Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 508 articles
Browse latest View live

Oor rassisme: Die ATKV bou aan ons erfenis

$
0
0

Bekommerd oor wat op ons kampusse gebeur? Bekommerd oor die vlaag rassisme wat weer kop uitsteek?

Vroegoggend op 3 Maart 2016 het die ATKV ’n kort persverklaring oor rassisme uitgereik wat ook na al hulle lede gestuur is. ’n Aantal uur later, in Bonteheuwel op die Kaapse vlakte, het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, hierop uitgebrei tydens ’n onderhoud met Amore Bekker op RSG.

In dié verklaring het die ATKV gesê miljoene Suid-Afrikaners is diep besorg oor die groeiende spanning tussen landgenote, die toename in rassevoorvalle en die geweld en vandalisme tydens protesoptredes by universiteite. Verskeie gesprekke oor rassisme en die negatiewe invloed daarvan op ons land is tans aan die gang. Die ATKV neem ook deel aan hierdie gesprekvoering, en wil dit onomwonde stel dat hulle enige vorm van rassisme verwerp.

“By die ATKV glo ons dat Suid-Afrikaners moet handevat en saamwerk om probleme en uitdagings die hoof te bied. Daarom wil ons ʼn beroep doen op Suid-Afrikaners van alle rasse om na mekaar uit te reik. Net deur mekaar beter te leer ken, kan ons mekaar verstaan en sáám bou aan ʼn beter Suid-Afrika,” sê Japie Gouws.

Gouws het ook gesê Suid-Afrikaners mag nooit vergeet hoe ’n ver pad ons die afgelope 22 jaar as demokrasie gestap het nie. “Dinge kon baie anders uitgewerk het, maar Suid-Afrikaners van alle rasse het al eenmaal bewys dat ons ’n pad van vrede kán stap in hierdie land. Ons durf nie toelaat dat vrees en woede ons van koers laat verander nie. Ons mag ook nie toelaat dat politieke leiers rassekwessies misbruik om vrees en onsekerheid tussen landgenote te saai nie.

Die ATKV doen ’n beroep op ATKV-lede, asook alle Suid-Afrikaners om hernieude oproepe vir versoening te ondersteun en te bevorder. Wanneer die geleenthede vir gesprekvoering opduik, sal ons by die ATKV in gesprek tree met individue, groepe en ook die regering ten einde ʼn nuwe vrede vir ons land te help bewerkstellig.”

Bonteheuwel, waar Gouws ’n paar uur later opgetree het, is ’n arm woonbuurt wat dikwels die pers haal weens bendegeweld. Dit is ook een van die kunsmatige buurte wat op die Kaapse vlakte gestig is ná die inwoners van Distrik Ses hulle huise verloor het.

Op 3 Maart om 15:00 is daar egter feesgevier in Bontheuwel. Die feesgeleentheid was die bekendstelling van Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker se boek Kook saam Kaaps. Dié twee tannies van die Kaapse vlakte het bekend geword op Amore Bekker se program, Tjailatyd, deur met hulle heerlike Kaapse resepte in te bel en met die land te deel.

RSG, in samewerking met LAPA Uitgewers en die ATKV, het toe ’n bekendstelling gereël in die Bontehuewel. Die geleentheid is direk uitgesaai.

Tydens die uitsending het Bekker aan Gouws gevra waarom die ATKV geld sou spandeer op ’n resepteboek. Gouws se antwoord was: “Dit is ons erfenis. Die ATKV wil hierdie erfenis help bewaar.”

Hy verwys toe na standbeelde wat aangeval word en sê dat boeke soos Kook saam Kaaps nuwe maniere kry vir Suid-Afrikaners om saam te staan. Standbeelde is maar een deel van ons erfenis, deur saam te eet en resepte te bewaar vir die nageslag, bou ons aan nuwe maniere om rassisme te beveg.

Die hip-hop-kunstenaar Hemelbesem het by die geleentheid opgetree ná hy die hele dag in Mitchellsplein voorbrand gemaak het vir ATKV-Crescendo. “Ons soek jóú dialek,” was sy boodskap aan mense wat wil deelneem aan hierdie jaar se Crescendo.

Afrikaans bestaan uit vele stemme en vele dialekte en die ATKV wil met Crescendo ook daardie stemme vasvang as deel van Suid-Afrika se erfenis.

The post Oor rassisme: Die ATKV bou aan ons erfenis appeared first on LitNet.


US Woordfees 2016: Philida van die Delta

$
0
0

Philida van die Delta is gemeenskapsteater, maar min sou dit sê as hulle daar was. Die deelnemers, die orkes en die skrywers is meestal plaaswerkers in diens van Solms-Delta wynlandgoed. Enige persoon wat al die Delta Soetstemme en die Delta Langbroek-orkes beleef het, sal weet hulle is puik.

philida_cornelisbrink

Vir hierdie vertoning is enkele professionele mense se hulp ingeroep, maar dit was oorwegend amateurs op die verhoog. Daar was ook deelnemers van Babylonstoren en die Breytenbach Sentrum.

philida_adriaanspring

Die produksie is moontlik gemaak deur die ATKV in samewerking met Solms-Delta, Babylonstoren en die Breytenbach Sentrum.

Philida, die slavin van wie André P Brink geskryf het, was ’n breislaaf op De Delta, wat in daardie tyd aan die Brink-familie behoort het.

philida_ouma

Die stuk is aangebied as hedendaags, met terugflitse. Dit was metateater oor die wynbedryf. Die program sê dit is ’n “musiekblyspel vol liefde, hartseer, korrupsie, onderdrukking en bemagtiging.” Beter kan ek nie.

philida_dievertellers

Frans, die seun van die boer Cornelis Brink, gaan “lê” by Philida en kry drie kinders by haar. Hy beloof haar dat hy haar sal vrykoop wanneer hy "baas" word, maar sy pa, Cornelis, is in ’n finansiële verknorsing en wil Philida en die kinders verkoop.

philida_frans

Philida word verkoop, beland in Worcester en leer uiteindelik lees en skryf.

philida_maria

philida_jongslavin

Dit was puik teater, en ’n baie groot rede vir die sukses kan toegeskryf word aan Adriaan Brand, toenmalige trompetseler van die Spingbok Nude Girls, wat tans die musiekdirekteur van Solms-Delta is. Sy energie, sy passie en sy vermoë om mense te laat deel in sy passie, was aansteeklik.

philida_leer_lees

 

Samestelling: Adriaan Brand, Nick Turner, Leonore Bredekamp, Jervis Pennington en die Delta Soetstemme

Musikale verwerking: Adriaan Brand, Carlo Fabe en die Delta Langbroek-orkes

Regie: Bongile Mantsai

Spelleier: Amelda Brand

Teksontwikkeling: Ameld Brand, Sanna Malgas, Elsie Cupido, Linda Farmer, Sarie Pietersen en Gershwin Cloete

Met: Camelia Florence, Delta Soetstemme, Delta Langbroek-orkes en lede van die Babylonstoren en die Breytenbach Sentrum

The post US Woordfees 2016: Philida van die Delta appeared first on LitNet.

Binne die skool, buite die kurrikulum, vind jy jou doksa

$
0
0

‘n Artikel getitel Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp deur Henry Fillies en Aslam Fataar het onlangs (2015) in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn.

Die volgende gesprek het hieruit voortgevloei: "Meneer, ek wil net iets word ..."

Met hierdie bydrae neem Izak de Vries die gesprek nou verder. Hy vestig ook lesers se aandag op produksies wat by vanjaar se KKNK nie misgeloop behoort te word nie.

***

Diegene wat gelukkig genoeg is om na die KKNK te gaan, moet beslis probeer bespreek vir twee toneelstukke. Die eerste is Die einde, en die tweede is Vyf: ’n dokumentêr.

As jy tieners het, moet hulle asseblief saamgaan. (Die einde dra wel ’n waarskuwing van niemand onder 16 nie; wees asseblief bewus daarvan.)

Ek was bevoorreg om onderhoude te kon voer met die spelers, en wil graag enkele insigte deel. Vir meer inligting oor die toneelstukke self, klik hier.

Twee totaal verskillende skole

Die twee skole wat hierdie toneelstukke opvoer, kan moeilik verder van mekaar verwyder wees – ons praat in afstand, maar ook agtergrond. Randfontein High School is ’n tegniese skool in ’n bitter arm buurt. Die leerders is oorwegend swart. Hulle ken geweld; die meeste ken iemand in die tronk. Die Hoër Meisieskool Bloemhof, in Stellenbosch, is geleë in een van die rykste distrikte in die land en trek dan ook gegoede leerders. Dit is lank nie meer oorwegend wit nie, maar daar is duidelik bevoorregting ter sprake. Tog is daar enorme raakpunte; dit is waarop ek wil konsentreer.

In albei skole word drama aangebied as ’n manier om aan jongmense ’n stem te gee. Drama, op hierdie vlak, word buite die kurrikulum aangebied; dit is addisioneel tot die leerders se skoolwerk.

’n Teoretiese raamwerk

In my gesprekke het ek jongmense ontmoet wat hulleself moes leer ken, wat hulle omgewings moes leer ken, die binne- en buite-ek moes versoen en toe eers kon hulle op die hoogste vlak toneelspeel. Dit is vaardighede wat nie binne die kurrikulum gedek word nie.

Daar is twee teoretiese kapstokke wat my eie ondersoek onderlê.

Die eerste is ’n artikel op die webruimte van Progressive Christianity; die titel is “9 Eternally Vital Life Skills (That They Don’t Teach You in School)”. Die skrywer, ’n onbekende blogger, maar heel waarskynlik ’n Amerikaner, is een van ’n groeiende aantal mense wat hul kinders tuis onderrig omdat hulle geduld verloor met die formele skoolstelsel. Die skrywer moedig uiteindelik mense aan om “unschooling” toe te pas. 

Die tweede is ’n akademiese artikel hier op LitNet. Die skrywers, Henry Fillies en Aslam Fataar, ondersoek maniere waarop arm, werkersklasleerders in ’n staatskool hulleself sien in ’n soeke na hulle identiteit. Die titel is “Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp”. Klik hier vir die artikel. 

Myns insiens het drama, wat buite die formele kurrikulum aangebied word, aan die leerders in die twee skole die weg gebaan om hulleself te leer ken – dus, om die doksa waarna Fillies en Fataar verwys, te bereik.

Die onbekende blogger wil die skoolsisteem ongedaan maak. Die probleem is dat sy uitweg, tuisonderrig, nie beskore is vir die grootste gros leerders nie. Selfs ouers wat dit finansieel kan bekostig, sou vele redes hê om steeds hulle kinders in ’n formele skoolsisteem te hou.

My onderhoude met die leerders van die twee skole, ryk en arm, het getoon dat die formele sisteem se gebreke aangepak, getoets en op ’n metavlak aangepak is deur die leerders. Nie net kon die leerders die gebreke identifiseer nie, hulle kon dit ook verwoord en met ander deel. Dit sou dus blyk dat “doksa” moontlik is binne ’n formele skoolstelsel, mits die leerders aangemoedig word om deel te neem aan iets soos die ATKV-tienertoneel wat buite die formele kurrikulum aangebied word.

Wat hier volg, is ’n kort opsomming van elke toneelstuk, asook my gesprekke met die leerders ná ek die stukke gesien het. Dit word vermeng met die teorie van Fillies en Fataar.

Oor Die einde

Die einde, deur Stephen Kotze, is ’n keiharde stuk oor die wrede bendekultuur in Suid-Afrika se jeugstrafstelsel. Dit is bitter eerlik. Die hoofkarakter, X, ook bekend as Generaal, is ’n genadelose, wrede leier wat vir homself ’n wyfie neem. Die wyfie, Cupcakes, misbruik sy posisie om die tronksel waarin die stuk afspeel, te polariseer.

Die Einde (foto: Izak de Vries)

In 2015 word Randfontein High School as die naaswenner van die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie aangewys, ten spyte daarvan dat die stuk erg kontroversieel is en sommige mense selfs wonder of dit op die Tienertoneelplatform toegelaat moes gewees het.

Antonio Martin, wat Cupcakes speel, wen ook die toekenning vir die mees belowende speler.

Loyame Mlawuli, as Einstein, wen die toekenning vir die beste manlike akteur in ’n ondersteunende rol.

Vir sy gemene spel op die verhoog wen Cantona James, as X, die gesogte titel van die beste manlike hoofrolspeler.

Dit is het einde niet: Mokgadi Mabitsele wen ook die prys as beste beligtingsoperateur.

Ná die tyd het ek aan die span gevra hoekom hulle so ’n stuk gedoen het. Hulle was teen daardie tyd bewus van die kritiek, en het openlik oor hulle eie agtergrond gesels.

Die meeste van hierdie spelers ken mense in die tronk. Hulle skool is geleë in ’n arm gebied waar misdaad nie iets vreemd is nie. Tog – dit is een ding om misdaad om jou te hê, maar dit verg iets gans anders om daardie rolle op die verhoog te vertolk.

Nie een van die spelers was gemaklik met hulle karakters nie; hulle moes dus baie hard werk om daardie vlakke van tegniese beheersing te behaal. “Commitment” is die een woord wat die hele tyd voorgekom in ons gesprek. (Die leerders se skooltaal is Engels, ons gesprek het tussen Afrikaans en Engels gemeander.)

Cantona James, die wrede X, sien homself byvoorbeeld as ’n saggeaarde seun. Die ander stem saam. Maar hoe doen hulle dit dan?

Die leerders noem twee tegnieke. Harde werk en navorsing was een tegniek, maar om oortuigend op die verhoog te wees, moes hulle ’n woede diep in hulleself vind. Hulle is deur hul regisseur gehelp om die negatiewe in hulle omgewing op te vang, dit te internaliseer, en kwaad te word daaroor. Daardie woede, daardie bewussyn van die onreg waarmee hulle as skoolgemeenskap saamleef, was wat hulle vir 45 minute lank in monsters kon omskep op die verhoog.

Indrukwekkend.

Toe vertel die seuns my egter hoe hulle daarna, ná elke oefening en ná elke optrede, ook weer moes leer om die negatiewe neer te lê, om aktief uit daardie rol uit te klim, anders sou die woede hulle agtervolg.

As ons nou vir ’n oomblik na die baie teoretiese stuk oor doksa kan kyk: Fillies en Fataar beweer: “In hul woonbuurt is werkersklasleerders soos die spreekwoordelike vis uit die water, want die woonbuurt kan hulle nie die vereiste kulturele kapitaal bied om in die skool te presteer nie.”

In my gesprekke met die leerders van Randfontein High was die negatiewe omgewing waarin hulle skool geleë is, ook ’n kwessie. Dit het ’n geweldige “commitment” van elke leerder geverg om bloot by oefeninge te kom en daaraan deel te neem.

Die harde werk is beloon.

Hennie van Greunen, een van die beoordelaars, het tydens die eindronde opgemerk dat dit toneelspel van die hoogste standaard verg om in die ATKV-Tienertoneel te seëvier – spel wat volgens hom op professionele standaard moet wees.

Fillies en Fataar wys daarop dat leerders in ’n arm gebied dikwels droom en hard werk om bo uit te kom; hulle praat van ’n “belegging in die spel”. Die probleem is egter: “Hul idees van ’n gewenste toekoms word gegrond op realiseerbare prestasies. Hierdie aspirasies is gewoonlik buite die bereik van hierdie werkersklasleerders in hul strewe in die markte van hoofstroom skoolopleiding en verdere onderwys. Dikwels ontaard hul ‘wenslike toekoms’ in ’n fantasie, want hul habitus is nie bevorderlik daarvoor nie. Dit laat leerders verder twyfel in hul vermoë om hoëstatusberoepe te betree.”

Wat ek gesien het by die leerders van Randfontein High, was suiwer vasbyt. Tegnies het hulle geskitter. Daarvoor is hulle beloon. Hierdie leerders gaan binnekort op die KKNK se verhoë optree en met die land se heel beste akteurs meeding, danksy borgskappe van die ATKV.

Daarna?

Nie al die seuns wil akteurs word nie, maar hulle weet dat geweldig harde werk hulle wel bo kan laat uitkom. Die “belegging” waarvan Fillies en Fataar praat, is reeds gemaak. ’n Deel van die opbrengste sal op die KKNK gesmaak word, maar hierdie leerders het reeds aan hulself bewys dat hulle kan uitstyg. Wat ná skool gebeur, is in hulle hande, maar hulle CV’s lyk reeds indrukwekkend.

Vir Fillies en Fataar is dit belangrik dat leerders hulleself binne hulle omgewing moet plaas en daarvandaan die hindernisse oorwin. Hulle werk met “die aanname dat jongmense hulself op vindingryke wyses en briljante selfidentifiseringsmeganismes vorm deur oor hul private en publieke rolle te onderhandel, asook deur hul toekomste in die lig van die stresvolle omgewings waarin hulle hulle bevind, uit te kerf. Hierdeur sien kinders moontlikhede in wat andersins hindernisse sou wees; hulle is ontvanklik vir agentskap en genereer alternatiewe opsies.”

Die einde is, soos reeds gemeld, opgevoer deur kinders uit ’n brandarm buurt. Maklik was hulle pad nie. Talle uitdagings lê nog vir hulle voor, selfs ná hulle van die KKNK se verhoë afstap.

Dat hierdie kinders egter selfinsig en ’n innerlike krag, ’n geloof dalk, in hulleself het, en dat hulle die omgewing waarin hulle woon, kon bestudeer en op die verhoog kon uitspeel, was vir my duidelik. Ek sou vermoed die leerders van Randfontein High het hulle eie identiteit gevind. Hulle het ook maniere gevind om hulleself te omvorm na ’n geloofwaardige “ander” op die verhoog, en om dan weer hulle eie identiteit aan te neem.

Hulle omstandighede het hulle nie weerhou van die vind van ’n eie identiteit binne ’n groot, moeilike milieu nie, net soos hulle arm agtergrond hulle nie weerhou het daarvan om vanjaar met die land se beste toneelspelers mee te ding nie.

Fillies en Fataar waarsku: “Alhoewel sommige leerders die skool gemotiveerd verlaat, vind hulle dit moeilik om werk te kry of om verder te studeer. Hierdie skoolverlater-jeugdiges dra ook by tot die hoë werkloosheidsyfers van die woonbuurt.”

’n Mens se hart breek by die aanhoor van sulke stellings.

Die leerders van Randfontein High het egter ten tye van ons gesprek reeds ’n idee gehad wat hulle wou word.

Ek hoop, ek vermoed selfs, hulle staan ’n kans om die moeilike pad na professionele sukses aan te pak; hulle “commitment” sal hulle dra. Hulle het reeds besef: sukses is moontlik; realistiese teikens kán met harde werk en selfondersoek behaal kan word.

Oor Vyf: ’n dokumentêr

Wat gebeur regtig in ’n meisieskool? Vir die buitestander is dit ’n geheime plek. Bloemhof stoot die deur oop en nooi ons binne.

Vyf (foto: Izak de Vries)

Die vyf jaar wat die meisies in hierdie bevoorregte skool deurbring, word ondersoek en met humor opgevoer. Dit is nie altyd maklik nie, want hierdie leerders moet nie net met die kurrikulum, vriendinne, seuns, die onderwysers en die skoolreëls uithou nie, hulle moet ook egskeiding en ouers wat hopeloos te veel verwag, die hoof bied.

Elke liewe stukkie dialoog in hierdie drama is nagevors en kom direk uit onderhoude van hulle skoolmaats, onderwysers of ouers. Niks is versin nie.

In 2015 wen Hoër Meisieskool Bloemhof die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie met hierdie produksie, asook die prys vir die beste ensemblewerk.

Inge Heyns wen ook die prys as die beste klankoperateur.

Bloemhof se leerders kom uit gegoede huise; sommige se ouers is selfs ryk.

Fillies en Fataar se kommer dat weens “die hoë werkloosheidsyfer beskik baie ouers nie oor die nodige hulpbronne om hul kinders na tersiêre instellings te stuur nie, want dit vereis gelde, sowel as reis- en/of verblyfkoste” geld nie hier nie.

Waarom dan soek na ’n begrip van “doksa” by hierdie skool? Dit is tog totaal anders as die paradigma waarmee die twee akademici gewerk het in hulle ondersoek na werkersklaskinders? Fillies en Fataar verduidelik dat dit vir hulle gaan oor “sowel die hoe as die wat van sosiale werklikhede. Dit wentel om hoe mense hul ervarings en hul wêrelde bou en die samestelling van betekenis wat hul beleefde aktiwiteite toelig en vorm.”

Hoogs teoreties, maar dit is presies wat die leerders van Bloemhof baie prakties gedoen het. “Doksale opvattings lei tot ’n sosiale konsensus oor hoe dinge in enige gemeenskap werk en behoort te werk”, aldus die akademici. Die leerders van Bloemhof het gaan uitvind wat die “sosiale konsensus” in ’n meisieskool behels.

Die spelers het by vriende en onbekende meisies gaan sit; hulle het vrae gevra, hulle het gesprekke opgeneem. Die spelers het ander leerders gevra om hulle ervarings van skoolgaan neer te skryf; sommige het weer klandestien hulle selfone aangeskakel om interessante gesprekke mee af te luister en later te transkribeer. Toestemming is wel daarna gevra om dit te kon gebruik.

Hierdie magdom inligting is uiteindelik deur die toneelspelers verwerk in ’n vermaaklike, energieke stuk wat die kyker vir 45 minute vasgenael laat sit. Ek was bevoorreg om dit twee keer te sien binne 24 uur, en ek sou dit weer kon kyk.

Goed. Wat is doksa en wat het dit met die meisies van Bloemhof te doen? Fillies en Fataar sê: “In die breër sin van die woord gee dit patrone van denke en taal weer, asook hoe om op te tree, te stap, aan te trek, en so meer, wat in ’n sekere groep as voor die hand liggend beskou word.”

Presies. Gaan kyk Vyf: ’n dokumentêr. “Dames” – ’n term wat dikwels met spot in die stuk gebruik word – het sekere stereotiepe rolle in die samelewing en die onderwysstelsel waarbinne die leerders hulle bevind, dwing hulle om volgens sekere reëls op te tree. Die leerders bevraagteken die rolle. Dit moet dan ook. Fillies en Fataar sê dat “doksale oortuigings nie deur doelbewuste propaganda op individue afgedwing” kan word nie; verder “onderwerp agente hulle nie outomaties daaraan nie”.

Gaan kyk Vyf: ’n dokumentêr.

Ek het ook tot hierdie leerders toegang gekry en kon ’n baie interessante gesprek met hulle voer. Om ’n meisie te wees, selfs ’n bevoorregte meisie, het vele uitdagings. Wat agter die hoë wit mure gebeur, is nie altyd eenvoudig nie.

Ook aanvaar hierdie leerders nie meer klakkeloos die orde wat op hulle afgedwing word nie.

Die woord doksa kom nie een keer voor in Vyf: ’n dokumentêr nie, maar as ’n mens Fillies en Fataar lees, sou ’n mens kon dink hierdie jong “dames” [sic] het op ’n metavlak hulle doksa gaan soek en in hierdie toneelstuk uitgespeel.

Vyf: ’n dokumentêr sorg vir baie vermaak. Die stuk is slim aanmekaar gesit, tonele wissel vinnig af en die spelers het geweldig baie energie op die verhoog.

As jy ’n tienerseun of -dogter het, of gaan hê, gaan kyk dit.

Dit werk ook vir seuns. Ek het onderhoude gevoer met van die gehoorlede. Twee seuns van ’n tegniese skool in Fraserburg wat die stuk gesien het, was dit eens dat dit baie goed was.

“Hoekom?” wou ek weet.

“Dieselfde issues, net verskillende geslagsdele,” was die een knaap se antwoord.

Unschooling?

Die ATKV spandeer jaarliks 'n fortuin ​​op onderwys. Besoek gewoon hulle webblad en kyk na die werk wat in formele onderwys ingaan – ook in skole en omgewings wat niks met Afrikaans te doen het nie.

Die ATKV kan egter nie die kurrikulum verander nie.

Talle van die probleme wat die blogskrywer het met skole in die VSA, sien ons daagliks ook in Suid-Afrika. Die blogger stel nege punte voor waar die skoolsisteem ons leerders faal. Hy sê leerders sukkel om:

  1. vrae te vra
  2. oplossings vir probleme te vind
  3. projekte aan te pak
  4. hulle passie te vind
  5. onafhanklik te wees
  6. gelukkig te wees op hul eie
  7. barmhartig te wees
  8. verdraagsaam te wees
  9. verandering te hanteer.

Klink dit bekend? Ja.

Is die antwoord egter tuisonderrig? Dalk juis nie.

Gaan kyk na die wenner en die naaswenner van die ATKV-Tienertoneel by die KKNK.

Gaan kyk hoe knap werkersklasleerders uit Randfontein die probleme in hulle omgewing verwerk en op die verhoog aanbied.

Gaan kyk hoe die meisies van Bloemhof hulle bevoorregte bestaan bevraagteken, dekonstrueer en uiteindelik in ’n prettige toneelstuk verwerk.

Hierdie leerders ervaar wel die frustrasie van ons formele kurrikulum; beide skole se leerders is vasgevang in sosio-ekonomiese rolle wat hulle uit eie oorweging kon bevraagteken. Dit is in die ekstrakurrikulum dat hierdie leerders die kans gegun is om die orde, of gebrek daaraan, van hulle bestaan te bevraagteken. Hier geskied kritiese denke. Hier word eie identiteit, binne in die groter samelewing, gekweek. Fillies en Fataar noem dit “doksa”.

Waar die blogger “unschooling” aanmoedig, bied ATKV-Tienertoneeel, en verskeie ander buitemuurse aktiwiteite in ons skole, hoop vir ons kinders buite die kurrikulum, maar steeds binne die formele skoolstelsels.

Feesgangers by die KKNK moenie hierdie twee professionele produksies, aangebied deur ATKV-Tiertoneel, misloop nie.

Meer oor Die Einde by die KKNK

Aangebied deur ATKV-Tienertoneel.

Met: Cantona James, Jamain Dickson, Loyame Mlawuli, Kyle Treasurer, Antonio Martin en Wade Ramsey
Vervaardiger: Randfontein High School
Regie: Stephen Kotze en Amanda Jankowitz
Teks: Stephen Kotze
Vertaling: Amanda Jankowitz en Jenine Henning
Klankoperateur: Tshiamo Segone
Beligtingsoperateur: Mokgadi Mabitsela
Kostuumontwerp: Gabriella Green en Jaqueline Makhatini.

Afrikaans | Geen o/16 GSDT | R90 | 45 min Griesselsaal | 29 Maart 15:30 | 30 Maart 12:00

Klik hier vir meer inligting.

Klik hier om kaartjies te bespreek voor die saal vol word.

Meer oor Vyf: ’n dokumenter by die KKNK
Aangebied deur die ATKV-Tienertoneel

Met: Alé du Toit, Andréa van der Merwe, Carla Bester, Jeani Heyns, Margeaux Goosen, Mieke van Schoor, Monique du Plessis, René Cloete en Suzann Beukes
Vervaardiger: Hoër Meisieskool Bloemhof
Regie: André Gerber
Assistentregisseur: Elizabeth Munro
Choreograaf: Gabriella Bishop
Klankontwerp: Erik Botes
Klankoperateur: Inge Heins
Beligtingsontwerp: Miranda Joubert

Afrikaans | OB | R90 | 45 min | Griesselsaal| 29 Maart 18:30 | 30 Maart 09:00 

Klik hier vir meer inligting.

Klik hier om kaartjies te bespreek voor die saal vol word.

Bronne

Anoniem: 2015. 9 Eternally Vital Life Skills (That They Don’t Teach You in School). ProgressiveChristianity.org. 26 August 2015. Te kry by http://progressivechristianity.org/resources/9-eternally-vital-life-skills-that-they-dont-teach-you-in-school/ (Laas gelees 21 Maart 2016.

Fillies, Henry en Aslam Fataar. 2015. Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp. LitNet Akademies (Opvoedkunde), 12(3). Te kry by http://www.litnet.co.za/doksa-en-verwerkliking-van-leeridentiteitspraktyke-van-hoerskoolleerders-in-n-landelike-werkersklasdorp/ (Laas gelees 21 Maart 2016.)

Kruger, Estelle, Henry Fillies en Aslam Fataar. 2015. Gesprek: "Meneer, ek wil net iets word ..." LitNet. 10 Desember 2015. Te kry by http://www.litnet.co.za/meneer-ek-wil-net-iets-word/ (Laas gelees 21 Maart 2016.)

 

 

The post Binne die skool, buite die kurrikulum, vind jy jou doksa appeared first on LitNet.

ATKV/Kuier-gedigtekompetisie

$
0
0

Hou jy daarvan om gedigte te skryf?

Stuur in jou gedig, jy kan lekker kontantpryse wen!

Junior kategorie:

  • Graad 8 tot 12-leerders

Senior kategorie:

  • Volwassenes

Prysgeld

Junior kategorie:

  • Eerste plek: R3 000
  • Tweede plek: R2 000
  • Derde plek: R1 000

Senior kategorie:

  • Eerste plek: R5 000
  • Tweede plek: R4 000
  • Derde plek: R3 000

In vanjaar se kompetisie gee ons lewe aan die woorde op papier en Hemelbesem het ingestem om die algehele wengedig deur performance poetry op te voer. 

Kyk hier na ’n voorbeeld hoe Hemelbesem dit doen:

Sluitingsdatum vir inskrywings: 31 Mei 2016

Stuur jou gedig per e-pos na kuier@kuier.co.za met ATKV-gedigtekompetisie in die onderwerplyn; OF pos dit na ATKV-gedigtekompetisie, Posbus 1802, Kaapstad 8000; OF inbox dit na Kuier op Facebook by www.facebook.com/kuierinstyl

 

Reëls en voorwaardes:

  • Geen laat inskrywings word aanvaar nie.
  • Jy kan net een gedig inskryf en dit mag nie langer as 14 reëls wees nie. Jou gedig moet in Afrikaans (nes jy dit praat of skryf) wees, dit kan oor enige onderwerp handel en moet geen kru taal bevat nie.  Dit moet jou eie, oorspronklike samestelling wees en nie voorheen elders gepubliseer wees nie.
  • Inskrywings kan nie teruggestuur word nie en Kuier en die ATKV behou die reg voor om gedigte wat ingeskryf is, te publiseer.
  • Die finaliste en wenner word deur die redakteur en beoordelaars aangewys.
  • Die redakteur se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal verder hieroor gevoer word nie.
  • Werknemers en naasbestaandes van Media24, die ATKV en ander borge mag nie aan die kompetisie deelneem nie. Deelnemers moet Suid-Afrikaanse burgers wees.  Diegene wat jonger as 18 is, moet skriftelike toestemming van hul ouers kan bewys.
  • Pryse is nie oordraagbaar nie.
  • Die finaliste en wenners moet bereid wees om in Kuier te verskyn en aan bemarkingsaktiwiteite van Kuier en die ATKV deel te neem.

Gedigtekompetisie

The post ATKV/Kuier-gedigtekompetisie appeared first on LitNet.

Foto's: WOORDtroFEES 2016

$
0
0

Die wenners van vanjaar se WOORDtroFEES is Maandag 18 April tydens 'n geleentheid in die Stellenbosch Stadsaal aangekondig. Die WOORDtroFEES, geborg deur die ATKV, gee erkenning aan die uitblinkers van 2016 se US Woordfees.

_MG_3675

Die WOORDtroFEES staan gereed om toegeken te word.

_MG_3686

Die akteurs Marlo Minnaar en Esther von Waltsleben het as seremoniemeesters opgetree.

_MG_3690

Fiona van Kerwel verwelkom die gaste.

_MG_3693

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep

_MG_3699

Antonia du Toit van Rietenbosch Primêr, Cloetesville, is bekroon as WOW Opvoeder van die Jaar.

_MG_3714

Strand Sekondêr is aangewys as die WOW Skool van die Jaar. Mnr Philips het die prys in ontvangs geneem.

_MG_3730

Ju-Ju Domingo en  Lucas Heinen is met die Deurbraak-trofee vir jong opkomende talent vir The Banquet: The Room of Dreams bekroon.

_MG_3739

Praat van die duiwel is bekroon met die trofee vir Woordkuns. Johan Nel het in sy bedankingswoord gesê daar is drie persone vir wie hy eerstens wil dankie sê: "Nita, Nita en Nita."

_MG_3738

Dorothea van Zyl en Juanita Swanepoel

_MG_3747

Die trofee vir hoogste prestasie in visuele kuns gaan vanjaar aan Lien Botha vir Wonderboom. Werner du Toit van FNB het die prys oorhandig.

_MG_3773

Die Young Caballeros van Kaapstad

_MG_3788

Die trofee vir Klassieke Musiek, Vokaal is toegeken aan die Stellenbosch Universiteitskoor olv André van der Merwe.

_MG_3794

Die produksie Kô, lat ons sing! Carel Rootman van Sanlam het die prys aan Adriaan Brand oorhandig.

_MG_3804

Yvonne Chaka Chaka was by die WOORDtroFEES om op te tree, en was heeltemal verbaas om die trofee vir beste solo kunstenaar te ontvang. Carel Rootman van Sanlam het die prys oorhandig.

_MG_3817

Yvonne Chaka Chaka

Yvonne Chaka Chaka het die gaste in vervoering gehad met "Kana Uchema", 'n Shona-liedjie uit Zimbabwe.

_MG_3824

Woordfees-direkteur Saartjie Botha het die prys vir die Woordfees Helde oorhandig. Hierdie prys word bepaal deur die Woordfees-personeel en word toegeken aan mense wat 'n groot bydrae tot die sukses van die fees gelewer het.

_MG_3829

Die Fourie-broers, David en Henk, is vanjaar as die helde bekroon.

_MG_3840

Roelof Storm, die vervaardiger van A Doll’s House, het die trofee vir Beste Byspeler namens Rob van Vuuren in ontvangs geneem.

_MG_3843

Andrew Buckland het die trofee gewen vir Beste Speler vir sy rol in Tobacco and the Harmful Effects Thereof.  Ilzebet Oosthuizen het dit namens hom in ontvangs geneem. Azelia Morkel van Die Burger het dit oorhandig.

_MG_3855

Christiaan Olwagen is as Beste Regisseur vir A Doll’s House bekroon. A Doll’s House is ook vir Beste Produksie bekroon.

_MG_3857

Anet Vosloo en Christiaan Olwagen

_MG_3875

Die WOORDtroFEES vir Boeke word bepaal deur die boekverkope in die AKTV-boekwinkel tydens die Woordfees. Die topverkoper in die Leefstyl-kategorie was Kook saam Kaaps deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. Die prys is deur Japie Gouws van die ATKV oorhandig.

_MG_3874

Koelsoem Kamalie

_MG_3881

Flori Schrikker

_MG_3891

Ronelda Kamfer het die trofee vir die mees gewilde digbundel vir Hammie ontvang. Nico Koopman van die US het die trofee oorhandig.

_MG_3895

Die unieke Woordfees-kortverhaalbundel, Bly, was die topverkoper in die Prosa-kategorie. Suzette Kotzé-Myburgh het die prys in ontvangs geneem en het Madri Victor vir haar inisiatief vir die bundel geloof. Volgens Kotzé bied die bundel 'n uitstekende oorsig van waar die Afrikaanse kortverhaalkuns op hierdie stadium staan.

_MG_3903

Marlo en Esther neem 'n onsie.

_MG_3905

Woordfees-projekbestuurder Jana Hattingh

Klik hier vir 'n volledige lys van die WOORDtroFEES.

Lees ook: US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps wen 'n WOORDtroFEE

The post Foto's: WOORDtroFEES 2016 appeared first on LitNet.

Winterskool met trots in 2016 aangebied

$
0
0

 

31 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so – hierdie jaar met ’n Winterskool.

Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane kom vind. Van 30 Mei tot 3 Junie 2016 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan opkomende woordsmede.

Bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, geestelike fiksie en gedigte: Harry Kalmer, Debbie Loots, Loftus Marais, Anzil Kulsen, Susan Coetzer, Hans du Plessis en Franci Greyling.

Die hartklop van die Winterskool is die werkwinkels waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Helena Hugo (geestelike fiksie), Heilna du Plooy (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) sal die leiding by die drie werkswinkelgroepe neem.

’n Ander sterkpunt van die Winterskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. In 2016 kom maak verteenwoordigers van Protea Boekhuis, LAPA-Uitgewery en Maroela Media ’n draai by die Winterskool.

Stel jy belang om die Winterskool 2016 by te woon? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za; tel. 018 299 1783.  Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool vir onderhoude: bernard.odendaal@nwu.ac.za; tel. 018 299 1782.

 

 

The post Winterskool met trots in 2016 aangebied appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2016: Oop vir inskrywings

Bron van kennis in arm streke

$
0
0

 

sterskoolcelebs

“Ons voel soos celebs,” sê een van die meisies op die rooi tapyt.

“Julle is mos,” sê ek.

*

Soos 'n hert in dorre streke, skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke

...

In my prille jeug was Psalm 42 een van my gunstelinge. Donderdagaand, 12 Mei 2016, het dit gedurig deur my kop gedraai.

Die Hoërskool Sao Bras is ’n trotse fontein van kennis in ’n brandarm woonbuurt in Mosselbaai. Die skool verskaf onderrig wat gewoonlik net te kry is in duur privaatskole, tog kan talle leerders glad nie skoolgeld bekostig nie.

Sao Bras. ’n Mens spreek nie die laaste s uit nie.

Waar daar water geskep word

Sao Bras. Die skool is vernoem na plekke waar water volop is. Soos ’n oase in die woestyn, so is die skool, sê mnr H Petersen sommer met die intrapslag toe hy open met skriflesing en gebed.

H Petersen

Ondanks armoede, tik en vigs wat die skool omring, kon Sao Bras oor die afgelope 18 jaar ’n gemiddelde matriekslaagsyfer van 88% handhaaf. In 2013 was die syfer 97,2%. Dit is hierdie prestasies wat gemaak het dat die Hoërskool Sao Bras op 12 Mei deur die ATKV as ’n Sterskool aangewys is.

Leerders wat huishou

Jerome Steenkamp, projekleier vir die Sterskole en seremoniemeester by die geleentheid, plaas Sao Bras se prestasie in perspektief toe ons ontmoet, net ’n paar uur voor die toekenning.

Jerome Steenkamp

In hierdie arm woonbuurte is pa en ma dikwels afwesig, sê hy. Daar is verskeie redes, een is die geweldige lang ure wat mense werk. Die skoolkinders moet dan die huishouding aan die gang hou. Vanaand, wanneer hulle alles gedoen het in die huis, is hulle klaar moeg. Nou moet hulle eers begin leer.

Jerome, ’n oudonderwyser, weet waarvan hy praat. Dit is eintlik onregverdig om van kinders in sulke buurte te verwag om met kinders uit gegoede buurte mee te ding, sê hy.

Dit plaas egter die prestasie van skole soos Sao Bras net soveel duideliker in perspektief. Hulle ding nie net mee nie, hulle troef talle ander veel meer gegoede skole.

Groei

Die skoolhoof, Chantal Briesies, is baie trots op haar skool, wat die afgelope 52 jaar baie gegroei het. Hul eerste onderdak was ’n eenvoudige houtgeboutjie met vier klaskamers wat vandag nog in gebruik is. Daar was drie opvoeders en 65 leerders.

Die skool lyk tans heeltemal anders.

Chantal Briesies

Vandag is daar 1 201 leerders, ’n personeel van 39 opvoeders, twee administratiewe klerke, vier niedoserende personeellede en ’n koshuispersoneel van agt lede en ses toesighouers.

Die Hoërskool Sao Bras is deesdae gesog, want sukses lok sukses. Beide die Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland het reeds belê in Sao Bras, dus het die skool het deesdae uitstekende rekenaar- en laboratoriumtoerusting.

Die skoolkoshuis is gemoderniseer en word nou as ’n winsgewende besigheid bedryf wat weer geld genereer vir die skoolfonds, want talle van die leerders kan eenvoudig nie skoolgeld bekostig nie. Funksies soos troues en kongresse word hier aangebied.

Mense sien die sukses raak. Sakelui in die omgewing waardeer wat die skool doen en is dus bereid om by te dra.

Briesies het in haar toespraak genoem dat die skool se leuse is Fortuna Audaces Juwat. Dit beteken geluk begunstig dié wat moed het.

Ek vermoed dit is eerder ’n geval van sukses begunstig dié wat hard werk.

Nie altyd so maklik nie

Spreker ná spreker het vertel presies hoe hard almal moes werk om te kom waar hulle vandag is.

Mev Smith

Mev Smith, tans van die onderwysdepartement, is ’n baie trotse oudskolier van Sao Bras. Sy onthou hoe die onderwysers haar en die ander leerders in die 1980's aangemoedig het om aan te hou studeer toe die land gebrand en apartheid ’n ferm greep op almal gehad het.

“Julle mag nie nou ophou nie,” het die onnies gesê. In dieselfde saal waarin ons op 12 Mei feesgevier het, kon sy uiteindelik matriek skryf.

Daar was talle ander kwessies wat oorkom moes word. Weens die apartheidstelsel was daar gewoon nie veel opgeleide wiskunde- en skeinatonderwysers wat in ’n bruin skool sou kon of wou klasgee nie. In ’n stadium het die skool die plaaslike apteker gevra om skeinat te doseer – hy het minstens al die chemie verstaan!

D Petersen

Nog ’n oudleerder, mnr D Petersen, deesdae die hoof van ’n ander skool, onthou dat al die beste leerders uit die Mosselbaaistreek Worcester toe gegaan het waar daar gevestigde skole vir bruin kinders was. Sao Bras moes hard werk om sy goeie leerders te behou en net mooi toe hulle op dreef kom met hul wiskunde- en skeinatonderrig, val apartheid en die beste leerders loop onmiddellik weer na die voormalige Model C-skole.

Ondanks alles het die bestuur en die onderwysers van Sao Bras voortgegaan. Vandag is dit baie anders. Daar is talle leerders wat van baie ver af kom om deel te wees van hierdie wenspan.

Die skool het reeds ’n groot aantal mediese dokters en ingenieurs, ’n aktuaris en twee bekende akteurs opgelewer. June van Merch is ’n oudstudent, so ook Theodore Jantjies, wat Xander speel in 7de Laan.

Klim uit jou gemaksone

Theodore Jantjies was die gasspreker op 12 Mei.

Jantjies het bitter arm grootgeword in Heidelberg, ’n klein dorpie ’n aantal kilometer van Mosselbaai af.

Theodore Jantjies

Vandag wil hy ’n rolmodel wees vir alle kinders van Heidelberg en Mosselbaai.

Matrieks

“Klim uit jou gemaksone,” was sy boodskap aan die matrikulante wat die geleentheid bygewoon het. “Jou fondasie is reg.”

Wie se water was dit?

Danny Titus, hoofdirekteur Kultuur van die ATKV, het daarop gewys dat ons Sao Bras se geskiedenis moet terugspoor na die dag toe Dias by Mosselbaai aan land gegaan het tydens sy reis om die Kaap. Daardie water wat hy so dorstig geneem het, wie se water was dit? Wat was die regstelsels van daardie tyd? Dit is iets wat hom, as regsgeleerde, gereeld besig hou.

Danny Titus

Die ATKV doen daarom moeite om ook die geskiedenis te ondersoek vanuit die perspektief van die strand, nie net die perspektief van die skepe af nie, sê Titus.

Nog ’n voorbeelde van die ATKV se werk is Kook saam Kaaps, wat deur Lapa uitgegee en deur twee vroue van Bonteheuwel geskryf is. Vir twee agtereenvolgende weke was Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker die beste verkoper van alle Suid-Afrikaanse boeke. Dit wys jou, sê Titus.

Of wat van die riel? Die riel was sterwend tot die ATKV ingegryp het. In 2015 het Die Nuwe Graskoue Trappers in Los Angeles goud met die riel gewen.

Dit is waarin die ATKV belê en dit werk.

“Maar ons wou ook aan die onderwys ’n verskil maak,” sê hy. In Suid-Afrika is daar 24 000 skole, waarvan net 3 000 goed bestuur word. Die ATKV wil dit verander. Die Sterskoolprojek is een van die maniere om skole aan te moedig om te presteer.

Onderwys, my verantwoordelikheid

Seymour Bothman, senior bestuurder van onderwys by die ATKV, het die commendatio gelewer.

Seymour Bothman

Hy het onderstreep dat die ATKV se leuse is: Onderwys, my verantwoordelikheid.

Daarna is talle sertifikate oorhandig.

Chantal Briesies het die toekenning ontvang van Danny Titus. Die ATKV skenk ook ’n kontantprys van R15 000 aan die skool.

Al die topleerders van die vorige jaar is vereer, maar daar is  ook ’n besonderse toekenning. By elke Sterskoolfunksie vra die ATKV dat die skool een leerder sal aanwys wat goed presteer ondanks haglike omstandighede. Hierdie jaar is die prys gegee aan Angelo May. Angelo is ’n hert en het gedrink van die helder waterbeke wat Sao Bras hom gebied het.

The post Bron van kennis in arm streke appeared first on LitNet.


Potchefstroom Kunstefees: Alexa Strachan aangestel as bestuurder

$
0
0

Die Potchefstroom Kunstefees het bekend gemaak dat Alexa Strachan, bekende vervaardiger, skrywer, regisseur, sanger en akteur, aangestel is om die Potchefstroom Kunstefees vir 2016 te bestuur.

Japie Gouws, woordvoerder van groep van Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Potchefstroom Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes Universiteit, stigtersborge asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor jare, het die aankondiging op 19 Mei 2016 gemaak.

Alexa matrikuleer in 1987 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom, en behaal haar BA-graad met hoofvakke Wysbegeerte en Kunsgeskiedenis in 1991 aan die Universiteit van Pretoria.

Sy het haar loopbaan as onafhanklike vervaardiger, entrepreneur, skrywer, sanger en akteur oor jare gevestig. Haar jarelange noue verbintenis en samewerking met Sandra Prinsloo, PG du Plessis, Koos Roets en André Scholtz het haar in staat gestel om wye ervaring op te doen in die teater- en filmbedryf.

In die korporatiewe omgewing hanteer sy jaarliks die bestuur, samestelling en tekste van groot teater- en musiekproduksies, onder andere  SARIE se Voorbladgesig; FNB se Night with the stars; Atterbury Trust en Rust en Vrede se Versnit-konserte en Akademia se Sakeplankompetisies.

In opdrag van die Woordfees en in samewerking met musiekregisseur Schalk Joubert, vervaardig sy ook die 70ste verjaarsdagkonsert Anton Goosen – Liedjieboer, met onder andere David Kramer, Churchill Naudé, Sonja Heroldt, Robin Auld en Gert Vlok Nel.

Gouws het gesê dat hulle verheug is dat Alexa nou aan die hoof van die span staan om die fees tussen 4 en 9 Oktober 2016 in Potchefstroom te laat gebeur. Haar wye ervaring en kundigheid stel haar in staat om hierdie taak aan te pak.

Gouws het ook weer die volgende beklemtoon:

  • Die proses om aansoek te doen vir produksies het ook nou begin en skriftelike aansoeke kan per e-pos gerig word aan Potchfeesprogram@gmail.com. Die sluitingsdatum is 27 Mei 2016.
  • Aansoek vir stalletjies (op die feesterrein op die Bult) kan nou per e-pos gestuur word aan Potchfeesstalletjies@gmail.com. Die sluitingsdatum is 24 Junie 2016.
  • Die nuwe adres van die feeskantoor is Molenstraat 69, Potchefstroom.
  • Die landlynnommer van die feeskantoor is 018 175 0175.

The post Potchefstroom Kunstefees: Alexa Strachan aangestel as bestuurder appeared first on LitNet.

Pasop vir die bose engel, maan ATKV-hoof

$
0
0

LAPA se skrywers kuier by die ATKV se algemene jaarvergadering. Martin Steyn, Koelsoem Kamalie, Riette Rust en Flori Schrikker is genooi om die AJV by te woon. Hier saam met Japie Gouws, die uitvoerende bestuurder van die ATKV-Groep.


Die algemene jaarvergadering van die ATKV vind tans plaas by die ATKV-Goudini Spa. Op Woensdag 25 Mei 2016 het Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV-Groep, sy toespraak op ’n baie positiewe noot begin deur die suksesse van die ATKV-Groep uit te lig, maar toe skiet hy van die heup af met hierdie woorde van NP Van Wyk Louw:

            ... dan kom die bose engel na die domstes van so ’n vol
            en fluister vir hulle: “Julle kultuur is die hoogste, ja, die
            enigste werklike kultuur op aarde.”

            En hulle glo hom, want hulle ken nóg hulle eie kultuur, nóg die van ander
            volke.

Daar is verskeie redes waarom ons mismoedig kan wees oor die manewales in die parlement, beurtkrag, opruiende uitsprake deur demagoë en die skending van standbeelde, maar ons moenie toelaat dat politici ons land se onseker situasie uitbuit nie, sê Gouws. “Die regering en politici praat baie van sosiale kohesie en nasiebou, maar op die beste kom daar dadels van.”

Daarteenoor is die ATKV onlangs in koerantartikels beskryf as “aktief-inklusief”. Daarop is Gouws trots. “Dit ondersteun die ATKV se standpunt dat dit moontlik is om nasiebou deur middel van taal en kultuur te bewerkstellig.”

Die ATKV werk dus skaamteloos vir Afrikaans, maar doen dit deur inklusief te wees en nie na die bose engel te luister nie. “Die ATKV wil nie noodwendig as taalstryders bekend wees nie, maar eerder as die bouer van inklusiewe taalgemeenskappe tot voordeel van nasiebou en verbetering van die omstandighede van sprekers van inheemse tale.”

Voorbeelde hiervan is die insluiting van die ander inheemse tale saam met Afrikaans in alle kategorieë by vanjaar se Pendoring-toekennings vir Afrikaanse reklame, die hoogaangeskrewe meertaligheidsprojekte in Soweto, die ongekende suksesse van die ATKV se rieldansers, ook in die buiteland, die skep van die nuwe Afrikaanse resepikone Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker uit Bonteheuwel wat deur LAPA Uitgewers uitgegee is, die uitkomste van die ATKV se verskillende koorkompetisies, die oorweldigende suksesse van die ATKV-Tienertoneel, en die wêreldgehalte van die ATKV-Muziq- en ATKV-Muziqanto-wenners.

Die ATKV beywer hom ook skaamteloos vir die uitbou van moedertaalonderrig vir alle tale in Suid-Afrika, asook die behoud en die uitbou van die hoë funksies van Afrikaans én elke ander amptelike inheemse taal in Suid-Afrika. Dit is immers ’n feit dat ongeveer 90% van Suid-Afrikaners se huistaal nie Engels is nie.

Die ATKV is ook in gesprek met universiteite oor die hantering van Afrikaans. Wat veral pla, sê Gouws, is die openbare debatvoering oor die onderwerp wat dikwels tot polarisering lei. Die ATKV gaan dus voort met privaat gesprekke in hierdie verband.

Daar word ook gereeld met die Departement van Kuns en Kultuur, en spesifiek ook met hulle taaldirektoraat, geskakel rakende die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet Nr 12 van 2012. Hierdie wet verplig staatsdepartemente, semistaatsinstellings en staatsentiteite om oor ’n taalbeleid te beskik wat, in die praktyk, landsburgers in die amptelike taal van hul keuse moet bedien.

Die ATKV het oor die afgelope jare ook ’n goeie verhouding met die nasionale uitsaaier opgebou en is baie opgewonde oor die nuwe digitale kanale wat talle inheemse tale, waaronder Afrikaans en die onderskeie Khoisan-tale, insluit.

Ander voorbeelde van die werk wat die ATKV vir Afrikaans doen, is die borgskap van en direksieverteenwoordiging by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA); die ondersteuning van die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; samewerking met die Afrikaansdepartemente van die betrokke universiteite waar Afrikaans nog as vak aangebied word en ’n betrokkenheid by die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Die ATKV is ook betrokke by die aksies om wel in 2016 ’n Aardklop Kunstefees in Potchefstroom aan te bied.

“Ons is bekend as die mees inklusiewe Afrikaanse kultuurorganisasie, nie net ten behoewe van Afrikaans huistaalsprekers nie, maar ook toenemend tot die voordeel van addisionele sprekers van Afrikaans,” sê Gouws.

Ons is soos slaai

Vroeër het Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur, die suksesse van die ATKV se Kultuurafdeling uitgelig. Sy toespraak het ook gefokus op samewerking, maar, sê hy: “Dink aan ’n slaai. Al die stukkies bly uniek, tog saam maak hulle ’n geheel. Dis anders as ’n sop waar alles later oplos en eenders word.”

Titus is baie trots op sy Europese wortels. Dit is deel van die mengelslaai en deel van Afrikaans, maar dan het die ATKV in Soweto ook begin om Sotho-klasse aan te bied aan Afrikaanssprekendes. “Ons breek stereotipes af wat bestaan oor taal,” sê Titus. “Wat verhoed ons om ander tale aan te leer?"

Uitstekende finansiële posisie

Die ATKV is uniek as burgerlike en niepolitiese organisasie wat homself kan finansier en op hierdie vlak gaan dit ewe goed.

Die herstrukturering van die ATKV, wat verlede jaar deur die algemene jaarvergadering goedgekeur is, is geïmplementeer en die ATKV se sakebelange is nou gesetel in die 100%-filiaal ATKV-Sake. In hierdie maatskappy word die ATKV se belange in toerisme, leefstylbehuising en die Hartenbos Seefrontontwikkeling gehanteer.

Schalk Cilliers, die besturende direkteur van ATKV-Sake, het ook tydens die jaarvergadering vertel oor die opgradering van die oorde, sodat die ATKV mededingend kan bly.

Daar word ook baie gedoen om al die oorde meer omgewingsvriendelik te maak.

Twee van die oorde, ATKV-Drakensville en ATKV-Hartenbos, het Vuvuzela-toekennings gekry en Hartenbosstrand het hul Blouvlagstatus behou.

Verskeie sprekers het ook daarop gewys dat die ATKV die afgelope jaar deel geword het van die Verenigde Nasies se Global Contact (UNGC). Hiermee verbind die ATKV hom tot die UNGC se beginsels rakende menseregte, arbeid, die omgewing en antikorrupsie.

Ons mag nie laer trek nie

Japie Gouws het ná die toesprake van Titus en Cilliers afgesluit deur te sê: “Die Afrikaanse gemeenskap beskik oor die kennis en kreatiwiteit om nasiebou en versoening te bevorder en daardeur wesenlike bydraes tot die suksesse van Suid-Afrika te lewer.

“Die ATKV nooi u almal uit om met ons hande te vat en skouer aan die wiel te sit om die potensiaal van taal en kultuur en erfenis, tot voordeel van almal in Suid-Afrika te ontgin. Op hierdie wyse kan ons die bose engel ontbloot en eerlik met onsself wees. Ons durf nie laer trek nie. Ons moet die wa deur die drif trek.”


Daar was verskeie jeugtakke wat die AJV bygewoon het.

The post Pasop vir die bose engel, maan ATKV-hoof appeared first on LitNet.

ATKV-persverklaring: Afrikaans by die universiteite van Stellenbosch en Pretoria

$
0
0

Persvrystelling deur die ATKV

“Die nuus oor Afrikaans by die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria is nie goeie nuus nie, maar hoe hanteer ons dit vorentoe?” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep.

Die ATKV erken veeltaligheid en die dringendheid om addisionele kapasiteit vir tersiêre onderrig te vestig, maar dit is verkeerd om bestaande kapasiteit te verander en dit maar net met Engels te vervang. Afrikaans se hoër funksies bly in die slag en die bevordering van ander inheemse tale bly in die meeste gevalle, net lippediens. Afrikaans is ʼn belangrike opleidingstaal en die verdere inkorting daarvan ontneem opleidingsgeleenthede vir baie Suid-Afrikaners. Dit beïnvloed uiteindelik die regering se doelwitte om werk te skep en kundighede te ontwikkel.

Gouws sê dat die ATKV vroeër die week gesprek gevoer het met die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, prof Wim de Villiers asook prof Nico Koopman, viserektor.

“Prof De Villiers het verduidelik dat die nuwe taalbeleid in twee woorde saamgevat kan word, naamlik toeganklike veeltaligheid. Hy het verduidelik dat dit beteken dat, waar daar aanvraag is vir studies in Afrikaans, die beleid ten doel het om dit dan aan te bied,” het Gouws gesê. “Dit beteken dat die Universiteit Stellenbosch steeds ʼn Afrikaanse aanbod sal hê terwyl daar ʼn aanvraag daarvoor is.”

Die vraag wat dus gevra moet word, is hoe Afrikaanssprekendes met hierdie aanbod gaan omgaan? Die Universiteit Stellenbosch, by wyse van sy rektor, is steeds toeganklik vir Afrikaanse (en isiXhosa) onderrig en Afrikaanssprekende en isiXhosa studente moet hierdie geleentheid aangryp. Die ATKV glo steeds dat moedertaalonderrig ʼn sleutel tot sukses is en daar is baie studies wêreldwyd gedoen om dit beaam.

Gouws het ʼn beroep gedoen om van die Afrikaanse aanbod by die Universiteit Stellenbosch gebruik te maak deur studente daar in te skryf vir onderrig in Afrikaans.

“Proff De Villiers en Koopman het tydens ons gesprek onderneem om verdere gesprek te voer oor hoe instansies soos die ATKV en die universiteit kan saamwerk om veeltaligheid, moedertaalonderrig, taal- en kultuuraspekte en nasiebou gesamentlik te bevorder,” het Gouws gesê. “Die ATKV is van mening dat die hele taaldebat by universiteite uitgeloop het op verdeeldheid as gevolg van onvoldoende kommunikasie. Ons moet die beste daarvan maak om vertroue te herstel en te werk om bogenoemde doelwitte te bereik tot voordeel van alle diverse gemeenskappe in Suid-Afrika.”

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

The post ATKV-persverklaring: Afrikaans by die universiteite van Stellenbosch en Pretoria appeared first on LitNet.

Adam Small (1936–2016)

$
0
0

Gebore en getoë

Adam Small is op 21 Desember 1936 in Wellington in die Boland gebore. In 1937 trek die gesin na Goree, ’n buitewyk en sendingpos aan die Vinkrivier buite Robertson, waar sy pa, John Sylvester Small, meester was van ’n eenmanskool vir die kinders van die plaaswerkers. Hierdie wye, oop ruimte van sy vroeë kinderjare het ’n blywende indruk op Adam gelaat. Sy pa was ook Sondagskoolonderwyser en sy eerste skryfpogings was toneelstukkies vir die Sondagskool, wat die klassie dan opgevoer het. Adam het een suster, Mona.

“Ek was seker vyf, ses jaar oud. My pa het my altyd op sy huisbesoeke saamgeneem en Sondae het hy vir daardie stowwerige mense van die plaas kerk gehou. Daar is die woorde in Goree wat Daniel Hugo so prágtig vertaal het in Afrikaans. Daar sê ek: ‘En hy het hulle opgedra aan God en wanneer hy met God vir hulle ingestaan het, het ’n wonderlike ding gebeur ... en het hulle dit besef. Dit was nie nodig vir hulle om vir God báás te sê nie.’” (Aan Murray la Vita in Beeld van 13 September 2013)

Adam het tussen twee kulture grootgeword: in sy vormingsjare is hy in die huis van sy vader met sy Gereformeerde geloof en die Moslemhuis en Islamitiese geloof van sy moeder, ’n nooi Suleiman (hulle kon nog tot ’n mate Arabies hanteer). So is sy ouerhuis ’n huis van versoening, en dit is as gevolg van die invloed van beide sy ouers dat gemeenskapswerk ’n belangrike rol in die Small-huishouding speel, wat in Adam se latere lewe weerspieël word.

Einde 1944 verhuis die gesin na die Kaapse vlakte by Retreat, waar Adam se vader sy onderwysloopbaan voortsit in die NG Sendingskool en nou “meester” was vir die werkersklaskinders van daardie gebied. Sy vader was ook steeds betrokke by die kerk as diaken, later ouderling en ook as skriba, en Adam vergesel weer sy pa op sy rondes onder die armes en eenvoudiges. So leer Adam as kind ook die stedelike soort armoede van die Kaapse Vlakte ken, na sy vroeëre belewing van die plattelandse armoede van Goree.

Hulle het ’n gelukkige huislike lewe gehad. “Ek weet nou hoe my ouers ons teen die vernederings van ’n ongelyke maatskappy waar ons aan Klaas se kant was, al was Baas dan ook hoe ongekultiveerd, beskut het.” (Beeld, 4 November 2012)

Hy vertel aan Helize van Vuuren in Tydskrif vir Letterkunde, 2012: “Goree het my gemaak. Toe ek my sinne kom kry, was my pa die een enkele meester van daardie mense. Van Wellington, waar my ma ook vandaan gekom het – ’n Moslemvrou. Vakansies het ek daar in twee huise tuisgekom, die baie formele soort Calvinistiese NG Sendingkerk huis van my pa, en my oupa Adam. Ek was baie klein toe hy dood is. Hy was ’n tuinier, ’n baie indrukwekkende man, en my ouma Nellie.

“Die huis in Wellington was my geboortehuis, Terracestraat 12 (vandag 23). Die huis het eintlik behoort aan my oom Ernest – sy hele gesin het in die sestigerjare na Kanada geëmigreer. Hulle het die huis daar moes prysgee, het vir ’n ruk lank Kaapse Vlakte toe gekom, en is toe weg Kanada toe. Hulle Afrikaans het behoue gebly – twee of drie keer teruggekom vir vakansie – net buite Toronto gewoon, sneeu. Ek het hulle gaan ontmoet by die Niagaravalle. Hy kon nie oor die grens kom nie, en ek moes oor die grens. Hy was ’n NG dominee, maar hy het net oorsee gegaan, want hy het teen apartheid gepraat. Ek het in daardie jare daaraan gedink om weg te gaan.

“Ek het in daardie twee huise dan tuisgekom in die vakansie. My ma se van was Suliman … My oupa van ma se kant het ek nooit geken nie. Hy was ’n Indiër van Bombaai, eerste generasie hier … en met ’n wit, half-bruin vrou getroud – klomp Ierse bloed aan daardie kant. Die oupa was ’n denker. Hy’t hier ’n besigheid begin, en het op ’n tyd elke kafeetjie en winkeltjie in Wellington besit, maar hy’t agteruit geboer. Alles was later onder hulle uit. My ma was die geliefde dogter, want sy het boeke gelees. My suster is so twee jaar jonger as ek.

“Op Goree – dis vrek eensame wêreld, ons het nie vervoer gehad nie, die Kaap was destyds ver weg – het my ma vir ons boeke ingekry en vir ons stories gelees. Sy het vir ons gelees Die Arabiese nagte. Dit spook nog altyd by my. In my ma-hulle se huis was daar die reuk van miang, wierook en kerrie ook, die djirrah (die spesery-deel van kerrie, ’n byvoegsel, met ’n baie spesiale soort van geur en smaak). Die huis het altyd daardie geur gedra. Baie spesiaal.

“My pa het sy mense baie lief gehad, so ’n soort onderwyser-dokter wanneer hulle siek was. Vertrooster, raadgewer, en wanneer hulle doodgegaan het – meestal van die tering, omdat hulle baie gedrink het – het hy my saam gevat na die begrafnisse, en hulle teruggesit in die grond waaruit hulle gekom het. Dit was nog voor apartheid amptelik gekom het, maar apartheid was al ’n werklikheid. Miskien was ’n mens nog werklik te jonk, maar ek het altyd die vraag gevra, “Wat beteken die lewe vir mens wat uit daardie grond gekom het, en weer in daardie grond terug gesit word?” Die ou ballades is, soos Lewin Muir sê, beyond opinion – jy vra nie is dit ’n goeie gedig nie. Dit vertel jou van ’n lewe tragically accepted.

“My pa was daardie soort mens wat dit tragies aanvaar het, ek is nie die soort mens wat tragies aanvaar nie. My ma het dinge sinies aanvaar. Ons het baie vasgesit, maar ons was baie naby aanmekaar. ’n Paar minute voor sy sterf, het ek oor haar gebuig, en toe het sy drie keer vir my gefluister: “Ek is nog wakker, ek slaap nog nie.” Dit het my heeltemal gegooi. Ver oor die sewentig. Na aan tagtig.

“Ek het daardie soort half-landelike armoede daar leer ken: die meeste mense was plaasarbeiders en het in die kombuise gewerk. G’n beskerming nie – mense onder God se blou lug. In een klaskamer kon jy van sub A af kry tot by minstens standerd 4 ... het my pa klasgegee. Jare daarna het ek die skooltjie besoek, met ’n ou register in my pa se handskrif – en toe het hulle dit vir my gegee. Baie keer as ouens so kla oor gebrek aan fasiliteite, dink ek daaraan wat gedoen kon word. Daar was tye wat hy onder die ou doringboom moes klasgee. Dis nie die fasiliteite as sodanig wat die verskil maak nie, dis die mense wat die les gee. Dis belangrik vir my werk dat ek die
gevoel vir die underdog daar ontwikkel het.

“Ek was standerd 2 klaar toe ons daar weg is, nege jaar oud, My ma het nooit formeel gewerk nie, sy het ‘aan ons gewerk’ ... Toe is ons Kaap toe, hier in Retreat het my pa ’n groter skool kom behartig, en ook betrokke geraak by die dinge van die kerk. Huisbesoek was ’n groot ding oor naweke, en ek het die nuwe grond, die nuwe duinegrond leer ken, wat bly skuif en verskuif … Anders as daai vaste grond. Daar roer iets baie spesiaals in my wanneer ek die duinegrond hier van die Kaapse Vlakte, wat bly verskuif, ervaar. ...

“Toe het my pa my hier na ’n Katolieke skool gestuur. Van standerd 6 af. Eers by die Dominikanernonne, en van daar af standerd 7 by die Immaculata-skool. Toe is ons seuns na die Christian Brothers. My pa was ’n baie liberale soort mens. Ek het vrae gevra: sy motief was, vind maar uit vir jouself, gaan leef saam met die mense. Dit was ’n wonderlike opvoeding saam met die Katolieke. O’Farrell was my prinsipaal, een van die grootste onderwysers wat ek ooit gehad het: St Columba Christian Brothers in Athlone. Kleinerige skooltjie, maar hy was ’n wonderlike mens. Ek was in 1953 in matriek. Totale toegewyde onderwysers was daardie onderwysers. Dit was hulle taak – om as onderwysers op te tree, daardie orde. Die Katolieke Aartsbiskop van Kaapstad, Roberts Henry, was saam met my in matriek. Hy was altyd die ou wat die vensters met ’n stok oopgemaak het: hy maak vandag nog die vensters vir God oop. Daar het ek ook vir SV Petersen ontmoet: ek het altyd die grootste waardering vir hom gehad. Ons het later vriende geword (hy was toe ’n skoolhoof daar naby). Hy was baie verbitter. Sidney was ’n groot voorloper en baie onderskat. Ons letterkunde word nog maar altyd uit ’n wit hoek bedryf, veral ook die kritiek. Hy is ’n onderskatte, onderwaardeerde digter. Sy bydrae was eenvoudig enorm. Die impak wat dit behoort te gehad het, het dit nie gehad nie.”

Hoewel Adam in ’n gereformeerde huis grootgeword het, het die simbolisme en “atmosfeer” van die katolieke kerk hom sterk aangetrek. Sy suster, Mona, is ook na ‘n katolieke skool. Hulle albei het so goed presteer dat die inspekteur gesê het Adam se onderwyser kon Adam se vraestel gebruik vir sy memorandum.

Op skool was ’n hele paar mense wat ’n groot invloed op Adam se lewe gehad het: suster Pascal, wat hom Latyn probeer leer het, en broeder O’Farrell, wie se integriteit as mens en as onderwyser Adam altyd sal bybly. Adam se seun, Peter John, matrikuleer einde 1992 aan dieselfde St Columba-skool en einde 1990 matrikuleer Zaidee, sy dogter, aan die Dominikanerskool Immaculata, waar suster Pascal vir Adam probeer Latyn leer het.

Verdere studie en werk
In 1954 begin Adam sy universiteitsjare as mediese student aan die Universiteit van Kaapstad, omdat hy in die apartheidsjare nie aan ’n Afrikaanse universiteit mag studeer het nie. Dit is egter gou vir die jong Adam duidelik dat medies nie sy rigting is nie en na ’n frustrerende eerste jaar skakel hy oor na filosofie en taal, waar hy meer tuis voel. Sy dosente is onder andere DJ Opperman, Boerneef en Marthinus Versfeld. Saam met hom studeer ook sy latere vriend, Vernon February.

Hy vertel verder (Tydskrif vir Letterkunde, 2012): “As ek moes prakties doen, het ek die filosofieë en briewe van Pous Pius die XIIde gelees en my kop daaroor gebreek. Voor ek universiteit toe is, het ek Barkley se Theory of Vision gelees, wat ’n ou onderwyser vir my gegee het. Toe het ek agtergekom dat ons sieninge ook maar twyfelagtig kan wees as ons nie ons oog of oor daarop het nie. Toe is ek filosofie toe: een van die groot onderwysers wat ek gehad het, was SIM du Plessis. Opperman en Boerneef in Afrikaans, Canis Scholtz was ook daar in Afrikaans. Einde van die eerste jaar het ek fisika geslaag – tot vandag toe hou ek daarvan om daardie goed te lees. Toe kom ek by ’n tafel uit, en dis toe die filosofiedosent wat daar sit: toe seg hy vir my: ‘Small jy’s ’n filosoof!’

“In die eerste jaar het ek al die boertjies geklop en die klasprys gekry vir Afrikaans. Ou mev Bax was ’n dosent, toe gebruik ek ’n doodgewone Afrikaanse woord, ‘tob’, wat haar verbaas het. Effens patroniserend. Filosofie en Afrikaans. Ek het die eerste jaar verloor, toe moes ek my filosofie-kursusse so kies, so stapel, dat ek die derdejaar saam met die ander klaarkry. Ek het honneurs en MA gedoen – oor Nietzsche: ‘Nicolai Hartmann’s appreciation for Nietzsche’s axiology’. Ek het destyds ook Duits gehad. En my tesis in Engels geskryf.”

Einde 1956 behaal Adam sy BA-graad in etiek en logika en metafisika met onderskeiding en in 1957 sy honneursgraad in filosofie, ook met onderskeiding. Dit is ook in 1957 dat sy eerste bundel, Verse vir die liefde, by Culemborg verskyn. Hy verwerf sy MA-graad, ook met onderskeiding, in 1962 onder SIM du Plessis oor die Duitse aksioloog Nicolai Hartmann se waardering vir Friedrich Nietzsche. Hy verwerf twee beurse en met een vertrek hy oorsee, waar hy aan die Universiteit van Londen se London School of Economics met die wetenskapsfilosoof Karl R Popper as dosent studeer. Die aanpassing daar was uiters moeilik.

Met sy terugkoms in Suid-Afrika is hy vir ’n baie kort tydjie onderwyser in Wellington, voordat hy in 1959 aangestel word as lektor in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare. Begin 1960 is hy een van die eerste 13 personeellede van die nuutgestigte Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy aangestel word as dosent in en eerste hoof van die Departement Filosofie. In 1966 word hy as medeprofessor in filosofie aangestel.

In Desember 1959 trou Adam met Julia Anne Elizabeth Engelbrecht en uit die huwelik is twee seuns, Jannie en Leon, gebore. Adam en Julia is egter in 1968 geskei en in 1969 trou Adam met Rosalie Joan Daniels. Hulle het ook twee kinders, Zaidee en Peter John.

In 1963 vertrek Small na Oxford in Engeland met ’n British Council Scholarship vir gevorderde navorsing in die morele filosofie. En dit is hier waar die eerste idees vir Kanna hy kô hystoe hulle beslag kry. Intussen verskyn Klein simbool (1958), Kitaar my kruis (1961) en Sê sjibbolet (1963).

Met verwysing na Klein simbool, waarin Small volgens Johan Rademan “’n paar prosatekste en spreuke geskryf het wat dalk ’n nuwe gedaante met Small se biografiese aantekeninge kan aanneem”, het Adam die stelling teenoor Rademan gemaak: “Ja, jy weet ek onthou van die dinge in Klein simbool. Iewers sê ek, as ek reg onthou: Daar is twee soorte mense. Die gelowiges en die ongelowiges is die een soort en die ander [soort] het lief” (Beeld, 4 November 2012).

In sy omdigting van 1 Korinthiërs 13 in die Nuwe Testament in Klein simbool skryf hy: “Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede. / Al sou hierdie land myne wees, en al sy godsdiens, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne sonder God. /.../ Toe ek ’n kind was , het ek gehaat soos ’n kind, maar noudat ek ’n man is het ek lief soos ’n kind. / As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde.”

In Adam Small se werk is daar baie Bybelse verwysings en kruisverwysings. Daaroor het hy aan Rademan (Beeld, 4 November 2012) gesê dat hy met die Bybel grootgeword het “en later begin ’n mens dink oor die dinge. Daar is baie dinge wat vir my so kontradiktories is wat die Bybel betref en tog bly dit ’n groot, groot boek met so baie stories. Die Bybel is vir my die heel belangrikste boek wat ook die sterkste invloed op my letterkundige werk gehad het en wat my die sterkste aangegryp het.

“Daar is die twee gedigte – ‘Second coming I’ wat ’n baie belangrike gedig is [verwysend na sy satiriese gedigte wat op die wederkoms van Christus dui] – miskien een van my grootste gedigte na my mening, en ook ‘Second coming II’. Die werke is (...) godslasterlik genoem. Dis allesbehalwe. En die begrip godslasterlik maak in elk geval vir my nie sin nie (...). Eenvoudig omdat hoe moet ons weet wie of wat God is en of Hy bestaan? Dis groot dinge daardie.”

Oor sy “heiligskennis” het Adam Small met Ronnie Belcher in Gesprekke met skrywers 2 gesels: “’n Klag teen my poësie uit sekere oorde is, of was, dat dit godslasterlik sou wees. Die waarheid is egter dat baie van my satiriese verse godslastering wil uitwys en ontmasker – dit wil die skynheilige vroomheid van die mense omdop sodat die waarheid daarvan, deur die spot wat ek daarmee dryf, in die lig kan staan, naak en onverdoesel. Ek wil godslastering aan die kaak stel, net soos ek die onregverdigheid aan die kaak wil stel.”

Hy het bygevoeg dat die kunstenaar nie in diens van die politiek of enige sosiale gelowe of gelofies is nie – selfs nie eens as satirikus nie. ’n Kunstenaar se trou lê by sy gewete.

Rademan het dit aan Small gestel dat Sê Sjibbolet (1963) “’n kruispad in die letterkunde in Suid-Afrika” verteenwoordig – “hierdie bundel wat die vorme van Afrikaans teenoor mekaar gestel het, maar ook sprekers van Afrikaans ” (Beeld, 4 November 2012), waarop Small geantwoord het: “Sê Sjibbolet is baie na aan my hart, net soos Kitaar my Kruis.

Die gedig “Sê Sjibbolet” is gebaseer op Rigters 12:5 in die Ou Testament: “Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer ’n Efraimitiese vlugteling sê ‘Ek wil deurgaan’, sê hulle vir hom: ‘Jy is ’n Efraimiet.’ As hy sê: ‘Nee, ek is nie’, sê hulle vir hom: ‘Sê bietjie Sjibbolet’, maar dan sê hy ‘Sibbolet’, want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood.”

Sê Sjibbolet (Rigters 12)

Sê Sjibbolet
djulle ammal, djulle,
djulle wat sê djulle het
die Here,
djulle wat sê djulle is gared,
...
en glo djulle hoef is vet
moet olie vannie Here,
...
sê net!
want ons wil wiet
wie’s Gileadiet,
wié’s Efraimiet,
wie veg regdeur tot by Minniet
en wie is riet
en wie moet staan
en wie kan gaan
deurie driwwe vannie Dood
ennie Jordaan
...
nai?
ôrait,
ma sê net,
sê net Sjibbolet!

In 1961 verskyn ook Die eerste steen?, ’n bundel sosiopolitieke essays oor die bruin/wit Afrikaanse verhoudingskwessie. In ’n brief aan Small het Van Wyk Louw gesê dat hy dit “eers met belangstelling en later met ontroering” gelees het. Op die skutblaaie van Klawerjas (2013) is hierdie handgeskrewe brief wat NP Van Wyk Louw op 17 Julie 1961 aan Adam Small geskryf het nadat hy Die eerste steen? gelees het, afgedruk. Die gedig “Klawerjas” is ook aan Louw opgedra. Small vertel aan La Vita (Beeld, 13 September 2013): “Van Wyk Louw was ’n gróót, gróót denker. Indien hy in enige ander taal geskryf het, sou hy die Nobelprys gekry het. Ek dink hy is een van die grootste denkers ter wêreld. En die nederigheid van die man ... In daardie brief vra hy die vraag: ‘Wat kan mense soos ons in hierdie tye doen? Ons kan maar net praat, want ons is nie mense van geweld nie.’ Daar’s niks wat ons met geweld kán of wíl regkry nie.”

Met verwysing na Die eerste steen? het Small ook gesê: “[Dit is ’n] uit die hart geskrewe boekie oor my ervaring in die apartheid-opset ... Ek mag hoop dat die religieuse toon van die boek mense kan oortuig ... dat hierdie skrywer skaars tot godslastering in staat is!” (Beeld, 4 November 2012)

In 1965 keer Adam terug na Suid-Afrika en word Kanna hy kô hystoe gepubliseer.

Vir Small is Kanna ’n werk van formaat wat deur die jare oor en oor bevestig is. “Dit is ewige tematiek daardie. Ek het die woord ‘apartheid’ nie een keer in Kanna gebruik nie. Ek sien dit nie as protesliteratuur nie, maar as literatuur van waarneming en sosiale kritiek. Dit gaan ook oor verstedeliking en die gedwonge verskuiwing van mense en gee insig in die universele werklikheid van armoede by ons,” sê hy in sy onderhoud met Johan Rademan.

Temple Hauptfleisch was betrokke by die eerste professionele opvoering van Kanna hy kô hystoe in Bloemfontein. “In die hart van die Vrystaat, in diep apartheidsdae, toe die skrywer self ’n permit moes kry om vir meer as 24 uur in Bloemfontein te kan bly en alleen moes sit om na ’n repetisie van sy eie stuk te kyk. Dit was ongelooflik roerend en die teks is nog steeds vir my een van die grootste teaterwerke om uit ons bodem te ontstaan.” (Die Burger, 8 Mei 2012)

Die ander twee dramas in die drieluik, Joanie Galant-hulle (1978) en Krismis van Map Jacobs (1983) bekyk onderskeidelik gesins- en gemeenskapsgeweld.

Wilna Snyman vertel van die opvoering van Kanna hy kô hystoe met die inwyding van die Pretoriase Staatsteater in 1981. Vir die eerste keer is dié stuk met bruin akteurs opgevoer. Sy was die enigste wit speler.

“Die bruin spelers het my nie aanvaar nie, en ’n mens kan dit verstaan. Ek was verteenwoordigend van die wit apartheidsera, maar die regisseur, Louis van Niekerk, het vir my gesê hy’t my nodig om vir hulle as inspirasie te dien, want dis ’n moeilike stuk en hulle is nie professionele spelers nie.

“Met die openingsaand was ons almal verskrik, toe sê ek: ‘Kom na my kleed- kamer dat ons almal net kan saambid voor ons opgaan.’ Ek het hulle gelei in gebed, en toe sê die verhoogbestuurder: ‘Staan gereed’ en ek stap laaste die gang af. Toe ek deur daai verhoogdeur stap, staan daai groep spelers weerskante van my, en soos hulle deurstap, raak hulle met hul vingerpunte aan my en hulle fluister: ‘Makiet! Makiet!’

“Ek dra dit met my saam as ’n kleinood. Dit was wragtig een van daai spesiale oomblikke in die teater, want jy voel hier het iets baie groter gebeur as ek, en ek was deel daarvan.” (Die Burger, 21 Oktober 2011)

Met die opvoering in 2003 van Kanna by die destydse Technikon Skiereiland het Danie Botha na die geskiedenis van die stuk gekyk (Die Burger, 13 Februarie 2003): “Is dit wys om ’n toneelstuk as boek te laat verskyn voordat die teks ‘tot lewe’ gebring is op 'n verhoog – verkieslik deur professionele teaterlui en met resensente se toejuiging? Kanna hy kô hystoe deur Adam Small is ’n voorbeeld van uitgewers se beleid om wel onopgevoerde toneelwerk te publiseer. Dit was veral die gebruik voor die jare tagtig. Daar was één kritikus wat sou gesê het: Dis dwaas.

“Dit is 27 Desember 1964. JD Pretorius, hoofbestuurder van Tafelberg-Uitgewers, skryf met kenmerkende geesdrif aan Adam Small: ‘Ek was skoon opgewen van verwagting nadat ons vanoggend oor u drama gesels het. Baie dankie dat u dit na ons uitgewery bring vir uitgawe. Ek waardeer dit.’ Op Maandag 18 Januarie 1965 om drie-uur sal hulle verder gesels. ‘Ek lus al om te proe aan die ding.’

“‘Die ding’ word in 1965, voordat dit op die verhoog uitgetoets is, gepubliseer as Kanna hy kô hystoe. Volgens ’n brief van die redakteur Berta Smit het ’n regisseur van formaat wel insette met die teksversorging gelewer: Robert Mohr.

“Maar op Vrydag 18 Februarie 1966 moet Small en Pretorius dié woorde van WEG Louw in Die Burger lees: ‘Toe ek Kanna hy kô hystoe uit had, het ek gewonder wat dit nou eintlik is. ’n ‘Drama’, soos die ondertitel dit beskryf, myns insiens glad nie. ’n Stuk vir die toneel dan? Ja, sekerlik, maar myns insiens nog geen toneelstuk nie. Dan eerder ’n soort ‘somber musiekspel’ oftewel tragiese musikale skouspel.

“Hy gee toe dat ’n mens die werk nie behoort te beoordeel volgens ‘skoolboekies en handleidings nie’. Rekening moet tog gehou word met al die ‘vreemde’ ontwikkelings in die moderne toneelwerk.

“Maar al die ‘trucs’ ten spyt, ‘bly die gegewe, vir my altans, onbevredigend skraal. ’n Simptoom daarvan is myns insiens die uitvoerige, beskrywende en soms ook werklik mooi ‘toneelaanwysings’.

“Hy kla dat die ‘Kleurlingstraattaal’ met ‘klanke wat ons almal sou ken as ons hulle hóór’ met Small se ortografie vir die oog vreemd bly. Die dramaturg maak die leeswerk vir hom ‘en talle ander lesers’ nie maklik nie. En Small moet uiteindelik verneem: ‘Ná die lees is ek baie skepties of dit op die verhoog iets sal wees.’

“Dan stel Louw egter die dilemma van letterkundige kritiek op drama, die genre wat moet werk as lees- en as teaterervaring: ‘Maar ek is in laaste instansie geen regisseur nie. Wat iemand wat die vak en elke greep van daardie orrel ken, van Kanna hy kô hystoe gaan maak en kan maak, sal my besonderlik interesseer.’

“Eers in September 1971 sou uitgevind word of dit iets op die verhoog is. Sukovs voer dit veertien aande lank op voor ’n volgepakte Klein Teater. Wanneer Adam ’n jaar later met Ronnie Belcher in Gesprekke met skrywers (Tafelberg, 1972) gesels, rebelleer hy teen ‘die soort dom maar hovaardige verontagsaming van Kanna’ wat meegebring het dat dit ‘meer as vyf jaar op die rak moes bly voordat dit by iemand opgekom het dat dit op die planke gebring kán word’. Hy het veral troos gevind in Juanna Hibbert van The Friend wat die verwantskap met Arthur Miller se After the fall aangetoon het en besluit het dat Kanna ‘a better play’ is, ‘with greater impact and sincerity, convincingly performed ...’

“Maar Kanna moes nog Kaap toe kom, dié stuk wat volgens Small ‘die beste werk is wat (hy) gelewer het en, al sê (hy) dit nou self, die beste insig ooit gee in ’n deel van ons Suid-Afrikaanse werklikheid en, natuurlik, in ’n deel van die universele werklikheid van die armoede hier by ons’.

“Hy self pak dit in 1972 met studente van UWK in die Nico Malan-verplegingskollege in Athlone aan. Op 15 Augustus verseker hy lesers van Die Burger dat hy met ‘rou amateurs’ en met minimale teatermiddele kritici verkeerd gaan bewys ‘waar hulle die toneelmatigheid van die stuk in twyfel getrek het’.

“Besadig skryf Victor Holloway op 2 September oor die opvoering. Hy noem dat dit ‘boeiende vermaak’ en ’n ‘paar hoogtepunte’ bied. Die lesers ‘kan gerus gaan kyk’.

“In 1974 is Pieter Fourie die regisseur van die eerste professionele Kanna in die Kaap, ná ’n suksesvolle Truk-aanbieding. Sandra Kotzé is Makiet en Cobus Rossouw Kanna. Op Maandag 25 November 1974 kon Adam Small verneem dat dit ‘’n toneelervaring is wat baie jare lank onthou sal word’.

“Aan die woord is WEG Louw: ‘Dis ’n verhaal hierdie van die eenvoudiges, die eenvoudigstes, die armes wat altyd daar sal wees – altyd. Kanna hy kô hystoe het die groot gehoor asemloos in die ban van dié wêreld gesit – stemme, beelde, stukkies van ou en nuwe liedjies, die geheel nie slegs ’n wrange kommentaar op die lewe van dié eenvoudiges nie, maar ook met ’n duidelike strekking wat ’n mens by tye aan die keel gryp en jou dan weer trane in die oë laat kry.

“‘Wat is dit wat 'n mens so boei? Bowenal die woord ... Nie alleen is die poësie (daarin) ontroerend en is die stuk verbasend goed in mekaar gesit nie; dit is terselfdertyd ’n integrale werk vir die eietydse teater, so eie aan die Kaap – én aan ons land – as die taal wat dié mense praat. Daarom, glo ek, is die geldigheid daarvan dan ook nie slegs plaaslik en beperk nie.

“Dan kom Louw met die hoë woord uit: ‘Ek herroep hiermee onvoorwaardelik die nogal hooghartige voorlopige oordeel wat ek sewe jaar gelede ná die eerste lees daarvan gevel het. Inderdaad het ek my gedek deur te sê dat ek in laaste instansie nie ’n regisseur is nie en nie sonder meer sou kon oordeel oor die uitwerking daarvan as dit goed geregisseer en gespeel word nie. Nou weet ek.’

“Vir Pieter Fourie se regie het hy net lof. Ook oor die spelers oordeel hy gunstig. Hy beskryf Sandra Kotzé se Makiet: ‘Algaande het die ou vrou met die ouderwetse kopdoekie in die ou rystoel uitgegroei tot ’n tenger maar byna heroïese gestalte ... Sy was 'n lewende werklikheid ... Daarmee het sy haar plek onder ons voorste aktrises ingeneem.’

“Met die 2003-opvoering behoort daar geen twyfel meer te wees oor die toneelmatigheid van Kanna hy kô hystoe nie. Ook nie oor die letterkundige waarde daarvan nie. Daaroor het kritici hulle oor die jare hoofsaaklik gunstig uitgelaat: Rob Antonissen, JP Smuts, JC Kannemeyer en veral André P Brink in sy Aspekte van die nuwe drama.”

In Kanna self kom daar geen spesifieke verwysings na die apartheidsbestel voor nie en dit het beteken dat Truk in 1974 Kanna kon opvoer met wit akteurs voor wit gehore as ’n voorbeeld van die “oorbrugging van die ras- en kulturele grense” (Die Burger, 3 Maart 2008).

Marina Griebenow skryf in Kanna, hy kô hystoe word daar gekyk na ’n groep mense wat hoop op verlossing in die verwagting dat wanneer Kanna terugkom, uitkoms sal geskied. Kanna self is in twee geskeur tussen die feit dat hy nie die hele stand van sake kan verbeter nie en sy eie ondervinding van ’n beter bestaan wat hy elders ervaar het.

Adam Small se enigste roman, Heidesee (1979), is ’n storie van aftakeling as gevolg van die regeringsbeleid van 1948 en Johan Rademan het in sy onderhoud ’n parallel getrek met Richard Llewellyn se How green was my valley. Small se reaksie was: “Ja, hoewel die storie sy eie gang gegaan het, was die gedagte om Heidesee te skoei op How Green was my Valley, maar die storie het sy eie loop geneem. Ek dink nog altyd dis ’n goeie stuk werk en ek het nog altyd gehoop dat dit miskien verfilm kon word. Ek dink baie swakker stories as dit is al verfilm. As ek kyk wat uit Hollywood uit kom elke dag is dit heeltemal belaglik hoekom dit nie ’n goeie storie op die groot doek of die klein doek kon word nie.

“En jy weet, dis wonderlik dat in Heidesee in daardie jare die mense van verskillende sogenaamde kleur by mekaar uitgekom het – wit, bruin – die mense wat Afrikaans was. En soms as ek sien [en] vandag hoor hoe die mense sukkel met hulle menseregte-fieterjasies, verstom ek my. Baie van dié dinge het lank reeds vorm gehad.”

Adam reis in 1971 na die VSA nadat hy deur Richard Nixon genooi is om die eerste White House Conference on Youth in sy persoonlike hoedanigheid by te woon.

In 1972 word hy benoem as lid van die senaat van die UWK en in dieselfde jaar bring hy Kanna self op die planke op die Kaapse Vlakte met ’n amateur-studentegroep, die dramavereniging van die UWK. Hierdie groep word later die Cape Flats Players en die opvoering staan vir Adam sentraal in die teatergeskiedenis van Kanna. In Junie 1974 word dit in die Alexanderteater in Johannesburg opgevoer en Truk moes ’n permit kry sodat Adam dit kon bywoon. In Oktober 1974 word Kanna ook in die Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer en besluit Adam om nie die openingsaand by te woon nie, omdat hy gekrenk is oor die kritiek dat die stuk, wat deur ’n bruin man oor bruin mense geskryf is, opgevoer word in ‘n teater waar bruin mense nie welkom is nie.

Adam voel hom in 1973 daartoe genoop om te bedank by die UWK in solidariteit met die studente wat gedwing word om van die kampus af pad te gee. Hy soek aanvanklik vrugteloos na werk. Hy word dan aangestel as direkteur van Witsco, die studente-gemeenskapsorganisasie van die Universiteit van die Witwatersrand.

Met die sloping van Distrik Ses sien Adam sy werk al meer as “’n gewete vir die land wat die verskynsel en praktyke van kolonialisme betref, apartheid inkluis, natuurlik, as vorm van kolonialisme. Ek maak die pers ’n belangrike medium vir my sosiaal-politieke kritiek.” So word Oos wes tuis bes: Distrik Ses in 1973 gepubliseer, met gedigte van Adam en foto’s van Chris Jansen. Later verskyn ook die Engelse teks met foto’s van Jansje Wissema.

In 1974 verskyn Black bronze beautiful: quatrains. Adam sê self: "Ek skryf nou meermale in Engels, nie omdat ek regtig wou nie, miskien nie eers omdat ek kon nie, maar weens die kulturele aardskudding wat my verhouding met my eie taal aldeur nog vir my was.”

Die gesin keer in 1974, ná slegs ’n jaar in Johannesburg, terug na Kaapstad. In hierdie tyd kry die drama Joanie Galant-hulle beslag, hoewel dit eers in 1978 gepubliseer word. Vanaf 1975 tot 1977 werk Adam vir Maskew Miller Uitgewery in Kaapstad en in hierdie tyd waag hy sy hand aan vertaling en verskyn die bundel Oh wide and sad land (1975), met gedigte van NP Van Wyk Louw. In 1975 word lidmaatskap van die English Academy of Southern Africa aan hom toegeken. In 1978 wys hy egter lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns van die hand.

In 1978 word Small aangestel as hoof van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk / Western Cape Foundation for Community Work (FCW), waar hy tot 1983 werk. Hierdie stigting spits hom veral toe op kinderwelsynwerk – ’n saak wat Adam baie na aan die hart lê. Gedurende hierdie tyd bekwaam hy hom professioneel en akademies as maatskaplike werker by Unisa.

Hy was in die sewentigerjare betrokke by SASO (South African Students’ Organisation) en in 1976, met die belangwekkende SASO-“terroriste”-saak in die Pretoriase hooggeregshof, getuig hy vir drie dae vir die verdediging. Hy word toegelaat om van sy gedigte in die hof voor te lees ter illustrasie van die betekenis van apartheid, en "wanneer ek klaar getuig het, vra die staatsaanklaer my om sy eksemplaar van Kitaar my kruis te teken!”

Adam word in 1976 na Nederland genooi om ’n kongres, Art contra apartheid, oor die rol en funksie van skrywers in die Suid-Afrikaanse gemeenskap by te woon. Die skrywer James Matthews is ook genooi, maar sy paspoort is geweier. Die konferensie is gereël deur ’n Nederlandse kultuurgroep, De Populier, in Amsterdam. Behalwe Adam woon Suid-Afrikaanse skrywers van drie vastelande die kongres by: Alex la Guma, Dennis Brutus, Lewis Nkosi, Vernon February en James Ravell.

Adam is ook die eerste gekleurde wat genooi is om die NP Van Wyk Louw-gedenklesing aan die Universiteit Stellenbosch te lewer. Die titel van sy lesing, wat hy in 1977 lewer, is "Afrikaans en Afrika in die werk van NP Van Wyk Louw". Adam is baie bly oor die geleentheid om oor Louw te praat, aangesien hy Louw, saam met Marthinus Versfeld, sien as die opwindendste filosofiese denker wat Suid-Afrika opgelewer het.

Sy toneelstuk Hey, smile wit’ me open in 1979 in die Baxter-teater in Kaapstad met musiek wat gekomponeer is deur Randall Wicomb. Hierdie is ’n stuk “totale teater” met dialoog, musiek, prente, beweging en kleur (in meer as een opsig). Ook in 1979, op versoek van Sukovs en Sandra Kotzé, skryf Adam die toneelstuk Krismis van Map Jacobs. Met hierdie stuk sluit hy tesame met Kanna en Joanie Galant-hulle vir hom ’n drieluik af waarmee hy bepaalde sosiale probleme ondersoek het. Krismis van Map Jacobs is ’n maatskaplike stuk wat sterk put uit die ervaring wat hy as maatskaplike werker opgedoen het.

In 2012 is Krismis van Map Jacobs weer in die Kunstekaap op die planke gebring. Die storie van Map Jacobs is Kaaps, maar gehore uit alle dele van die land reageer entoesiasties en positief op hierdie opvoering van dié voorgeskrewe drama vir matriekleerders.

Vir Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG en voorheen dramaresensent by Beeld, was Krismis van Map Jacobs ’n “moet-sien-produksie wat oud en jonk sal bekoor, terwyl dit terselfdertyd Adam Small vereer en sy tydlose werk aan nuwe gehore bekend stel” (Die Burger, 27 Julie 2012).

Die stuk is gesitueer in die 1970’s toe die gedwonge verskuiwings aan die orde van die dag was. Map Jacobs is ’n bendeleier wat in die tronk sit en sy vrylating op parool is voor hande. Maar het hy verander? Die stuk bespieël ook die alledaagse lewe en hartseer van die gemeenskap en temas soos misdaad, armoede en die soektog na liefde en ’n eie identiteit.

David Johnson het die rol van Jacobs vertolk. Hy vertel aan Mariana Malan (Die Burger, 27 Julie 2012): “Dit is ’n uitdagende rol. Dis nogal moeilik om Adam Small te speel. Al is Map eintlik maar ’n klein karakter, moes ek verstaan hoe sy kop werk om hom reg te vertolk.

“Ek sien ook die rol as deel van my sosiale verantwoordelikheid. Dis nodig dat hierdie deel van ons geskiedenis onthou word en dat mense wat dit dalk nie ken nie, ingelig word. Jacobs is ’n produk van sy omgewing. Hy probeer ’n goeie mens wees. Maar hoe kom ’n mens uit ’n omgewing waar hy net so ver kan gaan en nie verder nie?

“Die taal in die stuk is ook vir my belangrik. Dis buigsaam sodat verskillende mense dit verskillend kan gebruik.”

Die regisseur was André Stolz en die ander akteurs Sindi Sampson, Leslie Fong, Huey Louw, Irvine van der Merwe, Chrystal-Donna Roberts, Merlin Balie, Revano Michael Singh en Bradley Olivier.

Einde 1983 word Small aangestel as hoof van die Departement Maatskaplike Werk aan die UWK. Hy beywer hom veral vir intellektualiteit in die professionele opleiding van maatskaplike werkers. Hy stel ‘n nuwe kursus vir opleiding in maatskaplike werk in onder die naam filosofie van maatskaplike werk. Hy het sy personeel aangemoedig om met nuwe idees vorendag te kom. Sy departement was die eerste wat ’n kursus in feminisme, “women and gender studies”, aangebied het. Saam het hy en sy personeel gemeenskapsgebaseerde advieskantore en vernuwende uitreikprogramme ontwikkel, waarvan party so goed gewerk het dat dit later in vaste dienste omgeskep is.

Small se groot intellektuele bydrae is sy “philosophy of care”, wat later ’n verpligte interdissiplinêre module was vir alle eerstejaarstudente wat in die die­nende beroepe opgelei is. In 2001 het hy ’n UWK-eredoktorsgraad vir sy versiende bydraes ontvang. 

“Die UWK se maatskaplike departement was die res van die land ver voor met kritiese, visioenêre denke en ’n relevante, interessante kurrikulum. En dis hoekom ek met alle mag onder Small wou werk,” onthou Vivienne Bozalek, Small se voormalige kollega en tans direkteur van die Teach­ing and Learning-eenheid aan die UWK. (Rapport, 15 September 2012)

“Ek het baie keer na hom gekyk en gedink: dis ’n groot gees dié. Hy was sy tyd ver vooruit en nie almal was gereed vir al sy idees nie. Sy studente was egter mal oor hom en internasionaal was sy werk hoog aangeskryf. 

“Ons gebruik nou nog die ‘vi­sion statement’ wat hy opgestel het. Toe ek dit eenkeer by die Universiteit van New York voorlees, was die mense in trane. Hy was ’n ware visioenêre denker.”

Gedurende hierdie tyd ontstaan daar belangstelling in sy dramawerk in Amerika by die teater Seven Stages in Atlanta, Georgia. Seven Stages is ’n kleinerige, niekommersiële opset, en Kanna sowel as Orange Earth word daar opgevoer. Orange Earth word ook in 1984 deur BBC Radio as ’n vollengte-drama uitgesaai en baie goed ontvang.

In 1993 word Small aangestel as senior professor aan die UWK. En ook in 1993 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Orde vir Voortreflike Diens (goud) van president FW de Klerk. Dit is aan hom toegeken vir die rigtende rol in die Afrikaanse letterkunde en in die denke oor die problematiek van die Suid-Afrikaanse samelewing wat hy oor meer as dertig jaar vervul het. Hy besluit om die vertaling van Orange Earth aan De Klerk op te dra. Hierdie stuk is deur Daniel Hugo vertaal onder die titel Goree en is in 2006 oor RSG uitgesaai en deur Willem Fransman jr op die planke gebring met sy teatergroep die KreAkon-toneelgeselskap.

In 1995 lewer Adam sy debuutreferaat op die 86ste jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nadat hy as lid verkies is. Die titel van sy referaat is "’n Historiese en toekomsperspektief oor Suid-Afrikaanse waardes". Saam met sy seun Peter John voer hy sy werk ook op by die KKNK in 1995 en 1996, en in 1995 ontvang hy saam met Jan Rabie die Afrikaans Onbeperk-toekenning van die KKNK.
In Desember 1996, die maand van Small se 60ste verjaardag, word van sy dramas, soos Joanie Galant-hulleKrismis van Map Jacobs en Kanna hy kô hystoe, oor die senders van RSG uitgesaai as spesiale ”verjaardaggeskenk”. ’n Hoorbeeld oor Small, vervaardig deur Chris Swanepoel, was ook op die program. Waarskynlik die hoogtepunt van die seisoen was ’n vertaling van The Orange Earth. Daniel Hugo het dié drama, wat in die sewentigerjare laas in die Baxter op die planke gebring is, as Goree in Afrikaans uitgesaai, geregisseer deur Johan Rademan.

Adam ontvang ook twee eredoktorsgrade in letterkunde: in 1981 van die Universiteit van Natal en in 2001 van die Universiteit van Wes-Kaapland. In 1996 vereer die Universiteit van Port Elizabeth hom met ’n eredoktorsgraad in die filosofie.

In 2000 vereer die Afrikaanse Skrywersvereniging vir Small met die toekenning van die Patrick Petersen-gedenkprys. En dit is nog nie die laaste van die akkolades wat hy ontvang nie: in 2005 ontvang hy die Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en sy bydrae tot die teater, asook die Departement van Kuns en Kultuur se toekenning vir beste drama vir Kanna hy kô hystoe.

In 2009 het Adam die eerste Suid-Afrikaanse digter geword vir wie ’n bronsbeeld by die Taalmonument in die Paarl opgerig is. Die bronsbeeld is ’n dag voor sy 72ste verjaardag onthul. Hoewel hy nie self die verrigtinge kon bywoon nie, het hy die organiseerders laat weet hy is in sy skik met die eer wat hom te beurt val.

Volgens Ampie Coetzee is Small se onttrekking uit die openbare lewe deels toe te skryf aan “bruin ver-linkses” wat hom destyds tromp-op geloop het oor sy kwansuise stereotipering van die bruin mense (Rapport, 7 Januarie 2009).

Net voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het Small hom ook die gramskap van die ANC op die hals gehaal toe hy gunstige uitsprake teenoor die Demokratiese Alliansie gemaak het.

Steward van Wyk, hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het gesê (Rapport, 7 Januarie 2009) Small is ’n “ambivalente en enigmatiese figuur, ’n loner, en ’n individu”.

“Small is deeglik bewus van die betekeniswaarde van sy stilte. In Kanna hy kô hystoe staan daar byvoorbeeld: ‘Dis stil, baie stil.’ ’n Ruk lank ervaar die gehoor hierdie stilte, hierdie sprekende woordeloosheid.

“En oor die historiese gebeure van 27 April 1994 skryf hy: ‘lat ons stil word, dja/ en dink, dja, baie stil.’ Van Wyk het ook gesê daar is ook ’n meer bekende en gevleuelde kredo van Small: ‘Kô lat ons sing!’

“Tog illustreer sy uitsprake die liberale waardes van vryheid van denke en spraak waarvoor Small hom altyd beywer het. Small moet geloof word vir sy bydrae om die Afrikaanse letterkunde verteenwoordigend van die volle spraakgemeenskap te maak. Hy was lief vir die randfigure van ons gemeenskap. Mense soos die kitaarspelers, die groentesmouse, die blommeverkopers, bendelede en straatpredikers het hy kleurvol beskryf.”

Christo van der Rheede, destyds uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en nou uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, het gesê Small se bydrae is vandag nog meer relevant as ooit vantevore. “Wat baie van Small se kritici nie besef nie, is dat sy bemoeienis met die gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes presies dieselfde bevrydingsagenda gedryf het as hulle, maar dat hy dit gestroop het van die elitisme en klassisme wat baie van die politieke aktivisme van destyds gekenmerk het” (Rapport, 7 Januarie 2009).

Tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesvieringe in 2009 was Small een van die 25 ontvangers van spesiale Akademie-eeufeesmedaljes vir Suid-Afrikaanse presteerders.

Tydens die Suidoosterfees in Januarie 2011 is In my hand was my kitaar - 'n Peiling van Adam Small as kunstenaar en intellektueel in die Fugard-teater aangebied as deel van die Jakes Gerwel Roots-gespreksreeks. Die aanbieders was Jakes Gerwel, Randall Wicomb, Antjie Krog, Steward van Wyk, Ronelda Kamfer, David de Waal en Charlyn Dyers. Ingesluit in die program was ’n samestelling van gedigvoorlesings en musiek.

Die Skouerklop-toekenning van die Burger-Suidoosterfees is ook in 2011 aan Adam Small toegeken. Dit word sedert 2006 gegee aan iemand wat ’n besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunstebedryf gelewer het. Die ontvanger moet ook in die jaar van die toekenning by die Suidoosterfees betrokke wees. In ’n verklaring is gesê die Suidoosterfees het in 2011 die toon aangegee in die huldigingsjaar ter viering van Adam Small se 75ste verjaardag. Tydens die Jakes Gerwel Roots-gespreksreeks by die afgelope fees is drie dae lank met voorlesings, besprekings, musiekitems en dramatiserings op gepaste wyse erkenning aan Small gegee.

Die feestema in 2011 was Kaaps. In sy verklaring het die fees se uitvoerende hoof, Niel le Roux, gemeld dat Small “meer as ’n gepaste wenner van die Skouerklop-toekenning is, want hy het met sy poësie en dramas uiting aan die musikaliteit van die woord, en in besonder die klankrykheid van Kaaps-wees, gegee” (Die Burger, 2 Februarie 2011). Die toekenning is tydens die fees se afsluitingsgala by die Kunstekaap oorhandig en is op versoek van die Small-familie deur Steward van Wyk in ontvangs geneem.

Adam is op Saterdag 24 September 2011 by die Versindaba gehuldig. Drie-en-twintig digters het op ’n uitnodiging reageer om ’n gedig te skryf wat met hom in gesprek tree of aan hom hulde bring. Die inisiatief was die geesteskind van RSG-omroeper Iris Bester, en is opgeneem om verwerk te word in ’n program oor Small wat later op RSG uitgesaai sou word. Die akteur Nic de Jager het ingestem om die digters wat nie die geleentheid kon bywoon nie, se verse voor te lees.

Melt Myburgh, woordkunsbestuurder van die Woordfees (wat die jaarlikse Versindaba reël), het die geleentheid as ’n groot sukses beskryf: “Ek en Iris Bester, wat die Small-geleentheid voorgestel het, was oorweldig deur die reaksie van digters om deel te neem. Nie minder nie as 23 digters, gevestigde stemme en ook jong, opkomende talent, het gedigte vir dié besonderse geleentheid gelewer. Die publiek was besonder geïnteresseerd in die geleentheid. Dit was die item op die Saterdag se dagprogram wat die grootste aftrek by Versindaba-gangers gekry het.”

Ná die Versindaba is ’n bundel getiteld Vi’ Adam Small saamgestel wat die 23 digters se gedigte bevat. Dit is deur Naledi gepubliseer. Daarmee saam is ook ’n CD wat onder meer Iris Bester se ATKV-bekroonde hoorbeeld Adam Small 75­ en die klankopname van Vi’ Adam Small bevat. Opnames van tussen 1978 en 1996 uit die SAUK se klankargief, waar Small meer as 20 van sy eie gedigte voorlees, is ook op die CD ingesluit. Onder hierdie gedigte is vyf voorheen ongepubliseerde verse.

Breyten Breytenbach het die voorwoord tot hierdie bundel geskryf (Beeld, 8 September 2012). Hy het onder andere geskryf: “Meester: Dis ’n vreugde om iets te mag sê oor jou, Adam Small. (...)

“Beter gestel: Dis ’n voorreg om so ook deel te mag wees van hierdie blye geleentheid by die vrystelling op CD van ’n hoorbeeld wat Iris Bester van jou werk gemaak het. Daarby saam, en ook afsonderlik gebundel, kom die verse wat drie en twintig digters geskryf het uit erkentlikheid vir jou voorbeeld en as erkenning van die durende impak en invloed van jou werk. En belangriker nog vir ons as lesers is daar dan ook die heruitgawe, die weer-hoor, van vier en twintig verse wat jy oor die jare op band ingelees het.

“Dat hierdie liefdeswerk op Wellington, jou grootworddorp, vir die eerste keer in so ’n verpakking beskikbaar gemaak word, is belangrik en dit is goed so. Ek het ’n spesmaas jou voete wou maar altyd terug Wellington toe loop, Boland toe – soos myne seker ook.

“Miskien het ons die dorp uit verskillende rigtings benader. Die ruimtes wat ons help vorm het, is nie dieselfde nie, afgesien van die wind en van oumensberge op die kim. Dit sou aanmatigend van my wees om voor te gee ek kan weet hoe dit is om Adam Small te wees, dat ek jou erfenis se pyn en opstand en miskien ook die vervreemding daarvan van binne sou kon aanvoel. Maar die proe-vreugde van jou woorde, die optel-en-gooi of die skulpkoestering van jou mensweesverse, is daar vir ons almal.

“Want jy het by uitstek gewys dat die poësie in die eerste plek, die tuisplek, ’n mensetaalomgang is: ’n koerskuns en ’n verdwaalkuns. En partykeer – ons is ook mos maar mens – ’n kansvattery. Dit is wat ons dankbaar in die mond neem en saamneem as troos vir ’n lewe wat op te veel maniere ’n vernedering en ’n vashou aan die verbygaande is.

“Die res is duister en vol teenstrydighede – en nie slegs omdat mens op simplistiese wyse aanvaar ‘’n ander se verse is duister’ nie. (Dikwels is dit omdat mens nie wil hoor nie.)

“Ek dink nie jy het anders voorgegee nie, en dis ook goed en reg so. Mens kan maar net raai hoe problematies dit moes wees, en nog steeds is, om die spanning te hanteer tussen die privaat lewe van ’n besonder fynsinnige filosoof enersyds en die rol van die openbare denker-aktivis-volksdigter aan die ander kant. Dis nou wel waar dat spanning ’n mens noop om dieper te skep in persoonlike en gedeelde goedere, en in jou geval sommer in die Bybel ook, maar dit maak die gedurige skawe-aan-jouself nie makliker nie.

“Is jy ooit ’n keuse gegun? Die verdwaalkuns is, paradoksaal, ’n veeleisende en meedoënlose leermeester én -meesteres. Miskien sou jy dit nie anders wou hê nie. En hoekom mag ons nie weet waar ons vandaan kom, wat ons hier soek en wat die implikasies is nie?

“Jy is emblematies van wat ’n mens as ’n inheems gesoogde ‘organiese intellektueel’ sou moet beskryf – met inagneming daarvan dat jou bemoeienisse en posisionering wyer strek as die Suid-Afrikaanse historiese moment, die locale en tydgebonde delirium. Natuurlik is daar eerstens jou identifisering met jou mense, met die armes en die verstotenes en die windrykes en die werkers en die werkloses en dié wat met die nommers loop – maar ook verder, met dié wat in die weikampies en agter die skanse van ’n eie ‘identiteit’ hulle eie braaivleisbeeste wil slag so asof hulle die groenigheid van gras self uitgevind het, wat blind seergemaak of selfregverdigend of deur die “geskiedenis” bemagtig verby die veelduidende van ’n gedeelde lappiesmenswees wil kyk. En ook verder en dieper, is daar jou vergestaltings van die profeet en die sjamaan én, in jou breër empatie en deur jou rousange, jou solidariteit met die klasselose armes oor kontinente en tydvakke en etniese afkampings heen.

“Laat ons die noot nie te hoog insit nie! Want ‘aan die einde van die dag’ (soos ons nogal ewe gladdebek deesdae sê) is wat ons by gaan bly Adam Small die digter – die man wat van ons taal, ons mooi mens-in-wording-bastertaal ’n lokasie – dus ’n plaaslikheid – van universaliteit gemaak het. Die poësie is dieper as die mond, en met baie tonge.

“Jy, Meester, het ons ook die ryke kreatiwiteit van twyfel en onsekerheid voor die ewige laat ervaar. Dis goed en mooi so. Ons is jou dankbaar.”

’n Simposium oor Small se lewe en werk is op 8 Oktober 2011 by die UWK aangebied. Hy het in Desember 2011 sy 75ste verjaarsdag gevier, en akademici met persoonlike en professionele bande met Small het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te besin oor sy bydrae as digter, dramaturg, filosoof en mens. In ’n brief van dank “vir alles wat almal doen in verband met my werk” en wat Steward van Wyk, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, in sy verwelkomingsboodskap voorgelees het, het Adam Small sy innige waardering uitgespreek “vir die grasie waarmee almal my privaatheid respekteer”. Hy het daarop gewys “dat my werk dikwels in die teken van satire staan, en satire, soos James Sutherland sê (ek haal uit geheue aan), ‘is not for the literal-minded ... and is intended to destroy the fool’.” Small se vrou, Rosalie, was sy oë en ore op die simposium, aangesien hy sedert 1993 nie meer aan die openbare gesprek deelgeneem nie. (Beeld, 12 Oktober 2011)

Die verskillende deelnemers aan bogenoemde simposium het hulle as volg oor Adam Small uitgelaat:

  • André P Brink: Small se werk getuig van ’n lang pad “deur ’n donker, dónker droom” van apartheid. Dit is skreiend hoe sy werke geensins verouder nie. Small se bydrae in Afrikaans is juis vandag belangriker as ooit tevore. Saam met Jonker was Small ’n stemvurk van ’n era vir die praktyk van menswees. Small se oeuvre is een van die belangrikstes in Afrikaans ... En sy dramas staan nie ’n duimpie terug vir Arthur Miller s’n nie.
  • Jakes Gerwel: Small se sterk punt is sy kritiese ingesteldheid. As satirikus staan Small in die teken van die filosoof Kierkegaard se “laughter administered in fear and trembling”.
  • Abraham de Vries het gewys op die merkwaardige van Small se stilte die vorige 18 jaar. “[H]eilige minagting vir valsheid en opstandige meelewing met mede-onderdruktes laat sy werk saampraat – ook in die redes vir een van die onlangse, hopelik rigtinggewende, woede-uitbarstings van ons tyd.”
  • Frank Hendricks van die UWK: Small het Kaaps help destigmatiseer. In sy skryfwerk het Small Kaaps na ’n groter gehoor geneem. Hy het gewaarsku teen uitdefi­niëring in Afrikaans. Die literêre benutting van Kaaps is deel van die meriete van sy skryfwerk ... Small bring Kaaps as ’n voedingsbron by en sal só bydra tot ’n hersiening van Standaardafrikaans.
  • Steward van Wyk: Afrikaans kan vir Small dankbaar wees soos Duits vir die groot naoorlogse digter Paul Celan. Small het met ’n ander geluid Afrikaans binnegebring en gehelp om die taal menslik te maak. In ’n bespreking van Sê sjibbolet sê Van Wyk dat Small met sy gebruik van Kaaps en deur sy gewroeg met Afrikaans die verstotenes ook die taal binnegebring het.
  • Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria het afstand en affiniteit en gemeenskaplikheid by Small bespreek, soos sy fokus op kulturele gemeenskaplikheid onder apartheid.
  • Die groot invloed van Small se ouers op hom is bespreek deur Francois Cleophas (’n susterskind van Small) van die Universiteit Stellenbosch.
  • Michael Cloete van Unisa het Small as morele filosoof bekyk: by Small gaan dit om die wil tot dialoog – nie Nietzsche se idee van die wil tot mag nie. ’n Filosofie van die humanisme is Small se blywende teenvoeter in die probleem van verontmensliking.
  • Wium van Zyl van die UWK het die retoriese aard van Small se werk bespreek: Small het op ’n uitkringende wantoestand gewys en dit teengestaan ... Hy het die kritici van destyds oorstyg.”
  • Nico Koopman van die US: Oor Small se werke en as profeet vir menswaardigheid het hy gesê dat dit profeties was in ons stryd teen apartheid en dat dit profeties is in ons strewe om ’n nuwe gemeenskap te bou. (Beeld, 12 Oktober 2011)

Ook in 2011 is Adam Small deur die Kaapse stadsraad vereer met ’n burgerlike eerbetoon vir sy unieke bydrae tot kuns en kultuur deur sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

In 2012 het Krismis van Map Jacobs in die spervuur beland. Dit is voorgeskryf vir skole en Anton Alberts, VF+-parlementslid, het, hoewel hy nie self die drama gelees het nie, namens VF+-ondersteuners aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gevra of sy besef dat daar rassistiese taalgebruik in die drama is, asook godslastering, gekruide taal en swak Afrikaans. Alberts het ook vir Motshekga gevra of die drama opvoedkundig enige waarde toevoeg en of dit tot nasiebou bydra.

Motshekga was wel deeglik bewus van die klagtes van die taalgebruik in Map Jacobs, maar ook dat die taal wat in die drama deur die karakters gebruik word, binne ’n bepaalde konteks geskied. Die drama is as voorgeskrewe werk gekies omdat dit ’n baie goeie voorbeeld bied van hoe ’n drama se struktuur daar moet uitsien. Dit bied ook aan leerders ’n nuwe perspektief op ander wêrelde en ander kulture se uitkyk op die lewe.

“Die drama is uitdagend en bevat stimulerende temas wat ’n kritiese begrip vir waardes en maatskaplike binding kweek. Dit is ’n voortreflike viering van menswaardigheid, ongeag ras. Adam Small is ’n Hertzogpryswenner, ’n skrywer, digter en filosoof wie se navorsingswerk oor etiek en moraliteit welbekend is.” (Beeld, 26 Mei 2012)

Steward van Wyk, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en gerekende kenner van Small se werk, was baie ongelukkig oor die kritiek op Map Jacobs: “Die vraag deur die VF+ verwoord ’n verkrampte en bekrompe benadering, soos die knap antwoord van die minister uitwys. Ek is werklik onbewus van rassisme en godslastering in die teks. Mense moet in konteks lees. Die drama speel af in die tyd toe apartheid en werkreservering ’n groot rol gespeel het om Map se betrokkenheid in die bendekultuur aan te help.”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Adam telkens in die verlede oor die hoof gesien wanneer dit gekom het by die toekenning van die Hertzogprys vir drama. In 2012 is hierdie onreg egter reggestel toe die Hertzogprys vir al sy dramas aan hom toegeken is.

Hierdie toekenning was egter ook nie sonder sy omstredenheid nie. Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis, het in ’n brief aan die Akademie gesê hoewel hy dit nie betwyfel dat die Akademie die prys al jare gelede aan Small moes toegeken het nie, hy nie dink dat die Akademie regverdig en reëlmatig opgetree nie.

Rapport van 27 Maart 2012 berig as volg oor die hele aangeleentheid: “Volgens die reglement is dit duidelik dat slegs werke van skrywers wat die ‘vorige drie kalenderjare’ nuwe, oorspronklike wer­ke gepubliseer het, in ag geneem word by die toekenning van die prys,” het Stassen geskryf. “Dit is jammer dat die Akademie in die verlede, toe hy die prys wel volgens die reglement aan Adam Small kon toeken, dit nie gedoen het nie. 

“’n Mens het begrip daarvoor dat die Akademie ’n onreg van die verlede wil regstel. ’n Mens kan egter geen begrip daarvoor hê dat die Akademie vanjaar ’n nuwe onreg pleeg nie.”

Stassen het ook gesê die stap wat die Letterkundekommissie gedoen het, was nie in ooreenstemming met vorige besluite nie. “In die verlede is een of twee keer besluit om die prys nie toe te ken nie – eerder as om, soos in hierdie geval, die prys toe te ken aan persone of werke wat nie vir toekenning in aanmerking mag kom nie.”

André P Brink het gesê: “Ons was almal bewus van die driejaar-reglement, en die Akademie het dit jare lank voorgehou as ’n rede waarom hy nie die prys aan Small ‘kon’ toeken nie. Die feit dat hy dit nou tóg gedoen het, suggereer dat hy willens en wetens moes besluit het om die reglement op te skort, en ’n mens sou ’n aankondiging daaroor waardeer het. Dit kon baie duidelik nie ‘toevallig’ gebeur het nie.

“Ek self is in die wolke om te sien dat hierdie onreg wat byna ’n halfeeu geduur het, nou uiteindelik, lyk dit, ongedaan gemaak is,” het Brink bygevoeg.

Breyten Breytenbach, wat ook reeds die prys gewen het, het Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Akademie, só per e-pos gelukgewens met Small se aanwysing as wenner. “Liewers laat as nooit. Ek dink dis ’n welverdiende erkenning van die wel erkende werk van ’n werklik belangrike skrywer. Met ander woorde, dis ook die erkenning van die rol van sosiale waarnemer en kritikus wat hier praat. My gelukwensinge aan die Akademieraad vir die amper vanselfsprekende besluit.”

Van der Elst het soos volg op Stassen se skrywe gereageer: “Uiteraard is die besprekings in die binnekringe van die Akademie oor hierdie sake vertroulik van aard, maar die volgende feitelikhede is ter sake: Die Letterkundekommissie van die SA Akademie is gebonde aan die reglement en het binne die reglement vir die toekenning van die Hertzogprys opgetree en voorleggings vir drama (oor die afgelope drie jaar) uitvoerig en indringend bespreek. Die LK het besluit om geeneen van die dramas wat voorgelê is aan te beveel vir die Hertzogprys nie. Hierdie bevinding is na die Akademieraad verwys. Die LK het wel ter oorweging aan die Raad deurgegee om die prys aan Small toe te ken. Die Akademieraad, as hoogste gesagsliggaam, het besluit, soos wat al in die verlede in sekere gevalle gebeur het, om die Hertzogprys aan Small toe te ken” (Rapport, 27 Maart 2012).

Rosalie, Small se vrou, het die toekenning namens hom ontvang en Johan Rademan het ’n eksklusiewe onderhoud met hom gevoer wat op RSG se Skrywers en boeke uitgesaai is. Rademan het gesê sy ervaring van die onderhoud met Small was oorrompelend. “Hy het ’n onwrikbare geloof in die liefde. Hy het al baie seergekry, maar genesing speel steeds ’n sentrale rol in sy lewensuitkyk. Hy toon deernis veel meer as wat ander met hom getoon het” (Die Burger, 8 September 2012).

Steward van Wyk het die rede by die toekenning gelewer. Hy het Small se werk so getipeer: “Hy spreek terselfdertyd breë, universele temas aan, soos wat ’n stelsel aan mense doen, die kwessie ook van armoede, van gewone mense, ook van liefde en versoening en sulke soort waardes wat regdeur sy poësie inslag vind” (Die Burger, 26 Maart 2012).

In sy huldigingswoord het Van Wyk ook gesê: “Small word beskou as een van die voorste dramaturge in Afrikaans. Kanna hy kô hystoe is waarskynlik een van die mees afgeronde dramas waarin politiek-maatskaplike problematiek binne ’n totale en vernuwende gebruik van teaterkonvensies verpak word. André P Brink beskou dit as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse drama-tradisie.

“Baie is die afgelope jaar gesê oor die besluit van die Akademie om dié prys aan Adam Small toe te ken. Na alles wat gesê is, sal hierdie toekenning in die geskiedenis afgaan as een wat welverdiende erkenning gee aan Small se groot bydrae tot die Afrikaanse drama, ’n nodige regstelling van ’n historiese mistasting en gepaste hulde aan ’n groot skrywer.” (Die Burger, 12 September 2012)

In Adam se toespraak, wat deur Rosalie voorgelees is, spreek Adam sy waardering uit teenoor onder andere die Akademie, die digters wat verse vir hom op sy 75ste jaar geskryf het, Steward van Wyk, Michael le Cordeur, Jason Lloyd en Heindrich Wyngaard. Ook teenoor Antjie Krog vir haar insig in die musikaliteit van Kaaps – “Kaaps synde my spesiale identifikasie met Afrikaans vir soverre ek die grense van ons taal versit het sodat dit nou ’n baie wyer ruimte as voorheen bestryk.”

Hy het sy toespraak as volg afgesluit: “Laat die tesamevoeging van die name Hertzog en Adam Small ’n groot simboliek van versoening vir die mense van ons land wees. Politieke versoening is belangrik, maar intellektuele versoening, wat slegs deur die filosofie en die kuns gedra kan word, is diepsinniger en die grond van alles. Laat ons opvrolik. In daardie ewige woorde: Kô lat ons sing!” (Beeld, 18 September 2012)

In sy toespraak het Adam ook melding gemaak van die gedig wat Pieter Odendaal vir die bundel Vi’ Adam Small geskryf het. “(Ek) sê graag aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van sy roerende reëls waarin hy my vra om te aanvaar dat sy pa, wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ’n goeie man is: Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”

Pieter Odendaal se gedig:

Die eerste steen
ek sou graag net ’n klipgooi ver
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klip in die hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die skerm van die dag projekteer
’n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om 
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom kon optel
miskien sou ek saam 
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ’n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ’n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god maar oukei met als gewees
hy’s ’n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil

En André Trantraal se gedig:

Die Afrikaanses

(Wie ore het om te luister, laat hom luister)

Die eerste gedwonge verskuiwing in die geskiedenis
was mos uit die Tuin van Eden:
Ons is almal die kinders van refugees;
dié dat ons so verlore is.

Die Here het ’n wag aangestel:
’n Engel met ’n vlammende swaard
bewaar die ingang tot die Paradys,
soos ’n sekuriteitswag in ’n rykmansbuurt.

Die mens is dakloos, ’n werklose tuinier.
Hy bid vir die kans om sy brood in die sweet van sy aangesig
te verdien; hy sit langs die pad en werk bedel,
maar die mense is te veel en die werk te min

1. Die taal van Eden, die taal van die engele,

beskik nie oor die woorde om iets so
menslik soos pyn te beskryf nie;
dit is ’n taal ongeskik vir die mond van die armes

2. Mý taal is ’n informal settlement op die nasionale pad van Afrikaans

Mý taal bestaan uit chipboard, swart plastiek en
verroeste sinkplaat
Mý taal kan nie bekostig om mooi te lyk nie
My taal is ongeskik vir die mond van die engele

3. Die verlange om terug te keer

verlaat hulle nooit; vir die mens wat
in die skaduwee van God gesit het
is die helderste lig van die wêreld duisternis

4. En in die donkerste nag
wat ’n naakte bewussyn kan skilder
droom hulle van perfekte blomme pluk
in die perfekte tuin van hul jeug.

In 2013 is The orange earth by die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer. Die dramaturg noem Orange Earth sy mees outobiografiese werk, sê Steward van Wyk, samesteller van Kô, lat ons sing, ’n keur uit Small se digbundels aan Willem de Vries (Die Burger, 18 Desember 2012). “Dit het waarskynlik te make met die persoonlike herinneringe wat die karakter Johnny Adams oproep. Een besonder roerende herinnering is dié van die vernedering wat sy moeder beleef wanneer sy deur ’n blanke vrou gedwing word om na die agterdeur te gaan om ’n aalmoes te ontvang. Hiermee gee Small ’n aanduiding van hoe apartheid op ’n baie persoonlike vlak beleef is, en die pynlike herinneringe wat die individu steeds met hom of haar saamdra en moet verwerk.

“Dit wys ook hoe ’n denkende individu deur vernedering op grond van ras gedryf word tot op die rand van geweld. ’n Verdere tema in die drama is die gedeelde taal- en kultuuragtergrond van wit en bruin Afrikaans-sprekendes soos vergestalt in die gesprekke tussen Johnny en sy tronkbewaarder. Small wil daarmee wys hoe hierdie gedeelde agtergrond vir ’n ideologie opgeoffer kan word. Dit is relevant vir die huidige tydsgewrig waarin versoening en inklusiwiteit steeds aktief nagestreef moet word, ten spyte van die aanduidings dat ons meer gepolariseerd op taal-, ras- en ander grense raak. Ek kan my nie herinner dat die drama ooit hier opgevoer is nie. Indien nie, is die opvoering op die Suidoosterfees literêr-histories van belang en ook ’n stuk teatergeskiedenis. Ons sal in ’n kort tyd al Small se dramas op die verhoog gesien het in ’n tyd wanneer sy lewe en bydrae op vele terreine gehuldig en gevier word.”

Op 14 September 2013 het Adam Small ’n openbare stilswye van ongeveer 20 jaar verbreek toe hy tydens die Tuin van die Digters-fees by die Breytenbach-sentrum op Wellington gedigte uit sy nuwe bundel, Klawerjas, voorgelees het.

Net mooi 'n jaar nadat Small die Hertzogprys ontvang het (12 September 2012, om presies te wees), het hy die Saterdagmiddag om 14h00 aan die sy van sy vrou, Rosalie, saam met die ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, en Riana Barnard van Tafelberg-uitgewers die volgepakte markiestent by die Breytenbach Sentrum op Wellington, sy tuisdorp, binnegestap. Ekstra stoele en sitplek moes inderhaas vir die ongeveer 400 mense gereël word. Ander ATR-lede in die gehoor was Danny Titus (ATKV), Danie van Wyk (SBA) en Ria Olivier (projekbestuurder). Ook in die gehoor was André P Brink, Wilma Stockenström, Riana Scheepers en ander skrywers. Richard van der Ross, voormalige rektor van die UWK, waar Adam Small professor was, het ook kom groet; so ook vriende uit sy jeug, soos Nellie Cavernelis en Sylvia le Cordeur. Fotograwe, TV-spanne en sakemanne, studente en onderwysers, en sommer net gewone Welingtonners.

In sy verwelkomingswoord het Le Cordeur gesê: "Een van Wellington se grootste seuns het hystoe gekom (à la Kanna)."

Dit was ’n emosionele middag, nie net vir Adam Small nie, maar ook vir die toehoorders, en daar was min wat nie ’n knop in die keel gekry het of ’n traan weggepink het toe hy uit Klawerjas begin voorlees het nie. Rosalie het langs hom gesit en sy trane afgevee. Sy het na die tyd gesê dat sy oorweldig was, ook vanweë die staande toejuiging wat hulle ontvang het.

Klawerjas is in 2013 deur Tafelberg gepubliseer en dit is Adam se eerste bundel gedigte sedert Oos wes tuis bes Distrik Ses en sy eerste gepubliseerde werk sedert Krismis van Map Jacobs in 1983. Hy het ongeveer ’n jaar en ’n half aan die bundel gewerk en het daarna al weer amper genoeg verse geskryf vir ’n vervolg. Hy vertel aan Murray la Vita (Beeld, 13 September 2013) dat die tema van reis baie sterk deurkom in Klawerjas. “Die Odysseus-tema. Die lewe is ’n reis.”

Oor sy jare lange stilte en onttrekking aan die openbare lewe verduidelik hy aan La Vita: “Ja, jy weet, dit was die dae toe ek baie, baie bitter was ... ’n groot bitterheid gehad het. Oor apartheid, natuurlik. En ek het net besluit, wat baat dit tog? Laat alles maar vaar en bly net stil. En dit is natuurlik nie net gewone stilte nie, maar ook digterlike swye. Rosalie het my seker gehelp. Ek het later, soos ek ouer geword het, om die waarheid te sê redelik onlangs, besluit: hoekom sal ek myself skade berokken. Ek wil nog graag my beste werk lewer voordat ek sterf ... en die dood is ’n werklikheid in my lewe. En ek het vir myself die lig gevind. Dit was eintlik ’n Herkuliese werk hierdie. Rosalie het vir my alles getik. Ek tik deesdae nie meer self nie.

“Ek het maar net besluit dat die bitterheid my nie sal onderkry nie; ek sal daar uitkom. En ek hét daar uitgekom.”

La Vita wou weet of daar iets spesifieks was wat hom laat onttrek het. ““Ek dink dit was ná die publikasie van Oos Wes Tuis Bes: Distrik Ses (1973) of selfs nog vroeër, miskien ná die publikasie van Sê sjibbolet (1963). Wanneer jou werk verskyn en al wat mense raaksien, is kleurling, kleurling, kleurling, dan maak dit séér ... dit maak seer. In elk geval, later het die mense tog tot beter insigte gekom en daar’s niemand meer wat Kanna hy kô hystoe kan afskryf nie, want dit sou dwaas wees. Dis nie goed dat ek dit self sê nie, maar dit is ’n feit.

“Jy weet, destyds het selfs WEG Louw ... en tog was hy die eerste toe hy die kunsredakteur van Die Burger was wat my Kaapse skryfwerk gepubliseer het ... Maar selfs hý het gesê toe Kanna hy kô hystoe verskyn: ‘Drama in straattaal van kleurling’. Kan jy dit glo ... WEG Louw? Hy het egter die moed gehad om later – dit was op ’n verhoog in Stellenbosch – te sê: ‘Jammer, meneer Small, ek was verkeerd.’”

Vir Adam Small is die grootste gedig in Klawerjas die Jesus-gedig. “Ek is ’n Jesus-bewonderaar. Ek aanvaar dat hierdie historiese persoonlikheid onuitspreeklik imponerend sy skadu oor die hele geskiedenis gewerp het. Om ná meer as 2 000 jaar onblusbaar te wees, is self ewe ’n wonderwerk.”

In ’n nota aan die einde van die onderhoud met Ronnie Belcher wat opgeneem is in Gesprekke met skrywers 2 (1972) skryf Small: “Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense en dat ek van hulle notisie neem).”

Murray la Vita (Beeld, 13 September 2013) het hom daaroor uitgevra: “Ja, ek ly aan ulseratiewe kolitis (ontsteking van die spysverteringstelsel). Dis ’n helse krankheid, ek wens dit nie op my vyand toe nie. Wanneer daai pyn jou vat, dan vát hy vir jou. Soos ek in een van die gedigte sê: Dis ’n fóltering. Dit word deur spanning vererger en dit bring ook ’n sekere soort depressie mee.”

Die jong digter Nathan Trantraal het in Augustus 2013 gesorg vir ’n klein opskudding toe hy hom sterk uitgelaat het oor Adam Small en Peter Snyders deur te beweer dat hulle Kaaps ’n “joke-taal” gemaak het. Hulle het volgens Trantraal gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, “’n f****n coon-taal”.

Hierop het Adam Small aan La Vita gesê dat hy aan Nathan Trantraal geskryf het en dat hy baie vriendelik en erkentlik geantwoord het. “Ek dink hy’s ’n jong man en hy het nog ’n ver ent, ’n digterlike pad, om te loop, maar hy is welmenend en hy sal sy weg vind.” (Beeld, 13 September 2013)

In Oktober 2013 was Adam Small, Hennie Aucamp en TT Cloete die eregaste by die bekendstelling van Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Hulle het elkeen ’n leergebinde eksemplaar ontvang. Adam het voorgelees uit sy drama wat toe pas verskyn het, Goree, en het ook ’n nuwe gedig voorgelees waarin hy weer sy gegriefdheid teenoor ongeregtigheid uitdruk. Small, Aucamp en Cloete het jare lange bande met die WAT. Adam Small het in 1994 deelgeneem aan ’n WAT-kongres waar daar plek ingeruim is vir die wetenskaplike, maar tog ook sensitiewe toevoeging van woorde en uitdrukkings wat dalk gevoelens kan kwets. Talle Kaapse woorde in die woordeboek is uit sy tekste.

Adam Small is saam met Cerneels Lourens, prokureur en taalaktivis, en Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, in 2013 deur die Afrikaanse Taalraad met die Kokerboomprys vereer. Dit is die eerste keer dat die Taalraad sedert sy stigting pryse toeken. Dié pryse is om die ATR se drievoudige leuse, “Afrikaans: Bevorder, Bemagtig, Beskerm”, te verwesenlik. Die pryse was in die vorm van ’n skildery van ’n kokerboom.

Adam Small is op 25 Junie 2016 oorlede na 'n ingewikkelde mediese prosesure.

Publikasies

Publikasie

Verse van die liefde

Publikasiedatum

1957

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: Culemborg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klein simbool: prosaverse

Publikasiedatum

1958

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kitaar my kruis

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1979
  • 1987

ISBN

  • 0798600608 (hb)
  • 0798622989 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM
  • Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die eerste steen?

Publikasiedatum

1961

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Sosiopolitieke kommentaar

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sê sjibbolet

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1978
  • 1981

ISBN

0628014325 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kanna hy kô hystoe

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1977
  • 1980
  • 1982
  • 1988
  • 1999

ISBN

  • 0624004228 (hb)
  • 0624013596 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Engels deur Carol Lasker, New Yorkse Universiteit

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oos wes tuis bes: Distrik Ses. Fotografie deur Chris Jansen

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1973
  • 1974

ISBN

079810239X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie met foto’s

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Black bronze beautiful: quatrains

Publikasiedatum

1975

ISBN

0949937185 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Ad Donker

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Joanie Galant-hulle

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1990

ISBN

  • 0628014651 (hb)
  • 0628034423 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Heidesee

Publikasiedatum

1979

ISBN

0628015291 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Krismis van Map Jacobs

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022420 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

District Six. Photographs by Jansje Wissema

Publikasiedatum

1986

ISBN

062010077X (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Fontein Publishing Co

Literêre vorm

Poësie met foto’s

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klawerjas: gedigte

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624065456 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Vertalings deur Adam Small

Louw, NP Van Wyk: Oh wide and sad land: Afrikaans poetry of NP Van Wyk Louw. Cape Town: Maskew Miller, 1975 [ISBN 0623008742]

Keur van artikels oor en deur Adam Small beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Adam Small (1936–2016) appeared first on LitNet.

ATKV: Adam Small is oorlede

$
0
0

Foto: Izak de Vries

“Jy het my hart teen hulle van die haat ontdaan
en al hul bitter strewes het in ons vergaan.”

Met hierdie twee reëls open Adam Small se eerste digbundel, Verse van die liefde.

Sy ware krag as digter sou later kom: Die bundel sê sjibolet is nie net tegnies veel beter nie, dit is ook ’n harde, politieke bundel wat teen die vergrype van die magshebbers geprotesteer het. Meer nog, sê sjibolet was ’n bundel wat skaamteloos Kaaps gebruik het as medium. Nooit meer sou enige een kon beweer dat Kaaps ’n mindere taalvariant was nie, want Small het, soos in sy dramas, gewys dat hierdie variant hoër funksies kon omarm op dieselfde wyse as die sogenaamde Standaardafrikaans.

Ons onthou ook Adam Small as die man wat later stil geword het, wat teruggetrek het. Vir baie jare het Small nooit in die openbaar verskyn nie.

Dalk was dit die “bitter strewes” van ander wat hom so seergemaak het dat stilte sy enigste antwoord was, maar Adam Small was te alle tye “van die haat ontdaan”.

Toe hy uiteindelik sy stilte verbreek het, was daar weer ’n vriendelike, gryskopman wat amper verbaas was dat hy nog onthou word. Vir jonk en oud was daar ’n glimlag en ’n tyd vir ’n geselsie.

Dit was vir die ATKV ’n groot voorreg om deel te kon hê aan Kô laat ons sing, ’n huldiging van Small as digter, wat op Donderdagaand 10 Maart by die US Woordfees opgevoer is onder leiding van die Delta Soetstemme en die Delta Langbroeke. By hierdie geleentheid is Small genooi om self die verhoog te betree. Hy het ’n gedig voorgelees, nie ’n lang toespraak nie. (Foto’s van die geleentheid is hier, op ’n onafhanklike webwerf, beskikbaar.)

Die ATKV dink veral aan sy vrou Rosalie en familie in hierdie tye.  

 

The post ATKV: Adam Small is oorlede appeared first on LitNet.

Skrywer Wille Martin is oorlede

$
0
0

Hier is Carla van der Spuy en Wille Martin by verlede jaar se Perskor-reünie. Die foto is op Carla se kamera geneem.

“Sy was ‘n baanbreker,” sê Cecilia Brits, die hoof van fiksie by LAPA Uitgewers.

“Sy was altyd so ondersteunend,” sê Carla van der Spuy, ’n oud-kollega.

Maar wie was sy?

Wille Martin was ’n enigma.

Verskeie joernaliste het oor die naweek bloutjies geloop toe hulle meer oor haar te wete wou kom. Vanuit die ATKV se geledere het daar die volgende verklaring gekom.

Wille Martin is op Saterdag 25 Junie 2016 oorlede. Sy was 81.

Wille sal onthou word as een van die skrywers wat Afrikaanse lesers in stories laat bly glo het. In 1958, toe die Afrikaanse letterkunde se fokus geskuif het na die eksperimente van die Sestigers, het Martin begin klubboeke skryf. Oor die volgende vyftig jaar het meer as 200 werke het uit haar pen verskyn.

Vandag is lekkerleesskrywers openbare figure. Persverklarings verskyn oor hul suksesse en uitgewershuise bou webwerwe en blogs waarop professionele foto’s verskyn. Dit was anders in Wille Martin se dae. Haar boeke is ingestuur, verwerk en het verskyn. Niemand het onderhoude gedoen of verklarings uitgereik nie.

Tog is sy nie onbekend nie. Toe die nuus van haar dood Saterdagoggend net voor ses op Lekkerleesboekrak bekend gemaak is, het die huldeblyke ingestroom. Binne ure  het meer as dertig boodskappe verskyn van mense wat haar werk verslind het vandat hulle kinders was. Sophia Kapp, een van die nuwegenerasie lekkerleesskrywers by LAPA Uitgewers, se onmiddellike reaksie was: “Jô, ek dink ek het al 200 gelees!”

Wille Martin is op Bethulie gebore. Sy was die dogter van die bekende skrywer Minnie Postma.

Wille het ’n BA graad behaal aan die Universiteit van die Vrystaat en het gaan skoolhou, waarna sy later as joernalis by die Volksblad en toe die Vaderland gewerk het.

Teen 1983 was haar sukses van so ’n aard dat sy voltyds kon begin skryf.

Wille Martin het oor die genres heen geskryf. Haar Kaapse romanses was die voorlopers van ’n genre wat vandag nog suksesvol geskryf word deur mense soos Dina Botha, maar sy het ook speurverhale, historiese romans, wetenskapfiksie en kinderboeke geskryf.

Ondanks haar sukses het Wille nederig gebly en Carla van der Spuy, ’n oud-kollega, sê dat Wille elke jaar haar verjaarsdag onthou en gebel het.

Die ATKV dink met dank aan Wille Martin wat soveel vir die Afrikaanse storie gedoen het en betuig simpatie aan haar kinders met die verlies van hul ma.

The post Skrywer Wille Martin is oorlede appeared first on LitNet.

Luister, luister en doen

$
0
0

Die gespreksgenote:

Voor: Liezel van Beek (Joernalis), Martie Hauptfleisch (kunstenaar) en Amanda de Stadler (ATKV)

Agter: Bennie Aucamp (skoolhoof), Cees van der Waal (sosiale antropoloog), Japie Gouws (ATKV), James de Villiers (SR-lid by die US), Giselle Botha (student), Sedick Crombie (gespreksleier), Benjamin Bock (ATKV), Zay Windvogel (skoolhoof) en Desmond Painter (dosent)


Op Donderdag 23 Junie 2016 het ’n groepie Afrikaanssprekendes in Stellenbosch vergader om een vraag te bespreek: Hoe kan ons nasiebou bevorder? Sedick Crombie was die fasiliteerder en administratiewe steun is verleen deur die Vriende van Afrikaans.

Afrikaans was die gemene deler, verder was die groep uiteenlopend en opsetlik inklusief van ras, geslag, ouderdom en beroep.

Daar is grootliks saamgestem dat Afrikaans se diverse komvandaan beide ’n sterkpunt en ’n verdelende faktor is. Dit is maklik om te sê Afrikaans het ontstaan as ’n nierassige taal, maar die enorme skade wat raspolitiek aan die taal besorg het, moet te alle tye erken en in ag geneem word.

Interessant genoeg was dit die term ras waaroor geen konsensus bereik kon word nie. Onder die akademici in die groep was daar ’n versugting om die term te definieer; juis omdat die woord vir so lank soveel skade aangerig het en dikwels verkeerd gebruik word.

Daarteenoor was ander van mening dat ’n losser gebruik van die woord, soos in die volksmond, verstaanbaar is en dat organisasies soos die ATKV lank reeds verby ras kyk en konsentreer op die bou van ideale vir alle Suid-Afrikaners, ongeag die akademiese definisie van die term. Waar mense saamwerk om ’n gedeelde doelwit, verdwyn die sogenaamde rasseskeidings is gesê.

Hoewel die betekenis van ras nie opgelos is nie, was daar oor heelwat ander sake ’n groter mate van ooreenstemming.

Goeie skole dra by tot ons toekoms, deels omdat die jonger generasies mekaar aanvaar. Die ouer garde se vooroordele word nie meer in goeie, geïntegreerde skole ervaar nie. Ook Donderdagaand se jonger gespreksgenote, wat ná 1994 gebore is, het hierdie sentiment geëggo. Kommer is wel uitgespreek dat skole wat nog nie goed bestuur word of geïntegreer is nie, steeds erge polarisasie beleef; ook dat talle skoliere nog voel hulle ervarings by die skool en die huis nog is nie werklik versoenbaar nie. Dit is een van die redes waarom die ATKV dit ten doel het om meer as 1 000 swakker skole op te hef sodat leerders van alle rasse en klasse, asook alle tale, beter toegang kan kry tot die soort onderwys wat ’n mens graag wil sien gebeur.

Sang, musiek en die teater dra by tot nasiebou en talle voorbeelde is genoem van suksesvolle projekte wat reeds ons landgenote saamsnoer.

Geleenthede waar mense na mekaar se stories kan luister en mekaar se kulture kan leer verstaan en ervaar, moet ook ondersteun en uitgebou word. Die rieldans is ’n goeie voorbeeld van so ’n projek wat mense saamsnoer, maar daar is talle ander geleenthede waar mense kan gesels, saam kan eet, of saam iets vir ander kan doen.

Almal was bewus daarvan dat hierdie gesprek verkennend was, maar daar is saamgestem dat dit goed was om na mekaar te luister en dat sodanige gesprekke in die toekoms dalk na effens groter gehore geneem so kon word.

 

The post Luister, luister en doen appeared first on LitNet.


ATKV-persverklaring: Hulde aan Margaret Bakkes

$
0
0

Margaret Bakkes (foto: Izak de Vries)

Margaret Bakkes is oorlede.

Sy sal lank onthou word vir haar romans wat lekker gelees het, maar wat ook sonder skroom die tydsgees aangespreek het.

Dit is dalk gepas om Bakkes se eie woorde aan te wend om haar skryfstyl te beskryf. In die Transvaler van 23 Junie 1977 sê sy: "Ontspanningsleesstof is nie stof en dons nie. Die skrywer moet sy leser met lewensprobleme konfronteer. Maar hy moet dit ook weer oplos. Dit is die verskil tussen ’n kunsverhaal en ontspanningslektuur. Sonder om ligsinnig te wees, moet daar pitkos in wees." (Transvaler, 23 Junie 1977)

Dit sê alles. Bakkes se werk was betrokke, maar sy het altyd geskryf om te vermaak.

Margaret en Cas het vier kinders gehad: ’n dogter, Mathilda, en drie seuns Marius, Johann en Christiaan. Laasgenoemde twee manne verryk steeds ons letterkunde met hulle verhale.

Die ATKV dink aan die besonder aan die kinders onder hierdie omstandighede.

Die ATKV-skrywersalbum oor Margaret Bakkes se lewe en werk op LitNet in die ATKV-skrywersalbum is in April bygewerk. Hier is 'n skakel daarheen.

The post ATKV-persverklaring: Hulde aan Margaret Bakkes appeared first on LitNet.

US Woordfees 2016: Philida van die Delta

$
0
0

Philida van die Delta is gemeenskapsteater, maar min sou dit sê as hulle daar was. Die deelnemers, die orkes en die skrywers is meestal plaaswerkers in diens van Solms-Delta wynlandgoed. Enige persoon wat al die Delta Soetstemme en die Delta Langbroek-orkes beleef het, sal weet hulle is puik.

philida_cornelisbrink

Vir hierdie vertoning is enkele professionele mense se hulp ingeroep, maar dit was oorwegend amateurs op die verhoog. Daar was ook deelnemers van Babylonstoren en die Breytenbach Sentrum.

philida_adriaanspring

Die produksie is moontlik gemaak deur die ATKV in samewerking met Solms-Delta, Babylonstoren en die Breytenbach Sentrum.

Philida, die slavin van wie André P Brink geskryf het, was ’n breislaaf op De Delta, wat in daardie tyd aan die Brink-familie behoort het.

philida_ouma

Die stuk is aangebied as hedendaags, met terugflitse. Dit was metateater oor die wynbedryf. Die program sê dit is ’n “musiekblyspel vol liefde, hartseer, korrupsie, onderdrukking en bemagtiging.” Beter kan ek nie.

philida_dievertellers

Frans, die seun van die boer Cornelis Brink, gaan “lê” by Philida en kry drie kinders by haar. Hy beloof haar dat hy haar sal vrykoop wanneer hy "baas" word, maar sy pa, Cornelis, is in ’n finansiële verknorsing en wil Philida en die kinders verkoop.

philida_frans

Philida word verkoop, beland in Worcester en leer uiteindelik lees en skryf.

philida_maria

philida_jongslavin

Dit was puik teater, en ’n baie groot rede vir die sukses kan toegeskryf word aan Adriaan Brand, toenmalige trompetseler van die Spingbok Nude Girls, wat tans die musiekdirekteur van Solms-Delta is. Sy energie, sy passie en sy vermoë om mense te laat deel in sy passie, was aansteeklik.

philida_leer_lees

 

Samestelling: Adriaan Brand, Nick Turner, Leonore Bredekamp, Jervis Pennington en die Delta Soetstemme

Musikale verwerking: Adriaan Brand, Carlo Fabe en die Delta Langbroek-orkes

Regie: Bongile Mantsai

Spelleier: Amelda Brand

Teksontwikkeling: Ameld Brand, Sanna Malgas, Elsie Cupido, Linda Farmer, Sarie Pietersen en Gershwin Cloete

Met: Camelia Florence, Delta Soetstemme, Delta Langbroek-orkes en lede van die Babylonstoren en die Breytenbach Sentrum

The post US Woordfees 2016: Philida van die Delta appeared first on LitNet.

Be active citizens

$
0
0

(’n Opsomming in Afrikaans volg hier onder)

There is an apt Afrikaans saying: “Jy is ’n yster.” Apt? Yes, because it was a steel-manufacturing company that sponsored the programme for Leadership Development and Academic Success staged at the ATKV Goudini Spa Holiday Resort from 20 to 22 July 2016. ArcelorMittal, the world’s leading steel and mining company, chose to sponsor young leaders for an intensive three-day programme run by the Frederik Van Zyl Slabbert Institute and the ATKV.

Folker Williams from the Frederik Van Zyl Slabbert Institute

Young people have always been involved in shaping societies. South Africa annually celebrates Youth Day and the Nobel Peace Prize committee recognised youthful leadership when they awarded the prize to Malala Yousafzai. All three organisations involved in the workshop had been working with young people for a while. ArcelorMittal is actively involved in training young people in maths and science, the Frederik Van Zyl Slabbert Institute for Student-Leadership Development has been active in developing young leaders from 2011 and the ATKV’s youth programmes go back many decades.

Seymour Bothman from the ATKV

Each of these learners is involved in the leadership structures of their school and often in their community as well. They do not come from the wealthiest schools in the country. The three schools involved in this pilot project are Kayamandi High School, near Stellenbosch, where the ATKV has been active, Diazville High School in Saldanha, which has close ties with ArcelorMittal, and Strand High School, where the Frederik Van Zyl Slabbert Institute has been piloting training programmes.

Young leaders with Melvina Mason Hearne (right) of the ATKV

The workshop in Goudini was not a one-off hit, it was one of seven contact sessions with the training partners. The first of these took place in February and the last will be towards the end of August. Yet being together and being exposed to the conference-style hospitality provided by the staff of the ATKV Goudini Spa Holiday Resort were clearly cherished by many of the young people. Most of them come from poor communities and being spoiled with good food and excellent accommodation was something to behold – not to speak of the amazing hot springs!

Hard work, but conference-style facilities

Yes, there was ample time to play in the hot baths, but during the day the young people worked hard.

On the first day they discovered what it meant to be an African in South Africa by seeing our country in a wider context.

Networking around good food

On the second day the principles and broad content of the South African Constitution were discussed before the Bill of Rights was scrutinised. The role of the youth in bringing about the changes in our country was also addressed. Thereafter the participants discussed modern movements like #RhodesMustFall and #BlackLivesMatter, before they looked at the media and the way ordinary people can be part of broadcasting change via social media.

The young people were then introduced to the National Development Plan. These two videos are an easy introduction – even adults can understand them!

Thandi's future is a rather stark introduction to the reasons we need a development plan.

Here Trevor Manuel explains the nine big challenges facing South Africa, as contained in the Diagnostic Report of the National Planning Commission.

Thereafter everybody was introduced to the Integrated Development Plan that every single municipality must produce.

 “Google IDP and the name of your municipality,” the young people were told. They did. It is something every single citizen should do. Politicians are quick to promise a lot of things, but each municipality’s IDP should bring positive results to our own neighbourhood, our own community, maybe even our own street. If our community is absent from the plan, we have the right – the duty, in fact – to address it. Each municipality has to have such a plan and each citizen must hold our politicians accountable to make sure that their IDP does not remain empty words.

Finding solutions

The last session ended with a challenge to the young leaders: What are the problems in your area and what can you do to make it better? The participants were impressive: teenage pregnancies, drugs, poverty, gangsterism, lack of internet access … These were but a few issues that were highlighted and a number of workable solutions were suggested.

The workshop ended with everybody saying “We can!” Can do what? We can make a difference. And we should. We should all be active citizens.

These young leaders are ysters. We should all aspire to be active in our communities, just as they are.

Xavier Lawrence from ArcelorMittal

Xavier Lawrence, the head of training and development at ArcelorMittal, closed the session with this tribute. He told the young leaders:

  1. I am jealous of:

– the opportunities you have

– the energy you have

– the future you are shaping.

  1. I am in awe of:

– the quality of our youth

– calibre of our youth,

– the energy of our youth

  1. I am amazed at:

– the challenges you face

– your tenacity and resilience.

  1. I am proud that our future is in your hands.

* * *

Leiers moet hoop verkondig en terselfdertyd ook uitdagings op so ’n wyse aanpak dat hulle ander kan oortuig daar is hoop. Dit is waarom hierdie werkswinkels plaasvind.

"Hoop is die gemene deler wat ryk en arm tot aksie kan laat oorgaan," het Stellenbosch se uitvoerende burgemeester, Conrad Sidego, op Maandag, 14 September 2015 tydens 'n ontbyt by die Avontuur-wynlandgoed gesê.

By daardie geleentheid het die Frederick Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling, verbonde aan die Stellenbosch Universiteit, en die ATKV met borge byeengekom om oor samewerking te gesels. Die Frederick Van Zyl Slabbert Instituut het kort tevore ’n loodsprojek begin by Strand Hoërskool en die ATKV was reeds betrokke by Kayamandi High School. ArcelorMittal, wat uiteindelik die projek sou borg, is betrokke by Diazville High School. Deur kragte saam te snoer kon hulle saam aan meer jong mense hoop bied.

Elkeen van die skole kry uiteindelik sewe kontaksessies met die aanbieders. Die naweek by die ATKV Goudini Spa was egter ’n hoogtepunt vir die leerders wat hard gewerk het gedurende die jaar.

Die sessies is in Engels gehou, aangesien nie almal Afrikaans en Xhosa goed kan praat nie, maar almal wat iets wou sê, is aangemoedig om dit wel in hulle moedertaal te doen en toe is daar getolk soos nodig.

The post Be active citizens appeared first on LitNet.

Die ATKV oor die Staatsteater in Pretoria en oor kunste in Suid-Afrika

$
0
0

Staatsteater (foto: www.statetheatre.co.za)

Die Staatsteater in Pretoria is vir baie die heel bekendste teater in die land, en is vir jare deur talle kenners as die hartklop van die kunste beskou.

Dié imposante teaterkompleks, met sy talle foyers, ouditoriums, verhoë, repetisielokale en massiewe werk- en dekorruimtes, is gebou op die ou Markplein in Pretoria vir gebruik deur die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk). En soos dit ʼn teater met so ʼn glorieryke verlede betaam, was daar stoorkamers vol pragtige kostuums en interessante dekor en bykomstighede.

Personeellede van die Erfenisstigting het vroeër vanjaar ʼn welwillendheidsbesoek aan die Staatsteater gebring, en was diep onder die indruk van die ryk kulturele nalatenskap van ‘n vervloë era wat steeds daar gehuisves word, en van die harde werk deur enkele toegewyde personeellede. Dit het gelei tot ʼn spesiale uitstalling, gepas getitel Gloriedae: hoogtepunte uit die geskiedenis van die Staatsteater, wat tans in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument te sien is. Die uitstalling sluit besonderse kostuums, kunstige juweliersware en bybehore in, en uittreksels uit operas en toneelstukke word vertoon.

Tydens die amptelike opening van die uitstalling op Donderdag 21 Julie het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, in sy toespraak ‘n oorsig van die teater se geskiedenis gegee. Die teater is in Mei 1981 tydens ʼn luisterryke geleentheid geopen, en die eer om die heel eerste woorde op die nuwe, baie moderne verhoog te kon uiter, het die geliefde veteraanakteur Siegfried Mynhardt toegekom. Hy het ook verwys na die uiteenlopende verskeidenheid produksies wat deur die jare in die Staatsteater opgevoer is.

“Maar ongelukkig het die Witskrif oor die Kunste in 1996 bepaal dat teaters voortaan slegs ‘n klein begroting van die staat sou kry, net genoeg om te betaal vir instandhouding en ‘n klein operasionele personeelkorps. Daar sou voortaan geen meer begrotings wees vir enige produksies nie.”

Teen Junie 2000 is die Staatsteater weens finansiële probleme gesluit, en ‘n ondersoek na korrupsie is van stapel gestuur. Dis op 4 April 2001 onder ʼn nuwe direksie en bestuur heropen.

Gouws het gesê dit is hartseer dat staatsbefondsing keer dat alle Suid-Afrikaners nie in die kunste kan deel nie. “In Suid-Afrika het ons ʼn ryk en diverse kultuur wat nie genoeg benut word om nasiebou en sosiale kohesie te bevorder nie. In ons kunste, nes in die ryk kultuur van ons uiteenlopende tale en kulture, lê daar baie potensiaal opgesluit. Nie net om mekaar se stories en geskiedenis te leer verstaan nie, maar ook as dit kom by werkskepping en sosiale entrepreneurskap.” Gouws meen dit is hoog tyd dat Suid-Afrikaners politici oorreed om ons diversiteit te aanvaar en eenheid deur ʼn dinamiese, inklusiewe kunste- en kultuurbedryf te bevorder.

“As ons ons land se leuse van eenheid in diversiteit wil waar maak, moet Suid-Afrikaners mekaar se diversiteite aanvaar. Ons elkeen moet bereid wees om ander landgenote se geskiedenis, erfenis, taal en kultuur se stories te respekteer en daarna te luister.”

Gouws het die Erfenisstigting gelukgewens met die uitstalling. “Ek hoop dat hierdie uitstalling, wat ‘n blik gee op ʼn deel van ons nasionale erfenis, ons almal sal aanmoedig om meer betrokke te raak. Nie net by die geskiedenis en die stories van die verlede nie, maar ook by die reusepotensiaal wat opgesluit lê in ons toekoms en ook in ons jeug.”

***

Peet Venter, deesdae meer bekend as ’n krimiskrywer by LAPA, was een van die ingenieurs wat verantwoordelik was vir die bou van die Staatsteater. Hy het oor al die projekte gedurende ’n loopbaan van meer as 50 jaar die volgende gesê: “Die een wat my die naaste aan die hart lê, is die Staatsteater in Pretoria. Dis nie ’n gebou wat mense insluk en agt, of meer, ure se werk van hulle vereis nie. Dis ’n plek wat mense verwelkom, hulle gemaklik laat voel, en ’n paar uur se genot aan hulle verskaf, iets moois vir hulle gee; soos ’n elegante gasvrou.”

 

The post Die ATKV oor die Staatsteater in Pretoria en oor kunste in Suid-Afrika appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2016 – Finaliste

$
0
0

ATKV-Woordveertjies 2016 – Finaliste
(Alfabeties volgens van)

ATKV-Prosaprys

  • Die verdwyning van Billy Katz – Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Split – Debbie Loots (Queillerie)
  • Boomkastele – Schalk Schoombie (Human & Rousseau)
Boekresensie: Die Verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten

Org Potgieter
Resensies

"'Karakters dryf my stories, nie gebeure nie. Ek hou veral van karakters wat bietjie afwyk van die geykte vorm en wat gedryf en gemotiveer word deur ou spoke wat soms vir hulle bekend lyk, soms onbekend.' En dit werk!"

Boekresensie: Split deur Debbie Loots

Elsibe Loubser
Resensies

"... dit is ’n boek vir belese mense, mense wat hou van intellektuele prikkels, wat oor die samelewing nadink, wat oor verhoudings en kwessies van seksualiteit nadink, wat hoop om intelligente afleidings te maak."

Resensie: Boomkastele: 'n sprokie van 'n stadsmens deur Schalk Schoombie

Johan Anker
Resensies

"Boomkastele, die debuutroman van Schalk Schoombie, is tegelykertyd 'n moderne sprokie, 'n roman oor die lewe in die stad en 'n versameling van 'n verskeidenheid hedendaagse tekste wat op verrassende wyse in die lewe van uiteenlopende karakters geïntegreer word ..."

Prys vir Liefdesroman

  • Toe Elvis ophou sing – Juanita Aggenbach (Protea Boekhuis)
  • Immer wes – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)
  • Gelyke kans – Santie van der Merwe (LAPA Uitgewers)
Boekresensie: Toe Elvis ophou sing deur Juanita Aggenbach

Maryke Roberts
Resensies

"Toe Elvis ophou sing gee ’n binnekyk in alkoholisme en die uitwerking daarvan op ’n gesin – hoewel Melanie se karakter die sentrale fokus is."

Boekresensie: Immer wes deur Irma Joubert

Elbie Adendorff
Resensies

"Immer wes verwoord nie net die verhaal van ’n vrou in oorloggeteisterde omstandighede nie, maar verwoord veral die verhaal van hoop en ’n toekoms uit oorlog uit."

Tien vrae: Santie van der Merwe oor gelyke kans

Santie van der Merwe, Naomi Meyer
Onderhoud

"Jy kan tog nie 'n geloofwaardige karakter skep as jy jouself nie in sy of haar skoene kan indink nie. Dit was vir my skrikwekkend om te dink hoe maklik dinge kan skeefloop."

Prys vir Poësie

  • vry- – Gilbert Gibson (Human & Rousseau)
  • Takelwerk – Daniel Hugo (Human & Rousseau)
  • Bladspieël – Marlise Joubert (Human & Rousseau)
Nie-akademiese notas by die lees van Vry- deur Gilbert Gibson

Natie Botes
Resensies

"Ek het gestem, ek het ’n stem. Ek is dus vry.

Of is ek net kwansuis
vry-?"

En so is Vry-.

Resensie: Takelwerk deur Daniel Hugo

Danie Botha
Resensie

"Maar lees nou hierdie digbundel van Daniel Hugo, of net maar 'Stellenberg se eik' (56). Dan het ’n mens mos hoop. Dan kan jy nog die krag van Afrikaans so duidelik ervaar. Jy gaan oor tot verstáán."

Boekresensie: bladspieël deur Marlise Joubert

Philip John
Resensies

"bladspieël bevat uiters toeganklike, maar tog treffende poësie waarvan die trefkrag net toeneem met elke herlees."

Prys vir Romanses

  • Liefde vir ’n vuurvreter – Didi Potgieter (Romanza)
  • Maskers – Cynthia Robertson (Romanza)
  • Liefde in laslap – Elsa Winckler (Satyn)

Prys vir Spanningslektuur

  • Die verdwyning van Billy Katz – Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Skuldig – Martin Steyn (LAPA Uitgewers)
  • Skarlaken – Irma Venter (Human & Rousseau)
Boekresensie: Die Verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten

Org Potgieter
Resensies

"'Karakters dryf my stories, nie gebeure nie. Ek hou veral van karakters wat bietjie afwyk van die geykte vorm en wat gedryf en gemotiveer word deur ou spoke wat soms vir hulle bekend lyk, soms onbekend.' En dit werk!"

Resensie: Skuldig deur Martin Steyn

Jonathan Amid
Resensie

"Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman wat die leser se morele kompas stuk vir stuk aftakel en doelbewus met meer vrae as antwoorde laat."

Boekresensie: Skarlaken deur Irma Venter

Madri Victor
Resensies

"En met elke boek karteer sy skynbaar moeiteloos en met groot sukses ʼn nuwe gebied op die krimilandskap."

Prys vir Dramateks

  • Amper, Vrystaat – Antoinette Louw, Milan Murray, Nico Scheepers, Cintaine Schutte
  • Rooivalk – Nico Scheepers
  • Blaai om – Marcel Spaumer

The post ATKV-Woordveertjies 2016 – Finaliste appeared first on LitNet.

Viewing all 508 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>