Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 493 articles
Browse latest View live

Anlen Marais (1953–)

$
0
0

Foto: NALN

SêGoed van Anlen Marais:

“Poësie is vir my ’n medium wat ’n byna religieuse toewyding eis van wie daarmee besig wil wees.”

“As digter sal ek altyd Afrikaans bly. Dis die taal waarin die wonderbare stuk geel kaas van die maan vir altyd sawens voor my sal opkom.” (Die Burger, 20 Maart 1999)

Hoe gaan sy te werk as sy dig? “Soms kom dit gou. Maar meestal is dit ’n lang proses van besinning. Dis nie makliker (of vinniger) om ’n gedig te skryf – as sê – ’n drama nie.” (Insig, Februarie 1999)

Waar skryf sy? “In die studeerkamer. Alle gedigte vind egter nie noodwendig hul voltooiing daar nie. Dit bly draai maar in ’n mens se kop waar jy ook al gaan. Soms kom die oplossings waarna jy soek, by die onmoontlikste plekke by jou op – soos wanneer jy inkopies doen.” (Insig, Februarie 1999)

Hoe gaan sy te werk om iets te skryf? “My idees word vroeg gebore. Karakters speel in my gemoed. Dit duur ’n lang tyd voordat dit op papier kom.” (Die Burger, 20 September 2003)

“As ’n gedig voltooi is en hy het geword wat hy moes wees, gee dit ’n geluk wat niks anders dermate kan gee nie. Die effek is egter kortstondig, want die geluk kwyn as ’n mens afstand op die skryfsel kry, en dan begin die analise.” (Insig, November 1988)

Is sy ’n taalvegter? “Ja, ek is gekant teen Engafrikaans. Ek voel die gebruik daarvan voer ons drie eeue terug na die tyd toe Afrikaans as kombuistaal bestempel is.” (Die Burger, 20 September 2003)

Gebore en getoë

Anlen Elisabeth Marais is in 1953 gebore as ’n nooi Jordaan. Sy word groot op Fort Beaufort in die Oos-Kaap, waar sy matrikuleer. Sy was hoofmeisie daar en voeg vinnig by: “Daar was net tien kinders in die klas, waarvan twee meisies was.” (Oosterlig, 26 November 1984)

Haar vader was betrokke by die veiligheidspolisie en haar moeder was ’n dosent in Engels en Latyn aan die Fort Hare Universiteitskollege.

Anlen beskryf haar grootworddorp aan Roline Norval (Oosterlig,  5 Oktober 1988) as ’n “stimulerende dorp met baie bakens in die landskap. Van kleins af is ek gekonfronteer met die groot swart gesig van die dorp. Die swart werkers het elke oggend met hul perde uit die berge op die dorp aangekom en elke aand met die aandklok verdwyn. Van politieke werklikhede het ek van my pa gehoor, wat in die veiligheidspolisie was. My ma, wat Latyn en Engels aan die kollege doseer het, het saans voor die kaggelvuur vir my as klein kind die legendes en mites van die Griekse en Romeinse gode vertel. My pa het ook gedurig stories vertel.

“Dit is hier waar woorde en wat jy daarmee kan doen, vir my ’n gevoel van opwinding begin gee het deur die kontras tussen die onheilspellende skadu’s wat die vlamme agter teen die muur gooi en die veilige en geborge gevoel om die kaggel, waar Ma woorde optower en Pa biltong kerf.

“Fort Beaufort was ’n mengelmoes van plattelandse mense met ’n kosmopolitiese aksent uit die geledere van die universiteit en die Duitse klooster wat as die kultuursentrum van die dorp beskryf kan word. Dit is by die klooster waar ek Duits-klasse en musiek geneem het.”

In standerd ses lees Anlen “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw in ’n tydskrif en dit is toe dat sy haar eerste gedigte begin skryf: “Ek onthou nog die opwinding en dankbaarheid wat ek gevoel het dat so iets in Afrikaans geskryf is en dat dit hoegenaamd geskryf is,” vertel sy aan Norval.

Verdere studie en werk

Na matriek is Anlen na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA en BA Honneurs behaal. Sy was, soos vele ander digters wat in daardie jare op Stellenbosch was, lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium. In haar honneursjaar was sy Opperman se assistent en dit is veral in daardie tyd dat haar digwerk rigting gekry het. Terwyl sy haar vir ’n MA-graad in Afrikaanse letterkunde voorberei het, het Opperman siek geword en het sy haar studie op die lange baan geskuif. Sy is toe as gas van die Nederlandse Zuid-Afrikaanse Vereniging na Nederland.

In 1977 behaal Anlen haar HOD aan die Universiteit van Port Elizabeth en vanaf 1978 tot 1983 is sy verbonde aan verskeie skole in die Kaap en op Uitenhage.

Sy tree in die huwelik met A Marais en hulle gaan vestig hulle op Despatch. Die egpaar het ’n seun, Ernst.

Die Departement van Nasionale Opvoeding skryf in 1979 ’n prosawedstryd uit, en hoewel daar geen wenner of naaswenner aangewys is nie, word die derde prys gesamentlik aan Anlen en Roy Niemann toegeken. Anlen ontvang dit vir haar manuskrip Op parool.

In 1984 debuteer Anlen as digter in die bundel Visier, wat deur Charles Fryer en Petra Müller saamgestel is. Ander digters wie se werk ook in die bundel opgeneem is, is Carol Clark, Wium van Zyl, Donald Riekert en Rosa Smit. TT Cloete skryf in Tydskrif vir Letterkunde (Mei 1985) dat Anlen die digter is wat individueel die beste indruk gemaak het. Daniel Hugo meen in Die Volksblad (15 Desember 1984) dat Anlen die sterkste digter in die bundel is: “Haar gedigte is met ’n beheerste, vormvaste hand geskryf,” sê hy. Vir André le Roux in Beeld is Anlen se gedigte met elke herlees beter en dat haar eie bundel moet verskyn.

Foto: Pixabay.com

Na die geboorte van hulle seun was Anlen vir vier jaar by die huis en gedurende hierdie tyd ontstaan haar eerste selfstandige bundel, Die wolf in die blare. Sy verduidelik aan Roline Norval dat die titelgedig sinspeel op die kinderverhaal van die wolf en die drie varkies, “waarin sy die vrese wat met kindersprokies gepaard gaan en die rol wat die ma se vrese daarin speel, bekyk. Dit is veral die toonaard van hierdie gedigte wat van dié van my vroeë gedigte verskil. Ek is met ’n man getroud wat die lewe tong-in-die-kies benader wat my ook beïnvloed het om minder ernstig te wees. Ek voel ook ’n skatpligtigheid teenoor die omgewing en het die geografiese gebied beklemtoon.”

Die bly in ’n huis en die redes wat ’n mens dwing om daar te bly soos verpligtinge is die belangrikste tema van Die wolf in die blare. Ook is die son wat sleg is vir die menslike liggaam as gevolg van ’n siekte, ’n ander oorwegende tema.

Nadat sy in Visier gedebuteer het, hou Anlen aan met skryf en dit is hierdie gedigte wat in haar eerste bundel opgeneem is. In Insig van November 1988 vertel sy as volg: “Maar dis eers sedert Desember verlede jaar (1987) dat ek ’n patroon in die verse begin waarneem het en toe besluit om meer by te voeg en aan te las vir ’n bundel."

Pieter van der Lugt (Die Burger, 8 Desember 1988) sê dat dit “verblydend is om ’n debuut te sien waarin die peil van die verse so konstant is. Hier is min vaal kolle en origens ’n handvol verse wat talle lesers sal bybly. Daar is ’n konsekwentheid in die segswyse wat ’n afgeronde indruk laat en groot belofte inhou.”

Vir Joan Hambidge (Beeld, 5 Desember 1988) is “die vermoë om temas te kan komponeer, verdienstelik. Daar is blyke van ’n kragtige eie stem en ’n vermoë om konkreet te werk. Die verse is egter nie altyd tegnies af nie. Sou die digteres egter tegnies ontwikkel, behoort haar eiesoortige visie tot ’n boeiende digterskap te ontwikkel.”

Anlen skryf haar in 1988 in vir ’n graad in kuns aan Unisa. “Ek wou graag met ’n ander kunsvorm eksperimenteer soos met beeldhouwerk. Dit is interessant dat ’n mens met dieselfde probleme soos dié van integrasie te kampe kry in elke kunsvorm. Ek het my eerste jaar met beeldhou as hoofvak met vlieënde vaandels geslaag, maar het besluit om in my tweede jaar slegs kunsgeskiedenis aan te pak, omdat ek die wondere van die rekenaar ontdek het,” vertel sy aan Roline Norval.

’n Toneelstuk van Anlen, Wittakker se laaste trippie, word in 1989 by die ATKV se Kampustoneelfees opgevoer deur die Universiteit van die Witwatersrand se Dramadepartement. Sy beskryf die stuk as post-protesteater. “Dit is teater van versoening. Daar is ondertone van protes teenwoordig, maar dit is nie die protes van spoeg nie,” verduidelik sy aan Roline Norval (Oosterlig, 23 Maart 1989). Die stuk is ’n huldeblyk aan Wittakker, ’n Engelse narkotiseur wat altyd saam met ’n groepie bruin vissers gaan visvang het. Daar is twee sterk rolle in die stuk en een is geskryf met die akteur Eric Nobbs in haar agterkop, en in die ander rol sou sy graag ’n akteur soos John Kani wou sien wie se gesigspel een van sy sterk punte is.

Anlen was een van die eerste persone wat die ATKV se werkskole bygewoon het. Sy het in 1985 ’n werkskool bygewoon wat deur Nico Luwes gelei is oor die skryf van dramas.

In 1990 ontvang Anlen ’n oproep van Japie Greeff, voorsitter van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in Oos-Kaapland, met die versoek om ’n passiespel te skryf. Sy was juis besig met navorsing vir ’n gedig oor die opstanding soos dit in Johannes 20 beskryf word. Hierdie gedig het Maria Magdalena se slotliriek in die passiespel Die passie van onse Heer geword. Anlen het die teks en lirieke geskryf en die passiespel is onder haar regie in 1991 in Happy Valley in Port Elizabeth opgevoer in samewerking met Kruik. Van die soliste was Randall Wicomb, Rudi Neitz, Theo Boekkooi, Retha Smit en Patricia Smith.

Saam met Patricia Smith is Anlen in 1992 verantwoordelik vir ’n kinderreeks, Moeder Aarde, wat oor omgewingsbewaring handel en wat oor Afrikaans Stereo se kinderprogram Siembamba uitgesaai is. Sy beskryf die oorsprong van hierdie reeks aan Roline Norval (Oosterlig, 2 Oktober 1992): “Ek het vir Patricia vertel van die liedjie wat ek geskryf het met ’n paar stories met ’n bewaringstema. Ek het egter weer daarvan vergeet totdat Patricia vir haar gevra het om daarna te kyk. Patricia het die stories aangevul met ’n paar van haar eie totdat daar genoeg was vir ’n hele reeks. Die stories, almal met ’n bewaringstema, speel hulle af in die Oos-Kaapse omgewing met die bedreigde diere van die streek as tema. Patricia het die stories ‘gered’ het, want ek was baie besig om aan talle projekte te werk, soos ’n etniese drama met musiek, asook ’n Kersspel wat opgevoer sou word om Despatch se 55ste jaar te vier.” In 1993 skryf Anlen ’n opvolgreeks van ’n verdere tien episodes van Moeder Aarde.

Ben de Koker van Bloemfontein neem die regie waar van haar Kersspel, Die seuns van Jonathan, wat in 1992 op die planke gebring is.

In 1993 ontvang Anlen ’n uitnodiging om haar kinderdrama Koer-koer vir opvoering te neem na die Third International Women Playwright’s Conference in Adelaide in Australië.

Anlen is ook ’n skilder van naam en sy het al ’n uitstalling van haar skilderye saam met ander kunstenaars in Uitenhage gehou.

Anlen se veelsydigheid ken geen perke nie en in 1995 word haar eerste musiekspel, Noah was his name, deur die Hoërskool Brandwag op Uitenhage opgevoer. Hierdie stuk is ’n unieke benadering tot die storie van Noag, wat die “natuurbewaarder” was toe die groot vloede die aarde verswelg het. Deur die stuk hoop Anlen om die kinders meer betrokke te kry by natuurbewaring.

Anlen lees in 1995 in Die Burger van BBC World Service se dramawedstryd en sy besluit om daaraan deel te neem. Vir haar drama Dear Miester Mandela word sy aangewys as die streekwenner vir Afrika en die Midde-Ooste en die moontlikheid het bestaan dat dit as radiodrama oor die BBC uitgesaai sou word. Sy beskou hierdie toekenning as een van die hoogtepunte van haar skryfloopbaan. Sy het die stuk aanvanklik in Afrikaans geskryf en dit toe in Engels vertaal. Anlen meen dat die stuk baie beter in Afrikaans klink, omdat dit in die streektaal van die Oudtshoorn-distrik geskryf is.

Die idee vir die stuk het ontstaan na aanleiding van ’n storie wat haar oupagrootjie, ’n Skot van geboorte wat by Oudtshoorn geboer het, vertel het, vertel Anlen aan Roline Norval (Die Burger, 28 September 1995). Haar oupagrootjie se plaas is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse soldate beset en een van die werkers op die plaas het ’n Engelse soldaat se kind gehad. Anlen het geen idee wat van die kind geword het nie, maar sy het hierdie gegewe as agtergrond gebruik in haar verhaal waarin sy ’n beeld probeer gee van die gebeure van die twintigste eeu in Suid-Afrika.

In Anlen se verhaal erf die kind wat destyds gebore is, ná 90 jaar £10 000 van sy Engelse kant van die familie. Hy kan egter nie lees of skryf nie en die brief wat hy aan sy vrou dikteer, dra hy op aan “Miester Mandela” en dit vorm die drama.

In 1997 is die Afrikaanse weergawe van die stuk, Horiesô Madiba, by die hooffees van die KKNK deur Kruik Oos-Kaap opgevoer met David Goliath en Vinette Ebrahim in die hoofrolle en onder regie van Marléne Pieterse. Na die opvoering skryf Roline Norval dat hierdie stuk Afrikaanse teater, veral in die Oos-Kaap, weer moed gee. “Met skerp waarneming, aanvoeling en verbeelding het sy vir haar Martiens en Ragel ’n verwysingsveld geskep wat hulle eg en geloofwaardig maak. Sy gebruik byvoorbeeld die rol wat mites in die kultuuragtergrond speel om die meer gesofistikeerde teatergangers ’n subtiele aanduiding te gee van wat van hul kleinseun geword het. Dit is nie net twee karakters nie, maar die geskiedenis en ’n plek waaraan lewe gegee word.”

Een van die beoordelaars van die BBC se kompetisie, Tim Butchard, hoof van die Departement Drama en Dans van die British Council, het die stuk as “roerend en skerpsinnig en ’n besonderlike effektiewe stuk teater” beskryf. Die paneel van ses beoordelaars het die stuk se “roerende eenvoud en die patos waarmee die twee bejaarde mense se oorloggeteisterde lewens uitgebeeld word, aangeprys en die stuk opgesom met: ‘Goeie karakterisering en ’n goeie uitbeelding van die verhouding tussen die twee mense en ’n gevoel vir die taal wat hulle praat ... die skrywer het baie talent, vernuf en kundigheid’.”

Anlen se kulturele bydrae oor twintig jaar tot die Oos-Kaap word in 1998 deur die Departement van Kuns en Kultuur erken toe sy ’n toekenning van hulle ontvang.

In 1998 tree sy saam met ander skrywers by die Universiteit van Port Elizabeth se skryfskool op. Sy het die afdelings radiodramas en dramas behartig. In 1998 bied sy ook ’n radiodrama-werkswinkel op Graaff-Reinet aan vir die Departement van Kuns en Kultuur.

Na elf jaar word Anlen se tweede digbundel, muur van berge, in 1999 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is geïnspireer deur die gebeure toe haar moeder nie meer kon praat nie weens keelkanker. Daarna kon sy net deur briefies te skryf met haar dogter kommunikeer. Anlen en haar geneesheer-man het haar so lank as moontlik tuis verpleeg en daar was eenvoudig nie die tyd of energie om aan gedigte te dink nie, vertel sy aan Cas van Rensburg (Insig, Februarie 1999). Petra Müller en Danie Botha van Tafelberg Uitgewers was die groot impetus om met die materiaal om te gaan. “Jaar ná jaar het hul Kerskaarte aangekom met die boodskap: Ons wag.”

Ná twintig jaar het Anlen uiteindelik die moed gehad om deur die boks met papiere te gaan: “Met die skryf van muur van berge moes ek my nie alleen in tyd terugverplaas nie, maar ook na die gebeure se ruimte. Dit het soveel konsentrasie geverg dat ek soms vergeet het waar ek my eintlik bevind.”

Sy vertel aan Cas van Rensburg dat dít waaroor sy in muur van berge skryf, haar vir baie lank sonder woorde gehad het: “Selfs nou nog vind ek dit moeilik om daaroor te praat. Voorts het ek vir ’n lang ruk gemeen die onderwerp is dalk té persoonlik vir publikasie. Deur te wag het ek gehoop dat ek die nodige afstand daarop sou vind en sodoende reg sou kon laat geskied aan die omvang en diepgang daarvan.”

Oor die titel van die bundel verduidelik Anlen aan Van Rensburg dat haar ma die laaste ses maande nie meer kon praat nie; dus moes sy alles wat sy wou sê, neerskryf: “Muur van berge is haar laaste woorde. So het sy dit wat sy toe gesien het, onder woorde gebring. ’n Vertroostende nalatenskap.”

In Zuid-Afrika van November/Desember 1999 skryf Hans Ester: “Ik vind deze poëzie zeer indrukwekkend en ik ben blij dat er in Zuid-Afrika ook nog gedichten werd geschreven waarin de ironie en de onbetrokkenheid het moeten afleggen tegen de werkelijke levensproblemen.” AP Grové (Beeld, 24 Mei 1999) meen dat daar beslis beplanning en struktuur in die opset van die bundel sit, asook afwisseling van spanning. “Maar die bundel het ook sy skadukant. Baie van die gedigte, selfs van die bestes, word plek-plek te informatief, mededelend, prosa-agtig, ritmies spanningloos. [...] Dis ’n bundel wat sekerlik ’n bydrae lewer, maar daarby is dit ’n bundel wat vanweë verstegniese tekorte nie sy moontlikhede en beloftes ten volle kon verwesenlik nie.” Francois Smith (Die Burger, 2 Junie 1999) skryf dat Marais se poësie nie soseer deur die beeldgebruik of liriese toon bekoor nie. “Dit is egter ’n ryk bundel vir diegene wat bedag is op hoe die ‘fyn net van die woord’ reg deur die bundel ingespan word.”

Anlen se radiodrama The medic was onder die tien finaliste in die Sanlam/RSG se hoorspelkompetisie in 1999 en word op RSG uitgesaai onder regie van Terrance April. Verskeie van haar verse word in versamelbundels opgeneem, onder andere in Sy sien webbe roer, wat in 1999 deur Lina Spies saamgestel is. Twee kortverhale wat Anlen ingeskryf het vir De Kat se Vonkfiksie-wedstryd word saam met ander finaliste s’n gepubliseer in ’n bundel wat by Human & Rousseau uitgegee is.

In Maart 1999 ontvang Anlen ’n oorkonde van die ATKV vir haar bydrae tot Afrikaans.

Op grond van ’n nominasie deur die BBC word Anlen in 1999 genooi om deel te neem aan die Alexander Onassis International Competition Prize for the Composition of an Original Theatrical Play, wat geskeduleer was om in 2001 toegeken te word met ’n prysgeld van $150 000.

In 2003, met haar vyftigste verjaardag, het die Port Elizabethse Amateur-toneelvereniging (Peaat) haar vereer vir haar bydrae tot Afrikaans deur ’n toneelstuk, Die storieboom, oor haar werk op te voer. Agt van haar gedigte is in Groot verseboek 2000, wat deur André P Brink saamgestel is, opgeneem.

Anlen is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en op 2002 se toekenningsplegtigheid vir die Hertzogprys het Elize Botha vir Anlen persoonlik bedank vir haar bydrae tot Afrikaans. “So ’n opmerking kan geen geld ter wêreld koop nie.” (Die Burger, 20 September 2003)

Publikasies:

Publikasie

Die wolf in die blare

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026647 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

 

Publikasie

muur van berge: elegieë

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037533 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen


Artikel oor Anlen Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Anlen Marais beskikbaar op die internet

The post Anlen Marais (1953–) appeared first on LitNet.


PW Buys (1923–1999)

$
0
0

Gebore en getoë

Aanhalings uit enkele gedigte van PW Buys

Tiptol

...
Kletsnat hol
hy na die plas se kant,
hy stryk
sy veertjies met sy snawel glad.
Heilig en spieëlsuiwer blink
sy omgekeerde beeldjie in die watervlak.

...
Finaal bekeer
begin hy luidkeels bid en roep
in tongetaal.

’n Halfuur later steel hy weer
een van my adamsvye.

Oor sy werk by Huis Eikelaan

 ’n Ligte werk wat ’n emeritus
teen die verveling van die oudag
sal beskerm?

Nou tien jaar al
sprei ek my pastorale vlerk
beskermend oor hul uit
en vou hul in die liefde toe
van Christus en sy kerk.

Maar, Here God, U weet,
ek hou my hart met albei hande vas
wanneer ek smôrens binnegaan
in hierdie groot
wagkamer van die dood.

En só beskryf hy God se groot liturgie in die groot en klein dinge van die natuur:

Waar alles rondom so ’n helder prent
van sy nabyheid is, is sakrament

en werklikheid tot een saamverbind.
En as die dag verby is en die wind

met skemeraand die laaste lofsang speel,
dan hef die son sy hande teen die geel

aandhemel op en spreek nog ten besluit
die seën oor die verlate landskap uit.

Pieter Willem Buys is op 15 Oktober 1923 in Germiston in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) gebore. Sy ouers was Karoomense. Sy moeder was ’n nooi Du Plessis van Philippolis en sy vader ’n Steynsburger. Hulle het na ’n plaas tussen Brakpan en Heidelberg verhuis toe hy nog ’n jong seun was.

PW Buys het in Brakpan en Bronkhorstspruit skoolgegaan en in Bronkhorstspruit gematrikuleer.

Verdere studie en werk

PW Buys het sy naskoolse studie aan die Potchefstroomse Universiteitskollege in 1941 begin – die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die grade BA, BD, ThM en ThD (in 1970) aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-Universiteit) behaal. Hy was met Lulu getroud; sy is in 2001 oorlede. Die egpaar het vyf kinders gehad: twee seuns, Gerrit en Johan, en drie dogters, Mietsie, Susan en Louise.

Vanaf 1948 tot 1950 is hy predikant in die Gereformeerde Kerk op Theunissen in die Vrystaat. Saam met die gemeente het hy die groot ontwikkeling op die Vrystaatse goudvelde meegemaak.

In 1950 is hy na Kroonstad (ook in die Vrystaat) en was vanaf 1953 tot 1966 leraar van die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom. Tydens sy bediening daar is ’n nuwe kerkgebou in gebruik geneem. Hy het in 1961 drie maande lank in Nederland gewoon, waar hy aan sy doktorale studie gewerk het.

In 1966 is hy na die Noordbrug Gemeente in Potchefstroom, waar hy predikant was tot 1973.

Vanaf 1973 tot 1988 was PW Buys professor in die etiek en apologetiek aan die Teologiese Skool in Potchefstroom en aan die PU vir CHO, waarna hy rektor van die Teologiese Skool in Potchefstroom geword het, tot 1985. Vanaf 1981 tot sy aftrede in 1988 was hy hoof van die Departement Dogmatologiese Vakke.

In 1979 het Buys, in opdrag van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerk, die teks van Totius se Psalmberymings hersien. Hy het die teks van die Totiusberymings so ver as moontlik behou en slegs die ou Nederlandse vorme met nuwer Afrikaanse woorde vervang. Hierdie hersiening wat hy pas voor sy dood voltooi het, moet nie met die nuwe Psalmomdigtings verwar word nie.

Ná sy emeritaat in 1988 het hy met pastorale versorging van bejaardes in drie Potchefstroomse aftreeoorde begin, ’n liefdestaak wat hy verrig het tot sy afsterwe in 1999.

Met sy emeritaat in 1988 is ’n bundel wetenskaplike opstelle vir hom aangebied onder die titel Waar die paaie saamwoon. Onder bekende teoloë wat studente van Buys was, tel onder andere Fika van Rensburg, Herrie van Rooy, Paul de Bruyn, Koot Vorster en PP Kruger.

PW Buys het deur die jare talle artikels in wetenskaplike en kerklike tydskrifte en boeke gepubliseer. Hy was ook vir baie lank redakteur van die Christelike kinderblad Slingervel. Benewens wetenskaplike artikels deur hom het van sy verse ook van tyd tot tyd in Tydskrif vir Letterkunde en Stiebeuel verskyn.

Buys het in 1977 met die digbundel Pleroma gedebuteer. Die titelwoord is ’n godsdienstige term wat beteken dat God alomteenwoordig is in die skepping.

“Die gedigte in die bundel is in sewe afdelings (sewe is die Bybelse volledigheidsgetal) tuisgebring en dit wil tesaam duidelik maak hóé God alomteenwoordig is in Sy skepping. En dan tref dit ons dat ook Buys se poësie ons uiteindelik uitbring by die organiese gedagte wat ons teëkom by ander digters, soos Van Wyk Louw, DJ Opperman, Herman Gorter en Totius, vir wie die organiese samehang van dinge in God hulle oorsprong het, soos ook vir Buys. Ons het hier nie met invloed te make nie, maar met diepe verwantskap,” volgens die resensent (onbekend) in Junie 1978 se Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

“Buys se organiese, pleromatiese kyk op mens en wêreld, mens en skepping, is wesentlik digterlik en ’n vormkrag. Vanweë die pleromatiese samehang van dinge kan uiterstes met mekaar saamgaan, soos die heerlike en liriese ‘Amelita Galli-Curci’ en die pragtige singende ‘Meidjie’ wat spontaan saamhoort met die vroue in pyn in die afdeling ‘Vroue’. Wat boei in Pleroma is wat ons kan noem die veranderlike perspektief, maar die konstante resultaat. (...)

“Die lewensvolheid en egtheid van die bundel lê vervolgens daarin dat ook die onsekerhede van die mens, sy ‘gemis’, sy pyn en verdwaaldheid in ’n soms ontgrensde wêreld (‘My plaas se grens’) in hierdie gedigte onder woorde gebring is. En ook in die geval van die pyn byvoorbeeld is gewone daaglikse dinge, die ‘voorhande’ dinge, weer eens die vertrekpunt van ’n ervaring wat ver uitreik, soos in die merkwaardige ‘Kleiosse’, waar die seun se skurwe winterwond, wat ontstaan het omdat hy kleiosse gemaak het, uitgroei tot die pyn van die mens. (...)

“Oor die gaafheid van die vers in Pleroma hoef mens nie te twyfel nie. Dié is daar. Gaan luister maar na die gang van die ritme in die slot van ‘Tornado’ of die delikate klank en ritme in ‘Meidjie’. Met groot gemak is die verse geskryf in Pleroma wat so ’n vol werklikheid dra van groot en klein, naby en oneindig verre dinge, en dit is juis in hierdie laaste, groter strukture dat Buys uitmunt.”

Buys se tweede bundel, Wit korbeel, is in 1987, presies tien jaar na Pleroma, gepubliseer. Jacques van der Elst (Die Vaderland, 30 November 1987)  was verras deur die hoeveelheid verskillende temas en motiewe in die bundel omdat ’n mens kon aanneem – siende dat die digter ’n teoloog is –dat die meeste gedigte godsdienstig van aard sou wees. Daar is wel ’n sterk godsdienstige ondertoon, maar dit is nie al nie.

“Baie van die gedigte reik uit na die bestaan van die mens as fyn beskouer van die natuur en deelnemer aan die alledaagse dog uiteenlopende ruimtes: Tomstraat in Potchefstroom, die Sinoiagrot in Zimbabwe, die stadsbeeld van Chicago, die Komiteekamer, Pafuri by die groot Luvuvhu, die studeerkamer met die staander van sy  leeslamp.

“Religieuse poësie het soms ’n inherente gestremdheid – enkele gedigte is nie heeltemal vry nie – omdat daarin dikwels te veel en te persoonlik bely en getuig word, meestal met die doel om te evangeliseer tot aan aanvaarding van die heilsgebeure en die geestelike verlossing van die mens. Hierdie oorreding tot aanvaarding geskied soms ten koste van estetiese waarde en oorspronklikheid van segging.

“Die bundel verken ’n verskeidenheid temas: (a) die wêreld as ‘vindplek’ van die poësie; (b) die vraag na die waarom van die bestaan van die gebrekkige en invalide mens; (c) die besinning oor die sterflikheid van die mens en terminale siektes met ’n ironiese verwysing na die onuitroeibaarheid (onsterflikheid?) van die kankersel; (d) die predikant en die resepsie van sy preek met die besonder vindingryke beeld van die stom parkeermeter.”

Vir Van der Elst is Wit korbeel ’n bundel wat baie leesbaar is, nie net vir die akademiese leser nie, maar ook vir die man op straat wat ’n voorliefde vir die poësie het. “Tussen die vele debute van ‘angry young men’ is dit ’n oase van rypheid en besinning, die produk van ’n digter met ’n wye lewenservaring wat nie grootdoenerig en eksperimenteel verwoord word nie. Daarom moet ’n mens nie in hierdie bundel eksperiment, baanbrekende rewolusionêre styl en verstegniek soek nie. Dit beteken nie die bundel is kleurloos nie. Inteendeel, dit bevat baie verrassende woordspelings en woordvondste, verryk met boeiende paradokse en klankwerkings.”

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ’n korbeel die “uitstekende stuk in ’n muur waarop ’n balk rus, kraagsteen”. En die vers wat volgens Joan Hambidge (Beeld, 30 November 1987)  die titel die beste omskryf, is die slotvers in afdeling sewe, “Mag ek?” (bladsy 69):

Mag ek die houtkosyne wees
die drumpel waar u voet op trap
– In elke spoor ’n druppel bloed?

Mag ek die dak wees oor u kop,
die kraagsteen wat die balke stut,
die binnekamer van u hut?

Die bundel het Hambidge aangenaam verras en sy is van mening dat meeste van die verse die lesers daarvan sal boei. “Daar is egter verse wat soms word tempering kort, maar die mooiste verse in hierdie verdienstelike bundel vergoed vir die insinkings.”

Vir Daniel Hugo (Volksblad, 14 Mei 1988) was Wit korbeel een van die onderskatte bundels van 1987. Waar die verse in Pleroma ietwat stram en formeel was, is die verse in Wit korbeel meer beweeglik en klankryk. “Ek het veel plesier gehad aan die talle sjarmante gedigte van hierdie ondogmatiese professor. Wit korbeel sal vir die leser wat verslae staan voor die hermetiese en/of akademiese aard van die destydse Afrikaanse poësie, ’n aangename verrassing wees. Hy haal die gedig ‘Rooivink’ as prikkel aan:

 Die rooivink gooi
’n rooi vonk in die riet,
’n vuurkool in die geil kanet.
Hy vlieg op uit die plaat palmiet.
Sy vlerkies sprinkel splinters lig.
Hy fladder vlamrooi in die lug
en val ’n gloeistreep na sy nes
van droë gras.
Hy speel met vuur
Dié voël.

“Straks steek hy nog die wêreld aan die brand.”

Elf jaar later, in 1998, is Pieter se derde (en laaste) bundel, Van sigbare en onsigbare dinge, gepubliseer, ter viering van sy 75ste verjaardag.

Op haar blogspot, Woorde wat weeg, is Joan Hambidge van mening “dat ’n letterkunde ook sy kleiner stemme nodig het, digters wat dikwels nie op die voorgrond staan nie, maar wat ’n onthoubare klein gedig skryf of gewoon net deel vorm van die hele tapisserie van ’n digkuns. PW Buys is so ’n digter. Hy is ’n hedendaagse Totius, ’n digter wie se gedigte nog altyd vir Hambidge beïndruk het vanweë hul eenvoud dog vormvastheid. Dit is gedigte wat handel oor die mens se aardse bestaan en metafisiese bestekopname.

“Buys begryp die groot kuns om steeds oor abstrakte sake soos die dood, siekte, die metafisika en dies meer konkrete gedigte te maak. Dit is ook ’n bundel wat getuig van baie jare se leef en nadink. Daar is ’n skerp oog op die menslike lyding, op siekte (die slopende ervaring van kanker), oudword en die dood. Ook kan die onbetwiste invloed van TT Cloete op ’n tegniese vlak gesien word: die rymbeheer in ’n gedig soos ‘Die dowwe lamppit’ en ook die enumerasie van die gewone en die sublieme. Buys se gedigte spreek ’n mens aan omdat daar niks vernaams of pronkend intellektueel aan hulle is nie. Tog getuig die gedigte van tegniese vaardigheid en van ’n besliste nadink oor kwessies soos vorm-tug. ’n Mens sien hier die hand van ’n wyse, ou man wat ook met sorg rekenskap gee van die funksie van die poësie.

“Ook die nederigheid van die skryf van poësie word geplaas teenoor die almagtigheid van die Goddelike, soos in ‘Suikerbekkies’:

Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom
onnodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat ’n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!

“Die digter wil kennelik gemeet word aan die Rilke-uitspraak dat gedigte maar min werd is as dit vroeg in die lewe geskryf word. (Dit is natuurlik nie altyd waar nie, skryf Hambidge. ’n Mens dink hier byvoorbeeld aan Rimbaud en Verlaine, en ons eie Antjie Krog en Theunis Engelbrecht.) Die wins van ouer poësie is natuurlik dat dit ontdaan is van jonger sentimente.

“Soms is die gedigte steurend en aangrypend, soos in die behandeling van kanker; ander kere is dit klein waarnemings, maar tog gevoelig, soos ‘Naamloos’ toon:

Twee duiwe het van die nes af opgevlie –
die een het teruggekom, die ander nie.
Twee bome het jare saamgegroei –
dié lente staan net een in bloei.

“Die digter skryf beeldend, en deur sy goedgekose beelde dra hy sy boodskap oor sonder dat dit prekerig raak.”

In sy resensie skryf Jan Swanepoel (Woord en Daad, Herfs 1999) dat die titel van die bundel, Van sigbare en onsigbare dinge, boekdele spreek, veral as die twee sitate voorin die boek daarmee saam gelees word. “Enersyds word daar aan die hand van die sitaat uit 2 Korinthiërs 4:18 gemik op ’n teenstelling: ‘die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig’. Andersyds is daar die aanhaling uit die geskrifte van die skilder Paul Klee, wat stel dat ’n skildery nie die sigbare hoef te weerspieël nie, maar dat dit die onsigbare sigbaar moet maak. Deur die kuns, so kan ’n mens aflei, word die onsienlike sienlik. Die bundel wil, blykens sy titel, rekening hou met sowel die sigbare as die onsigbare dinge. In die poësie word die tydelike sigbaar, en ten spyte van die tydelikheid in ’n bepaalde sin duursaam.

“Hierdie bundel is besonder visueel en ouditief ryk. Reeds uit die openingsgedig ‘Groenspreeu’ blyk die toespitsing op die poësie se paradoksale daarvan, duidelik. Hierdie gedig is ’n voorbeeld van die beste verse in die bundel. Daar is ’n sekere speelsheid te bemerk, ’n beweeglikheid in die versbou, en klankmatig is dit heg gekonstrueer.”

Wat Swanepoel die langste bygebly het van die bundel, is die manier waarop die digter lyding en herinneringe in woorde uitgedruk het. “Dat dit na aan die hart van die bundel lê, is duidelik uit die digter se vertaling van ’n uitspraak van die Duitse digter Rainer Maria Rilke wat juis die aandag wil vestig op al die dinge wat nodig is om ’n goeie vers te maak, en op die rypheid wat dit vereis. Hiervolgens is verse meer as gevoel en as herinnerings; dit is ervarings en herinnerings wat intiem een geword het met die digter en dan woord word en uit die digter uitgaan.

Van sigbare en onsigbare dinge is ’n bundel waarin uiteenlopende dinge saamgedig word. Daar word gedig oor die kleine en die magtige, oor die tydelike en die ewige, oor sigbare en onsigbare dinge. Die stemming verspring van lig tot donker, van spel tot dodelike erns, en dan weer terug. Dit is ’n lieflike bundel wat herlees en herlees kan word.”

In Beeld (9 November 1998) het AP Grové geskryf dat as ’n mens die tematiek van die bundel verken, kan die leser meer leer van die skrywer: van sy jeug, sy belangstelling in die intellektuele, sy beroep as predikant en professor in die teologie en ook kan ’n mens meer te wete kom van sy latere ondervinding as pastorale begeleier van oues, siekes en sterwendes.

“As ’n mens egter tot die essensie van die bundel wil deurdring, moet daar gelet word op die bindende verwantskap tussen gedigte van uiteenlopende aard, ’n verwantskap wat deur die genoemde ‘rubrieke’ sny en so die essensiële eenheid van die bundel bevestig. Die besondere wyse waarop Buys die hede dwing om telkens op die wyse van die poësie ’n bepaalde stuk verlede na die oppervlak te dwing, maak hierdie bundel ’n boeiende leeservaring en ’n waardevolle bydrae.”

Pieter Willem Buys is op 27 November 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Ná sy vrou Lulu se dood het sy kinders sy literêre nalatenskap aan die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein bemaak.

Huldeblyke

  • Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by Naln (Volksblad, 20 Oktober 2003): “‘As jy gedigte soek’ (lui die titel van ’n openingsvers uit sy bundel Wit korbeel), sal jy dit oral kry, sê die digter: dalk sit jóú gedig ‘soos die gemmerkat/ skuins voor oom Willie Steyn se huis’, of skuil dit ‘in ’n wateremmer/ in Huis en Tuin se rake’; dis dalk ‘sommer oop en bloot/ soos ’n studentesoen/ voor Volkskas op die stoep!’ Maar vir Buys was ‘Tomstraat ... steeds die beste plek ... Dáár’s een om elke hoek’: die lang eikelaning met bome wat oor jou kop tóémaak was vir dié skrywer ’n misterieuse en geliefkoosde wandelplek, en ’n stukkie straat wat hy met sy trapfiets seker alte dikwels beleef het. (Die groot gesinsmotor het trouens as vervoermiddel by hom min aftrek gekry, want die fiets was sy ryding, waarnatoe die reis ook mog gaan!) 
  • “Buys se verse is altyd religieus gerig, maar dit sou ’n growwe verskraling wees om hom as ’n religieuse digter te tipeer. Daarvoor reik sy kreatiewe vermoëns te wyd: By sy studeerkamer onder die leeslamp met die staander van ‘heuninggeel olien’, die hout wat deur swaarkry ‘marmerhard en mooi’ geword het, het die digter ’n uitsig gehad oor die kronkelende stukkie Mooirivier wat teen die huis in Van Rooystraat 18 verbyvloei. Hier sien hy die ‘nege wilgerboompies wat ek self geplant het’; ‘my groen plataan’ (Inventaris), en al die voëls wat by die waterbak vertoef om water te drink of te bad. Maar hy bemerk ook die korrel sand, neerslag en laaste rusplek van die rots wat deur vulkane ‘gloeiend uit/ die ingewande van die aarde/ opgespuit’ en met verloop van millenniums fyngemaal is: ‘’n oomblik/ en/ ’n ewigheid’. 
  • “Sy verse is klein duette van klank en kleur, altyd ingebed in die wonder van ’n Groter Hand wat alles vashou, skik en kantel. Of dit die vuurkool-streep van die rooivink is, of die ‘trom wat in die diepte roffel’, die somberheid van die aftree-oord en hospitaal waar hy siekes en sterwendes besoek (terwyl hy sélf ‘bewe/ van angs/ vir die lewe’) – alles skryf hy tot gravures vir dié wat die lees-reis wil onderneem. 
  • “Buys se drie digbundels (die somtotaal van sy gepubliseerde oeuvre) het beskeie begin by Pleroma, uitgegee in 1977, is opgevolg met Wit korbeel (Perskor, 1987) en afgesluit met Van sigbare en onsigbare dinge (Tafelberg, 1998). Die neerslag van ’n hele lewe is literêr hierin vervat: Predikant, dosent, filosoof, berader, gesinsmens, natuurliefhebber, toeris. Nie sonder rede het Afrikaanse literêre kritici Buys se bundels deurgaans met positiewe kritiek begroet nie: Die skrywer se integriteit as mens en as kreatiewe vakman maak van sy verse ‘skuilplekkë van bos en veld en skemerlig’.

    “Op 15 Oktober 2003 was dit Buys se 80ste verjaardagherdenking, en ‘Groenspreeu’ (uit sy laaste bundel) sê dit als:

Jy kan die groenspreeu nie vertrou, hy lieg die aarde pimpelblou.
Hy fluit die hemel lowergroen, paljas ’n pruim tot perlemoen.
Hy tierelier die suring soet, die katjiepiering swart soos roet.
Hy vonkel, konkel, toor die son tot ’n ranonkelrooi ballon.
Die groenspreeu is ’n kunstenaar – soms lieg hy selfs die waarheid waar.”

  • TT Cloete (Beeld, 3 Desember 1999): “As ’n mens aan PW Buys terugdink, vra jy jouself af: hoeveel lewens kan een mens lewe? Buys was meer as een mens. Van roeping was hy teoloog, eers as predikant en later as akademikus. Hy was professor in etiek en apologetiek aan die teologiese skool van die Potchefstroomse Universiteit. Diep in sy hart was hy egter ook ’n digter, en hy was ook baie lief vir die musiek en die skilderkuns. In daardie bekende bloemlesing wat DJ Opperman baie jare gelede (1946) saamgestel het uit gedigte wat in Standpunte verskyn het, is destyds al gedigte van Buys opgeneem wat hy as student geskryf het. Opperman het sy talent dadelik herken. Tog het Buys jare later eers gedebuteer. Hy het drie digbundels gepubliseer. In 1977 het hy gedebuteer met Pleroma, net mooi tien jaar later volg Die wit korbeel en nog tien jaar daarna sy derde en laaste bundel, Van sigbare en onsigbare dinge. Van hom geld wat die Nederlandse digter JC Bloem van homself gesê het: wat hy aan omvang ingeboet het deur sy beskeidenheid, het hy deur suiwerheid vergoed. Buys was ’n werklik beskeie mens en nie opgewasse teen die onaangenaamhede wat die blootstelling van die literatuur altyd maar meebring nie. Daarom het dit veel oortuigingswerk gekos om hom te oorreed om in 1977 te debuteer, beskroom en half weggesteek. Die uitgewers van sy eerste twee bundels bestaan selfs nie meer vandag nie. Hy was ’n sagte mens, sag soos die swartkomyn waaroor hy in sy laaste bundel skryf: ‘swartkomyn word met ’n sagte stok geslaan as dit geoes word’. In sy laaste bundel, wat baie goed ontvang is, skryf hy oor ’n oorlede jeugvriend wat die digkuns diep in hom gehad het. Daardie gedig is vandag op Buys self van toepassing: vlamhelder leef hy voort, hy ‘wat die wonder van die skoonheid/ suiwer soos ’n kind/ beleef het lewenslank’. Hy het, toe hy al professor in die teologie was, vir die avontuur vanaf die eerste jaar tot by die honneursklasse in algemene literatuurwetenskap geloop. Hy het soos ’n avontuurlustige mens met ’n gretige gesig daar gesit. Wat hy vir ons nagelaat het, is skoon, suiwer liriek en gedigte van ’n beminlike menslikheid.”
  • PJ de Bruyn in Die Kerkblad van 9 Februarie 2000: “PW Buys was Christen met sy hele wese. Hy was van sy studentedae af ’n harde, toegewyde werker. Hy het so hard gewerk dat Totius hom by geleentheid gewaarsku het dat sy kragte nie sal hou as hy so voortgaan nie. Wat veral opvallend was, was sy nederigheid en beskeidenheid. 
  • “As predikant was hy ’n besonder begaafde prediker wat die Woord van God in sy diep en indringende betekenis kon verklaar en oopmaak en dit dan so toepas dat dit ’n mens werklik aangespreek het. Toe daar by geleentheid aan Pieter Buys gevra is hoe hy ’n preek maak, was sy beskeie antwoord: ‘Op my knieë’. 
  • “Pieter Buys was ook vir geruime tyd lid van en voorsitter van die Deputate vir Kerklike Publikasies en in dié verband het hy waardevolle diens gelewer. Talle artikels oor kerklike sake het in Die Kerkblad en in Die Gereformeerde Vroueblad verskyn. Sy grootste bydrae in dié verband was egter sy redakteurskap van 34 jaar van Slingervel, die Christelike kinderblad. Hy het die gawe gehad om op ’n besondere wyse met die jeug te gesels en daarom het hy Slingervel ook uitgebou. Die Sinode van 1997 het dan ook heel gepas ’n oorkonde aan hom oorhandig vir ‘sy waardevolle en onbaatsugtige werk aan Slingervel’
  • “Behalwe vir die feit dat hy ’n bekwame en toegewyde leermeester was, was sy groot waarde as akademikus veral geleë in die leiding wat hy aan nagraadse studente gegee het. PW Buys was as persoon, soos Totius, klein van postuur, maar ’n man met ’n groot gees en wonderlike gawes en talente wat hy toegewyd en met oorgawe in die diens van die Here gebruik het.” 
  • TT Cloete oor PW Buys se poësie: “In stilte en afsondering het Buys sy skryfwerk gedoen, en dit goed gedoen, sonder aanmatiging, sonder pretensies, sonder aandagsoekery, sonder enige eise wat hy aan die leser gestel het. Buys se werk is ryk aan taal. Hy benut woorde uit ons woordeskat wat grootliks onbenut in woordeboeke lê.” 
  • Neels Smit: “Ons dank God vir PW Buys. Nederige mens, ’n kinderlike gelowige. Geroepe teoloog wat eintlik niks graagter as predikant wou wees nie, en nooit kon ophou om predikant te wees nie. Elf jaar na sy emeritaat het hy op 76, in die laaste tyd vermoeid en belas met sy toenemende siekte wat hy sover moontlik vir homself gehou het, voortgewerk en die volle bediening van Huis Eikelaan behartig. In ’n bepaalde sin was hy ’n gevangene van die bediening, hy móés eenvoudig voortwerk, sy sin vir roeping het hom gedryf. Hy het na hierdie werk van hom in Huis Eikelaan met ’n skerp sin vir ironie gekyk. Hy het dit “romantiek van die pastoraat” genoem. Hy was prediker by uitnemendheid: ’n man wat uit die terloopse teks nuwe wêrelde kon optower, verrassende perspektiewe kon laat inslaan; maar ook iemand wat kon lag, met die onhebbelikheid dat hy so aan die lag kon gaan vir die komiese dat hy moeilik tot bedaring kon kom. Humormens, wat met fyn selfspot gedurende sy laaste nag in die intensiewe eenheid, met talle pypies en monitors aan hom verbind, tussen asemstote deur nog kon sê: ‘Ek lyk nou nes Sasol!’ 
  • “Ook gesinsman, vriend en raadgewer vir baie, veelsydige denker, skerpsinnige waarnemer. Natuurliefhebber wat God se groot liturgie in die natuur kon bemerk. ’n Man in wie die digter uit elke hoek van sy hart geloer het. En die man wat wonder, die man wat ly, veral vanweë ander se lyding, ander se droefheid. Die man in wie die kind nooit gesterf het nie, want hy was kind van God. Sy diepste vreugde het hy in die nabyheid van sy Vader gevind, berustend, bereidwillig vir God:

Nou is die vrede diep en vol,
Die leed van jare weggesink
Soos waterkuile in valleie

Wanneer die aand daar rooi oor blink.”

Publikasies:

Publikasie

Pleroma – gedigte

Publikasiedatum

1977

ISBN

0949977306 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Boekhandel De Jong

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Wit korbeel

Publikasiedatum

1987

ISBN

0628031335 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Van sigbare en onsigbare dinge

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624-37061 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

PW Buys as vertaler

  • Hegger, HJ: My weg na die lig. Potchefstroom: Pro Rege, 1957 
  • Overduin, Jan: Die kindergebed. Potchefstroom: Pro Rege, 1956

Artikel oor PW Buys op die internet

  • Bygewerk op 15 Januarie 2020

The post PW Buys (1923–1999) appeared first on LitNet.

Riana Scheepers (1957–)

$
0
0

goed van Riana Scheepers

Oor erkenning: “Enige skrywer wil erkenning hê en weet hy lewer ’n produk wat vir iemand anders waardevol is. Ongelukkig lewe ons in ’n samelewing wat erkenning meet aan geld en goed. Natuurlik is dit goed om finansiële vergoeding te kry. Tog moet ’n skrywer ontvanklik wees vir die erkenning wat soms op onverwagse maniere na jou toe kom. Wanneer ek stories skryf vir die nuutgeletterde vroue en ek sien hoe word my skepping gebruik om hulle te leer lees, vervul dit my. Ek het iets gedoen wat nie in geldwaarde gemeet word nie, maar meer werd is as al die prysgeld wat ek al ooit gekry het.” (Taalgenoot, Mei 2003)

Aan die einde van die eeufeesvieringe van die Anglo-Boereoorlog: “Ek wens die Afrikanervrou toe dat hulle kaalvoet én katvoet sal loop. Kaalvoet, omdat sy die dapperheid en deursettingsvermoë moet hê om oor enige Drakensberg van die toekoms te loop, en sal moet baklei vir dít wat vir haar belangrik is. Katvoet, omdat sy die wysheid moet hê om op te tree met vroulikheid, waardigheid en ’n fyn ontwikkelde sin vir eerlikheid en regverdigheid teenoor álmal in ons skitterland onder die Suidersterre.” (Volksblad, 3 Junie 2002)

Oor leesgewoontes op skool: “Alles! Gelukkig het niemand, nie my ma of my onderwysers, my van volwasse boeke probeer weghou nie. Ek het Brink en Breytenbach gelees toe almal na hul asems gesnak het. Ek het van poësie tot liefdesverhale en biografieë gelees.” (Rapport, 6 Mei 2001)

“Ons het dit nie toe geweet nie, maar ek besef nou eers hoe arm ons grootgeword het. Daarom is ek so dankbaar teenoor my ma dat sy vir my boeke gekoop het. Ek weet nie hoe sy dit kon regkry met die bietjie geld wat sy gehad het nie. Ek weet nie of ek eenvoudig beslag gelê het daarop nie, maar daar was altyd die gevoel dat die boeke in die huis mý boeke was.” (Beeld Plus, 22 September 2001)

KKNK-rede: “Ek weet nie wat my toekoms as skrywer is nie. Dit bekommer my ook nie meer so baie nie. In die verlede het ek nogal arrogante uitsprake gemaak oor die toekoms van ons taal en ons land. Ek doen dit nie meer nie, want ek het vir myself ’n nuwe taak gestel. Ek wil in hierdie land bly sodat ek kan voortgaan met my werk, om te skryf in die taal van my hart en my niere.” (LitNet)

“My vertalings het my oor die wêreld geneem; dis ’n groter beloning as die geld wat ek so verdien. Ek is ’n reisiger, wil altyd elders wees. Ek weet wat my boeke vir Europese lesers bied: ’n gees en sfeer uit ’n donker, diep oerbron, die Afrika-grond. Van my wonderlikste ervarings was om te sien met hoeveel verwondering ’n Europese leser my verhale lees – en intens ontroer word. Ek dink tóg ons leef in Afrika met ’n groter emosionele register. ’n Verhaal is nie net ’n reis nie, maar ook ’n deur – na ’n mens se hart.” (Die Burger, 10 Desember 2007)

Passies van Riana: “Dennebolle. Soos ander mense klippe en skulpe versamel, so dra ek dennebolle na my huis aan. Vir my is dit gepoleerde hout, saad, ’n beeldhouwerk wat kunstig uitgebeitel is ... dis ’n simfonie van simmetrie en struktuur. ’n Dennebol verander. Die stywe korf van ’n toe dennebol gooi maande later in jou huis sy luike oop en kletter sy pitte uit, soos ’n vrou wat wasgoed oopskud en uitsprei. ’n Dennebol is een van die lieflikste dinge wat God gemaak het.” (Sarie, 17 November 1999)

“Maar wat my die meeste beïnvloed het, omdat dit van my ’n skrywer gemaak het, was die stories wat my swart ouma vertel het. Saans in die hut of om die vuur het Juba se Zoeloesprokies in my ’n bewuswording van Afrika gekweek. Dit gee ’n mitiese dimensie aan my skryfkuns, eintlik aan my hele lewe.” (Cultureel: suppl NRC Handelsblad, 17 Oktober 1997)

Oor dit titel Feeks: “Ja, die woord feeks is nogal ’n baie provokatiewe woord. Jy het oombliklik ’n emosionele reaksie daarop. Wat vir my belangrik is, is dat die woord fee en die woord heks saamgetrek word in die woord feeks. Ek is heeltemal oortuig daarvan dat daar in elke vrou ’n bietjie heks is, en ek dink dit is reg ook, die vrou is nog steeds ’n misterieuse wese. Net so is daar ook die misterie, die towerkrag, die ligtheid en die bewondering vir iets so mooi en so vlugtig en so pragtig soos ’n feetjie.” (Kaapse Bibliotekaris, Maart/April 2000)

In 1992: “Ek skryf nie om mense gerus te stel nie, want ek glo niks kan die werklikheid mooier maak nie. Hoekom moet ’n mens die politieke geweld in Natal mooi maak? Skryf is ook vir my ’n persoonlike daad. Ek skryf oor dit wat my bang maak.” (Beeld, 12 Maart 1992)

Oor feminisme: “Ek het nie ’n behoefte om my oortuigings in die publiek uit te blaker nie, maar vroueregte lê my na aan die hart. Ek is ’n slegte feminis. Ek loop nie met plakkate nie. Vroue moet hulself vind. Hulle moet hul regte gebruik, want niemand gaan dit sommer vir hulle gee nie.” (Beeld, 12 Maart 1992)

Hoe versoen sy haar akademiese loopbaan met haar skryfwerk, en wat van die ewige vraag oor beïnvloeding? “Dit is inhiberend. Dit maak jou oorbewus van stylfoute en ek vind akademiese taal tog so kunsmatig en blasé.” (Beeld, 12 Maart 1992)

“Die grootste spronge wat ek nog geneem het, die onverantwoordelikste dinge wat ek nog aangevang het, het die grootste dividende gelewer.” (Rooi Rose, 10 Maart 1993)

In 1995 oor die toekoms van Afrikaans: “Ek het ’n onverbiddelike geloof in die taal en sy vitaliteit. Wat dalk Afrikaans se redding gaan wees, is juis dié dat dit minder op TV gebruik gaan word. Jy gaan weer geslote gemeenskappe kry wat Afrikaans suiwer praat sonder kontaminasie van Engels. Hoekom praat die Namakwalander sulke mooi Afrikaans? Hulle was afgesonder.” (Sarie, 29 Maart 1993)

“Ek stem saam met die stelling dat Afrikaans vir Nederlanders ’n opening, ’n wye venster na ’n onbekende wêrelddeel kan wees. Die eksotiese van Afrika – die milieu, die volstrek viriele landskap ... Wanneer ek oor erotiek skryf, is dit in ’n ander konteks as wanneer hier in Nederland daaroor geskryf word. Die tema sal nooit uitgeskryf wees nie. Dis ’n ander konteks: die erotiese belewing van ’n landskap, die spanning tussen wit en swart wat so lank nie ‘mag gewees het nie’.” (Die Burger, 24 Oktober 1996)

Oor haar fassinasie met Jeanne d’Arc: “Vir my verteenwoordig Jeanne d’Arc die soort vroue by wie ek aanklank vind en oor wie ek graag skryf – doelgerigte, begeesterde vroue, nie noodwendig mooi en gewilde vroue nie, maar vroue met vuur.” (Rapport-Boeke, 7 Oktober 2012)

“’n Gemsbok op ’n rooi Kalahari-duin is vir my die kroon op God se skepping, soos ook ’n berg en ’n boom, want hulle gehoorsaam die natuurwette. Die mens nié. Veral nie diegene wat die aarde stroop nie. Menseregte sê elke mens is geregtig op x-aantal water, lug, kos, grond ... maar wie luister ooit na die grondwet van die aarde?” (Beeld, 30 September 2009)

“Partykeer is iets so na aan jou hart, so pynlik en intens, dat jy nie daaroor kan skryf nie, maar jy weet jy moet. Dan skryf ek in die derde persoon. En wanneer iets my fassineer, soos prostitute of nonne, vertel ek hul verhaal in die eerste persoon.” (http://nb.bookslive.co.za/blog/2009/09/11/riana-scheepers-deel-geheime-oor-katvoet)

“’n Goeie kortverhaal is volgens Scheepers net so dig verweef soos ’n gedig. Jy kan dit weer en weer lees om betekenisse te ontsluit. As sy simbole in haar verhale gebruik, is dit altyd met ’n spesiale doel.” (http://nb.bookslive.co.za/blog/2009/09/11/riana-scheepers-deel-geheime-oor-katvoet)

Watter skrywer inspireer haar? “Elke skrywer op aarde. Party intimideer my, party inspireer my, party maak my só vies dat ek terstond besluit om ’n beter produk te wil lewer. Ek lees wyd en in alle genres, en by elkeen kan jy iets leer – ook wat jy nié moet doen nie.” (Vrouekeur, 15 Junie 2018)

“As ek die ruimte goed ken; intiem ervaar het, dan het ek ’n verhaal. Dan ontwikkel die karakters vanself. As ek my ruimte ken, kan ek skryf.” (Vrouekeur, 15 Junie 2018)

Gebore en getoë 

Wilhelmina Adriana Scheepers, gebore op 9 Desember 1957 in Vryheid, KwaZulu-Natal as die derde van vier kinders, stam uit ’n familie van formidabele vroue. Sy sê self dat sy maar ’n flou skadu van haar ma Myra is. Haar ma, wat in die destydse standerd 8 (vandag graad 10) uit die skool is om geld te verdien, is ’n goeie mens, ’n platjie, ’n stout mens en iemand met ’n fantasievermoë, vertel Riana aan Suzette Truter.

Sy kom uit ’n spoorwegwerkersgesin en haar pa is oorlede in ’n treinongeluk toe sy ses was, vertel sy aan Suzette Truter (Sarie, 29 Maart 1995) Op aandrang van haar oupa trou haar ma later met haar pa se jonger broer, Adriaan. Riana se jongste seun is na hom vernoem.

Sy word groot in Vryheid in Noord-Natal saam met die Zoeloekinders en woon van haar negende tot elfde jaar in Pongola. Dit is daar waar sy leer Zoeloe praat het en waar haar stories vandaan kom.

Riana het ’n ryke verbeeldingswêreld as kind gehad, vertel sy aan Suzette Truter: “Ek het nie soos ’n dogtertjie grootgeword nie, en ek is bly daaroor. Ons het hard grootgeword. Ek het nie speelgoed gehad nie; ons was regtig wild. Ek het ’n foto van myself in standerd vier met twee sulke stywe vlegsels en jeans. Lelik, hoor. Ons is nie in valletjies uitgedos nie. My lekkerste maats was swart kinders. As jy van ’n kreatiewe wêreld praat, moet jy kyk hoe speel hulle.

“My helderste indrukke is van aande dat ek na die Zoeloe-verteller se hut gegaan het. Die vertelritueel is ’n tradisie wat verlore raak. Selfs daar in die stat het hulle nou TV-stelle wat met batterye werk.”

Riana voltooi haar laerskoolloopbaan in Pongola en in 1975 skryf sy matriek aan die Hoërskool Vryheid, waar sy ook hoofmeisie is. Sy verwerf provinsiale kleure vir atletiek, swem en sierduik.

Sy wou van kleintyd af skryf. Sy onthou dat sy die afskuwelikste gedigte oor die dood op skool geskryf het – alles in reaksie op haar pa se vroeë dood. Toe sy ses was, het sy geweet hy is in die hemel, maar as adolessent was sy baie kwaad vir haar pa oor hy dood is. Sy het in 1972, toe sy vyftien jaar oud was, ’n gedig aan haar stiefpa geskryf, en dit is later in haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn, opgeneem.

Op skool vul sy haar sakgeld aan deur vir die tienerblad van Huisgenoot te skryf. Eenkeer neem sy onder drie verskillende name aan ’n opstelwedstryd deel en wen eerste, tweede en derde prys. Met hierdie geld koop sy boeke, want sy is altyd baie lief vir lees. Sy word op die platteland groot met die lug en die ruimte, en gelukkig met baie boeke.

Haar onderwyser op skool, Danie Jacobs, het al haar werk gelees en beoordeel en wou op ’n stadium ’n bundel met haar skryfwerk uitgee. Vandag is sy baie bly dat dit nie gebeur het nie en dat sy eers werklik as volwassene begin skryf het.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Riana na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), waar sy haar inskryf vir ’n BA-graad in kommunikasiekunde, met Afrikaans-Nederlands. Sy verwerf haar graad cum laude in 1978 en in 1984 haar honneursgraad, ook cum laude. In 1987 behaal sy haar MA-graad (cum laude) onder leiding van Hennie van Coller met ’n proefskrif getiteld “’n Onderskeiding tussen leë en betekenisdraende tekens in die literêre kommunikasieproses, geïllustreer aan die hand van Koos Prinsloo se ‘Die jonkmanskas’”.

Tydens haar jare aan UOVS blink sy nie net op akademiese gebied uit nie, maar ook op vele ander terreine: In 1976 wen sy die eerstejaarsredenaarskompetisie en word die Volksblad-prys vir beste eerstejaarstudent in Afrikaans-Nederlands aan haar toegeken; in 1977 word sy verkies tot primaria van Huis Wag-’n-Bietjie en tot redaktrise van die Irawa, tot voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse Vereniging en in 1978 tot die Studenteraad, en wen sy die DF Malherbe-prys vir die beste derdejaarstudent in Afrikaans-Nederlands. Dieselfde eer val haar te beurt in 1984, toe sy aangewys word as beste nagraadse student in Afrikaans-Nederlands. Terselfdertyd word sy ook aangewys as die beste honneurstudent op die kampus. In 1985 ontvang sy die Oom Lokomotief-beurs vir haar MA-studie en in 1986 ontvang sy ook die SANRA-prys vir kreatiewe skryfwerk (prosa).

In 1979 trou sy met Dirk Botha, ’n sakeman van Bloemfontein, en twee kinders, Floris en Adriaan, word uit die huwelik gebore. Sy en haar man skei in 1988.

Vanaf Januarie 1985 tot Maart 1988 werk Riana as akademiese assistent aan die UV se Departement Afrikaans-Nederlands. In 1988 vertrek sy om as lektrise klas te gaan gee aan die Universiteit van Zoeloeland tot April 1990, waarna sy lektrise word aan die Universiteit van Kaapstad – ’n pos wat sy beklee tot die einde van 1994. In 1995 word sy aangestel as skakelredaktrise by Tafelberg Uitgewers. In 1998 vertrek sy na Stellenbosch en bring sy die Stellenbosse Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke op die been. Sy is in daardie tyd ook Afrikaans-onderwyser aan Paul Roos Gimnasium. Nadat sy in die laat 1990’s by Paul Roos bedank het, het sy besluit om meer tyd in haar huisie op Paternoster deur te bring (vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt, Beeld, 22 September 2001).

Riana se eerste bundel kortverhale, Die ding in die vuur, verskyn in 1990 en sy het onmiddellik ’n impak op die Afrikaanse letterkundige toneel. Die bundel word in 1991 bekroon met die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa en in 1992 ontvang sy ook die FAK se Kaaplandse Helpmekaar-prys vir Ontspanningsleesstof.

Riana het oor die toekenning van die ATKV-prys aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992) gesê dat dit soos ’n “bliksemstraal uit die hemel was. Ek het dit glad nie verwag nie.”

Met die ontvangs van laasgenoemde prys sê Riana: “Skryf is ’n eensame werk. Skryf is die werk van stukkende mense – en ’n mens verwag nie dat jy bekroon sal word vir die stukkende woorde van jou belewenisse nie” (Rapport-Tydskrif, 18 Januarie 1998).

Die ding in die vuur se oorsprong lê in Zoeloeland, vertel Riana aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992): “Daar het ek grootgeword en my verstand gekry. Dit was die mense wat die naaste aan my was. As dit skemer word, het ek ook aan die ugogo (storieverteller) se voete gesit en luister soos die kinders in die slotverhaal van Die ding in die vuur:

‘Die kinders wag. Ongeduldig, maar sonder om ’n woord te sê. Hulle weet dat haar siel eers moet saampraat met die mense en die dinge van die storie voordat sy kan begin’.”

Nadat Riana klaar studeer het, is sy terug na Zoeloeland – hierdie keer het sy ’n Westerse verwysingsraamwerk en uitkyk saamgeneem. En dít was hierdie fassinerende kombinasie van twee wêrelde wat uitgeloop het op Die ding in die vuur. Sy het net vier maande nodig gehad om dit te skryf.

“Die stories is in die storieverteltradisie van Afrika geskryf, waarin onder meer die wêreld van die Zoeloevrou en kind geskets word, maar veral wêrelde in stryd met mekaar. Soos om tegelyk ’n Europeër en Afrikaan te wees,” skryf Laetitia Pople.

Oor Riana se debuutbundel skryf Joan Hambidge (Beeld, 28 November 1990) dat dit “al die kompleksiteite van ons wit bestaan uitlig. Dit is wat my betref ’n besonderse debuut. Me Scheepers maak ons as lesers daarop attent dat ons stryd op hierdie kontinent nie vervlak moet word tot ’n politieke ‘struggle’ nie, maar dat ons ons moet oorgee aan die paradoks van ons Westerse en Afrika-bestaan. (...)

“Hierdie twaalftal verhale sluit onder meer by ’n Zoeloe-verteltradisie aan en is terselfdertyd hoogs modern en selfs post-modernisties in aanbod. (...)

“Die verhale word meesterlik vertel; telkens met die suggestie van ’n (Afrika-)oerwêreld. Soos die blakerteks dan ook sê: die skryfster het ook die vermoë om soos haar ugogo skielik in die vuur te spoeg.

“Die opposisie tussen skrif en spraak word insgelyks knap uitgewerk in hierdie verhale. Dit gaan primêr om die beswering van pyn en die driftige. Die vermoë om ’n droomwêreld op te roep, blyk ook ’n gawe van hierdie skryfster te wees wat veral in die kragtige slotverhaal ‘Abantu oNgoy‘ nie alleen die belangrikste motiewe van hierdie bundel saamsnoer nie, maar veral ’n goeie opsomming gee van ál die konflikte in ons samelewing. Dit is ongetwyfeld verhale met vuur.”

In Insig van Februarie 1991 skryf Louis Venter: “In die Afrika waarvan Riana Scheepers in haar debuutbundel vertel, is daar nie tyd of plek vir week gedagtes of vrae of huiwering nie. Wie Afrika as tuiste het, moet leer leef sonder luukses: die luukse van sinisme of privilegie, die luukse van ’n gekwelde gewete, van jammerhartigheid, van mededoë. Afrika vertroetel niemand nie, nie wit of swart nie, nie vrou of kind of man nie. (...)

“Die beste verhaal in die bundel, een wat in Afrikaans klassiek gaan word, het nie ’n vrou nie maar ’n kind as hooffiguur. ‘’n Kind en ’n vis’ is ’n verhaal met ’n pragtige geheim wat ek nie hier gaan verklap nie. Net dit: Elisabeth Eybers se opvatting dat skoonheid gebore word uit gemis, het in die verhaal uitgegroei tot ’n ongedwonge stukkie simboliek.

“Die laaste twee verhale in die bundel is verteltegnies interessant. In die een word die werklike geweld in Suid-Afrika uitgespeel teen die sisteem van die Afrikaanse literêre kritiek se manier van dink en skryf oor geweld. In die slotverhaal word die folkloristiese ugogo as sekondêre verteller gebruik om te vertel in ’n taal en oor ’n wêreld wat die witmens maar halfpad begryp.

“Die verhale in Riana Scheepers se Die ding in die vuur het goeie en selfs gedugte vertelkwaliteite. Soms is daar egter momente waar die verteller vertellerig en selfs ’n bietjie vertonerig raak; soms kry die leser die gevoel dat die teks die laaste bietjie effek uit ’n gegewe wil wring. Die wil om ekspressionisties te skryf en om mense te tipeer eerder as te individualiseer, maak die verhale soms grof en afstandelik. Maar die bundel dra baie bewyse van Scheepers se talent en verdien ’n uitgebreide leserskorps.”

In 1991 verskyn haar tweede kortverhaalbundel, Dulle Griet, en weer bly die bekronings nie agterweë nie. Sy ontvang daardie jaar se Eugène Marais-prys. Die titel van die bundel het sy oorsprong by ’n skildery van Pieter Breughel wat Griet uitbeeld waar sy vlug deur ’n landskap wat deur oorlog geteister is, terwyl sy haar aardse besittings styf teen haar lyf vashou. Die borsplaat en swaard in haar hand is ’n blyk van haar paraatheid.

Riana verduidelik aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992): “Hierdie skildery is vir my tekenend van ’n weerlose vrou wat terugveg, al word sy deur die lewe geslaan. Solank ons net handelend optree en nie in ’n hopie gaan sit nie. Jy moet jou eie saak beredder.”

Riana se kortverhale is in die storieverteltradisie van Afrika geskryf, waarin onder meer die wêreld van die Zoeloevrou en -kind geskets word, maar veral wêrelde in stryd met mekaar – soos om tegelyk ’n Europeër en Afrikaan te wees.

In die commendatio by die oorhandiging van die Eugène Marais-prys sê DH Steenberg: “Die belofte wat op te merk was in Die ding in die vuur, is vervul in die tweede, ryper bundel Dulle Griet, want hier is die bindkrag die sentrale vrouetema en die subtiele vroueperspektief. Die titel en titelverhaal verkondig dit reeds: die vrou in ’n dikwels onbehaaglike situasie.”

JP Smuts is in Rapport (1 Desember 1991) van mening dat Scheepers in Dulle Griet voortbou op die deeglike basis wat sy met haar eerste bundel gelê het. Dit is nie net die gehalte van enkele verhale wat beïndruk nie, maar ook die baie goeie samestelling van die totale bundel.

Smuts het voortgegaan: “As ’n mens egter een gemene noemer moet uitsonder wat die verhale in die bundel saambind, is dit die vrou. Die vrou is die naamlose sentrale personasie in baie van die verhale, Sy is minnares en prostituut; sy is eensaam en verlate binne ’n verkilde huwelik en ook daarbuite ná ’n egskeiding; sy is lesbiër, moeder, ontwakende dogter, burgerlike gesinsmens – in talle gestaltes is sy in hierdie bundel aanwesig. En alles word op die een of ander wyse saamgetrek in die sentrale figuur uit die Breughel-skildery ‘Dulle Griet’.

“Maar Dulle Griet moet ook binne die konteks van die hele skildery gesien word. Sy is die vrou wat gierigheid verpersoonlik en omring is van groteske gestaltes: monsters wat, in die idioom van Jeroen Bosch, die hel oproep en onder meer vraatsug, ydelheid en onreinheid verteenwoordig.”

Smuts het sy bespreking so afgesluit: “Nie al die verhale staan ewe sterk nie. Van die korter tekste mis die gedrongenheid en digtheid wat so eie is aan die werklike goeie kort-kortverhaal, en die slotverhaal raak algaande voorspelbaar en is te lank vir wat dit bied.

“In die sterkste toon Riana Scheepers egter dat sy ’n rasegte en taalvaardige verteller is wat op ’n dwingende slot kan afskryf, en in die strukturering van die bundel tot ’n sinryke geheel oortref sy haar debuutbundel. Die aanvanklike belofte tree met hierdie bundel in groter vervulling. Riana Scheepers is klaar een van die belangrikste jonger stemme op die terrein van die Afrikaanse kortverhaal.”

Ook AP Grové (Beeld, 30 Desember 1991) het voorbehoude gehad oor enkele verhale waarin die teenstellings kru en blatant aangebied is, met ander (soos “Poison”) wat weer te melodramaties vir hom was, maar hierdie kritiek geld nie vir die hele bundel nie: “Wat ’n mens ná die lees oorhou, is die besef dat ons hier ’n hoogs intelligente bundel het, ’n bundel met heelparty boeiende verhale wat in ’n helder, vitale prosa geskryf is. Waar dit hier gaan om die onregte wat die vrou moet verduur, meen ek dat Riana Scheepers ’n sterk verweer besit, naamlik die talent om as skryfster die insigte waartoe sy deur waarneming, belewing en besinning gekom het, in lewende gestaltes te ban en in ’n oortuigende struktuur vas te vang.”

Hierdie twee bundels word in 1995 as ’n bloemlesing in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens onder die titel Dulle Griet. Riana se volgende kortverhaalbundel, ’n Huis met drie en ’n half stories (1994), word ook in Nederlands uitgegee, onder die titel Onbevlekte ontvangenis. ’n Herdruk van hierdie twee bundels word later in Nederlands uitgegee as Die ding in die vuur met die aardigheid dat die kortverhaal “Die ding in die vuur” in hierdie bundel ontbreek.

In ’n Huis met drie en ’n half stories staan die vrou, soos in Scheepers se vorige kortverhaalbundels, weer sentraal, skryf Marthinus Beukes in Die Volksblad (3 Julie 1995). “Die vrou proklameer in hierdie verhale haar posisie sekuur soos beliggaam op die voorblad, asook in die slotwoorde van die laaste verhaal: ‘ek stap uit. Volkome vrou.’

“Die bundeltitel het ’n duidelike tweeledige betekenis, want nie alleen bring Scheepers in haar bundel drie afdelings met verskillende gestaltes van die vrou in die verhale saam nie, maar dit dui verder op die vlakke in ’n huis (= ‘storeys’). Scheepers stel hierdeur dus duidelik dat haar huis (dus die bundel én haar liggaam) uit verskillende vlakke (dus ook dimensies) gebou is.”

Foto: Pixabay.com

Vir Beukes is daar ’n verskil in die uitbeelding van die vrou in ’n Huis met drie en ’n half stories, aangesien die vrou meer menslik verbeeld word. Sy is nie meer so aggressief teenoor die man nie en hy word ook met meer deernis geteken sonder “om deur haar pen gekastreer te word”.

Beukes beskou die verhaal “Pa” as die hoogtepunt van die bundel. In hierdie verhaal molesteer die pa die dogter, maar dit word op só ’n sensitiewe manier vertel dat “die dogter se fantasie oor haar pa ’n poëtiese kwaliteit verkry sonder om te vervreem”.

In Rapport van 11 Desember 1994 beskryf Cecile Cilliers Riana Scheepers as “by uitstek eksponent van la condition féminine”. Sy ontgin veral die vrou se seksualiteit en dít word gedoen sonder om aggressief te wees, met deernis en met realisme én humor oor die vrou.

“In ’n Huis met drie en ’n half stories dek sy ’n wye tematiese veld, kies sy én kind én volwassene tot karakter, werk sy oortuigend met die verhoudings tussen mense. Sy beweeg ook van familievertellings op die Natalse platteland tot ’n lesbiese verhaal in ’n Middeleeuse gemoderniseerde klooster tot verhale met Bybelse temas. Daar is min verhale in die bundel, nie twintig nie, en sommige van die stories is weinig meer as indrukke, sketse. Sommige verhale is ook nie goed genoeg nie, het te min om die lyf. ‘Beeste’, byvoorbeeld, en ‘Klipsop’. Ander ontgin nie die gegewe nie, soos ‘Ses’, en ‘God se bruid’.

“Maar die titelverhaal is ’n boeiende, bevredigende samevoeging van uiteenlopende elemente tot ’n gesnoerde geheel. ‘Pa’ is ’n verrassende nuwe blikhoek op kindermolestering, en ‘Elikser’ is aangrypend. Die twee Bybelse verhale, veral ‘Jefta se kind’, is die hoogtepunt van die bundel. Riana Scheepers verander wat ’n tragedie moes wees in ’n triomftog vir die vrou (let op kind, nie dogter nie, in die titel). Dis ’n erotiese verhaal waarin nie seksualiteit die belangrikste element is nie, maar vryheid, onafhanklikheid. Sy vermeng praat- en skryfstyle met groot sukses. Die bundel is yl, maar hierdie verhaal vergoed daarvoor. (...)

“Riana Scheepers het ’n besondere gawe. Selde die ervarings wat agter haar lê, en wat haar ongetwyfeld toegerus het vir haar vertellings, selde die bykans wrede wegbreek van die geykte vrou – ter wille van die finale bevryding behou sy ’n frisheid van siening en ’n helderheid van segging wat haar ’n skynbaar blywende onskuld gee. Sy skryf so natuurlik oor die allerverskriklikste dinge. Soos dit hoort.”

Riana gaan in 1992 na die Universiteit van Wroclaw in Pole, waar sy ’n lesing oor die Afrikaanse letterkunde aanbied. Met haar terugkoms in Suid-Afrika stel sy ’n reeks radiopraatjies oor haar besoek aan Pole saam wat oor die Afrikaanse sender van die SAUK uitgesaai word. In Junie 1992 woon sy die Feministiese Boekebeurs in Amsterdam by nadat sy by ’n kursus vir dosente in Nederland was.

Dit is egter in 1994 dat Riana ’n huishoudelike naam word in baie Afrikaanse en Suid-Afrikaanse huise met die verskyning van haar eerste Katriena-boek, Haai Katriena, wat vertel jy my nou! “Met Katriena se stories loop ek al lank. Elke vrou met ’n huishulp kan ten minste een storie oor haar vertel. Verlede Desembervakansie, toe tref die karakter my, en in plaas daarvan om in die wonderlike weer op die strand te gaan lê, het ek letterlik die hele vakansie geskryf,” vertel sy aan Suzette Truter (Sarie, 29 Maart 1995).

Nog twee boeke oor Katriena volg: Nou lieg jy mos, Katriena! en Katriena, néé. Die karakter Katriena word ook vir die verhoog verwerk met die aktrise June van Merch in die titelrol en word tydens die KKNK van 2000 opgevoer.

Riana Barnard skryf (Volksblad, 1 Mei 1995) dat Katriena die ou Suid-Afrika op sy kop keer: “Sy is nie meer die stemlose kombuisbediende sonder sê nie. Inteendeel; sy foun haar vriendinne, help haarself aan die blik koekies en gee soms raad en leiding vir die arme Mevrou. (...)

“Sy lewer sosiale kommentaar wat deurgaans met deernis gelaai is en sonder die skerpheid wat satire kenmerk. Daarom is Katriena ’n karakter wat heling en versoening bring vir haar lesers. Die literatuur is so dikwels ingespan as wapen in die ‘struggle’. Hoe heerlik om ’n vrolike en vermaaklike teks te vind waarin selfs resepte gebruik word om ganse gelykheid te kommunikeer: ‘’n poeding vir ’n poeding’, soos Katriena sê.”

Vir Lucas Malan (Rapport, 27 Augustus 1995) bring Katriena en Riana Scheepers saam-saam “’n lighartiger blik op ons alledaagse bestaan wat versmorend ernstig geword het”, en Maureen Joubert (Insig, September 1995) skryf: “Scheepers vat ’n bekkige char stewig vas, sonder tierlantyntjies en geheel en al geloofwaardig. Sy laat haar in lewende lywe voor die leser staan, groot en aards en vol wysheid. Van Katriena wil ons nie afskeid neem nie.”

Riana se eerste roman, Die heidendogters jubel, verskyn in 1995 en word in dieselfde jaar in Nederland gepubliseer as De heidendochters juichen.

Nadat die roman voltooi is, vertel Riana aan Suzette Truter, het sy hard aan Die heidendogters jubel gewerk. “Ek het dit letterlik drie, vier keer oorgeskryf van voor af. Dit het my drie jaar geneem. Ek het gedink dit sal maklik wees om ’n roman te skryf, maar ek het my misgis.

“Die storie gaan oor ’n jong meisie wat ingesmokkel word in ’n weermagkamp. Dit gebeur regtig. Hulle noem so iemand ’n ‘wip’ en sy kruip dae lank weg in die warm, bedompige kamer en slaap dan snags by haar kêrel.

“Ek het drie jaar navorsing gedoen. Ek was in kampe, het onder beddens ingekruip en in troepe se kaste gekyk. Ek het oorlogboeke gelees. Met só ’n roman kan jy nie verbykom met min navorsing nie.”

In Beeld van 27 Julie 1995 in haar rubriek “Op my literêre sofa” beskryf Joan Hambidge Die heidendogters jubel as ’n “literêre ramp”. Sy skryf: “Dit lees soos ’n versameling van urban legends oor die army. ’n Mens kan nie glo dat ’n skrywer wat haarself nog altyd so behendig aan die subteks bedien het, sulke platvloerse, onsubtiele en agterlike prosa kan pleeg nie. Die leser lees egter klaar, waarskynlik omdat die beginsel wat Julia Kristeva vir ons uitgespel het, the power of horrors, hier ter sprake kom.

“Die leser word in Die heidendogters jubel vasgeklem as voyeur terwyl die vertellende ekshibisionis ontslae raak van al sy lewenswyshede. Die vraag is: lees ’n mens agter die mag van die groteske/aaklige aan, of is jy as literator gedoem tot die lees van die slotakkoord? (...)

“Scheepers het nog altyd ’n welverdiende plek binne ons kortkuns gehad, maar miskien het Eduan Swanepoel gelyk gehad toe hy in die De Kat-resensie van haar laaste kortverhaalbundel gesê het dat sy eerder ’n populêre skryfster is. Kennelik het haar Haai Katriena, wat vertel jy my nou-aanslag begin afsmeer aan haar ernstige skryfwerk, want Die heidendogters jubel is ’n verleentheid vir haar oeuvre. (...)

“’n Mens gru nie omdat dit ’n grensverhaal is nie. Ook nie omdat jy met die oorlog gekonfronteer word nie. Nog minder omdat dit boerenóiens is wat katelkaperjolle uithaal. ’n Mens gru omdat elke toneel so oerbekend is.”

JC Kannemeyer (Rapport, 28 Mei 1995) was van die min kritici wat positief geskryf het oor Die heidendogters jubel. Hy het dit beskryf as ’n “briljante kort novelle, sowel wat die bou as die subtiele gebruik van die natuurlike, dikwels kru ‘army’-taal en die uitbeelding van ’n uiteindelik vreeslose vrou. Ná die reeks sekservarings met die luitenant, telkens aan die einde van ’n hoofstuk, is die lesbiese toneel hoogs funksioneel om die finale omdop van waardes en die teenstand van die hoofkarakter teen ’n ander soort varsheid te onderstreep. Dit is een van die knapste tegniese grepe wat in ons hedendaagse verhaalkuns ken.”

Riana is van mening dat dit skrywers se plig is om diegene wat nie so goed onderleg is in die letterkunde nie, meer oor hul werk te vertel. Sy verduidelik hierdie stelling aan Gawie Keyser (Die Burger, 24 Oktober 1996): “Die heidendogters jubel het in Suid-Afrika ’n verskriklike kwaai reaksie ontlok. Wanneer ek rustig met ’n leeskring gesit en gesê het waar dit vandaan kom – daar was werklik vroue wat tyd in weermagkampe deurgebring het – dan was daar ’n soort begrip vir die situasie; daar was nie dadelik afkeer nie, hulle het weer gaan lees.”

Riana besoek in 1996 Amsterdam op versoek van haar Nederlandse uitgewer, Bert Bakker, en in dieselfde week word ’n bundel kortverhale van haar wat spesiaal vir die Nederlandse mark uitgegee is, bekendgestel. Riana is in die Nederlandse mark een van die suksesvolste Afrikaanstalige skrywers. Haar werk word uiters gunstig deur Nederlandse resensente ontvang en haar suksesvolle optredes oor die Nederlandse radio en televisie gee haar die erkenning wat skrywers in hierdie kompeterende lesersmark nodig het.

Oor hierdie verbintenis met Nederland sê Riana aan Gawie Keyser (Die Burger, 24 Oktober 1996): “Ek voel emosioneel betrokke by my herkoms hier. In 1701 het my voorvader na Suid-Afrika gegaan. Ek hou van die Nederlanders en vind aansluiting by die ruimheid van gees.”

Oor kritiek dat sy dalk as Eurosentries beskou kan word, reageer Riana teenoor Keyser soos volg: “Ek is nie meer ’n Europeaan nie; ek is ’n Afrikaan. My gene ... iemand vra of ek swart bloed in my familie het. Ek sê beslis, maar ek weet nie wie nie.

“Die spanning tussen Afrika en Europa is juis een van die temas in my werk. Ek’s ’n Afrikaan en die spanning wat dit met Europa veroorsaak, is wonderlik.”

Oor die baie aandag wat sy in Nederland op daardie tystip ontvang het, het sy aan Keyser verduidelik dat sy seker is dat dit as gevolg van die tema is waaroor sy geskryf het. “In die Afrikaanse letterkunde was die swart karakter ’n karikatuur, ’n randkarakter. Ek is nie die eerste skrywer wat daaraan aandag gegee het nie, maar die politieke klimaat was reg vir swart mense as hoofkarakters in my debuutbundel.”  

Intussen werk Riana onverpoosd aan haar PhD oor Die verhouding feit:fiksie in die kortverhaalbundels van Koos Prinsloo en na drie jaar behaal sy dit in 1997 en in 1998 word haar proefskrif gepubliseer as Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. Sy en Koos was jeugvriende.

In sy bespreking van Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes (Tafelberg, 1998) skryf LS Venter (Beeld, 7 Desember 1998) dat hierdie omvangryke studie oor Prinsloo ’n baie welkome toevoeging tot die Afrikaanse literatuurkritiek is. “Werklik indringende publikasies oor skrywers se werk en nie net oor hul lewe nie is in Afrikaans so skaars soos hoendertande. Scheepers rym in haar boek die biografie met die literêre kritiek, omdat die sentrale onderwerp daarvan die relasie tussen lewe en literatuur, werklikheid en fiksie is. Haar uitgangspunt bly egter steeds die skrywer Koos Prinsloo en nie die mens nie.”

Vir Venter is daar oorhaastige en gerieflike veralgemenings en gevolgtrekkings, maar dit is ’n werk wat baie leesbaar is en daarby ook ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse literatuur.

In Die Burger van 13 Januarie 1999 is Helize van Vuuren die resensent van Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. “Scheepers tipeer Prinsloo se werk as postmodernisties, dikwels met ’n outobiografiese inslag sodat die grens tussen werklikheid en fiksie vervaag. (...)

“Die boek is gegrond op Scheepers se doktorale proefskrif. Ongelukkig is die spore van dié akademiese werksaamheid nie voldoende weggewerk nie. Die leser word gekonfronteer met ’n swaartillende eerste hoofstuk wat weinig verhelderend is. As hierdie wolkerige obstakel (bladsye 3–33) egter eers agtergelaat is, bied die werk ’n intensiewe speurtog deur die oeuvre van Prinsloo, wat berus op deeglike, feitelike navorsing en analise van sentrale tekste. ’n Indeks wat naslaan vergemaklik, ontbreek egter. (...)

“Scheepers se Prinsloo-studie sal sekerlik nie vir alle lesers toeganklik wees nie. Vir die literêr-geskoolde of geïnteresseerde leser en navorser is hierdie boek egter ’n onmisbare bronne-teks, al is dit jammer dat die bruikbaarheid verswak word deur die afwesigheid van ’n indeks met sleutelwoorde. Dit is nietemin ’n belangrike eerste boek-lengte ondersoek van die oeuvre van ’n merkwaardige en omstrede Afrikaanse skrywer.”

In 1998 stel Riana die kortverhaalbloemlesing Dogters van Afrika saam. Sy het net ’n naweek nodig gehad om hierdie werk saam te stel, want oor die jare is so spontaan oor die vrou, die diepste wese van die vrou, geskryf. Die verhale was dáár; die samestelling daarvan was vir haar voor die hand liggend. Die bundel word ook in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens (Rapport-Tydskrif, 18 Januarie 1998).

Riana vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat sy nie vir skrywers wou vra om ’n storie spesifiek vir hierdie bundel te skryf nie, want dan sit sy dalk met stories wat sy nie wil opneem nie, maar verplig voel om te aanvaar. Sy het dus op ’n Vrydagmiddag deur haar kortverhaalbundels begin werk en teen Sondagaand het sy haar seleksie gedoen.

Al is die titel van die bundel Dogters van Afrika, wou sy nie net verhale van vroulike skrywers insluit nie, maar ook verhale deur manlike skrywers. “As net vroue oor vroue skryf, raak die perspektief verdraai. Ek wou ook die manlike perspektief kry,” verduidelik sy aan Nieuwoudt (Beeld, 2 Desember 1997). “Daar was reeds drie belangrike Afrikaanse versamelwerke oor vroue – Rachelle Greeff se Lyfspel, Vrouevertellers van Annemarié van Niekerk en Vrou:Mens van Corlia Fourie. Nie een van dié boeke het ’n manlike stem nie. Dogters van Afrika is die eerste vroueboek waarin die verhale van manlike skrywers ook opgeneem is.”

Sy gaan voort: “Nie een van die verhale is gekies omdat die skrywer lesbies, gestrem, manlik, vroulik, wit of swart is nie. Dit is suiwer ’n persoonlike keuse. Ek het die mooiste verhale in Afrikaans in die boek saamgevat.”

Riana verlaat Tafelberg Uitgewers in 1998. Sy is nie daar weg oor onenigheid nie. Daar was konflik, maar nie só dat sy gevoel het sy moet bedank nie. Sy het bloot te hard gewerk en het gevoel dat haar eie kreatiewe prosesse tot stilstand “geknars” het (Rapport, 16 Mei 1999).

In dieselfde tyd is sy ’n gas op die televisieprogram Maak ’n las en vertel sy ’n grappie met ’n knalwoord as treflyn. “Die wye kritiek daarop het my twee nagte se onophoudelike trane gebring” en sy is lank in die pers daaroor bygekom. Oor hierdie voorval laat Riana haar soos volg uit: “Ons het nog g’n stuk gevorder sedert die Middeleeue nie. Dis waaroor my kortverhaalbundel [Feeks] gaan: dat die feeks verdelg is omdat sy nie hul idee van ’n vrou was nie. Dit was die intensiteit van die aanval op my wat ontstellend is. Dit was die intensiteit wat veroorsaak het dat die vroue in die Middeleeue verbrand is.” (Rapport, 16 Mei 1999)

Riana sluit ’n jaar lange kontrak met die stigtersredakteur van die Christelike tydskrif Finesse, Maretha Maartens, om ’n maandelikse rubriek aan hulle te lewer. In Mei 2000 word die kontrak summier opgeskort nadat daar, volgens Finesse, klagtes van lesers was oor Riana se boeke, asook na aanleiding van ’n artikel in Rooi Rose waarin Riana sê dat sy neutraal staan teenoor Paasfees. Finesse beweer dat Riana nie ’n Christen is nie. Maretha Maartens het intussen uitgetree as redakteur van die tydskrif en Coenie Schoeman word die uitgewer.

Riana was baie verbaas oor hierdie besluit van die uitgewers, want sy het goeie reaksie van die lesers op haar rubriek gehad. In ’n brief aan Vanessa Schoeman, die assistentredakteur, skryf sy: “Ek het nog nooit met my Christenskap te koop geloop nie, omdat ek weet dat ek feilbaar is (...) Liefdeloosheid en morele veroordeling is steeds met ons, veral uit die geledere van die Groot Christene wat (skynbaar) self sondeloos is en daarom só maklik die oordeel oor ander kan vel” (Volksblad, 8 Junie 2000).

In 1999 verskyn Riana se volgende kortverhaalbundel onder die titel Feeks. Mabel Erasmus (Volksblad, 24 Januarie, 2000) skryf dat dit ’n boek is wat menswees in Suid-Afrika in daardie tyd wil besweer, maar ook bevestig en vier.

“Daarom wil ek dit by lesers aanbeveel as ’n talisman vir die toekoms wat vir baie van ons die gevoel van verswelging gee. (...)

“Die woordeboekbetekenis vir feeks, naamlik, ‘bitsige, nydige vroumens – kwaadwillige hellefeeks’, mag misleidend wees; dit sou die indruk kon wek dat die boek ’n uitdagende of sogenaamde ‘feministiese’ teks is waaraan sekere mense ’n broertjie dood het. Die boek as somtotaal omvat egter veel meer as verhale oor karakters wat aan hierdie beskrywing voldoen; dit is ’n inklusiewe, genuanseerde bundel en daarom behoort die titel liefs gelees te word as meerduidige samestelling van fee (’n vrou wat haar toorkrag positief inspan) en heks (’n vrou wat toorkuns beoefen, meestal tot nadeel van die medemens – aldus die woordeboek).

“Die twee magiese elemente word subtiel vermeng; byna elke verhaal spoel iewers oor die grense van die rasioneel-ervaarbare werklikheid en versterk sodoende die betowering van Scheepers se voortreflike woordkuns. (...)

Feeks bevat die gesamentlike betowering en towerkrag van die knap literêre teks. Laat ons maar katvoet loop vir die hiperpragmatisme (ook in akademiese kringe) wat letterkunde se rol en waarde geringskat. (...) Vir my straal die boek in geheel medelye, moed, hoop en troos uit – kwaliteite waarsonder niemand die nuwe eeu kan aandurf nie.”

Ook Gretel Wybenga is positief oor Feeks (Rapport, 23 Januarie 2000). Ook hier is die vrou die sentrale tema, soos in Scheepers se vorige bundels, maar in hierdie verhale is daar sprake van “ander verborge, en soms donker, kragte met sy oorsprong in ’n diepgewortelde oerkennis wat die rasionele voorafgaan”.

Wybenga gaan voort: “In die woord ‘feeks’ manifesteer die betekenis van sowel helleveeg as heks, wat hier nie noodwendig sinonieme is nie. Reeds vanaf die eerste verhaal, in die magiese teenwoordigheid van ’n inheemse oorbel wat ook op die voorblad pryk, word die heks verbind aan die Afrika-gegewe. Om dié rede moet die heks, soos in Westerse kulture, nie net in die bose sin van die woord begryp word nie, maar die heks is ook medisynevrou, sjamaan, en die gewer van goeie dinge. (...)

“’n Verblydende aspek van hierdie bundel is dat Scheepers haar nou uitgebreid en oortuigend begeef op die terrein van die magiese, wat wel ’n waagstuk kan wees as die outeur nie daarvoor toegerus is nie. Dié tendens is ook toenemend opvallend, onder andere in die werke van André Brink. Miskien is ons verwaterde Westerlinge nou eers, hier teen die eeuwisseling, in staat om die ware stem van Afrika te hoor.

“Hierdie sterk bundel se stramien is somber en die spontane speelsheid en byna improvisatoriese indruk van die tipiese Scheepers-verhaal minder opvallend. Die somberheid word ook uitgesê met die oorwegend donker en treffende voorblad, en die swart titelblad, en selfs met die onvrolike foto van Scheepers (koponderstebo!) op die agterblad.”

Riana se eerste digbundel, Met die taal van karmosyn, verskyn in 2001. “Dis ’n viering van die liefde en die feit dat my taal aan my teruggegee is. In die agt jaar wat ek in ’n verhouding met ’n digter was, het ek my doelbewus daarvan weerhou om in die artistieke ruimte waarin hy beweeg het, in te gaan. Die einde van die verhouding was traumaties, maar dit was ook ’n skeppende bevryding.” Dit is ’n nuwe liefde wat haar taal vir haar teruggegee het: “Die man is nie ’n letterkundige nie, maar hy praat die mooiste, ongebreidelde Afrikaans,” vertel Riana aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 22 September 2001).

Die meeste van die gedigte in Met die taal van karmosyn is vir die nuwe geliefde geskryf. En, vertel Riana verder aan Nieuwoudt, die titel is gekies om by die baie passievolle toon van die gedigte te pas. Op die voorblad is ’n foto van die skrywer met die mond wat baie prominent vertoon. “Die prominente mond is vir my beduidend van die sensuele en die taal wat ek teruggekry het. Die bundel is uiteraard meer intiem as my ander werk. Met poësie speel jy nie speletjies nie. Dis die rouste en eerlikste vorm van literatuur.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 2 Oktober 2001) is Met die taal van karmosyn as debuut nie treffend nie. Maar daar is ’n handvol gedigte wat “onthoubaar is tussen verse wat nog gewoon indrukke is (en waarskynlik te na aan die digter of die ervaring staan)”.

Vir Hambidge is die verse wat die beste is, dié wat agter die “woord-net” gebeur, maar haar gevolgtrekking is dat Scheepers eerder ’n kortverhaalskrywer as digter is.

TT Cloete skryf in Rapport (4 November 2001) dat die hoofindruk wat die bundel by die leser laat, die taal van karmosyn of van erotiek is. Maar dit beteken nie dat hierdie gedigte die beste groep verse in die bundel is nie. “Inteendeel. Die erotiese gedigte laat hulle te swaar geld en soms te egosentries, en te veel in die trant van dergelike gedigte van enkele ander digters van die jongste tyd. (...)

“Daar is ook gedigte van ’n heeltemal ander aard in hierdie afdeling, soos ‘Sappho was verkéérd’ of ‘Swartland: wintermiddag’ met sy skerp teenstellings. Dit is verse wat verskil van die meeste gedigte in hierdie afdeling, omdat dit nie van vervulling alleen praat nie maar van verydeling, van pyn wat met die liefde gepaardgaan en wat ’n meer verwikkelde karakter daaraan gee. ’n Veelkantigheid wat nietemin in heel eenvoudige taal verwoord is. (...)

“Party van die liriese gedigte praat onmiddellik met jou, maar hulle, soos ander wat ’n mens direk aanspreek en eerder bloot beskrywend is, verloop ongelukkig dof, en meestal hang dit saam met die oormaat kort, saaklike en onortodokse verse wat min ritmiese moontlikhede skep. (...)

“Die reisgedigte staan miskien nie verniet aan die slot van die bundel nie en is gedigte wat dalk moontlikhede inhou vir toekomstige ontwikkeling.”

Riana Scheepers se eerste jeugboek, Die blinde sambok, word ook in 2001 gepubliseer en ontvang in 2003 die ATKV-Kinderboekprys vir die ouderdomsgroep 10 tot 12 jaar. Hierdie toekenning is baie spesiaal vir Riana omdat dit die kinders self is wat die keuse maak. Leon de Villiers, ’n jeugboekskrywer, se reaksie op die prys is dat die kinders vere voel vir die skrywer, maar mal is oor die storie, en Riana stem volmondig met hom saam. Die Nederlandse vertaling van Die blinde sambok getiteld Scorpioenkind was op die kortlys van die Vlaamse Kinderjurieprys (Taalgenoot, Mei 2003).

Die blinde sambok het as hoofkarakter ’n meisiekind met ’n seunsnaam, Gideonette, wat ’n regte rabbedoe is. Die hele familie het gehoop dat sy ’n seun sou wees wat die familienaam kon voortdra. Toe sy gebore is, was haar pa baie teleurgesteld – nie net omdat sy ’n dogter was nie, maar ook twee maande te vroeg gebore is en baie swak was. Maar niemand het besef dat die kleine meisiekind ’n wil van haar eie het en dat sy besluit het sy gáán lewe nie. Sy kry ’n beste vriend, Bhubesi, op die plaas en saam beleef hulle baie avonture.

Wat Gideonette egter nie geweet het nie, is dat daar ’n “vloek” op die familienaam Gideon rus – almal wat dié naam het, gaan in fratsongelukke dood . Maar, vertel Riana aan Dawid de Bruyn (Rapport, 6 Mei 2001), Gideonette oorleef omdat sy ’n onblusbare drang het om te leef. “Uiteraard is dit ’n fiktiewe verhaal, maar die insidente wat beskryf word, is outobiografies. Ek was ’n onhebbelike kind. En my pa is ook dood toe ek ses was.”

Riana het baie geïrriteerd geraak oor die jeugboeke wat altyd een of ander sosiale probleem aanpak, sê sy aan Stephanie Nieuwoudt in ’n onderhoud. “Daar is altyd alkohol- of dwelmmisbruik of ma wat vir pa slaan. Ek wou ’n outydse jeugverhaal skryf met outydse Trompie-rige pret. Ek het nie probeer om ’n politieke stelling te maak nie, maar die Bhubesi in die boek het wel bestaan. Hy was my pêl op my oupa se plaas.”

In 2017 het Hanneke Schutte Die blinde sambok verwerk tot ’n film getiteld Meerkat Maantuig. Dit was een van die prente wat in 2017 meegeding het in die Silwerskermfees se kompetisie en het weggestap met die prys vir die beste kinematografie. Anchen du Plessis het die rol van Gideonette vertolk en Schutte was die regisseur.

Die film is ook oorsee bekroon, met die volgende pryse:

  • Wenner van die FIPRESCI Critics Prize by die Schlingel Filmfees in Duitsland 
  • Wenner van Best International Feature by die Schlingel Filmfees in Duitsland 
  • Wenner van die Festival Honors Award for Outstanding Achievement in Filmmaking  Feature Film, Newport Beach Filmfees in Amerika 
  • Wenner as die beste film vir kinders en die jeug, Spirit of Fire Film Festival, Siberië  
  • Wenner Beste Kinematografie, SAFTA (South African Film and Television Awards)

In 2006 word Die avonture van Wilde Willemientjie gepubliseer en word dit verwerk vir die teater. Dit word in 2006 by die KKNK onder regie van Niel Rademan opgevoer en ontvang die Kanna vir die Beste Kinderteater. Sy skryf vir kinders, want “ek wil vir ’n slim kindjie met al die wysheid van die hemel in sy oë wonderlike stories lees van goeters wat gril, spoke wat in bome swaai, seerowers wat in die wingerd sit, geeste in klippe met ’n sagte stem wat nét ’n kind kan hoor.”

Wilde Willemientjie se avonture het nie net by een boek en een opvoering gebly nie. Ander titels is Wilde Willemientjie, ’n walvis, ’n seerower en die maan (2007) en Die verdere avonture van Wilde Willemientjie (2009). In 2007 het Wilde Willemientjie ook ’n draai by die Volksblad-kunstefees gemaak saam met die walvis, die seerower en die maan.

Scheepers is ook die skepper van Arboreta, die heks met die groen hare, ’n baie wyse en vriendelike heks wat vir die bome in haar woud sorg.

“Sy het ’n talent om haar te kamoefleer, en sy besit ook sekere toorkragte, wat slim aangewend word teen diegene – stoute kinders, gewoonlik – wat haar woud wil verniel. Die gawe groen heks is egter bekommerd, want sy is al baie oud en wie gaan na die woud omsien wanneer sy nie meer daar is nie?” skryf Jeanne Calitz in Die Burger (26 Junie 2008).

Calitz beskryf die storie as pragtig en dromerig en een wat in die smaak van ses- en tienjariges sal val: “Ook volwassenes sal egter iets waardevols in die verhaal kan vind, al is dit bloot om vir ’n wyle te ontsnap in ’n vriendelike groen wêreld. Eenvoudig maar ráák in haar beskrywings, het ek later kompleet begin voel (of is dit wens?) ek kan daardie sagte, suisende woudgeluide hoor.

“’n Mens het veral ook waardering vir die feit dat Scheepers daarin slaag om ’n boodskap oor omgewingsbewaring oor te dra sonder om een oomblik prekerig te klink. (...) Ons jongklomp moet leer om respek te hê vir die aarde en sy mooie wonders, veral in hierdie tye van snelle stedelike groei, besoedeling en aardverwarming. En Arboreta is die perfekte onderwyseres.”

In September 2002 trou Riana met Johann Loubser en hulle gaan bly op De Compagnie net anderkant Wellington in die holte van die Wamakersvallei. Op hierdie plaas doen vroue hul dinge. Riana is plaasbestuurder, bemarker, asook inslapende digter. Sy werk saam met die vroue in die wingerd. Sy doen dit “omdat iets gebeur het wat ek aan niemand kan verduidelik nie. Ek word deel van die beskeie mag van vroue wat die nederigste werk op aarde doen. Hulle dink nie meer dis snaaks, dié mevrou wat saam met hulle inval nie, hulle bly nie meer stil as ek nader kom nie. Ek hoor van hul huise, hul kinders, wie de afgelope naweek vir wié geskel het, wie se man ’n vuilis is, en wie se kinders gruwelik is” (Rooi Rose, Augustus 2003).

Haar passie vir Afrikaans tree ook hier na vore toe hulle op die wynetikette vir hulle wyn moes besluit. Hierdie etikette word oorwegend in Afrikaans gedruk.

Riana is, benewens haar gewone skryfskole, ook nóú betrokke by geletterdheidsklasse vir volwassenes in die plaasgemeenskap. Sy bied ook ’n kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke op De Compagnie aan.

In 2003 word drie van haar boeke by die Antwerpse Boekebeurs bekendgestel: die Nederlandse vertaling van haar digbundel, asook die vertaling van Die blinde sambok en Verstaan my verlangste, ’n bloemlesing van Afrikaanse liefdesgedigte. Sy en die Vlaamse letterkundige Jooris van Hulle stel die bundel saam. Die gedigte is in Afrikaans met Nederlandse verklarende aantekeninge.

De Compagnie se huidige plaasbestuurder, Mattewis Thabo, se vrou Nicci is ’n opgeleide kleuterskoolonderwyseres. Sy help die kinders op die plaas na skool met lees- en skryfwerk. Riana vra haar om stories vir die kinders te skryf. So skryf Nicci in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfwedstryd en word die eerste prys aan haar toegeken.

In 2005, met die viering van De Compagnie se driehonderdjarige bestaan, skryf Riana ’n kortverhaalwedstryd uit en word die beste inskrywings deur haar en Nicci gebundel in Die melkweg het ’n ster laat val (2006). Vir die bloemlesing ontvang hulle ’n prys van die Departement van Landbou wat erkenning gee aan die kulturele baanbrekerswerk wat hulle onder plaaswerkers doen. Riana ontvang ook in 2006 die Patrick Petersen-gedenkprys vir haar opheffingswerk onder plaaswerkers en haar bemagtiging van vroue.

In 2006 vereer die Rapportryers Riana met ’n erepenning vir haar rol in die uitbou van Afrikaans en die visie van die Rapportryersbeweging.

Sy is ook ’n baie gewilde rubriekskrywer wat gereeld vir Die BurgerVolksblad en Beeld bydraes gelewer het. Hierdie bydraes is in 2003 en 2005 gebundel in onderskeidelik My voete loop na Wellington en ’n Engel in my huis.

Oor My voete loop na Wellington skryf Cecile Cilliers (Die Burger, 6 September 2003) dat hierdie bundel rubrieke meestal met die skrywer self te make het. En dit kan, volgens Cilliers, problematies wees, aangesien die skrywer makliker belangriker as sy stof raak en dit tot “selfbeheptheid en selfkoestering” kan lei, wat ongelukkig in hierdie bundel te bespeur is.

Maar gelukkig, skryf Cilliers, is daar drie eienskappe waaroor Riana beskik wat hierdie bundel red: haar sin vir humor, haar vermoë om ’n storie te herken én dit te vertel en haar taalgebruik. “Afrikaans blom uit Scheepers se pen.”

Oor haar volgende versameling rubrieke, ’n Engel in my huis, vertel Riana onder meer van haar vissershuisie aan die Weskus, asook van haar huis op die wingerdplaas. Maar daar is ook ander huise ter sprake, sowel as sketse oor plekke in Suid-Afrika en oorsee waarheen sy gereis het.

In Literator (Augustus 2006) skryf SF Greyling dat al die bydraes nie op dieselfde standaard is nie, maar dat dit te verwagte is in ’n versameling van hierdie aard.

“Bydraes soos ‘Mathilda se storie’ (p 12) laat ’n afgeronde en universele indruk. Ander bydraes is veel persoonliker en kom soms sentimenteel oor. Lesers verskil egter en elkeen sal waarskynlik ’n gunsteling in die bundel hê. (...) Die vertellings is kort, wat dit ideale leesstof maak wanneer ’n mens net ’n paar minute beskikbaar het. Dit is waarskynlik hoe dit gelees moet word – so proe-proe en een of twee op ’n slag. Elke vertelling bied die leser veel om te geniet, om oor na te dink, en met ’n vars blik na die wêreld te laat kyk.”

In 2009, so tussen al die rubrieke, kinder- en jeugverhale en poësie, verskyn Riana se volgende kortverhaalbundel, getiteld Katvoet, haar eerste bundel in tien jaar.

Sy verduidelik aan Elise Tempelhoff (Beeld, 30 September 2009) dat Katvoet groen is: “Katvoet is omgewingsbewus in die sin dat die karakters in die sleutelverhale leer om meer aards, meer primordiaal, maar natuurlik, maar intuïtief te leef.

“My bewustheid van die omgewing kom van kleintyd af. Ek het op ’n plaas grootgeword en was nog altyd omgewingsbewus – in dié sin dat ek nog altyd na aan die natuur wou woon. Sedert ek in die Wamakersvallei woon, het dit méér geword, het ek dit reggekry om te doen wat ek wil – om meer ekologies bewus te wees.

“Ons het te veel goed, gaar te veel op, kry te veel Kerspresente, leef te oordadig. Ek kan presies dieselfde luukshede om my hê met veel minder besittings. Ek glo dat ons almal uit die natuur moet haal wat jy nodig het, maar niks oorbodigs moet wegvat nie. Ons koolstofvoetspoor is te groot. Die kultuur om te stroop – meer te vat as wat nodig is – is al eeue lank met ons. Ek wil graag hê ons geslag moet leer om minder te mors en meer bedagsaam te wees jeens die natuur.”

Die vrou in die titelverhaal in Katvoet leer om instinktief soos ’n kat te leef, in die nag, omdat sy besef dat dit geestelik goed vir haar is. “Sy leer om meer op haar sintuie, en veral haar sesde sintuig, aanspraak te maak. Sy leer die natuur ken terwyl die natuur sy geheime en wonderwerke vir haar oopmaak.”

Riana vertel aan Tempelhoff dat die natuur en die bewustheid van die natuur ook in die ander verhale belangrik is: “Dit gaan veral oor die eenwording van die karakters met die natuur en die mens in simbiose met die natuur.”

In haar resensie (Beeld, 16 November 2009) skryf Susanne Harper dat katte ’n belangrike rol speel in Katvoet. “Volgens die skrywer self in ’n radio-onderhoud gaan dit hier oor katte, hetsy dit nou ’n luiperd, huiskatte of skuurkatte is. (...) ’n Pragtige stuk is die titelverhaal waar die vrou vergelyk word met ’n kat waarvan die sintuie in die nag verskerp. Maar ’n kat is altyd ’n slim, maar ook ’n slu dier.

“Volgens Scheepers moet die skrywer ook dikwels slim en slu wees. Volgens haar, in ’n ander onderhoud, bewonder sy die kombinasie van intelligensie en sluheid wat ’n kat het en sien sy dit as ’n verbysterende eienskap wat elke skrywer moet hê.

“Hiermee saam gaan die tema van die bonatuurlike, reïnkarnasie en die wonderwerke. Die kortverhale in hierdie volwasse bundel toon die ligte, elegante en sinistere aanslag van die kat. (...)

“Die bundel is ook vernuwend en eksperimenteel. Eienaardig en eksperimenteel is die gebruik van kleinletters aan die begin van ’n verhaal en ’n titel van ’n verhaal wat oorloop in die eerste sin. Sinne sonder werkwoorde is volop, so ook die opeenstapeling van gegewens waar dit funksioneel aangewend word. Die magiese, die onmoontlike en surrealistiese elemente kom in verskeie verhale voor (...). Sulke toweragtige, soms surrealistiese momente, kom dikwels verfrissend teen die slot van ’n verhaal voor.”

Saam met Ampie Coetzee beskou Harper hierdie bundel as Riana Scheepers se beste tot op daardie stadium.

Hierna begewe Riana haar op ’n heel ander gebied toe sy besluit om DJ Opperman se destydse Kleuterverseboek wat in 1957 op die rakke verskyn het, in ’n nuwe gedaante aan Afrikaanse kinders bekend te stel.

Sy vertel aan Izelle Venter in Huisgenoot (11 Junie 2009) dat sy stomverbaas was toe sy besef hoe oud Kleuterverseboek is. “Dis dan amper so oud soos ek! Dit bly ’n wonderlike boek, maar dit was tyd vir iets nuuts ook.”

Sy het toe vir Suzette Kotzé-Myburgh, ’n baie ervare boekredakteur, gevra om te help en só is dié “moet-hê-boek” gebore. Riana se hooftaak was om bydraes in te samel en saam met Suzette die keuring te doen, terwyl Suzette verantwoordelik was vir die redigering.

In die nuwe bundel, met die titel Nuwe kinderverseboek, is byna 300 nuwe kinderverse in Afrikaans opgeneem. Heelwat van die 113 digters wat bydraes gelewer het, het nog nooit met rym of ritme te doen gehad nie, en rym en ritme is juis van die vereistes wat nie net aan kleuterpoësie gestel word nie, maar ook aan verse vir volwassenes – “die ritme, metrum en rym moet perfek wees. Dis glad nie maklik nie,” vertel Suzette.

Onder die debuutdigters is daar ’n ingenieur, huiswerker, finansiële joernalis en heelparty mammas en pappas en ook oupas en oumas. Die jongste digter was maar tien jaar oud toe sy gedig gekies is. En Hennie Aucamp het vir die eerste keer vir kinders gedig, wat vir hom ’n heel nuwe ervaring was. Vir Suzette was die redigering wat sy vir Nuwe kinderverseboek gedoen het, baie moeilik.

Die verse is volgens ouderdom in drie afdelings ingedeel (2 tot 4, 5 tot 7, 8 tot 10) met elke afdeling wat sy eie illustreerder gehad het, wat bygedra het tot die plesier wat die verseboek sal gee aan almal wat dit gaan lees.

Riana en Suzette sê vir hulle is die belangrikste element van hierdie boek dat dit pret moet wees om dit te lees. “En die pret is nie net tot kinders beperk nie, maar selfs ernstige grootmense sal dit geniet.”

André P Brink (Beeld, 4 Mei 2009) beskryf Nuwe kinderverseboek as “genoeglik” met “oorspronklike, verfrissende en fleurige illustrasies wat uitmuntend aanpas by die belangstellings en verbeeldingswêreld van kinders in ’n bepaalde ouderdomsgroep. In ’n werk van dié aard is illustrasies van byna ewe veel belang as teks en ek moet eerlik sê die NKV is kort en klaar een van die mooiste kinderboeke wat ek nog in Afrikaans gesien het.”

Ná bogenoemde twee versamelbundels van haar rubrieke, versamel Adriaan Meyer, Riana se jongste seun, van haar kortverhale wat in haar vorige vyf bundels opgeneem is. Sy vertel aan Solette Stander (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012) dat hierdie bundel, getiteld Die vrou in die vuur, haar oeuvre verteenwoordig.

“’n Versamelbundel gee lesers ’n goeie idee van hoe ’n mens as skrywer ontwikkel en gegroei het deur die jare. Toe ek nou agterna vir elke kortverhaalbundel ’n inleiding moes skryf, het ek self ook ’n goeie blik op my werk gekry en kon ek duidelik sien wat die invloede op my werk was.”

Met die publikasie van die biografie Purper en kaneel, komyn en smarag: die kleurvolle lewe van Hannetjie de Clerq lewer Riana weer eens bewys van haar veelsydigheid as skrywer. Oor hoe dit gebeur het dat sy spesifiek hierdie skilder se biografie geskryf het, vertel Riana aan Laetitia Pople (Die Burger, 17 Oktober 2012) dat sy die eerste maal van De Clerq se werk bewus geword het in die 1980’s toe sy skilderye van haar op die destydse Bloemfonteinse kunsmark gesien het. Veral een het tot haar gespreek, maar sy het as student nie die R40 gehad om dit te koop nie.

De Clerq het gesien sy stel baie belang in die werk, en vir Riana gesê sy kan dit neem en haar afbetaal wanneer sy die geld het. En só het hulle vriendskap begin.

Riana vertel self verder: “’n Jaar of wat voor Hannetjie se 50ste verjaardag het sy my gevra om haar lewensverhaal te skryf. Nie ’n biografie as sodanig nie, maar ’n bestekopname van haar lewe in samehang met haar ontwikkeling as kunstenaar. Sy wou nie hê dat dit nóg ’n kunsboek moes wees wat swaarwigtig, vol akademiese uitsprake en totaal onleesbaar is nie.

“Sy wou hê dat ek as woordkunstenaar die belangrikste momente in haar lewe as kortverhale skryf. Die teksgedeeltes is in die derde persoon geskryf en handel oor ‘die kind’, ‘die meisie’, ‘die student’, ‘die vrou’ en ‘die kunstenaar’. Die boek is oor ’n tydperk van twee jaar geskryf oor vele potte tee en glase wyn.

“Ek en Hannetjie het feitlik weekliks ’n afspraak gehad – óf ek was by haar in haar soel tuin, óf sy by my op die plaas. Sy het my broksgewys haar lewe vertel – en hoe meer sy vertel het, hoe meer dinge het sy natuurlik onthou, dus was dit nie ’n lineêre gesprek wat ’n netjiese begin tot einde gehad het nie.”

Daar was sekere oomblikke in haar lewe wat Hannetjie self beskryf het en vir Riana skryf sy “hierdie ongelooflik beeldryke sinne, net so mooi en evokatief soos haar skilderye. Ek het besluit dat dit my verhale moet begelei – vandaar die teks in die eerstepersoonsperspektief.

Purper en kaneel, komyn en smarag is ’n titel wat vertel van haar kleurryke lewe, ’n lewe wat nie net kleur is nie, maar ook geur en tekstuur en wysheid – en diepte.”

Tanya O’Connor skryf in Rapport Boeke (4 November 2012): “Purper en kaneel, komyn en smarag is die lewensreis van ’n vrou wat haar lewe gelééf het, eerlik soos haar kunswerke, maar dis ook die verhaal van die vriendskap tussen twee siele wat met ’n enkele kyk met mekaar gesels. Dit is wat my sal bybly: Die besondere band tussen kunstenaar en skrywer, iets wat ek keer op keer vind op die blaaie van dié boek.”                

Riana skryf vanaf twee-uur in die nag tot so vyf-, sesuur, wanneer die donker ure van die nag aan haar behoort. “Dit is die magiese uur waarin ’n mens weerloos, hipersensitief en vatbaar vir die bonatuurlike is.” Dit help ook dat sy die mooiste studeerkamer in die wêreld het – die ou kombuis van ’n huis waar die vuur in die vuurherd in die winter nooit ophou brand nie.

Adriaan, Riana se jongste seun, volg beslis in sy ma se gewilde voetspore. Hy is ’n dramaskrywer en sy drama oor Koos Prinsloo, Prinsloo Versus, word in 2004 tydens die KKNK bekroon met die Jong Kanna vir Beste Studenteteater.

Oor dinge wat haar ontroer sê Riana aan Solette Stander (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012) dat daar verskeie dinge is waarin sy geïnteresseerd is en wat haar aanraak – “soos die geweldige impak van kinderpoësie op gestremde en nie-gestremde kinders, en so ook die energie van opkomende kunstenaars. Dit is vir my wonderlik om met nuweling-skrywers te werk, want hoe meer energie ’n mens uitdeel, hoe meer ontvang jy ook.

“Die simbiose tussen die natuur en die mens se geesteslewe interesseer my ook. Daarom skryf ek graag oor die heks-figuur – oor vroue wat uitgestoot word omdat geglo word hulle is boos. In werklikheid was baie van die vroue wat deur die samelewing as hekse uitgekryt was, bloot vroue wat ’n besondere aanvoeling vir die natuur gehad het.”

In 2013 brei Riana haar oeuvre verder uit met die publikasie van haar eerste kookboek, Vallei van melk en heuning. Die bestanddele van die resepte kom uit haar plaastuin op De Compagnie, en die vleis van hulle plaas Klipkraal in die Tankwa-Karoo. Die resepte is goed wat sy elke dag op die plaas maak met niks aanstellerigs of volksvreemd nie, vertel sy aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 14 Februarie 2014). “Ek is nie ’n sjef nie en my boek het eerder die weelderigheid van eenvoud as boodskap.”

Haar uitgewer by LAPA, wat Vallei uitgegee het, vertel aan Roberts: “Vallei van melk en heuning word opgedeel in seisoene en die produk wat op daardie tydstip op die plaas en uit die omgewing beskikbaar is. Dit sluit ’n wye verskeidenheid van resepte in: van geurige elke-dag-kos, tot uithalergebak om enige gas te beïndruk. Maar altyd toeganklik, eerlik en onpretensieus. Tussen die resepte deur vertel Riana stories, en maak dit meer as net ’n resepteboek, inderwaarheid ’n inspirerende lekkerleesboek wat jy nie net in die kombuis gaan lees nie.”

Riana vertel aan die kookboekversamelaar en huiskok Errieda du Toit (Boeke-Rapport, 2 Februarie 2014) dat die skryf van hierdie kookboek vir haar die hardste werk was wat sy nog ooit gedoen het: “Behalwe dat alles perfek moes wees en elke resep getoets (en getoets en getoets) moes word, was die stilering en fotografie daarvan ’n tydsame maar wonderlike proses. Maar die skryfproses van kookboek en literêre teks is eintlik presies dieselfde: Ek het maar net die verhale geskryf waarvan die hoofbestanddeel die produkte van my plaas is” (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012).

In 2017 verskyn Riana se tweede kookboek onder die titel Smeul: drie vroue, een kombuis. Hierdie een skryf sy saam met Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz. Op Maroela Media skryf Louise Viljoen dat die resepte in vier afdelings ingedeel is, naamlik Weergalose Weskus; Karooland, hartland; Diep, diep in die donker woud; en Sprokie vir ’n stadskind. Die resepte is op die regterkant van die bladsye gedruk met volkleurfoto’s aan die linkerkant.

Viljoen vertel dat sy die boek van die rak afgehaal het net om na iets te soek en twee uur later het sy nog daar gestaan: “Die pragfoto’s is verleidelik en maak jou honger én lus. Die groot verskeidenheid resepte van oor die aardbol smeek om beproef te word. Dis egter die teks wat in sprankelende harts-Afrikaans geskryf is deur vroue wat kán, wat soos ’n sagte karos oor my skouer kom lê het en ek het my skaamteloos verlustig aan hulle geselsies en vertellings oor kos.”

Riana se volgende roman, Stormkind, word in 2018 deur Tafelberg gepubliseer. In Stormkind leer ons vir Jana ken. Toe sy drie jaar oud was, het haar ma tydens ’n kuier in Ierland spoorloos verdwyn. Op sy plaas Stormkloof in die Boland treur haar pa, Kleinstorm, na ’n paar jaar nog altyd oor sy vrou wat so mooi fluitmusiek kon maak.

Vir Jana is die gemis na haar ma net so erg. In die nag volg sy die geroep van die wind na buite. Sy vrees nie die storm nie, want die geluid wat die wind maak laat haar dink aan die klanke wat haar ma uit haar fluit kon optower.

!X’uri word deel van Jana se lewe toe die tyd kom om haar ma te gaan soek. “!X’uri en Jana ontdek die veld deur die vyf sintuie en voltrek haar omskakeling na natuurkind met ’n klein Boesman-ritueel, waar die eerste lit van die pinkie afgekap word. !X’uri verduidelik vir Jana dat Boesman-babas op ’n jaar hul pinkielit opoffer sodat die kind nie doodgaan nie,” skryf Maryke Roberts in Vrouekeur van 15 Junie 2018.

Riana vertel aan Roberts dat die Boesmans, anders as ons, meer sensueel na die aarde kyk: “Met die afkap van haar pinkie se lit, word StormJana volledig ’n kind van die aarde.

Stormkind is die verhaal van twee dogtertjies wat dalk nie eens regtig bestaan nie. Ek het as kind ’n verbeeldingsmaatjie gehad. Jana is ’n wit dogtertjie met ’n bos rooi hare en ’n groot hartseer. Toe gee ek vir haar ’n Boesmandogtertjie as begeleiertjie. Ek hou van karakters wat vyf jaar oud is; hulle het nog nie binnestrukture nie.”

Dat sy hierdie spesifieke storie moes skryf, het met ’n draai by Riana uitgekom. Maryke Roberts skryf dat Riana eendag onder ’n “reuse-verknotte wilde olienhoutboom in die Wamakersvallei se skadu” gestaan het, toe iemand haar vertel dat dit is waar die jagters destyds vergader het, voor hulle op hul jagtogte om Boesmans te jag, vertrek het.

“Ek was geskok,” vertel Riana aan Roberts, “veral toe ek raaklees dat die laaste permit om Boesmans te jag, in 1924 uitgereik is. ’n Permit was tien sjielings per Boesman. Ons het almal ’n generiese kennis van die Boesmans, maar geen diepliggende verstaan nie. Kuns word nooit uit flou emosies gebore nie. Met Stormkind was dit die emosies van woede en afgryse en droefnis wat my beetgepak het toe ek meer van die Boesmans se geskiedenis te wete gekom het. Ek kan nie regmaak wat in die verlede gebeur het nie, maar ek kan – as kunstenaar – op ’n baie nederige manier iets van hierdie merkwaardige volk se kultuur probeer terugroep.

“Ek weet dit is gevaarlik in ons politieke bedeling om oor ander mense te skryf, maar ek wou nie oor my huidige realiteit – ’n vrou in haar vroeë sestigs – skryf nie. Ek wou ook nie oor die Boesmans skryf nie, maar ek wou hulle terugbring dat ons daaroor kan gesels. Toe skep ek ’n sprokieskarakter, ’n vyfjarige rooikopdogtertjie, want ek is gefassineer deur die psige van ’n kind.

“Ek het met verskeie nasate van die Boesmans gesels en eerstens by hulle uitgeklaar of hulle Khoi of San genoem wou wees. ‘Ons is Boesmans,’ was hul antwoord, daarom my keuse van woord.”

Riana het al ander boeke geskryf waarin die kultuur van Afrika as teenpool gesien kan word vir die Westerse kultuur, en hieroor vertel sy verder aan Maryke Roberts: “Die feit dat ons in ’n land met verskillende volke en kultuurgroepe woon, is vir my as skrywer ’n onmeetlike bron van inspirasie. Ja, natuurlik bring hierdie situasie konflik mee, maar geen groot kuns word uit oppervlakkighede (of flou emosies!) gebore nie. Kuns word uit spanning gebore.”

Sy het nie aanvanklik gedink dat daar in Stormkind verskillende kulture teen mekaar afgespeel word nie, maar dit het maar net so ontwikkel. “’n Resensent het onlangs die opmerking gemaak dat ek stemlose mense, randfigure, stem gee. Ek beskou dit as ’n enorme kompliment, maar ek beplan dit nie so nie.

“Dit is net asof hierdie stemlose karakters hulself in my lewe aanmeld. Met Stormkind wou ek magiese energie in ’n eenvoudige storie saambring, want ek was tegelykertyd gefassineerd met baie dinge: magiese realisme, natuurkragte, die geheimlewe van kinders, vergifnis – en dit alles in die styl van die sprokieverteller.”

Sedert sy en Jana en !X’uri so verbind geraak het aan mekaar, kyk Riana met ander oë na die veld. “Ek kyk fyner, ek luister meer bedag, ek leef versigtiger. Ek het 12 jaar lank aan hierdie boek geskryf – ’n leser het gesê dit is ’n hele skoolloopbaan. Ja, dit is, en ek het dalk meer in dié tyd as op skool geleer.”

Oor Stormkind skryf Francois Bekker in Beeld (12 Maart 2018): “Riana Scheepers is een van ons veelsydigste skrywers. Hierdie resensent assosieer Scheepers graag met ’n letterkunde wat vergete en selfs verstote Suid-Afrikaners met haar skryfwerk wil terugskryf sodat ons hulle nie slegs onthou nie, maar erken as deel van ons land en sy geskiedenis.

Stormkind is tegelykertyd ’n magiese raaisel-en-plaasroman wat boei en betower. Getrou aan die tradisie van die plaasroman wek die roman ’n gevoel van nostalgie by die leser. Dis ’n milieu waar familietradisie, aardsheid en die diep menslike by mekaar aansluit.

“Jana se soektog beur nie net vorentoe nie; die skrywer diep ook die familiegeskiedenis op. Wat uitkristalliseer, is die verhaal van vyf formidabele vroue wat bo die manlike karakters uittroon. Dit is vroue wat beheer neem oor hul leefwêreld. Letjie Stamboom wat vir Jana se ouma gewerk het, is een van die lieflikste karakters in hierdie storie. En soos toeka is dit nog altyd !X’uri wat haar verskyning maak om rigting aan te dui. Want wysheid oftewel intuïsie is ’n oeroue ding. (...)

“Stormkind is nie ’n tipiese wydopgesette roman nie. Stilisties lees baie van die hoofstukke soos vinjette wat sorg vir ’n vinnige en boeiende leestempo. Dit is ’n virtuose teks wat die leser onmiddellik by die verhaal intrek om nie te laat los tot by die laaste bladsy nie.

“Enersyds blom die verhaal in sy eenvoud. Andersyds skitter die woorde en beelde binne hierdie roman se magiese metafoor soos stukkies van sterre wat aarde toe geval het.”

Elbie Adendorff was die resensent van Stormkind op LitNet en sy sluit haar bespreking as volg af: “Die roman toon weer eens Scheepers se meesterlike en byna poëtiese taalgebruik: ‘nagloopkind’, ‘bloedrooi robyne’, ‘matjiesmure’, ‘sterklip’, ‘Die hele lug is vol musiek’ en ‘Die Melkweg lê in ’n dik roomstreep oor die lug’. Treffend is die stormbeeld wat ’n deurlopende motief word: die voorblad verbeeld ’n windverwaaide gesig; die plaas se naam is Stormkloof; daar is Kleinstorm en Oustorm en Stormjana; en tussendeur is daar alles wat met storms verband hou: weerlig, wind, donderweer. Die verhaal begin met ’n storm in Afrika en eindig met ’n storm in Ierland – dit verskaf ’n redelik sikliese verloop aan die roman.

“Die taalgebruik is so beeldend dat mens as leser die gebeure sintuiglik beleef: jy hoor en voel die wind wat verwoed waai; jy hoor en sien die weerligblitse; jy sien vir Tarsis wat ronddwaal in die nag; en jy sien vir Raka in Ierland. Die leser word magies ingesleep in die wonderwêreld wat Scheepers skep.

“In die roman kom intertekstualiteit voor: daar is verwysings na sprokiesverhale, byvoorbeeld: ‘Ek sal blaas en ek sal blaas tot ek jou huisie omblaas, grom die gruwelike wolf.’ Jana se hond se naam is Raka. Hy beskerm haar en pas haar op en volg Jana orals waar sy gaan – hy is selfs in Ierland om haar te beskerm toe sy haar ma in die stormweer gaan soek. Daar is verwysings na ’n Bruce Springsteen-liedjie en ’n tradisionele Ierse liedjie. Voor in die boek is ’n aanhaling uit DH Lawrence se gedig ‘Cypresses’ wat ook na die belangrike tema van voorvaarders en die geheimenisse van die lewe verwys.

“Scheepers het haar al bewys as ’n meesterskrywer van jeugverhale, kortverhale en volwasseneverhale. Sy stel in Stormkind nie teleur nie. Sy skryf toeganklik en oop vir die leser en neem ons op ’n magiese reis oor die landskappe van Afrika en Ierland.”

Op Kersdag 2018 is Riana se opdrag-Kersdrama, ’n Wonderwerk vir Kersfees, op RSG opgevoer en uitgesaai. Sy het dit lossies op ’n ware gebeurtenis gebaseer. Sarah, ’n weduwee, en haar gesin woon op ’n plot en maak ’n bestaan deur ’n klein boerdery en dít wat sy op die plot kan verbou en verkoop by haar padwinkeltjie. Hulle het net ’n bakkie as vervoermiddel. Eendag is daar ’n krisis en sy en haar gesin moet van die plaas af vlug. Op een of ander wonderbaarlike manier kry Sarah dit reg om die bakkie met haar huis se sleutel aan te skakel.

Riana vertel van die oorspronklike insident waarop sy die storie gebaseer het: “Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ’n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief.”

Die regisseur, Johan Rademan, brei ook ’n bietjie verder uit: “Ná die geweldige brande wat Knysna en George aan die Tuinroete die afgelope twee jaar deurgemaak het, bring ons ook hulde aan die inwoners van die dorpe en omliggende dorpe wat met die volle omvang van die vreesaanjaende vure gekonfronteer is.

“Uit die as en roet van die dorpies het die lewe nuwe betekenis gekry en het baie mense als wat hul ooit gehad het verloor. Lewensverlies was aan die orde van die dag en daarom is die drama, nie net oor die Kersfeestema nie, maar ook in die brandseisoen in die Kaap, so gepas en aangrypend.

“Riana Scheepers vang die kleindorpse-karakters stewig vas en omskep hul tot die juwele wat hul is. Die akteurs het werk van hoogstaande gehalte gelewer en met Joanie Combrink (Sarah Barnard), Mariechen Vosloo (Marie Barnard), Dean Balie (Wilhelm Barnard), Anrich Herbst (Krisjan Maritz) en Rolanda Marais (Leentjie) het dit gevoel of ek met die A-span werk.”

In 2015 verhuis Riana en Johan na Wildernis in die Suid-Kaap waar Riana, benewens haar eie skryfwerk, nog steeds skryfkursusse aanbied en skrywers begelei.

Publikasies: 

Publikasie

Die ding in die vuur

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630658 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • ATKV-prys 1990  
  • FAK-ontspanningsprys 1991

Vertalings

  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens 1994 
  • Spaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dulle Griet

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys

Vertalings

Nederlands 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Huis met drie en ’n half stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands as Onbevlekte ontvangenis 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Haai, Katriena, wat vertel jy my nou!

Publikasiedatum

1994

ISBN

079932132X (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die heidendogters jubel

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033816 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nou lieg jy mos, Katriena!

Publikasiedatum

1995

ISBN

079932230X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verhouding tussen outobiografiese feit en fiksie in die kortverhaaloeuvre van Koos Prinsloo

Publikasiedatum

1997

ISBN

 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: AW Scheepers

Literêre vorm

Doktorale tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katriena, néé

Publikasiedatum

  • 1998 
  • 2004

ISBN

  • 1919765018 (sb) 
  • 0799331988 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Fundi Boeke
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036731 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Feeks

Publikasiedatum

  • 1999 
  • 2000

ISBN

0798139846 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 2000

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Blinde sambok

Publikasiedatum

  • 2001 
  • 2003
  • 2018

ISBN

0624039803 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10 tot 12 jaar 2003

Vertalings

Nederlands Scorpioenkind

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met die taal van karmosyn

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798142111 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands vertaal deur Jooris van Hulle 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

My voete loop na Wellington: ’n rubriekkeur

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190319 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Engel in my huis: ’n rubriekkeur

Publikasiedatum

2005

ISBN

1869190912 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die avonture van Wilde Willemientjie

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146141 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Kanna-prys as beste kinderproduksie in 2006 (Verhoogproduksie)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Arboreta, die heks met die groen hare

Publikasiedatum

2008

ISBN

 9781869191467 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die verdere avonture van Wilde Willemientjie

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047346 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katvoet

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151078 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Katriena, vertel! Hartstories uit die kombuis (’n keur uit die vorige bundels + nuwe stories)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799351699 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vrou in die vuur: ’n keur uit die verhale van Riana Scheepers, saamgestel deur Adriaan Meyer

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798158329 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Purper en kaneel, komyn en smarag: die kleurvolle lewe van Hannetjie de Clerq

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799356489 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vallei van melk en heuning

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799356472 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Smeul: drie vroue, een kombuis. Saam met Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799382754 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stormkind

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084303 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Adendorff, Elbie: Stormkind deur Riana Scheepers: ’n resensie https://www.litnet.co.za/stormkind-deur-riana-scheepers-n-resensie

Bekker, Francois: Riana Scheepers boei https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20180312/281513636669852

Book chats with Salome: Stormkind deur Riana Scheepers https://w3b5ite.wixsite.com/bookchats/post/stormkind-deur-riana-scheepers

Green, Phyllis: Sprokiesverhaal ontsluit die magiese van die lewe https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Boeke/sprokiesverhaal-ontsluit-die-magiese-van-die-lewe-20190611-2

Luisterboek: Stormkind deur Riana Scheepers https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/luisterboek-stormkind-deur-riana-scheepers-20190930

Pepler, Dave: US-Woordfees: Riana Scheepers - Stormkind https://www.facebook.com/NBPublishers/videos/us-woordfees-riana-scheepers-stormkind/10156094994985279

Stormkind – Riana Scheepers https://leeskring.wordpress.com/2018/05/31/stormkind-riana-scheepers

Stormkind by Riana Scheepers https://www.goodreads.com/book/show/39151596-stormkind

 

Riana Scheepers as samesteller
  • Dogters van Afrika: verhale oor Suid-Afrikaanse vroue. Kaapstad: Tafelberg, 1997 [ISBN 062403593X (sb)]; Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens  
  • Treffertekste. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 2000, 2002 [ISBN 9780636019461 (sb)] (2000-uitgawe saam met Viljoen; 2002-uitgawe saam met Daniel Hugo) 
  • Verstaan my verlangste100 liefdesgedichten in het Afrikaans. Saam met Jooris van Hulle. Davidsfonds Literair, 2003 [ISBN 9789063064754 (sb)] 
  • Verlore paradyse. Saam met Nico Snyman. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 2006 [ISBN 9780636070516 (sb)] 
  • Die melkweg het ’n ster laat val; saamgestel deur Riana Scheepers en Nicci Thabo. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006 [ISBN 9780798146883] (Spesiale prys van die Departement Landbou vir die kulturele bydrae wat dié publikasie in die landbougemeenskap gelewer het, 2006) 
  • Liebenberg, Danila: Riana Scheepers praat reguit
  • Marais, Willemien: Prettige uur met baie pitkos[verhoogproduksie] 
  • Pakendorf, Gunther: Herinnerings aan tyd op die plaas 
  • Van Taak, Sophia: Nostalgiese hunkering na geboortegrond 
  • Wybenga, Gretel: Nieskrywers sorg vir leesgenot 
  • Nuwe kinderverseboek; saamgestel saam met Suzette Kotzé-Myburgh. Kaapstad: Tafelberg, 2010 [ISBN 9780624046769 (sb)] 
  • Die Afrikaanse skryfgids; saam met Leti Kleyn. Johannesburg: Penguin, 2012 [ISBN 9780143530152 (sb)]
  • Spoorvat: Jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers; saam met Leti Kleyn. Pretoria: LAPA, 2013 [ISBN 9780799360318 (sb)] 
  • Rympies vir pikkies en peuters; saam met Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit. Kaapstad: Tafelberg, 2015 [ISBN 9780624074281 (sb)] 
  • Rympies vir kleintjies en kleuters; saam met Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit. Kaapstad: Tafelberg, 2017 [ISBN 9780624081920 (sb)] 

’n Keur van biografiese artikels oor Riana Scheepers beskikbaar op die internet

  • Brand, Gerrit: Verhaal is deur na mens se hart
  • Diedericks, Erla-Mari: Riana kook met kombuistaal 
  • Keyser, Gawie: Scheepers maak vensters wyd oop vir Nederlandse lesers 
  • Lewende Legendes
  • Pople, Laetitia: Ek skryf oor wat my bang maak – Scheepers 
  • Pople, Laetitia: Ugogo begin Kaaps vertel 
  • Riana Scheepers – as mens
  • Verster, Francois: In creative company
  • Van Zyl, AJ: Die spanning tussen weerloosheid en weerbaarheid soos vergestalt in die vrouefigure van Riana Scheepers
  • Van Zyl, Johan: Skryfskool ontkiem in Riana se kop 

’n Keur van artikels deur Riana Scheepers beskikbaar op die internet

  • Brief aan mev RC Sempe: Herontplooiing van NALN se personeel 
  • Om Afrika te skryf. In Afrikaans. KKNK-rede
  • Publikasiedatum: 16 Januarie 2020

The post Riana Scheepers (1957–) appeared first on LitNet.

Pasella! Lekker leesstof uit Taalgenoot se Lente 2019-uitgawe

$
0
0

Baie dankie aan die Taalgenoot-redaksie wat dit vir PEN Afrikaans moontlik maak om die taal- en boekverwante inhoud uit dié kwartaallikse tydskrif se Lente 2019-uitgawe hier te deel. Klik gerus op die skakels onder om die artikels gratis in PDF-formaat af te laai.  

  • Spoorlose e-generasie: Met geskrewe kommunikasie wat toenemend digitaal gebeur, skryf Elsabé Brits oor of daar eendag genoeg tasbare artefakte sal wees vir argeoloë van die toekoms om oor ons beskawing te kan leer.  Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Klik-klik van ’n reddingspoging: Wanneer ’n taal sterf, verloor jy ’n hele kultuurskat, maar die N|uu-spreker Katrina Esau wil seker maak haar erfenis word aan die volgende generasie oorgedra. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Die fiksie van oortuiging: Izak de Vries skryf oor die “geheime” rolspelers wat dikwels tot skrywers se navorsing vir hul boeke bydra. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • ’n Vrou se oorlog: Marchelle van Zyl in gesprek met Marita van der Vyver oor haar jongste roman Grensgeval. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Leana Lategan van NALN onthul watter vroueskrywers ook onder skrywersname geskryf het en ander verborge stukkies inligting. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Boeke wat skrywers laat skryf: Zirk van den Berg dink op PEN Afrikaans se uitnodiging na oor daardie Afrikaanse boeke wat hom geïnspireer het om die pen op te neem. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Die skrywer se dood is die ander se brood: Daardie persoonlike brief of dagboekinskrywing was nooit bedoel vir sommer enigeen se oë nie, maar nou beland dit postuum in ’n topverkoperboek. Catrina Wessels skryf oor die regs- en etiese implikasies. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Alias die skrywer: Johanna van Eeden skryf oor die verskillende redes waarom skrywers verkies om nie onder hul eie name te skryf nie. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.

Klik hier vir die vorige uitgawe.

’n Nuwe begin. Dis Taalgenoot se tema in hierdie someruitgawe. Om nuut te begin, loop dikwels hand aan hand met waagmoed. Om die verlede agter jou te los en ’n nuwe rigting in te slaan, is nie kinderspeletjies nie. Kyk byvoorbeeld na die NALN-storie oor uitgewers wat teen die grein in gegaan en hul eie ding gedoen het. Die digter Pieter Fourie en die skrywer Madelein Rust het dieselfde soort waagmoed aan die dag gelê. Baie Suid-Afrikaners wat oorsee na ’n nuwe begin gaan soek het, het na hul eie land teruggekeer.

Taalgenoot is propvol stories en rubrieke om jou nuwe jaar mee af te skop.

Wil jy vir Taalgenoot skryf?

Stuur voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Johan Jack Smith: JohanS@atkv.org.za

Teken in op Taalgenoot

Teken in op TG en ontvang vier keer per jaar ’n tydskrif propvol interessanthede uit die volkleurwêreld van Afrikaans.

Kontak Lillian Meyer by LillianM@atkv.org.za of 011 919 9112 of volg dié skakel vir die drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf

Lees ook:

Artikels en resensies uit Taalgenoot se Herfs 2019-uitgawe

The post Pasella! Lekker leesstof uit <em>Taalgenoot</em> se Lente 2019-uitgawe appeared first on LitNet.

Johan Combrinck-lesing 2020: ’n oorsig en foto’s van die geleentheid

$
0
0

Die Johan Combrinck-lesing het onlangs in Stellenbosch plaasgevind. Jean Oosthuizen skryf oor die geleenheid en Izak de Vries deel sy foto’s.


In ’n land waar slegs 14% van die bevolking boeke lees en daar in 50% van die huishoudings nie ’n enkele boek in sig is nie, is dit ’n enorme uitdaging om ’n leeskultuur te skep.

Voeg daarby die feit dat 80% van die land se graad 4-kinders nie met begrip kan lees nie, dan besef mens waarom opvoeders met reg bekommerd is oor die toekoms van die jeug in Suid-Afrika en hulle geletterdheid.

Met dit in gedagte was Gillian Arendse vanjaar die Vriende van Afrikaans (VVA) se gasspreker tydens die jaarlikse Johan Combrink-gedenklesing in Stellenbosch. Die VVA is ’n afdeling van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) wat vanjaar hulle 90-jarige bestaan vier.

Een van die VVA se doelstellings is om kinders van jongs af lief te maak vir lees en waar moontlik te sorg dat elke kind ’n boek of meer besit. Die vraag is hoe daardie liefde vir lees by die jeug gekweek kan word.

Met ‘n PhD in eksperimentele kernfisika klink iemand soos dr Arendse na ’n ongewone gas om te gesels oor Afrikaans en die belangrikheid van ’n leeskultuur. As daar egter iemand is wat die land aan die lees en luister kan kry, dan is dit hy. Hy het sy loopbaan begin as dosent by die Departement Fisika aan die Universiteit van Stellenbosch en is daarna aangestel as bestuurder van die Community Interaction and Training Division by iTemba LABS.

Van 2014 tot 2015 dien hierdie boorling van die Paarl as die hoof van die Sentrum vir Mentorskap, Leer en Leierskapontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch. Tans is hy die adjunkdirekteur van die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies by die Universiteit Stellenbosch. Hy het ’n besondere liefde vir mense en gebruik sy talente en gawes om ’n positiewe invloed op ander mense se lewe uit te oefen.

Met die vreemde tema, naamlik “Lees na Fees: ’n omkeer en ’n streep!”, het hy die gaste behoorlik aan die raai gehad waaroor hy nou eintlik wil praat. Draai mens die L in Lees op sy kop en voeg ’n streep by die omgekeerde L raak dit gou duidelik waarheen Anderse mik as mens buite die boks dink. Skielik word die omgekeerde L ’n F as mens die streep byvoeg en word Lees met die omkeer en die streep Fees.

Met hierdie omkeergedagte keer Arendse sy gehoor se idees oor lees behoorlik om. Hy trek nie net ’n streep deur uitgediende idees oor lees nie, maar skep nuwe moontlikhede om van lees ’n fees te maak. Gou besef mens hoe ’n saak ’n splinternuwe perspektief kry wanneer jy vanuit ’n ander hoek daarna kyk. Skielik besef mens jóú waarheid is nie noodwendig die énigste waarheid nie.

Hy verduidelik dit aan die hand van ’n som met Romeinse letters. Neem byvoorbeeld die vergelyking I + XI = X. Op die oog af is X ’n totaal verkeerde antwoord. Hoe kan 1 plus 11 gelyk aan 10 wees? Styg mens egter bietjie uit bo die gewone en kyk vanuit ’n ander hoek daarna, verander alles. Kyk mens van bo na dieselfde som en lees dit van regs na links, word dit X = IX + I, wat 100% korrek is.

Soms is dit nodig om anders na dinge kyk, sê Arendse. “Baie keer baklei ons oor Afrikaans, maar deur anders op te tree pleks van baklei, bereik mens dikwels meer.”

Onderwysers en ouers bewys ook nie ’n guns aan kinders deur alles makliker te maak vir hulle nie. Hy vertel van ’n voorgeskrewe boek van FA Venter wat hy op skool gehad het. Hoewel hy die boek nooit klaar gelees het nie, het hy geslaag. Dit was omdat sy onderwyser al die vrae en die antwoorde aan die leerders gegee het. Gevolglik het die meeste kinders die maklike opsie gekies en slegs die vrae en antwoorde gelees sonder om ooit die boek te lees.

Mense kies altyd die makliker opsie as daar ’n keuse is, sê hy. As daar anders gedink word oor lees, sal minder mense die maklike opsie kies en sal meer mense ’n leeskultuur ontwikkel.

Wat Afrikaans betref, sê hy dit is belangriker om in Afrikaans te praat as om oor Afrikaans te praat en oor Afrikaans te baklei.

“Praat liewer in Afrikaans as oor Afrikaans. Moenie energie mors op goed wat nie belangrik is en waaraan mens niks kan doen nie. As iemand vir jou vra of jy ’n probleem het en die antwoord is ja, vra jouself dan af of jy iets kan doen om die probleem op te los. As die antwoord ja is, dóén dit. As die antwoord nee is en jy kan niks daaraan doen nie, aanvaar dit en beweeg aan.”

Dit help nie om jou te sit en verknies oor hoe dinge in die verlede was nie. Spandeer liewer jou energie aan hoe die land behoort te lyk, is sy raad aan diegene wat so behep is met die verlede dat hulle vergeet van die toekoms.

Dan herinner hy sy gehoor met ’n glimlag aan die stokou gebedjie: “Ag Here, as jy die deur toemaak, maak tog net ’n venster oop.”

Een van die probleme wat hy met vandag se onderwysstelsel het, is dat leerders byna nie meer mag druip nie. Dit skep ’n valse verwagting by baie dat niks kan verkeerd loop nie. Wanneer so ‘n persoon op universiteit of in die volwasse lewe kom, weet hulle nie hoe om ’n terugslag te hanteer nie, want hulle het nooit geleer mens kan druip nie.

Hy sê jongmense moet aangemoedig word om uit hulle gemaksone te klim en anders te dink. “Moenie dala [doen] wat mense wil hê jy moet dala nie. Doen dit wat jy móét doen.”

Gillian Arendse (Foto: Izak de Vries)

Gillian Arendse (Foto: Izak de Vries)

Fiona van Kerwel (Foto: Izak de Vries)

Karien Brits (Foto: Izak de Vries)

David Jantjies (Foto: Izak de Vries)

Chareldine van der Merwe (Foto: Izak de Vries)

The post Johan Combrinck-lesing 2020: ’n oorsig en foto’s van die geleentheid appeared first on LitNet.

Alba Bouwer (1920–2010)

$
0
0

Sêgoed van Alba Bouwer

“En toe het ek geleer, so sonder my man en met my twee nuwe kinders, ’n mens moet werk vir ’n kind se liefde. Ek wens ouers met eie kinders kan daardie les leer. Jou kind se liefde kom jou nie sommer net toe nie.” (Saffier, Mei 1985)

“’n Baie belangrike insig wat jy kry soos jy ouer word, is: iets wat jy liefhet, verloor jy nooit nie. ’n Plaas wat jy met jou kinderlewe joune gemaak het, bly in jou. As jy ’n mens verloor wat jy baie liefhet, verloor jy nooit die beste deel van wat daardie mens aan jou gegee het nie.”

“Een van die lekkerste dinge vir my is om met my kleinkinders te gesels, al is hulle nog klein. Só ontdek ’n mens ’n heeltemal nuwe wêreld waarvan jy nie geweet het nie. Dit gee my ’n kyk op die werklikheid van nou. As ’n mens ouer word, moet ’n mens versigtig wees dat jy nie ’n bietjie eenkant van die werklikheid staan nie. Kinders van vandag sien die wêreld mos heeltemal anders as ons.” (Saffier, Mei 1985)

“Ek sê altyd hoe ouer ’n mens word, hoe ’n groter werklikheid word genade vir jou. Daar is geen definisie van genade nie, maar vir my is genade die wieletjies wat jy kry as jy voel nou kan ek nie meer loop nie. Die Here sit daardie wieletjies onder jou voete – en dan loop jy weer. Dit is genade.” (Saffier, Mei 1985)

“Die Here gee vir ons kursusse hier op aarde en jy moet weet dat elke ding wat met jou gebeur, deel is van jou spesifieke kursus – op geen ander manier kan die Here vir jou geestelik leer nie. Jy moet dankbaar wees vir wat jy kry.” (Saffier, Mei 1985)

“Ek het nog nooit gaan sit en dink nou moet ek ’n boek skryf nie. Dinge dring hulle aan my op. Dinge wat gedoen moet word en gesê wil wees en wat my hinder en by my bly spook totdat ek dit aanpak en afhandel.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“Ek is baie lief vir mense, maar veral vir kinders. ’n Kind se blindings is nog so oop. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer trek jy die blindings rondom jou toe sodat ander nie kan sien wat binne-in jou aangaan nie.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“Die belangrikheid van goeie menseverhoudinge is die grootste lewenswaarheid wat ek geleer het. Goeie verhoudings met die mense rondom jou is die liefde wat jy aangee gedurende jou verblyf op aarde.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“’n Humorsin maak darem van jou ’n makliker mens om mee saam te stap en dit help jou deur die klipperige driwwe van die lewe en die ouderdom. ’n Verhaal oor oumense sou seker baie neerdrukkend kon word as daar nie ’n skeppie humor by is nie.” (Die Kerkbode, 20 November 1992)

“Kersfees herinner my aan die groot bevryding wat daar vir ons deur Christus gekom het, en bowenal aan die wonder van God se genade. Genade bly vir my ’n woord waarvoor ek nog nooit ’n bevredigende definisie kon vind nie, maar dis so ’n werklikheid in ’n mens se lewe. Niks kan jou beter daaraan herinner as die koms van Christus en die herdenking daarvan met Kersfees nie.” (Die Kerkbode, 20 November 1992)

“Hoe meer ’n mens die dood sien, dit naby jou ervaar, hoe makliker aanvaar jy dit. Hoe meer besef jy dis nie ’n verskrikking nie. ’n Onsekerheid, maar nie ’n verskrikking nie. En die dood is so ’n natuurlike oorstap na iets anders toe wat werklik is, wat bestaan.” (Beeld, 2 September 1993)

“’n Vrou moet altyd onthou dat sy op haar manier ’n bydrae kan lewer. Sy moet haarself nie onderskat nie, al is dit dat sy ’n goeie huisvrou is. Dis nie minderwaardig nie. Ons het elkeen iets om te gee. Ons moet bydra tot die goeie verhouding tussen mense in die land. Dit kan vroue doen, beter as die mans self. En ons moet ons geloof in God onomwonde uitdra.” (Sarie, 23 Junie 1993)

“Ek moes in my stuk lewe wat agter lê heelwat diep driwwe deur, maar daar was altyd die wonderlike genade waarvan ek bewus was. Daarby was my lewe nog altyd so ryk aan vriendskap en liefde dat ek nooit daarvoor sal kan vergoed nie, al lewe ek nog 75 jaar. Nee, rede om sinies te word, was daar nooit nie, rede om meer te probeer gee aan die ewemens, dit bly daar.”

“’n Goeie boek is ’n boek waarin die werklike en alledaagse lewe realisties weerspieël word. ’n Goeie boek is nie net vol helde nie. Niemand is óf wonderlik goed óf baie sleg nie en in ’n goeie boek is die mense doodgewoon. Goeie boeke kan jou ook leer om ander mense en hul probleme beter te verstaan.” (Oosterlig, 3 Maart 1981)

“Die langste reis vir elke enkele mens op aarde is die reis van mens tot mens. Dit is ’n reis wat in ’n leeftyd nooit voltooi word nie.” (Die Transvaler, 10 September 1982)

“’n Mens het maar jou kinders almal ewe lief, so is dit ook met die karakters in my boeke, Hulle lê my almal ewe na aan die hart.” (Kerkbode, 20 November 1992)

Gebore en getoë

Alberta Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 op ’n Vrystaatse plaas op die wal van die Renosterrivier in die distrik Vredefort gebore. Haar ma, Bertha Zeeman uit die Drakenstein, is agter haar broer aan na die Vrystaat, waar sy ná haar onderwysdiploma op ’n plaasskool skoolgehou het. “Die plaas het behoort aan ’n niggie van haar pa. Alba se ma het haar pa, Adriaan Bouwer, na die Anglo-Boereoorlog op die plaas ontmoet. “Hy was een van dertien kinders en het op sestien agter sy pa en ouer broers na die Boerekommando’s weggeloop. Maar in sy eerste veldslag is hulle saam met generaal Piet Cronjé by Paardeberg gevange geneem en na St Helena gestuur,” het Alba aan Anneke van Niekerk vertel (Sarie Marais,18 Junie 1986).

In 1995 het Alba aan Hanlie Retief (Sarie, 29 Maart 1995) vertel dat sy in ’n donderstorm gebore is. “My pa is te perd weg om die vroedvrou te gaan haal, maar die spruit kom af en hy moes óór. Hy stuur toe solank ’n ou swart vrou huis toe, maar toe dié by die huis kom, is ek klaar gebore. Te klein, te vroeg.

“En die swart vrou sê: ‘Hoe! Hy’s so klein, hy sal nie lewe nie, maar ons moet hom was, hy moet begrawe word.’ Sy het die water gebring, maar met die was skree die baba dat die wêreld dreun, seker omdat ek die gevoel gehad het dat hulle my dood wil hê, het my ma agterna vertel.

“Toe’s daar niks klere wat pas nie, want ek’s te klein. My ma moes my in doeke toedraai. En een van die groot dinge was dat my pa se trouring oor my armpie op en af kon gaan. My pa het later daarmee opgehou. Hy’t begin gesê hulle mors met sy kind, want al die bure het na hierdie klein dingetjie kom kyk. Dit was groot vermaak in die buurt, dié trouring wat kon op en af oor die kind se arm.”

Klein-kleintyd loop sy al, en praat sy al. Sy het altyd saam met haar pa veld toe gery op die bokkiekar, daar in die Vrystaat, dan sit hy haar kappietjie op en dan gaan sy saam met hom en dan hou hy haar vas. Een oggend ry hulle net so ’n draai, toe bring hy haar terug en sê dis te warm. Die middag het hy nie huis toe gekom nie. Hulle het hom onder ’n doringboom gekry, met die perde wat nog daar rondstaan. Hy het nog ’n paar dae gelewe na die beroerte-aanval en toe is hy dood.

Dit was toe Alba net ’n jaar en nege maande oud was, en haar ouers net drie jaar getroud. Haar ma moes dus haar lewe opnuut reël. By die tweemanskool op haar skoonpa se plaas was daar toe juis ’n vakante pos vir ’n onderwyseres en dit was die maklikste oplossing om met die klein dogtertjie by haar skoonouers in te trek en die onderwysbetrekking te aanvaar. Alba se eerste skooljare was op hierdie plaasskool en die jare op die plaas het die agtergrond verskaf vir haar twee Rivierplaas-boeke wat, soos sy self vertel het, ontstaan het uit haar heimwee na die plaas ná jare se woon en werk in Kaapstad.

Alba het in Klein koninkryk (Tafelberg) beskryf hoe haar oupa vertel het van haar pa: “‘Toe hy by my uitkom (op kommando), gee ek hom eers ’n deerlike loesing, en toe neem ek hom na generaal Piet Cronjé. Toe ons kort daarna by Perdeberg gevang word, word hy saam weggestuur Sintelena toe. Jare het ons daar gesit en daar het hy ook maar sy knak gekry. Dat hy so jonk dood is, is ook die Ingelse se skuld. Moet nimmer ’n Ingelsman vertrou nie, Oupa-se-kind. Net Emily Hobhouse. Sy was ’n Ingelse vrou, maar ’n Kristenmens. Gaan kyk sommer nou weer na haar portret in die eetkamer en sôre dat dit altyd hier bly hang.’

“‘Ja, Oupa,’ sê die kind. Sy sien in haar gedagtes ’n berg vol perde en heel bo-op die vrou op die portret in die eetkamer.”

Alba het in 1986 (Sarie Marais,18 Junie) aan Anneke van Niekerk vertel haar eerste beeld van ’n pa was dié oupa van haar. “Iets was fout met sy bene ná ’n lang ballingskap op St Helena. Vandat ek my verstand gekry het, het hy my teen die Engelse opgestook. Hy het gewoonlik op die stoep gesit en my so met sy kierie nader gehaak en dan stuur hy my na die eetkamer toe waar ’n groot portret van Emily Hobhouse gehang het.”

Alba se ma is op 6 April 1926 weer getroud, met Johannes Nel. Alba was toe ses. Hulle het na die plaas getrek waarop Stories van Rivierplaas later gebaseer is. Alba se broer Hendrik is hier gebore toe Alba sewe jaar oud was. Uit haar kinderdae hier het Alba die wonderlike gevoel van toegeneentheid tussen swart en wit mense onthou. Sy het die Sothovrou, ou-Melitie, onthou, hoe sy altyd verstaan het. En hoe sy Alba se Vrystaatse winterskurfte met ’n mieliestronkie moes wegskuur. En terwyl sy geskuur het, het ou-Melitie ’n storie vertel sodat die kind kon vergeet van die seerkry.

Op hierdie plaas was daar ook ’n Lulu. Lulu Diab het na ’n Katolieke skool gegaan en hulle het skoolklere, of gyms soos dit genoem is, gedra. Alba was so jaloers, want op die plaasskool het hulle gewone klere gedra. Haar ma het toe maar vir haar ook ’n gym gemaak.

Toe Alba twaalf jaar oud was, is haar stiefpa in ’n skietongeluk oorlede, vertel sy aan Nina Smit (Die Voorligter, Maart 1995). “Na sy dood het my ma teruggegaan na hulle ou familieplaas, Klein-Drakenstein in die Paarl, waar haar broer en suster gewoon het (die Bergplaas van Stories van Bergplaas). Daarna het ’n Babelse verwarring van vanne gevolg, want my ma se ongetroude broer en suster wat op die familieplaas tussen Franschhoek en die Paarl geboer het, die Zeemans, het ons kom haal om daar te woon. Sadewee in die stories is die familieplaas Hartebeeskraal in die Drakenstein, ’n omgewing met ’n streng tradisie.”

Alba het onthou dat haar ma lewenslank lief was vir woorde en dat sy dit onbewus, maar sterk, aan hulle oorgedra het. “In die verarmde Vrystaat ná die Anglo-Boereoorlog was boeke in ’n huis nie ’n vanselfsprekendheid nie, maar ons het dit altyd gehad – en geweet ’n boek is iets besonders en iets wat jy ook met eerbied behandel. Ek sien meermale my ma se gesig waar sy eendag buk oor ’n kis tuie wat my pa van ’n vendusie af saambring, ’n stowwerige boek uit die rommel haal, dit met haar voorskoot afvee en kopskuddend sê: ‘Om darem ’n boek so te behandel!’ Daardie boek was Sewe duiwels en wat hulle gedoen het door Ou Oom Jan.

“Ons het Ghwennie Barnveld en Genoveva gehad, Fanny Eden se Alleen op die wêreldGirls’ Manuals en Boys’ Manuals, Shakespeare se Complete works, Andrew Murray se boek oor die gebedslewe en so meer. Weggesteek agter in die rak was dr Van Schalkwyk se Raad in tyd van siekte, wat ek stiekem en sonder begrip probeer lees het, gefassineer deur die prentjies van manlike en vroulike binnegoed, opwindend geheimsinnig en onbegryplik.

“Later het Die Kleinspan van my Bolandse tante gekom, en my ma het geesdriftig daaruit voorgelees en die rektolle help maak. Toe kom sy eendag met die plan dat ons ons eie boek moet maak: die bladsye was van helderpienk plakpapier en die inhoud kleurprente, klaarblyklik advertensie-illustrasies wat my ma nugter weet waar gekry en met meelpap geplak het. Oor hierdie prente het ons saam met haar stories gemaak, baie opwindend. Die rooiwang-baba, byvoorbeeld, wat op sy plek in ’n tydskrif seker babakos geadverteer het, kon in die pienk boek die middelpunt word van ’n tragedie waarin hy eers hopeloos verdwyn en tevergeefs op baie plekke gesoek word, totdat sy laphoedjie op die plaasdam dryf … My groot speelmaat en medewerker aan die pienk boek was ’n meisietjie wat, soos ek, smiddae ’n bababroertjie moes oppas. Ek dink nie my ma was in haar skik met hierdie verbeeldingsvlug nie.” (Sarie, 6 Mei 1987)

In die Drakenstein het Alba se opvoeding ’n heeltemal ander wending geneem, het sy aan Anneke van Niekerk vertel. “My tante, ’n baie ingetoë mens, het met merkwaardige doelgerigtheid die Dra’enstein-tradisie tromp-op geloop. Dit skryf voor: jy gaan na die Strooidakkerk, word binne die kerkringmuur begrawe en stuur seuns na die Boys’ High en meisies na die Girls’ High. Sy het vir my by die meisieskool La Rochelle aansoek gedoen. Met die hulp van ’n afgetrede hoof en ’n medelid van haar van die ACVV, mej Martha Cillié, suster van prof Piet Cillié, is die byna onmoontlike gedaan. Ek dink daar het ek die saadjie van die ACVV ingekry.”

“My tante het my in die Engelse afdeling laat plaas. Haar rede was: ‘In hierdie land moet jy die Engelsman in sy eie taal te woord kan staan.’ Maar ek was byna dood. Ek was jonk vir my klas en om so vars uit ’n plaasskool in ’n groot skool met Engels te beland!”

Sy het nie goeie herinneringe gehad aan hierdie tyd toe sy alleen in die koshuis was nie. Sy het saam met die Joodse en Engelse kinders mathematics in Engels geneem en wanneer sy naweke op die plaas gehuil het, kon die huilbui nie lank aanhou nie, want haar ma het geglo mens moenie dinge doen om simpatie by ander mense te kry nie. “Jy teer nie op ander mense se jammerte nie. Haar ma het twee mans begrawe, maar sy was ’n vrolike mens, ’n trotse mens wat haar pyn binnetoe gedra het.”

Alba het later vertel van die skoolhoof, mej JJ Meyer, wat die reputasie gehad het dat sy “kwaai” was, maar met die terugkyk het Alba besef dat dit waarskynlik daarvandaan gekom het dat sy met niks minder as die beste tevrede was nie. “Haar eise was hoog, aan haarself en almal om haar.” (Sarie, 10 April 1985)

Alba was baie vreemd in die Engelse afdeling van die skool. Daar was dit mej Edith Aitken, haar klasonderwyseres, wat tot die redding van die jong Alba gekom het met haar onsentimentele en intelligente insig in ’n kind. Alba het mej Maria Münchmeyer wat verantwoordelik was vir Engels en Duits, se geesdrif altyd saam met haar gedra, asook haar ongeduld met kleinighede: sy het nooit aangedring op ’m klasbriefie nie en altyd gesê dat dit in die snippermandjie gegooi moes word. “Mej Kitty Dreyer het die droogste voorgeskrewe boek met vuur en geesdrif aangedurf en vir ’n kind wat vroeg al onder die betowering van die woord gekom het, was haar klasse hartsplesier.”

In La Rochelle het Alba al in haar standerd 9-jaar in die leerlingraad gedien. Sy het in 1936 op sestienjarige ouderdom gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná skool is Alba na die destydse Huguenot University College op Wellington wat later tot niet is. Daar was alles weer eens Engels, met selfs heelparty Amerikaanse professore. Hierdie kollege was in daardie dae by die Universiteit van Suid-Afrika ingeskakel en Alba was ondervoorsitter van die studenteraad. Sy het haar BA met Afrikaans en Duits en haar Sekondêre Onderwysdiploma verwerf.

Sy het vir vier jaar op Burgersdorp onderwys gegee en daarna by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Sy het toe haar weg gevind na die joernalistiek by ’n blaadjie getiteld Die Huishouding. Vanaf 1948 was Alba vir twee jaar die tannie van die Kaapse kinderprogram oor die radio en in 1950 het sy by Sarie Marais ingeval. Twee jaar nadat sy daar begin werk het, is sy as assistentredakteur onder Fred le Roux aangestel.

Uit hierdie jare het haar jare lange vriendskap met Audrey Blignault gedateer. Alba het onthou: “Elke dag het ons ’n ‘fruit lunch’ by Hildebrand gaan eet. Ek kan dit nou nog nie verdra nie, maar ons het nie geld vir iets anders gehad nie. So een keer in ses maande is ons baie deftig na die Grand-hotel. Dan het Audrey ’n pak sigarette vir die geleentheid gekoop. Ek kon nooit so lekker poef-poef nie, maar Audrey kon vir jou met styl rook, hoor!”

Terwyl Alba joernalis was, het sy haar eerste man, Hubert du Plessis, ontmoet. Hulle is in 1962 getroud. “Om met ’n wewenaar met ’n dogtertjie van elf en ’n seun van dertien te trou, het baie aanpassings geverg,” het Alba aan Nina Smit vertel. Toe hulle getroud is, het almal gesê: Waag jy dit? ’n Man met tieners? “Maar hy was ’n baie besonderse man, ’n besonderse pa. Hy is in 1969, ses jaar na ons getroud is, dood.”

In 1975 is Alba met Jan Hofmeyr, ’n prokureur van Riversdal in die Suid-Kaap, getroud en hulle het hulle op Riversdal gevestig. Jan en Alba se eerste man was saam op universiteit en hulle was vroeër jare huisvriende. Jan was vir dertig jaar getroud met pres MT Steyn se kleindogter, Tibbie van der Merwe en ná haar dood in 1969 was hy ’n alleenloper. Behalwe Leon en Annelette, die kinders wat sy van haar eerste man “geërf” het, het sy ook die vyf seuns van Jan ryker geword. Die seuns het almal dieselfde beroep as hulle vader gekies. Alba het haar huis in Oranjezicht in Kaapstad verkoop en op Riversdal ingetrek in ’n splinternuwe huis wat Jan laat bou het.

Sy het aan Rachelle Greeff (De Kat, Januarie 1993) vertel dat om jou lyf op ’n plattelandse dorp skrywer te hou, ’n “ander besigheid” is, al het hulle haar in 1987 ereburgerskap van Riversdal gegee. Die gemeenskap verwag ’n betrokkenheid van jou, nie afsondering in ’n “werkkamer” met baie boeke maar sonder telefoon nie. Veral van haar wat 23 jaar lank in die ACVV-hoofbestuur was en tot 1993 dorpsvoorsitter was. “Maar die energie en konsentrasie om elke keer weer terug te kom in die ander wêreld, die een waarin jy jouself moet verplaas. Om dit vir mense te verduidelik, is moeilik. Dis mos nie soos om agter die naaimasjien te sit, ’n naat te stik, op te staan en later kom sit en stik jy net verder nie.”

Jan is in Februarie 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Hy en Alba het sedert 1996 in die Helderberg Village aftree-oord op Somerset-Wes gewoon. Hy is op Riversdal begrawe.

Agterna, bieg sy teenoor Hanlie Retief (Saffier, Mei 1995), was sy bly dat sy nie eie kinders gehad het nie. Dis moeilik om “stief”-kinders saam met ’n eie kind groot te maak. “Vir Annelette het ek eendag ’n stukkie rooi koordferweel by die groothandelaar gekoop vir ’n rokkie. “Waag jy dit om vir jou kind rokmateriaal te koop?” wou ’n vriendin verbaas weet. Maar vir Annelette was dit baie mooi, en ek het haar vertel wat die vriendin gevra het. En hoe ek geantwoord het ek dink die dogtertjie by die huis sál daarvan hou. Toe het Annelette my met ronde oë reguit aangekyk en gesê: “Volgende keer sê Mammie vir haar: ‘My dogtertjie sal daarvan hou.’ Moenie weer sê ‘Die dogtertjie by die huis’ nie.’” Annelette is in 1994 op veertigjarige ouderdom aan kanker oorlede en dit was die grootste verdriet wat Alba nog gehad het, want haar kinders het haar vriende geword ná hul pa oorlede is.

In 1950, toe MER 75 geword het, het Fred le Roux vir Alba saam met Rykie van Reenen Swellendam toe gestuur om die viering namens Sarie te gaan bywoon. Dit was vir Alba ’n wonderlike dag en daarna was sy dikwels by ta’ Miem (Boekewêreld, 18 Mei 1994): “MER was die eerste en enigste vroueredaktrise van Die Burger en sy was een van die groot seëninge wat die Here oor my pad gestuur het. Sy was ’n baie eenvoudige mens, maar terselfdertyd ’n gebore filosoof met besondere wysheid en ’n vlymskerp verstand. Haar eenvoud, opregte eerlikheid en diepsinnigheid het ’n geweldige invloed op my gehad. Rykie en ek het baie naweke by haar op Swellendam gaan kuier, veral as ons vraagstukke gehad het wat ons nie kon oplos nie. Sy het altyd doodstil na ons gesit en luister, maar die volgende oggend het sy vir ons ’n antwoord gehad. Sy was geweldig skerpsinnig, sy kon dwarsdeur jou kyk en ’n mens kon niks vir haar wegsteek nie. Die hele ding van eenvoudig skryf, het ek van haar gekry. Sy het altyd vir Ruskin aangehaal: ‘Have something to say, and say it as clearly as possible.’”

Dit was ook deur MER dat Alba betrokke geraak het by die ACVV. “Ta’ Miem was baie betrokke by die ACVV. Sy was jare lank reisende sekretaresse op die platteland waar sy wonderlike ontdekkings gemaak het. Sy het vir my ’n pragtige ding geskryf oor die klinieke wat die ACVV in haar tyd op die platteland gestig het waar behoeftige vroue kon kraam – hulle tarief ’n hoendertjie, ’n mandjie vol eiers.

“Sy het gesê ’n vrou wat gewoond is om haar in haar eie huis af te sloof en wat dan tien dae lank die voorwerp van aandag en sorg is, word nie net liggaamlik gehelp nie, maar ook geestelik. Dit is ’n kosbare les vir ’n opvoeder om te weet dat sy die moeite werd is om die voorwerp van aandag en sorg te wees.

“Ta’ Miem het nooit vir my gesê om by die ACVV aan te sluit nie. Ek het uiteindelik gevoel ek sal baie graag te doen wil hê met hierdie vereniging wat gemaak is deur mense soos MER en Anna Geyer. En vir my is dit ’n stimulerende ervaring wat ek vir g’n geld ter wêreld wou misgeloop het nie.”

Alba se skrywersloopbaan het in 1954 begin toe Landbouweekblad haar gevra het om ’n reeks stories vir hulle kinderrubriek te skryf. “In daardie stadium het ek vreeslik heimwee na die Vrystaat gehad en toe gaan sit ek en skryf Stories van Rivierplaas sommer so reguit sonder om eers te dink. Voor ek dit vir Landbouweekblad kon gee, lees een van die redaksielede van Sarie dit en gee dit vir Fred le Roux. Die volgende dag kom hy na my toe en sê: ‘Ek is baie jammer, jy kan die stories nie vir Landbouweekblad gee nie, ek gaan dit in Sarie publiseer.’”

Kort daarna het iemand eendag vir Katrine Harries by Sarie se kantoor aangebring. Sy en haar Joodse ma moes tydens die Tweede Wêreldoorlog vlug uit Berlyn waar sy ’n kunsdosent was, en sy het baie gesukkel om werk te kry. Fred le Roux het na haar sketse gekyk en vir haar Stories van Rivierplaas gegee om te illustreer. Alba het altyd onthou hoe hulle hulle aan Katrine se sketse verwonder het: “Ons was skoon verslae. Dit was só mooi.”

Alba het deur die jare haar verbintenis met die vrouetydskrif behou. “Ek kyk na die vrouetydskrifte om te sien hoe die posisie van die vrou verander het,” het sy aan Anneke van Niekerk vertel. “In my tyd by Sarie was dit soos die Engelsman sê ‘not quite nice’ vir ’n vrou van aansien om buitenshuis te werk nie. Vandag het dit natuurlik heeltemal verander, maar dit lyk my ons sit nog altyd met ’n dilemma: die man wil nie onder ’n vrou werk nie!

“Wat ook verander het, is dat maatskaplike werk wat altyd met behoeftige mense geassosieer was, nou in ’n groot mate onder die meer gegoede mense lê. Werkloosheid bring materiële nood. Maar daar is ook geweldige geestelike nood en die grootste hiervan is huweliksverbrokkeling. Ek kan nie vir jou sê watter afmetings dit aanneem nie, selfs op ’n dorp soos Riversdal. Huwelike verbrokkel onder die spanning en lei ook tot dwelmverslawing onder adolessente en toenemende tienerswangerskappe.”

In 1955 is Stories van Rivierplaas in boekvorm uitgegee. In die voorwoord het MER geskryf: “Uit die gewone moederaarde onder onse voete word gehaal die gekristalliseerde edelstene. Eg en skoon is hulle tot voortdurende plesier vir die mense, een geslag na die ander. Uit die gewone daelikse lewe, uit die omgang onder mense – ouer met kind, maat met maat, baas met kneg, huismense met diensmense – kom onse lafenisse, onse vreugdes, en onse voordeel. Daar is van ons wat sulke vreugdes en lafenisse weer kan ophaal uit die verlede, gekristalliseer, eg en skoon, vir almal tot voortdurende plesier. So ’n plesier vind ek en baie ander in hierdie stories van onse eie mense se daelikse lewe, op Rivierplaas.”

Felix Lategan het in Die Huisgenoot van 20 Junie 1955 geskryf dat Alba Bouwer een van die gelukkiges is wat ou vreugdes opnuut kan laat leef, ook vir ander. “In hierdie sketsverhaaltjies van ‘onse eie mense se daelikse lewe’ op die oop ruimtes van die Vrystaat het sy vreugdevolle beelde uit haar eie kleindogtertjie-dae opgediep – beelde wat noodwendig in die fluïdum van die herinneringsverbeelding in geïdealiseerde vorm uitkristalliseer, en dié laat sy deur haar eenvoudige, kinderlike vertelling leef. (…)

“Deur haar indieping in die kindersiel herinner Alba Bouwer aan die groot Nederlandse uitbeeldster van die kindergemoed Ina Boudier-Bakker, net soos haar idealiserende instelling op die dierbare dinge van die plaas wat aan die verbygaan is, aan Boerneef se Boplaas-sketse laat dink en haar simpatieke skepping van die menslike ou-Melitie aan Franz se Moeder Poulin.

“Die wêreld van Alie en ou-Melitie en die ander mense van Rivierplaas is nie groot of groots nie, maar dit is innig en eg, en dit raak die universele omdat Alba Bouwer in haar uitbeelding iets van die algemeen-menslike raakgevat het. Daardeur het sy op die gebied van die kinderuitbeelding ’n positiewe bydrae tot ons letterkunde gelewer.”

In Stories van Rivierplaas vind ons Alie en haar beste maat Lulu wat saam met die kinders speel en ook kaal-kaal die asdans dans. Ons lees van Alie wat eiers uithaal of na die melkery loer oor die kraalmuur. Alie en Lulu het heerlik in skeertyd die wol in die baal ingedra. Hulle stap met hulle leie en griffels en hulle botteltjies leiwater na die plaasskool en die lekkerste vir die jong Alie was om gedurende die vakansies saam met ou-Melitie en klein-Melitie en Sanna in die oggendson poetoepap te eet en te gesels.

Alie gaan kuier soms by haar ouma op Brakfontein waar daar “drie lekker dinge” was: die bulsakkie waarop sy snags slaap, die donkiekarretjie wat haar skool toe ry en saans wanneer hulle rondom die vuur van mieliestronke by die swart stoof in die kombuis sit. Ou-Melitie, oom Jan en tant Lenie, outa Hoppies, Kommetjie se kalfie, juffrou Barnard, die Engelsman wie se graf op Brakfontein is, saam met nog enkele ander, is die omvang van Rivierplaas se klein wêreldjie.

En so het Alba haar merk gemaak in die Afrikaanse letterkunde, want hoewel Rivierplaas vir kinders geskryf is, word dit net soveel deur volwassenes geniet. Dit is dalk, soos Elizabeth Tredoux (Sarie Marais, 15 Junie 1955) geskryf het, omdat ons grootmense so mettergrootword hierdie kindergawes verloor of verslyt het – om ons so ver weg gedwaal het van die tyd toe die muur tussen werklikheid en verbeelding waarlik niks dikker as ’n melkdoek was nie – dat dit vir ons so wonderlik is om, al is dit net vir ’n paar kwartiertjies, weer terug te glip in daardie paradys waaruit die vlammende swaard ons verdrywe het. “Hoe tam en drooggepers mens ook al is, ná ’n teugie Rivierplaas moet jy eenvoudig weer verkwik voel.”

Vir Audrey Blignault (Huisvrou, 26 Julie 1955) is die “wesenlike kenmerke van Stories van Rivierplaas die egtheid van siening en uitbeelding, die warmte van menslike omgang in mooi menslike verhoudings op verskillende vlakke van die alledaagse aanraking, en die heel besondere vermoë van die skryfster om die stemminge en ervaringe van die verlede so oortuigend en onmiddellik te laat herleef dat ’n mens werklik voel asof jy dit nou weer alles net so sien en belewe. Vir my lê die eintlike plesier van die boek in sy inhoud: die fyn, deurleefde uitbeelding van die kinderlewe op ’n Vrystaatse plaas en die wonderlike skepping van stemming en atmosfeer soos ’n fyngevoelige, ontvanklike kind dit ervaar en onthou het.”

Die opvolg, Nuwe stories van Rivierplaas, is in 1956 gepubliseer en volg die lewe van Alie die laerskoolkind met onveranderde ideale: om met pronkhaarvlegsels te spog, om deur haar voortande te kan spoeg en om dik bene te besit as kompensasie vir haar bynaam Alie Spykerboud. Al die ander karakters is nog daar: Lulu, ou-Melitie en die ander grootmense.

Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas was albei blitsverkopers en is in 1959 bekroon met die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Alba was die eerste vrou wat die toekenning ontvang het. Haar voorgangers was PJ Schoeman, Mikro en WA de Klerk. In 1959 was Stories van Rivierplaas al in sy vierde druk en Nuwe stories van Rivierplaas in sy tweede druk.

In 1958 het Alba nog ’n karakter geskep wat vir homself ’n plek in die Afrikaanse letterkunde gevind het: Abdoltjie. AM Uys (Huisgenoot, 13 Maart 1959) het die koms van Abdoltjie, soos hy in Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap verskyn het, as ’n belangrike gebeurtenis vir die Afrikaanse kinderlektuur beskryf – “nie net omdat dit heerlike stories vir kinders is nie, maar omdat dit goed geskryf is – en met fyn gevoel. Ook omdat dit voldoen aan die eise wat aan alle goeie literatuur gestel word.

“’n Mens neem hom sommer gou aan, die bruin figuurtjie wat so ingedagte voel-voel aan die kofiatjie op sy kop. ‘Want kyk,’ vertel Alba Bouwer, ‘Abdoltjie is ’n Maleise kind’ – kind, ja dit is hy, heerlik natuurlik en oortuigend. In daardie suiwere kinderlikheid lê die voortreflikheid van hierdie stories: g’n neerbuigende ‘skrywe vir kinders’ nie, g’n sentimentaliteit van die volwassene oor die vervloë kinderdae nie, maar ’n herskepping van die kinderwêreld, suiwer en opreg. Daarom is dit, soos alle goeie kinderlektuur, leesstof waarin ook volwassenes plesier vind. (…)

“Deel van die genot wat hierdie boekie verskaf, is die mooi uitgawe. In ’n aantreklike, stewige band is dit keurig versorg; en die illustrasies deur Katrine Harries is louter plesier. Eindelik kry ons ’n kinderboek met tekeninge wat ’n goeie teks waardig is! Die tyd moet nog openbaar hoe die kinders self oor die verhaaltjies oordeel. Een ding is seker: ‘Abdoltjie’ is nie net stories nie – hy is ’n egte mensie, ’n stukkie van die ou Kaap, waarvoor ons Alba Bouwer dankie sê!”

WEG Louw het in Die Burger van 22 Desember 1958 geskryf dat hy hierdie stories hardop aan sy kinders voorgelees het, “want die stories is só mooi dat ’n mens hulle soos verse hardop moet lees, om elke klank te hoor, om elke woord as ’t ware te proe.

“Reeds as ’n mens dié boekie in die hand neem en jy Abdoltjie met die rooi kofiatjie vóór op die buiteblad sien, ’n paar hotnotsvygies, ’n silwerboompie en die lang rug van Seinheuwel met Leeukop en Tafelberg met sy wolk op sy kop doer ver op die agtergrond en ’n allersimpelste klein skippie op die see tussen die twee kruine, soos Katrine Harries dit op die buiteblad geteken het, dan weet jy: dit gaan iets besonders wees!

“Katrine Harries se 22 tekeninge by dié teks pas dit soos ’n handskoen die hand. En daardie klein kofiatjie agterop, wat ’n heerlike vonds! Die wêreldjie wat Alba Bouwer tussen dié twee omslae voor ons geestesoog oproep, is eintlik ’n sprokieswêreld. (…)

“Daar word teenswoordig baie oor ons prosa gekla, en met reg. Maar dit weet ’n mens, na jy dié boekie sorgvuldig gelees het: geleerde en grys koppe, dom doktore en astrante kritici, kan hier kom leer hoe mooi en eenvoudig ’n mens Afrikaans kan skryf! (…)

“Die speelse fantasie van dié verhaaltjies, die seldsaam sjarmante gebruik van Afrikaans – beurtelings algemeen beskaafd, beurtelings dié van die Slamse mense – met fyn, ritmiese sinne en al die ander elemente wat ’n mens van ’n goeie kinderverhaal verwag: inkanterende herhalings, opsetlike omslagtigheidjies, omskrywinge en so meer, maak dié boekie ’n kosbaarheid wat ’n mens vandag nog aan álle kinders, oud en jonk, vir Kersfees present wil gee.”

Alba het altyd gesê sy kan nie ’n gunsteling onder haar boeke kies nie, want hulle is soos haar kinders – jy’t almal ewe lief. Maar dit klink tog of Abdoltjie die een is wat haar die naaste aan die hart lê, het sy aan Rachelle Greeff in De Kat van Januarie 1993 vertel: “Dis die boek waaraan ek die maklikste geskryf het. Dit het begin toe ek gehelp het met ID du Plessis se Bo-Kaapse kore. Ek het met van die Maleiers bevriend geraak. Daar was ’n seuntjie wat so stip in die kersvlam op die tafel gekyk het en nie geëet het nie. Bokke wat teen Seinheuwel gewei het. En volmaanaande wat ons Leeukop geklim en ’n waatlemoen daarbo gesny het.

“Is dit nie wonderlik hoe ’n hele storie so half in jou aangerol kom nie. Hoedat net één stemming ’n ratjie in jou laat losspring. Dis ongelooflik, maar dit is so.”

In 1960, die jaartal wat so intrinsiek verbonde is aan vernuwing in die Afrikaanse prosa, skryf Elize Botha, verskyn ’n versamelbundel van sketse en essays, met die titel van een van MER se sketse wat daarin opgeneem is, as bundeltitel: Die dammetjie. Die ander bydraes was van Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde, Elise Müller en Rykie van Reenen. In literatuurbeskouings is later van dié groepering gepraat as “Die Skool van MER”; MER het hulle “haar Kaapse kinders” genoem – geesverwante in wat Elise Müller met verwysing na MER genoem het “dié deernis met die mens, dié eerbied vir sy aard”, ook in hul sorg en opmerksaamheid vir die natuur, in die skerp waarneming van landsomstandighede.

“Die skeppende energie wat in hierdie bedrieglik kleinbenoemde dammetjie bymekaargebring is, het óók in hierdie ‘episode van vernuwing’ die landskap van die Afrikaanse letterkunde gevoed, en na die mense, groot en klein, wat Afrikaans-lesers is, oorgevloei.”

In 1961 het Katrientjie van Keerweder haar opwagting op die Afrikaanse kinderboektoneel gemaak. Volgens Rykie van Reenen (Die Burger, datum onbekend) het Alba Bouwer met Katrientjie ’n kinderkarakter geskep het “wat op dieselfde bankie kan sit as Alie en Abdoltjie, maar sy het speel-speel die driekuns verwerf. En het sy met Katrientjie van Keerweder ’n karakter geskep wat ’n plek in kinder- en grootmensharte sal hou solank as wat Afrikaans gelees word.

“En dan is daar ook Tina Tierat, wat by ou-Melitie kan kers vashou. Tina Tierat wat op ’n oggend haar nô Trinatjie met ’n verestoffertjie in die nek wakker kielie en in eie persoon al die ongeërgde gevatheid, al die vrolike onafhanklikheid van gees, al die gulle kinderliefde en -begrip van die Bolandse bruin mense saamvat. “Daar kan g’n beter gedenkteken opgerig word nie vir die goeie verhoudinge wat onder ’n nou uiteraard verbygaande bedeling hier in die Boland tussen wit en bruin geheers het as dié onpretensieuse kinderboekie, wat soveel meer is as net ’n kinderboek. (…)

“Baie op die patroon van Abdoltjie is Katrientjie ook ’n boek wat enersyds onverbeterlik die intieme, besige wêreldjie van ’n kleintjie herskep, en andersyds selfs ’n verstokte groot mens terugvoer na die helaas vir ons verlore tyd toe die grense tussen wat sig- en tasbaar is en wat in die verbeelding leef nog nie so onverbiddelik was nie. (…)

“Dis ’n verdienste van die boekie dat die oorgang tussen die wêreld van werklikheid en die wêreld van fantasie deurgaans so ongedwonge is. Oor die letterkundige gehalte van Katrientjie sal die literatore ter gelegener tyd weer hul dissertasies lewer. Intussen: ek ken min skrywers wie se taal hul gedagtes so moeiteloos pas as wat by Alba Bouwer die geval is. Sy is – met ’n vonkeling in die oog – een van die allerfynste waarnemers wat ons het en haar woorde kan altyd byhou om nie net wat sy sien nie, maar ook wat sy hoor, straallewendig vir haar lesers te herskep.

“Inhoud daar gelaat: Katrientjie van Keerweder is stellig die bes-versorgde volkome Suid-Afrikaanse kinderboek van die jaar. Dit bring ’n mens (jammer so laat) by Katrine Harries, wat vir die soveelste keer as spanmaat van dié skryfster medeskepper was van iets werklik pragtigs. Niks minder as medeskepper inderdaad kan ’n mens ’n kunstenaar noem wat met sulke volmaakte aanvoeling ’n skryfster se presiese nuanse van waarneming weergee nie.”

Katrientjie van Keerweder is in 1961 deur die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging met die CP Hoogenhout-medalje bekroon as die beste kinderboek wat in 1961 verskyn het. Dit was die eerste keer dat hierdie toekenning gemaak is. Die beoordelaars het in hulle motivering geskryf: “Die agtergrond van die verhaal is tipies Suid-Afrikaans. Keerweder is ’n Bolandse plaas wat binne-in die dorp lê met ’n laning dennebome wat teen die ysterhek vasloop. Katrientjie is ’n dikkerige krulkopdogterjie wat met haar pa, ma en Ouboet op Keerweder woon. Ouma Vrystaat wat ‘nie sommer net ’n dikketjie, maar ’n regte potjie-dotjie-ronde-rol’ is kuier ook op die plaas. Besonder treffend is die karaktertekening van Tina Tierat met haar spontane vrolike geaardheid, raak sêgoed en liefdevolle behendigheid met kinders. En dan is daar nog die Oupahorlosie wat ‘sy blink ure van mooi dinge’ en sy ‘vaal ure van lelike goed’ agter sy groot gesig bêre en hulle net aan dié klein dogtertjie openbaar.”

“In die verhaaltjie is ’n kombinasie van droom en werklikheid. Dit handel oor ’n dogtertjie wat midde in die daaglikse boerelewe staan, maar wat telkens deur die Oupahorlosie en die beminlike kleurlingbediende na ’n heerlike storiewêreld weggevoer word. Maar hoe uitmuntend slaag die skryfster nie daarin om die oorgang van werklikheid na dié van fantasie ongedwonge en oortuigend te laat plaasvind nie! Die fyn oorskakeling tussen droom en werklikheid getuig van ’n geniale verbeelding en ’n gawe van die skryfster om haar in die ervarings- en verbeeldingswêreld van die kind in te leef, daarmee een te word en dit te verwoord. So doen die gebeure dan nooit oneg aan nie, of is daar die gevoel dat die karakters marionette is nie, maar in moeitelose, onopgesmukte taal word gedagte en handeling uitgebeeld.” (bron onbekend)

In haar toespraak by geleentheid van die oorhandiging van die medalje het Alba gesê dat die geleentheid haar herinner aan ’n gesprek wat sy nie lank voor die geleentheid nie met ’n bejaarde Basothovrou in die Vrystaat gehad het (bron en datum onbekend). “Ek het haar gevra om my van die ou Sothoverhale uit haar kinderjare te vertel. Sy doen dit toe en vra my of ek nog hou van die stories wat ’n kind se stories is.

“‘Ja,’ sê ek, ‘ek hou nog van die stories wat ’n kind se stories is. Hou jy van hulle?’

“‘Ja,’ sê sy toe, ‘ek hou ook nog van daardie stories, maar nou sal ek vir die nonnie iets sê: As ’n mens nog ’n kind is, is jou hart groen soos die somerveld ná die reën en daar is baie weiplek vir die klein diertjies en klein goggatjies. Nou, party mense word groot en hul hart word oud en moeg en droog soos die wit gras van die winter en al die klein goggatjies en diertjies gaan dood. Maar ander mense word weer groot en hulle hart word oud, maar bly groen soos die somerveld na die reën en daar bly altyd plek vir die klein diertjies en goggatjies.’

“Dit was vir my ’n pragtige beeld van die mense wat die droomwêreld van hul jeug verloor soos hulle ouer word, en van dié wat dit behou en altyd iets oor het van die drome en vir die drome van ’n kind. En nou wil ek vandag in die heel eerste plaas dankie sê aan dié mense in die SA Biblioteekvereniging wat daardie groen somerveld van die kind in hul hart behou het en by wie dus die gedagte kon ontstaan vir die instelling van hierdie toekenning vir die kinderboek.

“Die Afrikaanse kinderboek, dit wil sê die boek vir die kind onder twaalf, was geslagte lank die verwaarloosde weeskind van sowel uitgewers en boekverspreiders as boekkopers. (…) Gelukkig het daar die afgelope jare op die gebied ’n groot kentering gekom en die instelling van ’n toekenning soos hierdie, gee nie alleen beter status en groter waarde aan die Afrikaanse kinderboek as sulks nie, maar is ook vir uitgewers ’n uitdaging en vir skrywers ’n nuwe stimulus.

“Baie dankie ook aan die beoordelaars wat Katrientjie, die dikketjie, geweeg en swaar genoeg bevind het vir hierdie toekenning. Sy voel nie alleen geëer nie, sy voel ook baie dankbaar dat sy daardeur indirek tot die bevordering van die saak van beter boeke vir ons kinders kan bydra. Baie dankie ook vir al die mooi en goeie wat hier van haar gesê is. Sy herken die beeld van haarself byna nie, maar sy stel dit baie hoog op prys.

“In die tweede plaas ’n spesiale dankie aan my ou spanmaat Katrine Harries sonder wie Katrientjie nie Katrientjie sou gewees het nie en nooit hierdie toekenning sou verwerf het nie. Die helfte van die eer van die toekenning gaan aan haar en ek is bly dat sy vandag hier is sodat ek dit voor getuies aan haar kan sê.”

Nadat Alba Tafelberg Uitgewers en by name Leo van der Westhuijzen en JD Pretorius vir hulle bydraes bedank het, het sy afgesluit: “Ek wil graag vir u aanhaal wat Astrid Lindgren, ’n bekende Europese skryfster, by geleentheid gesê het: ‘Alle groot dinge wat in die wêreld plaasgevind het, het allereers in iemand se fantasie tot stand gekom, en hoe die wêreld van môre daaruit sal sien, hang in groot mate af van die krag van die verbeelding van hulle wat op die oomblik leer lees. Daarom moet kinders boeke hê en daarom moet daar mense wees wat werklik ’n oog het vir die soort boeke wat die kind in die hand gelê word.’

“Baie dankie aan almal in ons biblioteke wat daardie oog het en werklik omgee watter soort boeke ons kinders in die hand gelê word.”

Katrientjie van Keerweder is in 1965 saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck met die Scheepersprys vir Jeuglektuur bekroon.

Stories van Ruyswyck, wat in 1963 gepubliseer is, neem die verhaal van klein Alie verder. Sy gaan nou kosskool toe en moet leer om aan te pas by nuwe mense en ’n lewe wat baie anders is as dié wat sy op die plaas geken het.  Die sêgoed en die hele siening van die kinderlewe en die grootmense is fris en onbedorwe, maar nooit naïef nie. En dit is waarom soveel mense van verskillende ouderdomme ewe lekker hieraan sal lees.

Stories van Bergplaas is ook in 1963 uitgegee en RN (Die Burger, 20 Desember 1963) beweer weer “dat ook hierdie boek van Alba nie soseer vir kinders bedoel is nie, maar wel ook vir grootmense wat nog iets van hul kinderlike verbeelding oorgehou het of wat oud genoeg geword het om weer aan hul kinderdae terug te dink. Miskien ook vir mense wat nog van mooi dinge hou, want daar lê ’n waas van skoonheid oor die boekie.

“Dit vertel van Grietjie wat deur die klank van woorde getoor word, en haar meer aardse broertjie Bramie, die bruin kinders Klein Willem Houtmens, Jaffie en Diksiel, en Trui met Dingetjie op haar heup – dis die kinders van Bergplaas. ’n Paar van die grootmense is tant Letta en oom Koos, ou Jafta, die liewe ou outa Warie, met sy bruinmenswysheid, en ai Nonkie. Daarby kom Lappies, die hondjie, en die ou hoenderhaan, Steier, wat deur sy koppigheid ’n ontydige dood vind.

“Hierin is ’n poësie aanwesig en so waaragtig as dié in enige gedig waaraan ’n mens kan dink. Het Rilke in sy briewe aan ’n jong digter nie vir hom met nadruk aangeraai om die weg na sy kinderland terug te vind nie, dié ware en onuitputlike bron van álle poësie?

“Maar daar is, intiem en byna onopsigtelik met dié verruklike poësie van die aarde vervleg, ook morele standpunte aanwesig, waarmee ’n mens nie anders as rekening móét hou nie: die wedersydse vriendskap en trou tussen blank en bruin plaaskinders; die strenge en tog werklik begrypende geregtigheid in die optrede teenoor nie-blankes in die algemeen. Dit is ligpunte dié in ons menslike verhoudinge, waarvan buitestaanders gewoonlik niks begryp nie.

“Terwyl ’n mens Stories van Bergplaas lees, kry jy in toenemende mate ’n gevoel van opwinding: dis mos beter as alles wat Alba Bouwer al ooit geskryf het – nie heeltemal so naïef as die mooi Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas nie, ryper en nader aan die werklikheid as die byna fantastiese Abdoltjie, nie so beperk aan tyd en plek as Stories van Ruyswyck nie. Kortom, ek voel in hierdie stadium absoluut oortuig daarvan; dis Alba Bouwer se mooiste, mooiste boek!

“Ek was jare lank jaloers op boeke soos dié van Eleanor Farjeon in Engels, maar Stories van Bergplaas is mooier: daar is duursamer kwaliteite daarin en dis wesenlik beter geskryf!”

Dirkie van Driekuil het in 1966 sy verskyning gemaak en hy is beskryf as ’n “waardige saamstander” in die ry van heerlike, woelige persoontjies wat Alba Bouwer vir klein lesers en nog-nie-lesende luisteraartjies in die lewe geroep het. VDB (SA Beeld, 23 Oktober 1966) het die stelling gemaak dat Dirkie van Driekuil een van Alba se beste kinderboeke nog is en beslis haar digterlikste. “Dit het die lewegewende verbeelding, die kleur-oorbruggende menslikheid, die humor, die speelsheid, die raak waarneming, die onuitblusbare plesier in woordklank en veral dialoog wat haar vroeëres ’n lus gemaak het. Daarby is dit of die kinderboekie dié keer met ’n ryper, dieper lewenswysheid pols. Maar van prekerigheid is daar nie sprake nie, en die geheel het die afgeronde eenheid van ’n klinkklare klein lied. (…)

“Want dit is die lewenshouding wat onopdringerig hierdie Alba Bouwer-boeke ten grondslag lê wat hulle onbetaalbare besit maak vir die Afrikaanse kind. Die illustrasies en die pragtige skutblad en omslag is deur die skryfster se ou spanmaat, Katrine Harries. ’n Mens kan van ver sien hoe diep Dirkie en ou Koeneels ook in haar hart gekruip het.”

Op die program Oor skrywers en boeke (Anneke Keyter, 22 November 1966) van die Afrikaanse Diens van die SAUK is as volg gesels: “Met die natuur as leermeester, aan Dirkie vertolk deur die ou bruinman Koeneels, leer die kind begryp dat daar ’n seisoensiklus in die natuur sowel as in die mens se lewe is. Hy word bewus gemaak van ’n planmatigheid daaragter. Terselfdertyd leer hy die hartseer ken wat dit meebring, maar ook ’n positiewe aanvaarding van ’n ‘nuwere bedeling’.

“Toe Koeneels nie meer kon styfstaan vir wingerdwerk nie, moes hy werf toe. Alles was vir hom asvaal totdat hy besluit het: ‘ek sal gestuk nie vaal wees nie’. Hy het sy huisie se deur blou – ‘soos die April se lug oor die geelwingerde’ – geskilder en toe hy so tru staan, toe sê hy: ‘Nuwere bedeling ofte nie nuwere bedeling nie, maar waar is die vaal kolle nou?’ Hiermee begin vir hom ’n nuwe tyd van nuttigheid – ’n ander soort nuttigheid.

Dirkie van Driekuil wek die indruk van ’n ballade. Elke strofe bevat ’n ontwikkeling van die gedagte of van die verhaal en eindig óf met ’n soort refrein waaraan elke lid van die gesin deelneem, óf met ’n beskrywende afrondingsparagraaf wat net so herhaal word.”

Alba het haar tweede CP Hoogenhout-medalje in 1971 gewen met ’n Hennetjie met kuikens. Dit vertel die verhaal van Sarie, die wit kind, en Sara, die bruin kind, wat albei in die Goudstad woon: Sara in ’n klein grys huisie in Soweto en Sarie in ’n wit huis in een van die voorstede. En soggens wanneer Sarie se pappa en Sara se pa Ennereke albei werk toe is, vertel die wit mamma en die bruin mamma albei dieselfde storie aan hulle onderskeie dogtertjies. Sarie en Sara se mammas was as kinders maatjies.

MJM skryf in Volksblad (18 Mei 1972) as volg oor Hennetjie: “Die betonwoud staan tussen die grys huisie en die wit huis, maar die verhaal van die plaas en van Ma Matêba, van die Iemelaai, die hennetjie-met-kuikens en die liedjie van die rooi blom in die hart, van die boerseepreuk en die nuwe-melk-ruik, van die vuurhuis en die poppe-met-die-stokkies-lywe bly aan weerskante van die woud voortleef: sprokiesmooi en onvergeetlik. 

“Vir Sarie en Sara sou alles maar net ’n verhaal uit hulle mammas se kinderdae gebly het as die wit dogtertjie nie op ’n dag ’n nuwe hoed moes kry en die bruin dogtertjie nie op daardie selfde dag ma Polani se hennetjie-en-sy-kuikens wat so lekker na roet en strooisrook ruik, moes gaan verkoop nie.

“Hierdie kinderverhaal is ’n innige samevatting van waardes wat nie durf uitsterf nie, ’n samevatting van ’n leefwyse wat aan die wegvaag is en van menseverhoudinge soos wat dit tog kan bestaan. Dit is ook die verhaal van kindwees in die ware sin van die woord: van stilweg speel en grootoog luister en raaksien; die geniet van dinge wat onherroeplik sal verander. In die boek vind die leser die waardigheid en gelykwaardigheid van twee rassegroepe, die vrede wat daar in suiwer menseverhoudinge te vind is. Hierdie klankryke, nostalgiese verhaaltjie is méér as net ’n onvergeetlike storie. Ondanks – of miskien juis vanweë – die sober eenvoud daarvan, bevat dit ’n les in menseverhoudinge wat soos Saa-Saa-Saa-rie-tjie se rooi blom in die hart sal blom.”

In sy motivering vir die toekenning van die CP Hoogenhout-medalje het Carl Lohann gesê (Die Burger, 15 September 1972): “Soos in haar vorige werke gee die skryfster ook hier aan die leser ’n blik in die gevoelslewe van gewone, alledaagse mense. Maar dié kinderboek is nie gewoon en alledaags nie, omdat sy met soveel liefde en deernis ’n herskepping gee van die verlede, van ’n tydperk wat gekenmerk was deur ’n besonder mooi verhouding tussen mense. In hierdie waardige menslike verhoudings wys sy op die waarde van opregtheid en natuurlikheid in menslike omgang.

“Die verhaal val in drie dele, waarvan die eerste twee oënskynlik herhalings van mekaar is. Op ’n besonder vernuftige wyse word hulle egter inmekaargevleg, op so ’n manier dat hulle aanvullend tot mekaar is en die hele beeld eers deur albei saam blootgelê word.

“Die kenmerkende skryfstyl van Alba Bouwer, die ritme en klank, die sensitiewe woordkeuse, die eenvoud waarmee sy ’n ingewikkelde situasie teken, dit alles maak hierdie werk puik lektuur vir ’n kind. Maar omdat ons hier ware kuns het, sal ook die volwasse leser, hoewel op ’n ander vlak, groot waardering kan hê vir hierdie werk, een van die bekoorlikste stories wat nog ooit in Suid-Afrika vir jong kinders geskryf is.”

Die omslag van die boek beeld ’n swart hennetjie met wit spikkels en die oulikste swart kuikens uit. Dit laat ’n mens nogal aan tarentale dink, maar vir die Vrystater in Alba Bouwer het daardie hoendertjies haar teruggeneem na die kleihenne en kuikentjies wat die Basotho’s gemaak het.

“Dié gewoonte het ook al effens uitgesterf, hoewel ’n mens nog soms die kleihenne en kuikens op plase aantref,” het Alba vertel (Die Burger, 13 Maart 1972). “So het ek enkele jare gelede een dag op ’n Bantoeseuntjie afgekom wat met toe oë gesit en sing het. Voor hom het hy nog ’n enkele hennetjie en ’n paar kuikens gehad. Ek was so bly dat ek dit vir my kinders gekoop het, want ek glo ’n kind kan nie sonder hierdie kleidiertjies grootword nie.”

Onder die naam Magriet Coetzee het Alba in die sewentigerjare gebedeboeke vir vroue die lig laat sien. Dit was oorspronklik deel van ’n rubriek wat in Sarie verskyn het. Sy was aanvanklik taamlik huiwerig om dit aan te pak, omdat sy gevoel het dat ’n mens nie vir ’n ander persoon kan skryf hoe om te bid nie. “Aan die oorweldigende reaksie het ek egter besef dat die gebede wel vir die lesers iets beteken. Dit het hul behoeftes en probleme wat hulle soms moeilik in woorde kon omsit, verwoord. En hulle meer insig gegee. Hulle het besef dat daar ook ander is met dieselfde behoeftes en probleme.” (vertel aan Suzette Truter, Die Burger, 12 Oktober 1988)

In 1984 het Alba dit weer reggekry – ’n nuwe prys vir kinderlektuur ingepalm. Hierdie keer wen sy die eerste MER-prys vir haar boek Vlieg, swaeltjie, vlieg ver wat in 1983 gepubliseer is. Dit het ook die CP Hoogenhout-medalje vir 1982–1983 ontvang.

Die besluit om die MER-prys aan Alba toe te ken, was eenparig en is geneem deur ’n onafhanklike groep beoordelaars wat bestaan het uit Marina le Roux, Elize Botha, Roy Pheiffer en Rykie van Reenen. Alba se reaksie was dat MER ’n groot invloed op haar en haar werk gehad het. In Alba se kinderstories gaan dit hoofsaaklik oor die omgang tussen mense van alle rasse, soorte en ouderdomme, en oor die kosbaarheid wat uit so ’n omgang voortvloei as dit goed is. In Vlieg, swaeltjie, vlieg ver gaan dit oor die wonder wat daar kan wees in die vriendskap van ’n mensegesin met drie kuikens.

Vlieg, swaeltjie, vlieg ver is Alba se eerste kinderboek in twaalf jaar. Dit was ook haar enigste kinderboek wat nie deur Katrine Harries geïllustreer is nie. Harries is in 1977 oorlede en Alba het vertel: “Katrine was baie oorspronklik. Vir die rok van die lappop op die voorblad van ’n Hennetjie met kuikens het sy haar ma se ou blou voorskootjie stukkend geknip en dit gebruik. Ek kon net nie weer ’n kinderstorie na haar dood geskryf kry nie. Uiteindelik het ek tog Vlieg, swaeltjie, vlieg ver geskryf wat Alida Bothma geïllustreer het.”

Elsabe Steenberg (Die Burger, 15 September 1983) het gemeen dat dit ’n vreugde is om ná twaalf jaar weer ’n boek van Alba Bouwer in die hand te kan neem, “een wat boonop ’n pragtige voorkoms het omdat dit deur Alida Bothma van fyn, stemmingsvolle potloodtekeninge voorsien is. Die verhaal speel af aan huis van Faantjie en Hannatjie en hulle ma en pa. Die swaeltjies besluit dat die dakkie bokant Faantjie-hulle se voordeur ’n gawe plekkie is vir ’n nes en nie baie lank nie, of Mevrou Swaeltjie broei op haar eiertjies. Ongelukkig breek die nessie en die eerste broeisel kleintjies val dood neer op die grond. Gevoelige kindgerigte taal word deurgaans gebruik en enige mens wat hierdie werkie lees, ongeag sy ouderdom, sal verryk word deur die eerlike, taalgevoelige verhaal van swaeltjies én mense wat universeel seil, duik en swaai.

“Faantjie is so ontsteld dat hy sommer met Hannatjie begin rusie maak. Die swaeltjies herstel egter hulle nessie sodat hulle kan broei voordat hulle moet vertrek. Faantjie bid vir Liewe Jesus dat die swaeltjies nie weer moet uitval nie, maar die nessie breek weer. Hierdie keer vlieg Meneer en Mevrou Swaeltjie maar sonder hulle kroos Anderland toe en laat hulle drie verwese kleintjies in die sorg van Faantjie en sy ma.”

Susan Kruger (bron en datum onbekend) skryf dat hierdie boek nie net die verhaal is van drie wees-swaelkinders wat deur mense grootgemaak is nie, “maar dat dit veral die verhaal is van Faantjie wat deur hierdie nuwe verantwoordelikheid wat hom opgelê is, leer om meer van homself te gee. Hy leer ook dat mens se gebede nie altyd beantwoord word soos mens gedink het dit moet beantwoord word nie. Die swaarste ding wat Faantjie leer, is dat daar in die lewe iets soos afskeid bestaan. (…)

“Met dieselfde deernis en insig in die leefwêreld van ’n kind wat in haar vorige boeke na vore kom, skryf Alba Bouwer hierdie verhaal oor swaeltjievoëltjies en swaeltjiekinders.”

Met die opvoering en publikasie van Reza de Wet se drama Diepe grond (HAUM-Literêr, 1991) is ’n klein stormpie in die Afrikaanse letterkunde ontketen. Rykie van Reenen vertel in Die Burger (19 April 1995) meer daaroor: “In Reza de Wet se stuk is dit dertig jaar later op Rivierplaas en Alie en haar halfsimpel broer Hennie woon daar bloedskandelik saam in die nou vervalle opstal. Hulle vermoor ’n agent wat kom ondersoek instel op aandrang van ’n tante,” en soos Rykie van Reenen aan Alba vertel het, dit smaak haar ou-Melitie, wat die twee versorg, “maak van hom biltong vir hulle. Die gruwelmoord dra in elk geval ou-Melitie se goedkeuring weg.”

“Die stuk begin met Alie wat die kamerpot onder haar en Hennie se dubbelbed uitsleep, haar naghemp optrek, en sjorrrr – daar op die verhoog!” vertel Rykie aan Alba oor die telefoon.” Toe Alba dit gehoor het, was sy vir ’n oomblik sonder woorde.

Rykie het verder vertel: “Wat Reza de Wet daarmee voor hande kon gehad het, was vir my in daardie stadium tot daarnatoe. Wie gee haar die reg om Rivierplaas se mense in hul wese te verkrag en onteer? Want vat aan Rivierplaas, en jy vat aan ’n Boere-idille van die ou Vrystaatse samelewing op die platteland; vat aan Ou-Melitie, Jôna whê, jy vat aan ’n moeder van ’n mens vir wie derduisende lesers, groot en klein, net so lief is as wat Alie vir haar was; les bes, vat aan Alie en jy vat aan Alba, want wie anders as Alba self is die bekkige meisietjie met die dun beentjies? Die enetjie wat so mal is oor die klink en die klank van woorde?

“Alba se uitgewers, Tafelberg, vat die saak prokureurs toe en dreig met ’n hofsaak. Op watter grond? Het skrywers kopiereg op hul karakters – tog nie, as jy kyk na wat al soveel keer in die letterkunde gebeur het? Aangesien Rivierplaas kennelik ’n sterk outobiografiese inslag het, sou hier sprake kon wees van crimen injuria?

“Regsopinie teen regsopinie. Ons hoor Reza se pa is/was regter-president van die Vrystaat. Duskant op die skaal sit ons Alba se man, Jan Hofmeyr, jare lange prokureur op Riversdal, en die vyf lang regsgeleerde seuns wat hy en Alba tussen hulle het!

“Die Mark Teater in Johannesburg koop die regte. Diepe Grond kan egter nie opgevoer word voor die saak bygelê word nie: mej De Wet sal die name van haar hoofkarakters verander. Alie, Hennie, en ou-Melitie word Soekie, Frikkie en Ou Alina.

Diepe Grond speel in sy wese op die vlak van die dieptepsigologie. Alie en Hennie se bloedskandelike verhouding is byvoorbeeld nie soseer morele kommentaar op sedelike verwording nie as wat dit dui op die manlike en vroulike aspekte van die mens se gees wat tot eenheid, heelheid, moet kom voordat innerlike genesing kan plaasvind. Die hermafrodiet, sê mej De Wet in ’n onderhoud met Die Suid-Afrikaan, is ’n geykte beeld vir selfkennis. Dink, nè!

“Die drama kyk na wat gebeur as ‘reg’ en ‘verkeerd’ outoritêr van buite op die kind afgedwing word: erotiese belewing wat sy onskuldig verken, word byvoorbeeld onderdruk en die psige word deur die skuldgevoel skeefgetrek. Verlossing kom deur af te gaan in die diepe grond van die eie gees, in die domein wat anderkant die gemeenskap se inperkende norme lê.

Van die persoonlike word die lyn deurgetrek na die kollektiewe psige van die Afrikaner na die geesteswêreld waaruit ’n verwronge politiek kon voortkom.

“Vir mej De Wet, wat nie net die problematiek in ’n drama uitgewerk het nie, maar in daardie eerste opvoering self Alie gespeel het, was die ervaring magtig ‘bevrydend’. Mense by die opvoering het bewoë kon sê hoe diep dit hulle insgelyks geraak het.

Sy het haar ‘bedonnerd geskrik’ vir die verontwaardigde reaksie van hier duskant: Hoekom vir Rivierplaas by al hierdie vieslikheid bysleep? Maak soos die kinders sê jou eie ‘game’ op, a, los uit onse Alie en Melitie!

“Vir haar wat self kleintyd ‘baie mal was’ oor Stories van Rivierplaas, wat daarin bevestiging gevind het van haar eie kinderervaring, ook op ’n Vrystaatse plaas, was daar geen effektiewe snelskrif om daardie wêreld van paradyslike onskuld by te roep nie, daardie geborge gevoel van harmonie tussen wit en swart en die natuur. Sê: ‘Alie’, sê: ‘Ou-Melitie’, en jou hele Afrikaanse gehoor is onmiddellik by. Haal hulle uit, en dis so goed jy sny die hele deskant uit die lied. In ’n wêreld waarin die mite van ’n vroeër idilliese saambestaan afgryslik uitmekaarval, verteenwoordig hulle die teenpool, wat heeltyd op die agtergrond saampraat.

Gestroop van daardie verwysingswêreld, vind André Brink in sy Rapport-resensie van Diepe Grond se gepubliseerde teks ‘’n effens histeriese, patologiese “gevallestudie”.’

“Nabetragting: Wie se kant sal ’n mens kies, noudat die hele debakel haas agter die bult verdwyn? Die verontwaardiging wat ons-aan-die-Albakant gevoel het oor die verkragting van haar en óns Alie se onskuld, lê nog sommer vlak in my; min skeel of ek êrre my net hier van voor af. Tog kan ek begryp wat Reza de Wet wou doen, selfs hoekom juis so. Die vraag is net in groter verband, hoeveel andermensgoed, hoeveel andermensgevoelens durf iemand aan eie kuns offer? Hier in die latenstyd vind ek dit intussen onnodig om ’n mens so op die spits te laat dryf tussen óf en óf, leer al meer saamlewe met én en én. Dis beter vir die bloeddruk …”

In 1992 is Alba se eerste roman vir volwassenes onder die titel Die afdraand van die dag is kil deur Tafelberg uitgegee. Una Niewoudt skryf (Die Burger, 27 Oktober 1992): “Die verhaal handel oor twee susters, Bettie en Marie, se wedervaringe as jong meisies en hul vordering op die lewenspad tot by hul laaste aardse tuiste, Huis Lourens. Die aanpassings by ’n wêreldjie wat tot die allernoodsaaklikste gekrimp het, is nie vir die susters die ergste van oud word nie. Wél die besef dat jy nie meer baas oor jou eie liggaam is nie en die vrees wat opnuut begin knaag elke keer wanneer ’n bekende sterf.

“Dit is ’n menslike verhaal vol hartseer, deernis en humor. Hoewel van die gebeure en veral die karakters in die verhaal op die werklikheid gegrond is – die karakter Bettie is Alba se oorlede ma en Marie haar ma se suster – is ’n groot deel van die roman met fiksie ingekleur. Alba het ’n paar jaar gelede aan die boek begin skryf, maar daar het gedurig dinge voorgeval wat haar verhinder het om die verhaal te voltooi. Sy het nie ’n bepaalde boodskap in gedagte gehad terwyl sy die boek geskryf het nie, maar sal tevrede wees as die verhaal van Bettie en Marie die leser tot nuwe insigte bring.

“Bettie en Marie het by Alba Bouwer gaan aanklop en gesê dis tyd dat daar oor hulle geskryf word. En sy hét oor hulle geskryf. Al het dit ’n paar jaar geneem om hul storie op papier vas te lê, en al het dié storie soos ’n groot stuk deeg in haar hare gevoel.”

Alba het aan Una Nieuwoudt in Die Burger (27 Oktober 1992) gesê: “Ouderdom is ’n onderwerp wat te dikwels omseil word ook deur skrywers. Ons lewe in ’n tyd waarin die bejaardes al meer word. Dit help nie om die ouderdom te probeer vermy nie - ’n mens moet aanvaar dat die ouderdom en dood deel van die lewe is. Ek dink partykeer dis goed dat ek so lank gewag het voor ek die boek geskryf het, want ek het ook nou oud geword. Op 72 is ’n mens hartlik oud. Ek het nou ’n beter insig in die ouderdom.”

 John Kannemeyer vertel in sy resensie (De Kat, Maart 1993) dat die titel van die roman ontleen is aan Olga Kirsch se digbundel Negentien gedigte (1972):

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en geel.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

Volgens Kannemeyer gee Die afdraand van die dag is kil ’n “pragtige beeld van die laaste fase in die lewensgang van die twee susters. Hy voel egter dat daar ’n probleem met die chronologie is, maar dat dit nie afbreuk doen aan die feit dat dit ’n diep menslike boek is nie, ’n roman wat met sy sterftonele getuig van ’n deernis en ’n insig wat ’n skrywer alleen in sy beleë jare kan bereik. Alba Bouwer skryf goeie prosa en hierdie roman bevat pragtige bladsye oor die lewensgang van ou mense soos ons dit vroeër in Afrikaans nog net by MER aangetref het.”

Errol Victor (Die Transvaler, 22 Oktober 1992) het gemeen dat Afdraand van die dag gaan oor eensaamheid, aftakeling en die afhanklikheid wat die ouderdom meebring, maar ook oor die troos van herinneringe, van dié wat omgee. “Dit is ’n menslike, snaakse, hartseer boek; vol drome, versugtinge en openbaringe. ’n Boek wat die mens se verganklikheid en aftakeling tot die onverwoesbare kern van menswees só uitbeeld dat dit die leser met nuwe eerbied vir die lewe laat. Dit is ’n besondere boek en leef lank nadat die boek neergesit is nog in die gedagte.”

Hennie Aucamp het in Rapport (8 November 1992) geskryf dat daar vir die Bouwer-aanhanger geen breuk tussen haar jeugboeke en hierdie roman is nie: “Elke boek is van dieselfde hand; elke boek adem ’n gees van sereniteit; elke boek van Bouwer is in die eerste plek ’n woordkunswerk, of dit nou Dirkie van Driekuil heet of Die afdraand van die dag is kil. En die tematiese raakpunte wat haar roman met die res van haar oeuvre het, is ook nie mis te kyk nie; met die Bergplaas- en die Rivierplaaswêrelde by name.

“Maar as ’n indringende studie van die wêreld van die ou mens in ’n ouetehuis, ja, in dié sin is Die afdraand van die dag is kil wel ’n boek vir volwassenes. Nog nooit is daar in Afrikaans soveel aandag aan die ou mens in sy laaste lewensronde bestee nie; daardie jare wanneer hy vir eenvoudige liggaamlike inspannings van ander afhanklik raak en hy homself broksgewyse begin prysgee, soos sy beheer oor spiere, bene en eie lot ingee.

Die afdraand van die dag is kil sluit sterk by ’n bepaalde prosatradisie in Afrikaans aan; ’n tradisie wat van MER, Freda Linde en Audrey Blignault loop, en wat gekenmerk word deur ’n veredelde gebruik van volkstaal. ’n Mens sou ook kon sê dat Alba Bouwer die eindpunt van hierdie tradisie verteenwoordig; maar dis nie heeltemal waar nie. Sonder enige slagspreuk of bewustelike ideologie, is ook Alba Bouwer ’n feminis – soos MER voor haar. En dus ‘modern’.

“Vrou-wees, van kind af tot in die ouderdom, word as eksistensiële feit gestel. Alba Bouwer skram byvoorbeeld nie weg van die biologiese van vrouwees nie. Erotiek, swangerskap, geboorte, bloeding, verlies van blaasbeheer, al dié sake kom aan bod, maar sonder dat daar oormatige verteltyd daaraan bestee word.”

Hoe hanteer Alba Bouwer, volgens Hennie Aucamp (Rapport, 8 November 1992), die somber temas, van aftakeling en die dood? “’n Mens dink aan ’n uitspraak van Norman N Holland in The dynamics of literary response. Elke kunswerk wat jou doelbewus ontstel of verontrus, sê hy, het ’n ‘ingeboude maneuwer’ wat jou toelaat om dié ontsteltenis te bemeester. Humor en ironie is een van Alba Bouwer se maneuwers; Die afdraand van die dag is kil is by tye ’n baie snaakse boek. En die ander maneuwer, veral in die gedetailleerde beskrywings van sterftonele, is ’n kalm bewustheid van die onsienlike. Hiervoor (…) net een voorbeeld: Liesbet wil omdraai en nog een keer aan haar ma se lyk vat, maar ‘halfpad na die bed steek sy vas: dis nie meer Ma wat daar lê nie. En sy weet meteens klaar en duidelik dat sy, net soos haar ma, deel is van iets anders, iets grenseloos groters as hierdie aardse bestaan waarin sy nog staan, maar waaruit haar ma vertrek het.’”

Volgens AP Grové (Insig, Desember 1992/Januarie 1993) kan die boek seker as ’n ouetehuisroman bestempel word, maar is dit ’n ontoereikende omskrywing. “Ons het hier nie bloot, of selfs in hoofsaak, die somber uitbeelding van ’n avontuurlose bestaan nie, hoe sterk en onontkombaar die trekkrag van die dood ook al gegee word. Die dag mag hier kil wees, maar die uitbeelding is vol warmte en gul. Bowendien gaan dit hier om ménse, veral dan om die twee susters, Marie en Bettie, wat ’n sentrale plek in die boek beklee. Maar in die tehuis is daar ook ander figure, elkeen met sy eienaardigheidjies en hebbelikhede, mense wat in die laat stadium van hul lewe soms nog ’n sekere ydelheid kan openbaar en ’n bietjie vernaam kan probeer doen, mense wat taai aan die laaste brok waardigheid en selfstandigheid probeer vashou. So kom daar afwisseling, ook van stemming en beligting, in hierdie grou wêreld, ’n verskeidenheid wat met die inwoners en personeel daarby van die tehuis ’n vol wêreld maak, ’n mikrokosmos waarin erns en luim vermeng kan raak en waarin daar by al die patos ruimte vir die bevrydende glimlag bestaan.

“En waar jy mense kry, individue, kan jy spanning verwag, ’n botsing van persoonlikhede, soos byvoorbeeld dié tussen die twee susters: Tussen die oper en vroliker Bettie en die somber, agterdogtige Marie met haar onheilspellende blik word dit ’n wedywering, ’n sluimerende jaloesie selfs wat eerder fyn gesuggereer as breed uitgewerk word. So kry ons deurgaans ’n spel van verhoudinge en dit alles word met soveel gesag gegee, met so ’n oop oog vir die sinvolle besonderheid dat ’n mens intieme eerstehandse kennis by die skryfster wil vermoed, die soort insig en kennis van sake wat aan die roman iets van ’n outobiografiese karakter wil gee.

“Daarmee is nie gesê dat die boek ’n soort dokumentêre verslag is of wil wees nie. Hierdie ouetehuis en sy mense word so vol-menslik en met soveel deernis, begrip en humor geteken dat die boek, ten spyte van sy geloofwaardige werklikheidsbasis, ’n verbeeldingswerk word, ’n roman wat ons die geslote ruimte van die tehuis toon as ’n ganse wêreld vol sterflike wesens.”

Die afdraand van die dag is kil was op die kortlyste vir sowel die CNA- as die MNet-prys vir 1993.

Met Alba se 75ste verjaardag in 1995 gee Tafelberg ’n paar huldigingsbundels uit. Rykie van Reenen was die samesteller van Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake. “Uit hierdie toesprake kan duidelik gesien word hoe beskeie Alba was. Haar waardigheid en wysheid kom ook sterk na vore en op papier word die toesprake essays wat kosbare rigtinggewende leidrade bied,” sê Jalna Schumann (Insig, April 1995).

Thomas van der Walt was verantwoordelik vir die samestelling van Die blink uur van mooi dinge: ’n huldiging van Alba Bouwer. Die eerste afdeling bevat uiteenlopende bydraes uit Alba se wye vriendekring en die tweede deel bevat letterkundige essays. Tafelberg het in 1994 ’n gebedeboek wat Alba onder die skuilnaam Magriet Coetzee geskryf het, Skuiltes op die pad, ook weer uitgegee, en die Rivierplaas-omnibus is in 1995 heruitgegee. Dit bevat Stories van RivierplaasNuwe stories van RivierplaasStories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck.

Benewens die pryse wat aan haar boeke toegeken is, het ander erkennings ook nie agterweë gebly nie. In 1983 is Alba aangewys as een van veertien nuwe verteenwoordigers om in die Mediaraad van die Nuusblad-Persunie te dien; in 1987 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n nuwe kinderboekprys ingestel wat sou bekend staan as die Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur wat elke drie jaar toegeken sou word; in dieselfde jaar het sy ’n ereburger van Riversdal geword; in 1995 word sy erelid van die Akademie; en ook in 1995 ontvang sy ’n VLV-toekenning; in 1996 het die Universiteit van Port Elizabeth ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken; in 1998 het sy die FAK-Prestigeprys ontvang vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Nadat sy erelidmaatskap van die Akademie ontvang het, het Alba gesê dat dit vir haar ’n sonderlinge eer is en dat vandat sy verneem het van hierdie eer wat haar te beurt geval het, die woorde van ’n Nederlandse gesang uit haar kindertyd heeltyd in haar kop gedraai het: “Verdien ’k sulks, ik sondaar, nee.”

Op Dinsdag 5 Oktober 2010 is Alba oorlede in die aftree-oord Helderberg Village waar sy aangebly het na haar tweede man se dood. Sy het vir jare Alzheimersiekte gehad en het in ’n koma verval. Sy is uit die NG Kerk Riversdal-Wes begrawe. Sy laat ses stiefkinders, 17 kleinkinders en 6 agterkleinkinders agter. Alba de Jager, ’n kleindogter, is vroeër in 2010 oorlede.

Huldeblyke

  • Lina Spies: “Ek is dankbaar dat sy stil weg is, want nóú kan ek haar begin onthou. Ek kon nooit besluit vir wie ek die liefste is nie – Alba of Audrey Blignault, maar gelukkig het ek geweet ek hoef nie te kies nie.” (Volksblad, 8 Oktober 2010)
  • Jan Hofmeyr, seun: “Die eerste gedagte wat by my opkom as ek aan haar dink, is haar sin vir netheid, eenvoud en haar betroubaarheid. Dit het in alles wat sy gedoen het, na vore gekom. In haar huis, haar voorkoms, haar gesprekke, haar geskrifte, haar voordragte, haar verhouding met mense, selfs haar motor – jaartal ten spyt. Sy was die tweede ma wat ’n gesinstafel op Riversdal en Stilbaai weer warm en vol kon maak.” (Volksblad, 8 Oktober 2010)
  • Danie Botha: “Sy is vir my die soort mens vir wie jy onmiddellik agting het. Jy bewonder haar. Jy voel spontaan waardigheid by haar aan, ’n mengeling van nugterheid én verhewenheid.” (Die Burger, 11 Oktober 2010)
  • Elize Botha in 2005: “In my leerjaar as kwekeling-joernalis by Die Burger is ek een aand uitgestuur om die Maleierkoorfees in die Kaapstadse stadsaal by te woon. Ek het ’n sitplek in een van die sierlike losies gehad en onder die ander ‘in-sittendes’ was ID du Plessis en Alba Bouwer. Alba was een van die beoordelaars saam met ID du Plessis. En wanneer ek terugkyk, is dit vir my só toepaslik dat ek haar daar sou sien, in die kring van Du Plessis en die leiers in die Maleiergemeenskap, maar ook in 1952: ’n ster in die opkomende vrouejoernalistiek, assistentredakteur van die genre-verskuiwende Sarie (toe nog Sarie Marais) – sjarmante gespreksgenoot, stylvolle verskyning, met daardie kenmerkende oogopslag, die helder, innemende kyk van haar blou oë wat lag en vonkel en opreg belangstel in die een wat sy aankyk. Die towerkrag van Alba se woorde in haar Rivierplaas-boeke, Dirkie van DriekuilKatrientjie en Abdoltjie het ná 1955 dekades lank lesers oud en jonk gelok om ’n tyd lank ’n Rivierplaas in die Vrystaat, ’n Bergplaas in die Boland, ’n plek genaamd Ruyswyck, Driekuil en die Bo-Kaap, Keerweder en selfs die Goudstad te bewoon. Dit was woorde wat afstande van allerlei soorte kon uitwis. Dit is moontlik om Alba se besonder vindingryke spel met vorm, klank en betekenis van woorde te sien as deel van die vernuwing in die Afrikaanse prosa wat juis in die bakenjaar van 1955 op breër literêre terrein merkbaar begin word het.” (Die Burger, 17 Desember 2005)
  • Réna Pretorius in 1995: “Op watter terrein Bouwer ook al diens gelewer het, of steeds lewer, sy kom dwars in die hart lê van elkeen wie se lewe deur haar aangeraak is. Kritici skryf al byna vier dekades waarderend oor die besondere verdienste van Bouwer se kinderboeke as literêre tekste en het veral waardering vir die tydlose tema, die waarde van omgang met mense, alle soorte ewe-mense, en die kosbaarheid wat uit die goeie omgang met ander vloei.” (Die Burger, 24 Junie 2005)
  • Lizette Rabe in 1995: “Vir almal wat nie die nimlike/minlike Alba – ‘tannie Alba’ vir die jongeres met dieselfde eerbied as ‘Ta’ Miem’ destyds vir haar – aan die woord by leeskring of vrouekring gesien het nie, het Rykie van Reenen die guns gedoen om ’n keur toesprake saam te stel. En vir diegene wat haar wel ervaar het: in Die lang reis van hart tot hart kry jy die onthou swart op wit. Om die pêrels van wysheid wat die geliefde skrywer en mens so moeiteloos (lyk dit) kan uitdeel, paragraaf vir paragraaf te gaan uitdink. Die pêrels blink met vele fasette. (…) Dáárom: Dankie, tannie Alba! Vir baie blink ure van baie mooi dinge, vir die Storie­trilogie, vir die reis van hart tot hart. En al die paaie tussenin.”
  • Leon Coetzee (haar stiefseun) in Maart 2010: “Alba se invloed in my lewe is vandag my grootste bate. Ek dink vandag op haar 90ste verjaardag met groot bewoënheid terug aan die wonderlike jare wat ek gehad het saam met een van die merkwaardigste vroue in Suid-Afrika.” (Die Burger, 16 Maart 2010)
  • Hennie Aucamp in Maart 2010: “Wanneer ’n mens ’n galery van onsterflike karakters in die letterkunde ­oproep, sal kinderkarakters in kinder- en jeugboeke ’n plek ­opeis, en dit geld ook die ­Afri­kaanse letterkunde. ’n Mens dink aan die ‘monsters’; aan Brolloks en Bittergal van Langenhoven, aan Water­bobbejaan van Ben Venter. Maar jy dink ook aan die fynsinnige kindergestaltes uit die pen van Alba Bouwer, soos Alie van Rivierplaas en Abdoltjie van die ­Bo-Kaap, wat blywend en ­tydeloos geword het in die her­innering; kortom klassiek. Haar aanvoeling vir woorde en hul toonwaardes, haar onfeilbare sin vir ritme, behoort weer aan die hoë klok gehang te word, in ’n tyd ­waarin onpresiese ­segging die reël en nie die uitsondering nie geword het. Bouwer het in die laaste fase van haar skryfloopbaan oor ‘daar­die ander kind, die ou mens’ – háár woorde – begin skryf, en haar beklemmende ­roman, Die afdraand van die dag is kil, laat geen twyfel oor die beproewinge van oudword en oudwees nie.” (Die Burger, 16 Maart 2010)
  • Marina le Roux in Maart 2010: “Haar indrukwek­kende oeuvre sluit in tien oorspronklike kinder- en jeug­boeke. Sy het ook talle kinderboeke uit Engels, Duits en Nederlands in Afrikaans vertaal en verwerk, die bekendste miskien Winnie-die-Poeh (1985). Voorts het Bouwer ook kosbare bydraes gelewer tot tydskrifte en verskeie ­ver­samelbundels.” (Die Burger, 16 Maart 2010)

Een van haar waardevolste geleentheidstukke wat opgeneem is in Die lang reis van hart tot hart is, volgens Elize Botha, “Om ’n boek te maak”. Aan die slot van die stuk het sy gesê: “Die ambag van die boekmaker, die skrywer … is ’n poging om vir die kinders wat nou hier grootword, iets te vertolk en oor te dra van die vreugde van deel hê aan hierdie land met sy baie soorte mense.”

Só sal haar skrywershand ons steeds bly voed, uit die mooi boeke wat sy gemaak het.

Ter herdenking van haar 100ste verjaardag in 2020 word ’n spesiale program gedurende die Woordfees op Stellenbosch aangebied waartydens twee van haar sewe stiefkinders, Leon Coetzee en Jan Hofmeyr, herinneringe aan Alba Bouwer met die gehoor sal deel. ’n Herdruk van die Rivierplaas-omnibus sal ook by die Toyota US Woordfees bekend gestel word.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na
Boekklub: Alba Bouwer 100 – Rivierplaas se ma: 12 Maart by die Boektent.

 

Publikasies:

Publikasie

Stories van Rivierplaas

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1957
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1965
  • 1967
  • 1982
  • 1988

ISBN

  • 0624016926 (hb)
  • 0624026477 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1959 (saam met Nuwe stories van Rivierplaas)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Nuwe stories van Rivierplaas

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1965
  • 1976
  • 1985

ISBN

0624022331 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1959 (saam met Stories van Rivierplaas)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1963
  • 1967
  • 1986

ISBN

0624023664 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Katrientjie van Keerweder

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-toekenning 1961
  • Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Stories van Bergplaas

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1964
  • 1965
  • 1967
  • 1968
  • 1975
  • 1984

ISBN

  • 0624001067 (hb)
  • 0624020355 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Katrientjie van Keerweder en Stories van Ruyswyck)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Stories van Ruyswyck

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Stories van Bergplaas en Katrientjie van Keerweder)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die leerling-towenaar

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rip van Winkel

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Dirkie van Driekuil

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Hennetjie met kuikens

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1988

ISBN

0624001342 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

CP Hoogenhout-toekenning 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Ienkel dienkel: ’n versieboek vir kleintjies

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014258 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vlieg, swaeltjie, vlieg ver

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624019071 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-toekenning 1982–1983
  • MER-prys vir Jeugliteratuur 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die afdraand van die dag is kil

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031799 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuiltes op die pad: gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624033104 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Alba Bouwer-omnibus

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033732 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake. Saamgestel deur Rykie van Reenen

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033645 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Toesprake

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rivierplaas: omnibus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045311 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Magriet Coetzee

Publikasie

Nuwe gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008754 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1985

ISBN

  • 0624004538 (hb)
  • 0624023087 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Aand van die lewe: gebede van ’n bejaarde vrou

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624017354 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

 

Alba Bouwer as samesteller

  • Afrikaans 100: ’n klein gedenkboek met byskrifte. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624007456 (hb)]
  • Goedgeluk: verjaardagalbum. Saam met Audrey Blignault. Kaapstad: Tafelberg, 1988
  • MER:  
    • Kom nader: ’n keur uit die werke van MER. Saam met Audrey Blignault. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1965
    • ’n Kosbare erfenis: briewe van MER, 1916–1975. Saam met Anna Rothmann en Rykie van Reenen. Kaapstad: Tafelberg, 1977 [ISBN 0624010562 (hb)]

Alba Bouwer as vertaler

  • Augustinus, Aurelius, Heilige Bp van Hippo: Lewende woorde van Augustinus: gedagtes uit sy preke. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers [19-] [ISBN 086991876 (sb)]
  • Bamberger, Richard:
    • My eerste groot storieboek. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624006670 (hb)]
    • My groot-groot storieboek. Saam met Linda Rode. Kaapstad: Tafelberg, 1987 [ISBN 0624025535 (hb)]
  • Bergengruen, Werner: Die Spaanse roosboom. Kaapstad: Tafelberg, 1946, 1960
  • Dejong, Meindert: Perd uit die storm. Kaapstad: Tafelberg, 1971
  • Dundas, Dorothy: Die seeverhale van Seepbel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1957
  • Hueck-Dehio, Else: Tippie se liefde. Kaapstad: Tafelberg, 1966
  • Hunt, Irene: Die groen pad. Kaapstad: Tafelberg, 1968
  • Lennart, Clare:
    • Katinka van Kattesnorstraat. Kaapstad: HAUM, [196-]
    • Rinus die stasiemossie. Kaapstad: HAUM, 1960
  • Milne, AA: Winnie-die-Pooh. Kaapstad: Tafelberg, 2007 [ISBN 9780624045335 (sb)]
  • Prokofief, Sergei: Pieter en die wolf. Kaapstad: Tafelberg, 1958
  • Van Anrooy, Frans: Die seeperdjie. Kaapstad: Kinderpers, 1974 [ISBN 0799500593 (hb)]
  • Von Gebhardt, Hertha: Die dogtertjie van êrens. Kaapstad: Tafelberg, 1961

Artikels oor Alba Bouwer op die internet

Artikels deur Alba Bouwer op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Hierdie album is op 2 Maart 2020 bygewerk.

The post Alba Bouwer (1920–2010) appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Winterskool met skryfkompetisie vir opkomende skrywers

$
0
0

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit bied van Maandag 1 Junie tot Vrydag 5 Junie 2020 ’n Winterskool vir opkomende fiksieskrywers aan.

Bekende skrywers, toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Die skryf van verhale, gedigte en kinder- en jeugboeke staan in 2020 in die kollig. Die werkswinkels in die drie skryfgenres word gelei deur Ingrid Winterbach (verhaalkuns), Bernard Odendaal en Lynthia Julius (digkuns) en Franci Greyling en Fanie Viljoen (kinder- en jeugboeke) – almal ervare, meestal ook bekroonde skrywers.

Foto: Unsplash.com

Hierdie vyfdaggeleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat verhale, gedigte of kinder- en jeugverhale wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R3 500 per persoon. Dié bedrag dek kursusgeld, asook kostes vir verversings gedurende oggend- en middagteepouses, ’n openingsonthaal op Maandagaand 1 Junie en ’n afsluitingsfunksie op Donderdagaand 4 Junie. Inligting oor ’n beperkte hoeveelheid verblyfplekke langs die Potchefstroomkampus van die NWU is beskikbaar. Skakel Kobie van Aswegen by Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za (tel. 018 299 1783) vir meer besonderhede.

Die ATKV-Skryfskool bied, in samewerking met Maroela Media, vanjaar ook ’n KOMPETISIE VIR SKRYFWERK in die genoemde genres aan. Die wenner in elk van die kategorieë (vir ’n kortverhaal, ’n gedig of ’n kort kinder- of jeugverhaal) sal die WINTERSKOOL GRATIS kan bywoon (verblyf geborg deur Maroela Media). Vir meer inligting hieroor, skakel met Kobie van Aswegen.

  • Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings: 6 April 2020.

Kom put uit die ervaringskat van bekroondes by dié Winterskool – vir ’n wegspring op jou skrywerspad soos min!

The post Persvrystelling: Winterskool met skryfkompetisie vir opkomende skrywers appeared first on LitNet.

Danie Botha (1947–)

$
0
0

Sêgoed van Danie Botha

Na die verskyning van Die Soft Rock Klub: “Die feit dat ek eksplisiet skryf, hang saam met daardie deel van die gay psige om uit te flap – maar dan moet ek dadelik bysê dat hierdie een van die baie stereotipes is wat oor gay mense bestaan. Ondanks die stereotipes bly gay mense uiteindelik almal individue.”

Oor die kontroversie rondom Die Soft Rock Klub: “Wat help dit ek probeer myself verdedig? Ek weet waar ek staan met my geloof en hoe ek daaroor voel. En terselfdertyd is ek nie skaam oor die onderwerp van my boek nie.”

“Maar die wag vir die resensies is hel. (...) As toneelkritikus het ek my al dikwels in die skoene van die akteurs geplaas, gewonder hoe hulle oor kritiek voel. Miskien die dag gevrees dat ek self aan sulke kritiek en ontleding onderhewig sou wees.”

Soek hy nie resensies nie? “Nie slegtes nie! Nee, resensies is ’n noodsaaklike euwel en as redakteur weet ek dis meestal goeie publisiteit net om ’n boek se titel en ’n skrywer se naam in druk te sien. Ek weet watter emosies ek in my boek gesit en waarom ek oor sekere dinge geskryf het. Daardie dinge wil ek met die lesers deel, daarom is ek bang lesers sien dit nie raak nie. Of miskien sien 90 persent dit raak, maar ek hoor dalk net van die resensente wat nie my idees oor die boek deel nie. Miskien sien ek dit op te ’n intieme en persoonlike vlak.”

“My lewe is die vak wat ek die beste ken en die helderste oor kon skryf.”

Oor die gayterrein (in 2004 aan Deborah Steinmair op LitNet): “Jy sal my nie in 'n gaykroeg of -klub kry nie; ek sterf voor ek fopdos; ek voel my nie tot gaytrotsparades gedrewe nie. Maar ek staan nie veroordelend daarteenoor nie. Jy sal my wel by Adult World se ‘video lounges’ of die minder ‘prissy’ gaystoombaddens aantref. In die ou dae op Sandy Bay en Graaff se Poel. Dis deel van die opwinding van Gay@LitNet: om al hierdie fasette van die gaylewe onder woorde te kry. Ons is in sekere opsigte nes die straights, maar in ander opsigte beslis anders, of vermoedelik anders. En as ons dan in groepsverband optree, kan jy die saligheid van ondersteuning, identifisering en geesgenootskap ervaar. Maar, og, soms kan 'n mens ook baie ‘uit’ voel tussen die klomp. As hulle jou eers met daardie harde visoë aankyk, as jou soort humor in kille stilte ontvang word ...”

Weer Deborah Steinmair in 2004: “Jy is kort na die Tweede Wêreldoorlog gebore en het die geboorte van die rekenaar en die wêreldwye web meegemaak, interessante tye voorwaar. In watter eeu sou jy wou leef as jy kon kies?” Danie: “In die jare sestig en sewentig van die twintigste eeu toe ek nog lekker patrioties kon raak met ’n volkslied, landsvlag en die FAK-sangbundel, met geestelike oorgawe na die dienste van die NG Kerk kon gaan, toe dit makliker was om wit, manlik en Afrikaans te wees, sonder die huidige gewetenskwessies en die ontstellende sedelike en politieke toestande. Maar, ja, ek moet terselfdertyd vra vir ’n rekenaar, e-posse en seksvideo’s. En DStv om sawends na Nederland toe te ontsnap.”

Watter vier historiese of lewende persone sou hy vir ete wou uitnooi? “Tennessee Williams, Anton Tsjechof, Stef Bos en die bleskop-weervoorspeller op BVN. As van hulle nie kan kom nie: Kenneth Tynan, Lucas Malan of Daniel Hugo.”

In 2007: “Ek weet hoe verskriklik dit is vir amateurtoneelspelers om negatiewe kritiek te kry, en my doel is om soveel as moontlik regverdig en omvattend daaroor te skryf. En ek probeer altyd, as ek byvoorbeeld ’n problematiese speler het, om ook iets positiefs oor hom te sê, saam met die negatiewe. My goeie wil is daar.”

 

Gebore en getoë

Daniel Stephanus Botha (Danie) is op 28 Februarie 1947 naby De Doorns gebore. Hy word groot op ’n plaas in die Brandwachtvallei ten noorde van Worcester as die oudste van drie kinders, met ’n suster Dria en ’n broer Koos – “in verhale figureer suster Dria as Dria, maar broer Koos word Braam, omdat ek sy Jako(bus) vir my toegeëien het in die stories.” Sy ouers is PP du T Botha en Rachel Elizabeth Möller. Hulle is op 11 Mei 1945 getroud.

Danie vertel aan LitNet: “In standerd 2 in die laerskool het ek en Christo Botes al ‘koerante’ geskryf. Aan die einde van standerd vyf het mnr Seekoei van Zyl my opstelboek as voorbeeldboek ingeneem, en hy sou my roman in Croxley-boekies vir ’n uitgewer stuur.

“Ek publiseer ‘lerende’ kinderverhale vanaf my 15de jaar in Die Kerkbode tot 1968. Dis stories uit my eie ervarings of ek vertel stories oor uit ou preekbundels (met bronerkennings) of dramatiseer Bybelgedeeltes. As ek my toepassings nie te eksplisiet genoeg doen nie, klim die kinders se tannie Willa self in. (Vanaf 1994 sou ek ’n tyd lank bydraes lewer vir Die Kerkbode se “Stilhouplek”-rubriek waar dieselfde formaat gevra is: iets uit die alledaagse lewe en dan ’n godsdienstige toepassing.) In 1962 begin ek ’n rubriek vir kinders in die Worcester Standard, maar toe niemand vir ’n wedstryd inskryf nie, word dit summier gestaak!”

Van vroeg af het Danie begeer om “in die openbaar op te tree”. Hy lees voor by die skooldebatsvereniging en speel saam met onder andere Helena Conradie (tans bekend vir haar voordragte op CD’s) in tant Hanna Oosthuizen se Kersboomkonserte in die Erasmusse se plaasskuur.

“In 1962 wou ek ook soos PG du Plessis se Tiemie ‘van geweet wees’ en doen ek gratis diens op Saterdagoggende en in skoolvakansies by die Worcesterse Openbare Biblioteek. Onder leiding van mee Fergusson, Brandt, Anderson en andere doen ek waardevolle ervaring van biblioteekwese en van boeke op. Ek stap dan die ses myl terug plaas toe ná die tyd. Al lesende aan die reisboeke van Elsa Joubert of die Kadet-reeks. Het wel mettertyd ’n fiets gekry.

“Gedurende hierdie tyd neem ek deel aan die SAUK se Jeugprogram: ‘Skrywers van die toekoms’. My vyf minute lange hoorspel Drie uile word uitgesaai en ek skryf geïnspireerd elke week ’n hoorspel vir Morkel van Tonder, maar weens gebrekkige belangstelling van ander skrywers staak Daan Retief die program. Ek het my uitgedaag gevoel om George H Weideman as digter te onttroon. Toe Pieter W Grobbelaar sy kritiek op mý gedig lewer, hoes my oupa en kon ek dit nie hoor nie. (Sien Ensovoort, jaargang 11, 2007 oor Weideman.)

“Teen 1964 plaas Monica Breedt feitlik elke week ’n bespreking van Danie Botha van Russelstraat 75, Worcester (ons posadres) in die SAUK Radiobulletin oor ’n uitgesaaide hoorspel in die rubriek vir sulke luisteraarskritiek.

 “Ek het altyd radio-radio gespeel. Met die opwengrammofoon en ’n voorraad ou Huisvrouens waaruit ek ds Latsky se preke voorgelees het en resepte met herhalings nes Esmé Euvrard in ‘Só maak mens’. Die uitsendings is gedoen vanaf ’n ontruimde buitekleinhuisie. Radio Buitelug was weer ’n stasie waar ek gereeld rondgeloop het en dan optogte beskryf het veral saans as ek deur die hawerland loop om vir ons melk te gaan haal by oom Jan-hulle.  In ’n bloekombos was ’n groot ou staaldrom wat lekker weerklink het vir my dramas wat ek opgemaak het. In ’n ou stal het ek boeke gedramatiseerd voorgelees, met Joey de Koker en Lana Turner as van my spelers.

“Dis in die ou Huisvrouens van tant Rina le Roux dat ek die rubriek vir kinders gelees het. Het nooit geweet dis geskryf deur Audrey Blignault nie. Daarin lees ek toe van Marietjie wat so in die huis konsert gehou het. Toe het ek eers saam met Ouma en Dria saans ‘konsert’ gehou op die gras voor die koeistalle terwyl ons wag vir die vol melkemmers. Gaandeweg het die konserte groter en meer gevorderd geword, byvoorbeeld aan die einde van ’n skoolkwartaal op die punt van ’n stoep waar daar ’n plankgedeelte was. Die gehoor: Oupa, Ouma en Ma. Soms meer. Groot aardigheid om kennisgewings op te sit op die groot sipresbome langs Ouma se rotstuin.

“Uit tant Rina se ou Saries Marais het Ma voorgelees vir ons uit Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas. Sondae het Ma uit Josef in Memfis van HJM Redelinghuys gelees. Sy’t pal vir ons saans en soggends uit Herman Scholtemeijer se Die kind se Bybel voorgelees. Ons kon selfs gedeeltes opsê: ‘Dis nog vroeg in die môre, maar die skaapwagter slaap nie meer nie. Hy staan al by sy skaapkraal en roep sy skape een vir een. Aan elkeen het hy ’n naam gegee …’

“Naas Alba Bouwer en WO Kühne se Huppelkind-reeks (wat ek vir ‘Braam’ voorgelees het) had sy styl ’n groot invloed op my. Ma het kleintyd gediggies vir my geleer en ek het selfs aandag getrek in die Voorbereidende Skool daarmee. (‘Mammie is laat/ en Pappie is kwaad/ Die meid het nie opgedaag./ Ek sal my maar was,/ dan vat ek my jas/ en maak net die voordeur oop …’) Sy sou op ’n vakansieoggend ons uit die bed kry met die oopskuif van die venstergordyne en die woorde: Cast the window wider, sonny,/ let me see the veldt,/ rolling grandly to the sunset. Internet sê dis uit ’n gedig van Percival Gibbon, dalk uit 1903. Of Red sky in the morning is the shepherd’s warning; red sky at night the shepherd’s delight. Ouma Botha was ons stiefouma, maar jy sou dit nooit sê nie. By haar het ek Boereoorlogstories gehoor terwyl sy staan en stryk. Vir haar en Oupa wat met ’n kruk en kierie geloop het, het ek soos Josef my drome van die vorige nag vertel, en Oupa het gesê hy kan sien hoe droom ek dit daar by die kombuistafel. En dit was waar! Oupa het vertel van goëlery en spoke. My nefie Niel wat seker so vier jaar ouer as ek was, het my die storie van die drie varkies geleer,” vertel Danie aan LitNet.

Toe Danie in standerd nege was het sy ouers en sy broer en suster na die plaas Alartskraal by Rawsonville getrek waar sy pa plaasbestuurder was by Ernst Stofberg. Danie loseer sy laaste twee jaar op skool aan huis van Theuns en Anneline Botha op Worcester. Hy matrikuleer in 1964 aan die destydse Hoër Jongenskool Worcester.

Op skool het Danie Saterdagoggende en gedurende skoolvakansies gratis by die Openbare Biblioteek op Worcester gewerk en só waardevolle ondervinding opgedoen van die biblioteekwese, asook boek - iets wat hom later in sy loopbaan goed te pas gekom het.

Danie vertel in die reeks "Mense agter boeke" op LitNet aan Jaco Botha dat Pieter W Grobbelaar met sy radiorubriek "By die boekrak" gepoog het om die jongmense aan die letterkunde bekend te stel. Só het hy ’n wedstrydvraag gehad: "Soos: wat was CJ  Langenhoven se skuilnaam? Ek wen die prys; ek kan uit twee boeke kies."

En toe Danie nou die pryswenner is, het hy nie geweet watter boek om te kies nie: "Ken nie boeke nie. Of nee, wag, so ’n maand vantevore het die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens vir Worcester die wonderlikheid van ’n biblioteek vir volwassenes en kinders gebring. Teen daardie tyd het die skoolbiblioteke ook ’n groter toegang tot  boeke beteken. Soos die hartseer storie van Sita  se Bennie-boet. Ons twee was albei kunsterig met ’n boer vir ’n pa, ’n man wat in die sweet van sy aanskyn ons kos kombuis toe gebring het en wat nie reggekom het met aansitterige seuns nie. Vir hom was sulke seuns 'trassies'. My eie storie oor so iets staan in Die Soft Rock Klub (Tafelberg, 1995).

"My tweede versoek vir die prys is Die Ark van Margot Benary, wat ek pas by die nuwe kinderbiblioteek uitgeneem het; Hanna Hoekstra het dit uit Duits vir JL van Schaik se Libri-reeks van klassieke jeugboeke vertaal. En my eerste keuse kom vermoedelik uit juffrou Berta se lys: N P van Wyk Louw se Lojale verset.  Pieter W Grobbelaar het sy gehoor gekén en Die Ark was die wenboek. Dit staan al jare lank naby die rak met my eie  publikasies. Voorin ’n strokie van die SAUK  wat getuig dat ek die prys gewen het."

Hy vertel verder aan Jaco Botha dat hy in sy jeug ook die Afrikaanse letterkunde help versorg het: "Daar het ‘n sepiakleurige bylaag in die Naweekpos verskyn. Ek kon nog nie in my geliefde NALN in Bloemfontein vasstel wie dit saamgestel het nie. Ek vermoed dit was die geestesskepping van Berta Smit, toe ’n redaksielid daar. Per bladsy ’n foto van die skrywer, ’n bibliografie en enkele gedagtes oor sy of haar werk. By Radio Opelug het ek Tsjaikofski se 'Suikerfee-valse' as kenwysie gespeel (omdat dit van die min ernstige musiek op plate was tussen die Gene Autries en Chris Blignauts in ons huis). Dan het ek, sê maar, iets oor GH Franz voorgelees. Ek het ook uittreksels uit Afrikaanse dramas opgevoer. Tussen twee damme het waterslote geloop. Naby die koeistalle het die water oor ’n rots gestort. Naby hierdie 'waterval' sit ek en lees uit ‘n bloemlesing deur DF Malherbe.  Ek lees almal se rolle en maak 'byklanke' met skeppe water. Dis eintlik ook agtergrondmusiek vir byvoorbeeld Malherbe se Koringboere."

Verdere studie en werk

Ná skool gaan verrig Danie nege maande militêre diens op Oudtshoorn en Grahamstad (waaroor hy nog moet skryf). In die kapelaanskantoor op Grahamstad het hy nog van sy Kerkbode-stories geskryf. Ná sy militêre diens gaan werk hy as toesighouer by die sagtevrugte-fabriek op Worcester.

In Februarie 1966 begin hy werk in die Sentrale Naslaanafdeling van die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens in Kaapstad. Vanaf 1967 tot 1970 studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch en behaal sy BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Gedurende hierdie tyd bly hy steeds in diens van die Biblioteekdiens en werk vakansietye daar, terwyl hy jaarliks studieverlof neem.

Op grond van sy gedigte wat hy gedurende dié tyd geskryf het, en nie as gevolg van akademiese prestasies nie (sy eie woorde!), word hy lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium en dien hy in die redaksie van Die Matie as deel van die kunsredaksie saam met mense soos Fanie Olivier en Etienne Britz. Hy stig in 1970 saam met Fanie Olivier die letterkundige blad Penseel. Hy vertaal en verwerk Bernard Gilbert se Eldorado vir die radio; dit word op 4 Oktober 1967 uitgesaai met Wena Naudé in die hoofrol en Roelf Jacobs as regisseur.

Danie vertel dat hy as “ou man” op universiteit aangekom het in die koshuis Helderberg as gevolg van sy diensplig en die jaar se werk in “die bose stad” by die Biblioteekdiens. “Ek was steeds baie introvert, ernstig, godsdienstig. Maar veral vanaf my tweede jaar (1968) het ek in ’n mate meer ontspanne geraak, met my redakteurskap van die koshuiskoerant Die Bergkuiken (elke jaar moes die eerstejaars deelneem aan ’n militaristiese seremonie wanneer ek die eerste uitgawe van die jaar aan die inwonende hoof en die primarius oorhandig het), Burger-aflewering in die kamers soggends (o, wat moes ek nie soms aanskou en ruik nie!), kunsredaksielid van Die Matie, ensovoorts.Saam met Jan Ungerer (nou dominee op Worcester) stemmige agtergrondsmusiek opgestel vir die Sondagmiddagete, en toe sluit ons in ’n manskoshuis so waar The Sound of Music in. ’n Gekreun, dan luide protes.”

Vir die eerste keer in sy lewe het Danie ware geesgenote gevind onder die tokkelokke (hy was egter skaam om vir hulle te wys dat hy die klankbaan van The Graduate gekoop het met die omslag waarop Miesies Robinson so been wys vir die belustigde Dustin Hoffman), die dramastudente en mede-Afrikaans-Nederlandsers en Bybelkundiges. “Dit was die tyd dat ek waagmoedig was om DJ Opperman se Edms Bpk, wat so pas verskyn het, te resenseer in Die Matie … Hy stap verby ’n seminaarkamer waar ek sit en wag vir klas, draai om en sê: ‘Baie dankie vir die bespreking.’ Ek het dit nie as sarkasties ervaar nie.

“Dit was ’n tyd van agnostiese gedagtes. Van alleen sit in die donker in die gemeenskapsaal by die platespeler en luister na Gluck se ‘Reis van die Geluksalige Siele’, opkyk na die sterre deur die venster en wonder oor selfmoord. Tydens die wintervakansie in die Kaap het ek ’n homoseksuele ervaring met ’n ouer man gehad. Terug op Stellenbosch het dit tot erotiese onrus én verdere seksuele avonture gelei. In my klerekas was daar ’n voorraad Modern Adonisse wat handig was die naweke as ou kamermaat Daan Wium huis toe is, of as ek laatnag verskuil was agter ’n boekrak langs my bed. In my derdejaar ‘pomp’ ek vir ‘huiskom’. Die dag van die verkiesing besef ek dat die eerste ding wat die manne doen wanneer jy inkom, is om jou klerekas te kom omkeer. Hulle sou wéét. Ek het my hulpmiddels na die vullisdromme agter die wasgoedtannies se kamers geneem en dit daarin verbrand. Ek is nie verkies nie.”

Vanaf 1971 tot Junie 1972 is Danie voltyds Afrikaanse boeke-keurder vir die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens en dien hy ook in die redaksie van Die Kaapse Bibliotekaris, die Biblioteekdiens se kwartaallikse (toe maandelikse) mondstuk. Hy skryf gereeld artikels oor Afrikaanse skrywers, onder andere Berta Smit, Alba Bouwer en Audrey Blignault, en dít besorg aan hom die pos van redakteur: fiksie by Tafelberg-Uitgewers in Augustus 1972.

Gedurende die jare 1972 tot 1986 is Danie baie aktief by die NG Kerk betrokke. Hy gee katkisasie sedert sy aanneming, is bestuurslid van die KJV/KJA by die Groote Kerk, en redakteur van die vereniging se Die Blaadjie. Hy is ook diaken en later ouderling. Hy woon as alleenlopende in Kaapstad in 1966 en toe weer van 1971 tot Desember 2006 toe hy hom in Fontaine Bleau-aftree-oord in Welgelegen, Parow gevestig het. (Uitgehaal dat hy lid van die Akademie geword het)

Danie is in Augustus 1972 aangestel as redakteur by Tafelberg-Uitgewers. Enkele jare was hy ook redakteur van kinder- en jeugboeke. Dit het ’n soort spesialisasie geverg wat uitdagings gebied het. Sedert die 1980’s is hy terug by fiksie en word hy senior redakteur aldaar. Tot sy aftrede in Maart 2000 het hy as fiksieredakteur alle genres van die letterkunde hanteer en gespesialiseer in literêre kritiek, skrywersbiografieë, bloemlesings, dramas, kortkuns en gayliteratuur. Ná sy aftrede was hy nog by Tafelberg betrokke en het hy onder andere boeke vir Homeros, die afdeling vir gay skrywers, hanteer.

Danie vertel as volg aan LitNet oor sy jare as redakteur by Tafelberg-Uitgewers: “Ek het die werk van ’n boekeredakteur onder Berta Smit geleer. Sy het diplomasie, hoflikheid en lojaliteit by my ingeskerp. Hoe jy die vertroue van ’n skrywer moet verdien en dit behou. By haar erns en Christenskap het ek aansluiting gevind, wil byna sê dat ek iets van my ma by haar teruggevind het. Met verloop van tyd het ek tog maar soms krities teenoor haar geraak. Ek glo sy was absoluut die regte persoon op die regte plek op die regte tyd. Daar was aanslae van sensuur en sy het met skryfleiding en redigering dit help voorkom. Sy sou vyfuur in die oggend opstaan om ’n verdediging van Hennie Aucamp se Wolwedans op te stel sodat ons hoofbestuurder JD Pretorius iets het om die hoër gesag se aanklagte te besweer. Ná ’n middagete met genoeg wyn sou sy vir ons versamelde redakteurs eers Shakespeare opsê.

“Van die aangenaamste tye as fiksieredakteur het ek saam met Charles Fryer onder George Louw beleef. George - geordend, menslik. Hy het vir Tafelberg ’n groot guns bewys toe hy, met sy ervaring as verhaleredakteur by Die Huisgenoot, vir Ena Murray begin uitgee het. Dit was die begin van ’n suksesgeskiedenis wat tot vandag toe voortduur, selfs noudat Ena oorlede is. Hy het as afgetredene nog met haar gewerk. Dit was vir my ook baie bevredigend om haar romans te redigeer. Sy het die boeiendheid in haar verhale wat ’n mens dan met jou redigering net helderder maak. Met George se reputasie as digter en dramaturg het hy ook die vertroue van die skrywers gehad. Ek het eenkeer met die Akademiespelers ’n spellesing gedoen van sy onopgevoerde drama Komete – ’n gesinsdrama met dramatiese ironie wat nie maklik elders so lank volgehou word nie. Vandat ek in Panorama-Welgelegen woon, naby hom en Dorette, is ons huisvriende.

“Die langste het ek onder Charles Fryer as afdelingshoof gewerk. Hy en sy vrou, Loreinne, en hulle kinders en kleinkinders is ’n begrip in my lewe: die Fryers. Deur die jare het hulle my baie hulp gegee om praktiese dinge in my lewe reg te kry. Ek en Charles ken mekaar sedert 1967 toe ek as eerstejaar reg langs hom as senior aan die Helderbergse koshuisetenstafel moes sit. Hy was die agbare assistent van DJ Opperman, ’n vertrouensposisie wat hy in sy Tafelbergjare volgehou het. By Tafelberg het ek en hy tonne sakke sout verorber, koppe gestamp. Ons letterkundige smaak en oordeel het egter dikwels ooreengestem. Hy het my ook geleer om meer waagsaam te wees, meer ‘hekke oop te maak’. Dit het hý gedoen toe hy Die Soft Rock Klub geredigeer het, soms berooid in my deur met ’n vraag kom staan het. Hy het die vermoë gehad om my as Gato (die kat in Pinokkio) se siel uit te trek. (Ek en hy was berug daarvoor om byname te gee. Met sy kennis van films het hy my tot Orson Welles en Marlon Brando gedoop.) Hy kon vanoggend agtuur met ’n grappie begin en teen die aand nog steeds voortborduur. Ons het ’n liefde vir die toneel (hy had opleiding onder Fred Engelen) gedeel en was saam op die Fleur du Cap-toneelpryspaneel.

“Petra Grütter (Müller) het met haar keuring en skryfleiding baie manuskripte reggekry voordat ons met die stiplees kon begin. Ek sal nooit vergeet hoe sy die slot van Etienne van Heerden se Toorberg met die uiterste oordeelkundigheid so ’n letterkundige hoogtepunt gemaak het. Ek kon met vertroue verder werk. Ai, haar stories, haar Boeregrappe wat reguit na my dagboek gegaan het. Toe dit in 1985 nag vir my siel geword het weens uitbranding het sy my in my depressie ondersteun. ‘Erken dat dit nou sleg met jou gaan, onthou hoe wonderlik dit vroeër was, en weet dat dit weer so sal word.’

“Met Louise Steyn (innoverende hoof van kinder- en jeugboeke) het ek ook ’n lang pad saamgekom. Ai, die vrou wat my so kon dwing tot noukeurige denke en veral volledige formulerings van my gedagtes. Ons het saam by Fiksie gewerk en nadat sy afgetree het en vryskut-taalpraktisyn was, het ons mekaar gereeld gekonsulteer. Dikwels was sy al chauffeur-cum-metgesel vir my na die teater.

“Die jare sewentig en tagtig sal vir my die Goue Jare van Tafelberg-Uitgewers bly – die ‘regeringstyd’ van die ‘verligte despoot’ en groot kultuurmens, Danie van Niekerk.

“Toe ek in 2000 met vervroegde aftrede gegaan het, het hoofbestuurder Hannes van Zyl belowe dat Tafelberg nie bande met my sal verbreek nie. Hulle en Human & Rousseau het my konstant besig gehou met projekte; soms het dit amper te veel geraak! Die een wat my die meeste werk gegee het, is Riana Barnard (alias Sussie). Ons twee het deur twee uitgawes van Groot Verseboek geswoeg; teen halftien in die aand hou dié slim entjie mens nog steeds kop! Sy het my twee versamelbundels laat saamstel: PH Nortje se Op ’n hoë noot en Fanus Rautenbach se Tien uit tien. Sy het ’n paar maal as ‘mevrou Botha’ by funksies opgedaag! By Human & Rousseau het Alida Potgieter en Janita Holtzhausen vir my keuring en redigering gegee. Janita het geweet ek hou daarvan om met bundels humorverhale te werk. Van Nico Nel en Uys van der Hoven, Piet Swanepoel en Sarel Pieterse wat helaas oorlede is voor sy debuut met Boerumoer.

“Ek diskrimineer nou teen talle kollegas wat ek nie hier dek nie. (Ag, julle weet wat ek bedoel!) Daar’s Maja van Zyl, Ettie Williams, Frederik de Jager, Madaleine du Plessis, Gerda Pretorius, Jürgen Fomm, Johan Steyn, Anton Swanepoel, Klaas Steytler, Lenie Coetzee, Tonie Roux, Erne Potgieter, Anna Jonker, Denise Ohlsen, Jana Luther, Vinkie Hofmeyr, Linda Vicquery, Bobby Fourie, Nonna Weideman, Annari van der Merwe, Hugo Truter, en heelwat ander.

“En ek kan helaas ook nie verwys na al die skrywers en administratiewe dames en here met wie ek saam gewerk het nie.

“Ek is trots op die debuterendes wat ek vir Tafelberg hanteer het. Daar’s dié waarvan ek net ’n eerste boek geredigeer het: Deon Meyer, Koos Prinsloo, Charl-Pierre Naudé, Charles J Fourie, Ronel de Goede, Emile Joubert. Van ander het ek meer hanteer: François Bloemhof, Elias P Nel, François Loots, Deon Opperman, Zuretha Roos, Robert Young, Wium van Zyl, Alsoon Wessels, Annemarie Coetzer, Elza Rademeyer, Leon van Nierop, Marlee Tesselaar, Mariël le Roux, ensovoorts.

“Ek het met verskeie van JC Kannemeyer se skrywersbiografieë gewerk. Dit was dan ook geestesverrykende ervarings om voor of ná die boek se verskyning op sy en Wium van Zyl se literêre toer na die betrokke skrywer se wêreld te gaan. Heerlik om net agteroor te sit en te luister hoe ‘oom Joon’ (ek is ‘Kommandant’ en Wium ‘Troep’) sy geweldige hoeveelheid kultuurhistoriese en ander inligting oordra. Om nie te praat van die toepaslike musiek wat gespeel word en al die ‘gastronomiese’ (John se geliefkoosde woord) vreugdes op pad nie. Twee keer het John ons ook na die Lae Lande geneem. Deur John het ek op plekke gekom waar ek as iemand wat nie motor bestuur nie, nooit sou kom nie. My samewerking met prof Kannemeyer het begin met sy samestelling van C Louis Leipoldt se versamelde poësie. Toe ek my oorgehaal vir die redigering verklaar, laat hy my dadelik verstaan daar word nie aan Leipoldt gesub nie!? Hy het dan juis al soveel aantekeninge oor byvoorbeeld al die variante gelewer. John het my ’n keer of wat probeer werf as navorsingsassistent, iets wat ek enorm graag sou wou doen, maar om dit met my Tafelberg-werk te kombineer, was ’n onmoontlikheid.

“Vir JC Steyn het ek eers gehelp met die geskiedskrywing oor Tafelberg-Uitgewers, en toe was daar Van Wyk Louw deel 1 en 2 (nadat ek vroeër met Louw se versamelde prosa en poësie gewerk het)Daar is nogal druk van uitgewerskant op my geplaas om die redigering gou klaar te kry, maar dit was sulke intrigerende stof, prof Jaap se werk so goed dat ek dit nie as stresvol ervaar het nie. Toe ek een aand laat van die kantoor is ná redigering van ’n gedeelte oor die aard van poësie, is ek in Kerkstraat aangerand en beroof deur jong seuns in vaalgeel klere. Hennie Aucamp het my essay daaroor in Die Kerkbode (‘Stilhouplek’) hoog aangeslaan. Ek was ook bevoorreg om Jaap se MER-biografie en sy outobiografie Sonkyker te hanteer. Dis nog een van die genoeglikhede van Bloemfontein (naas werkery in NALN – sien later): ’n kuier saam met Jaap. Ons het ontdek dat ons ’n bewondering vir die Nederlandse en Belgiese televisie deel, veral ’n Gentse polisiereeks, Flikken. Met biografiese werk skep ek ’n aartsbehae daarin om elke liewe aanhaling te kontroleer. Doen dit ook in ander genres.

“Hennie Aucamp. Eers was hy Berta Smit en Charles Fryer se skrywer, maar vanaf Papawerwyn het ons baie, baie saamgewerk: bloemlesings, dagboeke, kortkuns, gedigte, literêre teorie, artikels vir Gay@LitNet. Hy is ook ’n onverdrote aanmoediger. Maak voorstelle vir boeke. Hy wil hê ek moet dié boek oor Worcester skryf, het al ’n bandontwerp daarvoor uitgekies. By hom kry ek die regte uitspraak van name en ander woorde. ’n Ensiklopedie van kuns en kultuur. ’n Boekesteet.

“Met PH Nortje se jeugverhale uit die Baviaanskloof het ek grootgeword. Ek kon as plaasseun my daarmee vereenselwig. Vir die eerste keer lees ek stories wat die plaaslewe uitbeeld soos ek dit ervaar: as nie heeltemal so romanties en wonderlik nie. Van my eerste boeke wat ek by Tafelberg geredigeer het was sy bundels humorsketse, en dit het ’n instelling geword. Ek het al sy werk vir volwassenes hanteer, en redakteurs soos Louise Steyn en Suzette Kotze-Myburgh sy jeugboeke. Eintlik is ons ervaringswêrelde baie verskillend. Hy is die gesins- en onderwysman. Ek kon as enkelloper huislikheid vind in sy vertellings, en sy behoudende waardesisteem bewonder. Toe Die Soft Rock Klub verskyn, het hy in enkele woorde laat verstaan hy aanvaar my gayheid. Dit het baie vir my beteken. Dit was vir my aangenaam om reeds twee keurbundels uit sy werk saam te stel.

“Engela Linde/Van Rooyen. Die laaste roman waarmee ons saamgewerk het en wat ek hoog aanslaan, was Vuur op die horison. Daar was talle ander. Dit was ook ’n voorreg om mee te werk aan die outobiografiese Met ’n eie siekspens. Sy is deur al die jare baie meelewend. Ek sal haar reaksie kry op my radiowerk, op ’n publikasie. Die toppunt was toe ek destyds in die Kerkbode-rubriek beskryf het hoe ’n seuntjie in die World of Birds by Houtbaai vrede had met die uile, maar eerder besorg was oor die psoriase op my elmboog; nie te lank nie, of ek kry ’n teer-middel in die pos van Engela. Haar kleindogter verjaar saam met my; dit laat oom Danie gelukwense met ’n familie hadidas stuur.

“Riana Scheepers het by ’n lemoenboom voor haar Seepuntse huis terstond besluit ek sal haar redakteur word. Van Dulle Griet tot haar verwerkte verhandeling oor Koos Prinsloo, ensovoorts. (Haar seun was by my in die katkisasieklas. As Adriaan Meyer maak hy jare later toe vir my en vir haar onder ons eie name karakters in sy bekroonde drama Prinsloo Versus.) In ’n stadium was ons kollegas by Tafelberg. In die tyd toe sy en Daniel Hugo nog ‘Abelard’ en ‘Héloïse’ was, neem hulle my saam op my allereerste oorsese reis: na die Lae Lande. Om haar bekroning met die Eugène Marais-prys te kon bywoon, koop ek my eerste aandpak. As sy sê ons gaan haar boek in Natal bekendstel, dan pák ek my tas; sê nie nee nie. Sien dan vir die eerste keer Durban én haar ma se feetjiestuin in Pietermaritzburg. Stormagtige tye met haar beleef, maar ook soveel weldadige menslikheid.

“My en Daniel Hugo se samewerking het lag-lag begin. ’n Dag lank het ons deur sy keuse vir Speelse Verse gewerk en net dié deurgelaat waarvoor ons ten minste ’n grinnik kon oproep. Daarna sou digbundels volg. Ai, hy was ’n vriend vir my gewees daar in ons jonger jare. Wat van die aande by André le Roux-hulle as hy skielik buitekant teen Schotschekloof ’n huilroep uit sou stuur? Met hom het ek leer kroeë besoek (en redelik vinnig afgeleer). As hy op ’n dag verveeld raak by die Seepuntse radiostasie, bel hy en moet ek hom eers vermaak met my geselskap. En altyd, dan en wanneer ons soms die pad vat êrens heen, het ek getwyfel of ek werklik sinvol met hom kan saampraat. Hy het my kanse gegee vir radio-onderhoude met skrywers. Dis ’n ou wie se vriendskap ek deesdae kwaai mis.

“Ek was bevoorreg om met Koos Prinsloo se debuut te werk. Ná Jonkmanskas was saamwerk weens allerlei omstandighede nie weer moontlik nie, maar ons het kontak behou. Hy had waardering vir my briewe. Ander s’n kom so uitgeknip voor vir nog ’n artikel in Tydskrif vir Letterkunde, maar myne was op hóm toegespits, het hy geskryf. Hy het my allereerste gayverhaal, ‘Jasper’, in Stet geplaas. Ek sou die laaste radio-onderhoud met hom voer. Sy Slagplaas het my baie ontstem. Ek onthou hoe ek sommer net laatmiddag die strate ingevaar het en gehoop het ’n seksuele kontak besweer my deurmekaarheid. Dit was tevergeefs. In Adriaan Meyer se drama vertel ek van hoe ek en Koos op ’n weeïge dag van wind in ’n Johannesburge restaurant sit en tob het oor ons wanverhoudings met ons pa’s. En meteens word ons bewus ons word omring met ballonne en vrolike gesinnetjies, want dis Vadersdag.

“’n Paar jaar lank was Ina Rousseau my buurvrou oorkant die straat. Vanaf my balkon kon ek afkyk op haar agterplaas en haar daar sien, besig met haar ‘asvaal’ takies. Ek was net die redakteur van haar (enigste) bundel kortverhale, Soutsjokolade, en van ’n vertaalde kinderboek. Het ’n groot bewondering vir haar poësie. Ons het hoofsaaklik oor die telefoon gekuier, ook later toe ek weggetrek het in 1994; Sondagmiddae het ek wel haar oë en gryse hare bo die tuinmuur gesien wanneer ek die naweek se koerante vir haar neem. Sy had die gewoonte om vinnig deur ’n koerant te kyk en dit dan op die stapel te sit vir latere sorgvuldiger lees. Daarom het ek nie ’n onmiddellike reaksie op my joernalistiek verwag nie, maar as dit dae later gekom het, was dit gewoonlik gul en bemoedigend. Deur my resensies het sy glo teater toe gegaan. (Ander digters wat waardering vir my toneelresensies gegee het, was Merwe Scholtz en MM Walters.)

“In my vryskutjare het ek al ure en maande bestee aan die werk van Annelie Botes. Die jongste Thula-thula en die outobiografiese Tabernakel. O, kan die suster dramaties en emosioneeeeel raak! Dan kry ek dit reg om haar tot besinning te bring en aanvaar sy my voorstelle. Ons hanteer mekaar met vertroue en kan ons ook oorgee aan jillery soos blyk uit ons name vir mekaar. Sy noem haarself Bassontjie, Moeder van Gertruida, Die klein Olifantjie, Lietjie wat spot met die oom en aspris in 20 pt tik ter wille van sy swak oë, Ossewania of Skinderbek van die Baai. Sy noem vir my Madala, Ouderling, Oupoot, Chuck Botha, Oom Dén, wyse man van tale, Mister Diebie. Ek noem haar Liefste Annalieee, Doggie, Godekindjie of Annelietjie. Soms is ons AB en DB.

“My jongste witbroodjie is Mariël le Roux. Sy en haar man, Jean, wat lank op Hermanus gewoon het en tans naby Durbanville, het in dieselfde jare as ek op Worcester grootgeword. Haar eerste boek, Wilhelmina, kampkind op Java, wat ek vir Protea Boekhuis geredigeer het, was vir my die openbarende verhaal oor ’n buurtannie uit my jeugjare in die Brandwachtvallei. Ons het geweet sy’s van Nederland, maar nie dat sy in ’n Javaanse krygsgevangenekamp haar jeug deurgebring het nie. Met Mariël se tweede, Die naamlose (bekroon), is ons ook op Worcester en op plase aan die suidekant van die dorp langs die Breërivier. Ná al die jare lees ek steeds met bewondering hoe kreatief ’n skrywer reageer op die redakteur se vrae oor ’n onduidelikheid, ’n logika- of konsekwentheidsfout, ’n lomp sinskonstruksie, ensovoorts. Jy as redakteur maak dikwels ’n voorstel, maar joune is net nie so sprekend en prikkelend soos die skrywer se verandering nie. Mariël sal byvoorbeeld ook deur die hele manuskrip werk en soortgelyke helder wysigings aanbring.” 

In 1981 word Danie se kinderboek Uil in die pad gepubliseer. Die hoofkarakter, Jako, is nie eintlik ’n bang seun nie. Hy hou daarvan om alleen in die bos en by die dam te speel. "Maar die skrik vir die uil dié dag was só groot dat hy nooit weer in daardie Engelse boek na die uilprent wou blaai nie. En as hy alleen deur die bloekombos stap, loop hy stadig en kyk stip, want as hy net betyds die uil kon sien, sou dit miskien nie so erg wees nie," skryf Reinette de Villiers vir Skrywers en boeke.

“Die Uil in die pad is ’n verhaal van ’n seuntjie wat sy vrees vir ’n uil moet verwerk. Danie Botha maak sy debuut met hierdie fraai verhaal waarin hy ’n sensitiewe beskrywing gee van die kindergemoed. Die verhaal word deurgaans vanuit die kind se perspektief vertel en nooit word die verteller een of ander alwetende allesverstanende grootmens nie. Ons sien die grootmense soos Jako hulle sien – Mamma met haar veilige voorskoot en Oupa, die kierieman, wat net drie maal op die vloer tok om Ouma, die kleremaakster koffiemaakster te laat word. Jako se vrees vir die uil word as ’t ware verteenwoordigend van elke mens se persoonlike vrees of probleem, iets wat hy net moet verwerk.”

Vir Joan Kruger (Transvaler, 15 Februarie 1982) is dit ’n sensitiewe juweel van ’n verhaal "met sy suiwer uitbeelding van stemming en gevoel en mooi illustrasies". Jeanne Goosen (Hoofstad, 10 Mei 1982) het sekere voorbehoude gehad, maar die skeppende taal en "sobere" manier van vertel is baie goed. En omdat die storie die leser laat nadink, maak dit Uil in die pad ’n boek met verdienste. Ook skakel Alida Bothma se illustrasies baie mooi by die verhaal in

Oor Homeros laat Danie hom as volg uit: “Teen 1998–1999 was die gonswoord ter wille van finansiële oorlewing ‘nis-bemarking’ by Tafelberg. Ek het op ’n middag ’n helder inspirasiebeeld gekry oor ’n afdeling vir gays in alle, alle genres. Maar van die begin af is ek helaas gewaarsku om versigtig en min uit te gee; dit moet ‘onder die kombers’ gebeur uit vrees vir teenstand van die hetero’s. En toe van die grootste boekhandelgroepe die gayboeke te gevaarlik beskou vir hulle gesinsgeoriënteerde boekwinkels, was die gevaartekens dadelik daar. Omdat daar nie ’n verskeidenheid genres gepubliseer is nie, is daar byvoorbeeld hoë literêre waardes van elke publikasie verwag wat onregverdig was. Later het ek ook met vervroegde aftrede gegaan omdat daar naas redakteur wees, ook verwag is dat ek buite my aanleg moes gaan en finansiële bestuur moes doen. Die afdeling het toe doodgeloop.”

Danie het nog altyd ’n besondere belangstelling in die toneel gehad en hy speel toneel vanaf 1972 tot 1973 vir die Groote Kerk KJA (As ons twee eers getroud is, Gerhard J Beukes) en die Teubes Prinsloo-toneelgeselskap (Ai tog, die vroumense!, Joan Retief). In 1976 verwerf hy ’n lisensiaat in voordrag en dramakuns aan die Akademie van Dramakuns (ADK) in Kaapstad, en is ook dosent daar tot 1986.

In dié tyd is hy sameroeper van die afdeling vir senior voordrag by die Kaapse Eisteddfod. As ADK-student is hy Cordenbois in Die geldpot (Eugène Labiche; vertaler Chris Lombard) en generaal Alonso in Dagboek van ’n soldaat (NP Van Wyk Louw) vir die Universiteit van Kaapstad se onderwysdepartementVir BAT is hy die Pottebakker in Montserrat (Emmanuel Roblés; vertaler Bartho Smit, 1977).

As stigterslid, voorsitter en speler van die intussen heengegane toneelgroep die Akademiespelers was hy betrokke by talle produksies in Die Kamer en op toer vanaf 1978 tot 1986. Daar was kinderproduksies soos Die kat kom weer (Truida Louw; die Koning, 1978), Lappies die Lappiesmous (Aad Greidanus; vertaler Wilma Stockenström; Alfons de Dikkerd, 1981) en Oom Dinges se poppewinkel (Conrad Seiler; vertaler Roy Niemann; Oom Dinges, 1982). Stukke vir volwassenes sluit in Moord! Moord! (Kenneth Lillington; vertaler Pieter Grobbelaar; Charles Popham, 1978), Ons hou konsert (Melt Brink en Robert Mohr; die dominee, 1982); hy skryf die skets Kantoormoles vir Gerard Scholtz se kabaret Laat ons nie praat nie (Oktober 1982), Eskoriaal (Michel de Ghelderode; vertaler André P Brink; die Koning),Mariken van Nijmegen (vertaler Rob Antonissen; die Pous), Karnaval ( Pieter-Dirk Uys; Boytjie, 1983), Doflig  (Patrick Hamilton; vertaler Marie de Kock; speurder Rough, 1983), Graf vir ’n graaf (Esta Steyn; Majoor, 1983), Bitter lied van die somer (Dick Findlay; sersant Piet Venter, 1984), T in die Blou Kamer (Mikro, Bensen, 1985) en Ek onthou vir Mamma (John van Druten; vertaler Fred le Roux; oom Chris, 1990).

Vir BAT was hy regisseur van Graf vir ’n graaf (Esta Steyn, 1986), Die lawwe lyk (Esta Steyn, 1987) en Die spook van Verlatenfontein (FW Boonzaier; musiek en lirieke François Bloemhof, 1992). Vir PAT: Ons dorp (Thorton Wilder; vertaler Fred le Roux, 1987) en Voëlvry (verkort; DJ Opperman, 1988). Vir die Akademiespelers: Die verminktes (Bartho Smit, 1980), Liebelei (Arthur Schnitzler; vertaler Karel Schoeman, 1986) en Komete (George Louw, 1986).

In 1975 is hy Faan in die eerste opvoering van Wilma Stockenström se Die laaste middagmaal onder Limpie Basson se regie in die Buiteruimte.

As radiospeler was Danie Botha vanaf 1977 byvoorbeeld huilende skurke in Springbokradio-vervolgverhale, bedremmelde mannetjies in Suzanne van Wijk se radioteaters, of ’n komiese gesinsman in Die ABC van buurmanskap vir Pierre Louw. Hy voer onderhoude met skrywers vir Daniel Hugo en Nic Swanepoel se programme en doen die volgende radioverwerkings: Eldorado (Bernard Gilbert, 1966), My spook-ontmoeting op die En-See-See (CJ Langenhoven, 1998) en Om ’n man te koop, Die harde klippe, Jy ken nie vir Pa nie en Die Woensdagmiddag van mevrou Retief (Dalene Matthee, 2009) vir Radioteater.

In 1998 het hy weer in radiohoorspele begin optree, tot 2006. In 2007, 2009 en 2010 is hy ’n beoordelaar van die Sanlam/rsg-hoorspelwedstryd. In 2009 en 2010 stel hy drie Vers en klank-programme op en bied dit aan vir rsg (Margot Luyt). Vanaf Maart 2002 is hy een van die aanbieders van die kultuurprogram Kaapse Dagboek op Fine Music Radio in Kaapstad en bevorder hy Afrikaanse teater en musiek daarin.

Kerneels Breytenbach vra Danie in 1986 om toneelresensies vir Die Burger te skryf en hy doen dit aanvanklik as Christo Behrens weens sy verbintenis met die Akademiespelers, totdat ’n kunsbladredakteur sy regte naam per abuis gebruik het en hy teen daardie tyd uit die vereniging bedank het. Sy spesialiteit was studente- en amateurwerk.

Danie geniet veral die navorsing; die voortdurende uitdaging om die opvoering helder te beskryf – alles wat gebeur as vorm van geskiedskrywing, en om dit binne 500 woorde te doen.

Hy skryf ook boekbesprekings (hoofsaaklik van toneelboeke), artikels oor skrywers, en huldigings van akteurs, kollegas en skrywers. Dit was ook iets wat hy werklik geniet het, byvoorbeeld van PH Nortje, Minnie Postma, Berta Smit, Barrie Hough, Jill Fletcher, Albert Lintveldt, Louise Steyn en talle ander. Hy lewer ook in die openbaar huldigings oor Hennie Aucamp, Marzanne le Roux van der Boon, Pieter Fourie en ander.

Danie was ook lid van die beoordelaarspaneel vir die Fleur du Cap-toneelpryse van Distell van 1987 tot Februarie 2008, en in 2004 ontvang hy erelidmaatskap van die Masque-teater in Muizenberg vir bevordering van amateurtoneel.

Later in 20017 lewer Danie wel nog boekresensies vir die boekeblad en huldigings van skrywers (in lewe en nadoods). Vroeër het hy ook verskeie akteurs nadoods gehuldig. Gelukkig het die Fleur du Cap se teaterwebruimte sy Burger-resensies gebruik en van toe af het hy groot skeppende vryheid ervaar om spesiaal net vir hulle te skryf waaroor en hoe lank hy wil.

Op LitNet vertel Danie oor sy eerste “persoonlike ontmoeting” met ’n toneelspeler, die eerste maal dat hy aan een se hand geraak het: “[Dit] was met die NTO se Jeuggroep se Wie de drommel is Paskwaal? in die Paul Biesenbach-saal op Worcester in 1962. Mense soos Cobus Rossouw, Jannie Gildenhuys, Leonora Nel, Ernst Eloff, Roelf Laubscher, Irene Durr en Damaris Loubser het toe al ons voorgeskrewe werk tot lewe gebring met ’n tafel en stoele en mimiek. Maar nou het hulle ons volledig bekendgestel aan die magiese van die teater met ’n vollengte-stuk. Kort voor pouse laat hulle vanuit die kantverhoog papierborde reën op die verhoog. Een het afgevlieg tot vlak voor my waar ek as adolessent in die heel voorste ry sit.

“Tydens die pouse bly ek sit. Ek is alleen daar, sonder ouer of vriend. Toe verskyn hy om die gordyn wat oopgebly het, loer na ons en glimlag met ons. Ek herken hom as die man wat op die reklamefoto’s so met sy héle gesig lág dat die oë klein word: Limpie Basson.

“Hy begin die borde op die verhoog optel. Gespanne sit ek. Sal ek ... sal ek die bord optel, die paar treë vorentoe stap en dit vir hom aangee? Ek weifel en weifel. Uiteindelik dóén ek dit. En die godewese van die teater neem dit by my, glimlag, en die ene tande sê hy: ‘Dankieee!’ Kon ek maar die fensie aksent en hartlikheid weergee!”

In 1995 word Danie se bundel gay-verhale Die Soft Rock Klub by Tafelberg gepubliseer. In ’n onderhoud met Rachelle Greeff in De Kat (Augustus 1995) skryf sy dat ’n leser wat begrip het vir homoseksuele mans se ewige en eensame soeke na vervulling, deernis sal hê met die skrywer. "Die vernedering, hoon en verwerping wat dié mans ervaar, word ontsettend nugter aangebied. Maar dit kan die sensitiewe leser walg, veral as jy nie ’n aanvoeling het vir ’n naakte register van manlike geslagsdele nie.

Danie het vermoed dat hy kritiek gaan kry uit die geledere van die NG Kerk, wat homoseksualiteit in daardie jare steeds verdoem het. Rachelle wou weet hoe hy hierop sal reageer as godsdienstige gelowige en Sondagskoolonderwyser aan die een kant en as nuwelingskrywer wat strewe na ’n eerlike, oortuigende teks aan die ander kant.

“Ek weet nie, ek weet nie wat my gaan tref nie. Ek is gewaarsku, maar kon tog nie stilbly nie. Ek wil aanvaar word soos almal om my, en omdat die gay nog in ’n groot mate onderdruk word, is daar ’n drang om oop te maak. Byna om ekshibisionisties te wees. Ek ly seker aan emosionele armoede, maar ek was so eerlik omdat ek nie van beter weet nie. En omdat ek nog nooit in ’n vaste verhouding was nie, is ek in ’n mate roekeloos.”

In daardie jare is Danie onverpoos ’n lojale lidmaat van die NG Kerk. By die Groote Kerk in Kaapstad was hy tot 1994 Sondagskoolonderwyser, diaken en ouderling. Daarna het hy standerd sessies gekatkiseer by die NG Kerk Tamboerskloof. “Ek is baie lief vir kinders en sou graag my eie wou gehad het. Ek gee al Sondagskool van standerd nege af en gebruik baie van my toneelondervinding in die klasgee-situasie. Dis steeds vir my fassinerend – dis soms al band wat jou aan jou geloof laat vasklou.

“Maar gelukkig is ek nie seksueel tot kinders aangetrokke nie. Ek probeer by kinders bloot ’n begrip tuisbring van homoseksualiteit. Ek sal byvoorbeeld ’n verheerlikende les gee oor die huwelik tussen man en vrou op die mees entoesiastiese manier en dan vir die kinders suggereer dat hulle nie moet spot of lag indien hulle met gays te doen kry nie. Hulle moet weet ’n homoseksueel kan gelowig wees. Die NG Kerk sê hy verwerp nie die mens nie, maar veroordeel die dade. En dis natuurlik onsin.”

Op grond van die artikel het die kerkraad hom namens verontruste ouers gevra om uit te tree.

Die boektitel Die Soft Rock Klub verwys na ’n Kaapse “draadtrekklub” waarvan hy die stigterslid was en hy skryf uit eie ervaring, vertel Danie aan Rachelle Greeff. “My boek is gerig op medegays, hoewel dit ook nie betrekking het op alle gay-belewenisse nie. Ek dink ek gee stem aan die middeljarige, Afrikaanse en juis Calvinistiese ou. Dis nie my bedoeling om mense op te sweep nie, hoewel sekere mense dit eroties prikkelend sal vind. Ander sal weer geskok wees. Baie mense kan homoseksualiteit met hul verstand beleef, maar sodra hul in direkte aanraking daarmee kom, dan kom hulle fobies uit. Dis ’n kant van die lewe waarvan die gemiddelde gelowige verkies om nie te weet nie.

“Ek wil sê: ‘Só is dit om gay te wees.’ Ek wil vra: ‘Kan ’n gay werklikwaar volkome gelukkig wees?’ En: ‘Wat maak hom anders?’ Ek wil vertel van die spanning in ’n mens om iets te wil doen, maar dit word op allerlei moreel-etiese gronde veroordeel.”

Hoe kon hy getrou bly aan ’n kerk wat ’n deel van sy menswees verwerp? Hy het byvoorbeeld ’n openhartige, pleitende artikel vir Die Kerkbode geskryf oor homoseksualiteit, ook soos beoefen binne kerkverband. Dié artikel is nie gebruik nie – net ’n swye het gevolg. “Al die wisselende uitsprake deur die eeue heen oor die aard van so ’n ‘alternatiewe’ lewenshouding, al die spannings by die gelowige homoseksueel – dui dit nie daarop dat homoseksualiteit ’n deel van God se raadsplan is wat ons nie verstaan nie? Ek dink dat ’n gelowige gay dit graag sal wil glo: dat God hom tog op een of ander manier anders beskou as wat die menslike Bybeluitleg dit wil hê.”

Die Soft Rock Klub verwys nêrens na vigs nie en dis nie dat Danie ongevoelig is daarteenoor nie; dis net dat hy geen ervaring daarvan het nie. Rachelle Greeff skryf in De Kat: "Maar hy verwoord ander gay-belewenisse op ’n manier dat dit jou dae lank bybly. Die een stuk skryfwerk wat nooit die lig gesien het nie, naamlik die gemelde rubriek wat hy aan Die Kerkbode voorgelê het, laat ’n mens óók dink. Wanneer gaan die NG Kerk die werklikheid volrond in die oë staar en sonder omhaal van woorde begin praat oor die pyn sowel as die plesier van die homoseksuele lewe?

Danie antwoord vir Rachelle: “Daar is ‘praktiserende’ homoseksuele wat gló in God. Hulle ervaar kontak met Hom. Hulle ken geestelike ekstase. As hulle hul oorgee aan promiskuïteit, sien hulle die negatiewe dinge wat met hulle gebeur – botsing met die gereg; afpersing; aanranding; gevoel van besoedeldheid, van vernedering; vrees; skuldgevoelens – as God se straf. Gelowige homoseksuele hou hulle dikwels blind vir die verdoemende Bybelse uitsprake; kleef liefs al die ander geloofswaarhede aan. Want as jy daardie uitsprake oordink, word dit nag vir jou siel.

“Maar intussen ervaar jy as homoseksueel wat in God glo, ook soveel genade van Hom. Al daardie verhoorde gebede ... Nee, soos Boerneef sal sê: Homoseksualiteit is ’n ding wat maar ammelee pla’.”

Die Soft Rock Klub se 19 kortverhale is in vier afdelings georganiseer. Die eerste afdeling, onder die hofie “1950–1964”, bestaan uit ses verhale oor die karakter Jako se kindwees, seunwees en seksuele bewuswording. Daarna word die rituele van cruising aan die hand van ses verhale in afdeling twee uitgebou. Afdeling drie sentreer rondom “die Soft Rock Klub” waarop die titel slaan, ’n private seksklub wat deur die karakter Hannes geïnisieer is. Met die laaste afdeling sluit die bundel af aan die hand van drie verhale waarin die ongeïdentifiseerde “ek” nabetragting hou oor gefrustreerde verhoudings.

Christell Stander skryf (Karring, Somer 1995): "Hoewel daar tekortkomings in die bundel is, is Die Soft Rock Klub ’n belangrike leeservaring wat nie net aspekte van seksualiteit blootlê nie, maar ook een van die min tekste in Afrikaans (en ander letterkundes) is waarin die ontwikkeling van die manlike karakter ontgin word. Dit is ook ’n teks wat, vanuit die vertoonkas van die gay letterkunde, beantwoord aan die heersende lesersbehoefte in Afrikaans om geskok te word. En Botha is bedrewe genoeg in die boekbedryf om te weet: mense wat in glashuise woon, kan nie klippe gooi nie. Daarom is dit lékker skok, skok met herkenning, skok sonder om vervreem te word.”

Lucas Malan (Afrikaans Stereo, 6 September 1995) het geskryf dat emosionele skeiding sentraal in hierdie bundel is en deurgetrek word vanaf die eerste tot by die laaste verhaal. "Dit is naamlik die sielkundige ervaring van verwerping, en reeds in die eerste verhaal lees ons hoe die jong Jako onwetend so ’n toestand tussen hom en sy pa diagnoseer. Die Soft Rock Klub is nie ontspanningsleesstof nie, maar is ’n gefragmenteerde lewensverhaal van emosionele leemtes en genadelose selfkonfrontasie."

Volgens HP van Coller (Volksblad, 6 November 1995) is die klem in Danie se kortverhale op die traumatiese grensbestaan van die gay, soos by Koos Prinsloo en Hennie Aucamp. “Waar Prinsloo se werk verwysings na literatuur, literêre teorie, kuns en die psigologie veel meer opsigtelik gebruik, wek Botha se verhale die indruk van onmiddellike toeganklikheid.

“Tog bedrieg die skyn, want op subtiele wyse word aangesluit by talle Afrikaanse voorgangers. Verwant aan Aucamp is byvoorbeeld veral enersyds die fyn registrasie van die landelike wêreld en sy sosiale stratifikasie en andersyds die dekadente stadsbestaan. Ek bespeur ook verwantskappe met JC Steyn se Hoeke boerseuns ons was en Danie Botha se werk adem ook iets van die vroeë Leroux (veral Die eerste lewe van Colet) omdat dit nie net die ontwikkelingsgang van ’n jong sensitiewe seun skets nie, maar ook toon hoe die dinge wat verswyg en ontken word, welig tier te midde van die 'normale' en goeie.

“Die beskrywing van ’n traumatiese jeug waarin ’n onsimpatieke vader sentraal staan en die bykans grafiese beskrywing van homo-erotiese seks, roep weer die werk van Koos Prinsloo in herinnering, terwyl die asemtogte van Riana Scheepers en Jan Rabie in enkele verhale voelbaar is.” Van Coller noem dit ’n knap debuut.

Henning Snyman skryf in Die Burger (23 Augustus 1995) : "Die gay-paradigma moet deurentyd ook gelees word as ’n matriks waarbinne die verhaal van geestelike vereensaming en weerloosheid ontvou word. En, soos Eugène Marais se ‘Skoppensboer’, hou die ironie en die wrange humor genadiglik die wag. Die ‘goddelike komiek’ voltrek hom nie net in die gay-lewe nie, almal leer ontnugtering en ontbinding ken. Die Soft Rock Klub is ’n puik boek, en is ’n belangrike toevoeging tot sowel die Afrikaanse gay-literatuur as Afrikaanse prosa en letterkunde.”

Danie vertel in ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht (Beeld, 31 Julie 1995) dat die stories in Die Soft Rock Klub almal outobiografies is. “Dis basies my ervarings, my lewensverhaal ingekleur in verskillende personasies. Daar is uiteenlopende reaksies op my boek. Party mense waarsku my en sê ek gaan probleme kry, ander bewonder my vir my moed, ander beskerm en bejammer my.”

"Daar was ’n tyd toe ek my homoseksualiteit weggesteek het en bang was dat dit ontdek word. Ek het egter al meer begin uitkom, en dit is nie meer vir my ’n risiko nie. Ek is ook emosioneel ryper. As ’n gay wat wil oopmaak, uitpraat en bieg, ontdek jy dinge oor jouself. Jy maak jouself oop vir jou mede-gays en sê vir hulle hulle is nie alleen nie, jy maak jouself ook oop vir straights, en hulle sê dit is nie ’n plesierige prentjie nie.”

Aan Emile Joubert (Die Burger, 11 Augustus 1995) vertel Danie dat die karakter(s) in sy stories meestal hyself is – die pikkie wat ’n bietjie liefde van sy pa soek. "Die man met die vreemde vriendekring en stigter van die Soft Rock Klub, ’n draadtrekklub wat hy in die negentigerjare in sy Hofstraatse woonstel bestuur het. Die weifelende Samaritaan. Hoewel ek graag sal wil dink dat elke storie sy eie siel het, is daar deurlopende temas wat, volgens my, die bundel in geheel versterk. En as ek dink aan die reaksie op die boek tot dusver, voel ek baie mense kan hulle met my lewe en my stories vereenselwig. Van my vriende het ná die lees van die boek met my begin praat oor eensaamheid en ontstellende gebeurtenisse in hul lewens. Ek twyfel of hulle dit sou gedoen het as die boek hulle nie kon raak nie. En is dit tog nie maar waaroor dit gaan nie, om jou hand of jou pen uit te steek en ander mense te raak?”

Danie begin in November 2002 die afdeling vir gay skrywers Gay@LitNet op LitNet en hy beskryf sy tyd daar as ’n opwindende en baie kreatiewe tyd, maar in Augustus 2006 het hy hom onttrek aan die webruimte as gevolg van sensuuraksies van die LitNet-topbestuur.

In 2003 was daar ’n polemiek op LitNet nadat die gospelsanger Danie Botha by die NG Gemeente Elsburg-Suid aan die Oos-Rand gesê het mense moet só geskok wees dat hulle hulself uit die homoseksualisme uit skrik en dat gays nie hemel toe sal gaan nie. Danie het dadelik vir Danie, die sanger, geantwoord en dit het die polemiek aan die gang gesit.

Ook in 2003 was daar ’n briefwisseling tussen die akteur en regisseur Albert Maritz en Danie op LitNet oor Albert se stuk “Die Afrikaanse teater: apatie en (hopelik) daarna” en veral oor Albert se stelling dat Afrikaanse teater nie meer in aanmerking kom vir die “Fleur du Caps of watter toekennings daar nog ook al is nie”. Danie, wat gedurende daardie tyd ’n beoordelaar van die Fleur du Cap-toneelpryse was, het hierop gereageer.

In 2006 word Danie se boek oor die beginjare van die beroepstoneel in Suid-Afrika, Voetligte en applous!, by Protea Boekhuis uitgegee. Hoewel die boek ’n historiese lyn het, is dit meer ’n boek van anekdotes. “Ek probeer die hele proses van die beroepstoneel van 1925 tot omstreeks 1948 beskryf. Van die oudisies, regdeur tot by die reis tussen dorpe, die opvoer in kerksale en akteurs wat in plaasdamme moes bad. Ek wou graag oor almal uit daardie jare skryf, maar het besef dit sou onmoontlik wees. Ek het uiteindelik besluit om oor die pioniers te skryf. Oor Wena Naudé, André Huguenet, Lydia Lindeque, die Hanekoms en meer.” (Volksblad, 26 Mei 2006)

In haar resensie het Madeleine van Biljon (Die Burger, 28 Februarie 2007) geskryf dat Botha ’n keurig-versorgde geskiedenis met talle foto’s (daar kon meer gewees het) en ’n nuttige indeks bied wat vir enige toneelbelangstellende ’n ongelooflike inligtingsbron is. “Die boek getuig van nougesette navorsing en Botha kan net gelukgewens word met ’n baie meer as net ’n knap stuk werk. Myns insiens sou dit kan dien as ’n tesis vir ’n graad. By gebreke aan so iets, verdien hy elke woord van waardering wat na sy kant kom en is die paar stukkies kritiek wat ek sou hê, blote vlieëvangery.”

JL Coetzer skryf in Literator van Augustus 2006 dat Voetligte en applous! beskou kan word as ’n voortsetting van FCL Bosman se Drama en toneel in Suid-Afrika en ’n aanvulling tot LWB Binge se Ontwikkeling van die Afrikaanse toneel 1832 tot 1950. “Enkele ander oorwegings beklemtoon die verdienste en noodsaak vir die publikasie vanVoetligte en applous! verder. Botha het, eerstens, in sy navorsing van bronne gebruik gemaak wat moeilik bekombaar of ontsluitbaar sou wees. Dit sluit koerantknipsels in wat vanweë hulle ouderdom nie in openbare, elektroniese argiewe beskikbaar is nie, ongepubliseerde dokumente (verslae, dagboeke en ander) in NALN se Bloemfontein-versameling, die Dokumentasieversameling van die JS Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch, ensovoorts, en selfs herinnerings deur spelers en kennisse, wat op versoek van die outeur geskryf is of met wie onderhoude gevoer is.

“Die outeur het, tweedens, nie net van skaars bronne gebruik gemaak nie, maar uitvoerig daaruit aangehaal – tot drie bladsye op ’n keer. Veral in die geval van NALN- en ander argivale dokumente is dit ’n welkome werkwyse, omdat hy daardeur bronne wat slegs binne NALN gebruik kan word vir sy lesers toeganklik gemaak het. Daarby dra die veelheid van perspektiewe wat uit die dokumente spreek, by tot die geskakeerdheid van die menings. In sommige gevalle stel hy teenoorstaande standpunte direk na mekaar aan die woord.

“Dit beteken, derdens, nie dat Botha as blote kompilator opgetree het nie. As die onsigbare hand (organiserende instansie) is sy teenwoordigheid in die manuskrip onder andere merkbaar in die keuse en organisasie van die grondstof. (...) Voetligte en applous! bied ten slotte, nie net ’n beeld van ‘[b]eginjare van die Afrikaanse beroepstoneel’ nie (luidens die newetitel), maar ook ’n spieëlbeeld van ’n kultuurgroep en gehoor op ’n bepaalde tydstip: berug én irriterend om sy laglus tydens gehoorsituasies, aangrypend om sy naïwiteit wanneer die gehoor verhoogwerklikheid en -personasies met hulle eie werklikheid en bekende (historiese) persone verwar, in opvoerings waarin Ampie sy hart teenoor ’n donkie uitstort, op ’n verhoog waarvan die gordyne en rekwisiete/meublement by die gehoor vir die aand geleen is.”

Hierdie toneelboek lê vir Danie baie na aan die hart en hy vertel dat hy baie aangename herinneringe aan die navorsing en skryf daarvan het. “O, die opwinding om by NALN deur die talle leggers te werk! Buite ’n ysige koue, ligte sneeu selfs, en hier voor ’n verwarmer gaan jy die verlede in  na die pioniertoneelspelers se  leed, avonture en prestasies. Kort-kort iets wat jy ontdek waarvan jy weet dis nog ’n interessante stukkie van die legkaart. Ek het geweldig lief geword vir Bloemfontein. Ook meevoerend om in Die Burger se stokou ingebinde koerante op ’n Saterdagmiddag die verlede te herbeleef. Om teleurgesteld te wees as jy lees ‘Van Zyl verdwyn van die toneel’ en dan is dit ’n ou wat ’n verkiesing verloor het. Jeanette Ferreira het gesorg dat ek die boek so vakkundig moontlik maak en Martjie Bosman het tot die eindstreep met my geloop. Ja, ek het ongeduldig geword oor die lange swangerskap, maar die einde was wel salig met al die bekendstellingsgeleenthede tot op Prince Albert en Calitzdorp.” (Die Burger, 9 Desember 2011)

Deborah Steinmair (op LitNet) vra Danie as redakteur van Gay@LitNet in 2004 onder andere of hy ’n Zen-agtige plato van innerlike vrede bereik het en of sy lewe meer uitgesorteer is as byvoorbeeld tien jaar gelede en indien dit wel so is, hoe het hy daarby uitgekom? “Onseker. Kan maar steeds soms hel-uit depressief raak. Kan ’n LYS opstel van dinge wat my grensloos irriteer. Vroeër was ek vol verlangens, vrese, inhibisies, stres; deesdae raak ek doodgewoon kwaad, gee my byvoorbeeld oor aan e-pos-woede. Fisieke veroudering, tanende libido, die feit dat ek as afgetredene en vryskut dinge doen waarvan ek hou – ja, dit dra heelwat by tot gemoedsrus.” Sy ideaal daar in 2004 was om “weg te kom uit die middestadwoonstel en saam met ’n stabiele, redelik gekultiveerde en Afrikaanssprekende ou in ’n voorstadhuis te gaan woon. Wag aansoeke in. Hulle sal moet kom vir oudisies soos destyds met die draadtrekklub.”

Oor wat hom laat lag het Danie as volg gereageer: “Iemand wat iets uit eie ervaring vertel en dan die karakters veral stemgewys naboots. Haat toilet- en selfs seksgrappe.”

Wat verskaf aan hom die grootste mate van werksbevrediging – akteur of regisseur? “Ek wás dit en hoofsaaklik op amateurvlak. Is moeilik om te besluit. Dalk regie? Maar die adrenaliensituasies van self speel? Maar hoe goed was ek werklik met albei? (...) Ek voel dat ek as ouer man tans beter werk lewer omdat ek minder gespanne is. Vir die radio is ek altyd skurke of karakters met baie fisieke aksie! Sal so graag sensitiewe oujongkêrels of dominees wil speel.”

Danie vertel in 2010 aan LitNet: “Uit ondervinding met Homeros weet ek dat die gayletterkunde moeilik is om te bemark. Daar is soveel voorbehoude en verskille van opinies by die letterkundiges, skrywers, redakteurs, boekhandel en binne die gaygemeenskap self. Dit gee nou aanleiding tot iets waaroor ek op die oomblik nog nie helderheid het nie. Ek skryf graag oor my kinderdae of sake wat dan tot ’n meer algemene mark kan spreek; maar ek het ook die gay ervaringswêreld wat ek wil en kan deel met ander geesgenote. Ek twyfel of ek ’n bemarkbare boek sal kan maak met albei verwysingsraamwerke saam daarin. Ek wou dit nooit teenoor myself erken het dat die lang ure se keur, redigeer en proeflees van ander se werk my eie skryfwerk erg verhinder nie. Maar daar is iets van waar. My produksie is dus klein en daar’s nie juis ’n stimulus tot gayverhale in boekvorm nie. Die enigste uitkoms is LitNet. Ek het sedert 1981 verskeie kortverhale vir volwassenes en kinderverhale in versamelbundels, in tydskrifte (Tydskrif vir Letterkunde, Sarie, Rooi Rose) en op LitNet gepubliseer wat ek sou kon bundel.”

Met Danie se sestigste verjaardag in 2007 het Charles Fryer (Die Burger, 28 Februarie 2007) hom as ’n volronde, komplekse mens beskryf wat bo alles die drang tot diensbaarheid uitleef. “Hy raak baie entoesiasties oor dinge wat hom na aan die hart lê, en sy kinderlike opgewondenheid is aansteeklik. Danie kan ook onthutsend eerlik wees. Maar of sy oë blits van woede of blink van ­­ver­tedering, die mense wat hom ken, wil hom niks anders hê nie. Vir my is hy ’n kosbare, kostelike, lojale vriend met wie jy oor enigiets kan gesels: van stront tot die hoogste sin, van enigiets op hierdie ou aarde tot by ‘die berg wat donker staan’. Danie is ’n vriend vir alle ­seisoene.”

In Augustus 2011 ondergaan Danie ’n drievat-hartomleiding. En op 24 November 2011 was hy op sy pos toe hy en Wium van Zyl deur die ATKV vereer is met oorkondes. Die motivering vir die toekenning van die oorkonde aan Danie is deur JD Gouws (destyds besturende direkteur van die ATKV-groep) gelewer: “Vir sy groot bydrae as redakteur van hoogaangeskrewe Afrikaanse letterkundige  publikasies asook vir sy bydrae tot die Afrkaanse toneelwêreld (onder andere as hoorspelakteur) en as skeppende skrywer in Afrikaans.

"Sy bydrae om die Afrikaanse taal op bogenoemde wyse uit te bou en te ontwikkel word hooggeag en ondersteun die ATKV se visie ter bevordering van ’n suksesvolle Suid-Afrika waarin Afrikaans ’n onmisbare rol speel."

Danie vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 9 Desember 2011) dat hy graag soos PG du Plessis se Tiemie 'van geweet wees'. "Ek dink daardie ding van ek wil van geweet wees, is dalk onderliggend dat ek toneel gespeel het tenspyte daarvan dat ek nie werklikwaar ... wel, ek het sukses gehad as toneelspeler ook, maar by die radio het ek agtergekom dat dit nie vir my maklik kom nie.

"Ek het byvoorbeeld ’n lettervrees gehad. As ek sien daar is ’n stukkie in die teks waar daar nou ’n 'td' is, dan het ek ’n vrees gehad en dan haak ek vas by daardie woorde. By Springbokradio het ek baie gespeel. Toe ontdek Bennie Fritz, skrywer van vervolgverhale op Springbokradio en verhaleredakteur by Huisgenoot, ek kan goed huil. En toe is ek altyd die skurke wat huil. Dan was dit lekker, want dan hoef ek nie bekommerd te wees as ek oor my woorde val nie.

"Ek het as kind gehakkel. Nie erg nie, maar ek het gestotter. Maar deesdae vind ek met die ouderdom is ek rustiger en het ek nie daai spraakprobleem nie."

Sedert 2014 werk Danie op vryskutbasis vir Protea Boekhuis en Naledi Uitgewers, hoofsaaklik betrokke by die redigering van publikasies. "By Naledi werk ek saam met skrywers soos Rita Gilfillan, Stefan Enslin en Joubert Odendaal. Ek hanteer ook die werk van iemand uit my Tafelberg-jare: Hennie van Deventer."

Vir Protea Boekhuis stel hy in 2015 die bundel oor Hennie Aucamp, Om Hennie te onthou, saam en in 2018 is hy ook betrokke by die uitgee van Charles Fryer se passiespel Só moes die liefde ly.

In 2014 gee Tafelberg Uitgewers Die helder dae uit. Die subtitel is outobiografiese verhale, rubrieke en essays. George Louw redigeer dit as vryskut en Etienne Bloemhof is die uitgewer.

Op LitNet skryf Kerneels Breytenbach oor Die helder dae: "Die geslagte van die toekoms sal Die helder dae beskou as kleinood, ’n versameling kosbare inligting oor die lewe aan die Kaap van Storms in die jare veertig tot vroeg 21ste eeu. Dit bou ’n beeld van die groot verskeidenheid mense wat almal bygedra het tot die kulturele sfeer van dié tydperk, soos vertel deur iemand wat gelukkig genoeg was om daardie mense almal te geken het. Vir die studente van die letterkunde en toneelkuns sal dit ’n onvervangbare verwysingspunt word.

"Vir die tydgenootlike leser is daar ander vondste. Ek was gelukkig genoeg om Danie Botha in die jare sewentig te leer ken toe ek by Die Burger begin werk het en hy by Tafelberg-Uitgewers was. Hy was die een wat die versugting uitgespreek het dat Die Burger ook aandag aan amateurtoneel moes gee, en Leendert Dekker voorgestel het as resensent daarvan. Dit het goed gewerk, totdat ek deur ’n sameloop van omstandighede (Dekker kon iets nie resenseer nie, en Danie het ons uit ons nood verlig) ontdek het dat Danie as resensent dit is wat vandag as “the real deal” beskryf sou word.

"Later het hy ook rubrieke vir die kunsblad geskryf, hoofsaaklik oor die dinge wat hom geïnteresseer het: die letterkunde en teater. En so met die verloop van tyd, nadat ek uitgewer geword het, het ek begin dink ek ken Danie Botha goed. Ek was verkeerd.

"Die helder dae is ’n versameling outobiografiese tekste wat vantevore in koerante, tydskrifte, bloemlesings en op LitNet verskyn het. Botha het ter wille van die geheelbeeld artikels bygeskryf. Sodoende kry ons ’n indringende en omvattende blik op ’n heel besonderse lewe. (...)

"En tog kan mens maar begin soek na ’n geseur oor die negatiewe dinge van die lewe; jy sal dit nie kry nie. Die titel van die boek is Die helder dae, wat dit uitdruklik uitspel dat hy nie wil skryf oor die dae waarin die lewe se somber, depressiewe sy jou oorweldig nie, maar oor daardie dae en tyd wanneer jy die helderte van skoonheid, genot, naasteliefde ens ervaar. Die helder dae is in ’n majeursleutel geskryf. (...)

"Vir my was die verrassing die insluiting van sy bydraes tot Die Kerkbode. Botha se lewe is gerig deur sy godsdiens, maar hy was nog nooit iemand wat daardie aspek in die gesigte gevryf het van die mense wat by die werk met hom saamgeleef het nie. Wanneer mens na baie van die stukke wat hy in die jare negentig en later vir Die Kerkbode geskryf het, gryp hy terug na insidente en dinge uit sy jeug en beroepslewe, en leer ken jy sy innigheid, sy warmte en medemenslikheid.

"Deur die jare het ek sy knorrige sy al beleef. Die helder dae wys hoeveel méér daar is."

Ook Herman Lategan (Beeld, 16 November 2014) komplimenteer Danie Botha met Die helder dae en hy sluit sy bespreking af: "Die lys van mense (in Die helder dae) is soos ’n spyskaart vol wonderlike 'mensdisse' en dit is ’n plesier om so lekker oor elkeen te lees. Soos die flapteks sê: 'Enige leser wat belangstel in die Afrikaanse letterkunde en teater, op watter vlak ook al, sal Die helder dae insiggewend en besonder onderhoudend vind."

Schalk Schoombie is die resensent van Die helder dae in Rapport van 7 September 2014 en ook hy is getref deur Danie Botha se herinneringe aan dae, mense en gebeure. "Die geheelbeeld van ’n kindertyd, skooldae, ’n loopbaan as Tafelberg-uitgewersredakteur, toneelresensent en afgetredene kan hier - gegewe die titel - verbasend donker opdoem. Hierdie herinneringe word bevolk met skadu's, swaar en seerkry.

"Só word daar onbevange vertel van onvervulde hunkering om aan ’n Kerskonsert deel te neem, net om  bruusk weggewys te word, van armoedige grootwordjare, karige Kersgeskenke, in later jare erge depressie, asook selfbeeld- en gewigsprobleme. Die versugting van die alleenloper kom ook aan die bod, asook insidente van aanranding op straat, frustrasies met lawaaierige bure, ensovoorts. (...)

"Die helderheid van die titel setel in die skerp terugroep van vergange rituele, plekke, mense en vormingsmomente, in fyn aandag aan detail met welgekose woorde wat as ’t ware die verlede uit die newels laat herrys. (...)

"Die gevoeloge, onbeskroomde taalgebruik, wat spreek van dekades as toegewyde taalman, verleen aan elke storie ’n skreiende onmiddellikheid en poëtiese eerlikheid wat aan die hart gryp. (...)

"Sy essays, huldeblyke en vignette ( oor skrywers en outeurs), immer met deernis en humor benader, is van belang vir liefhebbers van die letterkunde en uitvoerende kunste en kan selfs as waardevolle Africana aangeteken word. Die skrywer se liefde vir die geskrewe en gesproke woord spreek helder uit elke bydrae. (...)

"Die helder dae, met groeiende helderheid te midde van donker én ligbestraalde dae, is ’n beleë boek wat die leser meevoer, byna laat voel jy ken dié vrygewige skrywer as mens van binne en buite, nes ’n troue vriend met wie jy kosbaarhede deel."

Danie vertel aan LitNet dat hy "volgens die reëls" op Sondag 2 Augustus 2015 net ná 14:00 by die aftreeoord in Bellville Huis André van der Walt ingetrek het. Ook daar sit hy nie stil nie. Sy eerste werk nadat hy daar ingetrek het, was die proeflees van Die beste spookstories van CJ Langenhoven wat toe in ’n klein formaat uitgegee is. Margot Luyt het van die verhale laat voorlees in die radioprogram Kortom.

Danie begin ook om resensies vir Fine Music Radio in Kaapstad te lewer. Hy vertel aan LitNet: "Ampie Muller was lank die organiseerder en aanbieder van FMR se maandelikse boekeprogram, 'Boekkeuse'. Hy het vertel dat hy besluit het om my te nader vir resensies nadat hy Die helder dae gelees het. Ek is bevoorreg om die werk voort te sit saam met sy opvolger Amanda Botha. Ná uitsending lê ek die teks voor aan LitNet vir publikasie."

Sêgoed van Danie Botha

Na die verskyning van Die Soft Rock Klub: “Die feit dat ek eksplisiet skryf, hang saam met daardie deel van die gay psige om uit te flap – maar dan moet ek dadelik bysê dat hierdie een van die baie stereotipes is wat oor gay mense bestaan. Ondanks die stereotipes bly gay mense uiteindelik almal individue.” (Beeld, 31 Julie 1995)

Oor die kontroversie rondom Die Soft Rock Klub: “Wat help dit ek probeer myself verdedig? Ek weet waar ek staan met my geloof en hoe ek daaroor voel. En terselfdertyd is ek nie skaam oor die onderwerp van my boek nie.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

“Maar die wag vir die resensies is hel. (...) As toneelkritikus het ek my al dikwels in die skoene van die akteurs geplaas, gewonder hoe hulle oor kritiek voel. Miskien die dag gevrees dat ek self aan sulke kritiek en ontleding onderhewig sou wees.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

Soek hy nie resensies nie? “Nie slegtes nie! Nee, resensies is ’n noodsaaklike euwel en as redakteur weet ek dis meestal goeie publisiteit net om ’n boek se titel en ’n skrywer se naam in druk te sien. Ek weet watter emosies ek in my boek gesit en waarom ek oor sekere dinge geskryf het. Daardie dinge wil ek met die lesers deel, daarom is ek bang lesers sien dit nie raak nie. Of miskien sien 90 persent dit raak, maar ek hoor dalk net van die resensente wat nie my idees oor die boek deel nie. Miskien sien ek dit op te ’n intieme en persoonlike vlak.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

“My lewe is die vak wat ek die beste ken en die helderste oor kon skryf.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

Oor die gayterrein (in 2004 aan Deborah Steinmair op LitNet): “Jy sal my nie in 'n gaykroeg of -klub kry nie; ek sterf voor ek fopdos; ek voel my nie tot gaytrotsparades gedrewe nie. Maar ek staan nie veroordelend daarteenoor nie. Jy sal my wel by Adult World se ‘video lounges’ of die minder ‘prissy’ gaystoombaddens aantref. In die ou dae op Sandy Bay en Graaff se Poel. Dis deel van die opwinding van Gay@LitNet: om al hierdie fasette van die gaylewe onder woorde te kry. Ons is in sekere opsigte nes die straights, maar in ander opsigte beslis anders, of vermoedelik anders. En as ons dan in groepsverband optree, kan jy die saligheid van ondersteuning, identifisering en geesgenootskap ervaar. Maar, og, soms kan 'n mens ook baie ‘uit’ voel tussen die klomp. As hulle jou eers met daardie harde visoë aankyk, as jou soort humor in kille stilte ontvang word ...” (LitNet, 20 Julie 2004)

Weer Deborah Steinmair in 2004: “Jy is kort na die Tweede Wêreldoorlog gebore en het die geboorte van die rekenaar en die wêreldwye web meegemaak, interessante tye voorwaar. In watter eeu sou jy wou leef as jy kon kies?” Danie: “In die jare sestig en sewentig van die twintigste eeu toe ek nog lekker patrioties kon raak met ’n volkslied, landsvlag en die FAK-sangbundel, met geestelike oorgawe na die dienste van die NG Kerk kon gaan, toe dit makliker was om wit, manlik en Afrikaans te wees, sonder die huidige gewetenskwessies en die ontstellende sedelike en politieke toestande. Maar, ja, ek moet terselfdertyd vra vir ’n rekenaar, e-posse en seksvideo’s. En DStv om sawends na Nederland toe te ontsnap.” (LitNet, 20 Julie 2004)

Watter vier historiese of lewende persone sou hy vir ete wou uitnooi? “Tennessee Williams, Anton Tsjechof, Stef Bos en die bleskop-weervoorspeller op BVN. As van hulle nie kan kom nie: Kenneth Tynan, Lucas Malan of Daniel Hugo.” (LitNet, 20 Julie 2004)

In 2007: “Ek weet hoe verskriklik dit is vir amateurtoneelspelers om negatiewe kritiek te kry, en my doel is om soveel as moontlik regverdig en omvattend daaroor te skryf. En ek probeer altyd, as ek byvoorbeeld ’n problematiese speler het, om ook iets positiefs oor hom te sê, saam met die negatiewe. My goeie wil is daar.” (Die Burger, 28 April 2007)

Oor sy navorsing by NALN: "O, die opwinding om by NALN (Bloemfontein) deur die talle leggers te werk. Buite ’n ysige koue, ligte sneeu selfs. En hier voor ’n verwarmer gaan jy die verlede in na die pionierspelers se leed, avonture en prestasies. Kort-kort iets wat jy ontdek waarvan jy weet dit is nog ’n stukkie van die legkaart.” (Die Burger, 9 Desember 2011)

Publikasies:

Publikasie

Uil in die pad

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624016501 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Soft Rock Klub

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033996 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voetligte en applous! Die beginjare van die Afrikaanse beroepstoneel

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869190904 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Toneelgeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die helder dae

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624070122 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Memoires

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Danie Botha as samesteller

Artikels oor Danie Botha op die internet

Artikels en skeppende werk deur Danie Botha op die internet

Bronne
Baie dankie aan Danie Botha vir sy insette.


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2019-12-04
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

The post Danie Botha (1947–) appeared first on LitNet.


Carina Stander (1976–)

$
0
0
carina280

Sêgoed van Carina Stander

“Afrikaans is die taal waarin ek dink en daarom ook skryf. Rou klanke soos g, k, r en die vryheid om nuwe woorde uit ’n betreklik jong taal te skep, is opwindend.”

“Soos my gedigte, is ook my beeldhouwerke en skilderye ’n spel tussen die natuur en bonatuur, die sigbare en onsigbare, die werklike en onwerklike. Dit is ’n soeke na ’n droomsfeer of geheim, na iets wonderbaarliks. My kuns neig na Surrealisme en is verhalend, terwyl my skryfwerk visueel is.”

 “Meegevoel met mense laat my skryf. Soms voel dit asof ek doodbloei aan die wêreld se wonde, dan probeer ek om mense gesond te skryf. Tog is pyn nie die grootste impuls vir my kuns nie. Indrukke van volheid is dikwels só oorweldigend dat dit eenvoudig verbeeld moet word.” (Sarie, 21 September 2009)

“Elke mens het ietsie ‘vreemds’ aan hom of haar. Ek het nog nooit ’n vervelige persoon ontmoet nie.” (Tydens die bekendstelling van Wildvreemd)

Hoekom skryf sy? "Ek is brandend nuuskierig oor die einde." (Beeld, 24 Maart 2014)

Vir wie skryf sy? "Vir diegene wat my grappies vang. (Ek is nogal ernstig oor humor.) Ernstiger: ’n Aktuaris sê anderdag dat hy my boek saamgeneem het op ’n rotsklimekspedisie saam met sy vriende. Een aand het hy sy koplig aangeskakel en begin lees doer in sy enigheid onder ’n oorhangkrans in die Drakensberg. Dwarsdeur die nag. Met sonop was hy klaar. Ek hoor van ’n boer wat met die droogte noodgedwonge ’n lorriedrywer moes word – saans lees sy vrou my plaasgedigte vir hom “sodat hy ’n bietjie kan huil”. Dan is daar die mediese dosent wat vertel dat hy Wildvreemd twee keer in een week gelees het – eers vir die storie, toe vir die taal. Vir súlke lesers kan mens vele selfvertwyfelings en ’n wankelmoedige bankbalans trotseer en aanhou skryf van ewigheid tot amen." (Beeld, 24 Maart 2014)

“Poësie – enige kunsvorm – is relevant wanneer dit die verwondering en vrese van ’n gemeenskap uitbeeld. Of ’n harde werklikheid ontbloot, sodat die gemeenskap homself kan verstaan. Of ’n realiteit van genade te midde van onheil skep, sodat die gemeenskap weer kan hoop. Ek glo die Afrikaanse poësie vermag al hierdie dinge.”

Haar inspirasie: “’n Liefde vir stories, kuns, mense, God, musiek. Ook ’n liefde vir die wildernis en ’n brandende nuuskierigheid oor die aarde laat my reis soos die wind.”

Waaroor kan sy glad nie skryf nie? “Ek skram weg van wanhoop. Hoop is revolusionêr. Dit ontbloot en verken ’n bedekte realiteit van genade, genesing en vervulling te midde van dreigende onheil. Ek sal ’n werk uit geweld of lyding laat ontspring, maar dit nooit in sinnelose brutaliteit laat eindig nie. Vir my is dít protespoësie: om téén die wreedheid van die wêreld in te skryf. Om vryheid en vrede te skree, sónder om die omvang van die slagting te ontken. Wanneer ek oor die skoonheid van Afrika dig, is dit meermale as reaksie. Skoonheid is ’n aanklag teen wreedheid." (In ’n onderhoud op Versindaba)

“Soms is kuns ’n ontvlugting van skryf. As skryf te eensaam raak, wil ek net kuns maak. Verder finansier die kuns en skryfwerk mekaar. As student het ek bronsbeelde gegiet, sodat ek kon toer, waarna ek ’n kortverhaal, ‘Vrydagaande praat jy in jou slaap’, oor Duitsland geskryf het, wat opgeneem is in ’n bundel. Laasjaar het ek met kunsgeld ’n nuwe laptop vir my skryfwerk aangeskaf. Die artikels wat ek vir tydskrifte skryf, betaal weer my olieverf en grinder discs en die brood en patees wat julle by vanaand se boekafskop eet, word gefinansier met ’n skildery wat laasweek verkoop is!”

 “In my kuns en skryfkuns gebruik ek die natuur om die Onsigbare tasbaar te maak. Water is byvoorbeeld ’n simbool van geestelike deursigtigheid en vlerke laat my dink aan ’n duifagtige gees.” (Lééf, Januarie 2010)

Oor die rol van geloof in haar werk: “Geloof sypel oral in, asof al die putte waaruit ek water skep, gevoed word deur dieselfde onderaardse aar." (Versindaba)

Het sy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer sy aan ’n vers werk? “Nee. Ek hou my deure oop vir die literati én die nieletterkundiges. Ek wil inklusief skep, want elitisme is die dood van die kunste. Ek skryf beslis nie net vir myself nie, anders sou ek nie wou publiseer nie. Poësie is klankkuns – dit moet gehóór word.” (Versindaba)

“Skryf is stil woorde. En stilte raak soms eensaam. Om te skilder is veel geselliger. Wanneer ek na geselskap verlang maar baie werk het om te doen, gooi ek my deure wyd oop en klets en drink koffie of rooiwyn saam met vriende terwyl ek voort skilder of beitel.” (Versindaba)

Hoe word haar gedigte geskep, hoe ontstaan hulle? Ek is ’n rommelraper – loop oral en versamel idees. In kuiers met vriende. As ek skilder of saam met my seuntjie balskop. Op ’n berg met ’n kamera. In spreekwoordeboeke. Ek skryf dikwels met musiek. Klassieke musiek of world music van Bulgarye, Kenia, Ierland, Brasilië. Sommige gedigte het ek gedroom (‘om op die rug van ’n donkie in die see te swem’) of gedroom terwyl ek wakker is (‘voor-beeld’ gaan oor ’n visioen). Soms wanneer ek alleen bid, begin die sinne vanself te rym.” (Die Burger, 29 September 2009)

“As kunstenaar leef ek nie in isolasie nie. ’n Kind met Vigs het op my skoot gepie, ek het geslaap in ’n hut waar ’n vrou aan malaria sterf, moes ’n hele bende Alzheimerlyers se doeke ruil, het boere sien knak onder droogte, het lydende diere versorg en nekomgedraai, my man se bloed opgemop en geskrop ná ’n inbraak, my dooie dogtertjie in my hand gehou. Ek het geweld gesien en gevoel aan eie lyf. Wanneer die water so donker raak, doen ek wat ek my lewe lank doen: ek duik by die diepkant in – en skep.” (Versindaba)

Haar literêre invloede is "digters wat op ’n sintuiglike wyse met die verhalende omgaan: Breyten Breytenbach, HJ Pieterse, Sheila Cussons, Carolyn Forché, Yehuda Amichai, Pablo Neruda. Verhaalskrywers met ’n digterlike oog of stembuiging: Michael Ondaatje, Anne Michaels, Niall Williams, Etienne van Heerden, Chris Barnard." (Beeld, 24 Maart 2014)

Oor die digkuns: "Wat die digkuns betref: ’n digter bly ’n digter, of jy gedigte skryf of nie. Die digterlike sintuig bepaal jou volkome belewenis van die lewe, dit stuur jou oog in ’n sekere rigting. Daarom sypel die digkuns oral in – of jy nou tuin maak, pannekoek bak, in die see swem of saam met vriende wyn drink op ’n stoep. Om te dig is nie ’n beroep nie, dis ’n bestaanswyse." (aan Naomi Meyer op LitNet)

Naomi Meyer wou weet of die mense wat sy liefhet in haar stories is: "Ek het ruim geput uit my ervarings van veral beeldhoukuns en reis, maar die karakters in Die Bergengel is almal maaksels van my verbeelding. Ek ken net mooi géén werklike mens wat my herinner aan een van die boekkarakters nie – en hoe bevrydend! Omdat die verhaal nie outobiografies nie, kon ek die karakters rondslinger en ophemel soos die lus my lei. Omdat dit nie mý lewensstorie is nie, het ek ironies genoeg ’n groter vrymoedigheid as ooit tevore ervaar om getrou te wees aan my eie skryfstem." (LitNet)

Prosa of poësie? " Van my heel vroegste indrukke as kind was ingekleur deur metafore. Die digterlike sintuig bepaal alles wat ek skep; alles vloei daaruit. Dat Die Bergengel-trilogie ’n allegorie is, is waar. Dat ’n allegorie ’n uitgebreide metafoor is, is ook waar. So gesien, is die trilogie een baie lang verhalende gedig." (Aan Remona Voges op LitNet)

Gebore en getoë

Carina Stander is op 20 November 1976 in die Nylstroom Hospitaal gebore. Dit was die naaste hospitaal – twee en ’n halwe uur se ry – vanaf haar ouers se plaas buite Ellisras (vandag Lephalale) in Limpopo. Carina is doof gebore en op agt maande het sy haar gehoor "wonderbaarlik" herwin.

Sy is die jongste van drie kinders. Haar suster, Annelie, is vier jaar ouer en haar broer, Jaco, is drie jaar ouer as sy.

Carina se pa is Sarel Francois Stander. Hy het in die Bosveld grootgeword en toe hy sestien jaar oud was, moes hy die nuwe plaas wat sy pa gekoop het, oorneem omdat sy pa baie sieklik was. Carina vertel aan LitNet: "Sarel is alleen doer in die boendoe afgelaai met ’n tweeskaarploeg en osse. Maar die Waterberg was in 1952 nog wilde wêreld, met luiperds en selfs leeus in die berge. My pa was bietjie van ’n cowboy. Hy het op die perd gespring en 200 myl ver gery om beeste te gaan opkoop. Op 21 het hy die plaas waar hy vandag steeds boer, by my oupa oorgekoop. Hy het eers op 31 getrou. My ma was toe 32. Ek is gebore toe hulle 40 jaar oud was, soos my gedig ‘Wildernis’ sê: ‘uit die woorde van ’n ma en die wildheid van ’n pa’.

“My pa is ’n goeie storieverteller en vertel graag sulke verbeeldingryke, verregaande kontreistories. Ek het my kunstalent van hom gekry. (Hy het as skoolkind borsbeelde van sy onderwysers uit klei gemaak vir sakgeld.) Hy het ’n oog vir detail – pluk fyn veldblomme en toe ek klein was, het hy my geleer om my oë toe te maak en te tel hoeveel soorte voëls ek hoor. Van my twee ouers, is my pa die dromer.

“Pa is ’n joviale, emosionele man en is rustig oor sy manlikheid – hy huil maklik oor ander se lief en leed. Hy huil as ’n kind gebore word, as dit reën en by troues; hy kan so kwaad raak dat hy wil moor; hy lag so lekker dat lagbuie gereeld in hoesbuie oorgaan. Hy hou van mense en klassieke musiek en geskiedenis – programme op die radio wat hy al jare lank stiptelik volg. Ek het my avontuurlus en vryheidsin van hom gekry. Hy is ’n man van die grond. Ons deel ’n diep liefde vir die natuur.

“My ma, Truiki Stander, het grootgeword op ’n plaas buite Brits. Sy was bietjie van ’n nerd, ’n kultuur-junkie en altyd lief vir tale. Sy het Duits en Afrikaans by die Universiteit van Pretoria geswot en toe vir veertig jaar lank dié vakke onderrig. Meestal vir matrikulante, maar by tye vir volwassenes. Sy het ook redenaars en debatte en sulke dinge behartig. Sy sal gereeld in ’n gesprek opspring as ’n woord haar tref en dit gou gaan naslaan – die oorsprong, die presiese betekenis. Sy het ’n fyn humorsin wat neig na ironie en woordespel. Woorde roer haar werklik tot in haar gebeentes.

“Van my helderste herinneringe as kind is waar my ma se leerlinge Duitse gedigte voordra en die praatkoor Raka van Van Wyk Louw opvoer. Ek was so vier jaar oud en kon nog nie lees nie, maar het probeer om die woorde van Marais se ‘Dans van die reën’ en ‘Mabalêl’ te onthou. Wanneer niemand kyk nie, het ek dié gedigte (vol verdraaiings) voor die badkamerspieël opgesê. Hierdie verse het waarskynlik my siening van die Afrikaanse digkuns en Afrika gevorm – ’n eksotiese, geheimsinnige, gevaarlike plek.

“My ma is baie uitgesproke, eerlik, nogal kwaai, maar deernisvol. Niemand smokkel met haar kop nie. Sy het ’n geweldige sin vir reg en geregtigheid, al druis dit ook hoe teen die bestaande orde in. Sy is ’n vegter vir individualisme – ek het grootgeword met mense van alle geure en soorte aan huis. Boemelaars en professore het kom oorslaap.

“My ouers het van jongs af kuns- en skryftalent in my raakgesien en dit aangemoedig, sonder om ooit die pen uit my hand te haal. Hulle is deurdrukkers, mense met ’n sterk oorlewingsinstink. Ek raai dis na aanleiding van hulle voorbeeld dat negatiewe resensies en afgekeurde manuskripte my nie sommer omvergooi nie. Wanneer teleurstellings tref – ongelukke, misoeste, droogtes, vloede, terminale siektes, dood – raak hulle prakties. Dit is een ding wat ek by my ma afgekyk het: die vermoë om ’n oomblik lank te rou, op te staan en te kyk wat mens kan maak uit die rommel en die reste wat voor jou lê.

“Ek het opgegroei met geborge vryheid – die oop deur om te verken, te skep en myself kreatief uit te leef. Albei my ouers het ’n besonderse, byna tasbare Godsbewussyn. Verhale oor wonderwerke en die teenwoordigheid van die bonatuurlike is sommerso oor die mieliepap heen aan kombuistafel vertel. Onopgesmuk. Alledaags.

“Die afgelope tien jaar neem ek hulle elke jaar saam op reis. Hulle is fantastiese reisigers: entoesiasties, aanpasbaar en veral nuuskierig.”

Carina skryf haar eerste gedig toe sy agt jaar oud is nadat haar enigste maatjie na ’n ander dorp verhuis het, vertel sy in ’n onderhoud met Marlise Joubert op Versindaba. “Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my bekruip. Ek het dit dadelik neergeskryf: Die ‘Leonie-week’ was ’n hele bladsy lank. ‘As ek eendag groot is,’ het ek gesê, ‘gaan ek gedigte skryf.’ My ma het geantwoord: ‘Hierdie is ’n gedig’, en vir my ’n boek gegee waarin ek my versie kon neerskryf. Van toe af het ek in die middae na skool met Opperman se Groot Verseboek en ’n gehawende HAT gesit en lyste gemaak van woorde wat vir my mooi is. Ek het geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord wou wy.”

Op elfjarige ouderdom maak Carina vir haarself die reël dat sy elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf. Van toe af het sy elke jaar so vyf-en-twintig verse geskryf – ’n ritueel wat sy volgehou het totdat sy sewentien jaar oud was. Sy het nog al daardie verse.

Vanaf Carina se twaalfde jaar is haar broer en suster reeds uit die huis. Sy was alleen saam met haar ouers op die plaas en het amper soos ’n enkelkind grootgeword – meestal in grootmens-geselskap, wat sy stimulerend en fassinerend gevind het.

Sy bring haar laerskooljare aan die Laerskool Ellisras deur en is vanaf 1990 ’n leerling aan die Hoërskool Ellisras in Limpopo. As hoërskoolleerling neem sy deel aan talle debat- en redenaarskompetisies. Op skool verkoop sy haar kunswerkies sodat sy die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom kan bywoon. Op vyftien het sy genoeg kunsgeld gespaar om self die R700 vir die week van die Skryfskool te betaal. Sy woon die Skryfskool drie jaar (1992–1994) lank by. Die eerste twee jaar is sy die enigste skoolkind. “Om regte skrywers soos Antjie Krog en Henning Pieterse in aksie te sien, het my vinnig uit die fase van tienerpoësie geklap,” vertel sy aan Etienne Bloemhof op LitNet.

In matriek (1994) wen sy die ope afdeling van ’n nasionale skryfkompetisie van die Congress of South African Writers (COSAW) met die kortverhaal “In ’n neutedop”. Dié verhaal is in 2006 gepubliseer in ’n bundel met die gelyknamige titel wat vir skole voorgeskryf is (Bateleur, saamgestel deur Izak de Vries). Twee ander verhale wat Carina as skolier geskryf het, is ook later voorgeskryf vir skole: "Kleurblind" en "So begin haar storie" is opgeneem in Braaivleis in die bos en ander verhale, saamgestel deur Neil Cochrane (Aktuapers, 2003).

Reeds terwyl sy nog op skool is, word Carina se gedigte ook in versamelbundels opgeneem. Vyf gedigte word in Poort, ’n tydskrif van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, opgeneem, twee gedigte in Hans du Plessis se Kamers en twee verse in Antjie Krog se Losvoor wat in 1994 deur Shuter & Shooter gepubliseer is.

Op die gebied van beeldende kuns neem sy privaatklasse in pottebakkery en kuns en maak sy kuns op bestelling. In 1994 ontwerp sy ’n inkleurboek vir die Departement van Gesondheidsontwikkeling.

Op skool blink Carina veral op kulturele gebied uit, asook op leierskapgebied. Sy is redakteur van die skoolkoerant, voorsitter van die debatsvereniging en die jeugkerk en skoolprefek. Sy verwerf ook kleure in redenaars, waar sy ’n semifinalis is in die nasionale ATKV-redenaarskompetisie, asook vir debat, waar sy ook in die nasionale kompetisie van die Rapportryers ’n semifinalis is. Die trofee vir die Beste Vroulike Byspeler op provinsiale vlak word aan Carina toegeken en sy verwerf ook kleure vir Koor. Sy ontvang haar skool se wisseltrofee vir die Kultuurpersoonlikheid van die Jaar in 1994.

Die invloed wat haar grootwordomgewing op haar skeppende sy uitgeoefen het, beskryf sy as volg in ’n onderhoud op Versindaba: “Die plaas, Bergfontein waar ek grootgeword het, is afgeleë. Vanuit die berge het die visarende gekom en die jakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, luiperds. Ons het hulle gehoor, soms gesien, die spore herken. Wanneer die boorgat opdroog, het ons gesin in die Mokolorivier tussen die waterlelies en riete gebad. Hierdie landskap het my gefassineer, ontroer, woedend gemaak en lief. Die natuur het ook my belewenis van die erotiese gevorm. Ek wou daaroor skryf.

“Ek was tien jaar oud toe ons elektrisiteit gekry het en ’n televisie. Voor daardie tyd is my verbeelding wakker gemaak deur my ma se boeke en my pa se kontreistories. My ouma wat by ons gebly het, het graag rymspeletjies gespeel en ons sou partykeer sommer ’n hele gesprek net in rymsinne praat. Visuele prikkels was die bekende: in die houtplafon en leiklipvloer van die plaashuis, het ek verbeelde diere gesien; daar was gesigte in die vlamme; ek het beeldjies van miershoopklei gemaak. Vandag nog dryf die visuele my om te skryf.”

Carina se talent vir kuns en skryfwerk het saam-saam ontwikkel. Sy is soggens voor skool deur haar ma en pa wakkergemaak om eers te teken voordat sy skool toe is. Sy vertel verder aan Hanlie Retief: “Dan’t ek daar gelê en teken aan die houtgreine van die plafon, die deure.”

Die besef het eers later tot haar deurgedring dat nie alle kinders so gelukkig was soos sy om só vry en kreatief groot te word, met al die geleenthede om haar talente uit te leef nie. “Dis eers by vriende waar ek besef het wat vir my doodgewoon is, my kreatiwiteit wat my ouers sonder oogknip aanvaar het, is nie heeltemal die norm in die wêreld daarbuite nie.”

Carina matrikuleer in 1994.

Verdere studie en werk

In 1995 skryf Carina haar in vir die graad BA (Beeldende Kuns) aan die Universiteit van Pretoria. Behalwe die vakke wat deel is van die Beeldende Kunste-graad neem sy ook filosofie, pedagogiek en Sepedi. Sy dien as komiteelid van Studentekultuur en is verantwoordelik vir konserte (1995–1997) en bemarking en publikasies (1998). Sy skryf ook kuns- en boekresensies vir Die Perdeby, die weeklikse kampuskoerant en organiseer die Wedvlug-skryfkompetisie vir universiteitstudente. Sy behaal haar Beeldende Kunste-graad in 1998.

Oor haar studentejare vertel Carina vir Die Perdeby wat sy onthou: “Om in die son op Suidkampus te beitel, sweis, swets en lag terwyl die Beatles speel. Om elke naweek te dans dat die vloere vonk. Hoe wow dit was om vir die Die Perdeby stories uit te snuffel. Om die Vlieg-bundel vir Studentekultuur saam te stel. Ek was in Magrietjie en moes twee keer die Eerstejaarskonsert skryf – ek onthou hoe vrekskaam ek was én hoe opgewonde toe dit ’n prys wen. Om vakansies saam met vriende na Zimbabwe, Zambië, Malawi en Zoeloeland te toer en daar saam met swart oumas op landerye te werk, kliniek en poppekas te hou, bakstene te maak, water uit putte te skep, om ’n te vuur sing.”

In haar eerste jaar op universiteit word haar kortverhaal "’n Viking se voorskoot" opgeneem in die bundel Drif, saamgestel deur Lindeque de Beer (JP van der Walt-uitgewer, 1995). Die volgende jaar wen sy ’n derde prys in De Jager-HAUM Kagiso-FNB se kortverhaalwedstryd. Sy wen ook Finesse se Millennium-kortverhaalwedstryd in 1999. Sy publiseer in hierdie tyd ’n aantal gedigte in Tydskrif vir Letterkunde.

In 1998 organiseer die Suid-Afrikaanse Waterverfvereniging die kunswedstryd Eiers vir Afrika. Die wedstryd is in Desember 1998 bekend gemaak en in Februarie 1999 het hulle uit 97 inskrywings wat ontvang is, 66 vir die uitstalling uitgesoek. Carina se inskrywing “24 eggs in 1 day” in gemengde medium is as die wenner aangewys. Dit het bestaan uit ’n houtpaneel met 24 afdelings wat elk ’n ander voorwerp van herwinde Afrika-materiale bevat. Daar was ’n volstruiseier, sade, akkerdoppies, ’n bal waarom tou gedraai is, draad, pampoentjies, balle, eierhouers, Coca-Cola-blikkies, vere en draad, ’n bal wat vol saad geplak is, ’n klein skilpaddop, sonneblomsaad en ’n veer in ’n volstruiseier.

“Ek wou die diversiteit van Afrika in een dag uitbeeld,” het Carina aan Janine Morris (Beeld, 13 Maart 1999) vertel. “Afrika vorm ’n eenheid, maar bestaan uit uiteenlopende kulture, lande en nasies net soos een dag uit 24 uur en ’n warboel uiteenlopende emosies bestaan. Die eier of eiervorm maak deel uit van daardie dag.”

In 1999 verwerf sy haar BA Honneurs-graad in Beeldende Kuns met beeldhoukuns en visuele kommunikasie as vakke. Haar beeldhouwerke word onder andere gekeur vir uitstallings by Sasol Nuwe Handtekeninge (Pretoria Kunsmuseum), PPC Beeldhouer-uitstalling (Pretoria Kunsvereniging) en die FNB VITA Awards-uitstalling by African Window.

In 2004 en 2005 doen sy ’n MA-graad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad en behaal dit cum laude. Gedurende haar nagraadse studiejare ontvang sy die volgende beurse: Prof JJ Smith-beurs van R11 000, die Harry Crossley-beurs van R4 000 en die KW Johnstone-beurs van R3 000.

Carina beskryf haar beeldende kuns as ’n spel tussen natuur en bonatuur. “’n Jakkals ruik aan ’n vrou se hand: na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ’n lewende wese gebore word? Waar aard ons, waar voel ons tuis? Die aarde as planeet verskyn in ’n aantal sirkelvormige skilderye, maar uiteindelik wens my kuns vir die terugkeer na Eden of die Nuwe Aarde. As die kind ’n pofadder onder ’n druiwetros vashou, is dit asof vrede tussen dier en mens en God herstel.” (http://theresawilds.wix.com/carinastander#!visuele-kunstenaar)

Terwyl Carina op universiteit was, het sy in ’n kommune saam met vriendinne gewoon. ’n Vreemde man, Gerrit van Niekerk, wat ingenieurswese studeer het, het toe ook daar ingetrek. Sy het hom probeer vermy, omdat sy "ingenieurs verpes het omdat hulle oor alles stry en nooit ’n grappie kan vang nie”.

Sy vertel in die verhaal “Tweespoor” wat sy vir Ware Liefde / Romances to Remember (saamgestel deur Corlia Fourie, Human & Rousseau, 2008) opgeteken het hoe sy een aand, terwyl Gerrit beskuit bak, vir hom vra of hy ’n reisdroom het, "want daar is ’n stuk aarde wat haar al sedert haar kinderjare roep: die Amasone. 'Wag, laat ek jou my droom wys,' sê hy en gaan haal ’n boek wat hy as laerskoolkind present gekry het – ’n oerwoudboek.

“Ek was heimlik verlief, maar dié krulkop wou net my reismaat wees. Saam het ons ons rugsakke gepak, Cambridge bestorm en in ’n driehonderd jaar oue houtskuur gaan woon. Die landheer, John McGill was ’n bebaarde afgetrede beeldhoudosent. In sy studio het ek hout gekerf, brons gevyl, hars gegiet en só my verblyf in die ruim solder betaal. (...)

“Midsomer het Gerrit se broer in Italië getrou. Die Toskaanse klipdorp Pitigliano was ouer as die berge en reddeloos romanties: daar was kerktorings met koperklokke, kasteelmurasies, sipresse, papawervelde, katjiepierings, olyfboorde en wingerde. Die oggend van die troue het al veertien gaste salami gekap en veldblomme gepluk. (...)

“In Italië het die verliefdheid Gerrit op die skouer getik. Hou my dop, het hy gesê, en kyk hoe dit in liefde verander. My eie hart was egter onder narkose. Vir my was hy nou ’n boesemvriend, my reismaat. Sonder dat ek hom ’n greintjie hoop gegee het, het hy ’n volle jaar lank gewag dat my hart stadig ontwaak.

“Ná agtien maande in Engeland het die Skotse Hoogland gewink. Hier het hy blinkoog gevra of ek sy meisie sal word. Ons blyplek was ’n kothuis wat 150 jaar tevore aan die rand van Fairies Wood gebou is. Ons landheer, ’n eksentrieke Frazer, se familie het sedert vyftientoet op dié landgoed in die vallei naby Loch Ness gewoeker. Ons huisie had twee slaapkamers, vuurherde en ’n liggeel houtkombuis. Die eerste aand in die woudhuis het ons die Bybel oopgeslaan by Jesaja 63:14 en verstom gelees: ‘Soos ’n trop beeste na ’n groen vallei toe afgaan, so het die Gees van die Here sy volk na ’n woonplek toe gebring ...’ (...)

“In Skotland werskaf ek vir die beeldhouer Gerald Ogilverie Laing in sy kasteel-studio en by Kilmorack Gallery – ’n katedraal tussen die berge wat in die grootste kunsgalery in die Skotse Hoogland omskep is.

“Ná ’n halfjaar in Skotland was dit tyd om die waterval en rooiborsvoëltjie, die dynserige berge wat ligpers en spookwit skakeer, die wildeaarbei en rankroos by die voordeur te groet.

“Met 2002 se sonsverduistering is ek en Gerrit saam met sy gesin na die Kruger-wildtuin. Een middagete het ek ’n waatlemoen op my kop gedra, toe ’n wildvreemde man my voorkeer en vra of ek oor drie dae op safari wil gaan – vir ’n volle maand, gratis. In ruil daarvoor moes ek vir tien Nederlandse toeriste kook.

“Vir die eerste keer vandat ek en Gerrit twee en ’n half jaar tevore ontmoet het, sou ons mekaar vir langer as ’n dag nie kon kontak nie. Hy was rustig oor ons pad saam vorentoe, maar ek was benoud dat ’n huwelik my vryheid sou steel. (...) In die Okavango het die roete vir my helder geword.

Die mekoro met toeriste het dieper die delta in vertrek en ek moes drie nagte alleen op Makwena-eiland agterbly. Met ’n sarong om my lyf en ’n kop vol vlegsels het ek deur die oopgerolde tentflap na die maan gekyk. Ek het onthou hoe vry Gerrit is, hoeveel eenheid daar in ons gedeelde vryheid lê. Toe het ek my koplig aangeskakel en geskryf: Nou weet ek, oor grense heen, jy is vlees van my vlees en been van my been.

“Gerrit het al die pad van Pretoria af gery om my in Kaapstad te ontmoet waar die safari geëindig het. Met die weersiens was daar genoeg elektrisiteit in die lug om die ganse Koeberg van krag te voorsien. Een skemerdag, toe ek dit die minste verwag het, het hy my geblinddoek na ’n klipkop buite die stad ontvoer. Daar het ’n pootjiesbad op my gewag met kerse in ’n kring. Binne-in die bad was geweefde kussings, bakkies vye en neute, kaas en druiwesap. Ons het gesels oor die drie jaar saam, ons het gebid. Met donderweer in die verte het hy gevra of ek die langpad saam met hom sal vat. Die ring was twee blaartjies van rooigoud wat om ’n ambersteen krul. Gerrit het dit self met ’n ystervarkpen uit modelleerwas gekerf en by ’n juwelier laat giet.

“Stiptelik drie jaar nadat hy as vreemdeling in ons studentehuis ingetrek het, het ons getrou. In die tuin op die Bosveldplaas waar ek grootgeword het, is houttafels in ’n spiraal onder die reuse maroelaboom gepak. Fakkels en lanterns is aangesteek. Tagtig gaste was uitgedos in safaridrag, Basothokomberse en Ndebelerokke. Ek was kaalvoet, in wit. Die broers en suster het bekfluitjie en jembetrom getokkel, tjello en kitaar. My pa se speenvark en skaap was op die spit en soetmielies het oor die kole gesis. Daar was ’n stewige pot mieliepap, stervrugte en druiwe in uitgeholde boerpampoene, geroosterde groente, ’n kruiwa vol potbrood en biltongbrood, koeksisters en kolwyntjies, gemmerbier en moerkoffie. Later het ons in die skuur getiekiedraai.

“Agt maande later het ons Kaapstad toe getrek sodat ek ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk kon aanpak. Drie studiebeurse het my in staat gestel om voltyds te studeer. Bedags het Gerrit oorkant my by die kombuistafel geprogrammeer. Sy seeklippie-oë en stoppelbaard was mooi om na te loer. Soggens het bye in die peperboom gezoem. Daar was ’n kaggel en ’n pootjiesbad in die huis. Wanneer die suidooster gewaai het, het die dakbalke, gemaak van ’n ou appeltrok, gesels.

“Ná agtien maande in Houtbaai het ons drie-uur een Saterdagoggend wakker geskrik met inbrekers in die huis. Op pad na ons slaapkamer het drie mans Gerrit met geslypte metaalstawe gesteek en gewurg. Hy het met sy lewe geveg om te keer dat hulle by my uitkom. Ek het deur die oop venster gespring en gevlug. Toe die inbrekers hoor dat ek buite is, het al drie my agtervolg. Die aanvallers was skaars ’n armlengte ver, die ysterstawe reeds in die lug, gereed om my te steek. Skielik het ek die Krag ervaar. Ek het my vinger uitgesteek en hard uitgeroep: ‘In the name of Jesus Christ you will not touch me!’ Hulle het die wapens laat sak en met ’n uitdrukking van totale skok na my gestaar. Toe het hulle gevlug.

“Hulle het Gerrit vir dood agtergelaat. Hy het ’n kopwond, ’n wond aan sy arm en ’n gaatjie in sy een longsak gehad. Sy nek was vol skrape waar hulle sy are probeer steek het. Hy het op die bebloede vloer gekniel en vir die siele van sy aanvallers gebid. Ek moes die vloer drie, vier keer mop voordat die water helder was. Snags was hy die ene angssweet. Soms was hy so taai dat ek oortuig was hy bloei. Ons het gedurig wipplank gery tussen uiterse vrees en verwondering. (...)

“Op my 29ste verjaardag word ons kinderdroom bewaarheid toe ons in die louwarm Amasonerivier bad. Visse vlieg met borsvinne deur die lug. Vleespienk rivierdolfyne blaas en spuit om ons. Hoog in die takke is ’n luidier. Die skarlaken-en-groen papegaai is so lank soos Gerrit se arm. Die blou-en-geel papegaai vlieg met die son op haar bors. Ons roei deur die vloedbos. Die waterlelies in die moeras is so groot dat ’n kind daarop kan dryf. (...) In Peru snuffel Gerrit ’n piepklein rooi poncho tussen stapels wolklere uit. Die kappie is met llamalammers geborduur. Hy glimlag: ‘Vir ons dogtertjie ... eendag.’

“Kersfees 2005 bid Gerrit: Die wêreld is wyd – waar op dees aarde moet ons nesskop? Hy kry die gevoel dat hy die atlas op bladsy 92 en 93 moet oopmaak. Skepties wonder hy hoe een plek op twee bladsye kan wees. Wraggieswaar: een kaart is ’n vergroting van die ander! Hy laai dié hoekie van Google Earth af en bewonder dit heeljaar. Elf maande later bel hy die eienaar op die dag dat die grond vir die eerste keer geadverteer word, en ons koop dié erf in die Tsitsikammawoud ...”

Carina se ouma Anna is met Alzheimersiekte gediagnoseer toe Carina 12 jaar oud was. Carina het haar ses jaar lank versorg: gebad, aangetrek, slaaptydstories vir haar gelees, vertel sy in Beeld (26 September 2011). Soos ouma leef hul anderkant werklikheid. “Omdat ek wou. Omdat ek iets wou doen om dankie te sê, want toe ek ses jaar oud was en Ouma se verstand nog helder, het sy my leer rym. Sy sou ’n woord sê en ek moes vinnig met ’n rymwoord antwoord totdat ons later spontaan in rymsinne sou praat – soms ’n hele gesprek wat rym!”

Carina se ouma is oorlede ’n week voor sy universiteit toe is. Sy onthou: "Haar liggaam was nog warm toe ek langs haar inkruip met ’n potlood en papier om haar vir oulaas te teken. As ’n soort herbesoek aan Ouma het ek twee jaar lank een middag per week Alzheimer-pasiënte in Cambridge en die Skotse Hoogland versorg. Een dag kom ’n nuwe pasiënt, naamkaartjie in die hand, voor my staan. Verwonderd, verdwaas. Versteurd, ja, maar haar woorde was die klokhelderste definisie van waansin: ‘This is me name, but I can’t find me anywhere.’”

Carina vertel aan LitNet: “Ons het vier jaar in Kaapstad (in Houtbaai en Lladudno) gebly en in daardie tyd van die huis af gewerk. Gerrit as programmeerder en ek as skilder en vryskutjoernalis vir vyf tydskrifte. Ons het besef dat ons die stad nie werklik nodig het nie, maar dat ons al ons werk oor die internet kan aanstuur. Ons het in Januarie 2008 Tsitsikamma toe getrek. Ek het ’n jaar hier gewoon voordat die tydskrifte besef het ek is nie meer in Kaapstad nie. Veral vir reisartikels maak dit geen verskil nie. In die stad het dit my ’n uur geneem om lughawe toe te ry; hier neem dit my ’n uur en ’n half. Die Tuinroete is ook nie ’n konserwatiewe soort platteland nie, daarvoor is dit veels te internasionaal. Hier is meer as een Italiaanse restaurant, ’n regte Portugese bakkery, ’n boekmaker, puik boekwinkels en viswinkels, ’n string deli’s, kunsgalerye.

“Om hierheen te kom was ’n soort semigrasie – die laaste kans wat ons die land wou gee voordat ons emigreer as gevolg van die gewelddadige misdaad. En ja, dit is veilig hier in die kuswoud. Ons draf in die berge, stap volmaan op die strand, word wakker saans van bosvarke buite die huis – nie boewe nie. In ons straat het mense slegs heinings om hulle honde binne te hou. Daar is net ’n venster tussen my kind en die blouape en bosbokke in die tuin. Vryheid: dis hoekom ons hier is.”

In 2006 word Carina se eerste digbundel, die vloedbos sal weer vlieg, deur Tafelberg uitgegee. In 2004 en 2005 het Carina 45 nuwe gedigte geskryf vir die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad. “Omdat ek ’n beeldende kunstenaar is, is my beeldetaal-klier effe ooraktief. Joan Hambidge (alias Oubasie) was ’n baie toegewyde dosent. Sy het die lat ingelê totdat ek verstaan het van beeldkongruensie en konkreetheid. Die kursus het my ook geweldig baie geleer oor die tradisie waarbinne ons skryf. Van die sewentig verse in die bundel is vyf en twintig lank terug geskryf – sommiges selfs in my hoërskooljare. (...) Daar is egter dinge waaroor ek twee en twintig jaar lank probeer skryf, soos die skietongeluk waarin my broer sy oog verloor het. Laasjaar (2005) het die vers ‘blindelings’ uiteindelik ontstaan,” vertel Carina aan Etienne Bloemhof (op LitNet).

die vloedbos sal weer vlieg is in 2007 op die kortlys van die Universiteit van Johannesburg se Debuutprys.

Op Versindaba beskryf Carina die deurlopende tema in hierdie bundel as volg: “Die woord ‘vloed’ in die vloedbos sal weer vlieg herinner aan oorvloedigheid en aan ’n skare: ’n ‘vloed’ van mense. Om te sê dat die vloedbos weer sal vlieg, is ’n profetiese uitdrukking van hoop, ’n verwagting dat daar oomblikke is wanneer die aarde kan ‘vlieg’ of floreer.”

"’n Vloedbos is ’n mangliet of 'mangrove': die wortelboom van die kuswoud. Nadat ek die bundeltitel gekies het, het ek in die Amasone gereis en gehoor dat die oerwoud die varzea of 'flooded forest' genoem word. Ek het sowaar deur ’n vloedbos geroei!” vertel sy aan Etienne Bloemhof.

Sy vertel verder: “Die sewentig verse is in vier afdelings verdeel. Die ‘Oesjaar’-afdeling gaan oor my grootwordjare in die Waterberg – die landskap en mense wat my gevorm het. Ek speel met werklikheid en bowerklikheid. Die tweede afdeling, ‘Karkaskaal’ gaan oor seksuele geweld. Hier erken ek my vrees om die slagting in ons land in die oë te staar én my vrees om nie te staar nie. Die donker geheim word óópgeskryf, sodat die Verlosser-argetipe kan verskyn en inisiasie plaasvind.

“Die reisigers in die ‘Ewenaar’-afdeling is ook geliefdes. Die dinamika van die huwelik is een van vryheid en eenheid. Die natuur is die ruimte vir sensuele ontwaking, kreatiewe vloeiing, eenwording. In die slotafdeling, ‘Groeikrag’, vloei die ek-God-verhouding uit in ’n ek-kosmos-verhouding. Wanneer die vloedbosse geseën word, is daar herstel vir Afrika. Die terugkeer na Eden, die staat van onskuld, kom in vele verse voor.”

“Die groot vonds van enige gedig is sy beeldgebruik,” skryf Marius Crous (Die Burger, 29 Januarie 2007), “en wanneer ’n visuele kunstenaar soos Carina Stander gedigte skryf, verwag ’n mens skerp waarneming en ’n juiste beskrywing van beelde. Wat haar beeldgebruik soveel varser maak, is dat sy aansluit by die bekende in haar omgewing en dit dan metafories omvorm.” Hy voel egter dat sy moet waak teen ouderwetse woordgebruik en te veel woorde.

Vir TT Cloete (Beeld, 30 Januarie 2007) verken hierdie debuutbundel ’n besonder wye plaaslike wêreld, maar ook ’n wêreld van ander nasionaliteite en landskappe. “Daarbenewens is daar intieme en delikate liefdesgedigte, naas liries religieuse gedigte, daar is gedigte van medelye met lydendes, met loopneuskinders, vigswesies en verkragtes – ’n ruim verskeidenheid. (...) Die gedigte is vol sonskyn, vol lag en sing en klank (‘’n vink rinkink in klinkende taal’), benewens die pynlike. Veral word hier baie van saad gepraat en dit voorspel ’n talent wat gevul is met baie mooi dinge wat nog kan kom.”

In Volksblad van 27 Februarie 2007 skryf Bernard Odendaal: "’n Sintuiglike weelde kenmerk die digteres se werklikheidsbelewing – waarskynlik meer akuut gemaak deur die feit dat sy doof gebore is, maar tog op wonderbaarlike wyse haar gehoor teruggekry het (‘Vrygeborene’). Die weelde van daardie belewing spoel oor in haar digkuns, wat sprankelend klankryk aandoen en uitmunt deur sy frisse beeldingskrag.” Volgens hom is die vloedbos sal weer vlieg is ’n opwindende debuut.

“Stander se debuut tref jou met sy ruie sintuiglikheid en die tuimeling van beeld op beeld,” skryf Francois Smith. “Dit is ’n woordgevoeligheid wat in die eerste afdeling, ‘Oesjaar’ gekoppel word aan grootwordjare op ’n plaas, en die poësie wat dáár ontstaan, is gewortel in die aardse, in die geluide, kleure en teksture van dae en nagte in die veld. Maar dit is ook poësie ingegee deur die ‘erflating’ en ‘voorbeeld’ van ouers en grootouers, ’n intieme verwantskap tussen mense waarin daar ’n verband ontstaan tussen boer met verskalwers en boer met verse (gedigte). Die mistieke strekking is opvallend, ook ’n aardmistiek, en die skryfkuns word ’n bykans rituele opwekking van die grondstowwe.”

"Carina se debuut beïndruk ’n mens met die woord-, klank- en beeldvaardigheid," skryf Daniel Hugo op LitNet. "Op die titelblad word die inhoud van die bundel aangegee as ‘sewentig vry verse’. Soos altyd in die geval van goeie poësie is die verse nie werklik vry of los nie, maar goed gekonstrueer met ryme, halfryme, refreine en sirkulerende elemente. Dit is ’n meerdimensionele bundel wat tot die oog, die oor, die hart en die verstand spreek."

Henning Snyman (Rapport, 6 April 2007) sê: "Carina is ’n jong digter wat vars kyk na die wêreld, ongerep en vry van ’n verstikkende lading van teorie en intertekstualiteit. Nie dat intertekstualiteit nie ’n teks se onderbou kan versterk nie, maar dis heerlik bevrydend om iemand te vind wat daarsonder kan dig en pragtige poësie kan skep. Stander se gedigte is inderdaad ’n oorvloed van beelde en geil waarnemings, maar kan dit dra omdat die tematiek intens daarmee verweef is. Die vier afdelings behels ’n wye bestekopname wat die mens teenoor die skepping stel, die gewelddadigheid en wreedheid, die erotiek en die godsdiens. Dis ’n moedige onderneming in die hand van ’n ervare digter, te meer so vir die beginner. Maar dié debuutdigter kry meer reg as wat sommige ervare digters kan vermag. Miskien deur die oorweldigende skeppingsdrang, miskien vanweë haar opleiding in die skone kunste, maar veral danksy een sterk, deurlopende leitmotif: die mens staan in sy onbegrip gekonfronteer en weerloos teenoor en terselfdertyd afhanklik van ’n Goddelike Wese. Feitlik in mitologiese vorm en formaat probeer die digterlike siel die oorweldigende en verwarrende indrukke poëties karteer. Asof die geweld van die skepping hier oorgaan tot die geweld van die gedig en die digterlike skeppingsproses. (...)

"Daar is oordaad, soms te veel teenwoordige deelwoorde, soms haastige oorgange. Maar dié jong kunstenaar ervaar die wêreld rondom haar met oog en oor, absoluut sintuiglik, en beskik oor die vermoë van beeld en woord. Met meer ervaring sal die verse gestroop word, maar intussen geniet die leser die sentiment van geil woord en beeld.”

Wanneer maak sy tyd om te skryf? Aan LitNet vertel sy: “Daar is drie dinge waarsonder ek nie kan skep nie: verbeelding, stamina en ’n sperstreep. Verbeelding is wat dit is: ’n binne-sintuig. Stamina is ’n soort hardkoppigheid, ’n single-minded wil om aan te hou skep, of mens nou wil of nie. ’n Sperstreep of deadline is ’n grens wat ek skep en waarby ek eenvoudig hou. Want wanneer die wilde perde van verbeelding deur my tuin hardloop, is daar ’n tyd om hulle te ry en ’n tyd om hulle tot rus te bring. Soos almal griffel ek ook maar oral inspirasie-notas neer. Die werklike verwerking en voltooiing van idees gebeur dan in die drie ure bedags wanneer my peutertjie slaap en van sewe tot elf saans as alles stil is.

“Daar was ’n stadium wat ek agt weke aanmekaar sou werk sonder om naweke te halt, maar ek vind dat tyd en effektiwiteit nie noodwendig parallel loop nie. Daarom maak ek nou weer tyd vir ou rituele wat my help om stamina te behou: klim twee keer per week berg, gaan boogy, rumba en tango elke week saam met my man, bid skemertyd op die strand, speel behoorlik met my kind, kuier in die hangmat met vriende, fliek. Eers daarná oorleef ek maklik ’n week waarin ek artikels of ’n kortverhaal, opdragvers en nuwe skildery moet inhandig. Werk hard, speel hard – dís die ritme wat my laat rimpel van kreatiewe plesier. En as ek ná ’n groot projek voel dat ek getrou genoeg was aan verbeelding, stamina en sperstreep, beloon ek myself altyd met ’n reis na ’n wonderlike plek waar ek weer nuwe skryf- en kunsidees kan versamel.”

woud van nege en negentig vlerke word in 2009 by Tafelberg uitgegee. Oor die dieper betekenis agter die titel van die bundel sê Carina aan Marlise Joubert (Versindaba) dat voëls die simbole van onsterflikheid is, omdat hemelwesens vlerke het. “Engele word ook verbind met die lug, wind en vrymaking. Die swerms trekvoëls in my verse staan vir grensloosheid, vir reis. Nege en negentig vlerke is ’n amper-daar. ’n Byna-volledigheid. ’n Afvlerkdier. En ’n woud is ’n droomwêreld, ’n primordiale ruimte van skoonheid en gevaar, ’n plek om te verdwaal. Heelwat van die verse is in paradyslike grond geplant, maar daar is byna altyd ’n spanning tussen skoonheid en gevaar. Skoonheid, wat gevaar impliseer, soos ’n vloeiende vulkaan of sneeustorting. Gevaar wat in skoonheid opgesluit is, soos die reënboogvel van ’n slang.”

Sy vertel dat die bundel vol vulkane, tropiese korale, eilande, moerasse en erotiek is. Ook vol vloede, woude, berge, swangerskap, vreemdsoortige diere en engele, gesprekke met digters, familie en vriende. “’n Tematiese hegrank tussen die twee bundels, is die reismotief. Maar waar die vloedbos sal weer vlieg meestal in Afrika afspeel, gooi ek hierdie keer die vensters oop na ander kontinente, veral Suid-Amerika. Hier is meer uitheemse spesies as voorheen.”

Carina verduidelik in Sarie (21 September 2009) aan Phyllis Green dat sy reeds drie jaar voor die boek verskyn het, die titel woud van nege en negentig vlerke gehad het en ook ’n prentjie van die voorblad in haar kop gesien het. Sy het dit geskets en in haar lêer gebêre.

Sy het dit egter eers geskilder nadat sy al 70 gedigte klaar geskryf het. "Die boom op die voorblad is net ’n geraamte, maar die drie vere wat daaraan hang, is die ene lig en lewe. Ook op die agterblad groei daar nuwe blaartjies uit die voël se dooie takvlerke. Die boom is simbool van opstanding uit die dood, omdat sade herleef en wortels en takke uitloof selfs ná droogtes of brande of boomslagtery. Met sy ondergrondse wortels en takke in die lug, verwys die boom na die hemelse, aardse en onderaardse. Die boom as organiese ritueel, as seisoendraer, is deel van my geestelike identiteit.”

Die bundel is in ses afdelings ingedeel en die sentrale tema in elk is die volgende (soos aan Phyllis Green vertel): “Die eerste afdeling, ‘vlam onder die water’ speel af op die vulkaaneilande van Hawaii, in Bolandse wingerde, langs die Kaapse kus, by Argentinië se 270 watervalle, in die Amatola en Kalifornië se woude. Hierdie gedigte is opgedra aan ‘die God van hemel en aarde’. Hy is die Vlerkman of Skutsengel wat die verdwaaldes opsoek en terugneem na neste wat sterker is as die storms.

“Die tweede afdeling, ‘vasteland, wankelland’, handel oor Suid-Amerika en Afrika. Vastelande is nie vas nie – hulle wankel: die Brasiliaanse slawe dans vir vryheid. Suid-Afrikaners immigreer, maar verlang. ’n Malawiese vrou met malaria versorg ander. Hier is die wonderwerk soms groter as die wond.

“Afdeling drie, ‘sondoop’, is gesprekke met vriendinne en met literêre voormense soos Jonker, Leipoldt en Weideman.

“In die vierde afdeling, ‘wildernis’, besoek ek weer die plaas in die Waterberg waar ek opgegroei het en waar my ouers steeds boer. Ek is nie meer ’n buikspreker vir die kind wat ek was nie, maar skryf nou oor my ouers in ’n tyd toe hulle so oud was soos wat ek nou is. Dit gaan hier oor herinneringe aan eenvoudige oorvloed en oorvloedige eenvoud.

“Afdeling vyf, ‘palm-pas’ is liefdesgedigte vir my reismaat en man. Dit speel af in die woudhuisie in die Skotse Hoogland waar ons vir ses maande gewoon het en oor ons saamwees in die Amasone-oerwoud. Dis verse oor eenwording, sensualiteit, bevrugting.

“Die sesde afdeling, ‘die nege-maande-moeras’, gaan oor die wonderlike wagtyd toe ek swanger was met ons eersteling. Die moerasse, riviere en oseane in hierdie gedigte, is ’n ruimte vir swangerskap: in die donker waterwêreld broei ’n geheim uit, ’n onsigbare seuntjie. Die bundel eindig by ’n nuwe begin: die geboorte.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 5 Januarie 2010) is beïndruk met die "pragtige klankgebruik en beelding in woud van nege en negentig vlerke, spesifiek in die laaste twee afdelings. Die gevaar dat die ekstase-getinte lewensingesteldheid kan aanleiding gee tot inhoudelike en stilistiese oordaad, word myns insiens grootliks deur Stander vermy. Slegs die herhaalde, selfs opvallende gebruik van intensiverende of nuanserende samestellingsvorme, dikwels in verband met kleure, het plek-plek gesog wou aandoen. Ek haal ’n paar voorbeelde aan: ‘ryp-sagte buik’, ‘gebrande-oranje somers’, ‘tongpienk bloeisels’ en ‘siekblou see’. Talle besonder aantreklike gedigte deurspek egter die bundel. Dit bied ’n optimistiese lewensbeskouing wat egter nie so naïef is om die verskrikkinge en droewighede van die wêreld mis te kyk nie.”

Carina voer Catrina Aldrich (op LitNet) mee na ’n wye verskeidenheid landskappe, weerstoestande en stemmings. “Beelde van lewe en bevrugting is terugkerende motiewe in die bundel. Die kunswerk op die voorblad, deur Stander self geskilder, word op paratekstuele vlak ’n rigtingaanduider by die interpretasie van die teks, omdat dit een van die sentrale temas in die bundel op treffende wyse visueel belig. Die omslag beeld ’n skeletagtige boom teen die agtergrond van ’n blouerige naghemel uit. Die afwesigheid van sterre in dié hemelgewelf trek die aandag na die drie byna gloeiende vere wat uit die boom se dooie takke spruit. Die vitaliteit van hierdie vere is in skerp kontras met die indruk van doodsheid en verval wat die boom skep. Sodoende word die leser se aandag toegespits op die aanwesigheid van bevrugting, groei en nuwe lewe – temas wat op inhoudelike vlak sentraal staan.

“Ten spyte daarvan dat vernietiging en aftakeling in sommige afdelings en verskeie gedigte voorop gestel word, vleg Stander die temas van polsende lewe met ’n behendige kunstenaarshand dwarsdeur die bundel. Elke kwynende boom bevat gloeiende, lewende vere. Die implikasie van die titel, in kombinasie met die kunswerk op die voorblad, is dat die leser met ’n hele woud van sulke betowerende bome te make het. Die gegewe word nie beperk tot die drie vere op die voorblad nie, maar uitgebrei tot nege-en-negentig vlerke. Die getal nege-en-negentig suggereer ’n element van onvolledigheid en onvolkomenheid wat die prosesmatige voorop stel deur ’n onvoltooide, wordende siklus onder die leser se aandag te bring. Sodoende dui die titel aan dat die perspektief voortdurend op die toekomstige – op dit wat nog mag kom – moet wees. Dit is ’n aanbeveling wat beslis ook op Stander se digterskap betrekking het. Die bundel sluit immers af met ’n metapoëtiese bepeinsing oor hoe om ‘dié vroeglente’, die nuwe fase in haar lewe, doeltreffend te verwoord: ‘dit weet digter alleen’ (110). Hierdie digter het onteenseglik die gereedskap om dié voortdurende verkenningstog met haar fyn belewenis en seggingskrag so aan te pak dat haar lesers graag sal wil saamreis.”

Ampie Coetzee skryf as volg in Die Burger (19 Oktober 2009) oor woud van nege en negentig vlerke: “’n Bundel wat met verbeelding en metafoor só begin soos woud van nege en negentig vlerke van Carina Stander beloof om iets te beteken: om op die rug van ’n donkie in die see te swem/ deur ’n land bo die wolke/ oor landskappe van droom/ ’n pen soos ’n staf in die hand/ .../ om veerlig te dryf/ ­verse te skryf/ die son ’n engelkop/ vanaf ’n eselrug aanskou.

“Dit is dán moeilik om op die wyse van die prosa te her-vertel wat die metafoor op ’n ander manier ­vertel, op ’n ander manier na ­betekenis soek. Die inhoud, wat betref die spesifisiteit van tyd en plek, word grootliks oorheers deur digmiddele – ‘’n pen soos ’n staf in die hand’. (...) Dit is hinderlik dat subjekte in gedigte skielik verander; en dat sekere wendings nie verstaanbaar uit die konteks van ’n gedig kom nie. Maar dié besware wat ’n mens kon hê, is min in vergelyking met die metaforiese krag en die sterk verbeelding in die bundel.”

Vanaf 2006 vryskut Carina vir ’n aantal koerante en tydskrifte, onder andere vir Rapport Boeke, Beeld, De KatRooi RoseInsigSarie, Huisgenoot se boekebylaag en Lééf . Sy voer meestal onderhoude met medekunstenaars en skrywers of skryf essays en reisartikels. Saam met haar man vat sy die langpad deur Afrika, Suid-Amerika, die VSA en Europa en omskep dit later in reisstories. In 2006 en 2008 is sy aangewys as Artikelskrywer van die Jaar by die Media 24-tydskrif Lééf.

Carina het haar eerste solokunsuitstalling in 2008 in die Breytenbach-sentrum in Wellington in die Wes-Kaap gehou. Dit was getitel Aard – ’n spel tussen natuur en bonatuur.

Agt van Carina se gedigte is in Groot verseboek se nuwe uitgawe in 2008 opgeneem. Sy vertel op LitNet dat toe sy die e-pos kry wat haar vertel dat haar gedigte opgeneem is, sy gevoel het soos toe sy in matriek gehoor het dat sy gekeur is om beeldende kuns by Tukkies te gaan swot. “Al is ek (tussen Opperman, Breytenbach en meeste ander) net ’n eerstejaar met ’n eerstelingbundel, is ek nou in die geselskap van die Groot Geeste. Ore gespits, potloodskerpmaker en papier in die hand.”

Na die publikasie van die vloedbos sal weer vlieg het Carina in samewerking met Francois le Roux (die Ha!man) ’n CD met verse uit die bundel saamgestel. Haar gedigte beskik oor ’n musikaliteit wat spreek uit die refreine, rympatrone, allitererende en assonerende klank. Die woorde is nie net op papier musikaal nie, maar ook op die oor. Die CD, Vyftien musiekverse: die vloedbos sal weer vlieg, bevat 15 van Carina se gedigte wat sy self voorlees, met agtergrondmusiek en -klanke deur Francois. Dit is nooit oorheersend-dominerend nie, maar subtiel op die agtergrond. Carina se voorlesings is op sigself musiek en daaruit spreek haar kunstenaarstalent. Nie net is sy ’n beeldende kunstenaar en woordskepper nie, maar ook ’n stem-kunstenaar.

Vir die kunsliedere-produksie Nuwe woorde word nuwe liedere is ’n aantal van haar gedigte getoonset deur komponiste soos Niel van der Watt en opgevoer by Woordpoort in Pretoria in 2009 en die Woordfees in Stellenbosch in 2010. Drie van Carina se gedigte is ook getoonset deur die Nederlandse musiekgroep Souldada en word in November 2010 op hulle jongste CD, Oer de grins, vrygestel.

By die Volksbladfees in 2009 en Woordfees in 2010 is Carina deel van die kunsuitstalling Allooi, wat ’n tweegesprek tussen beeldkuns en woordkuns is. Vooraanstaande Suid-Afrikaanse visuele en woordkunstenaars is genooi om individueel of in pare twee nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreer word. Die enigste riglyn was dat elemente van sowel die visuele as woordkuns in elkeen moes voorkom. Carina was saam met Ingrid Winterbach die enigste individuele deelnemers.

Carina vertel aan Adolf van Coller van De Kat dat sy en Gerrit probeer om hulle seun Aden nuuskierig te maak oor die aarde en die mensdom en hy moet weet dat daar niks mee verkeerd is om "skaamteloos" lief te hê nie: “Voor Aden se speelvenster (my skryfvenster) is ’n bessieboom waaraan Knysna loeries op die oomblik smul. Vanoggend weer wakker gemaak deur blouape op die dak.

"Netnou saam getrippeldans op die wysie van ‘I’ve got joy like a fountain in my soul’. Ons lees stories, hou poppespel, bou blokkies, brrrmmm die karre, kruip oor duine, jaag seevoëls, soek met laagwater die pers seesterre in die getypoele, steek ons vingers in die anemone, teken met kryt, bou legkaart. Want ek wil hê hy moet wéét ek is hier. Dat ek síén hoe heerlik hy sy groottoon suig of sy dinosourus druiwe voer. Dat ek hóór as hy agter ’n vlieg aanhol en ‘wag, mot, wag!’ roep. Of slaaptyd die ganse heelal groet met ‘tatta blaar, tatta water, tatta maan’. Die ure wat hy bedags slaap, skryf of skilder ek soos weerlig; dan weer van sewe tot elf saans. Só het ek ’n ses-uur-werksdag. Aden is gemaklik met vaste rituele én verandering, daarom reis hy altyd saam. Laasjaar in Frankryk het ons hom vir drie weke lank elke aand in ’n ander gîte d’etape (stappershut) se wasbak gebad. Vanjaar is ’n camper van toer. Op 21 maande was hy al 26 keer saam met ons in die pens van ’n vliegtuig.”

Carina se eerste roman, Wildvreemd, word in 2011 gepubliseer. Sy het aan Hanlie Retief (Rapport, 4 September 2011) vertel dat die roman nie sommer gebeur het nie. Dit het 15 jaar gevat, is 20 keer oorgeskryf, en al wat haar aan die gang gehou het, was "geloof, hoop en liefde". En al was sy soms nie seker van haarself nie, het sy ’n onwrikbare vertroue gehad in haar karakters en in die storielyn.

Die uitgewers het dit sewe maal teruggestuur aan haar en elke maal was daar ’n briefie by wat sê dat die storie sterk is en so ook haar skryftalent, maar dit was op daardie tydstip vir hulle nie genoeg nie. Sy het weer ’n jaar daarna probeer en dit ingeskryf vir die romanwedstryd, met dieselfde gevolg: “Ek onthou hoe’t ek vir my troostee gemaak en by die venster gaan sit en vir die eerste keer in die 15 jaar gehuil.”

Jeannette Ferreira het in haar keurverslag vir Carina praktiese wenke gegee wat haar gehelp het om op die regte spoor te kom. Aan Hanlie Retief: “Ek’s lus en koop ’n kas wyn en blomme vir almal wat die manuskrip deur die jare afgekeur het, want hulle’t my gered van om die manuskrip te vroeg op die mark te sit.

“Die eerste keer dat my storie in my kop gespring het, was ’n sin uit my hoofkarakter se mond, nou op die eerste bladsy van my boek. Dit was in 1996, ek het kuns op Tukkies geswot en ek was in die stort, toe spring hierdie sin in my kop: stilte is ’n oergeluid.

“Ek het geweet dis die eerste sin van my roman. Ek het dit neergeskryf en gaandeweg het die vrou in my gedagtes vorm aangeneem. Sy is stom, en die rede daarvoor is omdat ek haar een wou maak met die diere, die stemloses. Sy is die verpersoonliking van stemloosheid.”

Gedurende die 15 jaar het die gebeure in die verhaal nie eintlik verander nie, maar een oggend – “nogal terwyl ek tande gevlos het!” – het sy skielik tot die besef gekom dat die verteller plek moet maak vir agt ek-vertellers en dit was net wat die manuskrip nodig gehad het.

“Ná soveel jaar wat ek met die karakters saamgeleef het, het ek hul stemme gekén, ek het presies geweet hoe elkeen klink, ek het toe bloot die mikrofoon aan hulle gegee. En toe werk die boek.

"Andersheid, buitestanderskap, is ’n tema in Wildvreemd. “Dit gaan oor doodgewone mense, maar êrens voel hulle hulle pas nie in nie. Dis nie ’n soekende identiteit nie, dis meer ’n viering van individualisme. Elkeen is ’n wildvreemdeling, maar in die buitestanderskap is hulle ook eenders in hul weerloosheid teenoor mekaar.

"Deur die verloop van die verhaal ontwikkel hulle deernis vir mekaar. Met die hoofkarakter, ’n stom byeboer, gebeur dit oor ’n tydperk van nege jaar, waarin sy vrede maak met haarself."

Oor haar hoofkarakter vertel Carina aan Elmari Rautenbach (Beeld, 7 November 2011): “Nege jaar gelede trek ’n vreemdeling van onsekere herkoms alleen in die Ruig in, ’n stuk oewerbos in die Waterberge van Limpopo. In die ­jare wat volg, bekwaam sy haar as uitsonderlike byeboer en veg vrou-alleen teen onwettige jagtery, soms op wraaklustige wyses. Almal vrees haar. Hulle glo die byt van ’n hiëna is die rede dat sy stom is.

“Vir my is die byeboer die verpersoonliking van die stemloses, die diere. Byeboerdery is een van die primitiefste boerderye op aarde. Dit pas by die ‘oergeit’, die sprokiesagtige of fantasmagoriese in Wildvreemd. Die koninginby is ook ’n metafoor vir die byeboer wat iets vreemd wonderliks in die geheim vorm. Soos ’n by is sy potensieel gevaarlik, selfs dodelik, maar ook heilsaam soos heuning.

“Die sikliese konsep van viriliteit ná die dood lê ook na aan die hart van hierdie verhaal. Die byeboer word uitgebeeld as ’n soort inisiant omdat sy die siklus van slagting tot genesing voltooi. Nadat sy uit die sogenaamde skyndood opgewek is, weet sy wat benede die onbewuste lê. Ek werk hier met die idee van die inisiant as bonatuurlike wese – ’n konsep wat sterk inspeel op onsterflikheid of ewige lewe, van skeppingskrag wat heers oor die dood.”

Of soos sy in dié kort uittreksel “vertel”: “Vir hulle is ek die alleendier, die eenkant een, die sondebok. Die woordstom vrou wat slaap tussen donker skaduwees.”

Carina het nog nooit self gevoel sy’s ’n buitestander nie. “Dis vir my half snaaks dat dit die hooftema in die boek is.”

Oor die diere-en insekte-ryk wat so ’n belangrike rol in Wildvreemd speel, vertel Carina aan Rautenbach dat sy van kleins af ’n gevoel vir bewaring gehad het. Sy het kleintyd gesê dat poppe dood is, "maar diere práát". “In my slaapkamer as kind was daar duifkuikens wat uit neste gewaai het, boskatjies wat deur miere opgevreet is, ’n duikerlam sonder ma. Op skool wou ek ’n ruk lank veearts word, maar toe kry ek 29% vir wiskunde en 92% vir stelwerk!

“Ek is nie gekant teen jag as sodanig nie. D Scott se artikel ‘Strikke en valle – die vloek van die natuurlewe’ wat in 1982 deur die destydse Fauna & Flora (Transvaalse Afdeling Natuurbewaring nr 39) gepubliseer is, was die prikkel vir die stryd teen onwettige jagmetodes in Wildvreemd.

“Strikke en slagysters is die wreedste denkbare wyse om ’n dier dood te maak. Onwettige jagters het geen genade vir lydende, verminkte diere nie. Die vernietiging van die natuur maak my woedend. Woede is soms suurstof vir die vuur wanneer ’n mens skep.

“Veral woede wat gebore is uit ’n liefde – in die geval van Wildvreemd was dit my liefde vir die wildernis. Ook my liefde vir vryheid en my woede teenoor diegene wat ons daarvan probeer ontneem.

“Die verhaal gaan dus nie net oor die bewaring van die natuur nie, maar oor die beskerming van lewe – ook die sielslewe van die mens. Dit is ’n verhaal van slagting in al sy vorme hierdie, van die doodgeswygde en vryheid. Veral vryheid.”

Die titel Wildvreemd kan ’n hele aantal betekenisse hê, onder ander die Waterberge se "wildernis" wat die agtergrond vir die verhaal is met sy "gramadoelas, en die ongerepte idilliese landelike ruimte". Dan kan dit ook dui op die "verwildering" van Byeboer en haar verbanning uit die gemeenskap.

"Wildheid" kan ook dui op die tekens van onmenslikheid en barbaarsheid in die mense se omgang met mekaar. Maar dit kan ook dui op "wildvreemd" in sy gewone betekenis: elke karakter beskik oor ’n "vreemdsoortigheid of rariteit", wat beteken dat elkeen op ’n manier ’n "wildvreemdeling" raak.

Saam met die bekendstelling van die roman is ’n solo-uitstalling van kunswerke wat op die roman gegrond is, by die Lanzerac Hotel op Stellenbosch gehou. Hieroor vertel Carina aan Elmari Rautenbach: "Ek het altyd geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord én beeld wou wy; aan skryf én kuns. Dis soos ’n spiraal: Eers het ek Wildvreemd in my gedagtes sien afspeel, soos ’n fliek, toe het ek dit geskryf, en nou is ek terug by die sien: die visuele kuns."

Haar uitstalling by Lanzerac beeld die karakters en tonele in die boek visueel uit en só word die woorde ook beelde en kom ’n mens by die titel van die uitstalling uit: Wildvreemd: verbeelde woorde.

Op haar webwerf sê Carina die tekeninge is van karakters met wie sy saamgeleef het. “Ek het soveel jaar met die karakters in my gedagtes saamgeleef dat ek voel asof ek hul stemme en geite volkome ken,” verduidelik sy. “Jare gelede het ek selfs een aand gedroom hoe ek in ’n huis instap en daar is al my karakters almal saam in een vertrek, besig om met mekaar te kuier!

“Hulle het hulle nie juis aan my gesteur nie, asof ek ’n vreemdeling vir hulle was. Maar ja, ek weet hoe hulle lyk en klink en nou, vir die uitstalling by Lanzerac, deel ek hierdie prentjies in my kop met lesers in ’n reeks van 40 kunswerke.”

In Beeld (5 Desember 2011) skryf Saartjie Botha dat die verhaal van Wildvreemd heel eenvoudig voorkom: "Nege jaar tevore trek ’n vreemde vrou in die Ruig in. Die Ruig is ’n stuk ongerepte natuur in die Waterberge. Vreemd, want sy praat nie en skakel nie in nie, en vreemd vanweë haar eienaardige, maar aantreklike voorkoms en gewoontes. Sy leef na aan die aarde, boer met bye en voer haar stryd teen wildstropers alleen en ongesiens. Een maal per maand verkoop sy heuning en kerse op ’n boeremark. Haar enigste vertroueling is ’n ruimgeestige boer, Braam Botha, wat haar heuningoes aanry mark toe en haar korwe uitverhuur aan die vrugteboere in die omgewing.

"Die gemeenskap beskou haar as mal; ’n heks, ’n skarlakenvrou van die nag wat seuntjies vergiftig. Sy is die hoofverdagte as ’n verwoestende veldbrand groot skade aanrig en mense daarin omkom. Ná die brand onttrek sy haar selfs nog meer, omring met haar bye en geheime. En gerugte wat nie gaan lê nie.

"Wildvreemd is in vyf hoofstukke verdeel: ‘1. Daar was ’n brand’, ‘2. Vier maande ná die vuur’, ‘3. Heuning na die reën’, ‘4. Ou bloed, jong bloed’ en ‘5. Vlees teen vlees’. Carina stel ’n agttal vertellers aan die woord wat vernuftig afgewissel word om perspektief-skuiwe te bewerkstellig. En hoewel die byeboer of brandgegewe sentraal in al die vertellers se betrokkenheid staan, het elkeen ook ’n eie persoonlike verhaal te vertel."

Botha beskryf Wildvreemd as vol kinkels. “Stander is aanvanklik suinig met inligting wat die verhaal in sy volle omvang laat ontvou. ’n Sterk spanningslyn word gehandhaaf en die slim afwisseling van vertellers laat die leser in afwagting uitsien na ’n volgende spreekbeurt. Dit is uiteraard onmoontlik om aan al die vertellers ewe veel gewig te verleen en sommige is aan die skrapse kant. Veral Wouter, Zach en Jarus is veel minder aan die woord as die ander vertellers.

"’n Sterker teenwoordigheid van laasgenoemde drie karakters en ’n paar snitte in Ingrid en Ebro se soms studentikose relase sou ’n digter gekonstrueerde verhaal daar kon gestel het en die reikwydte van die beleweniswêreld verbreed het.  Dit is egter veral Meraai as verteller wat my beïndruk het. Haar taal is ’n heerlike hutspot van Afrikaanse dialekte met ’n skeutjie ou Nederlands tussenin.

"Wildvreemd is ’n bevestiging van Stander se talent, deursettingsvermoë en gedrewenheid as skrywer. Daar is ’n paar steurnisse wat deurgeglip het, soos die slot wat gedwonge voel, met sommige karakters wat te vroeg in die verloop ’n soort lotsbepaling aanvaar. Die beskrywings van sensualiteit is soms te blatant en opdringerig en die lesers word ook nie subtiel genoeg gelei in die vorming van perspektief op die vertellers nie en het beslis nie ewe veel simpatie met en begrip vir elkeen nie. Dit is egter ’n moedige poging en nie sonder bekoring nie. Ek sien met verwagting uit na Carina se volgende roman."

Carina het haar ook in Wildvreemd bewys as ’n vaardige skrywer wat net so tuis is in die oordadigheid van prosa as in die gestrooptheid van poësie. Veral haar natuurbeskrywings van ’n grootliks ongedokumenteerde gedeelte van Suid-Afrika is uitstekend.

Nini Bennett het in haar resensie geskryf (Beeld, 4 Desember 2011): "Stander se buitengewone kennis van die natuur en sensitiewe beelding maak van Wildvreemd ’n roman wat die leser meevoer. Die gedagtewêreld van die karakters oorheers die teks, en die atmosfeer is dromerig en impressionisties: 'Toe sy die flesse aangee, het ek die vars bloed onder haar vingernaels gesien, haar handpalms rooi gevlek, soos herfsblare. Aaneen het sy gehuil, sag soos ’n reëntjie. Maar ek het nie gevra nie; sy sou nie kon sê nie.'

"Op haar beste grens Stander se waarneming aan die sublieme, terwyl die intriges en legkaart van perspektiewe die leser sal boei. Wildvreemd is sterk aan te beveel. Stander skryf met hoop – hoop téén wreedheid en ongeregtigheid in, en met die gerusstelling dat liefde, versoening en geregtigheid seëvier."

Carina was van kleins af die kind vir wie almal hul stories en geheime kom vertel het, vertel sy aan Hanlie Retief in Rapport. “Ek het partykeer een storie uit 17 windrigtings gehoor en vroeg al begryp hoe mense mekaar verkeerd verstaan.”

Ná haar twee digbundels was dit vir haar lekker om “oorvloediger” te kon skryf, sê sy aan Hanlie Retief. "My inspirasie kom van die prose poets, soos Anne Michaels (Fugitive Pieces), Michael Ondaatje (The English Patient), Clarissa Pinkola Estés (Women Who Run with the Wolves).

"En Breyten Breytenbach betower my met sy vrye vlug, spontane wording. Hy is ’n regte skilderdigter – hy skryf met sy oë. Pablo Neruda lees ek vir sy metaforiese taal, Sheila Cussons vir haar verstommende helder spiritualiteit en Rilke omdat hy die meester van simboliek is.

“Ek kry ook ’n hengse kiek uit Bill Bryson (Notes on a Small Island) en Bill Watterson se Calvin and Hobbes: Scientific progress goes 'bonk'. Nie-fiksie wat vir my kragtige rigtingwysers is, is What is so amazing about grace (Philip Yancey) en die What to Expect-triologie. (By elkeen van my kinders se koms lees ek al 3 000 bladsye weer van voor af, van dag een van die swangerskap tot aan die einde van die peuterjare.)

“Afrikaanse romanskrywers wat my hart warm laat klop, is Chris Barnard, Etienne van Heerden (Toorberg) en Elsa Joubert (Die swerfjare van Poppie Nongena)

“Ek het ’n ewige plekkie vir Hemingway se Old Man and the Sea. En die Bybelboek Jesaja, ’n pragtige stuk poësie, maar ook prosa. Dit laat mens verstaan waarom die Hebreeuse werkwoord vir ‘dig’ en ‘profeteer’ dieselfde is: ’naba’.

“So, ek wil nie afskeid neem van poësie nie, maar ek wil dit net in ’n meer gedrewe vorm doen. Dat ek nie so veilig hoef te wees van die woorde nie …"

Carina se raad aan voornemende digters is die volgende (op LitNet):

  • As jy net lank genoeg kan lewe om een gedig te skryf, waaroor sal dit gaan? Skryf vandag nog daardie gedig. Só keer jy dat die groot vonk binne jou geblus word deur ’n uitstellery en, uiteindelik, ’n afstellery.
  • Maak dadelik ’n nota van daardie sterk sin of beeld wat by jou opkom wanneer jy by die vliegtuig uitkyk, ’n openbarende droom of brief ontvang, of ’n blaargeraamte sien as die son by jou kamer inskyn. Dalk omskep jy dit eers jare later in ’n gedig, maar as jy die oomblik van inspirasie nie neerpen nie, is dit water deur jou vingers. Vir altyd verlore.
  • Poësie is klankkuns: lees jou vers hardop. Hóór of die ritme en klank aansluit by die inhoud van jou gedig.
  • Publiseer ’n gedig slegs as jy bereid is om dit in lewende lywe voor ’n gehoor te lees; as jy jouself ten nouste aan daardie vers kan koppel.
  • Moenie jou onklaar gedigte sommerso verloën nie. Op my rekenaar is ’n lêer met die heerlike dubbelsinnige titel, “Gedigte om te verwerk”. Dit is 117 bladsye lank.
  • Skryf binne en buite seisoen. Dus: of jy nou lus is of nie. Op 11 het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het totdat ek 17 jaar oud was. Dit het my selfdissipline geleer.
  • Wees groeigereed, nie kleinserig nie.
  • Omring jouself met reuse: op hoërskool het ek vir drie jaar die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom bygewoon. Die eerste twee jaar was ek die enigste skoolkind – totaal verskrik én verwonderd. Om regte skrywers soos Antjie Krog in aksie te sien, het my laat besef hoe ontsettend baie ek moet leer. Dié besef het my uit die fase van tienerpoësie geklap – iets wat my andersins dalk dekades sou geneem het. Met die MA in kreatiewe skryfwerk by Kaapstad het Joan Hambidge my gewys op hebbelikhede waarvoor ek in my pasoppens moet wees en natuurlike sterk punte waarmee ek kan woeker.
  • As jy regtig wil groei, bestaan daar nie iets soos om vir ontspanning te lees nie. Selfs al lees jy ook ’n slapstick komedie. Of jy nou blaai deur ’n mediese joernaal, ’n vakkundige natuurboek, ’n atlas, resepteboek, spreekwoordeboek of kinderboek, koerant en veral ’n digbundel: lees altyd met ’n pen in die hand, besig om die tricks of the trade te ontsyfer.
  • Gaan lééf. Gooi jou deure oop. Snorkel kaal in die see. Besoek jou grootwordplek. Bid op ’n berg. Luister stip hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. Keer dan terug na jou binnekamer. En skryf met al duisend jou sintuie. Jou eie storie in jou eie stem.

By 2011 se Woordfees het Carina ’n uitstalling van haar kunswerke gehou. Daar was ses inksketse op die uitstalling: die oorspronklike weergawes uit haar digbundel Woud van nege en negentig vlerke, asook ’n sewende een – spesiaal vir die Slenterfees/Woordfees, getiteld Elwe en Selwe. Sy het ook twee ronde olieverfskilderye op bord uitgestal: die hoofkarakter in haar eerste roman, Wildvreemd, asook ’n roerende Return to Eden, waar ’n jakkals aan ’n vrou se gesig ruik. Dis vars en diep en vol hoop, soos haar aanhaling uit Jesaja 11:8.

Die laaste twee skilderye was Tuinier en ’n amper lewensgrootte-uitbeelding van Desmond Tutu getiteld Hemel en Aarde.

Carina is in 2011 genomineer vir ’n ATKV-Mediaveertjie, kategorie Beste Leefstyl-artikel.

Oor die drie verskillende genres waarin sy werk – romanskryf, poësie en skilderkuns – laat sy haar as volg uit (http://carinastander.wix.com/ontmoetcarina#!visuele-kunstenaar): “Gedigte is soms vir my ’n soort kitsverligting, soos om ‘help!’ te skree wanneer ’n klip op jou voet val of ‘kyk hier!’ as jy iets besonders beleef. Digters is dikwels gerig op die gevoelens en waarnemings van die ‘self’. Hulle skryf na binne. Ek dink romanskrywers is in die algemeen minder doenig met die ‘self’ omdat hulle ander mense se stories skryf. Hulle skryf meer na buite. Ek het die laaste paar jaar die behoefte om eerder my gedagtes in stories uit te stort. Liriese stories met ’n digterlike stembuiging. My gedigte, aan die ander kant, het steeds ’n verhalende of narratiewe element.

“In ’n poging om die onverklaarbare te verklaar wou ek die werklikheid herskep deur middel van ’n eie mitologie. Deur die gebruik van metaforiese beelding – in visuele kuns, digkuns of prosa – soek ek na ’n moontlike wêreld, ’n nuwe beelding. ’n Metafoor bring kategorieë saam wat voorheen vreemd vir mekaar was sodat die huidige kategorisering verskuif kan word deur die proses van assimilering – een voorwerp neem ’n ander voorwerp se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. In een skets verander ’n vrou se hare in ’n vlindervlerk. ’n Uil omvorm tot ’n tak. ’n Jakkals ruik aan ’n vrou se gesig. Na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ons gebore word? Mitologiese en metaforiese beelding is draers van hoop omdat dit moontlikhede in die werklikheid ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het. Hierom skep ek. Hierom sal ek aanhou skep.”

In ’n rubriek in Rapport (1 Julie 2011) skryf Carina onder die titel “Ek wil ook graag asemskryf, my kind ...”:

In die Bosvelddorpie van my kinderjare was daar net een verkeerslig – ’n verskoning vir die bestaansreg van die laerskool se padpatrollie.

Ek was nie in die padpatrollie nie. Ek was ook nie ’n biblioteekprefek nie. Ek is nie eens gekies om pouses toiletdiens te doen nie. Ek dink ek was die enigste standerd vyf sonder ’n balkie. Want ek had “’n houding”.

“Wat bedoel hulle met ‘houding’, Ma?"

Ma Truiki, ’n opvoeder in murg en been (sy het 40 jaar lank Afrikaans en Duits vir matrikulante gegee), trek die HAT nader. Sy lees en sê gewoon: "Hulle praat twak, my kind."

Die dag toe ek kom vertel het van die nuwe woord wat ons in Bybelonderrig geleer het, het Ma ook die HAT so nadergehark.

"Meneer het vandag vir ons gelees van Ragab die hoer. Ek het gevra wat ’n hoer is, toe maak hy of hy my nie hoor nie. Toe steek ek maar weer my hand op."

"O ja?"

Hy sê ’n hoer is ’n slegte vrou. Ek het gevra of dit iemand is wat haar kinders mishandel, toe sê hy ja, net so.

Sit Ma weer HAT in die hand. “Houding” is die verkeerde woord, besluit sy. “Nuuskierige bliksempie” is nader aan die waarheid.

Beland ek met my houding en al by die enigste sielkundige op die dorp.

Ek haat skool, sê ek. Mens moet ’n lelike, dik rok en ’n poniestert dra, balle vang en …

Daar was ’n ding waarvoor ek nie naam gehad het nie. Die ding dat Die Sisteem my wurg.

“Nou wat wil jy doen?” vra die sielkundige.

“Ek wil skryf. Met los hare.”

Al was ek net 12 jaar oud, was ek in my eie oë reeds jare al ’n skrywer.

Op agt het die eerste versreël my besoek en op elf het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het vir die res van my skooljare.

Die sielkundige het my gediagnoseer met vervroegde adolessensie.

“Maar wanneer jy 15 is en jou maatjies begin wonder oor hul plek in die lewe, gaan jy so mak soos ’n lammetjie wees.”

Sy was reg. Op hoërskool het ek ’n kalm, kreatiewe ruimte in Die Sisteem gevind.

In my matriekjaar daag Ma soos ’n stout kind by die huis op: Sy het my edlapkaart by die skool gesteel. Pure nuuskierigheid!

Ons lees my gr 1-juffrou se verslag: “Carina lewe in ’n wêreld van fantasie, ruil b en d om, maar maak mooi sinne.”

Ek was glo so stilverskrik in gr 2 dat ek eers in die derde kwartaal my hand in die klas opgesteek het. Dit was kort voor huistoegaantyd, toe Juffrou ’n prentjie ophou en vra wie ’n storie daarvan wil maak.

Ek het my hand opgesteek, die skaam handjie waarmee ek nooit iets wou vra nie, die hand met die vratjies wat soos aartappelmoere uitspruit, was so hoog in die lug dat die hele klas kon sien toe ek vra: “’Seblief, ’seblief, mag ek …?”

Laas week kry ek Vonk@verse in die pos: ’n nuwe digbundel vir laerskole, saamgestel deur Jeanette Ferreira. Versies wat ek as negejarige kind geskryf het, is hierin opgeneem.

Ek wys dit vir my drie-en-’n-halfjarige seuntjie, Aden. En hy oorrompel my met ’n sin so mooi, so vreemdbekend, dat dit my stil laat: “Mamma, ek skryf ’n storie van toe God lief was vir alles op die aarde. Ek skryf dit met my asem.”

Ek wil ook asemskryf, my kind.

In 2012, met Wêreldboekedag, vertel Carina aan LitNet watter karakter in ’n boek sy sou wou wees: "Ek sal daardie klein avonturier in Selma Lagerlöf se Nils Holgerssons underbara resa genom Sverige (1906), oftewel Nils Holgersson se wonderbaarlike reis (1950),wil wees – die getoorde stouterd wat op die rug van ’n wit huisgans klim en saam met ’n swerm eksentrieke wildeganse na Lapland in Swede migreer. Saam sal ons ’n versonke stad en ’n towertuin ontdek, die weerheks op haar krom neus laat kyk, bosbrande en sneeustorms oorleef, hartseer raak oor die drooglegging van ’n meer, varkworsies uit ’n spens gaan gaps, arende en wildsbokke bevry, bere bevriend en die snawels wyd rek teen wreedheid. Sodra Smirre die vraatsugtige vos ons kom hinder, sal ek die fluitjie aan die punt van my mus sommer so tjierrr in sy oor blaas – oor en uit!

"Wat my meteens laat wonder oor daardie fluitjie in my kar en die fluitjies in my handsak, my bergklimsak, langs my bed ... Glo ek warempel sedert my kennismaking met Nils ’n kwarteeu gelede dat die skril gegil van ’n fluitjie elke rondloperbrak en rower sal afskrik? Ja, hand op die hart moet ek dit bieg. En dis nie al nie ... Raai waarom maak hamsters in hokkies my woedend of dompel dieretuine my in die diepste put van depressie? Nils se skuld, alles Nils Holgersson se skuld! Ook die ding dat ek altoos ’n venstersitplek in die vliegtuig bespreek en dan afkyk en kyk oor landskappe van droom.

"Selma Lagerlöf was die eerste vroulike wenner van die Nobelprys vir letterkunde. Jare later, tydens die Nobelpryslesing van 1980, het Czeslaw Milosz gesê Nils Holgersson se wonderbaarlike reis plaas die held in ’n dubbele rol: hy is die een wat oor die aarde vlieg en van bo af daarna kyk, maar dit ook in besonderhede sien. Hierdie dubbele visie kan ’n metafoor wees vir die digter se roeping."

Waaraan skryf sy nou?

"In 2001, terwyl ek die Skotse Hooglande binnegery het waar ek vir ’n halwe jaar sou woon, het ’n verhaal uit die niet op my afgepyl. Ek het net daar in ’n sneeulandskap in die middel van nêrens stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en begin skryf aan ’n allegorie, ’n uitgebreide metafoor waarin reismistiek ’n rol speel. Intussen het ek doenig geraak met ander projekte, maar voortdurend navorsing gedoen op byvoorbeeld walvisjag en die giet van bronsklokke; ek het verskeie bergreekse besoek; eiesoortige karakters het hulle kom aanmeld. ’n Fliekmaker het die verhaalbeplanning gelees en voorgestel dat ons dit saam ontwikkel met die oog op ’n boek én draaiboek." (Beeld, 24 Maart 2014)

In 2012 het Riet de Jong-Goossens, die welbekende Nederlandse vertaler, Wildvreemd in Nederlands vertaal. Hieroor het Carina aan Willem de Vries (Die Burger, 6 November 2012), gesê dat dit vir haar heerlik was om saam met Riet de Jong-Goossens te werk: "Riet is ­uiters bekwaam en toeganklik. Sy het byvoorbeeld vrae ­gehad oor die tydsverloop, die ‘jongerentaal en volkse taal’. Die wisselwerking tussen ons was een groot plesier.”

De Jong-Goossens se eerste woorde aan Carina was: “Het was een heerlijke opdracht en nu, na wel tien keer lezen, geniet ik nog steeds van de tekst.”

Carina se reaksie hierop was: “Tien keer! Iets van Riet se deeglikheid én positiwiteit skemer beslis deur in die vertaling, want dit vloei heerlik. Ja, daar was woordspelings en boeregrappe wat nie maklik vertaalbaar is nie. Maar die hart van die boek, die binneklop het behoue gebly en daarvoor is ek diep dankbaar.”

Carina het gemeen dat daar “’n sekere vreemdheid en herkenning in Wildvreemd is wat Nederlandse lesers dalk aantreklik mag vind. Vreemdheid in die sin van andersheid, ’n soort Afrika-eksotika wat ons as Suid-Afrikaners miskien as heel ­gewoon ervaar.”

Omdat die boek nou nie net in Afrikaans ’n lewe het nie, sien sy sekere aspekte daarvan in ’n ander lig. “Dit het telkens vir my gevoel asof ek my verhaal deur die ander taal herontdek. Ek had veel plesier aan uitdrukkings soos 'zit daar vastgeroest', 'zaagsel in zijn kop' en 'tegendraads leeft'. Beskrywende woorde soos 'takvork' (mik van ’n boom), 'stokstaartjes' (meerkat), 'stekelvarken' (ystervark), 'feestbeest' (partytjiedier) en 'snotaap' (bog­snuiter) vind ek ook alte pragtig en verruimend.”

Wildvreemd is vir 2014 en 2015 voorgeskryf in ­Onafhanklike Eksamenraad-skole wat Afrikaans as ­huistaal aanbied.

Carina was een van die persone wat in 2012 ’n Goue Pen-prys van die Cordis-trust ontvang het vir haar besondere bydrae tot die bevordering van Afrikaans as gepubliseerde digter, romanskrywer en visuele kunstenaar. Die prys bestaan uit ’n oorkonde, R5 000 en ’n gratis publikasievoordeel by Cordis-trust-publikasies. Die fonds is in 2000 deur Fanie Marais gestig en gefinansier.

Hieroor vertel Carina aan De Vries: “Ter ­aansluiting by die mentorskap­filosofie van die trust transkribeer ek nou die stories wat my vyfjarige ­seuntjie, Aden, oor sy denkbeeldige land, Wolk­land, vertel. Ons wil dit oor ’n jaar of wat saam met sy tekeninge uitgee – ’n kinderboekie deur ’n kind. Tussendeur doen ek heelwat reis­artikels en rubrieke. Die ­roman waaraan ek tans skryf, is ’n allegorie of uit­gebreide metafoor waarin die wonderbaarlike en berglandskappe ’n groot rol speel.”

In 2014 het Laetitia Pople in Die Burger van 19 Maart berig dat Wildvreemd verfilm gaan word. ’n Ou vriend van Carina, Matthys Boshoff van Air Films, het haar genader om die boek te verfilm. Die vervaardiger is Piet de Jager, wat rolprente soos Verraaiers en Roepman gemaak het. Boshoff en Helena Kriel is verantwoordelik vir die draaiboek en die aanvanklike buitelyn van die draaiboek het Carina beïndruk. Dit sal met Engelse onderskrifte uitgereik word.

Aden, Carina se oudste seun, se boek Wolkland is in 2013 uitgegee en daarmee is Carina se wens om sy stories uit te gee, verwesenlik. Hy het in 2013 ses geword, het sy aan Willem de Vries in Die Burger van 14 Desember 2013 vertel. Aden se eie tekeninge en kleibeelde is gebruik vir die illustrasies van die boek.

Die stories en kuns in Wolkland dateer uit Aden se eerste vyf jaar. En sy beskou die boek as “die op­tekening van ’n tydgleuf, ’n speelse kartering van die innerlike landskap” van Aden.

“Ek glo vas dat talle voorskolers die lewe as vreemd wonderlik ervaar, maar deur woord en beeld skuif Aden vir ons ’n venster oop op die verbeeldingswêreld van die kleiner kind. My hoop is dat grootmense, met die lees van Wolkland, sal lus raak om hul skoene uit te skop, plat op die grond tussen die kleingoed te gaan sit en stip, stip te luister waar die dodo’s en dinosourusse deesdae ronddwaal.”

Die gesin woon in die ruie wêreld van ­Tsitsikamma. Nie net hierdie landskap nie, maar ook feite is saamgesit om die storie uit te beeld. Carina het die nawoord by die storie geskryf en daar het sy geskryf dat "feite die moontlikhede vir fiksie vertiendubbel” het. “Wetenskap het Wolk­land op die kaart help sit.”

Sy het aan Willem de Vries vertel: "Soos die meeste kleuters is Aden ­geweldig nuuskierig.” Hulle het dié leergierigheid baie sterk aangemoedig deur hom konstant van interessante feite te voorsien. “My man, Gerrit van Niekerk, ’n rekenaar­programmeerder, het dit veral geniet om hoekom-vrae interessant te be­antwoord. Hy en sy seun het lang ure gesels oor tektoniese plate, die werking van wolke en sterrestelsels.

“As ek die dag vir Aden in ’n ­museum ’n afbeelding van ’n selakant gewys het, duik daar kort daarna ’n hele skool selakante agter ons eie branders op! Of as ek vir hom vertel van kamele in die woestyn, hoor ek binnekort hoe sy dinosourusse ’n draai in ene ‘Diep-Egipte’ en ‘Behoorlike-Egipte’ maak. Kyk ons ’n BBC­ Earth-dokumentêr oor die Kongo, hoor ons hoe sy diere ook gloeiende ­alge in ’n Afrika-woud vreet. Die ­gevolg is dat die stories in Wolk­land dikwels feitelik korrek en oortuigend begin: 'Die pelikane het nie hier by die see gelewe in die tyd van die ­mammoete nie ...' Maar as jy jou oge uitvee, kan hulle 'ses en honderd keer oud word, daardie pelikane!'

"Dinosourusse en ander oerdiere was baie lank sy hooffassinasie," sê Carina, "daarna was dit werklike diere met ­mitologiese eienskappe, soos die ­seedrakies van Australië of die deursigtige glaspaddas van die Amasone – wat albei in Wolkland verskyn. Die heel vroegste deel van die boek, waar hy vertel van sy verbeeldingsvrou, Nana, en hul kinders wat woon ‘waar alles wit is’, is my gunsteling-storie in die boek."

Die mooiste woorde in die boek is vir haar die motto voor in die boek, "waarin hy vertel hoe hy ’n storie wil skryf met sy asem.”

Oor die teks het sy vertel dat sy saam met haar uitgewersredakteur, Francois Smith, gewerk het om te besluit hoe dit daar moet uitsien: "Deur die jare het ek dikwels Aden se sêgoedjies teen die Facebook-muur geplak – ’n vinnige manier van opteken – of aan familie gevonkpos. Ek het ook gereeld sy stories met die diktafoon opgeneem, sommer terwyl hy sit en speel, of oor die telefoon met sy ­oupas en oumas kuier. Vir Wolkland het ek ongeveer 15 uur van dié opnames woord vir woord getranskribeer. Ek het slegs vertellings uit Aden se eerste vyf lewensjare gebruik. Om spesifiek te wees: Die vroegste sin in die boek is op 27 maande gemaak en die laaste verhaal op 5 jaar en 11 maande.”

Sy was bevrees dat sy dalk nie objektief genoeg sou wees nie en dus het sy Smith se hulp ingeroep. "Ek het altesame 16 bladsye van Aden se vertellings aan Francois gestuur, aangebied as los aanhalings en as afsonderlike verhale, elk met ’n datum en ouderdom van toe Aden dit vertel het. Francois se vraag aan my was: Hoe kan ons ’n boek hiervan maak? Dis toe dat hy met die blink voorstel gekom het om die volgorde van die vertellings só te rangskik dat dit ’n soort sikliese skeppingsverhaal vorm, bewoon deur die kleuterkind se vreemde skepsels.”

In 2017 publiseer Protea Boekhuis Carina se volgende roman getiteld Die Bergengel. Dit is die eerste titel van ’n trilogie wat sy beplan om te skryf.

Oor die inspirasie agter die skryf van Die Bergengel vertel Carina op LitNet aan Naomi Meyer: "Op

2 Januarie 2002 het ek vir die eerste keer die Skotse Hooglande binnegery, waar ek vir ses maande sou woon en werk. Daardie dag, in die middel van ’n verlate sneeulandskap, het die titel asof vanuit die niet by my opgekom. Ek het stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en geskryf: Die Bergengel. Ek het dadelik geweet dat dit ’n reismistiek gaan word, ’n roman met ’n seun as hoofkarakter."

Carina brei verder uit oor haar wedervaringe in Skotland en vertel dat sy Alexander Mackenzie, ’n Skotse geskiedskrywer se boek oor die Highland Clearances onder oë gehad het. In The history of the Highland Clearances neem sy toe kennis van die tydperk (die 19de eeu) in Skotland toe tot 2 000 duisend gesinne elke dag uit hulle huise gesit is, dorpe afgebrand is en derduisende Skotte gedwing is om hulle land te verlaat. Hulle stryd teen hierdie oorheersing het ongeveer 100 jaar geduur.

Sy gaan voort: “’n Spesifieke vertelling in die boek het my aan die hart gegryp: die verhaal van ’n bejaarde vrou wat in Gallies vanuit haar brandende huis geroep het: 'Oh Dhia, Dhia! Teine, teine!' Vertaal as: 'O God, God! Vuur, vuur!' Die beeld van ’n sterwende vrou wat in haar bykans uitgestorwe moedertaal vanuit ’n vuur roep, was vir my hartverskeurend, natuurlik ook omdat dit die Verskroeideaardebeleid van Brit teenoor Boer eggo.

"Die Highland Clearances het my denkbeeld geword agter die Vuurstorms van Gabriëllië, wat in Die Bergengel ook bekend staan as die Skoonbrand. Gruwels word gepleeg in die naam van ekonomiese en industriële vooruitgang, álles ten koste van onafhanklikheid en met ’n gepaardgaarde verlies van geliefde grond, streeksidentiteit en taal. Hoe kan die Vuurstorm beveg word? Ek het lank hieroor gewonder. Die inspirasie vir die Revolusie teen Vuurstorms het eers veel later by my opgekom by die lees van Christus se Bergpredikasie in Mattheus 5. Dit het my op die spoor gebring van Leo Tolstoi se filosofiese verhandeling The Kingdom of God is within you (1894). Dit was in Rusland verban, maar het die weg gevind na Mahatma Gandhi en gelei tot die niegewelddadige weerstandsbeweging satyagraha wat ek hoe later, hoe sterker in die trilogie betrek. 

"Ek het deur die jare baie nagedink en opgelees oor die universele aard van boosheid en broosheid in die mens se strewe na vrede en vryheid. Gevolglik bevat die boek ook kritiek oor die uitwissing van die natuur (hoofsaaklik die uitkap van woude en walvisjagtery) as uitvloeisels van hebsug. Daar word veral in die opvolgboeke uitgebrei oor die opkoms van ekonomiese monopolieë en ’n wêreldmoondheid. (...)

"In Roland Barthes se Mythologies (1957) is ’n hoofstuk 'The writer on holiday'. Dit laat my glimlag, want inderdaad is die skrywer op vakansie ’n mite! Skrywers en kunstenaars is ewige waarnemers. Ons aas die heeltyd met ons ore en oë. Ek het besluit om dié 'kwaal' in te span en die afgelope 13 jaar meer as 200 reisartikels vir verskeie publikasies geskryf.

"Die grootste vonk vir die ontstaan van Die Bergengel is dus ’n magdom dagboekinskrywings (wat later artikels geword het) tydens my reise in en op die woestynberge, sneeuberge, eilandberge, bergstede, bergwoude en vulkaniese berge van twee dosyn lande. Die foto’s wat ek tydens dié reise geneem het, het ek gebruik as visuele verwysings vir my kunsuitstalling-boekbekendstelling van Die Bergengel wat in Mei by die Tina Skukan-galery in Pretoria geopen het. Soos met my vorige boeke het ek weer 33 kunswerke gemaak wat my skryfwerk visueel verbeeld, inksketse van die tonele en karakters wat al sedert 2002 in my kop ronddool. Intussen het die Breytenbach Sentrum in Wellington gevra of ek op 16 September by die Tuin van Digters-fees die kunsuitstalling-boekgesprek oor Die Bergengel sal herhaal. Daarna sien ek baie uit!

"’n Ander groot vonk vir die ontstaan van die verhaal is die geestelike. Ek het die Bybel asook oergeskrifte soos Die Boek van Enog as interteks gebruik. Enog was die sewende generasie ná Adam; hy was Noag se oupagrootjie; en hy het heelwat oor engele geskryf. Ek is ook gefassineer deur natuurmistici soos die Heilige Francis van Assisi en Elia wat deur die kraaie gevoer is. Die spirituele onderstroom vloei in vele vertakkings regdeur Die Bergengel."

Naomi Meyer wou ook by Carina weet in watter genre kan Die Bergengel ingeprop word. Is dit iets splinternuuts wat sy geskep het? Hierop antwoord Carina dat Die Bergengel die eerste boek in ’n trilogie is: “Dit speel in op die tradisie van antieke Joodse geskrifte soos Die Boek van Enog, Kahlil Gibran se The Prophet en bekende Bybelverhale en sprokies. Maar Die Bergengel is nié ’n volwasse sprokie of fabel nie. En al is fantasie ’n genre waarvan ek hou, is dit hoegenaamd nie ’n Narnia of Lord of the Rings met trolle, reuse, elwe en eenhorings nie; ook nie ’n Star Wars met ’n Yoda nie.”

"Anders as met die fantasiegenre, is ál die karakters in Die Bergengel werklike mense, en bykans alle gebeure fisies verantwoordbaar. Parallelle kan getrek word met die bekende werklikheid (stoomtreine, walvisstasies, bronsgietery) en die karakters se strewe waarby die gewone leser kan aanklank vind, veral die herstel van die pa-seun-verhouding en die strewe na ’n skeppingsdoel. Dit is ’n soort coming of age-verhaal, maar in wese is dit nie ’n jeugboek nie. Soos by The Alchemist van Paulo Coelho is hier ’n seun op reis en trekke van magiese realisme. Magiese realisme veronderstel ’n realistiese uitbeelding van die werklike wêreld met ’n onverwagse verskyning van die magiese of bonatuurlike. Dit is daardie buitengewone oomblik in ’n doodgewone toneel wanneer die alledaagse heilig word en die heilige alledaags.”

"Ek wou met die skryf van Die Bergengel ’n gelykenis skep. ’n Allegorie. Die mooiste woordverklarings wat ek vir allegorie kon vind, is dat dit ’n uitgebreide metafoor is. Waarvan is Die Bergengel ’n uitgebreide metafoor? Van ’n groeiende gees. Van ’n mens se reis na jou binnelandskap – met berge en vlerke vir skuiling."

Carina het lank aan Die Bergengel geskryf. Terwyl sy haar twee digbundels en ook haar eerste roman geskryf het, was sy al besig met Bergengel. Ook tussen haar joernalistieke werk deur. Haar seuns was toe nog klein en heeldag by haar aan huis; dus was haar skryftyd gewoonlik saans van agt- tot elfuur of vroegoggend tussen drie- en sesuur wanneer almal nog geslaap het.

Carina het haarself geblinddoek terwyl sy Die Bergengel geskryf het. Meyer wou by haar weet hoekom sy dit gedoen het. Sy het gesê dat sy sowat 15 vakkundige boeke van voor tot agter deurgewerk het – oor ’n uiteenlopende aantal onderwerpe soos klokgietery, walvishandel, kulkuns, ondergrondse stoomtreine en nog vele ander. "Dit het gevoel asof my brein in die pad van my verbeelding begin staan. Ek wou terugkeer na die plek waar stories vandaan kom, na die rivier onder die rivier. Ek wou die verhaal weer in my gedagte sién."

Dit is hoekom sy musiek opgesit het, haarself geblinddoek het en die tonele beskryf het soos wat ’n fliek voor haar geestesoog afspeel. Die musiek wat sy gespeel het, moes "atmosferies of inhoudelik" by die spesifieke deel wat sy besig was om te skryf, pas. Op daardie manier was die musiek amper ’n tipe klankbaan vir die film in haar kop.

Carina het die storielyn van die drie boeke tot aan die einde uitgewerk gehad, maar sy het eers so twee jaar voor die publikasie van Die Bergengel tot die besef gekom dat dit ’n trilogie kan word en dít is soos sy Bergengel aan haar uitgewer voorgelê het - as die eerste boek in ’n trilogie. Die beplanning is dat die drie boeke 18 maande uitmekaar sal verskyn.          

In Literator beskryf Franci Greyling in haar bespreking van die verhaal as volg: “Die Bergengel vertel op die spoor van die reis- en grootwordjare van Eron Verberger ook die verhaal van Gabriëllië, ’n [fiktiewe] land in die oorgang vanaf ’n landelike na ’n geïndustrialiseerde samelewing. As enigste kind van die laaste rondreisende klokgieters, Gibor en Alida Verberger, groei Eron op in die beskermende omgewing van die kusdorpie in Tzur, een van die twaalf regione van Gabriëllië. Dié fiktiewe vasteland, waarvan ’n kaart in die boek afgedruk is, word in uitgebreide en gedetailleerde besonderhede aan die leser voorgestel en soos die gebeure ontvou, aangevul en verdig sodat  ’n veelvlakkige en geloofwaardige storiewêreld tot stand gebring word.

"Vroeg reeds maak Eron kennis met stories oor die mitologiese figuur van die Bergengel wie se hooftaak dit is om Vuurstorms te beveg, om vrede te handhaaf. Eron maak ook kennis met die bose in die vorm van ’n gevalle Bergengel, die goëlkunstenaar wat telkens van naam en gedaante verander: die reënboogmaker, die vuurmeester, die Verbluffende Bluffer, die steltstapper, Velvel Azasel. Om hom uit die kloue van Velvel en van ’n naderende Vuurstorm te red, neem Gibor sy seun op ’n reis waartydens hy hom in die kuns van klokgietery inlei, hulle nuwe landstreke leer ken, kleurvolle mense ontmoet, avonture beleef en ontberings ondergaan. Hulle pad kruis ook telkens met dié van Velvel Azasel wat Eron by herhaling uitnooi om hom te volg en Eron met sy eie skadukant konfronteer.”

"Die kenmerkende patrone en motiewe van ’n heldereis en die gepaardgaande volwassewording van ’n jong hoofkarakter, word met ’n groot verskeidenheid temas verweef, waaronder die verhouding tussen ’n ouer en kind, natuurbewustheid en die eksploitering van die omgewing, magsmisbruik en manipulasie, en die verwerking van persoonlike en gemeenskaplike trauma. Verskeie leidrade in die teks bied die moontlikheid om die tekswêreld as simbolies en allegories te interpreteer, asook met historiese en aktuele gebeure te verbind. Deur die loop van die verhaal word karakters van nader leer ken, geheime onthul en storielyne verbind. Met die herlees van Die Bergengel blyk dit hoe dié fynverweefde storiewêreld reeds van die eerste woord af tot stand gebring word.”

"Dit is veral die vertelstrategie, beskrywings en taalgebruik wat besondere tekstuur aan die werk verleen. Alhoewel die gebeure met ’n agternaperspektief deur ’n eksterne verteller vertel word, word die waarnemings van die verteller en karakterfokalisator(s) sintuiglik en in soveel besonderhede beskryf, dat die tonele as’t ware voor die leser afspeel.”

"Poëtiese en ritmiese taalgebruik en verdigtingstegnieke soos beskrywing, beelding, enumerasie en alliterasie dra by tot die besonder sintuiglike ervaring. Die poëtiese taalgebruik en beklemtoning van besonderhede bring mee dat nie slegs die oorkoepelende narratief en tonele as ’n uitgebreide metafoor vertolk kan word nie, maar ook dat sinne en woorde potensieel met betekenis gelaai word.”                                                                                                 

"Waar die uitgebreide besonderhede, gedetailleerde beskrywings, ryklike gebruik van metafore en poëtiese taalgebruik tot die atmosfeer en tekstuur van die werk bydra, kan dit egter ook ervaar word as oorverduideliking en bewustelike mooiskrywery. Soos Eron (wat die lewe met sy eie verstand en al honderd sintuie ontdek) behoefte het aan tyd om te rus en te herstel, voel die leser van Die Bergengel soms sintuiglik oorlaai. Hier sou gestroopter taalgebruik groter balans kon bring.”

"Vir lesers van fantasie en magiese realisme, waar ’n geloofwaardige wêreld deur noukeurige aandag aan klein besonderhede opgebou word, en vir lesers wat die verskuilde moontlikhede al lesend wil ontdek, bied Die Bergengel ’n boeiende leeservaring – en die vooruitsig dat die wêreld en karakters in die volgende twee boeke van die trilogie verder verken kan word."

In haar resensie van Die Bergengel op LitNet Akademies is Elzette Steenkamp net so positief. Nadat sy die roman van Carina Stander gelees het, het sy besef dat sy geen bekommernisse hoef te hê oor die stand van fantasie in Afrikaans nie. "Stander se pragroman is ’n waardevolle bydrae tot nie net die afgeskeepte fantasiegenre nie, maar ook die Afrikaanse letterkunde in sy geheel. Selfs lesers wat nie aanhangers van die fantasiegenre is nie, sal die roman toeganklik vind. Die magiese elemente van Die Bergengel verryk die verhaal en dra by tot die meesleurende, amper gewyde, toon van die roman.”

"Die genreverbuiging wat in Deon Meyer se Koors aangewend word, kom ook in hierdie roman na vore. In hierdie geval skep elemente van onder andere spekulatiewe fiksie, allegorie, magiese realisme, bildungsroman en ekokritiek, asook die verwewing van natuur, bonatuur en die menslike elemente, ’n intelligensie en literêre diepte wat die roman verhef tot een met meer om die lyf as ’n blote fantasievlug. Daarby suggereer die verbeeldingsvolle naamaanwendings in die verhaal, ’n selfs dieper verwewing wat die liriek en rykheid van die verhaal verder verhoog en die menslike bewussyn terg om klaarheid oor die beelde en betekenisse wat dit oproep."

Die tweede titel in die trilogie is Die wonderwese en word in 2019 uitgegee - weer deur Protea Boekhuis.     

In die voorwoord tot Die Wonderwese word die storie as volg beskryf: “Vanaf die vroegste tye verlang die mens na ’n tydlose staat waar verlede, hede en toekoms versmelt. In die soeke na dié bo-tyd-ruimtelikheid is daar dikwels ’n bewuswording van die ewigheid, en ewigheidswesens soos engele, meerminne, drake en duiwels maak hul verskyning in petrogliewe en volksverhale regoor die wêreld. Sekerlik een van die mees ontwykende ewigheidswesens is die Wonderwese van die Gabriëlliese mitologie. Volgens mondelinge oorlewering en opskrywings in Die Boek van Bergengele is die Wonderwese slegs sigbaar vir dié met ’n sogenaamde gawe van ‘helder sienkrag’, daarom staan dié wese in algemene spreektaal ook bekend as die deursigtige Teenwoordigheid of die Fladdering.

"In Bagterstam se Leksikon word ‘Wonderwese’ as volg toegelig: oervlerceia [urflærsia] snw (1) in Gabriëlliese opskrywings die geskenk van die Helder Een aan die eerste Bergengel, die Heilige Jared; (2) ’n vrylewende voëltjie wat deur die eeue oorgedra is van Bergengel na Bergengel, maar slegs twee of drie keer in ’n Bergengelbewind van twintig jaar verskyn (3); die mistieke verteenwoordiger van die Helder Een wie se nabyheid tot oerheimlike vermoëns en verstommende wonders lei.”

“Gedurende die ampstermyn van elke Bergengel wat ooit die land Gabriëllië gedien het, was daar lewensgevaarlike situasies waarin geen lewenslesse van die Geseëndes en geen natuurlike gawes of talente ’n Bergengel van die dood kon red nie. In sulke tye het die Wonderwese verskyn, waterskeidingsoomblikke wat later in die geskiedenis bekend sou staan as mîkal’lî, oftewel suiwer mirakels.”

Op LitNet skryf Elzette Steenkamp as volg oor Die Wonderwese: "Die Wonderwese is donkerder, digter verweef, meer gemaklik in die liminale posisie iewers tussen digkuns en prosa, fantasie en allegorie. Stander speel met ’n geoefende hand met die taal. Haar slim verwewing van Bybelse tekste, sprokies, filosofiese vraagstukke en tong-in-die-kies verwysings na haar eie digkuns en populêre kultuur dui op ’n volwasse skrywer in volkome beheer van haar kuns.”

"Met die leser reeds bekend met die geskiedenis, geografie en etniese groepe van Gabriëllië, kan Stander vir eers wegbreek van versigtige wêreldbouery en haar toespits op die komplekse binnewêreld van haar hoofkarakter.”

"Die sestienjarige Eron Verberger is lankal nie meer die grootoog kind wat saam met sy pa die veilige hawe van Skittering verlaat het om ’n lang klokreis aan te pak nie. Eron, nou ’n volwaardige Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms, is op soek na die laaste van die agt Geseëndes sodat hy met sy pa in Afrika herenig kan word. Kan hy op die heilige Wonderwese staatmaak om hom te bewaar teen die gevare wat op hom wag? Bestaan dié Teenwoordigheid werklik? (...)

"Eron dra die fisieke en sielkundige letsels van sy avonture wat in Die Bergengel uiteengesit word. Sy verminkte hand is nie net aan die donker hebsug van sy aartsvyand, Velvel Azazel, ’n konstante herinnering nie, maar ook aan die duisternis in homself. Hy worstel ook met die besef dat die helde in sy lewe miskien nie so leliewit is as wat hy gedink het nie – dat daar baie skakerings van grys tussen die wit van reg en die swart van onreg is.”

"Soos in Die Bergengel, blaas Stander weer lewe in die natuurwêreld van Gabriëllië. Maar ook hier is die letsels van die Skoonbrand duidelik sigbaar, soos die erosie en hongersnood wat heers oor die eens vrugbare Klaagtermeer.”

"Die Wonderwese trek vergelykings tussen die menslike en niemenslike slagoffers van die Skoonbrand: tussen die weeskinders van die Lammerhuis en hulle gebroke troeteldiere, tussen die weerloses en armes en die ongenaakbare landskap waaraan hulle uitgelewer word, en tussen Eron se onderdrukte seksualiteit en die onvrugbare natuur.”

"Die parallelle wat hier getrek word tussen die lyding van die natuur en dié van die mens bied ook ’n sweempie hoop. Eron se geleidelike ontwaking beteken ook die herstel van die natuurlike orde. Na die loutering kom immers die Paradys. Vir die ontknoping sal ons natuurlik moet wag vir die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek. Hierdie keer sal ek Carina Stander nie so maklik onderskat nie."

Vir Jonathan Amid (Netwerk24, 30 Desember 2019) is daar net twee vrae wat belangrik is wanneer daar van Die Wonderwese gepraat word: “Kan die opvolg net so indrukwekkend wees soos Die Bergengel en kan Die wonderwese lesers wat dalk gesukkel het met die eerste een, genoegsaam beïndruk dat hulle sal aangaan met die reeks?”

Amid beantwoord sy eie vrae: "Aanhangers van Die Bergengel sal verheug wees om te verneem dat die skrywer elke laaste greintjie van die liries-episodiese vertelstyl behou het. Van die inleidingsparagraaf wat begin met die woorde 'Die lied was ’n bergstroom...' is dit duidelik dat die digterlike instinkte van die skrywer het so sterk sal figureer in Die Wonderwese soos die omhelsing van intieme tonele tussen geliefdes en bloedstollende oomblikke waar die vertoon van en misbruik van mag jou laat sidder. Eerder as blote mooiskrywery ontgin Stander ’n eiesoortige harts-Afrikaans: ’n verledetydsfladdering waar woorde wortel skiet en beelde soos die helderste hallusinasies voor jou geestesoog verskyn.

"Omdat Stander kan voortborduur op karakters en landskappe reeds bekend aan lesers is daar min ruimte om haar hoofkarakter, Eron Vergerger, seun van Alida en klokmaker Gibor, laag vir laag oop te skryf, om sy fisiese en geestesreis tot in die kleinste, oortuigendste detail te laat lewe. (...)

"Onvoorspelbaar, beduidend meer ontstellend en met heelwat meer ambivalensie en skakering is die sentrale stryd in Die Wonderwese nie bloot die goeie teen die bose nie, maar die dekadensie en verval van onverdraagsaamheid en haat teenoor die opbouende krag van stilte, sagtheid en liefde. Die Wonderwese is ene betowering."

Baie lesers is dalk nie bewus van die feit dat Carina elk van haar boeke bekendgestel het met ’n meegaande kunsuitstalling - sy noem dit ’n "visueelmaking van karakters en tonele uit die boeke". Dit was ook die geval met die eerste twee dele van die trilogie. Die Bergengel is, soos reeds genoem, by die Tina Skukan-galery en Pretoria en die Breytenbachsentrum in Wellington bekendgestel. En Die Wonderwese se uitstalling was by Knysna Fine Arts Gallery wat aan Trent Read behoort. Vir hierdie uitstalling het sy 27 splinternuwe inksketse op Fabriano-papier uitgestal met aanhalings uit die boek as titels. Sy beplan om ’n beperkte uitgawe van twaalf afdrukke per inkskets te maak en dit via Facebook te verkoop. "Sodoende kan ek hopelik my gebotterde broodjie koop terwyl ek aan die laaste boek van die trilogie, Die Waterplek, skryf," sê sy aan Remona Voges op LitNet.

Publikasies:

Publikasie

die vloedbos sal weer vlieg

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044807 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woud van nege en negentig vlerke

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047971 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wildvreemd

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053392 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wolkland. Soos vertel deur Aden van Niekerk aan sy ma, Carina Stander

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780992205706 (sb)

Uitgewers

Cordis Trust

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bergengel

Publikasiedatum

2017

ISBN

9781485310136 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wonderwese

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485307501 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Carina Stander beskikbaar op die internet

Artikels deur Carina Stander beskikbaar op die internet

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum
  • Lesers wat meer te wete wil kom van Carina Stander se trilogie, Die Bergengel, Die Wonderwese en Die waterplek kan Naomi Meyer se volledige onderhoud met Carina op LitNet lees (https://www.litnet.co.za/die-bergengel-n-onderhoud-met-carina-stander/)

Artikels oor Carina Stander beskikbaar op die internet

Artikels deur Carina Stander beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Hierdie skrywersalbum is op 12 Maart 2020 bygewerk.

The post Carina Stander (1976–) appeared first on LitNet.

Ingrid Winterbach (1948–)

$
0
0

Gebore en getoë

Ingrid Gerda Winterbach is op 14 Februarie 1948 in Johannesburg gebore. Haar pa was ’n aardrykskunde- en geskiedenis-onderwyser.

Sy word groot in Florida, waar sy aan die Floridase Hoërskool matrikuleer. Sy was hoofmeisie in haar matriekjaar.

Verdere studie en werk

In 1969 verwerf Ingrid ’n BA-graad in die Skone Kunste (cum laude) aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy was die beste student in Afrikaans en Nederlands vanaf 1966 tot 1968. Onder die leiding van DJ Opperman verwerf sy in 1974 haar meestersgraad in Afrikaans en Nederlands (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch. Die titel van haar proefskrif is Analise van enkele struktuuraspekte van Om te vlieg van Breyten Breytenbach.

Sy begin haar akademiese loopbaan in 1970 as assistent by die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy maak ook ’n draai as Afrikaans-onderwyser in Louis Trichardt en in Johannesburg in 1972 en later (1993-94) ook aan die Durban Girls’ High School. Vanaf 1977 tot 1990 is sy lektrise in die Departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van Stellenbosch en vanaf 1991 tot 2001 doseer sy met tussenposes Afrikaans aan die Universiteite van Durban-Westville en Natal. In 1996 is sy besoekende skrywer aan die California Institute of the Arts, Los Angeles, VSA, waar sy onderrig gee in skeppende skryfwerk in die School of Critical Studies. Sy was ook ’n joernalis by Die Burger.

In 1991 verhuis Ingrid en haar man, Andries Gouws, ’n doktor in filosofie en ook ’n kunstenaar, saam met hulle twee dogters van Stellenbosch na Durban. Andries het ’n pos as filosofiedosent in Durban aanvaar. Ingrid is self ’n befaamde beeldende kunstenaar en haar skilderye is te sien in galerye in Durban, Newcastle en Stellenbosch. Sy het ook die buiteblaaie van Klaaglied vir Koos, Karolina Ferreira, Erf, Belemmering en Niggie ontwerp.

Sy het erken dat sy destyds baie lank hartseer was toe hulle weg is van Stellenbosch af. “Dit was sekerlik ook oor die landskap.” In ’n onderhoud met Die Burger in 27 Maart 2010 vertel sy dat die geil landskap van Durban vir haar “verskriklik” was. “Die gróéi. Die tempo waarteen dinge hier groei. Jy kan die plante omtrent sien groei. Hoor groei. Dit maak my bang. Kyk hoe klein is die lug. Dit was nou die aand volmaan en jy sien net hierdie kléin maantjie. En die ergste van alles is dat hierdie bome nie ophou groei nie. Ek sien jaar ná jaar minder van die lug. Ek sê dit al die afgelope twintig jaar, maar intussen hou die bome aan groei, nè?”

In Mei 1983 verskyn ’n prosastuk van haar onder die naam Lettie Viljoen in die tydskrif STET met die titel “’n Wolkie so groot soos ’n man se hand”. Toe reeds was daar duidelik tekens te bespeur van haar talent.
Maar selfs voor die publikasie van dié stuk het Ingrid al haar buiging in die Afrikaanse letterkunde gemaak – as mej X in Etienne Leroux se 18-44. Dit was gebaseer op ’n uitgerekte briefwisseling tussen ’n 18-jarige Ingrid en die 44-jarige skrywer. Ingrid was toe student aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Oor hierdie briefwisseling vertel Ingrid aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 4 November 2002): “Op 18 het jy ’n klomp ongedifferensieerde energie. Waar ek nou die energie in my skryfwerk kan kanaliseer, het ek destyds nie geweet ek gaan eendag skryf nie. Die uitweg vir my ongevormde impuls was om briewe te skryf. Dalk is die skryf van briewe die eerste manifestasie van die begeerte om te skryf. Deel van hierdie ongevormde drif was seker ook die libidinale impuls. Maar dis moeilik om jou nou terug te verplaas na toe jy 18 was en om beweegredes te vind vir jou dade.”

In 1984 verskyn Klaaglied vir Koos by Taurus Uitgewers onder die skuilnaam Lettie Viljoen. Dit word in 1986 vir die verhoog aangepas deur Christo Leach en Barney Simon. Dit vertel die storie van ’n jong vrou in Suid-Afrika wie se man grens toe is om daar “die onderdruktes te gaan bevry”. Sy is nie net kwaad nie, maar ook hartseer. Met die gevolg is dat sy haar na ’n ander man wend om haar te troos. Dit het egter nie beteken dat sy minder lief is vir haar man nie of minder trots is op sy dapperheid nie.

André le Roux (Die Burger, 18 April 1985) skryf: “Sy verlang na hom en is bekommerd oor sy veiligheid. Wanneer haar minnaar haar ook verlaat, verdubbel haar eensaamheid en durf sy die wêreld alleen met haar kind aan.”

LS Venter skryf in sy resensie (Volksblad, 18 Januarie 1986): “Die heersende literêre tema, naamlik dié van grensliteratuur, en die vroulike visie op die gebeure van die dag, vertel dus die verhaal van die eensaamheid van ’n verlate vrou. Sy vertel self haar verhaal in taal wat hard en meedoënloos is vir ’n sagte en afhanklike vrou. Die teks is net 69 bladsye lank, en is in 1986 in die Mark-Teater in Johannesburg opgevoer.”

Joan Hambidge (Die Vaderland, 4 Februarie 1985) beskou dit as ’n “komplekse vertelling wat rondom etlike opposisies gestruktureer is”. Hambidge het in haar resensie dit ook gehad oor die hantering van tyd, “na die belewenisse wat in terme van die biologiese beskryf word, en het na die simboliek van die beelde wat in die novelle aangetref word, verwys en gekyk.”

André P Brink (Rapport, 20 Januarie 1985) wou vir geen oomblik te kenne gee dat Klaaglied vir Koos ’n “moeilike” teks is nie! “Dis juis so meevoerend ‘storie’ – en dit is so intens en intuïtief vroulik vertel – dat dit die leser sal aangryp wat soek na ‘meelewing’. Dat dit tegelyk so merkwaardig ryk is vir wie ook al na méér op soek is, maak dit niks minder as ’n klein kragtoer nie. Dis nie verniet dat ek hierbo na JM Coetzee verwys het nie: die taal het ’n digtheid wat meermale dié skrywer sou eer aandoen. Klaaglied vir Koos is kort en klaar een van die allerbeste prosawerke wat in lange jare by ons verskyn het.”

In 1986 word Erf – weer by Taurus en weer onder die skuilnaam Lettie Viljoen – uitgegee.

“Hierdie teks vertel die verhaal van ’n vrou, Bets, wat sonder man en met ’n kind ’n lewenspatroon probeer vestig êrens naby die Peninsula en haar wisselwerking met Loewie, wat in ’n gevlegte hut op haar erf woon. In haar bestaan is sy dus vrou-alleen,” skryf H Zelig in Die Transvaler van 27 April 1987, “en weer eens óórbewus van haar seksuele afhanklikheid.”

Vir André P Brink (Rapport, 21 Desember 1986) kom Erf nogal heelwat ooreen met Klaaglied vir Koos. Bets is die hoofkarakter wat “haar op haar erf inwoeker om te leer definieer aan die kontoere van haar identiteit. Die teks gaan ook oor dit wat sy van haar ouers, voorgeslagte, samelewing en vroeëre selwe erf.

“Dit mag wees dat die verwikkelinge van die veelvuldige storie soms te kripties geskied, nie oral werklik ver genoeg uitgewerk word nie, daarom soms sketsmatig aandoen. Maar as geheel is Erf ’n teks vol uitdaging aan die ernstige leser. En vol winste: nie die minste nie, op die vlak van ’n skerp satiriese skildersoog, ’n soort ‘hardegattigheid’ wat met verruklik onverwagte vondste vorendag kom.

“Aan die negatiewe kant is daar soms te veel wollerigheid, dalk veroorsaak deur ’n te ‘private’ manier van skryf, wat die teks nie oral van sy naelstring laat loskom nie. En ook: ’n onversorgdheid met betrekking tot taal, waar die uitgewer werklik met ’n bietjie basiese redaksionele arbeid (’n vanselfsprekendheid by die meeste uitgewers) kon hand bygesit het. (...) Maar dan nog is Erf ’n novelle wat die leser kwel, uitdaag, genot verskaf, tart, oprui en bevredig; ’n teks wat lees dubbel en dwars verdien.”

EC Britz het in Die Burger (12 Maart 1987) geskryf dat Erf ’n “Afrikaanse dorp vanuit die antiburgerlike en artistieke gesigspunt belig. Daar is eerstens die ek-verteller, Bets, gevolg deur die wedervaringe van Agnes en dan ’n kort deel wat handel oor ’n vrou, Sally Williams. Bets leef volgens Britz vervreem – letterlik of figuurlik – van haar ouers, man, kind, bure en ook van die groep bruin mense wat in armoede op haar erf plak.”

Ingrid se eerste groot roman, Belemmering, is in 1990 deur Taurus gepubliseer, weer onder haar skuilnaam. Daar is drie verhaallyne in Belemmering wat afgewissel word. Die een verhaallyn is dié van ’n groep mans wat in die berge met iets misterieus besig is. Geelgert is hulle leier en hulle wag op sy opdragte, maar toe die opdragte nie opdaag nie en Geelgert verdrink, is hulle terug na die samelewing.

Hierteenoor word die storie van Hannah vertel. Sy is ’n paleontoloog wat vanaf die noorde Kaap toe trek. Die skrywer gebruik terugflitse om te vertel van Hannah se herinneringe aan die Boere-oorlog en die Ossewa-Brandwag, sowel as haar familie se agtergrond. Die kenmerk van hierdie twee verhaallyne is dat die karakters nie in staat is om die gebeure waarin hulle hul bevind, te kan kontroleer nie. Die laaste verhaallyn is dié van Generaal C. Die skrywer vervleg hierdie een met gebruik van die surrealisme met die eerste twee lyne.

Lettie Viljoen het vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 14 Mei 1991) op daardie stadium aan John Miles herinner: “’n intelligente en onafhanklike skrywer wat haar eie ding doen en ietwat eenkant staan van die literêre establishment en sy organe. Nadat sy in die middel-tagtigerjare stillerig op die literêre toneel verskyn het met twee treffende korter tekste, Erf en Klaaglied vir Koos, het sy nou met Belemmering getoon dat daar voortaan met haar as een van die belangrikste jonger Afrikaanse skrywers gereken moet word.

Belemmering is ’n roman wat ’n mens in navolging van Roman Jakobson ’n metaforiese teks kan noem. Vir hierdie teks-tipe is die chronologiese afloop van die verhaal en die logiese verbinding daarvan tot ’n sinvolle geheel nie die bepalende element nie. Die betekenis ontstaan eerder uit die paradigmatiese, of simboliese, waarde van elk segment van die teks.

“Hierdie benadering is die grondslag van wat as postmodernisme bekend geword het, hoewel die postmodernistiese teks enige dieper betekenis waartoe die elemente op die paradigmatiese as herlei kan word, wil ontken. (...)

Belemmering stel weliswaar hoë vereistes aan die leser, maar die ryk verwysingsveld, die suiwer, dikwels poëtiese taalgebruik en die intelligente strukturering, die weiering om toegewings aan populêre modes, hetsy van ’n politieke of ’n literêre aard, te maak, maak dit ’n lonende leeservaring. En van Lettie Viljoen kan daar van nou af groot dinge verwag word.”

Met Karolina Ferreira, wat in 1993 by Human & Rousseau verskyn het, het Ingrid haar merk met mening op die Afrikaanse letterkunde gemaak. Hierdie roman is met die M-Net-prys vir 1994 bekroon, was die naaswenner van die CNA-prys in dieselfde jaar en het in 1997 die Ou Mutual Letterkundeprys verower.

Oor die M-Net-prys wat sy gewen het, het Ingrid aan Theunis Engelbrecht (Die Burger, 11 Mei 1994) gesê dat sy baie bly is. “Ek voel on-ambivalent daaroor. Dit kom op ’n baie goeie tyd. Ek het die geld nodig. Ek dink ook ek het die erkenning nodig. Dit voel of almal al ’n prys gekry het, net ek nie.”

Rachelle Greeff skryf na aanleiding van ’n onderhoud wat sy oor die ontstaan van Karolina Ferreira met Ingrid gehad het (Die Burger, 18 Mei 1994): “Een oor snoeker, een oor baldanse en een oor motte. Dié drie boeke het sy by die biblioteek gaan uitneem voor sy begin het met die skryf van Karolina Ferreira. Hierdie vierde en jongste publikasie van Ingrid Gouws, as skrywer beter bekend as Lettie Viloen, het ontstaan in haar nuwe tuiste, Durban. ‘Waar die lug dik is,’ verduidelik sy, ‘asof dit ’n ander medium is. Waar die vlerke van die insekte groot en gaudy is. Snags klap dit so.’

“Vanuit dié ‘provinsie van oorvloed’ het sy ‘’n boek gemaak oor, onder meer, motte in die Vrystaat. Waar daar in werklikheid heelwat minder opvallende spesies motte as in Natal is.’”

Toe sy in Durban aangekom het, was Ingrid ietwat verward, want die landskap was vir haar vreemd en sy het nie geweet waaroor sy moes skryf nie. En toe het sy begin dink aan ’n ander wêreld – een waar hulle vir agtien jaar vakansie gaan hou het op ’n Vrystaatse dorp. Sy is saam met haar man en kinders soontoe, foto’s geneem en dit teruggeneem Durban toe. En só het die Vrystaatse dorp Voorspoed sy ontstaan gehad.

Sy het begin skryf op ’n ou tuinstoel van gietyster en met behulp van finansiële ondersteuning van die Stigting vir Skeppende Kunste. Sy vertel verder aan Rachelle Greeff: “Om geld in die sweet van jou aangesig te moet verdien, is nie altyd bevorderlik vir die kreatiewe energie nie. En toe ek weer sien, is die boek klaar. So op die tuinstoel. So vinnig. Daar moet iets verkeerd wees. Soos jy dink met geboorte: jy móét kráám! Die kind is net welverdiend as jy ure lank, pynlik gekráám het.”

Karolina Ferreira bevind haar op die Vrystaatse dorpie Voorspoed en die gebeure wat die uiteinde van die dorpsmense bepaal, vind meestal in die hotel se snoekerkamer plaas. Dorothea van Zyl skryf in Die Burger (21 Desmeber 1993): “Karolina is ’n entomoloog wat navorsing kom doen oor die oorlewing van ’n sekere motsoort in droogte-omstandighede. Onderweg laai sy vir Willie September op. Sy laat ook haar fortuin vertel by ’n vrou met hare soos ’n vergulde nes waaruit ’n voël sou kon opstyg. Die vrou sien ’n man wat Karolina altyd sal liefhê en ’n goeie vriendin wat haar nooit in die steek sal laat nie. Willie is ’n kenner van natuurgeneesmiddels en van mense, wat velddinge kom versamel en kom leer by ’n Argentynse deskundige. Op hulle daaglikse veld-togte ontsluit hy die fassinerende wêreld van die menslike psige vir Karolina.”

Die verhaal word merendeels deur Karolina vertel. Willie maak haar bewus van ’n ander wyse van kyk wat verder gaan as net die 29 insek-ordes. Van Zyl gaan voort: “Sy ontwikkel ’n sintuig vir tekens, vir vingerwysings oor die menslike lewensverloop. Karolina leer glo in voorspellings, voorbeskikking, in grotere kragte. Daarnaas is daar steeds ’n bewussyn van die menslike nietigheid teenoor die grootste tydgang van die natuur en geskiedenis. Die verhaal is nie swaarmoedig nie, maar beslis ook nie oppervlakkig nie. Soos in haar ander werk boei die skryfster se oorspronklike blik op die werklikheid en haar genuanseerde verwoording daarvan. Die ironie en aweregse humor amuseer en fassineer. Karolina Ferreira is ’n vernuftige boek wat by die herlees steeds nuwe insigte, nuwe verbande en nuwe verrassings oplewer. Dit bied iets vir beide die lesers wat soek vir ’n lekker storie en vir diegene wat pitkos vra.”

Landskap met vroue en slang (Human & Rousseau, 1996) is Ingrid se laaste boek onder haar skuilnaam Lettie Viljoen. Sy het self gesê dat sy “ontsettend bly (is) om by my eie naam terug te wees. Dis soos ’n tuiskoms.” Sy het ook aan Rachelle Greeff (Die Burger, 18 Mei 1994) gesê: “Kyk, ek het al ’n paar foute gemaak. En dit was een. Hierdie skuilnaam. Maar nou is dit te laat.”

Willem Burger skryf in Beeld van 16 Desember 1996 dat “in ’n tyd waarin die ‘storie’ dikwels in romans oorheers, ontbreek ’n sterk ‘storielyn’ in Landskap met vroue en slang. Lena Bergh is ’n skilder wat saam met haar tweede man en kind in Durban woon. Lena is rusteloos en onvervuld as gevolg van ’n verlange na die ‘verlore Paradys’. (Daar is ’n direkte verwysing na Milton se Paradise Lost p 34) (...) Die mens (in hierdie geval die vrou) se basiese drang om vervuld te wees, om sonder verlange en begeerte te wees, is die komplekse tema van die roman.”

Burger sluit sy resensie af: “Dit is ’n komplekse werk wat hoë eise aan die leser stel. Vir die leser wat egter bereid is om die uitdaging te aanvaar, kan dit ’n uiters bevredigende ervaring wees. Deur die ’noukeurige kontemplasie van die uitgebeelde landskap’ geskilder in woorde, word die leser geleidelik in die teks ingelei en sodoende word ook iets van die eksistensiële angs van die leser besweer.”

Vir Marion Hattingh (Karring, datum onbekend) oorrompel Landskap met vroue en slang die leser op meer as een manier. “Meesleurend is die visuele suggestiwiteit, boeiend die nie-oorsaaklike vertelwyse en kostelik die ironisering van skynsekerhede. Soos in haar vorige roman, Karolina Ferreira (1993), herskryf Viljoen hier die tipiese ‘vroueroman’ – dit gaan nie hier om ’n romantiese verhaal van verlange en vervulling nie, maar die fokus is op die ervaringswêreld en -wyse van ’n vrou en kunstenaar. (...)

“Met hierdie roman bewys Lettie Viljoen haar as waardige opvolger van die doyen van die Afrikaanse satire, Etienne Leroux. Die boeiende ineenvleg van verskillende diskoerse, visuele beelde, tyd-ruimtelike en bewussynsvlakke is meevoerend en dikwels word die leser uitgedaag om téén die grens van betekenis aan te lees, met die ervaring van die sublieme as beloning!”

Met Buller se plan wat in 1999 by Human & Rousseau verskyn het, het Ingrid ook haar bydrae gelewer tot die 100-jaringe herdenking van die Anglo-Boereoorlog. Dit is ook die eerste roman wat sy onder haar eie naam, Ingrid Winterbach, geskryf het.

Die herdenking van die Anglo-Boereoorlog, sê Ingrid in ’n onderhoud met Johan van Zyl (Die Burger, 15 Desember 1999), was nouliks iets waarmee sy rekening gehou het toe sy Buller se plan begin skryf het en toe dié roman sy finale vorm en beslag gekry het.

“Generaal sir Redvers Buller, opperbevelhebber van die Britse magte ten tyde van die veldslag by Colenso, fassineer my as ’n karakter omdat ’n hele aantal dinge buite sy beheer sy besluite en uiteindelike ondergang bepaal het.

“Sy mislukking vind ek interessanter as die Boere se oorwinning by Colenso,” sê Ingrid. “Ek vind ook Hans Pienaar se omstrede bewering prikkelend dat die Boere self die toestande en gewoontes geskep het wat die konsentrasiekampe ‘genoodsaak’ het.”

Ingrid sê haar besluit om ’n roman oor nasate van die Anglo-Boereoorlog-stryders volksvreemde karakters met welluidende name met die Slag van Colenso te “raam”, is in ’n sekere mate geografies bepaal. “Ek het hier in Durban ongelukkig ’n paar heuglike feesvierings misgeloop, soos die driedaagse dramatiese herskepping van die beleg van Ladysmith (in Engels), ’n Anglo-Boer War Centenary Commemorative Final Dance in die stadsaal, en toonsettings van Totius gedigte geborg deur die Berea Lions Club.

“Colenso is in die Natalse Middelland nie ver van Durban nie. Ek het in Buller se plan die platteland, en meer spesifiek ’n dorp gekies, omdat ek ’n ruimte wou hê wat deur slagvelde omring word (’n bietjie soos die raamvertelling) en met oorlogsgrafte in die onmiddellike omgewing. Dit is nie so maklik in ’n stadsopset nie.”

Haar karakters is nie gewone mense nie en hulle kom stel hulle van oral aan haar bekend, vertel sy verder aan Johan van Zyl. “Hul name is belangrik. Die keuse van name is miskien die plesierigste deel van ’n roman skryf. Die karakters antwoord op my advertensie in die koerante. Hulle trap my drumpel deur tydens onderhoude. Die wat ek nie in diens neem nie, stuur ek weg met valse beloftes.

“Die nuwe roman het aanvanklik Voldoening geheet, maar omdat dit eers die naam van die dorp was, en met ander dorpe in die omgewing soos Bitterheid en Berou, het die roman allegoriese trekke begin kry waarvan ek nie gehou het nie. Die nuwe titel is wel ’n bietjie moedswillig. En ’n klein kniebuiging in die rigting van die feesvierings.”

Oor die feit dat sy met Buller se plan afstand gedoen het van haar skrywersnaam Lettie Viljoen verduidelik sy aan Van Zyl: “’n Verligting eerder as ’n bevrydende ervaring. Einde van die gewik en weeg. Die besluit is geneem, met al die voor – en nadele daaraan verbonde. Ek skrik wel ’n bietjie as ek die naam op die nuwe boek sien.”

Vandat sy in 1984 met Klaaglied vir Koos gedebuteer het, is haar skryfwerk beskryf as “intellektueel” en “nie vir die gemiddelde leser nie”. Daarvan hou Ingrid nie, sê sy vir Johan van Zyl. “Toeganklik vir wie? Hoe moet ek dit bepaal? Wie moet ek as gemene deler neem? My werk is nie intellektueel nie (verre daarvandaan); dit frustreer lesers dikwels omdat dit nie met hulle opvattings strook van hoe ’n roman behoort te lees nie. Buller se plan is heeltemal ’n toeganklike roman te oordeel na lesers se reaksies.”

Vir Francois Smith (Die Burger, 19 Januarie 2000) is Buller se plan “’n diggeskrewe, allegoriese roman wat soos veral Belemmering groot uitdagings aan die leser stel. Daar is iets van die burleske gebruik van adjektiewe en bondige tiperings van Etienne Leroux in haar styl, maar nie met dieselfde ironie en humor nie. Buller se plan het weinig van Karolina Ferreira se liriese betowering – die sinsbou, gereeld onderbreek deur parentese, is oorwegend stotterend, en die karakterisering strak.

“Die styl, die vervreemdende aard daarvan, is egter ’n kunsgreep wat die leser losdwing van die narratiewe sleurkrag, en die aandag vestig op die metaforiese netwerk, die aaneenskakeling van motiewe, simbole en verwysings.

“Die verhaal word ingevou in ’n beskrywing van die Slag van Colenso, waar die Britse magte onder aanvoering van genl Redvers Buller in die Anglo-Boereoorlog ’n gevoelige nederlaag gely het. Ester Zorgenfliess reis saam met haar neef Boeta na die fiktiewe dorp Steynshoop, naby Colenso, om die begrafnis van ’n vriendin van Boeta by te woon.

“Haar betrokkenheid by en fassinering met ’n aantal karakters op die dorp laat haar uiteindelik veel langer bly, onder meer om aand na aand saam met ’n aantal dorpelinge en besoekers uit die stad in ’n kuierplek te wag op die optrede van die sanger Jan de Dood. (...)

“Die allegorie van verdriet toon ook ’n man-vrou-verdeling, ’n aspek waarop die romantitel betrekking het. Daar is iets weerbarstig en selfs lewegewend aan die vrouefigure, terwyl die mans ly aan oormoed en onmag, en voorgestel word as doodsengele.

“Die kruispunt is ’n bymekaarkoms van verrotting en herlewing, vernietiging en heropstanding, hoop en wanhoop. Die verdriet wat Ester van haar ma ‘geërf’ het, word ten slotte by implikasie deur die erflikheid self opgehef, naamlik deurdat Ester se dogter die vermoë openbaar om die grense tussen uiterstes te oorskry.

“Bogaande is enkele implikasies. Die allegorie laat die leser asof deur die ikone op ’n brandgeskilderde kerkvenster na die land en mense kyk. Noodwendig ontstaan daar egter ’n mistifisering wat te dikwels die romanwêreld en die verhaal versluier.”

Helize van Vuuren skryf op LitNet dat die titel Buller se plan sir Redvers Buller se strategie gedurende die Slag van Colenso in die Anglo-Boereoorlog as verwysingsraamwerk het. “Die roman is geraam met ’n oorvertelling uit Pakenham se The Boer War van Buller se mislukte veldslag by Colenso. Steynshoop is anderkant Colenso geleë. Weliswaar is dit ook ’n dorp met oorlogsgrafte, koeëldoppies uit die Anglo-Boereoorlog in die veld, ’n blokhuis, en ’n historiese Steynhuis. Die titel het oënskynlik meer metaforiese duiding as realistiese lading. Dit sou kon dui op Ester (en die ander karakters) se ‘plan’ met hul lewens, en hoe dikwels sulke planne oneffektief is weens tussenkoms van die dood, verlies van geliefdes, en die noodlot.”

Dit is vir Van Vuuren heel gepas dat Ingrid haar skuilnaam agterlaat met so ’n grootse roman soos Buller se plan. “Die skrywer mag ‘meedoënloos’ wees, maar die eindproduk is humoristies, meesleurend en besonder indrukwekkend.”

Andries Visagie, ook op LitNet, beskou Buller se plan “as ’n soort sintese van Ingrid se voorafgaande werk. Al lesende herken ’n mens voortdurend elemente wat weerklanke is vanuit haar vorige romans. Net soos in die bekroonde Karolina Ferreira is daar weer ’n vroulike karakter, Ester Zorgenfliess, wat haar tuisstad verlaat om vir ’n tyd lank te gaan oorbly in ’n plattelandse dorp waar sy haar ervaring van die dorp en sy inwoners orden rondom die plekke wat sy feitlik daagliks besoek. Net soos in Landskap met vroue en slang word die emosionele lewens van die karakters in Buller se plan met groot sorgvuldigheid ontleed terwyl daar steeds kennis geneem word van die natuurlike landskap én die landskap van die liggaam. En soos in Belemmering is die Anglo-Boereoorlog ook hier ’n belangrike element: die slag van Colenso vorm in Buller se plan die historiese verwysingsraamwerk waarteen die eietydse gebeure in die roman gemeet word. (...)

Buller se plan is egter nie ’n somber roman nie: Ingrid Winterbach is immers bekend vir die fyn humor wat insluip in feitlik elke hoofstuk wat sy skryf. (...) Ingrid Winterbach se nuutste roman is na my mening saam met die uitstekende Karolina Ferreira die beste in haar oeuvre. Buller se plan is by uitstek deurgekomponeerde prosa wat nietemin baie meer toeganklik is as haar vorige roman, Landskap met vroue en slang. Ingrid Winterbach bevestig met haar nuutste roman dat sy een van die belangrikste prosaïste is wat tans in Afrikaans skryf. Haar styl is uniek en deurdag en het die skittering van juwele. Gaan lees Buller se plan – dis ’n fees vir die verbeelding.”

Ingrid se statuur in die Afrikaanse letterkunde het met verloop van tyd dermate gegroei dat sy in 2004 die Hertzogprys vir Prosa verwerf het vir Niggie,wat in 2002 gepubliseer is. Niggie is in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens en in Engels deur Elsa Silke.

Volgens Thys Human (Rapport, 1 Desember 2002) verwys Ingrid in omtrent al haar romans na die Anglo-Boereoorlog en in Niggie beleef hierdie interaksie met die oorlog ’n hoogtepunt. Die Anglo-Boereoorlog maak deurgaans die agtergrond van Niggie uit. Anders as in Buller se plan word daar nie met ’n afstandelike of ironiserende blik teruggekyk op die oorlog nie. In Niggie word die karakters die strydlustiges, sensitiewes, weerspanniges én ontnugterdes eerder midde-in die stryd geplaas.”

Niggie was harde werk, sê Ingrid aan Johan Vosloo in Rapport van 28 Maart 2004. Sy het twee jaar daaraan gewerk, “so te midde van huis skoonhou, kind grootmaak en voortgaan met my ander liefde kuns. Ek is verheug en dankbaar dat die eer (van die Hertogprys) na my kant toe gekom het.”

In Niggie kom ’n groep Boeresoldate wat in Februarie 1902 vanaf die Kaapkolonie na Ladybrand in die Vrystaat gaan, onder die loep. Deel van die groep is die geoloog Reitz Steyn en Ben Maritz, ’n natuurhistorikus. Hulle moet die jong Abraham Fouché wat erg getraumatiseer is na sy ma op Ladybrand neem. Tydens hulle tog beland hulle by ’n baie vriendelike, maar hartseer boer aan en sy storie van die “triekstervrou” wat hom in ’n droom verkul het, beïndruk vir Ben en Reitz geweldig. Hierdie triekster maak haar opwagting kort-kort in die roman, maar op etlike plekke en in ander gedaantes.

Thys Human skryf in Rapport (1 Desember 2002): “Met ’n sterk liniêre struktuur, ononderbroke epiese gang en realistiese inkleding is Niggie ’n veel meer toeganklike roman as byvoorbeeld Belemmering, Landskap met vroue en slang en die ‘meedoënlose’ Buller se plan. Anders as die ontwykende Geelgert en Jan de Dood daag generaal Bergh in hierdie roman sommer heel vroeg op, terwyl die groepie manskarakters teen die berg darem nie weer gedwing word om hul droefgeestige dae op hotnotskooigoed te slyt nie.

“Tog is Niggie ’n roman deursypel met verlies, verdriet en verlange. Bykans elke karakter dra ’n liggaamlike of geestelike letsel van die oorlog en het ’n verhaal van persoonlike trauma te vertel. Hoewel hierdie verhale sáám ’n verwoording van kollektiewe verlies en ’n gemeenskaplike oorlogservaring is, dien dit ook as herinnering dat elkeen uiteindelik alleen staan met sy of haar verdriet. Die ‘inventaris’ van verlies wat Reitz snags in Anna se ontvanklike oor fluister en sy moedelose trane teen sy perd se geduldige flank dien as treffende sametrekking van die persoonlike en kollektiewe dimensies van verlies in dié roman. (...)

Niggie is, net soos haar karakternaamgenoot, egter ook triekster: nes die leser diékant toe met haar wil, dan dwing sy hom anderkant toe. Na aanleiding van die titel verwag die leser byvoorbeeld dat die roman oor ’n sentrale vrouekarakter gaan handel. Hierdie verwagting word egter ondermyn wanneer die leser uit die staanspoor met die lotgevalle van ’n groep manskarakters gekonfronteer word en die titelkarakter haar opwagting eers heelwat later in die roman maak. Ten slotte is daar ook nie sprake van netjiese sluiting in die teks nie. Niggie gee haar geheime slegs voorwaardelik prys. Aan die einde van die roman word talle vrae onbeantwoord gelaat.

“Die gereserveerde mineurtoon, eerlike maar subtiel ondermynende blik op die oorlog, asook die blootlegging van die mens in al sy weerloosheid, maak van Niggie ’n uiters geslaagde besinning oor die kortstondigheid van menslike geluk en die fisieke en psigologiese letsels wat oorlog laat. Met hierdie onvergeetlike roman bevestig Ingrid Winterbach dat sy een van die belangrikste prosaïste is wat tans in Afrikaans skryf. Niggie is die aandag werd van selfs dié wat nou al behoorlik oorlogvoos is!”

Gunther Pakendorf (Die Burger, 25 November 2002) het Niggie as ’n pragtige roman beskryf, “dalk Ingrid Winterbach se beste”, en op LitNet het Petra Müller haar resensie as volg afgesluit: “Ek kan net ’n idee gee van die rykheid van die teks. En van die omsirkelende liriese skoonheid daarvan. Dis ’n teks waardeur ’n mens die dimensies van jou verblyf op hierdie stuk aarde in ontroering en ontsag kan verken. Dit is selde dat ’n mens in ’n romanteks die element van ontsagteëkom – dit wat die Bybel ‘vrese en bewing’ noem. Hier is dit oral opgeroep, byna by taal verby. Ek wil die roman Niggie by u aanbeveel as ’n sentrale transfigurasie in ons huidige romanwêreld, ’n boek waarmee ’n mens moet saamleef soos ’n stuk vuur.”

Ingrid het ook in 2007 met feitlik al die pryse weggestap vir Die boek van toeval en toeverlaat wat in 2006 verskyn het. Dit is met die WA Hofmeyr-prys, die M-Net-prys en die Universiteit van Johannesburg-prys vir Skeppende Skryfwerk bekroon. Die Engelse vertaling wat Ingrid saam met Dirk Winterbach gedoen het, het in 2010 die Sala-prys vir Literêre Vertaling gewen. In 2012 is die CL Engelbrecht-prys vir letterkunde (toegeken vir wetenskaplike navorsing oor die Afrikaanse taal of letterkunde) deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Letterkunde en Kuns ook aan Die boek vir toeval en toeverlaat toegeken.

Thys Human (Beeld, 21 November 2006) som die verhaal van Die boek van toeval en toeverlaat só op: “Helena Verbloem is ’n leksikograaf wat haar in Durban vestig as projekassistent van Theo Verwey, ’n man wat alle woorde byeen probeer bring wat in onbruik geraak het in Afrikaans. Byna drie maande later word haar kosbare skulpe uit haar tuinwoonstel gesteel.

“Die res van die verhaal ontvou rondom die soektog na dié skulpe: daar is onder meer twee gebeurlike besoeke aan Ladybrand, ’n reis na die donkerste punt van Durban en ’n ontmoeting met die rassistiese skulpverkoper en teddiebeerversamelaar Theodora Wassenaar.

“Die belangrikste soektogte is egter dié wat na binne keer: Helena se herinneringe aan haar familie, verlore minnaars en liefdes, die verliese wat sy gely het. In Oktober tref Helena Theo dood in sy kantoor aan. Die beskrywing van sy begrafnis en die wyse waarop dit inspeel op die verhaal wat sy deurgaans (uit DeLillo se Cosmopolis) aan hom oorvertel, is sonder twyfel ’n hoogtepunt in Winterbach se oeuvre. Soos Etienne Leroux indertyd, slaag Winterbach daarin om ’n toneel te skep wat gelyktydig grondig tragies én skreeusnaaks is.

“Dit is ’n roman oor verlies en die dood. Daar gaan byvoorbeeld nie ’n enkele gesprek tussen Helena en Theo verby sonder ’n verwysing na die dood nie. Hulle bring ook byna al hul werkstyd deur aan die doodsverbindings in Afrikaans. Voorts sukkel Helena om haar by die verlies van haar skulpe te berus; sy klou halsstarrig daaraan vas. In dié opsig ontstaan daar ’n voortgesette spanning in die roman tussen die moeisame prosesse van aflegging en afskeidname, enersyds, en die menslike drang tot bewaring (versameling), andersyds. Helena het ’n verbete drang na (wetenskaplike) kennis."

Human gaan voort: “Wat Winterbach hier met die taal doen, is verbluffend. Hugo Hattingh se lesings oor die evolusie is swaarwigtig en resonant. Die geheimsinnige laatnagbeller, Freek van As, se toon is aanmatigend en suggestief onsamehangend. Sof praat met ’n anargistiese hardegatterigheid wat jou tone laat krul. Wanneer Helena vir Theo vertel van die boek wat sy lees, is haar taal deurdrenk van hartstog en verlange. En wanneer hulle oor die woordkaarte buig, ontwaak die ganse taalgeheue in hul gepas argaïese tussenwerpsels.

“Dit is ’n groots-opgesette roman waarin die tragiese gegewe nooit ten koste van die speelsheid – die plesier – geskied nie. Winterbach is op haar snaaksste wanneer sy binne die kosmiese konteks wat sy oproep, op byna banale besonderhede fokus: die dialoog oor die margarienmagnaat in die eerste hoofstuk, die ‘intimiderende’ drol op Helena se kamermat, Helena se gesprekke met die innemende konstabel Modisane, die gastehuisworsies, die opgestopte tiere in Rosie Steinmeyer se skemer sitkamer, Matroos se gedrag tydens Theo se begrafnis en Sof en Helena wat hulle tydens hul besoek aan Ladybrand as lede van die Bybelgenootskap voordoen. Tog ontaard dié lag nooit in ligsinnigheid nie. Daar is talle tonele wat jou lank ná die lees van die roman bybly.”

Louis Gaigher het in Die Burger (13 November 2006) geskryf: “Ek kan in my resensie bloot ’n vae beeld skep van die rykheid van Die boek van toeval en toeverlaat en die intense plesier wat ek daaraan gehad het, en nog gaan hê, en dat die teks volgens al die betekenisonderskeidings van dié woord ­subliem is.”

Op LitNet het Louise Viljoen geskryf dat Ingrid, “net soos JM Coetzee in Age of Iron, nie maklike antwoorde of troos gee nie. Die roman gee geen eenvoudige oplossing vir die aanvaarding en verwerking van verlies nie: dit toon eerder die ingewikkelde verloop van so ’n proses. Verder suggereer die roman dat die ‘toeverlaat’ dalk juis lê in ’n deeglike kennisname van die rol wat toeval speel en in ’n bewustheid van die ryk en komplekse teksture wat wel tot stand kom deur die heelal se toevallige verloop. Ten slotte is Winterbach se roman ’n stralende bewys van die sin wat daar wel te vind is in ’n bestaan waarin toeval en verlies so ’n groot rol speel.”

Joan Hambidge (op LitNet) noem die Die boek van toeval en toeverlaat “allamagtig, groots, wonderbaarlik, meesleurend, oorrompelend, briljant”.

In 2010 word Ingrid se eerste drama, Spyt, tydens Aardklop op die planke gebring en vir Ingrid wat hier die eerste keer ’n ander genre aanpak, was dit geen maklike taak nie, sê sy aan Murray la Vita (Die Burger, 4 September 2010). “Ek het erg uit my diepte gevoel. Ek kon op geen van my gewone ou romantrieks terugval nie. Dit het nooit vir my na ’n régte drama gelyk nie – ek was bang dis te kort, te yl, nie dramaties genoeg nie, te teksgerig. Nou is die teks uit my hande en dit vind op ’n nuwe manier vergestalting en dit het skielik soveel ryker geword aan betekenismoontlikhede – so vér verby my aanvanklike, statiese, eendimensionele konsepsie daarvan! Daarvan hou ek – en dit sal my weer my hand aan ’n drama laat waag. Ek sien uit na die produksie by Aardklop. Wat ’n teer en gevaarlike pad vir ’n teks om te loop.”

Die Aardklop-produksie was ook Spyt se première, en die drama is met die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste nuwe Afrikaanse aanbieding op Aardklop bekroon. Ingrid se dogter, die teaterpraktisyn en skrywer Brink Scholtz, was die regisseur.

’n Programnota van Aardklop het die aanbieding van Spyt só aangekondig: “Spyt (Afrikaans) (Geen o/16: T/S). Te laat, te laat, altyd te laat. Manne en meisies en waarop dit afstuur. Brose harte, begerige lywe, ai. En dan daarna. Spyt. ’n Verhoudingsdrama met ’n verskil: tragikomiese opset, donker humor, eiesoortige dialoog. So verskriklik vermaaklik, so verskriklik verskriklik. Nie vir fyngevoeliges of preutses nie. Awesome.”

Ingrid se reaksie hierop: “Nie my woorde nie. My opsomming van die teks sou nie ’n enkele toeskouer gelok het nie – ondraaglik saai. Hierdie beskrywing gee my groot plesier.” (Aan Murray la Vita in Die Burger, 4 September 2010)

Oor die werkverhouding tussen haar en haar ma is Brink baie geesdriftig teenoor Murray la Vita: “Ag, dis amazing om saam met haar te werk. Dit is só lekker. Ja ek dink dit is baie makliker as wat dit met enige ander skrywer sou wees omdat ... seker maar net omdat ons so ’n gemaklike verhouding het. En sy is glád nie precious oor die teks nie. Ek dink sy werk óók op ’n manier ongelooflik intuïtief, so as jy vir haar vra wat iets beteken ... sy sal nooit weet nie. En dit maak dít natuurlik vir my ook baie oop.
“En dan is sy altyd baie entoesiásties oor my interpretasies. Dit is vir haar interessant. Daar is absoluut geen gevoel van dít is my ... Ek dink dit is vir haar baie belangrik dat die werk is wat dit is. Daar ís nie ’n regte interpretasie nie. So dit is gerusstellend en bevrydend om saam met haar te werk en ek kan baie éérlik wees met haar. Ja.”

Ingrid beaam dit teenoor Murray la Vita: “Dit is vir my ongelooflik exciting. Sy is baie versigtig met die teks – miskien té versigtig. Hoewel sy darem op ’n timiede voorstel van my oor hoe ’n bepaalde toneel gespeel moet word, in no uncertain terms gesê het ek moenie belaglik wees nie. Daarvan hou ek!”

Spyt is ook in 2011 by die KKNK op die planke gebring.

Spyt laat jou hap aan ’n stewige skyf lewe, aldus Deborah Steinmair (Beeld, 29 September 2010). “Gesprekke oor die sin van die lewe, die staat van die prostaat en die dryfvere vir ­rinkink word afgewissel met ­bonsende seks wat mooi gechoreografeer is, soos fisieke teater, soos dans. Die produksie toon belofte, maar lewer ten slotte nie wat ­Ingrid Winterbach se teks beloof het nie. ’n Mens maak toegewings vir die heel eerste opvoering, maar die regie (deur Brink Scholtz) en stelinkleding kom nie heeltemal die mas op nie. Die spanningslyn is soms snaarstyf; die intrige en interpersoonlike dinamika polsend. Soms tree dowwe kolle in. Die stel is regoor die plek, soos ’n kis speelgoed wat rondgestrooi is. Daar is uitstekende spel, maar die dialoog is nie altyd duidelik hoorbaar nie, soos dit gaan op feeste – die ­akoestiek van skoolsale is hoogs verdag.

“Braam (Stian Bam), eggenoot, sakeman, vriend en minnaar, is vinnig besig om sy draai te ­verloor. Sy vrou, wat min of meer aan ’n Pilates-bal vasgegroei het, babbel onverpoos (tussen strekoefeninge en opstote deur) oor die sin van haar bestaan, oor haar dors na selfverwesenliking, ­hoe­dat sy vir hom ’n fantastiese vrou wil wees en hul liefdeslewe wil ­opklits. Dit is onduidelik waar Braam die tyd vind om sake te bedryf en in kunswerke te belê. Hy is nie op sy mond geval nie en sy voetwerk is fyn, maar sy lewenstyl is ’n resep vir rampspoed. Hy bons van ­minnares tot minnares en probeer tussen­deur om ’n ongebalanseerde eks-werknemer wat hom ­vervolg te paai. Sjaka S Septembir gee ’n weerlose kanteling aan die senuwrak Micky. (...)

“Ten spyte van ’n intelligente, elegante teks en akteurs van die kaliber van Bam, Waldemar Schultz en Nicole Holm, begin die stuk draal op pad na die afloop. Ek sou die produksie graag nog tyd wou gee. Dit is in elk geval teater wat jou teen die kant van die kop klap. Dit laat jou berou, verlies en onvoltooidheid tot in die in­gewande ervaar. Spyt was ’n opdrag­werk op die fees.”

Brink Scholtz, die regisseur, deel haar indrukke van Spyt met Murray la Vita (Die Burger, 4 September 2010): “Dit werk met betekenis op ’n manier wat baie oop is. En dít is baie opwindend en baie lekker. Maar ook baie, baie moeilik. Want ... dis nogal ’n fyn lyn jy weet. Daar is ongelooflik baie ruimte om te interpreteer, maar terselfdertyd kan jy nie ’n interpretasie opplák nie.

“Om getrou te wees aan daardie oopheid. Die feit dat dit so vreemd die heeltyd shift en beweeg. Daar is byvoorbeeld ’n tipe jukstaposisie tussen aan die een kant ’n wêreldbeskouing waarbinne dinge arbitrêr en betekenisloos is en accidental en episodies en so is, en dan is daar amper op ’n ander vlak ’n baie metafisiese, ’n baie duídelike betekenis. Ja, ’n metafisiese proses. Amper letterlik dat daar ’n verdere werklikheid is. Dis ’n vreemde spanning. Ek dink dit is altyd daar in haar (Ingrid se) skryfwerk.

“En daar is ook ’n gevoel van dinge wat die hele tyd op die periferie aangaan. Die héle tyd dinge wat onder die oppervlak aangaan.”

’n Sekstoneel in Spyt waarin ’n wit man en swart vrou mekaar gryp, skryf Johannes de Villiers in Rapport van 7 November 2010, het sommige toehoorders by Aardklop se asems weggeslaan en laat uitloop uit die saal. “Maar die skeppers van die stuk krap nou kop, want dit is veral die toneel waar die hoofkarakter met die swart vrou vry wat gehoorlede laat uitstorm. Die Woensdagaand van die Fees, byvoorbeeld, het die gehoor geduldig gesit en kyk hoe die hoofkarakter en sy wit minnares ’n goeie tien minute op ’n bed rondrol. Maar toe dieselfde man kort daarna sy swart minnares (gespeel deur Ntombi Makutshi) takel, het minstens twaalf mense stampvoet uit die saal geloop. By ander vertonings het dié toneel ook mense na die deur laat skarrel.”

“Ek weet nie mooi hoekom dit gebeur nie,” het Ingrid aan Rapport (7 November 2010) gesê. “Dit lyk vir my dit is vir party mense nog ’n sensitiewe punt.”

Hoewel Winterbach se teks spesifiek bepaal dat dié toneel tussen ’n wit man en swart vrou moet plaasvind, sê sy dat dit beslis nie as ’n skoktaktiek bedoel is nie.

Vir Saartjie Botha, die stuk se vervaardiger, het dié uitstappery ’n ligte déjà vu-gevoel meegebring, want sy was die skrywer van die stuk 18* wat op Aardklop opgevoer is en waarin ’n veelrassige soen (dié keer tussen ’n swart seun en wit meisie) ’n hele paar gehoorlede laat uitloop het. Volgens Botha, wat al stukke op verskeie kunstefeeste op die planke gebring het, is dit net by Aardklop dat ’n veelrassige vryery so ’n reaksie ontlok.

2010 was ’n besige jaar vir Ingrid. Benewens die drama Spyt is Ingrid se nuwe roman, Die benederyk, ook in 2010 gepubliseer.

Louise Viljoen skryf in Rapport van 2 Mei 2010 dat in Die benederyk die leser lees van ’n skilder Aaron Adendorff wat in Durban woon. Hy het ’n kankergewas aan sy nier gehad en na sy herstel maak hy ’n terugkeer na die kunswêreld. “Hy is onvergenoeg omdat sy agent, Eddie Knuvelder, nie begrip toon vir sy nuwe werk nie en hom weggelaat het uit ’n groep kunstenaars wat in Berlyn gaan uitstal. Verder is hy verward oor Eddie se versoek dat hy twee jong kunstenaars, Jimmy Harris en Moeketsi Mosekedi, na ’n ateljee in die Natalse Middelland moet neem. Hy is afgestoot deur die selfvertroue waarmee Jimmy Harris uitwei oor sy opvattings dat die skilderkuns dood is en is ook afgunstig op die sukses wat hy in die kunswêreld behaal. Hierdie intrige loop dwarsdeur die roman en word aan die einde met ’n aantal verrassende wendings afgesluit.

“Deel van die roman is egter ook die geskiedenis van Aaron se kunstenaarskap. (...) Ingebed in Aaron se verhaal is ook die omgang met sy broer Stefaans, wat as’t ware die tweede hoofkarakter in hierdie roman word. Stefaans vertel aanvanklik in kriptiese sms-boodskappe en later in meer uitgebreide e-posbriewe die verhaal van sy dekades lange dwelmverslawing en sy geleidelike terugkeer daaruit.

“Winterbach se bemoeienis met die motief van die broer in haar ander werk word in hierdie roman tot ’n aangrypende hoogtepunt gevoer," skryf Viljoen. “Die swyende broer van Belemmering (1992) word hier vervang deur ’n broer wat, in sy eie woorde, nie kan ophou babbel nie. Die broer wat ‘saam met die varke skille gevreet het’ op wie Helena Verbloem aan die einde van Die boek van toeval en toeverlaat wag, word hier aangevul met ’n broer wat volledig die verhaal van sy verval en terugkeer vertel.

“Dit is dus nie vreemd dat een van die belangrikste verwysings in hierdie roman dié na Thomas Mann se Joseph and his brothers is nie. Eweneens belangrik in die roman is randkarakters soos Aaron se huishulp mev Gloria Sekete (so blymoedig dat dit hom soos ’n gevangene in sy eie huis laat voel) en sy nuwe buurvrou, Bubbles Bothma (Lotto-prinses, Zen-meester extraordinaireen sekerlik die beste ding wat die Afrikaanse letterkunde in jare getref het). Dit is veral in die verskyning van Bubbles wat die roman se burleske kwaliteit (’n uitgelate kombinasie van erns en komedie) sy hoogtepunt bereik. Bubbles haal aan uit Milton se Paradise Lost, lees Gogol en bied aan om Aaron se vyande ‘reg te sien’ (met ’n pyp hulle knieë pap te slaan) of hulle ‘uit te vat’ (‘daar is ways and means,’ sê sy). (...)

“Die taalgebruik in die roman verteenwoordig ’n hele karnaval van stemme wat voorskriftelike purisme en puriteinsheid uitdaag. Kunsteoretiese jargon staan so aggressief en konfronterend soos die penne op ’n ystervarkrug in Jimmy Harris se mond; die ontspoorde Stefaans delf tot op die bodem van taal om die nuanses te vind waarmee hy sy verhaal kan vertel; Aaron ontwikkel ’n hele register waarmee hy oor die subtiliteite van sy eie kuns en dié van ander kan praat. Die benederyk bied veel om oor te besin en veel om te geniet. Ingrid Winterbach se jongste roman stel in geen opsig teleur nie.”

Jeanette Ferreira (Beeld, 18 Mei 2010) is van mening dat lesers van Ingrid se werk weet al dat haar werk op ’n mens groei, omdat dit anders is, maar tog eie aan Ingrid. Wanneer ’n persoon vir die eerste maal ’n boek van Ingrid onder oë neem, sal die eerste gedagte wees dat dit nie maklike en ontspanningsleesstof is nie. En Ferreira moet toegee dat dit nie is nie. “Tog bekoor die teks jou gaandeweg dermate dat jy nie wil ophou lees nie en uitsien na haar volgende roman. Bisarheid, sinisme en ’n vlymskerp humorsin is deel van Winterbach se aanbod wat vir haar ’n wye lesergehoor geskep het. Wie ’n les uit Die benederyk wil leer, sal dit wel vind, maar eers teen die einde: Nóg teleurstelling nóg verwagting is voorspelbaar.”

Thys Human (op LitNet) voel dat Die benederyk gelees kan word “as ’n onverskrokke disseksie van die liggaamlike en geestelike pyn wat karakters beleef, die wyses waarop (en die middele waarmee) hulle dié pyn probeer verdoof, maar uiteindelik ook die soms onvoorstelbare wyses waarop hulle oorleef en bly vóórtleef. Myns insiens is dit een van Winterbach se heel bestes!”

Ook Joan Hambidge (Volksblad, 3 Mei 2010) beskou Die benederyk as Ingrid se beste tot op daardie stadium as romanskrywer. “Ingrid Winterbach is ’n voortreflike skrywer en haar laaste twee romans het sterk storielyne, maar sy fokus steeds op tersaaklike intertekste wat haar romans uiters pakkend maak. In Die benederyk voeg die slot alles goed saam met Harris se lot (ek wil nie meer verklap nie) waar die motiewe van dood/kuns en waansin bymekaarkom.

“In ’n letterkunde waar werklik goeie romans skaars is, moet hierdie teks as ’n hoogtepunt uitgesonder word. Vir die speurende leser is dit ’n lonende en verrykende ervaring. ’n Groot skrywer verander jou siening oor die lewe en jou psigiese landskap. Dit presteer hierdie boek.”

In 2011 is Ingrid deur die KKNK vereer toe sy die Afrikaans Onbeperk-toekenning vir vernuwende denke ontvang het. In die commendatio is sy deur Antjie Krog geprys as ’n skrywer met “oog – en taalvermoë by uitstek”. Ingrid was baie in haar skik met die toekenning. Tydens die KKNK van 2011 is onderhandelings aan die gang gesit? om haar nuwe teaterstuk, wat toe pas voltooi is, in 2012 op die planke te bring by die KKNK. Die voorlopige titel van die nuwe stuk is Vuur.

Ingrid vind dit interessant dat mense altyd Jungiaanse motiewe in haar werk soek, want as sy moet kies tussen Freud en Jung, kies sy Freud, sê sy aan Stephanie Nieuwoudt in Beeld (26 Oktober 2002).

“Ek vind die manier waarop Freud die seksuele beklemtoon interessant. Die manier waarop hy die psige verklaar het, maak vir my meer sin as die manier waarop Jung dit doen.

“Dis vreemd as mense my boeke so bevestigend Jungiaans lees. Die enigste kennis wat ek van Jung het, is die bietjie wat ek op universiteit oor hom moes leer sodat ek Etienne Leroux se werk kon lees. As jy kyk na foto’s van die ouer Freud en Jung, is dit duidelik dat Freud nie so hoopvol was soos Jung nie. Ek kan ook om dié rede beter met Freud identifiseer. In die algemeen is die kans op heelheid, die kans op individuasie skraal.”

Andries Visagie skryf in Beeld (31 Oktober 2009): “Ingrid het eenkeer gebieg dat sy die boeke op haar rak volgens die kleur van die boekomslae rangskik en nie veel erg het aan ’n stelsel wat voorskryf dat die boeke van elke outeur by mekaar gegroepeer moet word nie. Vir sommige mense lyk dit dalk na die tipiese eksentrisiteit van ’n kreatiewe skrywer. As ’n mens egter in gedagte hou dat sy daagliks met kleur werk wanneer sy teken en skilder, besef ’n mens dat die oog van die visuele kunstenaar heel eiesoortige eise stel, ook wanneer dit die estetiese voorkoms van ’n boekrak betref.”

Ingrid het teenoor Sonja Loots (Rapport, 27 Oktober 2002) gebieg dat sy nog altyd meen dat Belemmering haar beste roman is: “Die omstandighede sal nooit weer wees dat ek só ’n boek kan skryf nie en ek is jammer daaroor, maar ek begin ook dink dat Buller se plan ’n goeie en regtig onderskatte boek is. Ek is jammer, maar ek moet dit sê. Dit lyk of die twee boeke wat ek as my beste beskou, die minste aandag kry.”

Ingrid en Andries is aan die begin van 2011 na Stellenbosch vir ’n sabbatstyd van ses maande by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias).

In 2012 verskyn Ingrid se Die aanspraak van lewende wesens en weer stap dit met al die belangrike letterkundige pryse weg. Nie alleen is dit voor publikasie bekroon as die wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd (2012) nie, maar wen ook die grote, die Hertzogprys vir prosa in 2013, die tweede keer wat hierdie eer haar te beurt val. Ingrid ontvang ook haar vierde WA Hofmeyr-prys daarmee en so ook haar vierde M-Net-prys. Die UJ-prys vir skeppende skryfwerk word ’n tweede keer aan haar toegeken. Wat, volgens, Thys Human (Beeld, 4 Oktober 2013), die prestasie des te meer merkwaardig maak, is dat haar roman in twee gevalle (die WA-Hofmeyr- en die UJ-prys) ook met werke in ander genres moes meeding.

Nadat Ingrid die M-Net-prys gewen het, het sy aan Jo Prins (Die Burger, 21 September 2013) gesê: “Die boek het my wildste verwagtings oortref. Ek kon nooit, ooit voorspel dat die boek soveel pryse sal wen nie. Maar die toekenning beteken ook geld en erkenning – wat ’n mens nodig het. Om te skryf is nie ’n goed betalende job nie en dis harde werk – dis moeilik.”

Ingrid se reaksie teenoor Willem de Vries (Beeld, 16 April 2013) nadat sy die Hertzogprys vir ’n tweede keer gewen het, was: “Die prys is uiteraard vir my ’n báie groot eer. Ek was dit nouliks die eerste keer te wagte, laat staan nog ’n tweede keer. Ek sal nog moet sien wat dit vir my met verloop van tyd beteken, maar geen prys kan ongelukkig op die duur die angstigheid van die lyf hou nie.”

Ná die ontvangs van die prys as wenner van die GAR (Groot Afrikaanse Romanwedstryd) som Ingrid die manuskrip kortliks op aan Bibi Slippers op LitNet: “Ek wou wegkom van die skilder- en skrywerkarakters van vorige romans: Maria Volschenk is ’n rekenmeester en Karl Hofmeyr is in die rekenaarbedryf. Voorts is daar ’n groterige supporting cast (hoewel dikwels nie baie ondersteunend nie), en uitvoerige verwysings na heavy metal-musiek. En na lewende wesens van allerlei aard – mense, palings, sprinkane, swart wurms, honde, ensovoort.”

In haar toespraak as wenner van die GAR het sy vertel hoe sy aan haarself begin twyfel het voor die prysuitdeling. Slippers het gevra: “Het hierdie vertwyfeling spesifiek te make met die manuskrip en die grensverskuiwende (aldus die beoordelaars) aard daarvan,en of die vertwyfeling maar normaal is wanneer jy ’n roman voltooi het.”

Ingrid se antwoord: “Die vertwyfeling is in groot mate deel van die skryf van elke roman, maar in hierdie geval was dit miskien groter omdat ek ’n manuskrip, en nie ’n gepubliseerde teks nie, voorgelê het vir beoordeling.”

Die beoordelaars van die GAR het in hul commendatio na die "selfbewuste ontwyking van plot" verwys wat Ingrid in hierdie roman uitoefen. Bibi Slippers (LitNet) sou raai “dat dit die skryfproses aansienlik moeiliker maak wanneer jy terselfdertyd boeiend en onderhoudend probeer skryf, maar ook die gegewe van plot probeer ondermyn. Sy wou weet of dit ’n tegniek is wat Ingrid doelbewus ontwikkel het, en of haar roman haar in daardie rigting gedwing het?”

“Ek glo nie ek het plot doelbewus probeer ontwyk nie,” was Ingrid se antwoord. “Dis maar soos ek skryf. Ek dink wel dat daar in die roman tempowisselings is: dele waarin die handeling versnel teenoor stadiger bewegings.”

Ook die kritici is eenparig met hulle lof vir Die aanspraak van lewende wesens. Joan Hambidge meen Winterbach is ’n voortreflike roman­skrywer. “Die aanspraak van lewende wesens het ek drie keer gelees. Sy verdien hierdie tweede bekroning vir ’n uitstaande roman. Haar jongste roman het ’n aangrypende verhaalgang en wanneer ’n mens die verskillende lae ­ontsyfer soos heavy metal-musiek, rolprente soos The Big Lebowski, die Ofiet-diagramme, Soefisme en Kabbalisme, besef jy dit is ’n meditatiewe teks, ’n soektog na ons plek op aarde. Dit is ’n roman wat sterk herinner aan die werkwyse van Saul Bellow waar die alledaagse teenoor die ­filosofiese geplaas word. Die volgehoue gesprek met haar mentor Etienne Leroux is eweneens ’n belangrike ­dimensie in hierdie roman. Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars in die roman. Die natuurbeskrywings is digterlik en ’n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte.” (Beeld, 16 April 2013)

Die literator Chris van der Merwe bestempel die boek op LitNet as ’n postmoderne quest-roman. “Ek kry dikwels die indruk dat die werk van Ingrid Winterbach in gesprek verkeer met die oeuvre van Etienne Leroux. Winterbach se roman het raakpunte met Leroux se Die derde oog: In albei gevalle gaan dit om ’n reis wat dieper wil dring as waartoe die oppervlakkige rasionalistiese same­lewing bereid is; ’n reis op soek na die sin van die ­lewe en die wese van goed en kwaad.

“Ook word Winterbach se werk, soos dié van Leroux, sterk gekenmerk deur ironie en ambivalensie. “Hierdie roman het my veral laat dink aan ­Sewe dae by die Silbersteins, wat, soos Die aanspraak van lewende wesens, handel oor ’n reis waarin die individuele en kollektiewe onbewuste tot openbaring kom; die vreemde plaas van Josias Brand het my herinner aan die Silbersteins se Welgevonden – wat nie slegs ’n plaas is nie, maar ook ’n mikrokosmos bevolk met tipes uit die hedendaagse samelewing sowel as arge­tipes uit die onbewuste.” (Beeld, 16 April 2013)

In Gerrit Olivier se bespreking van die roman in Beeld, 1 Oktober 2012 meen hy “Winterbach stel tipies nie belang in die konstruksie van ’n samehangende of sluitende verhaal nie en ook nie in ’n lewe wat stabiel, gelukkig of ’normaal’ is nie. Die fokus is minder op die progressie van die verhaal as op situasies, kwellings, onsekerhede, toestande van vertwyfeling; op ‘wemelings, ritselings en roeringe’.”

Syns insiens “verklaar dit ook die losse struktuur en onopgelosthede om persoonlike intrige. ’n Winterbach-karakter, so lyk dit, is óf vasgevang in ’n ­verterende belangstelling, ’n aaklige vermoede of ’n paranoia; óf hy of sy is op weg êrens heen, in ’n soektog ­sonder ’n eindbestemming.

“’n Mens gaan saam met Winterbach op reis deur die ‘jong Suid-Afrika’ en die ­verstommende diversiteit daarvan, al hoe meer bewus van die aansprake wat ‘ons, die lewendes’ op mekaar sal bly maak.”

Dit is beslis so dat die ou bygeloof dat te veel lof kan veroorsaak dat ’n skrywer nie meer kan skryf nie, nie van toepassing is op Ingrid nie. Sy sê aan Willem de Vries in Beeld (15 April 2013) dat sy “reeds weer besig is met ’n nuwe ­roman; ná maande se gesukkel en heelwat doodloopstrate begin daar nou oplaas weer iets vorm aanneem”.

In Rapport (31 Augustus 2012) skryf Christelle Stander dat Die aanspraak van lewende wesensdie wag werd was. “Dit is Winterbach se tiende roman en vorm ’n drieluik met Die boek van toeval en toeverlaat en Die benederyk. Haar romankuns word gekenmerk deur kompleksiteit en gelaagdheid, deur ryk intertekstuele verwysings en intratekstuele verbande enhaar prosa is sedert die verskyning van haar eerste tekste al grensverskuiwend. Basiese struktuurelemente soos tyd, ruimte, karakter, verteller en intrige word in elke roman uitmekaargehaal, in die soeklig geplaas en teruggesit op ’n wyse wat die leser dwing om konvensies te bevraagteken.

“Hierdie roman merk ’n verdere stap in die rigting van toeganklikheid in die Winterbach-oeuvre. Narratiewe lyne is duideliker gedefinieer en die knoop is sterk ontwikkel. Tog word daar niks van die liriese digtheid prysgegee waarmee haar tekste ons blik op die wêreld help intensifiseer nie. As reisgenoot van die hoofkarakters word die leser in hierdie roman gekonfronteer met die alomteenwoordigheid van die verlede in elke teenwoordige oomblik.

Die wisselwerking tussen die bewuste en onbewuste, veral met betrekking tot die wyse waarop die innerlike werklikheid van die onbewuste telkens in die doelbewuste aksies van die karakter-subjekte manifesteer, word op vernuftige wyse ontgin.

“Op soortgelyke wyse dwing die politieke onbewuste van die land dit op aan die tekstuele werklikheid. Boeremaglede, verdwaalde straatbewoners en ’n eksperimentele plaas/kommune teen Tafelberg se hange vorm almal knooppunte in die netwerk van romantekens. Hulle dien as merkers van ’n voortslepende verlede, ontwortelde hede en onhaalbare toekoms, én beliggaam die onafwendbaarheid van die ontwrigting van individuele agendas.

“Nie een van die twee hoofkarakters kan die orde wat vir hulle so belangrik is, handhaaf nie. Aan die een kant is daar Karl Hofmeyr. Hy word uit sy gemaksone gedwing wanneer hy ’n noodoproep oor sy broer ontvang. Dit word gou duidelik dat ’n wag-en-sien-benadering nie sal help nie. Hy pak onwillig die tog na Kaapstad aan om ondersoek in te stel. Hoe nader hy aan sy bestemming kom, hoe groter word die aanslag van die chaos op sy lewe. (...)

“Tog dra die komiese tekselemente en polsende rock-klankbaan wat deur die magdom verwysings verskaf word by tot ’n ligter trant as in haar vorige romans. Dit help met die skep van ’n ironiserende afstand sodat die leser meer in beheer voel tydens die lees van hierdie teks as enige ander van Winterbach se romans. Vanuit hierdie afstand spreek die magteloosheid van die hoofkarakter-subjekte ons aan. (...)"

Stander sluit af: “Die aanspraak van lewende wesens is ’n roman wat tot ’n wye leserspubliek sal spreek. Vir diegene wat nog nie ’n boek van Winterbach gelees het nie is dit ’n toetreepunt. Vir haar gereelde lesers is dit ’n onmisbare aanvulling tot haar oeuvre. Ek het die boek soveel geniet dat ek doelbewus die leesproses vertraag het. Ek wou nie hê die lekkerte van die eerste lees moes opraak nie. Dié jongste werk van Winterbach is waarlik ’n Groot Roman.”

In By, die Saterdag-bylae tot Beeld, Die Burger en Volksblad (4 Oktober 2013), vra Thys Human die vraag waarom Die aanspraak van lewende wesens soveel pryse ontvang het. “Het dit te doen met ’n gebrek aan behoorlike mededinging of is dit eerder ’n aanduiding van ’n stygende ontwikkelingslyn in Winterbach se werk? Of hou dit met iets heeltemal anders verband?

“Myns insiens sou dit aanmatigend wees om die veelvuldige bekroning van die roman aan ’n gebrek aan opgewasse mededinging toe te skryf. Dit is ook uiters beledigend teenoor die ander skrywers – die meeste van hulle ook (Hertzog-) pryswenners – wat saam met Winterbach op bogenoemde kortlyste verskyn het. Trouens, Winterbach het haar vir elke prys in die aanspraak van gedugte ‘teenstanders’ bevind.

“Hoewel Die aanspraak van lewende wesens met sy byderwetse verwysings na heavy metal, obsessief-kompulsiewe gedrag en allerlei verslingerings en verslawings waarskynlik ’n hele paar nuwe (en jonger) lesers vir Winterbach gaan aankeer, sluit die roman in vele opsigte nóú aan by haar vorige romans Die boek van toeval en toeverlaat (2006) en Die benederyk (2010). In ’n sekere sin kan Die aanspraak van lewende wesens as ’n sluitstuk vir hierdie drieluik bestempel word.

“Daar is dus nie soseer sprake van ’n stygende ontwikkelingslyn in Winterbach se werk nie as die bevestiging en bestendiging van ’n skrywerskap wat al ’n geruime tyd die merk van besondere gehalte toon.

“Wat veral in dié roman opval, is Winterbach se sonderlinge vermoë om taal uit sy wederstrewige voeë te ruk en byna na willekeur te skik; haar ontvanklike oor vir ongewone segswyses en praatritmes; asook die onthutsende brug wat sy deur middel van humor tussen die absurde en weersinwekkende enersyds en die eg menslike en deerniswekkende andersyds bewerkstellig.

“Naas die gebeurlike reise van die twee hoofkarakters, Karl Hofmeyr en Maria Volschenk, neem Winterbach die leser in dié roman ook op ’n intratekstuele reis deur haar vroeë oeuvre: van die swerwende spiritsdrinkers in Klaaglied vir Koos, die geheimsinnige wyfiespinnekop in Erf en die intrigerende teenwoordigheid van heldersiendes in Karolina Ferreira en Niggie tot die drievoudige besoek aan die begraafplaas en lykshuis in Landskap met vroue en slang.

“Een van die grootste verdienstes van die roman is die subtiele wyse waarop Winterbach die Suid-Afrikaanse werklikheid allegories betrag en dus daarin slaag om reg te laat geskied aan die verbluffende vreemdheid en kompleksiteit daarvan. (...)

“Wat Winterbach wel meer opsigtelik as van die ander skrywers doen, is om bestaande genre-grense uit te daag en te oorskry. Sodoende betrap sy haar lesers telkens onkant en smokkel sy deurgaans met hul kop. Ofskoon dit die indruk mag skep dat Winterbach haar hier met allerlei postmodernistiese truuks vermaak – prettige pastische, snydende sinisme, semiotiese speletjies en ’n eindelose relativering van betekenis en kennis – is dit allermins die geval. Soos in die werk van talle ander tydgenootlike skrywers/denkers blyk dit veral uit Winterbach se laaste romans dat postmodernisme se dae as oorheersende kulturele paradigma getel is. (...)

“Ingrid Winterbach is dalk nie heeltemal ’n rockster nie (hoewel my aanstekerliggie darem nou al lánk brand), maar wie sal in elk geval onmiddellike bevrediging kies as jy jou eerder in die applous van langdurige roem kan verlekker?”

In 2015 verskyn Ingrid Winterbach se volgende roman, Vlakwater, by Human & Rousseau en stap sy in 2016 vir die vierde keer weg met die WA Hofmeyr-prys. Die beoordelaars het die roman beskryf as “’n besinning oor die rol en aard van kuns in roerige tye; ’n moedelose wekroep teen die tirannie van middelmatigheid en geestelike vervlakking, asook ’n soeke na mistieke rigtingwysers in ’n andersyds onherbergsame heelal”.

Vlakwater is in 2016 deur Michiel Heyns in Engels vertaal en onder die titel The shallows uitgegee.

In Vrouekeur (4 Maart 2016) skryf Willie Burger dat Ingrid Winterbach die kuns verstaan om haar lesers binne die eerste paar sinne van ’n nuwe roman na ’n ander wêreld te neem. "Of eintlik in ander wêrelde in, want in Vlakwater, soos in Die aanspraak van lewende wesens en in Die benederyk, is daar meer as een verhaallyn. Met elk van hierdie verhaallyne word die leser in ’n verstommende wêreld ingelok.

"In Vlakwater is die een hoofkarakter ’n kunstenaar (soos dikwels in haar romans). Niek Steyn se verhouding het verbrokkel en hy sukkel om in dié tyd van verlies weer op dreef te kom (wat natuurlik baie dieselfde klink as Aaron in Die benederyk). Hy trek in ’n nuwe woning in Kaapstad in en neem ook ’n huurder in. Dan sien hy op ’n dag onverwags ’n vark in sy tuin! Hy en die vark se eienaar, Marthinus Cloete, word vriende en deur hom kom hy ook by ’n plaas teen die berg uit (waarskynlik dieselfde plaas as die onheilspellende plek in Die aanspraak van lewende wesens waarna Karel moet reis om sy broer te gaan help). Wanneer Niek se huurder, ’n jong fotografiestudent, skielik verdwyn, bring Marthinus hom met ’n vreemde groep mense in aanraking (soos Blackie die albino wat van alle misdaad in die stad kennis dra) wat onwettig langs die plaas op die berg woon. Niek probeer by hulle uitvind wat van sy huurder geword het.

"Niek gee ook by ’n private kunsskool klas, maar is gefrustreerd met die onbelangstellende rykmanskinders daar. Boonop raak een van sy studente by satanistiese rituele betrokke en haar ma lê by Niek aan. Geheimsinnige kopers wil sy huis koop en hy is agterdogtig dat hulle dit vir onheilige doeleindes wil bekom.

"In die ander verhaallyn is ’n vrou met ’n haaslip van Stellenbosch besig om ’n boek oor die Olivier-broers te skryf, twee film-kunstenaars wat internasionale roem verwerf het en wat in die buiteland woon. Sy probeer om ’n onderhoud met hul pa te voer – ’n afgetrede professor, wat haar jare tevore, toe sy nog ’n jong student was, geteister het.

"Die twee verhaallyne kruis nie direk nie en die twee hoofkarakters uit die verhaallyne ontmoet mekaar nooit. Maar al twee se lewens word deur die skrywer Viktor Schoeman geraak. Hy het in die 1990’s ’n roman met die titel Vlakwater geskryf. Die roman het egter nie ’n goeie ontvangs gehad nie en hy is landuit. Wanneer Niek ’n vreemde poskaart ontvang en allerlei ontstemmende dinge gebeur – wat die ontsnapping van geestesversteurdes en ’n motorongeluk insluit – wys Marthinus daarop dat hierdie gebeurtenisse met die gebeure in Vlakwater ooreenstem en hy vermoed dat Viktor Schoeman iets met al die ontstellende gebeurtenisse te doen het. (...)

"Wat Winterbach egter weer met al die vreemde en onverwagte gebeurtenisse, die geskakeerde, humoristiese taalgebruik en die klem op verrassende detail regkry, is om die leser in te trek in die wêrelde soos deur die karakters beleef. Dit word duidelik dat die karakters op verskillende maniere diep deur trauma of deur angs en agterdog getref is en daarom is die wêreld soos hulle dit beleef, ’n vreemde, dreigende en dikwels somber plek. Juis daarom is die verrassende woordkeuses en gebeurtenisse so snaaks. Die leser besef dat die maniere waarop hulle hul wêrelde beleef, hoe hulle alles verstaan, nie ’n volledige beeld van die wêreld kan wees nie. Maar daar is ook geen ander beeld van die wêreld wat as korrektief kan dien nie. Hierdie vreemde, paranoïese wêrelde is die enigste wat bestaan.

"Daar is geen verklarings en oplossings vir die raaisels nie. Baie van die dinge waarmee die karakters hulle besig hou, lyk futiel en onsinnig, maar hulle is onverbiddelik ernstig daaroor. Op hierdie manier ondersoek Winterbach die manier waarop elkeen van ons die wêreld vir onsself tot stand bring – elkeen met sy of haar eie beperkings, psigologiese probleme, persoonlike geskiedenis en toevallige gebeurtenisse waaraan ons uitgelewer is. Ons beste pogings om ons eie bestaan te verstaan, is gebrekkig en onvolledig. Nóg kuns, nóg wetenskap bring begrip of oplossings vir alles, of troos. En van buite gesien, is al die pogings en veral die erns waarmee ons die wêreld benader, eintlik snaaks. Die humor bring ’n deernisvolle blik op ons onvoldoende pogings om in die wêreld in te pas."

Op Netwerk24 skryf Chris van der Merwe (18 Oktober 2015) dat Vlakwater ’n tipe misdaadroman is met ’n "duiwelse moordenaar" wat agter die bloed van die twee hoofkarakters is. "Maar dis nie ’n konvensionele misdaadroman nie. Die karakters en gebeure is gehul in onsekerheid, en die misterie word tot die einde gehandhaaf. (...)

"Die roman kan as ’n dokumentering van ons tyd gelees word wat die donker kant van die menslike natuur ontbloot. Geweld, verkragting en moord is algemeen. Pogings om orde te skep word steeds deur chaos bedreig. Opvallend is die tonele waar die karakters in direkte aanraking met ’n lyk kom. (...)

"Die roman beeld dinge uit wat liefs deur die rasionalistiese, burgerlike samelewing ontken word: die mens se irrasionele, gewelddadige kant, maar ook die strewe na transformasie en heelwording.

"Dit handel oor sowel demoniese bedreigings as verlangens van die siel. Die transendente verlange, die begeerte na iets hoërs as die materialistiese bestaan, word onder meer deur die landskap gesuggereer, die roerende skoonheid van berg en maan. Verder is die stryd tussen orde en chaos, goed en kwaad, van wesenlike belang. (...)

"Vlakwater sal seker nie in die smaak val van lesers wat hou van ’n realistiese misdaadroman met ’n duidelike ontknoping nie, maar vir my is dit ’n diepsinnige werk van ’n uiers boeiende skrywer."

 In Tydskrif vir Letterkunde (2016) skryf Thys Human: "Vlakwater is ’n bewys dat die betrokkenheids- en estetiese dimensies van ’n kunswerk nie wedersyds uitsluitend hoef te wees nie, maar dat die een die ander juis kan fasiliteer. Die roman is véél meer as net ’n uitbeelding van die geweldskultuur in Suid-Afrika; dit is eerder ’n veelvlakkige dramatisering van botsende bestaanswêrelde wat die leser uitnooi om saam te dink en te bespiegel.

"Nadat Niek saans saam met Marthinus DVD’s gekyk het, is hy dikwels nog lánk daarna 'onder die indruk van die stemming [daar]van, […] van die gedempte kleur […], van die evokatiewe, duister, onverklaarbare beelde. Dit gryp hom aan die keel en wring sy hart' (232). Dit is bykans ’n woordelikse opsomming van die indruk wat Ingrid se Vlakwater by my as leser gelaat het. Dit is ’n boek waarheen ek keer op keer met genot en groeiende verwondering sal terugkeer."

Van 29 September tot 8 Oktober 2017 vind die derde Week van de Afrikaanse roman: Zuid-Afrikaanse romans in Nederlandse vertaling in Nederland, Vlaandere en België plaas, en Ingrid Winterbach sal saam met Rudie van Rensburg, Willem Anker, Amy Jephta, Andries Bezuidenhout en Suzie Matlhola op hierdie literêre roadshow gaan. Tydens die roadshow gaan die deelnemers in Amsterdam, Den Haag, Utrecht, Culemborg, Gent, Brussel, Schiermonnikoog, Antwerpen, Leuven en Rotterdam optree.

In ’n onderhoud met Winterbach vir Week van de Afrikaanse roman wou Ena Jansen weet wat die wisselwerking is tussen haar woonplek en haar skryfwerk. Vir Winterbach is dit baie belangrik. "Die geografiese ruimte waarbinne ek skryf, vind gewoonlik neerslag in die werk waarmee ek op ’n bepaalde moment besig is. Toe ons in Durban gewoon het, was die groen weligheid ’n belangrike motief in my romans. In Stellenbosch was dit nog altyd die berge. (Nou, in Jamestown, is dit die berge in die oortreffende trap.) In Louis Trichardt het ek nog nie romans begin skryf nie – as ek het, sou die rooi tennisbane sekerlik gefeature het.

"Veral in my eerste romans het ek met groot noulettendheid die landskap opgeteken (byvoorbeeld Klaaglied en Belemmering). Nie net die landskap nie, maar elke klipper, miernes, sprinkaan, spinnekop en kiewiet het my toe geïnteresseer. Elke wolk wat oor die berg beweeg. Met die tyd saam het my oog meer verslete geraak – nou gly my skrywersblik baie meer oorsigtelik oor die landskap, nou dui ek dit baie bondiger aan. Byna as ’n soort shorthand."

By die Woordfees op Stellenbosch in 2018 debuteer Ingrid Winterbach se stuk Ons almal freaks hier in die US Museum onder regie van Nicole Holm met Albert Pretorius, Kay Smith en Lee-Ann van Rooi as akteurs. Die hoofkarakter is Sarah Baartman, die Koi-vrou, wat in 1810 as kuriositeit oorsee gestuur is.

Dit word as ’n tipe plek-spesifieke teater aangebied waarin ook kommentaar gelewer word op Sarah en haar lewe in Europa. Ingrid het aan Gazette (28 November 2017) vertel dat haar fassinasie met Sarah Baartman al van lankal af kom: "Dis ’n lang storie wat van die woordspeletjies in Niggie kom. Ek het ’n kort prosateks geskryf oor haar reis en wedervaringe, maar nooit met die bedoeling om ’n roman daarvan te maak nie; allermins ’n drama. Tot onlangs, toe ek ineens lus kry om ’n dramateks van die gegewe te probeer maak."

Die gehoor is deur die museum begelei en dit het beslis bygedra tot ’n magiese dog donker teaterervaring, skryf Marcey Kannemeyer op LitNet. "Want die gehoor wat so saam-saam deur die museum skoffel, word deel van die toeskouers wat gekom het om die freaks te aanskou. As gehoorlid het ek ook onkant betrap gevoel, want soos jy staan en kyk na die aksie en die toneelspel, kyk jy ook na die gehoorlede wat oorkant jou staan of sit, en die hele proses voel soos ’n ontbloting, ’n ontmaskering – dit voel asof jy vir die persoon oorkant jou wil sê: 'Ons is saam in hierdie ding.'"

Op Netwerk24 (4 Maart 2018) skryf Laetitia Pople as volg oor die produksie op die Woordfees: "As gehoor behoort jy instinktief Sarah se gemoedstoestand aan te voel deur wat aan haar liggaam gedoen is. As ’n mens niks van Sarah se voorkoms weet nie, is hier niks om in jou geheue ’n prentjie te vorm nie. Hoekom is sy as ’n 'freak' beskou? Die teks staan self sterk hoewel dit gesny kon word, veral aan die einde waar die begrafnis as vertelling taamlik steriel oor luidsprekers na die gehoor aangerol kom. Van Rooi skakeer nie genoeg emosie in haar vertelling nie.”

"Die voorstelling in die gekose lokaal is nie geslaag nie. Waar die museum soms treffend werk as plekspesifieke ruimte, werk dit meestal teen die verhaal. Ons word omring met artefakte van die trotse Khoi-nasie bewaar agter glas (...) Dit is gepas om Sarah se ontheemding van haar tradisie aan te dui, ook dui dit op die stand van die Khoi-nasie wat steeds veg vir behoud en politieke erkenning. Daar hou die relevansie van die ruimte op. (...)

"Jy gaan weg sonder om meer te voel of te verstaan van Baartman en hoekom haar storie vandag nog resonansie het."

Ons is almal freaks hier is ook by 2018 se KKNK op die planke gebring en daar is dit bekroon met ’n Kanna vir die beste teateraanbieding.

Human & Rousseau publiseer in 2018 Ingrid se volgende roman met die titel Die troebel tyd. Dit word deur Michiel Heyns vertel as The troubled times of Magrieta Prinsloo. Met hierdie manuskrip palm Ingrid in 2018 die eerste plek in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in.

Die beoordelaars (Ena Jansen, Alfred Schaffer en Steward van Wyk) motiveer hulle toekenning as volg: "Die troebel tyd bring onvergeetlike karakters en in ’n besonder vertroulike leeservaring word ’n mens meegevoer met ’n boek waarin karakters in al hulle alledaagse absurditeit subliem en oortuigend geteken word. Die roman handel oor talle verskillende karakters en hulle obsessies en is dikwels só snaaks alhoewel dit baie ernstige kwessies soos depressie aanspreek. ’n Web van verbande tussen mense en gebeure word geweef wat deurentyd verras asook alledaags is. Wat beleef word, is tegelykertyd baie privaat en ook ’n registrering van die hedendaagse geskiedenis: depressie, die gevoel van nutteloosheid en beheptheid met sosiale media, die prositute langs die snelweg, die waterskaarste en die karakters se onvermoë om ’n houvas op die werklikheid te kry. Die dialoë is skitterend, en die roman is deurspek met humor en vlymskerp ironie." (LitNet)

In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet nadat sy bogenoemde prys gewen het, vertel Ingrid ’n bietjie meer van Die troebel tyd: "Magrieta Prinsloo, ’n dierkundige, se kop haak uit op die verkeerde antidepressant. Sy bedank haar werk by die universiteit en aanvaar ’n betrekking by die Buro vir Voortgesette Onderwys. Sy moet met mense ('agente') hier en elders in die Wes- en Oos-Kaap skakel. Op ’n dag verdwyn Markus Potsdam, haar baas. Haar Buro-opdragte bring Magrieta in aanraking met onder meer ’n sogenaamde meganiese eend, ’n uitgespoelde walvis, en ’n vrou wat vir haarself ’n tent in die wingerd opgeslaan het."

In Beeld van 10 Desember 2018 skryf Joan Hambidge: "Die troebel tyd is ’n uitstekende, weemoedige en pynlike roman waar die duiwels (en die walvisse) onder ronddraai wat ons letterkundige agente moet naspeur; ook oor die kwessie van die apokalips-fatigue. ’n Boek van ontstemmenis wat Winterbach-lesers sal bekoor ... ’n satire van speurverhale en soeke na oplossings."

Louise Viljoen was die resensent vir Rapport van 4 November 2018 en sy beskryf Die troebel tyd as ’n "voortreflike roman". Sy het dadelik tot die gevolg gekom dat die "roman korter, leniger en meer gestroop voorkom as die onmiddellik voorafgaande romans, dat verwysings na die kunste minder sterk figureer en dat die natuurwetenskappe meer op die voorgrond tree."

In die verhaal kom die leser meer te wete oor Magrieta se verhouding met haar "onpeilbare baas", Markus Potsdam, asook oor haar wedervaringe gedurende haar reise waartydens sy onderhoude moet voer met die 'agente' van die buro.

"Binne hierdie raamwerk ontvou ’n verhaal met uitsonderlike reliëf en psigologiese diepgang. Deur die talle herhalende handelings is daar ’n byna hipnotiese reëlmaat in die verhaal. Die roetine van Magrieta se werk by die buro, haar gereelde wandelinge in die wingerde naby hul huis, die gesprekke met haar jong kollega Isabel, die sensuele interaksies met haar man, Willem, en haar voortdurende bekommernis oor Potsdam vorm die basiese stramien van die verhaal.”

"Onderliggend aan alles is haar behoefte om die troebelheid van haar eie gemoed en die haas apokaliptiese tyd waarin sy leef, die hoof te bied."

Viljoen sluit haar bespreking af: "Die troebel tyd is ’n voortreflike roman waarin daar – byna soos by JM Coetzee – onder die helder oppervlak van die vertelling ’n noukeurige konstruksie en betekenisvolle gelaagdheid skuilgaan. Dit het die potensiaal om een van die klassieke werke in Winterbach se oeuvre te word."

Publikasies:

As Lettie Viljoen

Publikasie

Klaaglied vir Koos

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1987

ISBN

  • 0620080272 (sb)
  • 0947046119 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Kortlys vir Louis Luyt-prys, 1986

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Erf

Publikasiedatum

1986

ISBN

0947946089 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Kortlys vir Rapport-prys, 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Belemmering

Publikasiedatum

1990

ISBN

094704633 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karolina Ferreira

Publikasiedatum

  • 1993
  • 1996
  • 2003 (klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0798131985 (hb)
  • 0798135077 (sb)
  • 0798143509 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Naaswenner CNA-prys, 1994
  • M-Net-prys, 1994
  • Ou Mutual Letterkundeprys, 1997

Vertalings

  • Engels, vertaal deur Iris Gouws saam met Ingrid Winterbach (Human & Rousseau, 2005)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Landskap met vroue en slang

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136383 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Ingrid Winterbach

Publikasie

Buller se plan

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139951 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys, 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Niggie

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2de druk 2004

ISBN

0798142863 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys, 2004

Vertalings

  • Nederlands – Riet de Jong-Goossens (Cossee, 2007)
  • Engels, To hell with Cronjé – Elsa Silke (Human & Rousseau, 2007)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die boek van toeval en toeverlaat

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780798147288 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 2007
  • M-Net-prys 2007
  • UJ-prys vir skeppende skryfwerk 2007
  • Sala-prys vir liteêre vertaling 2010
  • CL Engelbrecht-prys vir letter­kunde 2012

Vertalings

Engels, The book of happenstance deur outeur en Dirk Winterbach 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die benederyk

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151474 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

M-Net-prys 2011

Vertalings

Engels vertaal deur Leon de Kock

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die aanspraak van lewende wesens

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798157063 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Wenner Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012
  • WA Hofmeyr-prys 2013
  • M-Net-prys vir beste Afrikaanse roman 2013
  • UJ-prys vir skeppende skryfwerk 2013
  • Hertzogprys vir prosa 2013

Vertalings

Engels 2015; vertaal deur Michiel Heyns

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlakwater

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798170475 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 2016

Vertalings

Engels 2017, vertaal deur Michiel Heyns

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die troebel tyd

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780798177665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Wenner Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018

Vertalings

Engels vertaal deur Michiel Heyns; The troubled times of Magrieta Prinsloo

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor Ingrid Winterbach op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Ingrid Winterbach (1948–) appeared first on LitNet.

Joan Hambidge (1956–)

$
0
0

Gebore en getoë

Joan Helene Hambidge is op 11 September 1956 in Aliwal-Noord gebore, naasoudste van vier dogters. Haar pa se voorgeslagte was Iers en haar ma Afrikaans.

Sy begin haar skoolloopbaan in Aliwal-Noord, maar omdat haar pa in die versekeringsbedryf was, trek hulle baie en gaan sy skool in Witbank en Pretoria (Hoërskool Wonderboom) en matrikuleer aan die Hoërskool Standerton. In standerd 4 (graad 6) skryf sy in vir die Transvaler se poësiewedstryd en wen R5 met ’n gedig wat begin met "die verlange passeer vannag in my". Dit is ook dan voorlopig die einde van haar digwerk.

Joan vertel tydens die Woordfees van 2014 dat haar eerste reise as kind per bus van Pretoria se middestad na Sunnyside was. Sy het vir haar pa by sy werk gaan kuier en terwyl sy gewag het, het sy hierdie reis in die kleine aangepak.

Op skool is Joan ’n stil, introverte kind en in standerd 8 besluit sy al manier waarop almal haar gaan uitlos, is as sy begin presteer. In matriek ontvang sy die beheerraadsmedalje vir die beste matriekuitslae. Sy besoek die biblioteek gereeld en lees al die "wilde" stories wat hulle as kinders nie mag gelees het nie, soos Konsalik en die fotoverhaal Die Ruiter in swart. Dit het egter gou tot haar deurgedring dat kinderboeke nie die werklikheid aanbied soos wat dit is nie. Terwyl sy ’n jong student was, het sy vakansies die platteland besoek met boeke uit die klassieke wêreldliteratuur onder haar arm.

Verdere studie en werk

Joan gaan na die Universiteit Stellenbosch vir verdere studie en in 1979 verwerf sy haar BA Honneursgraad daar. Sy voltooi haar MA-graad aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van Elize Botha; haar tesis is getiteld "Die ek-verteller in die belydenisroman". Sy skryf haar in vir ’n PhD aan Rhodes-universiteit en onder André P Brink se leiding verwerf sy dit in 1985 met haar tesis "Die metaroman – ’n dekonstruksie-ondersoek".

Van 1980 tot 1992 doseer sy algemene literatuurwetenskap aan die Universiteit van die Noorde. In 1990 word sy aangestel as hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van die Noorde, en in Julie 1992 as senior lektor in Afrikaanse poësie aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy tot vandag haar kennis met studente deel. Vandag doseer sy egter kreatiewe skryfwerk in poësie aan nagraadse studente. In 2007 was sy ook direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes, en benewens die kursus in kreatiewe skryfwerk bied sy ook kursusse in gender en letterkunde aan.

In 2006 word Sean O’Toole, ’n student van Joan, se kortverhaal "The road to Rephile" aangewys as wenner van die SA Pen literêre prys. Joan het ook ’n ruk lank aan die Universiteit van Yale in die VSA navorsing gedoen oor literêre teorie. In Mei 2003 lewer sy haar professorale intreerede aan die Universiteit van Kaapstad. Die titel van haar rede is "Whose inaugural is it anyway? Modern criticism in crisis".

In 2001 behaal Joan haar tweede doktorsgraad, dié keer in kultuurstudies, aan die Universiteit van Kaapstad. Die titel van haar proefskrif was "Gender-konstruksie in die Afrikaanse letterkunde: ’n ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk".

Binne vyf jaar na haar studies bou Joan vir haar ’n reputasie op as een van die mees omstrede literêre figure in Suid-Afrika. Sy skroom nie om haar sê te sê nie en is altyd gereed om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuigings te verdedig. Volgens Louise Viljoen is dit "vir enige letterkunde gesond om so ’n uitgesproke persoon met so ’n sterk strydende ingesteldheid te hê. Dit keer dat mense selfgenoegsaam word, en wys ook die letterkunde is nie ’n keurige, hoogheilige bedryf nie."

Joan wou advokaat word, en ook mediese dokter, maar gelukkig het haar ouers haar na die letterkunde toe gedwing, wat sy vandag as die regte keuse beskou. Sy beleef die lewe ten volle, is versot op reis en gaan elke jaar oorsee – om die lewe te sien. Haar ouma Hannah Loubser, ’n suster van Maggie Laubser, het ook die wêreld vol gereis en dit is dalk by haar dat Joan haar reislus geërf het.

Reis het die sentrale metafoor van haar lewe geword: "Dis wonderlik om die wêreld te sien, maar daar’s ook die innerlike reis, om tot ’n soort persoonlike klaarheid te kom." Joan het ook gereeld vir Die Burger se bylae By ’n reisrubriek, "Wegkomkans", geskryf.

Oor haar reistasse skryf Joan in 2003 in Die Burger: "My eerste reistassie op ouderdom vyf dra ek elke dag saam. Vreemd genoeg, nooit weggeloop met hierdie boksbruin tassie. Binne-in toebroodjies, ’n pen en een van my pa se boeke, nogal ’n roman van Graham Greene. Later sou ek lees hoe hy vertel dat ’n kind reeds vroeg sy lot aanvoel en op die banke van die Oranje-rivier – kwalik ses – wou ek my susters op ’n wintersdag teen die verbeelde vloed beskerm. Later sou ek ver reis. Van my ouerhuis met ’n bloedrooi stel vinieltasse op die Trans-Karoo. Die ‘vanity case’, eerste oorbodig, soos ’n hoededoos. My klere gemakliker en losser. Dié rooi reistasse karwei universiteitsvakansies vele boeke vir ’n somer op die Hoëveld. ’n Leertas in Griekeland, ’n ekstra sak in Amsterdam wat ruik na jenewer, ’n gekleurde Benetton (geskenk van ’n minnares), ’n duur ‘state of the art’-tas wat ’n ander een abba reis saam oor verre oseane en gebergtes. In Egipte aanskou ek woedend hoe ’n werker my leertas in rooisand neersmyt; besef onthuts ’n kamera is uit my sak geskaai. Nooit ’n tas verloor of toegelaat dat iemand vir my tas dra. Reis dikwels weg om iemand uit my hart te weer. Op die sjinkansen met die abba-tas op die rug pendel ek van Tokio na Kioto na Osaka. Slenter deur Suid-Amerika met net ’n nylonsak. Koop na vyf weke splinternuwe klere in Rio de Janeiro. In elke tas of sak ’n potlood en notaboek vir die neerpen van’ 'n verdraaide raaisel. Oor hierdie geslote baan veelvuldig gedig. ‘Travelling light’ my motto al was die hart hoe swaar. Soveel hemde, broeke pas netjies presies in die tas se lyf: amper nes ’n mens se bont binnegoed. Vreemd ook, geen tas ooit weggegooi al is dit hoe verslete want daardie tas is ’n dagboek, ’n memento, ’n opgaarder van al my drome, ’n argief van helder herinneringe: soos die geheime onbewuste."

Na die eerste poging in haar laerskooljare begin Joan weer in 1983 ernstig poësie skryf. Sy debuteer in 1985 met Hartskrif en dit is die begin van ’n baie produktiewe skryfloopbaan. Die pryse het nie agterweë gebly nie. In 1986 wen sy saam met Deon Opperman, die dramaturg, die Eugène Marais-prys; haar wenbundel is getitel Bitterlemoene (1986). In 1999 volg die Litera-prys van die letterkundige tydskrif Literator vir haar gedig "Eugène N Marais (1871–1936)" en sy ontvang ook die Poetry Institute of Africa se tweede prys vir "’n Gedig plagiariseer die werklikheid".

André Brink beskryf Joan in ’n Rapport van 1987 as "een van die heel beduidendste stemme van die Tagtigs". En in dieselfde jaar praat TT Cloete van haar "ryp, boeiende visie". Vroeg in haar skrywersloopbaan vertel sy dat sy tussen drie-uur snags en sesuur soggens skryf, want "wanneer die ritme van die liggaam op sy laagste is, is ’n mens die naaste aan jou onbewuste". Temas waarna sy gereeld terugkeer in haar poësie, is familie, die dood, die digkuns, reis, portrette van digters en bekendes.

Oor Bitterlemoene skryf Pieter van der Lugt in Die Burger (26 Februarie 1986) dat dit tematies by Hambidge se debuut, Hartskrif, aansluit en dat dit veral handel oor "the unbearable lightness of being single", of so iets. "Sowat van verwikkeldheid sien jy selde," skryf Van der Lugt. "Helfte van die verse vreet deur die draad aan die (dikwels groener) gras van ander se werk. Die res roep na kraalmaats met eenderse gene in een van die bundel se elf afdelings. Byna al haar ervarings word aan die hand van aanhalings en verwysings verwoord. Sy roep soveel gevormde kuns op voor sy háár kunsies wys, dat sy uiteindelik doer op die plato-rand van die Ideëryk bly staan. Tensy ’n mens daarvan hou om vangtoue om verwysings van eenderse vere te gooi of graag peins oor allures en aanhalings, voel ’n mens ontuis in dié bundel."

Joan het in ’n brief aan Die Burger vir Van der Lugt ligweg oor die vingers getik omdat hy na haar mening verkeerde aannames gemaak het.

In Die Burger van 3 Maart 1988 het Van der Lugt hom redelik kras uitgespreek oor Palinodes (1987) en te kenne gegee dat daar nie veel nuut in die bundel is nie. Die bundel bevat "hoogstens klemverskuiwings. Daar is ook geen besonderse verandering van styl of vorm nie, hoewel die taal nog meer gestroop is en die verse nog strakker word. ’n Mens soek verniet hier na iets wat jy nog nie by Hambidge gesien het nie. Die verse eindig nog steeds almal in mineur-sleutels van versugting, gelatenheid of frustrasie. En dit wemel nog van aanhalings. Alles verloop ou stryk. Net een voorbeeld. In die bespreking van Hambidge se vorige bundel, Anatomie van melancholie, is gewys op ’n opwindende tegniek, waarmee ’n skelle paradoks in een treffersin saamgevat is. Maar kyk hoe kragloos herleef dié truuk hier: Liberace, die koning van swier, se lyk word in ’n blou sak verpak ... (‘Le Clochard’). Dis mos oppervlakkige sentiment, dié. (...) Die meer emosionele gedigte (behalwe darem ‘Ballade van my troue vriende’, wat – selfs titel in ag genome – deklameer soos ’n NTO-voordragstuk!) is in hierdie bundel die hoogtepunte. In Hambidge se vorige werk was hulle min – en dit is hulle nog. Maar namate ’n mens uitgeput raak weens die (dikwels gevaarlik naby aan irrelevante) verwysings en aanhalings, word dié bietjie hartstog ’n toevlug."

Geslote baan het in 1988 verskyn en hierdie keer is dit Helize van Vuuren (Die Burger, 15 Desember 1988) wat kritiek daarop het: "Tiperend van hierdie versameling gedigte is ’n steriele ‘geslotenheid’, wég van die lewe, iets wat al voorheen in haar poësie te sien was. Dit lyk asof Hambidge net een tema het, en dit is die poësie. Geslote baan is ’n yl bundel, met ’n atmosfeer van selfkoestering en steriliteit." 

Joan se volgende twee bundels, Donker labirint en Kriptonemie, toon vir Van Vuuren (Die Burger, 4 Januarie 1990) ’n "stygende lyn van gehalte", maar sy "wonder hoe lank die digter nog met dié tematiek (van die ek-spreker wat nie raad weet met haar gebroke hart nie, en beurtelings verlangend of verbitterd terugdink oor die verlore geliefde) wat as ‘muse’ of ‘katalisator’ van haar poësie fungeer, kan volhou sonder om alle lesers te verloor."

Oor Gesteelde appels,wat ook, soos die twee bundels in bostaande paragraaf, in 1989 gepubliseer is, skryf Etienne Britz (Die Burger, 7 Desember 1989): "Die bundel met sy aantreklike mengsel van grimmige spot en sielesmart het van my finaal ’n Hambidge-fan gemaak. Dit is ’n bundel met parodieë op gedigte uit Groot Verseboek, en sy word onweerstaanbaarder as ooit. Haar 'bandelose spot met self en ander' – soos sy dit in 'Writer’s block' noem – is selfs aansteeklik."

By die bekendstelling van Die somber muse en Tachycardia in Augustus 1990 in Pretoria het JC Kannemeyer (Beeld, 24 Augustus 1990) gesê: "As Joan in Nederland gewoon het, was haar bynaam sekerlik De Bezige Bij, want sy is in werklikheid ’n hele uitgewery wat in slapbandboeke in ‘pocket’-formaat publiseer. Die slapband is trouens die enigste slap aspek van haar poësie, want verder is haar verse gespanne, trillende snare.

"Die preutses onder ons wat haar soort liefdespoësie moreel afkeur, sal miskien sê: ‘De Bezige Bij blijft smerig’, maar ek bespeur in so ’n uitspraak onder meer ook die jaloesie van sommige van haar tydgenote wat met hul beskeie oeuvres en skrywerskrampe hul frustrasies liefs in kort stukkies joernalistiek in alternatiewe blaadjies uitflap.

"Om tot 'n bietjie meer erns by dié geleentheid te kom: Joan Hambidge is tans ons produktiefste digter wat haar met ’n monomaniese oorgawe aan die poësie wy. ‘Ek lewe met ’n drif/ ter wille van die skrif,’ sê sy in een van haar bundels – ’n aanduiding van die hartstog waarmee sy haar, om Eybers se woorde te gebruik, oorgee aan
die ‘wrede beleg van die woord’."

Die hooftema van Tachycardia is, volgens Kannemeyer, die afloop van ’n verhouding en die pyn wat daarmee saamgaan "en soos telkens vroeër in haar oeuvre word die liefde in terme van die literatuur beleef met ’n obsessionele, obstinate dwingendheid en ’n monotonie wat met dié van Achterberg vergelyk kan word.

"Soos in Donker labirint, haar bundel van 1989, is die liefdesgeskiedenis in Die somber muse nie net tot een rubriek beperk nie, maar staan die hele bundel in die teken van die liefde, iets wat meebring dat die sterk intellektuele inslag van Hambidge se poësie met sy talle verwysings, toespelings en die gesprekke met kunstenaars en kunswerke hier enigsins getemper word, met ’n persoonliker tipe vers as resultaat," het Kannemeyer verder gesê.

"Die bundel handel oor ’n liefdesgeskiedenis wat met groot pyn afgeloop en onherroeplik verby is. Die verse staan meestal in die teken van verlies, al word die liefde ook hier gesien as ’n impuls vir die poësie en gee die sprekende digteres aan haarself feitlik die opdrag om haar poëties en wetenskaplik teen die verdriet te staal.

Veral die twee slotafdelings van die bundel bevat sterk verse as daar van die uitdrywing van duiwels sprake is, as sy van vergiffenis praat, as die woord as surrogaat verskyn en as daar selfs 'n minagting vir die geliefde intree. Toenemend na die einde toe staan alles in die teken van die woord, selfs al besef sy dat die verwydering via die woord juis ’n ‘bestendiging’ impliseer en dat ‘verlangens ... net deur intense pyn ... vergestalt’ word. As verslag van ’n liefdesgeskiedenis is Die somber muse een van Hambidge se mees deurgekomponeerde bundels."

Joan waag haar hand nie net aan poësie nie, en ’n hele aantal romans het al uit haar pen verskyn, soos Swart koring en Die swart sluier, albei parodieë van die hygroman, en Die Judaskus. In 2001 haal Skoppensboer die Sanlam/Insig-romanwedstryd se kortlys.

In ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht (Beeld, 29 Januarie 1997) vertel Joan hoekom sy Swart koring geskryf het: "Ek wou nog altyd ’n roman skryf. Tewens [sic], toe almal blinkoog in DJ Opperman se letterkundige laboratorium met die digkuns gespeel het, was ek aan ’t prosa skryf. Beeld had ’n aandeel in die vorming van dié boek: ek het ses jaar lank die rubriek Op my literêre sofa geskryf waarin ek my satiriese kragte getoets het en besef het dat onse lesers nie juis ’n humorsin het nie. Ek het ook deur ’n persoonlike transformasie-proses gegaan en ek verwerk alles wat met my gebeur in tekste. Ek het gevoel dat my poësie nie die regte medium sou wees om ’n dramatiese proses te verwerk nie."

Oor wie heel moontlik Swart koring gaan lees en wie nie, was Joan se antwoord aan Engelbrecht: "As jy poësie skryf, weet jy nooit hoe jou leser lyk nie. Dis ’n stiller medium. Ek het ’n roman geskryf wat vir sowel die gewone leser as die ingeligte leser bedoel is. Dis ’n grappige send-up en ook ’n boek waarin baie pyn lê. My onwaarskynlike leser? Iemand wat die boek as ’n paint by numbers gaan lees en (probeer) herlei na hierdie/daardie insident. Ek fiksionaliseer gebeure."

Joan meen dat die wêreld behep is met seks. "Swart koring stuur dié 'beheptheid' met seks op. Die hygromans in Afrikaans het kwansuis seks óóp geskryf, maar dis maar mak teen buitelandse produkte." Oor of sy behep is met seks, sê sy dat behep klink asof 'n mens moet skuldig wees oor seks of verhoudings. "Ek is openlik gay – my verhoudings met mense is dus duidelik. Niemand wat met my ’n verhouding sluit, kan agterna beweer hulle is ‘mislei’ nie. Maar my verhoudings is eerder emosioneel. Ek is behep met die grammatika van emosies."

In 1998 verskyn beide Die swart sluier en Die Judaskus. Hieroor vertel Joan aan Beeld Plus (16 September 1998): "Ek skryf geweldig gedissiplineerd. Ek werk elke dag aan ’n studie oor gender en sorg dat ek elke dag ’n aantal woorde skryf. Dit is ’n vorm van selfdissipline. Ek funksioneer op my beste wanneer ek skryf. Die Judaskus word as ’n ‘rara avis’ beskou: ’n postmodernistiese roman, ’n liefdesbrief, literatuurteorie, ’n digter se werkwinkel, ’n individuasie-proses, ’n Boeddhistiese bedevaart, ’n reisverslag. Ek het hierdie roman geskryf ná ’n bloedige oorlog tussen my en ’n ‘geliefde’. Ek wou die hele proses van liefdesverraad deurgrond van hoe iemand wat eens by jou betrokke was, jou grootste vyand kan word. Verraad van ’n bekende is erger as van ’n onbekende, juis omdat daardie persoon jou Achilleshiel ken. Ek het die hele proses uit my geskryf: die woede, die verdriet. Daar is niks oor nie. Net ’n gevoel van: dit was ’n suiweringsproses. Die roman gebruik vanselfsprekend net die werklikheid as vertrekpunt, want as ’n mens ’n boek skryf, dan neem die skryfproses jou op ’n eie koers. Dit is waarskynlik soos ’n skip op die oseaan. Die stormwaters kan die skip van koers af gooi."

Die swart sluier het in dieselfde tydperk as Die Judaskus ontstaan. Dit dryf die spot met gewilde fiksie – meer bepaald met die hygroman as ’n tipe van kultus in Afrikaans. "Almal lees, of het in hul verlede, ontsnappingstekste gelees. Dit bepaal ons leespatrone en dikwels hoe ons na die werklikheid kyk."

Die skrywer skeer dus die gek en lewer kommentaar op die karakters en die gebeure wat plaasvind. Sonja Verbeek bevind haar in Welkom, waar sy ’n lesing by ’n seminaar moet lewer saam met DF Malherbe. Die rekenaars van die hotel het egter ’n virus onder lede en het die besprekings deurmekaar gekrap. Sonja is saam met Salome van Sewe dae by die Silbersteins in die kamer en ander karakters uit ander romans is ook daar: Dalene Matthee se olifant en Lettie Viljoen se slang, asook Madeleine van Biljon. Dit is ook deels ’n plaasroman en Sonja het ’n verhouding met die weduwee Viljee wat sy wil verlos van die verkeerde opvatting "dat sy net ’n parodie is in ’n speurverhaal en spookverhaal".

Die resensies oor die romans was redelik uiteenlopend. Stephan Bouwer (Rapport, 22 November 1998) het geskryf dat Joan met Sluier "vernuftig met genres en subgenres mors", terwyl Willie Burger (Beeld, 19 Oktober 1998) gewonder het oor die "mark vir dié soort teks en dat op die duur die baldadigheid net nie meer so snaaks is nie en hopelik bly Sonja Verbeek nou maar liewer in die VSA".

Judaskus is vir Helize van Vuuren (Die Burger, 5 Augustus 1998) ’n "onderhoudende en geslaagde roman, veral om die meelewing met die hoofkarakter en die afwisseling in teksture wat die verwewing van intertekste meebring en hoewel die roman met veel van die gegewe van Hambidge se poësie werk, is dit hier besonder oortuigend en meer verwikkeld aangebied."

In Volksblad (5 Oktober 1998) sê Mathilda Smit dat "Hambidge se bedrewenheid as teoretikus, kritikus en akademikus uit hierdie fiktiewe teks spreek. Die teks leen hom tot interessante speurtogte in hoe werklikheid, fiksie en teorie geknoop word."

Lykdigte, wat in 2000 gepubliseer is, het Hambidge nege maal oorgeskryf. Sy het in 1997 daaraan begin skryf na die dood van die digteres Rika Cilliers. Daarna het verskeie ander digters, soos Johann Johl, Patrick Petersen, Stephan Bouwer en Ernst van Heerden, ook te sterwe gekom.

Die gewildheid van Lykdigte, waarvan die herdrukke reeds die aantal maande wat dit beskikbaar was, oorskry het, was iets wat Joan baie bly gemaak het. "Vir my is dit nie digters nie," vertel sy vir Roline Norval in Die Burger van 6 November 2000, "maar die digkuns wat saak maak." Sy haal Neruda aan wat gesê het daar is nie digters nie, net digkuns. "Alle digters het ’n verbintenis met die poësie. Dit is soos ’n tapisserie waaraan jy help weef.

"Met hierdie digbundel het ek met myself klaargespeel. Die lykdigte het nie net op ander se dood betrekking nie. Dit is die afsterwe van die ou self."

Die populêre ontvangs van Lykdigte kan gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat dit meer toeganklik is. "Dit is nie so vol intertekste en so intellektueel ingestel nie," en ook die tema is anders – voorheen het haar gedigte meer oor die liefde gegaan en in hierdie bundel gaan dit oor die dood. En vir Joan is dit een van die hoofredes hoekom die bundel so gewild is. "Dit vind aanklank by alle mense. Dit is ’n tema wat niemand kan ontglip nie. Die dood, die lewe en die liefde is verskillende kante van dieselfde munt," sê sy aan Norval.

Die bundel was ook ’n vredemaakproses. Die bekende digters, wat ook vriende was, soos Johann Johl, Rika Cilliers, Stephan Bouwer en Ernst van Heerden, wat kort na mekaar oorlede is, het haar laat besef dat alles in die lewe met ’n doel gebeur. "My Boeddhistiese ingesteldheid maak my bewus van die interafhanklikheid van dinge. Ek beskou die dood nie as die einde nie. Dit is deel van ’n proses, ’n groot reis, ’n veranderde toestand."

Die lykdigte is nie net ’n afskeid van dié wat reeds oorlede is nie, maar ook geskryf aan dié wat nog lewe, en een van die afdelings is gewy aan digters soos Sheila Cussons en Elisabeth Eybers, wat op daardie tydstip nog gelewe het. "Dit is ’n soort bestekopname van almal wat ’n invloed op my lewe gehad het. Dit is ook ’n liefdevolle geskenk aan diegene vir wie ek iets te sê het voor dit te laat is – ook diegene met wie ek ’n bloedband deel soos in 'My Ouers'. Poësie is ’n proses. ’n Gedig skryf homself. Die digter is net die medium," sê Joan aan Norval.

In 2006 is Joan se pa oorlede en na haar pa se dood word haar negentiende bundel, Dad, gepubliseer. Slegs die eerste reeks gedigte in dié bundel is na haar pa se dood geskryf. Hierdie bundel gaan oor haar verhouding met hom, oor die vader-kind-verhouding in die algemeen, en oor die verhouding met vaders binne ’n bepaalde digkuns.

Joan vertel aan Jo Prins (Die Burger, 12 Julie 2011): "Dad is ’n bundel gedigte rondom die vader wat die kinders grootmaak. Dit beeld ook die ervaring van sy dood en die nadraai daarvan uit. Dit gaan verder oor die gesprekke wat ’n mens as kind met die ouer het en ook beeld die gedigte die kind se vroeëre rebelsheid teen die pa en dan later die aanvaarding uit. Behalwe bogenoemde gaan Dad ook oor die vaderskap van die gedigte – die gedigte wat in gesprek tree met die Vader-digters in Afrikaans."

In 1999 behartig sy saam met Ingrid Gouws en Marlene van Niekerk ’n week lange kursus in kreatiewe skryfwerk aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth en in 2008 lewer sy waardevolle insette tydens ’n kreatiewe beraad aan die Universiteit van die Vrystaat.

Joan se gedigte is ook al vir ander fasette van die kunste aangewend. In 2003 bied die La Rosa-geselskap vir Spaanse dansteater ’n dansproduksie getiteld Elementos aan in die KunsteKaap-arena. Die eerste deel van die produksie heet "Imagenes" en is gebaseer op gedigte uit Joan se bundel Ewebeeld. Die gedigte word deur Nicole Holm gesing en voorgedra met kitaarbegeleiding terwyl dit deur flamenkodansers uitgebeeld word. Dié gedeelte van die produksie is ook in 2001 by die KKNK aangebied.

Joan is ook ’n gereelde bydraer tot rubrieke in koerante en tydskrifte. So het sy in "Op my literêre sofa" in Beeld met haar vlymskerp kommentaar gesorg vir vele polemieke en briewe aan die pers. Sy skryf ook gereeld "Kopstukke", ook in Beeld.

In ’n onderhoud met Hettie Scholtz in Insig van Junie 2000 bieg Joan dat sy van eerstes hou: "die eerste PhD oor dekonstruksie, asook ’n eerste studie oor postmodernisme in 1995. In my skryfwerk is daar ook ’n eerste beskrywing van liefdesverbintenisse tussen vroue, ’n eerste gay-parodie in Afrikaans (Swart koring, 1996) gevolg deur Die swart sluier (1998)." Ook in haar roman Die Judaskus (1998) word die lesbiese psige verken. Die eerste internetroman in Afrikaans is ook uit Joan se pen – Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het – ’n gesprek met Jan Lion Cachet se Sewe duiwels.

"Joan glo in holistiese genesing en in tarotkaarte wat sy self kan lees; en ander dinge wat haar besig hou, behalwe reis, is lees en die skryf van literêre kritiek. Laasgenoemde is ook een van dié dinge wat haar so bekend (of is dit berug?) deur Suid-Afrika gemaak het. Sy skroom nie om in haar resensies reguit te skryf wat sy van die betrokke boek dink nie, hetsy goed of sleg, en bevind haar dan heel dikwels midde-in ’n polemiek in die dagpers waaraan almal met groot genoeë kan deelneem of lees. Hambidge is sinoniem met die polemiese. Sy deins nie daarvoor terug nie en erken sy is ‘vlymbekkig’. In dieselfde asem maak sy dit duidelik dat sy nie kleinserig is nie" – in it ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger, 9 Februarie 2007.

"Joan Hambidge is ook ’n soort taalstryder, iemand wat deur haar literêre bydrae, haar kritiese werk, haar satiriese send-ups en haar polemieke die taal op verskeie fronte aan die gang en lewend hou. Onder hierdie wakende oog sal Afrikaans nie in die vergetelheid verdwyn nie, al is dit net omdat sy altyd die laaste woord moet hê," skryf Hettie Scholtz in Insig, Junie 2000.

In 2008 verskyn Kladboek by Protea Boekhuis, en die dubbeldoor Palindroom, ’n roman, en Koesnaatjies vir die proe (gedigte), saam in een band by Genugtig!. "Maar," sê Hambidge, "die drie babas is allermins ’n drieling. Kladboek strek verder terug. Dit het ongeveer drie jaar lank by die uitgewershuis gewag. Ook Koesnaatjies vir die proe is ’n bundel wat sowat vier jaar terug geskryf is. Maar ek is bly dit verskyn saam. Op ’n manier praat die tekste met mekaar. Kladboek word ’n soort rigtingwyser vir Palindroom en andersom" (aan Denver Kisting in Rapport van 8 September 2008).

Basies is die storie van Kladboek die begin en afloop van ’n liefdesvierhoek: daar is die verhouding tussen Die Skrywer en Die Geliefde wat sneuwel omdat eersgenoemde Die Vrou ontmoet. Dan ontmoet die leser ook Die Man, vorige geliefde van Die Vrou, en hy raak betrokke by Die Geliefde.

Oor Palindroom en Koesnaatjies skryf Petra Müller in Rapport (5 September 2008): "Joan Hambidge speel in ons lettere tans die rol van die kwajong, die breker, die raasbek, die grensoorskryder, dié vroumens van vele gedaantes. As daar al ooit ’n stormvoël was, is dit sy.

"Maar sy bedryf ook, veral in haar romans, die ‘ligtende erns’ – ’n noodsaak in ons somber omtes. Haar nuutste romanwerk, Palindroom, is ’n dubbeldoor: jy kan hom (haar?) van al twee kante aanvat. Een deel is prosa-boek; jy draai hom om en begin daar lees: nou is dit ’n digbundel. Dié twee lê ingekrul en opgekooi, onder die teken van die Koningin van Harte.

"Dié prosateks is ’n uitgesponne, laat-moderne reverie oor onaanraakbaarheid, waarin deur ’n delikate web van e-pos vertel word van ’n moontlike kuberromanse. Dit bestaan uit huiweringe wat selfs, en veral, nié in hierdie teks tot rus sal kom nie – nie deur skrywer of deur leser nie. (...)

"Nou draai ons die boek om – ek gaan nie uitwei oor die omdraaistorie nie – en begin lees aan die poësieteks wat opduik as Koesnaatjies vir die proe. Dit word genoem ’n parodie op die voorgaande, en is ’n karnavaleske viering van die lyflikheid wat uit die voorgaande geweer is. (...)

"Koesnaatjies is ’n lyfteater – en net hier begin dit neuk met hierdie omdraaiteks. Vir my gevoel is dit meer satire as parodie, ’n ruimhartige en soms ook groteske opgaaf van katelwerk waarin elke ding op sy voornaam genoem word en waarin die verskrikte klein kwelknaap Eros haastig by die venster uitglip na ander weidings toe. Want die smagting word smak en die sondes, genoeglik soos dit is, nie spitsvondig genoeg nie. (...)

"Ek draai my boek dus weer om, en begin weer lees aan Palindroom. Nou sien ek op die baie toepaslike buiteblaaie se eenderse afbeelding van die Koningin van Harte dat haar mooi gesig steeds halfpad versluierd bly."

In 2012 verskyn Lot se vrou en oor die titel en hoe dit in die bundel neerslag vind, vertel Joan aan Louis Esterhuizen op Versindaba: "Ek verwys uiteraard na die Bybelse figuur wat vlug uit die stad van Sodom en teen waarskuwings in, terugdraai en in ’n soutpilaar verander. Ook Ado of Edith in die Hebreeus en die verhaal-gegewe staan opgeteken in Genesis 19. Ek gebruik haar as ’n simbool vir die terugkeer na jou jeug, na pynlike ervarings en insidente. Die hele bundel is geïnspireer deur ’n uitnodiging na my skoolreünie en is dus ’n terugkeer na dit wat ’n mens meen jy verlaat het, maar tog paradoksaal jou lewensuitkyk bepaal het. Ek speel dan voortdurend ook met die idee van lot (fata) en my persoonlike verbintenis tussen die Christendom enersyds en die Boeddhistiese aanvaarding van jou lewenslot. In ’n reisverslag wat nou onlangs in BY verskyn het, koppel ek sekere Boeddhistiese beginsels aan my reisbesoek aan vreemde, dog bekende stede."

Esterhuizen is veral beïndruk met die besondere wyse waarop Joan met klassieke versvorme omgaan – iets wat in Lot se vrou opvallend is. Joan se reaksie hierop is: "Wel ek doseer kreatiewe skryfkuns. Ek meen dat ’n mens geweldig leer wanneer jy klassieke vorme (soos die rondeel, villanelle, distigon, of watookal) kan skryf. Skryf ’n gedig eers in ’n formele vorm en maak dit daarna ’n vrye vers. Dan kan jy sien wat jy nie kon of wou sê nie. Ek skryf tans ’n handleiding (so tussen alles deur) vir jong digters."

In 2012 wen Joan die ATKV-Poësieprys vir Visums by verstek, ’n keur uit haar reisgedigte. "Die bundel bied ’n waardige blik nie net op haar ­gedigte nie, maar ook op haar skryfvermoë en digterskap. Beslis ’n bundel wat ’n toe­kenning vir 'uit­nemende Afrikaanse poësie' werd is," sê die beoordelaars, Marius Crous, Karen de Wet en Danie Marais.

Marius Crous skryf in Beeld (7 Maart 2011) oor Visums by verstek: "Deur die jare het Joan Hambidge bekendheid verwerf vir haar besoeke aan verre plekke en vir die verse wat sy daaroor skryf. In haar digbundels het sy ons op reise geneem deur Nederland, Skandinawië, Japan, Indië, die VSA, Europa en na Egipte en Zanzibar op die Afrika-vasteland. (...)

"Wat hierdie bundel so genoeglik maak, is dat nie al Hambidge se reisverse ingesluit is nie, maar dat die leser getrakteer word op ’n ‘persoonlike keuse’. Ek sou selfs nog van die ingeslote verse uitgehaal het, want veral die verse oor Zanzibar laat my dink aan foto’s wat uit fokus geneem is en liefs nie in die album opgeneem moes word nie.

"Kenmerkend van Hambidge se oeuvre is die skryfproses en die besinning oor die skryf van gedigte en die neerpen van indrukke oor besoekte lande sentraal. Saam met die besienswaardighede, die nalees van die stad se geskiedenis en die etimologie van stede se name word die stad dikwels bestempel as ’n metafoor vir die metapoëtiese besinning van die digtende reisiger."

Joan se volgende bundel was Meditasies, wat in 2013 verskyn het. Dit is geskryf nadat sy en ’n vriend besluit het om ’n "reis-om-die-aarde" in 2011 aan te pak. "Dit was tydens ’n sabbatsverlof en ek wou weer stede besoek waar my eerste gedigte ontstaan het, te wete die VSA. My gedigte is gevestig in ’n sterk Amerikaanse tradisie, ­spesifiek Ooskus-Amerika, en my eerste bundel, Hartskrif (1985), het in ’n koue winter in New Haven ontstaan. Ek het die VSA op verskillende tye besoek en die Brooklyn-brug kan gelees word as ’n simbool hiervan. ’n Ingaan in New York, ’n hartstad, ’n stad waaroor ek dan ook dig vanaf my eerste bundel tot nou. Ek was in die VSA net voor 9/11 en het vir jare weggebly, omdat ek nie die stad weer kon aanskou nie. Twee jaar terug ervaar ek dan die letsels van 9/11," vertel Joan aan Willem de Vries in Die Burger van 10 Januarie 2014.

Die foto op die buiteblad van Meditasies het Joan self geneem van onder die Brooklyn-brug tydens bogenoemde reis.

In dieselfde onderhoud wou Willem de Vries by Joan weet of die feit dat reisigers en toeriste verskil, verband hou met die gedigte in Meditasies.

Joan: "Digters is altyd reisigers: Jy besoek die stad op ’n werklike, reële vlak; hierna in die ­ver­beelding, in die herinnering, in die gedig. Toeriste neem net foto’s."

Willem: "Die gedigte in Meditasies staan in die teken van brûe; ook dat jy geen rivier op dieselfde plek twee keer kan oorsteek nie. Was die skryf van enige van die gedigte wel ’n poging om dit te doen?"

Joan: "Absoluut. Jy is in die kol. Ek het probeer om die jong digter wat ek was, weer te begryp. Die verwondering van die eerste keer New York meemaak; ook die verwondering van ’n mens se eerste digterlike pogings. Hierna word jy slu. Jy dig met woordeboeke en handleidings. Dit staan alles in die gedig oor ‘Los Angeles’ en die leser word versoek om die weerlose, jong digter genadig te wees."

Oor Meditasies het Henning Snyman op LitNet geskryf: "Soos gewoonlik by Hambidge is daar talle verwysings, maar die gedigte gee genoeg sleutels aan die lesers om die geheime te ontrafel. In sy geheel is Meditasies ’n kragtoer van die digter om soveel teenstellings, sulke ryke en geskakeerde bronne van materiaal in ’n gedugte en vernuftige ewewig te hou. Teenstellings soos realiteit teenoor drome en illusies, mens teenoor woord en digter teenoor wrede werklikheid word soos deur ’n meesterhand tot sintese gebring. Sekerlik is hierdie bundel ’n hoogtepunt in die werk van Hambidge.

"Naas Ewebeeld en Lykdigte is hierdie bundel, in my lesing daarvan, Hambidge se beste werk nog. En vergeet nie van die voortreflike Lot se Vrou nie. Nie alleen is dit ’n voortreflike bundel gedigte nie, maar die digter lewer ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse leksikon deur die gebruik van woorde waaraan sy ’n nuwe betekenisverruiming gee, soos byvoorbeeld die begrip ‘meditasies’. Maar uiteindelik en selfverduidelikend:

Ars Poetica

Stilte, eensaamheid 
dryf haar van geboorte af 
van wieg tot kis: 
soekend na ’n ander 
se aanraak of troos. 
Op verskeie reise, 
vlugtend van om verlaat-te-wees, 
weg van pynlike ervarings, 
terug tot in ’n andersoortige kissie: 
hierdie klein brose ding, 
genaamd ’n gedig, 
nes die amberkamer 
in die Hermitage. 
Te vertelle, 
eenling is jy gebore, 
En só sal jy die gom 
van die bome sny. (85)

In ’n onderhoud in Die Burger (12 Julie 2011 – onderhoudvoerder se naam nie vermeld; vermoedelik Jo Prins) is aan Joan gevra of mense haar kritiek te dikwels en te maklik as persoonlik ervaar. "Ons het ’n probleem in die Afrikaanse letterkunde: Omdat dit ’n klein bedryf is en mense mekaar ken, kan mense dikwels nie die persoonlike van die akademiese skei nie. Hóé mense [my kritiek] ervaar, kan ek my nou regtigwaar nie oor skeel nie.

"My standpunt is baie eenvoudig: As jy iets publiseer – hetsy ’n resensie of ’n digbundel of wat ook al – en jy hou nie van die kritiek of die reaksie daarop nie, dan moet jy in die eerste plek nie skryf of publiseer nie. Ek dink kritiek is baie nodig in ons bedryf. Wat ek nogal ’n bietjie onrusbarend vind in die Afrikaanse letterkunde, is dat mense baie dikwels private stellings maak – jy weet, met ’n mens saamstem – maar nie bereid is om dit in die openbaar te sê nie. Ons het dit baie meer nodig om vir mekaar goed reguit te sê."

In 2015 verskyn Matriks by Human & Rousseau. In Die Burger van 9 Maart 2015 vertel Joan aan Willem de Vries dat die gedigte in Matriks oor 'n lang tyd hulle bestaan gehad het. "Verse wat uit ander bundels gehaal is, kon hier ’n rusplek vind."

Sy noem ook aan De Vries dat dit ’n "eenheidsbundel" is "waarin ek die verskillende betekenisse van die begrip matriks ontgin, soos die leser kan aflei uit die gedig 'Doubling the point'. Gedigte binne bundelverband kry altyd ander betekenisse wanneer dit ’n familieskap sluit met gedigte róndom hulle. Só wen hulle aan betekenis. Dit bly egter die leser se voorreg om gedigte saam te snoer en Keanu Reeves te speel."

Matriks het ’n baie opvallende omslag en Joan vertel aan De Vries dat dit ’n foto van ’n deur is wat sy afgeneem het in Ljubljana op ’n reis deur Serwië en Kroasië. "Ek neem altyd deure af in vreemde ruimtes en hierdie pragtige deur het mý afgeneem, soos iemand opgemerk het. Ek het eers later gesien wat alles daarop uitgekerf is: die hele lewe is hierin opgesluit, soos die moeder en die kind, die priester, die geliefdes, foltering ... Al die belangrike argetipes dus."

Joan verduidelik ook verder aan Gisela Ullyatt op Versindaba: "Al die temas van my bundel is hier saamgesnoer. Skryf as verset teen, maar skryf ook as oorlewing. Om by iets diepers uit te kom. As kind het ek nie binne die strukture ingepas nie en as volwassene besef ek al hoe meer hoe dankbaar ek moet wees hiervoor. Dit het my geleer om die enkelstaat met volledigheid te omhels. En vandat ek dit regkry, is my verhoudings met ander sinvoller."

In dieselfde onderhoud sê Joan Matriks is ook ’n "liefdesbrief aan my moeder. My moeder wat my intellektueel gestimuleer het en met wie ek – soos met my vader – ’n volgehoue gesprek voer in my digkuns. Die verse in hierdie bundel gaan oor meer as my biologiese moeder. Dit gaan oor moeders (soos Dorothy Parker se verhouding met haar moeder) en die komplekse verhouding wat veral die gay-vrou met haar moeder het, met moedertaal, met identiteit, met jou posisie binne die kanon en hoe manlike digters vir lank die kanon oorheers het."

Sy is ook reeds aan die skryf aan ’n nuwe bundel met die voorlopige titel Indeks waarin TS Eliot ’n rigtingwyser is, vertel sy aan Ullyatt.

Ná die polemiek wat as gevolg van Charl-Pierre Naudé se resensie van Susan Smith se digbundel In die afwesigheid van sin­ ontstaan het, het Joan die volgende te sê gehad (Beeld, 3 Februarie 2013):

Polemieke rondom resensies is nie onbekend aan ons literatuur nie. So elke dan en wan is daar ’n onrustigheid. My gevoel oor resensies is soos volg:

  1. Dis die eerste mening van ’n ingeligte, belese letterkundige.
  2. Indien die resensent verkeerd is, sal die tyd dit uitwys. ’n Resensent is geregtig op ’n mening en hoef nie elke keer ’n slopemmer oor die kop te vrees as hy/sy eerlik is nie.
  3. Om ’n debuut as 'meesterlik' te tipeer, is oorhaastig. Dit is sleg vir die digter wat nog baie te lere het. Trouens, geen digter hou ooit op om te leer van ander digters of tegnieke nie.
  4. ’n Kritiese resensie, een wat sowel die goeie as swak punte uitwys, is iets waarby ’n digter kan baat vind. As die Pegasus-perd jou afgegooi het, klim weer dadelik op.
  5. Ons beleef tans ’n kultuur van instant gratification; die sogenaamde Moi.Inc-digter wat dink alles moet positief, in die oortreffende trap én jubelend wees. Selfs Carol Ann Duffy is nou onlangs gekritiseer vir haar liefdesgedigte – en sy kan volgens my werklik dig!
  6. Nie alle lesers of kritici kan ewe veel van alle soort digkuns hou of dit begryp nie, maar om in elegiese ge-yl in te gaan oor een negatiewe resensie klink vir my belaglik. Veral as ’n bundel nog nie die toets van die tyd deurstaan het of nie eintlik ander debutante van die afgelope tyd die loef afsteek nie.
  7. Kom ons vra eerder vir ’n lys van uitmuntende debute in Afrikaans en vergelyk dié debuut daarmee. Smith se debuut bevat ’n handvol pragtige verse.

In Volksblad (16 Augustus 2014) vertel Joan van een van haar gunstelingboeke: "Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit uit 1937, is my gunsteling. Dit is ’n dagboek- en briefroman, puik gekonstrueer met kammabriewe. Maria en Marie (du Toit), twee kante van die persoonlikheid, ego en alter ego, met die verlange na die digter Johan ... Die verhouding tussen Johan en Du Toit word uiters subtiel vertel met die klimakstoneel wanneer sy een nag na sy ouerhuis gaan ... Dit is ’n kragtoer in onbeantwoorde liefde en hierom het ek haar vereer as romankarakter in my roman Swart koring."

In 2016 verskyn Joan se 25ste digbundel (bloemlesings van haar gedigte ingesluit) onder die titel Indeks. Joan het aan Marchelle van Zyl gesê Indeks "karteer twee landskappe: die Argentynse en Chileense wêreld. Die bundel werk met die Andes as ’n broeiende simbool. Daar is verse oor afskeid, bestekopnames en tergery: Ek speel met die ou weduwee Viljee ... En daar is ’n reeks oor Neruda." (Netwerk24, 10 September 2016)

Op Netwerk24 (7 November 2016) het Tom Gouws geskryf dat hierdie nuwe digbundel ’n begrip uit die semiotiek gebruik, "een van die drie onderskeibare terme waarmee Charles Peirce soorte tekens onderskei: simbool, ikoon en indeks."

"Vir die literatuurwetenskaplike leser sal dit interessant wees hoe die digter poëties hieraan beslag gee, en telkens dit ikonies gebruik in titels, verwysings, reiskaarte, bestemmingsbeskrywings, bakens, ander tekste, voorwerpe, voorskrifte, motto's, foto's, en so meer. ’n Mens kan dit takseer as: die bundel as digterlike scrapbook."

Gouws het sy bespreking afgesluit: "As ek gaaf wil wees, tel ek hoogstens tien gedigte wat vir my poëties enigsins bevredigend is, tekste wat daarin geslaag het om aan die tipiese Hambidge-hinderlikhede te ontkom. (...)  Die bundel is helaas weinig vorentoe vir die Afrikaanse poësie, en bepaald geen hoogtepunt in haar oeuvre nie." (...)

"Ek dink partykeer dat met groter selftug, strenger keuring, minder publikasiewaansin, sou Joan Hambidge dalk drie, nee vier wonderbare digbundels tot die Afrikaanse letterkunde kon lewer, waarvoor sy bepaald as digter vereer kon word. Maar soos die saak staan, blý sy onteenseglik ’n major minor poet."

Op Versindaba skryf Amanda Lourens met die publikasie van Indeks bevestig Joan haar status as die mees produktiewe digter in Afrikaans. "Met hierdie feit in gedagte, is ’n leser se eerste vraag oor Indeks moontlik die volgende: Wat het ’n digter nog te sê ná soveel poëtiese produksie, en dit binne die bestek van ’n relatief kort 31 jaar?

"Die leser se vrees dat Indeks dalk net ’n her-digting van bekende temas in die Hambidge-oeuvre mag wees en dat die digter se werk dalk besig is om te verval in ’n té gemaklike, selfs meganiese produksieproses, word egter vinnig besweer. Reeds die eerste paar gedigte in die bundel val op vanweë die tegniese afronding, die inhoudelike digtheid en die emosionele reikwydte daarvan. Alhoewel die nuwe bundel op ’n manier ’n bevestiging en terselfdertyd ’n heroorweging is van temas waaroor Hambidge reeds herhaaldelik gedig het – onder meer verlies op verskillende vlakke, die pyn van die liefde, nabye familie, die reismotief, populêre ikone en ars poëtikale besinning – neem Indeks die oeuvre na ’n nuwe harmonie wat in sowel die digterlike psige as die tegniek waarneembaar is. Wanneer die bundel neergesit word, is die leser deeglik bewus van die fyn balans wat op alle vlakke sigbaar is – dit is poësie wat van ’n ryk voedingsbodem van intertekste en ervarings getuig, maar wat terselfdertyd gewis nie ontoeganklik is nie." (...)

"Uiteindelik is Indeks dan die neerslag van die volwasse digterlike belewenis, en dit is die belangrikste wins van die bundel: om te sien hoe daar teruggekyk word op vorige gesprekke en reise, en die vernaamste reis – na die self – nou onderneem word. Die indeks-gegewe word geskakeerd verken en aangebied, en uiteindelik word van die leser verwag om self ’n roetekaart tot die bundel te teken en op die proef te stel."

"Indeks is gewis meer as die moeite werd en behoort sy plek in die Hambidge-oeuvre in te neem as ’n bundel wat ’n goeie en selfs verrassende leeservaring waarborg."

Op LitNet begin Helize van Vuuren haar bespreking van Indeks: "Donkiejare gelede in Utrecht het Wilhelm Liebenberg opgemerk dat van agter af lees dikwels ’n vrugbaarder manier is om tekste te benader. Hier vind ’n mens dikwels die kern of ’n opsomming van die geheel."

"Die voordele van dié soort lees het my onlangs weer opgeval by die lees van Die na-dood van Breyten Breytenbach, en John Miles se Op ’n dag, ’n hond (albei uit 2016, soos ook Joan Hambidge se Indeks). ’n Mens let dinge op wat jou andersins ontgaan. Daar steek dikwels ’n sleutel in ’n slot ..."

"Op die allerlaaste bladsy van Indeks is ’n foto afgedruk van ’n outydse hout-dekstoel en dofweg in die agtergrond ’n skeepsromp, met die luidende byskrif 'op die Titanic' (fotograaf: Joan Hambidge; plek: Maritieme Museum in Halifax). Op die voorblad is ’n foto van ’n verweerde, leë houtbank wat uitkyk op ’n ysige Suid-Amerikaanse gletser. Ook geneem deur Hambidge, op haar onlangse reis na dié vasteland, onder meer na die Argentynse hoofstad, Buenos Aires ('stad van die Goeie Winde') van Borges en Lorca, maar meer spesifiek na Chili, die land van Pablo Neruda (1904–1973). Die digter besoek ook weer Machu Picchu, die Inca-stad in die Andes (Peru). Albei foto’s suggereer uitsig op ondergang: vanaf ’n sinkende skip in die ope see, en oor die see, op ’n gletser. Verder is daar ook swart-wit foto’s van oorledenes (met een uitsondering: Lady Gaga). Dié foto’s vergesel in memoria van beroemde aktrises, sangers, familielede of digters."

"Die visuele sy van die digbundel beklemtoon só die sentrale tema in Indeks: verganklikheid, die broosheid van die mens, en die vervlietendheid van die lewe, besonder pertinent in die bundel van ’n digter wat einde 2016 sestig geword het."

"Terselfdertyd kan die leser ook nie loskom van die sosiopolitieke konteks waarin Indeks en die genoemde tekste van Breytenbach en Miles verskyn nie: die verbete eietydse stryd vir volwaardige beoefening van Afrikaans as literêre en wetenskaplike taal, nasionale en internasionale politieke onstabiliteit, ekologiese agteruitgang van seë, waters, lug en spesies. Laatwerk van ouer skrywers wat binne dié konteks verskyn, word onafwendbaar ook deur hierdie verswarende, verdonkerende elemente beïnvloed. Bestekopname soos in Indeks van ’n lewe en ’n oeuvre hou ook in bestekopname van ’n wêreld wat verby is, ’n literêre kanon wat agtertoe vasgelê was, maar toenemend deur populêre ikone soos Lady Gaga oorgeneem word." (...)

"Joan Hambidge se Indeks is ’n veelfasettige en waardige toevoeging tot haar oeuvre, én tot die groeiende aantal laatwerkbundels in Afrikaans."

In Rapport van 16 Oktober 2016 skryf Neil Cochrane dat Indeks nog ’n hoofstuk is in Joan Hambidge se uitgebreide digmanuskrip. "Dit is nie ’n bundel wat op haar eie voete staan nie, want die tematiek, styl en aanslag kom te veel ooreen met vorige bloedsusters. Hambidge bevestig haar bedrewenheid as lykdigter en spotdigter, maar haar jongste bundel is plek-plek ook ’n indeks van bekende mankemente: onfunksionele herhaling, rymelary, verbandlose motto's en ’n ooraanbod van opeengestapelde verwysings."

"Die tyd het aangebreek dat iemand (nie die digter self nie!) ’n behoorlike keur van haar beste gedigte saamstel. Dit sal ’n beter indeks wees van haar bewese digterskap en haar veel helderder laat skyn."

In 2018 span Charl JF Cilliers, Johann de Lange, Jo Nel en Douglas Reid Skinner saam en word ’n bundel gedigte van Joan in Engels vertaal en deur Dryad Press uitgegee onder die titel The coroner's wife.

In ’n onderhoud met Amanda Botha op Joan se blogspot wou Botha weet hoekom Joan hierdie bundel met vertalings die lig laat sien het. Joan vertel dat hierdie projek alreeds in 2000 begin het. Nadat sy voor 2000 navorsing in Amerika gedoen het, het sy verlief geraak op die werk van Robert Pinsky - vir wie sy ook ontmoet het. Sy het besef dat al staan haar tekste in die Harvard-biblioteek te kry, is daar nie te veel mense wat dit kan lees nie. "Dit is vir my belangrik om ten minste my werk te kan transporteer na ’n ander taal sodat mense by kongresse my werk begryp. 

"Die gedig 'In the Garden of Emily Dickinson' het ek vertaal vir ’n kongres in Vergelykende Letterkunde wat plaasgevind het in Wene in 2016. Na my vyf pogings het Douglas Reid Skinner dit reg getimmer. Maar die verskillende weergawes gee tog iets weer van die 'lost in translation'-proses."

Oor die winste en verliese van vertalings verduidelik Joan aan Botha dat die vier vertalers wat aan The coroner's wife gewerk het, duidelik bewys het hoeveel daar "gewen" kan word met ’n vertaling. "Goeie vertalers kan iets anders vind. Woordsnyer word 'word sleuth'."

Oor die keuse van die gedigte wat in die bundel opgeneem is, vertel Joan dat sy saam met haar uitgewer van Dryad Press, Michèle Betty, uit al haar baie verse, dié gekies het wat rondom sekere temas saamgesnoer is: stede, liefdes en familie, ars poeticas, tyd en ewigheid, eerder as om die gedigte chronologies te plaas. "So kry gedigte in hierdie bloemlesing in ’n nuwe bundel ander betekenisse." 

Joan se doel met die publikasie van die bundel, was om iets aan mense in ander lande wat sy besoek, present te gee; iets wat hulle kan verstaan. "Dit was terselfdertyd vir my ’n intellektuele oefening deur self ook ’n handvol verse te vertaal het wat in hierdie bundel opgeneem is."

Joan is beslis van mening dat daar meer vertalings van gedigte te wees. Sy vertel verder aan Botha: "Ek was bevoorreg om met vier uitsonderlike vertalers te werk. Hulle was soos buiksprekers vir my. In Afrikaans was daar ’n bloemlesing In a Burning Sea. Petra Müller is vertaal, soos byvoorbeeld Wilma Stockenström, Krog en Breytenbach. Op die internet sweef daar verskillende vertalings van digters.

"Ek dink die wêreld het al hoe meer ’n 'global village' geword en digters word al hoe meer blootgestel aan ander (vreemde) landskappe. Die kanon het verander. Ons leef in ’n tyd van onsekerheid (soos Harold Bloom dit tipeer) en daar gaan waarskynlik al hoe meer reise na ander ruimtes wees. Dit is immers ’n proses van dekolonisering/dekanonisering, nie waar nie?"

Op Pensouthafrica se webblad word daar as volg oor The coroner's wife geskryf: "Joan Hambidge has published over 25 collections of poetry. Her work uses the magnifying lens of poetry to dissect, examine and recompose the material of her own life and work, and in so doing, explores ideas and issues central to our understanding of language and meaning. The poems selected for translation in this compilation offer insights into her views across a spectrum of four categories: city life; love and family; ars poetica; and time and eternity. The Coroner’s Wife offers English readers the unique opportunity to experience a prolific and renowned Afrikaans poet in their own language. Translations have been sensitively rendered by well-known poets, Charl JF Cilliers, Johann de Lange, Jo Nel and Douglas Reid Skinner."

By Aardklop-kunstefees van 2016 is ’n produksie op die planke gebring wat gewy is aan die lewe en werk van Joan Hambidge met die titel Sixty love: op reis met Joan Hambidge. Babette Viljoen en Olga Leonard (BO-produksies) wat ook al verantwoordelik was vir verhoogverwerkings en toonsettings van TT Cloete, Elisabeth Eybers en Totius, het ook hierdie produksie behartig.

Een van die uitdagings waarvoor hierdie twee vroue te staan gekom het, was om ’n beeld van meer as twintig bundels weer te gee. Leonard het aan Willem de Vries (Netwerk24, 7 Augustus 2016) vertel dat Joan al meer as 600 gedigte gepubliseer het: "’n Massa om deur te werk! Joan het sekere gedigte uitgelig, en die reis-tema staan baie sterk in haar werk. Ons het besluit om hierop te fokus, en sodoende ’n tipe reis deur haar lewe te onderneem, aan die hand van die reisgedigte, asook liefdesgedigte, gedigte oor familieskap, ouers, eensaamheid en die dood. Daar is uittreksels uit haar blog wat deurlopend vleg en die reis-tema met ander werke bind. Die teks is in oorleg met haar geskryf."

Tydens die Woordfees van 2011 wou Bibi Slippers by Joan weet watter Suid-Afrikaanse digters se werk sy graag lees. Joan het geantwoord: "Daar is geen digters nie, alleen ’n digkuns, volgens Pablo Neruda en by ons Sheila Cussons. Ek lees alles en het groot waardering vir vele digters. My leessmaak verander voortdurend, maar ek keer herhaaldelik terug na klassieke digters in Afrikaans en verlede jaar was ’n besonder goeie oesjaar vir ons digkuns," (LitNet)

Joan het aan Amanda Botha vertel dat sy as digter deur verskillende digters gevoed word, "maar my vriendskap met Johann de Lange moet ek uitsonder as ’n digterlike voedingsbron. Hy is ’n besondere digter en iemand wat my verse lees. Objektief en altyd met belangrike aanwysings." (Rapport, 11 September 2016)

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Publikasie

Kladboek: ’n hibridiese roman

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869190828 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vuurwiel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150613 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Visums by verstek: ’n keur uit die reisgedigte van Joan Hambidge

Publikasiedatum

2011

ISBN

97807981

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

ATKV-prys vir Poësie 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lot se vrou

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156875

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meditasies

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798165075 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Matriks

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169622 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor Joan Hambidge op die internet beskikbaar

’n Keur van artikels deur Joan Hambidge beskikbaar op die internet

Gedigte:

Artikels op LitNet:

’n Keur van artikels in koerante:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Joan Hambidge (1956–) appeared first on LitNet.

Mark Behr (1963–2015)

$
0
0

Foto: Hettie Scholtz

Sêgoed van Mark Behr

 “Ek het begin skryf toe ek sestien jaar oud was en wou brutaal eerlik in my skryfwerk wees. Ek glo vas skryf is een van die enigste maniere in die wêreld waarop ’n mens totaal eerlik kan wees.”

“Ek het agtergekom dat ek nie die waarheid kan skryf as ek net met woede skryf nie. In my eerste draft [van Die reuk van appels] het ek met meedoënlose woede vir blanke Suid-Afrika begin skryf – maar ek het gou besef dat ek net protes-literatuur skryf.”

“This sounds pretentious, but I think good writing is usually writing that is able to look at things from varied angles, which is what conflict analysis is about. Not to reduce things to either economics or ‘real politiek’ but to look also at religion, gender, language and history.”

“Poetry is where precision of language is the most celebrated.”

In 1995: “Ek dink nie ek het die geestelike vermoë om so ekonomies met taal (soos ’n digter) om te gaan nie. Digters het ’n hoër verbale IK as prosaskrywers. Hulle neem meer waar, en my hande is te vuil daarvoor. Ek lewe so vuil en sleg as moontlik en het nie genoeg insig of geduld om daardie presisie van waarneming aan te kweek nie.” (Beeld, 15 Mei 1995)

In 1995: “Vir my was skryf konfronterend, maar eerder eksistensieel as polities.” (Beeld, 15 Mei 1995)

“Afrikaans is ’n godsmooie taal met ’n wêreldklas-letterkunde.” (Beeld, 25 Oktober 2003)

“Ek hét al skaamte en skuld gevoel oor my politieke keuses en soms oor ek wit is, maar nog nooit omdat ek Afrikaans is nie. Om groepe mense of ’n taal tot verantwoording te roep – dit moet wel sporadies maar baie omsigtig gebeur – bevat die kiem van ’n nuwe outoritêre impuls. Buitendien, as ons na die groter prentjie kyk, is daar ’n taal op aarde wat tot meer verdriet gelei het as Engels?” (Beeld, 25 Oktober 2003)

“What I have discovered after years of traveling on four continents is that no other landscape communicates with my psycho-social memory like the landscapes of sub-Saharan Africa. I spend three to four months a year in Africa. My family is mostly there and certainly most of my most intimate friendships are there.”

Mark oor sy lewe: “By the measure of the majority world it is a very privileged life, but, like all lives it is also full of the daily fumbling of trying to be human, grappling with belonging, working to keep food on the table, trying to love well and be a better, healthier human being.”

“Oudword is verskriklik, veral vir gay mans met hul estetiese benadering tot die lewe. Ja, ek weet dis ’n veralgemening – heteroseksuele mans is net so gesteld op hul voorkoms – maar daar ís ’n element van waarheid in die stereotipe dat ons obsessief is oor hoe ons lyk. Tog voel veertig lígter as dertig, want saam met my hare het baie van my angs en ambisie verdwyn. In my vroeë dertigs het ek my beperkings leer ken, en nou voel ek ruimhartiger, onsigbaarder, meer verbeeldingryk. Ek lewe meer doelgerig en het ’n goeie sin vir self-ironie gekweek, én die vermoë om myself te vergewe. Ek verstaan nou hoekom Oscar Wilde gesê het Youth is wasted on the young.” (Die Burger, 17 Oktober 2003)

“Wanneer storie-vertel die dag nie meer plesier en vervulling bring nie, sal ek plotseling ophou skryf en weer ’n dosent of skuba-instrukteur word.”

“Daar’s ’n perverse romantisering van kunstenaars wat moet ly of swaarkry voor hulle kan skep of verstaan – iets soos: jou littekens vir ons vertroue ...  Jy is tog mens voordat jy kunstenaar is en as ek geskend moet word om goeie stories te skryf, sal ek eerder die stories opoffer, of hoe?”

In 2000: “Maar ek skryf toenemend vir die plesier van die skeppingsproses, eerder as om iemand anders tevrede te stel en wil ek my nie veel steur aan kritici of openbare reaksie nie.”

Waar is Mark Behr op die oomblik ten opsigte van wie hy is? Tot waar het hy nou (in 2000) gekom met sy reise? “Soms met ’n skuifel, soms ’n huppel of ’n drafstap, gaan ons almal aan met soortgelyke uitdagings: verband afbetaal, of jy wil kinders hê, cope met bles word, of ’n verhouding laat werk, motor koop of openbare vervoer gebruik of jou werk geniet. Van kleins af wou ek die wêreld proe, en dit het ek. Genoeg om te weet hoe min én te veel smaak; ek het gereis, dwarsdeur my lewe, om die wêreld en ’n paar keer tot diep in die donkerte, maar altyd terug in die voue van die rooi hart.”

Oor “manlikheid”: “Soldaat-wees word deur baie sielkundiges as die uiterste manifestering van man-wees beskou. Ook vir baie gay mans – veral dié met ’n streng patriargale agtergrond – was die weermag destyds die ideale geleentheid hiervoor. Op een vlak is dit deel van die narratief van my eie jeug. ’n Mens kan jou kwalik indink dat my storie buitengewoon was. As ‘heimlik’ gay word jy in ’n heteroseksistiese milieu binne jou eie psige die vergestalting van skaamte – ’n objek of onmens sonder bestaansreg.

Ek moet egter byvoeg hoewel seksuele en geslagsvertwyfeling en – marginalisering in menige gay man se psige uitspeel, is die stryd om ’n sogenaamde man te wees, nie uniek aan ‘gay’ mans nie.

Sogenaamde heteroseksuele mans, emosioneel bygestaan en aangevuur deur heteroseksistiese of falliese vroue, faal ook chronies in hul strewe na ’n onbereikbare manlike ideaal. Mans se voortdurende mislukking om die man te wees wat niemand inderwaarheid kan wees nie, is waarskynlik een van die mees fundamentele oorsake van geweld wêreldwyd.” (Beeld, 7 Mei 2012)

“I teach literature and writing in ways that are deeply and profoundly informed by the activism I believe is a part of the best kinds of peace studies.” (Kroc Institute for International Peace Studies)

Gebore en getoë

Mark Carl Behr is op 19 Oktober 1963 in die distrik Olojorro, Arusha in die destydse Tanganjika, vandag Tanzanië, gebore. Sy familie was boere in die distrik. Met die deurvoering van president Julius Nyerere se Ujaama-beleid van Afrika-sosialisme in 1964 is die plase wat deur blanke boere besit is, genasionaliseer. Mark se familie het besluit om na Suid-Afrika te emigreer en in 1965 is hulle inderhaas en sonder ’n sent op hulle naam uit Tanganjika weg.

In Suid-Afrika het die familie hulle as Afrikaners geïdentifiseer en het die kinders van die Behr-gesin na Afrikaanse skole gegaan en aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk behoort. Mark se pa het ’n wildbewaarder geword in die wildreservate in KwaZulu-Natal, waar Mark sy vroeë jeugjare deurgebring het. “Dit was soos ’n paradys,” vertel Mark aan Petra Quaedvlieg. “Ek kon gaan en staan waar ek wou en tussen die kameelperde en sebras loop. Ek was die enigste blanke kind en was gewoond aan baie aandag. Op my agtste verjaardag het ons na Durban verhuis. Dit was ’n nagmerrie. My pa het besluit om ’n besigheid te begin omdat hy in die wildreservaat te min betaal is. Maar hy het min sukses in die besigheidswêreld gehad, met die gevolg dat ons voortdurend moes verhuis, van die een huurhuis na ’n woonstel of omgekeerd, afhangende van hoe florerend sy besigheid was.

“Ek is na ’n christelike, nasionale skool waar absolute gehoorsaamheid en dissipline vereis word. Ek het ’n opstandige, ongehoorsame kind geword – astrant teenoor die onderwysers en my ouers. Terselfdertyd het ek baie van musiek en dans gehou en dit heerlik gevind om in ’n rok deur die kamer te dans. Aanvanklik het my ouers gedink dit is net ’n speletjie, maar rondom my tiende verjaardag het my belangstelling in die kunste vir hulle ’n bedreiging geword. My vader se angs dat ek dalk ‘anders’ kon wees, was so groot dat hy my geslaan en verneder het: ‘Kyk, hoe groot en sterk is jy! ’n Regte sportman! Waarom gedra jy jou soos ’n meisie?’ Hulle het selfs professionele hulp vir my gekry.”

Mark verduidelik aan Petra dat sy vader afkomstig was uit koloniale Oos-Afrika, waar die manne soms vir drie maande op ’n slag op safari gegaan het. Hulle het ruwe sport gedoen, erg gedrink en vele vroue gehad. Dit was geen geheim dat sy pa van die een bed na die ander gegaan het nie. “En daar het jy vir my, ’n twaalfjarige wat ballet wil doen! Dit het nie in die prentjie gepas nie. Veral omdat my ouers hulle bes gedoen het om goeie Afrikaners te wees. My pa se woede het voortgespruit uit frustrasie en onmag.

“Op my dertiende of veertiende verjaardag het ek besluit: ek gee oor; ek word die seun wat julle nog altyd wou gehad het. Ek was uitgeput. Ek het gedurende die tyd ook my seksualiteit ontdek en was verskriklik bang vir die betekenis daarvan. Binne ’n kort tyd het ek ’n modelkind geword. Ek het musiek gelos en begin rugby speel. Ek was ’n prefek en het fanaties meegedoen aan die weeklikse militêre oefenparades op skool. Intussen het ek swaargekry onder die wete dat ek nie soos die ander seuns tot die ryk middelklas behoort nie. Tuis was daar altyd die geldelike onsekerheid.”

Op tienjarige ouderdom is Mark vir twee jaar na die beroemde Drakensbergse Seunskoorskool (Drakensberg Boys’ Choir School), ’n privaat musiek-akademie in die Drakensberge van KwaZulu-Natal, waar hy ook lid van die koor was.

“Ek het grootgeword in die tyd toe Suid-Afrika se veilige takelwerk van Portugese kolonies – Mosambiek en Angola – in duie gestort het. Van 13-jarige leeftyd af moes ons kadette wees, leer skiet, bevele gehoorsaam en bevele uitskree. Ek het dié snert nogal maklik gesluk en was as dienspligtige vreeslik trots daarop om offisier in die Weermag te wees.”

Mark het aan Port Natal Hoërskool in Durban gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na sy skoolloopbaan is Mark, soos so baie ander blanke mans van sy ouderdom, opgeroep vir verpligte militêre diens in die Suid-Afrikaanse Weermag, waar hy deel was van die oorlog in Angola. Hy het aan Romi van der Merwe (Rooi Rose, 25 Augustus 1993) vertel dat om Angola toe te gaan, vir hom so maklik was soos om asem te haal.

Nadat hy klaar was met die Weermag, het hy nie geld gehad om universiteit toe te gaan nie. Hy het as verkoper gaan werk en het so geld gespaar. In 1986 skryf hy aan die Universiteit van Stellenbosch in as student in Engels en Politieke Wetenskap. Hy het net genoeg geld vir een jaar gehad.

Aan die einde van 1986 het sy oom met ’n voorstel na hom toe gekom. Hy het die opdrag gehad om te rapporteer oor die aktiwiteite van die studentevakbond NUSAS op Stellenbosch. “Ek was polities totaal oningelig. Ek het in die jaar na my diensplig vir die eerste keer gehoor wie Nelson Mandela is en wat die ANC is. In die leër was ‘swart’ gelykstaande aan ‘kommunis’. En ek het geëerd gevoel dat ’n kolonel my uitverkies het vir so ’n spesiale sending. So kon ek my bydrae lewer tot die voorkoming van ’n swart revolusie. En dan was dit ook die oplossing van my geldelike krisis. Ek wou advokaat of ’n dosent in Engels word,” het Mark verder aan Petra Quaedvlieg vertel.

Dit het ’n radikale ommekeer in sy lewe teweeggebring. “Ek het vir die eerste keer in kontak gekom met mense wat gesag in twyfel trek. En ek het begin om met ander oë na my eie opvoeding te kyk. En ek het vreeslik begin lees. Binne ’n jaar was ek oortuig daarvan dat ’n revolusie onvoorkombaar was en is ek tot nasionale voorsitter van NUSAS gekies. Daarna het ek nog vir drie jaar aangehou met my spioenasiewerk.

“Hoe sekerder ek geraak het dat ek moes ophou daarmee, hoe banger het ek geword dat ek ontmasker sou word. Met die prominente posisie in NUSAS het ek vir myself ’n strik gestel. Want as ek stop, sou die polisie my verraai, en sou my eie reputasie en dié van NUSAS aan skerwe lê. Dus het ek besluit om die informasie wat ek oorgedra het, te manipuleer en geen inligting oor te dra wat iemand kon kompromitteer nie.”

Dit het spoedig vir Mark duidelik geword dat die langtermynplan was om hom in kontak met die ANC te bring. “Dit was dus vir my ’n goeie rede om aktief te bly, want hoe meer ek myself ingewerk het as leier van ’n progressiewe Afrikanerbeweging, hoe nader sou ek aan my doel kom. Ek het dus die seën van die polisie gehad toe ek in 1989 met ’n groep studente na die ANC in Lusaka is.”

Die beweging het egter so vinnig gegroei dat die polisie besluit het genoeg is genoeg. Hulle het daarin geslaag om Mark op ’n geloofwaardige manier weg te kry van Stellenbosch af. Hulle het ’n skietinsident georkestreer sodat Mark kon sê dat dit te gevaarlik geword het – hy moes weg. Hy is voor ’n ultimatum gestel om saam te speel of hulle sou bekend maak dat hy gay is.

Die polisie het in elk geval hulle belofte verbreek en as gevolg daarvan het hy besluit om oor te loop na die ANC toe. Hy het gehoop dat die ANC sou sê hy moet in die openbaar bieg sodat hy met sy lewe kon aangaan, maar hulle wou hê dat hy moet aangaan met die spioenasie; dus het hy toe ’n dubbele agent geword. In 1991 is hy as agent van die ANC “ontslaan” weens die veranderde politieke omstandighede, maar die ANC het hom gevra om nie te erken dat hy ’n spioen was nie, aangesien dit die wankelrige toenaderingspogings tussen wit en swart in die wiele kon ry.

Gedurende sy universiteitsjare is Mark se eerste kreatiewe skryfwerk gepubliseer. Verskeie gedigte het in Die Stellenbosse Student verskyn. Hy was ook die eerste voorsitter van NUSAS wat lid van die Stellenbosse Studenteraad geword het.

Nadat hy sy BA-graad met Engels en Politieke Studies as hoofvakke verwerf het, het hy besluit om vir die BA Honneursgraad in Politieke Studies te studeer. Na ’n jaar by IDASA (Instituut vir ’n Demokratiese Suid-Afrika) het Mark ’n navorsingsgenoot en lektor aan die International Peace Research Institute in Oslo, Noorweë geword en het hy tussen Suid-Afrika, Europa en Amerika begin reis.

Hy het ingeskryf aan die Universiteit van Notre Dame in Amerika, waar hy onder Joseph Buttigies, die vertaler van Prison Notebooks van Antonio Gramsci, studeer het. Hierdie het hy grade in internasionale vredestudies (1993), die skryf van fiksie (1998) en Engelse letterkunde (2000) verwerf. In 1993, terwyl hy in Amerika was, het hy gesê: “Ek mis die huis, my ouers en my vriende baie. Wat ek presies gaan doen, sal ek eers kan vasstel ná afloop van gesprekke met mense wat die situasie in die land van nader ken. Alles sal afhang van waar ek my energie op die sinvolste manier kan gebruik – en daaroor wil ek nie eensydig besluit nie.”

In 1995 was Mark ’n dosent in Engels aan die Universiteit van Vista in Johannesburg en het hy vir twee maande elke jaar aan die Universiteit van Oslo in Noorweë klas gegee. In Johannesburg het hy in ’n ou huis in Brixton, wat hy reggemaak het, gewoon, waar hy ’n groot studeerkamer gehad het. Hy het aan Rachelle Greeff vertel: “Ek luister musiek terwyl ek skryf en blaai gedurig deur ou tekste vanaf Dostojefski en Enid Blyton tot Michel Foucault. Het al op dagga en cocaine probeer skryf, maar vind dit onmoontlik. My goeters moet net alles reg en goed georden rondom my wees.”

In 1993 het Mark die Afrikaanse letterkundige toneel betree met sy debuutroman, Die reuk van appels, wat deur Queillerie uitgegee is. Hy het dit in Afrikaans en Engels gelyk klaargemaak, maar met die redigering, die herskryf, die bakleiery met die uitgewers en ses of sewe konsepte het dit agtien maande tot twee jaar geneem. “Editing doen ek self; ek is te precious en senuagtig oor veral idees (eerder as taal) om ’n ander toe te laat om te vroetel. Dat ek self edit, beteken nie ek neem nie ander se raad ernstig op nie. Daar’s ’n paar opinies wat ek dalk nooit sal ignoreer nie,” het hy aan Rachelle Greeff vertel.

Die reuk van appels handel, volgens JC Kannemeyer in Die Suid-Afrikaan van Maart/April 1994, in die eerste plek oor tien dae in die lewe van die elfjarige Marnus wat saam met sy ouers aan die Valsbaaikus woon. “Marnus, wat as verteller optree, en sy boesemvriend Frikkie, se speletjies en kwajongstreke is egter op die periferie, want sentraal is Marnus se vererende liefde vir sy vader, ’n generaal in die Suid-Afrikaanse leër. Daar word ook aansienlik aandag bestee aan sy verhouding met sy moeder, ’n musiekonderwyseres en in haar jeug ’n sangeres van betreklike formaat. Marnus se suster Ilse speel ’n belangrike rol om ander waardes te beklemtoon, al bly sy meestal as ’n bron van irritasie vir hom op die agtergrond.”

“Teenoor die vertelling van 1973 staan die telkens skuinsgedrukte invoegings van die ervarings deur ’n latere Marnus as jong staandemag-offisier in ’n hopelose situasie gedurende die Angolese oorlog ná die beweerde debakel van Cuito Cuanavale,” skryf Wium van Zyl (Beeld, 14 November 1994). “Die skrywer bereik só ’n knap verteleffek. Ek beskou Die reuk van appels as ’n historiese roman met ’n kort tydsbestek. Dit is ’n debuut wat beïndruk, ’n boek wat ’n mens kan erváár. Behr slaag daarin om die krasheid van die nou al effens muwwe grensliteratuur sowel as die subtiele gewaarwording van ’n sensitiewe adolessent in een teks te huisves.”

Kannemeyer het verder geskryf: “Die reuk van appels met die volgehoue ironisering op die wysie van ’n kindervertelling is ’n genadelose afrekening met apartheid. Die ek-verteller sorg met sy onbevange, naïewe perspektief en die ligte aanslag dat die roman nie swaar word of in prekerigheid ontaard nie. En met die Angola-tonele skep Behr ’n reeks jukstaposisies wat felle kontraste met die rustigheid en skoonheid van Valsbaai vorm. Anders as so baie romans van dié aard ‘wys’ die struktuur nie en word die lesers nie bewus van ’n manipulasie nie. In die laaste instansie is dit die ligte aanslag in die boek wat so bevredigend is.”

Op die program Oor skrywers en boeke op die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK het Petra Müller die boek beskryf as ’n “geslypte en geslepe en gerealiseerde stuk werk en ek het dit met groot waardering gelees. Dis ’n besonder goed georganiseerde vertelling, en dit loop op twee trappe wat naasmekaar loop en wat mekaar gaan ontmoet in die dood van die sentrale persona, die elfjarige Marnus. (...) Dit is ’n gemeenskap van beautiful people wat hier beskryf word. Na hul huis, in hierdie somer van 1973, kom ’n Chileense generaal, ook jonk, dinamies en versluierd – sy regte naam mag nooit genoem word nie. Die man se fluwelerige teenwoordigheid in hul huis is een van die beste dinge in die boek. Die damp van seksualiteit wat altyd in die omgewing van die militêre is, veral die verband tussen seksualiteit en magsgeweld, word op subtiele maniere in die boek ondersoek: dit word ingelei deur die koms van die Chileen. Want hy gaan die sluimerende magte in die kliphuis laat ontwaak, en met hom neem die ondertoon van verdoemenis ’n aanvang.”

“Die boek is ’n kat-en-muisspel met die leser: die leser weet dit. Soos in die meeste argelose kindervertellings skemer daar baie vinnig ’n ander wêreld deur, die wêreld van die grootmense wat deur die onwetende self ontdek word as deel van die vreeslike proses van inisiasie tot die lewe. Wat hierdie boek besonders maak, is dat die boek homself in die toekoms verplaas en in ’n tweedespoorvertelling vir jou vertel wat van Marnus gaan word. Die tweede stem, in kursief gedruk, praat van die begin af saam. En dit vertel jou hoedat Marnus, die seun van die generaal, as jong bevelvoerende offisier vasgekeer en vernietig gaan word in ’n finale bom-aanval in Suid-Angola.

“Die jukstaposisie van die twee tydvakke skep ’n verskriklike ironie. In die uitgesponne elegie van die kindertyd sien ’n mens hoedat ’n orde op die kind afgedruk word, die orde van die apartheids-Afrikaner wat sy politiek tot religie verhef het, en getrou daarvolgens leef. Die seun aanvaar dit: die boek beskryf hoe hy dit aanvaar. En dáárvan word hy die slagoffer.”

Vir Müller is die vertellinge oor die kindertyd soms te lank en dwaal dit te veel, die foto op die buiteblad van Marnus is nie oud genoeg vir die Marnus van die boek nie. Sy het ook ander voorbehoude, maar sy ag dit nie só belangrik nie. “Want einste hierdie vreeslike nag, wanneer die kind se onskuld hom ontneem word, is ’n meesleurende samevatting en regverdiging van die voorafgaande stof, en dit is hier dat die lont gelê word vir die tydbom wat later in Angola tot uitwissing sou lei.

“Die boek self is ’n soort tydbommetjie. Nadat ek dit gelees het, het ek gedurig in my gedagtes daarheen teruggekeer, ontroer en ook verontrus deur die uitbeelding van die onafwendbare seunsdood wat volledig toegerus na vore kom uit die selfvernietigende effek van ’n gesplete vaderbestaan. Om van die moeder glad nie te praat nie; sy’s ook hier. En die suster, ’n soort Antigone-figuurtjie, is ook daar. Sy’s al een wat die waarheid onder oë gesien het.

“Ek wil die hoë woord spreek: iets in die verhaal het my herinner aan die Grieke, aan die gebeurtenisse in die huis van Laïus, aan die vaders wat hul kinders opvreet, en aan die seuns wat hul vaders doodslaan by daardie eensame plek waar die paaie kruis.

“En dit, dink ek, is al genoeg gesê van ’n eerste roman. Gaan lees dit gerus: dis ’n eerlike, ondersoekende en ook geïnspireerde stuk werk van ’n jong skrywer wat ons van nou af fyn sal dophou. Hy het iets vir ons te sê.”

Rachelle Greeff wou by Mark weet hoe werk die skrywery in twee tale samelopend en sy antwoord was dat sy reg is oor die verskillende metafore, want dit lei juis tot herinnerings wat verskil van taal tot taal. “Ons gesin was volledig tweetalig – dis nou Engels en Afrikaans – en die skisofrenie van meertaligheid is nou maar eenmaal daar. Hoe gebruik jy die troetelnaam ‘my kaffertjie’ in Engels, sonder om die ironie te verloor? ‘My piccanin’ sê net ’n derde van die oorspronklike. Maar dan’s daar ander stukke wat oorspronklik in Engels geskryf is, byvoorbeeld die gedetailleerde werking van die penis; en dit werk ewe goed in Afrikaans. Die twee tekste is wat betekenis betref, redelik naby aan mekaar, maar uit die aard van wat taal is, moet hulle verskil.”

Tom Gouws (Beeld, 26 April 1993) skryf: “Die mitologiserings van die Afrikaner word in Die reuk van appels op ’n bykans terloopse wyse nagespoor en deurgrond soos in min ander tekste voor hom. Deur bloot te jukstaponeer met enkele kort flirtasies van Weermagwedervaringe in Angola, ontvou ’n sosiale geskiedenis van die ‘shaping powers’ van die Afrikaner se identiteit. Hierdie vormingskrag van die identiteit: godsdiens, gesag, rassisme, geslagtelikheid, politiek en seksualiteit word vernuftig in die teks ondersoek.”

“Dit is ’n groot wins dat Marnus bykans die hele verteltyd in beslag neem met sy onpretensieuse vertelling, en die implisiete outeur so getemper word om uitgesproke ‘statements’ of interpretasies te maak, en dít veroorsaak dat daar ’n eerlikheid is wat deur onderbeklemtoning geaksentueer word. Daarmee saam skep dit ’n ironiese afstand, waarvan die leser deurentyd met die lees van die teks bewus moet bly, anders kan die verhaal vir hom wegsyfer in triviale vertellinkies van beuselagtighede. Die motto van die boek waarsku al die leser om die teks te lees met die bifokale lens van ironie, want ons was almal so. (...) In ons verbrokkelde samelewing is die vertel van die eie verhaal inderdaad ’n poging om te verstaan en verstaanbaar te maak. Mag Mark Behr se boek keer dat die drome van die ouers weer die drome van die kinders word.”

Volgens Henning Pieterse in Rapport van 30 Mei 1993 slaag Behr daarin om die “naïewe vertelperspektief geloofwaardig vol te hou, en die leser behoort noodwendig verskeie voorvalle soortgelyk aan dié wat Marnus ervaar, te herleef. Een persepsie wat wel deeglik gerelativeer word in die teks, is dié van die macho weermagman. Ná die lees van die boek en, veral, die treffende toneel waarin Marnus weier om die Chileense generaal se epoulette te dra, wonder ’n mens weer oor die ‘manne’ in uniform en hoe lief baie van die bevelvoerders inderdaad vir hul troepe is. Van die tonele is te lank uitgerek en soms voel ’n mens dat daar darem te veel met stereotipes gewerk word, maar uiteindelik is Die reuk van appels, met sy altyd geldige temas van grootword en verlies aan onskuld, ’n boek wat werklik die moeite werd is om te lees.”

Vir Tim Huisamen (De Kat, Junie 1993) is dit ’n eerstelingroman met belofte, maar ook onhebbelikhede wat ernstige probleme vir die werk veroorsaak, en vir Mabel Rossouw in Dolos (1993:2) word die volwasse slaankrag van die werk verhoog deur die bedrieglike onskuld en naïewe inslag wat deur die kinderperspektief geskep word. Die reuk van appels is ’n noodsaaklike bydrae tot die (literêre?) worsteling met ’n stuk geskiedenis wat hierdie wye en droewe land byna onherkenbaar vermink gelaat het.

Die reuk van appels was vir Thys Human (Volksblad, 2 Augustus 1993) ’n ontroerende leeservaring wat die leser om ’n veelvoud van redes bybly, selfs lank nadat die laaste bladsy klaar gelees is.

Daar was veelvuldige reaksies op Die reuk van appels. Hieroor het Mark aan Beverley Mitchell vertel dat die briewe wat hy ontvang het, hoofsaaklik skok uitgespreek het oor die besef dat die meeste wittes wel die keuse vir apartheid-Suid-Afrika, vir nasionalisme en vir patriargie gemaak het. “As wittes het ons almal gewéét wat aangaan in die land. Al het apartheid ons nou veilig geskei van ons swart broers en susters, het ons wel geweet – ons kan nooit soos die Duitsers sê ons het nie geweet nie. Die meeste mense wat aan my skryf oor die boek is vroue. Hulle gee ’n soort skuldbelydenis dat hulle ook dieselfde tipe kinders grootgemaak het. Hulle vra my raad: ‘How can we undo what we’ve made of them?’ (...)

“Die boek was ’n poging om af te reken met myself en my eie ondersteuning van apartheid. Op die ouderdom van 21 het ek die eerste keer van Nelson Mandela en Steve Biko gehoor. Ek het apartheid aktief ondersteun. Ek was ’n offisier in die Weermag in die Angolese oorlog. Dit was vir my ’n groot eer om in die Suid-Afrikaanse Weermag te wees.”

“Ek wou met hierdie storie dekonstrueer hoe ek ooit so ’n sisteem kon ondersteun het – so maklik, so klakkeloos, so onkrities. En wat ek ook met hierdie storie wou doen, is om vir ander mense – veral wittes – te sê: ‘Jy moet vergeet daarvan om in die nuwe Suid-Afrika in te gaan tensy jy besef dat jy is wat jy is.’ (...)

“Ek het die kinder-narratief gebruik om te verhoed dat die boek preek. Kinders is baie eerlik. Hulle sê dit soos dit is. Dit is soort van onopgesmuk, onkwalifiserend en totaal eerlik. Want die kind het nog nie die intellektuele skills om te redigeer nie. En as niks anders in die Bybel waar is nie, is één ding wel waar: uit die mond van die suigeling sal ’n mens altyd die waarheid hoor.”

“In die boek plaas ek dieselfde skuld op God oor wat in die land gebeur het as wat ek op die wit mense in Suid-Afrika plaas. Ek neem die hele regverdiging van apartheid deur die kerk baie ernstig op. Op ’n baie subtiele manier bevraagteken ek ook die hele manlike konsep van God. Die feit dat God as heteroseksuele man gesien is. Dit is baie subtiel gedoen, want ek kon dit nie kru doen nie – dit is ’n kind wat vertel. En tensy mense die ironie verstaan wat in die boek aangebied is, is hulle geneig om verkeerd te verstaan wat aangaan. Dit kan maklik lyk of ek apartheid ondersteun – want ek sê nie wat die kind sê is verkeerd nie. Daar is empatie van my kant af.”

Die Engelse vertaling van Die reuk van appels, getiteld The smell of apples, is in 1995 gepubliseer. Die Amerikaanse uitgewer het só op die boek gereageer: “There is such a violent, yet so totally repressed, drama to the world that Behr portrays, and we as readers see how the entire culture of a country worked its way into the everyday lives of all its people. The fact that oppression corroded both the lives of the oppressors as well as those who were being oppressed, is rendered effectively in this work.”

Die Afrikaanse titel het beide die CNA-debuutprys en die Eugène Marais-prys vir 1994 verower. Die Engelse weergawe het in 1995 die Betty Trask Award ingepalm. Dié prys word befonds uit ’n erflating deur Betty Trask aan die Vereniging vir Skrywers (Society of Authors). Sy wou “tradisionele” skrywery in plaas van die meer eksperimentele skryfwerk bevorder. Die Engelse weergawe was ook op die kortlys vir die jaarlikse Guardian Fiction Award in 1995. Die Art Seidenbaum Award van die Los Angeles Times is in 1997 aan die Engelse titel toegeken. Dit was ook op die kortlys vir die Britse John Steinbeck-prys in 1996.

“Op skool was daar baie dinge wat ’n mens nie kon artikuleer nie,” het Mark in 1995 aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 15 Mei 1995) vertel, “weens die sensuur van die Christelik-nasionale ideologie, en dis hoekom ek begin skryf het. My belangstelling in politiek het begin toe ek universiteit toe is en die werk van Marx begin lees het. Die dekonstruksie van ’n mens se eie onvryheid het vir my insig gegee in die onvryheid van die meerderheid in Suid-Afrika.” (...)

“Dit is een ding om bloot te bevraagteken – soos byvoorbeeld met die sogenaamde oop gesprek by die Universiteit van Stellenbosch – maar as ’n mens begin doen, loop jy jou vas. Daar is nog steeds te veel beklemming in Suid-Afrika en dit het nie net te doen met ras nie, maar ook met geslag, klasposisies, godsdiens en die dialektiek daarvan. Goeie letterkunde spreek dit alles aan, maar die Suid-Afrikaanse literatuur is té polities, daarom raak die werk van André P Brink en Nadine Gordimer vir my baie vervelig.”

Mark se The smell of apples is in 1996 met die M-Net-Boekprys bekroon en met sy aanvaardingstoespraak het Mark weer ’n hele paar knuppels in die hoenderhok gegooi. In 1994 was Die reuk van appels op die kortlys vir die Afrikaanse M-Net-Boekprys (Karolina Ferreira van Lettie Viljoen was die uiteindelike wenner) en in ’n onderhoud met Rachelle Greeff in De Kat van Julie 1995 het Mark die volgende kwytgeraak: “Toe Appels verlede jaar nie die M-Net Prys gekry het nie, was ek aanvanklik net verbouereerd. Toe ek later hoor dié beoordelaar het by daai pryswenner geslaap en dié een is daai een se beste vriendin, het ek begin besef en erken die goed is ontsettend arbitrêr. Ander beoordelaars sou anders gekies het. Jy weet, ons het maar almal ons verskillende subjektiwiteite en skulde om te betaal. Die ou Broederbond baantjies vir boeties het nou net iets begin allitereer: iets soos soentjies vir sustertjies. Dat Appels goed loop oorsee, is vindication genoeg vir my. Karolina sal vir hellank in die kas bly sit. As ék de donner in was, weet ek nie hoe iemand soos Brink na al die jare van werklike gathappery moet voel nie. Dat hy nog skryf, is seker bewys van sy commitment tot iets groters. Ek sal nog leer. Dis seker suur appels.”

In 1996, nadat Mark sy prys van die Vrystaatse premier, Patrick Lekota, ontvang het, het hy aan die gehoor gesê dat hy dronk is en na die toilet moes gaan. Daarna het hy, tot die verbasing van die gehoor, gesê dat hy hierdie keer dié spesifieke prys gewen het en nie eers by een van die beoordelaars geslaap het nie. In die week na die uitlatings moes Mark bontspring om die vure dood te slaan en het hy gesê dat die uitlating buite konteks aangehaal is in die berigte oor die onthaal. Dit was ’n “speelse, sydelingse opmerking” en was ’n “grap” tussen hom en vriende van hom wat beoordelaars was.

In Julie 1996, terwyl hy ’n skrywerseminaar in Kaapstad bygewoon het, het Mark erken dat terwyl hy op Stellenbosch was, hy gewerf was om ’n agent vir die Suid-Afrikaanse apartheidsregering te word en sodoende die bedrywighede van die studente op universiteitskampusse te monitor om politieke insypeling te voorkom. Binne ’n jaar het hy besef dat die jongmense op wie hy gespioeneer het, se saak en sieninge nie verkeerd was nie, maar hy het voortgegaan om vir die polisie te werk – nie soseer vir die geld nie, maar omdat hy bang was om as ’n verraaier ontbloot te word. Sy “werkgewers” het ook gedreig om sy homoseksualiteit te onthul – iets wat hy toe nie meer weggesteek het nie, maar in die 1980’s was dit nog ’n redelike taboe-onderwerp.

Daar was geweldige kritiek op Mark na sy bekentenis en hy het aan Donna Bryson in The Daily News gesê dat hy ’n simbool geword het van alles wat ooit in Suid-Afrika verkeerd was – van verraad, valse opvattings en uiterste skuld. Hy is daarvan beskuldig dat hy aandag gesoek het, dat hy onopreg en manipulerend was en dat hy té jammer was.

In ’n onderhoud met Carien du Plessis (Beeld, 8 Augustus 1996) het Mark vertel dat hy ’n alleenloper op kampus was met net ’n handvol vriende. Hy was ook redelik afgetrokke van sy akademiese studie en ook kampuspolitiek. “In my tweede jaar was ek in die debatsbestuur en het ek koor gesing, maar ek het nie veel erg gehad aan nasionale of kampuspolitiek nie. Later, nadat ek ’n spy geword het, het ek begin belang stel in vrae oor maatskaplike geregtigheid, maar tot vandag toe is ek nie eintlik ’n ‘politieke dier’ nie.”

Hy het verder gevra: “Hoe doen ’n mens verantwoording van jou verraad, want, ja, ek is minstens nege jaar reeds oorweldig deur skuldgevoelens. Moet ek my grade teruggee en van voor af begin studeer? Of mag ek die verraad in my verlede aanspreek, in gesprek tree met dié wat seergekry het en moontlik die insig wat ons daaruit kan bekom, gebruik in diens van ideale soos vryheid, gelykheid en geregtigheid? Ek is nie net ’n gewese spioen nie, ek is ook ’n akademikus, ’n dosent, ’n skrywer, ’n windgat, ’n grootbek, ’n minnaar ...”

“Ek vermoed dat ’n klein deel van die woede teenoor my is dat ek nie van plan is om daardie dinge af te staan en net as voormalige spioen te vergaan nie. ’n Mens moet aangaan met jou lewe. Politieke verraad is ’n belangrike deel van my identiteit en ek wil en sal daarvan verantwoording doen solank ek asemhaal. Maar, as mens is ek ook genadiglik meer as die som van my verraad.”

Mark se tweede roman, Embrace, het in 2000 in Londen by Little, Brown verskyn. Hy het die Afrikaanse weergawe, Omhelsing, weer aan Queillerie voorgelê, maar hulle wou dit nie uitgee nie, “want die taal was te vrot en dit het te Engels geklink”. Embrace se resensies in die Engelse pers was glo ook nie baie positief nie en Barend Toerien het gemeen dat dit dalk een van die redes was hoekom Queillerie dit nie wou uitgee nie. Hieroor het Mark aan Johan van Zyl (Die Burger, 17 Oktober 2003) vertel: “My Engels was van kleintyd af al beter, en dis jammer dat nóg groter diversiteit nie aangeblaas word nie, want dis tog ’n taal wat verryk. ‘Te Engels’ klink soos toe daar destyds gesê is Afrikaans klink te swart of te coloured.”

Embrace speel in 1976 af en is ’n vertelling waarin ’n ouer verteller sy kinderlewe tot sy veertiende jaar rekonstrueer. “Dit vertel die verhaal van Karl de Man, wie se lewe herinneringe aan Tanzanië insluit, asook aan wildreservate in KwaZulu-Natal, waar sy pa veldwagter was, en aan die kleindorpsheid van Amanzimtoti, waar sy ouers later gaan woon het. Maar dit is veral sy twee jaar op skool ‘in the mountain country of the dragon’ wat die grootste deel van die vertelling uitmaak (dit is gou duidelik dat die Drakensbergse Seunskoorskool met sy beroemde koor hier ter sprake is). In die boek gaan Beethoven se komposisie Missa Solemnis deur die koor uitgevoer word vir die twintigste verjaardag van die skool en word die instudering daarvan die strydperk waar die seun se pynlike groei tot selfkennis plaasvind, waar die grense én die pieke van sy talent getoon word, waardeur hy ’n soort beloofde land van die sinne ontdek waarvan die burgerskap hom belet word,” het Elize Botha in Beeld van 17 Julie 2000 geskryf.

“Een van die hooftemas in die boek is die seun se ontdekking van sy seksualiteit en die tema van ontluikende kunstenaarskap. En oor albei val die skaduwee van sy ouers se afkeer, hul weerhoudende ‘embrace’. Met dié skaduwee, met dié omhelsing probeer Karl onderhandel: deur leuens en verraad, deur selfkastyding en ontsegging, deur ‘the desperation to please’.

Volgens Botha is die roman op groot skaal deurgevoer; “die struktuur is verwikkeld vanweë die heen-en-weergaan in die tyd waardeur die steurings in verhoudings, die oorspronge van angste en verwarring by die seun onthul word. Behr voeg hier ook in by ’n oeroue onderneming eie aan die roman: die verkenning van skyn en werklikheid, van die waarheid in die leuen, die leuen in die waarheid, en dat dit in die aard van taal is dat hierdie onderneming haglik sal wees. Dit is ’n beduidende boek.”

“Die idee toe die Embrace-projek begin is, was dat dit ’n soort showdown moet wees met die liberale Engelssprekende waar Appels een was met die Afrikaners,” het Mark aan Wilhelm du Plessis (De Kat, April 2000) vertel, “dat ’n mens deur die dubbelmediumskool – met Afrikaans- en Engelssprekende seuns saam in ’n gedeelde ruimte – sou kon kyk na verskille tussen Afrikaner-Nasionalisme en die sogenaamde Engelse liberalisme. Daar is nog iets daarvan in die storie, maar nie vooropgestel of selfbewus soos wat ek oorspronklik in gedagte gehad het nie. Hoe verder ek geskryf het, hoe doelbewus minder het ek my eie kop gebruik en probeer om die storie deur die kop van Karl en die ander karakters spontaner te laat ontwikkel. (...) Wat die roman wil sê, is dat maklike onderskeidings tussen liberalisme en nasionalisme in Suid-Afrika voor demokrasie moeilik was, of, dat wit Engelse in Suid-Afrika, oor die algemeen soms net so eties gehawend en polities immoreel was as die wit nasionaliste.”

Die Drakensbergse Seunskoorskool word ’n soort mikrokosmos van wat in 1976 in Suid-Afrika as geheel aangegaan het. “Daar’s dalk ’n grimmige gepastheid by die wit seuns – blakend gesond en onbewus – wat Beethoven se uitdagendste Latynse Mis oefen terwyl die swart kinders uit frustrasie met Afrikaans hul skole afbrand. Mens moet jouself ook afvra waarmee jy in 1976 besig was, wat en waarom. Karl de Man onthou meesal dat hy aan sy tone geruik het na ’n rugbywedstryd, en natuurlik, dat hy onwetend besig was met sy eie vorm van dissidensie binne ’n outoritêre stelsel. Meer nog, op letterlike vlak, is dit die verhaal van die vorming van een man se bewussyn en hoe hy dit onthou en in storievorm verwerk.”

Embrace het vir Izak de Vries (Insig, Junie 2000) gegryp en laat lees en lees. “Dis ’n ryk teks, met temas en variasies, musiek en letterkunde, vrees en skrywerskap wat deur die vertelling heen gevleg is. Sy rolmodel is die slim vrou van die Sheherazade-verhaal wat haar lyf – en haar stories – aan die sultan bied. Dit is egter haar stories wat haar aan die lewe hou – en die manier waarop sy dit vertel. Karl de Man is ’n verleier, en laat homself tog te maklik verlei. Hy ontdek homself, sy maatjies en uiteindelik ’n volwasse man, maar dit is sý storie wat die leser verlei. Met sy tallecliff hangers lees Embrace soos ’n tradisionele riller.”

De Vries meen dat ons ’n ryk, maar klein korpus gayliteratuur in Afrikaans het en hy noem Koos Prinsloo, Pieter Cilliers, Riana Scheepers, Irna van Zyl, en Joan Hambidge.   Volgens hom is Behr se boek egter harder en meedoënloser as genoemde werke (Prinsloo s’n uitgesluit), maar die liefdestonele is ook mooier. “EM Forster se Maurice is straks die verhaal wat die naaste aan Embrace kom. Anders as in Slagplaas word selfs die banaalste tonele in Embrace met smaak en verwondering aangebied. Die kinderverteller – of dan die ouer verteller wat weer kind word om te vertel – slaag. Elke moment, van lyfstraf tot kooroptredes, van ’n vulletjie se geboorte tot die uitbundige kopulasie van twee perde, alles word met groot oë en baie teerheid aangebied. (...) Koop die boek. Dit het my diep ontroer.”

Wilhelm du Plessis (De Kat, April 2000) het Mark uitgevra oor die kwessie dat mense dalk kan dink Embrace is outobiografies. Mark se reaksie hierop was: “Daar’s ’n dwase openbare obsessie met die lewe van sommige skrywers. Dwaas, omdat die lees van ’n skrywer se teks deur die raamwerk van die skrywer se lewe, die leser se potensiaal vir ’n onbevange leeservaring belemmer. Waar ek aanhou om in die openbaar oor myself of my filosofieë te praat, word ek medepligtig aan daardie belemmering, en, meer nog, doen ek my eie roeping as skrywer – en die hemel weet bowenal my eie menswees – skade aan. Waar ek idees neem uit my eie lewe en daaroor fiksie skryf, is dit my eie saak en het dit niks met die leser te maak nie. Byna alle skrywers doen dit. As ek ’n memoir skryf, sal ek dit so noem. Op die oomblik skryf ek fiksie, en hierdie roman is fiksie nes Die reuk van appels was. Wil ek in die openbaar oor my lewe praat, sál ek. Die gode weet; daar’s genoeg geleenthede. Op die oomblik wil ek dit nie doen nie, want ek’s besig met belangriker dinge.”

Embrace was op die kortlys van die Sunday Times Fiction Prize en die Encore Award in Brittanje in 2000.

Nege jaar later word Mark se volgende boek, Kings of the water, by Penguin gepubliseer. Die titel slaan op ’n klompie seuns se speletjie in ’n plaasdam op ’n Vrystaatse kersieplaas waarheen die hoofkarakter, Michiel, vir sy ma se begrafnis vanuit Amerika reis.

Hans Pienaar skryf: “As gay man identifiseer Michiel met die vroue, sterk feministiese tipes, aantreklike produkte van die nuwe Suid-Afrikaanse etos van gelykmaking tot elke prys. Die aksie speel af in ’n enkele dag, want Michiel moet ’n vliegtuig haal om Engels, die huidige imperiale taal, in China te help versprei. Gedagtes oor sy minnaar, Kamil, die seun van ’n Palestynse ma en ’n Joodse pa, maal in sy kop saam met herinneringe uit sy grootwordjare op die plaas. Deel hiervan is ’n traumatiese reeks voorvalle waaroor inligting drupsgewys aan die leser gevoer word ter voorbereiding van (so verwag ’n mens) ’n konfrontasie. Via Kamil plaas Michiel, en die skrywer, hulself in die middel van die heersende globale debatte, as leidende lede van ’n avant-garde vir burgerregte in Amerika en daarmee ook in die hele Weste. Verwysings uit vele waters en oseane oorheers, en die subteks sê Michiel is een van die diskursiewe kapteins van nie net ’n plaasdam nie, maar die wêreld.”

Pienaar gaan voort: “Die roman is vernuftig geskryf, en dit bied vele plesiere, soos verskeie verhaalelemente wat deurmekaar gevleg word. Dit het ook raak beskrywings en toepaslike insigte – hoewel ’n mens soms nie dadelik snap na watter string ’n bepaalde beeld of sinsnede verwys nie. Dis so goed geskryf dat ’n mens nie agterkom daar is ’n holte in die appel nie. Die spanning word opgewen – daar is selfs ’n verwoede donderstorm – tot dit naderhand ’n dam is wat moet bars. Maar wanneer dit gebeur, is daar nie veel van ’n konfrontasie nie. Daar is gesprekke rondom ’n tafel en langs ’n rivier, maar as ’n mens weer sien, is Michiel se sondes hom vergewe. (...)

“Michiel superponeer sy eie komplekse bo-oor ’n veel meer dinamiese kwessie, dié van die plaas self, en vee sodoende laasgenoemde uit tot net ’n paar lukrake paragrawe oorbly. Die aanvaarding van die beginsel van gelykheid is belangriker vir Behr/Michiel as die toekoms van die kersieplaas, en die moontlikheid dat dit, weens die regering se pogings tot grondhervorming, ten gronde sal gaan. Die roman vra om vergelyking met Disgrace van JM Coetzee, en Behr haal hom ook aan. Coetzee se Engels en sy skryfwerk is veel beter, maar sowel sy as Behr se oplossing neig na dieselfde: Gee liewer die grond oor as om te stry daarvoor. Hiervoor sit albei hul romans in grensgebiede, Coetzee in Transkei en Behr naby Lesotho. Dit sou nie werk op, sê maar, ’n appelplaas in die Boland nie.”

In The Guardian van 23 Januarie 2010 skryf Christopher Hope: “The achievement of Kings of the Water – the title is a reference to a game kids played at a time when Afrikaners were kings of the country – is to expose muscle-bound complacencies. The world of Michiel’s bedridden father is being swept away. Even his farm, Paradys, may soon be reclaimed by the indigenous people from whom it was purloined.

“Michiel sees clearly the changes going on in the country but he is, as he says, a voyeur. The novel pivots on the hints and glances, guesses and reflections of what he secretly sees. No one is pure, or guiltless. Not his mother, Ounooi, who loved him till the end; nor his lover, Kamil; nor his dead brother, Peet. Michiel’s identity dissolves even as he tries to define it: an Afrikaner with English connections, Australian memories and an American passport. Behr writes with delicacy and restraint of elusive things, most especially when Michiel comes face to face with his own shame at the treacheries and scandals that blew apart his family and sent him headlong into exile.

Kings of the Water is set just after the turn of the new millennium: the time of the first Gulf war and of the strange euphoria a few years into the rule of Thabo Mbeki, an era that saw the triumphant return of the racial demons one had hoped were dead and buried when apartheid collapsed and Mandela was elected. This was a time when canting talk about ‘African renaissance’ went together with the deadly dismissal of Aids as an invention of the drug companies and a slur on the sexual mores of black Africans.

Kings of the Water describes inner and outer weather: the internal storms of the Steyn family, but also the surging violence washing over South Africa. At the same time, things are also about to change explosively in Michiel’s adopted country, the United States.

“Behr digs deep beneath the thin skin of that exceptionally complex citizen of the new South Africa, the Afrikaner whose world is coming down. The spirit behind Kings of the Water is Chekhov and The Cherry Orchard. The family farm is famous for its cherries, and throughout the novel we hear the sound of axes at work in the orchard. Behr does tend to rhapsodise now and then; he has a weakness for reading lists of favourite South African writers, and the American sections pale alongside life at Paradys. But these are minor blemishes in one of the most moving novels to have come out of South ­Africa in many years.”

In ’n onderhoud met Jennifer Crocker het Mark verduidelik waaroor The Kings of the Water gaan: “For me it is at heart a book about the fluidity of life and the inevitability of change – personal, political, psychological, environmental, discursive – and the foolishness (and danger) of all kinds of certitude and of trying to control what cannot be controlled.

“If we’re serious about ethics – also about the ethics of narrative – it’s important and useful to assess how and whywe try to construct a hierarchy of moral and immoral behaviour,” het Mark gesê. “I hold that morality does not reside outside of time and place, that it is made and remade through a process of selection, emphasis, and constant repetition.

“We can only be moral by setting up something as immoral or morally transgressive: in Michiel’s youth being homosexual was morally the most reprehensible thing he could be. That moral imperative made Michiel a betrayer by definition.”

Mark erken dat dinge aan die verander is en dat homoseksualiteit nou wettig mag wees, maar “that does not mean the past is wiped away; we drag our experiences and interpretations with us; and now the people who teach or taught that homosexuals are to be despised (and to despise themselves) are becoming morally suspect while the homosexual who experiences discrimination is seen as the betrayed: betrayed by her or his history, society and family. So, yes, Michiel, like all of us is both betrayer and betrayed.

“Michiel thinks to himself that ‘at the heart of society is language and the idea of solidarity’; the problem is of course that language is tied to history so that the meaning of a word constantly shifts ... The radically contingent nature of morality demands that I be cautious with my impulse to judge and equally cautious with the words I choose to tell my story.”

Jennifer Crocker skryf verder: “Words of course string themselves together in a novel: attempting to find synergy between meaning, context, plot and place. In this novel the author has created an almost symphonic gathering together of the story and prose. We need the language of the book as a key to understanding what has happened and is happening to the characters.

“And while there is a uniquely South African element to the Kings of the Water and it has been hailed by Christopher Hope in The Guardian as, ‘Full of the spirit of Chekhov. One of the most moving novels to come out of South Africa in many years’ it lies both inside and outside the reach of the ‘South African novel’. Kings of the Water finds its home in the category (if there can ever be such things) of world fiction.”

Mark het aan Jennifer Crocker verduidelik dat hy ’n plaasroman vir die 21ste eeu wou skryf, “one that grapples with what is unique about the South African situation while simultaneously insisting that we are radically and inextricably linked to the outside world, that our uniqueness is nothing special, that we are all in a state of constant transformation, that we, in South Africa, are in fact, at last, quite ordinary. There is humble liberation to embracing one’s ordinariness. I think that is perhaps the book’s central message of hope.”

The Kings of Water was in 2010 op die kortlys van die Universiteit van Johannesburg se prys vir kreatiewe skryfwerk in Engels.

Van Mark se kortverhale is in tydskrifte en versamelbundels opgeneem, soos “Die boer en die swaan” wat in Die Suid-Afrikaan van November 1993 verskyn het; “Cape Town, my love” in Cape Town: a city imagines (2006); en “Socrates, Miss Celie and me” in Gesprek sonder grense: Johan Degenaar 80.

In 2005 was hy die ontvanger van die Manuel Lujan sr-toekenning vir Excellence in academics and teaching by die Santa Fe Kollege in Nieu-Meksiko.

In 2007 het die tydskrif The Truth about the Fact ’n uittreksel uit ’n lesing wat Mark in 2003 aan die Wilfrid Laurier Universiteit in Kanada in 2003 gelewer het, gepubliseer. Die uittreksel was getitel “People Like Us” en die titel van die lesing was “A tale of two towers: language, terrorism and another moment in history”.

Die kortkortverhaal “Boy” is in 2009 in die internasionale bloemlesing Between men two opgeneem as Mark se antwoord op “Girl” van Jamaica Kincaid.

In Fifty gay and lesbian books everyone must read (2009) kyk Mark na die invloed wat Alice Walker se The color purple op sy eie politieke en sielkundige ontwikkeling gehad het.

Mark se werke is tans in tien tale vertaal.

Mark is tans professor in kreatiewe skryfwerk aan Rhodes College in Memphis in die VSA. Hy was professor van wêreldletterkunde en die skryf van fiksie aan die Kollege van Santa Fe in Santa Fe, Nieu-Mexiko. Hy is ook ’n dosent in die MA-program aan die Universiteit van Kaapstad en die MFA-program aan die Universiteit van Nieu-Mexiko.

Mark sluit af: “Ek is deesdae veel meer driftig vir lewe as vir skryf. Dalk is daar nog ’n paar boeke in my, maar kuier met vriende, perdry of met ’n rugsak gaan kamp, is nou lekkerder en belangriker as om voor ’n rekenaar te sit. En dít is nie die eienskappe van ’n ernstige skrywer nie.” (Beeld, 25 Oktober 2003)

In 2012 is Mark Behr om kommentaar genader nadat ’n Afrikanergesin om asiel in Amerika aansoek gedoen het: “Die oorweldigende meerderheid van wit mense in Suid-Afrika is steeds bevoorreg. Dit sal dus ‘moreel onverdedigbaar’ wees om wit Suid-Afrikaners op grond van rassediskriminasie in hul tuisland asiel in Amerika te gee.”  

Hy het verder in ’n e-pos aan Vicus Bürger (Die Burger, 25 Februarie 2012) verduidelik: “Die wêreldgeskiedenis is besaai met voorbeelde van mense wat onderdruk is en later self onderdrukkers geword het. In Suid-Afrika het egter nog nie genoeg tyd verloop of die ekonomiese mag genoeg verskuif sodat dit op ’n beduidende vlak kan gebeur nie. As hulle (die gesin wat asiel soek) enigsins slagoffers van rassisme is, is dit ongelukkig net ’n rassisme wat hulle self in hul eie verstand geskep het. Laat ek byvoeg: Ek praat as ’n wit Afrikaner van ’n familie van boere; mense wat self hul plase in Afrika verloor het.”

Tydens die Franschhoek-fees in 2012 het Mark Behr op ’n vraag van JB Roux (LitNet) oor of sy boeke baat gevind het by sy grootwordjare as ’n gay man in ’n verskeurde land, sy tyd as ’n offisier in die weermag en sy deelname aan die Grensoorlog deelgeneem, en sy betrokkenheid in ’n konvensionele sin as ’n spioen en teenspioen.

Hierop het Mark geantwoord: “As ek my boeke en stories kon verruil vir ’n minder moreel en psigies komplekse jeug sou ek dit waarskynlik sonder skroom doen, want ek voel myself mens (in verhouding tot ander) lank voor ek aan myself dink as ’n skrywer.

“Dis ’n lewenslange taak om te probeer verantwoording doen vir die leed wat ons mense aandoen. Uit ons vrot besluite en foute en ons pogings om reg te maak of om sin te maak daarvan kom daar egter soms verruimende en durende verhoudings; ’n vernuwende, morele verbeelding vir onsself en vir ander. Dis onmoontlik om te peil wie ek sou wees, wat ek sou glo, dink, doen of skryf sonder my medepligtigheid aan en bevoorregting deur apartheid. Die dramatiese politieke en intellektuele skuiwe – veral die intieme verhoudings wat ek gesmee het in daardie tye, verhoudings wat ek steeds handhaaf – was emosioneel en wat my kreatiwiteit betref formatief. Ek bly dankbaar vir wat dié plek en mense my steeds gee en leer.”

In 2017 is ’n verhoogverwerking van Die reuk van appels in die Fugardteater in Kaapstad op die planke gebring. Dit is vir die verhoog  verwerk deur Johann Smith en Lara Bye saam met Gideon Lombard was die regisseur. Gideon Lombard het ’n hele paar rolle in die stuk vertolk – dié van Marnus, sy vriend, Frikkie, ’n Chileense generaal, asook dié van sy ma en pa.

In haar bespreking van die stuk skryf Tracy Saunders dat Lombard met die grootste gemak van die een karakter na die ander beweeg: “He slips imperceptibly from one character to the next with a physical embodiment of the very essence of their characters that is incomprehensible, literally creating an entire cast out of nothing more than a pose, an inflection in the timbre of his voice. The subsequent shattering of his childhood psyche is so palpable that it is impossible not to physically flinch as each character meets his fate. Alongside the general childhood mishaps, his boyhood is the site of a far greater anguish.”

“Behr unfolds the narrative gently, with a naive humor, offering each layer of his life as a gift. It’s only when you have each and every piece delicately stacked one upon the other that the truth is revealed and the shuddering realization tears you to the core. The sketching of a privileged childhood lulls you into a sense of the commonplace and the ordinary but there is nothing ordinary about this life. His father, the youngest general in the South African Defence Force, his mother, an international Opera singer, and his country a cesspool of hatred and prejudice.”

“There is no attempt to whitewash the truth of apartheid. The evil is presented as is. Hearing the bigotry and cruelty articulated by a child is a harsh reminder of our history. Deep-seated, casual racism imbibed with mother’s milk, spooned up with the morning’s porridge and validated in the classroom lead to the killing fields of Angola.”

“Olfactory memories are often the most powerful, unsurprising given that we have at least a thousand receptors for smell and only four for sight. Marcel Proust, transported to his childhood memories by the aroma of a madeleine cookie in his novel ‘Remembrance of Things Past’ lends his name to the Proust phenomenon, the odor-evoked autobiographical memory which haunts Marnus years later and miles away. Lombard’s talents extend to a fine musical acumen and the soundscape drifts from frenzied military commands to strains of an operatic diva’s curtain call and the unforgettable voice of Esmé Euvrard, as she bolsters the morale of the troops on Springbok Radio’s Rendezvous. The intense recollection of the scent, the authenticity of the sound and Lombard’s riveting performance ensure that the swirl of dust unleashed by a helicopter catch the back of your throat, the spray from the crashing waves settles in your hair. While it is the smell of apples that disturbs his dreams, he leaves the audience with layer upon of layer of sensory emotions which settle deep into the marrow.”

By die kykNET Fiëstas van 2018 is Lara Bye as die beste regisseur aangewys en Gideon Lombard het die Fiësta ontvang as beste akteur in ’n solo-vertoning. Boonop is Die reuk van appels nie net aangewys as die beste aanbieding nie, maar ook as die beste vertaling of verwerking van ’n bestaande werk.

Mark Behr is vroeg op Saterdagoggend 28 November 2015 in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede nadat hy vermoedelik ’n hartaanval gehad het. Hy het ongeveer vier maande voor sy afsterwe na Johannesburg gekom as ’n besoekende dosent in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was ook ingeskryf vir ’n doktorsgraad aan Wits en was met studieverlof in Suid-Afrika.

Huldeblyke:

  • Gerrit Olivier: “Behr het ’n komplekse persoonlike geskiedenis gehad met sy dae as informant vir die regering toe hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch was. Ek dink dit is baie indrukwekkend dat hy oor die jare so hard daaraan gewerk het om vrede te maak met daardie deel van sy geskiedenis. Om eerlik daaroor te praat. In sy romans is daar ’n baie genuanseerde bewustheid van mag – persoonlike mag, seksuele mag, politieke mag – en hoe daardie verskillende vorme van mag met mekaar verstrengel kan raak. Ek was betrokke by al Mark Behr se romanmanuskripte deurdat ek dit gelees het en raad gegee het oor die finale afronding daarvan. Skryf was vir Behr ’n baie ernstige saak. Hy was ook ’n goeie leser, insiggewend en krities. Hy het studente met respek behandel. Hy het ontsaglik baie bygedra. Ek dink hy was die beste onderwyser in kreatiewe skryfwerk wat ek in my lewe ontmoet het.” (Beeld, 1 Desember 2015)
  • Regter Edwin Cameron sê: “Behr was ’n hegte vriend en sy dood ’n geweldige skok.” (Beeld, 1 Desember 2015)
  • Dominique Botha: “Behr se aanmoediging toe ek Valsrivier geskryf het, het baie vir my beteken. Wat my van hom beïndruk het, was dat hy nie geskroom het om die kompleksiteite van sy eie verlede te pak nie. Hy het omgegee vir skrywers en literatuur.” (Beeld, 1 Desember 2015)
  • Antjie Krog: “Ek onthou dat ek Mark Behr die eerste maal ontmoet het toe ek in die bruin woonbuurt in Kroonstad skoolgehou het. As ons ’n ander soort land was, was iemand so buitengewoon begaaf soos Mark Behr een van die gesalfdes.” (Beeld, 1 Desember 2015)
  • Hettie Scholtz: “Hy laat ’n groot leemte agter. Hy het voluit gelewe, met baie drif en entoesiasme vir die letterkunde en veral vir sy studente by Rhodes College. In al ons korrespondensie die afgelope 22 jaar het ek hom steeds aangespreek as ‘my blouoogontdekking’, met groot waardering vir die finansiële hupstoot wat Die reuk van appels ’n kelin onafhanklike uitgewery gegee het. Lewensgroot, dis hoe ek hom sal onthou, en met hartseer dat ons mekaar nie weer hierdie jaar voor Kersfees sal kan sien nie.” (Beeld, 1 Desember 2015)
  • Frederik de Jager, voormalige direkteur van Panguin Books: “Behr was een van die eerste Afrikaanse skrywers wat gay-identiteit, godsdiens, gesag, rassisme en seksualiteit vernuftig in sy romans ondersoek het. Sy werk is besonder goed ontvang, omdat dit baie goed geskryf is.” (Beeld, 1 Desember 2015)

Publikasies:

Publikasie

Die reuk van appels

Publikasiedatum

1993

ISBN

1874901066 (sb)

Uitgewers

Strand: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-Debuutprys 1994
  • Eugène Marais-prys 1994
  • Betty Trask Award 1995 vir Engelse vertaling          
  • M-Net-Boekprys 1996 vir Engelse vertaling
  • Art Seidenbaum Award van die Los Angeles Times, 1997 (debuutprys)

Vertalings

  • Engels 1995          
  • Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens 1998          
  • Hebreeus          
  • Chinees          
  • Duits          
  • Portugees

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Embrace

Publikasiedatum

2000

ISBN

0316853771 (sb)

Uitgewers

London: Little Brown

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Kortlys van die Sunday Times Fiction Prize en die Encore Award in Brittanje 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kings of the water

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780349113708 (sb)

Uitgewers

London: Penguin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Artikels oor Mark Behr op die internet

Artikels deur Mark Behr beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Mark Behr (1963–2015) appeared first on LitNet.

ATKV: Wêreldboekedag 2020 en die VVA se boektrommelprojek

$
0
0

Fotobron: Canva

Die viering van Wêreldboekedag op 23 April was vanjaar nog meer relevant as ooit tevore.

As gevolg van die COVID-19-pandemie en die inperking wat daarmee gepaard gaan, kan die wonder van die geskrewe woord gebruik word om eensaamheid en ’n gebrek aan stimulering teen te werk.

Nie net volwassenes sal hierby baat vind nie. Ouers het waarskynlik ook nou meer tyd om vir hul kinders voor te lees.

Ter viering van die ATKV se 90ste verjaardag vanjaar val die klem veral op lees.

Die Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, besef dat die huidige tydvak meer uitdagings aan veral kinders stel. Hoe gemaak met kinders wat hulself met skoolwerk moet help, maar nie met begrip kan lees of glad nie kan lees nie?

Die volgende statistieke het in die artikel "Help om leeskultuur te bevorder in Nasionale Boekweek" op Netwerk24 verskyn:

  • Net 14% Suid-Afrikaners lees aktief, terwyl  58% van huishoudings nie ’n enkele boek in besit het nie.
  • ’n Derde van alle ouers vertel nie vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders ’n boek voorgelees nie.
  • Verdere studie in 27 lande toon dat kinders ’n veel groter kans op sukses in die lewe het as hulle grootword in ’n huis waar so min as 20 boeke is.
  • Ons weet ook dan byna 80% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie (PIRLS).

Deur voor te lees vir kinders, kan jy hulle lewenslange lesers maak, maar ook sorg dat hulle optimaal sal kan leer. Deur kinders aan die regte boeke en stories bloot te stel, kan ons hul bemagtig en goeie waardesisteme aanleer.

Ons glo dat geletterdheid en ’n liefde vir lees kan lei tot kinders wat onafhanklik kan dink, en kan help in die ontwikkeling van empatiese wesens wat vir hulself sal kan sorg en en hul regte ken.

Lees is die grondslag van alle leer-aktiwiteite. As mens in ag neem dat ’n kind meer leer in die periode van 0 tot 6 jaar as wat hy/sy vir die res van hul lewens sal leer, kan daar nooit te vroeg met voorlees en lees-aktiwiteite begin word nie.

Wat as jy nie geskikte boeke het om vir jou kind voor te lees nie?

  • Vertel vir hulle stories.
  • Luister na stories op die radio.
  • Gebruik ou tydskrifte of boeke, knip prentjies uit en maak jou eie storie op.
  • Speel speletjies – voer die storie op.
  • Kommunikasie – praat met jou kind en betrek hom of haar by die vertel van stories.
  • Vra hulp en kry leiding by opvoeders, kundiges, ens.
  • Besoek die ATKV se Facebookblad en kyk en luister na stories.

Die belangrikste ding om te doen of vir jou kind te gee is liefde, aandag en tyd. As ons vir ons kinders voorlees, besef hulle dat lees belangrik is omdat ons tyd daarvoor maak.

Ouers moet self ’n voorbeeld stel deur te lees want kinders doen wat volwassenes in hul omgewing doen. Navorsing in Nederland het ook bewys dat as jy vir 10 minute per dag vir jou kind voorlees, jy die kind instaat stel om jaarliks duisende nuwe woorde aan te leer.

Ongelukkig is boeke vir die meeste skole en mense ’n luukse. Die VVA wil kinders deur middel van die boektrommelprojek so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootstel. Daar moet ’n leeskultuur geskep word en kinders moet in ’n woordryke omgewing grootword. Ons glo dat ’n leeskultuur aangeleer kan word. Net soos wat goeie sportmanne moet oefen om die beste in hul sport te word, so moet ’n mens ook elke dag lees om ’n goeie leser te word. Lees moet deel van ’n roetine word.

Die VVA se vlagskipprojek is sy boektrommels vol heerlike boeke wat aan verdienstelike skole en goedbestuurde kleuterskole besorg word en ook sy voorleesprojek wat die belang van voorlees in elke huis wil tuisbring.

Die VVA se boektrommelprojek bestaan uit:

  • ’n boekverspreidingsprojek (boektrommels aan verdienstelike kleuterskole, Graad R-klasse en grondslagfase-klasse);
  • boekopvoeding en storievoorlesings vir kinders sodat hulle die waarde van boeke kan besef en ’n liefde vir lees ontwikkel;
  • voorleeswerkswinkels en leeskonferensies vir ouers, ander belangstellendes en opvoeders (VKO-praktisyns);
  • ’n leesondersteuningsprojek (Doen en Leer).

Met hierdie uitgebreide boektrommelprojek wil die VVA jaarliks probeer om ’n groter impak te maak tot die ontwikkeling van ’n leeskultuur in gemeenskappe landwyd, sodat kinders – eerste-, tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans – in woordryke omgewings met toegang tot die regte boeke kan grootword en die vreugde en bemagtiging van lewenslange lees en leer kan ervaar en benut.

Danksy verskeie donasies, borge en vennootskappe kan die VVA jaarliks meer as 50 trommels nasionaal versprei.

Ten spyte van ons ywer en vordering met die projek, is 50 boektrommels ’n druppel in die emmer gegewe ons omstandighede in Suid-Afrika.

’n Trommel met tussen 90 en 110 geskikte boeke kos R8 000.

Die bankbesonderhede vir bydraes is soos volg:

Bank: ABSA BANK
Rekeningnaam: ATKV
Rekeningnommer: 0170166728, Tjekrekening
Takkode: 632005  

Vir inbetalings uit die buiteland kan die volgende "swift code" gebruik word: ABSA ZA JJ.

Gebruik asb "VVA Boektrommels" as verwysing.

The post ATKV: Wêreldboekedag 2020 en die VVA se boektrommelprojek appeared first on LitNet.

Jan van Tonder (1954–)

$
0
0

Sêgoed van Jan van Tonder

"Skryf is ’n passie, maar dit is beslis nie maklik nie. Ek stem saam met ’n skrywer wat een keer gesê het: 'I don't like writing. I like to have written.' Dit is nie maklik nie. Elke sin word geskryf met ’n rede en moet aanleiding gee tot ’n volgende punt. Jy moet karakters in jou kop skep en hulle moet interessant en geloofwaardig wees. As dit vir jou begin lekker raak wanneer jy skryf, is jy besig om nonsens te skryf." (Rapport, 8 April 1990)

Hoe om te leer skryf en jou skryfvermoëns te verbeter: "Lees, lees, lees! Jy moet soveel as moontlik lees in die genre waarin jy skryf. Alle goeie skrywers lees; dis die enigste manier om te verbeter." (Rapport, 8 April 1990)

Oor die stelling dat ’n skrywer vir homself skryf met geen spesifieke gehoor in gedagte nie: "Daar is min dinge belagliker as daardie stelling. As dit die goddelike waarheid was, waarom publiseer die mense hul werk dan? As iemand in die stort sing en vir my sê dit is vir homself, glo ek hom, maar wanneer hy dit oor die radio doen en dieselfde ding beweer, weet ek hy lieg." (Volksblad, 19 Mei 1990)

Oor pryse: "Oor pryse is ek dankbaar (veral dié wat ek ontvang het). Dit bly ’n aansporing vir gevestigde skrywers en lok nuwes lessenaar toe. Ek wonder byvoorbeeld of ek ooit ’n radiodrama sou geskryf het as daar nie prysgeld aan verbonde was nie – ’n mens kan soveel werk doen vir die patetiese bedraggie wat jy vir die gewone uitsaai van ’n radiodrama betaal word nie. Dit geld boeke soms ook: ek het met die smous van een van my boeke meer verdien as met die tantième wat ek gekry het." (LitNet)

Resensente: "Hulle bevind hulle seker in ’n groot mate in dieselfde posisie as verkeersbeamptes: as daai wit handskoen vir jou wys jy kan maar ry, is die spietkop nice, maar as hy wys jy moet stilhou omdat jy te vinnig gery het, of jy met ’n selfoon in die hand betrap is, is hy ’n bliksem." (LitNet)

"Ek is min beïndruk met die mens as groepsdier. Individue gryp my verbeelding aan. En niemand is meer van ’n enkeling as ’n outsider nie, of hy dit is omdat hy dit verkies, of omdat die samelewing dit van hom maak, of as gevolg van ’n gebrek/talent/versteuring." (LitNet)

"Skrywers en ander kunstenaars moet van buite kan inkyk, maar ook van binne af uit. ’n Mens skryf moeilik oor die dinge waarvan jy nie kennis of ervaring het nie. Daarom kan jy nie op die periferie bly staan nie." (LitNet)

"Met die skryf van Roepman het ek probeer verstaan waar ek vandaan kom, wie ek is, in watter mate my omgewing my gevorm het. Ek het simbolies op die grond gespoeg en modder aangemaak en aan my ooglede gesmeer en vir myself gesê: Sien ’n slag, en moet nooit weer néérsien op waar jy vandaan is, of waar ander vandaan is nie of waar wie ook al nou is nie. Ek het ’n probleem daarmee dat mense na poepôlle opsien net omdat hulle ryk is." (Insig, 30 November 2004)

"Roepman is ’n verhaal wat vertel móés word, maar ek sou dit nie kon doen toe ek dertig was nie – ek sou nie gereed gewees het daarvoor nie, te onryp om te gaan krap in doerietyd se dinge, te onwys om te begryp wat daar alles gebeur het. En toe kry ek ’n dringendheid daaroor. Dit moes vanjaar verskyn." (Insig, 30 November 2004)

"Ek het wat ek nog altyd wou hê. Ek het nie veel meer nodig as wat ek het nie. ’n Lekker dak oor my kop, ’n mooi uitsig en ’n voertuig om mee te ry. Ja, en ek sou iemand wou hê om saam mee oud te word. En bitter graag ’n kind." (Insig, 30 November 2004)

"Ek sal ’n gans ander mens word as ek nie skryf nie. ’n Ou drol." (Insig, 30 November 2004)

"Ek wil niks na ’n sedeles laat klink nie. Ek is nie ’n moeilikheidsoeker nie. Ek wou net ’n storie skryf oor hoe mense lyk en oor hoe hulle kán lyk. Ek het nie die issues berekend aangepak nie. Dit kom oor en oor in my skryfwerk uit hoe ongenadig mense kan wees teenoor dié wat aan hulle uitgelewer is. Ek skryf: 'Kyk hier hoe is ons. Dis nie hoe ons gemaak is om te wees nie.' As ek vir my myself kon laat sien, kan ek dalk vir iemand anders help sien deur iets wat ek self gesien het." (Insig, 30 November 2004)

"Ek het ’n vermoede dat die meeste mense nie eens wéét ek skryf nie. En ek wíl so graag beroemd wees. Mense hoef my nie op straat te herken nie. Ek wil net ongemerk hoor hulle sê vir mekaar: 'Dis ’n móói storie dié'." (Insig, 30 November 2004)

"Ek wil skép, ek wil mense laat huil en lag. Ek dink dis die oudste sonde om soos God te wil wees. Om te wil skep." (Insig, 30 November 2004)

"’n Skrywer mag hom aan nóg staat, nóg ideologie, nóg kerk godsdienstig maak, Elke politieke of teologiese denkrigting het ’n meerdere of mindere persentasie klei in die voete. As die skrywer so in verwondering staan oor die standbeeld dat hy nalaat om die klei in die voetstuk genadeloos aan te val in ’n poging om dit met iets sterker en beter te vervang, kan hy net sowel registreer as ’n kopieskrywer in daardie organisasie/regering se propagandakantoor." (Die Burger, 22 Mei 1990)

"Die skrywer het ’n plig om nie net verkeerde ou stelsels af te breek nie, maar ook om te sorg dat daar gesonde nuwes in die plek daarvan kom." (Die Burger, 22 Mei 1990)

Watter prosavorm (kortverhaal of roman) verkies hy? "Ek sou moeilik kies, maar die geleentheid wat die roman my bied om so diep as moontlik in so veel as moontlik skakeringe van ’n karakter se persoonlikheid  te krap, is vir my nogal bevredigend. Die karakter/s wat ek gemaak het, moet vlees en bloed genoeg hê om ’n leser te laat lag en huil." (Beeld, 15 Mei 1990)

Op LitNet maak Madri Victor die stelling dat Jan van Tonder se vrouekarakters sterker as die manlike karakters is: "Die kort antwoord hier? Ek hou meer van vroue as van mans. Ek het in ’n huis vol van hulle grootgeword: vyf sussies, my ma, my ouma en ons huishulp. Dit teenoor een broer en ’n pa. Telkens voel ek die krag van vroue aan, sien ek hoe hulle kan uithou en aanhou en ’n gelapte spul kan bymekaarhou. Selfs die meisiekinders in my jeugstories troon bo die seunskarakters uit."

"Wanneer ek skrywe, soek ek plekke en dinge uit wat by my storie pas, en om dit te kan doen, moet ek die wêreld waarin dit afspeel, ken (of leer ken). Sodoende lei ek sommige lesers hopelik deur ’n bekende tyd en wêreld, en ander in die belewing van nuwe dinge." (LitNet)

Oor sy skryfwerk: "Ek skryf van nature redelik gestroopte, onderbeklemtoonde prosa. Ek onthou my wonderlike uitgewer, Marietjie Coetzee, het destyds met Is Sagie vir my gevra of ek nie die liefdestoneel tussen Sagie en Ansie net so ’n bietjie meer eksplisiet sal maak nie. Toe ek haar weer sien, het ek vir haar gesê ek het probeer, maar Sagie wil nie." (LitNet)

Oor die aanpassing van romanskryf na draaiboekskryf: "Elke genre stel sy eie eise en sy eie reëls. Ek moes heelwat lees oor draaiboekskryf: The idiot's guide to screen writing, William Goldman se Adventures in the screen trade, Screen writing van Syd Field. En soveel as moontlik draaiboeke. [...] Ek glo ’n draaiboek moet so getrou as moontlik aan die siel van die boek bly, want dit is tog wat die vervaardiger/regisseur se belangstelling aanvanklik geprikkel het. Maar draaiboek skryf is nie vir sissies nie." (Volksblad, 14 November 2011)

Waar skryf hy? "In my kop, meestal, maar omdat dié so deurmekaar is, skryf ek net dit wat sin maak neer, en selfs dit verg her- en her- en herskryf voordat dit onder ander oë kan kom. As jy die plék bedoel: in my werkkamer op ’n rekenaar, en as dit daar te eensaam raak, met pen en notaboek by wyle Bertie Reed se restaurant in Harbour Island, Gordonsbaai, waar ek die see en bote in die hawe kan bekyk, en stemme om my hoor." (Volksblad, 14 November 2011)

"Met verloop van tyd het ek geleer wanneer jy iets in jou eie vel beleef, iets wat jou emosies holderstebolder krap, vóél dit altyd so ’n bietjie interessanter as wat dit regtig is. Ek dink dis vir ons gewone sterflinge moeilik om te erken, maar 99% van ons se lewe is so donners vaal. Saai. Saai verby. Maar woorde ... woorde kan daai saaiheid ’n wyle laat wyk." (Rapport, 31 Maart 2019)

Oor sy liefde vir die Klein-Karoo: "Van kleins af het ons as gesin Desembervakansie per trein Klein-Karoo toe gereis. Dit was die hoogtepunt van my jaar. As student het ek weer daarheen gegaan en besef dat my liefde vir Dwarsrivier en sy mense nie net ’n kinderparadys was nie, maar dit altyd sal wees." (Volksblad, 3 April 2019)

"As skrywer het jy die voorreg om weg te vat en by te lap; jy hoef jou nie tot 'die waarheid' of 'die feite' te beperk nie. Vir die mens was die waarheid immers nog nooit goed genoeg nie. Ek dink die waarheid is hopeloos te veel vir ons. Dit sit ons ore aan." (Rapport, 31 Maart 2019)

Het Jan van Tonder ’n bucket list? "Ek wil net altyd ’n sinvolle bestaan kan maak — leef, lees en skryf, ’n gemaklike bestaan maak uit skryf, sodat ek kan bekostig om te reis vir navorsing." (Kaapse Bibliotekaris, September, Oktober 2018)

Gebore en getoë

Jan van Tonder is op 29 Augustus 1954 op Sabie in die Oos-Transvaal gebore. Hy is die jongste van sewe kinders – hy het een broer en vyf susters. Jan se pa was operateur van ’n stootskraper en eenmanbaggerboot en as jongman wou hy ingenieur word, maar die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het dit verhoed. Sy ma was ’n huisvrou. Jan bring sy jeugjare in Durban deur en matrikuleer in Stanger aan die Natalse Noordkus.

Jan vertel dat hy op skool nooit ’n goeie student was nie, maar hy was altyd goed met opstelle. "Ek het daarvan gehou om my eie ding te doen en het nooit regtig aan spansport deelgeneem nie."

In 2004 roep Jan hierdie tyd op: "Dit was wonderlik om daar (in die Durbanse spoorwegwoonbuurt) groot te word. Daar was ’n rykheid en ’n lekkerte van mense bymekaar. Waar mense saam swaarkry, is daar altyd ’n sekere warmte."

Jan vertel aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004) dat die Van Tonder-gesin in die spoorwegjare in meer as een spoorwegwoonbuurt gebly het.

Ook vandat hy kan onthou, het hulle in buurte gewoon waar "minder begunstigdes" van allerlei aard deur hul omstandighede bymekaar gegooi is. "Daar was veral twee jaar, in ’n bitter ontvanklike tyd van my lewe (die eerste twee skooljare) wat ons in ’n buurt gebly het waarna party mense spottend as 'Klein Hollywood' verwys het. My ma het hard probeer om ons te beskerm teen wat om ons aangegaan het, maar ’n kind sien en hoor en voel mos fyn. Party mense word in omstandighede ingedwing, of daarin gebore, en wegkomkans is daar nie. Selfs die gelukkiges, of dié met ouers soos ek, my broer en vyf susters, wat die skok van baie houe vir jou absorbeer, selfs hulle kom nooit regtig los van daardie soort herinneringe nie," vertel hy aan Elfra Erasmus (Die Burger, 26 Mei 1990).

Verdere studie en werk

Na matriek is Jan na die Suid-Afrikaanse Vloot in Simonstad, waar hy as hondehanteerder werk. Hy gaan daarna na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1978 sy BA-graad behaal. Hy studeer aanvanklik vir predikant, maar beskou sy jare lange onsuksesvolle pogings om Grieks en Hebreeus onder die knie te kry as ’n Vingerwysing en volstaan met sy BA-graad met Afrikaans, Sielkunde en Kriminologie as hoofvakke. Jan werk vyf jaar aan ’n driejaargraad, maar verontskuldig homself hieroor deur te vertel dat hy gedurende vakansies veertien tot twintig uur per dag as stoker en kaartjiesondersoeker moes werk.

Gedurende sy finale jaar op universiteit is hy getroud. Hy vertel dat die huwelik oorhaastig binnegegaan is en na enkele jare op dieselfde wyse ontbind is "jeugdige ongeduld met die aanpak en deurvoer van iets wat andersins ’n lewe lank sou kon gehou het". Hy is nie weer getroud nie en is na die beste van sy wete kinderloos.

Hy werk as nywerheidsopleidingsbeampte (vir twee jaar), tronkbewaarder, joernalis (by verskeie koerante, onder andere as hofverslaggewer by Die Transvaler en ook by die SAUK), restaurantbestuurder, skilder en natuurlik skrywer. Die jaar in die Gevangenisdiens en die stuk of ses, sewe jaar as verslaggewer het seker die grootste invloed op sy skryfwerk gehad. Aan Elfra Erasmus (Die Burger, 26 Mei 1990) vertel hy: "In die tronk en op sekere plekke waar ’n verslaggewer met mense te doen kry, byvoorbeeld die Hooggeregshof, is daar nie geheime nie; daar staan ’n mens poedelkaal, gestroop van feitlik alle maskers."

In 1979, die jaar toe hy as bewaarder in die Point-gevangenis in Durban gewerk het, begin Jan skryf. Hy vertel aan Elfra Erasmus in Beeld van 15 Mei 1990: "My gedurige gekyf oor die behandeling van die mense (die gevangenes) het veroorsaak dat ek met ’n groot geweer in ’n wagpos op die muur beland het. Maande van frustrasie wat my tot by die punt gedryf het waar ek ’n keuse moes doen. Ek moes kies: gaan ek die hoof van die gevangenis skiet of myself? Dit was te veel van ’n Catch 22-situasie en ek het besluit om ’n storie te skryf, ’n kortverhaal wat my gedagtes oor die mure sou wegvat, na ’n wêreld van onskuld. Die verhaal is gepubliseer en is aangewys as Huisgenoot se Kortverhaal van die Maand. Dit was die voorloper van my latere werk Is Sagie."

In 1983 word Jan se eerste boek, Wit vis, deur Perskor gepubliseer. Dit beeld die trauma van ’n lesbiese verhouding in ’n eng gemeenskap uit. Koos Bester skryf in sy resensie in Die Vaderland (5 Maart 1984) dat daar klein hinderlikhede is wat die uitgewer kon uitgeskakel het, maar dat daar tog sterk oomblikke in die boek is en dat Van Tonder die skryfkuns waardig is.

Jan self sê dat die boek te vroeg uitgegee is. "’n Skrywer is altyd haastig om sy eerste boek te laat verskyn. Dit is soos ’n tiener in wie die eerste jeuk van sy/haar seksualiteit gekom het – hy/sy weet dat dit goed is om te wag met die liefde tot dit die liefde behaag, maar meestal ontbreek geduld (vra maar Maretha Maartens se hoofkarakter in ’n Pot vol winter) en dan is die agtersitplek van ’n motor ook goed genoeg. As ’n mens terugdink aan daardie eerste ondervinding, is dit nie met ’n gevoel van genoegdoening nie, want die tyd was nie ryp nie. Jy ook nie. Wit vis was ’n agtersitplek-ondervinding wat ek liewer wil vergeet."

Jan se volgende publikasie, ’n bundel kortverhale getiteld Aandenking vir ’n vry man, word in 1984 deur HAUM-Literêr uitgegee. Die bevat 23 kortverhale uit en oor die tronkbestaan en word byna almal vanuit die hoek van die gevangenes vertel. Hieroor laat André P Brink (Rapport, 19 Mei 1985) hom as volg uit: "[D]ie kortverhaalbundel Aandenking vir ’n vry man wat pas by HAUM-Literêr verskyn het, is des te meer ’n verrassing. [...] Van Tonder is ’n meester van die skielike ommekeer, veral dan in kort bestek, en juis die eienaardige, kru, stroefheid van die taalgebruik maak dit treffend, met ’n soort kale, bloedige reportage-eerlikheid. [...] En nog selde is hierdie gruwelike skemerwêreld in ons midde met soveel verdoemende oortuigingskrag voor Afrikaanse lesers ontbloot." Hy sluit af deur te sê dat Aandenking vir ’n vry man iets "memorabels" is.

Vir HP van Coller (Volksblad, 11 Mei 1985) is een van die pluspunte van Aandenking vir ’n vry man “juis die afwesigheid van ’n opvallende manipulering deur die outeur, hoewel daar nie sprake kan wees van onbetrokkenheid nie. As geheel is hierdie verhale ’n felle aanklag teen ’n stelsel waarin mense uitgelewer word aan die genade en willekeur van ander."

Jan ontvang van Perskor ’n leergebinde eksemplaar van die bundel. By die oorhandiging sê prof Elize Botha (Transvaler, 28 Maart 1985) die volgende: "Merkwaardige dissipline word deur die skrywer aan die dag gelê. Hy ontkom aan twee gevare – sensasie en sentimentaliteit. Hy soek geen maklike oplossings nie. Hy beweeg verby reportage na literêre vormgewing en sê die onsegbare, sodat die verhale in sy hande veel méér word as die oorspronklike feite. Abraham de Vries beskou die bundel as een van die beste Afrikaanse kortverhaalbundels wat hy die vorige aantal jare gekeur het. (Transvaler, 10 Desember 1984)

Vir sy volgende werk keer Jan terug na prosa. Is Sagie word in 1987 gepubliseer, ook deur HAUM-Literêr, en dadelik trek dit die aandag van letterkundiges én gewone lesers. Dit vertel die verhaal van Sagie, 'n vertraagde natuurkind, en sy liefde vir Ansie.

Ia van Zyl (Die Republikein) skryf dat hierdie kort roman soos ’n vars bries in die wêreld van die Afrikaanse letterkunde is waar dit deesdae behoorlik wemel van allerlei vreemde dwarrelwinde wat die gewone leser heeltemal buite rekening laat. "Van Tonder bewys dat dit vir die Afrikaanse skrywer nog moontlik is om met die taal in sy eenvoudigste – en derhalwe suiwerste – vorm en met die lewens van doodgewone, ongekompliseerde mense as grondstof, ’n meesterstuk te skep. Want Is Sagie is in elke opsig ’n meesterstuk."

Volgens Heilna du Plooy (Beeld, 16 November 1987) word die verhaal gemaklik en vloeiend, en in ’n volgehoue pas vertel, sodat die leser inderdaad deur die lotgevalle van die karakters meegevoer word. Is Sagie was in 1987 en 1988 finalis vir die ATKV-Prosaprys.

Jan vertel aan Sonja Loots (Rapport, 17 Oktober 2004) dat Is Sagie gebore is uit ’n verlange na onskuld. "Ek het daar in die tronk soveel skuld gesien. Toe stroop ek Sagie van alles wat boos is. Dis waarskynlik hoekom hy verstandelik vertraag is. Dit lyk my hoe onskuldiger ’n ding is, hoe minder intellek is daar. Het jy al in ’n Jersey-kalf se oë gekyk? Dis net die mooiste ding; ek verstom my elke keer."

’n Mens sou kon sê dat onskuld die leitmotief in Jan se werk is. “En die underdog. Die uitgeworpene, die ontmagtigde, die ou wat nooit regtig ’n kans kry nie."

Sedert 1988 is Jan voltyds skrywer en hy vertel aan Elfra Erasmus dat hy vir die eerste keer in sy lewe vir ’n goeie baas werk. Die enigste negatiewe aspek van sy werk, erken hy, is die min geld wat hy verdien, maar die res verruil hy vir niks nie.

Met sy volgende roman, Die kind, wen Jan in 1990 die ATKV-Prosaprys en in 1991 die FAK-prys vir Ontspanningsleesstof. Die kind is ’n boeiende, afgeronde verhaal van die wêreld van die Zoeloe. Met hierdie boek het Jan teruggegaan na sy kinderlewe waar hy in Stanger aan die Natalse Noordkus grootgeword het.

"Ek het van kleins af met die Zoeloes te doen gehad. Hul landelike, rustige lewenspatroon en die eenvoud van hul lewe, het ’n groot indruk op my gemaak. Ek het eendag in die Klein Karoo rondgestap toe ek dié sin in my kop kry: ‘’n Seun sonder naam, omdat sy ma hom nie wou hê nie'. Ek het daarmee rondgespeel en dit het agtien maande later Die kind geword."

Hilda Grobler skryf in Tempo van 8 Februarie 1991: "Dit is ’n roman waarin die kenmerke van Van Tonder se skryfstyl en sterk talent verfyn word tot ’n singende boog, tot die musiek wat die Amazolo uit die umakweyane-boog tower. "Die roman is om ’n eenvoudige dog besondere treffende verhaal gekonstrueer. Wanneer Amazolo swanger raak, wil sy die kind nie hê nie omdat Mlenzana haar verlaat het toe sy hom die nodigste gehad het. Haar seun wat later gebore word, wat die merk van die amathongo op het, wat twee moeders het, wat aanhoudend vra wie sy vader is, wat nie saam met die jong seuns wil bokke oppas nie en aanmekaar vir homself groter uitdagings stel, is die seun vir wie Amazolo uiteindelik die hoogste offer bring. Dit is ’n verhaal waarin menslike tragiek op grootse wyse uitgebeeld word. [...] Dis ’n roman wat vry is van enige patroniserende etnisiteit, wat vry is van enige wanklank. Dis trouens ’n roman wat vry is en los staan van ’n rassestempel, want dit handel oor mense en hul belewenisse. [...] Dit is ’n mylpaal in die Afrikaanse letterkunde en een van die eerste geloofwaardige en werklik geslaagde werke in die betrokke genre."

Ia van Zyl (Die Republikein, 30 Maart 1990) meen dat Van Tonder daarin slaag om "deur middel van die eenvoudige, maar treffende, verhaal die dilemma van ’n hele volk uit te beeld. Met hierdie roman toon hy weer eens dat hy nie bereid is om mee te doen aan heersende letterkundige modegiere nie".

Vir Riana Botha (Volksblad, 26 Mei 1990) was Die kind, ten spyte van sekere voorbehoude soos die kontekstuele- en woordverklarings wat die spoed van die verhaal belemmer, asook die pedantiese styl wat hinder, ’n "genotvolle en selfs roerende leeservaring".

Die kind het alreeds twintig drukke beleef as voorgeskrewe boek vir wit en swart skole. "Die kind het vir my gesorg,"sê Jan aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004), "en het my in staat gestel om in 2004 my eerste huis en my eerste betroubare voertuig aan te skaf."

By die oorhandiging van die ATKV-Prosaprys spreek Jan hom sterk uit teen die steun wat aan die kulturele boikot toegesê word en teen alle vorme van sensuur. "Jare lank al stry skrywers teen sensuur, nie teen dié of daardie vorm van sensuur nie, maar alle vorme daarvan. Het ek so verstrik geraak in my klein Karoose isolasie dat ek nie gehoor toe medeskrywers en skrywersorganisasies geskel het teen die ANC se planne om uiteindelik die pers in 'The People' en dus die regering se hande te plaas nie? Hét hulle daarteen in opstand gekom, of het hulle aanvaar dat dit net so onskuldig is soos sensuur onder die nuwe naam van 'kulturele boikot'?" (Die Burger, 22 Mei 1990)

Saam met Lanz von Hörsten as fotograaf publiseer Jan in 1998 ’n "koffietafelboek", The Little Karoo = Die Klein Karoo = Die Kleine Karoo by Human & Rousseau. Die teks is in drie tale – Engels, Afrikaans en Duits.

In sy resensie oor Radiosondergrense sê George Weideman: "Die storie van die Klein Karoo adem in die hand van Van Tonder die gees van die Klein Karoo, wat so bekend is aan storievertellers. En wat uit hierdie boek blyk, is die seggingskrag van Afrikaans in die hand van ’n gesoute en bekroonde skrywer soos Jan van Tonder. Von Hörsten [kry] dit reg om die geheimsinnige sjarme van die Klein Karoo landskap op film vas te lê. [...] [D]ie twee samestellers van die boek slaag uitmuntend daarin om mekaar aan te vul. Teks komplementeer foto; foto suggereer wat teks nie gesê kan krý nie."

’n Volle vyftien jaar verloop voordat Jan se volgende prosawerk gepubliseer word, maar volgens almal was die wag die moeite werd. Nadat hy drie jaar aan die storie gewerk het, word Roepman in 2004 deur Human & Rousseau gepubliseer. Jan vertel aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004) dat hy eers klaar moes sluimer, maar dat hy nou gedoen het wat gedoen moes word. Die boek wat hy ’n leeftyd in sy gemoed gedra het, het hy skuins voor sy vyftigste verjaardag úitgeskryf.

Op LitNet skryf Jan dat hy met Roepman sy ganse grootwordtyd moes evokeer. "Ek het kort-kort my susters gebel om inligting te bekom, en my broer stilletjies verwyt oor sy voortydige dood, want hy sou beter as ons almal onthou het."

Roepman vertel met humor en patos die verhaal van die dertienjarige Timus Rademan wat saam met sy ouers, broer en susters – daar is drie tweelinge in die familie – in die 1960's in ’n spoorwegkamp in Durban grootword. Elfra Erasmus som die verhaal as volg op (Beeld, 20 Oktober 2004): "Dit is ’n verhaal van grootword en die verlies van onskuld, maar ook van geborgenheid en grootword in ’n gemeenskap waar mense na mekaar omsien."

Jan erken teenoor Erasmus dat Roepman seker die naaste is wat hy aan ’n outobiografie sal kom. "Ek het ’n klomp dinge vertel soos dit was, ek het ’n klomp bygelieg en ’n klomp weggesteek."

Op LitNet skryf hy: "Dit maak nie saak hoeveel ooreenkomste daar tussen die werklike Van Tonders en die fiktiewe Rademans is nie, Roepman is stórie. Dis die storie van elke seun wat sy onskuld verloor in hierdie wêreld waarin onskuld deur dese en gene besing, maar ironies genoeg nie lank geduld word nie."

Teenoor Mariëtte Crafford sê Jan dat hy Roepman beskou as ’n klag teen die kerk wat sy plig teenoor mense skandelik versaak het: "sy plig teenoor eie gemeente, maar ook teenoor dié wat daarbuite val. Die kerk het nie sy opvoedingstaak gestand gedoen nie, het meegedoen met die staat om mense in onkunde te hou sodat hul werk nie kon lig werp oor die verskriklike dinge wat in die donkerte van regeringsgeboue en sinodale vergaderings aangevoer is nie. En voorts is die boek ’n klag teen die onderwys wat die ander sterk arm van die regering was. Onderwys wat die heilige taak had om op te hef, maar wat toegelaat het dat dit misbruik word om te indoktrineer, om vrye denke aan bande te lê. Dominees en onderwysers ... seker ook slagoffers van ’n stelsel, tóé. Maar hoekom dan nie begrip hê vir mense (kinders) wat aan húlle uitgelewer was nie?"

Hy vertel ook aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004) dat Roepman ’n wekroep is, "’n gepluk en gestoei om mense wakker te skud – met die toegevoegde waarde van wonderwerke. Gelukkig is daar altyd mense in ’n gemeenskap wat bereid is om alles op te offer vir ander, soos wyle Beyers Naudé; altyd een soos die proponentjie in Roepman; altyd iemand wat kans sien om selfs die onwilligste mense wakker te maak om te gaan kyk wat gedoen moet word, soos Joon Sterrekyker, die roepman; altyd iemand met die lewenslus van ’n ouma Makkie wat met ironie en humor na die menslike toestand kyk; altyd ’n wonderwerk, as ’n mens dit net wil raaksien, wat jou daaraan herinner dat jy nooit alleen is nie."

Cecile Cilliers (Rapport, 6 Februarie 2005) beskou Roepman as die hoogtepunt in Jan se oeuvre. Sy skryf dat Van Tonder se aanslag lig is, en dat humor Roepman se geloofwaardigheid onderskraag. "Hy lei die leser met ’n vaste hand deur ’n doolhof van realiteit en hersenskimme totdat Timus se verbeeldingsvlugte naatloos deel van die werklikheid word."

Philip John (Die Burger, 3 Januarie 2005) skryf: "Ons het hier ’n teks van ’n skrywer met ’n virtuose en oënskynlik moeitelose beheer oor die gedagtes en spraak van sy karakters, asook oor die psigiese en sosiale aspekte van die situasie wat vir die roman as stof dien. [...] Roepman bied ’n meesterlike beeld van die werkersklas-wêreld van Timus en sy mense, en daarmee saam ’n genotvolle én ontstellende leeservaring."

Volgens Willie Burger (Beeld, 29 November 2004) bied hierdie roman ’n vars blik op grootword en verlies. "Dit word veel wyer as ’n verlies van onskuld ten opsigte van die seksuele, die politiek of godsdiens. Die perspektief van die kind word met deerniswekkende sukses volgehou, terwyl dit daarin slaag om te vermaak en te skok. Dit boei, vermaak, skok, herinner en lei tot nadenke."

Louise Viljoen (LitNet) beskou Roepman as een van die aangename verrassings van 2004.

In 2006 word Roepman deur Elsa Silke in Engels vertaal onder die titel Stargazer en deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

Roepman word departementeel vanaf graad 10 voorgeskryf, maar is deur die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch voorgeskryf vir hulle graad 9-seuns. Dit lei egter tot ’n herrie toe ’n groep ouers protes aanteken omdat hulle gevoel het dat die boek seksueel eksplisiet genoeg is om hulle kinders se "onskuld" te bedreig. Die saak is later geskik.

Daar word ook beplan om Roepman in ’n kunsfilm te omskep. In 2008 was Jan reeds besig met die draaiboek van die roman. Piet de Jager, ’n senior advokaat in die Pretoria-balie, sou die vervaardiger van die prent wees. Hy vertel dat hulle ’n Afrikaanse kunsfliek wil maak met onderskrifte in verskeie tale. Volgens hom gaan die Vlaamse rolprentmaker Walter Stokman die regisseur van die film wees.

Hierdie plan om Roepman op die silwerdoek vas te lê, het toe nie in 2004 van die grond af gekom nie. Dit het eers sewe jaar later, in 2011, gebeur. Piet de Jager was een van die vervaardigers en hy het van die begin af vir Jan ten nouste betrek – nie net by die maak van die film nie, maar ook by die skryf van die draaiboek. Jan, Piet en Sallas de Jager en die Belgiese regisseur Walter Stokman het saam begin werk aan die draaiboek. Jan het daarna die eerste weergawe op Gordonsbaai waar hy deesdae woon, geskryf. Hulle het die draaiboek heen en weer tussen die Kaap en Gauteng gestuur en het later besluit om nie gebruik te maak van ’n oorsese regisseur nie. Paul Eilers was uiteindelik die man wat die regie sou behartig en Jan het oor hierdie besluit aan Terésa Coetzee (Rapport Boeke, 5 Junie 2011) gesê: "’n Ware vonds vir ons rolprentbedryf."

Roepman is in Durban gesitueer, maar die film is in ’n spoorwegbuurt in Springs verfilm. "Gepraat van ’n vonds," sê hy vir Coetzee, "daardie spoorwegbuurt in Springs het sit en wag vir ’n fliek. Die rooibaksteenhuisies, die hoek- en wasgoedpale wat van treinspoor gemaak is, die atmosfeer, die agtergrondgeluide. En het The Film Factory nie getoor daarmee om dit na ’n Durbanse buurt te laat lyk nie! Ek was ’n week daar op die stel en dit het vir my gevoel of ek weer ’n kind in so ’n omgewing was.

"Ek het Paul Eilers en Piet de Jager en ’n paar van The Film Factory se mense na Durban vergesel om hulle te gaan wys waar ek ’n knopkniekind was, waar van die werklike tonele afgespeel het, en hulle het met die verfilming teruggegaan en die tonele op plekke geskiet wat presies met die prentjies in my kop ooreengestem het. Min skrywers het die voorreg om so nou betrek te word by die verfilming van hul werk – ek sal Piet en sy span vir ewig dankbaar bly."   

’n Kontrak is ook gesluit waarvolgens Roepman in Amerika vertoon sou word met Engelse onderskrifte. Die kontrak is gesluit nadat spesiale toetsvertonings in Los Angeles en San Francisco gehou is.

Jan vertel op LitNet aan Chanette Paul-Hughes dat hy in die vyftien jaar tot die publikasie van Roepman nie stil gesit het nie. "’n Klompie kortverhale en sketse het in tydskrifte verskyn, asook The Little Karoo en twee radiodramas. Tussendeur werk ek aan my Oudtshoorn-roman, wat nog altyd onvoltooi is. Laasgenoemde het my die hele tyd in ’n halwe Nelson geklem, wat dit moeilik gemaak het om iets anders aan te pak. Roepman het my gered, maar die Oudtshoorn-ding moet nou klaar, of ek moet onder ’n skuilnaam van hom ontslae raak. En nee, ek het geen plan (of tyd) om weer so lank te wag voor my volgende skryfsel nie. Ek is nog nie seker of dit prosa, drama of poësie sal wees nie. (Ek droom al 25 jaar daarvan om ’n verhoogstuk te skryf.)"  

Jan waag ook sy hand aan ander genres. Hy begin radiodramas skryf en Die swakkeling behaal die derde plek vir ervare skrywers in RSG en Sanlam se Radiodrama-kompetisie.

Jan se droom van 25 jaar word verwesenlik toe sy drama Lewensreg: ’n tragi-komedie vir mede-sterwendes in 2007 opgevoer word by die KKNK en die wenner is van die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT). Die stuk is onder regie van Nico Luwes by 2007 se KKNK opgevoer, waar dit ook aangewys is as die beste produksie op die fees. Nico Luwes is ook aangewys as die beste regisseur. Lewensreg handel oor twee amper bejaarde broers wat die reg verkry om tot hul dood in ’n huisie in die hart van ’n begraafplaas te woon. Omring deur dooies leer die broers wat dit beteken om te leef. Die stuk is in 2008 deur Genugtig! (nou Joho!) gepubliseer.

Jan vertel aan Volksblad (9 April 2007) dat hy in ’n graf in Oudtshoorn se begraafplaas gaan lê het voordat hy Lewensreg aangepak het.

Marelize Potgieter berig in Die Hoorn van 26 Maart 2008 dat Jan besluit het om Oudtshoorn, waar hy sedert die laat 1990's woon, te verlaat. Hy beoog om in die omgewing van Kaapstad te gaan woon, sodat hy nader aan meer kunsuitstallings kan wees en ander kunstenaars se werk kan sien en beleef. Hy het hom toe in Gordonsbaai gevestig waar hy saam met Jenny, "die liefde van sy lewe", woon.

Anderkant omdraai wat in 2011 by Protea Boekhuis verskyn het, is ’n versameling van Jan van Tonder se rubrieke wat in Rapport Tydskrif verskyn het. Volgens die uitgewer se inligtingstuk wissel kort-kortverhale, essays, sketse en anekdotes mekaar af en bied dit ’n vermaaklike leeservaring. "Die leser van dié rubrieke kan verwag om te lag én om geroer te word. Van Tonder skryf oortuigend oor die nostalgie van vroeër, en jukstaponeer dit met aktuele sake van vandag. Hy slaag weereens daarin om lewenswaarhede op ’n ongeforseerde en verrassende vars manier oor te dra."

In Rapport Boeke (6 November 2011) word Anderkant omdraai beskryf as ’n heerlike leeservaring "wat wissel van die humoristiese tot die melancholiese, die stuitige tot die diepsinnige. Verwag om te lag én om geroer te word. Van Tonder skryf oor die ou Suid-Afrika en die nuwe een, oor die wonder van onskuld en oor ouer word."

Op die agterflap van die boek skryf Daniel Hugo: "Dat soveel temas en toonaarde binne die beperking van ’n koerantrubriek oortuigend en boeiend gestalte kon kry, is ’n ware kragtoer."

25 jaar ná die verskyning van Is Sagie in 1987 word die opvolg Is weer Sagie in 2013 gepubliseer.

Op LitNet wou Madri Victor by Jan weet hoekom hy ná soveel jaar besluit het om ’n opvolg te skryf, waarop Jan geantwoord het dat hy glad nie van plan was om ’n opvolg te skryf nie: "Sagie was ’n volledige storie, klaar, bedoel om te eindig soos hy het, maar 25 jaar lank het mense (veral vroue, en vir hulle sê ek altyd moeiliker “nee"), wanneer hulle verneem dat ek die skrywer van Is Sagie is, my verwytend gevra hoe ek dit aan Sagie kon doen: 'om hom só te los'. Ek was bang dat ek die karakter wat ek die liefste van almal het, skade sou aandoen met ’n opvolg, en het teen die versoeke bly stry. En, mettertyd, die versoeking. Maar sou ek na ’n kwarteeu weer in Sagie se kop kon kom? Ek het probeer, die boek in die spreekwoordelike laai gebêre, en ’n klompie jaar later uitgehaal en weer probeer. En uiteindelik besluit dis nou of nooit."

Oor waar Jan die karakter van Sagie gaan haal het, vertel hy aan Madri Victor dat terwyl hy in die Point-gevangenis in Durban gewerk het, hy sterk onder die indruk van die boosheid van die stelsel in die tronk gekom het en besluit het om ’n storie te skryf – oor ’n mens wat geen kwaad in hom het nie: "Sagie was die produk. Toe ek egter alle boosheid en slinksheid uit hom gehaal het, was hy na die verstand ietwat stadiger as ander mense. Dit sê natuurlik nie dat hy nie ’n goeie boer is nie; inteendeel, sy kennis van knoppiesblaar en water lei en beeskwale en plant en oes is vir hom tweede natuur. Hy verstaan net nie waarom mense mekaar soms seermaak nie."

Lesers het Sagie in die eerste roman, Is Sagie, leer ken ons hom en sy ontluikende verhouding met Ansie wat aan die einde van boek uitloop op ’n mislukking. In Is weer Sagie word daar op ander temas gefokus, skryf Madri Victor op LitNet: "volwassewording, die pa-seun-verhouding, konflik tussen werknemer en werkgewer, asook wat 'man-wees' beteken en die samelewing se persepsies daarvan."

Vir Victor lewer Van Tonder met hierdie roman weer eens bewys van sy sensitiwiteit vir die buitestander, die enkeling wat onskuldig staan, terwyl sy karakters skerp genuanseerd is wat die leser tot deernis stem.

"Tipies van so ’n plaasroman is die verbondenheid van die karakters aan die plaas, die grond en die landskap. Is weer Sagie wys ’n plaaswêreld wat aan die verdwyn is, waar daar klip met die hand ‘gedress’ word (iets wat Jan terloops ook kan doen), pyp uit kalbas gemaak word en daar met die hand gemelk word. Ook van die onskuld van Sagie is daar maar min te sien in die hedendaagse lewe – miskien juis daarom dat die karakter soveel impak op die leser het."

In hierdie tweede roman oor Sagie bly hy glo dat wanneer hy Ansie se huis klaar gebou het, sy sal terugkom. Vir Victor ontwikkel Ansie se huis vir haar as ’n karakter op sy eie wat sentraal in die verhaal staan. Jan se reaksie hierop is as volg: "Die huis het onder my hand as karakter ontwikkel, soos wat hy onder Sagie s’n ’n potensiële woning geword het. Sonder daardie huis wat hy vir Ansie bou, is daar geen storie, of hoop vir Sarys van Greunen nie. Maar saam met die huis, as simbool van permanensie en geborgenheid en hoop, staan ’n ander karakter nader, een wat die leser self in Is weer Sagie sal ontmoet."

In Vrouekeur (3 Januarie 2014) skryf Willie Burger: "Byna alle romans gaan oor die botsing tussen die spesifieke beeld wat een mens van die wêreld het met die manier waarop die res van die mense die wêreld verstaan. Wanneer ’n karakter dapper veg om sy of haar ruimer beeld van die wêreld teen ’n gemeenskap se stiksienigheid te verdedig en om die gemeenskap van die gevolge van hul stiksienigheid te red, ontstaan ’n heldeverhaal. Wanneer ’n individu egter, soos Sagie, ’n beperkte begrip van die lewe het, ontstaan iets tragies, ’n verlies van onskuld en droefheid. Te maklik kan só ’n vertelling soetsappig, ’n maklike opwekking van emosies word, maar Van Tonder is ’n uitgeslape verteller wat dit nie laat gebeur nie. Is weer Sagie is ’n roerende leeservaring."

Ook Dewald Koen is beïndruk met Is weer Sagie. In Beeld van 7 Oktober 2013 skryf hy dat Sagie in Is Sagie lesers bekoor het met sy "fynbesnaarde aard en ongekunstelde persoonlikheid, ondanks sy intellektuele eenvoud". In Is weer Sagie kan daar verder gelees word aan hierdie verhaal van die inwoners van die plaas Greundal. Gedurende die vier jaar wat verloop het tussen die twee verhale, het Sagie se toekomsdrome nie verander nie en hoewel hy steeds sy pa gehoorsaam, is daar beslis ontwikkeling wat sy karakter betref en raak hy al meer onafhanklik en selfstandig.

Koen gaan voort: "Die roman bied terselfdertyd ’n poëtiese beskrywing van die plaaslewe. Van Tonder se fyn waarnemingsvermoë en karakterbeskrywings sluit sterk aan by die skryfstyl van Karel Schoeman. Die tradisie van die plaasroman word met Is weer Sagie voortgesit, ondanks die veranderde sosio-politieke klimaat waarin Suid-Afrika hom sedert 1994 bevind. ’n Aspek van die roman wat deurgaans deurskemer, is die emotiewe en deernisvolle rasharmonie wat tussen die boere en hul werkers heers. Hierdie gegewe word met tye effens soetsappig uitgebeeld, maar doen geensins afbreuk aan die roman nie."

"Is weer Sagie is die soort roman wat ’n leser meer as een keer sal wil lees. Sagie toon deurentyd deernis teenoor sy medemens, al word hy by talle geleenthede verneder en onwaardig geag. Van Tonder se Sagie is geen slagoffer van sy omstandighede nie, maar word uitgebeeld as ’n alledaagse persoon wat die lewe opreg waardeer."

"Hierdie boeiende roman se verrassende slot sal menige leser laat uitsien na die vervolgroman, waarin Sagie se droom (hopelik) bewaarheid word."

Tydens die Aardklop-kunstefees van 2011 is Jan se eerste klug, Die onbeholpe djin, op die planke gebring en waar Jan ook oor die stuk gepraat het. Hy het Djin lank terug geskryf (nog op ’n dot matrix-drukker gedruk) en het dit toe in ’n laai gesit en daarvan vergeet. Hy het dit in ’n boks gevind wat hy nog nooit uitgepak het nie en het dit toe verwerk.

Jan vertel aan Anim van Wyk (Beeld, 8 Oktober 2011) dat hy daarvan hou om iets van alles te doen: "Dit pas by my geaardheid. Ek raak verveeld met ’n ding. Ek probeer elke keer ’n nuwe ding wat ek nog nie het nie. Die feit dat ek soveel genres beoefen, is vir my baie bevredigend."

In 2019 word Jan se volgende roman, Die verevrou, deur Human & Rousseau uitgegee. Die oorsprong van hierdie roman kan teruggeneem word na 1997 toe Jan en die fotograaf Lanz von Hörsten op Oudtshoorn was vir die navorsing van hulle boek The Little Karoo. Jan het geweet dat die inligting wat hulle oor die verebedryf op Oudtshoorn gehad het, nie genoeg was nie. Hy het ook al gehoor van die bekende "meesterpluimbereider", Luisa Pappalardo, wat vanaf Parys na Oudtshoorn gekom het en beskou is as dié kenner van volstruisvere in Suid-Afrika.

Jan vertel verder aan Johan van Zyl (Rapport, 31 Maart 2019): "Op 4 Junie 1997 het ek voor dooiemansdeur te staan gekom by Luisa se huis in Kerkstraat, maar wel twee vroue in die erf langsaan gewaar. Dit was die befaamde verevrou en haar buurvrou wat opsluit vir my gesê het: 'Sy wil nie met jou praat nie; sy sê sy is klaar met vere.'

Presies hoe kláár het ek glad nie besef nie. Twee dae ná my besoek het Luisa Pappalardo haarself op ’n klein lappie gras buite die polisiekantoor op Oudtshoorn doodgeskiet. Dit was ’n geweldige skok en van toe af het hierdie vrou eenvoudig by my gespook."

Aanvanklik het hy probeer om die basiese inligting tot ’n verhoogdrama te verwerk, met ’n filmdraaiboek daarna, maar dit wou net nie werk nie: "En tog, keer op keer tussen my ander projekte en boeke deur, het ek bewus gebly van haar teenwoordigheid en ’n geweldige fassinasie met haar ontwikkel: Wat laat ’n meesterpluimbereider al die pad uit Parys na Oudtshoorn toe verhuis? Luisa se ma het later ook Karoo toe gekom, en ’n jaar ná haar ma se dood (in 1996) het Luisa besluit om haar lewe te beëindig."

"Dit was asof sy van toe af voortdurend oor my skouer geloer het. Ek het later die idee gekry sy hou nie van wat ek doen nie. Dit was asof sy wou hê ek moet die storie nie vertel nie."

Luisa se lewe het met baie lande en gebeure gekruis, soos dit duidelik blyk uit die navorsing waarmee hy in verskeie stadiums obsessief besig was – Algerië en die Algerynse Vryheidsoorlog van 1954 tot 1962, Parys, Korsika en die fyner kunsies van die volstruisveerbedryf.

Luisa se suster wat in Parys woon, was glad nie geneë om Jan enigsins te help nie. Mense op Oudtshoorn wat haar geken het, het met hom gepraat en hy het die grusame foto's van haar dood bestudeer, asook die hofverslae en die nadoodse verslag.

Hy vertel verder aan Van Zyl: "Sy het mense eintlik voorberei op haar dood en in haar selfmoordbrief laat blyk sy sy kon haar ma se dood nie verwerk nie. Sy het daarna ook die polisie om verskoning gevra dat sy haar lewe buite die polisiekantoor beëindig het, en selfs ’n lys van mense gemaak wat ná haar dood gebel moes word."

"Ek het later uitgevind Luisa het ook in São Paulo, Brasilië, waar sy tien jaar gebly het (’n tydperk wat Jan glad nie vir sy roman gebruik het nie), haar lewe probeer beëindig. Ná haar dood het ek boonop ’n magdom stories oor haar gehoor, natuurlik tweedehands. Dit was asof hierdie vrou in verskillende wêrelde geleef het. Vir party mense het sy glo gesê sy is ’n maagd; vir ander het sy vertel sy het ’n seksuele verhouding met haar neef gehad; nog ’n klomp het vertel hoe sy op haar bors geslaan en gesê het 'I'm a Christian!'; ander sê sy was ’n uitgesproke ateïs. Al wat ek weet, is dat sy my ná haar dood eenvoudig nie wou uitlos nie."

Dit is dan die lewe van Luisa Pappalardo wat die inspirasie agter Jan se skepping van Liora Papalato was, maar sy is net ’n "lugspieëling" van die vrou wat eens gelewe het.

Jan het ook nog nooit vantevore in sy lewe so "hard en ernstig en ingrypend" aan enige van sy ander boeke geskryf nie: "Hierdie roman het my vir die eerste keer regtig diep laat twyfel oor of ek nog kán skryf. Die verevrou is aanvanklik vir publikasie aanvaar, maar is toe afgekeur. Ek het dit dramaties gesny en herskryf, maar dis weer afgekeur. Toe herskryf ek weer en dit word wéér afgekeur. En toe wend ek my in ’n staat van totale moedeloosheid tot my ou uitgewer, Marietjie Coetzee, wat my en my talente en my beperkings goed ken ... en toe probeer ek weer."

"Terselfdertyd moet ek hier erkenning gee aan my geliefde, Jenny Pieterse. Op ’n dag toe ek weer heen en weer in die huis rondstap en nie herwaarts of derwaarts weet nie, het sy vir my gesê: 'You're pacing again.' En toe sê sy ek moet ophou probeer om ’n biografiese roman te skryf. Ek moet ’n stórie skryf. Die stórie. En dit is wat dit is, al is daar sekere raakpunte met sekere biografiese werklikhede: mý storie."

Die storie van Liora begin toe sy ses jaar oud aan die kant van die Sahara-woestyn en die roman neem dit deur haar werk as verpleegster in Algiers, haar lewe as pluimbereider in Parys tot die einde van haar lewe in die Klein-Karoo.

Vir Laetitia Pople (Volksblad, 3 April 2019) is die karakters in Die verevrou baie besonders – Liora, haar ma, Maman, haar geliefde oom en mentor, Moshe en Candice, die stelteloper van De Rust.

Pople skryf verder: "Die raakpunte tussen Suid-Afrika (in 2019) aan die vooraand van ’n verkiesing en die wêreld van Die verevrou, die roman, is duidelik met Algerië voor die bloedige oorlog, Suid-Afrika in die hoogty van apartheid en net voor die eerste demokratiese verkiesing. Die beskrywing van die vlug uit Algiers is skokkend tydloos – dit herinner aan die nood van tallose vlugtelinge tans (2019) in die wêreld."

Vir Jan is dit verblydend dat Pople dié verband raakgelees het: "Ek het dit doelbewus onderspeel sodat die onuitgespreekte ’n onheilspellende fluistering kan wees: Daar is nie wenners in dié soort revolusie nie, want ’n groot deel van die bevolking verloor alles, ook hul lewe, en in gans te veel gevalle word die bevryders daarna ook die grootste uitbuiters."

Deur die karakter van die erg beseerde soldaat, Chrestien, word die verskrikking van die oorlog vir die leser realisties uitgebeeld.

Jan het die karakter van Chrestien geskep juis om die verskrikking van die oorlog "op ’n individuele en persoonlike vlak uit te beeld. Chrestien Blanc kom vermink by die hospitaal aan en beland weens die oorvloed gewondes in die sorg van Liora, die jong vrou wat haar mediese studie gestaak het omdat sy geglo het sy kan as verpleegster gouer van diens wees. Daar vorm ’n besondere band tussen haar en die soldaat, iets wat ek nie voorsien het nie – die soort geskenk waarvoor ek altyd dankbaar is."

Die karakters wat hy in Die verevrou geskep het, het hom verras, vertel hy verder aan Pople. Hy beplan nie te veel aan hulle nie. Vir Pople stereotipeer hy nie sy vrouekarakters en hulle lewe vry en avontuurlik ondanks die periode waarin hulle leef: "Ek beplan my karakters nie in fyn besonderhede nie," vertel Jan. "Hulle groei namate hulle hul plek in die roman inneem en mettertyd vol staan. Hulle verras my telkens met hul eiesinnigheid wat lei tot wat ek hoop afgeronde persoonlikhede is, hetsy swak of sterk, buitestanders of opdringeriges."

In Rapport van 3 Maart 2019 is Louise Viljoen die resensent van Die verevrou. Volgens haar het baie skrywers al die pen opgeneem om te skryf oor die Klein-Karoo en die verebedryf aldaar, maar dat Jan van Tonder dit reggekry het om hierdie storie vanuit ’n unieke invalshoek te teken. "Dit het veral te doen met die uiteenlopende wêrelde wat hy op dramatiese wyse in dié verhaal byeenbring."

"Die roman vertel in wese twee verhale wat mekaar op ’n bepaalde punt in die tyd kruis. Hulle word gelyklopend, maar afwisselend weergegee sodat die kontraste en raakpunte sorg vir ’n byna kontrapuntale geheel.

"Die eerste verhaal begin in 1948 op die volstruisplaas Finisterre aan die rand van die Sahara in Algerië. Die hooffiguur in hierdie vertelling is Liora Papalato, ’n jong kind wanneer die verhaal begin en wat in die middel staan van ’n ongemaklike driehoeksverhouding tussen haar Franse ma, Charlotte, haar Korsikaanse pa, Emilio, en die Joodse man Moshe Habib, ’n sakekontak uit die Klein-Karoo."

"Hul lewe word verder bemoeilik deur die gespanne atmosfeer in die koloniale Algerië en die Algerynse Onafhanklikheidsoorlog wat van 1954 tot 1962 geduur het. Liora vlug in 1962 tydens die hoogtepunt van die geweld, wat veral vanuit ’n Europese oogpunt beskryf word, uit Algiers na Parys."

"Die tweede verhaal begin in 1976 in De Rust in die Klein-Karoo waar die bruin dogtertjie Candice Amat deur haar pa, wat op volstruisplase in die omgewing werk, bewus raak van die verleiding van vere, en mettertyd op Walter, die seun van een van die plaaseienaars, verlief raak. Sy verlaat uiteindelik die Klein-Karoo om oorsee te gaan en werk vir ’n aantal jare in die buiteland as model, maar keer dan terug na De Rust waar sy op haar eie woon en vereprodukte vervaardig wat sy aan toeriste verkoop."

Liora en Candice se lewens kom in 1992 bymekaar uit. Liora is na die Klein-Karoo om vir Moshe wat aan demensie begin ly, te gaan kuier. Sy sien vir Candice wat op stelte loop en herken in haar ook iemand wat die taal van die volstruisveer verstaan.

Louise Viljoen gaan voort: "Van altwee die karakters teken die roman die oorgang na volwassenheid (’n belangrike tema in Van Tonder se werk) om verskillende kontekste en uiteenlopende families. Liora word groot in die koloniale Algerië met ’n kleinsielige pa wat lyk of hy minder vir haar omgee as oom Moshe. Candice word groot onder apartheid met ’n arbeiderpa wat ’n swakheid vir die bottel het, maar ook ’n groot teerheid vir sy enigste dogter. Die roman toon hoe hul grootwordjare die verloop van hul volwasse lewens bepaal." [...]

"Van Tonder slaag daarin om ’n hele aantal belangrike kwessies te vervleg met die die dramatiese verhaalgebeure. Dit is ’n roman oor sterk, onafhanklike vroue wat terselfdertyd hul kwesbaarheid beklemtoon, veral in toestande van oorlog en armoede. Dit vertel ook die liefdesverhoudings wat selde die geleentheid kry om probleemloos te ontwikkel. Ook van liefdes wat duur ten spyte daarvan dat hulle onvervuld bly."  [...]

"Van Tonder gee tekstuur aan sy roman deur die beskrywings van geweld en stryd af te wissel met liriese momente waarin mense se deernis met mekaar die geleentheid kry om na vore te kom. Hy werk ook treffend met verswyging en suggestie wanneer hy spanning bou deur sekere elemente aanvanklik vaag te hou en hulle gaandeweg aan die leser te onthul." [...]

"Die verevrou is ’n roman waarin daar met verskillende drade geborduur word op ’n kleurvolle doek."

"Die roman mis die eenduidige fokus wat van Van Tonder se roman Roepman so suksesvol gemaak het; dit bekoor eerder deur die rykheid aan karakters, gebeure, veelseggende detail en geheimsinnige slot. As sodanig is dit ’n aanduiding van Van Tonder se groeiende veelsydigheid as romanskrywer."

Francois Bekker (Beeld, 18 Maart 2019) skryf as volg oor Die verevrou: "Stilisties beleef ’n mens die verloop van die verhaal en die afloop daarvan op twee uiteenlopende vlakke. Dit is ’n besige storie wat met ’n snelle pas ontvou, Van Tonder se beheer oor so ’n wydlopige verhaal bevestig hom as ’n virtuose prosaïs.

"Die dénouement ruk die karakters en die leser egter tot stilstand. Dit is gewyde laaste oomblikke wat miskien meer vrae as antwoorde bied. Want al vind jy ’n holte vir jou voet wat landstreek, geloof of liefde betref, is dit oplaas die self teenoor wie jy in die finale instansie verantwoordbaar is."

"Die verevrou, ’n hoogtepunt in Jan van Tonder se oeuvre, is ’n ambisieuse werk wat bewys watter wonderlike beelde en emosies woorde by lesers kan wek."

En op LitNet sluit Elbie Adendorff haar bespreking van Die verevrou as volg af: "Die verevrou is ’n epiese verhaal van bevryding wat waarskynlik in die slottonele ’n hoogtepunt bereik met die religieuse element van die Goeie Vrydag-optog waarin daar genesing vir etlike karakters kom: moontlike versoening tussen Candice en Walter en vir Liora: 'Sedert haar deelname aan die Goeie Vrydag-optog het sy vreugde in dit wat nooit aan haar kan behoort nie' totdat sy bevrydend in die swempoel 'oopvlerk op pad' sweef bo almal uit soos Moshe aan haar as kind gesê het: 'Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel.'"

"Jan van Tonder se oeuvre bereik ’n hoogtepunt met Die verevrou. Dit is ’n moet-lees vir diegene wat van verweefde karakters en storielyne en motiewe hou."

Jan vertel aan Laetitia Pople dat hy nie sy boeke in hoofstukke skryf nie, maar in tonele: "[E]n uiteindelik voeg ek dit soos ’n filmredigeerder aanmekaar. My skilderwerk moes ek voorlopig op die lange baan skuif vanweë Luisa Pappalardo se konstante teenwoordigheid. Sedert die verskyning van my boek laat die verevrou wat dit op so ’n tragiese wyse geïnspireer het, my met rus. Hopelik kom daar ’n vervaardiger of regisseur wat soos jy (en ek) oor die verfilmbaarheid van Die verevrou voel, iemand wat toegang tot genoeg geld het om reg aan die storie te laat geskied. Intussen skryf ek." (Volksblad, 3 April 2019)

Jan is ’n buitestander en daarom is baie van sy hoofkarakters ook buitestanders. Hy verduidelik aan Johan van Zyl dat hy ’n baie private persoon is – "nie vreeslik outgoing nie, sukkel om met vreemdelinge ’n gesprek aan te knoop en haat onderhoude en openbare verskynings, maar verstaan ek is dit aan myself, my uitgewer en die boek verskuldig."

"Dalk skryf ek oor outsiders omdat hulle op interessante maniere ánders is en gewoonlik aan die kortste ent trek. Ek is van kleins af ’n agie en meesterlike luistervink wat mense en gesprekke en gebeure opsuig soos ’n spons en dan stadig tot fiksie verteer."

"As jy grootgeword het soos ek ... as jy sonder ’n sekere soort selfvertroue deur die lewe gaan ... ontdek jy naderhand dat jy met woorde amper soos God mense kan 'skep', dat woorde jou ’n sekere mag of selfvertroue kan gee om iets te wees wat jy nie regtig is nie." (Rapport, 31 Maart 2019)

Publikasies:

Publikasie

Wit vis

Publikasiedatum

1983

ISBN

0628023707 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Aandenking vir ’n vry man

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798614099 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Is Sagie

Publikasiedatum

  • 1989
  • 1990
  • 2005

ISBN

  • 0798623055 (hb)
  • 079863085X (sb)
  • 1770020403 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die kind

Publikasiedatum

  • 1989
  • 1990

ISBN

0798630396 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 1990
  • FAK-prys vir Ontspanningsleesstof 1991

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The Little Karoo = Die Klein Karoo = Die Kleine Karoo

Publikasiedatum

  • 1998

ISBN

0798138165 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kontrei

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Roepman

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798144580 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels; vertaal deur Elsa Silke 2006

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lewensreg: ’n tragi-komedie vir mede-sterwendes

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780980275438 (sb)

Uitgewer

Parklands: Genugtig!

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater 2007

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Anderkant omdraai

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194680

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortprosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Is weer Sagie

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798163026 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verevrou

Publikasiedatum

2019

ISBN

97807981 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Jan van Tonder beskikbaar op die internet

Artikels deur Jan van Tonder beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Jan van Tonder (1954–) appeared first on LitNet.

Moenie Afrikaans inperk nie

$
0
0

Fotobron: Canva

Afrikaans vier vanjaar tydens die inperking 95 jaar as ’n amptelike taal. Daar kan tereg gevra word wat die rol van taal tydens die inperking is.

Volgens Karien Brits, bestuurder: taal van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), speel taal ’n kardinale rol: “Taal gee vir ons toegang tot inligting en in die geval van ’n pandemie gee dit vir ons toegang tot lewensbelangrike inligting. Dit wat op 8 Mei 1925 met Afrikaans gebeur het, was dus nie maar net ’n simboliese gebaar nie. Dit het deure vir die sprekers van Afrikaans begin oopmaak en dit het ook tot die stigting van ’n Afrikaanse organisasie soos die ATKV vyf jaar later in 1930 gelei.”

Die tema vir Internasionale Moedertaaldag wat in Februarie gevier is, word elke jaar deur UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) vasgestel. Vanjaar se tema klink ietwat ironies tydens die inperking: Tale sonder grense. Ons kan egter steeds ons taal gebruik om grense oor te steek, al moet ons nou tuisbly.

In onseker tye met baie maatskaplike uitdagings moet ons nie die positiewe rol wat taal kan speel onderskat nie. Ons het as Afrikaanssprekendes die verantwoordelikheid om ons taal op te pas en te gebruik. Dit hoef nie reuseprojekte te wees nie. Dit is dalk juis die klein dingetjies wees wat ons elkeen taalgewys doen wat hierdie grense kan oopbreek.

Enkele praktiese voorstelle:

  • Koop jou Afrikaanse boeke en tydskrifte, moenie e-publikasies op WhatsApp-groepe rondstuur nie. Dit is gewoon diefstal en dit kan die Afrikaanse uitgewersbedryf en skrywers groot skade berokken.
  • Ondersteun die Afrikaanse kunstenaars wat aanlyn konserte hou.
  • Laat jou kind steeds in Afrikaans skoolgaan.
  • Gebruik óók Afrikaans in sosiale media. Jou vriende het nie oornag almal Engels geword nie.

Ons beweging is ingeperk, maar die beteken nie al ons regte is van ons af weggeneem nie. Dit sluit ons taalregte in. Eis jou taalregte vriendelik, dog ferm op. Kom ons breek die grense af en moedig ander Suid-Afrikaners aan om hulle taalregte uit te oefen. Dit kan lewens red as ons al die amptelike Suid-Afrikaanse tale gebruik om inligting oor COVID-19 oor te dra.

The post Moenie Afrikaans inperk nie appeared first on LitNet.


Trienke Laurie (1946–)

$
0
0

Gebore en getoë

Catherine Elizabeth (Trienke) Laurie is op 10 Mei 1946 gebore – die oudste van drie dogters (Diederi en Heila is die jonger twee) van die bekende digter en letterkundige DJ Opperman en Marié Opperman, ook ’n skrywer en vertaler van kinderverhale. Trienke vertel dat haar naam Catherine vir haar ma te Engels was en dat sy haar toe Trienke genoem het.

Kort voor Trienke se geboorte het haar pa in die gedig "Negester en stedelig" verwys na sy ongebore kind as "’n see-anemoon" en "’n otter (wat) in nat holtes" skuil. Die baba moes ’n seun wees, want die familienaam "Diederik" word geslagte lank al oorgedra, maar toe kom Trienke, vertel Trienke aan Elise Tempelhoff.

Trienke bring haar kinderjare in Kaapstad en op Stellenbosch deur. Haar skooljare begin sy by Jan van Riebeeck in Kaapstad. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch.

Sy skryf haar eerste gedigte as vyfjarige dogtertjie. Haar eerste gedig waaroor haar pa opgewonde geraak het, was "Wurm, wurm, spin vir my", wat sy geskryf het toe sy ongeveer sewe jaar oud was.

Trienke vertel aan Elise Tempelhoff (Beeld, 2 Augustus 1997) dat haar pa nooit eintlik vir haar en Heila aangemoedig het om te dig nie, "maar met een keer, onthou ek baie goed, toe hy aan Kleuterverseboek gewerk het, het hy ons gevra om rympies uit te dink en ons het, sommer ’n hele klomp. Tien van my gedigte is in dié bundel opgeneem."                                                           

Op hoërskool en tydens haar universiteitsjare het sy meer liries geraak en haar pa het haar aangeraai om haar skryfsels te bêre totdat sy in haar derde jaar is.

Tye uit haar kinderjare wat vir haar baie kosbaar is, is die vakansies by die gesin se strandhuis op Franskraal en die skrywers soos Karel Schoeman en Etienne Leroux wat gereeld daar kom kuier het en by haar pa kom kers opsteek het.

Trienke vertel in Leefstyl (Desember 1997-Januarie 1998) as volg oor van haar herinneringe uit haar grootwordjare: "Waar die kind van ’n motortegnikus van kleins af lees van vergassers, so het ons besef die alledaagse lewe is vol poësie. My pa het byvoorbeeld aan tafel gesê: 'Jou otter, gee my die botter.' Later sou hy bloot ’n reeks name ondermekaar plaas as optelgedig, naamlik die 'Visvangplekke op die plaat' soos Maerbankies, Hemelhoog en Die Hel, om hierdie stelling te bewys.

Verdere studie en werk

Trienke is na matriek na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy kwalifiseer as hoërskoolonderwyseres in Afrikaans, geskiedenis en kuns. Sy is lid van haar pa se bekende Letterkundige Laboratorium, ’n kursus in kreatiewe skryfwerk en letterkundige kritiek vir ’n klein groepie voorgraadse studente.

Nadat sy haar studies voltooi het, gee sy vir ’n jaar lank onderwys op Vredendal naby die Kaapse Weskus. In 1968 tree sy in die huwelik met Dirk Laurie, ’n bekende in die vasvraprogram Flinkdink en professor in wiskunde. Hulle het vyf seuns (Henri, Diederik, Dirk-Pieter en die tweeling, Reenen en Kestell) wat ook dig, maar in Engels.

Na haar huwelik met Dirk verlaat sy die onderwys om haar kinders groot te maak en vestig hulle in Pretoria. Ná 15 jaar verhuis hulle na Vanderbijlpark, en na 17 jaar daar verhuis hulle na Somerset-Wes. Terwyl sy die kinders grootgemaak het, skilder sy, gee kunsklasse en skryf kinderverse. "Ek is ’n outydse soort ma wat nie buite die huis gewerk het nie." (Rooi Rose, 24 November 1999)

Ná haar man se aftrede trek hulle na Gansbaai waar Dirk op 10 Augustus 2019 in die Mediclinic op Hermanus oorlede is nadat hy as gevolg van listeriose breinskade opgedoen het.

In 1990 skryf Trienke haar in as deeltydse student aan die Universiteit van Noord-Wes (destyds die Potchefstroomse Universiteit) en in 1992 behaal sy haar honneursgraad in Afrikaans cum laude. Sy is ook ’n skilder met etlike uitstallings agter haar naam en sy gebruik van haar skilderye vir die buiteblaaie van haar digbundels.

Trienke vertel aan Elise Tempelhoff dat haar pa hulle nooit werklik aangemoedig het om te dig nie, maar met die samestelling van Nuwe Kleuterverseboek het hy hulle gevra om rympies uit te dink, en tien van haar gediggies is opgeneem. Later, veral as student, skryf sy gedigte. "Ek het dit een keer gewaag om ’n gedig aan my pa voor te lê." Sy antwoord was dat Trienke die volgende jaar sy eksperimentele klas moet bywoon.

Dit is egter eers in die 1990's dat sy ernstige poësie begin skep. Haar eerste digbundel, Skietspoel, word in 1997 gepubliseer deur Tafelberg Uitgewers en word in 1999 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Die beoordelaars van die prys meen dat dit ’n "ongewoon stewige debuut is met ’n breë register van temas en versvorme al sou dit ook sterk Eurosentriese trekke vertoon in die intertekstuele relasies met Westerse kunstenaars en kulture. Dié aspek word aangevul deur ’n aardse ingesteldheid en ’n affiniteit vir die natuur wat neerslag vind in talle verse oor die kenmerkende verskynsels van Afrika en kulture op die vasteland. Die bundel is ook bewys van ’n emosionele betrokkenheid en ’n religieuse bewussyn wat in afgewerkte versvorme beïndruk." (Beeld, 22 Maart 1999)
 
In ’n onderhoud met Marí le Roux in Die Burger (11 Junie 1997) vertel Trienke dat hierdie eerste digbundel nooit sou verskyn het sonder die aanmoediging en belangstelling van haar ma nie. "My ma het ’n baie kritiese oor. Sy het van die begin af baie in my werk belanggestel. Sy het my amper meer aangemoedig om te skryf as my pa. Daarom dra ek Skietspoel aan haar op," vertel Trienke.

Haar ma het haar ook geleer dat sekere woordvolgordes lomp is: "[Ook dat] ’n mens dikwels gewone woorde met interessanter woorde kan vervang. Sy het my ook aangeraai om eers in prosa te skryf voordat jy jou werk in digvorm omsit. Anders raak jy so bekoor deur ’n versreël dat jy ander dinge wat daar moet wees, miskyk."

Dit sou egter vir haar baie lekker gewees het om haar pa se reaksie op haar werk te gehoor het. "Maar hy was nooit baie demonstratief nie. [...] Maar hy was eerlik, soms só eerlik dat dit eintlik ongemaklik was. Oor Skietspoel sou hy ’n eerlike mening gegee het," sê sy aan Roux.

Trienke erken dat sy nie graag in die skadu van ’n groot digter soos haar pa wil staan nie; dus weier sy om toe te gee dat haar eie digkuns ’n sterk invloed van haar pa openbaar. Al meen sommige kritici dat ’n mens van haar pa se woordskeppings, klanknabootsings en konkrete beelde in haar gedigte kan inlees, meen Trienke dat dit bloot toevallig is: "Ek skep my eie woorde, beelde en klanke. Dis soms moeilik om beroemde ouers te hê. Ek en my suster is altyd as aanhangseltjies van my pa beskou." (Beeld, 2 Augustus 1997)

Skietspoel het ook met die hulp van haar man, Dirk, ’n werklikheid geword. Sy vertel: "Ek weet nie veel van ’n rekenaar nie. Dit was Dirk se werk om die gedigte uit te druk. Hy moes luister en wéér luister. En sê as my ritme uit is." (Die Burger, 11 Junie 1997)

"In Skietspoel hou Trienke op haar manier koers en dig sy oor dié dinge wat vir haar belangrik is", skryf Marí le Roux: "soos haar verhouding met God en haar verhouding met haar medemens."

Skietspoel het ’n sterk godsdienstige inslag en ’n aantal van die gedigte handel ook oor Namibië en die grootsheid van die woestyn, skryf Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 10 Junie 1999). "Godsdiens en natuurbeelde word hier onlosmaaklik saamgesnoer. Dis visuele gedigte wat jou deelmaak van die landskap. Daarom is dit amper ’n skok wanneer Laurie vertel dat sy eers in 1999 vir die eerste maal Namibië besoek het."

Sy verduidelik aan Nieuwoudt: "My pa het gesê ’n mens moet uit jou eie ervaringswêreld skryf. Maar Namibië was nog altyd vir my ’n geesteswêreld. ’n Streek waaroor ek gelees het en waarvan ek beelde gevorm het uit gesprekke met mense wat dit besoek het."

AP Grové (Insig, Mei 1997) meen in sy resensie dat die digteres rekening hou met die werklikheid. "Sy verken, luister, neem waar en slaag daarin om met beeld, verwysing en klankspel ’n dieper sin en waarheid aan die ervaarde werklikheid te ontlok. Hierin lê die groot verdienste van die bundel én die moontlikhede vir voortgesette groei."

In Beeld (14 Julie 1997) skryf TT Cloete dat wat ’n mens nie kan mislees nie, is die fyn en skilderkunstige visuele sintuig, die raak beskrywings. "Die gedigte is tegelyk toweragtig en realisties. Skietspoel is ’n ryk bundel, dit bevat gedigte van ’n volwasse digterskap, volgroeid en met vele vertakkings soos Trienke Laurie se boomgedigte."

In Volksblad van 6 Oktober 1997 beskryf Bernard Odendaal Skietspoel as volg: "’n Debuut wat teenstrydige oordele by ’n mens ontlok; ’n digbundel wat nie deurgaans oortuig nie; ’n digterskap wat egter van talentvolheid getuig."

In 1999 word Trienke se tweede bundel, Ek sien ’n rooi bul storm: 'Die storie van ons sterfte' en van ons opstaan: visioene van Siener van Rensburg gepubliseer. Die rooi bul in die titel verwys na die Engelse troepe wat in die Anglo-Boereoorlog uit die Vrystaat na die Transvaal opgeruk het. Talle van Siener van Rensburg se voorspellings oor die oorlog word in die bundel ingewerk.

Bernard Odendaal skryf in Volksblad (15 November 1999): "Die 36 gedigte verwoord nie net Siener se profetiese gesigte nie, maar ook iets van sy eie lewe en ervaringe, sowel as van sy Christelik-gelowige insigte en vermaninge betreffende volk-, mens- en medemens-wees." En, skryf Odendaal, dat ten spyte van die vrae oor party van die letterkundige kenmerke van die bundel, is Ek sien ’n rooi bul storm heel leesbaar en is dit ’n werk wat aktuele sake aanspreek.

 AP Grové (Beeld, 27 September 1999) skryf dat daar wat inhoud betref, heelwat is wat lesers boeiend sal vind. Ook is daar verhale wat in die siniese tye waarin ons leef, vreemd klink, maar dit sal tog lesers laat dink. "Maar die uiteindelike vraag wat gestel moet word, gaan oor die kwaliteit van die vers. En hier, meen ek, het die aard van die stof ’n beslissende rol gespeel. Dit het noodwendig meegebring dat ’n groot deel van die gedigte mededelend, soms betogend, verklarend en uitgesponne geraak het, terwyl meer as een versreël ’n gebrek aan spanning vertoon."

"Daarby moet dit gestel word dat die digteres ’n moeilike taak op haar geneem het. Die visioene van Siener van Rensburg was meermale simbolies van aard, vol 'raaisel en spreuk' wat om ’n uitleg vra. By die hervertelling en hergebruik moes noodwendig iets van die geheimsinnigheid verlore gaan."

"Tog het Laurie in hoë mate sinvol met die stof gewerk. Soms is dit monologies aangebied met die Siener vertellend aan die woord. Elders het sy weer die gespreksvorm gebruik om so ’n dramatiese element in te voer."

"Deur die organisasie van haar materiaal het sy verder, meen ek, daarin geslaag om aansluitend by bestaande getuienisse ’n eie sinvolle lyn deur ons geskiedenis, veral dan van hierdie (20ste) eeu, te trek..."

In Die Burger van 27 Oktober 1999 is Joan Hambidge van mening dat ’n tweede bundel ’n baie moeilike hekkie vir ’n digter is om oor te kom. Sy het van Trienke Laurie se eerste bundel gehou, maar beskou Ek sien ’n rooi bul storm wat meer "historiografies in aanbod" is as ’n opdrag wat dalk té ambisieus is vir ’n jong digter.

Hambidge gaan voort: "Die voor die hand liggende rymdwang wat in vele verse aan die bod kom, raak op die duur moeisaam. Ook is die gedigte metries nie afgewerk nie. Die sillabiese patrone is eweneens uit pas, en veral wanneer ’n mens die gedigte hardop lees, kom die ondeugde duideliker na vore.

’n Vers hoef nie streng patrone na te volg nie, maar wanneer dit oortree, moet die digter kompenseer." [...] "Die probleem is dat Laurie soms rympatrone navolg en soms nie. Die gedigte maak dus ’n onbeholpe indruk." [...]

"Die oorwegende indruk wat hierdie bundel laat, is werk-in-wording. Ons sien dus eerder die kladboek van ’n bundel met moontlikhede. Enkele gedigte is af, maar die geheel laat die indruk van haas. [...] Dit is jammer, want die enkele mooi gedigte word versmoor deur die oorwegend swakker meerderheid."

Trienke se derde digbundel, Uitroep, verskyn in 2001, ook by Tafelberg Uitgewers. Sy vertel aan Elize Parker (Sarie, 17 Oktober 2001) dat sy in hierdie bundel haar pa se digterlike skeppingsproses verken. Daar is ook onder meer gedigte oor Namibië en oor die bekende kunstenaar, Helen Martins, van die Uilhuis op Nieu-Bethesda. Helen se lewensverhaal het nog altyd vir Trienke geïnteresseer omdat sy as outsider-kunstenaar haar eie wêreld wou skep. "Hierdie amperse besetenheid van sulke mense het vir my vele raakpunte met digters se skeppings." Daar is ook gedigte oor haar ma se dood wat meer direk is met minder beeldspraak. In hierdie bundel is daar ook ’n afdeling met guitige en ligte, speelse kinderverse.

Bernard Odendaal (Volksblad, 19 November 2001) meen dat Uitroep in sy geheel gesien ’n verdienstelike bundel is, maar nie ’n vernuwende of verdiepende bydrae tot die digter se oeuvre is nie. Met haar religieuse en natuurpoësie het sy klaas vir haar ’n waardige plek in die hedendaagse Afrikaanse verskuns oopgeskryf.

Lucas Malan (Rapport, 28 Oktober 2001) skryf dat hierdie ’n bundel is wat duidelik van ’n digtalent spreek. "Veral in die gedig 'Kruik van ivoor' onderneem sy iets besonders deur die vae spore van haar pa se onvoltooide, nagelate manuskrip van Sonklong oor Afrika te volg en in ’n 'verbeeldingspel' iets daarvan te probeer herwin. Dit val op dat sy hier nader aan die gedronge taal en funksionele woordgebruik van die Opperman-idioom beweeg en só besondere effekte bereik."

Malan het egter sekere voorbehoude gehad en het gevoel dat die outeur en die uitgewer die snoeiskêr "dieper moes ingelê het om sterker groei te bevorder".

TT Cloete skryf in Beeld (2 Februarie 2002) oor hoe Trienke, op ’n betowerende manier, terugwerkend op haar pa se gedigte inwerk. Stilisties is Uitroep ’n werk wat heeltemal op eie bene staan, maar dit gaan om iets veel anders en diepers. "’n Oorkoepelende motief in die bundel is die ontbinding van die bestaande en die weeropstanding daarvan, ’n stuwende siklus, ’n sirkel van lewe en doodgaan en weer begin. Deel van hierdie sirkel is Laurie se gedigte wat ’n soort 'voltooiing' is van Opperman se werk wat hy ongepubliseerd gelaat het, maar ook van gedigte wat hy gepubliseer het. [...] So is Laurie ’n oor vir gedigte wat Opperman ongehoord gedink het, sy is die oë (daar is baie oog in die gedigte) waarmee die digter-kind en die digter-pa saam kyk, en Laurie is vir Opperman ’n voltooiende hand in wat hy onvoltooid geskryf het of wou skryf, maar sy is dit in haar eie ryk idioom wat ’n uitroep verdien." Hy sluit sy stuk af deur te sê dat Laurie se bundeltitel reg is: dis uitroeppoësie, ook in die gedigte wat nie met haar pa te maak het nie."

Vir Louis Esterhuizen (Die Burger, 9 Oktober 2001) is Uitroep  nie net ’n bevestiging van Laurie se plek as digter in Afrikaans nie, maar lewer sy ook met ’n hele paar skitterverse ’n beduidende bydrae tot die uitbouing van die Afrikaanse poësie.

Ses jaar later, in 2007, word Trienke se volgende digbundel, Sonskyf, by Protea Boekhuis gepubliseer. Die bundel is opgedeel in ses afdelings en die deurlopende tema, soos afgelei kan word uit die titel, is die son.

"In die eerste afdeling kom die Suid-Afrikaanse see-, plante-, voël- en dierelewe aan die bod," volgens die inligtingstuk van die uitgewers. "Die digter tref dikwels amusante vergelykings tussen natuur- en sosiale verskynsels, soos die vergelyking van ’n jellievis met ’n straatvrou in die reeks 'Kwal'. In die derde, omvangryke afdeling 'Songod', word die aanbidding van die son in antieke Egipte en argeologiese opgrawings tematies ontgin. ’n Boeiende tema in die vierde afdeling, 'Soveel onder die son', is die herdigting van verhale en legendes uit die noordweste van Suid-Afrika. Die digter se belangstelling in die skepping van kunswerke lei tot boeiende gedigte oor kunstenaars soos Leonardo da Vinci, Albrecht Dürer en Suid-Afrikaanse skilders soos Cecily Sash. Dit is egter bowenal die groter skepping wat herhaaldelik deur die digter ondersoek word, van die nietigste plantjie tot die grootse hemelruim. Die bundel begin nie verniet met die afdeling 'Sonbesie' en eindig met die gedig 'Liewenheersbesie' nie – tussenin word die lewe op aarde in sy wye verskeidenheid ter sprake gebring."

Joan Hambidge (Volksblad, 15 Oktober 2007) beskou dit nie as een van Trienke se beste bundels nie, terwyl Hein Viljoen (Beeld, 15 Desember 2008) skryf dat hoewel die bundel inderdaad "oordadig vol son is, dit die stiller gedigte is, dié met fyner lyne en nuanses, wat op die ou end harder praat as die groot gil".

Nie net Trienke se digkuns nie, maar ook haar eie kunswerke wat teen haar mure in haar huis hang, is deurspek met die natuur. Die Bosveld en die see – twee uiteenlopende plekke – is haar geliefkoosde plekke, vertel sy aan Elise Tempelhoff. Ook reis is een van haar tydverdrywe en as sy nie kan reis nie, lees sy alles wat sy in die hande kan kry: "Ek neem nie boeke by die biblioteek uit nie, omdat ek te stadig lees en voordat ek weet, is die twee weke om. Ek koop liewer die boeke, want dan kan ek hulle bekrap."

Ná die publikasie van Sonskyf is Trienke se pen vir ’n hele paar jaar stil, veral wat haar digwerk betref. In 2011 verskyn daar by Corals Uitgewers ’n "briefboek" wat sy aan haar kleinseun, Chris, wat in die Vaaldriehoek woon, skryf. Sy noem dit Van my ouma, ’n groet: briewe, verse en prente oor die die klein vyf en ander klein dingetjies.

Hierdie boek het ontstaan as gevolg van Ouma se groot verlange na haar kleinseun; so ver van haar af en dit het gegroei uit ’n gereelde uitruil van ervarings in briefies, verse en prente, skryf Jacqueline Leeuvenink in Kerkbode (3 Junie 2011)

"En wat ’n affêre is dit nie vir die lesers, oud en jonk, om saam met Chris in sy ouma se onnutsige, slimme kop met al haar kleurvolle kinkels en kabels te klim nie! Want Trienke kan teken, dig én skryf. En sy weet hoe om vuur te bly stook vir die behoud van ’n band met ’n kleinkind wat ver is." [...]

"Dit is ’n ouma vol lag. En wat ook haar kleinseun aanraai om gereeld ’n diep hô-hô-lag te gee. Die Afrikaanse kinderboekskat is hiermee beslis ’n juweel ryker. Een waarvoor enige kind sy bekkie soos ’n kuikentjie wawydoop sal hou om nóg meer van hierdie stories en versies gevoer te word."

In 2017, tien jaar ná die publikasie van haar vorige bundel, word Trienke se volgende bundel Koebesie ook by Corals Uitgewers uitgegee.

Op LitNet is Dewald Koen die resensent van Koebesie. Hy begin sy resensie deur te noem dat die resensent in sy bespreking van ’n boek moet probeer om op objektief en verantwoordelik te wees in die bestudering van die boek en dit dan aan die hand van literêre standaarde te beoordeel. Maar as die teks gebreke toon, maak dit die resensent se taak nie so aangenaam nie.

Die titel van die bundel, Koebesie, is die onderwerp van die buiteblad wat deur Laurie self geskilder is. Dit beeld die koebesie ook wat eintlik beter bekend is as die hommelby wat die manlik weergawe van die heuningby is: "Interessant is die feit dat dié diklywige en digbehaarde bysoorte veral in die Noordelike Halfrond voorkom. Laurie betrek hoofsaaklik ruimtes in die noordelike halfrond in haar gedigte en fokus veral op België en Griekeland. In die bundel as geheel poog die digter om die werkerby as metafoor vir die digter in te span wat ervarings versamel om terug na die byekorf te neem en sodoende met die ander 'bye' te deel. Laasgenoemde sluit aan by die reismotief wat naas die natuur- en religieuse temas sterk in die bundel figureer. In die slotvers skryf Laurie soos volg:

Terug na die korf

Die werkerby keer terug
met nektar van die ver blom
en voor die reisiger op die skerm
volvoer sy haar dans van die son.

"Die meerderheid gedigte in die eerste kwart van die bundel handel oor die spreker se ervarings as reisende digter in België. Later kom die kultuurgeskiedkundige aspekte van die antieke Griekse beskawing aan bod en bied aan die leser ’n blik op plekke en gebeure wat tematies interessant is en die leser se verbeelding kan stimuleer."  

"Helaas is die oorgrote meerderheid van die gedigte in die bundel ongeslaagd. Laurie se voorliefde vir anekdotismes en die 'vertelagtige' skryfstyl dra by tot die gedigte se ondergang. Die digter maak haarself skuldig aan woordoordaad sowel as die oormatige gebruik van uitroeptekens." [...]

"Met die publikasie van Sonskryf in 2007 het verskeie kritici op gebreke in Laurie se digstyl gewys. Dit wil voorkom asof die digter nie daarin kon slaag om laasgenoemde kritiek ter harte te neem en die digkuns op ’n meer beheersde wyse te beoefen deur krities te herlees en te herskryf nie. Om spaarsamig met woorde en beelde om te gaan, is ’n fyn kuns waarin slegs gesoute digters slaag. Alhoewel die bundel esteties mooi daarna uitsien, is dit die poësie wat die finale oordeel fel. Helaas is die kool in Koebesie se geval nie die sous werd nie."  

Baie van haar gedigte is outobiografies, en in die gedig "Afvlerk" skryf sy vir haar pa. Die gedig handel oor die tyd aan die begin van die 1980's toe hy beroerte gehad het.

Trienke se man, Dirk, beskryf haar as iemand wat verskriklik stadig en deeglik is. "Ek nie. Sy vra raad, maar doen dan tog presies wat sy wil. Sy het ’n sagte geaardheid, maar laat haar nooit van koers druk nie." (Die Burger, 11 Junie 1997)

Oor ’n boek wat haar lewe verander het, vertel Trienke aan Beeld (24 September 2001) dat sy soms ’n boek kies om te lees as gevolg van die inhoud, maar dat die storielyn haar dan meesleur – "soos River god van Wilbur Smith met sy Egiptiese agtergrond wat my boei, of Die groot verlange van Leon Rousseau oor die lewe van Eugène Marais."

"Ek lees graag ons veldgidse oor klippe, blomme, motte en reptiele en dies meer, want die verskeidenheid van voorkoms en aard van die skepping en die Skepper gaan letterlik my verstand te bowe. (Die sterre is te ingewikkeld vir my.) Daarom het ek die gedragsbeskrywings in Groot vyf van Johann Botha so geniet."

"My belangstelling in kuns het my Guy Butler se The prophetic nun laat lees en ek ontdek toe onder andere suster Margaret, wat modelle vir haar tonele gekies het en nie sommer figure nageteken het nie. Suster Pauline het heelwat swart beeldhouers opgelei, en was dit nie vir Butler nie, sou dié selflose werk vir ons verhul gebly het."

"Soms verstom die samevat van al die drade my soos in Vuur op die horison, Engela van Rooyen se roman oor die Anglo-Boereoorlog."

’n Kinderboek wat baie plesier aan Trienke verskaf het, is Die rooi prinses van Paul Biegel waar die prinses van haar troontjie moes afklim om die lewe beter te leer ken.

"Die Bybel dink ’n mens jy ken, maar neem nou skielik ’n Engelse Bybel of die Bybellennium ter hand, dan word nuwe waarhede vir jou geopenbaar. Net so kan ek die eerste maal ’n bundel lees en dink dis nie waffers nie, maar lees ek dit ’n ander maal, en miskien hardop, dan is ek weer verstom en beïndruk."

Publikasies:

 

 

 

 

Publikasie

Van my ouma, ’n groet: briewe, verse en prente oor die klein vyf en ander klein dingetjies

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780620482554 (sb)

Uitgewer

Vanderbijlpark: Corals Uitgewers

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koebesie

Publikasiedatum

2017

ISBN

978992211271 (sb)

Uitgewer

Vanderbijlpark: Corals Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Gedigte deur Trienke Laurie beskikbaar op die internet

Artikels oor Trienke Laurie beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Trienke Laurie (1946–) appeared first on LitNet.

Rita (JM) Gilfillan (1941–)

$
0
0

Foto: Izak de Vries

Sêgoed van JM Gilfillan

In 1990: "Ek is geïntimideer, werklik geïntimideer deur die Afrikaanse literêre wêreld. Dit lyk vir my na ʼn ongenaakbare wêreld waarin ek my persoonlik nie graag wil begewe nie." (Beeld, 16 Julie 1990)

In 1990: "Ek hou nie van publisiteit nie. Ek wou graag ʼn skuilnaam gebruik vir dié bundel (Van stiltes en stemme), maar ek het geweet dit is totaal vrugteloos; in hierdie land gaan almal tog weet wie die skrywer is." (Beeld, 16 Julie 1990)

In 1997: "Ek skryf, want dis op ʼn sekere manier ʼn bevestiging van ʼn eie identiteit. Dit is natuurlik ook ʼn bietjie ontvlugting – en dit laat ʼn klein stemmetjie van my blanke Afrikanerskap hoor teen die geweldige oormag in. Ek skryf om orde te bring in dinge wat nie vir my heeltemal wil sin maak nie." (Vrydag)

In 1997: "Durban het deur sy vreemdheid, sy oorweldigende andersheid iets in my losgemaak en my laat skryf. Ek sal altyd met dankbaarheid aan Durban dink. Dis waar ek regtig begin skryf het." (Vrydag)

Oor haar verskuiwing na romanskryf: "Dis seker as gevolg van ʼn bietjie meer selfvertroue, want ek het altyd gedink dis baie moeilik om ʼn langer teks te skryf, maar nou vind ek dis makliker. Dis baie meer bevredigend om oor ʼn aantal bladsye met dieselfde karakters doenig te wees. Mens groei in hulle in. Die kortverhaal eis baie en jy moet telkens ʼn nuwe intensiteit vind. Dis moeiliker as met ʼn roman." (Vrydag)

Gebore en getoë

Rita (Jacoba Magrieta) Gilfillan is op 29 April 1941 op Ermelo in Mpumalanga gebore, die oudste kind van Hendrik en Lena Eksteen. Haar pa het op die plaas Swartwater in die Ermelo-distrik geboer.

Na Rita is daar twee seuns gebore: Hendrik, twee jaar jonger as sy, en Pieter, vyf jaar na haar. In 1946 is hulle ma, ’n nooi Taljaard, op 28-jarige leeftyd aan hartversaking oorlede. Hierdie gebeurtenis het natuurlik ’n groot invloed op veral die kinders se verdere ontwikkeling gehad. Pieter, wat maar ’n baba was, is dadelik na sy pa se oudste suster toe en daar het hy ’n veilige en geborge tuiste gevind. Ten spyte van die jong wewenaar se pogings om die res van sy gesinnetjie bymekaar te hou, word Hendrik, maar veral Rita, swerwelinge in daardie groot en uitgebreide familie, vertel Rita aan LitNet.

Oor haar vroeë kennismaking met boeke vertel Rita voorts: "In daardie tyd was boeke in boerehuise nog skaars. Ek onthou die Bybel en Uit die Beek, Die Voorligter en Die Landbouweekblad. By my ouma was daar ook Die Huisvrou waarin ek Audrey Blignault se gereelde vertellings oor Amanda en haar huisgesin in Kaapstad behoorlik verslind het. Eendag is eendag, het ek myself beloof, eendag is eendag dat ek ook in Adderleystraat sal stap met die Suidoos wat my rok skep sodat ek net moet keer vir my wickets. Eendag is eendag dat ek daardie Marietjie-kind gaan ontmoet. Op hoërskool was daar ’n klein biblioteek, maar wat ek onthou is die Anne of Green Gables-reeks wat ek by ’n maat te lese kon kry, ek het by een van my tantes ’n hele plank vol Tarzan-boeke ontdek en dit gretig deurgedraf sonder om bewus te wees van die keurige vertaling. As daar niks anders was nie, het ek die fynskrif op die bakpoeierblik gelees. By ander vriende het ek Jane Eyre in ’n kartondoos gevind ’n boek wat ek met eindelose vreugde en herkenning gelees het, seker om verskeie redes.

"Ek was van niks regtig seker nie, maar ek onthou tog dat my peetoom op ’n keer gevra het wat hy vir my kan saambring van die dorp af. Ek het ’n boek gevra, ’n boek met lyntjies, waarin ’n mens kan skryf. Ek was so ontwortel, so pynlik skaam, dat skryf vir my al manier van uitdrukking was, dit meer as dat ek juis enige gevoel van ’n roeping (vir skryf) gehad het. Miskien oor al die oefening in daardie boek met lyntjies, was opstel-skryf later vir my lekker, en tale my geliefkoosde vak."

Rita se skoolloopbaan het op Rooiwal begin, ’n plaasskool in die omgewing waar haar pa geboer het. Sy het daar in ’n koshuis loseer. In daardie tyd het haar pa weer getrou, die plaas verkoop en op Piet Retief gaan bly, waar sy skoolgegaan het. Dit was egter nie vir lank nie, want sy is saam met haar nuwe ma na Springs waar hulle by haar ma se ouer suster en man en kinders gaan bly het.

Van daar af na ʼn ander plaasskool, met die naam Transvalia. Oor haar leeservaring in hierdie skooltjie vertel Rita (Insig, Januarie 1998): "Teen die tyd dat ek die volle vreugde van lees ontdek het, was ek ingeskryf by ʼn plaasskooltjie met die naam Transvalia. Daar, in een hoek van die klaskamer, het ʼn beskeie boekrak gestaan. Stelselmatig het ek ʼn pad deur hom gelees van Maasdorp tot by Keurboslaan. Die wonderlike avonture onder insekte en voëls waarvan dr Skaife vertel het, is deur my verslind, sowel as Uncle Tom's cabin en Huckleberry Finn. En toe breek die dag aan dat daar niks meer op die rak was nie, maar wanneer die nag op sy donkerste is, breek die daeraad deur."

"En so daag die boekwa van die Provinsiale Biblioteekdiens daar op. Ek het reeds ʼn smaak gehad vir Hendrik Brand se Swart hand en vir alles wat naastenby na mystery en suspense gelyk het. Seker daarom dat ek onmiddellik aangetrokke gevoel het tot ʼn boek met die belowende titel Vier ontvoerde vroue. Vir hierdie lojaliteit aan die Afrikaanse taal is ek beloon met ʼn uitnodiging om ons onderwyser ná skool te kom spreek. Hy is genoodsaak om die boek te konfiskeer, het hy my meegedeel. Veral vanweë die um dubieuse aard daarvan. Dat hy diep teleurgesteld is in my onnatuurlike belangstelling in sake van ʼn um ... onkiese aard, spreek vanself. [...] Vier ontvoerde vroue het deur die onderwyser se ingreep natuurlik ongelees gebly."

Toe die sukkelende skooltjie vou, word die ontwortelde troppie kinders ingeskryf by die Van der Merweskool te Ermelo. "Na hierdie verwarrende begin was dit seker nie vreemd dat ek vir die duur van standerd 4 en 5 in die spesiale klas was nie. In daardie tyd is dit die Aanpassingsklas genoem en onder leiding van liewe meneer Hechter het ek stadigaan begin aanpas by die lewe," vertel Rita aan LitNet.

Dr Nicol, destyds administrateur van die voormalige Transvaal, het ’n praatjie by hulle skool kom gee. Sy boodskap was dat ’n geleentheid dikwels maar een maal kom, en wie dit nie aangryp nie, is dit kwyt. Hierdie woorde het om een of ander rede ’n onuitwisbare indruk op Rita gemaak. Juis toe het die skoolhoof, mnr BS Roberts, ontwerpe vir ’n skoolwapen gevra. Gedagtig aan die boodskap, het Rita besluit om ook in te skryf en daar het haar ontwerp, ’n oop boek waaroor die son opgaan, gewen. "Nie sleg vir iemand uit die Aanpassingsklas nie, dink ek by nabetragting, en hoera vir Driekie Calitz en al die ander minder of meer gestremde klasmaats van 1953–54."

Vanaf die laerskool is Rita na die Hoërskool Ermelo, waar sy vyf gelukkige jare deurgebring het. In die skoolkoshuis, Adriani, het sy waardevolle vriendskappe gesluit en het sy vir die eerste keer geborge en tuis gevoel – veral deur die simpatie en woordelose begrip van mnr CP van der Walt, die koshuisvader en Afrikaans-onderwyser. Sy was bevoorreg om wonderlike onderwysers aan die Hoërskool Ermelo te hê, soos mnr Tönsing wat Duits gegee het, mnr GDS van Heerden, skoolhoof en geskiedenis-onderwyser, mnr Botha vir Wiskunde, mev Bütow vir sang, en nog baie ander. Sy het hokkie gespeel, aan debatte deelgeneem, aan die CSV behoort, en wat die skool ook al bied. Vakansies het Rita saam met maats deurgebring, of by haar grootouers of tantes.

Sy matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Ermelo.

Verdere studie en werk

Na skool is Rita na Pretoria, waar sy in die Staatsbiblioteek gaan werk het. Daar het sy weer wonderlike en inspirerende mense ontmoet, soos die jong mevrou Schoeman wat Rita na haar huis genooi het, waar sy met nuwe idees gekonfronteer is, nuwe skrywers leer ken het en ander kos leer eet het, en dit alles sonder dat sy geweet het dat mevrou Schoeman die suster is van mnr Tönsing, haar eertydse Duits-onderwyser!

Rita het intussen by die Universiteit van Pretoria ingeskryf en begin buitemuurs swot aan ’n BA Biblioteekkunde-graad. Toe die geleentheid hom voordoen, het sy die Staatsbiblioteek verruil vir die Merensky, die universiteitsbiblioteek op die kampus, wat baie voordelig vir haar studies blyk te gewees het. Veral die dosente in biblioteekwese het baie in die biblioteek gewerk en Rita het hulle van nader leer ken. Sy kon dus nie langer lyf wegsteek agter naamloosheid nie.

Waarskynlik deur die aanbeveling van daardie dosente het sy ’n beurstoekenning gekry en is Rita vroeg in 1964 na Amsterdam, waar sy as bibliotekaresse in die Zuid-Afrikaanse Instituut op die Keizersgracht gewerk het en in Utrecht gestudeer het vir ’n verdere diploma in biblioteekwese. Roy Pheiffer het destyds die leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Amsterdam beklee en sy kantoor was in die Instituut, wat beteken het dat hy en Rita mekaar goed leer ken het.

Nadat sy die diploma verwerf het, het Rita in 1965 in die Amsterdamse Stadsbiblioteek gaan werk voordat sy na Suid-Afrika teruggekeer het om haar pa, wat terminaal siek was, nog te kon groet.

Na haar pa se afsterwe het Rita in 1966 ’n aanstelling in die munisipale biblioteek van Germiston gekry. Gedurende daardie tyd het sy by mev Schoeman van die Staatsbiblioteek in Mtunzini gaan kuier en daar vir Rouston Gilfillan ontmoet, met wie sy in 1967 getroud is. Hy was destyds ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Zoeloeland en sy het in die universiteitsbiblioteek aldaar gaan werk.

Toe Rouston vroeg in die 1970's ’n aanstelling by Ikeys kry, was Rita gelukkig genoeg om in die biblioteek van Barckleyhuis, ’n onderwyskollege in Claremont in die suidelike voorstede van Kaapstad, te gaan werk. Later, toe Rouston na die Universiteit van Stellenbosch verskuif het, het sy van die geleentheid gebruik gemaak om eers ’n honneurs en daarna haar MA-graad in Afrikaans en Nederlands te verwerf.

Dit het daartoe gelei dat sy as dosent by die Universiteit van Durban-Westville aangestel is toe haar man ’n professoraat in Afrikaans aan die Universiteit van Natal aanvaar het. Sy het die pos beklee tot hulle aftrede en terugkeer na Stellenbosch. Hulle het drie kinders: twee dogters en ’n seun.

In 1989 debuteer Rita met die kortverhaalbundel Van stiltes en stemme, waarvoor sy in 1990 die Ou Mutual-prys ontvang. Vir hierdie verhale het sy ook ’n toekenning van die FAK ontvang.

Sy het reeds een maal vantevore, in die sewentigerjare, ’n prys in ’n Sarie-kortverhaalwedstryd gewen. "Ek het die prys gewen en dit het my só laat skrik dat ek vir jare nooit weer iets geskryf het nie," vertel sy aan André le Roux. (Beeld, 16 Julie 1990)

Een van die verhale in Van stiltes en stemme, "My liefste poppie", het in Standpunte verskyn, net onder die voorletters JMG. Die bundel verhale word op die flapteks beskryf bloot as ’n debuut wat "handel oor die uitbeweeg uit een toestand na ’n ander – ’n pynlike proses wat soms tot ontgogeling lei, maar soms ook tot insig en verlossing".

Le Roux beskryf die verhale as "sober, konvensioneel selfs, sonder veel hedendaagse -ismes. Dit kan doelbewus wees, of dalk kies die verhaal sy eie loop."

Rita meen dat dit nie doelbewus is nie; "dit het seker te make met my ouderdom en dat ek uit ’n heel ander, ouderwetse tradisie kom. Maar dit het seker ook daarmee te doen dat ek ’n soort mens is wat buite alle bewegings en strominge wil staan; ek is eintlik ’n baie sterk alleenloper."

Die idioom waarin die verhale in die bundel oor Durban-Westville – "Die Taalles", byvoorbeeld – geskryf is, het ʼn meer hedendaagse aanslag en is ook korter. Rita skryf dit toe aan die blootstelling aan hedendaagse jongmense. "En die ander verhale, veral die kinderverhale, het vroeër ontstaan. Daar is drie ouer verhale, 'Agtermiddag van ʼn kind' (wat sowat tien jaar vantevore ontstaan het), 'Die troudag' en 'My liefste poppie'.

"Dis tog vir my asof ek nou ... ek het in die eerste plek baie bewus geword van Afrika, van swartmense en van Afrikaans en wat dit vir hulle moet beteken om Afrikaans te móét leer. Daardie verhale het miskien ʼn moderner vorm; vandaar miskien ʼn breuk in die bundel tussen die ouer, konvensionele verhale en hedendaagse verhale."

Sy het hierdie ou verhale opgediep en besef sy wil ʼn bundel skryf waarin alles met alles te doen het. Dit was beplan. "Ek dink ek het ʼn baie sterk vormbewustheid, dit wéét ek. Ek is ʼn esteet (al werk dit nie in vandag se idioom nie!), maar dit moet vir my reg klink op die oor, die sin moet sy eie ritme hê. Ek dink ek is baie beïnvloed deur Karel Schoeman: ek hou van die ritme wat sy prosa het."

In Beeld (31 Oktober 1989) beskryf AP Grové die bundel as aantreklik "met ʼn elftal kortverhale wat inhoudelik en tegnies tot op sekere hoogte met mekaar verband hou. Nie net keer sekere situasies en selfs bepaalde figure hier en daar terug nie, maar dit is gou duidelik dat die skryfster by voorkeur haar stof put uit ʼn eietydse werklikheid wat sy eerstehands waargeneem en/of beleef het.

"Al werk sy met karakters, is ʼn mens feitlik deurgaans bewus van ʼn sterk persoonlike, byna outobiografiese ondertoon. Dit dra by tot die eenheid van die bundel. As hier van eenheid sprake is, wil dit nie sê dat daar nie ook genoeg verskeidenheid is nie. Daar is verhale wat met die werklikhede van die rassesituasie in Suid-Afrika te doen het, verhale wat dit het oor spanning, opstande en die moontlikheid van versoening. Sommige verhale speel af in die klaskamersituasie met die ontoereikende onderrig van byvoorbeeld Afrikaans aan onwillige en wrokkige leerlinge. In 'My liefste poppie' gaan dit oor huwelikspanninge met die kind as lydende party. (...)

"Maar hoe die situasie ook al verskil, diep-in gaan dit oor mede-menslikheid, die moontlikheid of onmoontlikheid van mense om mekaar oor grense van watter aard ook heen te vind. Die verhale wil dus ʼn bepaalde insig bring, ʼn boodskap, as u wil." Grové het gemeen dat daar nog veel van die skryfster verwag kan word.

Joan Hambidge (Rapport, 15 Oktober 1989) noem Van stiltes en stemme ʼn "delikate debuut en dit kan tereg getipeer word as ʼn volwasse debuut: nie net vanweë die boeiende spel tussen stilte en kontak nie, maar ook vanweë die feit dat die verhale van lewensinsig én stylbeheersing getuig wat selde by ʼn nuweling te vinde is."

Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 9 November 1989) is die verspreiding tussen goeie en minder goeie verhale eweredig. En al is daar ʼn onegaligheid is dit ʼn debuut wat veel belowe vir die toekoms.

Ook Riana Botha (Volksblad, 25 November 1989) meen dat al die verhale nie ewe geslaagd is nie, maar dat dit ʼn belangrike debuut is, asook ʼn welkome bydrae tot die Afrikaanse literatuur.

Ena Jansen is die resensent in Vrye Weekblad (3 November 1989) en sy beskryf die elf verhale in Van stiltes en stemme as "pretensieloos, skadeloos, invoelend en met ʼn ligte aanslag geskryf. ʼn Mineurtoon oorheers en die ontnugteringe en verdriet van Gilfillan se karakters word fyn en meestal sonder smuk aan lesers oorgedra. [...]

"Gilfillan se stories sou meer kon sê as die registers oopgetrek word, die 'oerwoud' betrek word. Wie weet watter stemme nog aan die woord gaan kom."

Rita se volgende bundel kortverhale, Die vrank smaak van frambose, word in 1993 deur Human & Rousseau gepubliseer.

Riana Scheepers skryf in Die Burger (16 November 1993) dat een van die uitstaande kenmerke van die Afrikaanse letterkunde aan die begin van die 1990's die groot aantal vroueskrywers is "wat elk ʼn eie skakering by die kleurryke doek van die kortverhaal inweef. Met Die vrank smaak van frambose weef JM Gilfillan die framboos-kleur van melancholie in hierdie wye doek. In bykans al die verhale demonstreer sy die vermoë om die pynlike ervaring as ʼn sensuele belewenis uit te beeld. Sy doen dit met die deurleefde wysheid van die volwassene wat geryp is deur die lewe. Wanneer die verteller in die trefferverhaal 'Ariadne spin ʼn yarn vir Sheherazade' haar skaamteloos verlustig in die 'vrankerige smaak van vars frambose', herken sy daarin die smaak van die lewe self: 'Die surigheid wat my kieste laat saamtrek, is tegelykertyd vermeng met ʼn haas ondraaglike malsheid' (bladsy 68).

"Hierdie uitspraak is van toepassing op die hele bundel, want pyn kan ʼn intense vorm van skoonheid wees, en droefnis ʼn poort tot nuwe sintuiglike ervaringe. Belangrik in Gilfillan se oeuvre is die gestremde, die liggaamlik verswakte of die eenvoudige van gees wat met insig en deernis geteken word. Veel meer onthutsend as die leef- en denkwêreld van hierdie karakters, is die reaksie van die gemeenskap wat met hulle in aanraking kom. Die mens, ook die swaksinnige of die bejaarde, se universele behoefte aan liefde en aanvaarding lei dikwels in hierdie verhale tot die primêre konflik en spanning waarom die verhaalgegewe gebou word. Ironies: Dit is nie die pretensieuse, welgestelde 'kultuurmens' nie, maar die eenvoudige, die een wat volgens die samelewing net ʼn trappie hoër is as die swaksinnige, wat die behoefte in sy medemens raaksien en ʼn simpatieke hand uitreik." Scheepers meen dat Rita haar met hierdie bundel as een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans vestig.

Vir Gretel Wybenga (Beeld, 13 September 1993) is ʼn interessante wending in Die vrank smaak van frambose die "meer eksplisiete teenwoordigheid van duidelike postmodernistiese trekke, en dan veral in die twee briljante slotverhale: 'Die wedstrydverhaal' en 'Ariadne spin ʼn yarn vir Sheherazade' (wat ʼn heerlike titel!).

"Hoewel die flapteks die indruk skep dat die verhale in die bundel minder somber is as dié van sy voorganger, moet die leser tog nie verwag dat 'alle gesukkel' in die meeste tekste 'wonderlik sinvol' word, soos die flapteks beweer nie. Die fiktiewe skryfster in die slotverhaal bely in die nag toe sy haar 'welwillende gasheer se baard oor haar vel voel skuur het' (68): 'Met al my sintuie oop kon ek bevestiging vind dat ek, ten spyte van alles wat so stukkend gebreek het, nog altyd lewe en vir ʼn kort wyle ʼn toevlug kon vind in die weerloosheid van ʼn medemens' (69).

"Die meeste van hierdie verhale vind hul 'toevlug' in die weerloosheid van die mens wat juis so selde weet hóé om te lewe (benewens die een in 'Arme fool' is dié tekste vol arme fools). Veral in die eerste agt verhale (daar is tien) staan die verwondbaarheid van die mens voorop. In die eerste vier is die aartsmoeder as toevlug ʼn sentrale gegewe, en dan veral dié 'met doeke laag gebind om hulle voorkoppe en hande gevou oor hulle buike' (14): die swart vrou wat niks het om te verloor nie.

"In 'Die pad na Lusikisiki' en 'Pièta' word die gebrek aan erbarming en egtheid in die wit opset by wyse van kontras juis ontmasker. Dié tema klink ook later onverwags op in 'Die wedstrydverhaal.'

"Oor hierdie bundel, en dan veral die laaste twee verhale, gaan nog baie gesels word. ʼn Mens sien met groot verwagting uit na verdere publikasies van die skryfster"

Joan Hambidge (Insig, September 1993) vind die verhale in Die vrank smaak van frambose tegnies goed versorg. "In die briljante slotverhaal, "Ariadne spin ʼn yarn vir Sheherazade", weef die verteller ʼn reeks indrukke, ervaringe en reisbeskrywings tot ʼn weelderige tapisserie wat met elke lees ʼn nuwe (ander) interpretasie ontlok.

"Die verhale verval nie in selfbejammering of schmaltz nie vanweë die tegniese beheer van die skrywer. Hiervan lewer die troostelose (en uitsiglose) 'Ik heet Wouter' bewys. In die hande van ʼn mindere kon dit ʼn uitgesponne gay-relaas geword het. Nou wen die verhaal juis aan interpretasie en gehalte, omdat die leser sélf die drade moet saamtrek.

"Dis nie ʼn bundel wat terugval op skoktegnieke óf -onthullings nie; en tog is die leser deurentyd ontredder oor die ʼnaakte waarhede' van misverstand, uitsigloosheid, eensaamheid." Dit is een kortverhaalbundel, sê Hambidge, wat sy kan aanbeveel.

Vir Marion Hattingh (Karring, Herfs 1995) is dit die ingewikkelde en "besonder sensitiewe registrasie van mense" soos hulle op mekaar en op die wel en wee van die lewe reageer, wat verrassend is. "Die klem val hier op diegene wat ondanks jammerlike omstandighede veredeling vind, of wie se onvaste bestaan binne bundelkonteks op ʼn paradoksale wyse na sin uitreik. Hierdie is verhale wat sinisme en relativisme afwys en wat ʼn soeke na betekenis as ʼn basiese kenmerk van menslikheid belig. Die vrank smaak van frambose is by uitstek ʼn bundel waarin vrouekarakters as sterk persoonlikhede funksioneer. Op ʼn subtiele wyse lewer al die verhale oor die ontberings van mense teen wie daar op een of ander manier gediskrimineer word, skerp samelewingskritiek en word patriargale konvensies telkens in die gedrang gebring. Dit is opvallend dat wanneer mans wel in enkele verhale in die fokus staan, hulle voorgestel word as bejammerenswaardige figure wat nóg hul adolessente wellus, nóg hul alleenheid en ontnugtering kan verwerk."

In 1995 beweeg Rita weg van die kortverhaal en word haar eerste kort roman of novelle by Human & Rousseau gepubliseer onder die titel Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen.

In Insig (Maart 1996) skryf JP Smuts dat wanneer die leser die eerste keer die novelle onder oë neem, is daar dadelik elemente van Gilfillan se vroeëre werke sigbaar "die problematiek van die sensitiewe maar ontwortelde kind is byvoorbeeld ook in die nuwe werk ʼn belangrike gegewe – maar jy voel terselfdertyd die greep is groter, en stilisties is hier met vaster hand geskryf. En dan nie vas in die sin van strakker en meer gestroop nie, maar steeds sonder hinderlike oordaad. Die wyse waarop die taal in hierdie werk gehanteer word, is ʼn belangrike pluspunt van Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen. [...]

"Die werk verloop in sewe kort hoofstukke, en ʼn enersheid in die struktuur val onmiddellik op. Elke hoofstuk het ʼn titel wat begin met die woord Waarin: ('Waarin daar pasta gekook word en ʼn meisie haar hande verloor'; 'Waarin ʼn besorgde grootmoeder melksnysels voorsit en waarin ʼn leeu uit gevangenskap ontsnap') en eindig met ʼn resep wat in die loop van die betrokke hoofstuk in die kombuis berei is.

"Sewe is ʼn magiese getal wat pas in die sprokiesfeer, en die patroonmatige opbou is eweneens kenmerkend van sprokies.

"Sentraal in die eerste hoofstuk staan Engela Verster, eienares van ʼn gastehuis op Stellenbosch. Reeds van die tweede hoofstuk af word egter uitvoerig teruggewerk in die verlede en algaande word ʼn beeld opgebou van Engela se ma, Rachel, wat op ʼn hoewe naby die Paarl bly. Rachel se lewe het in baie opsigte ʼn sprokiespatroon gevolg, maar dan nie in die romantiese sin van die woord nie, maar wel in terme van die gruwelike wat so ʼn inherente deel van baie sprokies is. (...)

"Teenoor Rachel wat deur die kodes van die samelewing verkneg is, staan haar dogter Engela, die bevryde vrou wat probleemloos buite die huwelik met ʼn man saamleef."

Smuts beskryf Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen as een van die boeiendste, fantasierykste en verrassendste Afrikaanse prosatekste wat gedurende daardie jaar in Afrikaans verskyn het.

Joan Hambidge is die resensent in Die Burger van 13 Desember 1995 en vir haar is Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhaan nie net ʼn storie nie, maar ʼn verslag van die kreatiewe vrou se probleme wanneer sy haar in die diepe, psigiese waters van die kreatiwiteit plaas. Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves (1992) is ʼn belangrike interteks, met veral die verwysing na die transformasie van die lelike eendjie, die meisie met die afgekapte hande, die ou storieverteller wat langs die vuur sit. Trouens, op ʼn plek verwys die verteller ironies genoeg na die feit dat Pinkola Estés se studie nie bestaan het toe sy dit juis bitternodig gehad het nie!

Tom Gouws (Beeld, 29 Januarie 1996) skryf: "Daar is veel in hierdie novelle wat ʼn mens beïndruk: die gemaklike vertelstyl, die verbeelding, die knap taalbeheersing, die vermoë om te kan komponeer, wêrelde te integreer, onverwagte dinge naas mekaar te stel. Maar ʼn mens vermoed Gilfillan het intertekstualiteit te letterlik opgeneem: dit as ʼn produk gebruik en nie as proses nie. Al is daar ʼn uitgebreide pleidooi vir 'die plekke waarin die skrywer se hand sigbaar word' in die teks, is dit vir my gevoel ʼn té maklike uitweg.

"Die gebeure in die novelle van Gilfillan is gebou op die fassinerende sprokie van die maagd wat haar hande verloor het. Die verteller in die novelle lig die simboliese betekenis van die sprokie soos volg toe: 'Clarissa Pinkola Estés verduidelik dat die meisie haar pad na inisiasie inslaan wanneer sy haar hande verloor. Sy volg nou die weg na dieselva subterránea en die kanse is goed dat sy uit die onderwêreld sal kom met haar psigiese en kreatiewe herstel.'

"Op dieselfde trant word die uitstekende storie 'van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen' deurentyd onderbreek met ʼn beterweterige Jungiaans-gerigte verteller wat vir die leser dieptesielkundige en alchemie-toeligtings gee, byvoorbeeld: 'haar ou, hulpelose self moet afsterf voor ʼn nuwe self gebore kan word', of: 'Soos die stamper en vysel reeds aandui, is die Baba Yaga ʼn oer-vroulike simbool ... Jy verstaan natuurlik dat binne die Jungiaanse sielkunde die stiefmoeder en haar lui dogters simbole is van Wassilissa se eie skadukant.'

"Soos ook in haar kortverhaal 'Ariadne spin ʼn yarn vir Sheherazade' in haar vorige bundel, Die vrank smaak van frambose, sal dié novelle handig deur literêre teoretici gebruik kan word om die metafiksionaliteit of uitgebuite narcissisme van die eietydse postmodernistiese prosa uit die wys. 

"Maar vir die gewone leser word dit ʼn teksversperring, ʼn aangenaalde teoretiese lap wat nie die gate in die teks genoegsaam wegsteek nie. In die sprokie van die maagd wie se hande afgesny is, kan sy net so min met haar gemaakte silwerhande maak as met haar stompies. As sy uiteindelik met deursettingsvermoë aanhou probeer om haar eie identiteit te vind, groei haar hande weer aan. Gilfillan het soveel talent dat sy met groot vrymoedigheid Estés, of ander, se silwerhande kan begrawe. Ek nie kan wag om te sien wat sy kan doen met haar eie, nuutaangegroeide hande nie."

Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen het die derde plek in die Ou Mutual-prys behaal.

Rita vertel aan Hilda Grobler (Vrydag, 1997) dat sy nie ʼn bewuste besluit geneem het om ʼn roman te skryf nie, maar dat dit lyk asof sy so half onwetend wegbeweeg het van die kortverhaal af.

Sy meen ook dat die kritici haar al skerp gekritiseer het oor die orde wat sy in haar skryfwerk probeer skep. "Hulle sê alles pas altyd mooi netjies, en ek maak mooi oplossinkies. Maar dit was heeltemal anders toe ek Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen geskryf het. Dié was nie ʼn verhaal vir orde nie. Dit was gewoonweg ʼn uitbarsting van vreugde, die lekker om mens te wees, Afrikaans te wees, vrou te wees, in Durban te wees. Dis ʼn boek oor boeke en dit bring ʼn huldeblyk aan al die boeke wat ek al gelees het, asook aan al die vreugdes van my lewe."

Die verhaal van ʼn vrou, ʼn leeu en ʼn hoenderhen is in 2008 in ʼn tweede uitgawe deur LAPA gepubliseer.

Rita se tweede novelle, Pouoogmot, word in 1997 gepubliseer. Dit gaan oor ʼn groep vroue wat in saal 13 van ʼn private kliniek lê. Nie net het elke vrou haar eie spesifieke fisieke probleem nie, maar elkeen van hulle het ook ʼn diepe swaarkry wat diep binne hulle lê, maar nie so maklik deur die omstanders raakgesien kan word nie, skryf Annemarié van Niekerk in Die Kat van Junie 1998.

"Dit is die nuwe Suid-Afrika – daar is Indiër-, swart en wit vroue saam in een saal en elkeen het haar eie vooroordele en aanpassingsprobleme. Om verveling te besweer, besluit die vroue op ʼn storie-uur waartydens elkeen die kans kry om ʼn storie oor klere te vertel. Onvermydelik handel elkeen se storie oor haar eie lewe en haar hartsgeheim. En die vertellings begin die historiese agtergrond eggo van die Waarheid-en-Versoeningskommissie waarteen hierdie novelle afspeel.

Van Niekerk beskou Pouoogmot as ʼn verhaal wat tot die einde boei, "omdat die stukke storie spannend is en in afwisselende style vertel word. Hoewel daar hier en daar spore is van oordrewe mooi beelding, skend dit nooit die vloei van die novelle nie. Saam met die lees sal elke leser besef dat ons eie hartstories deel is van ʼn groter patroon – dat dit nie slegs nodig is dat ons met ons eie stories gekonfronteer word nie, maar dat ons ook na die stories van ander moet luister om bevryding en genesing binne ʼn groter konteks te bring."

"Hoewel die proses van roman-skryf ʼn belangrike gegewe in Gilfillan se Pouoogmot is, is hierdie roman allermins ʼn serebrale oefening," skryf Louise Viljoen (Insig, Maart 1998). "Dit begin naamlik met ʼn vrou wat beplan om ʼn roman te skryf, gedagtes rondom ʼn aanvanklike idee versamel en dit langsamerhand begin orden. Dit wat sy uiteindelik begin skryf, vorm dan die roman-binne-ʼn-roman wat ons te lees kry. Dit handel oor ʼn groep vroue wat saamgegooi is in ʼn hospitaalsaal en vir mekaar verhale vertel om hul vrees en verveling te besweer. Hoewel die skrywende vrou erken dat die idee ontleen is aan voorbeelde soos Chaucer se Canterbury Tales, Bocaccio se Decamerone en selfs Calvino se If on a winter's night a traveller, kom die idee binne die konteks van haar roman van suster Precious Mafokeng, terwyl dit die onderwyseres in die groep vroue is wat voorstel dat die stories om ʼn bepaalde tema moet sentreer. Saam besluit hulle dan om stories oor klere te vertel."

"Hiermee sluit die roman aan by ʼn reeks tekste wat klere en naald- of handwerk gebruik om aspekte van vroulike ervaring uit te beeld. [...]

"Hierdie roman oor vertellende vroue word geraam en op verskillende plekke onderbreek deur gedeeltes wat handel oor die skryfster waardeur dit tot stand kom. Verbande word voortdurend gelê tussen die skryfster se ervaring en elemente in haar verhaal. Haar gekweldheid oor die ontstellende onthullings voor die Waarheidskommissie vind byvoorbeeld neerslag in die karakter Mara Malan wat selfs fisiek siek word oor die dinge in die verhaal oor haar verhouding met die aktivis Freddie Philander wat sy nie die moed het om te vertel nie. Die invloed van die Ooste is ook deurslaggewend vir die skryfster. Soos die twee borde wat ʼn vriendin vir haar gemaak het, verteenwoordigend is van die pole jin en jang, staan haar persoonlikheid ook in die teken van teenoorgesteldes: sy is tegelyk ʼn afgetrokke en magnetiese persoonlikheid; ʼn amateur op die terrein van die lewe en as skrywer ʼn toegewyde waarnemer daarvan. Die gesprekke oor bonsai-bome en die Japannese landskapskilderkuns word ook betekenisvol van toepassing gemaak op haar skryfwerk. Aan die slot van die roman wonder sy: 'Sal sy ooit streng genoeg wees om alle oortollige groei genadeloos uit te knip? Sal sy haar werk kan terugdwing tot die gestroopte vorm van bewuste geweld teen simmetrie?'

"Met hierdie selfondersoekende vraag van die skryfster vestig Gilfillan in ʼn sekere sin die leser se aandag op haar eie skryfstyl. In die geval van hierdie roman word die leser opgeval deur haar vermoë om ʼn ryk tekstuur te weef met haar skryfwerk eerder as om af te stroop. Aan die eksotiese, boerse, delikate en verbeeldingryke lappieskombers wat Gilfillan met haar roman skep, behoort lesers egter baie plesier te hê."

In Beeld van 29 Desember 1997 het Fanie Olivier egter sekere voorbehoude oor Pouoogmot. Vir hom bied die gegewe van die roman baie moontlikhede, maar baie min daarvan kom tereg.

Olivier gaan voort: "Nouja: vir my is Pouoogmot se aanslag tipies politiek-korrek. Suster Precious Mofokeng is presies wat haar naam sê en boonop ook nog ʼn 'balling gekom oor die oseaan' vol liefde vir Afrikaans en die ouer digters." 

"Van die vroue se stories (en/of hulle 'werklike' lewens) eggo 'die lied van ʼn meisie in haar liefde verlaat' in ʼn verskeidenheid gedaantes. Die romanskryfster-karakter self sukkel om rondom die WVK met haarself en die gemeenskap waartoe sy behoort vrede te maak."

"Die reënboogkleed moet ook plek maak vir Nirmala Govender wat die eksotiese Ooste kan invoer saam met haar rooi sari. Ek kan terselfdertyd geen regverdiging vind hoekom haar storie nie binne die opset van hierdie roman in Engels vertel kon word nie: die 'vertelling' daarvan in ʼn tipiese Oosterse sprokie-formaat rym nie met die res van die aanslag nie."

"Ek vind verder dat Gilfillan die suggestiewe wins van die gestrenge gebruik van bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat haar werk aanvanklik gekenmerk het (dink maar net aan die stiltes wat met die stemme saamgeklink het in haar debuut) prysgegee het. Dit dra daartoe by dat die roman (albei die 'romans', trouens) neig om by tye sentimenteel te raak."

Joan Hambidge skryf in Rapport (15 Februarie 1998) dat, soos te verwagte van Gilfillan, die aanslag van Pouoogmot liries en kompleks is. "Daar is meesterlike ingebedde verhale soos die subtiele 'Die rooi sari', ʼn verhaal-binne-in-ʼn-verhaal, soos ons ook aantref in die 1001 nagte. Die leser(es) bevind sig in ʼn labirint van komplekse verhaal-betekenisse soos in haar verhaal 'Ariadne spin ʼn yarn vir Sheherazade' in Die vrank smaak van frambose. Hierdie verhaal was as 't ware die vertrekpunt vir hierdie novelle wat wil kommentaar lewer op vroue se posisie, hul rol in ʼn samelewing én die ondermynende mag van die private storie.

"Die man in hierdie novelle mag byvoorbeeld nie die verhaal lees nie; tog kan een ongewenste woord haar kreatiwiteit laat stol. Hiermee lewer Gilfillan sydelings kommentaar op die mag van die manlike kritici waaraan vroueskrywers, ironies genoeg, steeds onderworpe bly. Nie om dowe neute nie duik Jung se naam op in ʼn gesprek oor die politiek van die land. (Dit is wanneer die skryfster en haar man mense besoek.) Die genesende mag van vertellings/sprokies aktiveer ook Clarissa Pinkola Estés se Woman who run with the wolves en ʼn mens sou ʼn fassinerende ontleding kon maak van Gilfillan se novelle na aanleiding van die tipes wat Pinkola Estés beskryf.

"Die pouoogmot van die titel aktiveer die Oosterse dimensie van die boek: 'In die Ooste word die sy van een soort pouoogmot waarvan die larwes op akkerblare leef, gebruik om sjantoeng van te weef,' (p 104). Die verskillende verhale vorm dan ʼn ryk geskakeerde tapisserie wat die leser help knoop."

"Pouoogmot is meer as ʼn postmodernistiese toertjie of ʼn steriele eksperiment met die grense van die verbeelde werklikheid. Dit is ʼn novelle wat die bevrydende mag van stories ondersoek, die heling wat hierin opgesluit lê en dat vroueskrywers nie meer voëltjies in ʼn kou wil wees nie. Dit is ʼn boek vir nalees en nadink. Dit lewer kommentaar op die proses van skryf en vertel, en veral kritiek op ʼn gemeenskap waar geweld ons daagliks al hoe meer afstomp en van mekaar vervreem. Tog lê daar heling in vertel, uitpraat. En is daar versoening moontlik as mense luister na mekaar, volgens die 'cantadora' Pinkola Estés en die skryfster in Pouoogmot."

Tien jaar na die publikasie van Pouoogmot keer Rita terug na die kortverhaal as genre met die publikasie van Glas, wat in 2007 deur LAPA uitgegee is.

In Glas is daar twintig kortverhale wat uit die vrou se oogpunt vertel word. Soms word die naïewe stem van ʼn kind gehoor en ander kere weer is dit die volwasse vrou wat ondervinding van die lewe het, wat aan die woord kom. Die leser leer die karakters ken in krisisoomblikke oomblikke van siekte en ontreddering oor verhoudings wat nie die paal gehaal het nie. Die verhale beeld dus die breekbaarheid van die lewe aan die een kant uit, maar ook die mooier ander kant. Dit word alles saamgevat in die titel: Glas, volgens die uitgewers se inligtingstuk.

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 20 Augustus 2007) keer bekende temas soos liefde, onvervulling, verraad, stiltes en die metarefleksie (ʼn verhaal oor ʼn verhaal) terug in hierdie bundel. "Die sterkste verhale is dié waar die skrywer afstand kry oor haar emosies, en juis omdat sy oor die intiem-vroulike skryf soos klere, gevoelens, en so meer, word die verhale dikwels deur ʼn soet inslag bedreig. Soms mis verhale ʼn sterk(er) slot óf is die aanslag, vir hierdie leser altans, te soet. [...]

"In haar sterkste verhale is Glfillan op haar beste. Die verhale moet egter skerper gefokus word en die oordadige taal kort snoeiwerk."

Thys Human (Rapport, 23 September 2007) meen dat dit in Glas hoofsaaklik handel oor verbreekte verhoudings en mense se weerloosheid en nie soseer oor geluk of vervulling nie: "Desondanks is Glas nie ʼn somber óf uitsiglose leeservaring nie. Inteendeel. Die meeste verhale werk eerder suiwerend en beswerend. ʼn Belangrike rede hiervoor is Gilfillan se vermoë om karakters, situasies en insidente só helder en herkenbaar te skets dat dit soms vir die leser voel asof hy deur eenrigtingglas op mense se intiemste belewenisse inkyk.

"Gilfillan maak haar ook, anders as sommige ander skrywers, selde daaraan skuldig om menslike verhoudings vir dramatiese effek te oorvereenvoudig. Verhale soos 'Besoek', 'Kleur', 'Ek onthou vir Stoffel en tant Ellie', 'Swartvlei', 'Die brief' en 'Of Cabbages and Kings' bring ʼn mens juis onder die indruk van die verwikkelde aard van verhoudings en die komplekse dryfvere wat menslike gedrag onderlê.

"Die veelseggende bundeltitel, Glas, dien as leidraad na die belangrikste tematiese elemente in die bundel. Soos glas bewerkstellig die bundel ʼn kaleidoskopiese effek deur die groot verskeidenheid perspektiewe waaruit vertel word, asook die uiteenlopende invalshoeke wat daar – in verhale soos die novelle-agtige 'Die kersieboom' – op ʼn enkele insident gegee word. Dit is byvoorbeeld nie moontlik om die vertellers of fokaliseerders in die bundel op grond van hul ouderdom, geslag, kleur óf sosiaal-ekonomiese agtergrond in ʼn enkele kategorie in te deel nie. Op dié wyse verkryGlas ʼn universele trefkrag: ondanks hul onderlinge verskille staan ál die karakters uiteindelik uitgelewer aan ander, aan pyn, siekte en sterflikheid. En soos glas blyk geluk buitengewoon broos te wees: iets kosbaars wat in ʼn ommesientjie aan skerwe kan spat. [...]

"Wanneer ʼn mens die verhale in Glas lees, val dit jou op dat Gilfillan nie net ʼn bedrewe skrywer is nie, maar ook ʼn kranige leser. En dat sy haar leesindrukke ruimskoots in haar skryfwerk aanwend. Vir ʼn ingewyde leser is daar byvoorbeeld baie plesier te put uit die literêre eggo's wat in Glas weerklank vind: die skunnige inspeling op Aucamp se 'ʼn Bruidsbed vir tant Nonnie' in 'Ant Dolly'; die kersieboom wat so sterk aan die peerboom in Opperman se 'Ballade van die Grysland' herinner of Nadia se motorneuronsiekte wat jou onwillekeurig aan die onverbiddelike Milla in Agaat laat dink. Van Eybers se 'Herinnering' is daar mooi nafluistering in 'Padkamp': 'Agter die verste rant sien sy die ronde bol van die maan loskom. Vir ʼn rukkie hang dit los teen die lug, maar skuif dan agter ʼn vlieswolk in. Antjie kan nog die musiek hoor met tussendeur stemme van mense wat lag. Almal is vrolik, behalwe sy.'

"Maar die bundel sal net soveel genot verskaf aan lesers wat bloot agter die storie aan lees."

Op LitNet skryf Izak de Vries: "Glas is ʼn bundel oor mense en hulle geliefdes en die tien jaar van stilte sedert haar laaste boek gee ʼn stem aan twintig gestroopte verhale wat konsentreer op die prag van die oomblik, die sagtheid van die liefde en die skerp prikke van die dorings waarmee ons verhoudings elke dag saamleef."

Hy eindig sy resensie op LitNet as volg: "In haar vierde gepubliseerde werk, Pouoogmot, skep Gilfillan ʼn karakter wat skryf. Hierdie skrywende karakter sit voor haar rekenaar en dink: 'ʼn Skrywer durf sy haarself nie noem nie. Nie voor daar ten minste vyf boeke uit haar hand op die rak agter haar staan nie' (Pouoogmot, 7).

"Nou ja. Ek weet nie hoe Gilfillan oor nommer vyf voel nie, maar ek wil sê: Draai om. Daar staan vyf boeke uit jou hand en hulle is goed. Jy mag jouself ʼn skrywer noem."

Meer as tien jaar verloop voordat daar weer ʼn bundel kortverhale uit Rita Gilfillan se pen verskyn. In 2019 publiseer Naledi Wanneer bloekoms dans - ʼn bundel met 17 kortverhale waarvan twee ("Girlie" en "Wrywing" onderskeidelik in die versamelbundels Kleure van die liefde (2017) en Skarlakenkoors (2014) verskyn het).

Vir Anna Kemp (Rapport, 14 April 2019) "heers daar ʼn fyn, gedempte stilte in JM Gilfillan se kortverhaalbundels. So subtiel weef sy haar drade dat die leser eers later besef hoe hard sy geslaan het, hoe diep die pyn en hoe groot die vreugde was, en hoe kompleks die lewens wat sy geskep het. In haar skrywershande verander 'ʼn doodgewone bloekom met ʼn gevlekte stam' in ʼn boom wat so energiek dans 'dat die son in duisend silwer skerfies' uit haar kroon wegspat en sy tot in die punte van haar arms tril en bewe van lekkerkry (bladsy 112).

"In die 17 verhale wat opgeneem is, glip die skrywer moeiteloos onder die vel in van ʼn uiteenlopende klomp karakters: mans en vroue, jonges en oues, stedelinge en plaasmense, liggaamlik en verstandelik gestremdes, buitestanders en dié wat aan die sonkant van die lewe beweeg. Daarby benut sy die moontlikhede van die kortverhaalgenre ten volle: Sy vertel, dramatiseer, beskryf in liriese sowel as saaklik-opsommende taal, speel met verhaaltitels, en vind telkens ʼn slotsin wat bevredigend afsluit óf evokatief bly hang." [...]

"Wanneer bloekoms dans bied veel genot aan die leser," sluit Kemp haar bespreking af. "Die 17 verhale bewys tematies en tegnies dat Gilfillan ten volle bewus is van die kompleksiteit van menswees en dat sy al die taalinstrumente besit om dit op elke moontlike manier uit te druk."

Thys Human (Beeld, 13 Mei 2019) skryf dat dit in Wanneer bloekoms dans weer oor die kompleksiteit van verhoudings gaan, asook oor die ingewikkelde impetus wat menslike begeertes dryf. "Geluk en vervulling lê telkens net-net buite karakters se bereik. Tog word die troosteloosheid deurgaans deur onverwagse humor en onthoubare beskrywings getemper."

Vir Human kan die titel van Gilfillan se eerste bundel, Van stiltes en stemme, van toepassing gemaak word op al haar kortverhaalbundels: ná elke stilte wat volg op die publikasie van ʼn bundel, kom daar ʼn "glashelder stem" wat die leser lank bybly. Vir hom is Wanneer bloekoms dans ʼn "voortreflike" bundel.

Op LitNet is Nini Bennett een van die resensente en sy skryf as volg: "Die skryf van ʼn goeie kortverhaal vereis ʼn besondere sin vir balans – iets wat Gilfillan in die meeste verhale regkry, soos 'Byeenkoms van die eensames', 'Girlie' en 'Breekgoed'. 'Die son, die maan en die sterre' is ongelukkig ʼn uitsondering: die verhaal is te praterig en verloor gaandeweg momentum. In teenstelling hiermee is 'Wrywing' ʼn knap vertelling wat handel oor Sabine, ʼn rykmansdogter en belowende tjellis se seksuele ontwaking en begeerte na ʼn jong bouer, Jans. Die sosiale taboes en inhibisies van die hoër middelklas word treffend in reliëf geplaas teenoor die vryhede van die werkersklas, en Sabine besef dat sy nie voluit lewe nie. [...]

"Gilfillan konstrueer verhale met eenvoudige intriges; biopsies oor die menslike toestand. Haar fokus is die broosheid (en wreedheid) van verhoudings en in bykans elke verhaal word die lot van vroue deur ʼn Tsjechofiaanse bril bekyk."

Bennett sluit af: "Wanneer bloekoms dans is ʼn welkome toevoeging tot die 78-jarige Gilfillan se oeuvre. Versuikerde segginge en New Age-retoriek, byvoorbeeld 'positiewe energie' wat uit die karakters straal, doen steurend aan, maar in die geheel is dit ʼn bundel sterk en eerlike prosa waaruit ʼn leser heelwat sal put."

Alet Mihalik bespreek Wanneer bloekoms dans op FMR (Fine Music Radio): "Kortverhale is natuurlik nie net heelwat korter as ʼn roman of novelle nie, maar ook baie meer gekondenseerd of 'digter', en Gilfillan is ʼn bedrewe meester van verdigtingstegnieke soos beelding, naamgewing en intertekstualiteit wat die gewillige leser, net soos die talle paaie en reise in die bundel, na ryk verwysingswêrelde meevoer."

"In dié opsig dien die openingsverhaal, 'Girlie', dan as ʼn soort 'programverhaal' vir die werkwyse in die bundel. Girlie se besonder wit vel en steenkoolswart krulle herinner aan Sneeuwitjie, die sprokieskarakter wat onderdanige en dienende vroulikheid versinnebeeld. Die naam Girlie verteenwoordig insgelyks die tradisionele manlike chauvinisme in ʼn minder-gesofistikeerde sosiale klas. Girlie se 'ongemaklike' liggaamsbou en begeerte om te 'gaan leer vir mekêniek' ironiseer egter haar naam en dien as vooruitskaduwing van die verrassende slot. Sy is haar ouers se enigste hoop op ʼn nageslag en hulle skep vir haar ʼn paradystuin op haar erfgrond. Op Girlie se troudag word die leser deur die tuin gelei – verby krismisrose, roomwit waterlelies en snaterende voëls. Maar dan kies die bruidsmoeder ʼn smaller paadjie verby ʼn groepie koorsbome met wit skoenlappers en swaar frangipani- en speserygeure, na ʼn verskuilde tuin waar dit warm en vogtig is en die stamme fosforagtig en boaards glim … en dit is waar die bruidsmoeder en die leser ontgogel word deur ʼn suggestiewe toneel met kaal voete as evokasiesneller. [...]

"Ruimte ontbreek om al 17 verhale sinvol te bespreek. Ter afsluiting, dus, dan net die jong Sara se beskrywing van die dansende bloekom in 'Sara en die dansende boom' as sprekende metafoor vir die genotvolle 'ontsnappingsroete' wat Gilfillan se verhale vir die meelewende leser bied:

Die bloekom wat waghou oor my pa se huis het ons nie sien kom nie. Daarom het ons haar betrap in die middel van haar dans. Op maat van ʼn fris windjie het sy haar blare geskud. So energiek dat die son in duisend silwer skerfies daaruit weggespat het. Haar rok was opgetrek en ons kon sien hoe haar wit bene vol bruinerige ekseemvlekke die ritme uitstamp. Tot in die punte van haar arms het sy getril en gebewe van lekkerkry.

Maar toe sien sy die kar oor die bult aankom en op die plek stol sy. Voor my oë verander sy weer in ʼn doodgewone bloekom met ʼn gevlekte stam en ʼn kroon van ritselende blare waarin die laaste sonstrale wegkruipertjie speel.

In Insig van Januarie 1998 vertel Rita meer van boeke wat sy wéét sy moes gelees het, maar tot op daardie stadium nog nie onder oë gehad het nie: "Dante se Goddelike komedie is een wat ek al ter hand geneem het (soos dit ʼn mens betaam om met so ʼn beroemdheid te doen), maar lank voor die hel se vure kon begin knetter, het die moed en die goeie voornemens my verlaat. Miskien is dit een van daardie boeke wat ʼn mens in die oorspronklik moet lees, troos ek myself wanneer ek hom weglê vir daardie dag wanneer daar nie eens meer ʼn ongelese Sondagkoerant in die huis sal wees nie."

"Maar daar is ʼn ander boek wat ongelees by my bly spook. Alles wat ek van hom weet, spreek daarvan dat ons in werklikheid vir mekaar bestem is. Dit is die soort boek wat my sug na avontuur en misterie onmiddellik en op die mees basiese vlak sal bevredig, terwyl daar steeds ander betekenisse sal bly flikker. ʼn Uitstekende resep vir ʼn langtermynverhouding. En tog ken ek hom slegs tweedehands; uit die getuienis van ander."

"Dit is Moby Dick van Herman Melville. Soveel het ek gehoor oor hierdie boek, dat die woorde 'I live to sail forbidden seas, and land on barbarous coasts' dadelik ʼn klokkie lui. Daarmee som Ishmael immers ook my eie leesverwagting netjies op!"

"Jare lank weet ek al van die stuurse kaptein Ahab met sy kunsbeen van ivoor. Wanneer daar van die Leviatan gepraat word wat onder die waters van die aarde hou, dan dink ek miskien eerste aan Jona en Job, maar onvermydelik ook aan Moby Dick."

"Waarom ons nooit nader kennis gemaak het nie, sal ek nie kan sê nie. Moontlik moet ons, soos dit met die opwindendste flirtasies gaan, altyd bewus bly van mekaar, sonder om intiem te raak. Daarmee bly die misterie onaangetas."

Publikasies:

Publikasie

Van stiltes en stemme

Publikasiedatum

  • 1989
  • 2004

ISBN

0798124997 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Stellenbosch: African Sun Media

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrank smaak van frambose

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131098 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhaan

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2008

ISBN

  • 0798134860 (sb)
  • 9780799342345 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pouoogmot

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Glas: kortverhale

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339208 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wanneer bloekoms dans

Publikasiedatum

2019

ISBN

 9781928426578 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor JM Gilfillan beskikbaar op die internet

Artikels deur JM Gilfillan beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Rita (JM) Gilfillan (1941–) appeared first on LitNet.

ATKV-Mediaveertjie-wenners: LUISTER-kategorie

$
0
0

Die ATKV-Mediaveertjies, reeds vir meer as ’n dekade die mees vooraanstaande  Afrikaanse media-toekenningsgeleentheid, het vanjaar ’n splinternuwe baadjie aangetrek met ’n nuwe beoordelingsformaat asook die aanlyn-bekendmaking van die wenners.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dis noodsaaklik om die media te vereer, en vanjaar – te midde van die COVID-19-pandemie – soveel te meer.

“Ons het die afgelope paar weke opnuut bewus geword van die kritieke rol wat die media ook in tye van krisis en uitdaging speel. Dit is die media wat ons ingelig hou; ons opvoed oor alle aspekte van onder meer die pandemie, nie slegs plaaslik nie, maar ook internasionaal; en wat vermaak, iets wat veral nou broodnodig is.

“Ons salueer die hele spektrum van die media, en veral ons 2020-wenners. Julle uitstaande bydraes verdien verering en erkenning. Doen so voort!”

Brits het ook aangekondig dat die ATKV later in die jaar ’n spesiale toekenning vir uitsonderlike joernalistiek rakende die COVID-19-pandemie sal toeken.

Vyf beoordelaars is vir elk van die kategorieë (LEES, LUISTER, KYK) aangewys wat uitnemende werk geïdentifiseer en benoem het.

Die ATKV het vanjaar ook twee LEWENSBYDRAE-toekennings gemaak aan die veteraan radio-omroepers, Nic de Jager en Margot Luyt.

Nic de Jager verdien verering vir 50 jaar se uitsonderlike talent, voordragte, radiospel, nuuslees en aanbieding, maar veral vir sy fenomenale kennis van opera, in Nic se Goed, wat Sondae om 12:00 op RSG uitgesaai word.

Hierdie elegante, soepel aanbieder se taalvaardigheid, sy kennis van die letterkunde, musiek en kunstenaars, sy goeie smaak en oordeel, maak van hom ’n  formidabele speler, opsteller en aanbieder – die soort maestro wat jong en ou kunstenaars kan lei en inspireer.

Nic de Jager is gemaklik en gemoedelik wanneer hy uitsaai en hy gebruik sy uitsonderlike stem om van elke program ’n besondere genotvolle luisterervaring te maak. 

Margot Luyt is al sedert 1978 betrokke by radio én televisie.

Sy het oor die jare ’n baie groot rol gespeel in die voortbestaan en verbetering van dramas en vervolgverhale vir die radio, nie net as regisseur nie, maar ook met die opleiding wat sy deurgaans aan regisseurs en spelers verskaf het.

Margot Luyt se vermoë om met mense te werk en haar kennis op só ’n manier oor te dra dat dit die uitsaaiproduk voortdurend bly verbeter, is uitsonderlik. Sy het veral ’n groot bydrae gelewer om die Afrikaanse digkuns en skryfkuns op die radio te laat lewe, hoofsaaklik deur haar professionele aanbieding en haar keurige versorging van programme oor poësie en letterkunde.

Die bydrae wat sy gelewer het om die kollig op gevestigde en ervare digters en skrywers te laat val én nuwe Afrikaanse stemme bekend te stel, kan nie onderskat word nie.

LUISTER

Die beoordelaars in hierdie kategorie was: Bettie Kemp, Margot Luyt, Willemien Marais, Dawid van Lill en Leon van Nierop.

Die wenners in die LUISTER-kategorie is soos volg:

  • Joanie Combrink, regisseur van Man van Cirene – RSG
  • Elize Cawood vir haar voorlesing van Stralejakkers – RSG
  • Pietie Beyers vir sy vertolking in Blikslim – RSG
  • Kobus Burger, uitvoerende regisseur van drama – RSG
  • Lynette Francis, aanbieder van Praat Saam – RSG
  • Frieda van den Heever, samesteller en regisseur van Voetsoldaat van die vers – RSG

Die wenners in die LEES-kategorie word op Donderdag 21 Mei om 09:00 en die wenners in KYK-kategorie word op Vrydag 22 Mei om 09:00 op die ATKV se Facebook-blad bekend gemaak.

Vir ’n volledige lys van al die wenners besoek www.atkv.org.za.

The post ATKV-Mediaveertjie-wenners: LUISTER-kategorie appeared first on LitNet.

ATKV-Mediaveertjies vanjaar aanlyn

$
0
0

Die ATKV-Mediaveertjies vereer die blinkste sterre in die mediabedryf vir hul uitstekende werk en deursettingsvermoë. Vanjaar word die wenners in die luister-, lees- en kykkategorieë aanlyn bekend gemaak.

Maak seker dat jy op 20 Mei, 21 Mei en 22 Mei om 09:00 die ATKV se Facebook-blad dophou om uit te vind wie vanjaar bekroon word.

Vir ’n volledige lys van al die wenners besoek www.atkv.org.za.

The post ATKV-Mediaveertjies vanjaar aanlyn appeared first on LitNet.

Uitstelling van die Winterskool 2020 van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit tot verdere kennisgewing

$
0
0

Ons land, soos ander wêrelddele, verkeer in die greep van die COVID-19 virus-pandemie.

Onsekerheid oor wanneer die gepaardgaande gesondheidsgevare sal gewyk het, asook of die Noordwes-Universiteit, gastehuise, lugrederye en ander instellings teen 1-5 Junie gewone bedrywighede hervat sal hê, noop die ATKV-Skryfskool om Winterskool 2020 (soos beplan vir die genoemde datums) uit te stel tot verdere kennisgewing.

Die personeel van die ATKV-Skryfskool wens alle belangstellendes in, en betrokkenes by, Winterskool 2020 geborgenheid en ongeskondenheid toe in die ramptydperk wat voorlê.

 E-posadres vir navrae: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za.

Lees die oorspronklike persvrystelling hier:

Persvrystelling: Winterskool met skryfkompetisie vir opkomende skrywers

The post Uitstelling van die Winterskool 2020 van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit tot verdere kennisgewing appeared first on LitNet.

Viewing all 493 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>