Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 505 articles
Browse latest View live

PG du Plessis: sy nalatenskap sal nog jare lank eggo

$
0
0

Dit is met leedwese dat die ATKV verneem dat die formidabele woordsmid PG du Plessis op Woensdag 7 Junie 2017 oorlede is. Woorde ontbreek om sy bydrae tot die wêreld van Afrikaans te beskryf en sy nalatenskap sal nog jare lank eggo.

Vir sy vriende was hy Pieter, maar vir die talle lesers en kykers wat deur hom bekoor is, was hy PG. Dit was veral die TV-reeks Koöperasiestories wat gemaak het dat PG ’n naam was wat amper elke Afrikaanse TV-kyker geken het.

In sy lewe was PG du Plessis ook onderwyser, akademikus, koerantman, draaiboekskrywer en ’n vriend vir baie.

Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1934 te Boshof in die Vrystaat gebore. Sy pa was ’n onderwyser wat ook baie lief vir die letterkunde was. Ná matriek is PG na die Universiteit van Pretoria waar hy ’n BA-graad behaal in 1955 en sy onderwysdiploma in 1957. Hy werk daarna heeltyds, maar hou aan studeer en in 1966 behaal hy sy doktorsgraad. NP van Wyk Louw was sy promotor.

In 1969 debuteer PG du Plessis met Die nag van Legio, ’n strak drama wat in ’n gestig afspeel. Die volgende jaar word die stuk met die WA Hofmeyr-prys bekroon.

Sy volgende drama, Siener in die suburbs, is uitsonderlik, juis omdat dit doodgewone werkersklasmense in doodgewone omstandighede uitbeeld. Ná dekades is die stuk steeds relevant en is onlangs weer by verskeie feeste opgevoer. Die Hertzogprys in 1972 is aan Du Plessis vir Die nag van Legio en vir Siener in die suburbs toegeken.

In 1973 verskyn Plaston: DNS-kind, ’n futuristiese stuk wetenskapfiksie oor ’n seun wat deur ’n wetenskaplike geskep word. Die vraag is of ’n kind wat geskep is vir perfeksie in ’n onvolmaakte wêreld sou kon aanpas.

Veel meer vermaaklik is die klug ’n Seder val in Waterkloof van 1979. In dié drama steek Du Plessis die draak met akademici wat hulle as verhewe bo die “gewone” mense beskou.

In 1980 verskyn ’n bundel Koöperasiestories op Donderdag by Perskor uit sy pen. Dit word gereeld herdruk en op 27 April 1983 word die eerste episode van Koöperasiestories op Suid-Afrikaanse TV uitgesaai. Dit was dadelik ’n enorme sukses.

PG du Plessis (Foto: Annemarie Wichmann)

In die drama Vereeniging, Vereeniging (1985) vind ’n mens reeds die oorsprong van dit wat later die roman Fees van die ongenooides geword het. In daardie stadium was die stuk egter so gewaagd dat Truk, wat dit aangevra het, dit nie wou opvoer nie.

Hierna het PG du Plessis hom ’n tyd lank gewy aan vermaak. Hy het talle rolprente gemaak en was ook geliefd vir sy aandeel in die geselsprogram Spies en Plessis.

In 1999 skryf hy weer ’n toneelstuk vir die KKNK met die titel Inkleurboek vir twee.

Du Plessis het verskeie tekste geskryf in sy lewe. The married man’s guide to adultery: a study of adulterations van 1998 is ’n besondere roman oor die verdigsels (adulterations) wat ’n klein gemeenskappie kan kniehalter.

Dit was egter met Fees van die ongenooides, wat in 2008 gepubliseer is, waarmee Du Plessis sy stempel deeglik op die Afrikaanse kanon afdruk. Hierdie boek ondersoek talle aspekte van die samelewing wat reeds in sy werk te sien is, maar in hierdie geval was die puik beelding en die meesleurende storie dié pennevrug van ’n deurleefde skrywer.

Die ATKV-Prosaprys is in 2009 aan hom toegeken vir dié roman.

Du Plessis het sy laaste jare op sy plaas Sémóer geslyp. Hy word oorleef deur sy vriend en gade, Marie, asook die egpaar se twee kinders en ’n aantal kleinkinders.

Toe hy in 1983 uittree as redakteur van Hoofstad, het hy opgemerk: “Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid, as daar dalk sukses is.”

Die ATKV wil sy diep meegevoel betuig aan PG se geliefdes. Soos Jan FE Cilliers geskryf het: Stil broers, daar gaan ’n man verby.

The post PG du Plessis: sy nalatenskap sal nog jare lank eggo appeared first on LitNet.


Word ’n boekfluisteraar

$
0
0

Bennie Boekwurm en Louise Smith

Mense verklap hulle ouderdom wanneer hulle spontaan die kenwysie van Wieliewalie begin sing, tog is dit presies wat gebeur het toe Bennie Boekwurm hom kom tuismaak by ’n werkswinkel oor die rol van biblioteke in die onderwys. Die geleentheid het plaasgevind op 14 Junie 2017 by die Laerskool Welgemoed in die Kaap. Meer as 100 mense het dit bygewoon.

Haas Das en Louise Smith

Haas Das was ook daar, so ook die skrywer, Louise Smit, wat verantwoordelik is vir die ontstaan van hierdie twee karakters.

Die oorkoepelende tema van die geleentheid was: “Word ’n boekfluisteraar”.

Die Wes-Kaap-onderwysdepartement, die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, LAPA Uitgewers en NB Uitgewers het die werkswinkel ondersteun en het deelgeneem.

Chareldine van der Merwe

“Ons glo daar is ’n boek vir elke mens,” het Chareldine van der Merwe van die VVA verduidelik. “Biblioteke is die plekke waar ’n mens daardie boek kan ontmoet. Daarom is mense wat in biblioteke werk, boekfluisteraars.”

Talle biblioteekmense het kom verduidelik hoe hulle leerders en boeke by mekaar laat uitkom. Aan die een kant is pret beklemtoon (en pizza!), maar hierdie opmerking, per e-pos ná afloop van die geleentheid, som waarskynlik die gebeure ten beste op:

My terugvoering aan die skool was dat ek besef het dat al die bibliotekarisse wat as sprekers opgetree het, die woorde “veilige hawe” gebruik het! Toe ek afgekyk het op my notas het ek ook die woorde “veilige hawe” daarin raakgelees! – Stephanie van Wyk, Laerskool Mikro

Van Wyk was een van die sprekers. Vier ander skoolbibliotekarisse het ook deelgeneem. Praktiese raad is gedeel, soos toe Janine de Villiers van die Laerskool Welgemoed verduidelik het dat ’n grootmens plat op die grond moet sit om die biblioteek te sien soos die heel jongste leerders dit ervaar.

John Nicholson, wat saam met sy vrou ’n biblioteek in hulle agterplaas gestig het om die kinders van Lavender Hill van die straat te hou, het voortborduur op die tema van ’n veilige hawe. John kon trots verwys na ’n aantal mense wat vandag geleerdheid het omdat hulle geborge gevoel het in daardie agterplaasbiblioteek en só begin lees het. Nicholson is verlede jaar vereer met ’n ATKV-Veertjie vir sy groot werk om lees in Lavender Hill te bevorder.

Bellville se openbare biblioteek het ook baie moeite gedoen om meer tienervriendelik te word. Dit het gewerk en hulle is baie trots daarop dat daar elke weeksdag 300 of meer leerders in die biblioteek kom huiswerk doen en oplees.

Sprekers van die Wes-Kaap-onderwysdepartement het beklemtoon dat dit wat by Bellville gebeur, ook elders in die Wes-Kaap plaasvind, al is dit op ’n kleiner skaal.

Die departement was baie eerlik oor die finansiële dilemmas waarmee hulle sit, maar het ook moeite gedoen om onderwysers daarop te wys dat hulle wel hulpbronne beskikbaar het. “Kom praat met ons, ons wil julle help,” was die boodskap.

Spontane applous het losgebars ná ’n kort video gespeel is oor die biblioteekbus wat 11 skole naby Rawsonville bedien. Hierdie bus, die bibliotekaris en die bestuurder, word gefinansier deur plaaswerkers op die 22 plase wat druiwe aan Du Toitskloof Kelder lewer. Dít is ’n voorbeeld van die privaatsektor wat hande vat met omliggende gemeenskappe, want Du Toitskloof Kelder het Fair Trade-akkreditasie en dit beteken dat ’n bedrag geld van elke bottel wyn wat verkoop word, teruggeploeg word na werkers.

Middagete is voorsien deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, die twee baaskokke van Bonteheuwel wie se kookboeke so suksesvol deur LAPA uitgegee is.

Ná ete het die skrywers Louise Smith, Wendy Maartens en Edyth Bulbring gesels.

Dit was ’n besonderse geleentheid waar mense wat almal lief is vir boeke, kon koppe bymekaarsit. Lana van der Westhuizen van die Parel Vallei Hoërskool in Somerset-Wes, het geskryf: “Ons almal daar was soos droë sponse wat net alles opgesuig het. Ek het soveel geleer en dit was heerlik om die ander mense in my veld te ontmoet en inligting uit te ruil. Ek hoop regtig dat dit nie die laaste keer was nie."

Foto’s van die sprekers, in volgerde van optrede

Timothy Cloete (WKOD)

Marianne Serfontein (WKOD)

Helen Johnston (WKOD)

Aubrey Africa (WKOD)

Lona Gericke (afgetrede bibliotekaresse)

Janine de Villiers (Laerskool Welgemoed)

Maryna van Zyl (Laerskool Eversdal)

Stefanie van Wyk (Laerskool Mikro)

Erika Lourens (Laerskool Eikestad)

Venessa de Beer (Hoër Meisieskool Bloemhof)

John Nicholson (’n agterplaasbiblioteek in Lavender Hill)

Christelle Connor en Christelle Lubbe (Bellville Openbare Biblioteek)

Louise Smit (skrywer)

Wendy Maartens (skrywer)

Edyth Bulbring (skrywer)

The post Word ’n boekfluisteraar appeared first on LitNet.

Lenteskool en skryfkompetisie vir skrywers van romantiese fiksie

$
0
0

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, in samewerking met die liefdesverhaaluitgewer LAPA, bied van Donderdag 14 tot Saterdag 16 September 2017 ’n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.

Bekende en bekroonde skrywers van romantiese fiksie, verteenwoordigers van LAPA en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as gespreksleiers op. Liefdesverhaalsoorte soos die romanse en liefdesroman kom onder die loep.

Hierdie twee-en-’n-halfdag-geleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat ’n liefdesverhaal wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R2 750 per persoon. Dié bedrag dek ook deelverblyf in selfsorgeenhede by die PUK Astro Villa, oggend- en middagpouseverversings en ’n funksie op Vrydagaand 15 September. ’n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar. Kontak Kobie van Aswegen by Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za (tel 018 299 1783) vir meer besonderhede.

Die ATKV-Skryfskool bied in 2017 ook ’n kompetisie in die skryf van ’n romanse aan. Die wenner hiervan sal die Lenteskool GRATIS kan bywoon. Vir meer inligting hieroor, tree eweneens in verbinding met Kobie van Aswegen.

Kom leer onder die leiding van mense wat weet!

The post Lenteskool en skryfkompetisie vir skrywers van romantiese fiksie appeared first on LitNet.

Inskrywingsvorm: Lenteskool en skryfkompetisie vir skrywers van romantiese fiksie

$
0
0

Die ATKV-Skryfskool van Noordwes-Universiteit, in samewerking met die liefdesverhaaluitgewer LAPA, bied van Donderdag 14 tot Saterdag 16 September 2017 ’n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.

Romanseskrywers Elsa Winckler en Madelie Human, liefdesromanskrywer Sophia Kapp, LAPA se Charlene Hougaard en Cliffordene Norton, tesame met personeel van die ATKV-skryfskool, gaan as aanbieders optree en op die liefdesverhaal fokus.

Hierdie twee-en-’n-halfdag-geleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat ’n liefdesverhaal wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R2 750 per persoon. Dié bedrag dek ook deelverblyf in selfsorgeenhede by die PUK Astro Villa, oggend- en middagpouseverversings en ’n funksie op Vrydagaand 15 September. ’n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar. Kontak Kobie van Aswegen by Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za (tel 018 299 1783) vir meer besonderhede.

Die ATKV-Skryfskool bied in 2017 ook ’n kompetisie in die skryf van ’n romanse aan. Die wenner hiervan sal die Lenteskool GRATIS kan bywoon. Vir meer inligting hieroor, raadpleeg die brosjure en inskrywingsvorm.

Kom leer onder die leiding van mense wat weet!

The post Inskrywingsvorm: Lenteskool en skryfkompetisie vir skrywers van romantiese fiksie appeared first on LitNet.

ATKV se nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie vir die eerste keer in Kaapstad

$
0
0

ATKV-Muziq is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassieke musiek in Suid-Afrika. Dit vind plaas in die vorm van ’n klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici en het ’n totale prysgeld van R180 000.

Vanjaar vind hierdie kompetisie vir die eerste keer in die ouditorium van die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow plaas. Die kompetisie skop af met die tweede ronde wat om 11:00 op Vrydag, 28 Julie sal begin. Die finale ronde vind plaas op Saterdagaad, 29 Julie om 19:00.

Instrumentaliste tussen 15 en 27 jaar oud kon vir Muziq inskryf. Die eerste ronde het in Mei vanjaar plaasgevind, waartydens slegs 10 musici vir die tweede ronde gekies is. Hulle is vanjaar:

Naam

Instrument

Leermeester

Sulayman Human

Klavier

Cameron Williams

Saksofoon

A Voges

Jonathan Mayer

Viool

I Tsoniff

Jeffrey Armstrong

Viool

P Schoeman

Paul Loeb van Zuilenburg

Viool

F Bacharova

Thapelo Masita

Tjello

S Doane

Bianca Wesley-Smith

Viool

D Sutton

Tim ter Huurne

Klassieke Kitaar

N Fourie-Gouws

Neil Robertson

Fluit

B Rennie-Salonen

Brian Bae

Klavier

J Stanford

 

Die beoordelaarspaneel staan onder leiding van die ervare violis Denise Sutton (nie-stemmende voorsitter). Die bekende pianis, John Theodore, Heinrich Armer (voormalige klarinetdosent aan die Universiteit van die Vrystaat), en Patrick Goodwin (die huidige orkesmeester van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes) is die ander lede van die paneel.

Om sitplekke vir die finale (derde) ronde, wat op Saterdag, 29 Julie om 19:00 plaasvind te bespreek, skakel asb die projekorganiseerder, Ilse Schürmann by 082 851 7157 na-ure of vir Louisa van Rensburg by 011 919 9009 tydens kantoorure. Toegang is gratis, maar vooraf bespreking vir spesifiek die finale ronde is noodsaaklik.

Tydens die finale ronde sal die algehele wenner dan ook prysgeld ter waarde van R65 000 ontvang. Verder word daar ’n tweede prys ter waarde van R32 000 en ’n derde prys ter waarde van R16 000 ook toegeken. Die 5 finaliste sal ook elkeen R10 000 ontvang.

’n Addisionele prys van R8 500 vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde, asook ’n R8 500-prys vir die beste vertolking van ’n barok of klassieke werk tydens die derde ronde is beskikbaar.

Tydens die derde en dus finale ronde tree die sopraan Palesa Malieloa as gaskunstenaar op. Palesa is aangewys as die algehele wenner van ATKV-Muziqanto 2016, die ATKV se volwaardige nasionale klassiekesangkompetisie.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG is weer eens vanjaar die mediavennoot van beide ATKV-Muziq en -Muziqanto.

The post ATKV se nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie vir die eerste keer in Kaapstad appeared first on LitNet.

Afrikaans: Grensloos oor genres heen

$
0
0

Kom kuier op 12 Augustus in die Drostdy-teater vir ATKV-Crescendo se musiekproduksie Grensloos 2017.

HemelBesem en Oxijin sal die verhoog met Anna Davel, YOMA, Spoegwolf en Die Hooflig deel. Die finaliste van ATKV-Crescendo sal ook hul slag op die verhoog wys.

Puik musiek. Grensloos oor genres heen en in Afrikaans.

Die DVD vir ATKV-Crescendo Grensloos 2017 sal opgeneem word – kom wees deel van die gehoor. 10% van die kaartjieverkope sal aan die kunsdepartement van die Sekondêre Skool Cedar in Mitchells Plain geskenk word.

Kaartjie kos R80.

Besprekings kan by www.drostdyteater.co.za, 087 934 2459 of per e-pos by info@drostdyteater.co.za gedoen word.

Word geïnspireer!

***

Hierdie groep sing reeds saam van die einde van 2016 af. Izak de Vries het hulle eerste optrede vasgevang. Saterdagaand gaan groter en beter wees, maar solank loer hier vir 'n voorsmakie.

The post Afrikaans: Grensloos oor genres heen appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies: finaliste word aangewys

$
0
0

Vanjaar vind die tiende ATKV-Woordveertjies op 8 September by Anura Landgoed buite Stellenbosch plaas.

Die name van die finaliste, in alfabetiese volgorde (volgens van) is:

ATKV-Prosaprys

  • Tuisland – Karin Brynard (Penquin Random House SA)
  • Verlorenkop – Celesté Fritze (Queillerie)
  • 1795 – Dan Sleigh (Tafelberg)

Lees op LitNet:

Prys vir Liefdesroman

  • Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva – Sophia Kapp (LAPA Uitgewers)
  • Offerande – Chanette Paul (LAPA Uitgewers)
  • Anderkant vergeet – Santie van der Merwe (LAPA Uitgewers)

Lees op LitNet:

Prys vir Poësie

  • Hammie – Ronelda S Kamfer (Kwela Boeke)
  • Fotostaatmasjien – Bibi Slippers (Tafelberg)
  • Die aarde is ’n eierblou ark – Susan Smith (Protea Boekhuis)

Lees op LitNet:

Prys vir Romanses

  • Moeilikheid met ’n meermin – Sophia Kapp (Romanza)
  • Troue in ’n towerbos – Rosita Oberholster (Romanza)
  • Liefde deur ’n lens – Elsa Winckler (Satyn)

Prys vir Spanningslektuur

  • Tuisland – Karin Brynard (Penquin Random House SA)
  • Die dood van ’n goeie vrou – Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Koors – Deon Meyer (Human & Rousseau)

Lees op LitNet:

Prys vir Dramateks

  • My seuns – Christo Davids
  • DEURnis – Jannes Erasmus, Henque Heymans & Johann Smith
  • Wild – Philip Rademeyer

Prys vir Niefiksie

  • Broedertwis – Albert Blake (Tafelberg)
  • Emily Hobhouse: Geliefde verraaier – Elsabé Brits (Tafelberg)
  • Hermann Giliomee: Historikus – Hermann Giliomee (Tafelberg)

Lees op LitNet:

The post ATKV-Woordveertjies: finaliste word aangewys appeared first on LitNet.

ATKV-Muziq: Van klein dorpie na wêreldstede

$
0
0

Toe hy twaalf jaar oud was, het Sulayman Human nog nooit aan ’n klavier gevat nie. Op 29 Julie 2017 was hy maar 24 jaar oud toe hy afgereken het met die room van Suid-Afrika se jong musici. Nou wag die wêreld se verhoë vir hierdie boorling van Dysselsdorp.

ATKV-Muziq vind jaarliks plaas. Instrumentaliste vanaf 15 jaar tot en met 27 jaar mag inskryf. LitNet het al te vore berig hoe belangrik dit is vir jong musici om te weet dat hulle elke jaar kan luister na die wenners, kan inskryf en verbeter. (Lees die LitNet-onderhoud met Junnan Sun, die 2015 wenner, hier.)

Vanjaar het die eindrondte van ATKV-Muziq in die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow plaasgevind. Vyf finaliste het deelgeneem.

’n Totale prysgeld van R 180 000 was vanjaar op die spel. Elke finalis het R10 000 ontvang.

Sulayman Human was die algehele wenner en het ’n wentjek van R65 000 en ’n erepenning ontvang. Hier is hy saam met Deidre le Hanie, die besturende direkteur van die ATKV, wat die pryse oorhandig het.

Sulayman het ook ’n R8 500-prys, vir die Beste vertolking van 'n Barok- of Klassieke werk tydens die eindrondte, ontvang.

Cameron Williams was algeheel tweede, en het daarvoor R32 000 ontvang. ’n Addisionele prys van R8 500 vir die Beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die finale rondte is ook aan hom toegeken.

 Jeffrey Armstrong, derde het R16 000 ontvang.

Jonathan Mayer, viool, was ook ’n finalis.

Brian Bae op klavier, was die ander finalis.

Die aand se begeleier was Elna van der Merwe.

Sulayman het verlede jaar derde geëindig. Die 2016-wenner van ATKV-Muziq, Megan-Geoffrey Prins, het die afgelope aantal weke vir Sulayman onder hande geneem. Hier poseer hulle saam ná tyd.

Megan studeer tans in die VSA en het na Suid-Afrika teruggekeer om ’n reeks konserte te speel. Danksy die oorwinning wat Sulayman behaal het, is daar vir hom nou ook moontlikhede in die VSA.

Die beoordelaarspaneel het onder die leiding gestaan van die violis, Denise Sutton (nie-stemmende voorsitter, links van Sulayman). John Theodore (pianis, heel links), Heinrich Armer (voormalige klarinetdosent aan die Universiteit van die Vrystaat, tweede van regs) en Patrick Goodwin (die huidige orkesmeester van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, heel regs) was die ander lede van die paneel. Saam met hulle op die foto is John Roos, die beskermheer van ATKV-Muziq (tweede van links).

Die sopraan, Palesa Malieloa, het as gaskunstenaar opgetree. Palesa is verlede jaar aangewys as die algehele wenner van ATKV-Muziqanto 2016.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, is weer eens vanjaar die mediavennoot van beide ATKV-Muziq en -Muziqanto.

Die finaal van ATKV-Muziqanto vind plaas op 16 September.

The post ATKV-Muziq: Van klein dorpie na wêreldstede appeared first on LitNet.


Ommietafel 2017: Die oop-koms van Afrikaans

$
0
0

Op Donderdag 17 Augustus 2017 het die Vriende van Afrikaans (VVA) en die Afrikaanse Taalmonument hande gevat om ’n gesprek oor die oop-koms van Afrikaans aan te bied – nie soseer oor die toe-koms nie.

Die gesprek het plaasgevind by die Middelvlei Wynlandgoed in Stellenbosch. Middelvlei se funksielokaal word deur die plaaswerkers selfs bestuur en bedryf.

Johan van Lill, die radioman, het die gesprek gelei.

Johan van Lill

Willa Boezak het afgeskop deur die komvandaan van Afrikaans te vergelyk met die lewe van ’n mens. “Afrikaans was ’n baba daar waar die Khoi en die Nederlanders met mekaar begin praat het,” sê hy. In die tyd toe die Moslem-leermeesters Afrikaans in Arabies begin skryf het, en die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is, was die taal waarskynlik mondig: Jonk sterk en reg om ’n eie identiteit aan te neem. Nou is die taal egter volwasse en daar is baie goed wat maak dat dit maar ’n skraal persoon is. Die sprekers moet nou moeite doen om die taal te voed en te koester. “Voer Afrikaans vet!” was Boezak se pleidooi.

Willa Boezak

Fiona van Kerwel het gesê Afrikaans het waarskynlik ’n “toe”-koms gehad in die donker jare van Apartheid, maar deesdae sien sy die mooi raak in die opbouende projekte wat in die naam van die taal gedoen word. Sy self werk vir die US Woordfees se WOW-projek en hier kan sy eerstehands sien hoe Afrikaans oop lê voor ons.

Fiona van Kerwel

Tildie Smit is ’n onderwyser en navorser. Sy het van Churchill Naudé se lirieke aangehaal en gesê dat hy, en ander wat soos hy Afrikaans vernuwe, die taal oopstel aan almal, ook aan die jongmense. Nie net is die taal van rappers en rymkletsers toeganklik nie, dit omarm ook diversiteit.

Tildie Smit

Hendrè Cubitt is nog op skool. Hy voel onnies kan baie doen om die taal oop te maak vir mense soos hy. Wanneer die klas interessant is, neem hy en ander kennis.

Hendrè Cubitt

Die gehoor het daarna allerlei kwessies aangespreek – alles van Afrikaans as universiteitstaal tot grammatika het onder die loep gekom.

Daarna was van Middelvlei se wyne, sosaties en potbrode beskikbaar. Daar is dus heerlik gekuier en geklets ommietafel. In Afrikaans. Dikwels ook oopmond gelag oor wat môre inhou.

Gerrie Lemmer, Amanda de Stadler en Nita Cronjé

The post Ommietafel 2017: Die oop-koms van Afrikaans appeared first on LitNet.

Oemmie’s Merang

$
0
0

Op Sondag 20 Augustus 2017 het die ATKV met Mizan Events & Cultural Promotions saamgespan om die kultuur en geloof van die Kaapse Moslemgemeenskap te vier.

On Sunday, 20 August 2017 the ATKV joined hands with Mizan Events & Cultural Promotions for an event to celebrate the Cape Muslim community and their deep cultural and religious roots.

Afrikaans is in Arabiese skrif geskryf deur Kaapse Moslemgeleerdes lank voor ons Nederlandse voorouers dit gedoen het.

Afrikaans was first written in Arabic script by Cape Muslim scholars.

Toeriste weet van die Bo-Kaap se kleurvolle huise, maar wat gebeur daarbinne?

Tourists know the Bo-Kaap for its colourful houses, but what happens inside those homes?

Masturah Adams, die eienaar en bestuurder van Mizan Events & Cultural Promotions, wil hê dat Suid-Afrikaners en internasionale toeriste ons kulturele en godsdienstige erfenis met Kaaps-Maleise kos sal vier. Sy noem die Bo-Kaap ’n "gemeenskap om te vier".

Masturah Adams, the owner and manager of Mizan Events & Cultural Promotions, wants South Africans and international tourists to celebrate our cultural and religious heritage with Cape Malay cuisine. She calls the Bo-Kaap a “celebratory community”.

Adams het familie en vriende opgekommandeer om ’n interaktiewe uitstalling van die Kaapse Moslemtradisies te skep. Besoekers is toe op ’n begeleide toer geneem.

Adams rounded up family and friends to create an interactive display of the Cape Muslim traditions. Visitors were then taken on a guided tour.

Ons is toegelaat om by ’n tipiese madrassa in te loer. ’n Madrassa is ’n skool waar mense oor hul geloof leer.

We were allowed to take a peek into a typical madrassa. A madrassa is a school where people learn about their faith.

Die naamgeeseremonie van ’n kind, bekend as die doekmal, is verduidelik.

The naming ceremony of a child, called the “doekmal”, was explained.

Verskeie aspekte van die huwelikseremonie is verduidelik.

Various aspects of the wedding ceremony were explained.

Ná die formele seremonie berei die ouer vroue, gewoonlik Hajies, die bruid voor vir haar nuwe status as ’n getroude vrou met iets warm om te dra, baie seëninge en baie trane. (’n Hajie is iemand wat Mekka al besoek het.)

After the formal ceremony, the older women, normally Hajies, prepare the bride for her new status as a married woman with something warm to wear, many blessings and lots of tears. (A Hajie is someone who has visit Mecca as a pilgrim.)

Van hier af word die jong bruid deur die gaste na haar bruidskamer begelei met sang.

From here the young bride is serenaded to her bridal chamber by the guests.

Ons het gehoor hoe verloop die voorbereidings vir Hajj, die pelgrimstog na Mekka.

We heard about the preparations for Hajj, the pilgrimage to Mecca.

Ons kon die tafels sien wat uitgelê is om die terugkeer van die pelgrims te vier en kon van die lekkernye proe.

We could see the tables laid out to celebrate the return of the pilgrims and could savour some of the treats.

Ons het gehoor van die maand van Ramadan wanneer die Moslemgemeenskap van sonop tot sonsondergang vas, ook van die feestelikhede tydens Eid-ul-Fitr, wanneer die einde van die vas gevier word.

We heard about the month of Ramadan when the Muslim community fasts from sunrise to sunset, and were shown the table settings for Eid-ul-Fitr, the celebration when the fast ends.

Ons is ’n kort oorsig van ander belangrike gebeure op die Moslemkalender gegee.

We were given a brief overview of other important events on the Muslim calendar.

Een daarvan is “rampies sny” – die kerf van lemoen- of suurlemoenblare ter voorbereiding van Moulood-un-Nabi, wanneer die geboorte van die profeet Mohammed gevier word. (Hier is nog foto’s van Moulood.)

One of these is “rampies sny” – the cutting of orange or lemon leaves in preparation for Moulood-un-Nabi, when the birth of the Prophet Mohammed is celebrated. (Click here for more photographs of  Moulood.)

Heel gepas is ook die laaste reis van die liggaam getoon – die dooie word liefdevol vir die graf voorberei.

Quite appropriately we were also shown the last passage of the human body – the deceased person is lovingly prepared for the grave.

Uiteindelik is ons genooi om die skoonheid van die Bo-Kaap in te drink.

Finally we were invited to marvel at the beauty of the Bo-Kaap.

Ons is ’n oorsig gegee van die die Bo-Kaap se geskiedenis en die uitdagings waarmee die inwoners tans gekonfronteer word.

We were given an overview of the history of the Bo-Kaap and the challenges currently faced by the people who live there.

Twee gesoute kultuurgidse, Shireen Nackerdien en Mogamat Kammie Kamedien, was byderhand om vrae te beantwoord.

On hand, to answer questions, were two seasoned cultural guides, Shireen Nackerdien and Mogamat Kammie Kamedien.

Die troebadoere het ons op wonderlike vingerwerk en volksliedjies getrakteer. Van links is Ridaa Hendricks, Aboo Taalib Abrahams en Junayed Taliep.

The troubadours treated us to amazing fingerwork and folk songs. Left to right are Ridaa Hendricks, Aboo Taalib Abrahams and Junayed Taliep.

Middagete was amper reg om bedien te word, dus was dit tyd vir 'n paar vinnige foto's. Hier is die aktrise Sandra Prinsloo, Deidre le Hanie, besturende direkteur van die ATKV, en Anroux Marais, minister van sport en kultuur in die Wes-Kaap.

Lunch was about to be served, so it was time for a few quick photographs. Seen here are Sandra Prinsloo, the actress, Deidre le Hanie, managing director of the ATKV, and Anroux Marais, minister of sport and culture in the Western Cape.

Die joernalis Max du Preez en Deidre le Hanie

Journalist Max du Preez and Deidre le Hanie

Aktivis en kultuurikoon Marlene le Roux, saam met Sandra Prinsloo

Activist and cultural icon Marlene le Roux, with Sandra Prinsloo

Jattie Bredenkamp, ​​die museumkenner

Jattie Bredenkamp, the museum guru

Danny Titus, uitvoerende direkteur: Kultuur by die ATKV

Danny Titus, executive director: Culture at the ATKV

Sylvia de Wet, hoof van LAPA Uitgewers

Sylvia de Wet, head of LAPA Publishers

Onderwysspesialis Danie van Wyk en sy gade

Education specialist Danie van Wyk and his spouse

Toe is ons genooi om Kaaps-Maleise kos op sy beste te geniet, soos hierdie breyani.

Then were were invited to experience Cape Malay cuisine at its finest, like this breyani.

En nog baie meer!

And much more!

Die messe en vurke het die praatwerk gedoen.

The knives and forks did the talking.

Yazeed Kamaldien het die gebeure op sy kamera vasgevang. Hy is ’n gevierde joernalis wat bekend geword het tydens sy sensitiewe en deeglike dekking van die Arabiese Lente.

Yazeed Kamaldien captured the event on his camera. He is a celebrated journalist who shot to fame with his sensitive and in-depth coverage of the Arab Spring.

Die komediant Waseef Piekaan was volgende.

Next up was the comedian Waseef Piekaan.

Nagereg is bedien.

Dessert was served.

“Ons het soveel om van mekaar te leer! Ons het soveel om te vier!” het Deidre le Hanie gesê terwyl sy Masturah Adams bedank het. Adams sê sy wil gereeld sulke geleenthede hê waar groepe mense 'n feestelike gemeenskapservaring kan hê terwyl hulle Kaaps-Maleise kos geniet.

“We have so much to learn from one another! We have so much to celebrate,” said Deidre le Hanie while she thanked Masturah Adams for the day. Adams says she is keen to have events like these on a regular basis where groups of people can enjoy a celebratory community experience while savouring Cape Malay cuisine.

The post Oemmie’s Merang appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2017: Foto's

$
0
0

Die tiende ATKV-Woordveertjies het Vrydag 8 September op die Anura-landgoed buite Stellenbosch plaasgevind. Hennie van Greunen was die regisseur van dié glansryke geleentheid. Foto's: Naomi Bruwer.

Die gasvrou vir die aand was Nina Swart.

Spoegwolf het gesorg vir die musiek.

Die Prys vir Poësie is vanjaar aan Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien (Tafelberg) toegeken.

Stian Bam lees voor uit Fotostaatmasjien.

Rosita Oberholster het die Prys vir Romanses vir Troue in ’n towerbos (Romanza) ontvang.

Die ATKV se Woordwystoekenning word al meer as ’n dekade lank jaarliks toegeken aan ’n woordeboek of taalgids wat grense verskuif. Die ATKV-Woordwystoekenning 2017 gaan aan Ouma Geelmeid ke kx’u ||xa||xa N|uu, uitgegee deur die Centre for African Language Diversity, Universiteit van Kaapstad.

Die prys is in ontvangs geneem deur Matthias Brenzinger, direkteur van die Centre for African Language Diversity.

Die Woordveertjie vir Beste Liefdesroman is aan Chanette Paul vir Offerande (LAPA Uitgewers) oorhandig.

Die Woordveertjie vir die Beste Niefiksieboek in Afrikaans is vanjaar die eerste keer toegeken. Dit is oorhandig aan Elsabé Brits vir Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, uitgegee deur Tafelberg.

Vanjaar se Toekenning vir Leesbevordering gaan aan die Jazz Town-biblioteek, Uitenhage, in die Oos-Kaap. 

Bruce Koopman het die biblioteek in sy motorhuis in Lukie-straat, Jazztown, Uitenhage, ingerig.

Christo Davids het die Prys vir Dramateks vir My seuns ontvang.

Christo Davids

Die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur is toegeken aan Karin Brynard vir Tuisland (Penguin Random House SA).

Lee-Ann van Rooi lees voor uit Tuisland.

Die ATKV-Prosaprys is deur Deidre Le Hanie, besturende direkteur van die ATKV, oorhandig aan Dan Sleigh vir 1795, uitgegee deur Tafelberg.

Dan Sleigh

Stian Bam en Lee-Ann van Rooi

Die ATKV-Kinderboektoekennings bestaan uit vyf kategorieë en die volgende wenners is aangewys:

In die voorleeskategorie: graad RR tot graad 1
Jaco Jacobs en illustreerder Karen Lilje vir LAPA Uitgewers se Grom!

Selfleeskategorie: graad 2 tot graad 3
Jaco Jacobs en illustreerder Zinelda McDonald vir LAPA Uitgewers se Viskos.
Jaco Jacobs het die prys in ontvangs geneem.

Selfleeskategorie: graad 4 tot graad 5
Fanie Viljoen en illustreerder Elsbeth Eksteen vir LAPA Uitgewers se Oepse daisy, Lulu.

Selfleeskategorie: graad 6 tot graad 7
Elizabeth Wasserman vir Elf dae in Parys, uitgegee deur Tafelberg.

Selfleeskategorie, graad 8 tot graad 10
Cecilia Steyn vir Tienerharte 3: Hartedief, uitgegee deur Human & Rousseau.

Die wenners

The post ATKV-Woordveertjies 2017: Foto's appeared first on LitNet.

Persvrystelling: ATKV se nasionale klassiekesangkompetisie kuier weer in die Kaap

$
0
0

ATKV-Muziqanto, ’n nasionale klassiekesangkompetisie vir jong volwasse sangers met ’n totale prysgeld van R105 000, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot klassieke sang in Suid-Afrika.

Die eerste ronde het gedurende Mei vanjaar plaasgevind. Deelnemers moes tussen 18 en 35 jaar oud wees. Die tweede en finale ronde van ATKV-Muziqanto vind op 15 en 16 September 2017 by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow plaas. Slegs tien kandidate word landswyd gekies om aan die tweede ronde deel te neem.

Die volgende kandidate (in geen spesifieke volgorde nie) gaan die 15de September aan die tweede ronde deelneem:

Naam

Stemgroep

Leermeester

Msimelelo Mbali

Bas

N Madlala

Cecilia Rangwanasha

Sopraan

V Davids

Frances du Plessis

Sopraan

V Davids

Owen Metsileng

Bariton

H van Niekerk

Maruping Mokalake

Tenoor

M Mofokeng

Kamohelo Tsotetsi

Bas-Bariton

C Cupido

Caroline Nkwe

Sopraan

FJ Einhaus

Nkululeko Masuku

Tenoor

H van Niekerk

Njabulo Shozi

Tenoor

N Russell

Tshilidzi Ndou

Bariton

C Cupido

 

Die kompetisie begin met die tweede ronde wat vanaf 11:00 tot 16:00 op Vrydag 15 September in die ouditorium van die Musieksentrum Hugo Lambrechts plaasvind. Die bekende Elna van der Merwe sal die kandidate begelei op klavier. Toegang vir hierdie ronde is gratis en sitplekke is onbespreek.

Aan die einde van die tweede ronde word vyf kandidate aangewys wat die volgende aand, Saterdag 16 September om 19:00, aan die finale ronde sal deelneem. Die finaliste sal saam met die Kaapstadse Feesorkes onder leiding van maestro Richard Cock optree. Vir die bywoning van Saterdagaand se konsert moet sitplekke egter bespreek word.

Muziqanto-deelnemers kom in aanmerking vir die volgende pryse:

  • Prys vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde: R6 000
  • Algehele Tweede Prys: R25 000
  • Algehele Derde Prys: R15 000

Die algehele wenner van ATKV-Muziqanto ontvang R50 000.

Die beoordelaarspaneel vir hierdie twee rondes is nie-stemmende sameroeper Lize Thomas (Coetzer) wat al baie jare groot spore op verskeie sangvlakke in SA trap; bekende Suid-Afrikaanse sopraan Sibongile Mngoma;  ervare Amerikaanse sopraan en leermeester, Eugenie Chopin, wat meer as veertig jaar reeds in Suid-Afrika woon; en die internasionaal ervare Suid-Afrikaanse bariton, Fikile Mvinjelwa.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, is die mediavennoot van hierdie kompetisie.

Die Hugo Lambrechts Musieksentrum is geleë in Pictonstraat, Parow. Veilige parkering is beskikbaar.

Om u gratis sitplekke vir Saterdagaand 16 September te bespreek, skakel vir Louisa van Rensburg tussen 08:00 en 16:00 by 011 919 9009 of na-ure die projekorganiseerder, Ilse Schürmann, by 082 851 7157.

The post Persvrystelling: ATKV se nasionale klassiekesangkompetisie kuier weer in die Kaap appeared first on LitNet.

Sopraan wen ATKV Klassiekesangkompetisie

$
0
0

Tydens ’n glansgeleentheid by die Hugo Lambrechts Musieksentrum op Saterdagaand, 16 September is die jong sopraan, Cecilia Rangwanasha (23) aangewys as die algehele wenner van die nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto.

ATKV-Muziqanto is die afgelope 7 jaar die ATKV se jaarlikse bydrae tot die stimulering van sang in Suid-Afrika.

Die eerste ronde het gedurende Mei vanjaar plaasgevind. Deelnemers moes tussen 18 en 35 jaar oud wees. Die tweede en finale ronde van ATKV-Muziqanto het die afgelope naweek in die Kaap plaasgevind. Slegs tien kandidate word landswyd genooi om aan hierdie ronde deel te neem.

Vyf finaliste is aan die einde van die tweede ronde gekies om  tydens die finale ronde saam met die Kaapstadse Feesorkes onder leiding van maestro Richard Cock op te tree.

As algehele wenner het Cecilia prysgeld ter waarde van R50 000 ontvang.  ’n Prys van R6 000 is ook aan Cecilia  toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die  tweede ronde van hierdie kompetisie. Sy het hierdie prys ontvang vir haar vertolking van S.leroux Marais se Mali, die slaaf se lied. Cecilia is tans ’n lid van Cape Town Opera, Afrika se enigste internasionale operageselskap. Sy neem sang by Virginia Davids.

Frances du Plessis (sopraan) het ’n algehele tweede plek ter waarde van R25 000 verower. Owen Metsileng (bariton) is as die derde plek-pryswenner aangewys en ontvang R15 000. ‘

Die beoordelaarspaneel vir hierdie twee rondes was nie-stemmende sameroeper Lize Thomas (Coetzer) wie al  baie jare groot spore op verskeie sangvlakke in SA trap; bekende Suid-Afrikaanse sopraan Sibongile Mngoma;  ervare Amerikaanse sopraan en leermeester, Eugenie Chopin wie meer as veertig jaar reeds in Suid-Afrika woon ; en die internasionaal ervare Suid-Afrikaanse bariton, Fikile Mvinjelwa.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie,  RSG  was weer vanjaar die  mediavennoot van hierdie kompetisie.

The post Sopraan wen ATKV Klassiekesangkompetisie appeared first on LitNet.

ATKV-Kopskuif snoer gemeenskappe saam

$
0
0

Onderwys is ons almal se verantwoordelikheid. Só glo die ATKV.

Wanneer die ATKV se onderwysspan in ’n distrik betrokke raak, word die amptenare van die onderwysdepartement, skoolbeheerliggame, ouers, onderwysers en selfs die skoonmakers se koppe geskuif om ’n beter toekoms vir ons leerders te verseker.

Die ATKV-Kopskuifprogram strek oor drie jaar en word in gekose distrikte aangebied. Die eerste jaar is intensief en verskeie kontaksessies word gehou. Gedurende die tweede jaar word skole gemonitor en bygestaan, terwyl die werk in die derde jaar spesifiek gefokus word op behoeftes in die skoolgemeenskap. Die ATKV fasiliteer hierdie ingrepe, maar werk baie nou saam met ander instansies om seker te maak dat die regte hulp aangebied word.

Skole en personeel wat die eerste jaar se sessies bygewoon het, word vereer tydens ’n glansgeleentheid waar sertifikate oorhandig word en samewerking gevier word.

Izak de Vries het onlangs twee van hierdie funksies bygewoon en deel sy indrukke.

2 September: Springbok

Op 2 September 2017 het die ATKV ’n funksie vir die skole van die Kammiesbergstreek in die Noord-Kaap gehou.

Die funksie is in ’n skoolsaal in Springbok gehou.

Die tafels is getooi om dankie te sê vir almal se harde werk.

Verskeie hoë amptenare uit die streek het die funksie bygewoon.

Reggie Cloete (regs) is die kringbestuurder van Kammiesberg. Hier is hy saam met sy gade, Leonie.

Melvina Mason Hearne is die ATKV se programorganiseerder in die Wes- en Noord-Kaap. Sy sê talle skole het hard gewerk om saam met die ATKV die breë plaaslike gemeenskap te help.

Sy het het egter geen doekies omgedraai nie: nadat sy lof betuig aan die aanwesiges, skiet sy ook berekende woorde van kritiek op onderwysers en die amptenary wat nie hulle samewerking gee nie.

Susara Nero, ’n raadslid van Kammiesberg, het almal verwelkom en het die ATKV bedank vir die werk wat hulle in skole doen.

Seymour Bothman, hoofbestuurder: Onderwys by die ATKV, sê die saamsnoer van talle rolspeler is belangrik. Die ATKV is net soos die fyn houtjies wat ’n vuur aan die gang kry: hulle span begin die werk en die plaaslike gemeenskap en verskeie vennote hou die vuur vorentoe brandend.

Garage, ’n ensemble onder leiding van die legendariese Alfred Hinkel, het die gehoor na hulle asems laat snak met hul puik dansvertonings.

Alfred Hinkel

Garage

Danny Titus, die uitvoerende direkteur: Kultuur van die ATKV, sê toe die jong dansers van Garage doen die skynbaar onmoontlike, ’n gepaste metafoor vir die harde werk wat in ons land gebeur. Die ATKV sien gereeld hoe jong mense bewys hulle kán byna ongelooflike dinge vermag. Neem Sulayman Human, wenner van ATKV-Muziq in 2017. Die jong man het 12 jaar gelede nog nie aan ’n klavier gevat het nie. Hy word toe raakgesien en die ATKV het ’n klavier aan hom geskenk. Vandag is hy een van die beste jong musikante in ons land en op pad om verder te studeer in die VSA.

Kitty Links, die direkteur van onderwys in die Namakwa-distrik, sê sy is reeds trots op die uitslae wat die skole onder haar leiding behaal en bedank toe die ATKV vir die jaar lange kopskuif wat hoop gee aan die leerders, die onderwysers en die ouers. Dié hoop help hulle om die gehalte van onderwys hoog te hou.

Quinton Adams, etnografiese navorser en opvoedkundige, het vertel van die werk wat hy saam met die ATKV doen om ouers te bemagtig. “Ons kan skole omdraai!” is sy boodskap aan die ouers. “En ons kan goeie skole nog beter maak.”

Die boodskap van sy program is: “Dissipline begin by die huis.” Hy gebruik beginsels uit die sielkunde en bedryfsielkunde om ouers te bemagtig.

Die krag van netwerke is weer bevestig toe Quinton aankondig dat Shantille Klaasse (in die middel) ’n rekenmeester wil word en dat sy ’n beurs gaan danksy Quinton se netwerke. Hier is sy by haar ouers.

Die ATKV loop al ’n paadjie met Shantille, en LitNet het ook al oor haar vasbytvermoë vertel – klik hier vir die berig.

Chareldine van der Merwe, wat vir die Vriende van Afrikaans (VVA) werk, het van hulle Boektrommelprojek vertel. Drie trommels, met ’n inhoud ter waarde van R7 000 elk, is in daardie die week oorhandig. Nog trommels sal later aan skole in die distrik gelewer word. LAPA Uitgewers is een van die bydraers tot hierdie trommels. Die VVA is ’n filiaal van die ATKV.

Sertifikate is toe oorhandig. Verskeie skole het ook 'n moedertaalpakket ontvang wat deur Afrikaans.com geborg is.

23 September: Malmesbury

Op 23 September 2017 is ’n geleentheid in Malmesbury vir Swartland, Kring 1, se skole gehou.

Die geleentheid is in ’n skoolsaal aangebied, maar die gaste was deeglik getooi en kon selfies neem voor die verrigtinge amptelik afgeskop het.

Melvina Mason Hearne het verduidelik dat die ATKV in hierdie streek hande vat met die Swartland Prinsipaleforum om saam-saam ’n verskil te maak.

Elgin Hendricks (regs) is die voorsitter van die Swartland Prinsipaleforum. Hy is hier saam met Seymour Bothman.

Swartland se onderburgemeester, Maude Goliath, het die geleentheid bygewoon en het verduidelik hoe belangrik die rol van NRO’s, en vennootskappe met hulle, vir die samelewing is.

Janine Adonis, prinsipaal van die Liebenberg Primêre Skool, was die gasvrou en mede-aanbieder by die Kuipskofgeleentheid.

Seymour Bothman, senior bestuurder: Onderwys by die ATKV, vertel toe van die belang van lees. LAPA Uitgewers se lekkerleesboeke is ’n belangrike deel van die ATKV se onderwysstrategie.

Khoi Noi (soos Amanda Lois Stone op die verhoog bekendstaan) en haar dansers was die gaskunstenaars. Amanda sing liedjies oor die Khoi en die bruin mense in Suid-Afrika.

Die dansers interpreteer die liedere. Die gehoor kry sodoende ’n visuele én ’n ouditiewe ervaring.

Wanda de Kock Bam, ’n skrywer en omroeper by Radio Kaapse Kansel, het kom gesels oor hoop. Dikwels kom hoop van plekke en mense waar die samelewing dit nie verwag nie, vertel sy. Mense moet egter nie hul hoop op “celebs” plaas nie, want hulle is ook mense en is feilbaar.

Johannes Mouton, die kringbestuurder, sê die groot uitdaging wat onderwysers in die gesig staar, is om in ’n veranderende wêreld steeds gehalte-onderwys te bied, want die meeste onnies is teenstrydig met die doelstellings van vandag se onderwys opgelei.

Hierop antwoord Melvina Mason Hearne toe en sê dit is presies waarom die ATKV kundiges inspan om onderwysers, skoolhoofde, bestuurspanne en die ouers te help. “Ek lei nie skoolhoofde op nie, want ek was nog nooit ’n skoolhoof nie,” sê sy. Daarom maak die ATKV gebruik van eksterne verskaffers soos die Federasie vir Beheerligame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die National Professional Teachers' Organisation of South Africa (Naptosa).

Lynne Herrman, bestuurder: professionele ontwikkeling Naptosa, het by Wanda Bam aangesluit en gevra dat onnies hard moet bly werk aan die tema van hoop. Die klaskamer het dit nodig, sê sy. Hoe anders sal die samelewing die leerders motiveer om harder te werk?

Johan Crous van Fedsas verduidelik hoe hy en sy span hande vat met die bestuursliggame van skole, en met die ATKV, om seker te maak dat die skoolgemeenskappe bemagtig word.

Hoekom werk Quinton Adams in plakkerskampe en in plakkershutte? Hy probeer verstaan hoe ons met die geweldige ongelykhede moet saamwerk en hoe ons die skreiende ongelykhede kan beveg. Om verandering te weeg te bring is baie harde werk, sê hy. Leiers moet voorvat. Onderwysers en ouers moet hulself opvoed en nuwe oplossings soek vir die land se uitdagings. Hy werk graag met die ATKV saam, want deur die netwerke wat hy só opbou, kan hy ook die boodskap aan verskeie vlakke van die samelewing help versprei dat almal die plaaslike gemeenskappe en die leerders ekonomies moet help bemagtig.

“Waarom sluit kinders by bendes aan?” vra hy. “Want bendes skep ’n ekonomiese stelsel waarbinne daardie jongmense kan tuishoort. Waarom skep ons nie ’n beter stelsel nie?”

Verskeie sertifikate is toe oorhandig.

The post ATKV-Kopskuif snoer gemeenskappe saam appeared first on LitNet.

Die beste 15 in ATKV-Tienertoneel 2017

$
0
0

Die ATKV-Tienertoneel 2017 se finale rondes het van 4 tot 7 Oktober in die Kunstekaap plaasgevind.

Izak de Vries het al vier dae bygewoon en het, soos gewoonlik, sy kamera by hom gehad. Hier volg sy indrukke oor elke stuk. Hy deel dit in die volgorde waarin die stukke opgevoer is.

Hoërskool Tygerberg het gewen met Innie selle. Tweede was die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch met Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed). In die derde plek was die Afrikaanse Hoër Seunskool met Plekke!.

Die volledige uitslae is op die ATKV se webwerf beskikbaar.


Die mensfabriek

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie: Milandie Viljoen as medewenner

Helpmekaar Kollege se stuk was Die mensfabriek. In hierdie komedie word mense op bestelling vervaardig: ses kassiere vir die nabygeleë winkelsentrum; oorgewig susters vir die hospitaal …

Die probleem is, daar mag nie ’n f-, ’n f-f-f, ’n fóút in die stelsel wees nie, want dan kan daar dalk mense uitloop met drie bene! Of, soos wat skielik een oggend gebeur: hulle sit met ’n pragtige been waarop ’n oor groei! Dit kan fataal wees.

Erger nog, veel erger! Wat gebeur as twee mense skielik begin ogies maak vir mekaar? Dis mos teen die wet! Of is dit ’n f-, ’n f-, ag jy weet mos?

Milandie Viljoen (bo) was puik in haar rol as die grootbaas, Mevrou Du Bois, en het die prys gewen as die meeste belowende speler tydens die ATKV-Tienertoneel se finaal.

Lyndré Kruger, Hernus Marais, Michel Croucamp en Rita Halgryn was ook op die verhoog.

Die mensfabriek is geskryf deur Elisha Zeeman. Eghard Basson was die regisseur.

Mia Burger was die verhoogbestuurder, Courtney Weideman die klankoperateur en Pieter Hougaard die beligtingsoperateur.


Blessings

Beste aktrise in ’n ondersteunende rol: Jeanne-Marie Koekemoer

Hoërskool Stellenbosch se stuk, Blessings, het geopen met ’n ma wat pas haar sewende baba uit haar laat gly het. Sommer so. Op Oukersaand.

Sy sê: “Dit was genuinely ’n maklike geboorte, ek het basies gevoel hier kom dit: Eers die water en toe hurk ek agter ’n bossie in ons tuin en poof: Baba nommer sewe.”

Sy wil die kind Blessings noem, want dis mos wat die baba is: ’n seën van bo vir ’n gebore ma.

Die ander ses biologiese kinders en die paar aangenome kinders reageer almal verskillend op ma se baba, maar laissez-faire is skynbaar die enigste reël wat in hierdie huishouding geld.

Die oudste dogter is die mins ingenome van almal. Sy moet kinders oppas terwyl Ma kinders maak. Die jongste spruit is ook bekommerd oor die baba, want gaan sy nou haar plek verloor as die oulikste, kleinste dogtertjie?

Blessings, geskryf deur Alma Nel, eindig nogal tragies wanneer die verpleegsuster vir die ma vertel dat dit tyd is om haar pille te neem en om op te hou glo in al hierdie kinders in haar kop. Dit is, helaas, geen skande om nooit kinders te hê nie, sê die suster.

Andrea Winckler was die regisseur.

Jana van der Merwe het die ma gespeel. Die kinders was Janke Mostert, Jeanne-Marié Koekemoer, Luke Swanepoel, Ruandré Booysen, Greteli Fincham, Chumani Komsana en Dieter Nieuwoudt. Mia Adendorff was die ouma en die verpleegsuster.

Janke Mostert was die verhoogbestuurder, Le Roux van den Heever die klankoperateur, Christoff Snyman die beligtingsoperateur en Alma Nel die hulpregisseur.


Hospitaal 224

Hoërskool Zwartkop het die klassieke resep vir ’n goeie drama uitgesoek en afgestof: Neem die kyker na die plek waar mense heen gaan as hulle eie droomwêreld en die werklikheid vermeng.

In Hospitaal 224 is ’n man wat dink hy is Mozart en ’n vrou wat nie oor haar trauma wil praat nie.

Die wonder van die teater is dat die gehoor deel in die beelde wat die pasiënte sien. Saam met Wolfie (gespeel deur Bernard Lubbe) deel ons sy ekstase wanneer welgeklede dansers op Mozart se musiek begin wals – Wolfie is natuurlik op die podium van waar hy dirigeer.

Ané, die stil vrou (Emma van der Walt), kan nog steeds kwaad word vir Ruan (Wilco Meyer), al hoor ons later Ruan is al lankal oorlede. Die dokter weet nie wat in Ané se kop aangaan nie, maar die gehoor leef saam met haar in haar kop.

Marista van Eeden het Hospitaal 224 geskryf. Dit is komedie, maar die einde byt. Van Eeden spot nooit met die inwoners nie; juis nie. Sy gebruik die wonders van verbeelding om die gehoor te laat lag.

Die ware grapjas is verpleër Du Bois (Thian Reynders, regs) wat ook eintlik in ’n droomwêreld leef, tot sy gesagvoerder, suster Nortjé (Jocelin Menally, links), se erge frustrasie.

En dan, om Du Bois te terg en die gehoor te laat wonder, verskyn daar elke nou en dan ’n klein seuntjie (Christof Grobbelaar) wat kom moeilikheid maak. Christof het van die verhoog af ook vir drama gesorg; daardie storie is hier te lees.

G’n wonder Ané se ma (Christine Venter) en die dokter (Heinrich Nienaber) is bekommerd nie!

Simeon Boshoff, Liam van den Berg en Shani Loots was die dansers.

Pieter Alberts en Marista van Eeden was die regisseurs.

Die verhoogbestuurder was Liam van den Berg, die klankoperateur Galin Myburgh en die beligtingsoperateur Francois Smith.


Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed)

Algehele tweede plek in ATKV-Tienertoneel 2017

Wenner van die beste ensemblewerk

Beste hantering van tegniese aspekte: die hele ensemble van Hoër Meisieskool Bloemhof

Beste regie: André Gerber en Anél Joubert

“Record jy nog? Wat sal ek doen om myself … uhm … soos … ek wens net soms geen ou wil vir my kyk nie.” Die Hoër Meisieskool Bloemhof is nou al bekend vir hulle puik ensemblewerk. Hulle stuk, Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed), het weer aan alle verwagtinge voldoen.

Hierdie groep meisies werk saam met André Gerber om dié soort stukke te skryf. In 2015 het hulle met ’n soortgelyke stuk, genaamd Vyf, gewen.

André Gerber en Anél Joubert was verantwoordelik vir die regie. Die Bloemhofmeisies was soos ’n klein militêre masjien. Hulle was presies en skerp. Hulle het daardie tweede plek verdien, nie bloot oor hulle stuk wat so goed was nie, maar oor hulle so ontsettend gedissiplineerd gespeel het. Joubert was ook verantwoordelik vir die choreografie. Sy kan trots wees op hierdie militêr-korrekte spelers.

Die spelers was René Cloete, Hilde Elema, Ziné Ebersöhn, Janca Fourie, Talyah Greyling, Antoinette Hoon, Carly Hörstmann, Ariané Krijt, Jana Liebenberg, Jeanne-Marie Minnie, Mikyla Nortje, Cara Rossouw, Michelle Steyn, Liané van Vuuren, Mia van der Merwe en Tarien Venter.

Stephanie Malherbe was die verhoogbestuurder. Annemie Bester en Zoë Helm was verantwoordelik vir die klank.

Marguerite Kruger was die beligtingsoperateur.

Klik hier vir ’n onderhoud met René Cloete en verdere aantekeninge.


Innie selle

Algehele eerste plek in ATKV-Tienertoneel 2017

Beste akteur in ’n ondersteunende rol: Edja de Meyer

Dit was die wenstuk. Innie selle, deur Hoërskool Tygerberg, is alles wat ’n mens van ’n drama verwag. Daar is ’n puik storielyn, daar is baie aksie. Die spelers was puik. Hulle taalgebruik en aksente was uit die boonste rakke.

Innie selle is geskryf deur Pieter Nel op versoek van die spelers.

In 2016 het hierdie groep ’n stuk in die finaal gehad oor die mense wat uit Distrik Ses verskuif is na plekke soos Ravensmead op die Kaapse Vlakte. Hierdie jaar wou die skoolkinders self ’n storie vertel oor die mense van Ravensmead, en elders op die Kaapse Vlakte, wat deur sosiale omstandighede in die tronk beland.

Verskeie stories speel af binne die bestek van die ongeveer 40 minute waartydens die spelers op die verhoog is. Telkens hoor ons hoekom mense in die tronk beland en dan besef die gehoor maar net weer: Was ek daar, sou ek dalk ook nou in die tronk gesit het.

Innie selle is ’n puik stuk teater en die spelers het hulle totaal en al in hulle rolle ingeleef.

Regie was deur Pieter Nel en Frans Hamman.

Die spelers was Edja de Meyer (regs), Jay-D Sanderson, Zinedine Manus, Zane Sauls, Kyle Esterhuysen, Alessandro Dirk, JP Matthee, Hano Groenewald en Danté Barnard.

Corleze de Bod was die verhoogbestuurder en beligtingsoperateur. Handré Petzer was die klankoperateur.

Frans Hamman het die ongelooflike stel gebou. Die beddens word mure, word storte, word ’n huis. Alles is op wiele. Die hele stel leef saam met die stuk.

Klik hier vir ’n onderhoud met die spelers en hulle tegniese span.


Rondo

Rondo, ’n nuwe teks geskryf deur Jo Stemmet, is een van die stukke wat die sterkste visuele impak op die kyker gehad het. Dit is ’n makabere, uitdagende drama en die seuns van Selborne College, wat oorwegend Engels is, se spel was knap.

’n Rondo is ’n musiekstuk waarbinne sekere temas herhaal word. Dieselfde gebeur in Rondo. Telkens speel daar seuns, dan kom soldate en ontwrig hulle lewens. Daarna begin die poppe dans, letterlik, want daar is akteurs wat die aksies van marionette namaak en daar is ’n aantal gesiglose mense wat die poppe beheer.

Die tema wat hom herhaal, is die walging van enige oorlog en die trauma van jong kinders in konfliksones. Die kyker volg die kinders op ’n reis deur Auschwitz, die militêre kampe waarheen kindersoldate gedwing word in Sierra Leone en dan ook na die moderne Sirië. Die leser beleef, soos in ’n rondo, dat die geskiedenis sigself herhaal.

Die skrywer, Jo Stemmet, sê dit is belangrik dat die kyker die herhalende temas moet ervaar, want mense leer nie uit die geskiedenis nie.

Dit is ook waar die marionette inkom. Stelselmatig word dit duidelik dat die gesiglose mense juis óns is, óns synde die gebruikers van die sosiale media. Ons word so afgestomp deur die gebruik van die sosiale media dat ons nie meer empatie het met die mense wat doodgaan of ly nie. Indirek trek almal wat nie aktief teen die gruwels werk nie, die toutjies om die poppe te laat dans.

Stemmet het self die regie behartig.

Die spelers was Juta Makupula, Sibulele Mali, Tsepo Ponoane, Mihle Bolana, Byron Nel, Christian Muller, Chulumanco Nkalashe, Mencwa Makupula, Sikhu Dliwayo, Emihle Siko, Jonathan Grant, Dylan Brauns, Sihle Makeleni, Mmangaliso Maphinda, Jordan Blundell, Joshua August, Leonardo Doolooa, Robert Rawlins, Chulumanco Qunta, Cuma Mancotywa, Sibulele Madaza, Achuma Whati en Jonathan Louw.

Jonathan Louw was ook die verhoogbestuurder

Salusiwe Deli was die klankoperateur, Declan North die beligtingsoperateur en Mzo Nkabalaza verhoogassistent.


Kopskoot

Een van die stukke in die top vyf

Beste verhoogbestuur: die hele tegniese span, bestaande uit Zandelie Trollip, Steven Cohoe, Justin Burger, Franshua Kennis en Lucas Louw

’n Kopskoot is ’n kunswerk. Nie enige fotograaf kry dit reg om op die oog te fokus én die omgewing steeds te reflekteer sodat die kyker weet waar die gekiekte persoon sigself bevind nie.

Goeie fotografie is ’n eksakte wetenskap. Alexander (Xander Venter), wat grootgeword het saam met sy presiese, dikwels afwesige, fotograafpa, het hierde eksakte houding aangeneem. Hy is deesdae ’n boekhouer.

Jacobus se ma het weggetrek van haar fotograafman toe sy nog verwagtend was. So word Jacobus (Stefan le Roux) vaderloos groot. Dit was moeilike jare en sy motto is “Fake it till you make it.”

Jacobus is egter bitter alleen én nogal bitter teen oor die verlore vader.

Eendag ontmoet hierdie twee mans mekaar in ’n groot, korporatiewe kantoor.

Die lewe is egter nie maklik nie. ’n Totaal ander soort kopskoot neem Jacobus se lewe en Alexander moet dan ernstig bestek opneem van sý lewe.

Hierdie stuk deur die Hoërskool Parel Vallei het baie met min dekor gedoen. Hulle het twee tafels, ’n dataprojektor en ’n klein kameratjie wat aan ’n lampie vasgemaak was, op die verhoog gehad.

Annelie van Zyl het die teks geskryf en het ook die regie behartig.

Die verhoogbestuurder was Zandelie Trollip, die klankoperateur Steven Cohoe.

Beligting is behartig deur Justin Burger en die multimedia deur Franshua Kennis. Lucas Louw was die verhoogassistent.


mý Suid-Afrika: ’n openbaring

Beste akteur in ’n hoofrol: Adriaan Havenga

Dié stuk, mý Suid-Afrika: ’n openbaring, van Hoërskool Monument is deur Adriaan Havenga geskryf. Hy het ook die hoofrol vertolk. Havenga en Yolandi Herbst was gesamentlik verantwoordelik vir die regie.

Die stuk begin met ’n doodskis wat ingedra word op ’n kaal verhoog. Die karakters se ouers, perdeboere, is in ’n plaasaanval vermoor.

Jattie Theron (gespeel deur Adriaan Havenga) se suster, Stella (Annchen van Staden), is stom ná die aanval. Jattie en sy vrou, Helena (Anzelle Maritz), kyk na die stom sussie.

Helena word swanger, en Jattie verloor sy werk danksy BEE.

Op hierdie stadium sluit Jattie aan by ’n duistere organisasie wat allerlei boodskappe oor die eindtye gebruik en interpreteer soos dit in die Bybelboek Openbaring geskryf is.

Jattie, kwaad en moeg, besluit om ’n geweldige offer te bring aan die Saak, maar nie eens hy weet wat hy regtig gaan verloor in die proses nie.

Havenga se drama is ’n besonderse stuk en die doodskis vorm ’n makabere maar belangrike deel van die hele spel. Dit word ’n tafel en die kopstuk van ’n bed. Dit word ook die opslagplek vir wapens. Regdeur besef die kyker: ons is voortdurend in die aangesig van die dood.

Bonita Fick was die verhoogbestuurder, Odette Kemp die klankoperateur en Chanél Mieny die beligtingsoperateur.

Adriaan Havenga het die prys as beste akteur gewen vir hierdie rol.


Plekke!

Algehele derde plek in ATKV-Tienertoneel 2017

Beste beligtingsoperateur: Brandon Dippenaar

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n seun: Dylan Lee

Dit gebeur nie sommer dat ’n klug kan meeding met ernstige dramas nie, maar Plekke!, geskryf deur Johann Smith, is nie sommer enige klug nie. Dit herinner sterk aan Michael Frayn se Noises off, hoewel die storie gans anders is.

Die seuns van die Afrikaanse Hoër Seunskool het boonop uitstekend gespeel. Vir baie teatergangers was hierdie stuk die een waarna hulle uitgesien het. Dit was skreeusnaaks.

Ronel de Beer was die regisseur.

Die storie gaan so: Heinrich (Craig Kleingeld) skryf ’n stuk wat hy by die ouetehuis wil opvoer, deels omdat hy dan die beeldskone Eloïse kan soen.

Ongelukkig ontstaan daar ’n struweling tussen Heinrich en sy beste vriend, Nathan (Rynhard van Zijl). Dit wil voorkom asof die geveg oor Eloïse op die verhoog ook in die werklike lewe plaasgevind!

Die kyker ontmoet die akteurs die aand van die kleedrepetisie wanneer dinge regtig skeefloop. Selfs Eloïse verlaat die stel. Die pruik val op Bobby, wat met sy ouboet se X-box omgekoop moet word, om die rol van die meisie te speel.

Bobby, gespeel deur Dylan Lee (regs), was skreeusnaaks. Dit is moeilik om so goed toneel te speel dat die gehoor werklik dink daar is nie ’n greintjie talent in die speler nie.

Dylan het dit reggekry. Hy is dus ook aangewys as die mees belowende manlike speler van ATKV-Tienertoneel 2017.

Die ander spelers was Reinhardt Prinsloo, Kyle Jonker en Jan-Daniël Naudé.

Thys van den Heever was die verhoogbestuurder, Jan-Daniël Naudé die klankoperateur, Bradon Dippenaar die beligtingsoperateur en Zach Labuschagne die kolligoperateur.

Die verhoogassistente was Johan Muller, Wian Pienaar, Sebastian Bergmann en De Wet Meyer. Die hulpregisseurs was Adéle McLachlan, Hybré Schoeman en Willem Pretorius.


Die eindelose konstellasies – ’n gedagtedroom

Die eindelose konstellasies – ’n gedagtedroom, geskryf deur André Gerber en opgevoer deur Hoërskool Durbanville, was ’n visuele kragtoer.

Die storie is redelik eenvoudig. ’n Jong meisie en haar alkoholis-ma woon saam in ’n woonstel. Die meisie ontsnap van die harde werklikheid deur na die sterre te lê en kyk.

Wanneer die meisie se ouma sterf, laat sy ’n boek vol stories agter. Soos die meisie die boek lees, gebeur die onwerklike gebeure voor die teaterganger.

Dit is skouspelagtig, en die manier waarop mense se lywe ingespan is om voorwerpe soos ’n horlosie, ’n feniks, ’n wasgoedlyn of ’n tafel te vorm, was indrukwekkend.

Die regie is behartig deur Jan Burger, Amelia van Wyk en Marí Blom.

Die stories vervloei in die jong karakter se kop, en ook op die verhoog. Die kyker kan die narratief volg, maar uiteindelik was die krag van dié stuk die spektakel, geskep deur verbluffende choreografie. Die kyker sien die werklikheid deur die oë van ’n agtjarige wat alle mooi drome mooier maak en alle nagmerries nog erger.

Daar was baie spelers op die verhoog, en elkeen het bygedra tot die belewenis vir die gehoor. Die spelers was Cailin Aylward, Ameré Prinsloo, Michaela Smit, Trompie Booysen, Maja Smith, Mieke Fabel, Victoria Jumeth, Charel Viljoen, Stefan Brundyn, Alexa le Roux, Timothy Erasmus, Aimee Erasmus, Clarice de Jonge, Jana Laker, Dandré Jansen van Nieuwenhuizen, Karla Lund, Corlia Fick, Andrea van der Merwe, Sonja Kruger, Jeanrie Myburg, Jané Theron, Chelsey Jantjies, Danae Koen, Rochelle Croucamp, Deané de Bruin, Tammy Nel, Nicola Nothnagel, Ashleigh Palmer, Armand van Niekerk, Heike Hellström, Hayleigh Rhodes en Callum Arendse.

Die tegniese span was ook groot.

Die verhoogbestuurder was Nell Bezuidenhout, die klankoperateur Loui Griebenow, beligtingsoperateur Ruan Potgieter en die oudiovisuele operateur Graham Karlström.

Die musiek is gekomponeer deur David Wolfswinkel; die klankbaan is geskep deur David Wolfswinkel, Jan Burger en Juan Jansen van Vuuren

Die oudiovisuele ontwerp en animasie is verskaf deur Jan Burger, Jani Uys en Ranos Productions. Die beligtingsontwerp was deur Jan Burger, Loui Griebenow en Ruan Potgieter.

Stel- en kostuumontwerp was deur Jan Burger, Amelia van Wyk en Marí Blom.

Die verhoogassistente was JD Erasmus, Charl Human en Jani Uys.


Sewentien

Jongmense skram nie meer weg van die waarheid nie. Hierdie stuk praat kaalkop oor kwessies wat meisies raak. In ’n mate is daar ooreenkomste met Bloemhof se stuk, tog is dit baie anders aangebied.

Die klaskamer is pragtig geskep, die toilette is smaakvol gedoen en die mure word swartborde wat die stemming van die meisies weerspieël.

Uiteindelik handel hierdie stuk oor ’n meisie wat voel sy word verstoot. Om sewentien te wees, is geen musical nie, maar ’n stryd om te oorleef.

Die stuk is hard en die meisies kom by tye kru oor, maar die taal en die situasies is deurgaans geloofwaardig.

Hoërskool Tygerberg moet gelukgewens word met die waagmoed wat hulle aan die dag lê. Hierdie teks moet gepubliseer word, saam met ’n hele paar ander wat al in Tienertoneel se finale was.

Sewentien is geskryf deur Frans Hamman en die toneelgeselskap.

Frans Hamman was ook die regisseur.

Die spelers was: Heike de Goede, Johann Dippenaar, Suné Els, Marzaan Grundlingh, Yvonne Mouton, Marelize Pretorius, Tanya Smith, Elzanne Swart, Chandré Thiart, Michaela Weir, en Robin Meissenheimer.

Die verhoogbestuurder was Handré Petzer, klankoperateur Morné Smith, beligtingsoperateur Dylan Engelbrecht, oudiovisuele ontwerper Frans Hamman en die stelbouers Frans Hamman, Handré Petzer, Dylan Engelbrecht en Morné Smith. Marelize Pretorius het vir die kostuums gesorg.


Mans genoeg?

Heatherdale Sekondêre Skool is geleë in Heidedal, net buite Bloemfontein. Dit is ’n arm buurt.

Hier, soos in alle ander woonbuurte in die wêreld, worstel mans om hulleself te definieer. Tog, dit maak nie saak hoe ’n mens na die saak kyk nie, pa’s se bydrae tot hul kinders se ontwikkeling is uniek, mits hulle daar is om ’n bydrae te lewer.

Ongelukkig toon statistiek dat die pa’s van sowat 57% van alle Suid-Afrikaanse kinders afwesig of dood is.

In Heidedal sal die kinders sê: “My pa het loop seep koop.” Dit beteken hy het geloop en hy kom nie terug nie.

Nou vra Heatherdale Sekondêre Skool aan alle mans: Sal jy bly as jy ’n kind maak? Is jy mans genoeg om na jou kinders se welsyn om te sien, of gaan jy seep koop?

Die teks is geskryf en saamgestel deur Michelle Joubert, wat ook die regie behartig het.

Die akteurs voer verskeie liedjies en gedigte op en meng dit met statistiek en aktuele onderwerpe wat die rol van ’n pa bekyk.

Die spelers is Delano Bergman, Aldriano Fischer, Juandre October, Sergio Abdiziet, Duncan Jacobs, Renaldo Slagter, Tshepo Moshodi en Lindile Maeeane.

Lebohang Matlali was die verhoogbestuurder en beligtingsoperateur. Mithanielle Neels was die klankoperateur.


Min of meer

Beste klankoperateur: Christo van Schalkwyk

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie: Abigail Wagner as medewenner

Die stuk is aangebied deur Hoërskool Zwartkop en is geskryf deur Issie Venter, wat ook die regie behartig het.

Walvisuitspoelings is aan die Kaapse kus opgemerk. Dit is nie die eerste keer dat die walvisse uitswem en op die strand sterf nie. Talle vrywilligers help om hulle met emmers water nat te gooi in ’n poging om hulle te red.

Hoekom spoel die walvisse uit? Niemand weet nie, maar baie mense het ernstige teorieë – heelwat blameer selfs die Amerikaanse vloot.

Muriel beweer dat sy veel meer as die walvisse sien uitspoel het. Is sy van lotjie getik, of steek daar waarhede in haar vertelling dat daar ’n dier bestaan wat min of meer soos ’n meermin kan wees? Het dit iets te doen met die walvisse se nood?

Min of meer stimuleer die teaterganger op ’n intellektuele, visuele en ouditiewe vlak. Is hierdie teaterstuk iets anders? Die stuk is nie heeltemal aktivisties genoeg om harde ekologiese feite by die teaterganger tuis te bring nie, maar vra eerder dat die kyker mooi moet dink oor sy of haar eie ervaring van die natuur.

Die klankbaan en die blou beligting stimuleer die teaterganger en neem ons na ’n wêreld waar meerminne, min of meer, kan bestaan. Die beoordelaars het dit ervaar en Christo van Schalkwyk is bekroon vir die beste gebruik van klank in die ATKV-Tienertoneel se finaal.

Die akteurs was Abigail Wagner, Maryna Leonard, Eliska Wentzel, Jessica Coetzee en Danica Strydom.

Mariëlle Maritz was die verhoogbestuurder.

Christo van Schalkwyk was die klank- en beligtingsoperateur.

Johandra Victor was die projeksiesoperateur.


Die Niks

Een van die stukke in die top vyf

Beste aktrise in ’n hoofrol: Laris Gomez 

Die Niks, deur die Hoërskool Jan van Riebeeck, is ’n hervertelling van die Bybelse Josefstorie. Dit is geskryf deur Philip Rademeyer, wat ook die regie behartig het.

In hierdie storie is Josef (Zion Poggenpoel) ’n dromer. Hy sien jellievisse, seekatte en walvisse waar ander mense droë grond en wilgerbome sien.

Die wonder van hierdie stuk is natuurlik dat die gehoor ook die diere sien, want Rademeyer maak gebruik van pragtige marionette. Die teaterganger is dit heeltemal eens met Josef: hy ís omring met seediere.

Josef se ma, Ragel (Laris Gomez), en pa, Jakob (Liam Peyper), is bekommerd oor die seun. Ook sy ouma Leah (Katherien Albrecht) kan nie anders as om bekommerd te wees nie.

Gelukkig het hy ’n sussie, Benny (Melnisha Arnolds), wat bereid is om met hom te speel.

Ongelukkig is sy ander broers en susters uiters jaloers. Hulle besluit om hom dood te maak en oorreed Benny om te help.

Wanneer die boodskap van sy dood kom, is Ragel se weemoed natuurlik groot. Laris Gomez (bo) se puik vertoning as Ragel het gemaak dat sy weggestap het met die prys as die beste aktrise by die ATKV-Tienertoneel van 2017.

Die ander spelers was Jan Combrinck, Jacques van der Westhuizen, Danielle de Vries, Pippa Bester, Amy Atkins, Mila Yssel, Leah Mascher, Casey Hawkins, Gabie Joubert, Migael Mouton, WS Horn en Sabah Cabano.

Die verhoogbestuurder was WS Horn. Die beligtingsoperateur en -ontwerper was Jans Rautenbach, die kleinseun van die befaamde filmmaker met dieselfde naam.

Die assistentregisseur was Stephanie Gericke.

Die poppe is ontwerp en gemaak deur The Loft Puppet Co.


Prediker 3

Daar is ’n tyd vir als, ook om te vroeg te sterf.

Hoërskool Eldoraigne se stuk, Prediker 3, begin met ’n aanhaling uit die bekende Bybelstuk. Dit handel oor ’n jong meisie wat kanker kry en oor haar twee beste vriendinne se onvermoë om met haar siekte en haar dood om te gaan.

Die drama is geskryf deur Ianthe Sipsma, Kirstin Eloff en Daniëlle van der Westhuizen, wat ook die rolle vertolk het. Kirstin Eloff en Ianthe Sipsma het ook die regie behartig.

Die stuk het wel nie aanspraak gemaak op die top vyf nie, maar dit is indrukwekkend dat ’n drama wat in sy geheel deur skoolkinders geskep en bestuur is, so ver gekom het.

’n Baie eenvoudige stel het bygedra tot sjarme van die stuk, waarvan die boodskap diep getref het.

Die verhoogbestuurder was Keenan Kotze. Lourens van den Berg was die klank- en beligtingsoperateur en het ook die oudiovisuele ontwerp behartig.

The post Die beste 15 in ATKV-Tienertoneel 2017 appeared first on LitNet.


Boekbekendstelling: Vroue van Atlantis saamgestel deur Anastasia de Vries

$
0
0

Inspirasie is die wagwoord!

“En ons sal nooit weer dieselfde mense wees nadat die 12 vroue met ons gebeur het nie. Dit was ’n besondere voorreg om saam met Suzanne en Eldridge Jason te werk en die wonderlikste is dat van my kollegas en ons studente deel hiervan is.” – Anastasia de Vries

Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak.

Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, staan dié twaalf vroue se stories soos fakkels in ’n lang, donker nag.

Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studentebeurse.

Wie is in die boek?

Die twaalf vroue is: Francis Brown, Mary-Ann Cedras, Chrissie Cloete, Mandy Jonker, Christine Lewis, Sylvia Losper, Lenie Maya, Carol Muller, Sillene Oppel, Olivia Pharo, Mary Tenggren en Rachael Watson. Hulle verhale strek van gemeenskapdiens aan gestremde persone, bejaardes en kankerlyers, die rehabilitasie van dwelmafhanklikes, MIV/Vigs-voorkoming en -destigmatisering, tot inspirerende vroue wat staan in die onderwys, verpleegdienste, uitsaaiwese, ’n sangeres, ’n atleet en ’n tuinier.

Die samesteller en bydraers

Anastasia de Vries is ’n bekende skrywer, joernalis en dosent.

Hierdie boekprojek is geloods in samewerking met die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK).

Ander bydraers tot die projek is skrywer en joernalis Eldridge Jason, joernalis Christa Prinsloo, sowel as ses UWK-studente: Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess.

Die boek bevat ook ’n aantal foto’s deur Izak de Vries.

* * *

Vroue van Atlantis is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.

The post Boekbekendstelling: <i>Vroue van Atlantis</i> saamgestel deur Anastasia de Vries appeared first on LitNet.

ATKV-Mediaveertjies 2018: Skryf in!

Atlantis pass weer ’ie torch an

$
0
0

Die ATKV-tak op Atlantis vereer elke jaar mense uit die gemeenskap as fakkeldraers. Dié fakkeldraers is bakens, elkeen dra hulle eie lig na die donkerste dele van die gemeenskap. Die tak hoop om hiermee ook ’n jonger generasie aan te moedig om diensbaar te wees. Hierdie huldiging dien dus as ’n dankie, maar dit is ook ’n pleidooi in die taal van Atlantis: “Asseblief, pass ’ie torch an.”

Uit hierdie projek het ’n boek, Vroue van Atlantis, ontstaan, grootliks weens LitNet se bereidheid om die foto’s van twaalf van die vroue te dra. Die ATKV het toe die skrywer, joernalis en akademikus, Anastasia de Vries by die Universiteit Wes-Kaap, genader om die twaalf vroue se stories te skryf. Sy en Eldridge Jason, ’n bekende joernalis van die Son, het saam met Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess onderhoude met die twaalf vroue gaan voer en hulle verhale is geboekstaaf. Die boek is deur LAPA Uitgewers uitgegee. Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studentebeurse.

Op 30 November 2017 is die boek in Atlantis bekendgestel en twaalf nuwe mense het die fakkel oorgeneem. Anastasia de Vries en verskeie ander medewerkers het die geleentheid bygewoon.

Sylvia de Wet, LAPA se bedryfshoof, het aan elkeen van die twaalf ’n kopie van die boek oorhandig. Hier is Sylvia (links) saam met tannie Francis Brown en Annie Petersen, voorsitter van die ATKV-tak Atlantis.

Die nuwe fakkeldraers is toe vereer. Hulle foto’s verskyn hieronder.

Sylvia Brand

Ghayronessa Davids

Martin de Villiers

Cyril Dicks

Susan Fortuin

Joan Humphreys

Patrick Pickering

Katie Roman

Richard Stalmeester

Franklyn Stockenstroom

Roseline Victor

David Willemse

Die fakkel is daarna formeel oorhandig.

Aangesien die geleentheid van 30 November ’n glansgeleentheid was, het LAPA Uitgewers die Stad Kaapstad se Versamelingontwikkelingseenheid en die Wesfleur Biblioteek saamgespan om ’n tweede bekendstelling van die boek te reël wat gratis en oop vir die algemene publiek was.

Diane de Beer, wat in beheer is van Wesfleur se bib, het ontsettend baie moeite gedoen. Annie Petersen het verduidelik waar die konsep van “pass ’ie torch an” vandaan kom. Van die vroue wie se verhale in die boek vertel word, Mary Tenggren en Christine Lewis, het ook hulle stories gedeel, foto hierbo. Olivia Pharo het ook later aangesluit en toe haar verhaal gedeel.

Cynthia Clayton, ’n stadsraadslid, het met groot lof gesels oor die werk van die ATKV en het vertel van die stadsraad se werk om ook die gemeenskap van Atlantis ter wille te wees.

Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” en is tans die toonvenster van ontheemding vir baie, maar Atlantis is óók die stad van onontdekte skatte.

Vroue van Atlantis, saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason, is by enige goeie boekwinkel te koop, of direk van LAPA Uitgewers.

The post Atlantis pass weer ’ie torch an appeared first on LitNet.

Laat dit riel!

$
0
0

Kyk, op Saterdag 2 Desember 2017 het daar weer ’n deeglike stofwolk oor die Paarl gehang. Dit was nie die wind se skuld nie, nee, dit was die trappers van die riel wat so gemaak het tydens die finaal van ATKV-Rieldans.

Die amfiteater aan die voet van die Afrikaanse Taalmonument was uiteindelik stampvol, die sand was reg en sommer as voorvertoning het ’n bloedjong knapie lank voor die aanvang van die amptelike kompetisie al kom wys wat van die ander verwag kan word.

Daar is selfs mense wat in hul sewentigs is wat steeds deelneem, hoewel hulle dit nie tot die finaal gemaak het nie. Presies hoe oud die oudste deelnemer in die finaal was, is nie bekendgemaak nie, maar die dansers van Witzenberg was beslis nie almal jonk nie.

Die musiekinstrumente is saggies gepluk terwyl die skare inbeweeg het.

Die ATKV het gedurende 2017 skenkings gekry om verskeie nuwe instrumente aan die groepe te verskaf.

Oral het interessante rekwisiete gewag om op die baan te gaan.

Uiteindelik het die gehoor van 4 000 hulle sitplekke ingeneem. Die bekers was reg.

Die media was in plek.

En toe staan die stof!

Sessie 1: Junior Rieldansers, onder 14

Die Roggeveld Rieldansers

Die Betjies Rooistomprieldansers, wat uiteindelik derde was

Die Griekwa Hiënas, wat tweede geëindig het

Die GB Batt Stofskoppers, wat die stof tot in die eerste plek opgeskop het

Die Uitsig Stoftrappers wat vierde geëindig het

Sessie 2: Junior Rieldansers, onder 20

Die Tiervlei Vastrappers

Die Griekwa Knersvlakterieldansers, wat hierdie afdeling gewen het

Die Betjies van Betjiesfontein, wat tweede gekom het

Die Calvinia Sitstappers wat vierde geëindig het

Die Brandvlei Stofskoppers wat derde was

Sessie 3: Die Senior Rieldansers

Die Bitterfonein Tradisionele Rieldansers

Die Witzenberg Rieldansers wart vierde geëindig het

Die Betjies Rooirotsrieldansers wat die derde plek ingeneem het

Die Calvinia Sitstappers 2 wat in die tweede plek geëindig het

Die Boesmanland Bitterbessies wat as algehele kampioene gekroon is

Volledige uitslae

Die volledige uitslae is te sien op die ATKV se webwerf

Benjamin Bock, bestuurder van Erfenisaangeleenthede by die ATKV, doen ’n finale onderhoud terwyl stof begin sak.

The post Laat dit riel! appeared first on LitNet.

ATKV-Crescendo: vanjaar se finale ronde

$
0
0

Die span van ATKV-Crescendo het landswyd getoer om liedjieskrywers op te spoor wat wil deel wees van ATKV-Crescendo. Verskeie werkswinkels en uitdunrondtes is gehou.

Uiteindelik is die finaliste genooi na ’n intensiewe sessie wat van 4 tot 9 Desember in die Slanghoek-konferensiesaal by ATKV-Goudini Spa plaasgevind het.

Lesings is elke dag gehou.

Elke deelnemer moes verskeie praktiese opdragte uitvoer.

Selfs die Crescendo-orkes het die deelnemers een vir een toegelaat om te oefen – so lyk ’n sitkamersessie.

Elke lid van die finale groep het die geleentheid gekry om tydens privaat sessies met van die onderskeie mentors hulle vaardighede te slyp.

As deel van die praktiese opleiding het die groep ook in ’n arm woonbuurt van die Paarl op ’n oop verhoog opgetree.

Dit was gloedwarm in Goudini, so die swembaddens het lafenis gebring.

Die tegniese span was die hele week deel van die proses, klank is getoets, mikrofone is toegeken, musiek getoets en ligte is opgestel en geprogrammeer.

Die konsert

Uiteindelik het die groot aand aangebreek. Whaden Johannes, wat nou al ’n lang pad met ATKV-Crescendo stap, het die ys gebreek. Sy eerste CD land in 2018 en hy het die gehoor ’n voorsmakie daarvan gegee.

Toe het die Shoprite Topstars opgetree. Die legendariese Mynie Grové vervaardig hierdie produksie. Elkeen van die deelnemers werk vir Shoprite. Sy soek talent en ontgin dit dan. Hierdie jaar het die Topstars ook by ATKV-Goudini Spa geoefen en hulle het talle sessies met die finaliste van ATKV-Crescendo gedeel.

Jodi Jantjies het by die Shoprite Topstars aangesluit. Jodi is die meisie wat so hakkel dat sy met erge moeite praat, maar op die verhoog, wanneer sy sing, is hierdie klein mensie ’n foutlose kragbron van klank. Jodi was deel van 2016 se ATKV-Crescendofinaliste en het geweldig gegroei die afgelope jaar. Sy het ook formeel besluit om haar erge spraakgebrek te openbaar en wil as ambassadeur optree vir almal wat soos sy sukkel. Kyk, wil sy vertel, ek kan dalk nie maklik praat nie, maar ek is besig om ’n sukses van my lewe te maak. (Kliek hier vir ’n onderhoud met Jodi – luister ook na daardie stem as sy sing!)

Deidre le Hanie, Besturende direkteur van die ATKV, het almal verwelkom. Daarna is dit die finaliste se beurt.

Hakkiesdraad Hartman, die wiskundige chemikus

Stiefsuster (haar hare is in ATKV-Crescendo se kleure!)

Ithumeleng van die duo Term & Khool

Tshwaro van die duo Term & Khool

Cudwill van die duo C4 & 5Star

Bryce van die duo C4 & 5Star

Die Glasman

Joané van Sandwyk

Anton van Zyl

Japsnoet

Charl Balie

Mojalefo Mthimkulu se moedertaal is Sotho. Een van die uitdagings wat aan al die ander finaliste gestel is, was om iets in Sotho te skryf en uit te voer met Mojalefo se hulp.

Hesti Fourie

Hilton Andries, wat die verhoognaam Hilton Mandela gekry het weens kleurvolle klere

Jody Garland

Jan-Hendrik Fourie

Die mentors

Die ATKV maak van verskeie mentors gebruik om die stemme van die finaliste, hulle musiek en hulle lirieke te help vorm.

Danie du Toit van Spoegwolf

Deon Meiring van Glaskas

Die Hooflig, wie se nuutse video pas geland het

Rumarcqeus Gelderbloem, beter bekend as Oxyjin

Anna Davel

HemelBesem

2018

Die finaliste en verskeie mentors gaan deur die loop van 2018 op verskeie plekke optree. Gaan kyk wanneer hulle in die omtes is.

The post ATKV-Crescendo: vanjaar se finale ronde appeared first on LitNet.

Viewing all 505 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>