Quantcast
Channel: ATKV-Portaal - LitNet
Viewing all 502 articles
Browse latest View live

Uitnodiging: Johan Combrink-gedenklesing

$
0
0

Johan Combrink-gedenklesing

15 Februarie 2018 om 18:30 vir 19:00
Protea Hotel Tegnopark, Stellenbosch
met Martie Retief-Meiring en Kabous Meiring as sprekers

"Hou julle rokkies bymekaar"

Die bekende dramaturg en Woordfees-direkteur, Saartjie Botha, is vanjaar ons programleier.

Kom luister hoe dink Martie Retief-Meiring en Kabous Meiring oor wraakspraak en die gevolge daarvan in ’n tyd van dinamiese verandering, en ook hoe Afrikaans geraak word as een van die emosionele brandpunte op ons sosiale-wraakspraak-landskap.

Laat weet asseblief vir Chareldine (chareldinev@vva.atkv.org.za of 021 880 1761) vóór of op 7 Februarie as jy die geleentheid wil bywoon sodat ons vir jou ’n sitplek en ’n glasie wyn kan gereed hê. Daar sal ’n kontantkroeg beskikbaar wees.

Jou toegangskaartjie is ’n groen noot, ’n tientjie, vir ’n trommel. Help ons om ons kinders aan die lees te kry en aan die lees te hou. 

Ons sien jou baie graag!

The post Uitnodiging: Johan Combrink-gedenklesing appeared first on LitNet.


"Afrikaans sal nie verdwyn nie"

$
0
0

"Afrikaans sal nie verdwyn nie," sê die joernalis Malixole Gwatyu.

Wanneer Malixole Gwatyu ín Afrikaans óór Afrikaans praat, sit jy regop en spits jou ore. Malixole, ’n gerespekteerde joernalis wat vier tale praat, sê egter hy gaan nie vir Afrikaans veg nie.

Malixole Gwatyu

Dadelik skuif jy vorentoe op jou stoel en vra jou af maar hoekom nie? Die antwoord is baie eenvoudig.

“Afrikaans sal leef en voortleef. Ek sien nie dat Afrikaans sal verdwyn nie, want daar is so baie mense – en diverse mense – wat dit praat.”

Malixole was saam met twee medejoernaliste, Vincent Mofokeng en Dumile Mateza, deel van ’n paneelbespreking wat Woensdagaand by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) onder leiding van Danny Titus, uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede, gehou is.

Dumile Mateza, Vincent Mofokeng, Malixole Gwatyu en Danny Titus

Malixole het op ’n plaas grootgeword en dis waar hy Afrikaans leer praat het. Sy joernalistieke loopbaan het in 2001 by Die Burger begin. Hy het later by die Landbouweekblad gedraai en is tans by RSG.

In die lig van die gebeure by die Hoërskool Overvaal en die Universiteit van die Vrystaat is Malixole van mening dat taal op sy eie nie ’n probleem kan wees nie. Dis eerder hoe mense die sprekers van die taal ervaar en dan sekere persepsies vorm. “Ons bewys Afrikaans nie ’n guns as ons die taal blameer nie.”

Dit is juis volgens Titus hoekom ’n paneelgesprek soos dié van kardinale belang is. “Afrikaans is ’n taal wat lewe en bruis, maar dis ook ’n taal wat baie kommer losmaak. Afrikaans is ’n taal van diversiteit en ons moet die rykheid hiervan erken.

“Dit is daarom dat ons by die ATKV besluit het om erkenning te gee vir die bydrae van African Afrikaanssprekendes, mense wat net ook vir Afrikaans lief is en hande wil vat om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.”

Vincent Mofokeng, die jong stem wat jy soggens op RSG se Monitor hoor, sê die mense van Suid-Afrika moet op ’n plek kom waar hulle met mekaar kan gesels en sê "Dis my taal, dit is wat dit verteenwoordig, vertel my oor jouself."

Dumile Mateza

Dumile Mateza, wat die eerste kommentator was wat sokker in Afrikaans uitgesaai het, stem saam en glo dat ons die regering verantwoordbaar moet hou, want die Grondwet bepaal dat alle tale gelyk is. “Ons moet opstaan vir dit waaraan ons glo. Dit is vir my ’n voorreg om Afrikaans te kan praat.”

Dié drie joernaliste is duidelik passievol oor Afrikaans en glo dat die taal deel kan wees van die oplossing in ons land, maar Malixole waarsku tog aan die einde: “Moenie te veel aan Afrikaans dink as ’n slagoffer nie. Hoe meer jy aan daardie idee gaan vasklou, hoe meer gaan mense vir jou probeer wys dat dit nie so is nie.”

Foto's: verskaf

The post "Afrikaans sal nie verdwyn nie" appeared first on LitNet.

Johan Combrink-gedenklesing: Raakspraak en wraakspraak

$
0
0

Martie Retief-Meiring, Kabous Meiring en Saartjie Botha

Foto: Izak de Vries

Sosiale media is die mees demokratiese ding wat kon gebeur het met die mens en sy denke, maar dit bied ook ’n teelaarde vir boendoehowe.

Dit was die strekking van ’n gesprek tussen die veteraanjoernalis Martie Retief-Meiring en haar ewe bekende dogter, die TV-aanbieder Kabous Meiring tydens vanjaar se Johan Combrink-gedenklesing in Stellenbosch. Die Combrink-gedenklesing word jaarliks aangebied deur die Vriende van Afrikaans.

Die tema van die gesprek was wraakspraak en die gevolge daarvan in ’n tyd van dinamiese verandering, en ook hoe Afrikaans geraak word as een van die emosionele brandpunte op ons sosiale wraakspraak-landskap.

Ma en dogter het ’n tweegesprek gevoer oor ’n paar brandpunte in die diskoers wat dikwels op sosiale media bespreek word. Van die sake waaroor hulle gepraat en soms skerp van mekaar verskil het, was kwessies soos die rol van Afrikaans, die onderwys, die omstrede blackface-voorvalle wat dikwels die nuus haal en die onlangse #Me Too-veldtog wat wêreldwyd opslae gemaak het op sosiale media.

Albei die sprekers was dit eens dat seksuele teistering ’n onding is wat uitgeroei moet word en dat sekspeste aan die kaak gestel moet word.

Martie Retief-Meiring

Foto: Izak de Vries

Hulle het egter gewaarsku teen die tropmentaliteit wat dikwels op sosiale media voorkom. Martie het gesê die #Me Too-veldtog is ’n sprekende voorbeeld hoe ’n saak wat daarop gemik was om vroue te bemagtig, kan handuit ruk. Mense wat dit nie verdien nie is ongenuanseerd beledig en vervloek. Dit kweek ’n tipe kuddementaliteit in die kuberruim waar feite nie meer saak maak nie en die deelnemers aan die gesprek hulle glad nie meer steur aan die besonderhede van elke geval nie.

Kabous het by haar aangesluit en gesê die kuberwêreld is vol hekwagters wat nie onderskeid tref tussen werklike oortredings en onskuldige gedrag nie. Hulle stel nie belang om seker te maak wat was die spesifieke oortreding of wie het wat gedoen nie. “Jy is óf die een óf die ander, óf dom óf slim, óf reg óf verkeerd, óf ’n feminis óf ’n sekspes, óf ’n rassis óf ’n liberalis ...” Sy sê stereotipering is aan die orde van die dag in sulke gesprekke en die kontra-stemme kry die wind van voor.

Martie het gesê sy het dit nie teen robuuste debat op sosiale media nie, maar soms word sake so skeef getrek dat die waarheid daaronder ly.

Sy het ondermeer verwys na die sogenaamde blackface-episode ’n jaar of wat gelede op Stellenbosch toe een van die studente, Poekie Briedenhann en haar vriendin op sosiale media gekruisig is oor ’n doodonskuldige voorval wat niks te make gehad het met die vernederende blackfacing nie. Die “belaglikheid” van hoe ’n instituut soos die Universiteit Stellenbosch die saak hanteer het terwyl die twee studente onder wraakspraak moes deurloop het haar verstom.  “Waarom die onmiddellike veroordeling sonder om eers vas te stel wat die feite is?” het sy gevra.

Kabous Meiring

Foto: Izak de Vries

Haar dogter Kabous het ook gevra dat daar onderskeid getref moet word tussen optredes wat ooglopend rassisties is en onskuldige pret wat niks te doen het met rassisme nie. “Almal het die gesigte raakgesien wat pers was en nie eers swart nie, maar niemand het eers die daggazol op die gewraakte foto opgemerk of iets dáároor gesê nie.”

Sy beskou haarself as liberaaldenkend, maar sê sy kan nie glo hoe dit gebeur het dat linkse denke soms so wreed kan raak in die kuberwêreld dat mense geen geduld meer met mekaar het nie.

Saartjie Botha

Foto: Izak de Vries

Die Woordfees-direkteur Saartjie Botha wat die gesprek gelei het, het vertel hoe iets onskuldig maklik in ’n storm kan ontaard. Sy het vertel van nuwe baniere wat KykNET in Stellenbosch aangebring het vir die Woordfees met drie K’s op ’n wit agtergrond. Daar was onmiddellik mense wat dit verbind het met rassisme en ekstremisme omdat dit hulle laat dink het aan die berugte Ku Klux Klan in Amerika. Sy sê dit was uiteraard hoegenaamd nooit die bedoeling nie, maar daar is besluit om liewer die vlae af te haal en met ander vlae te vervang.

Volgens Martie is dit belaglik. Sy sê sy het die drie K’s self gesien en begryp nie die bohaai nie. Waarom het dit nou so verskriklike letter geword? Toe sy by die liberaalgesinde Vrye Weekblad gewerk het, het hulle al besef die twee letters wat die beste leesbaar is op ’n plakkaat is die letters K en A.

Al die sprekers was dit eens oor die belangrikheid van Afrikaans. Hulle is bekommerd oor die feit dat mense dink Afrikaans sal nie daaronder ly as dit nie meer ’n akademiese taal is nie.

Martie het die verloop van die taaldebat by die Universiteit Stellenbosch as tragies bestempel. “Wat sal word van die taal as jy dit tersiêr vernietig? Is ons besig om onsself te vernietig?" wou sy weet. Sy sê daar moet liewer tyd en energie spandeer word om die ander nege inheemse tale te help ontwikkel as om Afrikaans af te skaal.

Kabous stem saam oor die belangrikheid van Afrikaans, maar sê dit maak haar ongemaklik wanneer wit mense namens bruin mense oor Afrikaans praat. Haar ma het volgehou dat bruin mense in die Kaap ook daaronder ly as Afrikaans in die slag bly en sê dit is niks anders as kultuurverkragting nie.

Willa Boezak

Foto: Izak de Vries

Die gesprek is op ’n ligte noot afgesluit toe Willa Boezak wat ook in die gehoor was vertel het hoe belangrik dit is dat ons ook saam vir mekaar kan lag. “Is ons nie dalk besig om die gawe van lag te verloor en ’n humorlose nasie te word nie?” wou hy weet.

Boezak sê dis al so erg dat hy nie eers meer van "hotnotsvis" wil praat nie, maar liewer van "histories agtergeblewe seekos".

Chareldine van der Merwe ontvang die gaste

Jean Oosthuizen en Naomi Bruwer

Foto: Izak de Vries

Deidre Le Hanie

Foto: Izak de Vries

'n Aanhaling deur Margaret Atwood waarmee Kabous Meiring die gesprek geopen het.

Foto: Izak de Vries

Amanda de Stadler vertel van die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek.

Foto: Izak de Vries

Carel Jansen van die Rijksuniversiteit Groningen

Foto: Izak de Vries

Chareldine van der Merwe het die bedankings gedoen en 'n geskenk aan Amanda de Stadler, wat later vanjaar uittree, oorhandig.

Foto: Izak de Vries

The post Johan Combrink-gedenklesing: Raakspraak en wraakspraak appeared first on LitNet.

Die VVA oorhandig boeke aan mense van die Richtersveld

$
0
0

Amanda de Stadler van die Vriende van Afrikaans lees vir die kleingoed van De Kleine Bewaarskool in Steinkopf voor. Foto: Leon de Stadler

’n Geharde, maar pragtige, landskap, sout-van-die-aarde-mense wat met min baie vermag en kinders wat nie hul hande van boeke kan afhou nie.

Dit en nog vele meer was deel van Amanda de Stadler, bestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), se reis na die Richtersveld om 14 boektrommels – wat haar hele Isuzu volgepak was – te gaan afgee.

Amanda het, in samewerking met die ATKV, altesaam 14 skole besoek, byna 1 400 boeke uitgedeel en sowat 3 800 kinders toegang tot nuwe leesstof gegee.

“Ons het eers die Laerskool Dryfsand aangedoen, en die behoefte aan leesondersteuningsopleiding het my oorweldig,” vertel Amanda. “Die boeke in die trommel was nie naastenby genoeg nie.”

Stories is voorgelees en dit was veral die drie- tot vyfjariges van De Kleine Bewaarskool in Steinkopf wat oopmond gesit en luister het na die manewales van Babalela en Parmant.

Donald Cloete, die skoolhoof, was geweldig dankbaar toe die bakkie vol boeke in ’n stofwolk daar aankom. “Julle kom om ’n groot behoefte te vervul. Ons het baie min hulpmiddels!” 

Amanda se Richtersveldreis was egter nie sonder ’n paar uitdagings nie. ’n Pap band en ’n “gedwonge oornagting” in die middel van nêrens kon egter nie haar geesdrif demp nie.

“Om die dankbaarheid op die gesigte van die onderwysers en kinders te sien het elke kilometer van hierdie reis die moeite werd gemaak. Ek het ook net weer besef die behoefte aan leesondersteuning, hulpmiddels, opleiding en infrastruktuur is groot en ons kan nie net agteroorsit nie.”

Ander skole wat Amanda besoek het, was onder meer die Laerskool Gaffie Maree in Alexanderbaai, die Laerskool Elizabeth Wimmer in die dorpie Lekkersing en die Laerskool Stephan Malherbe op Eksteenfontein.

Vriende van Afrikaans (VVA) wil met hul boektrommelprojek die behoefte aan lees op voorskoolse vlak aanspreek. Die VVA skenk al sedert 2006 boeke aan skole, of trommels vol boeke as daar nie ’n bestaande biblioteek is nie.

Hierdie projek het die verbeelding van weldoeners in so ’n mate aangegryp dat die VVA daarin slaag om 50 trommels per jaar na kleuterskole te versprei. ’n Trommel met ongeveer 100 geskikte boeke (deur Biblionef) kos R7 500.

May Ellen Chase se woorde: “Daar is geen plaasvervanger vir boeke in die lewe van die kind nie” is beslis deur die Vriende van Afrikaanse se besoek aan die Richtersveld onderstreep.

The post Die VVA oorhandig boeke aan mense van die Richtersveld appeared first on LitNet.

Persvrystelling: ATKV-Tienertoneelteksskryfskool 2018

$
0
0

’n Toneel uit Rondo van Selborne College, geskryf deur Jo Stemmet, ’n skryfskoolkursusganger van 2017

Droom jy daarvan om ’n dramateks te skryf? ’n Teks wat amuseer, ontroer, stimuleer en selfs uitdaag?

Dan is die ATKV-Tienertoneelteksskryfskool van 5 tot 7 April by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement net vir jou.

Volgens Lizané Basson, projekorganiseerder van die ATKV-Tienertoneelkompetisie, gaan dramateksskrywers die geleentheid hê om saam met ’n kenner met ’n kritiese oog na hul tekste te kyk.

“Ons gaan deur interaktiewe lesings, gesprekke, debat en skryfoefeninge jou teks se potensiaal ontdek en jou die gereedskap gee om dit ten volle te ontgin.”

Deur te skryf en herskryf gaan jy prakties leer om:

  • idees vir storielyne te genereer;
  • spanning in ’n toneel(stuk) te skep;
  • ware driedimensionele karakters te skep wat die gehoor vir lanksal onthou;
  • dialoog wat boeiend en ekonomies is, te skryf;
  • narratiewe struktuur doeltreffend te gebruik;
  • die reëls van genre te verstaan (en te breek) en
  • die trefkrag van jou teks te verdubbel.

André Gerber, dosent by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement waar hy spesialiseer in toneelspel en teaterskepping, is die kursussamesteller en -aanbieder.

André neem al sedert sy skooldae aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deel. Hy is ’n ywerige teaterskrywer wat graag ander wil inspireer om hul eie stem binne hul persoonlike skryfstyl te ontwikkel.

“As daar weer so ’n geleentheid opduik om weg te breek en ’n skryfskool by te woon, doen dit. Miskien is dit die enigste ding wat jy nodig het – om te praat met ander skrywers of om net te kan afskakel en eksklusief aan jou skryfwerk te werk,” sê André.

Leerders, studente en volwassenes is welkom – kom leer nuwe vaardighede aan en vind inspirasie!

Koste beloop R1 500 per persoon – dit sluit die kursusmateriaal, middagetes en ligte verversings vir die drie dae in.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 20 Maart. ’n Deposito van R500 is betaalbaar wanneer ingeskryf word. Registreer jou so gou as moontlik, aangesien slegs ’n beperkte getal kursusgangers kan kom.

Skakel asb vir Lizané Basson by 011 919 9078 of stuur ’n e-pos na lizaneb@atkv.org.za vir meer inligting. Die inskrywingsvorm kan by  https://www.atkv.org.za/Kunste/Projekte/Jeugprojekte/Tienertoneelafgelaai word.

’n Toneel uit Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed), saamgestel deur André Gerber vir die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. Dié produksie is as die naaswenner van die ATKV-Tienertoneelkompetisie in 2017 aangewys.

 

The post Persvrystelling: ATKV-Tienertoneelteksskryfskool 2018 appeared first on LitNet.

Afrikaans en die Bo-Kaap

$
0
0

Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.

Menán van Heerden het foto's van die geleentheid geneem en meer oor die Kaapse Moslemgemeenskap, Arabiese Afrikaans en die historiese figure Tuan Guru en Abu Bakr Effendi nagevors in haar meningsartikel, “Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap”.

Izak de Vries het ook oor hierdie geleentheid geskryf en foto’s geneem. Hier is sy indrukke. 

  • Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850” (2012) deur Archie Dick. In hierdie artikel word meer vertel van die eerste Moslemskool, koplesboeke, imam Tuan Guru, die verspreiding van Islam, ghoemaliedjies en Arabies-Afrikaanse skrifte.

Afrikaans en die Bo-Kaap

Op Saterdag 24 Maart het ’n groot groep Afrikaanssprekendes in die Kasteel in Kaapstad byeengekom om te gesels oor die invloed van die Bo-Kaap op Afrikaans.

Danny Titus

“As-salaam-alaikum,” het Danny Titus in Arabies gegroet. Dit beteken “vrede vir julle” en is die standaardgroet in die Afrikaanse Bo-Kaap-gemeenskap en onder Moslems op die Kaapse Vlakte. Die Bo-Kaap is oorwegend Moslem en talle Kaapse Moslems praat Afrikaans én Arabies, met interessante woorde en gebruike wat vermeng.

Afrikaans het vele gesigte, sê Titus. Dit is daarom vir die ATKV belangrik om die verskillende gesigte te verstaan en aan die wêreld te wys. Dié gesprek was dus deel van ’n hele reeks waarmee die ATKV besig is om Afrikaans se diversiteit te leer ken en verstaan.

Daar was vyf sprekers. Faika Haroun het oor die moppies gesels, Doria Daniels en Gava Kassiem se gesprekke het gehandel oor vroue wat entrepreneurs is, terwyl Max du Preez en Fatima Allie meer vertel het oor die geskiedenis van die Islam en hoe die geloof ’n direkte invloed op Afrikaans gehad het.

Doria Daniels

Entrepreneurskap

Doria Daniels het die sluier gelig oor die entrepreneurskap van vroue in die Moslemgemeenskap. Sy het haar navorsing gekonsentreer op die Afrikaanse vissersgemeenskappe.

Vroue se ekonomiese bydraes tot die samelewing word dikwels misken, sê sy. Dit gebeur nog meer as daardie vrou ’n Moslem is wat ’n doek dra. Wanneer vroue wél genoem word, is dit slegs weens hulle rolle in die kombuis. Die kookkuns ís belangrik, sê Daniels, maar juis omdat dit so dikwels vroue in staat gestel het om vir hulle gesinne te sorg.

Vra die gemeenskappe waar hierdie vroue so hard gewerk het wie die broodwinner nou eintlik is, dan sal hulle een van die mans se name noem. Die werklikheid was egter dikwels anders. Die mans hét hard gewerk wanneer hulle kon uitgaan op die skuite om vis te vang, maar daar is baie maande in die jaar dat die weer dit onmoontlik maak om te gaan visvang. As ’n mens begin vra oor hoe gesinne dan oorleef het, word die vroue se rol duideliker.

Heel gou word vertel dat vis gedroog en gepekel is vir die maer maande. Vroue het ook regdeur die jaar brood gebak. Talle van hulle het ook brood verkoop vir ’n ekstra inkomste. Krap dieper, en ’n mens hoor ook van die koesisters, daltjies, samoesas, beskuit en pasteie wat verkoop is. Die ingelegde vis wat nie deur hulle self geëet is nie, is ook verkoop. Blatjang en atjar is gekook vir die maer tye; dit wat nie nodig was vir oorlewing nie, is verkoop.

Hierdie vissersvroue se kookkuns het later só bekend geword dat hulle gesog was in die restaurante en hotelle van daardie tyd, wat óók natuurlik die gesinne finansieel gehelp het.

Ander vroue het as kelners, kinderoppassers en bediendes gaan werk.

Sommige vroue, wat nie voltyds as bediendes wou werk nie, het wasgoed gaan haal by die ryk mense se huise, dit gewas en gestryk en dan weer teruggeneem. Dié vorm van deeltydse werk is partjies genoem. Let op die verafrikaansing van die Engelse woord part-time.

Talle vroue het borduurwerk gedoen om te verkoop en verskeie vroue was ook bekend daarvoor dat hulle mijang (groot blokke wierook) sou opkoop, kerf en herverkoop.

Daar is baie sulke stories, vertel Daniels. Haar navorsing toon dat vroue in werklikheid die gesin gevoed het, al is die man as die broodwinner gesien.

Gava Kassiem

Gava Kassiem het haar ervaring gedeel as ’n hedendaagse, moderne entrepreneur. Moslemvroue ervaar steeds diskriminasie by die werk, sê sy. As ’n regsvertaler wat jare se ondervinding in die parlement het, ervaar sy aan eie lyf dat haar van en haar doek maak dat sommige mense nie aan haar wil kontrakte toeken nie.

Die moppies, die slawe en die geloof

Faika Haroun het begin deur uittreksels uit die moppies te speel.

Moppies is tradisionele slaweliedere waarvan heelwat later as Afrikaanse volksliedere bekend gewoord het. ’n Goeie voorbeeld is “Daar kom die Alibama” met die bekende koortjie “Nooi, nooi die rietkooinooi”.

Die moppies is deur die slawe gesing, heel dikwels as ’n vorm van protes teenoor die eienaars wat nie altyd verstaan het wat die woorde beteken nie. Die slawe het gou Hoog-Hollands begin meng met woorde en frases uit hulle eie tale; ook het hulle sekere kodes ingebou sodat, selfs al sou die base die woorde verstaan, hulle nie sou weet wat die woorde beteken nie.

Die woord rietkooinooi is ’n mooi voorbeeld. Dit verwys na ’n baie spesiale vriendin, een met wie jy ’n kooi tussen die riete sal deel. Dit het dus ’n duidelike seksuele konnotasie.

Faika Haroun

Haroun het ook daarop gewys dat die moppies steeds aanpas en steeds vernuwe. Daar is jaarliks ’n kompetisie waartydens die beste Maleierkore aangewys word en elke jaar verskyn nuwe, aktuele weergawes van die tradisionele liedere. Tydens verlede jaar se kompetisie was daar drie moppies wat na die droogte in Kaapstad verwys het.

Hierdie liedjies is dus een van die oudste vorme van Afrikaans en pas steeds aan by ons moderne samelewing.

Max du Preez en Fatima Allie se praatjies het hierby aangesluit.

Ons sou steeds Nederlands gepraat het as dit nie vir die slawe was nie, vertel Du Preez. Die wit heersersklas het geen rede gehad om ’n ander taal te praat nie. Nederlands sou gewoon die taal van die Kaap gebly het. Die slawe, daarenteen, het Afrikaans geskep om ’n werkbare taal te vind tussen die Nederlands van hulle eienaars en diverse tale van hulle herkoms.

Vir die Moslemslawe het Afrikaans ook die taal van hulle godsdiensbelewing geword.

Allie het die gehoor teruggeneem na die sjeik Yusuf van Makassar se aankoms aan die Kaap. Yusuf was ’n koninklike en het oor ’n aantal eilande in Oos-Indië geregeer. Hy was egter erg gekant teen die manier waarop die VOC sy mense uitgebuit het en is toe deur die VOC in hegtenis geneem. Om te keer dat sy verset versprei, is Yusuf uiteindelik na die Kaap verban, waar hy ’n ruk lank in die Kasteel gebly het voor die Kaapse regering hom ’n plaas gegee het om op te woon.

Yusuf was ’n baie gelowige Moslem en sy nalatenskap in die Kaap was ’n klein, maar standhoudende vesting vir die Islam, hoewel dié geloof op daardie stadium nie amptelik erken is nie.

Die oudste geskrifte wat in Afrikaans neergepen is, kan na 1806 teruggevors word, vertel Du Preez. Dit is in ’n madrasse, ’n Moslemskool, geskep. Hierdie madrasse het ’n interessante geskiedenis, want dit is gestig deur imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, ’n prins van Indonesië wat deur die Nederlanders as ’n moeilikheidmaker gebrandmerk is en op Robbeneiland aangehou is. Daar het hy groot passasies van die Koran uit sy kop neergeskryf. Hierdie beroemde leier staan vandag in die Bo-Kaap bekend Tuan Guru, wat vertaal kan word as Meneer Onderwyser.

Max du Preez

Tuan Guru is uiteindelik toegelaat om aan die Kaap op die vasteland te kom bly. Hy het toe die heel eerste madrasse in die Kaap opgerig, al is die Islam steeds nie erken as godsdiens in die Kaap nie. Dit is in daardie skool waar Afrikaans die eerste geskryf is, foneties en in Arabiese skrif.

Die bekendste skepper van ’n vroeë Afrikaanse teks is waarskynlik sjeik Abu Bakr Effendi wat in Turkye gebore is en in 1862 in die Kaap aangekom het.

Effendi is deur die Kaapse regering versoek om die Moslemgemeenskap te kom bystaan en daarom het hy dit sy lewenstaak gemaak om ’n handleiding in Afrikaans te skryf vir die volgelinge van die Islam. Hierdie teks, getiteld Bayān al-Dīn (wat beteken ’n Verduidelik van die Geloof) het 354 bladsye beslaan. Dit is ’n Afrikaanse teks, in Arabiese skrif, en is deur die Turkse regering geborg en uitgegee.

Achmat Davids het uiteindelik hierdie tekste gelees en het hulle toeganklik gemaak deur ’n meestersgraad daaroor te skryf.

Du Preez sê hierdie gegewens is belangrik vir ons taal, want die Voortrekkers het hulle geloof in Nederlands bedryf. Teen die tyd dat die Voortrekkers uit die Kaap weg is, was die geloofstaal van die Bo-Kaap egter reeds Afrikaans.

In 1875 het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) uiteindelik Afrikaans gekaap, vertel Du Preez, want hulle wou dit toe as ’n middel aanwend om identiteit te gee aan die wit mense se stryd teen die Engelse. Die GRA het ongelukkig glad nie aandag gegee aan die grootste aantal mense wat Afrikaans gepraat het nie, want polities sou dit nie hulle stryd enigsins goed gedoen het nie.

Fatima Allie se aanbieding was veel meer persoonlik. Sy is een van daardie mense wat jy nooit in ’n boksie kan pas nie. Sy ’n ambassadeur vir Afrikaans.com, ’n kommunikasiebestuurder, kosboekskrywer en boonop ’n direksielid van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Allie se voordrag was besonders, want sy het moeite gedoen om die amptelike geskiedenis aan haar eie te koppel. Saam met die historiese feite het sy ook foto’s gedeel en ’n film uit haar kleintyd gespeel.

Fatima Allie

Sy het oor haarself gesê sy is ’n Moslem wat Arabies nie juis goed kan praat nie, maar dit lees. In haar kleintyd het mense Arabies en Afrikaans in die Bo-Kaap gepraat. Haar ouers en die ander grootmense was onbeskaamd Afrikaans. In hulle plekke van aanbidding is Arabies gehoor, maar in hulle kombuis is Afrikaans gepraat.

Alie is later na Engelse skole gestuur.

Die Engelse omgewing op skool en universiteit het gemaak dat sy ’n ruk lank haarself as Engelssprekend beskou het, maar sy het gou agtergekom dat sy haar aktivisme in Afrikaans uitleef.

Die jare van apartheid was swaar en as student was sy direk betrokke by talle boikotte en ander aksies teen die regering. “Ons het in Afrikaans geboikot,” sê sy.

Allie het uiteindelik ook begin besef hoe heg die Islam en Afrikaans met mekaar verweef is. Begin maar met sjeik Yusuf van Makassar. Neem die Moslemslawe wat nie toegelaat is om openlik hulle geloof te beoefen nie en toe sang ontdek het as ’n manier om met mekaar en met hulle God te kommunikeer.

Sy sluit toe aan by Du Preez en verwys na imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, die prins van Indonesië, en Tuan Guru se rolle om Afrikaans as skryftaal te vestig. Of wat van die bekende imam Baker wat uiteindelik die hele Koran in Afrikaans vertaal het en in Westerse skrif neergeskryf het?

Ook het Allie die skoonheid van die Bo-Kaap leer verstaan en omarm. Die Bo-Kaap het, ironies, tot stand gekom omdat die wit base nie wou bergklim na hulle huise nie, dus het die slawe daar ’n tuiste gevind. Vandag is dit van die mees gesogte eiendomme in die Kaap weens die pragtige uitsig. Dit is waarom sy vandag saam met Afrikaans ook die skoonheid van Bo-Kaap bemark, vertel sy.

René Arendse en Jacob Meiring

Quinton Adams

Om saam te eet

Ná die praatjies het almal saam geëet waarna idees uitgeruil is tydens ’n lewendige gesprek om ’n lang tafel.

Vele gesigte. Een taal.

Trots Afrikaans.

The post Afrikaans en die Bo-Kaap appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2018: Nou oop vir inskrywings

Hoërskoolleerders, kom leer liedjies skryf soos Elvis Blue!

$
0
0

Elvis Blue is een van die aanbieders by die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel. Foto: Eon Coetzee

Indien jy nog altyd daarvan gedroom het om ’n liedjie te skryf, maar voel jy het nie die nodige kennis of vaardighede om dáái ballade vir jou ou/meisie te laat realiseer nie, is die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel vir hoërskoolleerders net vir jou.

Vir die veelbekroonde sanger Elvis Blue – een van die aanbieders by die werkswinkel – is die skryf van musiek ’n vaardigheid wat ’n mens moet aanleer.

Daarom is dié werkswinkel, wat moontlik gemaak word deur die ATKV en die Atterbury Trust, met die ondersteuning van die Afrikaanse Hoër Seunskool, ’n moet.

“Ek is seker dis anders vir almal, maar in my ervaring is die skryf van musiek ’n vaardigheid wat ’n mens moet aanleer en aan moet werk,” sê Elvis.

“Daar is net een manier om ‘goed’ te skryf, en dit is om aan te hou skryf!”

Hy verklap ook ’n paar geheime oor hoe hy van sy treffers geskryf het.

“Die belangrikste ding vir my met ’n liedjie is die idee waarom die liedjie gebou word.

“Ek hou altyd my skryfboekie en ’n pen byderhand vir daai oomblikke wanneer ’n moontlike idee by my opkom.

“Wanneer ek dan later by ’n instrument sit, kyk ek deur die verskillende idees en voel of een van hulle moontlik in daai oomblik tot my spreek. Dan probeer ek die idee ontwikkel saam met die instrument.”

Hy gaan by die werkswinkel nog goue geheime van sy skryfproses verklap.

Vir Elvis Blue kan ’n goeie treffer jou soos ’n weerligstraal tref.

“’n Goeie liedjie kan op enige plek met jou gebeur. Mense dink altyd, die een of ander eksterne bron moet ’n mens inspireer, die berge of die see.

“Hoe meer jy skryf, hoe beter gaan jy skryf. So los die see en die berge en kom aan die skryf!”

Elvis sal saam met Lize Beekman, Jannie du Toit, Anna Davel, Hunter Kennedy, Jaconell Mouton, Brandon October, Karin Hougaard, Nick Matzikis (The Academy of Sound Engineering), Stephen Hollis (kopiereg-regskundige van Adams & Adams), asook Coenie de Villiers, die slypskool aanbied.

As jy lus is om jou skryflus aan te wakker en ’n bietjie aan jou liedjieskryfvaardighede te skaaf moet jy gou spring, want jy het net nog ’n week en ’n half om in te skryf.

Die werkswinkel word van Vrydag 25 Mei om 15:00 tot Sondag 27 Mei om 12:30 by die Afrikaanse Hoër Seunskool se Musiekakademie in Pretoria gehou.

Die koste per leerder beloop slegs R250. Verversings is ingesluit.

Indien twee aande se koshuisverblyf by die kursusgeld bygereken word, gaan dit leerders net R500 uit die sak jaag. Leerders is verantwoordelik vir hul eie vervoer.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 17 Mei 2018. Daar is plek vir slegs 30 deelnemers by vanjaar se werkswinkel.

Die opwindende gala-geleentheid van die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel vind op 9 September om 15:00 in die Atterbury Teater in Pretoria plaas. Uitblinkers van vanjaar se werkswinkel gaan dan saam met Lize Beekman en Elvis Blue optree.

Vir meer inligting klik hier of kontak gerus vir Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of e-pos haar by hanneliev@atkv.org.za.

The post Hoërskoolleerders, kom leer liedjies skryf soos Elvis Blue! appeared first on LitNet.


Kennisgewing: Bedanking van die besturende direkteur – ATKV-MSW

$
0
0

Deidre Le Hanie (Foto: Twitter)

Dit is met spyt dat die ATKV-MSW kennis neem van die bedanking van die besturende direkteur, Deidre Le Hanie. Le Hanie is ongeveer ’n jaar gelede aangestel en het die ATKV-MSW met groot ywer gedien. Haar voortgesette steun aan die ATKV-MSW en sy werksaamhede word waardeer.

Die ATKV-MSW is opreg dankbaar vir haar onbaatsugtige diens, leierskap en die herbelyning van die ATKV-MSW se strategie. Die ATKV-MSW wens haar alle sukses toe met haar toekomsplanne.

In die interim sal Sonél Brits, die huidige maatskappysekretaris, as besturende direkteur waarneem totdat ’n nuwe besturende direkteur aangestel word. Die direksie van die ATKV-MSW tref reëlings om te verseker dat die maatskappysekretariële funksie eweneens prioriteit geniet.

Sonél Brits

Die direksie en die uitvoerende komitee van die ATKV-MSW het volle vertroue in die waarnemende besturende direkteur sowel as die personeel van die ATKV se kundigheid, vernuf en entoesiasme om die ATKV-MSW se strategie tot verdere uitvoering te bring.

The post Kennisgewing: Bedanking van die besturende direkteur – ATKV-MSW appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Media se blinkste sterre vereer

$
0
0

Joernaliste swoeg en sweet daagliks te danke aan moeilike onderhoude, dreigende spertye wat aan hul hakskene kom hap en redakteurs wat soms die onmoontlike verwag. Voeg daarby die harde werk wat dit verg om ’n TV-reeks aanmekaar te slaan of om deur middel van radio luisteraars se verbeelding aan te gryp, en jy kan tot die gevolgtrekking kom dat die medialandskap duidelik nie vir sissies is nie.

Daarom is die media se blinkste sterre Vrydagaand by die ATKV-Mediaveertjies vir hul uitstekende werk en deursettingsvermoë vereer.

Die geleentheid is by die stylvolle Katy’s Palace Bar in Kramerville, Sandton, gehou.

Die nimlike Kim Cloete, bekende aktrise, onder meer bekend vir haar rol in Binnelanders, was vanjaar se seremoniemeester.

Afgesien van die toekennings het die kitaargenie, Loki Rothman, en die saksofoonspeler, Hiram Koopman, die gaste met hul talente vermaak.

Volgens Nita Cronjé, bestuurder: kunste en feeste by die ATKV, word die ATKV-Mediaveertjies jaarliks gehou om die media se uitnemendheid te bekroon.

“Ons wil erkenning gee aan die belangrike rol wat die media in die huidige samelewing speel om die publiek in te lig, op te voed en te vermaak. Hulle rol is van kritieke belang,” sê Nita.

Vanjaar is daar in die volgende kategorieë meegeding: Lees, Luister en Kyk. Digitale bydraes vorm deel van al drie kategorieë.

Die wenners is soos volg:

Luister

Willim Welsyn

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n joernaalprogram

  • Willim Welsyn – WAT met Willim Welsyn – Podsending

Beste insetsel in ’n joernaalprogram

  • Johan van Lill – RSG Kuns: Oude Libertas 40 jaar – RSG

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram

  • Phil Loots – Fiks vir die lewe: Om te gee – RSG

Beste insetsel in ’n nuus- of aktualiteitsprogram

  • Izak du Plessis – Monitor: Paternoster Vissers – RSG

Beste joernaalprogram

  • Ilse Salzwedel – Skrywers en boeke: Die woordketting – RSG

Beste nuus- of aktualiteitsprogram

  • Melissa Tighy – Spektrum: Landwye betogings teen Zuma – RSG

Beste dokumentêre program of programreeks

  • Jamaine Krige – Knysna: Na die brande – RSG

Beste insetsel in ’n opvoedkundige program

  • Marianne Breytenbach – Net medies: Aannemings – Pretoria FM

Beste teks vir ’n radiodrama of -teater

  • Marion Erskine – Akwarius – RSG

Beste regisseur van ’n radiodrama of -teater

  • Bettie Kemp – Akwarius – RSG

Beste aanbieder by ’n gemeenskapsradiostasie

  • Su-an Müller-Marais – Su-an en so aan – GROOTfm 90

Lees

Leti Kleyn

Beste in-diepte artikel

  • Leti Kleyn – Die Tankwa-Karoo kan ’n kind heel opvréét – Die Burger

Beste ondersoekende joernalistiek

  • Jacques Myburgh – Woordsmid met ’n ruim hart – Huisgenoot

Beste persoonlikheidsprofiel

  • Gerard Scholtz – In die nabyheid van bome – DeKat

Beste kunste-resensie

  • Elmari Rautenbach – J.M. Coetzee as jeugdige fotograaf – Die Burger

Beste leefstylstorie

  • Murray La Vita – Viriel en peperduur: Ontmoet Karoo se goue ram – By: Die Burger & Netwerk24

Beste essay, rubriek of opiniestuk

  • Marita van der Vyver – Julle wat teister: Dis tyd om te luister – Rapport Weekliks

Beste sportartikel

  • Suzette Truter – Kind van die wind – By: Die Burger

Beste gemeenskaps- of plaaslike koerant

  • DistriksPos/District Mail – Redakteur: Tasmin Cupido

Kyk

Verhalende genres

Louis Pretorius

Beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama

  • Louis Pretorius – Die Boekklub – kykNET

Beste regisseur vir ’n dramareeks of enkeldrama

  • Jaco Bouwer – Waterfront – kykNET

Beste dramareeks of enkeldrama

  • Bobby Heaney – Erfsondes – SABC 2

Beste akteur in ’n dramareeks of enkeldrama

  • De Klerk Oelofse – Die Boekklub – kykNET

Beste aktrise in ’n dramareeks of enkeldrama

  • Antoinette Louw – Swartwater – SABC 2

Aktuele genres

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n joernaalprogram

  • Johnny Davids – Kwêla: Kurt Minnaar & Hillary Geslin – kykNET

Beste insetsel in ’n joernaalprogram

  • Bertus Louw – 50/50: Finland bere – SABC 2

Beste joernaalprogram

  • Paul Venter – Kwêla – kykNET

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram

  • Waldimar Pelser – KN Verslag in gesprek – kykNET

Beste insetsel in ’n aktualiteitsprogram

  • Byron Taylor – Fokus: Die groot gryp – SABC 2

Beste nuusinsetsel

  • Jacques Broodryk – KN Verslag: Zimbabwegrens – kykNET

Beste nuus- of aktualiteitsprogram

  • Wynand Dreyer & Christelle Parrot – Megaboere: Graham Rae – kykNET

Beste dokumentêre program of programreeks

  • Carien Loubser – Jan – Via

Beste vermaaklikheidsprogram

  • Wynand Dreyer & Christelle Parrot – Amira – kykNET

Beste aanbieder van ’n vermaaklikheidsprogram

  • Emo Adams – Jou show – kykNET

Foto's: Bernard Brand

The post Persvrystelling: Media se blinkste sterre vereer appeared first on LitNet.

ATKV se #AJV2018: kwaliteit, kreatiwiteit in die vierde industriële revolusie

$
0
0

Takafgevaardigdes van regoor die land en Namibië het die ATKV se algemene jaarvergadering by ATKV-Klein-Kariba bygewoon.

In wat deesdae die vierde industriële revolusie gedoop word, is dit vir organisasies en individue toenemend ’n stryd om te floreer en innoverend in hul gemeenskappe en die samelewing te wees.

Dít was die boodskap van Ian Rothmann, buitengewone professor in bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit en direkteur by die Optentia-navorsingsfokusarea, tydens die ATKV se algemene jaarvergadering by ATKV-Klein-Kariba by Bela-Bela (Warmbad).

Die vierde industriële revolusie verwys na die vooruitgang van tegnologie wat lyne tussen die fisieke en digitale sfere onduidelik maak.

“Mense werk in kokonne wat minder interaksie met ander benodig,” sê Ian.

“Dit neem 30 sekondes vir ’n persoon om ’n goeie verhouding met ’n ander te bou deur eenvoudige lyftaal en oogkontak.”

Ian Rothmann, buitengewone professor in bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit en direkteur by die Optentia-navorsingsfokusarea

Maar volgens hom gebeur dit nie meer nie omdat die vierde industriële revolusie die verbintenis van groepe bemoeilik.

Ian was vanjaar die gasspreker by die algemene jaarvergadering wat veral klem op innovasie en opleiding gelê het. 

“Tegnologiese vooruitgang bedreig dikwels die welstand van mense.

“Om te kan floreer moet daar op ’n gesonde en energieke wyse – veral in ’n gunstige omgewing – gegroei en ontwikkel kan word,” sê hy.

“Om welstand te bewerkstellig moet ons aandag skenk aan die saad, sowel as die grond. Dus die mense sowel as die konteks.”

Ian gee ’n paar wenke om toe te sien dat die "saad" en die "grond" floreer.

“Bevorder mense se vermoëns om hulself en die wêreld te verstaan.

“Ontwikkel leiers wat organisasies kan bestuur en herbou en bied deurlopend omvattende opleiding aan.”

Die ATKV het met vanjaar se jaarverslag weer bewys watter kritieke rol die organisasie speel in innovasie en opleiding en om seker te maak dat die individu en gemeenskappe floreer.

“Die grondslag is gelê vir die finansiële volhoubaarheid van die ATKV-MSW- en die -Sake-groep. In hierdie verband is dit verblydend om te rapporteer dat albei groepe ’n positiewe bedryfsresultaat gelewer het,” sê Sonél Brits, waarnemende besturende direkteur van die ATKV.

In die 2017-’18-verslagjaar het die organisasie ’n allemintige R18 miljoen aan taalprojekte, R26 miljoen aan kuns-, kultuur- en erfenisprojekte bestee, R6 miljoen terug in gemeenskappe geploeg en R6 miljoen aan onderwys bestee.

Volgens Anton Redelinghuis, voorsitter van die ATKV-direksie, is die sukses van dié projekte te danke aan die ATKV-oorde wat selfs in ’n strawwe ekonomiese klimaat goeie resultate lewer.

“Die ATKV-lede – wat ongeveer 69 000 beloop – dra grootliks by tot die sukses van ons oorde en sodoende indirek tot die rol wat die ATKV op die terrein van taal en kultuur speel.”

Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV, streef die organisasie voortdurend na innovasie.

“Als wat ons doen, dra die seël van kwaliteit en kreatiwiteit.”

The post ATKV se #AJV2018: kwaliteit, kreatiwiteit in die vierde industriële revolusie appeared first on LitNet.

Bridgitte Mathews aangewys as voorsitter van die ATKV-direksie

$
0
0

Bridgitte Mathews, nuwe voorsitter van die ATKV-direksie, en Sonél Brits, waarnemende besturende direkteur van ATKV-MSW

Die ATKV het Donderdag die laaste dag van die algemene jaarvergadering by ATKV-Klein-Kariba (Bela-Bela) afgesluit met ’n nuwe direksievoorsitter.

Die ondervoorsitter Bridgitte Mathews sal die leisels by die uittredende voorsitter, Anton Redelinghuis, oorneem.

“Ek weet dat die ATKV aan niemand anders as sy lede behoort nie,” sê Bridgitte.

“Dit gaan uitdagend wees om Anton se skoene vol te staan, maar ek gaan dit tot die beste van my vermoë doen.”

Bridgitte dien sedert 2014 op die ATKV-direksie. Sy beskik nie net oor ’n wye kennis van die Afrikaanse taal nie, maar is ook Engels, Zoeloe, Frans en Setswana magtig.

Sy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en het vir talle maatskappye as finansiële bestuurder opgetree. Sy dien ook in die finansiesportefeulje van die ATKV.

Sy bedryf haar eie besigheid wat konsultasiedienste in die areas van risiko en nakoming aanbied.

Afgesien van haar rol as direksielid van die ATKV, dien sy ook op ’n aantal direksies (genoteerde, sowel as private maatskappye) in die landbou-, eiendomsbeleggings-, finansiëledienste-, sowel as logistieksektore.

Die direksielid JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder, is tot ondervoorsitter verkies en Hennie Strauss is in die plek van Dawid de Wet tot die direksie verkies.

The post Bridgitte Mathews aangewys as voorsitter van die ATKV-direksie appeared first on LitNet.

Lenteskool vir liefdesverhaalskrywers: inligting en inskrywingsvorm

$
0
0

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, in samewerking met die liefdesverhaaluitgewer LAPA Uitgewers, bied van Donderdag 6 September tot Saterdag 8 September 2018 ’n slypskool in die skryf van romantiese fiksie aan.

Die slypskool vind op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit plaas en is ’n praktiese skolingsgeleentheid vir enigiemand wat ’n liefdesverhaal wil skryf.

Romanskrywers Didi Potgieter en Rosita Oberholster, LAPA Uitgewers se Cliffordene Norton en Zahn-Mishal Viviers, tesame met personeel van die ATKV-Skryfskool, gaan as aanbieders optree en fokus op die liefdesverhaal.

Die ATKV-Skryfskool bied in 2018 ook weer ’n kompetisie in die skryf van ’n liefdesnovelle aan. Die wenner hiervan sal die Lenteskool gratis kan bywoon.

The post Lenteskool vir liefdesverhaalskrywers: inligting en inskrywingsvorm appeared first on LitNet.

Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag: Kry hier afslag en lees jou kind slim

$
0
0

Foto: verskaf

Die meeste ouers wil die beste vir hul kinders hê. Daar word gedroom dat hulle eendag ruimtevaarders, wetenskaplikes, ouditeure of dokters sal word. En net dalk kan hulle met hul miljoene rande vir ma en pa dankie sê en ’n aftreehuisie langs die kus koop.

Maar die kanse is skraal om elke oggend met die gemaal van branders en rasende seemeeue wakker te word as jy nie jou sterretjie leer om behoorlik te lees nie.

’n Ouer speel ’n kardinale rol in ’n kind se leeswêreld en die beste manier om ’n liefde vir lees by ’n kind te kweek, is om vir jou kind voor te lees.

Op 14 Augustus vier ons weer Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag, ’n inisiatief van die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV. Lesers kan dan by verskeie boekwinkels afslag op Afrikaanse boeke kry, wat vir jou as ouer die ideale geleentheid bied om solank jou kind aan die lees te kry (en in daai strandhuisie van jou te belê). Vanjaar se tema is “Lees jou kind slim”.

Volgens Amanda de Stadler van die VVA, het navorsing bewys dat die gemiddelde kontaktyd wat ouers in Suid-Afrika met hulle kinders het, net 11 minute per dag is.

“Die Nederlanders het bereken dat as jy elke dag net tien minute vir jou kind voorlees, hy of sy 1 000 nuwe woorde per jaar aanleer. En dit kos niks nie, net tyd, kontaktyd met jou kind,” sê sy.   

Die bekroonde kinderboekskrywer Jaco Jacobs stem met Amanda saam. “Baie mense fokus op akademiese prestasie en die verskil wat ’n liefde vir lees aan jou kind se skoolprestasie maak – wat natuurlik 100% in die kol is.”

Maar hy sê vir hom as skrywer en ouer dra lees soveel meer tot ’n kind se ontwikkeling by.

“’n Kind wat lees, is ’n kind wat vroeg-vroeg leer om ander mense se emosies te verstaan en in ag te neem. ’n Kind wat lees se wêreld is eindeloos groter as sy huis, sy skool of die stad of dorp waar hy grootword. ’n Kind wat lees, is ’n kind wie se binnewêreld bladsy vir bladsy groter gemaak word; wie se verbeelding geprikkel word om in ander se skoene te staan; wat leer om gróót en wíld en wónderlik te droom,” sê hy.

Maar hoe kry jy ’n kind om daai gewraakte iPad uit te los of om die televisie af te sit en ’n boek te lees sonder dat daar in protes geskop en geskree word?

“Ouers moet eerstens self lees,” sê die bekende jeugskrywer Fanie Viljoen. “Die kinders sal moontlik hulle voorbeeld volg. Ouers moet kinders ook toelaat om self hulle boeke te kies.”

Jaco sê jy moet jou kinders as’t ware met boeke grootmaak en vir hulle van geboorte af voorlees.

“Lees vir hulle, soveel as jy kan. Maak dit lekker en prettig; help hulle om die wonder van stories te ontdek. Sorg dat daar boeke in jou huis is, soveel as wat jy kan bekostig, of probeer gereeld vir jou kinders boeke uitneem. Gee vir hulle boeke present, as jy enigsins kan.”

Amanda stem saam.

“Kinders leer van die ouderdom nul tot en met ses jaar meer as wat hulle ooit weer in hul lewe sal leer,” sê sy. “Jy hoef dus nie te wag dat hulle ouer word om self te lees nie.”

Die volgende boekwinkels gee afslag op Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag:

  • Alle takke van Cum Books: 15%
  • PNA-takke in Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, The Sanctuary, Whale Coast & Gordon's Bay Mall: 25%
  • Die PNA-tak in Bela-Bela gee op 12 Augustus 10%-afslag.
  • Protea-boekwinkels – Stellenbosch, Potchefstroom, Protea Vall, Protea Bloemfontein, Protea CUT, Protea Charlton, Protea Hatfield, Protea Aanlyn, Protea Parow, Protea Kaapstad, Protea TUT, Kerkstraat, Protea TUT Pretoria-Wes, Protea UCT, Protea UJ, Protea Soweto: 20%
  • Exclusive Books in Bloemfontein en in die Kolonade-winkelsentrum (Pretoria): 20%
  • Aneljo-boekwinkel in Mariental, Namibiё: 20%
  • De Bijenkorf-geskenkwinkel in Kilnerpark, Pretoria: 20%
  • Bargain Books: 10% op 14 Augustus

Vir meer inligting oor Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag en onderhoude kontak gerus vir Amanda de Stadler, bestuurder: Vriende vir Afrikaans, by 021 880 1761 of stuur ’n e-pos na amandad@atkv.org.za.

The post Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag: Kry hier afslag en lees jou kind slim appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies 2018: Finaliste bekend gemaak

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies bekroon elke jaar uitsonderlike bydraes rondom die Afrikaans woord en finaliste vir dié jaar se toekenningsgeleentheid is pas bekend gemaak.

Die finaliste is soos volg:

ATKV-Prosaprys

•    Die laksman se dogter – Gerda Taljaard (Penguin Random House)
•    Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)
•    Groen soos die hemel daarbo – Eben Venter (Tafelberg)

Die laksman se dogter deur Gerda Taljaard: ’n resensie

Die wêreld van Charlie Oeng: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n resensie

Prys vir Liefdesroman

•    Debora gaan huis toe – Helene de Kock (Human & Rousseau)
•    Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)
•    Pelgrimshoop – Ronel Nel (LAPA Uitgewers)

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert

Pelgrimshoop deur Ronel Nel: ’n resensie

Prys vir Poësie

•    Aantekeninge teen die skemeruur – Clinton V. du Plessis (Cordis Trust Publikasies)
•    Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)
•    Radbraak – Jolyn Phillips (Human & Rousseau)

Aantekeninge teen die skemeruur deur Clinton V du Plessis: ’n lesersindruk

Uittogboek deur Johan Myburg: ’n resensie

Radbraak deur Jolyn Phillips: ’n resensie

Prys vir Romanses

•    Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)
•    Liefde vir ’n ridder – Didi Potgieter (Romanza)
•    Bewustelik joune – Elsa Winckler (Superromanza)

Prys vir Spanningslektuur

•    Koms van die motman – Chris Karsten (Human & Rousseau)
•    Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)
•    Sirkus – Irma Venter (Human & Rousseau)

Koms van die motman deur Chris Karsten: ’n lesersindruk

Kamikaze deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

Sirkus deur Irma Venter, ’n resensie

Prys vir Dramateks

•    Rokkie – Denver Breda
•    DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver
•    Nêrens, Noord-Kaap – Nico Scheepers

Suidoosterfees 2018: Rokkie, ’n onderhoud met Denver Breda

Aardklop 2017: ’n onderhoud met Henque Heymans oor DEURnis

Nêrens, Noord-Kaap by US Woordfees 2017: ’n onderhoud

Prys vir Niefiksie

•    Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)
•    Geloof alleen – André Pretorius (Naledi)
•    Skepelinge – Karel Schoeman (Human & Rousseau)

Spertyd deur Elsa Joubert: ’n resensie

Geloof alleen deur André Pretorius: ’n lesersindruk

https://www.litnet.co.za/skepelinge-aanloop-tot-n-roman-deur-karel-schoeman-n-resensie/

Die wenners van die ATKV-Woordveertjies sal op 31 Augustus in die HB Thom-teater in Stellenbosch bekendgemaak word.

The post ATKV-Woordveertjies 2018: Finaliste bekend gemaak appeared first on LitNet.


Afrikaans is ’n reënboogtaal

$
0
0

Mens hoor dikwels die slagspreuk op universiteitskampusse “weg met Afrikaans” met die EFF voor in die koor, maar Afrikaans is die land se reënboogtaal en nié die taal van die onderdrukker nie.

So sê die gemeenskapsleier en kultuuraktivis Willa Boezak. Hy was die gasspreker tydens ’n gesprek oor Afrikaans wat in Stellenbosch deur die organisasie Vriende van Afrikaans aangebied is. Verskeie leerders van Bolandse skole en studente van Stellenbosch het die “ommietafelgesprek” bygewoon om oor die toekoms van Afrikaans te praat.

Willa Boezak
Foto: Izak de Vries

Boezak wat onder meer aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Vrye Universiteit van Amsterdam en die Universiteit van Kaapstad studeer het, sê in die veldtog teen Afrikaans word dikwels beweer Afrikaans is ’n witmanstaal en die taal van die onderdrukker en dan glo baie mense dit. “Waar kom hulle daaraan?” Afrikaans is ’n gedeelde taal en die meeste dinge wat Afrikaans in die verlede as ’n taal van onderdrukking gekenmerk het, bestaan lankal nie meer nie.

Boezak het die herkoms van Afrikaans in 1599 gaan haal, meer as 50 jaar voor Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap. Dit was die Khoi en die San, en nie wit mense nie, wat aan die Kaap met vee geboer het wat die eerste mense was om geboorte te gee aan Afrikaans toe hulle met die Hollanders en ander seevaarders begin handel dryf het. Vandag staan dit bekend as Khoi-Afrikaans en is een van die baie variëteite van Afrikaans.

Benewens Khoi-Afrikaans bestaan daar verskeie ander dialekte van Afrikaans soos Veeboer-Afrikaans wat die Vryburgers gepraat het, Oranjerivier-Afrikaans of Gariep-Afrikaans soos wat hy dit graag noem, en later sogenaamde Standaardafrikaans.

Boezak sê dit is noodsaaklik om al hierdie variante van die taal as ewe belangrik te erken en nie ’n hiërargie te skep waar sekere variante van die taal meer of minder belangrik is as ander nie.

Boezak het gesê hy veg hard teen die Universiteit Stellenbosch se “stupid” taalbeleid om Afrikaans as akademiese taal af te skaal.

Die bewering dat Afrikaans ’n sogenaamde witmanstaal of ’n minderheidstaal is, is belaglik sê Boezak. Dit is die derde grootste taal in die land naas Zulu en Xhosa en meer as ses miljoen Suid-Afrikaners se eerste taal. Daarvan is sowat 2,7 miljoen wit, 3,4 miljoen bruin met duisende swart Suid-Afrikaners wie se eerste taal ook Afrikaans is.

Boezak voel baie sterk oor die waarde van Afrikaans as onderrigtaal tot op tersiêre vlak. Hy sê kennis is die beste wapen teen armoede en kennis kan die beste opgedoen word deur middel van moedertaalonderrig.

“Terwyl Afrikaans op talle terreine van die samelewing, soos in die musiekbedryf en by kunstefeeste besig is om te blom, is dit hartseer om die sien hoe Afrikaans as akademiese taal op Stellenbosch agteruitboer as gevolg van die klompie daar wat so gekant is teen Afrikaans as akademiese taal.”

Boezak sê dit maak geen sin om Afrikaans as akademiese taal af te skaal nie omdat die armstes uit veral die bruin gemeenskap wat in Afrikaans wil studeer die meeste daaronder ly.

“Watter sin maak dit vir ouers om hulle kinders na ’n Afrikaanse skool te stuur as hulle weet hulle kinders kan nie verder in Afrikaans studeer wanneer hulle die skool verlaat nie?”

Boezak sê die gevolg is dat baie kinders wat nie Engels magtig is nie gedwing word om in ’n taal te studeer wat nie hulle eerste taal of moedertaal is nie. Hy sê hy vind dit vreemd dat daar mense is wat alles wat koloniaal is wil afskaf in ’n koloniale taal, naamlik Engels.

Hy het sy praatjie gehou aan die hand van ’n gedig wat hy geskryf het oor Afrikaans se herkoms met dit titel “Ons Afrikaanse kind”:

hortent
sukkelend
is sy gebore
tussendeur gebare
met vreemde kaaseters
wyndrinkers en speserysoekers
al by ons kuste langs.

’n basterkind wat net geweet het van kierie
eina! en koekemakranka
en skielik kry sy ’n hupstoot
van vreemdes in kettings
en van nóg wittes
wat eers lekker-bekkig plat praat
maar later al hoër en verder
wégtrek met daai basterkind ...

kyk
daar dans vandag
’n mooi vrou in pastel
én grondkleure
omhul in skerp én sagte geure
en sy ghoema die riel in sokkies
ja, sy ghoema die riel in sokkies.
onse reënboogkind.

(uit Só glo ons: die Khoisan van Suid-Afrika deur Willa Boezak)

Amanda de Stadler, Vriende van Afrikaans
Foto: Izak de Vries

William Sezoe pleit vir 'n Afrikaanse klub by die skool
Foto: Izak de Vries

William Matthys vra veeltaligheid
Foto: Izak de Vries

New Orleans Sekondêre Skool
Foto: Izak de Vries

Almero Oosthuizen
Foto: Izak de Vries

The post Afrikaans is ’n reënboogtaal appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Kapenaars, kom gesels saam oor moedertaalonderrig

$
0
0

Die belangrikheid van moedertaalonderrig kan nie genoeg beklemtoon word nie en vanjaar kry Kapenaars die geleentheid om die ATKV se Moedertaalfees, in samewerking met Afrikaans.com, by te woon.

Op 15 September 2018 word daar by die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville land en sand oor moedertaalonderrig gesels.

UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) beskryf moedertaalonderrig as “opvoeding wat ’n persoon se moedertaal as onderrigmedium gebruik”. Dié organisasie meen ook dat moedertaalonderrig absoluut noodsaaklik is. Die ATKV en Afrikaans.com deel hierdie siening wanneer daar oor taal in die onderwys gepraat word, juis omdat navorsing bewys het dat kinders beter leer, verstaan en presteer in hul moedertaal.

Die #MyTaal-program is, soos altyd, propvol en benewens die Skitter-in-Afrikaans-werkswinkel is daar interessante sessies om na uit te sien. Daar sal ook boeke, hulpmiddels en plakkate te koop aangebied word.

Die groot geskenk van moedertaal

Die bekende skrywer en spraakterapeut Christien Neser gaan vanaf 12:00 oor die belangrikheid van moedertaalonderrig gesels. René Arendse, projekkoördineerder van Afrikaans.com se muurkunsprojek, gaan ook ’n bydrae lewer oor moedertaal. Hierdie gesprekke is gratis en kan deur enige belangstellendes bygewoon word.

Indien jy die Christien se praatjie wil bywoon, stuur ’n e-pos voor 12 September aan RozeldiT@atkv.org.za.

Skitter-in-Afrikaans

Dié werkswinkel, gereël deur die ATKV se taalafdeling in samewerking met die vakadviseurs van Afrikaans in die Wes-Kaap se onderwysdistrikte, word vir graad 1- tot graad 7-Afrikaansonderwysers (huistaal en eerste addisionele taal) aangebied.

Tydens die werkswinkel sal onderwysers leiding kry in taalonderrig en toegerus word met kreatiewe idees, nuwe vaardighede en praktiese oplossings vir uitdagings in die klaskamer. Die temas wat bespreek gaan word, is die remediëring van lees, die sleutel tot suksesvolle leesbegriponderrig en woordeboekgebruik. Hulle sal ook deel wees van #MyTaal-pret en gesprekke oor die belangrikheid van moedertaalonderrig. Die werkswinkel sal van 07:00 tot 11:00 plaasvind.

Daar is slegs vir 200 mense voorsiening gemaak en onderwysers wat die werkswinkel wil bywoon, word versoek om so gou as moontlik in te skryf.

Die Skitter-in-Afrikaanswerkswinkel kos net R150. Indien jy belang stel, kontak gerus vir Rozeldi Trollip, projekorganiseerder by die ATKV, by 011 919 9006 of stuur ’n e-pos na RozeldiT@atkv.org.za.

Die sluitingsdatum is 31 Augustus en geen laat inskrywings kan aanvaar word nie.

The post Persvrystelling: Kapenaars, kom gesels saam oor moedertaalonderrig appeared first on LitNet.

ATKV-Woordveertjies vereer talentvolle skrywers

$
0
0

’n Boek is vir die siel soos wat ’n slypsteen vir ’n swaard is, en met die gehalte- Afrikaanse letterkunde wat elke jaar gepubliseer word, is dit vir die ATKV ’n reusevoorreg om talentvolle skrywers te vereer.

By vanjaar se ATKV-Woordveertjies is daar onder meer vir die beste skrywers, digters en dramaturge ’n klop op die skouer gegee vir hul enorme bydrae tot die letterkunde-landskap.

Dié geleentheid is op Vrydag 31 Augustus by die HB Thom-teater (waarvan die naam onlangs na die Adam Small-teaterkompleks verander is) in Stellenbosch gehou. Dit is vanjaar die 11de keer wat die ATKV-Woordveertjies aangebied word.

“Ons wil uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woord bekroon,” sê Nita Cronjé, bestuurder: kunste en produksies by die ATKV.

“Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum. Van woordeboeke tot prosawerke.”

Sy sê die hoofdoel van die toekennings is om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek.

“Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry. Dit is ook wonderlik om te sien hoe baie werk verlede jaar die lig gesien het.”

Volgens Nita het 12 digbundels vanjaar ingeskryf.

“Dit is verblydend om agter te kom dat so baie skrywers woeker met hul woorde as jy ook kyk na die 23 nuutgeskepte dramatekste wat ingeskryf het. Die ATKV-Woordveertjies moet skrywers motiveer om aan te hou om tot die Afrikaanse letterkunde-omgewing by te dra.”

Die ATKV-Woordveertjie vir Leesbevordering is ’n inspirerende kategorie wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes. Met PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop vir opgeleide honde voor en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.

Volgens Nita word hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie val.

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Hier volg die wenners van die ATKV-Woordveertjies 2018 en die beoordelaarsverslae volg direk daarna:

 

ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Beoordelaarskommentaar: ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Wat ’n verbluffende boek – in die letterlike en figuurlike sin van die woord. Hierdie roman staan kop en skouers bo al die ander benoemdes uit en een wat gemaklik sy plek kan volstaan op ’n wêreldverhoog.

Van Heerden is ’n meesterskrywer aan die woord. 

Die wêreld van Charlie Oeng is ’n komplekse, grootse roman en ’n waardige wenner van die ATKV-Prosaprys.

 

Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Irma Joubert is ’n uiters bekwame skrywer, nee, dalk eerder ’n towenaar.  Sy kry dit reg om gebeure uit die geskiedenis so eg en werklik te maak dat dit voel asof jy in tyd verplaas word.  Irma Joubert verdien waaragtig ’n pluimpie vir haar hoed.

 

Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Dit is ’n besonder indrukwekkende versameling gedigte dié wat omvang, diepgang en versvermoë betref.  Johan Myburg gaan ewe selfversekerd met vrye as met formele verse en prosagedigte om.

Uittogboek is die werk van ’n beleë digterskap en verdien om ernstig van kennis geneem te word.

 

Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Dit is ’n karakter en emosioneelgedrewe storie waarmee die leser kan identifiseer.  Alles werk!  Van die spanning en karakters tot by die navorsing.

 

Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Van Rensburg verdien vermelding vir die besonder behendige wyse waarop hy die uiteenlopende verhaallyne en aktuele vraagstukke in die roman tot oortuigende geheel saamsnoer.  Boonop slaag hy daarin om aan ’n oënskynlik voor-die-hand-liggende slot ’n heerlike (en oortuigende!) kinkel te gee.

Dit maak van hierdie roman ’n uitstekende keuse as die wenner van die Prys vir Spanningslektuur vir 2018.

Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

DEURnis, teater waar een akteur teenoor een gehoorlid speel in ’n spesiaal toegewysde ruimte, is ’n betreklik nuwe konsep in die Afrikaanse teater.

Dit is verbasend hoe groot impak dié stukke binne so ’n kort tyd het en hoe lank daarna die karakters en ’n mens se belewenis van hul situasie jou bybly. Dit dui onder meer op ’n besondere diepgang in die tekste, desondanks hul lengte.

 

Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

Beoordelaarskommentaar: Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

 Spertyd is ’n vars, eerlike, onverskrokke blik op die proses van oudword.  Die teks bied die perspektief van ’n deurwinterde woordsmid wat haar pen met gesag laat praat.  Die leser kan nie anders as om meegevoer te word op hierdie reis wat by tye skreeusnaaks, ander kere knop-in-die-keel hartseer, maar altyd meelewend is nie.  Hierdie teks verryk die Afrikaanse literêre landskap op elke moontlike gebied denkbaar.

 

Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Beoordelaarskommentaar: Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Aangesien daar ’n groot behoefte aan nuwe Afrikaanse vaktaalwoordeboeke is, is dit verblydend dat ’n woordeboek soos die Explanatory Dictionary of Politics/Verklarende Politieke Woordeboek deur Juta gepubliseer is – en juis nou terwyl die hoër funksies van Afrikaans onder druk is.

Hierdie woordeboek bied nie net terme en begrippe uit die politieke bestel nie, maar is ook leksikografies vernuwend omdat dit ’n vertalende én verklarende woordeboek is. Daarbenewens bevat die woordeboek afkortings, goeie definisies en talle resente terme.

Met sy professionele uitleg en gebruikersvriendelike leesbaarheid kan dié woordeboek met vrug gebruik word deur vakspesialiste, taalpraktisyns, politieke kommentators, rubriekskrywers en toespraakskrywers. Joernaliste by koerante, tydskrifte, die radio en televisie sal ook die woordeboek baie nuttig vind.

 

Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Beoordelaarskommentaar: Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Pets As Therapy (PAT) is ’n nie-winsgewende organisasie wat terapeutiese besoeke bring aan ouetehuise, skole en spesiale skole. In PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. Die program is gebaseer op die READ (Reading Education Assistance Dogs)-program wat sy ontstaan in die VSA gehad het. Kinders wat sukkel om te lees, lees hardop voor vir opgeleide honde en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie. Kinders se leesvaardighede en -begrip verbeter sodanig met hierdie program dat hulle na ’n paar weke selfs beter vaar as wat van hulle vereis word. Hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig word reeds met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut val op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie sodat nog honde en hul eienaars opgelei kan word om in skole en gemeenskappe ’n leesverskil in kinders se lewe te maak.

 

ATKV-Kinderboektoekennings

Die wenners in die ATKV-Kinderboektoekennings het ook hul pryse tydens die ATKV-Woordveertjies ontvang. Dié kompetisie word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die boeke wat vir hierdie toekennings in aanmerking kom, word deur die kinders self beoordeel.

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal

The post ATKV-Woordveertjies vereer talentvolle skrywers appeared first on LitNet.

Foto's: ATKV-Woordveertjies 2018

$
0
0

Die ATKV-Woordveertjies is vanjaar vir die 11de keer aangebied. Die prysfunksie is Vrydag 31 Augustus in Stellenbosch gehou. Izak de Vries en Naomi Bruwer deel hulle foto's.

ATKV-Kinderboektoekennings

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Louise Smit (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Bennie Boekwurm se tonnelhuisie

Louise Smit
Foto: Izak de Vries

Louise Smit
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Professor Fungus en die monsterformule

Izak de Vries het die toekennings namens Jaco Jacobs en Johan Strauss in ontvangs geneem.
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Zackie Mostert en die super-stinkbom
  • Illustreerder: Elsbeth Eksteen (LAPA Uitgewers) – La di da, Lulu

Izak de Vries en Sylvia de Wet van LAPA-Uitgewers het die prys in ontvangs geneem.
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Cecilia Steyn
Foto: Izak de Vries

Cecilia Steyn
Foto: Naomi Bruwer

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Marion Erskine (Human & Rousseau) – Vlerke vir almal

Marion Erskine
Foto: Izak de Vries

Marion Erskine
Foto: Naomi Bruwer

Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse

Verklarende Politieke Woordeboek/Explanatory Dictionary of Politics (2017)

Samestellers: Albert Venter, Susan Botha, Louis du Plessis en Mariëtta Alberts. Uitgegee deur Juta.

Albert Venter en Louis du Plessis
Foto: Izak de Vries

Toekenning vir Leesbevordering

Pets as Therapy: Lees-Ukufunda-READ-program

Marleanna le Roux
Foto: Izak de Vries

Prys vir Romanses

Alles is perfek – Dina Botha (Romanza)

Dina Botha
Foto: Izak de Vries

Prys vir Liefdesroman

Mentje, kind van Pas-Opkamp – Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Irma Joubert
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Spanningslektuur

Kamikaze – Rudie van Rensburg (Queillerie)

Rudie van Rensburg
Foto: Izak de Vries

Rudie van Rensburg
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Dramateks

DEURnis – Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart & Braam van der Vyver

Johann Smith
Foto: Izak de Vries

Johann Smith
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Poësie

Uittogboek – Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Johan Myburg
Foto: Izak de Vries

Johan Myburg
Foto: Naomi Bruwer

Prys vir Niefiksie

Spertyd – Elsa Joubert (Tafelberg)

Die toekenning is deur Elsa Joubert se kleinseun in ontvangs geneem.
Foto: Izak de Vries

Foto: Naomi Bruwer

ATKV-Prosaprys

Die wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden (Tafelberg)

Etienne van Heerden
Foto: Izak de Vries

Etienne van Heerden
Foto: Naomi Bruwer

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Marietjie Coetzee, Hettie Scholtz, Cecilia Britz en Alida Potgieter 
Foto: Izak de Vries

Foto: Izak de Vries

The post Foto's: ATKV-Woordveertjies 2018 appeared first on LitNet.

Klassieke musiek seëvier tydens finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto

$
0
0

Tydens die glansgeleentheid is van links Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-direksie, Bongani Kubheka (wenner van ATKV-Muziqanto), Cameron Williams (wenner van ATKV-Muziq) en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

Klassiekemusiekkunstenaars kry deesdae min erkenning vir die waarde wat hulle tot kultuur en die kunste toevoeg, maar by vanjaar se finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto is dié merkwaardige musici vir hul talente vereer.

Die kompetisie, by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow, Kaapstad, het Saterdag (8 September) op 'n hoë noot geëindig toe die wenners aangekondig is.

ATKV-Muziq ('n nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie) en -Muziqanto ('n klassiekemusieksangkompetisie) se finale is hierdie jaar saam gehou.

Uit die sewe deelnemers in elke kompetisie wat Vrydag in die tweede ronde teen mekaar meegeding het, is drie gekies om Saterdagaand by 'n swierige geleentheid saam met die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van maestro Richard Cock, op te tree.

"Ons is baie bevoorreg om 'n direksie by die ATKV te hê wat 'n groot bewondering en passie vir klassieke musiek koester," sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

"Ons het regoor die land vir die beste klassieke musikante en sangers gesoek en vanaand het hulle gewys waartoe hulle in staat is."

Die eersteplekwenners in albei kompetisies stap onderskeidelik weg met 'n kontantprys van R70 000. Die tweedeplek- en derdeplekwenners ontvang onderskeidelik R35 000 en R20 000.

Die 21-jarige Cameron Williams het vanjaar koning in die ATKV-Muziqkompetisie gekraai.

Dié saksofoonspeler se ratse vingers en lang asem het die gehoor en die beoordelaars in vervoering gehad.

"Ek is in die wolke," het Cameron ná die groot aankondiging gesê.

"Ek het met die kompetisie grootgeword en nog altyd die deelnemers en wenners bewonder. Dit is wonderlik om dit te wen."

Die naaswenner was die pianis Brian Bae en die violis Paul Loeb van Zuilenburg was derde.

Die bariton Bongani Kubheka is as die wenner van ATKV-Muziqanto aangewys. "Dit is 'n wonderlike gevoel," het Bongani gesê terwyl hy van oor tot oor geglimlag het.

"My teenstanders was almal baie goed en dit was beslis 'n tawwe kompetisie.

"Ek het voor die kompetisie nog 'n vertoning in die Baxterteater gehad en ek was nie seker of ek voorbereid genoeg was nie."

Bongani beoog om in Europa aan oudisies te gaan deelneem, terwyl Cameron nog nie veel uit die mou oor sy toekomsplanne wil laat nie.

Luvuyo Mbundu (bariton) was tweede en Segomotso Shupinyaneng (sopraan) derde.
Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG was weer vanjaar die mediavennoot van ATKV-Muziq en -Muziqanto.

The post Klassieke musiek seëvier tydens finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto appeared first on LitNet.

Viewing all 502 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>