalvermoë tot heerlike leesstof te distilleer. En voor jy jou kom kry, sien jy die laventelvelde van die Provence deur jou eie kombuisvenster tot by die horison strek," skryf Van Niekerk.

Vir Theo Kemp (Rapport, 25 November 2008) is Marita "een van ons gewildste Afrikaanse skrywers met ’n breë lesersmark waarvan die meeste ander net kan droom. Franse briewe gee aan die leser, net soos Die hart van ons huis, ’n blik op haar lewe as Afrikaanse vrou, ma en skrywer in Provençe. Sy skryf nie feministies of vervreemdend nie, maar gemoedelik en verlei haar lesers met die bekendheid van haar 'prosa van potte en panne' (aldus Elisabeth Eybers), sonder om meer as net te raak aan die 'ernstiger' dinge onder die oppervlak. Van der Vyver kén haar teikengroep se leesluste deur en deur. En soos haar vorige boeke sal Franse briewe weer byval vind by dié groot groep lesers. Franse briewe kan met ’n geruste hart dus in vele Kerskouse gelos word. Tog hunker dié leser na die meer gedronge skrywer van die vroeë Dinge van ’n kind."

Aanvanklik het Marita gedink dat dit moeilik sal wees om elke keer "inspirasie" vir ’n nuwe rubriek te vind, maar, vertel sy aan Terésa Coetzee in Rapport (30 September 2008), "ek het gou agtergekom dit werk maar dieselfde as om fiksie te skryf. Ek wag nie vir 'inspirasie' nie. Dis eerder ’n heeltydse gemoedstoestand, a frame of mind, jy hou jou oop en ontvanklik, jy gee jou verbeelding vrye teuels en dan sien jy die hele wêreld lê besaai met stories."

Om ’n rubriek en ’n roman te skryf, is soos om ’n naelloop en ’n marathon te hardloop. Dis nie te sê dat dit maklik is om ’n rubriek te skryf of om ’n kort naelloop te hardloop nie, maar as jy kan en dan nog op ’n gereeld basis oefen, is dit gou verby, terwyl ’n roman of ’n marathon ure se alleen-wees beteken. Die pyn wat dit meebring, kan ’n mens partymaal skaars verduur en ’n mens wonder hoekom doen ’n mens dit en belowe jouself om dit nooit weer te doen nie. "Maar skaars het jy die wenpaal gehaal – of die boek gepubliseer – of jy begin jou voorberei op die volgende een. Niks logies daaraan nie, suiwer verslawing, meen ek," aan Terésa Coetzee (Rapport, 29 September 2008).

2010 was ’n baie besige jaar vir Marita. Haar volgende roman, Dis koue kos, skat is by Human & Rousseau gepubliseer en ’n kookboek, Somerkos in Provence, is ook uitgegee. ’n Nuwe weergawe van haar Grimm-sprokies, Die mooiste sprokies van Grimm (2002), het in 2006 by Protea verskyn met die titel Die volledige sprokies van Grimm.

Die mooiste sprokies van Grimm is deur Piet Grobler geïllustreer en Marita het dit self uit die Duits vertaal. In die voorwoord vertel sy dat sy al lank oor hierdie projek gedroom het en dan het sy Piet Grobler se illustrasies in haar geestesoog gesien, so dit was vanselfsprekend dat sy hom sou vra om die illustrasies te doen. Hulle het nie die boek gesien as een af ander akademiese dissertasie nie, maar as ’n bundel vir die hele familie wat elkeen kan lees en geniet. Piet het die kans benut om bekende sprokies soos RooikappieDie wolf en die sewe bokkies en baie ander wat bekend is en ander wat nie so bekend is nie, te illustreer.

"Sprokies is die argetipes van alle stories," vertel Piet (Die Burger, 6 November 2010), "alle narratiewe waarmee ons werk, stam daar uit. Sprokies was my deurtjie na verre plekke, na die donker woud vol geheime, die plek waar drome gebeur. Nou nog as ek ’n woud in my geestesoog oproep, is dit die Swartwoud."

Oor Dis koue kos, skat skryf Marida Fitzpatrick (Beeld, 7 Junie 2010) dat die kern van die verhaal gaan oor wraak. "Clara Brand is verpletter en wraaklustig nadat haar man en haar vriendin haar verraai het deur ’n skelm verhouding aan te knoop. (…) Die boek begin by wat vir die hoofkarakter lyk na die einde: Clara dobber tussen die wrakstukke van haar huwelik en wil-wil verdrink in ellende en jaloesie. Al wat haar déúrtrek, is whisky, sjokolade en opera. Oor ’n tydperk van tien jaar skryf sy aan haar vriendinne, haar gewese man, haar 'gewese vriendin wat my man gen**I' het en hier en daar ook aan haar kinders oor haar reis van die skeepswrak terug na die land, na ’n nuwe lewe toe. Dit is ’n briefroman en bestaan dus nét uit briewe. Dit maak ’n klomp dinge moeilik: dialoog, aksie, konflik, ’n spanningslyn, die ontwikkeling van ander karakters. Vir ’n minder ervare of talentvolle skrywer kon hierdie hindernisse fatale slaggate geword het, maar Van der Vyver kry dit reg om dié uitdagings te oorkom en om ondanks die beperkings wat ’n briefroman bied, ’n hoogs vermaaklike, toeganklike en roerende storie te vertel."

Riana Scheepers se resensie van Dis koue kos, skat op Die Burger se Boekeblok (Die Burger, 28 Junie 2010) het die vorm van ’n brief aan Marita aangeneem waarin sy aanvanklik vir Marita gelukwens met die feit dat sy haar storie in die vorm van ’n briefroman gepubliseer het – iets wat ’n uitstekende keuse was, aangesien dit ’n genre is wat Marita se skryfstyl uitstekend pas en die gebeure wat oor tien jaar strek, met ’n polsende pas aangee. Maar die omslag van die boek – pienkerig en koekerig – lyk vir Scheepers aan ’n hygroman s’n.

Scheepers gaan voort om op die goeie punte, sowel as die slegte punte in die boek te wys en sy sluit dan haar resensie af deur te sê: "Marita, jy het ’n boeiende boek geskryf, jy gaan die lesers lekker laat lees. Ongelukkig is daar ’n Ander Vrou in jou boeklewe wat jou ’n lelike streep getrek het: Meryl Streep. In die fliek, It's Complicated, waarin Streep en Alec Baldwin die hoof karakters vertolk, word jou verhaal bykans punt vir punt herhaal. Toe ek die uiteensetting van die film aanlyn bestudeer, het ek geskrik. Bykans alle aspekte daarvan word in jou boek gedupliseer: die 10 jaar, 3 kinders, die jonger, ander vrou wat soos jou Anaïs vrugbaarheidsbehandeling kry, selfs die kosmakery is daar én die selfoon-onthulling van die eks-getroudes se ontrou (’n webkamera in die film). Ek dink allermins jy het die regisseur Nancy Meyers se verhaal oorgeneem, die film is Kersfees 2009 uitgereik. Die ergste ding wat egter kon gebeur het, het gebeur: Meyers se verhaal was eerste. Maak dit jou nou die Tweede Vrou? Al is dit onregverdig teenoor jou, is jou boek se kos nou koud. Of kan ’n mens wel glo dat die Tweede Vrou (soms) die oorwinnaar is?"

Op hierdie "briefresensie" het Marita (ook op die Boekeblok) geantwoord dat sy nie normaalweg op resensies antwoord nie, maar aangesien hierdie een in die vorm van ’n brief is, voel sy dat sy – as deel van goeie maniere – wel daarop moet antwoord. En verduidelik Marita, dat toe It's complicated in Suid-Afrika begin vertoon is, was haar manuskrip al by die uitgewers.

Oor hierdie polemiek, asook oor resensies – negatief én positief – vertel Marita dat sy beide op dieselfde manier hanteer: "Deur vir myself te sê dis die mening van één persoon wat op ’n bepaalde tyd in sy/haar lewe ’n bepaalde boek gelees het, niks meer nie. Venynig is iets anders. Die venynigste resensie wat ek ooit gekry het, was meer as 15 jaar gelede vir Die dinge van ’n kind, deur ’n resensent (wat naamloos sal bly) wat my voorkoms en kleredrag in die resensie aangeval het. Dit was vir my so erg dat ek dit vlugtig oorweeg het om nooit weer enigiets te publiseer nie. Maar soos die oumense altyd gesê het, wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. Daardie soort bitsigheid so vroeg in my skryfloopbaan het my taf gemaak."

Oor haar nuwe roman vertel Marita dat die gesegde lui: "Revenge is a dish best served cold." "Die boek is baie humoristies, vol seks en sonde. Daar sal baie vroue wees wat met die boek kan identifiseer. Die meeste vroue word die een of ander tyd bedrieg. Almal wil wraak neem, maar almal is te ordentlik," aan Mariana Malan (Beeld, 12 Februarie 2010).

Na die publikasie van Dis koue kos, skat het Marita op Facebook aangekondig dat sy haar uitgewers belowe het sy sal haar vuvuzela blaas totdat sy blou in die gesig is die dag waarop sy meer boeke as Stieg Larsson verkoop. En toe gebeur dit. In Julie 2010 het Dis koue kos, skat volgens ’n lys van fiksie van Nielsen BookScan, bo-aan hierdie lys vir Suid-Afrika verskyn. Meer as 15 000 eksemplare is plaaslik verkoop sedert dit in April verskyn het. Marita het aan Nadine Petrick op LitNet vertel dat sy een stryk deur geblaas het, want in dieselfde tyd was Koue kos ook voor John Grisham en Ena Murray se Omnibus op Nielsen se lys. "My tone krul van lekkerkry."

Oor haar skryfwerk vertel Marita van der Vyver aan Adéle Dempers in Volksblad (22 Mei 2010) sy probeer om elke dag vir ’n spesifieke paar uur te gaan sit en skryf as haar man by die werk en die kinders in die skool is. "Skryf is ’n eensame werk – jy kan nie regtig saam met iemand skryf nie." Skryf is nie soos musiek maak waar jy op jou eie werk en dan saam met ander musiek maak nie. Sy maak meestal van die rekenaar gebruik om te skryf, maar sal wel so af en toe die eerste deel van ’n hoofstuk met die hand skryf net om die gevoel te kry. Sy noem haarself ’n "tegnofoob" wat nie baie hou van dinge soos rekenaars en selfone nie, maar besef dat daar wel waarde in hulle steek. Sy hou van en benut wel haar Facebook-profiel wat haar seun Daniël vir haar opgestel het en ook gebruik sy haar e-pos op ’n gereelde basis, veral as sy lank van die huis af is, soos wat taamlik gereeld gebeur.

Met Somerkos in Provence, wat Marita in medewerking met haar man Alain Claisse geskryf het, begewe sy haar op terrein waar sy nog nie vantevore was nie, naamlik die kombuis en die kookkuns. Voordat sy en Alain getroud is, het sy nie eintlik veel in die kombuis gekom nie, terwyl hy van jongs af by sy ma geleer kook het.

Vir Herman Lategan is Somerkos in Provençe (Rapport, 9 November 2010) veel meer as net ’n resepteboek. Hy het dit ook geniet om dit te lees, want die stukke lees soos kortverhale oor kos en kook. "Van die hoofstukke se titels is kosbaar: 'Aspris met aspersies', 'Moenie skrik vir koue (murg)pampoen nie', 'Somer, son ... en sop', en nog baie ander'." Lategan sonder ook die foto's van Lien Botha en die kosfotograaf Jan Ras uit.

Oor haar karakters en hulle ontwikkeling vertel Marita aan Jo Viljoen op LitNet dat karakters die belangrikste deel van haar boeke is. "Ek begin elke storie met ’n biografie vir elke belangrike karakter. Hoe hy lyk, wanneer hy gebore is, waar hy grootgeword het, hoeveel broers en susters, elke moontlike brokkie inligting. Die meeste van die inligting word nooit in die storie gebruik nie – maar ek het dit nodig om die karakter vir myself lewend te maak voordat ek die storie begin skryf.

"En ek moet die karakter so goed soos ’n nabye familielid ken vóór ek begin skryf – maar terwyl ek skryf, leer ek die karakters selfs beter ken, en word ek dikwels verras deur hulle optrede of persoonlikhede. Wat seker net weer bewys dat jy nooit werklik iemand goed genoeg kan ken nie, nie eens jou naaste familielede nie, en beslis nie die karakters wat jy self geskep het nie. [...]"

"Naas karakter is struktuur vir my die belangrikste deel van my skryfwerk. Ek beplan dus ’n raamwerk vir elke storie. Die tydsduur waarin dit afspeel (twee weke of twee jaar?) help om die regte raamwerk te vind. Dan besluit ek byvoorbeeld min of meer hoeveel hoofstukke daar gaan wees en min of meer hoe lank elke hoofstuk gaan wees. Dan eers kan ek behoorlik aan die skryf kom – maar ek weet nóóit vooraf hoe die storie gaan eindig nie. Ek het wel ’n idee van waarheen ek mik, maar soms word die einde eers teen die laaste hoofstuk vir my duidelik. Soos baie ander skrywers skryf ek juis 'om die einde te leer ken'. Letterlik én figuurlik. Alle ernstige skryfwerk het met die einde / die dood te doen."Marita skryf haar skryfwerk baie maal oor en stuur dan die manuskrip na haar redakteur. Sy verkies ook dat buitekeurders ook lees. En dan, net voor sy dit finaal oorskryf, bestudeer sy almal se kommentaar en hierdie laaste weergawe word dan ook nog deur ’n goeie redakteur deurgelees en geredigeer.

In 2011 het Elsabé Zietsman Marita se Dis koue kos, skat as ’n eenpersoonsvertoning by die KKNK op die planke gebring. André Odendaal was die regisseur en Alexa Strachan het die verwerking vir die verhoog gedoen. Sy was ook verantwoordelik vir die verhoogverwerking van Marita se roman Vergenoeg. Elsabé het lank gesoek na ’n eenpersoonsvertoning waarin sy nie hoef te sing nie. Maar niks was ooit heeltemal reg nie. Toe kry sy Marita se roman in die hande en besef dit is die teks waarna sy al jare soek.

"Ek het destyds Marita se boeke Griet skryf ’n sprokie en Die dinge van ’n kind (’n boek oor ’n jong meisie wat haar onskuld in ’n tyd van verpligte militêre diens verloor) gelees en dit het ’n geweldige impak op my gemaak," vertel Zietsman. "Sy het iets vasgevat wat vir ons bepaalde geslag belangrik was. Ek het met Die dinge van ’n kind die eerste keer vir ’n skrywer ’n brief geskryf om dankie te sê. Nadat ek so lank gesoek het na ’n geskikte teks, is hier nou iets uit eie bodem wat 100% reg is vir ’n eenvrouvertoning," vertel Elsabé aan Stephanie Niewoudt in Die Burger van 18 Maart 2011.

Marita se volgende roman is Die blou van onthou wat in 2012 uitgegee is. Hieroor skryf Gerda Taljaard in Beeld (15 Oktober 2012): "Daar's mos dinge wat mens vergeet, selfs al wíl jy onthou, en dan's daar dinge wat mens onthou, al wil jy vergeet ?.?.?. 'Azul' is die Portugees vir blou, die tradisionele kleur van 'azulejos', oftewel teëls, waarvan teëlkuns in Portugal gemaak word. Net soos elke teël noodsaaklik is om ’n volledige 'teëlskildery' te vorm, so is die onthou van elke herinnering, hoe pynlik ook, belangrik om ’n volwaardige mens te maak. 

"Hierdie motief van onthou, die teruggryp na die verlede voordat dit in die vergetelheid verdwyn, die oproep van die geskiedenis om genesing te bring, staan sentraal in Van der Vyver se nuwe roman. Dit is egter nie die enigste tema in hierdie ryk geskakeerde teks nie. 

"Daar is ook die reismotief wat by hierdie tema aansluit, want die skrywer neem die leser as't ware op ’n bittersoet herinneringstog deur sewe dekades, vergesel deur drie merkwaardige vroue wat drie geslagte verteenwoordig – die weemoedige Colette Niemand, wat ’n brief ontvang wat haar dwing om te onthou wat sy probeer vergeet het, haar veglustige dogter, Nandi, en Nandi se weggeekind, Tina, wat soos haar ouma haarself in Lissabon probeer 'vind'."

Vir Taljaard is daar etlike "donker onderwerpe" in die storie, maar Marita se nou al bekende humorsin is altyd teenwoordig om te voorkom dat die boek te swaar raak. Sy voel ook dat die storie teen die einde dalk te voorspelbaar raak, maar die roman vermaak en laat jou terugdink aan al die dinge wat jy wil onthou.

Izak de Vries (op LitNet) wou by Marita weet hoe sy daaroor voel om as "populêr" beskou te word. "Elke keer as ek wil krapperig word oor ek nie 'ernstig genoeg' opgeneem word nie, troos ek myself met daardie wonderlike aanhaling oor engele wat kan vlieg omdat hulle hulself nie te ernstig opneem nie. Ja, ek werk doelbewus meer as een laag by my stories in, maar ek doen dit miskien bowenal om myself van verveling en frustrasie te red terwyl ek skryf, nie noodwendig om lesers te imponeer nie. En indien die odd leser sou oplet dat die karakters se name in Dinge van ’n kind nie sommer uit die lug gegryp is nie, of dat Griet kom weer gebou is op dieselfde struktuur met dieselfde aantal hoofstukke ensovoorts as Homer se The Odyssey, nou ja,dan is dit vir my, en hopelik ook vir die leser, ’n bonus."

En oor die misdaad in Suid-Afrika? "Ek ken heelwat ekspatriate vir wie misdaad miskien nie die belangrikste rede was om Suid-Afrika te verlaat nie, maar dis beslis een van die struikelblokke wat hulle keer om terug te kom. Die probleem is as jy nog altyd net in Suid-Afrika gewoon het, voel dit vir jou normaal om heeltyd bang en gestres te wees en obsessief al jou besittings toe te sluit en weg te steek. Maar as jy eers ’n ruk elders gewoon het, en gesien het daar ís ander maniere om te lewe, dan word dit bitter moeilik om terug te gaan na daardie abnormale toestand van vrees en obsessie."

Dit is nou al bykans vyftien jaar sedert Marita en Alain se verhouding begin het. Sy sê aan Terésa Coetzee (Rapport, 28 September 2008): "Party dae is ek nog meer verlief as toe ek hom ontmoet het. En ander dae weet ek nie wat soek ek saam met hom nie. Ek vermoed dis maar die patroon van enige eerlike, intense liefdesverhouding. Maar sy grootste aantrekkingskrag bly dat hy my laat lag. En solank ek meer kan lag as huil saam met hom, sal ek by hom bly."

Sy bly baie lekker in Frankryk en is gelukkig daar. "Maar wat my die meeste behaag, bly die aandag wat aan spys en drank bestee word. Die tydsame ritueel van goed en gesellig eet en drink saam met vriende en familie. Ek droom daaroor om eendag, as die kinders almal uit die skool is en Alain naby aftree-ouderdom, die helfte van elke jaar in Suid-Afrika te woon. Ek hoop met my hele hart dat dit teen daardie tyd moontlik sal wees om fisiek veiliger te voel. Ek het op die Franse platteland geleer dat dit nie normaal is om heeltyd in vrees te lewe nie."

Marita van der Vyver se eerste radiodrama, Bagasie, is op 7 November 2013 op RSG uitgesaai. (Volksblad, 7 November 2013). Margot Luyt het gesê dat daar min mense is wat weet dat Marita, benewens ’n baie gewilde skrywer, ook ’n opgeleide aktrise is. Sy het in haar jong dae toneelklasse geloop by onder andere Babs Laker.

In Beeld (7 November 20213) word die stuk beskryf as ’n interkontinentale liefdesverhaal. "’n Kaapse advokaat vertrek na Frankryk met sy nuwe liefde, kort ná sy onlangse egskeiding. Met sy eks-vrou in Amerika borrel die kompleksiteite van ou én nuwe verhoudings na die oppervlak."

Van die rolle is vertolk deur Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Martelize Kolver, Shirley Ellis, Roeline Daneel, Marius du Plooy en Anrich Herbst.

In 2016 verskyn daar nog ’n radiodrama uit Marita se pen getiteld Genade. Dit is bekroon met die tweede prys in RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie en nog ’n bewys van haar veelsydigheid as skrywer.

Genade vertel die verhaal van Kas Stuurman, ’n afgetrede koerantman wat lief is vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou Door, skryf Elretha Britz (Volksblad, 21 April 2016). Door, ’n afgetrede onderwyseres, is, behalwe vir haar man, lief vir lees, reis en dans. Hulle het een seun, Vic, in Kalifornië – ver van sy ouers toe Door stadig maar seker begin agteruitgang weens Alzheimer en nie net sy nie, maar ook hulle verhouding begin verbrokkel.

"Die beoordelaars het die radiodrama beskryf as "’n hartroerende verhaal en pragtige, pragtige teks wat die luisteraar op ’n slim manier deur al die fases van Alzheimer se siekte meen. Die skrywer neem ons op ’n reis, nie een waarop ons graag sou wou gaan nie, maar die gegewe bly nugter, raak nooit sentimenteel nie en is juis daarom so ontroerend. Dit is ’n meesterklas in die fassinerende aanbied van ’n storielyn met ’n voorspelbare en onafwendbare einde."

Die verhoogweergawe van Dis koue kos, skat met Elzabé Zietsman was in 2012 op verskeie kunstefeeste te sien. Aan die begin van 2019 is die toneelstuk ook in die Popart-teater in Johannesburg opgevoer met Alexa Strachan wat die verhoogverwerking gedoen het en André Odendaal as die regisseur.

In 2014 berig sarie.com dat Marita se briefroman, Dis koue kos, skat, verfilm gaan word. Anna-Mart van der Merwe sal die hoofrol, dié van die Clara, vertolk. Deon Meyer en Diony Kempen se rolprentproduksiemaatskappy, Karoo Film Company, het die rolprentregte van die boek bekom. Marita het self die draaiboek geskryf en Elzabé Zietsman sal die rol van Minette vertolk. "Ons is in finale onderhandelinge met ’n formidabele akteur om die rol van Bernard, Clara se eksman, te speel," sê Deon Meyer. Darrel Roodt is die regisseur van die fliek.

Marita het aan Laetitia Pople (Volksblad, 24 Februarie 2014) gesê dat sy met die herskryf van die storie vir die film Anna-Mart in haar geestesoog kon sien in die rol van Clara. "Anna-Mart is seker die naaste aan Meryl Streep wat ons in Suid-Afrika het. Sy kan enigiets speel: lief of boos, beeldskoon of vaal, skreeusnaaks of tragies."

Die rolprent is in 2016 vrygestel met Etienne Fourie as regisseur. Oor die rolprent raak Leon van Nierop, bekende rolprentkritikus die volgende kwyt (Rapport, 28 Augustus 2016): "Soms wil die rolprent ook na ’n roman met prentjies lyk, Natuurlik moet Clara van ’n verteltegniek gebruik maak, want die skerpste waarnemings lê hier binne-in haar agter die frons – dele wat net so uit die roman oorgeneem is en wat nie op die oog af in dialoog weergegee kan word nie, tensy jy ’n verbuftige draaiboek het. Maar baie van die tonele het nie altyd daardie verteliings nodig nie. Die dramatisering is snaaks genoeg."

"Maar tog [...] moet vroue ook die kans kry om hul sê te sê. ’n Mens lag hardop vir ’n klugtigheid wat strate beter is as die klugtigheid in Willie Esterhuizen-komedies wat slapstick bloot gebruik wanneer die draaiboek suf geraak het, maar ook om te skok. In Koue kos se geval is woordspelings nie moedswillig of kru nie, maar gesofistikeerd slim met volwasse subteks.

"Koue kos was lanklaas so warm. As jy moeg is vir kommin Afrikaanse komedies oor banale seks, sal hierdie een jou plesierspiere op die regte plekke kielie."

Marita vertel aan Gerrit Brand (Die Burger, 5 November 2005) dat haar ervaring as joernalis en kopieskrywer van groot waarde was. "Dit het my deadlines geleer – ek werk met ’n deadline in my kop, want ’n mens is mos nooit tevrede nie. En om te sny. Ek is nie precious oor ’n sub aan my teks werk nie; ek het ’n goeie verhouding met my redakteur."

En wou Brand ook weet, word dit makliker? "Ja, omdat jy meer dissipline kry, nie meer glo in die muse nie, ’n aantal ure per dag werk. Nee, omdat jy, en ander, hoër verwagtings het; jy's nie meer ’n beginner nie. Wat jou laat skryf, is die geloof dat jou beste boek nog voorlê."

In 2013 word ’n Fontein voor ons deur gepubliseer en hierin gaan Marita terug na haar man en kinders en hulle lewe in Frankryk. In hierdie bundel verhale word daar meer vertel van hulle verhuising.

In Beeld (7 Oktober 2013) skryf Dineke Volschenk: "Van der Vyver meander deur haar 'regte' lewe, begin dikwels iewers en kom by ’n heel ander plek uit soos net goeie storievertellers reg kan doen. Sy mymer, filosofeer bietjie, preek hier en daar, verlang soms huis toe, raak nostalgies, beleef en oorleef allerhande huishoudelike rampe. Dit alles in heerlike Afrikaans. Sy vermy clichés vernuftig. Maar dit laat jou veral met nuwe oë na jou eie lewe kyk.

"Jy besef jou lewe is ook stories – interessant, skreeusnaaks, sentimenteel, hartseer, die hele kaboedel. Van der Vyver maak die ordinêre spesiaal. Die boek is soos ’n vitamien B-inspuiting vir 'gewone' mense; jy behoort dit saam met die digbundels in die toilet te hou, soos Van der Vyver doen, en jou daar gaan toesluit wanneer die yskas breek of jy voel die kinders jou as vanselfsprekend aanvaar sodat dit jou weer kan opkikker." 

Ná die sukses van Somerkos in Provence in 2010 word Marita en haar man Alain Claisse se volgende kookboek, Winterkos in Provence, in 2014 gepubliseer. Alain en Marita het die boek op ’n kostoer deur Suid-Afrika kom bekendstel.

Oor die nuwe wending wat haar skryfwerk aangeneem het, vertel Marita aan Anmi Honiball (Volksblad, 18 Julie 2014) tydens die Vrystaatse kunstefees: "My eerste boek was van ’n vrou wat haar kop in die oond wou druk. Nou skryf ek kookboeke. Ek was altyd bang vir kosmaak. En toe gaan staan en raak ek verlief op ’n kosmaker-Fransman.

"Met dié kookboek wou ons Franse gunstelinge vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor toeganklik maak. Ons probeer as ’n reël kos en bestanddele gebruik wat oor die wêreld heen beskikbaar is. Ek wil graag mense help om hul fobie vir kosmaak te oorwin en op die kleure en geure van kos verlief te raak."

Vir Marita is Somerkos en Winterkos nie kookboeke óf resepteboeke nie, maar kosboeke, vertel sy aan Maryke Roberts (Volksblad, 4 Julie 2014): "Ek kan nie ’n boek skryf net met resepte nie, want daar is baie beter kokke as ek. Ek kan wel stories vertel. Ons het probeer om met die boek iets anders as die gewone kookboek te bied, want nie alle kokke is storievertellers nie."

Vir Ilse van der Merwe (LitNet) is Winterkos ’n boek wat jy in ’n stil sonskynhoekie moet lees, "sonder haas, waar jy jou kan verloor in Marita se koswêreld. Jy gaan keer op keer na hierdie boek wil terugkeer, nie net vir die resepte en die foto's nie, maar grootliks vir die pragtige stories."

Marita skryf in 2014 nog ’n kinderboek getiteld Die coolste ouma op aarde. Hierdie Ouma word bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir beste kinderboek in die voorleeskategorie: graad RR-1 in 2015.

Sy vertel aan Izak de Vries op sy blog op LitNet dat haar oogmerk met Die coolste ouma was (behalwe om oumas te laat rock) om kinders te laat verstaan dat elke ouma op haar manier uniek is – "en dit maak nie saak hoe jou ouma lyk en wat sy doen nie, ’n regte, lewende ouma is beter as enige storieboekouma. Daar’s baie kinders wat sonder oumas grootword of wie se oumas te ver woon om ’n hegte verhouding met hulle op te bou. My ma is dood in dieselfde week as wat my dogter gebore is, dus het Mia nooit haar Afrikaanse ouma geken nie, en haar Franse ouma woon in die verste hoek van Frankryk. Ek het gesien hoe mis sy ’n ouma wanneer haar maatjies oor hulle oumas praat."

Marita raak baie opgewonde teenoor Izak de Vries as sy oor die Zinelda McDonald, die illustreerder van Die coolste ouma praat: "O, sy’s ’n vonds! Sy’s bloedjonk en nog onbekend, maar ek kan nie spog dat ek haar gevind het nie, dis die uitgewer, Miemie du Plessis, wat ons bymekaar uitgebring het. Al wat ek gedoen het, was om my neus op te trek vir ’n paar ander illustreerders se werk wat Miemie vir my gewys het. (Ek moet haar bedank vir haar geduld want ek’s vol fiemies as dit by illustrasies kom.) Maar jy weet, nes ’n versamelaar van goeie wyn nie sommer enige dooswyn sal drink nie, sal ’n versamelaar van goeie kinderboeke mos ook nie tevrede wees met illustrasies wat soos Disney of Pixar se animasiekarakters lyk nie! Maak nie saak hoe tegnies perfek sulke prentjies is nie, dit kort ’n eie karakter.

"Die groot illustreerders wat ek bewonder, se werk is onmiddellik herkenbaar as hulle s’n en net hulle s’n. Meesters soos Maurice Sendak het inderdaad verskillende style vir verskillende stories beproef, maar as jy eers wéét hy het die storie geïllustreer, kan jy jou nie voorstel dat enigiemand dit anders sou kon doen nie. Daar’s ’n soort onvermydelikheid aan goeie illustrasies. Presies hierdie prentjies pas by presies hierdie woorde. Dís die gevoel wat ek gekry het toe ek Zinelda se eerste proefillustrasie sien – van die ouma wat soos ’n rock-ster saam met ’n kleinkind konsert hou – en ek het dadelik vir Miemie laat weet: I think we got it."

Marita keer in 2015 terug na een van haar bekende en suksesvolle karakters, Hanna Hoekom, met die publikasie van Swemlesse vir ’n meermin. Hiermee palm sy die Scheepersprys vir jeuglektuur vir 2016 in.

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2002) het geëindig waar Hanna se babasussie, Ariel, in die berge gebore is. In Swemlesse skryf Hanna al die lesse van die lewe wat sy geleer het vir haar babasussie neer. Omdat sy wel deeglik bewus is van die feit dat hierdie sussie van haar sal moet "sink of swem", noem sy dit "swemlesse", skryf Willie Burger in Vrouekeur (4 September 2015).

"Die lesse behels raad oor hoe ’n tiener ouers behoort te hanteer, oor die verwerkring van teleurstellings, oor skool, oor geld, oor klere, oor familie. [...] In die proses vertel Hanna ook weer van haar eie ervarings en daarom bly die boek ’n mens boei. [...] Die styl bly deurgaans die ligte, vermaaklike aanslag van Hanna, wat Van der Vyver so uitstekend doen en wat veroorsaak dat ’n mens die boek nie kan neersit nie. Die lesse is nooit prekerig nie, daarvoor bly dit te lig."

Marita vertel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 30 Julie 2015) dat in die twaalf jaar wat verloop het tussen die publikasie van Hanna Hoekom en Swemlesse sy gewag het dat Hanna en haar gesin in "haar verbeelding moet vervaag, maar hulle het geweier om weg te gaan. Toe raak ek seker maar moeg van lesers wat wil weet wat van Hanna-hulle geword het – veral nadat die rolprent (2010) haar aan ’n nuwe geslag voorgestel het. Toe vra ek myself af: 'Wat het van Hanna-hulle geword? En toe kom hierdie storie."

Marita sê aan Van der Merwe dat dit nie suiwer briewe is nie, maar ’n oorlewingsgids: "Met ’n alfabetiese indeks agter, soos enige gids, maar dis ’n gids wat ’n ousus vir ’n kleinsus skryf om te lees wanneer sy die dag 13 word."

Op LitNet skryf Dewald Koen: "In Swemlesse beklemtoon Van der Vyver weer eens die universaliteit van aspekte wat met adolessensie gepaardgaan. In vergelyking met kinders soos Dalena en Mart in Die dinge van ’n kind (1994) ervaar tieners soos Hanna twee dekades later steeds soortgelyke uitdagings tydens hul storm-en-drang-jare."

"Van der Vyver moet geloof word vir die wyse waarop aspekte rondom gender in die roman benader word, Deur middel van Mana (Hanna se ma) se karakter word lesers bedag gemaak op stereotipes en veralgemenings wat daagliks in die samelewing voorkom. Mana se stem bied ’n alternatiewe siening van geslagsrolle en identiteit in die moderne samelewing. Alhoewel die roman op die oog af as ’n roman vir tienermeisies afgemaak kan word, bewys die narratief die teenoorgestelde. Ook tienerseuns sal by Hanna se interessante wedervaringe aanklank vind, aangesien hulle met karakters soos Benjamin en Yann sal kan identifiseer. Ook volwasse lesers sal die roman geniet, hoofsaaklik weens die humor wat tussen die reëls ingelees kan word. Van der Vyver skroom nie om die bul by die horings te pak nie. Geen onderwerp is vir Hanna se lewensgids taboe nie."

"Swemlesse vir ’n meermin is ’n voortreflike opvolger vir Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Dié tweeluik sal tienerlesers boei en selfs ’n paar volwasse lesers met nostalgie aan hulle tienerjare laat dink. Met haar jongste jeugroman bewys Van der Vyver weer eens dat sy in voeling is met haar lesers en weet wat in tieners se koppe broei."

Marita volg Swemlesse op met nog ’n verhaal vir die jeug – Al wat ek weet wat in 2016 by LAPA verskyn. Dit was in 2017 op die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse (filmkategorie), asook naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie in 2016.

Al wat ek weet vertel die verhaal van ’n tienerseun Gabriel met ’n wit pa en ’n bruin ma. Ná sy ma se dood word sy pa in ’n inrigting opgeneem en gaan bly hy by sy ouma Lenie wat vir Gabriel soos ’n "time traveller uit die verre verlede is". Omdat hy nie sy woede teenoor die wêreld kan verwerk nie, gaan sien hy ’n sielkundige en ontmoet daar vir Sasha wat ook emosionele probleme het. In die proses ontdek hy performance-poësie of rap en op dié manier slaag hy daarin om in woorde uiting te gee aan sy woede.

Vir Naomi Meyer (op LitNet) is Al wat ek weet ’n baie sterk titel en sy wou by Marita uitvind hoe sy op die titel gekom het: "By sommige van my boeke is die titel daar voordat ek die eerste sin skryf, en by ander kom die titel eers lank nadat die laaste sin geskryf is. Al wat ek weet val in die tweede kategorie. My voorlopige titels was variasies van Wegkyk en stilbly of Anderpad kyk of so iets. Eers nadat die manuskrip gekies is as een van die wenners in Lapa se kompetisie, het die redakteur, Miemie du Plessis, gevra waarom ek nie die titel van die eerste hoofstuk (en een van Gabriel se eerste slam-rympies) as titel vir die hele boek gebruik nie. En toe is dit so vanselfsprekend dat ek nie kon glo ek het nie vroeër daaraan gedink nie. Maar miskien moes ek juis eers die hele storie skryf om agter te kom wát Gabriel weet? En ek hoop elke leser sal ’n eie antwoord op die vraag vind." 

Vir Marita gaan Al wat ek weet oor aandadigheid en dit is ook hoekom sy aanvanklik gedink het aan ’n titel wat skuld suggereer: "Stilbly oor onreg is ook ’n manier van saamstem en skuldig wees aan die onreg. Maar die verlies en die liefde, en veral die reddende krag van woorde en taal – eerder as musiek – het amper onmiddellik deel van die storie geword."

Sy vertel aan Meyer dat die impetus agter die verhaal ’n insident was toe sy saam met haar man in hul motor gery het en ’n onbeskofte fietsryer haar sleggesê het en haar man niks gedoen het om haar te "verdedig" nie: "Hy het my net probeer keer om nie die fietsryer verder uit te tart nie, want hy kon sien die man was irrasioneel en moontlik gewelddadig. My onmiddellike reaksie was om vies te wees vir my man – en dit het my aan die dink gesit. Ek sou tog nie wou hê Alain moet uitspring en in ’n fisieke geveg betrokke raak nie! Ek háát fisieke geweld. Dus was hy waarskynlik reg om my net te probeer kalmeer sodat ons kon wegkom. Maar sê nou een van ons kinders het agter in die kar gesit? Watse boodskap sou ’n kind oor so ’n voorval kry? En toe hardloop my skrywersverbeelding met my weg en ek dink: sê nou maar ek was só ontsteld omdat my man my nie verdedig het nie dat ek ’n ongeluk gemaak het ... En dis hoe Gabriel se storie begin het. Hy het die seun geword wat agter in die kar sit."

Marita het nie veel geweet van ­rap-­musiek toe sy die roman begin skryf het nie, maar sy het baie vinnig geleer, vertel sy aan Meyer: "Dit was nie nodig om navorsing te doen nie, want ek is jare lank in my eie huis met rap-musiek gebombardeer! Veral een van ons drie seuns (Hugo) het niks anders geluister nie – en noudat hy 25 is, luister hy steeds meestal rap. Maar ek het begin luister omdat ek nie net blindelings wou veroordeel sonder dat ek weet wat ek veroordeel nie – en toe word dit vir die seuns ’n uitdaging om vir my te wys dat gangsta rap wat vol vloekwoorde en seksisme is, nie die enigste soort rap is nie, en toe kom ek van rap by slam uit en by spoken word poetry en ’n hele nuwe wêreld word vir my oopgemaak. Ek het heelwat navorsing oor praatpoësie op die internet gedoen, omdat dit nog so ’n nuwe ding in Suid-Afrika is, maar in Amerikaanse hoërskole word daar al lank slam-kompetisies gehou. Dit sal vir my fantasties wees as hierdie boek kan help om ook in Suid-Afrikaanse skole so ’n tradisie te begin."

In Rapport (18 September 2016) beskryf Lona Gericke Al wat ek weet as ’n "goed gebalanseerde verhaal wat nie oordrewe emosioneel is nie. Die hoofkarakters groei tot groter volwassenheid; die raprympies spreek boekdele en weerspieël Gabriel se emosies."

Marita van der Vyver se taalgebruik sleep die leser van die eerste paragraaf af in, skryf Willie Burger in Vrouekeur (14 Oktober 2016). "Soos Hanna Hoekom wat moeite het met haar gesin en dan in woorde troos soek, vind ook Gabriel troos in woorde. Anders as wat die sielkundige wat hom aanmoedig om te skryf dalk bedoel het, skryf hy rap-liedjies. Rap is immers dié genre wat by uitstek geskik is om woede te verwoord, en Gabriel word geleidelik deur Sasha – mooier as Sneeuwitjie – gehelp om ná sy ma se dood en talle ander terugslae weer figuurlik op die been te kom, Sy help hom ook om weer op die verhoog te rap. Sy lirieke is wonderlik. Kyk net na die begin van hierdie een:

Dis ’n ou-ou storie wat ek nou gaan vertel
Van ’n beautiful girl met ’n spierwit vel
En ’n mond moerig rooi soos ’n druppel bloed
En hare so swart soos die nag, so swart soos roet
Jy ken haar van kleins af, kom ons noem haar Snow White
Sy's mooi soos ’n prinses en boonop bright
Haar mense is ryk, sy woon in ’n paleis
Met ’n security gate, ja, daai soort huis..."

Marita se volgende roman vir volwassenes is Misverstand wat in 2017 gepubliseer word en ook in Engels vertaal is onder die titel You lost me.

Op LitNet beskryf Marita die storielyn aan Naomi Meyer: "Dit gaan oor ’n paar Suid-Afrikaners wat in Parys vasgevang is wanneer die terreuraanvalle van Vrydag die dertiende losbars. Die hoofkarakter is ’n middeljarige skrywer wat sukkel om sy middelmatigheid te aanvaar en selfmoordplanne beraam as ’n desperate poging om sy boekverkope te laat styg."

Jo Prins (Volksblad, 22 November 2016) wou weet hoe die storie homself by Marita aangemeld het: "Dit het iets met middeljarigheid en ontgogeling te doen. ’n Gevoelte wat ek in myself en vele vriende bespeur, en waaroor ek al meet begin wonder het. Toe besluit ek om oor ’n middeljarige kunstenaar te skryf wat uit sy gemaksone gevat word, in ’n onbekende stad en land en dis hoe Willem Prins in Parys beland het," vertel Marita.

"Eers wou ek hom ’n paar dae in Amsterdam laat deurbring, maar toe dink ek skrywers soos Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk het al Amsterdam 'gedoen', beter as wat ek sou kon. Terwyl nie veel Afrikaanse skrywers Frankryk beter ken as ek nie."

Marita was al druk besig met die skryf van Misverstand toe die terreurraanvalle van 13 November 2015 plaasgevind het. Willem, wat intussen onder ’n skuilnaam begin porno-boeke skryf het, was op pad Parys toe vir die bekendstelling van die Franse vertaling van die boek en die datum was klaar vasgemaak in Marita se kop. Toe die aanvalle plaasvind en dit op die presiese datum wat sy in haar kop gehad het, het sy besluit om dit as deel van haar storie te gebruik, vertel sy aan Willem de Vries (Volksblad, 4 Februarie 2016).

Een van die moeilikste dinge met die skryf van Misverstand was om ’n ernstige onderwerp soos middeljare-moedeloosheid te verlig "met humor, meestal nogal swart humor, sonder om laf te word en die swaartektrag van die storie te verloor."

"Ek was ook al lankal lus vir ’n manlike hoofkarakter – ek het al kortverhale en jeugverhale met manlike hoofkarakters geskryf, maar nog nie ’n volwasse roman uit ’n manlike oogpunt nie, so dis ’n lekker nuwe uitdaging."

Yolanda Wessels is die resensent op LitNet en Misverstand het haar vasgenael laat sit van die eerste bladsy af: "Dié skrywe is beslis geen misverstand nie," begin Wessels haar bespreking, "maar lê klem op soveel basiese lewenselemente, van liefde, vertroue, geloof, wanhoop, middeljarig- en sterflikheid, die vraag wáár ’n mens werklik hoort, wát sukses werklik is en beteken vir verskillende mense … Op ’n manier word dié kwessies onder haar vernuftige skrywerspen ontrafel. Van blote fiksie, tot ineenverstrengel met die alte werklike terreuraanvalle wat Parys se fondasie geskud het en almal wantrouig na mekaar laat staar het."

"Weer eens is haar hoofstukke deurspek met vlymskerp humor en pittige vergelykings wat my soms laat wonder het hoekom ek nog nie vantevore hierdie pittighede elders raakgelees het nie. Asof Marita nie net swanger is en geboorte gee aan ’n karakter, emosies en ’n boek, ’n storie nie, maar die aardsmoeder is van soveel nuutskeppings, verwysings en vergelykings. Die feit dat sy Willem Prins, ’n man, lewe gee in Misverstand en subjektief spekuleer oor medeskrywers, oftewel teenstanders, bied dieper insae in die wroegings en worstelings van ’n skrywer, die kompetisie daar buite, die smagting na erkenning, sukses, trefferboeke en topverkopers, syfers, die droom om ná jou afsterwe steeds onthou en saam met die groot name genoem te word." [...]

"Soos met haar ander boeke, het ek ál meer begin uitstel om voort te snel namate ek hoofstuk 23 (ironies nogal my gunstelinggetal) genader het. Want dan is nog ’n Marita-kunswerk voltooi. Nog een wat ek nie weer vir die eerste maal kan lees nie. En Marita hoef nie te wonder wat haar nalatenskap is nie, want haar naam sal generasies ná haar, na my en my kinders, steeds onthou word as dié van een van ons beste skrywers (en met ’n glinster in die oog)."

Vir Willie Burger (Vrouekeur) is Misverstand ’n "vars hoogtepunt in Marita van der Vyver se oeuvre. Die humor en deernis, saam met die onverbiddelik eerlike blik op die wêreld en veral die ryk insig in menslike bestaan, word met haar bekende sprankel aangebied. Dit is ’n roman oor oudword, oor die moeite om met jou mislukkings tot ’n vergelyk te kom en om, in die woorde van die sentrale karakter, Willem Prins, ’n mens se eie middelmatigheid te aanvaar." [...]

"Al is daar baie somberheid oor die verbygaan van die lewe, die verspeelde kanse en misverstande, is misverstand natuurlik ook die kern van humor. Misverstand is daarom ook soms ’n skreeusnaakse roman. Maar dit is Van der Vyver-humor: die soort humor wat die weerloosheid van mense blootlê en wat deernis wek. Misverstand is die soort roman wat ’n mens met ’n deurleefde lewenswysheid in kontak bring, wat ouerword op meesleurende manier draagliker maak."

Hoewel Misverstand volgens Schalk Schoombie "deurgaans vloeiend in die mineurtoon van melancholie geweef" is, beskou hy nie Misverstand as Marita se boeiendste roman nie. "Tog bied dit pitkos oor ouer word, internasionale omwentelinge en eietydse kwelvrae. Daarom is dit ’n gevoelige tydsdokument wat die leser noop om wyer te dink en te lees."

In 2018 keer Marita terug na die genre van essays en rubrieke in die vorm van Retoer: Pretoria – Provence wat by LAPA gepubliseer is. Dit is ’n bundel van rubrieke, sketse en essays wat nog nie vantevore in boekvorm uitgegee is nie. Dit bevat die rubriek getiteld "Julle wat teister: Dis tyd om te luister" (in Rapport Weekliks) wat in 2018 bekroon is met die ATKV-Mediaveertjie in die kategorie beste essay, rubriek of opiniestuk.

Oor die samestelling van Retoer vertel Marita aan AJ Opperman (Die Burger, 20 Oktober 2018) dat dit vir haar moeilik is om haar boeke weer te lees, maar met Retoer was dit nogal vir haar "terapeuties".

"Met skryfstukke is ’n herlees anders. Dis nie naastenby so moeilik nie, want dis in tydskrifte, koerante en op die internet gepubliseer. Dis nooit vir my permanent soos ’n boek nie. Om dit in boekvorm te kan publiseer, het my die geleentheid gegee om nou aan die stukke te werk. Nie om dit noodwendig oor te skryf nie, maar by te voeg. As ek foute opgetel het, kon ek dit regmaak."

"In ’n sekere sin was dit terapeuties om stukke te gebruik wat in verskillende publikasies verskyn het en dit – ek wil amper sê – beter te skryf, om dit soms te verkort, om stukkies by te skryf. Om dinge duideliker te maak. Dit was vir my baie aangenaam."

Vir Marita is dit nie so moeilik om niefiksie te skryf nie, sê sy aan Opperman. "Ek kan nou baie filosofies klink en vra wat is die waarheid? Daar is nie net een waarheid nie. Ons het elkeen ons eie persoonlike waarheid. Dit is vir my moeilik om oor enigiets te skryf. Dis vir my moeilik om ’n inkopielys te skryf, maar fiksie is vir my die moeilikste omdat ek my verbeelding moet gebruik."

"Met fiksie begin ek met niks. As ek niefiksie skryf – rubrieke, essays, meningstukke – voel dit altyd vir my dat ek met iets begin. Daar is iets wat ek gesien of gedink het waaroor ek wil skryf, of iets wat met my gebeur het. Jy het ’n raamwerk, iets waarbinne jy skryf."

"Met fiksie, met ’n roman, is dit net daai oop papier, die wit skerm en jou verbeelding. En dis ’n angswekkende ervaring, dag ná dag. My fiksie bevat wel feite en feitelike navorsing en daar is in my niefiksie soms ’n bietjie verbeelding.

"Dis klein stukkies – die manier waarop jy die taal gebruik. Waar jy jou verbeelding moet gebruik om die taal te laat reg klink. Soms word daar bietjie oordryf om dit snaaks te maak. Soms word dinge verswyg om jou eie privaatheid of dié van mense na aan jou te beskerm. Dis die manier hoe jy werk met die sogenaamde waarheid."

Calri Niemand skryf in Beeld (31 Desember 2018): "Retoer is ’n kuier saam met Marita van der Vyver. Sommer met die verwelkoming maak sy dit duidelik dat hierdie boek nie haar memoirs is nie. Wat dit wel is, is ’n versameling kort skryfstukke wat in verskillende publikasies en op verskeie forums verskyn het. Op hul eie is elke stuk vermaaklik, nostalgies of ondersoekend. Maar saamgebind in hierdie bundel word die geheel baie meer as die som van die dele: Sy nooi die leser nader, skink vir jou ook ’n glas wyn, en raak aan die kuier en aan die gesels oor dinge wat verskillend, maar ook dieselfde, is van Pretoria tot Provence." [...]

"Merendeels is die trant egter lig: ’n viering van lewenservarings waaroor sy dankbaar is. In haar vorige niefiksieboeke het Van der Vyver breedvoerig geskryf oor daardie Franse lewe wat vir haar aanhangers altyd fassinerend sal bly: Provence, haar huis en familie en (onvermydelik) die Franse kos. Retoer is anders in die sin dat dit meer impulsiewe indrukke van die skrywer se leef- en gedagtewêreld gee omdat die bydraes (meestal relevante rubrieke) oor ’n paar jaar geskryf is en telkens 'in die oomblik' was. Ná só ’n lekker kuier sal sommige gesprekke ’n mens lank bybly."

Marita se jongste roman word in 2019 deur Penguin Random House uitgegee onder die titel Grensgeval met die Engelse weergawe Borderline wat ook in 2019 verskyn. Sy het die roman geskryf ter nagedagtenis aan haar eerste man, David Bishop.

Die vonk wat die verhaal van Grensgeval aan die gang gesit het, was die boek Another day of life (1976) deur die Poolse joernalis Ryszard Kapuscinski waarin hy oor die "onkommunikeerbaarheid" van oorlog geskryf het, vertel Marita aan Willemien Brümmer (By, 9 November 2019). Die volgende impetus vir die skryf van die boek was haar ontmoeting met die Angolees-Portugese skrywer José Eduardo Agualusa in 2006 by ’n skrywersfees in Durban.

Dit het haar aan die dink gesit: "My klasmaats is opgeroep om te gaan baklei daar (in Angola) en hierdie mense dood te maak en ons hou van dieselfde boeke, ons hou van dieselfde musiek, ons gesels asof ons ou pelle is, en toe begin ek dink, maar vir die Kubane was dit net soos vir ons – wat het hulle met Angola te doen? Hulle word uit ’n ander land gestuur om daar op ’n vasteland, ’n plek waar hulle nog nooit was nie, te gaan baklei oor die een of ander ideologie, soos wat ons soldate gestuur is – en dís waarskynlik wat ons laat kliek het.

"En dan draai dit mos maar in ’n mens se kop dat ek Kuba wil inbring op die een of ander manier, en toe begin ek dink ek wil in Kuba uitkom of so." En só begin Marita en Kitty Snyman, ’n Kaapse reisagent, reël aan ’n toer Kuba toe."

En toe, pas nadat sy teruggekeer het vanaf Kuba, is haar eerste man, David Bishop, in ’n Kaapse psigiatriese inrigting oorlede nadat "hy oor jare bietjies-bietjies weens depressie en smart" doodgegaan het, vertel sy aan Brümmer. Dít was die laaste vonk vir die skryf van Grensgeval.

Willemien Brümmer wou by Marita weet of Grensgeval nie ook ’n "heining ter herinnering" aan David Bishop is soos die essay "Die begin van ’n storie" aan hulle seuntjie was nie. Hierop antwoord Marita: "Ek moes afskeid neem van my eerste man. Deur fiksie kom mense soms nader aan 'die waarheid' as wanneer jy die waarheid probeer skryf. Dis in elk geval my ervaring."

Die hooftema in Grensgeval is ’n brief wat ’n Kubaanse soldaat, Angel Perez Gonzales, voor sy dood in die Angolese oorlog aan sy kind skryf. Gonzales het vir Theo van Velden gevra, nadat dié hom geskiet het, om die brief aan sy seun te besorg. Theresa Marais is die hoofkarakter in die verhaal en sy vind die brief tussen haar eks-man se besittings nadat hy oorlede is. Ná Theo se dood het Theresa net een missie en dit is om die brief aan Mercedes Perez Amat, die naam op die koevert van die brief, te besorg. En só bevind sy haar in Kuba waar sy tot die besef kom dat die meeste soldate doodgewone mense is wat doodgewone drome en vrese het, skryf Annemarié van Niekerk (Rapport, 17 November 2019).

Van Niekerk gaan voort: "Grensgeval is spannend en lees soepel en gemaklik. Met haar geoliede pen en vaardige verteltegnieke voer Van der Vyver ons geboeid heen en weer tussen die verlede (toe Theresa en Theo nog jonk was) en die narratiewe hede. So word haar begaafdheid as skrywer van heerlike good reads nogmaals bevestig: Sy weet hoe om ’n spanningslyn strak te hou en wanneer om skiet te gee; hoe om te speel met die suggestie van romanse; hoe om karakters tot lewe te toor, veral die intelligente, waaghalsige, rebelse en sensuele vrouekarakters wat die Van der Vyver-leser deur die jare leer ken het (hier as Theresa); en hoe om haar vertelling te balanseer tussen pole – pole van verlede en hede, jeug en volwassenheid, humor en erns, bekende en eksotiese omgewings (in hierdie geval Kuba en Suid-Afrika), en om die steeds ontwykende objek van die soektog telkens weer net-net te laat wegglip."

Marita is oorrompel deur Kuba, vertel sy aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 11 November 2019). En die boek loop oor van van ryk kleure en geure, skryf Van der Merwe.

Marita vertel verder oor die ou motors is Kuba: "Ek het gedink die ou motors is ’n toeristeding en het nie verwag dat die mense in die werklikheid met hulle rondry nie. Dit het kompleet gevoel of ek in ’n fliek uit die 1950’s is. Ek is nie ’n karmeisie nie, maar hier het ek gekyk en foto’s geneem."

Sy het altyd geweet dat sy nog eendag oor die Grensoorlog gaan skryf. Sy self was toe nog ’n skoolmeisie en het dit nie werklik beleef nie. In 1999 het sy in Wegkomkans geskryf oor ’n vrou wat só ’n roman wil skryf, omdat dit ’n "macho-ding" was.

"Tydens daardie oorlog was ek ’n skoolmeisie. Van my skoolmaats en universiteitsliefdes is stukkend geskiet aan die grens. Jy as vrou, ma of dogter sit eintlik met stukkende mans wat terugkom sonder dat jy verstaan. Hulle kon nie daaroor praat nie. Die skade wat ek in Kuba gesien het, was net so groot."

Op haar blog Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge as volg oor Grensgeval: "Grensgeval is ’n boek oor die grensoorlog (Angola) en verwys ook na die sogenaamde borderline personality disorder. Dit verwys eweneens na paranoïese skisofrenie en bipolariteit. In hierdie boek – ’n onthouboek – beweeg die hoofkarakter Theresa Marais terug in haar verlede as ’n bevoorregte wit kind. Sy besef as ouer persoon hoe min sy geweet het van die bestaan van minder bevoorregtes en nie-wit-mense in die ou-Suid-Afrika. Met die roman wil sy dan probeer bepaal hoé dit gebeur het dat sy so oningelig was. 

"Haar man – eintlik eksman Theo – se ervarings wat in ’n boks opgesluit word, is dan ’n Pandorakis vol geheime. Die ontdekking van ’n Kubaanse soldaat se brief aan sy kind neem haar na Kuba om die brief terug te gee." [...]

"Die besoek aan Havana is eg beskryf. Sy wil egter meer as ’n toeris wees en besoekers aan Kuba, soos hierdie reisigerleser, weet hoe outentiek sy die kos, die hotel en die ambiance van hierdie verruklike wêreld beskryf word wat vir soveel jare in jong Afrikaners se gemoed gedemoniseer is.

In die beskrywings van ouer Afrikaners is die gebruik van die woord opneuk erger as die k-woord (94), wat weer eens bewys op watter vasteland ons geboer het."

"Sommige ervarings word inderdaad nooit vergeet nie, net onderdruk (107). Hierdie goed geskrewe, hoogs leesbare roman navigeer die pynlike ontdekkingsreis van Theresa." [...]

"Die roman wentel om verskillende opposisies: haar man se troostelose weermagervaring teenoor haar onskuldige ervarings; haar vriendin in Pretoria se ervarings teenoor ’n bestaan in die Kaap; hede teenoor verlede; die jeugdagboeke teenoor die man se 'swart joernaal' (ook ’n army boks) en die pa se brief."

"Daar is oomblikke in hierdie roman wat so pynlik is dat ’n mens eers die boek moet toemaak. Dit is ’n roman van boetedoening (’n brief wat gevind word en vergifnis wat begeer word) en ’n ondersoek na die letsels wat oorlog op ’n mens laat."

Op LitNet is Hennie van Coller die resensent: "Daar is weliswaar aspekte wat Van der Vyver se werk bestempel as behorende tot die 'middelmaat': blokkarakteriserings; stereotipering; oorduidelike skurke en helde; die neiging tot ’n bepaalde oppervlakkigheid ('gemoedelikheid') en selfs naïwiteit wat betref indringende politieke kommentaar en kritiese historiese representasie (byvoorbeeld van figure soos Che Guevara en Fidel Castro in die jongste werk). Desondanks is Marita van der Vyver ’n rasegte skrywer wat skynbaar moeiteloos skryf, juis omdat sy haar vak tot in die puntjies goed beheers. Ook ’n verteller by uitstek, van boeiende stories met interessante karakters en ruimtes.

"Grensgeval is geen uitsondering nie. Theresa Marais is ’n middeljarige vrou wat skynbaar ’n ekwilibrium bereik het: woonagtig in ’n relatief aangename omgewing, redelik gelukkig in haar bestaan en met haar werk en rustig ná ’n traumatiese egskeiding en woeste seksuele avonture daarna. Nie verniet woon sy in Observatory nie; sy het haar mettertyd ontheg van die aktiewe bestaan en veel eerder die lewe (en mense) afstandelik begin betrag. Hierdie oënskynlik rimpellose bestaan word wreed versteur deur die ontdekking van ’n brief tussen ander briewe en foto’s in ’n boks wat aan haar gestorwe man, Theo (van wie sy al vroeër geskei het), behoort het. Hierdie brief van ’n Kubaanse soldaat (wat tydens die Grensoorlog deur haar man gedood word) aan sy dogter is die motoriese moment wat nie net ’n reeks gebeure laat ontvou nie, maar ook Theresa se onderdrukte herinnerings aktiveer."

"In die res van die roman is daar struktureel ook sprake van ’n ekwilibrium: soos sy progressief vorder in haar soektog na die dogter aan wie die brief gerig is – selfs tot in Kuba – keer haar gedagtes retrospektief terug na haar jeugjare, veral tydens die jare sewentig toe die Grensoorlog in volle gang was én na haar ontmoeting en latere huwelik met Theo. Maar veral ook na sy toenemende aftakeling, ’n episode wat sy eintlik verdring het. Die roman se titel is weer eens meerduidig. In die eerste plek slaan dit op Theo, wie se siekte letterlik terug te voer is na sy ervarings tydens die Grensoorlog. Maar ’n grensgeval is ook iets wat nie duidelik klassifiseerbaar is nie en by die een of die ander rubriek kan hoort. In hierdie roman dien die Grensoorlog as voorbeeld hiervan: Is iemand ’n vryheidsvegter of terroris? Wie is die helde – die dienspligtiges of dienspligontduikers?" [...]

"Die besoek aan Kuba bied ruimskoots geleentheid om die liefdesverhaal en die reisverhaal te meng. Van der Vyver gee ’n interessante blik op ’n land wat steeds nie een van die hoofbestemmings van Suid-Afrikaanse toeriste is nie met veral uitvoerige beskrywings van mense, plekke, kos en kultuur. Oor die gewelddadige revolusie en die nagevolge daarvan (soos onteiening, armoede, sensuur en onderdrukking), asook oor die mislukte inval by Varkebaai en die Kuba-krisis, is daar bykans niks nie. Tog raak nog ’n parallel algaande duideliker. In beide Suid-Afrika en Kuba is die omverwerping van ’n regime begelei deur drome van ’n geluksalige én ’n suksesvolle toekoms. Algaande het ontnugtering ingetree en het misdadigheid, korrupsie, geweld en armoede die realiteit geraak."

"Om die verloop van Theresa se soektog te beskryf, sou leesplesier bederf. Dis genoeg om te sê dat die soektog nie moeiteloos verloop nie en talle afdraaipaadjies op verskeie vlakke het. Boonop is daar weer die onwaarskynlike sprokiesprins en ander redders, asook mense en gebeure wat die soektog dwarsboom. En of daar ’n gelukkige einde aan hierdie sprokie is, sal lesers maar self moet vasstel."

"Grensgeval is ’n onderhoudende boek met genoeg storiekinkels én diepgang om te boei."

Publikasies:

Publikasie

Van jou jas

Publikasiedatum

1982
2de druk 1988

ISBN

062401844X (sb)
062402718X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Tien vir ’n vriend

Publikasiedatum

1987
3de druk 1989
9de druk 1992

ISBN

0624025322 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eenkantkind

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030091 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

  • ATKV-Kinderboekprys 13–15 jaar, 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Griet skryf ’n sprokie

Publikasiedatum

1992 (1ste – 6de druk)
sagtebanduitgawe 1994
2de druk 2004

ISBN

0624031268 (hb)
0624032507 (sb)
0624042421 (2de sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 1993
  • M-Net-prys 1993
  • Eugène Maraisprys 1993

Vertalings

  • Engels, Entertaining Angels, vertaal deur Catherine Knox
  • Nederlands – vertaal deur Riet de Jong-Goossens
  • Duits – vertaal deur Sabine Lohmann
  • Italiaans – vertaal deur Maria Vittoria da Casto
  • Sjinees – vertaal deur Yi-Ru-Pong
  • Spaans – vertaal deur Eugenia Ciocchini
  • Frans
  • Hebreeus
  • Tsjeggies
  • Sweeds – vertaal deur Kerstin Fredholm
  • Portugees (regte verkoop)
  • Yslands (regte verkoop)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dinge van ’n kind

Publikasiedatum

1994
1ste sagtebanduitgawe 2000

ISBN

062403349X
0624139110 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, Childish Things, vertaal deur Madeleine van Biljon (1996)
  • Nederlands – vertaal deur Riet de Jong-Goossens
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Olinosters op die dak

Publikasiedatum

  • 1996 (illustrasies deur Piet Grobler)
  • 2015 (illustrasies deur Dale Blankenaar)

ISBN

  • 0798136490 (sb)
  • 9780624069171 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur 1995–1997
  • Ibby Ererol vir 2015 en 2016 vir Dale Blankenaar vir sy illustrasies

Vertalings

  • Engels gelyktydig saam met die Afrikaans uitgegee onder die titel Rhinocephants on the roof

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wegkomkans

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2de sagtebanduitgawe 2006
  • 2018

ISBN

062403755X (sb)
0624044610 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, Breathing Space, vertaal deur Isobel Dixon (2000)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Griet kom weer

Publikasiedatum

2001
2de uitgawe 2003

ISBN

062404048 (sb)
0624041360 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, Travelling Light, vertaal deur Isobel Dixon (2005)
  • Nederlands – vertaal deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624037145 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

  • Sanlamprys vir Jeuglektuur 2002
  • IBBY Ererol vir Skryfwerk in Afrikaans 2003

Vertalings

  • Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vergenoeg

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624041263 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, There is a season, vertaal deur KL Seegers (2007)
  • Duits
  • Nederlands – vertaal deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boomklim

Publikasiedatum

2004

ISBN

079866584X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kagiso Education

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die simpel dinge wat mens mis

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798666080 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kagiso Education

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die hart van ons huis

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042359 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, Where the heart is, vertaal deur Annelize Visser
  • Nederlands, Het hart van ons huis. Een schrijfster in de Provence, vertaal deur Riet de Jong-Goossen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bestemmings

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624043274 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat

Vertalings

  • Engels, Short Circuits, vertaal deur Laura Seegers
  • Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hy bly my broer

Publikasiedatum

2005

ISBN

0636063445 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Maskew Miller Longman

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Mia se ma

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144955 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • MER-prys vir Kinderliteratuur 2006

Vertalings

  • Engels, Mia’s Mom, vertaal deur Kobus Geldenhuys

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stiltetyd

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044327 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys

Vertalings

  • Engels, Time Out, vertaal deur Mari Weeks

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Franse briewe: pos uit Provence

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046677 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dis koue kos, skat

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048855 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Just dessert, dear 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Somerkos in Provence, in samewerking met Alain Claisse 

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624047223 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kosboek

Pryse toegeken

Internasionale Gourmand-prys vir beste Franse cuisine-boek 2010

Vertalings

Engels Summer food in Provence 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die blou van onthou

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780624055181 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Huisgenoot se Tempo-toekenning as Afrikaanse Boek van die Jaar 2013

Vertalings

Engels Forget-me-not blues

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Fontein voor ons deur

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624064305 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels A fountain in France

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Winterkos in Provence. In samewerking met Alain Claisse

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624057758 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kosboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die coolste ouma op aarde

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799367164 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir beste kinderboek in voorleeskategorie: graad RR-1 2015

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Swemlesse vir ’n meermin

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624071044 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 2016

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Al wat ek weet

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799378856 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

  • Naaswenner LAPA se Jeugromankompetisie 2016
  • Kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse (filmkategorie) 2017

Vertalings

Engels All I know 2019

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Misverstand

Publikasiedatum

2017

ISBN

9781485903505 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels You lost me, 2017

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Een jaar koken in de Provence – Een culinaire memoire met recepten

Publikasiedatum

2018

ISBN

9789492086709 (sb)

Uitgewers

Amsterdam: Uitgeverij Orlando

Literêre vorm

Kosboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

vertaald door Anne Roetman en Natascha van der Stelt

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Retoer: Pretoria – Provence

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799384796 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Rubrieke, sketse, essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Grensgeval

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485903796 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Borderline

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Marita van der Vyver

  • Beake, Lesley: Traff se reis. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 1990
  • Grimm, Jacob: Die volledige sprokies van Grimm. Pretoria: Protea Boekhuis, 2006 (Bespreking)
  • Grimm:

Artikels oor Marita van der Vyver op die internet

Artikels deur Marita van der Vyver op die internet

’n Keur van biografiese artikels oor Marita van der Vyver

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Marita van der Vyver (1958–) appeared first on LitNet.

Loftus Marais (1982–)

$
0
0

Foto: Naomi Bruwer

Sêgoed van Loftus Marais

“Al die pryse en aandag maak mens nogal senuagtig. Jy voel jy moet bewys jou debuut was nie ’n gelukskoot nie.”

“Mens wil net by ’n lessenaar gaan sit en vergeet van dinge soos vergaderings, belastingvorms en mediese fondse, net sit en speel met ’n paar reëls op jou rekenaar totdat dit jou opgewonde maak.”

In Oktober 2005: “Ek meen die tyd vir ’n revolusie van jong digters het aangebreek. Ons moet op die netjies geveede literêre voorstoep broek losmaak!”

“Die vuur in my om te dig, is ’n tipe energie wat jou laat jeuk en krap totdat jy dit moet neerskryf. Ek haat dit om die woord te gebruik, maar dis organies.” (Die Burger, 15 Januarie 2009)

Hoekom juis poësie? “Ek dink dit het dalk te make met die feit dat ek met taal as ’n aparte ding en ook ’n idee of twee wil speel (eerder as om ’n storie te vertel of so), en ek voel ook gemakliker met die kleiner fokus van die gedig: hiér, werk met dié woorde, whittle them down, maak hulle na iets klink, en as dit nie werk nie, fine, frommel die papier op en gooi dit weg. Jy hoef net te worry oor wat op die enkele papier aangaan.” (Sarie, 1 Julie 2009)

“Die sukses van die bundel is iets waaraan ek gewoond moet raak. Ek is baie dankbaar daarvoor. Maar meer as enigiets anders sien ek dit as aanmoediging. Dis asof iets vir my probeer sê ek moet aanhou doen waarmee ek besig is.” (Beeld, 29 Junie 2009)

“I find I’m always inspired by visual things: objects I see rather than things I read or wonder about. I guess most of my poems are a result of visual impetus ... I believe that poetry, mine or anybody else’s, can bring things into sharper focus. I hope it makes things more real for readers ... I don’t have any strong feelings about poetry having to be ‘involved’ or ‘relevant’ or ‘useful’. I’m slightly more interested in it being ‘good’.” Poetry Africa Archive

Melt Myburgh vra op Versindaba of poësie sy enigste minnaar is en of hy al ander genres oorweeg het: “Mens wil nie ’nee nooit!’ sê nie, maar ek dink dis hoogs onwaarskynlik. Die poësie is ’n moeilike, moerige minnaar, maar hy hou my happy.”

“Ek is min gepla dat party mense dink poësie is akademies en onverstaanbaar. Poësie is nie almal se ding nie, maar dis oukei. Mense is gewoond aan taal wat funksioneel moet wees, en ’n gedig werk nie so nie. Dis eintlik presies die teenoorgestelde van ’n SMS. Poësie is eintlik net ’n moerse gekompliseerde manier van op jou eie sit en mompel …” (Rapport, 20 September 2012)

“Ek voel goed oor kontemporêre Afrikaanse poësie. Daar is soveel opwindende goed wat gebeur. Dit voel asof ek deel is van iets groots.” (Rapport, 20 September 2012)

Om poësie te skryf in hierdie brandende eindtye is dalk ’n bietjie soos om ’n skilpad vir ’n wandeling te neem, sê Danie Marais. Loftus se reaksie: “Dis ’n verskriklike idee. En om met die skilpad te gaan loop, het ’n element van afwys en daar is sekerlik iets daarvan in poësie – veral in die Afrikaans digkuns. Maar ek dink ’n mens ontbloot jou eerder in die poësie. In terme van dig as ’n baie irrelevante praktyk is dit egter so, inderdaad.” (Beeld, 18 Augustus 2012)

Oor die probleem om ’n tweede bundel te skryf ná ’n goeie ontvangs van ’n eerste sê Loftus aan Danie Marais: “Noudat die bundel klaar is, voel ek gespanne. Maar dit het my nooit gesteur met die skrywery in die afgelope vier jaar nie. Dit was nooit in my kop nie. Ek is net dankbaar dat ’n gedig iets is wat jou pla. Jy weet, dit jeuk en jy moet gaan krap. Daai kompulsiewe deel van skryf, is dalk in baie mense se geval die redding. Dis ’n ding waarmee jy jouself uitwoed.” (Beeld, 18 Augustus 2012)

 “En my raad vir Afrikaanse skrywers wat bekommerd is oor mense se verwagtings van hulle skryfwerk, is: Kry vir jou ’n boy­friend wat nie Afrikaans verstaan nie. Dan sal hy altyd dink jou gedigte in hierdie romantiese, vreemde taal is beter as wat hulle is.” (Beeld, 18 Augustus 2012)

Marlene van Niekerk moes waarskynlik vir Loftus Marais iets geleer het oor die skep van gedigte, meen AJ Opperman: "Daar is ’n sekere sensitiwiteit wat ’n oopheid vir die wêreld en dinge bring – om soort van jou sintuie net oop te hou. Dit klink soos ’n baie maklike ding, maar dis iets wat ek dink vir my die meeste beteken het." (Beeld, 25 April 2019)

Is sy sintuie ook oop as hy gedigte skep? "Ja ... maar jy moet onthou om poësie te skryf, is not a real time thing. Jy onthou ’n ervaring of daardie soort ding. Ek weet nie, sintuie is dalk ook ’n bietjie te spesifiek. Dis ’n ding van hoe vreemd dinge rondom ons is. Daardie eerlik terugvoering wat jy in ’n klasopset (soos by Van Niekerk) kry, van die ander klasmaats ook. Dit is vreeslik waardevol." (Beeld, 25 April 2019)

"Ek moet regtig in die bui wees om gedigte te skryf. Ek sê altyd jy moet regtig verveeld wees wanneer jy gedigte skryf, want daar is baie dinge daar buite." (Beeld, 25 April 2019)

"Hoe poësie dikwels vir my werk: Jy gaan sit voor daai stukkie taal. En jy vat die tyd om dit te waardeer. Jy raak rustig met daai taal. Ek sal nie daarsonder kan lewe nie." (Beeld, 25 April 2019)

Oor die skryf van gedigte: "’n Handvol van gedigte in my derde bundel was dalk met ’n gelukskoot dadelik reg, maar soos gewoonlik moet ’n mens lank oorskryf en soms skrap. Daar kom so ’n sparkle. Daar is ander verse waaraan jy baie lank werk. Dikwels gaan dit deur verskillende vorms en dit vat lank om reg te kom. Dit verskil ook van gedig tot gedig. Daar is nie ’n volle stel reëls nie. Daarom hou ek nie van ’n voorskriftelike beskrywing van hoe ’n mens ’n gedig moet skryf nie." (Beeld, 25 April 2019)

Gebore en getoë

Loftus Marais is in 1982 in die Paarl gebore. Sy pa, André (Tinkie), was onderwyser by die Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl en dit is waar Loftus grootgeword het. Na sy pa se voortydige dood, met Loftus in graad 5 (standerd 3), het hy en sy ma, Linda, en sy ouer suster, Liné, dorp toe getrek. Sy ma, ook ’n onderwyser, het later skoolhoof van La Rochelle Laerskool geword.

Loftus is na die Laer Seunskool in die Paarl en hy het sy matriek aan die Hoër Jongenskool, ook in die Paarl, gemaak.

In 1992 het die laerskool die operette Rip van Winkel op die planke gebring en Loftus het die rol van ’n lid van die Kaapse Klopse gespeel.

Hy was ’n ywerige toneelspeler op hoërskool en in 1998 was hy lid van die Hoër Jongenskool wat die kabaret Afrikaners is kamasut ’t ja op die Logan Toneelfees aangebied het. Die stuk is aangewys as die beste aanbieding tydens die fees. In 2000 het die skool se toneelgroep Die Van Aardes van Grootoor tydens die Montagu Toneelfees aangebied en by die derde Brackenfell Toneelfees in 2000 het hulle dieselfde stuk opgevoer. Hulle het met die wentrofee weggestap en Loftus is saam met drie ander as die beste akteur aangewys.

Van kleins af het die letterkunde ’n indruk op Loftus gemaak. Hy vertel aan Lise Beyers in die Paarl Post: “’n Boek was nog altyd ’n anderste objek vir my. ’n Ding wat spesiaal is, wat meer is as sy omslag en sy gedrukte papier. My ma het altyd gesê speelgoed moet ons uit ons sakgeld koop, maar boeke sal sy vir ons enige tyd koop.

“So in graad 4, in klein Boishaai, het ek my eerste skrywersobsessie ontwikkel. En dinge het maar net van daar af geloop, tot nou, waar ek myself vang pretensieus sit en Martin Heidegger lees op die stoep.”

“Skryf, dink ek, was nog altyd in my,” vertel hy aan Wayne Muller (Die Burger, 15 Januarie 2009). Sy ma het ’n sub B-skryfboek van hom gevind waarin hy moes skryf wat hy eendag wou wees as hy groot is. “Ek’t geskryf ek gaan Wimbledon wen of ’n skrywer word, want hulle maak baie geld. Vele mistastings daar ... Die skryf is nog daar, maar die tennis het getaan.”

Loftus praat met goeie herinneringe aan sy hoërskooldae by Boishaai (aan LitNet): “Ek onthou veral onderwysers soos André Bester en Samantha Droomer wat baie vir my beteken het. Ek is baie gelukkig om ’n onderwyser-ma te hê, want soms dink ek het hulle ’n ingeboude manier van kinders ontwikkel en ondersteun.”

Hy vertel dat hy op skool altyd sulke wroegende opstelle geskryf het en dat hy eers later fyner begin skryf het, asook meer presies.

Loftus dra sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters aan sy ma op. Sy ma skryf nie en hy vertel aan Marius Crous op LitNet: “My ma was gelukkig nooit ’n sóórt ma nie. Ek het op skool gewoond geraak aan al die moontlike tipiese Boland-ma’s: dié wat in Kombi’s rondgejaag het en die netballemoene gesny het, die obese basaarbaksters, die bourgeois-boheme met hulle deurmekaar hare en pottery-klasse, ensovoorts. My ma was en is net haar doodnormale ingewikkelde self, en sy moedig my aan en ondersteun my heeltyd, soos ’n briljante onderwyser. En sy is baie mooi.”

Loftus droom ook op skool van werk in die filmbedryf, maar weer eens is dit sy ma wat kop gehou het, vertel Loftus aan Jeanne Calitz (Rapport, 20 September 2012): “Toe sê my ma, dis reg, sy sal betaal vir filmskool, maar eers moet ek ’n graad kry.”

Tydens sy hoërskooljare het ’n artikel van hom wat in hulle skoolkoerant verskyn het, daartoe gelei dat die hele oplaag vernietig moes word weens vrees vir ’n lastersaak.

Verdere studie en werk

Loftus is dus ná skool na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom ingeskryf het vir ’n BA-graad in taal en kultuur en daarna ook ’n honneursgraad in Engels. Hy vertel aan Jeanne Calitz (Rapport, 20 September 2012): “Dis waar ek besef het die digkuns is nie net ’n ambag nie, dis ’n soort ingesteldheid, ’n manier van kyk en dink en voel. En dit was vir my wonderlik, die wete dat jy daardie gevoel kan kweek en kan versorg.”

Hy is na die filmskool, “maar twee maande by AFDA in Kaapstad en ek het geweet dis nie vir my nie. Ek het op ’n dag uit die klas in Observatory opgestaan, oor die pad geloop en vir Marlene van Niekerk (van die Departement Afrikaans en Nederlands by die US) gaan bel om te vra kan ek asseblief my meesters in Afrikaans by haar kom doen? Ek moes vir haar ’n voice mail los van ’n treurige tiekieboks af. Is daar enigiets meer tragies as dit?” vertel hy aan Calitz.

Hy is wel gekeur en het sy MA in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Marlene van Niekerk met lof geslaag en kort daarna as reklamebeampte by NB-uitgewers begin werk. Tans is hy ’n vryskut-bemarkingsbeampte.

Oor die kursus in kreatiewe skryfkuns wat Loftus by Marlene van Niekerk gevolg het, sê hy: “Marlene is ’n fenomeen, en ’n konstante bron van inspirasie. ’n Digter kan nie leer dig nie, maar iemand met ’n slim hand kan vir hom wys dat die digkuns ook, en altyd, ’n ambag is, ’n dissipline, ’n alewige selfredigering. Ek voel die kursus was ook op ’n sekere manier ’n time machine – dinge wat ek baie langer sou gevat het om op my eie te besef en te ontwikkel, het binne die verloop van drie jaar in ’n vreeslike growth spurt gebeur. Ek is oneindig dankbaar daarvoor.”

In 2005, terwyl hy met sy MA besig was, het Loftus, in ’n sterk-bewoorde artikel op LitNet, die plagiaatskandaal waarin die bekroonde digter Melanie Grobler haar bevind het, aan die gang gesit. Grobler het die Eugène Marais-prys vir Die waterbreker ontvang. Loftus was direk daarna, afgesien van ’n paar lofgesange, aan die ontvangkant van ’n paar literêre dwarsklappe, veral deur gevestigde digters. In ’n brief aan LitNet het Johann de Lange hom as ’n “halfgebakte studentedigtertjie” uitgekryt en hom van ’n heksejag beskuldig.

Loftus vertel aan Erns Grundling dat die ophef wat gemaak is, hom nie pla nie: “Ek het nie gedink dit sou so ’n drama wees nie, maar ek het gevoel ek moet iets doen. Die ding met Melanie is ’n simptoom van ’n poësiesisteem wat dringend nuwe bloed nodig het. Hierdie dinge gaan aanhou gebeur as ’n mens voortgaan om sulke oorvolwasse stemme, sulke NP Van Wyk Louw-lite en diet-Elisabeth Eybers gediggies te publiseer. Dis nodig dat mense nuwe goeters lees.”

Hy het op die ooreenkomste tussen Grobler en die Kanadese digter Anne Michaels afgekom terwyl hy met sy MA-graad besig was. Hy het baie digbundels in daardie tyd gelees en omdat daar toe baie selde ’n digbundel by die Groot Uitgewers verskyn het, lees jy dit maar. “So het ek Die waterbreker gelees en die gedig (“stad”) herken omdat ek Anne Michaels se bundels besit. My mond het oopgehang,” vertel hy aan Erns Grundling. Hy het net vertrou dat hy as digter nie sou swaar trek aan die reaksie uit die letterkundekringe nie.

“Mens weet nie, dis maar ’n incestuous klomp, hulle kan geniepsig raak. Maar ’n mens moet iets aan die stand van sake doen.” Grobler het later afstand gedoen van die Eugène Marais-prys as gevolg van die storm wat om haar kop gewoed het.

Loftus het in 2005 gedebuteer as digter in Nuwe stemme 3 wat deur Danie Marais en Ronel de Goede saamgestel is.

In 2008 het sy debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, die rakke getref – en al wat literêre prys is, gewen. Loftus lyk steeds effens verbaas oor dié reaksie. “Kyk, die vorige prys wat ek gewen het, was in standerd drie vir die beste vordering in tennis!” 

By die Woordfees van 2008 was dit al duidelik dat hy die Afrikaanse literêre wêreld met ’n slag gaan tref. Hy het van sy gedigte daar voorgelees, en ook later by die Breytenbach-sentrum in Wellington en by Aardklop, en het telkens baie geesdriftige applous uitgelok.

Die uitgewers se inligtingstuk vertel die volgende oor Staan in die algemeen nader aan vensters: “In die bundel word die vier aparte leefruimtes van ’n sprekerstem poëties ontgin. Die studentedorp, die voorstad, die stad en die platteland word op soms speelse, soms intieme wyses ondersoek, en die verweefdheid van ruimte en identiteit word stadig aan die leser uitgelê. In al hierdie ruimtes is die grootste bindende faktor die alomteenwoordigheid van kuns, en dan spesifiek die blik van die digter. Maar dit is nie ’n eenheidsbundel in die tradisionele sin van die woord nie. Hier word juis teen die poëtiese tradisie gerebelleer, terwyl daar tegelykertyd ’n waardering van klassieke invloed is. Dit is ’n bundel vol komplekse energie waarin die digter met stemme speel – by tye liries én wrang, somber én snaaks, nostalgies én hiperkontemporêr: van ’n herbeskrywing van die poëties-geykte Karoo-landskap tot die skyn-tragiese mymeringe van ’n tuindwerg.”

Hy verower in 2009 vier belangrike pryse vir sy bundel: die Eugène Marais-prys vir poësie (wat hy met Ronelda Kamfer gedeel het), die UJ-prys vir die beste skeppende debuutwerk in Afrikaans, die Ingrid Jonker-prys en die Protea-prys vir poësie. Dit maak van hom die eerste digter sedert Sheila Cussons wat vier literêre pryse vir ’n debuutbundel ontvang. En in 2010 is die Suid-Afrikaanse Letterkunde Poësieprys (Sala) aan hom toegeken.

Tydens die oorhandiging van die Eugène Marais-prys in Bloemfontein het Loftus aan Karen Ebersohn (Beeld, 29 Junie 2009) gesê dat dit baie spesiaal is om die prys in Bloemfontein te ontvang. “Dit voel vir my asof my digbundel ’n spesiale band met die stad het. Elke keer as ek hier kom, is dit vir my ’n spesiale ervaring. Ek was verlede jaar (2008) hier vir ’n boekbekendstelling toe die uitgewers bel om te sê die digbundel is klaar gedruk. Die volgende keer toe ek weer hier was, het ek gehoor ek het die Universiteit van Johannesburg-prys vir my digbundel gewen. En nou was ek weer hier om die Eugène Marais-prys te ontvang. Dis wonderlik.” 

“Ek aanvaar die pryse as ’n aanmoediging, as amper ’n belofte oor toekomstige werk wat ander mense namens jou maak,” vertel Loftus aan Willem de Vries (Beeld, 27 Oktober 2009). “En wat jy seker sal moet nakom. Maar die Ingrid Jonker-prys is ook anders as ander pryse – ander digters gee dit vir jou. Dis ook die een waaroor ’n mens van jou eerste jaar in kreatiewe skryfkuns fantaseer. Dis die een met die naam.”

Wat vir die beoordelaars uitgestaan het in Loftus se bundel, was die mate van sofistikasie en vernuf daarin, asook “die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme”. Die bundel spreek ook tot die gewone man op straat en dit blaas ’n vernuwende wind in die Afrikaanse digkuns. Een van die beoordelaars sien die spreker as ’n “geïnspireerde flâneur, ’n wandelaar wat aan sy verbeelde gespreksgenoot die onwaarskynlike en absurde in die alledaagse Afrikaanse bestaan uitwys, en ingestel is op ontluistering. Hulle beskryf hom as ’n stoutmoedige en vernuftige wenner.” (Beeld, 27 Oktober 2009)

Hy vertel aan Wayne Muller in Die Burger van 15 Januarie 2009 dat hy nie veel erg het aan die romantisering van dig nie, want “jy skryf nie vir die dieperes nie; jy skryf eintlik maar vir jouself”. En hy sal ook nie iets diep sê soos: “Ek glo die gedig skryf vir jou” nie. Want dis te veel van ’n romantisering – “met ’n hoofletter R”.

Muller gaan voort: “Sy renons in ’n oordrewe romantisering van die digkuns klink uit die uitdagende houding in die slotreëls van ‘Wederkoms’, wat in sy bundel opgeneem is:

en wanneer ek voor Hom moet staan
sal ek verwyfd curtsy
en Hom netjies verduidelik
dat my catsuit
(opgevou in die groot tas langs die vanity case)
fire-resistant is

“Daarmee saam skemer ’n tikkie rebelsheid deur wat meen poësie is kuns vir die onopgesmukte massas, iets soos in ‘Die digter as rockstar’:

ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars

en:

ék het nie ’n beiteltjie nie
ek het ’n fokken lugdrukboor

Muller skryf dat die woord en frases in Loftus se gedigte baie vernuftig is, met die gevolg dat die daaglikse dinge briljant uitgebeeld word in “blink catsuits en leerbroeke”. “Gedigte is vir Loftus ’n stuk gekondenseerde taal wat hom ook toelaat om ander gedaantes aan te neem (’n tuindwerg of tuinier) en hom in staat stel om ventriloquist te speel, maar dis iets waarmee hy stoei totdat dit reg voel.”

Vir Loftus suggereer die bundeltitel iets verder as net kyk, want agter die venster is daar ook ’n kamer waarvandaan gekyk word: “Dit gaan ook oor hoe jy die venster op-dress, met hortjies of gordyne. Skryf gaan oor kyk, ook na die skrywer self; daar’s net ’n graadverskil tussen kyk en skryf”, sê hy aan Muller.

Loftus se verse toon heelwat vryheid, maar die teorie is ook vir hom belangrik. Dit is by hom ingeprent terwyl hy onder Marlene van Niekerk studeer het. Daar moet vorm en struktuur wees, maar dan moet daar ’n rede voor wees. “En soms is die vorm iets wat sê ‘fok jou’ vir die sonnet.” Aan die vier dele (ruimtes) van die digbundel is ook fyn gedink: studentedorp, voorstad, stad en plaas. En om die volgorde te laat vloei “was soos om ’n Winamp-playlist op te stel: dit vat tyd.”

Lucas Malan skryf 9 Desember 2008 in Beeld: “Die strak, on-sierlike voorkoms sowel as die saaklike onpoëtiese titel van die digdebuut dui dadelik op ’n onkonvensionele publikasie. Die motto vooraf is drie reëls van Billy Collins: ‘The birds are in their trees,/ the toast is in the toaster,/ and the poets are at their windows.’ Met hierdie aanwysing kan die leser vermoed wat die digter se voorkeur vir die digterlike optiek en werkwyse is: Vermy die vanselfsprekende. ‘En moenie huiwer om die buitewêreld vanuit jou veilige raam te bekyk nie, al sien almal daar buite ook hoe jý deur jou venster as “portret” geraam word. [...]’

“In Marais se debuut is daar ook so (soos by Emily Dickinson) ’n ruim oopstelling vir die ruie, komplekse wêreld, maar hier word dit met aktiewe deelname daaraan, met diverse onderwerpe in ’n eietydse idioom en in verskeie digvorme verwoord. Die wisselende blikhoeke op die daaglikse ervaring en leefruimte van die spreke word ook subtiel gesuggereer in die grafiese beeld van ’n vensterraam wat telkens in die tipografiese aanbod op die blaaie verskuif. [...] Daar is nog talle verrassings in hierdie soliede bundel [...] Loftus Marais lewer ’n sterk debuut wat eietyds, kompleks en beeldryk is.”

Loftus se bundel het Zandra Bezuidenhout (Die Burger, 29 Desember 2008) soos ’n “briefbom” getref; soos “krake in die werklikheid” of “dringend ... soos diarree”, om sy digterstem se persoonlike verwagtinge van die poësie te eggo. “Met die fieterjasielose voorkoms van ’n vakjoernaal, kompleet met inhoud op die voorplat, word die aandag reeds gevestig op die kwessie van verpakking of aanbod. [...]

“Die bundeltitel kan vertolk word as ’n uitnodiging tot ’n skerper kyk (na binne of buite) deur digter en leser. Vandaar die noodsaak van nader staan in die algemeen. Met die digterlike ‘polaroid close-ups’ word die omraming selektiewer, die fokus helderder en die invalshoek intiemer – en genadeloser. Uiteenlopende situasies word betrag en bedink, en met ’n knipoog verbeeld. Die digter bewerk selfportrette op deurknoppe en skuifdeure, speel voyeur by sosiale geleenthede, soek die brandpunt van die liefde en die lyflike, en gee ’n alternatiewe flits op die sondeskuld. Soms word die nabyskote doelbewus naïef en kinderlik aangebied (‘Vuil hande’), elders weer gesofistikeerd en uitdagend (‘Siel’, ‘Wederkoms’). Daarby wissel die digterspersonas van boerseun, tuindwerg en mol, tot rockster wat flankeer en ontmasker. [...]

“Danksy Marais se goed ontwikkelde oor vir frasering en klankbindinge, kry elke vers sy eie hartklop; ’n gebalde energie wat die vers voortstu en die leser meevoer. Tog is dit nie die manipulering van taal wat in hierdie bundel vooropgestel word nie. Dit is die vars en bedrieglik naïewe kyk en die verbeeldingryke visie-met-ironiese afstand wat jou bybly. [...]

“Marais het binne ’n ommesientjie uit kleiner versamelbundels tot in die pasverskene Groot Verseboek gewip. Maar met hierdie debuutbundel word meer van sy vormbeheer sigbaar, veral van die vrye vers, en van sy gevarieerde werkwyse. Hy vind reeds ’n eie, sterk stem, soos hy as spreker self te kenne gee: ‘ék het nie ’n beiteltjie nie/ ek het ’n fokken lugdrukboor’.

“Dit is inderdaad ’n jonger generasie van ‘marais wat praat’; die boerseun wat nader staan om die ‘sterre (te lees) soos braille’, of ’n lyf soos ’n winkelpop te probeer herbou. Intussen hang hy ’n uitgebreide landskapsportret uit: ‘realisties, en skeef’, en altyd oorspronklik geraam, want:

ek is die digter in ’n studded leather broek
ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars.

Loftus vertel aan Marius Crous in ’n onderhoud op LitNet dat die bundel op ’n manier oor kyk gaan. “Dalk is daar net ’n graadverskil tussen kyk en poësie. Maar mens kyk nie net nie, mens raam, mens dress dinge op met gordyne en hortjies – daaroor is daar ook iets te sê. En ruimte is belangrik in die bundel, en dis ook ’n ander ding van vensters: hulle veronderstel ’n sekere kamer. So, daar word met die sien en plekke gespeel, en die titel, ’n reël uit een van die gedigte, aktiveer dié spel op interessante maniere.”

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 13 Januarie 2009) is Loftus Marais se stem werklik nuut en is hy “iemand wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk. Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke verse nie, is dit verse met ’n ‘edge’. Hy het met hierdie bundel die kanon weggeklap én bestendig gemaak.”

Staan in die algemeen nader aan vensters oorrompel vir Louise Viljoen met sy verskeidenheid en beweeglikheid. Op LitNet skryf sy: “Daar is vir die leser dus verskillende ingange tot die bundel moontlik. ’n Mens sou kon wys op die beweging tussen die ruimtes van die stad, die universiteit, die suburbs en die platteland in hierdie gedigte. Daar sou ook gedemonstreer kon word hoedat daar van die een stemtoon na die ander gemoduleer word, vanaf die besinnende na die deernisvolle en die wrang humoristiese. Daar sou ook getoon kon word dat hy met vaardigheid ’n verskeidenheid digvorme gebruik waarvan die hegte vrye vers, die villanelle en aubade (oggendgedig) voorbeelde is. By hierde lesing van die bundel wil ek egter ’n paar ander spore deur die bundel volg: die belangrikheid van die bundeltitel, die interaksie met ander digters, die skalkse anargisme van sommige gedigte en die aansluiting by die werk van gay skrywers in Afrikaans.”

Vir Louise Viljoen is die titel belangrik “omdat vensters, rame en selfs ’n ramer in hierdie gedigte ter sprake kom, omdat dit verband hou met dit wat binne die digter se visie geraam word en dit waarop hy verkies om te fokus. Marais se interaksie met ander digters is een van die hoogtepunte van die bundel – nie net sy interaksie met digters wat buite Afrikaans lê nie, maar veral sy reaksie op die reuse van die Afrikaanse poësie, soos Van Wyk Louw, DJ Opperman, Wilma Stockenström en Antjie Krog.

“In sommige gedigte spreek hy op ’n skalkse wyse gewigtige filosofiese vraagstukke en gevestigde opvattings aan en as gay digter kan sy werk gelees word naas dié van skrywers soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Koos Prinsloo. Sy werk herinner tematies gesproke ook aan dié van Aucamp en Prinsloo wat ook die gay stedeling met die plaasagtergrond aan die orde stel.

“Die slotafdeling bevat ’n hele aantal gedigte waarin herinneringe aan die plaas, die pa, die ooms en die familie verwerk word, maar dan met minder argwaan as in die geval van Prinsloo. Ook hierdie gegewe word in verband gebring met die maak van poësie wanneer die digter hom in ‘Soos ’n inval’ afvra hoe ’n mens die plaas met sy ‘stof, dom skape en ganskak’ moet besing. Sy slotsom is dat dit eintlik net gedoen kan word met die klanke eie aan die plaaswêreld, soos vals kerkkore, bakkietoeters en die lui van die plaastelefoon.”

Viljoen meen die bundel is vir seker ’n aanwins vir Afrikaans. “Hier vind ’n mens die soort substansie, oorspronklikheid, afronding en sprankel wat jy min in ’n debuutbundel kry. Lees en geniet die verskyning van die Afrikaanse poësie se nuutste rockster met sy lugdrukboor, petrolbom, vuurvaste catsuit, plaastelefoon en al.”

In Mei 2009 het digters van Suid-Afrika en elders aan die Badilisha Poetry X-Change 2009 in Kaapstad deelgeneem. Dit het gespruit uit die poësieprogram op die Spier-landgoed en het na die stad verhuis sodat dit vir ’n groter gehoor toeganklik kon wees. Loftus was saam met Emile Jansen van Black Noise-faam een van die Afrikaanse digters wat deelgeneem het.

Loftus het in Oktober 2009 by Poetry Africa in Durban opgetree. Hy was een van baie talentvolle digters wat elke aand voorlesings uit hulle werk gedoen het. Omdat sy gedigte in Afrikaans is, het hy self van sy gedigte in Engels vertaal.

Loftus vertel aan Jeanne Calitz (Rapport, 20 September 2012): “Ek het nie vreeslik planne gehad vir die geld nie. Maar ná ’n ruk het ek besluit ek wil ’n blaaskans neem om te skryf, en ook om soveel te reis en te lees as wat ek wil.”

Hy het dus sy werk bedank en vir twee jaar gereis. Hy het Londen, Amsterdam en New York besoek, maar gelukkig vir Afrikaans het hy nie opgehou skryf nie. In 2012 verskyn sy nuwe bundel, Kry my by die gewone plek aguur, en dit kan as “stedelike verse” gesien word. Die brandpunt is Kaapstad met sy mense, sy plekke en sy nukke en grille.

In 2012 verhuis Loftus na Johannesburg om op die kykNET- ontbytprogram van destyds, Dagbreek, te gaan werk.

Oor stede, en nie net Kaapstad nie, vertel Loftus aan Danie Marais (Beeld, 18 Augustus 2012): “Wanneer jy ’n vreemde stad leer ken, ontdek jy eintlik die vreemdheid van jou eie plek – dit wat dit anders maak. So, New York was hierdie soort skokbesef van wat Kaapstad eintlik is. Dis soos ’n verhouding. Jy skryf beter oor die verhouding as dit verby is en jy weet wat daar aangegaan het.

“Wat egter presies in Kaapstad aangaan, weet nugter en beslis ook nie die Amerikaners nie. Vandaar ook die oneindigheidsteken op die bundel se omslag. Ek het in ’n Starbucks op 8th Avenue die New York Times oopgeslaan en een van die hoofberigte was: ‘The Last Racist City in South Africa’ en dan lees jy oor Kaapstad en die car guards. Ek het nie heeltemal met die artikel saamgestem nie, maar die Kaap ís ’n vreemde stad.

“’n Paar jaar gelede was daar ’n wonderlike gedig van Eckhard Cloete op LitNet oor Kaapstad. Dit eindig met: ‘Venesië glip grasieus die see in/ Kaapstad trek stadig maar seker/ in sy eie poephol op.’ En ja, dit is ’n stad wat werklik bewus is van sy eie skoonheid en sy eie geskiedenis.

“Al die algemeen aanvaarde aannames oor die laid-backness van Kapenaars en die plek se skoonheid verklap iets oor die verromantisering van dié stad. En ja, dis ’n mooi plek, maar kyk ook na die berg: Dis ’n gebarste, skurwe, growwe ding, en ons baai bevat niks anders nie as ’n gruwelike tronk reg in die middel, en dis ’n stad, wat soos enige ander stad, tyd aanbid. Ons hou steeds op ’n amper groteske wyse aan om daai kanon twaalfuur te skiet.”

Reeds gedurende sy werk as reklamebeampte by NB-uitgewers (2008 tot 2010) het hy daaraan begin dink om ’n bundel oor die stad te skryf en hoewel die tyd nie eintlik daar was om ernstig aan só ’n bundel te begin skryf nie, het hy notas gemaak en werke van ander digters en skrywers wat oor stede handel, gelees, vertel hy aan Danie Marais.

“In Londen, Amsterdam en New York het ek spesifiek in daai heerlike groot boekwinkels gaan soek na stadsbundels. ’n Mens lees wonderlike goed só raak. Tom Lanoye se stadsgedigte is, byvoorbeeld, fantasties. Utrecht voor beginners van Ingmar Heytze is ook merkwaardig. En Joke van Leeuwen, wat die stadsdigter van Antwerpen was, het ’n stadsbundel vir kinders geskryf – dis die cute-ste ding.

“Maar wat my opgeval het, is dat nie een van hierdie bundels die stad soos ’n groot horlosie hanteer nie. Dit wys nie hoe jy binne hierdie uurwerk leef nie. Alles in die stad word volgens ’n absoluut konkrete, kapitalistiese tydsverloop ingedeel, jy weet, die werksdag en al daai dinge. En in Kaapstad gaan daai kanon ook nog twaalfuur af.”

Vir Danie Marais is Loftus se beskrywing van ’n wolkekrabber in “Ter verdediging van ’n hoë kantoorgebou” as “’n stadige metronoom van lig”, tipies van die anderster allure waarmee hy Kaapstad se besonderhede uitbeeld. Loftus was egter redelik versigtig vir die tradisionele sienings van “mooi” soos wat Kaapstad gewoonlik beskryf word.

“In Suid-Afrika het ons ’n totaal ander verhouding met ons ruimte as in Nederland of Amerika. Dis soos daai New York ­Times-artikel gesê het: Dis ’n spanningsvolle ruimte – die politiek is altyd daar.”

Loftus skep toe die karakter van Fabulisha de la Queillerie, ’n fopdosser of drag queen, waarmee hy die gaping tussen die werklike Kaapstad en die meer bekende lofliedere daaroor wou verken. Fabulisha figureer in enkele verse in ’n ondermynende hoedanigheid.

“Daar was tye wat woorde soos ‘soet water’ of ‘Adamastor’ in ’n gedig wou glip en dan het ek gedink wag, eh-eh. Dis tyd om weer ’n stukkie Fabulisha te skryf. Fabulisha het mettertyd ’n soort teenargument teen die tradisionele beskouing van die stad as ’n houer van ’n baie spesifieke identiteit en geskiedenis geword. En, I mean, let’s face it – De la Queillerie is so ’n drag surname, hallo! Dit was lekker om daai soort koeklike geskiedenis met ’n Kaapse drag queen te assosieer. En Kaapstad is vir homself tog so ’n verskriklik opgeterte stad. So ja, ek het bewus weggehol sodra ek begin oorgaan in daai ding van o berg, o gewel, o baai!”

Marlies Taljard resenseer die bundel op Versindaba en vir haar bied die titel, wat nie tipies dié van ’n digbundel is nie, ’n leidraad tot die pretensielose verse wat Loftus Marais skryf. “Waarskynlik daarom ook die eenvoudige voorblad en die feit dat die bundel op baie goedkoop papier gedruk is. Die titel Kry my by die gewone plek aguur bevat drie woorde wat die aard van die nuwe bundel tipeer. Eerstens handel die gedigte in dié bundel oor gewone, alledaagse temas. Tweedens is plek en ruimte – spesifiek Kaapstad – belangrik in terme van verwysings én konseptualisering, en derdens speel tyd ’n belangrike rol in die ordening van die bundel.

“Uit gedigtitels wat verwysings bevat na spesifieke tye, lyk dit asof die bundel op ’n eerste vlak van betekenis die relaas is van ’n tipiese dag in Kaapstad, beginnend met die gedig ‘’n Begin’, dan volg ‘Oggend en jou lyf (twee oomblikke)’, ‘Dit is 6:00 en ek probeer dink’ en ‘Oggendhoorder’; op p 46 van die bundel vind ons ‘Twaalfuurkanon’, nog later ‘17:15’ en ‘Halflig’, dan ’nagvatter’, ‘1:58’, ‘Stadsnag’ en ten slotte ‘Bronx en vroegoggend’.

“Soos die gedigtitels ’n reis deur ’n tipiese dag in Kaapstad suggereer, blyk dit ook algaande dat die reismotief een van die belangrikste temas in die bundel vorm. Oorgange en grense is belangrike merkers.”

Taljard het voorbehoude oor Kry my die gewone plek aguur. Van die metafore kon dalk meer deurdink gewees het en ook ten opsigte van die “poëtiese vormgewing” is daar dinge wat haar gepla het. “Hoewel daar baie gedigte is wat getuig van sinvolle en poëties-verantwoorde vormgewing, lei die digter se verbete poging om poëtiese stylmiddele, taal en metaforiek te ondermyn soms tot ’n baie onpoëtiese tipe vers. Die laagtepunt is “Die trekklavier”, wat inderdaad ’n stuk prosa is wat deur verdeeltekens (/’e) in verse verdeel word. En hoewel ek begrip het vir die stelling wat die digter deur middel van sulke marginale poëtiese vorme wil maak, verloor die teks tog plek-plek sy inherent poëtiese aard. [...] Hiermee bepleit ek geensins die terugkeer na Middeleeuse poëtiese vorme nie, maar probeer ek eenvoudig sê dat die grense van ’n genre net só ver verskuif kan word alvorens dit nie meer as, byvoorbeeld, poësie herken sal word en singewing nie meer kan geskied volgens die konvensies van die (poëtiese) genre waarbinne die kunstenaar dit aanbied nie.”

Ten spyte van bogenoemde voorbehoude beskou Taljard Marais as ’n digter wat sy vakgebied en sy werk ken en wat ’n goeie toekoms as digter voor hom behoort te hê. Sy beskou die gedig “’n Liefdesvers” as een van die beste gedigte in die bundel en die een waarvan sy die meeste hou. “Die gedig getuig van die digter se vaardigheid om verskillende balle gelyktydig in die lug te hou en ’n afgeronde, bevredigende vers te skryf.”

’n Liefdesvers

vergeet die dagboeke, briewe, notas (oor pruime
al dan nie). vergeet die handskrifte uitvoerig
soos frillerige ondergoed, outoritêre partiture

want liefde kom ook in sans serif
op vousels en strokies uit jou sakke.
’n duideliker danigheid dié.

om te weet jy was op 06/05/2011 16:08
lus vir ’n fanta. jou banksaldo is min of meer
wat ek verwag het. om te lees “your waiter on duty:

jo-anne” o, jo-anne! het jy ook gevrek
oor die grys kolle in sy kenstoppels?
hartstog in die detail: vat # 4820853876

jy vuis sommer munte so toe in kwitansies
en a, ek vou dit oop, blomknoppe!
beminde, ek sal duisende origami-duiwe

stryk uit gekreukelde papier, hulle loslaat
à la groot en kitsch troues, jirre, ek gaan tekere asof ek
die dooie see se rolle ontdek.

afsendings en bewyse van jou
in ’n wêreld waar ek nie by jou is nie. jý maak selfs
“credit authorised” betekenisvol.

liefde op dun papier, selfs hier
by die wankelrige ritme van ’n wasmasjien

Vir Louise Viljoen is hierdie tweede bundel van Loftus net so goed, indien nie beter nie, as sy eerste een nie. Sy skryf op SLiPnet: “Hier is dieselfde vormbeheersing sonder om spontaneïteit te verloor, ’n hegter eenheid sonder om verskeidenheid prys te gee en ’n selfs groter waardering vir die speelse en artifisiële naas ’n gevoeligheid vir die tekstuur van sosiale onreg en ongelykheid. Met Kry my by die gewone plek aguur ­bewys Loftus Marais in alle opsigte dat sy eerste bundel nie ’n eendagsvlieg was nie.”

In Beeld van 27 Augustus 2012 skryf Bibi Slippers dat Loftus Marais onteenseglik bewys het dat hy nie ’n “one-hit wonder” was nie. “Hierdie bundel ‘Kaapstadse gedigte’ bou voort op temas wat reeds in Staan in die algemeen nader aan vensters gevestig is, maar nou word die luike wyd oopgegooi en die perke van die vensterraam verruil vir die vistas van die stad. Die bundel bied ’n begeleide toer deur Kaapstad en die toerleier is deeglik, ingelig, intelligent, spitsvondig en heerlik onkonvensioneel. [...]

“Marais toor met een van daai rooi toerbusse waarop gewone toeriste deur Kaapstad ry. Sý bus is wit met pienk polka-kolle, en soms so groot soos die berg: In party gedigte kry jy ’n groter-prentjie-indruk van die stad wat jou laat voel of jy presies weet hoe die hele wêreld werk. In ander is die voertuig klein genoeg om in ’n slaapkamer of broeksak te pas en kry jy ’n intieme kyk na die grootsheid van gewone dinge. 

“Hy bestuur die toerbus vernuftig op ’n stywe draad wat gespan is tussen die spesifieke en die universele: ’n Spesifieke silweroorbel word ’n universele simbool van oneindigheid, ’n spesifieke meubelwinkel (Lewis) se stukkende naambord wat “...IS” “...IS” “...IS” flits, word ’n advertensie vir die ganse werklikheid. Kaapstad is ’n kaart waarmee menslikheid in al sy fasette verken word. Baie van die ekskursies word gekenmerk deur ’n politieke betrokkenheid waarmee hy nuwe grond verken in sy skryfwerk.”

Slippers sluit haar bespreking af met: “Vergeet alles wat jy dink jy van politiek en poësie weet en gaan koop hierdie boek. En wanneer jy klaar gelees het, kry my by die fanwalk, aguur!”

Loftus Marais se derde digbundel, Jan, Piet, Koos en Jakob (2019), se titel verras weer eens – soos lesers van sy gedigte al aan gewoond geraak het, skryf Louise Viljoen in Die Burger (15 April 2019). Hierdie bundel is in 2020 die ontvanger van die Elisabeth Eybersprys vir Afrikaanse en Engelse poësie.

Die beoordelaars was baie beïndruk deur die bundel: "Die resepsie wat Loftus Marais se derde bundel te beurt geval het, is feitlik deurgaans uiters positief en ’n mens kan nie ontken dat sy digterlike vakmanskap verstommend is nie. Dit sit nie in elke digter se klere om ’n sukses van ’n eenheidsbundel te maak nie. Soos in Kry my by die gewone plek aguur streef Marais na ’n ordeningsbeginsel in sy bundel om ’n mate van samehang te bewerkstellig. Tyd en ruimte (die stad Kaapstad) het in sy vorige bundel gesorg vir ’n besonder hegte eenheid tussen die onderskeie gedigte: in Jan, Piet, Koos en Jakob word ’n meer speelse ordeningsbeginsel gebruik, naamlik vier algemene Afrikaanse mansname waarmee onder meer die homoërotiese inhoud van die bundel aangedui word. Gedigtitels soos 'Piet Langpoot' en 'Janolus capensis' dui egter aan dat die name ook op verbeeldingryke maniere op diere en dinge van toepassing gemaak word. Op ’n vermaaklike wyse slaag Marais sodoende daarin om verbande tussen uiteenlopende dinge, diere en mense te lê.

"Van die mees geslaagde gedigte in die bundel is die homoërotiese gedigte wat in die tweede helfte van die bundel geplaas is. Marais verken die eietydse queer toneel in sy verse en besin onder meer oor nuwerwetse maniere vir gay mans om maats te ontmoet, byvoorbeeld met gebruik van die selfoontoepassing genaamd Grindr. Deurlopend gaan die verse oor die alledaagse en spesifiek oor die dikwels navrante aard van kleiner alledaagse ervarings. In onderhoude het Marais vantevore aangedui dat hy ’n broertjie dood het aan hoogdrawende poësie en in Jan, Piet, Koos en Jakob wys hy die groot gebaar af ten einde die kollig op die kleiner waarneming en die meer geringe belewenis te plaas. As ’n verbluffende voorbeeld van fyn digterlike ambagtelikheid is Jan, Piet, Koos en Jakob ’n waardige wenner van die Elisabeth Eybersprys vir poësie."

Die uitgewers, Human & Rousseau, skryf as volg oor Jan, Piet, Koos en Jakob: "Die derde bundel van Marais ontgin opnuut bekende temas uit die digter se oeuvre: verbruikerskultuur; manlike identiteit; tuis/ontuis wees in SA; dikwels met ’n vlymskerp humorsin en ’n nog skerper visuele ingesteldheid. Die verse word saamgeryg in ’n eenheid wat neig na ’n naamlys; of selfs na ’n portretuitstalling. Met die verse vestig Marais hom as een van die mees behendige beoefenaars van die hedendaagse digkuns."

Oor hierdie nuwe digbundel vertel Loftus aan AJ Opperman (Beeld, 25 April 2019) dat poësie dalk die mees promisku van al die literêre genres is: "Let's get it over and done with, next one. Nuwe ervaring, nuwe opwinding. Dis nie soos ’n roman of ’n lang huwelik of verhouding nie. Daar moet ’n bietjie van daai black bookness wees. Daar is vir my iets aan ’n naamlys wat by poësie pas."

 In Jan, Piet, Koos en Jakob gebruik Loftus hierdie name (dink aan Koos van der Merwe of Vader Jakob of Jacob Zuma), maar dit is nie al wat die leser in hierdie bundel sal vind nie.

Loftus vertel verder: "Dit het deur so drie fases gegaan. Ek het ’n paar jaar gelede baie in portrette begin belangstel. Dit was vir my baie interessant om daaroor op te lees, ook die teoretiese goed oor hoekom daar iets soos portrette bestaan. Dit het iets in my wakker gemaak. Ek het ’n hele paar verse in daardie tyd geskryf wat ’n mens as portrette kan beskou.

"Later het ek in name begin belangstel; om met name te speel. Daar het toe nogal ’n klomp gedigte bygekom. Ek het toe teruggegaan na die gedigte wat ek oor portrette geskryf het en toe dink ek, maar wat anders is ’n naam as ’n soort portret?”

"Dit het ook te doen met verliese en teleurstellings. Nou kom ons by die vreeslike clichématige gedeelte van die proses. Daar word my hart gebreek. Is jy nie besig met ’n lys van verliese of ’n little black book, of verhoudings, of teleurstellings nie? Notches on your bedpost, daardie soort ding. Dit het ook terugskouend die ander gedigte effens begin verander.

"Dit het al drie daardie skryffases gevorm, en dan kom jy op goedjies af wat jou tickle. Jy dink jy kan skryf daaroor, en jy besef dit kan so aansluit by hierdie gedagte van ’n karakterlys of ’n naamlys. Die plan vir ’n string gedigte was altyd daar."

In Die Burger (15 April 2019) skryf Louise Viljoen dat die Jan, Piet, Koos en Jakob aansluit by Loftus Marais se gebruik om ’n frase uit gewone praat-Afrikaans te gebruik as die bundeltitel: "By die eerste oogopslag vermoed ’n mens dat jy hier te doen gaan hê met ’n soort naamlys wat gedigte oor manlike persoonlikhede en manlike identiteite sal insluit, met as toegif daarby ’n speelse verwysing na die manlike orgaan wat soms Jakob genoem word. Uit die verwagte naamlys ontvou daar egter iets veel ryker en veelseggender as wat ’n mens verwag.” [...]

"Marais pak Afrikaans by wyse van spreke aan die skouers beet, skud ’n klomp vergete woorde in die taal wakker en laat hulle in hedendaagse konteks werk. Naamgee en gedigmaak is pasmaats in hierdie bundel.” [...]

"Die digter-spreker in die bundel is deurgaans bewus van sy eie beperkinge en die relatiewe waarde van iets soos die digkuns in die groter wêreld. Hy besef dat die digterlike ambag ’n luukse ver verwyderd van die harde realiteit van oorlewing is wanneer hy sien hoe werklose mense hulle ambagte op stukke karton adverteer om ’n werk te kry in 'Alleman'.”

"Hy is ook volledig bewus daarvan dat hy miskien besig is om op kunsmatige wyse betekenis te projekteer op bepaalde verskynsels eerder as om hulle in eie reg te beskryf."

Viljoen sluit af: "Soos in sy vorige bundels imponeer Loftus Marais met die manier waarop hy poësie haal uit die alledaagse. Hy skep die struktuur in sy bundel met die aanlê van die naamgee-patroon, maar hanteer dit met ’n ligte hand sodat dit nie ’n beklemmende borstrok word nie. Daar is verskeidenheid, verbeelding, vormvernuf, diepgang en ook humor. Vir meer kan ’n poësieleser nie vra nie."

Ook Charl-Pierre Naudé was baie vleiend oor Jan, Piet, Koos en Jakob. In Rapport (26 Mei 2019) skryf hy dat hierdie derde bundel van Marais ’n mengsel bevat van "vertellende verse en verse wat fokus op die meer stilstaande, maar uitgesponne liriese moment. Dit bestryk die intense, maar afstandelike gewaarwordinge van ’n gay man in sy lewensfleur wat om die beurt in twee stede, Johannesburg en Kaapstad, woon."

Naudé sluit sy bespreking af: "Hoewel die toeganklikheid van Marais se tweede bundel en die onoortroffe verrassingselement van sy eerste ontbreek, is dié derde bundel, oorkoepelend gesien, Marais se beste werk tot dusver. Die segging is meer kompleks en genuanseerd. Die vervlegting van registers skep groter veelduidigheid. Maar baie van die gedigte moet ’n hele paar maal gelees word voordat jy hulle volheid snap. [...] Jan, Piet, Koos en Jakob is ’n digterlike tydsdokument waarvoor leesgieriges baie lank gewag het – en dis boonop baie aanskoulik uitgegee."

Op LitNet is Karen de Wet se konklusie oor Jan, Piet, Koos en Jakob dat dit gedigte bied oor "mense, skilderye, herinneringe, plante, diere, en fenomene. Dit stereotipeer, ontmasker en parodieer. Marais se skerp waarnemings word met vernuf verwoord. Die spel met die idiomatiese en die kollokwiale, die spieël vir die samelewing, die liefdesgedigte, en hoe ons dinge benoem, bied vir die leser ’n padkaart deur die gedigte. Lees gerus hierdie bundel. Jy sal dit weer wil lees."

Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge onder andere oor Jan, Piet, Koos en Jakob: "Marais debuteer in 2008 met Staan in die algemeen nader aan vensters en in 2012 volg Kry my by die gewone plek aguur (2012). Die derde bundel het dieselfde hou-in-die-maag-effek as die debuut. Onder die verse lê daar woede wat broei ... Hierdie digter skroom nie om gevaarlike ruimtes te betree nie. Goeie gedigte is immers altyd gevaarlik; op alle vlakke omdat dit die leser moet uitdaag en ontstig.”

"Daar is ’n fyn balans tussen die konkrete en die abstrakte, ook tussen die konvensionele verlede en die grensoorskrydende ervarings van die digter."

As’n mens Jan, Piet, Koos en Jakob lees, kry die leser die indruk dat die bundel oor Johannesburg gaan terwyl sy tweede bundel Kry my die gewone plek aguur rondom Kaapstad gesentreer was.

Hieroor gesels Loftus met AJ Opperman (Beeld, 25 April 2019): "Dit is seker maar ’n ding. Dit sal altyd deel van jou skryfwerk wees. En Johannesburg ...

"Ek sou sê Johannesburg is moeiliker om oor te skryf as Kaapstad. Ek weet nie presies hoekom nie, maar dit het daarmee te make dat jy in Johannesburg ’n bietjie meer moeite moet doen om dinge te geniet. En the effort gets rewarded."

Loftus erken teenoor Opperman dat baie van die gedigte in Jan, Piet, Koos en Jakob waar is, maar dan onthou hy dat Marlene van Niekerk vir hulle gesê het: "Jy kan lieg, maar nie bedrieg nie."

Hy gaan voort: "Soms skryf jy ’n ding en dan besef jy dit kort iets. En dan moet jy maar ’n bietjie bylieg. In baie van die gedigte skryf ek as een van die name, as iemand anders. Tog wou ek nie gehad het dat dit soos ’n totaal ander stem moet klink nie. Dit moet steeds ’n groot element van my eie stem hê."

Ook het hy hierdie derde bundel meer vir homself geskryf: "Daar is vreeslik baie biegerige gedigte. ’n Gedig is nie ’n rubriek of debat, traktaat of argument nie. Jy moet ’n balans handhaaf."

In 2019 was Loftus die inhoudsregisseur van kykNET Verslag in gesprek met Waldimar Pelser, die aanbieder.

Oor hierdie loopbaanverandering vertel Loftus aan AJ Opperman: "Die afgelope vyf jaar is ek al met politieke nuus besig wat vir my ’n hengse gear change was. Daar is ’n lekker deel daaraan. Dis daardie aangename soort senuwees van jy gaan skoolkonsert opsit. Maar dis baie ernstige goeters waarmee jy werk."

 

Publikasies:

Publikasie

Staan in die algemeen nader aan vensters

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624047254 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys vir poësie 2009
  • UJ-prys vir die beste skeppende debuutwerk in Afrikaans 2009
  • Ingrid Jonker-prys 2009
  • Protea-prys vir Poësie 2009
  • Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kry my by die gewone plek aguur: Kaapstadse gedigte

Publikasiedatum

2012

ISBN

 9780624056461 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Finalis ATKV-Woordveertjie vir Poësie 2013

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jan, Piet, Koos en Jakob

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798177177 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Elisabeth Eybersprys vir Afrikaanse en Engelse poësie 2020

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Loftus Marais as samesteller

Artikels oor Loftus Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Loftus Marais beskikbaar op die internet

Loftus Marais se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2014-08-07 gepubliseer en nou volledig bygewerk.

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Loftus Marais (1982–) appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2020: Finaliste bekend

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord. Wenners sal vanaf 19–23 Oktober op die ATKV se Facebookblad bekend gemaak word.   

Finaliste (alfabeties gelys volgens van) in die volgende kategorieë, sluit in:  

ATKV-Prosaprys

  • Die kinders van Spookwerwe – Lize Albertyn-du Toit (Human & Rousseau)
  • In ’n land sonder voëls – Harry Kalmer (Penguin Random House)
  • Die verevrou – Jan van Tonder (Human & Rousseau)

Prys vir Liefdesroman

  • Die kind uit die wingerd – Helene de Kock (Human & Rousseau)
  • Dromers – Irize Loots (Naledi)
  • Lira – Chanette Paul (LAPA Uitgewers)

Prys vir Poësie

  • Grondwater – Marlise Joubert (Protea Boekhuis)
  • Jan, Piet, Koos en Jakob – Loftus Marais (Human & Rousseau)
  • Brisant – Hein Viljoen (Naledi)

Prys vir Romanses

  • Halsoorkop verlief – Dina Botha (Romanza)
  • Fransi en die filmster – Anita du Preez (Satyn)
  • Tweede kans op geluk – Sophia Kapp (Romanza)

Prys vir Spanningslektuur

  • Klikbek – Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
  • Anderman se vrou – Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Sewe-en-veertig – Irma Venter (Human & Rousseau)

Prys vir Dramateks

  • Verwyt – Nicola Hanekom
  • Wilde-als – Wessel Pretorius
  • Opdrifsel – Philip Rademeyer

Prys vir Niefiksie

  • In my vel: ’n Reis – Azille Coetzee (Tafelberg)
  • Christo Wiese: Risiko en rykdom – TJ Strydom (Tafelberg)
  • Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen – Carel van der Merwe (Protea Boekhuis)

Lees ook:

Resensie: Brisant deur Hein Viljoen

Resensie: Jan, Piet, Koos en Jakob deur Loftus Marais

Resensie: grondwater deur Marlise Joubert

Die verevrou deur Jan van Tonder: ’n lesersindruk

Resensie: Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit

In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer: ’n resensie

Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

Resensie: Klikbek deur Sidney Gilroy

Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk

Christo Wiese: risiko en rykdom deur TJ Strydom: ’n lesersindruk

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

 

The post ATKV-Woordveertjies 2020: Finaliste bekend appeared first on LitNet.

Marlize Hobbs (1972–)

$
0
0

Gebore en getoë

Marlize Hobbs is op 6 Mei 1972 in Noordwes gebore en word ook daar groot. Sy het ’n tweelingbroer, Ben.

Sy woon tot standerd vyf die Laerskool Louwna by, wat net vyftig leerlinge en drie onderwysers gehad het. “In sub A leer jy eintlik al wat die standerd-eens leer. Teen standerd vier is jy reeds verveeld met die standerd-vyf-werk. Wat jy kan doen, is sit en dink en droom,” vertel sy aan Martie Swanepoel (Sarie, Junie 2005). “Wel, aanvanklik is ek bloot beskuldig van ’n dromery, maar in standerd vyf is ek met epilepsie gediagnoseer en toe is ek nie meer die ‘droomkind’ nie.”

Sy was ’n plaaskind – “’n pláás plaas. Baie backwards. Ek was twaalf toe ons Eskom-krag gekry het. Ek was ’n alleenkind,” vertel sy aan Sonja Loots (Rapport, 15 Mei 2005). “Baie rondgeloop op die plaas, baie boontoe gekyk vir reën, baie gelees. My ma is ’n intellektueel. Ons huis was vol boeke, altyd.”

Sy sê epilepsie gee ’n heel ander perspektief op wie jy is. Destyds (1985) was dit veel meer van ’n issue as wat dit nou is. “Dit bly steeds ’n vreemde chroniese toestand waaroor ek meer sou wou skryf. Maar ’n mens moet eers deur iets werk en lééf voor jy met kennis en insig en deernis (al is dit vir jouself) daaroor kan skryf.” (Sarie, Junie 2005)

Sy was net vyf jaar oud toe sy eendag vir haar ma gesê het sy gaan óf ’n skrywer óf ’n ruimtevaarder word. “Maar hulle vat nie epilepsielyers maan toe nie. Hulle like ons nie eens in die vliegtuie nie.” (Rapport, 15 Mei 2005)

Marlize vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat sy op vyfjarige ouderdom al begin rympies maak het. “Teen 12 het ek ’n kortwerkprosa voltooi – my eerste ‘boek’ – en aan die einde van my laerskooldae het ek ’n paar gedigte oor my ervaring van skool gehad. Ek onthou dat die een gedig gaan oor om die laerskool met die blote 50 leerlinge te groet en die gedig het geëindig met: ‘Cheers aan dit wat nooit weer sal wees.’ Die gedig oor die inrigting (Saal 29, Nasionale Hospitaal Bloemfontein, waar ek op 15-jarige ouderdom opgeneem was) kom uit my standerd 8-jaar en ek hoef bittermin daaraan te verander het om dit in hierdie bundel te gebruik. 

“My ma en die digter Donnie Riekert was baie goed bevriend en Donnie het my gedigte gelees toe ek 16 was en vir my ma gesê: ‘Die kind kan gooi met woorde.’ Dit was ’n wonderlike kompliment wat my laat aanhou skryf het.”

Op LitNet wou Nathan Trantraal by Marlize weet of sy ietwat van ’n rebel is. Marlize se antwoord was as volg: “Ek dink mens moet oor die algemeen tog so versigtig wees, om eerlik te wees, om uitsprake te maak, veral as jy ’n skrywer in Afrikaans is, maar ek steur my nie veel aan voorskrifte nie. As kind was ek baie meer rebels as nou, maar ek het meer rede gehad as nou. In standerd vyf was ek die hoofdogter by hierdie klein skooltjie en die hoof het ons vertel dat ons ouers almal hel toe gaan, want hulle is nie weergebore nie en het nie ’n weergebore datum nie. Toe ruk ek daai hoofdogterwapentjie van my lelike geel skooluniform af en gooi dit op sy lessenaar en sê: ‘Ek kan nie langer die hoofdogter van hierdie skool wees nie!’

“Dit was maar net die begin ...

“Ek het skoolgegaan en grootgeword onder die ou regime. Ek het daai regse bliksems gehaat met alles in my. Die gedwonge struktuur, die manier waarop hulle wou hê mens moet dink soos hulle. Ek bedoel op skool mag ons nie oor die grasperk geloop het nie, maar die onderwysers het en ek het toe vir die Afrikaansonderwyser gesê dis onregverdig, hy sny elke dag spoor oor die grasperk, maar ons mag dit nie doen nie. Die man het amper ’n oorval gekry. Hy het so rooi in sy gesig geword ... Toe hulle prefekte kies, toe vra hy my: ‘Hobbsie, so waar is my biltongbroodjies?’ Ek het hom net so gekyk en by die klas in geloop ...”

“Dis hoe dit gewerk het daai tyd, nou nog. Ek koop niemand se guns nie. So, ja, daar is ’n rebelse streep in my: ek haat die ou bedeling meer as wat ek die kak van die ANC haat en dit sê báie. Ek het onderwysers gehad wat geglo het dis oukei om lyfstraf toe te pas deur mens op jou boude met hulle hande te slaan. Ek is so bly daai dae is verby, want enigiemand wat hul hand vir Lente lig, sal kak, hoor vir my. En hierdie nuwe regse groepe gee my ’n kramp. As ek swart of coloured was daai tyd, sou ek die boere van ’n kant af opgefok het. Ek sou presies geweet het wat om met ’n boks matches te doen. Hulle sou my waarskynlik gehang het.”

Na laerskool is sy Vryburg toe, waar sy haar matriek aan die Hoërskool Vryburg voltooi het.

Verdere studie en werk

Marlize kon om finansiële redes nie direk na matriek gaan studeer nie en in 1991 vertel ’n vriendin haar van die Middestad-Evangelisasie en Sendingaksie (MES) in Hillbrow. Sy was ongeveer 18 jaar oud en dit was ’n kultuurskok vir haar – ook wonderlik. Sy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 27 Mei 2005): “Wat ek daar gedoen het, was gewis nie vir die ‘kerk’ as sodanig nie. God het my op ’n pad van selfontdekking gevat. Ek het baie geleer – van God en die inherente aard van die kerk en van hoe dit seker maar veronderstel is om te wees en nie is nie.

“Vir my was MES ’n subkultuur met ‘geheime kodes’ wat geld tussen lede van die groep. Ek het nie ingepas nie. Die boks was te vierkantig, benoud, vol ongeskrewe reëls wat ek nie kon begryp nie. My medesendelinge was vir my ’n vreemde spesie. Ek kon die oordrewe onderdanigheid aan die hoof nie begryp nie. Aanvanklik was dit vir my belangrik om deel te voel en te wees van die groep, maar ek kan nie anders as om getrou aan myself te wees nie. Ek het dinge begin bevraagteken en dit het vir my duidelik geword dat dit gevaarlik is om vrae te vra as iemand in iets glo en daar word van jou verwag om op dieselfde wyse te glo.

“Ek begryp waarom mense van die kerk af vlug. Hoe ironies tog dat die kerk veronderstel is om ’n toevlug te wees.”

Marlize het vir twee jaar in Hillbrow sendingwerk gedoen. Aan Sonja Loots sê sy dat Hillbrow ’n wow was wat vir ’n mens gevestigdheid gegee het. Dit was ’n “belewenis wat ek nooit weer oor wil hê nie, maar wat suiwer was. Die strate, nie die kerk nie. Ek en die kerk het mekaar in daardie stadium nie mooi verstaan nie.”

Oor haar tyd in Hillbrow kan sy boeke skryf, “maar ek moet eers die legkaart-stukke kry voor ek dit doen,” aan Martie Swanepoel. (Sarie, Junie 2005)

Daarna is sy na die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, vandag die Universiteit van Johannesburg, om maatskaplike werk te gaan studeer. Daar het sy “leer lééf”. Die koshuislewe was die beste ding wat met haar kon gebeur het.

Na haar studentejare het Marlize om den brode in ’n plaaswinkel gewerk en het ’n vriendin Jeanne Goosen se telefoonnommer vir haar as verjaardaggeskenk gegee. “Ek het haar gebel en van my gedigte vir haar gestuur en sy’t my genooi om by haar te gaan kuier. Ek het baie nervous daar opgedaag, maar sy is die niceste mens op planeet aarde en ons het goed gekliek.” Dit was die begin van ’n lang mentorskap en Marlize het bly skryf.

Sy skryf vir HERAUT se kunsredaksie. In 1998 en 1999 werk sy as TV-produksie-assistent in Durban by Heine TV-produksies. Van haar gedigte het al in Pretoria verskyn by KOMSAT van Johan de Jager. Van haar verhale verskyn ook op LitNet.

Sy is terug Vryburg toe as maatskaplike werker en proefbeampte, waar sy voorvonnis-verslae “en sulke goed vir die hof” opgestel het. Sy het vier jaar lank “alleen” in Ganyesa, ’n woonbuurt sowat 80 km van Vryburg af, gebly as die enigste wit persoon in haar kantoor. Sy voel dat Ganyesa haar “gekies” het, want dit was die enigste plek waar sy werk kon kry. Sy het by die plaaslike hospitaal een van die slegs tien huise op die dorp gehuur. “Ek het soontoe gery, die vlaktes, donkiekarre, kinders en boerbokke langs die pad bekyk. Ek het die tien huisies agter die hospitaal bekyk en besluit dat ek daar sal kan bly. Dat ek van die vlaktes hou.”

Sy vertel aan Martie Swanepoel in Sarie (Junie 2005) dat sy niks van haar eie gehad het om in ’n huis te sit nie, want dit was haar eerste eie plek. Sy het net ’n matras op die vloer gehad, ’n outydse woordverwerker, kitaar en CD-speler – nie eers ’n selfoon of televisie nie.

“Wanneer ’n mens so leef, het jy baie tyd vir besin, mymer en skryf. Dan kom jy in direkte konfrontasie met jouself en jou daaglikse bestaan, asook die werk wat jy doen. Professionele distansie kry ’n ander betekenis wanneer jy in die werklikheid van jou kliënte se lewe werk en woon.”

Sy was ’n maatskaplike werker vir Noordwes se regering op Potchefstroom en is daarna aangestel by Unisa as nasionale koördineerder vir maatskaplike werk in studentepraktykopleiding. Marlize en haar vrou het ’n dogtertjie, Lente.

Marlize se boek Flarde is reeds in 2002 voltooi, nadat sy byna drie jaar daaraan geskryf het. Ná die tyd het sy besef daar is soveel ander stories in die storie dat sy sekerlik nog ’n paar sulke pogings kon aanwend. Maar haar tyd is beperk vanweë haar werk as maatskaplike werker.

Die idee vir die boek kom van ver af. “In ’n stadium was ek werkloos en het ’n soort tuisgemaakte koerant vir my vriende aangestuur terwyl ek op die plaas was. Ek het dit Flardes uit die vlaktes genoem. Daarin was stories, advertensies (wat ek uitgedink het) en nog ’n spul liegstories,” sê sy aan Swanepoel.

Die ernstige skryf aan Flarde het egter in Ganyesa gebeur. Die dag toe die boek klaar was, toe was sy reeds ook klaar met Ganyesa. Sy het vir ’n oorplasing na Vryburg gevra en in 2002 daar begin werk.

In Ganyesa is Flarde uit eensaamheid gebore. “Die isolasie het my gedwing om met iemand te praat wat my taal verstaan – en dit was ék. Ek het geskryf om my eie taal te hoor. Ook omdat ek vermoed het daar is ’n storie wat vir my vertel moet word, en dit wás ook so: die boek het op die ou end vir my die storie vertel,” vertel sy aan Sonja Loots. (Rapport, 15 Mei 2005)

Marlize het aanvanklik aan die manuskrip “vasgeklou” en toe besluit om dit aan Jeanne Goosen te stuur as ’n “slaaptydstorie”. “Sy het daarvan gehou en klaarblyklik ook die mense by Genugtig!-uitgewery.” Genugtig! het die boek 2005 gepubliseer. Jeanne Goosen het dit beskryf as ’n boek van die hier en die nou – “die sensualiteit ontvou spontaan, dis tegelyk pynlik en pragtig.”

Flarde vertel die verhaal van ’n maatskaplike werker wat na ’n afgeleë Tswana-gemeenskap vlug. Waarvoor, weet sy self nie, skryf Stephanie Nieuwoudt (Sarie, Junie 2005), maar soms dink sy dat dit ’n besieling was. Want in Ganyesa word stukkies geskiedenis aan haar ontbloot. “Nie net trap sy in die spore van haar eie herinneringe en geskiedenis nie, maar sy leer ook die geskiedenis van die mense van die vreemde dorp. Flardes van verhale word aan haar gegee en sy moet sin maak daaruit. En soms verstaan sy die betekenis agter die woorde heeltemal verkeerd. Soos wanneer die jong man by haar kom pleit om hom te help om onderhoud van sy ouers te kry sodat hy verder kan studeer. Sy vertrou hom, maar dan word sy wreed ontnugter. Maar dis die verhaal wat Mama Minoto, die hoenderpootvrou, haar vertel, wat die maatskaplike werker heeltemal intrek by die gemeenskap van Ganyesa.”

Flarde is in 2006 met die Eugène Marais-prys bekroon, asook met die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste skeppende debuutwerk in 2006 en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende prosa vir dieselfde jaar. Marlize het die UJ-prys ingepalm bo Pat Stamatélos se Kroes en Gilbert Gibson se digbundel BoomplaatsFlarde is uiteindelik bekroon vir sy tegniese vernuf, die besonderse manier waarop taal aangewend is en die oorspronklikheid van die werk. Oor Flarde het een van die keurders opgemerk: “Die werk word gekenmerk deur ’n merkwaardige emosionele intensiteit, ’n skerp evokasie van ruimtes, opgeskerpte welhaas, neurotiese waarneming en psigiese hegting. Dis opvallend hoe elke karakter as ’t ware binne haar eie wêreld gevange sit, waar emosie en begeerte dikwels op gewelddadige wyse beleef en ook uitgeleef word.”

Nieuwoudt skryf verder: “Die gemeenskap se frustrasies vind uiting in gesinsgeweld en dronkenskap en bied ’n spieël vir die maatskaplike werker se eie gevoelens van onvermoë. Maar in die wanhoop skemer ook die magiese van Afrika deur. Saans kom vryf Mosadiomuntle, die pleegkind Kabelo se ma, oor sy kop en soggens vee Mana Minoto die kleinvroutjiespore in haar erf dood. Die spore hoort nie hier nie. Dit word immers deur ’n dooie vrou nagelaat.

“Die liefdesband tussen Mama Minoto en haar pleegkind, die doofstom Kabelo, ontroer. En tussenin probeer die maatskaplike werker sin maak van haar eie lewe. Met kos, dwelms, seks en gesprekke in die kuberruim probeer sy antwoorde en troos vind.

Flarde is ’n boek wat ontstig. Met ingehoue asem verwag jy telkemale ’n katastrofiese ontknoping. Maar met humor en oorspronklikheid keer Marlize Hobbs telkemale die verhaal so om dat jy onkant betrap word en hardop lag. In die hande van dié nuwelingskrywer, wat die taal op ’n oorspronklike manier laat sing, word die waarheid inderdaad veel beter as fiksie.”

Volgens Marlize is dele uit Flarde min of meer waar, “maar soveel as wat dit ’n waarskynlike of parallelle werklikheid is, is dit ook ’n verbeelde of verskuilde werklikheid. Agter alles is daar tog iets,” vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 27 Mei 2005). “Soos dinge gebeur in die skryfproses, so het daar verdere verskuilde werklikhede na vore getree. Soms is die werklikheid te ondraaglik en soms is dit te ‘min’, bedoelende dat daar meer van gemaak moet word om dit meer werklik te maak.

“Die sendeling-ervaring kon ek in die boek afbreek tot by die blootlê van die verskuilde werklikheid – dit wat agter die skyn van sendelingwees lê. Dit is dan wanneer jy as skrywer die gebeure as ’n dubbelgeskiedenis neerpen. Dit wat langsaan geloop het en ’n mens soos ’n skaduwee volg. Of dalk het ek my dit alles verbeel.”

Die hoofkarakter in Flarde gesels en skreeu haar frustrasie op die internet uit en in Ganyesa was die internet vir Marlize haar lifeline, “maar soos dit aanvanklik sanity help behou het, het die internet soveel meer die karakter van ’n verbeelde werklikheid. Die internet-persoon is meervoudig, verskuil. Die uitreik en die ware kontak gebeur selde. Wanneer dit wel gebeur, is dit uiters selde bevredigend. Dink aan die gesprek – ’n verbeelde werklikheid, gesigloos, elke woord kan lieg en binne elke woord is daar soveel ander dinge verskuil. Van die werklikheid in hierdie oomblik, die weer wat skielik dreun, Tori Amos se stem, die koue, kan ek nie ontsnap nie.”

Volgens Cecile Cilliers (Volksblad, 23 Mei 2005) vertel Hobbs twee verhale in een: “haar eie, as selferkende maatskaplike werker, en haar stryd teen dwelms, depressie en epilepsie. Parallel daarmee loop die verhaal van die Dipeko-familie, een van haar gevalle, en sy laat die twee verhale uit verskillende blikhoeke en met verskillende stemme praat, naamlik die stem van die maatskaplike werker as hoofverteller en dan dié van die verskillende lede van die Dipeko-familie.

“Die verhaal werk met die rou werklikhede van armoede en vigs en werkloosheid in ’n tipiese Suid-Afrikaanse samelewing. En met die disfunksionele gesig van die meer gegoedes. En sy, die maatskaplike werker, is intens betrokke daarby. Hierdie intieme kennis van en intense meelewing met die ander, die onbekende mense in ons bont samelewing, is nog nooit so rou, so seer en so oortuigend in enige Afrikaanse roman weergegee nie.”

Tog ervaar Cilliers die blikhoek nie altyd as somber nie. “Hobbs se styl is lig, prikkelend, met digterlike metafore. [...] En wat die slot van die boek betref – ja, in die laaste bladsy steek daar tog iets van hoop, groei daar vlerke uit haar krom skouers. Ek het die boek onwennig toegemaak, traag om afskeid te neem van ’n wêreld en sy mense wat ek intiem leer ken het. Flarde is inderdaad ’n merkwaardige debuut.”

In Flarde het die hoofkarakter verhoudings met mans en vroue. Stephanie Nieuwoudt wou by Marlize weet of die geslagtelike ongelykheid en die geweld teenoor vroue in die samelewing in die algemeen en in Ganyesa in die besonder, dalk ’n invloed het op die karakter se seksuele ambivalensie.

“Geslagtelikheid,” antwoord Marlize. “’n Mens is daartoe verbind die oomblik wat jy in die baarmoeder gevorm word. Jy is onlosmaaklik daartoe verbind, selfs al sou jy die geslag-verandering laat doen. As een van ’n tweeling – en dan is die ander een ’n seun – merk jy op ’n stadium daar is ’n verskil. ’n Moerse verskil. Só dieselfde en tog só verskillend.

“Die oomblik wanneer jy onderskeid tref tussen twee groepe, is daar onmiddellik vrae. Dit behels politieke, ekonomiese en fisieke verwagting, verbeelde verantwoordelikhede teenoor die ‘ander party’ en teenoor jouself en dit val alles binne ’n samelewingsraamwerk.

“Maar daar is ’n grys gebied. En dan praat ek nie van homoseksualiteit of biseksualiteit nie. Dit bring pengevegte, etiese gevegte, godsdienstige issues en verwarring. Ek wil my nie te veel uitlaat hieroor nie.

“Die verteller (wanneer dit nie as ekself gesien word nie) sal moontlik na enigiemand gaan om te vind waarna sy soek. Veral omdat sy nie seker is waarna sy soek nie. Miskien bevryding? ’n Roekelose liefde? Die verteller – wanneer dit ek as skrywer is wat praat – kan maak van die karakter wat sy wil. Sy kan liefhê en lus hê en smag na wat sy wil. Die skrywer maak dit moontlik.”

Gerrit Brand skryf in Die Burger van 25 Julie 2005 dat Flarde ’n vertelling is, eintlik ’n versameling van vertellings, op soek na ’n storie. “Verskillende vertellers kom afwisselend aan die woord, sommiges net een keer. Tog is dit asof daar deurgaans een ‘ek’ teenwoordig is, ’n soort kollektiewe psige wat sy eie spoor kwyt is, nouliks tot selfbewustheid kom, maar nietemin die verweefdheid onderstreep. [...] Die vertellers en karakters praat verskillende soorte Afrikaans, asook heelwat Tswana en ’n bietjie Engels. Die geveg met taal word boeiend deel van die verhaal. Dit is net jammer dat ’n Tswana-kenner klaarblyklik nie die teks deurgegaan het om die spelling en grammatika te kontroleer nie; daar is heelwat foute. [...] In Hobbs kry Afrikaans ’n belangrike en besonderse stem.”

Willie Burger (Beeld, 1 Augustus 2005) meen dat Marlize Hobbs se debuut dadelik die aandag trek. “’n Paar jaar gelede het die Natalse resensent Andries Visagie die ‘bloedarmoedige’ prosa van talle jong Afrikaanse skrywers betreur. In Hobbs se prosa is die taal beslis veel meer as ’n toevallige, bloedarmoedige medium om ’n storie vertel te kry.

“Die moontlikhede van taal word op verskeie maniere ondersoek en uitgebuit. Al raak die taalgebruik plek-plek aan mooiskrywery, ’n effens oorbewuste taalgebruik, is selfs dít binne die konteks van die novelle sinvol en toon Hobbs ’n sterk potensiaal as woordsmid. Boonop bewys haar taalgebruik dat ’n jong skrywer nie in ’n selfbewuste jipperigheid, met die slordigheid van denke wat dikwels daarmee gepaard gaan, hoef te verval nie.

“Taal en skryf is vir die hoofkarakter, Lisa, te belangrik om slordig daarmee om te gaan. Vir haar is taal uiteindelik die enigste verweer teen die chaos van die lewe, teen onbegrip. Dit is singewing en terapie.

“Soos in Abraham de Vries se kortverhaalbundel Tot verhaal kom staan vertelling as ’n poging om sin te maak, om deur die vertel van ’n storie tot verhaal te kom, in Flarde sentraal. Maar soos die titel reeds aandui, en soos in De Vries se bundel, is daar bloot flardes van vertellings, is dit nie moontlik om ’n enkele, samehangende, singewende verhaal van ’n lewe te vertel nie. Nietemin is die flardes van stories, die vertellings uit verskillende hoeke, deur verskillende karakters, die enigste manier om sin te probeer maak van ’n lewe. [...]

“As ’n maatskaplike werker in ’n afgeleë, armoedige landelike gebied, raak Lisa betrokke by talle mense se lewe. Nie alleen moet sy uit die flardes verhale van haar kliënte uit die stofverwaaide gemeenskap probeer sin maak nie, maar sy raak ook betrokke by ’n Kubaanse dokter en knoop talle vriendskappe oor die internet aan. Die verhoudings met ander en haar pogings om sin te maak van veral die Dipeko-familie se vertellings deur alles neer te skryf wat hulle vertel, word vervleg met haar pogings om ook sin in haar eie lewe te vind, haar pogings om haarself te verstaan.

“Uiteindelik loop die swerfpad van Mosimanegape Dipeko (die wegloopkind) parallel met háár lewe as ‘wegloopkind’. Soos hy ná vele omswerwinge terugkeer na die plek van sy mense (dieselfde omgewing waar sy as kind gewoon het), het sy ook nodig om na die ‘stukkende huis’, na haar ‘woestyn’ terug te keer om tot rus te kan kom. [...]

“Lisa ervaar moeite met die realiteit waarin sy lewe en sy gebruik dwelms in ’n poging om die lewe draaglik te maak. Ook godsdiens en liefdesverhoudings, verhoudings met familie en vriende, selfs internetkorrespondensie en deelname aan LitNet word in Flarde belig as maniere waarop individue probeer om sin te maak van hulle eie lewe.

Die idee van ’n ondersteunende gemeenskap, van die gesin as veilige hawe word ook geproblematiseer. Die Dipeko-familie se probleme (en die geheime wat binne ’n gesin bewaar word en uiteindelik skadelik inwerk) belig Lisa se soortgelyke gesinsagtergrond waaroor sy skryf.

“Die vernietigende effek van verdoeseling, van geheime, van skuldgevoelens en die gevolge daarvan as nie oor hierdie gesinsgeheime gepraat word nie, staan sentraal. Maar uiteindelik is die uitpraat ook nie ’n eenvoudige oplossing nie. Ook die uitpraat kan negatiewe gevolge hê en dit is gewoon moeilik om te doen. Lisa kan uiteindelik slegs deur suggestie verwys na die oorsprong van haar skuldgevoelens en sy ervaar deurgaans ’n onvermoë om haar eie gevoelens te verstaan.

“Die vermoede dat hierdie knapgeskryfde novelle sterk outobiografies is, word op verskeie maniere bevestig. Dit gebeur dikwels dat ’n skrywer wat sukses behaal met ’n besonder outobiografiese debuut, sukkel om dit met ewe veel sukses op te volg. Hobbs se taalbenutting, haar bedrewe hantering van verskillende vertellers, haar vermoë om met suggestie te werk en die deurdagte gebruik van motiewe soos vuur, stof, wind en water, gee ’n mens egter hoop dat Flarde ’n stewige oeuvre sal inlui.”

Volgens Louise Viljoen (Rapport, 12 Junie 2005) word daar dikwels in gesprekke oor die lewenskrag van die Afrikaanse letterkunde gevra waar die betekenisvolle nuwe werke deur belowende jonger skrywers dan is. In antwoord hierop sou verwys kon word na Marlize Hobbs, skrywer van Flarde.

Viljoen gaan voort: “Die sentrale stem in die novelle is dié van ’n maatskaplike werker. Haar vertellings word verder deurgaans vervleg met die ek-vertellings van die lede van die Dipeko-familie met wie sy in aanraking kom deur haar werk as maatskaplike werker in die afgeleë Ganyesa.

“Op heel beknopte en tegelyk suggestieryke manier word die verloop van haar lewe blootgelê: haar ervarings as klein meisietjie, as student in maatskaplike werk, as jong vrou in haar eerste betrekking. Dit is veral haar psigiese lewe wat op boeiende, poëtiese wyse in haar ek-vertellings blootgelê word. Daar is die verhaal van haar epilepsie, verslawing aan medisyne en ander substanse, die depressies, die vreugdes, die begeertes, die aangetrokkenhede tot bepaalde mans en vroue wat met ’n soort kriptiese krag oorgedra word.

“Oor sekere dele van haar geskiedenis word daar egter geswyg. Sy sê immers self: ‘Binne elke geskiedenis is nog een, binne elke verhaal ’n onvertelde storie.’ Dit wil voorkom asof die onvertelde storie in hierdie geval handel oor iets wat in die familie gebeur het of oor die pa wat soms positief, maar op ander tye weer negatief in herinnering geroep word. Die leser kan ook uit die parallelle met die Dipeko-familie sekere gevolgtrekkings maak oor dit wat verswyg word in hierdie geskiedenis, soos dat haar tweelingboetie, Ben, se hande verbrand net soos dié van Mama Minoto se pleegkind, Kabelo. Die vertelling lê byna ongemerk sekere skakels en die leser word die geleentheid gelaat om te speel met allerlei betekenismoontlikhede.

“Die leser leer verder iets van die maatskaplike werker se dryfvere en droefhede verstaan deur haar verwysings na die skryfproses waarmee sy besig is. Met J as mentor wat haar leer om stories te skryf, probeer sy om haar geskiedenis te herskep sodat sy daarin kan glo. Dit is ook deur stories dat haar verhaal as wit Afrikaanse vrou vervleg raak met dié van die Afrika-mense om haar en sy haar eie geskiedenis kan omvorm in dié land met sy baie spoke uit die verlede. Omdat sy ’n maatskaplike werker is, vertel hulle vir haar hul stories. ‘Met elke kliënt wat inkom en naderhand ’n bekende gesig word, leer ek ’n Afrika-storie in myself ken. Ek maak dit myne, sodat ek die sondes van my voorvaders kan agterlaat,’ skryf sy.

“Hierdie proses lê dus ten grondslag van die vervlegting van haar verhaal met dié van die Dipeko-familie waarin Mama Minoto sentraal staan. Sy is ’n kinderlose vrou wat vir Kabelo, wie se sestienjarige ma by sy geboorte sterf, onder haar sorg neem. Naas haar is daar ’n verskeidenheid ander karakters uit dieselfde familie wat ook hul verhale vertel om uiteindelik die geheim rondom Kabelo bloot te lê. Die stilswye oor die geweld teenoor vroue en kinders word gedeeltelik opgehef deur Mama Minoto se vertel van die verhaal aan die maatskaplike werker én deurdat die maatskaplike werker dit opneem in die boek wat sy skryf (hierby is die outobiografiese besonderheid dat die skrywer ’n maatskaplike werker is ook ter sake).

“Die wêrelde van die wit Afrikaanse maatskaplike werker en die Tswana-familie word ook op ’n ander vlak as die realistiese geskakel in die vertellings van Mosadiotsile. Mama Minoto sê vir die maatskaplike werker die mense van Ganyesa het vir haar ’n Tswana-naam gegee, naamlik Mosadiotsile, wat beteken ‘’n vrou het gekom om ons te help’. Die leser lei af dat die vertellings deur Mosadiotsile eintlik dié van die maatskaplike werker is wat haar daardeur kan vereenselwig met die leefwêreld van die Tswana-mense. Hierdie vertellings het ’n soort magies surrealistiese kwaliteit waarin Mosadiotsile onder andere wraak neem op geweldenaars en vroue en kinders bemagtig.

“Die skrywer slaag dus daarin om groot diversiteit en subtiliteit te verpak binne die betreklik beperkte omvang van hierdie novelle. Die sterk introspektiewe vertelling van die maatskaplike werker word gedryf deur die vreemde logika van die psige: die opbou van die verhaal is fragmentaries, ‘flarderig’ (soos wat die titel sê), met verrassende spronge tussen die verskillende momente.

“Hierteenoor skep die verskillende vertellings deur die swart mense die narratiewe spanning in die verhaal en bou dit doelgerig op na die onthulling van die geheim rondom Oneboy Dipeko se dood. Verder word daar ook subtiele skakels tussen die verskillende vertellings en stemme ingebou deur die veelseggende verwysings na wind, stof, grond, bepaalde plekname, oë, vuur, hande ensovoorts. Daarby word die verhaal mooi omraam en ingebind deur die maatskaplike werker se perspektief op haarself as klein meisietjie in die plaaswinkel Mawethu Butchery en General Dealers, ’n ruimte wat ’n verdere kontakpunt is met die Dipeko’s.

“Marlize Hobbs se Flarde is ’n besondere debuut in Afrikaans: dit is ’n ‘klein’ boek wat daarin slaag om ’n groot impak te maak.”

Na die publikasie van Flarde was Marlize omtrent die heel laaste persoon wat ’n eksemplaar van haar eie boek in die hande kon kry, want Vryburg is vér, beduie Marize aan Sonja Loots in Rapport van 15 Mei 2005). En toe sy uiteindelik by Vryburg se poskantoor aankom, het sy die strokie vir die pakkie verloor en wou die klerk dit nie vir haar gee nie.

“Burokrasie op sy beste: dis nou Vryburg,” sê Marlize aan Sonja Loots. “Ek verduidelik vir haar dis mý boek, die foto van die girl agterop is ’n foto van mý, maar sy wou niks weet nie, níks. Ons moes die posmeester bel en ek moes mooipraat voordat ek die pakkie kon kry.

“En jissie, toe ek daai boek vat, toe word ek amper flou. Ek staan daar en huil in die poskantoor. Toe gaan sit ek in my kantoor en huil, en ek húil, en ek huil nóg ’n bietjie. Toe bel ek my ma en my tweelingboetie.”

’n Kollega het kom vra wat aangaan. “Toe sy agterkom die boek is oor Ganyesa, trek die nuus dwarsdeur die kantoor. Marlize het ’n boek oor Ganyesa geskryf. Toe is ek so vir vyf minute ’n hero.”

Die karakters van Ben, haar tweelingbroer, en haar minnaar van Kuba, Ivan, is op regte mense gegrond en sy het hulle regte name in die boek gebruik. “Ivan het my gehelp om die sex scenes te skryf. Ek skryf en dan sê hy: ‘No, sweetie, jy’s so bietjie aggro, jy kan nie sommerso op my spring nie.’ Dan sê ek: ‘Dis nie op jóú nie, dis op ’n karakter.’ Maar die dokter is terug Kuba toe.”

Die toneel in Flarde waar die maatskaplike werker haar vir behandeling vir dwelmafhanklikheid aanmeld, is ook baie na aan die werklikheid. “Ek was eenkeer verskriklik stoned by die werk,” vertel Marlize aan Sonja Loots (Rapport, 15 Mei 2005). “Toe sê my baas: ‘As jy gatvol genoeg is, sal jy iets daaraan doen. Besluit self.’ Dit is die beste terapeutiese woorde wat ek in my lewe gehoor het. Jy moet sélf kom op die punt waar jy besluit jy is gatvol om Valium te gaan bedel. Gatvol vir die smaak in jou mond. Gatvol om skuldig te voel, want die oomblik wat jy skuldig voel omdat jy iets gebruik, gaan doen jy dit weer.

“Ek het in my kar geklim, hospitaal toe gery en gesê: ‘Hier is ek en ek het ’n probleem.’ Nou, die mense ken my en hoe kan ék dan nou ’n probleem hê? Ek het vir hulle gesê: ‘Ek’s ’n druggie, julle weet dit net nie, want julle kyk nie in my oë nie. En omdat ek aan epilepsie ly, is dit vir my niks om pille te kry nie.’”

In De Kat van Somer 2005 sê Marize dat sy glo jou “individualiteit lê opgesluit in die geheime self wat jy nie goedsmoeds ontbloot nie, die geheime self waarvan net jy weet en waaroor ander wonder. Hierdie versteekte stuk self kom in my skryfwerk na vore deur die gebruik van outobiografiese besonderhede in dele van die teks en weer in ander dele wat ek bylieg – om ’n karakter iets te laat sê soos ek dit sou wou hoor en nie noodwendig soos dit gesê is nie”.

Na al die pryse en bohaai oor die boek vertel Marlize aan Sonja Loots (Rapport, 15 Mei 2005): “Ek gaan terug werk toe, waar ’n ongelooflike klomp dinge moet gebeur. En dis dit. Ek gaan huis toe, Vryburg toe.” Daar waar die armste mense van die dorp haar gaan groet op haar ánder naam, haar Afrika-naam. Mosadiotsile, wat beteken: ’n vrou het gekom om ons te help.

In 2009 publiseer Marlize die eerste 100 bladsye van ’n nuwe roman getiteld Divine prostitute / The girl in the bird’s nest op haar blog en vra sy lesers om terugvoering te gee.

In 2016 verskyn Marlize se tweede roman onder die titel Score my ’n gwai. Dit word genomineer vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die filmkategorie vir 2016. Sy vertel aan Naomi Bruwer op LitNet dat hierdie nominasie vir haar ’n groot eer was, aangesien “enige erkenning vir haar as skrywer baie beteken. Om ’n tweede boek te skryf na die groot sukses en baie toekennings van Flarde was nie maklik nie en het my inderdaad agt jaar geneem. Daar is ’n persoonlike vreugde aan erkenning, maar dit help ook baie om jou as skrywer te bemark en dan die tipe verhale wat jy skryf. Kyk man, ek is ‘chuffed’ met myself hieroor. En baie dankbaar teenoor die beoordelaars.”

Score my ’n gwai word deur twee vroue vertel: “Miesa, dogter van ’n boer op ’n plaas naby Vryburg, en Siena, die vrou wat Miesa help grootmaak het. Na die grensoorlog keer Miesa se pa as ’n gebroke man terug. Hy sit op die stoep en drink en kaarte speel, terwyl die plaas vergaan. In die aande kom hy na Miesa se kamer, waar sy sy onmag moet ontgeld. Miesa se ma maak ’n plaaswinkeltjie oop en Miesa vind ’n mate van ontvlugting daar. Dis ook in hierdie winkel waar sy haar eerste minnares ontmoet en haar weg na die buitewêreld vind. Wanneer sy ’n outistiese dogtertjie aanneem, begin haar lewe sin kry en vind sy uiteindelik blywende liefde.” (uitgewer se inligtingstuk)

Naomi Bruwer wou op LitNet by Marlize Hobbs weet wat haar geïnspireer het om hierdie verhaal te skryf. Marlize vertel vir haar hoe die storie by haar aangekom het: “Die verhaal van die verhouding tussen my en ons bediende, uitgebrei na die verhouding tussen Miesa en Siena Maamogwe, vreet al lank aan my. Ek het nie juis gekies om die storie te skryf nie. Dit het self by my aangemeld. Uit die vertelling van Flarde is daar tonne verhale wat tussen die reëls reeds daar was wat ek net moes gaan opsoek. Score my ’n gwai was iets wat ek om baie persoonlike redes vir myself gedoen het. Dat ek erkenning vir die werk ontvang, is dus ’n groter aanwins by die persoonlike betekenis wat dit ingehou het.”

Nathan Trantraal is die resensent van Score op LitNet: “Score my ’n gwai volg tot ’n mate die formaat van ’n dokumentêre film. Met twee karakters wat een storie vertel uit hul eie individuele perspektiewe. Die twee sprekers aan die woord, wat half klink asof hulle vrae beantwoord wat gestel word deur ’n derde party en half soos hul gedagtes dwaal tussen die nou en die verlede, is Siena Maamogwe en Miesa. Die boek het my half herinner aan die dokumentêre fliek Beautiful in Beaufort Wes, met klem op die eendersheid van die verwysingswêreld en die verhoudingsdinamika tussen Gert Vlok Nel en sy pa. ’n Soortgelyke verhouding bestaan tussen Siena en Miesa. Wat hierdie anders maak as Beautiful in Beaufort Wes, is dat die storie nooit voel asof dit deur ’n buitestander gemaak is nie. Dit is asof Hobbs die plek Ganyesa te goed ken om dit te kan beskryf, te verduidelik en rigtingaanwysings te kan gee. So, wat jy doen is, jy volg maar die skrywer terwyl sy haar draaie loop en jou bietjie rondwys. Die skryfstyl is baie intiem en gestroop van pretensie en op sy beste oomblikke voel dit asof Hobbs hier langs my sit op die karsitplek agter in die jaart en vir my ’n storie vertel.

“In ’n tyd waar skrywers met handskoene aan skryf vir vrese dat hulle dalk ’n vingerafdruk mag los op die bladsy wat hul lesers ’n insig mag gee in die persoon agter die boek, is Marlize Hobbs iets heel anders. Hier is ’n skrywer wat haar DNA skaamteloos op die bladsy los: op hierdie bladsye is daar dikwels sweet, skilfers en fyngekoude vingernaels. Jy voel half Hobbs sit hier en vertel vir jou die stories, soos iemand wat goed is met mense en stemme namaak. Dit skep die illusie van iemand wat nie so goed skryf as wat sy maar net goed onthou nie. Dié manier van vertel is hier misleidend, omdat Score my ’n gwai ’n boek is met ’n baie tradisionele struktuur, geskryf onder die vel uit van die karakters.

“Dit is ’n sikliese uitsig op ’n persoonlike geskiedenis, die karakter van Siena, die Tswana-huiswerker wat dien as ’n soort pleegmoeder vir Miesa. En dan, jare later word hierdie sirkel voltooi wanneer Miesa, die wit vrou, ’n klein Tswana-dogtertjie genaamd Naledi aanneem as haar eie. Daar is ’n roerende oomblik waar Miesa die babatjie met haar melklose borste borsvoed. Die tema van geboorte en hergeboorte duik ook deurlopend op. In die hede is Miesa in ’n gelukkige verhouding met Jasmyn, wat sy op Facebook ontmoet het; hulle maak saam vir Naledi groot. Dan, op verskillende tye, en wat vir die skrywer soos verskillende lewens voel, werk Miesa in haar ma se winkel, is ’n inwoner by ’n psigiatriese hospitaal en is in ’n verkrummelde verhouding met haar eerste liefde, Leona. Hobbs slaag daarin om al die realiteite te laat voel asof dit gelyktydig geskied.”

“Die unieke taalgebruik, ’n mengsel van Afrikaans, Engels en Tswana, spring van die blaai af en trek jou binne met altwee arms. Daar is ’n diepte en wysheid in die taalgebruik en dit voel deurlopend oorspronklik oud en nuut. Vir ’n skrywer wie se eerste roman reeds in 2005 uitgegee is, voel dit verskriklik vars. En dis miskien die krag van hierdie skrywer: die vermoë om haarself te herskep. Nog altyd dieselfde en tóg heel anders.”

Marlize se eerste digbundel, ’n Suitcase vol sterre, word in 2016 deur haarself uitgegee. Saam met die bundel is daar ook ’n CD waarop Marlize van die gedigte self voorlees en ook meer vertel oor die gedigte.

Op LitNet vra Naomi Meyer vir Marlize om ’n bietjie meer te vertel oor die ontstaan van die bundel: “Ek het van baie jonk af gedigte geskryf en sedert 2011 effektief gewerk daaraan om my skryfvermoë in die digkuns te verbeter. Dit het beteken dat ek manuskripte voorgelê het vir keuring en op grond van die keurverslae soveel as moontlik geleer het. Ek het ook my vriende in die akademie genader, veral Neil Cochrane, wat my ongelooflik baie gehelp het om die beste werk daar te stel.” [...]

“Op 26 het ek Jeanne Goosen se telefoonnommer as verjaarsdag geskenk gekry en my eerste beter-ontwikkelde gedigte aan haar gestuur. Van daar het ons dekades lange vriendskap ontwikkel. Ek het baie by Jeanne geleer, want sy is baie reguit en as sy dink iets is swak skryfwerk sal sy sonder skroom vir jou sê. Jeanne het dan ook deur die uiteindelike bundel saam met my gewerk en raad gegee en gehelp om slegs die beste gedigte uit tonne uit te soek. Dis ’n lewenslange droom.”

Sy het die bundel self uitgegee aangesien sy ’n baie ongeduldige mens is en nie weer so lank wou wag vir die boek om te verskyn nie. Sy het ook besluit om die middelmanne uit te sny om die prys van die bundel ’n bietjie meer bekostigbaar te maak, verduidelik sy aan Meyer: “Ek wil ’n bekostigbare bundel daarstel wat spreek tot ’n groter leserspubliek, veral omdat dit oor die lewe en die rouheid daarvan gaan. Dit het ’n toon wat baie aanneemlik is vir lesers, wat ek geleer het deur prosa te skryf. Ek glo gedigte moet toeganklik wees, sonder om die kwaliteit en literêre waarde daarvan te benadeel.”

Van die gedigte kom van baie lank terug – uit haar grootwordjare. So is daar een wat sy geskryf het toe sy 12 jaar oud was. “Die gedig oor die inrigting (Saal 29, Nasionale Hospitaal Bloemfontein, waar ek op 15-jarige ouderdom opgeneem was) kom uit my standerd 8-jaar en ek hoef bitter min daaraan te verander het om dit in hierdie bundel te gebruik. Maar uit 100 gedigte wat jy oor so ’n lewenservaring skryf, is daar baie keer slegs vyf wat op die ou einde behoue bly.”

Oor die titel vertel Marlize aan Naomi Meyer dat dit die titel is van een van die gedigte in die bundel: “Daarin beskryf ek hoe mens soms opkyk en die sterre wat soos wasgoed aan die hemel hang, wegbêre in jou suitcase. Sodat jy daarmee kan travel. ’n Vriend van my wat in een van die Stemme-digbundels gepubliseer het, het ook saam met my deur die bundel gewerk en het met die titel vorendag gekom. Jan du Plessis. Hy het dit daarmee perfek beskryf.”

Vir Meyer is Marlize se gedigte baie persoonlik, amper soos briewe wat ’n mens skryf aan mense wat jy ken. Sy wou weet wat is wáár, wat is fiksie en wat is heilig: “Reinet Nagtegaal het altyd gesê sy leer haar kinders dat niks heilig is nie. Dis voorwaar waar van skryfwerk, want jy is dadelik ’n toffie as jy publiseer, nog meer so as dit ’n selfpublikasie is. Alles wat persoonlik is word algemene besit, maar ek verraai nooit werklik my geheime self nie. Dit is daar waar ek die heiligheid koester. Ek skryf oor dit wat my daagliks raak. Oor diep persoonlike ervarings, maar dis menslike ervarings wat deur alle mense daagliks ervaar word. Die verskil is miskien dat my wêreld dié van ’n lesbiese vrou en haar verhoudings en ontwikkelingsproses is en ook dié van ’n ma met ’n kind wat op die outisme-spektrum is.”

“Ek hou daarvan dat jy dit vergelyk met briewe, want een van die goed wat ek en Jeanne al vir jare doen, is om briewe vir mekaar te skryf en dis daaruit dat ek die geselstoon so goed aangeleer het. Ook is ’n brief soos ’n gebed wat geen einde het nie. Briewe is eindeloos; dis nie soos e-pos wat slegs funksioneel aangewend word nie.”

Op Netwerk24 (24 Augustus 2016) resenseer Gisela Ullyatt ’n Suitcase vol sterre. Sy beskryf die temas wat in die bundel voorkom as volg: “Die bundel wentel rondom die volgende hooftemas: disfunksionele familiebande met ondertone van bloedskande, opname in ’n psigiatriese hospitaal en lesbiese erotiek. Die digter-spreker neem ook leitmotiewe in oënskou soos die randfiguur wat binne die ‘normale’ samelewing as ‘kranksinnig’ beskou word. Die implisiete verhouding tussen kreatiwiteit en gemoedsversteuring (in Hobbs se geval bipolêre gemoedsversteuring) kom ook aan die bod. Die bundel tree in gesprek met Jeanne Goosen se Elders aan diens (2007) en in ’n mindere mate met die briljante maar onderskatte ’n Uil vlieg weg (1971) [...]

“’n Debuutbundel deur ’n gevestigde uitgewer is reeds ’n waagstuk; ’n selfpublikasie en ’n debuut daarby veel groter. Tegnies sou Suitcase vol sterre beter versorg kon word om tikfoute uit te skakel. [...] Ten spyte van die onwennighede is Suitcase vol sterre ’n debuut wat nie geïgnoreer mag word nie.”

In 2018 publiseer Naledi Uitgewers As sy weer kom, Marlize se volgende roman. Die hoofkarakter is Iza en hierdie vertelling begin in 1991 toe sy by die Middestad Sending- en Evangelisasie- Aksie in Hillbrow aankom, skryf Clari Niemand (Netwerk24, 18 Februarie 2019).

“Op die trap voor die sendinghuis val iemand se tassie oop. Daar val hordes Bybels uit, om die waarheid te sê: sewentien Bybels. Ek het getel. Later sou ek leer dat niks wat mens in die Bybel lees, is soos dit is nie, en dat mens die Bybel uit soveel moontlike Bybels, veral in Engelse King James weergawes, moet lees, anders kop jy dit nie reg nie.” So skryf Marlize in As sy weer kom.

Niemand gaan voort met haar bespreking: “As sy weer kom kan nie net uit een oogpunt gelees word nie. Op soek na ’n diep kyk in die wese van ’n buitestander? Hierdie is net die boek. Op soek na omhelsing van menslike onvolmaaktheid, selfs patologie? Absoluut, lees dit. Op soek na ’n gelukkig einde? Wees oopkop. Op soek na ’n viering van lesbiese erotika? Gaan koop dit sommer dadelik.

“Marlize Hobbs daag haar lesers uit om oop te maak. Kop, hart ... lyf ook, sou dit die keuse wees. Deurgaans word die misterie van taal en woorde in verhouding tot lewenservaring ondersoek.

“Om terug te keer na die vraag: ‘Hoe word ’n oorrompelende roman gebou / geskep / geskryf?’ Hobbs doen dit deur outobiografiese belewenisse met verbeeldingsvlugte te vervleg, deur indentiteite te laat vurk en versplinter tot dit oplos in die klimaktiese vorteks van haar slothoofstuk. Wat was waarheid en wat fiksie? Wie was werklik en wat nie? Maak dit saak?

“Sy laat woorde ontplof en val rondom die leser, wat kan kies of hy/sy verskrik wil wegsteier of verwonderd wil hand uitsteek.”

Vir Celesté Fritze (Netwerk24, 18 Oktober 2018) vorm As sy weer kom ’n drieluik met Flarde en Score my ’n gwai. Die titel van die jongste roman, As sy weer kom, slaan terug na die ou Hallelujaliedjie “As Hy weer kom”, “maar hier word dit genderverskuiwend gebruik. Die vrouefiguur staan sentraal: ‘As sy weer kom ... kom haal sy haar pêrels’ (p 120).

“Verder skemer eggo’s deur van Hettie Smit se belydenisroman Sy kom met die sekelmaan, waarin die verteller in ’n soortgelyke broksgewyse styl te midde van verhoudingsleed na identiteit soek.

As sy weer kom se teks word nogmaal aangebied as flarde van ’n geteisterde ek-verteller op soek na sin, en soos in die vorige twee werke is die eerstepersoonsverteller ’n maatskaplike werker.”

Op LitNet begin Deborah Steinmair haar resensie ook met ’n terugblik na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan: “In 1947 het Hettie Smit se depressiewe alter ego klokslag saam met die volmaan opgedaag. Haar dagboek-en-brief-novelle was die eerste belydenisroman in Afrikaans, geskryf in ’n vrou se bloed en vanuit die maalkolk van haar siklus. In 2018 steek die skadu van Marlize Hobbs se verteller, Iza – die spookkind – sporadies kop uit: ‘Ek is nie seker wanneer ek verdeeld geraak het nie. Eendag was daar net twee van ons: ek en die spookkind. Miskien het sy verskyn die nag wat ek begin menstrueer het, miskien is sy gebore uit die pynlike krampe en bebloede bed.’

“Veel het tussen nou en 1947 gebeur: die onskuldige woordjie ‘kom’ het byvoorbeeld in die volksmond ’n stoute betekenis gekry. As sy weer kom is ’n lyflike, bebloede belydenisroman, ’n Sy kom met die sekelmaan vir lesbiese Generasie X’ers. Hopelik ook vir Millenniërs, Nullers en Generasie Z’ers. Dis moeilik om jou die gehoor van hierdie dun, veelseggende boek voor te stel. Benewens gay vroue visualiseer straight mans glo ook graag stywe tepels wat teen mekaar du, en hopelik sal selfs straight vroue ’n soort I kissed a girl and I liked it-kick daaruit kry. As jy die verteller, Iza, kan glo, is dit maklik om straight vroue te verlei. Want Marlize Hobbs is vreesloos en sy skryf met haar lyf, in die tradisie van gay vroueskrywers van byvoorbeeld die Iron Press-druknaam – die jong, aantreklike, hormoongedrewe gay vrou as rokjagter.

“Ja, op die oog af is As sy weer kom ’n reeks verleidings- en vry-episodes, byna soos Kleinboer se boeke. Maar soos in die geval van Kleinboer se tekste skuil daar ’n wêreld tussen die reëls, is die afwesige kloppend teenwoordig, die verlies en ontgogeling, die soeke na sin. Dit herinner ook aan Jeannette Winterson, want Hobbs is immer ’n digter en niks is meer poëties as die lyf nie. Tussendeur is daar terugflitse na haar kinderdae op ’n windverwaaide plaas en die karakters wat haar landskap bevolk het.

“Soos Frida Kahlo en Vincent van Gogh reik Hobbs altyd weer na haar eie beeld vir inspirasie. Al die karakters is tot ’n mate uitvloeisels of weerspieëlings van die verteller, Iza, soos in ’n droom waar al die karakters glo aspekte van die dromer is. Die spookkind, die bot pa wat diep in die bottel kyk, die aktrise, ja selfs die mensvreteroom. Die verteller poog om al die skerwe van die gebroke kaleidoskoop te versoen, te herenig. Dis ’n besinning oor bestaan en die skryfproses, en dit laat skryf na droom klink: ‘Skryf is soms ’n natuurlike uitvloeisel van die daaglikse gebeurtenisse wat vir jare sluimer en ongesê en onuitgesorteer in ons onderbewussyn wag om verwoord te word. Dis ’n tipe huisskoonmaak, opruim en afstof. Dit is ook ’n selfrefleksie in ’n oneindige spieël wat sonder enige oordeel bloot net reflekteer. Ek het vroeg geleer dat die stof altyd terugkeer.’

“Benewens die spookkind – sy is maar een van die spoke wat opdoem – is daar die blink ding soos ’n frisbie wat Iza op vierjarige ouderdom bo die horison sien hang het: ‘Toe skiet daar ’n skerp lig deur my oog en ek val.’ Epilepsie en bipolariteit is die kraak wat deur alles loop en die lig inlaat. Gemoedsteurnis is die losprys wat betaal word vir inspirasie en helderheid. ‘Selfs nou … voel dit steeds soos die vreemde verligting van ’n wegruk deur ’n ruimtetuig die ewigheid in, verlos van die aarde en mense, van my eie lyf.’ [...]

“Skryf is lyf, skryf is bloederige geboorte, en as jy dit reg doen, is dit morsig. En daar is ’n sekere manier waarop veral vroueskrywers dit reg kan doen.”

“Met As sy weer kom trap Hobbs in die spore van skrywers soos Jeanne Goosen, Joan Hambidge, Koos Prinsloo en Eben Venter. Die dunnerige boek is ’n psalter, soos ’n beduimelde digbundel vir weer en weer lees. Dis gelade en gekonsentreerd soos At Grand Central Station I sat down and wept. Dis die stoffasie van kultusboeke: ‘Ons fok die heelal in.’ Ek hoop sy sal vlieg.”

Marlize se volgende roman, Voëlvrou, word beplan om gedurende die tweede helfte van 2002 te verskyn by Protea Boekhuis en het die grendeltydperk as gevolg van die COVID-19-virus as agtergrond. Op Marlize se Facebook-blad word die volgende oor Voëlvrou geskryf: “Binnekort verskyn ’n novelle wat afspeel in grendelstaat / lockdown by Protea Uitgewers, getitel: Voëlvrou. ’n Vreemde vrou in ’n verflenterde rooi boks verskyn in ’n Tswana village in die ou Bophutatswana. Wat sal die mense daarvan maak? Die protagonis, Minerva, sit tuis onder grendelstaat, ingeperk in alle opsigte, behalwe haar verbeelding en haar herinneringe. Sy vertel die verhaal van haar eerste liefde, terwyl sy die stryd van haar geliefde, haar vrou, met borskanker probeer verwoord. Intussen is daar Naledi, hul aangenome dogter, wat outisties is en haar leer hoe om die lewe deur ander oë te bekyk. In die village leer die Voëlvrou die dofkopkind Thupelo ken en dis asof hy skielik kan verstaan. Die vreemde konstante vrees vir die virus en die bewuswording daarvan bereik uiteindelik ook die village waar mense siek word. Wat word van die voëlvrou? Wat word van die skrywer-protagonis wat deur grendelstaat geforseer word om haar eie spoke te face?”

Op LitNet vra Nathan Trantraal aan Marlize: “Die motief van die spieël in Score my ’n gwai ... ek wonder daaroor. Is dit vir jou swaar om jouself te sien weerspieël op die blaai?”

Haar antwoord: “Met Flarde kon ek glad nie die boek weer lees nadat ek dit geskryf het nie. Dit het my te diep geraak. Met Score my ’n gwai het ek die dag wat ek die boek gekry het, gaan sit en deur dit gelees. Ek was verstom hoe raak ek geskryf het, hoe eerlik, so sonder selfbewustheid, asof ek maar net ’n storie aan myself vertel. Ek kon nie glo ek het dit geskryf nie. Daar was plekke in die boek waar ek fisies naar geword het toe ek dit so van buite af lees. Die spieëlbeeld het teruggeblits tot in my siel ... wat herinner aan Nietzsche wat gesê het dat as jy in die abyss kyk, kyk dit terug in jou.”

Oor die gelukkige einde in Score my ’n gwai laat Marlize haar as volg uit teenoor Trantraal: “Jafok, happiness is nie iets waarmee die mensdom goed deal nie, jy weet. En happiness kry oor die algemeen eers werklik waarde as daar ook sadness was. Maar selfs in Flarde, aan die einde, groei daar vlerke uit die krom skouers van die hoofkarakter ... word sy vry. Dit sal baie eensydig wees om net oor slegte goed te skryf. My strewe in die lewe is ’n soektog na balans. Ek is nie bang om oor geluk of die soeke na geluk te skryf nie, want dit is ’n veel dieper tema as ongeluk en hartseer. Dit is inderdaad ’n kuns en ’n kreatiewe manier van leef, om geluk op soek en die vermoë te hê om dit te kan ervaar. Ek het wel ’n sekonde stilgestaan en myself afgevra of dit afbreuk aan die intensie van die verhaal gaan doen as die karakter geluk vind; maar dit het gou oorgewaai: in eerlikheid nou, die lewe is nie net sleg nie en mens moet dit ook weerspieël in jou skryfwerk.”

Publikasies:

Publikasie

Flarde: ’n novelle

Publikasiedatum

2005

ISBN

0958460442 (sb)

Uitgewers

Parklands: Genugtig!

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 2006
  • Universiteit van Johannesburg-prys vir Beste Skeppende Debuutwerk 2006
  • Jan Rabie/Rapport-prys 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Score my ’n gwai

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798162555 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Kortlys vir kykNET-Rapport Boekprys: kategorie film 2016

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Suitcase vol sterre

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780620713344 (sb)

Uitgewers

Lechermin Media (Marlize Hobbs)

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As sy weer kom

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781928426202 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Marlize Hobbs op die internet

Artikels deur Marlize Hobbs op die internet

Marlize Hobbs se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-04-12 gepubliseer en nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Marlize Hobbs (1972–) appeared first on LitNet.

Persverklaring: Die ATKV groet ’n groot gees

$
0
0

Danny Titus (foto verskaf)

Danny Titus, voormalige uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, is op 18 September in die ouderdom van 63 jaar oorlede.

Titus was sedert einde Julie in ’n koma nadat komplikasies ingetree het tydens ’n operasie om ’n katarak te verwyder.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dat sy afsterwe ’n groot leemte laat en dat dit ’n baie hartseer dag is.

Volgens Brits het Titus diep spore getrap in periodes van verandering – in Suid-Afrika en by die ATKV. Sy leierskap, integriteit en empatie sal haar altyd bybly.

“Hy was die regte man op die regte tyd.”

Die afgelope 12 jaar het hy hom beywer vir taal en kultuur. Saam met die ATKV het hy Afrikaans toegankliker en inklusiewer gemaak en daarvoor sal hy onthou word.

Dié regsman, taalman, historikus en meningsvormer se nalatenskap is een van groter begrip en inklusiwiteit oor die kleurgrense heen.

In 1983 is hy as advokaat tot die hooggeregshof toegelaat en het hy as staatsaanklaer by die departement van justisie gewerk.

Hy is in 1987 Nederland toe om sy studies aan die Universiteit van Leiden voort te sit en hy keer in 1993 met ’n meesters- en ’n doktorsgraad na Suid-Afrika terug.

In Februarie 2020 het hy as deel van sy geboortedorp, Worcester, se 200ste bestaansjaarvieringe die Freedom of the Town ontvang.

Titus was besonder trots op hierdie toekenning en het ná die toekenning geskerts en gesê: “Dit is vir my baie aangenaam. Jy leef jou lewe rustig en ander sien dit raak.” 

“Ons gebede gaan veral uit na sy twee dogters, Daléne en Neriska,” sê Brits. “Ons gaan jou mis, dr Titus, en groet jou met groot respek en groot dankbaarheid vir die verskil wat jy gemaak het en die lewens wat jy aangeraak het.”

The post Persverklaring: Die ATKV groet ’n groot gees appeared first on LitNet.

Viewing all 493 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>